Die tien plae: Pes, swere en hael

Sphinx

In Desember 1998 het ek en ‘n vriend vir twee weke in Vryheid gaan preek.  Op weeksdae het ons ‘n vakansie Bybelklub gehou vir kinders.  My vriend het vir die eienaar van die plaaslike SPAR gevra of ons dit daar kon hou.  Die man het gesê:  ‘Ek is ‘n Moslem en het ‘n groot elektrisiteitrekening.  Wat kan jou God vir my doen?’  My vriend het geantwoord:  ‘Kom saam met my.  Ek sal bid en vir jou wys wat my God kan doen.’  Die man het gou gesê:  ‘Toemaar, ek trek net jou been; ek is ook ‘n Christen.’  Die ware God is nie net ‘n teorie nie.  Hy is ‘n praktiese God wat werk.  Eksodus 9 wys dit.

 

Die vyfde plaag:  Pes (v.1-7)

Hoekom het die Voortrekkers die Kaap verlaat om binneland toe te trek?  In 1793 het die Xhosas 116 plase verwoes en die Afrikaners se beeste gesteel.  Wat het Dingaan van Piet Retief vereis voor hy sou instem om die dokument vir die oordrag van Natal te onderteken?  Retief moes Sikonyela aanval om die 700 beeste wat hy van Dingaan gesteel het, terug te bring.  Wat het Dingaan gedoen na hy Retief en sy geselskap vermoor het?  Hy het hulle families uitgemoor en 25 000 beeste gesteel.  Hoekom?  In hulle tyd en kultuur, soos in die Bybel s’n, was rykdom gemeet aan hoeveel vee jy het – nie aan hoeveel geld jy in die bank het nie (Genesis 30:25-42, Job 1:3, 42:12, Markus 5:11-13).  Vir ‘n hele land se vee om met siekte getref te word is ‘n reuse verlies.

 

Die lewende en ware God van Israel het weer vir Farao gesê om Israel te laat trek.  Indien hy nie wou luister nie, sou die Here Egipte hierdie keer nie net met sy vinger tref nie (8:19), maar met sy hand (v.3).  Hy sou nie dadelik al die vee tref nie, maar net dié wat buite in die veld was (v.3).  Dis hoekom daar in v.19, na die vyfde plaag, nog vee oor was.  Hierdie plaag was ‘n aanval op verskeie gode.  Apis was Egipte se heilige bul-god.  Mnevis was ook ‘n bul-god en die simbool van vrugbaarheid.  Hathor was ‘n koei-godin.  Isis was die koningin van die gode en het koeihorings op haar kop gehad.

 

Die Here sou nie die Israeliete se vee tref nie.  Hy wou wys dat Israel sy volk was, en het ook gesorg dat hulle vee het om in die woestyn te offer.  Die Here het gesê dat die plaag Egipte die volgende oggend sou tref (v.5).  Farao het ‘n dag gehad om tot sy gode te bid, sodat hulle die Here kon keer.  Hy sou weer agterkom dat Jahwe die ware God is.  Farao het iemand gestuur om te sien of die Israeliete se vee die plaag oorleef het.  Selfs nadat dit bevestig is, het hy sy hart verhard.

 

Die sesde plaag:  Swere (v.8-12)

Toe ek in die laerskool was het my pa ‘n groot pitsweer op sy heup gekry:  een met nege koppe (‘n nege-oog of karbonkel).  Dit was ‘n rou seer vol van geel etter.  Blykbaar was dit baie pynlik.  Dit kan met salf genees word.  In die ou dae het mense ‘n glasbottel vol kookwater gemaak en dit weer uitgegooi.  Terwyl die stoom nog uitkom, het hulle die bottel se opening teen die pitsweer gedruk.  Dit het die pitsweer met etter en al uitgesuig.  Kan jy jou indink hoe seer dit sal wees as jou hele liggaam met sulke swere oortrek is?

