Perspektief in beproewing

Kitten next to lion

Ek was beïndruk toe ek ‘n prent sien van hoe klein die aarde teen die son is.  Die son is massief… totdat jy dit langs die grootste sterre sien.  Skielik is die son nie eers ‘n spikkel nie.  So is dit met beproewing.  Jou probleme is groot en verwarrend… totdat jy dit langs God sien.  Skielik is dit gering.  Dis wat God vir ons wil leer in Eksodus 4:18-6:8.

 

God se dissipline (4:18-31)

Toe my hond jonger was het hy gereeld die swartsakke geskeur en die rommel op die grasperk gestrooi.  As ek in die oggend na die rommel toe gestap het, het hy stert-tussen-die-bene weggesluip.  Hy het geweet dat hy gestraf gaan word.  Is dit nie so in ons verhouding met God nie?  Het dit al ooit met jou gebeur, dat wanneer dinge in jou lewe skeefloop, jy dadelik besef dat God jou dissiplineer – jy weet presies wat jy verkeerd gedoen het?  So was dit met Moses in Eksodus 4.

 

Moses was vir 40 jaar by Jetro in Midian (Handelinge 7:30).  Nou wou hy weer Egipte toe gaan om te sien of sy broers nog lewe.  Sy skoonpa het hom in vrede laat gaan (vgl. Gen.24:54).  Vir ‘n oomblik het Moses gehuiwer.  God het hom verseker dat hy veilig was:  “Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” (v.19, vgl. 2:15, 23, Matteus 2:20).  Moses het die staf saamgevat waarmee God die wondertekens sou doen (v.20-21, 17).

 

God het vooraf vir Moses gesê dat Hy Farao se hart sou verhard, sodat hy die volk nie sou laat trek nie.  ‘Was God nie onregverdig en verantwoordelik vir Farao se sonde toe Hy sy hart verhard het nie?’ vra iemand.  Nee.  Farao en die hele Egipte het hom as ‘n god beskou.  Hy was dus reeds in rebellie teen God.  Toe God Farao se hart verhard het, was dit nie teen sy eie wil nie.  Hy wóú homself teen die Here verset.  God het dus vir hom gegee wat hy wou gehad het.  Farao was soos klei in die son.  Die klei word hard, omdat daar iets in die klei is wat dit so maak.  ‘n Blok ys sou smelt as jy dit in die son sit.  Die klei sal hard word as jy dit in ‘n donker vertrek los.  Die son laat dit net vinniger gebeur.  So was dit met Farao se hart.  God het hom nie sleg gemaak nie.  Die sonde was reeds in sy eie hart.  God het hom net oorgegee aan dit wat alreeds in hom was.  Daarom kan hfst.7-14 sê dat Farao sy eie hart verhard het, dat God dit verhard het, of dat dit verhard geraak het (7:3, 13-14, 22, 8:15, 19, 32, 9:7, 12, 34-35, 10:1, 20, 27, 11:10, 14:4, 8).  God is barmhartig oor wie Hy wil wees en verhard wie Hy wil (Romeine 9:18, Johannes 12:40).

 

Die Egiptenare het geglo dat Farao se hart die geskiedenis en die samelewing beheer het.  Hulle het ook geglo dat die gode, Ra en Horus, se harte soewerein was oor alles.  Volgens hulle was Farao die inkarnasie van dié twee gode; dus was sy hart soewerein oor die skepping.  Deur die verharding van Farao se hart, wys God dat Hý die heelal en die geskiedenis beheer, en dat Hy sterker is as die gode van Egipte.[1]

 

As gevolg van die verharding van sy hart, sou Farao nie vir Moses luister nie (v.21).  Daarom moes Moses sê:  ‘Israel is my eersgebore seun.  Laat hom dan nou gaan.  As eersgeborene sal hy die Beloofde Land as erfdeel verkry.  As jy hom nie vrylaat nie sal Ek jóú eersgebore seun, die opvolger tot die troon, doodmaak (vgl. v.22-23, 12:29).

