Weerstand teen God

Opposing God

Elke gesoute hengelaar weet dat ‘n lyn met 20kg breekkrag maklik ‘n 15kg vis kan weerstaan.  Maar dieselfde lyn sal soos dun gare breek as ‘n 400kg vis dit vat.  Net so kan ‘n mens ander mense weerstaan.  Geen mens kan egter in ‘n finale sin teen die Almagtige God weerstand bied nie.  Eksodus 6:9-7:13 maak dit duidelik.

 

Moses

Alhoewel Benjamin Franklin nie ‘n gelowige was nie, het hy dit geniet om na George Whitefield se prediking te luister.  In 1740 het Whitefield in Georgia gepreek.  Hy wou ‘n weeshuis in Georgia oopmaak en het beplan om ná die preek ‘n offergawe op te neem.  Franklin het sy idee ondersteun, maar omdat hulle arbeiders en materiaal uit Philadelphia moes huur, het hy voorgestel dat hulle die weeshuis dáár moes bou.  Omdat Whitefield sy raad geïgnoreer het, het Franklink geweier om die projek te ondersteun.  Hy skryf:

 

‘I silently resolved he [Whitefield] should get nothing from me.  I had in my pocket a handful of copper money, three or four silver dollars, and five pistoles in gold.  As he proceeded [his sermon] I began to soften, and concluded to give the coppers.  Another stroke of his oratory made me ashamed of that, and determined me to give the silver; and he finished so admirably that I emptied my pocket wholly into the collector’s dish, gold and all.

 

At this sermon there was also one of our club, who, being of my sentiments respecting the building in Georgia, and suspecting a collection might be intended, had by precaution emptied his pockets before he came from home.  Towards the conclusion of the discourse, however, he felt a strong desire to give, and applied [asked] to a neighbour who stood near him, to borrow some money for the purpose.’[1]

 

God kan enige weerstand oorkom.  Toe God vir Moses na Farao toe gestuur het, het Moses Hom weerstaan.  Hy het gesê:  ‘As God se volk nie eers na my wil luister nie, hoe sal ‘n goddelose koning na my luister?  Ek mag miskien besny wees, maar my lippe is onbesnede en onrein; ek is onbekwaam om te praat (sien 6:9-12, vgl. 4:10, Jesaja 6:5).’  God was geduldig met Moses en het hom gemotiveer om te gaan:  “Ek is die HERE.  Sê aan Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.  Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE:  Ek is onbesnede van lippe!  Hoe sal Farao dan na my luister?” (6:28-29).  Die Here het in 6:28-7:6 basies vir hom gesê:

 

‘Wie jý is maak nie saak nie, maar wie Ék is (2 Korintiërs 2:16, 3:5).  Ek sal jou instaat stel om te praat.  Ek sal jou soos God maak voor Farao.  Hy dink hy is ‘n god, maar nou sal Hy met die ware God te doen kry.  Jy moet My verteenwoordig.  Aäron sal my geïnspireerde woorde namens jou praat; hy sal jou profeet wees (4:16).  Moenie bekommer as Farao nie wil luister nie.  Ek sal sy hart verhard, sodat hy nie luister nie (4:21).  Ek sal jou instaat stel om wonders te doen.  Deur dié plae sal ek Egipte oordeel en my volk red.’  Moses en Aäron het toe gedoen wat God gesê het.  Moses was 80 en Aäron 83 toe God hulle na Farao toe gestuur het.  Hulle was nie te oud vir God om hulle te gebruik nie.

 

Moenie die Here weerstaan nie.  Soos Moses is daar vandag gelowiges wat die Here weerstaan.  Weerstaan jy God se roeping om ‘n sendeling of predikant te word?  Skop jy teen sy opdrag dat jy gedoop moet word of lidmaat van ‘n gemeente moet word?  Het jy weggedwaal en weerstaan jy sy roepstem dat jy jou moet bekeer?  Het jy gebroke verhoudings?  Jou gewete sê dat jy dit moet regmaak, maar jy weier; jy weerstaan die Here.  Is daar ‘n spesifieke sonde waaroor die Here met jou praat, maar jy wil dit net nie los nie?  Of dalk iets wat jy nalaat om te doen, maar jy hou aan om dit uit te stel?  Dalk ‘n spesifieke opdrag in die Bybel wat jy weerstaan?  Is daar ‘n leerstelling in die Bybel wat jy weerstaan en nie wil aanvaar nie?  Weerstaan jy God se dissipline?  Jy is nie nederig onder God se swaar hand nie; jy skop teen Hom en is ongeduldig (1 Petrus 5:6).  Maak jy jou gewete aanhoudend stil oor iets wat jou pla?

