Pasop vir Paasfees

Egg with questionmark

Ek het eenkeer in my lewe redenaars gedoen.  Ek was in die laerskool en moes ‘n toespraak lewer oor die onderwerp:  ‘Alles wat te is…’  Daar het ek geleer dat iets wat aanvaarbaar is, sonde kan wees as jy dit oordoen of ‘n verkeerde klem daarop lê.  Om Halloween te vier het te veel okkultiese konnotasies en is daarom sleg.  Maar om Paasfees te vier is goed.  As jy egter ‘n verkeerde klem daarop lê, is dit sleg.  Die beginsels in Eksodus 12:43-13:16 sal vir jou wys wat ek daarmee bedoel.

 

Reëls vir die Pasga (12:43-50)

In 2010 het Kersdag op Saterdag geval.  Omdat dit so naby aan Sondag was, het ‘n kerk in Alberton besluit om nie ‘n Kersdagdiens te hou nie, maar eerder hulle gewone dienste te hou op die Sondag.  Wat dink jy daarvan?  Die leraar het gesê dat Sondag die Here se Dag is en dat ‘n Kersdagdiens nie in die Bybel beveel word nie.  ‘As ek moet kies tussen Sondag en Kersdag, kies ek Sondag,’ het hy gesê.  Hy was reg.  Om Paasfees en Kersfees te vier is goed.  Maar dit word nie in die Bybel beveel nie.  Moet daarom nie ‘n wet daarvan maak of dit belangriker ag as die dinge wat in die Skrif beveel word nie.  Jesus het gesê:

 

“So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.  Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:

Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matteus 15:6-9).

 

Geen vreemdeling of slaaf mag van die Pasga geëet het nie (v.43, 45, 38).  God het egter toegelaat dat hulle kon nader kom (Efesiërs 2:13) om saam te eet as hulle besny was (v.44, 48-49).  Reeds in Genesis 17 was dit God se opdrag aan Abraham:

 

“die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond.  En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek…

 

…Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het… en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.” (v.13-14, 23, 27).

 

Die Israeliete moes die lam in die huis geëet het.  Soos wat die volk ‘n eenheid was, moes die lam heel gebly het (v.46-47).  Hulle mag dit nie verdeel het of ‘n been gebreek het om dit uit die huis uit te vat nie (v.46, 22-23).  Die volmaakte en heel lam is vervul in Christus.  Om dié Skrif te vervul het die soldate nie Jesus se bene gebreek nie (Johannes 19:33-36, Psalm 34:21, kontrasteer Psalm 51:10).

 

Wat die eet van die lam betref het dieselfde reëls gegeld vir Jode en heidene (v.49).  So is dit in die Nuwe Testament:  “aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.” (Romeine 3:30).

 

Die volk het toe gedoen wat God deur Moses gesê het (v.50-51).

 

God wil hê ons moet ons redding onthou op die manier wat Hý voorskryf.  Hoe is dit?  Nie deur die Joodse Pasga te vier nie.  As jy vir interessantheid die Pasga wil hou soos die Jode dit gevier het, kan jy dit doen.  Maar vier dit soos jy jou verjaarsdag vier.  Moenie soos die Hebrew Roots Movement maak asof dit ‘n wet is nie (Galasiërs 4:10, Kolossense 2:16-17).

 

Maar moet ook nie selfregverdig voel omdat jy nie wetties is soos hulle nie.  Maak jy meer van ‘n tradisie soos Paasfees, as wat jy maak van ‘n opdrag soos die nagmaal?  Jy sal nie Paasfees mis nie, maar jy sal maklik ‘n nagmaaldiens mis.  Soos Israel die Pasga moes hou, beveel God dat ons die nagmaal moet hou.

 

Net dié wat besny is kon die Pasga eet (v.43-45), en net dié wat in hulle harte besny (weergebore) is en dit uitbeeld in die doop, kan die nagmaal gebruik (Deuteronomium 30:6, Kolossense 2:11-12, Handelinge 2:41-42).  ‘Do you want to come to the Lord’s Table and you haven’t been baptized?  That’s just flatly disobedient.’ (John MacArthur).

 

Soos ‘n heel lam die volk se eenheid uitgebeeld het (v.46-47), is een brood die toonbeeld van eenheid in die gemeente:  “Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.” (1 Korintiërs 10:17).  Juis daarom moet ons nie die nagmaal uit die samekoms uitvat om dit saam met ons gesinne te vier nie (vgl. v.46).

 

Hoekom moet ons ons redding op dié manier onthou?  Want as ons dit doen soos wat óns wil, oortree ons die tweede gebod.  Ons moet God aanbid op die manier wat Hý voorskryf, en nie op die manier wat óns wil nie.  Jesus het gesê ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Moenie dink dat die Here jou sal beloon as jy jou eie kop in dié verband volg nie.  Jy dínk jy is besig om Hom te eer, maar as Hy kom sal Hy vir jou sê:  ‘Wie het vir jou gesê om dít te doen?’

 

Reëls vir die ongesuurde brode (13:3-10)

Het jy al ooit iets verleer?  Dalk het jy Zoeloe geleer en dit vir tien jaar nie gepraat nie.  Dit werk dieselfde as jy vir lank nie jou musiekinstrument speel of die verse wat jy gememoriseer het hersien nie.  Eintlik werk dit so met alles wat jy nie gereeld hersien of gebruik nie.  Selfs die bewustheid dat Jesus jou gered het sal verroes as jy nie gedurig daaraan herinner word nie.

 

Die volk moes onthou dat hulle slawe in Egipte was en dat God hulle gered het.  God het hulle met ‘n sterk hand deur die tien plae gered (v.3).  Indien hulle dit vergeet het, sou hulle gou wegdraai om vals gode te dien.  Die fees van die ongesuurde brode sou hulle aan dié verlossing herinner (v.3, 6-7).  God sê in Deuteronomium 16:3:  “Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.”

 

Ook in die land van melk en heuning moes hulle dié verlossing herdenk.  As dit met ons goed gaan vergeet ons soms van die Here.  Hulle moes dit nie doen nie (v.5).  Deur hierdie fees moes die volk hulleself en hulle kinders aan God se verlossing herinner.  Hulle moes gedurig daaroor praat en dit in hulle denke en dade onthou (v.8-10).  Dit is wat in v.9 bedoel word met die teken tussen hulle oë en op hulle hande.  Later het die volk letterlik sulke boksies gedra (Matteus 23:5), maar hier is dit waarskynlik beeldspraak (Spreuke 3:3, 6:21, Deuteronomium 6:8, 11:18).

 

Ons moet gedurig aan ons verlossing dink.  Moenie tevrede wees om een uit vier of vyf nagmaal dienste by te woon nie.  Kom soveel as wat jy kan.  As jy Jesus se kruisdood net jaarliks by die Paasfees vier, sal jy vergeet.  Jy moet veral versigtig wees as dit geestelik of materieel voorspoedig gaan, want dan kan jy maklik vergeet dat jy op ‘n tyd verlore was (v.5, melk en heuning).

 

Voordat jy die nagmaal eet, moet jy jou sonde bely en so van die suurdeeg van sonde ontslae raak (v.7, 1 Korintiërs 5:8).  Herinner jouself aan hoe erg jou sonde was.  As jy dít doen sal jy die Here meer dank vir jou redding en nie so maklik na jou sonde toe terugkeer nie.

 

Moenie stilbly as jou kinders dink dat Paasfees oor die Paashaas gaan nie.  Vertel vir hulle die waarheid:  Paasfees gaan oor Jesus se kruisdood.  Herinner hulle gedurig aan die verlossing wat Jesus gebring het.  So sal jy dit self beter onthou (v.8-9).  As jy nie gereeld jou redding in die nagmaal herdenk nie, sal jy vergeet om gedurig die Here te dank en jou sonde te bely.

 

Reëls vir die eersgeborenes (13:1-2, 11-16)

Jan en Marike is 35 jaar getroud.  Vir hulle huweliksherdenking koop Jan vir sy vrou 35 rooi rose, haar gunsteling sjokolade, en vat hy haar uit vir ete na ‘n vyfster hotel toe.  Marike is nie beïndruk nie.  Hoekom nie?  Deur die res van die jaar hanteer hy haar soos gemors.  Marike soek nie Jan se geskenke nie; sy soek hóm.

 

Op dieselfde manier kan ons ons verlossing as ‘n reël herdenk met ‘n koue hart.  In die verlede het mense ernstige voorbereiding getref vir die nagmaal en hulle Sondag-beste gedra, maar tog was baie van hierdie kerkmense se harte dood.  God soek ‘n hart van toewyding wat Hom liefhet, en nie bloot godsdienstigheid nie.

 

God sou vir Israel die land gee wat Hy met ‘n eed aan hulle vaders beloof het (v.11, Genesis 15:18, 17:8, 28:13).  Die Psalmdigter sê:  “Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.  En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.  En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem, dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar.  Halleluja!” (Psalm 105:42-45).

 

Die eersgebore seuns en vee moes afgesonder word vir die Here (v.1-2, 12).  God het later die Leviete in hulle plek geneem.  Die Here het deur Moses gesê:  “Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is myne, van mense en van diere; op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek hulle vir My geheilig.  En Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem” (Numeri 8:17-18).  Weer:  “Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan die HERE jou God heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.” (Deuteronomium 15:19).  In die Nuwe Testament het Jesus dié vereiste vervul.  Hy is as eersgeborene aan God geoffer, sodat ons aanneemlik kan wees voor die Here (Lukas 2:7, 22-23).

 

Die rein diere onder die eersgeborenes is aan die Here geoffer.  ‘n Donkie is ‘n onrein dier en moes met ‘n lam losgekoop word.  Indien jy nie die donkie aan die Here wou gee nie, kon jy dit ook nie hou nie, maar moes jy sy nek breek (v.13).  Hoekom moes jy sy nek breek en nie met ‘n mes slag nie?  Want sodra jy dit met ‘n mes geslag het, sou dit ‘n slagoffer wees.  Die Here soek nie onrein diere as slagoffers nie.

 

Jou seun moes jy met ‘n lam loskoop (Genesis 22:13).  Dit is weereens vervul in Jesus wat as die Lam van God in ons plek gesterf het.  Israel moes hulle seuns loskoop en nie offer soos wat die Kanaäniete gedoen het nie (2 Konings 16:3).  Hulle moes ook ‘n bedrag geld betaal om hulle seuns los te koop (Numeri 3:46-47, 18:15-16).  Die volk moes dan ook vir hulle kinders die betekenis hiervan leer:  toe God Egipte se eersgeborenes getref het, het Hy Israel s’n gespaar (v.14-16).

 

Soos Israel haar eersgeborenes vir die Here gegee het (v.1), moet jy jouself en jou beste gee:  “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.” (Romeine 12:1).  Hoe kan jy jouself gee?  Vir party mense is Paasfees bloot ‘n jaarlikse tradisie.  Op dieselfde wyse kan ons Sondae onderhou, die nagmaal herdenk, lofsange sing, bid, en ‘n bydrae gee met ‘n koue hart.  Jy kan selfs huisgodsdiens en stiltetyd hou met ‘n koue hart.

