Verlore elemente in moderne aanbidding

Hillsong

C.S. Lewis het gesê dat ons blindekolle het wat ons net kan raaksien as ons boeke lees wat buite ons eie eeu geskryf is.  Een so ‘n blindekol raak aanbidding.  Die charismatiese invloed oor die afgelope honderd jaar het gemaak dat ons te familiêr geraak het met God.  Ons vrees Hom nie meer nie.  Ons weet nie meer wat dit beteken om voor te berei om Hom te ontmoet nie.  In die 1800’s nog het Christene ‘n verstaan van hierdie dinge gehad.

Hudson Taylor het soms in die nag opgestaan om te bid.  Hy sou nie gebid het, tensy hy nie eers sy hare gekam het nie.  Dit is hoe bewus hy van God se teenwoordigheid was.  Laasmaand het ‘n ou man my vertel van sy pa wat ‘n das en baadjie aangetrek het voor hy stiltetyd hou.  Dié dinge is miskien ‘n bietjie eksentriek, maar die ou Christene het iets gehad wat vandag ontbreek.  Hulle het die elemente van ware aanbidding in Eksodus 19 verstaan.

Voorbereiding (v.1-15)

Twee jaar gelede het ek by ‘n ou oom in Pretoria gekuier.  Hy het voorgestel dat ek elke lidmaat moet uitdaag om op ‘n Saterdagaand vir die preek te bid en hulle harte reg te kry vir die erediens.  ‘Kan jy jou indink watse verskil dit sal maak?’ het hy gevra.  In die ou dae het die susterskerke ‘n Saterdagaand voorbereidingsdiens gehad vir die nagmaal.  Voor dié diens het die ouderlinge elke lidmaat besoek, ondervra, en verslag gedoen aan die kerkraad.  So het hulle gesorg dat persone gereed is vir die nagmaal.  Gelowiges moet hulleself voor enige erediens voorberei en ondersoek.  Eksodus 19:1-15 illustreer dié belangrike beginsel.

Op die derde nuwemaan (die Jode werk volgens ‘n maankalender) nadat God hulle uit Egipte gered het, het die volk by Sinaï gekamp (v.1-2).  In 3:12 die Here vir Moses belowe:  “As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.”  Israel het vir 11 maande daar gekamp (Numeri 10:11-12).

Moses het op die berg geklim, en daar het God tot hom geroep (v.3, vgl. 3:4).  God het vir hom voorgeskryf wat hy vir die volk moes sê.  Hulle moes onthou hoe God die Egiptenare met die tien plae getref het, hoe Hy hulle in die Rooisee verdrink het.  As ‘n arend haar kleintjies leer om te vlieg, kom sy onder hulle in as hulle val.  So het God sy volk op arendsvlerke na Homself toe gebring (v.4).  “Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.” (Deuteronomium 32:11-12).

God se verloste volk moes Hom gehoorsaam en sy verbond hou (v.5).  Die verbond waarvan Hy praat is die Tien Gebooie (Deuteronomium 4:13).  Die Sabbat en die besnydenis is die tekens van die verbond (31:16, Genesis 17).  As Israel dié verbond gehou het, sou hulle God se spesiale en uitverkore eiendom gewees het uit al die volke; ‘n koninklike priesterdom en ‘n heilige volk (v.5-6).  Deur Jesus is gelowiges uit alle nasies God se spesiale eiendom, uitverkore en heilige volk, ‘n koninklike priesterdom (Efesiërs 1:18, Titus 2:14, 1 Petrus 2:9, Openbaring 5:9-10).

Toe Moses dié woorde met die volk gedeel het, het hulle belowe om die wet te hou (v.5-8, 24:3, 7).  God wou hê die volk moes glo dat Moses sý woorde praat.  Daarom sou God voor die uit ‘n dik wolk met Moses praat (v.9, vgl. Matteus 17:5).  God het gesê dat die volk hulle twee dae voor die tyd moes heilig en hulle klere moes was (v.10, 14, Genesis 35:2).  In die Nuwe Testament moet Jesus ons met sy bloed skoonwas, en moet ons heilige dade soos skoon klere wees (Openbaring 3:4-5, 7:14, 22:14).

Die volk moes nie met hulle vroue slaap nie (v.15, vgl. 1 Samuel 21:4-5).  Dis nie dat seks in die huwelik verkeerd is nie, maar dat seks deel was van die heidene se aanbidding.  God se volk moes anders wees.  Net so moet ons nie met die wêreld egbreuk pleeg nie, maar rein wees vir ons hemelse Bruidegom (Jakobus 4:4, Openbaring 14:4).  Daar is selfs tye wat ons onsself van seks in die huwelik moet onthou, sodat ons dié tyd kan wy aan gebed (1 Korintiërs 7:5).

In die ou dae het diensknegte die koning se koms met ‘n trompetgeskal aangekondig.  In Eksodus 19 sou Jahwe, die groot Koning, se koms met ‘n trompet aangekondig word.  Op die derde dag sou Hy met tien duisende engele op Sinaï neerdaal (v.11, 13, Deuteronomium 33:2).  Die volk kon nie sonder toestemming naby die berg gekom het nie.  God is heilig en daarom moes hulle die berg afbaken (3:5).  Indien ‘n mens of dier aan die berg geraak het, moes hulle so een stenig of met ‘n pyl doodskiet (vgl. 2 Samuel 6:6-7, Numeri 4:15).  Die volk moes nie aan dié mens of dier geraak het nie (v.12-13).

Ons moet onsself voorberei om God te aanbid.  Hoe moet ons dit doen?  Besef waarheen jy oppad is.  Jy kom nie bloot na ‘n gebou toe nie; jy kom om die lewende God te ontmoet (v.3).  Moet dan nie sê:  ‘Ek gaan nie vandag kerk toe nie,’ maar eerder, ‘Ek gaan nie vandag vir God aanbid nie.’

Moet ook nie jou aanbidding beperk tot Sondae nie, maar aanbid die Here met ‘n gehoorsame en heilige lewe (v.5, 14, Romeine 12:1).  As jy dít nie doen nie is jou aanbidding op ‘n Sondag nie vir God aanneemlik nie.  Die profeet sê:  “I cannot endure iniquity and solemn assembly.” (Jesaja 1:13, ESV).

Hier is nog ‘n paar riglyne:

  • Wees op die uitkyk vir Satan se versoekings op Saterdae en Sondae.  Hy sal al te bly wees om jou voor ‘n erediens te laat struikel.
  • Pasop dat jy nie voor kerk TV kyk en lelike dinge sien nie.
  • Moet ook nie voor kerk of oppad kerk toe in die kar baklei nie.
  • Moenie dat die koerantopskrifte jou negatief stem voor die erediens nie.
  • Bid op ‘n Saterdagaand vir jouself, ander gelowiges, en die preek.
  • Skakel in by ‘n biduurgroep voor die oggend- en aanddiens (09:00 en 17:30).
  • Omdat ek reekse deur Bybelboeke preek, kan jy raai watse teks ek volgende gaan preek.  Probeer om dié teks te lees voor jy Sondag kerk toe kom.
  • Bely alle sonde en bekeer jou daarvan.
  • Sorg dat jy op Saterdae goed rus, sodat jy nie op Sondae in die kerk slaap nie.  Probeer om nie te laat uit te bly op ‘n Saterdagaand nie.
  • Moenie gejaagd by die kerk aankom nie.  Probeer om op ‘n Saterdag jou kinders se klere reg te sit, om jou hoender en groente in ‘n oondbak te sit.
  • Moenie met onbeskeie kleredrag ander gelowiges se aandag aftrek nie.  Ons aandag moet op Jesus wees – nie op jou nie.
  • Maak jou huis skoon en doen jou inkopies op ‘n Saterdag.  Hoekom moet jy dit op ‘n Sondag doen en die erediens mis?
  • Probeer om nie op Sondae sportbyeenkomste of partytjies by te woon, sodat jy die erediens mis nie.
  • As jy vies is vir die predikant, probeer asseblief om dit in die week vir hom te sê en nie op ‘n Sondag net voor hy preek nie.

Hoekom moet ons die Here met ons hele wese aanbid?  Dit is die minste wat jy kan doen om Hom vir jou redding te dank (v.4).

Vrees (v.16-25)

In Calvyn se dae het die Libertyne in hulle Christelike vryheid geroem.  Hulle het gesê dat hulle vry is om rond te slaap.  Hulle het minnaresse gehad in elke stad.  Hulle definisie van Christelike gemeenskap was dat hulle alles moes deel – ook hulle liggame en vroue.  In 1553 het Calvyn geweier dat Berthelier (‘n Libertyn) die nagmaal gebruik.  Berthelier het vir Geneve se stadsraad gevra om die kerk se besluit te oorheers.

Calvyn het vir Viret geskryf:  ‘I…took an oath that I had resolved rather to meet death than profane so shamefully the Holy Supper of the Lord…I should rather die a hundred times than subject Christ to such foul mockery.’

D-dag het aangebreek.  Berthelier en die Libertyne was by die kerk.  Na die preek het Calvyn by die nagmaaltafel gaan staan.  Toe die molesmakers na die tafel toe storm, het hy sy arms om die tafel gegooi en uitgeroep:  ‘These hands you may crush, these arms you may lop off, my life you may take, my blood is yours, you may shed it; but you shall never force me to give holy things to the profaned, and dishonor the table of my God.’

Die kerk was doodstil.  Die ware gelowiges het toe die heilige nagmaal met vrees gevier, asof God self in hulle midde was.[1]  Soos die vorige element, het ook dié een tot ‘n groot mate verlore geraak in moderne aanbidding:  vrees vir God (v.16-25).

Op die derde dag was daar swaar donderweer, blitse, donker stormwolke, ‘n harde trompetgeskal, vuur en swart rook soos uit ‘n oond, en ‘n aardbewing (v.16-18).  Dit was so erg dat Moses en die volk gebewe het (v.16, Hebreërs 12:21).  Hierdie manifestasies kom ook in die Nuwe Testament voor.  ‘n Harde trompet sal gehoor word net voordat Jesus kom (1 Tessalonisense 4:16).  Jesus se stem sal nie net die aarde nie, maar die hemel laat dreun (Hebreërs 12:26).  God is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:29).  Oor sy teenwoordigheid in die hemel sê Openbaring 8:5:  “En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.”

Die trompetgeskal het harder en harder geword, totdat God vir Moses uit die dik wolk geantwoord het (v.19, 9).  God het nie deur drome en visioene met Moses gepraat nie, maar in ‘n hoorbare stem (Numeri 12:6-8).  In Johannes 12:28-30 het die Vader so met sy Seun gepraat:  “Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom:  Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.  En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het.  Ander het gesê:  ‘n Engel het met Hom gespreek.  Jesus antwoord en sê:  Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.”

God het op die berg neergedaal en Moses het opgeklim.  Moses was klein voor God (v.20).  God het gesê dat die volk en priesters nie na die berg toe moes deurbreek nie, want anders sou Hy teen hulle uitbreek en hulle doodmaak (v.21-25, vgl. 1 Samuel 6:19).  Moses moes vir Aäron heilig en hom teen die berg op bring (v.24, 22).  So wou God dit hê, want “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.” (Levitikus 10:3).

Ons moet die Here aanbid met vrees en bewing.  Jy sal dit nooit doen tot jy nie weet met Wié jy te doen het nie.  God is getrou en waaragtig (v.2, 5, 3:12), die Regter wat oor sy vyande oordeel (v.4), die Verlosser van sondaars (v.4), vol genade en ontferming (v.4), Here oor die nasies (v.5), ‘n soewereine God wat kies wie Hy wil (v.5), die Koning (v.6), heilig (v.10-15), skrikwekkend (v.16), almagtig en verhewe (v.16-20), toornig oor sondaars (v.12, 18).  Poog om Hom beter te ken deur die Skrif, gebed, en goeie Christelike boeke soos Om God te Ken (Knowing God) van J.I. Packer.  Om die Here met vrees en eerbied te aanbid, moet jy ook besef dat jy ‘n hulpelose sondaar is wat van stof en as gemaak is (Lukas 18:13, Genesis 18:27).

Dit lyk vir my of ons in ons liede, gebede, en preke te familiêr geraak het met God.  Dis asof Hy ons speelmaat is.  Sommige liede laat dit klink of Hy ons meisie of kêrel is.  Wanneer dit by moderne eredienste kom, heers disrespek vir God op elke vlak:

[1] Volgens Arthur Pink kan ons in eredienste die Skriflesing so aframmel, dat dit disrespekvol is.  In Nelspruit het ‘n klomp kerke besluit om binne 48 uur die Bybel deur te lees.  Elkeen moes vir 30 minute lees.  Ons het tafels in die mall opgeslaan en begin lees.  Ons het blitsvinnig gelees om die teiken te haal.  Vandag kry ek skaam dat ek deel was van so iets.  Dit was nie opbouend nie.  Dit was disrespekvol en het geen vrees vir God of sy Woord gewys nie.  “Maar op hierdie een sal Ek let:  op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”(Jesaja 66:2).