 

Moses moes hande vol van roet uit die bakoond skep en dit voor Farao in die lug gooi.  Farao moes die wonderwerk voor sy oë sien plaasvind, sodat hy kon weet dat die God van Israel dit gedoen het.  Israel was in Egipte soos yster in ‘n vuuroond (Deuteronomium 4:20).  Is dit nie ironies dat die Here dié plaag uit die vuuroond laat kom het nie?  ‘n Paar hande vol roet het ‘n fyn stof geword wat die land oordek het.  Deur ‘n wonderwerk het God gemaak dat dit in swere verander op mense en diere.  Die gode van towery en genesing –Hike, Imhotep, Sekhmet – kon hulle nie help nie.

 

Die swere was pynlik, ongeneeslik, en dodelik.  Die woord wat hier met swere vertaal word, word ook gebruik van Hiskia se swere.  As die Here hom nie genees het nie, sou hy gesterf het (2 Konings 20:7, 1).  Die woord word gebruik van Job se swere wat hy met ‘n potskerf gekrap het (Job 2:7-8).  Dit het hard geword en dan weer gebreek.  Daar was selfs wurms in die swere (Job 7:5).  Sy vel het swart geword en afgeval.  Die inflammasie het gemaak dat sy bene soos vuur brand (Job 30:30).  In Deuteronomium 28:27, 35, 60 gebruik Moses hierdie selfde woord vir swere.  Hy beskryf dit so:

 

“Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie… Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel… en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.”

 

Selfs die towenaars is getref en kon nie voor Moses staan nie.  God het Farao se hart verhard, sodat hy nogsteeds nie geluister het nie (vgl. Josua 11:20).

 

Die sewende plaag:  Hael (v.13-35)

Kort na sy bekering het Jonathan Edwards oor weerlig en donderweer geskryf:

 

‘And scarce anything, among all the works of nature, was so sweet to me as thunder and lighting; formerly nothing had been so terrible to me.  Before, I used to be uncommonly terrified with thunder, and to be struck with terror when I saw a thunder storm rising; but now, on the contrary, it rejoiced me.  I felt God, so to speak, at the first appearance of a thunder storm; and used to the take the opportunity, at such times, to fix myself in order to view the clouds, and see the lightnings play, and hear the majestic and awful voice of God’s thunder, which oftentimes was exceedingly entertaining, leading me to sweet contemplations of my great and glorious God.’[1]

 

Edwards het geweet wat alle Christene moet weet – iets wat met ‘n skok voor Farao se neus gehou is:  God beheer die natuur.

 

Moses moes vroegoggend vir Farao by die rivier kry en vir hom sê:  ‘Die Here sê jy moet sy volk vrylaat sodat hulle Hom kan aanbid.’  Voortaan sou God sy plae teen Farao se hart stuur [v.14, Heb. lêb] – ja, die eindste hart wat so verhard was.  So sou die Here wys dat Farao geen god is nie, maar dat Hý die ware God is.  As die Here wou, kon Hy lankal vir Farao en die Egiptenare uitgewis het.  Maar Hy was geduldig en het vir Farao opgewek, sodat Hy sy groot Naam, krag, en heerlikheid kon toon.  Dit moes bekend word dat dit Hy is wat konings oprig en weer neerwerp (Daniël 2:21).  “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.” (Spreuke 16:4).

 

Die hael sou vroeg die volgende oggend val (v.18, 13).  Dit moet warm wees voordat hael kan vorm en val.  Die warm lug stoot die waterdruppels hoog op tot in die koue atmosfeer.  Daar vries die klein druppeltjie en val dit weer.  Dis nie swaar genoeg om deur die warm lug tot op die aarde te val nie.  Die warm lug stoot dit weer op.  As dit in die koue atmosfeer kom, dan vries daar nog ‘n lagie.  So hou dit aan, totdat dit groot en swaar genoeg is om tot op die aarde te val.  In die woestyn is die nagte koud.  As die natuurlike prosesse moes plaasvind, kon die hael nie vroeg in die oggend val nie.  Maar hierdie is ‘n wonderwerk.  God het die hael vroeg in die môre laat val.  Weereens het Hy gewys dat Hy die ware God is.  Volgens v.18, 24 was hierdie Egipte se ergste haelstorm vandat dit ‘n nasie geword het.  Egipte het eers na die vloed in Genesis 10:6, 20 ‘n nasie geword.  Die ergste storm voor dié een was die vloed.