 

Dit gebeur gewoonlik as jy nie jouself en jou hart gee nie; as jy dit bloot as ‘n tradisie onderhou, of dié dinge doen maar in sonde leef.  Dawid sê:  “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Psalm 51:18-19).  Jy kan die Here eer met jou lippe sonder dat jou hart daarin is (Jesaja 29:13).  Moenie jou verhouding met die Here beperk tot ‘n Sondag of tot jou stiltetyd nie.  Dink die hele week en dag na oor wat jy in die preek of jou stiltetyd gehoor en gelees het.  Doen wat God vir jou geleer het.

 

Hoekom moet jy jouself gee?  Jy behoort aan God en nie aan die wêreld nie.  God het jou gekoop om syne te wees.  Hy wil nie hê jy moet ‘n verdeelde hart hê nie (Jakobus 4:4-5, 8, 1 Korintiërs 6:19-20).  God het sy Seun vir jou gegee en wil hê jy moet jouself vir Hom gee (Johannes 3:16).

 

Nick se vrou koop vir hom ‘n vliegtuig vir sy verjaarsdag.  Na ‘n paar weke sien sy vrou hom nie meer nie.  In die oggende is hy vroeg op die vliegveld.  Oor naweke vlieg hy.  Hy gebruik elke moontlike minuut om sy nuwe stokperdjie te geniet.  Net so is dit in ons verhouding met Jesus nie altyd slegte dinge wat ons aandag van Hom weglei nie.  Soms is dit goeie dinge soos Paasfees wat ‘n koue tradisie raak en ons aandag weglei van die opdrag om sy dood gedurig te herdenk in die nagmaal.  Dis wat ek bedoel as ek sê ‘Pasop vir Paasfees’.

Advertisements

’n Oop hemel vir sondaars

door

Eddie is 11 jaar oud.  Sy droom is om die koning te ontmoet.  Maar hy weet dat hy nie net die telefoon kan optel om met die koning te praat nie.  Omdat hy ‘n gewone en arm landsburger is, sal hy hom seker nooit ontmoet nie.

 

Op ‘n dag het Eddie saam met ander kinders sokker gaan speel by ‘n parkie.  Daar het hy vir George ontmoet.  Vir die res van die skoolvakansie het hy en George saam in die parkie gespeel.  Op die laaste dag het George vir Eddie na sy huis toe genooi; hy wou hom aan sy pa voorstel.  Eddie kon dit nie glo nie:  George was die koning se seun!  Wat Eddie nie self kon doen nie het George vir hom gedoen.  Hy het deur sy vriend na die koning toe gekom.

 

Net so kan ons nie self na die Vader toe kom nie.  In Jesus het ons egter ‘n Hoëpriester en Middelaar, en is die hemel oop vir sondaars.

 

Ons Hoëpriester op die aarde

Na die Tweede Wêreldoorlog is Duitsland in twee verdeel.  Die hoofstad was in ook in twee verdeel.  Kommunistiese Rusland het Oos-Berlyn beheer, terwyl Brittanje, Frankryk, en Amerika in die weste regeer het.  Talle Duitsers wou van kommunistiese onderdrukking ontsnap en het na die weste toe gevlug.  Tussen 1949-1959 het meer as 2 miljoen mense die ooste verlaat.  Die kommuniste het begin bekommerd raak en op 13 Augustus 1961 begin om ‘n beton muur te bou.  Die muur was om en by 4 meter hoog en 1.5 meter breed, met ‘n totale lengte van 155 km.  Meer as 11 000 soldate het die muur beman.  Mense wat na die weste toe wou ontsnap is doodgeskiet.  Op 9 en 10 November 1989 het Duitsers begin om die muur plat te slaan.  Oos- en Wes-Duitsland is amptelik verenig op 3 Oktober 1990.

Net soos hierdie muur, het ons sonde ‘n muur gebou tussen ons en God (Jesaja 59:2).  In die tempel en tabernakel was daar ‘n gordyn tussen God en sy volk.  Nadat die hoëpriester offers vir homself en die volk gebring het, kon slegs hý een keer per jaar agter die gordyn ingaan (Hebreërs 9:7).  Jesus het gekom om dié skeidsmuur wat sonde gebou het, te verwyder.  Toe Hy aan die kruis dood is, is die gordyn in twee geskeur (Matteus 27:51).  Deur die offer van Jesus ons Hoëpriester, is die hemel oop en kan sondaars na God toe kom.  In 10:19-22 sê die Hebreërskrywer:

 

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.”

 

Hoekom het God sy Seun Jesus gekies om ons Hoëpriester en offer te wees (Hebreërs 5:4-6, Romeine 3:25)?  Kon dit nie net sowel iemand anders gewees het nie?  Nee, dit kon nie.

 

  • In die Ou Testament moes die priester en offer geen fisiese gebrek hê nie (Levitikus 21:16-24, 22:21-25). Jesus alleen was sondeloos en sonder gebrek (Hebreërs 4:15, 7:26, 1 Petrus 1:19, 2:22). As Hy sonde gehad het, sou Hy eers vir sy eie sonde moes sterf en kon Hy nie vir óns s’n gestraf word nie (Hebreërs 7:27).
  • Net Jesus is volkome God en mens. Omdat ‘n mens gesondig het, moet ‘n mens gestraf word (Hebreërs 2:17). Die bloed van diere kan nie ons sonde wegvat nie (Hebreërs 10:1-4). Ons Hoëpriester moet God wees (Hebreërs 4:14), want net God kan sondes vergewe (Markus 2:7, Psalm 49:8-10, 16).

 

In die Ou Testament het die hoëpriester vir Israel se sondes geoffer.  Vir wie het Jesus die offer gebring?  Vir die nuwe volk van God:  die kerk wat bestaan uit Jode en heidene wat in Jesus glo (Hebreërs 2:17, Handelinge 20:28, Efesiërs 5:25, 2:12-19, Titus 2:14, Matteus 1:21, 1 Petrus 2:9).

 

Jesus bring nie aanhoudend offers soos die priesters in die Ou Testament nie (Hebreërs 10:11).  Hy het ons sonde weggevat en kon dus aan die regterhand van God gaan sit (Hebreërs 10:14, 12).  Hy hoef nie weer ‘n offer te bring nie.

 

Hoe moet jy hierop reageer?

 

[1] Erken dat sy volmaakte offer jou enigste hoop is.  God sal dit nie aanvaar as jy jou eie ‘offer’ van tiendes, Bybelstudie, vas, gebed, armsorg, goeie werke, doop, lidmaatskap, kerkbywoning probeer byvoeg nie.  Selfregverdige mense sê in effek:  ‘Jesus se offer is nie volmaak nie; ek kan ‘n beter een bring.’  God haat dit.  Net Jesus se bloed kan jou skuldige gewete reinig (Hebreërs 9:14, 10:19, 22).  Die hemel is reeds oop deur sy offer.  Vertrou op Hom en sy offer, en kom in!

 

[2] Moenie wag dat die tempel herbou sal word, die Jode weer offers sal bring, en die voorhangsel weer opgehang gaan word nie.  Die tempel was ‘n skadu van die allerheiligste in die hemel, Jesus is die finale offer, die voorhangsel is geskeur, en die hemel is vir ewig oop (Hebreërs 9:24, 26, 10:20).

 

[3] Net deur Jesus en die oop gordyn kan jy na die Vader toe kom (Johannes 14:6, Handelinge 4:12).  Alle paaie lei nie na die hemel toe nie.  Húlle wat nie deur Jesus kom nie gaan hel toe.

 

[4] Deur Jesus se offer is alle gelowiges priesters (1 Petrus 2:9, Openbaring 1:6, 5:10).  Deur Hom bring ons geestelike offers vir God (1 Petrus 2:5).  Gee jou liggaam as offer om Hom te dien (Romeine 12:1).  Gee lofprysing, goeie werke, en mededeelsaamheid as offers (Hebreërs 13:15-16).  Offer jou gebede aan die Here; tree in vir ander (Openbaring 5:8).  Offer ‘n gebroke hart (Psalm 51:19).  As jy vir sending gee aanvaar die Here dit as ‘n offer (Filippense 4:18).  As jy mense vir Jesus wen is dit ‘n offer vir die Here (Romeine 15:16).  Die man is wel die hoof van sy huis, maar as elke gelowige ‘n priester is, verstaan ek nie hoekom mense soms sê:  ‘Die man is die priester van die huis’ nie.  Waar staan dit in die Bybel?

 

Ons Hoëpriester in die hemel

Het jy al boeke gelees of films gekyk oor mense wat sê dat hulle in die hemel was?  Wat het Jesus – volgens húlle – in die hemel gedoen?  Dié mense sê hulle het saam met Hom op die gras gelê, tee gedrink, gelag en geswem.  Hulle jok.  Hebreërs 7:25 sê Hy bid vir ons:  “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”

 

[1] Vir wie bid Hy?  Hy bid vir sy uitverkorenes:  “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort… Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo” (Johannes 17:9, 20).

 

[2] Wat bid Hy vir ons?

 

  • Hy bid dat die Vader ons teen die duiwel sal bewaar (Johannes 17:15).
  • Hy bid dat die Vader ons sal heilig deur die Woord (Johannes 17:17).
  • Hy bid vir eenheid tussen gelowiges (Johannes 17:21).
  • Hy bid dat ons by Hom sal wees en sy heerlikheid sal sien (Johannes 17:24). Ons bid soms dat gelowiges wat baie siek is nie moet doodgaan nie, maar Jesus bid dat hulle by Hom moet wees.
  • Hy bid dat ons sal volhard tot die einde toe; dat ons geloof nie sal faal nie (Hebreërs 7:25, Lukas 22:32).
  • Hy bid dat die Vader ons sondes sal vergewe (1 Johannes 2:1, Jesaja 53:12, Lukas 23:34).
  • Hy bid dat die Vader alles – ook lyding – tot ons voordeel sal laat strek (Romeine 8:34, 32, 28).

 

Wees gerus dat die Vader altyd gee wat Jesus vra (Johannes 11:42).  Jesus bid nie as ‘n skepsel tot die Skepper nie; Hy vra as ‘n Seun vir sy Vader.  Het jy al daaraan gedink dat elke seën wat jy ontvang die Vader se antwoord op Jesus se gebede is – selfs wanneer jý ontrou is om te bid?  Louis Berkhof sê:

 

‘It is a consoling thought that Christ is praying for us, even when we are negligent in our prayer life; that He is presenting to the Father those spiritual needs which were not present to our minds and which we often neglect to include in our prayers; and that He prays for our protection against the dangers of which we are not even concious, and against the enemies which threaten us, though we do not notice it.  He is praying that our faith may not cease, and that we may come out victoriously in the end.’[1]

 

[3] Hoekom kan Hy vir ons bid?  In die Ou Testament het die hoëpriester die twaalf stamme se name op sy bors en skouers gedra (Eksodus 28:12, 29).  Hy het elke oggend wierook op die altaar gebrand.  So het hy onthou om vir die volk te bid (Eksodus 30:7, Psalm 141:2).  Hy moes jaarliks die wierookaltaar heilig deur bloed aan die horings te sit (Eksodus 30:10).  Jesus is ons Hoëpriester.  Ons name is altyd op sy hart en ons laste altyd op sy skouers.  Deur die bloed van sy priesterlike offer aanvaar God sy gebede as ons Hoëpriester.  Ook jóú gebede is aanneemlik op dié gronde (1 Petrus 2:5), en nie omdat jy opreg bid, die regte woorde gebruik, vas glo jy sal dit kry (‘name-it-and-claim-it’), lank bid, in tale bid, twintig mense het wat saamstem, die Onse Vader bid, of jou gebed afsluit met ‘in Jesus Naam’ nie.