 

God wil hê jy moet erns maak om sy wil te ken (Efesiërs 5:17).  As jy weet dat iets in jou lewe nie reg is nie, sê Psalm 119:59-60 vir jou wat om te doen:  “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.  Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.”  Die Here het jou gemaak en gered.  Daarom moet jy nie aanhou om Hom te weerstaan nie.  “Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?” (Jakobus 4:5, NAV).  “Of wil ons die ywer van die Here opwek?  Is ons miskien sterker as Hy?” (1 Korintiërs 10:22).  Moenie sê dat jy nie dinge wat verkeerd is kan regmaak nie.  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (Filippense 4:13).

 

Israel

Laasjaar het ek by ‘n rugby oefening gesien hoe ‘n ma vir haar graad R seun ‘n opdrag gee.  Terwyl hy na sy maatjie toe hardloop, sê hy vir sy ma:  ‘Wag!’  Sy het op hom geskreeu, maar hy het weggehardloop, en met sy hand vir haar gewys:  ‘Voetsek!’  Vandat die mens in sonde geval het, is daar ‘n rebelsheid in sy hart; ‘n begeerte om die juk van God se gesag van sy nek af te gooi.  Die mens wil onafhanklik wees.

 

Van die begin af het die Israeliete Moses se leierskap weerstaan (2:14).  Die geslagsregister in 6:13-26 is gegee, sodat die eerste lesers (die Israeliete in die woestyn) kon sien dat Moses en Aäron uit die stam van Levi kom.  Moses het homself nie as leier en Aäron homself nie as priester aangestel nie.  God het hulle uitgekies.  In hfst.15-17 het die volk teen Moses se leierskap in opstand gekom.  In Numeri 11, 14 het hulle dit weer gedoen.  In Numeri 12 het sy eie broer en suster sy leierskap teëgegaan.  In Numeri 16 het Korag vir Moses teengestaan.  ‘Wie het jóú gekies om ‘n priester te wees?  Ons is uit die stam van Levi en het ook die reg om priesters te wees!’  In Numeri 17 wys God dat Hy vir Levi gekies het om in die tabernakel te werk; dat Aäron en sy seuns gekies is om priesters te wees.  Die eerste lesers kon uit 6:13-26 Moses en Aäron se bloedlyn deur Amram en Kehat na Levi, en uiteindelik na Jakob toe teruglei.

 

Die geslagsregister begin met Jakob se oudste drie seuns.  Levi, Kehat en Amram se ouderdomme word gegee om te wys dat God se woord aan Abram vervul is:  Die Israeliete sou vir omtrent 400 jaar slawe in Egipte gewees het (Genesis 15:13).

 

Levi sterf op 137

Kehat sterf op 133

Amram sterf op 137

Aäron was 83 op dié tydstip (7:7)

_________________

Totaal:  490 jaar

 

As Levi, Kehat en Amram elkeen 20 was toe hulle seuns gebore is, dan was die Israeliete vir 430 jaar in Egipte.  In 12:40-41 lees ons:  “En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar.  En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.”

 

Om dan op te som kan ons sê dat die volgende persone uit dié nageslag ontstaan het:

 

  • Die Leviete (6:15, Numeri 3, 17, 26:57).
  • Moses en Aäron (6:19, 25-26).
  • Nagson, ‘n prins en voorvader van Jesus, was Aäron se swaer (6:22, 1 Kronieke 2:10, Matteus 1:4).
  • Die priesters (6:22, 28:1, Levitikus 10:1).
  • Pinehas, Aäron se kleinseun wat hoëpriester geword het en ywerig was vir die Here (6:24, Numeri 25:6-12).