 

God het ‘n finale waarskuwing gegee en hierdie keer barmhartigheid bewys:  “Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.” (v.19).  Die Egiptenare wat God se woorde gevrees het, het gou opgetree en hulle vee ingebring (v.20).  Die res se vee en slawe is doodgeslaan (v.21).  “Wie hom nie aan die woorde van die Here steur nie, sal die gevolge dra; wie eerbied het vir sy gebooie, sal die goeie vrugte pluk.” (Spreuke 13:13, NAV).

 

God het donderweer, weerlig en hael gestuur en alles getref.  Wingerde, wildevy, en ander bome is deur die hael verwoes.  Nie net die hael nie, maar ook weerlig het skape en beeste doodgeslaan (Psalm 78:47-48, 105:32-33).  Die Israeliete in Gosen is nie getref nie; hulle het in rus en vrede gewoon (v.26, Jesaja 32:18).

 

Farao het vir Moses geroep:  ‘Hierdie keer het ek teen die Here gesondig.  Die Here is reg.  Ek en my volk is verkeerd.  Vra die Here om die donderweer en hael weg te vat – ek sal die volk laat gaan!’  Sien jy die implikasie van die woorde ‘dié keer’?  Hy sê eintlik dat hy nie die vorige kere verkeerd was en gesondig het nie.  Hy is nie regtig jammer oor sy sonde nie, maar hou net nie van die aaklige gevolge nie.

 

Moses het gesê dat hy vir die Here sou vra om die hael te stop nadat hy uit die stad uit was.  So sou Farao sien dat die hael nie vir Moses tref nie, en dat die aarde aan die Here behoort (vgl. Josua 10:11, Psalm 24:1).  Moses het geweet dat Farao nie die Here gevrees het nie; dat hy ‘n leë belofte gemaak het en nie die volk sou vrylaat nie.  Hulle ongehoorsaamheid in v.21 het bewys dat hulle nie die Here gevrees het nie.

 

Die hael het die vlas en gars weggeslaan.  Die Egiptenare het vlas gebruik om hulle wêreld bekende Egiptiese linne te maak.  Die ekonomie was in sy kanon in.  Die koring en spelt het nog nie opgekom nie en was veilig.  Maar ook dít sou binnekort deur die sprinkane vernietig word.  Die Egiptiese godin Nut het die hemelruim voorgestel.  Shu het die hemel in plek gehou, en Tefnut was die godin van vog in die atmosfeer.  Hulle was veronderstel om die weer te beheer, maar kon nie teen die Here staan nie.  Geb was die god van landbou en Seth die god van oeste.  Hulle kon nie Jahwe se hand van oordeel keer of terugdraai nie.

 

Toe God die hael gestop het, het Farao sy hart verhard en sy belofte gebreek – net soos die Here gesê het.

 

Wat is die groot les wat ons uit hierdie drie plae leer?  God is soewerein oor pes, siekte, en die weer.  Na 2004 se tsunami het ek in ‘n preek gesê dat God soewerein is.  Iemand wat die preek gehoor het, het gesê:  ‘Om te sê dat God die tsunami gestuur het, is Godslastering.’  Die Bybel sê egter dat God hierdie dinge beheer.  Verse wat wys Hy is soewerein oor siekte is die volgende:

 