 

Omdat Jesus God is en alles weet, kan Hy vir miljoene Christene bid en gelyk almal se gebede hoor.  Omdat Hy mens is, het Hy simpatie wanneer ons swak is en stry teen versoeking (Hebreërs 2:18, 4:15).  Jy kan nie sê dat Hy nie ‘n idee het wat jy deurgaan nie.  Hy verstaan.  Deel dit met Hom soos Hy dit in gebed met sy Vader deel (Hebreërs 4:15-16).

 

[4] Wat is die verband tussen Jesus se gebede en joune?  Jesus is die enigste Middelaar tussen jou en God (1 Timoteus 2:5).  Die voorhangsel is geskeur en daarom kan jy direk na God toe kom.  Ons bid nie deur die voorvaders, Maria, die saints, die engele, of deur ‘n menslike priester nie.  Moet ook nie dink dat ‘n predikant of toegewyde gelowige ‘n direkte lyn na God toe het nie.  Ek ken ‘n getroue Christen vrou wat dink dat ek ‘n beter kans het om beantwoord te word as sy.  Sy is verkeerd, “want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.”(Efesiërs 2:18).

 

Het dit al gebeur dat jy skielik ‘n oorweldigende las kry om vir ‘n saak te bid (dat die Here ‘n mede-Christen sal beskerm, ‘n ongelowige sal red, sendelinge na ‘n onbereikte stam toe sal stuur)?  Waar het hierdie las vandaan gekom?  Die Heilige Gees weet wat Jesus bid en maak dit aan jou hart bekend (Romeine 8:26-27, 34).  Hy is soos ‘n ma wat vir haar kind die woorde gee om te bid.  Die Gees wil hê jy moet bid waarvoor Jesus bid; jy moet in sy Naam bid.  Moenie die Gees se impulse weerstaan as Hy in jou ‘n begeerte plaas om vir iets te bid nie.  ‘Where God leads you to pray, He means you to receive.’ (C.H. Spurgeon).

 

[5] Hoe help sy gebede gelowiges wat twyfel oor hulle redding?  Deur sy offer het Hy ‘n ewige verlossing verseker (Hebreërs 9:11-12).  Sy gebede verseker dit ook.  Hy bid vir dié wat deur Hom na God toe gaan, en as Hy vir jou bid kan jy nie jou geloof verloor nie – selfs al is al die magte van die hel teen jou (Lukas 22:31-32, Romeine 8:33-34, 38-39, Sagaria 3:1-5, 9).  Sou jy sterker gevoel het as jy gehoor het hoe Hy jou naam bid?  Glo sy Woord dat Hy vir jou bid, al hoor jy dit nie met jou ore nie (Hebreërs 7:25).  Ook as jy in die hemel is sal Jesus vir jou bid (Hebreërs 7:16-17, 24), en daarom kan jy nooit – soos Satan – uitgeskop word nie.  Iemand het gesê:  ‘Die hemel is om in God se teenwoordigheid te wees met ‘n Middelaar.  Die hel is om in God se teenwoordigheid te wees sonder ‘n Middelaar.’

 

In die ou dae was kerkgeboue dag en nag oop, sodat jy enige tyd daar kon stil raak.  In Kempton Park kan ons dit nie doen nie.  Ons het al te veel inbrake en diefstal gehad.  Ons het ‘n alarmstelsel, palesades, en groot hekke by ons kerk.  In die hemel sal dit nie so wees nie.  Deur Jesus se offer en gebede is die hemel oop vir sondaars.  Vir ewig “sal sy poorte nooit gesluit word nie” (Openbaring 21:25).

[1] Systematic Theology, p.403

Vryheid vir slawe

Slave set free

Verlede Saterdag (14 Maart 2015) het Suid-Afrikaanse atleet, Tiaan Jacobs, buite die Herman Immelman stadion in Germiston opgewarm.  Hy is deur 3 mans ontvoer en kort na 23:00 in ‘n park naby die stadion afgelaai.  Hy het veilig by sy ouers uitgekom.  Dit kon erger gewees het.  Vandag noem mense dit dit ‘human trafficking’.  Die meer bekende naam is slawerny.  Israel was vir 430 jaar slawe in Egipte.  Dié slawerny vind sy Nuwe Testament eweknie in mense se slawerny aan Satan en sonde.  Maar God kan slawe in die ergste omstandighede bevry.  Eksodus 12:29-42 illustreer dit.

 

Vry deur sy oordeel (v.29-32)

Die Afrikaanse spreekwoord sê:  ‘Die een se dood is die ander se brood’.  Dit beteken eenvoudig dat een persoon voordeel trek uit ‘n ander se skade.  In ‘n groot hael storm ly motoreienaars ernstige skade.  Maar jóú skade beteken vir die glasplekke en paneelkloppers groot wins.  Net so was die dood van Egipte se eersgeborenes die Israeliete se vryheid (v.29-32).  In die Nuwe Testament het God sy Eersgeborene laat sterf om ons te red:  sy dood is ons brood.  Hy self het gesê:  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.  En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” (Johannes 6:51).

 

Om middernag het God die Egiptenare getref.  Hulle opper-songod, Amon-Ra, kon hulle nie help nie.  Al die eersgeborenes in Egipte is dood:  van die opvolger tot die troon (Farao se seun, die inkarnasie van die gode Amon-Ra en Osiris), tot die seun van die gevangene, tot die eersgeborenes van die vee (die gode was veronderstel om dié ‘heilige’ vee te beskerm).  Hoekom het God net die eersgeborenes getref (v.29)?  Die eersgeborenes was verteenwoordigend van die hele bevolking (v.29, 4:22-23, Numeri 8:17).

 

Farao, sy dienaars, en die hele Egipte het in die nag opgestaan en gehuil (v.30, 11:4-6).  In elke huis was daar iemand dood (v.30).  Die gode het hulle nie gehoor nie, en kon hulle buitendien nie help nie.  Farao het nie weer vir Moses gesien nie (10:28-29), maar het ‘n boodskap gestuur en gesê hulle moes trek om die Here te dien (v.31, 3:19-20). Dié keer het hy ook gesê hulle moet die vee saamvat (v.32, 10:24).  Hy was nie bereid om self die Here te aanbid en seën te vra nie, maar het gevra dat Moses hom moes seën (v.32).  Dit laat my dink aan ongelowiges wat nie self kerk toe wil gaan nie, maar vir Christene vra om vir hulle te bid.

 

Vry deur sy belofte (v.33-42)

‘n Week gelede het my vriend en sy gesin by ons huis kom oorslaap, voordat hulle met vakansie is.  Hulle moes nege tasse op die kar se dak vasmaak, asook vyf kinders en vier volwassenes gereed kry om 06:00 te ry.  Om in ‘n konfooi te ry is nog moeiliker.  Hoe moeilik moet dit wees om in ‘n konfooi met 64 ossewaens te trek?  Of erger:  3 miljoen mense en ‘n paar miljoen vee wat uit Egipte uittrek (om dit in perspektief te sit:  daar trek jaarliks 1.5 miljoen wildebeeste oor die Mararivier in die Serengeti)?  God sorg vir sy volk en het hulle volgens sy belofte aan Abraham (Genesis 15:14) veilig uitgelei.

 

Die Egiptenare was desperaat dat Israel moes trek en het hulle haastig uit die land uitgestuur.  Hulle was bang dat die Here hulle almal sou doodmaak.  Die Israeliete het nie tyd gehad om te wag dat die deeg moes ruis nie.  Daarom het hulle ongesuurde brood gehad vir padkos.  Volgens God se opdrag het die volk die Egiptenare gevra vir goud, silwer, en klere (11:2-3).  Hulle sou dit later gebruik het vir die tabernakel.  God het vir die Israeliete guns gegee in die oë van die Egiptenare (Spreuke 16:7).  Volgens die profesie in 3:21-22, het die Israeliete die Egiptenare gestroop.

 

Die volk het Suid-Oos gereis van Raämses (1:11!) tot by Sukkot.  As jy op ‘n kaart kyk sal jy wonder hoekom:  Kanaän lê dan Noord-Oos!?  God het hulle in dié rigting laat trek, omdat Hy sy mag wou toon by die Rooisee, Farao en die Egiptenare daar wou verdrink, en wou keer dat die Israeliete sou bang word as hulle by die Filistyne se grens kom (13:17-18).

 

Die mans bo 20 wat saamgetrek het, was 600 000 (Numeri 1:46).  As elke man een vrou en een kind gehad, was daar naby 2 miljoen mense.  Ek kan jou amper verseker dat elke man nie net één vrou en kind gehad het nie.  Daar was seker maklik 3 miljoen of selfs meer mense.  Die volk het inderdaad soos die sterre geword (Genesis 15:5).  Daar was ook nog ‘n gemengde spul heidene wat saam getrek het (Levitikus 24:10-11, Numeri 11:4).  Hulle was seker bang was Here tref hulle, daarom het hulle saamgetrek (9:20-21).  Daar was ook baie vee.  As elke man net 10 vee gehad het was daar 6 miljoen.  Ek reken dat daar seker maklik 10 miljoen of meer vee was.  Dié vee was nodig vir die offers wat hulle in die woestyn moes bring.

 

Hierdie groot trek noem ons die eksodus of die uittog.  Soos Moses het Jesus ook ‘n uittog gelei.  In Lukas 9:31 het Moses en Elia aan Jesus verskyn en met Hom gepraat oor die uittog wat hy in Jerusalem sou bereik.  Die Griekse woord vir uittog is ‘eksodus’.  Jesus het meer as net 3 miljoen Jode en heidene uit slawerny bevry, en is besig om hulle na die hemelse Kanaän toe te lei.

 

Die Israeliete het nie eintlik padkos saamgevat nie (v.39).  Die Here het dit so bewerk, omdat Hý vir hulle kos – manna en kwartels – sou voorsien in die woestyn.  Die volk was presies vir 430 jaar in Egipte (sien 6:16, 18, 20, 7:7).  God het dié 400 jaar (afgerond) aan Abraham voorspel (Genesis 15:13).  God het oor sy volk gewaak toe hulle daardie nag uit Egipte getrek het (Psalm 121, 127:1).  Deur al hulle geslagte het die Israeliete die aand van hulle uittog as ‘n fees herdenk:  die Paasfees.

 

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?  Dink reg oor die slawerny van sonde.  Is jy ongered?  Jy roem daarin dat jy nie soos Christene gebind is aan ‘n stel Bybelse reëls nie:  ‘Die Bybel sê seks is vir die huwelik en ons moenie dronk word nie (Hebreërs 13:4, Ef.5:18).  Ek is nie so outyds nie.  Ek is vry en kan drink soveel ek wil, en slaap met wie ek wil.’  Die feite is dat jy nie vry is nie, maar ‘n slaaf van jou sonde (Johannes 8:34).  Seks en drank is jou baas vir wie jy nie kán nee sê nie!  Daar is geen hoop solank as wat jy sonde doen en sê jy is vry nie (Johannes 8:33, 9:40, 1 Johannes 1:8, 10).  Om te sê jy is vry en kan sondig soos jy wil, is soos om te sê:  ‘Ek is vry en kan daarom weer ‘n slaaf word of tronk toe gaan.’  Dit maak nie sin nie.  Jy is nie vry om ‘n slaaf te wees nie.  Jesus het gekom om ons te bevry van sonde en nie vir sonde nie.