[2] Moderne ‘worship’ CD’s (soos Hillsong en Jesus Culture) en die gemiddelde charismatiese erediens skep hoegenaamd nie ‘n atmosfeer van vrees, eerbied en respek vir God nie.  Mense raak verlore in ‘n breinlose vervoering (‘trance’), spring, raas, skreeu, en dans.  Is dit wat ons in die hemel voor die heilige en heerlike God sal doen?  By jeug- en Sondagskoolbyeenkomste word daar lawwe liedjies gesing (‘Father Abraham had many sons’) waarin vrees vir God ontbreek.  Selfs as die woorde opbouend was, sing die kinders dit so vinnig dat dit beter in ‘n kroeg sal pas, as by ‘n Christelike byeenkoms.

[3] Hoe ons God in gebed aanspreek kan ook disrespekvol wees.  Ons kan uit gewoonte gesê:  ‘Dankie Here vir hierdie lekker dag…’  Of ons kan selfs buddy-buddy met God wees en sê:  ‘Yes dad!’ of ‘Jesus, U is so cool…’

Pasop ook vir die teendeel.  Moenie dink dat ‘n pyporrel en simfonie orkes, of die regte woorde in gebed outomaties beteken jy vrees God nie.  Moet ook nie dink dat instrumente soos kitare of dromme disrespek wys nie (vgl. Psalm 150).  As jy God in jou hart nie vrees nie, beteken jou aanbidding niks.

Dalk dink jy dat vrees en eerbied gegeld het vir die Ou Testament, en dat Jesus dinge kom verander het in die Nuwe Testament.  Dit ís so dat jy nie meer op ‘n afstand hoef te staan nie.  Ja, jy hoef nie bang te wees om na die ‘berg’ toe te kom nie.  Deur Jesus se kruisdood kan jy met vrymoedigheid tot God nader (Hebreërs 10:19-22).  Dit skakel egter nie vrees en eerbied vir God uit nie.  In Hebreërs 12:18-29 staan daar:

“Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie—want hulle kon die gebod nie verdra nie:  selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word.  En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê:  Ek is verskrik en ek sidder.  Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.  Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê:  Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.  En hierdie woord:  nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.  Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.  Want onse God is ‘n verterende vuur.”

Hoekom moet ons God met vrees en bewing aanbid?  Die antwoord is maklik:  God is in die hemel en jy is op die aarde.

Toe ek ‘n student was het ‘n ou tannie by die Cornelia Paaskamp met die jong mense geraas, omdat ons denims, kortbroeke, t-hemde, en tekkies aangetrek het kerk toe.  Haar redenasie was:  ‘Jy sal nie so aantrek as jy die president gaan ontmoet of in die hof moet verskyn nie.’  Ons het gedink sy is outyds.  Ek dink nogsteeds dat sy nie die detail reg gehad het nie.  Maar sy het iets verstaan wat verlore geraak het in moderne aanbidding:  ons moet God vrees en onsself voorberei om met Hom te ontmoet.

[1] John Piper se audio-biografie oor die lewe van Calvyn.  Verkrygbaar by www.desiringGod.org

Advertisements

Xenofobie en xenofilie in die Bybel

Xenophobia

Die onlangse xenofobiese aanvalle is ‘n herhaling van wat ‘n paar jaar gelede gebeur het.  Die woord ‘xenofobie’ kom van twee Griekse woorde wat ‘vreemdeling’ (xenos) en ‘vrees’ (phobos) beteken.  Jy sal deur ‘n blanke woonbuurt ry en veilig voel.  As jy egter deur ‘n swart woonbuurt ry sluit jy jou kar se deure.  Toe ek op skool was het ek en my pa een middag gehardloop om Checkers oop te vang.  Twee Venda seuntjies het in die gang gesit.  Toe hulle ons sien aankom het hulle ‘Makhuwa!’ (‘wit man!’) geroep en vir hulle lewens gehardloop.

Xenofilie is die teenoorgestelde van xenofobie.  Dit kom van twee Griekse woorde wat ‘liefde’ (phileo) en ‘vreemdeling’ (xenos) beteken.  Terwyl xenofobie algemeen onder ongelowiges voorkom, is xenofilie ‘n Skriftuurlike opdrag aan Christene.  In Eksodus 17:8-18:27 lees ons van beide.

Xenofobie (hfst.17)

Abdul, ‘n Bangladeshi, maak ‘n klein kafee oop in sentraal Kempton Park.  In Bangladesh kos ‘n blikkie Coke R4.  Hier verkoop hy dit vir R6.  Ander Suid-Afrikaanse winkels verkoop dit vir R8 en kan nie met sý pryse vergelyk nie.  Suid-Afrikaanse winkeleienaars in die omgewing is kwaad omdat húlle kliënte nou by sý winkel koop.  Gevolglik plunder hulle sy winkel en rand hulle hom aan.  Dít is die huidige prent van xenofobie in Suid-Afrika.  In Eksodus 17 het ons ‘n soortgelyke prentjie.

Amalek was een van die sterkste nasies op aarde (Numeri 24:20).  Hulle was uit Esau se nageslag (Genesis 36:12).  Dit was seker oor die oase naby Kades wat hulle met Israel kom veg het (v.8).  Vegtery oor water in die woestyn is algemeen (Genesis 26:17-22).  Amalek se aanval op Israel was ook die Here se tug vir die volk se murmurering in v.7.

Josua moes troepe kies om teen Amalek te gaan veg.  Moses sou sy staf neem en saam met Aäron en Hur teen die berg opklim (v.9-10, 24:13-14).  Hur was Kaleb se seun en Besaleël – die man wat die tabernakel se meubels gemaak het – se oupa (31:2, 1 Kronieke 2:19-20).  Terwyl Moses sy staf opgehou het, het Israel die oorhand gehad.  As hy sy moeë arms laat sak het, het Amalek die oorhand gekry.  Dít het vir die volk gewys dat hulle hoop op ‘n oowinning in God lê, en nie in hulle eie krag nie (v.11).  Moses se hande wat na die hemel uitgestrek was, was simbolies van gebed (9:33, 1 Timoteus 2:8).  Omdat sy hande moeg geword het, het Aäron en Hur dit opgehou totdat die son gesak het en Israel hulle vyande verslaan het (v.12-13).

Moses moes dié oorwinning in ‘n boek opteken, sodat Josua kon onthou om vir Amalek uit te wis (v.14, 24:4, Numeri 21:14).  In Deuteronomium 25:17-19 het die Here deur Moses gesê:  “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.  As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.”

Die Here het later vir koning Saul beveel om die Amalekiete uit te wis, maar hy was ongehoorsaam (1 Samuel 15:2-3).  In 1 Samuel 30:1-5, 16-17 het Dawid teen hulle baklei.  In 1 Kronieke 4:42-43 het die Simeoniete ‘n oorblyfsel van die Amalekiete verslaan, en in Ester 3:1 lees ons van die laaste van Agag – die koning van Amalek in 1 Samuel 15:32 – se nasate.

Ná die oorlog met Amalek het Moses ‘n altaar gebou en gesê dat die Here Israel se oorlogbanier is.  God sou vir baie geslagte lank teen Amalek oorlog maak, omdat hulle hul hand teen sy troon opgelig het (v.15-16).

As Christene moet ons xenofobie verwag.  Dit is nou wel vreemdelinge wat uit ons land verdryf word, maar dit sal nie lank wees voordat die wêreld jou as ‘n vreemdeling op die aarde sal verdryf nie.  In 1 Petrus 1:1, 2:11 praat die Skrif van ons as vreemdelinge en bywoners op die aarde.  Jesus het gesê:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.  As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.  Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het:  ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie.  As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.  As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”(Johannes 15:18-20).

As jy nie soos húlle is nie, sal die wêreld sal jou uitskuif, spot, haat, aanval, en doodmaak.  Om guns te wen sal hulle selfs met bedrieglikheid in die kerk inkom – moenie aan hulle toegee nie.  “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Matteus 24:24).

Jy moenie en kán nie met die swaard die wêreld oorwin nie.  Hou aan om in Jesus en sy Woord te glo as jy die wêreld se versoekings wil weerstaan (v.12, 1 Johannes 2:15-16).  Dit is wat die Bybel ons beveel.  “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.  En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 24:9-13).  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Johannes 5:4-5).

Soos wat God vir Israel geveg het, sal Hy vir jou veg en die wêreld oorwin (v.16).  Deur sy kruisdood het Jesus reeds die wêreld en die owerste daarvan (die duiwel) oorwin (Johannes 12:31, 16:33).  Terwyl ons in hierdie wêreld is, sal God ons teen die bose bewaar (Johannes 17:14-16).  “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Johannes 4:4).

God gaan hierdie wêreld oordeel.  Hy het sy Seun gestuur om die wêreld te red (Johannes 3:16-17).  Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; die Lig van die wêreld (Johannes 1:29, 8:12).  Jesus stuur ons nou in die wêreld in om sy ligdraers te wees (Johannes 17:18).

Hoekom moet ons haat van die wêreld af verwag?  As jy dit nié verwag nie, sal jy verras en geskok wees wanneer dit kom.  Daarom waarsku 1 Johannes 3:13:  “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.”

Xenofilie (hfst.18)

Tydens een vakansie het ons by ‘n Sweedse man en Koreaanse vrou gaan kuier.  Hulle het vir ons die lekkerste kos voorgesit en ons baie hartlik ontvang.  Hulle was gasvry, spraaksaam, en het saam met ons gebid.  Hulle was lief vir die ‘vreemdelinge’ in hulle huis – al het hulle ons van geen kant af geken nie.  Die Skrif sê:  “Die broederliefde moet bly.  Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” (Hebreërs 13:1-2).

Dit is presies wat God en sy volk in hfst.18 met Jetro gedoen het.  Alhoewel hy ‘n Midianiet was, het die volk hom vriendelik ontvang, en het die Here hom gered.  Jetro was ‘n heidense priester (v.1).  Hy het gehoor wat God vir sy volk gedoen het (v.1).  Hy het Moses se vrou en seuns vir hom teruggebring (v.1-4).  Moses het hulle waarskynlik ná die episode in 4:24-26 vir Jetro gestuur om veilig te wees.

Hfst.18 se gebeure vind plaas ná hfst.19-20.  Ons weet dit omdat Moses en die volk volgens 18:5 reeds by Sinaï kamp opgeslaan het, en omdat hulle reeds die wet ontvang het (v.16, 20).  Die rede hoekom hfst.18 na hfst.17 geplaas word, is omdat Jetro in kontras gestel word met Amalek en Israel.  In hfst.17 kla die volk, en in hfst.18 prys ‘n heiden die God van Israel (vgl. Matteus 8:10).  In hfst.17 val slegte heidene vir Israel aan, en in hfst.18 help ‘n goeie heiden vir Israel.  In hfst.7-17 red God gedurig sy volk.  In hfst.18 eindig God se redding op ‘n hoogtepunt as Hy ‘n heiden red.

Moses het respek gehad vir sy skoonpa.  Hy het hom op die tipiese Midde-Oosterse manier gegroet:  hy het gebuig, hom gesoen, gevra hoe dit gaan, en hom in sy tent ingenooi (v.6-8).  Hy het vir Jetro vertel hoe die Here die plae gestuur het, die Rooisee oopgekloof het, vir sy volk manna, kwartels, en water gegee het, en die Amalekiete verslaan het.  Jetro het God geprys as die grootste God onder al die gode (Psalm 95:3).  Hy het dié belydenis met ‘n offer verseël en ‘n verbondsete saam met Moses, Aäron, en die ouderlinge van Israel gehad (v.8-12, vgl. 24:11, Genesis 31:54).

Die volgende oggend het Jetro gesien hoe Moses die hele dag moes sit om die volk se probleme aan te hoor en uit te sorteer.  Hy het vir Moses gesê dat hy homself én die volk op dié manier sou uitput.  Hy kon nie alleen ‘n hele volk se probleme aanhoor nie, en die volk kon nie die hele dag in die son staan met net een ‘toonbank wat oop is nie’ (v.13-18).  Hy moes leiers oor ‘n 1000, 100, 50, en 10 aanstel om hom te help.  Die leiers moes manne wees wat nie mense gevrees het of omkoopgeld sou vat om so die gereg te verdraai nie.  Hulle moes God vrees en betroubaar wees.  Moses kon dan die groot sake hanteer (v.19-26, 12, vgl. Handelinge 6:3).  Toe Moses dit klaar gedoen het, het Jetro teruggegaan Midian toe (v.27).