 

Oppad Egipte toe wou die Here hom doodmaak.  Wie is die ‘hom’?  Is dit Moses of sy seun?  Hoekom wou die Here hom doodmaak?  Moses kon nie die volk lei as hy self ongehoorsaam was aan God se verbond nie.  Reeds in Genesis 17:10, 14 het God gesê:  “Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou:  Al wat manlik onder julle is, moet besny word… En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word:  hy het my verbond verbreek.”  Het Moses of sy seun dalk dodelik siek geraak?  Ons weet nie.  Moses se vrou het ingetree en haar seun besny.  Sy het die bebloede voorhuid aan sy voete laat raak.  Toe sy dit doen het die Here hom gelos.  Daarom het sy hom ‘n bruidegom van bloed genoem.  Moontlik het sy vrou en kinders na dié insident vir ‘n tydjie teruggegaan het Midian toe (vgl. 18:2-3).

 

Toe Aäron vir Moses sien, was hy bly.  Moses en sy broer het die ouderlinge van die volk bymekaar geroep en al die Here se woorde en tekens aan hulle voorgehou (v.27-30, vgl. v.14-16, 3:16).  “En die volk het geglo.  En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.” (v.31).

 

Tutig die Here jou vir ‘n spesifieke sonde?  Los dan daardie sonde.  Moenie dink dat jou sonde klein is nie, maar sien dat die Here dit haat, dat dit ernstig is vir Hom.  As jy dit nie so beskou nie, sal jy nie gemotiveer wees om jou te bekeer nie.  Moenie met die Here maak soos motoriste met verkeersbeamptes maak nie.  As hulle oortree en die verkeersbeampte vir hulle ‘n boete skryf, dan is hulle kwaad vir hom en nie vir hulleself nie.  Moenie kwaad wees as die Here jou tugtig nie.  Wees kwaad vir jouself omdat jy sonde doen.  Moenie sê:  ‘Dit kan nie die Here wees wat my tugtig nie.  Die God wat ék dien sal my nie só tugtig nie.’  As jy só dink sal jy nooit die konneksie tussen God se dissipline en jou sonde sien nie.  Dit sal maak dat jy nalaat om jou te bekeer.  Raak ontslae van die afgod wat jy vir jouself gemaak het.  Hou op om vir jou ‘n god te maak waarmee jy gemaklik is.  Vrees die ware God en bekeer jou van jou sonde.  Eers as jy dít doen, sal God sy swaar hand van tugtiging wegvat (4:26).

 

God se soewereiniteit (5:1-21)

Drie-jarige Sally hou van trollies wat ‘n klein stuurwieletjie vir kinders in het.  Sy dink dat sý die trollie beheer, maar weet nie dat haar má eintlik die trollie bestuur nie.  Farao was soos Sally:  hy’t gedink hý beheer Egipte en Israel, maar min het hy geweet dat dit Gód is wat alles beheer.  God sou Farao se rebelsheid vir Israel se voordeel en sy eie eer gebruik.

 

God het deur Moses en Aäron vir Farao gesê dat Israel sý volk was, en dat hy hulle moes vrylaat om Hom in die woestyn te aanbid.  Farao het geglo dat hy ‘n god was.  ‘Wie is die Here – ek ken Hom nie?’ het hy gesê (2 Konings 18:35, Job 21:15).  Sy onkunde oor God het gemaak dat hy ongehoorsaam was.  God wou hê Israel moes offers in die woestyn bring.  Dié offers sou keer dat God hulle met plae of met die swaard tref.  Die Israeliete was immers sondaars en het vergifnis nodig gehad.  Farao het die Here ontken en gesê dat Moses en Aäron eintlik net die volk van hulle slawe-arbeid wou wegvat.  ‘Julle is lui,’ het hy gesê.  Hy het die werkslading verdubbel om so te wys dat Israel sý slawe was; dat hulle nie aan die Here behoort het nie.  Die volk moes nou nie net meer stene maak nie.  Hulle moes ook hooi versamel dieselfde hoeveelheid stene maak.