 

Leef jy in sonde, maar jy sê jy is ‘n Christen?  Jy bedrieg jouself en is ongered.  Jy is ‘n slaaf.  Die Bybel sê:  “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16).

 

Haat jy jou sonde?  Stry en sukkel jy hard daarteen?  Moet jouself nie as ‘n slaaf etiketeer nie.  Christene wat met seks, drank, of homoseksualiteit versoek word, is nie egbreukers, dronkaards, of homoseksueles nie.  Dalk wás hulle dit voor hulle redding, maar hulle is dit nie meer nie (1 Korintiërs 6:9-11).  Jy is ‘n vry mens en hoéf nie te sondig nie.  Leef vry soos iemand wat saam met Christus gekruisig en opgewek is (Romeine 6:1-14, Galasiërs 5:1, 4:7).  As Jesus jou deur sy waarheid vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Johannes 8:32, 36).  Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Johannes 3:8).  Sekerlik was Hy nie onsuksesvol nie.

 

God kan ‘n volk bevry wat vir 430 jaar onder die Farao’s se mag was (v.40).  Kan Hy dan nie iemand vry maak wat vir jare ‘n seks-, drank-, of dwelmslaaf was nie?  Johannes was ‘n vurige man wat seker ook ‘n probleem met woede gehad het.  Jesus noem hom en sy broer ‘die seuns van donder’ (Markus 3:17).  Hy het mense stilgemaak wat nie deel was van hulle groep nie (Lukas 9:49).  Hy wou vuur uit die hemel roep om die Samaritane te verbrand (Lukas 9:54).  Maar Jesus het hom verander.  Hy het van homself gepraat as die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes 21:20, 24).  Dis byna of hy nie kon glo dat Jesus hóm kon liefhê nie.  Hy was teer en vol ontferming.  Hy het van die gelowiges gepraat as ‘my liewe kinders’.  Hy het hulle gedurig aangespoor om mekaar lief te hê (1 Johannes 3:18).

 

Oorwin jou sonde deur:

 

  • Die genade van Jesus in sy kruisdood: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12).
  • Belydenis en bekering: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9). “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).
  • Die hulp van die Heilige Gees: “as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Romeine 8:13).
  • God se beloftes: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).
  • Die Bybel: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:11).

 

Hoekom is dit so belangrik dat jy reg moet dink oor die slawerny van sonde?  Want die gevolge is ewig.  As jy verkeerd dink verloor jy die hemel en is jou lot die hel.

 

Ek ken ‘n vrou wat verslaaf was aan heroïene.  Sy het R1000 per dag spandeer aan dwelms.  Sy was ‘n paar keer in die tronk hieroor; een keer vir ’n jaar.  Sy was ook in rehabilitasie sentrums.  Sy het een keer so ‘n swaar oordosis van heroïene gebruik dat haar vriende gedink het sy is dood.  Sy was selfs vir ‘n tyd ‘n prostituut om geld te kry vir dwelm.  Haar tande was so erg beskadig dat sy ‘n herkonstruksie moes kry.  Sielkundiges het vir haar gesê dat 2.5% van heroïen verslaafdes skoon kom, en dat sy daarvan sal doodgaan.

 

Op ‘n dag was haar begeerte vir die Bybel oorweldigend – sterker as haar lus vir dwelms.  Sy het vir ure gelees as haar ma werk toe gaan.  As haar ma daar was het sy skelm gelees.  Sy wou nie hê haar Christen-ma moes uitvind sy stel belang in die Bybel nie.  Sy het onder diep sonde oortuiging gekom en die Here het haar gered.  Sy het nooit weer teruggedraai na die dwelms toe nie.  Sy het uit ondervinding geleer dat daar in Jesus vryheid is vir slawe.

God se Gesalfde Koning

Crown and sword

In die geskiedenis is konings en vorste wat iets groot bereik het, ‘die Grote’ genoem.  Van al die konings in Engeland het net die eerste een dié bynaam gekry:  Alfred die Grote (849-901).  Hy het die Vikings oorwin en groot hervormings in die land gebring.  Jesus is groter as Alfred of enige ander ‘Grote’ in die geskiedenis.  Hy is die Koning van die konings en die Here van die here (1 Timoteus 6:15, Openbaring 17:14, 19:16).  In Psalm 2 lees ons van Hom.

 

Die mens se besluit en God se reaksie (v.1-6)

In die kinderliedjie, Ek’s ‘n dapper muis, sê die muis dat hy vir niks bang is nie.  Wanneer hy egter hoor van ‘n uil of ‘n kat, bewe hy en wil hy wegkruip.  Party mense is so.  Hulle praat groot en sê dat hulle vir niks bang is nie.  Maar sodra die moeilikheid opdaag is hulle lafharte (Rigters 9:28-41).  In die film Fireproof is daar ‘n arrogante karakter wat roem dat hy ‘n bottel warmsous onder 20 sekondes kan drink.  Hy drink egter nie eers ‘n halwe bottel uit nie.  Hy roep:  ‘My mouth’s on fire!’ en hardloop om water te kry.

 

Toe ek ‘n student was het my vriend 192 kg geweeg.  Eendag het hy gesien hoe ‘n man ‘n jong seuntjie met ‘n sambok dreig.  My vriend het vir die man gesê om in sy kar te klim en te ry.  Die man het agteruit geloop terwyl hy my vriend gevloek en gedreig het.  Hy het in sy kar geklim, ‘n pistool op my vriend gerig, en gery.

 

Baie mense is so met God:  hulle praat groot en lig hulle vuis teen Hom… totdat Hy uit die hemel dreun.  Skielik is hulle bang en erken hulle Hom as God (1 Konings 18:38-39).  Wayne Grudem vertel hoe hy saam met ‘n paar mense in ‘n kar gery het.  Die vrou het gesê dat sy geen innerlike sin van God se bestaan gehad het nie – sy was ‘n ateïs.  Toe die kar oor ys gly het sy geroep dat Jesus hulle moet help.  Toe die kar tot stilstand kom, het almal in die kar na haar gekyk.  Die vrou wat oomblikke tevore grootgepraat het, het erken dat daar ‘n God is.[1]

 

Dié illustrasies werp lig op Psalm 2:1-6, want dis presies wat in hierdie verse gebeur.

 

[1] Die mens se besluit (v.1-3) 

Volgens Handelinge 4:25 het Dawid Psalm 2 geskryf.  Die nasies se opstand en planne teen God is sinneloos, nietig, en tevergeefs (v.1).  In Psalm 83:3-6 sê Asaf:  “Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op.  Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.  Hulle sê:  Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.  Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond”.

 

Pilatus, Herodes, die Jode, en die heidene wou God se plan omverwerp.  Maar uiteindelik het hulle God se raadsplan uitgevoer (Handelinge 4:27).  Die nasies weet God en sy Gesalfde is sterk, en daarom wil hulle Hom nie alleen aanvat nie.  Hulle span saam om sy juk af te gooi en Hom dood te maak (v.2, vgl. 2 Konings 24:1).  Eintlik is dit ‘n sagte juk van liefde, maar hulle haat dit en wil dit afgooi (v.3, Hosea 11:4, Matteus 11:30, 26:3-4, Jeremia 5:5).  Satan wou nie onder hierdie juk wees nie (Jesaja 14:13-14), en van die begin af wou die mens dit afgooi en onafhanklik wees (Genesis 3:5).

 

[2] God se reaksie (v.4-6)

Die Here spot met nasies wat teen Hom opstaan.  Hulle is soos ‘n mier wat ‘n olifant wil verwurg; ‘n skoothondjie wat vir ‘n leeu blaf (v.4).  In Psalm 59:9 sê Dawid:  “Maar U, o HERE, lag oor hulle; U spot met al die heidene.”  Konings en vorste sit om teen die Here te vergader (v.2); Hy sit in die hemel en lag vir hulle (v.4).  Hy hoef net te praat om hierdie ‘brawe’ nasies te laat bewe.  God is toornig oor die nasies wat sy Gesalfde Koning verwerp (v.5).  Sy toorn is iets om te vrees:  “U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?” (76:8).  God het sy Koning gesalf oor die stad Sion wat op die heilige tempelberg staan (v.6, 15:1).  Jerusalem of Sion is die stad van die groot Koning (48:2-3).

 

Dié groot Gesalfde Koning is die Seun van God:  “U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.  U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” (45:7-8, vgl. Hebreërs 1:8-9).

 

God se besluit en die mens se reaksie (v.7-12)

Die gemiddelde gorilla staan 6 voet hoog en weeg 200 kg.  Teen 1985 het die swaarste gorilla 310 kg geweeg.  Sommige geleerdes sê dat ‘n mannetjie gorilla 6 tot 15 keer sterker as ‘n volwasse man is.  ‘n Chimpanzee in die Bronx dieretuin in New York het 572 kg gesleep.  Volgens 1985 se Guinness Book of Records kan ‘n groot gorilla maklik 800 kg optel.[2]

 

Wildbewaarders wat gorillas in die natuur bestudeer geniet dit om naby hulle te sit.  As ‘n groot gorilla egter naby kom raak hulle angstig en kyk hulle weg.  Hulle het respek vir dié diere.  Op 18 Julie 1997 het Isaac Mofokeng vir die polisie gevlug nadat hy ‘n misdaad in Saxonwold gepleeg het.  Hy het in die Johannesburg Dieretuin probeer skuil.  Hy het in ‘n 190 kg mannetjie gorilla se hok weggekruip.  Max die gorilla het dadelik vir Isaac aangeval.  Isaac het hom twee keer met ‘n .38 pistool geskiet.  Die polisie het agter die rower aan in Max se hok gespring.  Max het die een beampte se arm gebreek, ‘n ander in die boud en arm gebyt, en gesorg dat nóg een sy enkel gebreek het toe hy wou wegkom.  Max is in die Milpark Hospitaal gehelp en het die skietwonde oorleef.  Die polisie het vir Isaac gewond, waarna hy 40 jaar tronkstraf gekry het vir rowery, verkragting, en dieremishandeling.

 

Dié storie illustreer hoe Jesus is.  Hy is baie kalm as jy Hom geniet en vrees.  Maar Hy sal jou verpletter as jy boos is en nie die knie voor Hom buig nie (Psalm 2:7-12).

