God se oorlog teen die kerk

Sword of God

Wat dink jy van dié stelling:  ‘Jesus, nie Satan nie, maak kerke toe’?  Dis waar.  Jesus het vir Petrus gesê:  “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18).  Vir die kerk in Efese sê Hy:  “[Ek] sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” (Openbaring 2:5).  Die jare 500-1500 n.C. staan bekend as die donker eeue.  Geestelike duisternis het geheers.  Vir ‘n duisend jaar kon jy skaars ‘n Bybelse kerk op die aarde vind.  Hoe sou dit voel om in daardie tyd ‘n Christen te wees; om te smag na ‘n goeie kerk, maar niks te kry nie omdat God sy kerk geoordeel het?  So was dit in Eli se tyd, voordat God Homself aan jong Samuel bekend gemaak het (1 Samuel 2:12-36).

 

Sonde (v.12-21)

In 1992 het John MacArthur Suid-Afrika vir die eerste keer besoek.  Tydens sy besoek het hy vir 35-jarige Tienie ontmoet.  Tienie was ‘n kapelaan in die grens oorlog en op dié stadium ‘n gesiene predikant van ‘n groot NG-kerk.  Op ‘n dag het hy ‘n preek van MacArthur op die radio gehoor en besef dat hy glad nie ‘n Christen was nie.  God het vir Tienie gered.[1]

 

In Eli se tyd (soos in ons s’n) het elkeen gedoen wat reg is in sy eie oë.[2]  Soos in Jeremia se tyd ná hom, was selfs die priesters korrup en het hulle God nie geken nie (v.12):  “Die priesters het nie gesê:  Waar is die HERE nie?  En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie” (Jeremia 2:8).  “Daarom sal dit met die priester gaan soos met die volk—Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.” (Hosea 4:9).  Eli se seuns, Hofni en Pinehas, was deugniete – nikswerd.  Die Hebreeus praat van hulle as ‘seuns van Belial’ (vgl. 2 Korintiërs 6:15).  Volgens die wet moes hulle die vet van die vleis afsny en dit vir die Here offer.  Hulle kon die bors en regterdy eet.[3]  Hulle was rebels en het ‘n drietand-vurk in die pot gesteek, sodat hulle nóg vleis kon kry.  Ook was hulle nie tevrede om die vleis te kook nie; hulle wou dit braai.  Hulle het mense gedwing om die rou vleis vir hulle te gee en het selfs die verbode vet[4] gevat – soms met geweld.  As ‘n man in diens van God, was die priester se sonde erger as ander mense s’n.  Die beginsel van Jakobus 3:1 en Lukas 12:47-48 het hier gegeld:  “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan… En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” Is dit nie wat koning Alphonsus bedoel het nie:  ‘A great man cannot commit a small sin’?

 

Ten spyte van die korrupte priesters was daar ‘n flikkering van hoop:  klein Samuel in sy skouerkleed en manteljie wat sy ma vir hom gemaak het.  Omdat sy hom vir die Here geleen het, het die Here haar (die onvrugbare vrou van 1:5) met nog vyf kinders geseën.  ‘We will not become too discouraged over Hophni and Phinehas so long as we see little Samuel walking around Shiloh.’[5]

 

Hoe sal ons op dié verse reageer?  Moenie aanneem dat jy gered is omdat jy gedoop is, ‘n lidmaat, ouderling, of ‘n ou Baptis is nie.  Moenie dink jy’s gered omdat jou ouers toegewyd was, jy op ‘n altar call gereageer het, baie bid, of Bybel kollege toe was nie.  Eli se seuns het God nie geken nie, al was hulle priesters (v.12)!  Haat jy sonde en is jy gehoorsaam aan Christus?  Dís die bewys of jy gered is of nie.  Indien jy nié gered is nie moet jy jou bekeer en jou sonde by die kruis los.  Verruil deur geloof jou smerige self-geregtigheid vir Jesus se volmaakte geregtigheid.

 

Eli se seuns het ‘n bespotting gemaak van die offers (v.17).  Moenie soos hulle wees en ‘n bespotting van die nagmaal maak nie.  As jy en jou kinders die nagmaal gebruik sonder om te verstaan waaroor dit gaan, maak jy dit belaglik.  As jy die nagmaal gebruik, maar nie jou sonde en bitterheid wil laat staan nie, maak jy ‘n bespotting daarvan.  As jy dink jou goeie lewe maak jou waardig om die nagmaal te gebruik, sodat jy op jou eie geregtigheid en nie op Jesus s’n rus nie, maak jy ‘n bespotting daarvan.  As jy ‘n Christen is maar gedurig van die Tafel af wegbly, dan minag jy dit.