Soos God en Moses moet ons vreemdelinge liefhê (xenofilie).  Ek wil by jou aandring om moeite te doen met mense wat die kerk besoek – veral met predikers, sendelinge, en gelowiges van ander kerke of lande.  Groet hulle vriendelik en gesels met hulle.  Dink hoe jy sou voel as jy by ‘n vreemde kerk was, en niemand jou kom groet het nie.  Wees ook bereid om arm predikers en Christene van vreemde kerke finansieel te ondersteun.

Stel jou huis oop vir tee en etes.  Wees bereid dat gelowige vriende, familie, en vreemdelinge by jou huis oorbly:  “streef na gasvryheid” (Romeine 12:13).  Moenie net met jou gaste kuier, saam TV kyk en braai nie, maar bid en lees ook saam met hulle, vertel van God se groot werke in jou gesin, en nooi hulle saam kerk toe (v.8, 12).  Mense sê dikwels vir my:  ‘Ons sal nie Sondag in die kerk wees nie – ons kry familie.’

Daar is ‘n sekere sin waarin skoonfamilie ‘vreemdelinge’ is wat jou familie van buite af binnedring.  In dié hoosfstuk leer ons lesse oor hoe om liefde aan dié ‘vreemdelinge’ te betoon.

  • Jetro het erken dat sy dogter en kleinkinders eerste Móses s’n is, voordat hulle sýne is:  die huwelik is ‘n hegter verhouding as ‘n pa-dogter of oupa-kleinseun verhouding (v.2-6).  Moenie jou skoonkind se plek wil inneem nie.  Jou kinders staan nie meer onder jou gesag nie, maar het een geword met jou skoonkind (Genesis 2:24).
  • Respekteer mekaar (v.7).
  • Stel belang in mekaar se lewens (v.7).
  • Stel julle huise oop vir mekaar (v.7).  Moenie kla omdat jy hulle nie eintlik by jou huis wil hê nie:  “Wees gasvry [teenoor] mekaar sonder om te murmureer.” (1 Petrus 4:9).
  • Hou saam huisgodsdiens (v.8-12).
  • Wees besorg as jy sien dat jou skoonfamilie ‘n verkeerde rigting inslaan (v.18).  Wys hulle foute op ‘n sagmoedige wyse uit (v.17).  Wees nederig genoeg om die raad te aanvaar (v.24).

Hoekom moet ons vreemdelinge liefhê?  Twee redes staan uit:

[1] Jy was ‘n vreemdeling toe God in liefde na jou toe uitgereik het.  “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.” (23:9).  “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.” (Deuteronomium 10:19).

“[onthou] dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus… So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2:12-13, 19).

[2] As ons vreemde gelowiges ontvang en liefhet, het ons Jesus lief:  “Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee… wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee…?  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:35, 40).

Hoe voel jy oor ons land:  oor die misdaad, korrupsie, Nkandla, standbeelde wat geskend word, die xenofobiese aanvalle?  Mag al hierdie dinge – veral die laasgenoemde – ons herinner dat ons vreemdelinge op die aarde is (Filippense 3:20, Hebreërs 11:10, 13-16).  Hierdie wildernis is nie ons tuiste nie; ons is oppad na die Beloofde Land toe.

Die enigste oplossing vir sonde in die kerk

Sorrow for sin

Elsie se hand voel dood.  Die dokter het haar ingespuit, salf en medisyne vir haar gegee, en gesê sy moet haar hand vir ses weke nie gebruik nie.  Elsie het gedink sy is slimmer as die dokter:  sy het tennis gespeel en het vergeet om haar salf aan te smeer.  Ses weke later het haar hand swart geword.  Om te keer dat die probleem verder versprei, moes die dokter haar hand afsit.  Net so moet ons nie slimmer probeer wees as Jesus nie.  Ons moenie sy tugopdrag minag, sodat ons ‘n duisend ander oplossings vir sonde in die kerk soek nie.  Die beste is eenvoudig om te doen wat Hy in 1 Korintiërs 5:1-13 voorskryf.

Hoekom moet ons tug toepas? (v.1-2, 6-8)

Die wêreld verlekker hulle oor sonde in die kerk, en beskou dit as ‘n lisensie vir hulle eie sonde.  Ons het onlangs gesien hoe hulle prof. Piet Strauss en ds. Solly Ozrovech se sonde uitgewys het.  Dit is tragies dat die wêreld die kerk se sonde in die media moet uitwys, terwyl die kerk dikwels die sonde in haar midde verskoon:  ‘Ons veroordeel niemand nie.’  Dis presies waarteen Paulus in v.1-2 praat.

Die Korintiërs het die man se sonde onder die mat ingevee.  Paulus moes by Chloë se mense hiervan hoor (v.1, 1:11).  ‘n Man in die kerk het sy pa se vrou gevat (sy stiefma) en in seksuele sonde met haar geleef (v.1).  Seksuele sonde was algemeen in die stad, maar so iets was nie eers in die wêreld aanvaarbaar nie.  Reeds in die Ou Testament het die Here gesê:  “Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die kombers van sy vader opgelig” (Deuteronomium 27:20).  Dit is skandelik dat die Korintiërs geroem het dat hulle verdraagsaam en liefdevol was (v.2).  Hulle moes eerder getreur het dat ‘n lid uit die gemeente verwyder gaan word (v.2).  Ek is bly om te sê dat hulle later ag gegee het op Paulus se brief, en getreur het:

“Want, al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer.  Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir ‘n kort tydjie, julle bedroef gemaak het.  Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie.” (2 Korintiërs 7:8-9).

My vrou bak byna elke aand brood.  Vir elke 4 koppies meel gebruik sy een en ‘n half teelepels gis.  Dié bietjie gis deurtrek die hele deeg, sodat dit ruis.  Dis die prentjie in v.6-8.  Soos deeg wat ruis was die Korintiërs opgeblase met hoogmoed.  Soos ‘n bietjie suurdeeg ‘n hele deeg deurtrek, het hulle nie besef dat een man se sonde die hele kerk kon besmet nie (v.6).  “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (15:33).  Hulle moes die ou suurdeeg van sonde uit hulle midde verwyder, en lewe as mense wat skoongewas is (v.7, 6:11).  Christus is immers as hulle paaslam geslag, en het deur sy kruisdood die suurdeeg van sonde verwyder (v.7, 1 Petrus 1:19, Eksodus 12:19).

Ons moenie die sonde koester waarvoor Hy gesterf het nie.  Ons moenie die fees van verlossing vier met die suurdeeg van boosheid in ons harte of in die kerk nie.  Laat ons eerder opreg wees (v.8).  Daar moet ook nie die suurdeeg van vals lering of skynheiligheid in ons midde wees nie (Lukas 12:1, Matteus 16:6, 12, Markus 8:15, Galasiërs 5:9).

Hoe moet ons tug toepas? (v.3-5, 9-13)

In my vriend se gemeente moes hulle onlangs ‘n immorele man deur kerktug aan die duiwel oorhandig (v.5).  Die man het hom 18 maande later bekeer.  In sy belydenis voor die kerk het hy getuig hoe hy in hierdie tyd nie kon loop, werk, reguit sinne praat, sien, slaap, of logies dink nie.  Dit het met hom gebeur soos wat Paulus in v.3-5 beskryf.

Paulus was nou wel nie liggaamlik by die gemeente teenwoordig nie, maar hy was in die gees daar (v.3).  Dit het niks te doen met transendentale meditasie nie.  Hy bedoel eenvoudig dat hy na hulle verlang, en hulle in sy gebede onthou het; dat sy hart met hulle was (1 Tessalonisense 2:17).  Met die apostoliese gesag wat hy van die Here ontvang het (2 Korintiërs 13:10), het hy reeds die man se sonde geoordeel (v.3).  Die kerk moes, wanneer hulle in Jesus se Naam en met sy gesag vergader het, die man deur kerktug aan die Satan oorlewer (v.4-5, vgl. 1 Timoteus 1:20).  Dit is wat Jesus in Matteus 18:17-18 bedoel het:

“En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.  Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

Wanneer ‘n persoon deur tug van die kerk afgesny word, beskou ons hom as ‘n ongelowige (‘n heiden en ‘n tollenaar).  Wanneer die kerk iemand op aarde tug (op die aarde bind), doen ons dit met God se goedkeuring.  Dié persoon is dus ook onder God se tug (in die hemel gebind).  Indien die persoon hom of haar bekeer en weer in die kerk verwelkom word (op die aarde ontbind), doen ons dit met die goedkeuring van God wat sy hand van tugtiging lig (in die hemel ontbind).

Wat beteken dit om iemand aan Satan oor te lewer (v.5)?  Satan heers oor die bose mense van hierdie wêreld (1 Johannes 5:19, Handelinge 26:18).  As God iemand aan Satan oorlewer, gee Hy vir die duiwel toestemming om so ‘n persoon met siekte en rampe te teister (Job 1:12, 2:6).  Die persoon se liggaam en sondige vlees word vernietig, sodat sy gees gered kan word op die oordeelsdag (v.5).  Met ander woorde, die persoon sal na ernstige siekte van sy sonde af wegdraai en terugkeer na die kerk toe.  Dis Paulus se punt in 11:30-32:

“Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.  Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.  Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”  Dis amper soos ‘n kind wat die pyn van pakslae moet voel, sodat jy sy lewe kan red van die dood (Spreuke 23:14).

Toe die stigter van die ABK (J.D. Odendaal I) gedoop is, het sy vrou se ds. vir haar gesê sy moet geen genade met hom hê nie.  Volgens die geskiedenis het sy vir sewe jaar nie met hom gepraat nie.  Sy het hom in die oggend en aand gegroet en vir hom kos gemaak.  Tog het hulle in dié tyd vyf kinders gehad![1]

Dis nie wat Paulus in v.9-13 bedoel het nie.  Anders as sy vrou, het Odendaal nader gekom om hierdie verse uit te voer in die eerste Afrikaanse Baptistekerk te Cornelia.  Die kerk het getrou die tug toegepas en niemand voorgetrek nie.  ‘n Aantal van Odendaal se familielede en sy medeleraar (ds. Steyn) is van die gemeente afgesny, omdat hulle volhard het in sonde.  Lede van die kerk sou nie die nagmaal met sulkes vier, hulle vir die nag ontvang, of saam met hulle huisgodsdiens hou nie.[2]  Alhoewel ek nie heeltemal met die laaste optrede saamstem nie, dink ek dat hulle dit in die algemeen reg gedoen het.

Paulus het in ‘n vorige brief vir die Korintiërs gesê om nie met onsedelike mense te meng nie (v.9).  Hulle het hom egter misverstaan.  Hy het nie bedoel dat hulle nie met ongelowiges moet meng nie (v.9-10).  Jesus het met sulke mense geëet om hulle vir die evangelie te wen, en ons moet ook (10:27, Lukas 5:30, 19:7).  As ons hulle wil vermy sal ons uit die wêreld moet uitgaan.  Nee.  Alhoewel ons nie van die wêreld is nie, is ons in die wêreld (Johannes 17:15).

Paulus se bedoeling was eerder dat ons nie met mense moet meng wat hulself Christene noem, en so lewe nie (v.11).  Ons moenie eers saam met so iemand eet nie:  nie in die nagmaal nie, en ook nie in Christelike gemeenskap nie (v.11, 8, hfst.11).  Vermy dié persoon, sodat hy kan skaam word en na die Here toe sal terugdraai.  Die Skrif sê:

  • “laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matteus 18:17b).
  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Romeine 16:17).
  • “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korintiërs 6:14-15).
  • “hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.” (Efesiërs 5:11).
  • “Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie… En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word.“ (2 Tessalonisense 3:6, 14).
  • “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.  Keer jou ook van hierdie mense af.” (2 Timoteus 3:5).
  • “Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning” (Titus 3:10).

‘n Jaar of meer gelede het ‘n vriend my gebel en gevra of hy dié maatreëls (v.11) met sy pa moet toepas?  Wanneer dit by familielede kom wat onder tug is, moet ons nie maak asof hulle medegelowiges is nie.  Tog wil die Here hê dat ons ons normale familieverpligtinge teenoor hulle moet nakom (1 Petrus 3:1, 1 Timoteus 5:8).

