Die tien plae: Muskiete en steekvlieë

Plague of gnats

‘n Span sendelinge het na ‘n Chinese eiland toe gegaan om die evangelie te deel.  Die plaaslike volk het gesê dat hulle nie die Christen God nodig het nie, maar dat hulle binnekort ‘n fees vir hulle eie god sou hou.  ‘n Jong man in die span het gesê:  ‘Julle kan nie die fees hou nie, want op daardie dag sal dit reën.’  Dit het inderdaad so gebeur.  Die eilanders het gesê dat hulle die datum verkeerd gehad het, en dat hulle ‘n kort tydjie later die fees sou hou.  Die jong man het weer gesê dat dit op die dag van die fees sal reën.  Die span het gebid dat die Here reën sou stuur.  Op die oggend van die fees het die son geskyn.  Hulle het ernstig gebid.  Baie gou het daar wolke opgesteek en het dit begin reën.  Dit het egter nie die volk gekeer om hulle god uit te dra vir die fees nie.  Maar toe hulle in die modder gly het die afgod geval en gebreek.  Die volk het besef dat Jesus die ware God is en was oop vir die evangelie.

 

Die derde plaag:  Muskiete[1] (v.16-19)

In 1993 is ons gesin Kaapstad toe.  Oppad het ons in Laingsburg oorgeslaap.  Ons het ‘n baie slegte nag gehad met muskiete.  As ek reg onthou het ons meer as twintig muskiete teen die dak en mure doodgeslaan.  Die volgende oggend toe sien ons die prop met muskietgif in die muur.  Hoe erg moet dit wees as muskiete, soveel soos die stof van Egipte, in jou ore zoem?  Volgens v.17 het “Al die stof van die aarde…muskiete geword in die hele Egipteland.”  Onthou dat Egipte grootliks woestyn is.  Daar was BAIE muskiete.  Hulle het mense en diere geteister.  Selfs as dit muggies was moes dit erg gewees het:  muggies in jou oë, ore, mond, en neus.  Die towenaars kon nie muggies uit die lewelose stof skep nie.  Hulle het besef dat hierdie die vinger van God was:  dieselfde vinger waarmee Hy die maan en sterre gemaak het, en duiwels uitgedryf het (Psalm 8:4, Lukas 11:20).  God het gewys dat die Egiptenare se gode van die aarde (bv. Akhor) Hom nie kon keer om die stof in muskiete te verander nie.  Farao het ‘n veer gevoel en sy hart verhard.

 

Die vierde plaag:  Steekvlieë (v.20-32)

Het jy al die hoede gesien wat party Australiese krieket toeskouers op het?  Daar is toutjies met kurkproppe aan wat van die rante afhang.  Waarvoor is dit?  Dit hou die vlieë uit jou gesig uit.  Daar is baie vlieë in Australië.  Maar toe beeste in 1788 in die land ingevoer is, was dit baie erger.  Die vlieë het siektes versprei.  Baie mense en diere het ooginfeksie gekry.  Toe miskruiers na die land toe gebring is, is die probleem onder beheer gebring.  In 2003 het Bernard Doube van Adelaide in ‘n studie bevind dat miskruiers 99% van die criptosporidium uit beesmis verwyder.  Sodoende het hulle verhoed dat die water besmet word (in 1993 het 400 000 mense in Milwaukee, V.S.A. siek geword en selfs gesterf van water wat só besmet geraak het).

 

Moses moes weer vir Farao by die rivier ontmoet het.  Hy het hom in die Here se Naam beveel om die volk te laat gaan.  Indien hy nie gehoor wou gee nie, sou die Here steekvlieë oor Egipte stuur.  Die Hebreeuse woord is eenvoudig ‘swerms’ en kan na verskeie soorte insekte verwys.  Of dit nou steekvlieë was of gewone vlieë wat siektes versprei – hulle het die land vernietig.  “Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het” (Psalm 78:45).  Die mense in Egipte het die miskruier-god aanbid.  Deur die vlieëplaag het die Here gewys dat dié god nie die mis begrawe het, om so te keer dat die vlieë daarin broei nie.

 

God het gesê dat die Israeliete in Gosen (Genesis 46:34) nie deur die vlieëplaag getref sou word nie.  “Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.” (Maleagi 3:18).  Die implikasie is dat die Israeliete deur die vorige drie plae getref is.  Dit het gebeur omdat hulle saam met die Egiptenare hulle afgode aanbid het.  Die profeet sê:

 

“Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na ‘n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande.  En Ek het aan hulle gesê:  Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie:  Ek is die HERE julle God.  Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie.  Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.  Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.  En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.” (Esegiël 20:6-10).

 

God het nou ‘n onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare gemaak.  Hy sou sy volk verlos.  Almal – veral Farao – moes weet dat Israel Sý volk is.  God het gewys dat Hy soewerein is oor lande (vlieë oral in Egipte, behalwe in Gosen), mense (vlieë op die Egiptenare, maar nie die Israeliete nie), insekte (God kon die vlieë stuur en weer wegneem), tyd (God sou dit die volgende dag stuur en wegneem op die tyd wat Hy besluit het).