 

Nie alleen die geslagsregister nie, maar ook die wonderteken wat Moses in hfst.7 gedoen het, sou vir die eerste lesers ‘n bewys wees dat God hom gestuur het (vgl. Numeri 16:28-30).

 

Moenie soos die Israeliete wees en die gesag wat God daargestel het, weerstaan nie.  Moenie jou ouers, man, ouderlinge, baas, regering, polisie, of onderwysers se gesag weerstaan nie.  Ouers moet dit by hulle voorskoolse kinders inskerp:  dit is sleg vir jou om onafhanklik te wees; om jou eie baas te wil wees.  Dit wat nóú in ons land aangaan (weerstand teen gesag) het begin toe 2-jariges hulle ouers weerstaan het, en nie vasgevat is nie:  werkers wat met geweld staak, skoliere wat onderwysers aanrand, politieke leiers wat ‘n magstryd voer in die regering, lidmate wat teen hulle leiers opstaan en kerke skeur, rebelse tieners en studente.

 

Jy mag slegs ongehoorsaam wees as jou gesagsfigure vir jou sê om te sondig (Handelinge 4:19, 5:29).  As ‘n prediker nie deur God aangestel is nie, hoef jy nie vir hom te luister nie.  Ek het in ‘n preek gesê dat Benny Hinn ‘n vals leraar is.  Iemand het daarvan gehoor en gesê:  ‘’n Mens slaan nie jou hand aan die gesalfde van die Here nie – selfs al is hy verkeerd.’  Die feite is dat Benny Hinn nie die gesalfde van die Here is nie, maar ‘n dienskneg van die duiwel.  As iemand soos Adolf Hitler die volk uitmoor, dan mag ‘n mens wapens opneem en oorlog maak.  Om dít te doen sou nie wees om die gesag wat God daargestel het, te weerstaan nie.

 

Hoekom moet ons nie weerstand bied teen gesag nie?  Paulus sê in Romeine 13:1-2:  “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.”  As jy gesag weerstaan, weerstaan jy die Here.  En as jy dít doen sal God jou uitwis (20:12).  As jy aan gesag onderdanig is verheerlik jy die Here (1 Petrus 2:13-20).  Wie weet of Hy jou onderdanige optrede sal gebruik om ongelowiges te red (1 Petrus 3:1-2)?

 

Farao en die towenaars

Ek kry koue rillings as ek hoor hoe ateïste God weerstaan en uitdaag.  In ‘n preek het R.C. Sproul vertel van ‘n student wat sy vuis na die hemel gelig het, en God uitgedaag het hom om dood te slaan.  Sproul sê:  ‘I didn’t want to look, but I saw his dead body the next day, and I’ll never forget it.’  Farao het gedink hy is ‘n god.  Hy en sy towenaars het God tot ‘n tweegeveg uitgedaag.  Hulle het gou agterkom dat dit die domste ding is wat ‘n mens kan doen.

 

Ten spyte van God se wonderwerke sou Farao nie na Moses en Aäron luister nie.  God het sy hart verhard en so vir hom gegee wat hy wou hê (7:3-4).  God het dit gedoen, sodat Hy die plae kon vermeerder en aan die Egiptenare wys dat Hý – nie hulle gode nie – die ware God is (9:16, 12:12).  Farao het nie geglo dat God vir Moses en Aäron gestuur het nie, en het vir ‘n teken gevra (7:9, vgl. Johannes 2:18, 6:30).  Aäron het sy staf voor Farao en sy knegte neergegooi, sodat dit in ‘n slang verander het.  John Currid skryf:

 

‘…depicted on the front of the king’s crown was an enraged female cobra, or serpent.  This uraeus was thought by the Egyptians to be energized with divine sovereignty and potency.  It was considered the emblem of Pharaoh’s power.  It symbolized his divinity and majesty.  When Aaron flings down the rod-snake before Pharaoh, he is therefore directly assaulting that token of Pharaoh’s sovereignty; the scene is one of polemical taunting.’[2]

 

