Die tien plae: Donker en dood

Death of firstborn

Afgodery is dom en maak jou so.  Oor dié wat afgode dien sê Jesaja 44:18-20:  “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie; en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie:  Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak?  Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?  Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?”  Afgode is blind, doof, en stom.  Almal wat hulle aanbid word ook so (Psalm 115:8).

 

‘n Man vat ‘n stuk yster en maak ‘n god daarvan.  Hy word moeg en honger terwyl hy werk (Jesaja 44:12).  Of hy kap ‘n boom af.  Hy brand ‘n stuk hout om warm te kry, brood te bak, of vleis te braai.  Met die res maak hy ‘n god.  Hy aanbid dit en vra dat die god hom sal red (Jesaja 44:13-17).  Die god kan nie self loop nie – iemand moet hom dra (Jesaja 46:1-2).  Hy moet dit op ‘n voetstuk vasspyker, sodat dit nie omval nie (Jeremia 10:3-5).  Die god kan nie hoor, sien, praat of help nie (Psalm 115:4-7).

 

Natuurlik praat ons hier net van beelde.  Maar ‘n afgod kan ook in ons harte wees.  As jy byvoorbeeld meer maak van geld as van God, aanbid jy ‘n afgod (Matteus 6:24).  Om ‘n skewe beeld van die ware God te hê, is ook ‘n afgod.  Iemand wat praat asof God sonde aanvaar of alewig mense wil straf, aanbid ‘n afgod.  Eksodus 10:21-11:10 gee vir ons ‘n beeld van die ware God wat red en straf.

 

Die negende plaag:  Donker (10:21-29)

Alcatraz was die V.S.A. se maksimum gevangenis.  Die misdadigers wat hier was sê dat die donker sel die ergste straf was:  ‘As hulle jou daar toesluit wil jy mal word.’  In Suid-Afrika ken ons die frustrasie van beurtkrag.  Maar wat as dit soos die negende plaag was en jy nie ‘n kers of kragopwekker het nie; as die hele land donker is?

 

Moses moes sy hand na die hemel toe uitstrek.  God het vir Amon-Ra, Egipte se opper-songod getref.  Die maangod Thoth het ook deurgeloop.  Duisternis is ‘n simbool van God se oordeel oor sonde:  “En dit is die oordeel:  dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos… En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe” (Johannes 3:19, Matteus 27:45).

 

‘n Mens kon die duisternis voel (as jy ooit in die Goede Hoop kasteel se donker gat was, kan jy bevestig dat dit so is).  Die drie dae in v.22 stem ooreen met die drie dae in 8:27:  “Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.”  Farao het geweier en nou het God hom vir drie dae met duisternis getref.

 

Wat was die effek van die duisternis?  Dit moes seker baie koud geword het.  Kinders sou bang gewees het.  Die Egiptenare self het gevrees omdat Amon-Ra vir so lank weg was.  Dit moes eensaam en vervelig gewees het.  Sonder ‘n yskas met ‘n liggie in, was dit seker moeilik om kos en water te soek.  In Gosen waar die Israeliete gebly het, was dit lig.  Farao het vir Moses laat roep en gesê dat die kinders saam kon trek (v.24, 10).  Hy het egter gesê dat die vee moes agterbly.  Moses was nie bereid om God se Woord te kompromeer nie, en het gesê dat die vee moes saamgaan, omdat hulle dit vir die Here moes offer.  God wou nog een plaag stuur.  Daarom het Hy Farao se hart verhard.

 

Farao het geweier om die vee saam te stuur.  Hy het gesê dat Moses nie weer sy gesig sou sien nie (onthou, dis donker), maar sou sterf.  Moses het geglo dat God sy volk sou bevry en was nie bang vir Farao nie (Hebreërs 11:27).  Hy was sarkasties en het Farao se woorde beaam:  ‘Jy’s reg Farao – ek sal nie weer jou gesig sien nie!’

 

Ons moet die lig van God se guns soek.  Toe Jesus aan die kruis was het die son vir drie ure opgehou skyn (Lukas 23:44-45).  Sy liggaam was vir drie dae in ‘n donker graf (Matteus 16:40).  Dit het Hy gedoen, sodat God se lig oor ons kan skyn.  Sy lig skyn oor:

 

  • Dié wat in Hom glo en Hom volg: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12).
  • Dié wat hulle sonde bely en laat staan: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:5-7, 9).
  • Dié wat hulle broers liefhet: “Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.” (2 Johannes 2:9-11).
  • Dié wat God se Woord lees en gehoorsaam: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Psalm 119:105).
  • Dié wat die armes liefhet en versorg: “jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring… As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee… Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.” (Jesaja 58:7-10).

 

Ons moet God se lig reflekteer deur goeie werke en evangelisasie:  “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Matteus 5:16).  “Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” (Handelinge 13:47).

 

In die hemel sal God se lig altyd oor ons skyn (Openbaring 21:22-24, 22:5).  In die hel is dit donker (Matteus 25:30, Judas 6, Openbaring 16:10).  Dit is seker ook eensaam en vervelig.  Daar sal jy bang wees vir die donker.  Wie die ware God dien het lig en blydskap:  “welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!” (Psalm 144:15).  Dié wat afgode dien het oneindige smart:  “Die smarte van hulle wat ‘n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees” (Psalm 16:4).  As jy sê dat ‘n God van liefde nie mense in die buitenste duisternis van die hel sal werp nie, aanbid jy ‘n vals god.