Deur dissipline moet die kerk oor haar lede oordeel.  God sal deur die gereg oordeel oor dié wat buite is (ongelowiges, 6:1-4, vgl. Markus 4:11).  Hy sal ook finaal oor die wêreld oordeel (v.12-13).  Die kerk moes dus deur tug die bose man uit hulle midde verwyder het (v.13, vgl. Deuteronomium 17:7).

Hoe moet ons hierdie hoofstuk toepas?

Ons moet mense uit die kerk verwyder as hulle ernstig sondig of in sonde volhard (v.2, 5, 7, 13).  Hoe weet ons wanneer om hierdie laaste stap te neem?

[1] Ons moet dié stap neem as iemand se algemene lewenspatroon soos die wêreld s’n lyk; as iemand meer na sonde neig as na bekering.  As jong mense vir die eerste keer in seksuele sonde verval, ‘n skuldige gewete het en die sonde bely, en ware berou toon, hoef ons hulle nie dadelik uit die kerk te verwyder nie.  As hulle egter vir die vierde keer gevang is en net jammer sê omdat hulle uitgevang is, is dit ‘n ander storie.  Hulle lewe soos ongelowiges en wys daardeur dat hulle nie waarlik deel is van die kerk nie.  Ons moet hulle ook so beskou deur hulle onmiddellik uit die gemeente te verwyder (Matteus 18:17b).

[2] Party mense se dade is so erg, dat ons dit nie van ‘n gelowige verwag nie:  seks met jou stiefma, betrokkenheid in ‘n rooftog, om deel te wees van ‘n seksuele orgie.  So iemand moet dadelik beskou word as ‘n ongelowige, en van die kerk afgesny word (v.2).  Dalk wil jy beswaar aanteken en sê:  ‘Daar bestaan nie iets soos groot en klein sonde nie.’  Sê wie?  Hoekom verdien moord dan die doodstraf en diefstal nie?  Jesus self het gesê dat daar groot en klein sonde is:  “Jesus antwoord:  U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.  Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” (Johannes 19:11).

[3] As die sonde openlik bekend is en die wêreld dit gebruik om teen Jesus en die kerk te spot, moet ons die persoon dadelik uit ons midde verwyder (v.1-2).

In ander gevalle hoef ons nie dadelik die sondaar uit ons midde te verwyder nie.  In ‘normale’ omstandighede volg ons Matteus 18:15-17:  “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.  En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”

Ons moenie tug nalaat omdat ons sondaars ‘liefhet’ en niemand wil ‘oordeel’ nie (v.2).  Is dit liefde om ‘n blinde man te los wat na ‘n afgrond toe loop, ‘n baba wat by ‘n oop swembad speel?  Tug is liefde (Hebreërs 12:6).

Ons moet sorg dat ons die regte gesindheid het wanneer ons tug toepas.  Ons moet die oortreder liefhê, sagmoedig wees, God vrees, en die persoon se sonde haat; moenie hiper-krities en hoogmoedig wees dat jy dink jý sal nie so sondig nie (v.2, Matteus 7:1-5, Galasiërs 6:1-3, Judas 23).

Wat moet ons doen as iemand erg gesondig het en ware berou toon?  Ons moet eerste toets of die persoon se berou eg is.  Vra vir die persoon hoekom hy of sy jammer is?  Haat hulle die tug, skuldgevoelens, of ander gevolge van hulle optrede?  Bely hulle gewoonlik die sonde nádat hulle uitgevang is?  Verskoon hulle die sonde en blammeer hulle ander?  Hou hulle inligting terug wat eers later uitkom?  Óf is daar bekering van die sonde?  Het hulle berou omdat hulle sonde God se Naam skade aandoen?  Vra hulle raad oor hoe om te verander?  Is hulle kwaad vir hulleself?  Is hulle bang om weer te sondig?

“Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).

‘n Persoon wat ware berou toon en die vrug van bekering dra, moet openlik herstel word en weer toegelaat word tot die nagmaaltafel.  “Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie.  Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.” (2 Korintiërs 2:6-8).

Hoekom moet ons mense wat in sonde volhard van die gemeente afsny?  Ons kan nie die wêreld wen as ons sonde onder die mat invee en self nie in die lig lewe nie.  As ons sonde los, sal die res van die gemeente daardeur besmet word, net soos wat een vrot appel die res laat vrot word (v.6).  As ons sonde in ons midde koester en verdra, sal die Here die hele kerk tugtig (Openbaring 2:20-23).  Ons hoef nie bang te wees om tug toe te pas nie.  As ons dit reg doen keur die Here dit goed (Matteus 18:19-20).  Die kerk sal nie ondergaan omdat ons tug toepas nie.  Die Here sal dit eer en sy kerk laat groei (Handelinge 5:14, 1 Samuel 2:30).

Sommige Christen ouers dink dit is wreed om vir kinders pak te gee.  Hulle sal eerder vir hulle kinders pille gee, die i-pad wegvat, die kind in die kamer laat sit, of hom met lekkers en geld omkoop.  Die kind bly rebels en die ouers is gefrustreerd.  As hulle maar net die Bybelse opdrag konstant en met liefde toegepas het.  Dieselfde is waar met betrekking tot sonde in die kerk:  baie mense vermy kerktug en soek na ander oplossings.  Maar God se oplossing is duidelik.

[1] Dr. J.D. Odendaal III, So het God ons Skredes gelei, p.15

[2] Ibid, pp.24, 26

God se goedheid en die mens se ondankbaarheid

Grumbling kid

Kom ek vertel jou van twee mans.  As ek met die een praat sê hy:  ‘Dit help nie om te kla nie.’  En dan begin hy.  Hy kla van begin tot einde.  Dit is so erg dat mense al gesê het:  ‘Ek kuier nie weer by hom nie.’  ‘n Ander man sê weer:  ‘Ek het niks om oor te kla nie,’ en dan vertel hy jou van die Here se goedheid.  Toe my foon gesteel is het hy my gebel en gesê:  ‘Ek hoor jou foon is gesteel; ek stuur vir jou ‘n ander een.’  Toe ek die foon kry toe bel ek hom om dankie te sê.  Sy reaksie was:  ‘Dit lyk my jy ken nie jou Bybel nie:  jy moet vir die Here dankie sê – nie vir my nie.’  So moet ons ook wees.  Moenie ondankbaar wees soos Israel was in Eksodus 15:22-17:7 nie.

God se voorsiening in Sur (hfst.15)

Was jy al in ‘n dorp waar die water ondrinkbaar was?  Het jy al yskoue soet bergwater geproe?  In Parys is die water so sleg dat jy nie uit die krane kan drink nie, maar by SPAR water moet koop.  Jy sal siek word as jy die kraanwater drink.  Toe ek op skool was het ons in die Soutpansberge gaan stap.  Daar het ek yskoue soet bergwater gedrink.  Israel het van beide gesmaak toe hulle in die woestyn was.

Die volk het van die Rooisee af na die Sur-woestyn toe getrek.  Na drie dae in die woestyn het hulle niks water gehad nie (15:22).  Toe hulle uiteindelik by Mara aankom, was hulle harte bitter oor die bitter water daar (15:23).  Hulle moes gebid het, maar het aanhoudend gekla (15:24, 16:2, 7-9, 11, 17:3).

Moses het die Here aangeroep.  God het vir hom ‘n stomp gewys wat hy toe in die water gegooi het, sodat dit in soet water verander het (15:25, vgl. 2 Konings 2:21, 4:41).  God het aanvanklik bitter water gegee, omdat Hy die volk se vertroue en gehoorsaamheid wou toets (15:25-26, 16:4).  Moses skryf later:

“En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie… wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronomium 8:2, 16).

God sou die volk en hulle bitter water genees as hulle na Hom sou luister (15:25-26).  “En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.” (23:25).  “wat al jou krankhede genees” (Psalm 103:3).

God het die volk na Elim toe gelei waar daar 70 palmbome met koelte, en baie water was (15:27).  Daar was twaalf fonteine:  een vir elkeen van die twaalf stamme.

God se voorsiening in Sin (hfst.16)

Ons het Maandag by ‘n afgetrede predikant en sy vrou gaan kuier.  Hulle het vir 40 jaar nooit ‘n salaris gekry nie.  In die kerke waar hulle bedien het, het hulle nooit ‘n offergawe opgeneem nie.  Hulle getuig dat die Here hulle nooit in die steek gelaat het nie.

Toe hulle dogter 5 word, wou sy ‘n partytjie hê.  Sy het nie geweet dat daar nie geld is nie en het sommer ‘n klomp mense in die buurt uitgenooi.  Haar ma het nie koekbestandele gehad nie en was bekommerd.  Sy het gebid en gevra dat die Here moes help.  Toe sy die volgende oggend opstaan toe is daar ‘n pakkie met koekbestandele op die koffietafel.  Sy weet tot vandag toe nie hoe dit daar gekom het nie.  Kan jy sulke stories vertel?  Israel kon.  God het vir 40 jaar in die woestyn gesorg dat hulle kos en water het.

Die volk het Elim verlaat en na die Sin-woestyn toe getrek (16:1).  Hulle was nou al ‘n maand uit Egipte weg (16:1, 12:6).  Waar het 3 miljoen mense vir ‘n maand kos gekry?  Het hulle melk, kaas, vleis geëet?  God het vir hulle gesorg.  Hulle het kastig onthou dat hulle lekker brood en vleis wat hulle in Egipte gehad het (16:2-3).  “Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.” (Numeri 11:5).  Hulle het maar ‘n kort geheue gehad; hulle het kos en dood bo vryheid gekies (16:3).

God was geduldig met die volk en het belowe om vir hulle brood en vleis te gee (16:4, Psalm 78:24-25).  Hulle sou elke dag kos hê en twee keer soveel op Vrydae, sodat hulle op die Sabbat kon rus (16:4-5).  Hulle moes leer om te glo dat die Here elke dag vir hulle sou sorg.  In die aand sou hulle kwartels hê en in die oggend manna.  So het God gewys dat hy die verheerlikte Een is wat hulle uit Egipte uitgelei het (16:6-7, 10-11).  Die volk moes verstaan dat hulle klagtes nie teen Moses was nie, maar teen God (16:7-9).  “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Lukas 10:16).

God het ‘n oostewind gestuur om die kwartels te bring (16:13, Psalm 78:26-27, Numeri 11:31).  Dit is ‘n bekende feit dat kwartels oor die Sinaï-skiereiland trek.  Hulle vlieg laag en rus wanneer die son sak.  Teen dié tyd is hulle baie moeg en kan ‘n klein kind hulle met die hand vang.

Die manna[1] was brood uit die hemel wat saam met die dou op die grond geval het (16:13-15, Deuteronomium 8:3).  Dit was wit soos koljandersaad, het gelyk soos balsemgom, en het gesmaak soos heuning en vetkoek (16:31, Numeri 11:7-8).  Elkeen het daagliks omtrent 2.2 liter opgetel (16:16-18).  Hulle moes elke dag alles opeet en niks tot die volgende dag oorlos nie.  Hulle het egter nie geluister nie, sodat die manna die volgende dag vrot geword het en vol wurms was.  Moses was kwaad oor hulle ongehoorsaamheid (16:19-20).

Op die sewende dag moes hulle nie manna optel nie.  God sou sorg dat die dubbel-porsie wat hulle op die Vrydag versamel het sou hou tot die Saterdag toe (16:23-26).  Die Sabbatsrus wat in Genesis 2:3 beskryf word is hier as ‘n wet ingestel, en is in 20:8-11 bevestig.  God was kwaad omdat die volk sy Sabbatopdrag geminag het (16:27-30).  “Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn…my sabbatte het hulle baie ontheilig.  Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.” (Esegiël 20:13).

God het vir Moses gesê om 2.2 liter manna in ‘n goue kruik te sit, sodat dit later in die ark gebêre kon word (16:32-34, Hebreërs 9:4).  So kon die volk in latere jare onthou dat God hulle vir 40 jaar in die woestyn versorg het.  Eers toe hulle in die Beloofde Land aankom het die manna opgehou val (16:35, Josua 5:12).

Omdat mates van geslag tot geslag verander, het Moses in 16:36 gesê dat ‘n gomer een tiende van ‘n Efa is.  Dis byna soos ons oupas wat met ponde, pennies, krone, halfkrone en shillings gewerk het, en dit in Rande vir ons moet verduidelik.

