Vryheid vir slawe

Slave set free

Verlede Saterdag (14 Maart 2015) het Suid-Afrikaanse atleet, Tiaan Jacobs, buite die Herman Immelman stadion in Germiston opgewarm.  Hy is deur 3 mans ontvoer en kort na 23:00 in ‘n park naby die stadion afgelaai.  Hy het veilig by sy ouers uitgekom.  Dit kon erger gewees het.  Vandag noem mense dit dit ‘human trafficking’.  Die meer bekende naam is slawerny.  Israel was vir 430 jaar slawe in Egipte.  Dié slawerny vind sy Nuwe Testament eweknie in mense se slawerny aan Satan en sonde.  Maar God kan slawe in die ergste omstandighede bevry.  Eksodus 12:29-42 illustreer dit.

 

Vry deur sy oordeel (v.29-32)

Die Afrikaanse spreekwoord sê:  ‘Die een se dood is die ander se brood’.  Dit beteken eenvoudig dat een persoon voordeel trek uit ‘n ander se skade.  In ‘n groot hael storm ly motoreienaars ernstige skade.  Maar jóú skade beteken vir die glasplekke en paneelkloppers groot wins.  Net so was die dood van Egipte se eersgeborenes die Israeliete se vryheid (v.29-32).  In die Nuwe Testament het God sy Eersgeborene laat sterf om ons te red:  sy dood is ons brood.  Hy self het gesê:  “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.  En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” (Johannes 6:51).

 

Om middernag het God die Egiptenare getref.  Hulle opper-songod, Amon-Ra, kon hulle nie help nie.  Al die eersgeborenes in Egipte is dood:  van die opvolger tot die troon (Farao se seun, die inkarnasie van die gode Amon-Ra en Osiris), tot die seun van die gevangene, tot die eersgeborenes van die vee (die gode was veronderstel om dié ‘heilige’ vee te beskerm).  Hoekom het God net die eersgeborenes getref (v.29)?  Die eersgeborenes was verteenwoordigend van die hele bevolking (v.29, 4:22-23, Numeri 8:17).

 

Farao, sy dienaars, en die hele Egipte het in die nag opgestaan en gehuil (v.30, 11:4-6).  In elke huis was daar iemand dood (v.30).  Die gode het hulle nie gehoor nie, en kon hulle buitendien nie help nie.  Farao het nie weer vir Moses gesien nie (10:28-29), maar het ‘n boodskap gestuur en gesê hulle moes trek om die Here te dien (v.31, 3:19-20). Dié keer het hy ook gesê hulle moet die vee saamvat (v.32, 10:24).  Hy was nie bereid om self die Here te aanbid en seën te vra nie, maar het gevra dat Moses hom moes seën (v.32).  Dit laat my dink aan ongelowiges wat nie self kerk toe wil gaan nie, maar vir Christene vra om vir hulle te bid.

 

Vry deur sy belofte (v.33-42)

‘n Week gelede het my vriend en sy gesin by ons huis kom oorslaap, voordat hulle met vakansie is.  Hulle moes nege tasse op die kar se dak vasmaak, asook vyf kinders en vier volwassenes gereed kry om 06:00 te ry.  Om in ‘n konfooi te ry is nog moeiliker.  Hoe moeilik moet dit wees om in ‘n konfooi met 64 ossewaens te trek?  Of erger:  3 miljoen mense en ‘n paar miljoen vee wat uit Egipte uittrek (om dit in perspektief te sit:  daar trek jaarliks 1.5 miljoen wildebeeste oor die Mararivier in die Serengeti)?  God sorg vir sy volk en het hulle volgens sy belofte aan Abraham (Genesis 15:14) veilig uitgelei.

