Die enigste oplossing vir sonde in die kerk

Sorrow for sin

Elsie se hand voel dood.  Die dokter het haar ingespuit, salf en medisyne vir haar gegee, en gesê sy moet haar hand vir ses weke nie gebruik nie.  Elsie het gedink sy is slimmer as die dokter:  sy het tennis gespeel en het vergeet om haar salf aan te smeer.  Ses weke later het haar hand swart geword.  Om te keer dat die probleem verder versprei, moes die dokter haar hand afsit.  Net so moet ons nie slimmer probeer wees as Jesus nie.  Ons moenie sy tugopdrag minag, sodat ons ‘n duisend ander oplossings vir sonde in die kerk soek nie.  Die beste is eenvoudig om te doen wat Hy in 1 Korintiërs 5:1-13 voorskryf.

Hoekom moet ons tug toepas? (v.1-2, 6-8)

Die wêreld verlekker hulle oor sonde in die kerk, en beskou dit as ‘n lisensie vir hulle eie sonde.  Ons het onlangs gesien hoe hulle prof. Piet Strauss en ds. Solly Ozrovech se sonde uitgewys het.  Dit is tragies dat die wêreld die kerk se sonde in die media moet uitwys, terwyl die kerk dikwels die sonde in haar midde verskoon:  ‘Ons veroordeel niemand nie.’  Dis presies waarteen Paulus in v.1-2 praat.

Die Korintiërs het die man se sonde onder die mat ingevee.  Paulus moes by Chloë se mense hiervan hoor (v.1, 1:11).  ‘n Man in die kerk het sy pa se vrou gevat (sy stiefma) en in seksuele sonde met haar geleef (v.1).  Seksuele sonde was algemeen in die stad, maar so iets was nie eers in die wêreld aanvaarbaar nie.  Reeds in die Ou Testament het die Here gesê:  “Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die kombers van sy vader opgelig” (Deuteronomium 27:20).  Dit is skandelik dat die Korintiërs geroem het dat hulle verdraagsaam en liefdevol was (v.2).  Hulle moes eerder getreur het dat ‘n lid uit die gemeente verwyder gaan word (v.2).  Ek is bly om te sê dat hulle later ag gegee het op Paulus se brief, en getreur het:

“Want, al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer.  Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir ‘n kort tydjie, julle bedroef gemaak het.  Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie.” (2 Korintiërs 7:8-9).

My vrou bak byna elke aand brood.  Vir elke 4 koppies meel gebruik sy een en ‘n half teelepels gis.  Dié bietjie gis deurtrek die hele deeg, sodat dit ruis.  Dis die prentjie in v.6-8.  Soos deeg wat ruis was die Korintiërs opgeblase met hoogmoed.  Soos ‘n bietjie suurdeeg ‘n hele deeg deurtrek, het hulle nie besef dat een man se sonde die hele kerk kon besmet nie (v.6).  “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (15:33).  Hulle moes die ou suurdeeg van sonde uit hulle midde verwyder, en lewe as mense wat skoongewas is (v.7, 6:11).  Christus is immers as hulle paaslam geslag, en het deur sy kruisdood die suurdeeg van sonde verwyder (v.7, 1 Petrus 1:19, Eksodus 12:19).

Ons moenie die sonde koester waarvoor Hy gesterf het nie.  Ons moenie die fees van verlossing vier met die suurdeeg van boosheid in ons harte of in die kerk nie.  Laat ons eerder opreg wees (v.8).  Daar moet ook nie die suurdeeg van vals lering of skynheiligheid in ons midde wees nie (Lukas 12:1, Matteus 16:6, 12, Markus 8:15, Galasiërs 5:9).

Hoe moet ons tug toepas? (v.3-5, 9-13)

In my vriend se gemeente moes hulle onlangs ‘n immorele man deur kerktug aan die duiwel oorhandig (v.5).  Die man het hom 18 maande later bekeer.  In sy belydenis voor die kerk het hy getuig hoe hy in hierdie tyd nie kon loop, werk, reguit sinne praat, sien, slaap, of logies dink nie.  Dit het met hom gebeur soos wat Paulus in v.3-5 beskryf.

Paulus was nou wel nie liggaamlik by die gemeente teenwoordig nie, maar hy was in die gees daar (v.3).  Dit het niks te doen met transendentale meditasie nie.  Hy bedoel eenvoudig dat hy na hulle verlang, en hulle in sy gebede onthou het; dat sy hart met hulle was (1 Tessalonisense 2:17).  Met die apostoliese gesag wat hy van die Here ontvang het (2 Korintiërs 13:10), het hy reeds die man se sonde geoordeel (v.3).  Die kerk moes, wanneer hulle in Jesus se Naam en met sy gesag vergader het, die man deur kerktug aan die Satan oorlewer (v.4-5, vgl. 1 Timoteus 1:20).  Dit is wat Jesus in Matteus 18:17-18 bedoel het:

“En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.  Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

Wanneer ‘n persoon deur tug van die kerk afgesny word, beskou ons hom as ‘n ongelowige (‘n heiden en ‘n tollenaar).  Wanneer die kerk iemand op aarde tug (op die aarde bind), doen ons dit met God se goedkeuring.  Dié persoon is dus ook onder God se tug (in die hemel gebind).  Indien die persoon hom of haar bekeer en weer in die kerk verwelkom word (op die aarde ontbind), doen ons dit met die goedkeuring van God wat sy hand van tugtiging lig (in die hemel ontbind).