 

Hoekom is dit belangrik dat jy jou moet bekeer?  Die Bybel antwoord:

 

  • “Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.” (1 Korintiërs 11:29-31).
  • “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.” (1 Petrus 4:17).
  • “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie… Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond… Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie… Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie… Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.” (Openbaring 2:5, 16, 23, 3:3, 16).

 

Oordeel (v.22-36)

‘n Paar weke gelede het ek vir my vrou gesê:  ‘Kinders is sondaars.  Ek gee nie om as hulle stout is, en hulle ouers hulle pak gee nie.  Wat my pla is as hulle stout is en die ouers dit sien, maar niks doen nie.’  Die beste Christen sal sondig ná hy of sy tot bekering gekom het.  Maar dit vervuil God se heilige Naam as ‘n Christen sondig en ons dit sien, maar niks sê of doen nie.  As óns nie die sonde in ons kinders en kerke oordeel nie, sal Gód dit doen en ons daarby straf.[6]

 

Die Hebreeuse werkwoorde in v.22-25 staan in ‘n voortdurende tydsvorm:

 

[1] Eli het aanhoudend gehoor dat sy seuns sondig en met die vroue slaap wat by die ingang van die tabernakel gewerk het[7].

 

[2] Hy het aanhoudend vir hulle gesê om op te hou:  “As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree?” (v.25).  Iemand wat teen ‘n ander mens sondig kan ‘n offer bring en vergifnis vra.  Maar wat doen iemand wat die óffer minag – hoe word hý vergewe?  So iemand sondig met ‘n hoë hand (Numeri 15:27-31).  Vir Nuwe Testament Christene is daar die kruis.  Maar wat gebeur met iemand wat die kruis minag?  Is dit nie waarteen Hebreërs 10:26, 29 waarsku nie:  “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”?

 

[3] Hulle het hulle pa aanhoudend geïgnoreer en nie vir hom geluister nie.  Eli het sy seuns aangespreek, maar hulle nie uit hulle priesterlike amp verwyder nie.  Hoekom het hulle nie vir hulle pa geluister nie?  Die teks sê:  “Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.” (v.25).  Omdat hulle aanhoudend hulle harte verhard het, het God hulle oorgegee aan wat hulle wou hê en hulle harte verhard.  Hulle kón hulle nie meer bekeer nie.[8]

 

In kontras hiermee was die seuntjie van v.18 nou ‘n jongman.  Soos Jesus in Lukas 2:52, het hy “toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.” (v.26).  Die soort mens wat guns by God vind is nederig en vrees sy Woord (Jesaja 66:2), glo in Hom (Hebreërs 11:6), het wysheid (Spreuke 8:35), en leef regverdig (Genesis 6:8-9).

 

‘n Man van God het na Eli toe gekom en vir hom gesê:

 

‘God het hom in Egipte aan jou voorvader Aäron geopenbaar.[9]  Sy nageslag is gekies om as priesters by die altaar te dien, wierook te brand, die skouerkleed te dra, en offers te eet.[10]  Maar jy en jou seuns het my offers verag soos ‘n kalf wat teen sy eienaar skop.[11]  Julle het die vet gevat en julle ooreet.[12]  Jy het jou seuns bo my geëer.[13]  Ek sal jou familie uitsluit uit die belofte wat ek aan Aäron gemaak het, “dat hulle die priesteramp kan besit as ‘n ewige insetting.” (Eksodus 29:9).  So seker as Ek leef sal dit gebeur[14].  Wie My eer sal Ek eer, maar as iemand My verag sal Ek hom verwerp.  Almal in jou nageslag sal jonk sterf – vat my Woord daarvoor.[15]  Binnekort sal jy benoud wees oor my woning.[16]  Een uit jou nageslag sal sy oë uit huil en sy hart breek as ek jou nasate uitroei.[17]  Wat is teken dat hierdie dinge sal gebeur?  Altwee jou seuns sal op een dag sterf.[18]  Ek sal vir Myself ‘n getroue priester kies wat sal doen wat Ek begeer; een wat vir ewig voor my gesalfde koning sal dien.[19]  Jou nageslag sal vir brood bedel en nie meer die offervleis eet nie.’