Die God wat klippe in mense kan verander (Matteus 3:9), kan stokke in slange verander.  Die twee towenaars, Jannes en Jambres, het dieselfde gedoen (7:11, 2 Timoteus 3:8-9).  Satan het ‘n slang se liggaam gebruik om vir Eva te mislei en kan homself voordoen as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:3, 14).  Hy kon maklik hier dieselfde gedoen het en deur bonatuurlike magte of oë-verblindery God se werk na-aap.  Later het hulle erken dat hulle nie sulke groot werke kon doen nie (8:18-19), en is hulle self deur die plae getref (9:11).  Op dié stadium het God toegelaat dat hulle sy werk na-aap, omdat Hy Farao se hart wou verhard.  “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:11-12).  Deurdat Aäron se slang die towenaars s’n ingesluk het, het God gewys dat hy sterker is as die towenaars en gode van Egipte.  Farao se hart is verhard, sodat hy God weerstaan het en nie na hulle wou luister nie.

 

Moenie die Here uittart of uitdaag nie:

 

  • Moenie sy Naam vloek of nie omgee as hulle dit in films doen nie.
  • Moenie vir die Here sê om Homself te bewys of ‘n teken te gee, voordat jy die knie sal buig nie.
  • Dis nie verkeerd as jy verward is in jou beproewing en nederig vir God vra wat aangaan nie. Maar moenie bitter wees teen Hom, kwaad raak, of jou vuis vir Hom lig nie.
  • Moenie sy weë bevraagteken of sê sy Woord is dom nie (Romeine 9:19-23).
  • Moenie sy bestaan ontken nie. As Hy regtig bestaan en jy Hom so uittart, wonder jy dalk hoekom Hy jou nog nie uitgewis het nie? Wees dankbaar dat Hy so geduldig en genadig is!
  • Die Bybel sê jy kan vrymoedig bid en God aan sy beloftes herinner. Maar moenie soos die Prosperity predikers wees wat eise aan Hom stel nie.
  • Moenie met ‘n hoë hand sondig nie. Ek praat van iemand wat in sy hart dink: ‘Ek weet wat ek wil doen is verkeerd, maar voel ‘n veer vir wat God dink; ek sál dit doen.’
  • Moenie gedurig die evangelie hoor en jou hart verhard nie (Handelinge 7:51).

 

Vrees God en respekteer Hom.  Besef dat jy op die aarde is en Hy in die hemel.  Jy is niks.  As jy aanhou om jouself teen Hom te verset, sal Hy jou breek sodat jy jou nie meer kán bekeer nie (Spreuke 29:1).

 

John S.C. Abbott het in die 1800’s geleef.  Hy vertel van ‘n episode wat gebeur het toe hy 4 jaar oud was.  Een aand het sy gesin om die kaggelvuur gesit.  Sy pa het hulle gevra om die alfabet te hersien.  John het die hele alfabet goed geken, maar het geweier om dit op te sê.  Sy pa het hom weer gevra, maar hy het steeds geweier.  Sy pa het hom na ‘n private vertrek toe geneem en hom pak gegee.  Toe hulle terugkom wou hy nogsteeds nie die alfabet sê nie.  Sy pa het hom weer gestraf, maar hy wou nie toegee nie.  Sy pa wou hom nie te swaar straf nie.  John was so hard en onbeweeglik soos ‘n rots.  Sy pa het hom aan die hand geneem om hom weer te gaan straf.  Dadelik het sy wil gesmelt en het hy ingestem om die alfabet op te sê.  Baie jare later skryf hy:

 

“John learnt a lesson which he never forgot, that his father had an arm too strong for him.  He learnt that it was the safest and happiest course for him to obey.  He learned never again to wage such an unequal warfare.”[3]

 

Laat ons so wees en nie die Here weerstaan nie.  Om dit te doen is dwaas.  As ons in nederigheid die knie voor Hom buig, sal dit met ons goed gaan.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield vol.1, pp.481-482

[2] Exodus vol.1, Evangelical Press, DARLINGTON, 2000, p.161

[3] Mark Chanski, Manly Dominion, p.217