Wat beteken dit om iemand aan Satan oor te lewer (v.5)?  Satan heers oor die bose mense van hierdie wêreld (1 Johannes 5:19, Handelinge 26:18).  As God iemand aan Satan oorlewer, gee Hy vir die duiwel toestemming om so ‘n persoon met siekte en rampe te teister (Job 1:12, 2:6).  Die persoon se liggaam en sondige vlees word vernietig, sodat sy gees gered kan word op die oordeelsdag (v.5).  Met ander woorde, die persoon sal na ernstige siekte van sy sonde af wegdraai en terugkeer na die kerk toe.  Dis Paulus se punt in 11:30-32:

“Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.  Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.  Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.”  Dis amper soos ‘n kind wat die pyn van pakslae moet voel, sodat jy sy lewe kan red van die dood (Spreuke 23:14).

Toe die stigter van die ABK (J.D. Odendaal I) gedoop is, het sy vrou se ds. vir haar gesê sy moet geen genade met hom hê nie.  Volgens die geskiedenis het sy vir sewe jaar nie met hom gepraat nie.  Sy het hom in die oggend en aand gegroet en vir hom kos gemaak.  Tog het hulle in dié tyd vyf kinders gehad![1]

Dis nie wat Paulus in v.9-13 bedoel het nie.  Anders as sy vrou, het Odendaal nader gekom om hierdie verse uit te voer in die eerste Afrikaanse Baptistekerk te Cornelia.  Die kerk het getrou die tug toegepas en niemand voorgetrek nie.  ‘n Aantal van Odendaal se familielede en sy medeleraar (ds. Steyn) is van die gemeente afgesny, omdat hulle volhard het in sonde.  Lede van die kerk sou nie die nagmaal met sulkes vier, hulle vir die nag ontvang, of saam met hulle huisgodsdiens hou nie.[2]  Alhoewel ek nie heeltemal met die laaste optrede saamstem nie, dink ek dat hulle dit in die algemeen reg gedoen het.

Paulus het in ‘n vorige brief vir die Korintiërs gesê om nie met onsedelike mense te meng nie (v.9).  Hulle het hom egter misverstaan.  Hy het nie bedoel dat hulle nie met ongelowiges moet meng nie (v.9-10).  Jesus het met sulke mense geëet om hulle vir die evangelie te wen, en ons moet ook (10:27, Lukas 5:30, 19:7).  As ons hulle wil vermy sal ons uit die wêreld moet uitgaan.  Nee.  Alhoewel ons nie van die wêreld is nie, is ons in die wêreld (Johannes 17:15).

Paulus se bedoeling was eerder dat ons nie met mense moet meng wat hulself Christene noem, en so lewe nie (v.11).  Ons moenie eers saam met so iemand eet nie:  nie in die nagmaal nie, en ook nie in Christelike gemeenskap nie (v.11, 8, hfst.11).  Vermy dié persoon, sodat hy kan skaam word en na die Here toe sal terugdraai.  Die Skrif sê:

  • “laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.” (Matteus 18:17b).
  • “En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle.” (Romeine 16:17).
  • “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korintiërs 6:14-15).
  • “hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.” (Efesiërs 5:11).
  • “Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie… En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word.“ (2 Tessalonisense 3:6, 14).
  • “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.  Keer jou ook van hierdie mense af.” (2 Timoteus 3:5).
  • “Aan ‘n man wat partyskap verwek, moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning” (Titus 3:10).

‘n Jaar of meer gelede het ‘n vriend my gebel en gevra of hy dié maatreëls (v.11) met sy pa moet toepas?  Wanneer dit by familielede kom wat onder tug is, moet ons nie maak asof hulle medegelowiges is nie.  Tog wil die Here hê dat ons ons normale familieverpligtinge teenoor hulle moet nakom (1 Petrus 3:1, 1 Timoteus 5:8).

Deur dissipline moet die kerk oor haar lede oordeel.  God sal deur die gereg oordeel oor dié wat buite is (ongelowiges, 6:1-4, vgl. Markus 4:11).  Hy sal ook finaal oor die wêreld oordeel (v.12-13).  Die kerk moes dus deur tug die bose man uit hulle midde verwyder het (v.13, vgl. Deuteronomium 17:7).

Hoe moet ons hierdie hoofstuk toepas?

Ons moet mense uit die kerk verwyder as hulle ernstig sondig of in sonde volhard (v.2, 5, 7, 13).  Hoe weet ons wanneer om hierdie laaste stap te neem?