 

Alles het gebeur soos wat God gesê het.  Farao het vir Moses laat roep.  Hy het hom nie regtig bekeer nie, maar wou eenvoudig van die vlieë ontslae raak.  Sy bekering was dus nie eg nie.  Hy het gesê dat hy die volk sou toelaat om in die land vir die Here te offer.  Hy wou dus nogsteeds die boodskap oordra dat hý soewerein was om die Israeliete te laat gaan of nie.  Hy wou God se gebod kompromeer en was nie bereid om alles te doen wat die Here hom beveel het nie:  ‘Laat my volk drie dagreise ver in die woestyn intrek om My te dien.’  Moses het gesê dat die Egiptenare aanstoot sou neem oor hulle offers en hulle sou stenig.  Hulle kon net sowel ‘n heilige koei in ‘n Hindu tempel slag.  In die dae van Cambyses het die Perse ‘n oorlog teen Egipte gewen.  Hulle het vee voor die weermag laat loop.  Die Egiptiese boogskutters het geweier om te skiet, omdat hulle nie die ‘heilige’ diere wou doodskiet nie.[2]

 

Farao het weer probeer om ‘n middeweg te soek.  ‘Julle kan in die woestyn gaan offer, maar nie drie dagreise ver nie.  Bid net asseblief dat God die vlieë moet wegvat.’ (sien v.28, 8).  Om te wys dat God in beheer is, het Moses gesê dat hy die Here sou vra om die vlieë die volgende dag weg te vat.  ‘Moet ons net nie weer bedrieg nie,’ het Moses vir Farao gesê (v.29, 15).  God het die vlieë weggevat – tot die laaste een.  Maar Farao het sy hart verhard en nie gedoen soos hy belowe het nie.

 

Moenie soos die Israeliete wees en die vals gode van die kultuur aanbid nie.  Laat God se skeppingskrag, oordeel oor sy vyande, en beskerming van sy uitverkorenes bewys dat Hy die ware God is.  Ateïste wil graag bewys dat evolusie stof in muskiete kan verander; dat ‘n klein spikkel ontplof en alles tot stand gebring het; dat lewe uit nie-lewe ontstaan het.  Maar hulle teorie misluk soos die towenaars se wonderwerke (v.18).  Richard Dawkins wil bittergraag hê mense moet glo dat evolusie wetenskap is.  In ‘n debat teen prof. Lennox het hy gesê:  ‘We don’t need to inject miracles like the Bible does.’  Dawkins sal ‘n probleem hê met die stof wat in muskiete verander het, maar glo ateïste nie dieselfde as hulle sê dat ‘n spikkel materie (die Big Bang) oor biljoene jare in ‘n muskiet verander het nie?  Die towenaars het geweet wat Farao en ateïste ontken:  God kan met sy vinger doen wat die gode van Egipte en evolusie nooit kan doen nie (v.19).

 

Trek die masker van evolusie se gesig af en sien dit vir wat dit werklik is:  dit is nie wetenskap nie, maar die vals en kragtelose godsdiens van ateïsme.  Buig jou neer voor die ware God wat wonderwerke kan doen; wat stof in muskiete kan verander.  Sê ‘nee’ vir die vals god van evolusie in jou handboeke, in die koerant, op Nat Geo Wild.  Jy kan nie die God van Genesis 1 en evolusie dien nie.  As jy die Bybel glo moet jy evolusie verwerp en andersom.

 

Die ware God kan die vals gode van hierdie wêreld met sy vinger vernietig.  Charismate oor die algemeen praat asof Satan en God ewe sterk is (alhoewel hulle dit nooit direk so sal sê nie).  ‘n Man in ‘n charismatiese kerk het vir my gesê dat daar geestelike wette is wat soms die Here dwing om te doen wat die duiwel wil hê.  ‘n Ander charismaat het gesê dat die duiwel God se gesag gekry het toe Adam en Eva gesondig het.  God moet dus vir die duiwel toestemming vra as Hy in die wêreld wil inkom.  Dis vals lering.

 

Jesus is die ware God.  Hy oorwin die demone en Beëlsebul (‘n ander naam vir Satan wat letterlik ‘god van die vlieë of mis’ beteken) met sy vinger.  “En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit?  Daarom sal hulle jul regters wees.  Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.” (Lukas 11:19-20).  Jesus het die regeerder van hierdie wêreld oorwin deur die ‘swakheid’ van sy kruisdood (Johannes 12:31-32).  Met ‘n woord red Jesus sy uitverkorenes uit die slawerny van die duiwel – die god van hierdie wêreld (2 Korintiërs 4:4, 6).  As jy op Jesus vertrou sal Hy jou red.  As jy die duiwel volg sal Hy jou saam met die duiwel vernietig (Efesiërs 2:2-3).  Die vals gode van hierdie wêreld kan jou nie red nie.  As jy hulle aanbid dan nooi jy God se toorn uit om jou te vernietig.

 

Die Filistyne het die ark van God gesteel en dit in die tempel van Dagon, hulle god, gesit.  Die volgende oggend het Dagon op sy aangesig voor die ark gelê.  Hulle het hom regop gesit, maar die volgende oggend het hy weer voor die ark gelê.  Hierdie keer het sy kop en hande afgebreek.  God het ‘n plaag onder die Filistyne laat uitbreek.  Duisende het gesterf.  Hulle het die ark na ‘n ander stad toe gestuur, maar dieselfde het daar gebeur.  Uiteindelik het hulle die ark teruggestuur Israel toe.  Dit was duidelik dat Jahwe die ware God was (1 Samuel 5-6).  ‘n Skaakspel tussen God en die gode is nooit ‘n gelyke wedstryd nie.  Die ware God wen altyd.  Die gode van die nasies is nikswerd en dood.

[1] Die presiese betekenis van die Hebreeuse woord is onseker.  Dit kan muskiete, muggies, of luise wees.

[2] Alan Cole, Tyndale Old Testament Commentaries: Exodus, p.95