 

[1] God se besluit (v.7-9)

Die Gesalfde Koning vertel van God se raadsbesluit.  Dawid en sy nageslag is God se seuns (2 Samuel 7:14).  Maar die Messias is op ‘n unieke manier God se Seun (v.7, Hebreërs 1:5).  As Seun van God is Hy self God.  So het die Jode in Jesus se dag dit verstaan (Johannes 5:18, 10:33, 36).  Die Vader het die Seun gegenereer (v.7).  Dit beteken eenvoudig dat Hy die Seun voortgebring het.  Net soos wat ewige sonstrale uit ‘n ewige son voortkom, het die ewige Seun uit die ewige Vader voortgekom.  Jesus is die afskynsel van God se heerlikheid (Hebreërs 1:3).  Dit het egter eers vir die mens duidelik geword dat Hy God se Seun is toe:

 

  • Hy gebore is: “Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees? En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid.” (Hebreërs 1:5-6).
  • Hy gedoop is: “En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” (Matteus 3:17).
  • Hy op die berg van verheerliking was: “Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Matteus 17:5).
  • Hy opgewek is uit die dood: “God [het] dit…vervul…deur Jesus op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.” (Handelinge 13:33). Paulus sê dat Jesus deur “die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode” (Romeine 1:4).
  • Hy verhef is tot die Vader se regterhand: “So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.” (Hebreërs 5:5).

 

Die Seun moet die Vader vra om die rebelse nasies en die eindes van die aarde as erfdeel te verkry (v.8, 1-3).  Hy is die erfgenaam van alles (Hebreërs 1:2).  Die Psalms sê:  “Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.  Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.” (22:28-29).  “Ja, Ék sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.” (89:28).  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.” (72:8).

 

Daniël 7:13-14 sê:  “Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”  Johannes sê in Openbaring 5:9 dat die Messias die nasies gekoop het met sy bloed.  Openbaring 11:15 sê:  “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

 

Ons moet saam bid en die evangelie preek, sodat sy koninkryk kan kom:  “laat u koninkryk kom” (Matteus 6:10).  “En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê:  Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:18-20).

 

Hy sal dié wat steeds teen sy Koningskap rebelleer so maklik breek soos ‘n ysterstaf ‘n kleipot stukkend slaan (v.9):

 

  • “Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn. Hy sal ‘n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land.” (110:5-6).
  • “Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van ‘n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie.” (Jesaja 30:14).
  • “En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” (Openbaring 19:15).

 

[2] Die mens se reaksie (v.10-12)

As die Koning dan die nasies sal erf en die rebelle platslaan, moet die konings en prinse van v.1-3 wys wees (v.10).  Hulle moet in vrees en blydskap voor Hom buig en Hom dien (v.11, Hebreërs 12:28-29, Johannes 5:23).  Hulle moet hulle lojaliteit bewys met ‘n soen (v.12, 1 Konings 19:18, Hosea 13:2).  As hulle sy juk van liefde afwerp sal sy toorn teen hulle brand (v.12, 5).  Dan sal hulle vir die berge en rotse sê:  “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:16-17).  As hulle by die Gesalfde Koning skuil sal Hy hulle seën en bewaar (v.12, 34:23, 5:12, Romeine.8:1, 1 Tessalonisense 1:10).  Derek Kidner sê:  ‘There is no refuge from Him:  only in Him.’[3]

 

Watse lesse leer ons uit hierdie Psalm?  Buig jou neer voor Koning Jesus.  Wees seker jy buig voor die Jesus van die Bybel.  Hy is volkome God en mens, het die Vader se wil perfek uitgevoer, die straf vir ons sonde gedra aan die kruis, liggaamlik opgestaan uit die graf, gaan sit aan die regterhand van God (Psalm 110:1), en kom weer om die wêreld te oordeel.  Moenie jou knie buig voor ‘n Jesus van jou eie verbeelding nie:  een wat sonde aanvaar, net liefde is en nooit ‘n sondaar in die hel sal straf nie, alewig straf wil uitdeel, jou speelmaat is, ‘n papbroek is wat nie kan red tensy jy vir Hom toestemming gee nie, ‘n genie is wat bestaan om vir jou geld en gesondheid te gee.

 

Jy moet besef dat Jesus alreeds heers (Lukas 17:21, Johannes 18:36).  Buig dan nóú al jou knie en moenie soos baie gelowiges dink dat sy Koninkryk eers in die ‘eindtyd’ sal aanbreek nie.  Moet Hom egter nie met ywer as Koning aankondig net om weer te rebelleer nie (Lukas 19:38, 23:21).  Hoe moet jy voor Hom buig?

 

  • Word weergebore en bekeer jou, want sonder dit kan jy nie sy Koninkryk ingaan nie (Johannes 3:3, 5, 1 Korintiërs 6:9-11, Kolossense 1:13).
  • Buig voor sy koninklike wet, die Bybel (119:120, Jesaja 66:2, Johannes 14:15). Is daar dele van sy Woord wat jy oortree of verontagsaam?
  • Buig vir die gesag wat God oor jou aangestel het: die landswet, jou baas, jou ouers, jou geestelike leiers. As jy hulle teenstaan dan rebelleer jy teen jou Koning (Romeine 13:1-2).
  • Word deel van ‘n Bybelse kerk waarvan Jesus die Hoof is (Efesiërs 1:22).

 

Nóg ‘n paar woorde van toepassing:

 

[a] Laat ons vir die wêreld vertel dat Hy die Koning is wat die rebelle sal straf, maar vergifnis bied vir dié wat hulle wapens neerlê en hulle bekeer (Matteus 28:18-19, Jesaja 52:7).  [b] Moenie bang wees vir Moslems, kommuniste, ateïste en ander wat Hom teëgaan en nie die knie wil buig nie.  Eendag sal elke knie voor Hom buig (Filippense 2:10).  [c] Wanneer jou dag kom om te sterf hoef jy nie te vrees nie.  As Koning sal Hy ook die dood finaal oorwin:  “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” (1 Korintiërs 15:25-26).

 

In C.S. Lewis se boek, The Lion, the Witch and the Wardrobe, het die groot koning Aslan (‘n magtige leeu) die vier kinders as konings en koninginne gekroon om onder en namens hom te regeer in die land Narnia.  Lewis noem hulle:  ‘King Peter the Magnificent, King Edmund the Just, Queen Susan the Gentle, Queen Lucy the Valiant.’[4]

 

Die dag kom wanneer Jesus óns so sal bekroon.  Ons sal onder en namens Hom regeer oor die nuwe aarde:  “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” (Openbaring 3:21).  “[Hy] het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” (Openbaring 5:10).  Ons sal ons vyande met ‘n ysterstaf verpletter (Openbaring 2:26-27).  Vir ewig sal ons Hom erken as die groot Koning van Psalm 2.  Ons sal die knie voor Hom buig en ons krone voor sy troon neerwerp (Openbaring 4:10).  Dan sal ons saam met Paulus sê:  “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.  Amen.” (1 Timoteus 1:17).

[1] Systematic Theology, pp.141-142, n.1

[2] The Guinness Book of Records: 1985, p.28

[3] Tyndale Old Testament Commentaries:  Psalms 1-72, p.53

[4] The Chronicles of Narnia, pp.194-195

Jesus en vandag se profete

Sheep howling like wolf

In die moderne kerk val mense vir vals lering soos visse val vir ‘n wurm op ‘n hoek.  Ek het by geleentheid vir mense blatante valsheid in boeke en preke uitgewys.  Hulle het dit weggepraat en gemaak asof die boek of preek reg is en die Bybel verkeerd.  Deuteronomium 18:15-22 sê ons moet God se Woord bo mense s’n stel.

 

Jesus die ware Profeet (v.15-19)

Het jy al die klein swart boks op jou laptop se kabel gesien?  Waarvoor is dit?  Dié boksie verander die 220V wat uit jou muurprop kom, na die 18V wat jou rekenaar nodig het om te werk.  Dit verander die wisselstroom van jou huis se krag na die direkte stroom van batterykrag.  As jy 220V uit die muurprop na jou rekenaar toe gelei met ‘n kabel sonder dié boks, sal jy jou rekenaar blaas.

 

So is dit met God.  As Hy direk met jou praat sal jy sterf (Eksodus 20:19).  Daarom het Hy profete gestuur.  Uiteindelik het Hy self as Profeet aarde toe gekom.  Jesus is die Middelaar wat tussen ons en die Vader staan om God se Woord na ons toe te bring.

 

God wou nie hê sy volk moes na towenaars, hekse, toordokters, palmlesers, en afgode toe draai om sy wil te ken nie (v.9-14, 1 Samuel 28).  Daarom het God vir hulle profete soos Moses gestuur.  Uiteindelik sou Hy die groot Profeet, die Messias, stuur (v.15).  Let op hoe die Nuwe Testament van Jesus as ‘n profeet praat, en soms as dié Profeet (verwysend na Deuteronomium 18):

 

  • “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filippi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete.” (Matteus 16:13-14).
  • “En die skare sê: Dit is Jesus, die profeet, van Násaret in Galiléa.” (Matteus 21:11).
  • “En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.” (Matteus 21:46).
  • “En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.” (Lukas 7:16).
  • “En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;” (Lukas 24:19).
  • “Die vrou sê vir Hom: Here, ek sien dat U ‘n profeet is… Die vrou sê vir Hom: Ek weet dat die Messías kom, Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig. Jesus sê vir haar: Dit is Ek wat met jou spreek!” (Johannes 4:19, 25-26).
  • “Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret… Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.” (Johannes 1:46, 5:46). Dié verse verwys terug na Deuteronomium 18.
  • “Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.” (Johannes 6:14, vgl. 1:21, 25).
  • “Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet.” (Johannes 7:40).
  • “Weer sê hulle vir die blinde man: Jy, wat sê jy van Hom, aangesien Hy jou oë geopen het? En hy antwoord: Hy is ‘n profeet.” (Johannes 9:17).
  • Petrus én Stefanus verwys na Jesus as die Profeet van wie Moses gepraat het: “Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word… Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.” (Handelinge 3:22-23, 7:37).

 

In watse opsig sou die Profeet soos Moses wees (v.15)?  Volgens Eksodus 20:19 het Moses as Middelaar tussen God en die volk gestaan.  Die Profeet sou ook as Middelaar staan om God se Woord aan die volk te bring (1 Timoteus 2:5).  Moses het gesê dat dié Profeet een van hulle volksgenote of broers sou wees (v.15).  Dit is dus duidelik dat die Profeet ‘n Jood en ook volkome mens sou wees (Romeine 9:5, Johannes 4:22).  Omdat God die Profeet sou stuur, moes die volk na Hom luister (v.15).  In die Nuwe Testament het God van Hom gesê:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matteus 17:5).

 

Toe God die wet by Horeb gegee het, het die volk gebewe.  Die aarbewing, vuur, en donderslae was vir hulle te erg (v.16).  So beskryf Moses dit:

 

“En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes, en gesê:  Kyk, die HERE onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.  Maar waarom moet ons nou sterwe?  Want hierdie groot vuur sal ons verteer.  As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.  Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?  Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.  En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het.  Toe sê die HERE vir my:  Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.” (5:23-28).

 

God het ‘n profeet gegee soos hulle gevra het.  Moses was die eerste, maar later sou God ook die groot Profeet stuur (v.17-18a).  Dié Profeet sou in God se Naam – met God se gesag – praat (v.18).  Weereens wys die Nuwe Testament hoe Jesus Gód se woorde spreek:

 

  • “uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.” (Johannes 8:28).
  • “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.” (Johannes 12:49-50).
  • “alles wat Ek van my Vader gehoor het, [het Ek] aan julle bekend gemaak” (Johannes 15:15).
  • In Johannes 17:8 bid Jesus: “Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee”.
  • Paulus praat van die Woord van God (die Bybel) en die evangelie as ‘die Woord van Christus’ (Kolossense 3:16, Romeine 10:17).