 

Die Egiptenare was desperaat dat Israel moes trek en het hulle haastig uit die land uitgestuur.  Hulle was bang dat die Here hulle almal sou doodmaak.  Die Israeliete het nie tyd gehad om te wag dat die deeg moes ruis nie.  Daarom het hulle ongesuurde brood gehad vir padkos.  Volgens God se opdrag het die volk die Egiptenare gevra vir goud, silwer, en klere (11:2-3).  Hulle sou dit later gebruik het vir die tabernakel.  God het vir die Israeliete guns gegee in die oë van die Egiptenare (Spreuke 16:7).  Volgens die profesie in 3:21-22, het die Israeliete die Egiptenare gestroop.

 

Die volk het Suid-Oos gereis van Raämses (1:11!) tot by Sukkot.  As jy op ‘n kaart kyk sal jy wonder hoekom:  Kanaän lê dan Noord-Oos!?  God het hulle in dié rigting laat trek, omdat Hy sy mag wou toon by die Rooisee, Farao en die Egiptenare daar wou verdrink, en wou keer dat die Israeliete sou bang word as hulle by die Filistyne se grens kom (13:17-18).

 

Die mans bo 20 wat saamgetrek het, was 600 000 (Numeri 1:46).  As elke man een vrou en een kind gehad, was daar naby 2 miljoen mense.  Ek kan jou amper verseker dat elke man nie net één vrou en kind gehad het nie.  Daar was seker maklik 3 miljoen of selfs meer mense.  Die volk het inderdaad soos die sterre geword (Genesis 15:5).  Daar was ook nog ‘n gemengde spul heidene wat saam getrek het (Levitikus 24:10-11, Numeri 11:4).  Hulle was seker bang was Here tref hulle, daarom het hulle saamgetrek (9:20-21).  Daar was ook baie vee.  As elke man net 10 vee gehad het was daar 6 miljoen.  Ek reken dat daar seker maklik 10 miljoen of meer vee was.  Dié vee was nodig vir die offers wat hulle in die woestyn moes bring.

 

Hierdie groot trek noem ons die eksodus of die uittog.  Soos Moses het Jesus ook ‘n uittog gelei.  In Lukas 9:31 het Moses en Elia aan Jesus verskyn en met Hom gepraat oor die uittog wat hy in Jerusalem sou bereik.  Die Griekse woord vir uittog is ‘eksodus’.  Jesus het meer as net 3 miljoen Jode en heidene uit slawerny bevry, en is besig om hulle na die hemelse Kanaän toe te lei.

 

Die Israeliete het nie eintlik padkos saamgevat nie (v.39).  Die Here het dit so bewerk, omdat Hý vir hulle kos – manna en kwartels – sou voorsien in die woestyn.  Die volk was presies vir 430 jaar in Egipte (sien 6:16, 18, 20, 7:7).  God het dié 400 jaar (afgerond) aan Abraham voorspel (Genesis 15:13).  God het oor sy volk gewaak toe hulle daardie nag uit Egipte getrek het (Psalm 121, 127:1).  Deur al hulle geslagte het die Israeliete die aand van hulle uittog as ‘n fees herdenk:  die Paasfees.

 

Watse lesse leer ons uit hierdie verse?  Dink reg oor die slawerny van sonde.  Is jy ongered?  Jy roem daarin dat jy nie soos Christene gebind is aan ‘n stel Bybelse reëls nie:  ‘Die Bybel sê seks is vir die huwelik en ons moenie dronk word nie (Hebreërs 13:4, Ef.5:18).  Ek is nie so outyds nie.  Ek is vry en kan drink soveel ek wil, en slaap met wie ek wil.’  Die feite is dat jy nie vry is nie, maar ‘n slaaf van jou sonde (Johannes 8:34).  Seks en drank is jou baas vir wie jy nie kán nee sê nie!  Daar is geen hoop solank as wat jy sonde doen en sê jy is vry nie (Johannes 8:33, 9:40, 1 Johannes 1:8, 10).  Om te sê jy is vry en kan sondig soos jy wil, is soos om te sê:  ‘Ek is vry en kan daarom weer ‘n slaaf word of tronk toe gaan.’  Dit maak nie sin nie.  Jy is nie vry om ‘n slaaf te wees nie.  Jesus het gekom om ons te bevry van sonde en nie vir sonde nie.