God se voorsiening by Rafidim (hfst.17)

In sy preek oor Eksodus 16 het Willem Nel vertel van ‘n vrou wat gebid en gehuil het, omdat sy nie kos in die huis gehad het nie.  Sy wou ook graag vir haar kinders ‘n ete gee op Thanksgiving.  Nadat sy gebid het, het iemand aan die deur geklop en ‘n $50 koopbewys vir haar gegee.  Sy het die Here gedank.  Later het iemand kruideniers vir haar gebring.  Dit was soveel dat sy daarvan in die gangkas en onder die bed moes bêre.  Sy het skaars klaar uitgepak toe die telefoon lui.  Iemand van die kerk het vir haar gesê:  ‘Ons nooi jou en jou kinders uit om by ons te kom eet vir Thanksgiving, en ons vat nie nee vir ‘n antwoord nie.’

Het jy al so ‘n ervaring gehad, waar God meer gee as wat jy nodig het?  Israel het so ‘n ervaring gehad by Rafidim.  Toe hulle daar aankom was daar nie water nie (17:1).  Hulle het alweer gekla, en dit ná God se voorsiening in hfst.15-16 (17:2-3)!  In die Psalms staan daar:

“Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.  En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.  En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê:  Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?  Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?” (Psalm 78:17-20).

“Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie; waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.  Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê:  Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het:  Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!” (Psalm 95:8-11).

Paulus sê in 1 Korintiërs 10:9:  “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.”

Moses het gebid en vir die Here gesê dat die volk hom wou stenig (17:4).  So wou hulle deur die geskiedenis met hulle leiers doen (Matteus 23:37, Hebreërs 11:37):  Moses, Aäron, Dawid, Sagaria, Stefanus, Paulus, en Jesus (Numeri 14:10, 1 Samuel 30:6, 2 Kronieke 24:21, Handelinge 7:58, 14:19, Johannes 8:59, 10:31-33).

God sou op die rots by Horeb staan.  Moses moes die ouderlinge van Israel daarheen neem en die rots met sy staf slaan (17:5-6).[2]  Kinderbybels laat dit lyk of dit ‘n smal stroompie was, maar volgens Psalm 78:15-16, 105:41 het die water uitgestroom soos riviere.  In 1 Korintiërs 10:4 sê Paulus dat Jesus hierdie water vir hulle gegee het.

Moses het die plek Meriba en Massa genoem:  Meriba omdat hulle met die Here getwis het, en Massa omdat hulle Hom getoets het (17:7).

Ons moet die Here in alles dank (Kolossense 3:15-17, 1 Tessalonisense 5:18).  Moenie kla soos die Israeliete nie (1 Korintiërs 10:10-12).  Soos hulle vaders in die woestyn het die Jode in Jesus se dag teen Hom gemurmureer (Johannes 6:41, 43, 61).  Laat ons met danksegging bid en in ons slegte omstandighede erken dat God goed, wys, en almagtig is (Filippense 4:6).  Moenie angstig wees nie.  Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid.  God sal vir jou alles gee wat jy nodig het (Matteus 6:33).  Wees dankbaar vir wat jy het en moenie kla oor wat jy nié het nie (Filippense 4:12-13).  Moenie só lewe dat die dinge wat jy begeer later ‘n behoefte word, sodat jy kwaad is vir God as jy daarvoor bid en dit nie kry nie.  “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” (1 Timoteus 6:8).  Leer jou kinders reg deur die Skrif en jou eie voorbeeld.  Jy kan nie vir húlle sê om dankbaar te wees as hulle sien dat jy materialisties is, of altyd koop, ondankbaar is, en nuwer en beter wil hê nie.  Leer om gereeld dankie te sê.  Bid ‘n opregte gebed voordat jy eet en nie net ‘n aangeleerde rympie nie.  Dank die Here vir jou kos.

Nog ‘n paar lesse wat ons uit hierdie hoofstukke leer:

[1] Vergeet jy van die Here as jou spens, petroltenk, en bankrekening vol is?  Roep jy Hom aan as dit maandeinde is?  Jy moet leer om die Here daagliks, nie maandeliks nie, te vertrou (16:21).  Bid vir jou daaglikse brood (Matteus 6:11).  Sê dankie vir jou salaris, maar moenie daarop vertrou nie.  Vertrou op die Here.

[2] Het jy ‘n baie groot behoefte? God kan gee as dit onmoontlik lyk:  “en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë” (Psalm 78:27).  “Toe het ‘n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.” (Numeri 11:31).  God kan brood uit die hemel gee as dit moet.  Die Jesus van die Nuwe Testament is dieselfde God van Eksodus 15-17.  Dit is Hý wat 5000+ mense gevoed het in Matteus 14-15.  Hy kan jóú ook help.

[3] Moenie bid en dan rondsit nie.  Bring jou kant en werk.  Moenie laat slaap nie, maar staan vroeg op en werk hard (16:21):  “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:10).

[4] Moenie angstig wees, sodat jy soos ‘n slaaf werk nie.  God wil hê jy moet rus ook.  Vertrou dat die Here vir jou sal sorg (16:30, Psalm 127:2).  God het ‘n rusdag gegee sodat jy kan ontspan (Markus 2:27).  Hy sal vir jou sewe dae se kos gee vir net ses dae se werk.

[5] Het jy baie meer as ander Christene?  Deel met dié wat behoeftig is.  Dis die punt van 16:17-18.  Paulus interpreteer dit so in 2 Korintiërs 8:15.

[6] Onthou God se voorsiening (16:33).  Moenie vir die Here dankie sê as die son skyn, maar dan dadelik weer angstig raak en kla as dinge skeefloop nie.  Die Israeliete het in 15:1 die Here geprys, maar in 17:3 gekla toe daar nie water is nie.  Kon die God wat hulle deur die see gelei het nie vir hulle kos en water voorsien nie?  Ons moet die Here nie op die proef stel en Hom uittart nie (Matteus 4:7).

[7] Wees dankbaar dat dinge soms materieel en geestelik goed gaan.  Wees net versigtig dat jy nie kla as God jou van die bergtop af laat trek nie.  Jy kan nie altyd daar bly nie.  God het groter planne.  Hy wil hê jy moet ook in die vallei groei en leer om Hom te vertrou (15:22, 16:1).

[8] Moenie lewe vir brood en water wat vergaan nie (Johannes 4:13, 6:27).  Soek na die ware brood uit die hemel, na die lewende water:

  • “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is:  Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.  En Jesus sê vir hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.  Toe sê hulle vir Hom:  Here, gee ons altyd hierdie brood.  En Jesus sê vir hulle:  Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:31-35).
  • “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

Eet ook die lewende brood wanneer jy Jesus se dood in die nagmaal herdenk (1 Korintiërs 11:23-24), wanneer jy God se wil doen (Johannes 4:34), sy Woord lees (Matteus 4:4), en op Jesus vertrou (Openbaring 2:17).

Hoekom moet jy die Here dank en nie kla nie?  Want God haat dit as mense kla.  Buitendien is dit ‘n slegte getuienis vir ongelowiges.  Die Skrif sê:  “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:14-15).

Wayne Mack vertel hoe hy as kind uit vrye keuse die lande geploeg het toe sy pa dorp toe is.  Hy wou sy pa trots maak.  Toe sy pa terugkom, het hy na die lande gekyk en gesê:  ‘As jy wou ploeg kon jy dit ten minste reguit gedoen het.’  Moenie so reageer op God se goedheid nie.  Wees dankbaar.

[1] Manna beteken ‘Wat is dit?’

[2] Hierdie is nie dieselfde gebeurtenis as in Numeri 20:2-13 nie.

Dink reg oor jou dominee

Lazy pastor

Het jy gehoor hoe mense sê onderwysers werk net halfdag, kry ‘n goeie salaris, en het vier vakansies per jaar?  Enige onderwyser en hulle familie weet dis nie waar nie.  Ons dink verkeerd oor hulle.  Dieselfde is dikwels die geval met geestelike leiers in die kerk.  In 1 Korintiërs 4:6-21 leer Paulus ons om reg te dink oor hulle.

Moet hom nie verhef nie (v.6-13)

‘n Kollega en vriend het die grond aanbid waarop ‘n ouer leraar geloop het.  Toe hy hom egter beter leer ken, besef hy dat dié dominee ‘n gewone mens met sonde en foute is.  Ek het onlangs gaan kuier by ‘n dominee met ‘n baie goeie reputasie.  Toe ons die afspraak reël het sy vrou in ‘n sms vir my gesê:  ‘Moenie te veel verwag nie.  Ons het groot kleivoete.’  Die gesegde lui:  ‘The best of men are men at best.’  Dit is Paulus se punt in v.6-7.

Paulus het ‘hierdie dinge’ – die illustrasies van ‘n boer, bouer, dienskneg, en rentmeester – op homself en Apollos toegepas (v.6, 3:6-9, 10-15, 4:1-2).  Dit het hy gedoen, sodat die Korintiërs hom en Apollos nie sou ophemel nie.  Hulle moes nie verder dink as wat die Skrif (die Ou Testament aanhalings in hfst.1-3) toelaat nie:  “dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie” (v.6).  Hulle moes nie in menslike wysheid roem en sê:  ‘Ek is van Paulus,’ en ‘Ek is van Apollos’ nie (1:12, 3:4).  Paulus noem hulle selfs ‘broers’ (v.6) om te wys dat hulle sy gelykes is, en hom daarom nie moet verhef nie.  Alles wat ons het kom van God af, en daarom moet niemand in ‘n leier roem asof sý groep beter is as iemand anders s’n nie (v.7, Johannes 3:27).

Moenie jou geestelike leiers verhef nie.  Vergeet van die illusie dat hulle super heilig is en min sondig.  ‘n Paar vroue se woorde het by die dominee se vrou uitgekom:  ‘Ek wonder hoe dit moet wees om met háár man getroud te wees?’  Hy het daarvan gehoor en gesê:  ‘As hulle maar net geweet het watse groot sondaar ek is.’  Moenie die dominee aanbid nie; aanbid die Jesus wat hy verkondig.  Jesus het gewaarsku:

“Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester:  Christus, en julle is almal broeders.  En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.  Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester:  Christus.  Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.  Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.” (Matteus 23:8-12).

Hoekom moet jy hom nie verhef nie?  As jy hom verhef sal jy na hóm kyk vir dit wat net Jesus kan gee.  Jy sal belangstelling in die kerk verloor as hy in sonde val.  Dit sal vir jou moeilik wees om ‘n nuwe dominee te aanvaar.  Jy sal ook te veel van hom verwag, en sodoende druk op sy kinders sit om perfek te wees.

Toe my dogter klein was het sy vir my gevra:  ‘Pa, besluit die president wat jy gaan word as jy eendag groot is?’  ‘Nee,’ het ek geantwoord, ‘jy besluit self.’  My seun het dit gehoor en gesê:  ‘Het pa self besluit om niks te wees?’  Hy het groter waarheid gepraat as wat hy besef het, want ‘n geestelike leier is niks.  Dit is Paulus se boodskap in v.8-13.  Jesus het mos gesê:

“Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:25-28).

Paulus gebruik sarkasme in v.8:  “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers.  Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!”  Die Korintiërs móés honger en dors gewees het vir geregtigheid (Matteus 5:6), maar was versadig.  Hulle móés besef het dat hulle arm is sonder Jesus (Openbaring 3:17-18), maar het geroem asof hulle ryk is.  Paulus het gewens dat Jesus weer sou kom, sodat hulle reeds almal saam kon heers as konings (v.8, Openbaring 5:10).

Maar die teendeel was op dié tydstip waar:  God het die apostels vertoon as ‘n skouspel vir mense en engele (1 Timoteus 5:21); soos gladiators wat voor almal in die teater die doodstraf gekry het (v.9, Romeine 8:36, Hebreërs 10:33).  Vir Jesus se onthalwe het mense die apostels beskou as dwaas, swak en oneerbaar (v.10, 1:18, 2:3, Handelinge 26:24, 2 Korintiërs 11:29, 13:9).  Paulus het tong-in-die-kies gesê dat die Korintiërs wys, sterk, en eerbaar was (v.10).

Die apostels was honger, dors, het ou klere gedra, is geslaan, was haweloos, en moes soos slawe met hulle eie hande werk – iets wat die Grieke verag het (v.11-12, 2 Korintiërs 11:23-27, Matteus 8:20, Handelinge 18:3, 1 Tessalonisense 2:9, 2 Tessalonisense 3:8).  Verder het hulle ook hulle haters geseën , vasgebyt in vervolging, en dié wat hulle gelaster het met mooi woorde probeer wen (v.12-13, 1 Petrus 3:9).  Hulle is beskou as die afskraapsel van die samelewing, as vullis (v.13).  “U het ons ‘n uitvaagsel en ‘n wegwerpsel onder die volke gemaak.” (Klaagliedere 3:45).

