God se goedheid en die mens se ondankbaarheid

Grumbling kid

Kom ek vertel jou van twee mans.  As ek met die een praat sê hy:  ‘Dit help nie om te kla nie.’  En dan begin hy.  Hy kla van begin tot einde.  Dit is so erg dat mense al gesê het:  ‘Ek kuier nie weer by hom nie.’  ‘n Ander man sê weer:  ‘Ek het niks om oor te kla nie,’ en dan vertel hy jou van die Here se goedheid.  Toe my foon gesteel is het hy my gebel en gesê:  ‘Ek hoor jou foon is gesteel; ek stuur vir jou ‘n ander een.’  Toe ek die foon kry toe bel ek hom om dankie te sê.  Sy reaksie was:  ‘Dit lyk my jy ken nie jou Bybel nie:  jy moet vir die Here dankie sê – nie vir my nie.’  So moet ons ook wees.  Moenie ondankbaar wees soos Israel was in Eksodus 15:22-17:7 nie.

God se voorsiening in Sur (hfst.15)

Was jy al in ‘n dorp waar die water ondrinkbaar was?  Het jy al yskoue soet bergwater geproe?  In Parys is die water so sleg dat jy nie uit die krane kan drink nie, maar by SPAR water moet koop.  Jy sal siek word as jy die kraanwater drink.  Toe ek op skool was het ons in die Soutpansberge gaan stap.  Daar het ek yskoue soet bergwater gedrink.  Israel het van beide gesmaak toe hulle in die woestyn was.

Die volk het van die Rooisee af na die Sur-woestyn toe getrek.  Na drie dae in die woestyn het hulle niks water gehad nie (15:22).  Toe hulle uiteindelik by Mara aankom, was hulle harte bitter oor die bitter water daar (15:23).  Hulle moes gebid het, maar het aanhoudend gekla (15:24, 16:2, 7-9, 11, 17:3).

Moses het die Here aangeroep.  God het vir hom ‘n stomp gewys wat hy toe in die water gegooi het, sodat dit in soet water verander het (15:25, vgl. 2 Konings 2:21, 4:41).  God het aanvanklik bitter water gegee, omdat Hy die volk se vertroue en gehoorsaamheid wou toets (15:25-26, 16:4).  Moses skryf later:

“En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie… wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen” (Deuteronomium 8:2, 16).

God sou die volk en hulle bitter water genees as hulle na Hom sou luister (15:25-26).  “En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.” (23:25).  “wat al jou krankhede genees” (Psalm 103:3).

God het die volk na Elim toe gelei waar daar 70 palmbome met koelte, en baie water was (15:27).  Daar was twaalf fonteine:  een vir elkeen van die twaalf stamme.

God se voorsiening in Sin (hfst.16)

Ons het Maandag by ‘n afgetrede predikant en sy vrou gaan kuier.  Hulle het vir 40 jaar nooit ‘n salaris gekry nie.  In die kerke waar hulle bedien het, het hulle nooit ‘n offergawe opgeneem nie.  Hulle getuig dat die Here hulle nooit in die steek gelaat het nie.

Toe hulle dogter 5 word, wou sy ‘n partytjie hê.  Sy het nie geweet dat daar nie geld is nie en het sommer ‘n klomp mense in die buurt uitgenooi.  Haar ma het nie koekbestandele gehad nie en was bekommerd.  Sy het gebid en gevra dat die Here moes help.  Toe sy die volgende oggend opstaan toe is daar ‘n pakkie met koekbestandele op die koffietafel.  Sy weet tot vandag toe nie hoe dit daar gekom het nie.  Kan jy sulke stories vertel?  Israel kon.  God het vir 40 jaar in die woestyn gesorg dat hulle kos en water het.

Die volk het Elim verlaat en na die Sin-woestyn toe getrek (16:1).  Hulle was nou al ‘n maand uit Egipte weg (16:1, 12:6).  Waar het 3 miljoen mense vir ‘n maand kos gekry?  Het hulle melk, kaas, vleis geëet?  God het vir hulle gesorg.  Hulle het kastig onthou dat hulle lekker brood en vleis wat hulle in Egipte gehad het (16:2-3).  “Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.” (Numeri 11:5).  Hulle het maar ‘n kort geheue gehad; hulle het kos en dood bo vryheid gekies (16:3).

God was geduldig met die volk en het belowe om vir hulle brood en vleis te gee (16:4, Psalm 78:24-25).  Hulle sou elke dag kos hê en twee keer soveel op Vrydae, sodat hulle op die Sabbat kon rus (16:4-5).  Hulle moes leer om te glo dat die Here elke dag vir hulle sou sorg.  In die aand sou hulle kwartels hê en in die oggend manna.  So het God gewys dat hy die verheerlikte Een is wat hulle uit Egipte uitgelei het (16:6-7, 10-11).  Die volk moes verstaan dat hulle klagtes nie teen Moses was nie, maar teen God (16:7-9).  “Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” (Lukas 10:16).

