Jesus by die Rooisee

Red Sea parting

Wat is die sentrale gebeurtenis in die Ou Testament?  Watse Ou Testamentiese gebeurtenis word meer dikwels na terugverwys as enige ander gebeurtenis?  Wat word beskou as God se grootste wonderwerk in die Ou Testament?  Ek gaan ‘n skoot in die donker skiet en raai dat dit die verdeling van die Rooisee, en God se verlossing van Israel uit Egipte is.  Dit is die gebeurtenis waarna ons vandag gaan kyk (Eksodus 13:17-15:21).

 

Jesus is wys (hfst.13)

Op 8 Desember 1840 het David Livingstone in Skotland op die George geklim en na Suid-Afrika vertrek om ‘n sendeling te wees.  Hy was vir drie maande op ‘n stormagtige see.  Toe die skip se voorste mas gesplit het, moes die George by Rio de Janeiro stop om herstel te word.  Terwyl Livingstone in Brasilië was het hy quinine in die veld gekry.  Jare later het hy dit in Afrika gebruik as ‘n teenmiddel vir malaria.  God het gesorg dat die skip ‘n ompad moes seil, sodat Hy jare later baie mense van malaria kon red![1]

 

Dieselfde het in 13:17-22 gebeur toe God vir Israel met ‘n langpad Kanaän toe laat trek het.  Hy het gekeer dat hulle die kortpad deur Filistia gevat het, en het gemaak dat hulle by die Rooisee om en deur die woestyn moes trek.  Hy het dit gedoen omdat (sien 13:17-18, 20, 3:12, 14:11-12):

 

  • Hy sy heerlikheid en krag wou wys by die Rooisee
  • Hy die Egiptenare wou verdrink
  • Hy wou keer dat sy volk terugdraai Egipte toe as hulle oorlog teëkom in Filistia (vgl. Numeri 14:1-4)
  • Hy sy goedheid en mag wou wys deur kos en water te voorsien in die woestyn
  • Hy sy volk Sinaï toe wou vat om Hom te aanbid en sy wet te ontvang

 

Die volk het uit Egipte vertrek en Josef se bene saamgevat (13:19).  Josef het geglo dat God die volk sou verlos en het sy broers laat sweer dat hulle sy bene in Kanaän sou begrawe (Genesis 50:24-25, Hebreërs 11:22).  Israel het sy laaste wense eerbieding en sy bene in Kanaän begrawe (Josua 24:32).

 

God het voor die volk uitgetrek in ‘n wolk- en vuurkolom (13:21-22).  Hierdie bakens sou vir hulle rigting aandui, skaduwee bied teen die woestynson, hitte en lig gee in die nag, Jesus se glansryke heerlikheid verberg, en ‘n plek wees waar Hy met Moses kon praat (16:10, 33:9-10, Numeri 9:15-23, Psalm 105:39, Jesaja 4:5, Lukas 21:27).

 

Ons moet in die lig van sy wysheid lewe.  Soms sal Hy jou met die langpad langs lei.  In sulke tye moet jy nie kla, verbitterd raak, ongeduldig wees, hopeloos voel, of besluit om jouself uit te help nie.  Saul was versoek om nie vir die Here se tyd te wag nie, en het homself uitgehelp (1 Samuel 13:8-13).  Satan het vir Jesus versoek om nie op die Here te wag nie, maar Homself uit te help (Matteus 4:3-4).  Jesus het nie toegegee nie.

 

Vertrou die Here se wysheid.  Glo dat Hy die situasie beheer en dat Hy goed is.  Hou aan met bid en moenie moedeloos word nie (Lukas 18:1).  Prys Hom vir sy goedheid en wysheid.  Hierdie riglyne sal help as daar ‘n ongeluk op die R21 is en jy die langpad moet vat.  Augustinus moes Rome toe gaan om te preek.  Die gids het per ongeluk ‘n verkeerde afdraai geneem, sodat hulle die langpad moes vat.  Toe hulle in Rome kom het hy gehoor dat sluipmoordenaars hom op die kortpad ingewag het.

 

Ons regering kan nie my vriend se papierwerk uitsorteer nie.  Nou moet hy al die pad terugvlieg Amerika toe om dit reg te kry.  Is die Here in beheer van hierdie ‘ompad’?  As jy vir lank werkloos is, beheer God jou ‘langpad’.  As jy vir jare wag om te trou of kinders te hê, is dit God wat in beheer is van jou ‘langpad’.  As jou rekenaar blaas en jy al jou werk moet oor doen, is God in beheer van hierdie ‘ompad’.  William Carey het baie vertalingswerk gedoen in Indië.  Op ‘n dag toe brand die stoorhuis met al sy manuskripte af.  Wat ‘n verlies; hy moes al die werk oor doen!  Maar God was in beheer van hierdie ‘langpad’.  In Engeland het baie mense hiervan gehoor, sodat daar baie ekstra finansies en ook nuwe sendelinge bygekom het.  As jy vir baie lank siek is kan jy glo dat God in beheer is van jou ‘langpad’.  Wat van ‘n kind wat vir jare rebels is?  God is in beheer van hierdie ‘langpad’.  Vertrou en volg die Here se wysheid en nie jou eie nie.  Die Skrif sê:  “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” (Spreuke 28:26).