Moenie jou dominee se werk verhef nie.  Sommige dink:  ‘Hy kry ‘n gratis huis en werk net twee ure per week.’  ‘n Meisie in Nelspruit het vir my gevra:  ‘Wat dóén jy heel week?’  Ander dink dit moet lekker wees om ‘n titel te hê.  ‘n Man wat afgestudeer het, het vir die sekretaresse gesê:  ‘Ek is nie mnr. so-en-so nie, maar ds. so-en-so!’  Party wens dat hulle foto opgeblaas kan word en op die kerk se muur kan hang.  Party dink die dominee is sy eie baas of is die baas van die kerk.  Ander dink hy kry die offergawe.  Ander sê weer:  ‘Dit moet lekker wees om heeldag by mense te kuier; om koekies te eet en tee te drink.’

Sekerlik misbruik sommige geestelike leiers hulle posisie en ís hierdie dinge so.  Maar as ‘n leraar getrou is, behoort hierdie dinge nie so te wees nie.  Die waarheid is eerder dat die prediker soms soos Jeremia, Paulus en Timoteus wil opgee (Jeremia 20:9, Handelinge 18:9-10, 1 Timoteus 1:3, 2 Timoteus 1:6-8).  Hy dra ‘n swaar las as mense in die gemeente ly, sondig, vals lering glo, stadig groei, of wegbly van die kerk af.  Hy voel soos Paulus in 2 Korintiërs 11:28-29 en Galasiërs 4:19:

“Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.  Wie is swak en ek is nie swak nie?  Aan wie word ‘n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?… my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.”

Dis vir hom baie harde werk om gereeld en getrou vir elkeen in die gemeente te bid (Kolossense 4:12).  Hy moet dié wat hom slegsê seën, want die wêreld hou hom dop.  Baie mense respekteer nie sy gesin of sy tyd met hulle nie.  Hulle verwag dat hy altyd op bystand moet wees – sy gesin kan maar wag.

Mense wat die dominee se werk verhef moedig te maklik hulle kinders en kleinkinders aan om predikante te word, want ‘dis mos ‘n romantiese, eerbare, en goeie werk.’

Moet hom nie vergeet nie (v.14-21)

Dirk is ‘n skatryk sakeman.  Hy het besluit om ‘n baba seuntjie aan te neem.  Hy het vir dié seuntjie ‘n huis, goeie opvoeding, skoling, sekuriteit, en liefde gegee.  Hy het met hom gespeel en saam vakansie gaan hou.  Die seun het groot geword.  Dirk het vir hom alles geleer oor besigheid.  Uiteindelik het hy Dirk se besigheid oorgeneem.  Toe Dirk oud word, het hy op ‘n siekbed gelê in die oue tehuis.  Maar sy seun was te besig om geld te maak, en het nie tyd gehad om by hom te kuier nie.  Hy het vergeet van die een wat goed was vir hom.  Dit is waarteen Paulus waarsku in v.14-21.

Sy doel in v.8-13 was nie om die Korintiërs skaam te maak nie (v.14).  Hy het wel later in die brief probeer om hulle te beskaam (6:5), maar hiér was dit nie sy doel nie.  Hy wou hulle eenvoudig as sy liewe kinders vermaan (v.14, 1 Tessalonisense 2:11).  In Christus het hy hulle geestelik pa geword deur die evangelie (v.15, Galasiers 4:19, Filemon 10).  Hulle het onder sý prediking tot bekering gekom.  Net soos ‘n kind sy pa na-aap, wou Paulus hê dat hulle sý nederige denke oor geestelike leiers moes na-aap:  “Ek vermaan julle dan, word my navolgers.” (v.16).  ‘n Leier wat waarlik deur die Here geroep is moet ook vir mense kan sê om sy voorbeeld na te volg.

  • “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” (11:1).
  • “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Filippense 3:17).
  • “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees.” (Filippense 4:9).
  • “En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees” (1 Tessalonisense 1:6).
  • “Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.” (2 Tessalonisense 3:9).
  • “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.” (1 Timoteus 4:12).

Paulus het selfs sy geestelike kind Timoteus gestuur, sodat hulle sy voorbeeld in Timoteus kon sien (v.17, 16:10, 1 Timoteus 1:2).  In hom sou hulle Paulus se prediking in lewende lywe sien, want wat hy gepreek het het hy ook geleef (v.17).  Dit was nie dat hy net van die Korintiërs verwag het om nederig en heilig te wees nie; hy het dit in ál die kerke gepreek en dit van hulle verwag (v.17, 7:17, 14:33).

Paulus het beplan om binnekort self na hulle toe te gaan (v.18-19, 11:34, 16:5-9).  Hy het hom nie veel gesteur aan die woorde van dié wat gedink het hulle is wys nie.  As hy by hulle was sou hy gou agterkom of dié mense regtig so ‘wys’ is.  ‘n Mens leef immers nie heilig omdat hy ‘n groot mond het nie, maar omdat God se krag in hom werk (v.19-20, 2:4).  Indien die Korintiërs berou gehad het oor hulle sonde, sou hy hulle met sagte woorde bemoedig.  Maar as hulle in hulle sonde volhard het, sou hy hulle met ‘n roede slaan soos ‘n pa sy stoute seun tugtig (v.21, hfst.5, 2 Korintiërs 13:2, 10).

Moenie jou geestelike leiers vergeet nie.  Soms dink mense die ouderlinge help ander geestelik en het self nie geestelike hulp nodig nie.  ‘n Vriend en kollega het onlang getuig hoe baie dit vir hom beteken het toe ‘n lidmaat ‘sy dominee’ kom besoek het.  Bid ook asseblief vir jou leiers; hulle het dit nodig (1 Tessalonisense 5:25).  Volg jou leiers se voorbeeld in soverre hulle lewens met die Skrif ooreenkom en hulle Jesus navolg.  Dit is baie dikwels so dat jy meer leer deur wat hulle doen as deur wat hulle sê:  ‘It is more caught than taught.’  Ek kan daarvan getuig.  Ek het baie meer uit my leraar se lewe geleer as uit sy prediking.

Ons moet hulle voorbeeld onthou en navolg selfs nadat hulle dood is.  Dis die boodskap in Hebreërs 13:7:  “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.”  Dit sou nie nodig gewees het om hulle te gedenk as hulle nog gelewe het nie.  Ek kan verseker dinge uit wyle Martin Holdt se lewe onthou wat die moeite werd is om na te volg.

Wees versigtig dat jy nie ‘n leraar se lewe navolg as hy reg preek, maar self nie lewe wat hy verkondig nie:  “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” (Matteus 23:3).

Hoekom moet jy jou geestelike leiers nie vergeet?  Want dit is makliker om ‘n tasbare en sigbare voorbeeld na te volg as ‘n abstrakte een wat net bestaan uit ‘n klomp idees.

Oor die Paasnaweek was ek by ‘n Baptiste konferensie in Cornelia in die Vrystaat.  Tydens die kamp het twee mans die graf van die stigter van die ABK (J.D. Odendaal) gaan soek.  Hulle het dit gekry en ander genooi om die volgende dag daarna te gaan kyk.  Sy graf, sowel as sy 4 vroue s’n is met ‘n klipmuur omhein (hy was nie gelyk met al 4 getroud nie, maar het weer getrou na elkeen van sy vroue oorlede is).  Die grafte is toegegroei met bosse en takke.  Sy verlate graf is byna ‘n klein gelykenis van hoe ons dikwels ons geestelike leiers vergeet.  Die Bybel sê ons moet hulle nie verhef.  Maar dit sê ook ons moet hulle nie vergeet nie.

Jesus by die Rooisee

Red Sea parting

Wat is die sentrale gebeurtenis in die Ou Testament?  Watse Ou Testamentiese gebeurtenis word meer dikwels na terugverwys as enige ander gebeurtenis?  Wat word beskou as God se grootste wonderwerk in die Ou Testament?  Ek gaan ‘n skoot in die donker skiet en raai dat dit die verdeling van die Rooisee, en God se verlossing van Israel uit Egipte is.  Dit is die gebeurtenis waarna ons vandag gaan kyk (Eksodus 13:17-15:21).

 

Jesus is wys (hfst.13)

Op 8 Desember 1840 het David Livingstone in Skotland op die George geklim en na Suid-Afrika vertrek om ‘n sendeling te wees.  Hy was vir drie maande op ‘n stormagtige see.  Toe die skip se voorste mas gesplit het, moes die George by Rio de Janeiro stop om herstel te word.  Terwyl Livingstone in Brasilië was het hy quinine in die veld gekry.  Jare later het hy dit in Afrika gebruik as ‘n teenmiddel vir malaria.  God het gesorg dat die skip ‘n ompad moes seil, sodat Hy jare later baie mense van malaria kon red![1]

 

Dieselfde het in 13:17-22 gebeur toe God vir Israel met ‘n langpad Kanaän toe laat trek het.  Hy het gekeer dat hulle die kortpad deur Filistia gevat het, en het gemaak dat hulle by die Rooisee om en deur die woestyn moes trek.  Hy het dit gedoen omdat (sien 13:17-18, 20, 3:12, 14:11-12):

 

  • Hy sy heerlikheid en krag wou wys by die Rooisee
  • Hy die Egiptenare wou verdrink
  • Hy wou keer dat sy volk terugdraai Egipte toe as hulle oorlog teëkom in Filistia (vgl. Numeri 14:1-4)
  • Hy sy goedheid en mag wou wys deur kos en water te voorsien in die woestyn
  • Hy sy volk Sinaï toe wou vat om Hom te aanbid en sy wet te ontvang

 

Die volk het uit Egipte vertrek en Josef se bene saamgevat (13:19).  Josef het geglo dat God die volk sou verlos en het sy broers laat sweer dat hulle sy bene in Kanaän sou begrawe (Genesis 50:24-25, Hebreërs 11:22).  Israel het sy laaste wense eerbieding en sy bene in Kanaän begrawe (Josua 24:32).

 

God het voor die volk uitgetrek in ‘n wolk- en vuurkolom (13:21-22).  Hierdie bakens sou vir hulle rigting aandui, skaduwee bied teen die woestynson, hitte en lig gee in die nag, Jesus se glansryke heerlikheid verberg, en ‘n plek wees waar Hy met Moses kon praat (16:10, 33:9-10, Numeri 9:15-23, Psalm 105:39, Jesaja 4:5, Lukas 21:27).

 

Ons moet in die lig van sy wysheid lewe.  Soms sal Hy jou met die langpad langs lei.  In sulke tye moet jy nie kla, verbitterd raak, ongeduldig wees, hopeloos voel, of besluit om jouself uit te help nie.  Saul was versoek om nie vir die Here se tyd te wag nie, en het homself uitgehelp (1 Samuel 13:8-13).  Satan het vir Jesus versoek om nie op die Here te wag nie, maar Homself uit te help (Matteus 4:3-4).  Jesus het nie toegegee nie.

 

Vertrou die Here se wysheid.  Glo dat Hy die situasie beheer en dat Hy goed is.  Hou aan met bid en moenie moedeloos word nie (Lukas 18:1).  Prys Hom vir sy goedheid en wysheid.  Hierdie riglyne sal help as daar ‘n ongeluk op die R21 is en jy die langpad moet vat.  Augustinus moes Rome toe gaan om te preek.  Die gids het per ongeluk ‘n verkeerde afdraai geneem, sodat hulle die langpad moes vat.  Toe hulle in Rome kom het hy gehoor dat sluipmoordenaars hom op die kortpad ingewag het.

 

Ons regering kan nie my vriend se papierwerk uitsorteer nie.  Nou moet hy al die pad terugvlieg Amerika toe om dit reg te kry.  Is die Here in beheer van hierdie ‘ompad’?  As jy vir lank werkloos is, beheer God jou ‘langpad’.  As jy vir jare wag om te trou of kinders te hê, is dit God wat in beheer is van jou ‘langpad’.  As jou rekenaar blaas en jy al jou werk moet oor doen, is God in beheer van hierdie ‘ompad’.  William Carey het baie vertalingswerk gedoen in Indië.  Op ‘n dag toe brand die stoorhuis met al sy manuskripte af.  Wat ‘n verlies; hy moes al die werk oor doen!  Maar God was in beheer van hierdie ‘langpad’.  In Engeland het baie mense hiervan gehoor, sodat daar baie ekstra finansies en ook nuwe sendelinge bygekom het.  As jy vir baie lank siek is kan jy glo dat God in beheer is van jou ‘langpad’.  Wat van ‘n kind wat vir jare rebels is?  God is in beheer van hierdie ‘langpad’.  Vertrou en volg die Here se wysheid en nie jou eie nie.  Die Skrif sê:  “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” (Spreuke 28:26).