 

Die volk het uitmekaar gespat om hooi te soek, maar hulle kon net stoppels kry.  Hulle sou nooit die dag se teiken kon bereik nie.  Farao se slawedrywers het die Israelitiese voormanne geslaan.  Die voormanne het na Farao toe gekom en gekla:  “Waarom maak u so met u dienaars?” (5:15).  Moes hulle nie eerder by die Here gekla het nie?  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Spreuke 29:26).  Farao was min gepla en gesê dat hulle lui is en harder moet werk.

 

Dit is omdat Farao nie die Here geken het nie, dat hy ‘n diktator was.  Die bekende Briste ateïs, Richard Dawkins, reageer só op hierdie tipe stelling.  Hy sê dat beide Hitler en Stalin snorre gehad het.  ‘Kan ons sê dat beide mans wreed was omdat hulle snorre gehad het?  Nee.  Net so kan ons nie sê dat beide van hulle wreed was, omdat hulle ateïste was nie.’  Om so te redeneer is onsin.  Snorre bepaal nie moraliteit nie, maar wat jy glo doen wel.  Die feit dat Hitler, Stalin, Farao, en talle ander ateïstiese leiers wreed was, kan teruggelei word na die feit dat hulle die Here ontken het.  As hulle ontken dat daar ‘n God in die hemel is, is dit omdat húlle God wil wees.

 

Toe die voormanne klaar by Farao gekla het, het hulle vir Moses en Aäron gesê:  “Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.” (5:21).  So het die Israeliete gedurig teen Moses gekla (14:11, 15:24, 16:2, 17:3).

 

Kry God se perspektief in jou beproewing.  Onthou dat Hy soewerein is oor wat met jou gebeur.  Hy werk alles volgens die Raad van sy wil (Efesiërs 1:11).  Selfs die slegte dinge wat oor ons pad kom het Hý bepaal (Klaagliedere 3:37-38).  God bepaal ons siekte (Deuteronomium 32:29), finansiële probleme (1 Samuel 2:7), mense wat die lewe vir ons moeilik maak (2 Korintiërs 12:7), ons vyande (Rigters 3:1-2), gesinsprobleme (Genesis 50:20), onvrugbaarheid (1 Samuel 1:5), of jy enkel of getroud is (1 Korintiërs 7:7), mense wat jou vervolg omdat jy ‘n Christen is (1 Petrus 4:19), gebrek in jou liggaam (4:11), ‘n slegte leier – soos Farao of Jacob Zuma – wat oor jou regeer (9:16, Romeine 13:1, Spreuke 21:1).  In jou beproewing moet jy nie teen die Here rebelleer nie.  Onderwerp jou aan Hom en glo dat Hy alles vir die goeie sal uitwerk (Romeine 8:28).  Maak ook seker dat jou swaarkry nie God se dissipline oor jou sonde is nie.  As jy nie hierdie perspektief het nie, sal jy hopeloos raak en kwaad wees in jou beproewing (5:21).

 

God se verbond (5:22-6:8)

‘n Paar weke gelde het mense by ons gekuier en dié storie vertel.  ‘n Vrou wat hulle ken se kind het baie ernstig siek geraak.  Die man kon dit nie hanteer nie en het van sy vrou geskei.  Dit het nie saakgemaak dat hy voor die kansel gesê het:  ‘In siekte en gesondheid, tot die dood ons skei’ nie.  Die beproewing was vir hom te swaar.  Daarom het hy sy huweliksbeloftes geminag.  God sal dit nooit doen nie.  Wanneer beproewing kom sal Hy ons nie verlaat nie.  Hy sal getrou wees aan sy verbond.