God het ‘n oostewind gestuur om die kwartels te bring (16:13, Psalm 78:26-27, Numeri 11:31).  Dit is ‘n bekende feit dat kwartels oor die Sinaï-skiereiland trek.  Hulle vlieg laag en rus wanneer die son sak.  Teen dié tyd is hulle baie moeg en kan ‘n klein kind hulle met die hand vang.

Die manna[1] was brood uit die hemel wat saam met die dou op die grond geval het (16:13-15, Deuteronomium 8:3).  Dit was wit soos koljandersaad, het gelyk soos balsemgom, en het gesmaak soos heuning en vetkoek (16:31, Numeri 11:7-8).  Elkeen het daagliks omtrent 2.2 liter opgetel (16:16-18).  Hulle moes elke dag alles opeet en niks tot die volgende dag oorlos nie.  Hulle het egter nie geluister nie, sodat die manna die volgende dag vrot geword het en vol wurms was.  Moses was kwaad oor hulle ongehoorsaamheid (16:19-20).

Op die sewende dag moes hulle nie manna optel nie.  God sou sorg dat die dubbel-porsie wat hulle op die Vrydag versamel het sou hou tot die Saterdag toe (16:23-26).  Die Sabbatsrus wat in Genesis 2:3 beskryf word is hier as ‘n wet ingestel, en is in 20:8-11 bevestig.  God was kwaad omdat die volk sy Sabbatopdrag geminag het (16:27-30).  “Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn…my sabbatte het hulle baie ontheilig.  Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.” (Esegiël 20:13).

God het vir Moses gesê om 2.2 liter manna in ‘n goue kruik te sit, sodat dit later in die ark gebêre kon word (16:32-34, Hebreërs 9:4).  So kon die volk in latere jare onthou dat God hulle vir 40 jaar in die woestyn versorg het.  Eers toe hulle in die Beloofde Land aankom het die manna opgehou val (16:35, Josua 5:12).

Omdat mates van geslag tot geslag verander, het Moses in 16:36 gesê dat ‘n gomer een tiende van ‘n Efa is.  Dis byna soos ons oupas wat met ponde, pennies, krone, halfkrone en shillings gewerk het, en dit in Rande vir ons moet verduidelik.

God se voorsiening by Rafidim (hfst.17)

In sy preek oor Eksodus 16 het Willem Nel vertel van ‘n vrou wat gebid en gehuil het, omdat sy nie kos in die huis gehad het nie.  Sy wou ook graag vir haar kinders ‘n ete gee op Thanksgiving.  Nadat sy gebid het, het iemand aan die deur geklop en ‘n $50 koopbewys vir haar gegee.  Sy het die Here gedank.  Later het iemand kruideniers vir haar gebring.  Dit was soveel dat sy daarvan in die gangkas en onder die bed moes bêre.  Sy het skaars klaar uitgepak toe die telefoon lui.  Iemand van die kerk het vir haar gesê:  ‘Ons nooi jou en jou kinders uit om by ons te kom eet vir Thanksgiving, en ons vat nie nee vir ‘n antwoord nie.’

Het jy al so ‘n ervaring gehad, waar God meer gee as wat jy nodig het?  Israel het so ‘n ervaring gehad by Rafidim.  Toe hulle daar aankom was daar nie water nie (17:1).  Hulle het alweer gekla, en dit ná God se voorsiening in hfst.15-16 (17:2-3)!  In die Psalms staan daar:

“Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.  En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.  En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê:  Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?  Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?” (Psalm 78:17-20).

“Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie; waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.  Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê:  Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het:  Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!” (Psalm 95:8-11).

Paulus sê in 1 Korintiërs 10:9:  “En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.”

Moses het gebid en vir die Here gesê dat die volk hom wou stenig (17:4).  So wou hulle deur die geskiedenis met hulle leiers doen (Matteus 23:37, Hebreërs 11:37):  Moses, Aäron, Dawid, Sagaria, Stefanus, Paulus, en Jesus (Numeri 14:10, 1 Samuel 30:6, 2 Kronieke 24:21, Handelinge 7:58, 14:19, Johannes 8:59, 10:31-33).

God sou op die rots by Horeb staan.  Moses moes die ouderlinge van Israel daarheen neem en die rots met sy staf slaan (17:5-6).[2]  Kinderbybels laat dit lyk of dit ‘n smal stroompie was, maar volgens Psalm 78:15-16, 105:41 het die water uitgestroom soos riviere.  In 1 Korintiërs 10:4 sê Paulus dat Jesus hierdie water vir hulle gegee het.

Moses het die plek Meriba en Massa genoem:  Meriba omdat hulle met die Here getwis het, en Massa omdat hulle Hom getoets het (17:7).