 

Jesus is sterk (hfst.14)

‘n Liberale predikant het by ‘n Amerikaanse negerkerk gepreek.  In sy preek het hy gepraat van Israel by die Rooisee.  Iemand in die gehoor het gesê:  ‘Praise de Lord!  Takin’ all dem children through de deep waters.  What a mighty miracle!’  Die prediker het gefrons en gesê dat dit nie ‘n wonderwerk was nie, omdat Israel deur ‘n 30cm-diep Rietsee getrek het.  Die man het gesê:  ‘Praise de Lord!  Drownin’ all dem Egyptians in six inches of water.  What a mighty miracle!’[2]

 

Mense wat sê dat Israel deur die Rietsee getrek het, kry hulle idees by liberale skeptici.  Daar is genoegsame bewyse dat Israel deur die Rooisee en nie deur die vlak Rietsee getrek het nie.[3]  Eksodus 14 beskryf ‘n massa water wat die Egiptiese weermag, strydwaens, en perde verdrink en verpletter het.  Dit kon onmoontlik in vlakwater gebeur het.  Buitendien kan daar nie mure van water wees in ‘n vlak Rietsee nie (14:22, 29).

 

Die volk het by die see kamp opgeslaan.  God het Farao se hart verhard, sodat hy met sy hele weermag – offisiere, strydwaens en al – vir Israel agterna gesit het (Psalm 105:25).  Dit het God gedoen omdat Hy sy mag oor Farao en die Egiptenare wou wys (14:1-9).  Toe die volk die Egiptenare sien, het hulle baie bang geword (14:10).  Selfs nadat hulle gesien het hoe God Egipte met die tien plae verwoes het, het hulle nogsteeds nie geglo nie en was hulle bang.  Die volk het tot die Here geroep, maar dadelik weer vir Moses beskuldig.  “Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe?  Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?” (14:11).  Hulle was sarkasties:  Egipte staan immers bekend as die land van grafte (die piramides).  ‘Is daar nie genoeg grafte in Egipte nie dat jy ons in die woestyn wil begrawe?!’

 

Alhoewel die volk rebels was, het God hulle gered sodat sy groot Naam bekend kon word:  “Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee.  Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak.” (Psalm 106:7-8).

 

Die volk het gesê:  “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie:  Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien?  Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.” (14:12).  Duidelik het die volk nie onthou hoe erg die slawerny was nie.  So kan ons ook gou vergeet dat ons uit die slawerny van sonde gered is:  “want hy by wie hierdie dinge [Christelike kwaliteite] nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2 Petrus 1:9).

 

Die volk moes net stil wees, nie vrees nie, en in geloof vorentoe beweeg:  God sou vir hulle veg (14:13-15, Deuteronomium 1:30-31, Jesaja 30:15, Hebreërs 11:29).  Die Rooisee is ‘n mooi illustrasie van God se werk en ons reaksie in verlossing.  Ons het niks bygedra tot ons redding nie.  Ons was stil – die Here het vir ons geveg (die kruis).  Ons moet egter in geloof reageer en doen wat Hy vir ons sê:  ‘Bekeer jou en glo die evangelie!’

 

Die Engel van die Here was in die wolk wat skeiding gebring het tussen die Israeliete en die Egiptenare (14:19-20).  Volgens 3:2, 6, 14-15, 23:20-21, Jesaja 63:9 is die Engel van die Here God self.  Uit die Nuwe Testament weet ons dat dit Jesus is.  Ja, dit was Jesus wat die Israeliete deur die woestyn gelei het (1 Korintiërs 10:9).  “Now I want to remind you, although you once fully knew it, that Jesus, who saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (Judas 5, ESV).

 

Moses het sy staf opgelig.  Die Here het ‘n warm ooste wind oor die see laat waai (Genesis 41:6).  Die water het soos mure opgestaan.  Die volk het op droë sand deurgetrek (Psalm 106:9).  God het die Egiptenare verhard, sodat hulle die Israeliete in die see in gevolg het.  Jesus het uit die wolk neergekyk en die Egiptenare verwar.  Hy het hulle strydwaens se wiele laat vasslaan en afval.  Die Egiptenare het besef dat die Here vir Israel veg en het probeer om te vlug (14:16-18, 21-25).  Moses het weer sy staf opgelig, sodat die watermassa oor die hele weermag gestort het en hulle lyke op die strand uitgespoel het (14:26-30).  God bewerk nie ‘n halwe redding nie.  Hy het sy volk volkome en finaal van Farao en die Egiptenare gered.  Die volk het in God geglo en Hom gevrees.  Hulle het ook geglo dat Moses sy kneg is (14:31, kontrasteer dit met 2:14, 4:16, 6:8).

 

Glo in God se krag wanneer jy deur beproewing gaan.  Wys dat jy regtig glo:  roep Hom aan (Psalm 50:15, 34:18, 107:6).  Moenie bid en dadelik weer angstig raak, sodat jy mense vir jou slegte omstandighede beskuldig nie (14:10-12).  Glo eerder dat God die moeilike situasie oor jou pad gebring het, omdat Hy sy Naam wil verheerlik en jou wil bevoordeel.  Vertrou dat God die onmoontlike kan doen (Matteus 19:26, Jeremia 32:17, 27, Lukas 1:37, Efesiërs 3:20).  ‘n Ryk Christen sakeman se besigheid het probleme opgetel.  Dinge het baie sleg gegaan.  Hy het ‘n predikant gebel en vir gebed gevra.  Hy, die predikant, en die Christen personeel het saam gevas oor die saak.  Toe hulle weer hoor het sy besigheid publisiteit gekry op CNN International!  Nou kon hy nie voorbly nie!  God het gedoen wat onmoontlik gelyk het.

 

As jy gebid het moet jy in geloof reageer en aksie neem (14:15).  Bring jou kant; ‘beweeg vorentoe’.  Moenie bang wees as jou vyand te sterk is of die situasie te groot lyk nie.  Die Here sal vir jou veg (14:13-14, Jesaja 41:10, 13-14, 2 Kronieke 20:15, 17).  En “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:32).  As jy nie glo dat die Here jou kan help nie, ontken jy sy goedheid, sterkte, en getrouheid.  Ongeloof is ‘n klap in sy gesig.

 

Jesus is lofwaardig (hfst.15)

Die afgelope naweek was ek by ‘n Paaskamp.  Onder die begeleiding van oom Louis Lourens was ons samesang uit die boonste rakke.  Die kampgangers het die dak gelig.

 

Hoekom is dit dat Christene gedurig saamsing?  Hoekom is Islam, Hinduïsme, Buddhisme, en ander wêreld-godsdienste nie singende godsdienste nie?  Ons sing omdat ons bly is; omdat ons gered is.  Ons sondes is vergewe, ons het ‘n plek in die hemel, ons is aangeneem as God se kinders, ons is geregverdig, ons is weergebore.  Watter ander godsdiens het ‘n boek soos die Psalms?

 

Moses en die volk het God geprys vir sy verlossing (15:1, Psalm 106:12).  Die vroue, onder leiding van Miriam, het op tamboeryne gespeel (15:19-21, 1 Samuel 18:6).  Saam met Moses en Israel moet ons die Here prys vir ons groot verlossing:

 

“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê:  Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!” (Openbaring 15:3).

 

Saam met die volk moet ons die Here prys vir sy heerlikheid (15:1, 11), krag (15:1b-2, 4-6, 10), verlossing (15:2, Openbaring 5:9), toorn (15:3, 7b-8, Psalm 24:8, Openbaring 19:11, Hebreërs 12:29), heiligheid (15:11), goedheid (15:13), getrouheid (15:17), koningskap (15:18).  Laat al die nasies Hom vrees (15:14-16, Josua 2:9-10, 5:1, Deuteronomium 2:4, Numeri 22:3-4).

 

Prys Jesus vir sy redding.  Sing van sy redding, Woord, karakter, die hemel, die nagmaal, sy werk in die skepping, sy voorsiening, sy kerk, sy Gees.  Kies liede waarvan die woorde Bybelse diepte en ‘n gesonde inhoud het.  Dink oor wat jy sing.  Sing met jou hele hart.  Sing met gepaste emosie.  Sing met meer volume en sorg dat die gemeentesang bo die instrumente gehoor kan word.  Samesang moenie ‘n konsert word waarin die instrumente en voorsangers die gemeente uitdoof nie.  Laasgenoemde is veral ‘n geneigdheid in charismatiese kerke.  Moenie die Here vir sy redding loof, maar gou weer teen Hom kerm en kla nie (sien 1 Korintiërs 10:1-4, 5-13).  Lofprysing is ‘n gepaste reaksie vir dié wat deur God gered is:  “O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes.” (Psalm 33:1).

 

Daar is ‘n politieke spotprent in die koerant waarin ‘n sekere karakter in elke prent verskyn.  Soms is die karakter agter ‘n bed, onder ‘n tak, op ‘n wolk, of langs ‘n emmer.  Maar hy is altyd daar.  Het jy agtergekom dat daar so ‘n Karakter in die Ou Testament is?  Hy is altyd daar:  in die verhale, lofliede, profesieë, spreuke, gelykenisse, geslagsregisters, tempelplanne, wette.  Wie is Hy?  Jesus:  die Een wat by die Rooisee was en honderde jare later aan ‘n kruis gehang het.  Hy is die Verlosser van Israel.  Is Hy jou Verlosser?

[1] Peter Hammond, The Family, faith and upbringing of David Livingstone,  The Reformation Society, p.5

[2] John Currid, Exodus: Evangelical Press Study Commentary, volume 1, p.307

[3] Ibid, p.281

Dink reg oor jouself

Low self esteem

Gestel ons sou die gedagtes wat jy die afgelope week gedink het op die skerm vertoon.  Tagtig persent of meer daarvan sal seker oor jou en jou belange wees.  Sal jy skaam kry as ander moet weet hoe en wat jy van jouself dink?  Dink jy aan jouself as iemand wat belangrik is?  Iemand in die kollig op die verhoog?  Iemand vir wie almal moet spring?  Iemand met wie ander nie wil moeilikheid soek nie, want anders sal hulle met jóú te doen kry?  Gaan jou dagdromery oor hoe jy bang is wat mense van jou dink?  Oor hoe jy wil hê mense moet van jou hou?  Oor hoe jy nie wil hê iemand moet vir jou kwaad wees nie; oor hoe jy breedvoerig ‘please & explain’, sodat mense asseblief tog nie minder van jou sal hou nie?  Jy, soos ek, dink verkeerd oor jouself.  Ek bid dat 1 Korintiërs 3:18-4:5 jou sal help om reg te dink.

 

’n Akkurate selfbeeld (3:18-23)

Toe my kinders kleiner was het hulle oulike liedjies van Carike Keuzenkamp geluister.  Ons het hulle egter verbied om na een liedjie te luister.  Die koortjie sê:

 

I’m special, I’m special, my friends all tell me so

People smile and look my way wherever I may go

I’m special, I’m special, from my head unto my toes

I try to always look my best, and I know it shows

 

Wees bewus van die voorregte wat jy in Christus het.  Maar moenie dink dat jy in jouself spesiaal, goed, of wys is nie.  Die persoon wat dink dat hy wys is bedrieg homself.  So iemand moet eerder as ‘n dwaas beskou word omdat hy die evangelie glo (1:23), sodat hy daardeur wys kan wees in God se oë:  “Laat niemand homself mislei nie:  as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word” (3:18).

 

Die wêreld dink dat hulle nie die Here nodig het nie, maar dat hulle hulself kan red.  Vir God is sulke wysheid dwaas:  “want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God” (3:19).  Die Skrif wys dit (3:19-20).  Goddelose mense dink ‘wyse’ planne uit om ander te laat val, maar God sal toesien dat hulle in die strik trap wat hulle vir ander gestel het (3:19, Job 5:13).  Hulle ‘wyse’ planne is nietig soos ‘n asem.  Hulle dink verniet dat God dit nie raaksien nie (3:20, Ps.94:11).

 

Omdat menslike wysheid nietig is, moet ons nie in mense roem of van hulle ‘n afgod maak nie (3:21, 4, 1:12, 4:6).  Hoekom sal jy buitendien in mense roem as alles joune is in Christus?  “Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (3:22-23, vgl. Hebreërs 1:2, Romeine 8:17, 8:28, 32, 38)?  Jonathan Edwards het dit mooi uitgespel:

 

‘By virtue of the believer’s union with Christ, he doth really possess all things.  That we know plainly from Scripture:  but it may be asked, How he possesses all things; what is he the better for it; how is a true Christian so much richer than other men?  To answer this, I will tell you what I mean by possessing all things.