 

Wie dan aan Jesus ongehoorsaam is, is ongehoorsaam aan God.  God sal hom straf.  “En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.” (v.19).  “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.” (Hebreërs 12:25).

 

Dit is reg om op Jesus se Priesterlike amp te fokus; om Hom te erken as jou Verlosser.  Maar moet dit nie ten koste van sy Profetiese amp doen nie.  As Profeet is Hy groter as Moses (Hebreërs 3:3-6).  Moses moes sê:  ‘So spreek die Here’ (Eksodus 4:22).  Jesus kan sê:  ‘Ek sê vir julle’ (Matteus 5:28).  Jesus is die presiese afdruksel van God se wese, die afskynsel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3).  Hy spreek nie net God se Woord nie, maar is die Woord van God (Johannes 1:1, 14).  Hy openbaar die Vader aan ons (Johannes 1:18).  Wie Hom gesien het, het die Vader gesien (Johannes 14:9).  Moet dan nie dink die Vader is kwaai en Jesus gaaf nie.

 

Wanneer die Bybel van Jesus as ‘n Profeet praat, moet jy nie soos die liberale teoloë, Moslems, Buddhiste, en Samaritane (Johannes 4:25) dink Hy is net ‘n leermeester nie.  Hinduïsme kan voortbestaan sonder Krishna, Buddhisme sonder Buddha, en Islam sonder Mohammed.  Christenskap, egter, kan nie bestaan sonder Jesus as Profeet nie.  Hy is die openbaring van God; Hy is God.  In die tuin van Eden en dwarsdeur die Ou Testament het Jesus God aan die mens geopenbaar.  Selfs in die hemel sal dit Hý wees wat die Vader openbaar.

 

Gehoorsaam Hom (v.15).  Wie kan dit sonder die evangelie regkry (Romeine 8:7, Handelinge 28:26-28, 1 Korintiërs 2:14, Johannes 10:16, 1 Johannes 4:6)?  Jy moet jou van jou sonde bekeer en glo dat Hy die enigste Verlosser is; dat Hy vir sondaars gesterf het en weer uit die dood opgewek is.  Moenie staatmaak op jou pogings, opregtigheid, of goeie werke nie.  Vertrou op Hom alleen.

 

Is jy gered?  Die Gees leer vir ons Jesus se woorde in die Bybel (Johannes 17:26, 16:13-15).  Lees daarom jou Bybel en vra dat die Heilige Gees jou sal help om te verstaan.  As jy die Bybel minag, dan minag jy die Profeet wat hierdie woorde gespreek het.  Laat ons eerder die woorde van God se Profeet eer deurdat ons dit lees, hoor, gehoorsaam en verkondig.  As jy nie na dié Profeet luister nie sal God jou oordeel (v.19).  “hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).

 

Vandag se vals profete (v.20-22)

Van 1982 tot 1990 het André Esterhuizen hom by die Kempton hospitaal voorgedoen as ‘n pediater.  Onder sy diagnose het ‘n hele paar babas skade gely en selfs gesterf.  In Mei 1992 het hy 18 jaar tronkstraf gekry.  Anders as vals pediaters word vals profete nie net vir 18 jaar gestraf nie.  Hulle verdien die ewige hel.  As jy hulle lering volg mag jy dalk saam met hulle gestraf word.  Daarom is dit baie belangrik dat jy hulle moet uitken.

 

Vandag is daar duisende selfaangestelde profete wat op hulle eie gesag sê:  ‘So spreek die Here’ (v.20, Jeremia 14:14, 23:25-32).  Om die volk teen valsheid te spaar, straf God hierdie vals profete met die dood (v.20, Jeremia 28:15-17).  Hoe sal jy die ware Profeet uitken as daar soveel vals profete is (v.21)?  ‘n Vals profeet se woorde word nie waar nie – hy verbeel hom dat God met hom gepraat het (v.22, 1 Konings 22:28).  Jy hoef nie sy profesieë te vrees nie, maar vrees die ware Profeet se Woord.

 

Hoe kan jy vals profete uitken?  Meet hulle aan die Bybel.  As jy dít doen sal daar mense wees wat sê jy blus die Heilige Gees.  Moet jou nie aan hulle steur nie.  Hier is ‘n paar kenmerke van vals profete:

 

[1] Hulle woord kom nie in detail uit nie (v.22).  Die man wat gesê het Jesus kom op 21 Mei 2011 was ‘n vals profeet.  Volgens die Mayan kalender moes die wêreld in Desember 2012 geeïndig het – nóg ‘n vals profesie.  Party mense hang Nostradamus se profesieë aan, maar hy was so vaag dat baie gebeure sy voorspellings kon ‘vervul’.  ‘n Vrou het eenkeer vir my vriend gesê dat die vier perde van Openbaring dié betrokke naweek in Pretoria se strate sou wees om die swart mense dood te maak.  Sy was ‘n vals profeet.  Benny Hinn het voorspel dat ‘n vuur die homoseksuele gemeenskap tussen 1994 en 1995 sou doodbrand.[1]  Sy woorde het nie waar geword nie.  Hy is ‘n vals profeet.  Die Sewendedag Adventistekerk se vals profetes, Ellen G. White, het gesê dat Jesus in 1850 sou terugkeer.[2]

 

[2] Soms bewerk die Here dit so dat die vals profeet se voorspelling waar word.  Baie mense volg dan die vals profeet.  Die Here doen dit om te toets of sy kinders getrou sal bly (13:1-5).  Hy wil nie hê ons moet agter die vals gode aanhardloop nie.  Talle mense word mislei, omdat iemand wonders doen of akkurate voorspellings maak.  Die vraag is:  lei hulle jou om die ware God se Woord te volg, of hardloop hulle agter demone aan (v.9-14)?  “En as hulle vir julle sê:  Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?  Tot die wet en tot die getuienis!  As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” (Jesaja 8:19-20).

 

‘n Paar jaar terug het Jonathan Edward (nie Edwards nie) ‘n TV program aangebied waarin hy met die dooies gepraat het.  Voor sy bekering was Arthur Pink by spiritisme betrokke.  Hy sê dat hulle tafels in die lug laat sweef het en akkurate dinge oor jou familie en omstandighede kon sê.[3]  Pink sê:  ‘Many of the spirit-communicated messages were real, but they came not from the dead but from demons impersonating the departed.’[4]  Natuurlik weet die demone wat jy vir ontbyt gehad het en waar jou broer werk.  Maar die feit dat dié mense jou lei om vals gode te volg, wys dat hulle vals profete is.

 

‘n Man in Boksburg het in die kerk geprofeteer.  Later het dit uitgekom dat hy ‘n astroloog (‘n sterrewiggelaar) is.  Moenie val vir okkultiese speletjies of jou sterretekens in die Huisgenoot, net omdat dit redelik akkuraat is nie.  Benny Hinn het gesê dat hy sy salwing gekry het toe hy Kathryn Kuhlman en Aimee McPherson (twee dooie ‘profetesse’) se grafte besoek het.[5]  Deesdae kan radio Jacranda jou toekoms vir jou voorspel.  Pasop!

 

[3] Vals profete is geldgierig en seksueel losbandig (2 Petrus 2:14).  Dit is tragies dat baie Christene nie deur TBN se prosperity predikers kan sien nie.

 

[4] Vals profete verkondig ‘n vals Jesus (1 Johannes 4:2-3).  As hulle nie saam met die Jehova’s Getuies sy Godheid ontken nie, sê hulle saam met Joyce Meyer en Kenneth Copeland dat hy weergebore is, Satan se natuur aangeneem het aan die kruis, of vir ons sondes betaal het in die hel.[6]

 

Jesus is die groot Profeet.  Sy woorde is in die Bybel opgeteken; die fondasie is gelê (Efesiërs 2:20).  God het met ons kom praat deur sy Seun – ons het nie nog profete nodig nie (Hebreërs 1:1-2).  Die Skrif is genoegsaam (2 Petrus 1:3).  Die ‘profete’ wat sê dat God vandag nog geïnspireerde en nuwe openbarings gee, minag God se groot Profeet.  Hulle is besig om by die Bybel by te voeg.  God sal hulle oordeel (4:2, Spreuke 30:6, Openbaring 22:18-19).

 

John MacArthur het in ‘n preek gesê:  ‘Mense vra soms wat die grootste probleem in die kerk is.  Die antwoord maklik:  die onvermoeë om waarheid van valsheid te onderskei.’  Mense in die kerk word soos golwe van een vals lering na die volgende geslinger (Efesiërs 4:14).  Ons sal veilig wees as ons die woorde van God se Profeet glo, soos dit in die Bybel opgeteken is.

[1] Orlando Christian Center, 31 Desember 1989

[2] http://www.exadventist.com/Home/Prophet/tabid/55/Default.aspx

[3] Iain Murray, The Life of Arhur W. Pink, p.8

[4] Ibid, p.13

[5] Benny Hinn, Double Portion Anointing, Part #3, Orlando Christian Center, Orlando, Fla., April 7, 1991. From the series, Holy Ghost Invasion. TV#309, tape on file.

[6] Kenneth Copeland, What Happened from the Cross to the Throne, 1990, audiotape #02-0017, side 2 en Joyce Meyer, The most important decision you’ll ever make, pp.35-37

Die oorsprong en betekenis van Paasfees

Easter bunny at cross

Hoe, waar en wanneer het Paasfees begin?  Die Christelike wêreld swem met blog inskrywings, artikels, boeke, en DVD seminare wat sê Paasfees is heidens en het sy oorsprong by afgode soos Ishtar en Eostre.  Maar is dit ‘n feit?  Iets is nie outomaties waar net omdat dit gepubliseer is nie.  Buiendien is dié siening nie die enigste geldige opinie nie.[1]  Gelowiges wat op Paasnaweek kerk toe gaan doen dit nie tot eer van een of ander heidense godin nie.  Die herdenking van Jesus se dood het sy oorsprong in Eksodus 12:1-28 wat maar ‘n skadu van die kruis is.

 

Versoening (v.1-13)

David Carmichael vertel van ‘n tradisionele Skotse spele, waarin sterk mans kyk wie ‘n swaar klip of paal die verste kan gooi.  By een spele het ‘n klein kind op die speelveld geloop net toe een van die mans sy gewig gegooi het.  Die swaar klip het reguit op haar afgepeil.  ‘n Groot, sterk man uit die skare het na die kind toe gehardloop en haar met sy rug geskerm.  Die klip het hom getref en seergemaak.  Die kind was veilig.  Op dieselfde wyse het die lam in Eksodus 12, en Jesus in die Nuwe Testament God se toorn afgeweer.  God se toorn het reguit op ons afgepeil.  Jesus het tussen ons en sy eie toorn kom staan.  Soos die paaslam het Jesus ‘n plaasvervangende soendood gesterf.

