Hoekom ons kerk nooit weer moet skeur nie

Church split

In ons gemeente register van 2003 is daar – kinders en besoekers uitgesluit – 156 name.  In dieselfde jaar het die gemeente geskeur, sodat daar 109 lidmate oorgebly het, waarvan ‘n klomp onaktief was of getrek het.  Solank as wat ons op aarde is, sal die kerk onvolmaak wees.  Tog hoop ek 1 Korintiërs 3:1-17 help ons om die eenheid te bewaar.

 

Dit maak ons soos die wêreld (v.1-4)

Twee weke gelede was daar choas in die Suid-Afrikaanse parlement.  Die EFF se leier, Julius Malema, wou van die president weet wanneer hy van plan was om die geld terug te betaal wat hy op Nkandla spandeer het.  ‘n Geveg het ontstaan.  Toe leiers handgemeen geraak het, is die EFF uit die gebou verwyder.  Nie elke ongelowige is op dieselfde vlak verdeeld nie.  Tog is verdeeldheid in ‘n algemene sin kenmerkend van ongelowiges (Galasiërs 5:20).  Maar dis tragies as Jesus se kerk verdeeld is.

 

Die Korintiërs het opgetree asof hulle ongeestelik en ongered was (v.1, 2:14-15).  Hulle was geestelik onvolwasse; babas (v.1, 6).  Vir ‘n baba om melk te drink is natuurlik (v.2).  Maar dis hartseer as ‘n ou Christen nog melk drink (v.2).  “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.  Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is.  Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.” (Hebreërs 5:12-14).

 

Gehoorsaamheid aan die sondige vlees maak jou soos die wêreld (v.3-4, 1:11-12).  Paulus sê in Galasiërs 5:19-20:  “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik… vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap”.  As jy soos die wêreld leef kan jy nie die waarheid reg verstaan nie:  “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” (2:14).

 

Leer die basiese waarhede van die Skrif as jy ‘n nuwe Christen is.  Met ander woorde, drink melk.  Maar moenie vir ewig melk drink nie.  Groei in die Here.  Moenie na 10 jaar nogsteeds net ’n kort dagstukkie lees en ‘n rympie bid nie.  Dis sleg as iemand wat vir 25 jaar ‘n Christen is sê:  ‘Ek soek nie eksposerende prediking nie.  Ek is nie hier om geleer te word nie.’  Ek wil jou uitdaag om die Bybel meer te lees en gevul te wees met die Gees.  So sal ons twis en partyskap vermy (Hebreërs 5:12-14, Galasiërs 5:19-23).

 

Wyle Martin Holdt het ons uitgedaag om tien hoofstukke per dag te lees.  Vir my persoonlike groei het dit wonders gedoen.  ‘n Ander man het ons uitgedaag om ‘n Bybelboek dertig keer deur te lees.  As jy na ‘n maand ‘n boek soos Efesiërs dertig keer gelees het, deurtrek dit jou soos water ‘n spons deurtrek.  Is dit dalk tyd dat jy dieper delf?  Moenie net oorsigtelik lees nie, maar bestudeer die hoofstuk deeglik.  Koop vir jou ‘n Bybelkonkordans, sodat jy kruisverwysings kan opsoek.  Bid vir insig.  Dink.  Herdink.  Daar bestaan nie iets soos stilstaan in die Christelike lewe nie.  As jy nie vorder nie gaan jy agteruit.

 

Dit verhef mense bo God (v.5-9)

Sewe jaar gelede het my vriend ‘n Baptistekerk geplant in die Kaap.  Vandag is hulle (saam met die kinders) omtrent 300 mense op ‘n Sondag.  Laasjaar het hy my gebel en gesê:  ‘Lank terug het jy gesê God besluit hoe groot ‘n kerk sal wees – jy was reg.’  Ek kan eerlikwaar nie onthou dat ek dit gesê het nie, en dink dat ek dit by hóm geleer het.  Maar dis waar.  Gód het besluit dat George Whitefield vir duisende mense sou preek, terwyl David Brainerd vir ‘n paar Indiane in die Noord-Amerikaanse woude sou preek; dat Spurgeon duisende bekerings sou sien, terwyl Jim Elliot onder die Aucas nie een bekeerling gehad het nie.  Omdat dit so is, is dit dom om mense aan te hang, hulle bo God te verhef, en verdeeld te wees (1:12).