[1] Ons moet dié stap neem as iemand se algemene lewenspatroon soos die wêreld s’n lyk; as iemand meer na sonde neig as na bekering.  As jong mense vir die eerste keer in seksuele sonde verval, ‘n skuldige gewete het en die sonde bely, en ware berou toon, hoef ons hulle nie dadelik uit die kerk te verwyder nie.  As hulle egter vir die vierde keer gevang is en net jammer sê omdat hulle uitgevang is, is dit ‘n ander storie.  Hulle lewe soos ongelowiges en wys daardeur dat hulle nie waarlik deel is van die kerk nie.  Ons moet hulle ook so beskou deur hulle onmiddellik uit die gemeente te verwyder (Matteus 18:17b).

[2] Party mense se dade is so erg, dat ons dit nie van ‘n gelowige verwag nie:  seks met jou stiefma, betrokkenheid in ‘n rooftog, om deel te wees van ‘n seksuele orgie.  So iemand moet dadelik beskou word as ‘n ongelowige, en van die kerk afgesny word (v.2).  Dalk wil jy beswaar aanteken en sê:  ‘Daar bestaan nie iets soos groot en klein sonde nie.’  Sê wie?  Hoekom verdien moord dan die doodstraf en diefstal nie?  Jesus self het gesê dat daar groot en klein sonde is:  “Jesus antwoord:  U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.  Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” (Johannes 19:11).

[3] As die sonde openlik bekend is en die wêreld dit gebruik om teen Jesus en die kerk te spot, moet ons die persoon dadelik uit ons midde verwyder (v.1-2).

In ander gevalle hoef ons nie dadelik die sondaar uit ons midde te verwyder nie.  In ‘normale’ omstandighede volg ons Matteus 18:15-17:  “En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan.  En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”

Ons moenie tug nalaat omdat ons sondaars ‘liefhet’ en niemand wil ‘oordeel’ nie (v.2).  Is dit liefde om ‘n blinde man te los wat na ‘n afgrond toe loop, ‘n baba wat by ‘n oop swembad speel?  Tug is liefde (Hebreërs 12:6).

Ons moet sorg dat ons die regte gesindheid het wanneer ons tug toepas.  Ons moet die oortreder liefhê, sagmoedig wees, God vrees, en die persoon se sonde haat; moenie hiper-krities en hoogmoedig wees dat jy dink jý sal nie so sondig nie (v.2, Matteus 7:1-5, Galasiërs 6:1-3, Judas 23).

Wat moet ons doen as iemand erg gesondig het en ware berou toon?  Ons moet eerste toets of die persoon se berou eg is.  Vra vir die persoon hoekom hy of sy jammer is?  Haat hulle die tug, skuldgevoelens, of ander gevolge van hulle optrede?  Bely hulle gewoonlik die sonde nádat hulle uitgevang is?  Verskoon hulle die sonde en blammeer hulle ander?  Hou hulle inligting terug wat eers later uitkom?  Óf is daar bekering van die sonde?  Het hulle berou omdat hulle sonde God se Naam skade aandoen?  Vra hulle raad oor hoe om te verander?  Is hulle kwaad vir hulleself?  Is hulle bang om weer te sondig?

“Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.  Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God—wat ‘n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.” (2 Korintiërs 7:10-11).

‘n Persoon wat ware berou toon en die vrug van bekering dra, moet openlik herstel word en weer toegelaat word tot die nagmaaltafel.  “Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur al te groot droefheid verteer word nie.  Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.” (2 Korintiërs 2:6-8).

Hoekom moet ons mense wat in sonde volhard van die gemeente afsny?  Ons kan nie die wêreld wen as ons sonde onder die mat invee en self nie in die lig lewe nie.  As ons sonde los, sal die res van die gemeente daardeur besmet word, net soos wat een vrot appel die res laat vrot word (v.6).  As ons sonde in ons midde koester en verdra, sal die Here die hele kerk tugtig (Openbaring 2:20-23).  Ons hoef nie bang te wees om tug toe te pas nie.  As ons dit reg doen keur die Here dit goed (Matteus 18:19-20).  Die kerk sal nie ondergaan omdat ons tug toepas nie.  Die Here sal dit eer en sy kerk laat groei (Handelinge 5:14, 1 Samuel 2:30).

Sommige Christen ouers dink dit is wreed om vir kinders pak te gee.  Hulle sal eerder vir hulle kinders pille gee, die i-pad wegvat, die kind in die kamer laat sit, of hom met lekkers en geld omkoop.  Die kind bly rebels en die ouers is gefrustreerd.  As hulle maar net die Bybelse opdrag konstant en met liefde toegepas het.  Dieselfde is waar met betrekking tot sonde in die kerk:  baie mense vermy kerktug en soek na ander oplossings.  Maar God se oplossing is duidelik.

[1] Dr. J.D. Odendaal III, So het God ons Skredes gelei, p.15

[2] Ibid, pp.24, 26