 

God het sy volk in die maand Abib (Maart-April)[2] uit Egipte gered, en daarom het hulle godsdienstige nuwe jaar in dié maand begin:  nuwe jaar, nuwe begin (v.1-2, Deuteronomium 16:1).  Op die tiende dag van dié maand moes die hoof van elke huis ‘n lam vat (v.3).  Veertig jaar later het die Israeliete op die tiende dag van Abib gereed gemaak om in die nuwe Land in te gaan (Josua 4:19).  Jesus het vyf dae voor sy dood (10, 11, 12, 13, 14) in Jerusalem aangekom en so Eksodus 12:2 vervul (Johannes 12:1, 12).

 

‘n Klein gesin sou nie alleen ‘n lam kon opeet nie, en moes met hulle bure deel (v.4).  Elkeen moes ‘n jaar oue skaap- of boklam sonder gebrek neem (v.5).  Dié vers is vervul in Jesus wat geen sonde gehad het nie (2 Korintiërs 5:21, 1 Petrus 2:22, Hebreërs 7:26).  Daarom noem die Bybel hom ‘n Lam sonder gebrek (1 Petrus 1:19).  Jesus kon dus nie net uit die hemel neerdaal en vir ons sterf nie.  Behalwe dat Hy volkome mens moes word, moes Hy ook eers perfek gelewe het.

 

Die lammetjies is op die 14de dag teen sononder geslag (v.6, Deuteronomium 16:6).  Toe die Israeliete in die Beloofde Land gekom het, het hulle op die aand van 14 Abib die Pasga herdenk (Josua 5:10).  Volgens sommige kommentators verwys die aand hier na die tyd wat die son na die weste toe begin sak; tussen 15:00 en 17:00.  Jesus vervul dié vers omdat Hy die Lam van God is (Johannes 1:29, 1 Korintiërs 5:7), maar ook omdat Hy teen 15:00 gesterf het (Lukas 23:44-46).

 

Die lam se bloed is teen die deurkosyne en bo-drumpel gespat.  Gesinne moes die lam saam met bitter kruie en ongesuurde brood eet (v.7-8).  Die bitter kruie sou hulle aan die bitter slawerny herinner (1:14).  Die bitter mirre by Jesus se kruis moet ons ook aan die bitterheid van sonde herinner (Markus 15:23).  God het gesê dat hulle nie rou- of kookvleis kon eet nie.  Dit was ‘n offer en daarom moes hulle dit met kop, bene en ingewande (afval) braai en eet.  Hulle moes alles eet en die oorskiet tot as verbrand (v.9-10).  Net so moet ons deur geloof Jesus se vlees eet en bloed drink:  ons moet deel hê aan Hom (Johannes 6:53-56).

 

Die volk moes gou eet met hulle gordels vas, skoene aan hulle voete, en staf in hulle hande (v.11).  Dit het hulle herinner dat hulle haastig uit die land uit is, en dat hulle nie daarheen moes terugkeer nie.  Hulle moes nie soos Lot wees wat nie wou vlug nie (Genesis 19:16).  Op dié aand sou God die Egiptenare en hulle gode getref het, om so te wys dat Hý die ware God is (v.12).  By ‘n huis met bloed op die deurkosyne sou Hy verbygaan (v.13, ‘pass over’).  “Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.” (Hebreërs 11:28).  Vir ons is dit Jesus se bloed wat God se toorn afweer (Romeine 3:25, 1 Johannes 2:2, 4:10).

 

Doen alles wat jy kan om te sorg dat God se toorn jou en jou gesin op die oordeelsdag verbygaan.  Jy moet jouself eers regkry voordat jy jou gesin kan help.  Jy kan nie God se toorn afweer deur die wet hou, gedoop te word, kerk toe te kom, ‘n lidmaat te word, jou Bybel te lees, te bid, evangelisasie te doen, of opreg te wees nie.  Net Jesus kan God se toorn afweer en vir jou die perfekte rekord gee wat God vereis.  Skuil in Hom deur geloof.  Die Skrif sê:

 

  • “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Johannes 3:36).
  • “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees… Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Romeine 8:1, 33-34).
  • “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Korintiërs 5:21).

 

‘n Stamhoof in die New Hebrides wou vir John Paton doodskiet.  Sy seun het tussen hom en Paton kom staan en gesê:  ‘As pa hom wil skiet moet pa my doodmaak.’  Sy pa het nie geskiet nie.  ‘n Boer se plaas het afgebrand.  Hy het ‘n verskroeide hen op die grond gesien lê.  Toe hy haar met sy voet wegstoot, het die kuikens onder haar vlerke uitgehardloop.  So het Jesus tussen ons en sy eie toorn kom staan.

 

Natuurlik kan ‘n pa nie sy gesin red nie.  Elkeen sal vir homself voor God moet antwoord (Galasiërs 6:5).  Maar ‘n pa kan sy kinders reg leer, vir hulle die weg wys, en vir hulle bid.  As hy dit reg doen is die kanse goed dat hulle gered sal word (1 Korintiërs 7:14, Handelinge 16:31, 18:8).

 

As jy nie in Jesus skuil nie, sal jy in onsekerheid, twyfel en vrees lewe.  As jy op jou werke staatmaak, sal jy altyd wonder of dit aanvaarbaar genoeg is vir God.  As jy egter in Jesus glo, kan jy verseker weet dat God jou sal aanvaar (1 Johannes 5:13).  As God jou verwerp, beteken dit dat Hy sy eie Seun verwerp.

 

Herdenking (v.14-28)

Die Engelse spreekwoord sê:  ‘A picture is worth a thousand words.’  Mense in die advertensiebedryf weet dit.  Daarom sit hulle ‘n prent van ‘n yskoue blik vol druppels buite die winkel, en nie maar net wit letters op ‘n swart bord wat sê:  ‘Koue Coke te koop’ nie.  Die pasga en die nagmaal is prente wat ons help om beter te onthou.

 

Die Jode moes elke jaar die pasga herdenk deur ‘n fees wat vir sewe dae geduur het (v.14, 2 Konings 23:21-23, Esra 6:19).  Gedurende die fees mag hulle nie suurdeeg geëet het nie.  Hulle moes die suurdeeg verwyder.  As hulle dit nie gedoen het nie, is hulle van die volk afsny (v.14-15, 19-20).  Wat was die kwessie?  Toe hulle uit Egipte uit is was daar nie tyd vir die brooddeeg om te ruis nie.  Omdat hulle haastig was, het hulle ongesuurde brood geëet (v.39).  God se volk moes onthou dat hulle haastig uit Egipte uit weg is.  Die eerste en sewende dae van die fees moes as ‘n Sabbat gevier word.  Hulle mag wel op dié dae kos gekook het (v.16).  Die fees wat van 14-21 Abib gehou is het hulle herinner dat God hulle in dié tyd uit Egipte verlos het (v.17-18).

 

Moses het die ouderlinge beveel om die lam te slag (v.21).  Hulle het dit gedoen en die bloed in ‘n bak in laat tap.  Hulle het toe ‘n hisoptak in die bloed gedoop en die deurposte en bo-drumpel daarmee aangeraak.  Toe Jesus aan die kruis was het hulle met ‘n hisoptak vir hom suurwyn aangebied (v.22, Johannes 19:29).  Niemand kon buitentoe gaan nie.  Almal wat nie onder die bloed van die lam was nie, het gesterf (v.22).  Slegs binne die bloedbevlekte huis sou hulle veilig wees teen die Verwoester (v.23, 1 Korintiërs 10:10).

 

Die instruksies om die fees jaarliks te hou het gegeld vir die volk en hulle nageslag in die Beloofde Land (v.24-25).  Hulle moes vir hulle kinders die betekenis van die fees leer (v.26-27, 13:14, vgl. Deuteronomium 6:20-25, 32:7, Josua 4:6).  Die volk het voor die Here gebuig en Hom aanbid (v.27).  Hulle het toe gedoen wat Hy deur Moses beveel het (v.28).

 

Soos die volk hulle verlossing uit Egipte moes herdenk, moet ons Jesus se kruisdood herdenk.  Deesdae wil mense in die Hebrew Roots Movement die Joodse Pasga herdenk.  Ander dink dat hulle God se guns wen as hulle Jesus se dood in die Paasfees herdenk.  Vir sulke mense sê God:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17).  “Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” (Galasiërs 4:10).

 

Ons is nie Jode onder die wet nie.  In die Nuwe Testament het die nagmaal die Pasga vervang (Lukas 22:14-20, 1 Korintiërs 5:7).  Vier die nagmaal en sê vir jou kinders wat dit beteken (v.26-27).

 

[1] Sê vir hulle dat Jesus die brood gebreek het om te wys dat Hy gekies het om sy lewe vir ons te gee (Johannes 10:18).

 

[2] Sê vir hulle dat Jesus die brood gebreek het, omdat sy liggaam met swepe, vuiste, spykers, ‘n doringkroon en ‘n spies gebreek is.

 

[3] Sê vir hulle dat die wyn rooi is omdat Jesus se bloed uit sy liggaam gevloei het om ons sondes te vergewe (Hebreërs 9:22, 1 Johannes 1:7).

 

[4] Sê vir hulle dat die nagmaal ons nie red nie (soos die Katolieke glo), maar dat dit ‘n herdenking van ons redding is.  Jesus het mos gesê:  “doen dit tot my gedagtenis” (1 Korintiërs 11:24).

 

[5] Sê vir hulle dat ons die nagmaal saam met die gemeente vier en nie saam met ons gesin nie, omdat die een brood en een beker ons eenheid met ander gelowiges uitbeeld (1 Korintiërs 10:16-17, 11:33).

 

[6] Sê vir hulle dat net dié wat gered is die nagmaal kan gebruik.  In die Ou Testament is kinders saam met hulle ouers uit Egipte verlos, en kon hulle die Pasga eet.  In die Nuwe Testament is net dié wat weergebore is, op Jesus vertrou en hulle bekeer, gered.  Daarom mag net gelowiges die nagmaal eet en drink.

 

[7] Sê vir hulle dat ons ons harte moet voorberei vir die nagmaal.  Net soos die volk alle suurdeeg uit hulle huise moes verwyder, moet ons die suurdeeg van sonde, vals lering, en skynheiligheid verwyder deur belydenis en bekering (1 Korintiërs 5:6-8, 13, Galasiërs 5:9, Lukas 12:1, Matteus 16:11-12).  In die brood en beker is daar geleentheid om onsself te ondersoek, ons sonde te bely, en God se vergifnis te verkry.  Hy sal ons met hisop reinig (Psalm 51:9).

 

[8] Sê vir hulle dat ons nie net aan ons sonde moet dink nie, maar ook aan die kruis.  Ons moet die Here prys vir ons redding.  Is dit nie die rede hoekom Hy ons gered het nie:  sodat ons Hom kan prys (v.27, Openbaring 5:9)?

 

[9] Sê vir hulle dat die nagmaal, soos die Pasga vir die Jode, ‘n opdrag is en dat ons dit nie moet mis nie (v.28).  As jy van die nagmaal af wegbly sal dit maklik raak om ligtelik om te gaan met sonde.  Jy sal gou vergeet dat dit Jesus se lewe gekos het.  Dalk sal jy depressief raak oor jou sonde, omdat jy nie gereeld in die nagmaal onthou wat Jesus vir jou gedoen het nie.