  • “En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?” (4:11).
  • “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie… Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom… en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het.” (Job 2:10, 42:11). Job het swere gehad. Let op dat Job nie gesondig het deur te sê dat God die slegte dinge oor hom gestuur het nie.
  • “En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!” (Numeri 12:10). God het vir Miriam gestraf omdat sy vir Moses teëgegaan het.
  • “Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.” (Deuteronomium 32:39).
  • “Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?” (Klaagliedere 3:38).
  • Jesaja 45:7 praat van God wat “die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.”
  • “Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied… Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.” (1 Samuel 5:6, 9).
  • “En die HERE het die kind wat die vrou van Uría vir Dawid gebaar het, getref, sodat dit ernstig siek geword het.” (2 Samuel 12:15).
  • “En die HERE het ‘n pes onder Israel beskik van die môre af tot op die bepaalde tyd, en van Dan tot Berséba het daar van die volk sewentig duisend man gesterwe.” (2 Samuel 24:15).
  • “[as] Ek die plaag van melaatsheid in ‘n huis van die land van julle besitting laat kom” (Levitikus 14:34).
  • “Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Johannes 5:14). Die implikasie is dat God die man weer kon laat siek word.
  • “Daarom sal die melaatsheid van Naäman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe. En hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.” (2 Konings 5:27).
  • “En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe” (2 Konings 15:5).
  • “En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.” (Handelinge 12:23).
  • “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (1 Korintiërs 11:30). God het die Korintiërs getref omdat hulle die nagmaal misbruik het.
  • “Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.” (Openbaring 2:22-23).
  • “En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.” (Openbaring 6:8). Die teks sê dat die perd en sy ruiter mag ontvang het om die pes te bring. Wie het aan hulle die mag gegee? God (vgl. Job 2:6).
  • “Toe gaan die eerste een [engel] weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.” (Openbaring 16:2).

 

God is ook soewerein oor die weer:

 

  • God het die vloed gestuur (Genesis 6-9). Psalm 29:10 sê: “Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.”
  • “Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller… Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns… Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: óf tot ‘n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.” (Job 36:32, 37:6, 10-13).
  • “Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp, en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly… En met sonop het God ‘n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” (Jona 1:4, 4:8).
  • “Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring” (Psalm 148:8).
  • “Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.” (Psalm 147:16-18).
  • “En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ‘n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.” (Openbaring 16:17-21).
  • “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing” (Openbaring 6:12).
  • “Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom. En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.” (Deuteronomium 28:21-24).
  • “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:21-22). Weerlig het Job se skape getref en ‘n stormwind het die huis omgewaai waarin sy kinders gesterf het. Job het nie gesondig deur te bely dat die Here dit gedoen het nie.

 

Moenie praat en vrees asof die natuur soewerein is nie.  Moenie van siekte en rampe sê dat die duiwel gekom het om te steel nie.  Dit is wel so dat God die duiwel soms toelaat om siekte en rampe te bring (Job 1:12, 2:6, Matteus 17:18, Lukas 13:16).  Maar die tekste wat ek hierbo gelys het wys dat God nogsteeds in beheer is van hierdie dinge.  Vir die gelowige sal God siekte en rampe ten goede laat meewerk (Romeine 8:28).  Net die ware God kan dit doen.

 

Wanneer God siekte en rampe oor ongelowiges stuur is Hy geduldig en gee aan hulle ‘n kans om hulle te bekeer (v.20, Romeine 2:4, 2 Petrus 3:9).  As hulle dit nie doen nie, dan sal hulle sterf (v.21).

 

Hoe is God anders as die gode van Egipte as Hy nie soewerein is nie.  As jy bely om ‘n Christen te wees en God se soewereiniteit ontken, dan aanbid jy ‘n afgod.  Die God van die Bybel is soewerein (Psalm 103:19).  As jy sê Satan beheer siekte en rampe, sal jy in vrees lewe.  In teorie glo jy dalk nie dat die duiwel soewerein is nie, maar in praktyk lewe jy asof die duiwel en gode van Egipte so sterk soos die Here is.  Watse troos kan jy hê as jy siek word?

 

Voor 1838 het sendelinge vir 18 jaar geen sukses onder die Zulus gehad nie.  By die slag van Bloedrivier het 464 Voortrekkers 15 000 van die gevreesde en onoorwonne Zulu Impi gedood.  Na dié slag het honderde duisende Zulus tot bekering gekom.  Hoekom?  Hulle het gesien dat hulle gode, toordokters, diktators, en voorvader geeste geen mag gehad het teen die God van die Voortrekkers.  Hulle het besef dat Hy die ware God is.[2]

[1] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, pp.36-37

[2] Peter Hammond, The Day of the Covenant – ‘n praatjie gelewer by die Reformation Society.