 

Hoekom het die Korintiërs vir Paulus en Apollos opgehemel?  Hulle was maar net diensknegte wat vir die Korintiërs gesê het om in Jesus te glo (v.5).  God het sy diensknegte gebruik soos Hý besluit het (v.5).  “ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (Romeine 12:6).  Paulus het die kerk geplant en Apollos het die nuwe ‘plantjies’ in God se tuin natgelei (v.6, 4:15, 9:1, 15:1, Handelinge 18:11, 27).  Maar dit was God wat die kerk in bekerings, getalle en geestelike diepte laat groei het (v.6).  Paulus en Apollos is niks; God is alles (v.7).  Soli Deo Gloria – Aan God alleen die Eer.  Die Christene in Korinte was verkeerd om vir Paulus en Apollos teen mekaar te stel; hulle was nie vyande nie, maar medewerkers in die Here (v.4, 8).

 

God sou hulle nie beloon volgens hulle gawes nie, maar volgens hulle getrouheid:  “maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.” (v.8).  God besluit hoeveel gawes jy het.  Maar dit is jou plig om te sorg dat jy getrou is daarmee.  Op die oordeelsdag sal Hy nie sê:  ‘Sjoe, jy het baie gawes gehad; daarvoor sal Ek jou beloon’ nie.  Eerder:  “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.” (Matteus 25:23).  Of:  “Jou slegte en luie dienskneg” (Matteus 25:26).

 

Dié wat preek is medewerkers.  Die kerk is ‘n vrugbare stuk grond; ‘n gebou (v.9).  Die medewerkers, grond en gebou is Gód s’n (v.9, 16).  Wanneer die gebou dus in sy glorie staan, moet almal die Bouer prys en nie die gereedskap nie (1:12)!

 

Om te keer dat jy mense bo God verhef, moet jy hulle teen God en sy Woord meet; nie teen ander mense nie (v.5).  “Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.” (Job 33:6).  “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” (Psalm 103:14).  “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” (Psalm 130:4).  Hoekom maak jy nie ‘n studie van sonde en genade nie?  Jy sal gou besef dat jy niks is nie en niks verdien nie.  Dit sal ook help dat jy nie te veel maak van mense nie, maar besef dat almal voete van klei het.  Doen Bybelstudie oor die wese en karakter van God.  Weer sal jy besef dat die mens baie klein is.  As jy diep oor die dood nadink, sal jy ook agterkom dat die geestelike leiers oor wie almal gons glad nie so fantasies is nie.  Die Skrif leer:

 

  • “Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!” (Jesaja 2:22).
  • “Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras?” (Jesaja 51:12).
  • “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Psalm 146:3-4).

 

Moenie dink iemand is wonderlik omdat hy baie gawes het nie.  Luister eerder na die man wat getrou is, saam met God werk, en mense wegwys van homself af na Jesus toe (v.7-9).  Moenie dink dat ‘n man met baie gawes, sukses en ‘n groot kerk outomaties die Here se seën en guns geniet nie.  As jy mense begin ophef het jy probleme.  Een groep hou van Paulus, terwyl ‘n ander groep meer van Apollos hou.  Verdeeldheid is die eindproduk.