 

Die tiende plaag:  Dood (11:1-10)

Jy het seker al gehoor dat mense sê:  ‘Kinders moet hulle ouers begrawe, nie andersom nie.’  Toe ek studeer het is een van my mede-studente in ‘n ongeluk dood.  Vier jaar later het ek haar ma gebel om te hoor hoe dit gaan.  Haar woorde was:  ‘Dit sal seker nooit goed gaan nie.’  ‘n Vierjarige kind is in my vriend se arms dood.  Hy het vir my gesê dat ‘n kind se begrafnis erger is as ‘n grootmens s’n.  Nou het jy ‘n idee van hoe erg dit was toe die eersgeborenes in Egipte dood is.  Regoor die land het die ouers gehuil.  Die hel is erger.  Dit is vir ewig ‘n plek van trane:  “daar sal geween wees en gekners van die tande.” (Matteus 25:30).  J.C. Ryle het gesê:  ‘There is a place where there is some tears – earth.  There is a place where there is only tears – hell.  There is a place where there is no tears – heaven.’

 

Hoekom het God tien plae gestuur en nie nege of elf nie?  Tien is ‘n getal van volheid.  God wou wys dat Hy Egipte se gode totaal en finaal vernietig het.  Farao sou die Israeliete verdryf:  mans, vroue, kinders en vee.  Die Israeliete moes hulle bure vra vir goud en silwer.  Hulle sou dit later gebruik om die tabernakel te bou (ongelukkig het hulle eers ‘n goue kalf gebou!).  God het die Egiptenare se harte sag gemaak, sodat hulle hul juwele vir die Israelite gegee het.  So is Genesis 15:14 vervul:  “hulle [sal] uittrek met baie goed.”  God het vir Moses voor die Egiptenare en die volk Israel verhef (vgl. Deuteronomium 34:10-12).

 

God het gesê dat Hy die Egiptenare teen middernag sou tref (v.4).  Hulle het geglo dat Amon-Ra in dié tyd na die onderwêreld toe is.  Jahwe het weereens gewys dat Egipte se gode magteloos is, en dat Hy nie sluimer of slaap nie (Psalm 121:4).  God sou die eersgeborenes van Egipte tref:  van Farao se opvolger wat op die troon sit (die Egiptenare het geglo Farao is ‘n inkarnasie van Amon-Ra en Osiris) tot die slavin se seun en die vee.  Die Egiptenare het Israel se seuns doodgemaak (1:22).  Nou sou God Farao se seun tref (4:23).

 

Die Egiptenare het erg getreur en waarskynlik uitgeroep tot hulle gode, maar dit het nie gehelp nie.  Kontrasteer dit met 2:23-25 waar Israel uitroep en God hulle verhoor.  Nie eers ‘n hond sou teen die Israeliete en hulle vee grom nie.  Met ander woorde, Jahwe het hulle beskerm en daarom sou hulle nie in die minste skade ly nie.  Die Egiptiese god van die doderyk (Anubis) het ‘n hond se kop gehad.  Hy kon nie teen God se volk staan nie.  Met die laaste plaag sou God weer ‘n duidelike onderskeid tussen sy volk en die Egiptenare tref.  God het voorspel dat Farao se diensknegte hulle voor Moses sou neerbuig en smeek dat die Israeliete moes trek.  Moses is in heilige toorn voor Farao weg (Efesiërs 4:26).  Farao wou nogsteeds nie luister nie.  God het hom verhard, sodat Hy nog hierdie laaste plaag kon stuur.

 

Het jy ‘n vyand wat die lewe vir jou moeilik maak?  ‘n Persoon wat jou fisies seermaak?  Dalk iemand wat jou verbaal of emosioneel boelie?  Is dit ‘n baas by die werk, jou huweliksmaat, ‘n familielid, ‘n kind by die skool?  God kan jou vyand se hart sag maak, sodat hy aan jou goed doen (v.3, Spreuke 16:7).  Hy kan jou vyande voor jou voete laat neerbuig (v.8, Filippense 2:10, Openbaring 3:9, 2 Samuel 16:5, 19:18).

 

Moet daarom nie jou vyande vrees nie (Hebreërs 13:6), maar bid vir hulle, seën hulle, doen goed aan hulle, en probeer om vrede te maak (Lukas 6:27-36, 23:34, Romeine 12:14, 20-21, 18).  Maar wat as hulle nie wíl verander nie?  Dan moet jy nie self wraak neem nie (Romeine 12:19).  Los dit vir die Here; gee die saak vir Hom in gebed:  “Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag… toe Hy uitgeskel is, [het Hy] nie terug uitgeskel…nie; toe Hy gely het, [het Hy] nie gedreig…nie, maar dit oorgegee…aan Hom wat regverdig oordeel” (1 Petrus 2:23, Psalm 37:5-6).  Jy kan hulle nie volgens verdienste straf nie; God kan.  Hy sien hulle harte en sal die straf uitmeet wat hulle toekom.

 

Die gode van die nasies veg soms teen mekaar.  In ‘n Babiloniese mite het een god ‘n ander middeldeur gekap en sy ingewande gebruik om die hemel en aarde mee te maak.  Die gode staan nie ‘n kans teen die ware God nie.  Om die waarheid te sê bestaan hulle eers nie.  Hy alleen is die ware God.