 

Leef jy in sonde, maar jy sê jy is ‘n Christen?  Jy bedrieg jouself en is ongered.  Jy is ‘n slaaf.  Die Bybel sê:  “Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?” (Romeine 6:16).

 

Haat jy jou sonde?  Stry en sukkel jy hard daarteen?  Moet jouself nie as ‘n slaaf etiketeer nie.  Christene wat met seks, drank, of homoseksualiteit versoek word, is nie egbreukers, dronkaards, of homoseksueles nie.  Dalk wás hulle dit voor hulle redding, maar hulle is dit nie meer nie (1 Korintiërs 6:9-11).  Jy is ‘n vry mens en hoéf nie te sondig nie.  Leef vry soos iemand wat saam met Christus gekruisig en opgewek is (Romeine 6:1-14, Galasiërs 5:1, 4:7).  As Jesus jou deur sy waarheid vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Johannes 8:32, 36).  Hy het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Johannes 3:8).  Sekerlik was Hy nie onsuksesvol nie.

 

God kan ‘n volk bevry wat vir 430 jaar onder die Farao’s se mag was (v.40).  Kan Hy dan nie iemand vry maak wat vir jare ‘n seks-, drank-, of dwelmslaaf was nie?  Johannes was ‘n vurige man wat seker ook ‘n probleem met woede gehad het.  Jesus noem hom en sy broer ‘die seuns van donder’ (Markus 3:17).  Hy het mense stilgemaak wat nie deel was van hulle groep nie (Lukas 9:49).  Hy wou vuur uit die hemel roep om die Samaritane te verbrand (Lukas 9:54).  Maar Jesus het hom verander.  Hy het van homself gepraat as die dissipel vir wie Jesus liefgehad het (Johannes 21:20, 24).  Dis byna of hy nie kon glo dat Jesus hóm kon liefhê nie.  Hy was teer en vol ontferming.  Hy het van die gelowiges gepraat as ‘my liewe kinders’.  Hy het hulle gedurig aangespoor om mekaar lief te hê (1 Johannes 3:18).

 

Oorwin jou sonde deur:

 

  • Die genade van Jesus in sy kruisdood: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe” (Titus 2:11-12).
  • Belydenis en bekering: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde… As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Johannes 1:7, 9). “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spreuke 28:13).
  • Die hulp van die Heilige Gees: “as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe.” (Romeine 8:13).
  • God se beloftes: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).
  • Die Bybel: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” (Psalm 119:11).

 

Hoekom is dit so belangrik dat jy reg moet dink oor die slawerny van sonde?  Want die gevolge is ewig.  As jy verkeerd dink verloor jy die hemel en is jou lot die hel.

 

Ek ken ‘n vrou wat verslaaf was aan heroïene.  Sy het R1000 per dag spandeer aan dwelms.  Sy was ‘n paar keer in die tronk hieroor; een keer vir ’n jaar.  Sy was ook in rehabilitasie sentrums.  Sy het een keer so ‘n swaar oordosis van heroïene gebruik dat haar vriende gedink het sy is dood.  Sy was selfs vir ‘n tyd ‘n prostituut om geld te kry vir dwelm.  Haar tande was so erg beskadig dat sy ‘n herkonstruksie moes kry.  Sielkundiges het vir haar gesê dat 2.5% van heroïen verslaafdes skoon kom, en dat sy daarvan sal doodgaan.

 

Op ‘n dag was haar begeerte vir die Bybel oorweldigend – sterker as haar lus vir dwelms.  Sy het vir ure gelees as haar ma werk toe gaan.  As haar ma daar was het sy skelm gelees.  Sy wou nie hê haar Christen-ma moes uitvind sy stel belang in die Bybel nie.  Sy het onder diep sonde oortuiging gekom en die Here het haar gered.  Sy het nooit weer teruggedraai na die dwelms toe nie.  Sy het uit ondervinding geleer dat daar in Jesus vryheid is vir slawe.