 

I mean that God, three in one, all that he is, and all that he has, and all that he does, all that he has made or done, the whole universe, bodies and spirits, light, heaven, angels, men, and devils, sun, moon, stars, land and sea, fish and fowls, all the silver and gold, all beings and perfections, as well as mere man, are as much the Christian’s as the money in his pocket, the clothes he wears, or the house he dwells in, or the victuals he eats; yea, more properly his, more advantageously, more his than if he commanded all these things mentioned to be just in all respects as he pleased, at any time, by virtue of the union with Christ; because Christ, who certainly doth here possess all things, is entirely his, so that he possesses it all, more than a wife the property of the best and dearest of husbands, more than the hand possesses what the head doth.

 

All the universe is his, only he has not the trouble of managing it; but Christ, to whom it is no trouble to manage it, manages it for him a thousand times as much to his advantage as he could himself, if he had the managing of all the atoms in the universe.  Every thing is managed by Christ so as to be most to the advantage of the Christian.  Every particle of air, or every ray of sun; so that he in the other world, when he comes to see it, shall sit and enjoy all this vast inheritance with surprising, amazing joy.’[1]

 

Die Bybel sê dat jy ‘n akkurate selfbeeld moet hê, en nie ‘n hoë selfbeeld nie.  Moenie dink dat jy goed of wys is in jouself nie.  Moenie die wêreld se kreed, ‘Glo in jouself,’ aanvaar of dit vir jou kinders leer nie.  Moenie eers vir jou kinders sê:  ‘Ek glo in jou nie.’  Hierdie dinge is wêreldse wysheid.  Nathan Branden praat namens baie ander – selfs Christene – as hy sê:  ‘People who have little or no self-esteem have nothing to contribute to world.’[2]

 

Sielkunde sê dat ‘n lae selfbeeld sleg is en ‘n hoë selfbeeld goed.  Die waarheid is egter dat iemand met ‘n hoë selfbeeld te veel van homself dink.  Amy Carmichael slaan die spyker op die kop:  ‘If you think much about self, you don’t think enough.’  Iemand met ‘n lae selfbeeld bejammer homself, omdat mense hom nie erken, bedank, of raaksien nie.  Selfs vir dié persoon draai die lewe om hom.  ‘n Lae selfbeeld is niks anders as verskuilde hoogmoed nie.

 

Dink dan reg oor jouself.  Moenie dink dat jy goed of wys is nie (3:18, 8:2, Jesaja 5:21).  Galasiërs 6:3 sê:  “Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself.”  En Romeine 12:3:  “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.”  Jesus het gesê jy moet jouself verloën, haat, en walg – nie jouself verhef nie (Lukas 9:23, 14:26, Esegiël 36:31).  Jy moet min dink van jouself; arm van gees en nederig wees (Matteus 5:3, Jakobus 4:6).  Jy moet besef dat jy ‘n hopelose en verlore sondaar is (Lukas 18:13-14).

 

Kontrasteer dit met wat sielkunde sê:  ‘The most serious sin is the one that causes me to say “I am unworthy”.’[3]  ‘Once a person believes he is an “unworthy sinner” it is doubtful if he can honestly accept the saving grace God offers in Christ.’[4]

 

Paulus het gesê dat hy die minste van die apostels is, die minste van alle gelowiges, en die grootste van sondaars (1 Korintiërs 15:9, Efesiërs 3:8, 1 Timoteus 1:15).  Hy het ook na homself verwys as ‘n ellendige mens (Romeine 7:24).  Hy het homself en sy selfgeregtigheid as drek beskou om Jesus se geregtigheid te verkry (Filippense 3:7-9).  Self-liefde is ‘n kenmerk van ongelowiges en nie van Christene nie (2 Timoteus 3:2, Filippense 2:3-4).  Ja, God het jou na sy beeld gemaak en jy is nie ‘n dier nie (Genesis 1:26-27).  Maar ‘n hoë selfbeskouing is onbybels en lelik.

 

Jy moet besef dat jy ryk is in Christus (3:21-23).  Jesus alleen is waardig en deur sý geregtigheid is jy waardig voor God (Openbaring 5:2-5, 3:4, 2 Korintiërs 5:21, Jesaja 43:4).  Jesus het nie gesterf omdat jy waardig was nie, maar ten spyte daarvan dat jy ‘n onwaardige sondaar is (Romeine 5:8).  Party mense sê dat Jesus vir jou sou sterf as jy die enigste persoon op aarde was.  Dit is waarskynlik waar, maar dit wys nie dat jy waardig is nie, maar dat jou sonde alleen groot genoeg was om so ‘n prys te vereis.

 

As jy selfversekerd voel en hoog dink van jouself, sal jy in jouself soek na vervulling.  Jy sal nie by Jesus kom soek nie, en gevolglik ook uitmis op die volheid wat net in Hom te kry is.

 

’n Skoon gewete (4:1-5)

Almal in die buurt ken vir Gary as ‘n gawe inwoner wat mense help en altyd vriendelik groet.  Na 15 jaar kom dit uit dat hy al vir jare met dwelms handel en skuldig bevind is aan elf verkragtings en ‘n moord.  Skielik besef jy dat jy nooit die ware Gary geken het nie.  Wilma is bekend as ‘n stil, kortaf, en eenkant tannie in die kerk.  Op ‘n dag gaan kuier jy by haar.  Daar vind jy uit dat sy baie gaaf is, gasvry is, vir die armes sorg, en getrou bid vir die kerk.

 

Het jy al mense verkeerd opgesom?  Paulus waarsku:  “Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel, maar volg ander eers agterna.  Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.” (1 Timoteus 5:24-25).  1 Korintiërs 4:1-5 leer vir ons ‘n soortgelyke les.

 

Paulus wou nie hê dat die Korintiërs in hom, Apollos, of Cefas (Petrus) moes roem nie (3:4, 21, 1:12).  Hulle was maar net dienaars van Christus (4:1).  Hulle was maar net rentmeesters wat die plaas moes bestuur, en nie die eienaar nie (Lukas 12:42, 1 Petrus 4:10, Titus 1:7).  Moet daarom nie vra hoeveel eiendom die rentmeester namens die eienaar bestuur nie.  Vra eerder of hy getrou is daarin (4:2)?

 

Paulus het nie omgegee as mense sleg van hom gepraat het, of meer van Apollos gehou het nie (1:12).  Net hy, en nie ander nie, het geweet wat in sy hart was (4:3).  Sy gewete het hom nie gepla nie (4:3).  Hy kon vir die Joodse Raad sê:  “Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.” (Handelinge 23:1).  Ek het op ‘n tyd getwyfel oor my roeping en wou die bediening verlaat.  ‘n Ouer man het vir my gevra:  ‘Are you doing what you are doing with a clear conscience?’  Toe ek ‘ja’ antwoord het hy gesê:  ‘Then get on with it!’

 

Maar onthou tog dat jou gewete jou kan bedrieg (Jeremia 17:9).  Daarom sê Paulus ook:  “want ek is my van geen ding bewus nie.  Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.” (4:4).  Selfs as jy dink jy is onskuldig weet die Here beter en weet Hy die waarheid oor jou (Job 9:15, Psalm 143:2).

 

[1] Jou gewete kan verkeerd ingelig wees.  Toe ek op skool was het ‘n onderwyser vir ons geleer dat ‘n sekere daad nie sonde is nie.  Ek het vir jare só gelewe sonder dat my gewete my gepla het.

 

[2] Jou gewete kan jou sonde regverdig.  Jy kan byvoorbeeld na films kyk waarin hulle gedurig ‘Oh my G-d!’ sê, en jouself probeer oortuig dat dit nie verkeerd is nie.

 

[3] Jy kan jou gewete skroei.  Ek dink byvoorbeeld aan iemand wat so baie lieg dat dit later nie meer sy gewete pla nie.

 

Om ‘n skoon gewete te hê is goed.  Maar ‘n skoon gewete beteken nie jy is onskuldig nie.  God ken ons harte en sal besluit of ons onskuldig is of nie.  Hoor weer wat Paulus sê:  “want ek is my van geen ding bewus nie.  Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.” (4:4).  1 Johannes 3:20 lees:  “want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.”

 

Paulus het hom nie aan mense se lofprysing of afkeer gesteur nie.  Hy het sy eie hart geken en geweet dat die Here oor die geheime dinge sal oordeel.  “Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.” (4:5).  In Romeine 2:16 praat Paulus van “die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel”.  Salomo het gesê:  “Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.” (Prediker 12:14).

 

Sorg net dat jy getrou is, jou beste doen, en dat jou gewete skoon is.  Volg Paulus se voorbeeld:  “Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.” (Handelinge 24:16).  As jy dít doen dan maak dit nie saak as mense sleg dink en praat van jou nie (4:2-3).  Honde tjank vir die maan, maar die maan skyn nog.

 

Hoe kan jy jou gewete skoon kry?

 

  • Bely jou sonde. As jy dit nié doen nie sal jy jou gewete skroei sodat dit ‘n gevoellose eelt word.
  • Bely die sonde in jou verlede. Moet egter nie aanhou om skuldig te voel nadat jy dit bely het nie. Toe ek skuldig gevoel het oor die sonde in my verlede het ‘n ouer predikant vir my gesê: ‘Wat het die verlede te doen met die hede?’
  • Lig jou gewete reg in deur dit met die Skrif te voed. Dit sal help dat jy nie skuldig voel oor dit wat nie sonde is nie. Iemand kan byvoorbeeld sê dat dit sonde is as jy in die aand eerder as in die oggend stiltetyd hou. Jy hoef nie skuldig te voel oor so iets nie, want dit staan nie in die Bybel nie.

 

As jou gewete skoon is hoef jy jou nie te steur aan mense se fronse nie (4:3).  Jy moet egter oppas dat jy nie vir hulle rede gee om sleg van jou te dink en te praat nie.  ‘n Ongetroude man kan nie gereeld by ‘n getroude vrou kuier en sê:  ‘Ons doen niks verkeerd nie.  My gewete is skoon.  As mense wil sleg dink is dit hulle probleem.’

 

Jy kan alleen ‘n rein gewete hê deur Jesus, want dit is sy bloed wat ons “gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” (Hebreërs 9:14).  Om veilig te wees op die oordeelsdag kan ‘n skoon gewete nie jou fondasie wees nie.  Slegs Jesus kan verseker dat jy die oordeel slaag (4:4, Romeine 8:1, 33, Johannes 5:24, Judas 24).  Moet ook nie die lof van mense soek nie, maar wag dat die Here jou beloon (4:5, 3:21, 14-15, Matteus 6:3-4, 6, 18, 10:41-42).

 

Soos jy nie wil hê dat ander jóú moet oordeel nie, moet jy ook nie húlle motiewe en lewe oordeel nie.  Moenie sê:  ‘Sy Whatsapp status en die prent wat hy op Facebook gesit het was direk op mý gemik’ nie.  Of:  ‘Ek weet hoekom sy nie my oproepe antwoord nie:  sy wíl nie met my praat nie.’  Is jy 100% seker?  ‘Nee, maar ek wéét net!’  Hoe weet jy?  Is jy God wat mense se motiewe ken en al die feite van die situasie het?  Wag eerder vir die dag wanneer die Here kom en die geheime dinge aan die lig sal bring (4:5).

 

Die graad 8 onderwyser van Hoërskool Gemiddeld in die Kaap vat die o/14 A span om krieket te gaan kyk op Nuweland.  In die wedstryd slaan AB de Villiers 100 van net 40 balle.  Die seuns kritiseer sy spel en sê dat sy kaphoue nie ortodoks is nie, en dat sy dryfhoue nie ‘n klassieke styl het nie.  AB hoor dit, maar steur hom nie aan die kritiek nie.  Hy weet dat hy sy beste gedoen het en sy span gehelp het om te wen.  Elke seun verbeel hom dat hy beter kan doen, maar ons almal weet wat die waarheid is.

 

Moenie soos daardie seuns wees nie.  Dink reg oor jouself.  Besef wat jy in Jesus het, maar moenie meer van jouself dink as wat jy behoort te dink nie.  Ook moet jy jou nie steur aan wat ander van jou dink nie.  Wie se opinie is dit buitendien wat op die oordeelsdag gaan tel?  Ander s’n, joune, of God s’n?  “Want nie hy wat homself aanbeveel, dié is beproef nie, maar hy wat deur die Here aanbeveel word.” (2 Korintiërs 10:18).

[1] Works: volume 2, p.617

[2] How to Raise your Self-Esteem, p.147

[3] Robert Schuller, aangehaal in Power Religion, p.253

[4] Robert Schuller, Self Esteem, p.98