 

Dit bring God se oordeel (v.10-17)

Lank gelede het ‘n goeie Chinese keiser ‘n paleis gebou vir sy nuwe bruid.  Bouers van regoor die land het gekom om te help.  Toe die paleis voltooi was het die keiser sy bouers betaal.  Dié wat goed gebou het, het ‘n kis vol van fyn goud gekry.  Dié wat slordig gewerk het kon in die keiser se vredevolle ryk bly, maar het geen betaling gekry nie.  Sommige bouers het hulle medebouers geslaan, beskadig en doodgemaak.  Hulle het die doodstraf gekry.  God doen dieselfde met almal wat help om aan sy tempel (v.16) en koninkryk bou.

 

Paulus se kunstige vaardigheid as ‘n bekwame boumeester[1] was ‘n gawe van God se soewereine genade (v.10).  Hy sê elders:  “Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.” (15:10).  In Romeine 12:3 skryf hy “deur die genade wat aan my gegee is”.  Petrus sê dat Paulus geskryf het “met die wysheid wat aan hom gegee is” (2 Petrus 3:15).

 

Saam met die ander apostels het Paulus deur sy evangelie-prediking reeds die fondasie van Christus gelê; dié fondasie kan nie weer gelê word nie (v.10-11, Jesaja 28:16, Efesiërs 2:20, Galasiërs 1:6-9).  Die res moet op dié fondasie bou.  Soos wat Salomo die beste en duurste boumateriaal vir die tempel gebruik het, moet ons ons beste gee as ons saam met Jesus werk om sý tempel – die kerk – te bou (v.10-12).  Wat saakmaak is nie hoe baie gawes jy het nie, maar hoe jy dit gebruik.  Jy kan mense flous, maar jy kan nie die Here flous nie.  Wat jy saai sal jy maai (Galasiërs 6:7).  Op die oordeelsdag sal God jou werk toets soos wat vuur edelmetale toets (v.13).  Deur dié toets sal dit gou bekend word of jy jou beste gedoen het (goud, silwer, edelstene), en of jy slordig gewerk het (hout, hooi, stoppels).  Kwaliteit-werk sal beloon word (v.14, 8).  Iemand wat slordig gewerk het se werk sal verbrand word.  Hy sal wel gered word, maar sal sy beloning verloor (v.15, Judas 23).  Maar vir iemand wat God se kerk uitmekaarskeur – die kerk is die tempel van die Heilige Gees! – is daar geen genade nie:  God sal hom vernietig (v.16-17, vgl. Efesiërs 2:22).

 

Help die Here om sy huis te bou.  Moet dit nie vernietig nie.  Wees tevrede met die gawe wat God jou gegee het.  Moet dit nie met ander s’n vergelyk, sodat jy ontevrede of jaloers is, en kla nie.  Op die oordeelsdag sal jy bly wees dat jy net een gawe gehad het.  ‘n Jong predikant het by ‘n ouer een (was dit Spurgeon?) gekla:  ‘Ek wens ek het ‘n groot kerk gehad.  Dis nie lekker om so ‘n klein gemeente te hê nie.’  Die ouer man het gesê:  ‘Op die oordeelsdag sal jy rekenskap gee van die skape wat onder jou sorg was – dán sal jy nie kla dat jy net vir ‘n paar hoef te antwoord nie.’

 

Doen jou bes met die vaardigheid en gawe wat jy ontvang het.  Gebruik dit om die liggaam op te bou (12:7).  Probeer om jou gawe te verskerp en verbeter:  “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” (1 Timoteus 4:15).  Dien met blydskap, want anders is dit nie tot die gemeente se voordeel nie (Hebreërs 13:17).  Sorg dat jy dien met liefde vir God en mense, anders beteken jou gawe niks (13:1-3).  Sommige van my lesers en hoorders het hulle gawes begin afskeep.  Moenie traag wees, ontmoedig raak, of opgee nie.  Mag die volgende verse jou aanmoedig om jou gawe te gebruik:

 

  • “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (15:58).
  • “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie” (1 Timoteus 4:14).
  • “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is” (2 Timoteus 1:6).
  • “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Galasiërs 6:9).
  • “Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen” (Jeremia 48:10).