 

Moses het tot die Here geroep en Hom vir Farao se sonde beskuldig:  “Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen?  Waarom het U my tog gestuur?  Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.” (5:22-23, vgl. Numeri 11:11, Jeremia 4:10).  God het belowe dat Hy vir Farao sou oordeel, sodat hy Israel uit Egipte sou uitdryf.  Wie is hierdie God?  Hy is die Here, EK IS wat EK IS (6:1, 3:14-15).  Dié Naam Here impliseer dat Hy soewerein is.  EK IS wys dat Hy ewig, onveranderlik, en onafhanklik is.  Hy is die Almagtige (6:2, Genesis 17:1, 35:11).  Hy is die waaragtige en getroue God wat sy verbond hou (6:3-4).  Hy is die God wat Hom oor sy kinders ontferm en hulle gebede hoor (6:4).  Hy weet alles (6:4).  Hy is kragtig en regverdig; die Verlosser van sy volk en die Regter van hulle vyande – Hy sal sy vyande oordeel om sy volk te verlos (6:5, hfst.7-12, Genesis 15:14, Deuteronomium 4:34).  God se arm is sterk van daad.  In die Nuwe Testament is Jesus die arm van die Here (Jesaja 53:1).  Om ons te verlos het God Hóm geoordeel (Matteus 27:46).

 

Wanneer God sy volk verlos, sal hulle sy volk en Hy hulle God wees (6:6).  Die gode van Egipte sou nie meer hulle gode wees nie (Esegiël 20:7), maar die Here sou hulle God wees.  So het God sy verbond aan Abraham vervul (Genesis 17:7).  In die Nuwe Testament is Christene God se volk (1 Petrus 2:9, Titus 2:14, Openbaring 21:7, Hebreërs 8:10).  Israel sou die Beloofde Land as erfdeel verkry (6:7).  Die verbond met Abraham sou finaal vervul word (Genesis 15:18).

 

Hou vas aan God se verbond.  Jy moet verstaan dat geen beproewing jou van Hom kan skei nie (Romeine 8:38-39).  Moet dan nie in jou beproewing God se liefde vir jou betwyfel, of dink dat Hy van jou vergeet het of jou sal wegwerp nie.  Draai na Hom toe en nie na mense toe nie (5:22-23, 15).  Stort jou hart uit voor die Here (Psalm 62:9).  Herinner Hom aan sy beloftes (Jesaja 62:6-7).  Sê vir jouself dat die God wat beloftes maak nie ‘n mens is wat kan lieg nie.  Hy is getrou; die Almagtige.  Hy het die verbond met sy eie bloed verseël en kan dit nie breek nie.  As Hy sy Seun gegee het, sal Hy ook alles gee wat jy nodig het om die beproewing te deurstaan (Romeine 8:32).  Sy verbond alleen is vas en seker.  Jy kan op niks anders vertrou nie.  God stuur dikwels beproewings om vir ons dit te leer.  “Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.  Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek” (2 Korintiërs 1:8-9).

 

Arthur Pink het in 1922 ‘n tydskrif uitgebring, en dit vir 31 jaar volgehou.  Vir meer as 20 jaar het hy gebid dat daar meer lesers sal wees.  Sy gebed vir nuwe drukkers, finansies, en baie ander dinge is beantwoord.  Maar dié gebed is nie beantwoord nie.  Hy het nie verstaan hoekom nie.  Toe hoor hy dat meer as ‘n honderd predikante die tydskrif lees en die waarhede daarin vir hulle mense leer.  In Augustus 1947 kon Pink skryf:  ‘through the mouths of many ministers the substance of our articles is reaching thousands of people who do not read them.’[2]  Dalk sien jy nie dadelik wat die Here in jou beproewing doen nie.  Nogstans moet jy Hom vertrou en weet dat Hy sal doen wat wys is.

[1] John Currid, A Study Commentary on Exodus: Volume 1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, pp.113-114

[2] Iain Murray, The Life of Arthur W. Pink, p.210