 

Jesus is sterk (hfst.14)

‘n Liberale predikant het by ‘n Amerikaanse negerkerk gepreek.  In sy preek het hy gepraat van Israel by die Rooisee.  Iemand in die gehoor het gesê:  ‘Praise de Lord!  Takin’ all dem children through de deep waters.  What a mighty miracle!’  Die prediker het gefrons en gesê dat dit nie ‘n wonderwerk was nie, omdat Israel deur ‘n 30cm-diep Rietsee getrek het.  Die man het gesê:  ‘Praise de Lord!  Drownin’ all dem Egyptians in six inches of water.  What a mighty miracle!’[2]

 

Mense wat sê dat Israel deur die Rietsee getrek het, kry hulle idees by liberale skeptici.  Daar is genoegsame bewyse dat Israel deur die Rooisee en nie deur die vlak Rietsee getrek het nie.[3]  Eksodus 14 beskryf ‘n massa water wat die Egiptiese weermag, strydwaens, en perde verdrink en verpletter het.  Dit kon onmoontlik in vlakwater gebeur het.  Buitendien kan daar nie mure van water wees in ‘n vlak Rietsee nie (14:22, 29).

 

Die volk het by die see kamp opgeslaan.  God het Farao se hart verhard, sodat hy met sy hele weermag – offisiere, strydwaens en al – vir Israel agterna gesit het (Psalm 105:25).  Dit het God gedoen omdat Hy sy mag oor Farao en die Egiptenare wou wys (14:1-9).  Toe die volk die Egiptenare sien, het hulle baie bang geword (14:10).  Selfs nadat hulle gesien het hoe God Egipte met die tien plae verwoes het, het hulle nogsteeds nie geglo nie en was hulle bang.  Die volk het tot die Here geroep, maar dadelik weer vir Moses beskuldig.  “Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe?  Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?” (14:11).  Hulle was sarkasties:  Egipte staan immers bekend as die land van grafte (die piramides).  ‘Is daar nie genoeg grafte in Egipte nie dat jy ons in die woestyn wil begrawe?!’

 

Alhoewel die volk rebels was, het God hulle gered sodat sy groot Naam bekend kon word:  “Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee.  Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak.” (Psalm 106:7-8).

 

Die volk het gesê:  “Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie:  Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien?  Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.” (14:12).  Duidelik het die volk nie onthou hoe erg die slawerny was nie.  So kan ons ook gou vergeet dat ons uit die slawerny van sonde gered is:  “want hy by wie hierdie dinge [Christelike kwaliteite] nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2 Petrus 1:9).

 

Die volk moes net stil wees, nie vrees nie, en in geloof vorentoe beweeg:  God sou vir hulle veg (14:13-15, Deuteronomium 1:30-31, Jesaja 30:15, Hebreërs 11:29).  Die Rooisee is ‘n mooi illustrasie van God se werk en ons reaksie in verlossing.  Ons het niks bygedra tot ons redding nie.  Ons was stil – die Here het vir ons geveg (die kruis).  Ons moet egter in geloof reageer en doen wat Hy vir ons sê:  ‘Bekeer jou en glo die evangelie!’

 

Die Engel van die Here was in die wolk wat skeiding gebring het tussen die Israeliete en die Egiptenare (14:19-20).  Volgens 3:2, 6, 14-15, 23:20-21, Jesaja 63:9 is die Engel van die Here God self.  Uit die Nuwe Testament weet ons dat dit Jesus is.  Ja, dit was Jesus wat die Israeliete deur die woestyn gelei het (1 Korintiërs 10:9).  “Now I want to remind you, although you once fully knew it, that Jesus, who saved a people out of the land of Egypt, afterward destroyed those who did not believe.” (Judas 5, ESV).

 

Moses het sy staf opgelig.  Die Here het ‘n warm ooste wind oor die see laat waai (Genesis 41:6).  Die water het soos mure opgestaan.  Die volk het op droë sand deurgetrek (Psalm 106:9).  God het die Egiptenare verhard, sodat hulle die Israeliete in die see in gevolg het.  Jesus het uit die wolk neergekyk en die Egiptenare verwar.  Hy het hulle strydwaens se wiele laat vasslaan en afval.  Die Egiptenare het besef dat die Here vir Israel veg en het probeer om te vlug (14:16-18, 21-25).  Moses het weer sy staf opgelig, sodat die watermassa oor die hele weermag gestort het en hulle lyke op die strand uitgespoel het (14:26-30).  God bewerk nie ‘n halwe redding nie.  Hy het sy volk volkome en finaal van Farao en die Egiptenare gered.  Die volk het in God geglo en Hom gevrees.  Hulle het ook geglo dat Moses sy kneg is (14:31, kontrasteer dit met 2:14, 4:16, 6:8).