 

In die lig van v.22-36 moet ons die sonde in die kerk en in ons huise oordeel.  Om dit reg te kry moet jy jou kinders in toom hou terwyl hulle jonk is.  Die pyn van ‘n pak slae maak ‘n indruk as hulle klein is.  “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” (Spreuke 22:15).  Dit help nie net jy praat nie – hulle moet die pyn voel.  “Met woorde laat ‘n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.” (Spreuke 29:19).  So is dit ook met kinders.  As jy hulle nie tugtig nie, sal jy verseker die bitter vrugte van rebelsheid pluk as hulle groot is.  As jy hulle reg opvoed en tugtig sal jy rus hê vir jou siel.  “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf. (Spreuke 29:17).  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Galasiërs 6:7-9).

 

Wat van kerktug?  Ons móét dit beoefen.  Ons moet dit doen met nederigheid, sagmoedigheid, liefde, en vrees vir God.  Die Bybel sê:

 

  • “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” (Galasiërs 6:1-2).
  • “Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.” (Matteus 7:5).
  • “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matteus 18:15-17).
  • “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.” (Openbaring 3:19).

 

Dink jy dat kerktug die ouderlinge se werk is?  Ja, húlle moet dit lei.  Maar sal jy soos Kain sê:  ‘Ek is nie my broer se oppasser nie’ (Genesis 4:9)?  Hoekom is dit belangrik om sonde in ons huise en kerke te oordeel?  Die Here sê:

 

[1] “Ek [gaan Eli se] huis oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie.” (3:13).

 

[2] “En as ‘n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.  Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.” (Esegiël 3:20-21).

 

[3] “Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat ‘n sondaar van sy dwaalweg bekeer, ‘n siel uit die dood sal red en ‘n menigte sondes sal bedek.” (Jakobus 5:19-20).

 

[4] “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spreuke 13:24).

 

[5] “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.  Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (Spreuke 23:13-14).

 

[6] “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” (Spreuke 29:15).

 

As jy nalaat om sonde te oordeel, dan eer jy mense bo God (v.29).  ‘…you can end up in grave sin thinking it very important to be nice to people… If the true church is to be preserved her false servants must be removed.’[20]

 

In Arthur Pink (1886-1952) se dae was goeie kerke skaars.  Pink het gedink daar is geen goeie kerke nie, maar daar was ‘n paar.[21]  So is dit in ons tyd.  In Suid-Afrika is daar nie baie kerke wat ernstig is oor heiligheid, die suiwer evangelie en Bybelse prediking nie.  Hier en daar is ‘n paar Samuels; “enkele persone…wat hulle klere nie besoedel het nie” (Openbaring 3:4).  Mag óns so ‘n kerk wees.

[1] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, p.159

[2] “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.” (Rigters 21:25).

[3] Levitikus 7:29-34

[4] Levitikus 7:22-25

[5] Dale Ralph Davis, 1 Samuel: Looking on the Heart, p.32

[6] “Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.” (Openbaring 2:20).

[7] Eksodus 38:8

[8] ‘Notice that it was the Lord’s will to slay them for disobedience, but not the Lord’s will that they should be disobedient.’ (A.M. Stibbs, ed., Search the Scriptures, Inter-Varsity Press, LEICESTER, 2003, p.214, n.3).

[9] Eksodus 4:27-30

[10] Eksodus 28:1, 30:7, Levitikus 8:7-8, 10:14-15

[11] Die Hebreeus vir ‘verag’ in v.29 is bâ’at en beteken ‘skop’ (vgl. Deuteronomium 32:15).

[12] Eli was oorgewig (4:18).

[13] “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” (Matteus 10:37).

[14] 1 Konings 2:26-27

[15] 1 Samuel 22:18-19

[16] “[Eli] was besorg oor die ark van God… Net toe [die man] melding maak van die ark van God, val [Eli] agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar.” (1 Samuel 4:13-18).  “God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.  En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.  En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.  En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.  Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie. Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.” (Psalm 78:59-64).

[17] “Abjatar [het] aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die HERE vermoor het” (1 Samuel 22:21).

[18] 1 Samuel 4:11, 17

[19] 1 Konings 2:35, Hebreërs 5:6, Psalm 89:20

[20] Davis, pp.36-37

[21] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, hoofstuk 10