 

Het jy iets teen iemand; weier jy om iemand te vergewe?  Het iemand iets teen jou?  Jy hoef nie altyd reg te wees nie.  Verneder jouself en gaan sorteer dit uit.  Jy wil tog nie God se tempel vernietig en geoordeel word nie, wil jy (v.16-17)?  Die Skrif sê:  “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24).  “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kolossense 3:12-14).

 

Hoekom moet jy so werk om die liggaam op te bou?  God se Woord motiveer ons met belonings in die hemel (v.14-15).  In 4:5 sê Paulus oor die wederkoms:  “dan sal elkeen lof van God ontvang.”  In sy tweede brief skryf hy:  “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (2 Korintiërs 5:10).  Die woord vir ‘kwaad’ beteken ook ‘waardeloos’.  Soos in v.14-15 praat Paulus in 2 Korintiërs 5:10 van Christene se beloning.  Nóg tekste wat van verskeie grade van beloning vir Christene praat is:

 

  • “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.” (2 Johannes 8). Duidelik is dit moontlik om nié ‘n beloning te kry nie (soos wat 1 Korintiërs 3:15 ook sê).
  • “Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie.” (Lukas 12:33). Iemand wat meer vrygewig is, sal meer skatte in die hemel hê.
  • “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openbaring 22:12).
  • “Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van die mens. Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.” (Lukas 6:22-23). Net dié wat vir die Here vervolg is, sal hierdie loon ontvang.
  • “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang; en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ‘n beker kou water laat drink, omdat hy ‘n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” (Matteus 10:41-42).

 

Dalk wonder jy of grade van beloning nie juis jaloesie sal aanmoedig nie.  Thomas Watson sê oor dié saak:  ‘In heaven some people’s cups will be bigger than others, but everyone’s cup will be full.’  As ek vir my oudste kind vyf sjokolades gee, vir die middelste een drie, en vir die jongste een twee, sal daar jaloesie wees.  Maar gestel ek sit ‘n pak sjokolades neer en sê:  ‘Eet soveel as wat julle wil’.  As die oudste een vyf eet, die tweede oudste drie, en die jongste twee, sal hulle nie jaloers wees nie – elkeen het soveel geëet as wat hy wou.  En so werk dit met belonings in die hemel:  elkeen sal dit soveel geniet as wat hy kan.  Party se kapasiteit is egter groter as ander s’n.

 

God hou nie net ‘n wortel voor die donkie se neus nie, maar motiveer ons ook met ‘n ernstige waarskuwing:  “As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend” (v.17).  Galasiërs 5:20-21 sê “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.”

 

Ons moet Dawid se gesindheid hê:  “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.” (Psalm 16:3).  In die 1700’s het George Whitefield dié gesindheid gehad.  ‘I love all that love the Lord Jesus Christ’.[2]  ‘Do not tell me you are a Baptist, and Independent, a Presbyterian, a Dissenter, tell me you are a Christian:  this is the religion of heaven and must be ours upon earth.’[3]  Tydens ‘n preek het Whitefield skielik gestop, na die hemel gekyk, en gesê:  ‘Father Abraham, whom have you in heaven?  Any Episcopalians there?  “No.”  Any Presbyterians?  “No.”  Have you any Independents or Seceders?  “No.”  Have you any Methodists there?  “No, no, no.”  Whom have you there?  “We don’t know those names here.  All who are here are Chrstians – believers in Christ – men who have overcome by the blood of the Lamb and the word of his testimony.”’[4]

 

O may we find the ancient way

Our wond’ring foes to move,

And force the heathen world to say,

See how these Christians love![5]

[1] Die Griekse woord vir boumeester is architekton waarvan ons woord ‘argitek’ kom.

[2] Iain Murray, Heroes, p.48

[3] Ibid, p.70

[4] Ibid, pp.80-81

[5] Ibid, p.74

Advertisements