 

Glo in God se krag wanneer jy deur beproewing gaan.  Wys dat jy regtig glo:  roep Hom aan (Psalm 50:15, 34:18, 107:6).  Moenie bid en dadelik weer angstig raak, sodat jy mense vir jou slegte omstandighede beskuldig nie (14:10-12).  Glo eerder dat God die moeilike situasie oor jou pad gebring het, omdat Hy sy Naam wil verheerlik en jou wil bevoordeel.  Vertrou dat God die onmoontlike kan doen (Matteus 19:26, Jeremia 32:17, 27, Lukas 1:37, Efesiërs 3:20).  ‘n Ryk Christen sakeman se besigheid het probleme opgetel.  Dinge het baie sleg gegaan.  Hy het ‘n predikant gebel en vir gebed gevra.  Hy, die predikant, en die Christen personeel het saam gevas oor die saak.  Toe hulle weer hoor het sy besigheid publisiteit gekry op CNN International!  Nou kon hy nie voorbly nie!  God het gedoen wat onmoontlik gelyk het.

 

As jy gebid het moet jy in geloof reageer en aksie neem (14:15).  Bring jou kant; ‘beweeg vorentoe’.  Moenie bang wees as jou vyand te sterk is of die situasie te groot lyk nie.  Die Here sal vir jou veg (14:13-14, Jesaja 41:10, 13-14, 2 Kronieke 20:15, 17).  En “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Romeine 8:32).  As jy nie glo dat die Here jou kan help nie, ontken jy sy goedheid, sterkte, en getrouheid.  Ongeloof is ‘n klap in sy gesig.

 

Jesus is lofwaardig (hfst.15)

Die afgelope naweek was ek by ‘n Paaskamp.  Onder die begeleiding van oom Louis Lourens was ons samesang uit die boonste rakke.  Die kampgangers het die dak gelig.

 

Hoekom is dit dat Christene gedurig saamsing?  Hoekom is Islam, Hinduïsme, Buddhisme, en ander wêreld-godsdienste nie singende godsdienste nie?  Ons sing omdat ons bly is; omdat ons gered is.  Ons sondes is vergewe, ons het ‘n plek in die hemel, ons is aangeneem as God se kinders, ons is geregverdig, ons is weergebore.  Watter ander godsdiens het ‘n boek soos die Psalms?

 

Moses en die volk het God geprys vir sy verlossing (15:1, Psalm 106:12).  Die vroue, onder leiding van Miriam, het op tamboeryne gespeel (15:19-21, 1 Samuel 18:6).  Saam met Moses en Israel moet ons die Here prys vir ons groot verlossing:

 

“En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê:  Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!” (Openbaring 15:3).

 

Saam met die volk moet ons die Here prys vir sy heerlikheid (15:1, 11), krag (15:1b-2, 4-6, 10), verlossing (15:2, Openbaring 5:9), toorn (15:3, 7b-8, Psalm 24:8, Openbaring 19:11, Hebreërs 12:29), heiligheid (15:11), goedheid (15:13), getrouheid (15:17), koningskap (15:18).  Laat al die nasies Hom vrees (15:14-16, Josua 2:9-10, 5:1, Deuteronomium 2:4, Numeri 22:3-4).

 

Prys Jesus vir sy redding.  Sing van sy redding, Woord, karakter, die hemel, die nagmaal, sy werk in die skepping, sy voorsiening, sy kerk, sy Gees.  Kies liede waarvan die woorde Bybelse diepte en ‘n gesonde inhoud het.  Dink oor wat jy sing.  Sing met jou hele hart.  Sing met gepaste emosie.  Sing met meer volume en sorg dat die gemeentesang bo die instrumente gehoor kan word.  Samesang moenie ‘n konsert word waarin die instrumente en voorsangers die gemeente uitdoof nie.  Laasgenoemde is veral ‘n geneigdheid in charismatiese kerke.  Moenie die Here vir sy redding loof, maar gou weer teen Hom kerm en kla nie (sien 1 Korintiërs 10:1-4, 5-13).  Lofprysing is ‘n gepaste reaksie vir dié wat deur God gered is:  “O Regverdiges, jubel in die HERE!  ‘n Loflied betaam die opregtes.” (Psalm 33:1).

 

Daar is ‘n politieke spotprent in die koerant waarin ‘n sekere karakter in elke prent verskyn.  Soms is die karakter agter ‘n bed, onder ‘n tak, op ‘n wolk, of langs ‘n emmer.  Maar hy is altyd daar.  Het jy agtergekom dat daar so ‘n Karakter in die Ou Testament is?  Hy is altyd daar:  in die verhale, lofliede, profesieë, spreuke, gelykenisse, geslagsregisters, tempelplanne, wette.  Wie is Hy?  Jesus:  die Een wat by die Rooisee was en honderde jare later aan ‘n kruis gehang het.  Hy is die Verlosser van Israel.  Is Hy jou Verlosser?

[1] Peter Hammond, The Family, faith and upbringing of David Livingstone,  The Reformation Society, p.5

[2] John Currid, Exodus: Evangelical Press Study Commentary, volume 1, p.307

[3] Ibid, p.281