Ons moet die Here in alles dank (Kolossense 3:15-17, 1 Tessalonisense 5:18).  Moenie kla soos die Israeliete nie (1 Korintiërs 10:10-12).  Soos hulle vaders in die woestyn het die Jode in Jesus se dag teen Hom gemurmureer (Johannes 6:41, 43, 61).  Laat ons met danksegging bid en in ons slegte omstandighede erken dat God goed, wys, en almagtig is (Filippense 4:6).  Moenie angstig wees nie.  Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid.  God sal vir jou alles gee wat jy nodig het (Matteus 6:33).  Wees dankbaar vir wat jy het en moenie kla oor wat jy nié het nie (Filippense 4:12-13).  Moenie só lewe dat die dinge wat jy begeer later ‘n behoefte word, sodat jy kwaad is vir God as jy daarvoor bid en dit nie kry nie.  “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.” (1 Timoteus 6:8).  Leer jou kinders reg deur die Skrif en jou eie voorbeeld.  Jy kan nie vir húlle sê om dankbaar te wees as hulle sien dat jy materialisties is, of altyd koop, ondankbaar is, en nuwer en beter wil hê nie.  Leer om gereeld dankie te sê.  Bid ‘n opregte gebed voordat jy eet en nie net ‘n aangeleerde rympie nie.  Dank die Here vir jou kos.

Nog ‘n paar lesse wat ons uit hierdie hoofstukke leer:

[1] Vergeet jy van die Here as jou spens, petroltenk, en bankrekening vol is?  Roep jy Hom aan as dit maandeinde is?  Jy moet leer om die Here daagliks, nie maandeliks nie, te vertrou (16:21).  Bid vir jou daaglikse brood (Matteus 6:11).  Sê dankie vir jou salaris, maar moenie daarop vertrou nie.  Vertrou op die Here.

[2] Het jy ‘n baie groot behoefte? God kan gee as dit onmoontlik lyk:  “en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë” (Psalm 78:27).  “Toe het ‘n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.” (Numeri 11:31).  God kan brood uit die hemel gee as dit moet.  Die Jesus van die Nuwe Testament is dieselfde God van Eksodus 15-17.  Dit is Hý wat 5000+ mense gevoed het in Matteus 14-15.  Hy kan jóú ook help.

[3] Moenie bid en dan rondsit nie.  Bring jou kant en werk.  Moenie laat slaap nie, maar staan vroeg op en werk hard (16:21):  “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” (2 Tessalonisense 3:10).

[4] Moenie angstig wees, sodat jy soos ‘n slaaf werk nie.  God wil hê jy moet rus ook.  Vertrou dat die Here vir jou sal sorg (16:30, Psalm 127:2).  God het ‘n rusdag gegee sodat jy kan ontspan (Markus 2:27).  Hy sal vir jou sewe dae se kos gee vir net ses dae se werk.

[5] Het jy baie meer as ander Christene?  Deel met dié wat behoeftig is.  Dis die punt van 16:17-18.  Paulus interpreteer dit so in 2 Korintiërs 8:15.

[6] Onthou God se voorsiening (16:33).  Moenie vir die Here dankie sê as die son skyn, maar dan dadelik weer angstig raak en kla as dinge skeefloop nie.  Die Israeliete het in 15:1 die Here geprys, maar in 17:3 gekla toe daar nie water is nie.  Kon die God wat hulle deur die see gelei het nie vir hulle kos en water voorsien nie?  Ons moet die Here nie op die proef stel en Hom uittart nie (Matteus 4:7).

[7] Wees dankbaar dat dinge soms materieel en geestelik goed gaan.  Wees net versigtig dat jy nie kla as God jou van die bergtop af laat trek nie.  Jy kan nie altyd daar bly nie.  God het groter planne.  Hy wil hê jy moet ook in die vallei groei en leer om Hom te vertrou (15:22, 16:1).

[8] Moenie lewe vir brood en water wat vergaan nie (Johannes 4:13, 6:27).  Soek na die ware brood uit die hemel, na die lewende water:

  • “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is:  Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet.  En Jesus sê vir hulle:  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.  Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.  Toe sê hulle vir Hom:  Here, gee ons altyd hierdie brood.  En Jesus sê vir hulle:  Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” (Johannes 6:31-35).
  • “maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” (Johannes 4:14).

Eet ook die lewende brood wanneer jy Jesus se dood in die nagmaal herdenk (1 Korintiërs 11:23-24), wanneer jy God se wil doen (Johannes 4:34), sy Woord lees (Matteus 4:4), en op Jesus vertrou (Openbaring 2:17).

Hoekom moet jy die Here dank en nie kla nie?  Want God haat dit as mense kla.  Buitendien is dit ‘n slegte getuienis vir ongelowiges.  Die Skrif sê:  “Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:14-15).

Wayne Mack vertel hoe hy as kind uit vrye keuse die lande geploeg het toe sy pa dorp toe is.  Hy wou sy pa trots maak.  Toe sy pa terugkom, het hy na die lande gekyk en gesê:  ‘As jy wou ploeg kon jy dit ten minste reguit gedoen het.’  Moenie so reageer op God se goedheid nie.  Wees dankbaar.

[1] Manna beteken ‘Wat is dit?’

[2] Hierdie is nie dieselfde gebeurtenis as in Numeri 20:2-13 nie.