 

Ek onthou ‘n Paasnaweek saam met my ongelowige familie.  Vir hulle het dié naweek gegaan oor familie, ontspanning, kuier, sjokolade eiers vir die kinders, paashase inkleur, en ‘hot-cross buns’.  Om sjokolade eiers en hase te eet maak jou nie onrein nie (Matteus 15:11).  Maar in die Bybel gaan Pasga oor ‘n lam en Israel wat uit Egipte verlos is.  Dié verlossing is vervul in Jesus.  Buitendien is ons nie tradisionele kerkmense wat net op paasnaweek aan Jesus se kruisdood en opstanding dink nie.  Ons dink daaraan elke keer as ‘n gelowige gedoop word of ons die nagmaal gebruik; elke keer as ons ‘n preek oor die kruis hoor; elke keer as ons die evangelie met iemand deel; elke keer as ons daaroor sing; elke keer as ons ons sondes bely – elke dag.

[1] http://www.christianitytoday.com/ch/bytopic/holidays/easterborrowedholiday.html

[2] Die Jode werk volgens ‘n maankalender.  ‘n Joodse jaar kan korter óf langer as ons s’n wees.  Dus val Paasnaweek nie elke jaar op dieselfde datum nie, maar êrens in Maart of April.

Die tien plae: Donker en dood

Death of firstborn

Afgodery is dom en maak jou so.  Oor dié wat afgode dien sê Jesaja 44:18-20:  “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie:  Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak?  Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?  Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?”  Afgode is blind, doof, en stom.  Almal wat hulle aanbid word ook so (Psalm 115:8).

 

‘n Man vat ‘n stuk yster en maak ‘n god daarvan.  Hy word moeg en honger terwyl hy werk (Jesaja 44:12).  Of hy kap ‘n boom af.  Hy brand ‘n stuk hout om warm te kry, brood te bak, of vleis te braai.  Met die res maak hy ‘n god.  Hy aanbid dit en vra dat die god hom sal red (Jesaja 44:13-17).  Die god kan nie self loop nie – iemand moet hom dra (Jesaja 46:1-2).  Hy moet dit op ‘n voetstuk vasspyker, sodat dit nie omval nie (Jeremia 10:3-5).  Die god kan nie hoor, sien, praat of help nie (Psalm 115:4-7).

 

Natuurlik praat ons hier net van beelde.  Maar ‘n afgod kan ook in ons harte wees.  As jy byvoorbeeld meer maak van geld as van God, aanbid jy ‘n afgod (Matteus 6:24).  Om ‘n skewe beeld van die ware God te hê, is ook ‘n afgod.  Iemand wat praat asof God sonde aanvaar of alewig mense wil straf, aanbid ‘n afgod.  Eksodus 10:21-11:10 gee vir ons ‘n beeld van die ware God wat red en straf.

 

Die negende plaag:  Donker (10:21-29)

Alcatraz was die V.S.A. se maksimum gevangenis.  Die misdadigers wat hier was sê dat die donker sel die ergste straf was:  ‘As hulle jou daar toesluit wil jy mal word.’  In Suid-Afrika ken ons die frustrasie van beurtkrag.  Maar wat as dit soos die negende plaag was en jy nie ‘n kers of kragopwekker het nie; as die hele land donker is?

 

Moses moes sy hand na die hemel toe uitstrek.  God het vir Amon-Ra, Egipte se opper-songod getref.  Die maangod Thoth het ook deurgeloop.  Duisternis is ‘n simbool van God se oordeel oor sonde:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos… En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe” (Johannes 3:19, Matteus 27:45).

 

‘n Mens kon die duisternis voel (as jy ooit in die Goede Hoop kasteel se donker gat was, kan jy bevestig dat dit so is).  Die drie dae in v.22 stem ooreen met die drie dae in 8:27:  “Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.”  Farao het geweier en nou het God hom vir drie dae met duisternis getref.

 

Wat was die effek van die duisternis?  Dit moes seker baie koud geword het.  Kinders sou bang gewees het.  Die Egiptenare self het gevrees omdat Amon-Ra vir so lank weg was.  Dit moes eensaam en vervelig gewees het.  Sonder ‘n yskas met ‘n liggie in, was dit seker moeilik om kos en water te soek.  In Gosen waar die Israeliete gebly het, was dit lig.  Farao het vir Moses laat roep en gesê dat die kinders saam kon trek (v.24, 10).  Hy het egter gesê dat die vee moes agterbly.  Moses was nie bereid om God se Woord te kompromeer nie, en het gesê dat die vee moes saamgaan, omdat hulle dit vir die Here moes offer.  God wou nog een plaag stuur.  Daarom het Hy Farao se hart verhard.

 

Farao het geweier om die vee saam te stuur.  Hy het gesê dat Moses nie weer sy gesig sou sien nie (onthou, dis donker), maar sou sterf.  Moses het geglo dat God sy volk sou bevry en was nie bang vir Farao nie (Hebreërs 11:27).  Hy was sarkasties en het Farao se woorde beaam:  ‘Jy’s reg Farao – ek sal nie weer jou gesig sien nie!’

 

Ons moet die lig van God se guns soek.  Toe Jesus aan die kruis was het die son vir drie ure opgehou skyn (Lukas 23:44-45).  Sy liggaam was vir drie dae in ‘n donker graf (Matteus 16:40).  Dit het Hy gedoen, sodat God se lig oor ons kan skyn.  Sy lig skyn oor:

 

  • Dié wat in Hom glo en Hom volg: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12).
  • Dié wat hulle sonde bely en laat staan: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).
  • Dié wat hulle broers liefhet: “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” (2 Johannes 2:9-11).
  • Dié wat God se Woord lees en gehoorsaam: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105).
  • Dié wat die armes liefhet en versorg: “jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring… As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee… Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:7-10).

 

Ons moet God se lig reflekteer deur goeie werke en evangelisasie:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  “Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Handelinge 13:47).

 

In die hemel sal God se lig altyd oor ons skyn (Openbaring 21:22-24, 22:5).  In die hel is dit donker (Matteus 25:30, Judas 6, Openbaring 16:10).  Dit is seker ook eensaam en vervelig.  Daar sal jy bang wees vir die donker.  Wie die ware God dien het lig en blydskap:  “welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!” (Psalm 144:15).  Dié wat afgode dien het oneindige smart:  “Die smarte van hulle wat ‘n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees” (Psalm 16:4).  As jy sê dat ‘n God van liefde nie mense in die buitenste duisternis van die hel sal werp nie, aanbid jy ‘n vals god.

 

Die tiende plaag:  Dood (11:1-10)

Jy het seker al gehoor dat mense sê:  ‘Kinders moet hulle ouers begrawe, nie andersom nie.’  Toe ek studeer het is een van my mede-studente in ‘n ongeluk dood.  Vier jaar later het ek haar ma gebel om te hoor hoe dit gaan.  Haar woorde was:  ‘Dit sal seker nooit goed gaan nie.’  ‘n Vierjarige kind is in my vriend se arms dood.  Hy het vir my gesê dat ‘n kind se begrafnis erger is as ‘n grootmens s’n.  Nou het jy ‘n idee van hoe erg dit was toe die eersgeborenes in Egipte dood is.  Regoor die land het die ouers gehuil.  Die hel is erger.  Dit is vir ewig ‘n plek van trane:  “daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 25:30).  J.C. Ryle het gesê:  ‘There is a place where there is some tears – earth.  There is a place where there is only tears – hell.  There is a place where there is no tears – heaven.’

 

Hoekom het God tien plae gestuur en nie nege of elf nie?  Tien is ‘n getal van volheid.  God wou wys dat Hy Egipte se gode totaal en finaal vernietig het.  Farao sou die Israeliete verdryf:  mans, vroue, kinders en vee.  Die Israeliete moes hulle bure vra vir goud en silwer.  Hulle sou dit later gebruik om die tabernakel te bou (ongelukkig het hulle eers ‘n goue kalf gebou!).  God het die Egiptenare se harte sag gemaak, sodat hulle hul juwele vir die Israelite gegee het.  So is Genesis 15:14 vervul:  “hulle [sal] uittrek met baie goed.”  God het vir Moses voor die Egiptenare en die volk Israel verhef (vgl. Deuteronomium 34:10-12).

 

God het gesê dat Hy die Egiptenare teen middernag sou tref (v.4).  Hulle het geglo dat Amon-Ra in dié tyd na die onderwêreld toe is.  Jahwe het weereens gewys dat Egipte se gode magteloos is, en dat Hy nie sluimer of slaap nie (Psalm 121:4).  God sou die eersgeborenes van Egipte tref:  van Farao se opvolger wat op die troon sit (die Egiptenare het geglo Farao is ‘n inkarnasie van Amon-Ra en Osiris) tot die slavin se seun en die vee.  Die Egiptenare het Israel se seuns doodgemaak (1:22).  Nou sou God Farao se seun tref (4:23).

 

Die Egiptenare het erg getreur en waarskynlik uitgeroep tot hulle gode, maar dit het nie gehelp nie.  Kontrasteer dit met 2:23-25 waar Israel uitroep en God hulle verhoor.  Nie eers ‘n hond sou teen die Israeliete en hulle vee grom nie.  Met ander woorde, Jahwe het hulle beskerm en daarom sou hulle nie in die minste skade ly nie.  Die Egiptiese god van die doderyk (Anubis) het ‘n hond se kop gehad.  Hy kon nie teen God se volk staan nie.  Met die laaste plaag sou God weer ‘n duidelike onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare tref.  God het voorspel dat Farao se diensknegte hulle voor Moses sou neerbuig en smeek dat die Israeliete moes trek.  Moses is in heilige toorn voor Farao weg (Efesiërs 4:26).  Farao wou nogsteeds nie luister nie.  God het hom verhard, sodat Hy nog hierdie laaste plaag kon stuur.

 

Het jy ‘n vyand wat die lewe vir jou moeilik maak?  ‘n Persoon wat jou fisies seermaak?  Dalk iemand wat jou verbaal of emosioneel boelie?  Is dit ‘n baas by die werk, jou huweliksmaat, ‘n familielid, ‘n kind by die skool?  God kan jou vyand se hart sag maak, sodat hy aan jou goed doen (v.3, Spreuke 16:7).  Hy kan jou vyande voor jou voete laat neerbuig (v.8, Filippense 2:10, Openbaring 3:9, 2 Samuel 16:5, 19:18).

 

Moet daarom nie jou vyande vrees nie (Hebreërs 13:6), maar bid vir hulle, seën hulle, doen goed aan hulle, en probeer om vrede te maak (Lukas 6:27-36, 23:34, Romeine 12:14, 20-21, 18).  Maar wat as hulle nie wíl verander nie?  Dan moet jy nie self wraak neem nie (Romeine 12:19).  Los dit vir die Here; gee die saak vir Hom in gebed:  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag… toe Hy uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel…nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig…nie, maar dit oorgegee…aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23, Psalm 37:5-6).  Jy kan hulle nie volgens verdienste straf nie; God kan.  Hy sien hulle harte en sal die straf uitmeet wat hulle toekom.

 

Die gode van die nasies veg soms teen mekaar.  In ‘n Babiloniese mite het een god ‘n ander middeldeur gekap en sy ingewande gebruik om die hemel en aarde mee te maak.  Die gode staan nie ‘n kans teen die ware God nie.  Om die waarheid te sê bestaan hulle eers nie.  Hy alleen is die ware God.