Xenofobie en xenofilie in die Bybel

Xenophobia

Die onlangse xenofobiese aanvalle is ‘n herhaling van wat ‘n paar jaar gelede gebeur het.  Die woord ‘xenofobie’ kom van twee Griekse woorde wat ‘vreemdeling’ (xenos) en ‘vrees’ (phobos) beteken.  Jy sal deur ‘n blanke woonbuurt ry en veilig voel.  As jy egter deur ‘n swart woonbuurt ry sluit jy jou kar se deure.  Toe ek op skool was het ek en my pa een middag gehardloop om Checkers oop te vang.  Twee Venda seuntjies het in die gang gesit.  Toe hulle ons sien aankom het hulle ‘Makhuwa!’ (‘wit man!’) geroep en vir hulle lewens gehardloop.

Xenofilie is die teenoorgestelde van xenofobie.  Dit kom van twee Griekse woorde wat ‘liefde’ (phileo) en ‘vreemdeling’ (xenos) beteken.  Terwyl xenofobie algemeen onder ongelowiges voorkom, is xenofilie ‘n Skriftuurlike opdrag aan Christene.  In Eksodus 17:8-18:27 lees ons van beide.

Xenofobie (hfst.17)

Abdul, ‘n Bangladeshi, maak ‘n klein kafee oop in sentraal Kempton Park.  In Bangladesh kos ‘n blikkie Coke R4.  Hier verkoop hy dit vir R6.  Ander Suid-Afrikaanse winkels verkoop dit vir R8 en kan nie met sý pryse vergelyk nie.  Suid-Afrikaanse winkeleienaars in die omgewing is kwaad omdat húlle kliënte nou by sý winkel koop.  Gevolglik plunder hulle sy winkel en rand hulle hom aan.  Dít is die huidige prent van xenofobie in Suid-Afrika.  In Eksodus 17 het ons ‘n soortgelyke prentjie.

Amalek was een van die sterkste nasies op aarde (Numeri 24:20).  Hulle was uit Esau se nageslag (Genesis 36:12).  Dit was seker oor die oase naby Kades wat hulle met Israel kom veg het (v.8).  Vegtery oor water in die woestyn is algemeen (Genesis 26:17-22).  Amalek se aanval op Israel was ook die Here se tug vir die volk se murmurering in v.7.

Josua moes troepe kies om teen Amalek te gaan veg.  Moses sou sy staf neem en saam met Aäron en Hur teen die berg opklim (v.9-10, 24:13-14).  Hur was Kaleb se seun en Besaleël – die man wat die tabernakel se meubels gemaak het – se oupa (31:2, 1 Kronieke 2:19-20).  Terwyl Moses sy staf opgehou het, het Israel die oorhand gehad.  As hy sy moeë arms laat sak het, het Amalek die oorhand gekry.  Dít het vir die volk gewys dat hulle hoop op ‘n oowinning in God lê, en nie in hulle eie krag nie (v.11).  Moses se hande wat na die hemel uitgestrek was, was simbolies van gebed (9:33, 1 Timoteus 2:8).  Omdat sy hande moeg geword het, het Aäron en Hur dit opgehou totdat die son gesak het en Israel hulle vyande verslaan het (v.12-13).

Moses moes dié oorwinning in ‘n boek opteken, sodat Josua kon onthou om vir Amalek uit te wis (v.14, 24:4, Numeri 21:14).  In Deuteronomium 25:17-19 het die Here deur Moses gesê:  “Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.  As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.”

Die Here het later vir koning Saul beveel om die Amalekiete uit te wis, maar hy was ongehoorsaam (1 Samuel 15:2-3).  In 1 Samuel 30:1-5, 16-17 het Dawid teen hulle baklei.  In 1 Kronieke 4:42-43 het die Simeoniete ‘n oorblyfsel van die Amalekiete verslaan, en in Ester 3:1 lees ons van die laaste van Agag – die koning van Amalek in 1 Samuel 15:32 – se nasate.

Ná die oorlog met Amalek het Moses ‘n altaar gebou en gesê dat die Here Israel se oorlogbanier is.  God sou vir baie geslagte lank teen Amalek oorlog maak, omdat hulle hul hand teen sy troon opgelig het (v.15-16).

As Christene moet ons xenofobie verwag.  Dit is nou wel vreemdelinge wat uit ons land verdryf word, maar dit sal nie lank wees voordat die wêreld jou as ‘n vreemdeling op die aarde sal verdryf nie.  In 1 Petrus 1:1, 2:11 praat die Skrif van ons as vreemdelinge en bywoners op die aarde.  Jesus het gesê:

“As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.  As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê.  Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.  Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het:  ‘n Dienskneg is nie groter as sy heer nie.  As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.  As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.”(Johannes 15:18-20).

As jy nie soos húlle is nie, sal die wêreld sal jou uitskuif, spot, haat, aanval, en doodmaak.  Om guns te wen sal hulle selfs met bedrieglikheid in die kerk inkom – moenie aan hulle toegee nie.  “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” (Matteus 24:24).

Jy moenie en kán nie met die swaard die wêreld oorwin nie.  Hou aan om in Jesus en sy Woord te glo as jy die wêreld se versoekings wil weerstaan (v.12, 1 Johannes 2:15-16).  Dit is wat die Bybel ons beveel.  “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.  En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matteus 24:9-13).  “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.  Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Johannes 5:4-5).

Soos wat God vir Israel geveg het, sal Hy vir jou veg en die wêreld oorwin (v.16).  Deur sy kruisdood het Jesus reeds die wêreld en die owerste daarvan (die duiwel) oorwin (Johannes 12:31, 16:33).  Terwyl ons in hierdie wêreld is, sal God ons teen die bose bewaar (Johannes 17:14-16).  “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Johannes 4:4).

God gaan hierdie wêreld oordeel.  Hy het sy Seun gestuur om die wêreld te red (Johannes 3:16-17).  Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem; die Lig van die wêreld (Johannes 1:29, 8:12).  Jesus stuur ons nou in die wêreld in om sy ligdraers te wees (Johannes 17:18).

Hoekom moet ons haat van die wêreld af verwag?  As jy dit nié verwag nie, sal jy verras en geskok wees wanneer dit kom.  Daarom waarsku 1 Johannes 3:13:  “Verwonder julle nie, my broeders, as die wêreld julle haat nie.”

Xenofilie (hfst.18)

Tydens een vakansie het ons by ‘n Sweedse man en Koreaanse vrou gaan kuier.  Hulle het vir ons die lekkerste kos voorgesit en ons baie hartlik ontvang.  Hulle was gasvry, spraaksaam, en het saam met ons gebid.  Hulle was lief vir die ‘vreemdelinge’ in hulle huis – al het hulle ons van geen kant af geken nie.  Die Skrif sê:  “Die broederliefde moet bly.  Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.” (Hebreërs 13:1-2).

Dit is presies wat God en sy volk in hfst.18 met Jetro gedoen het.  Alhoewel hy ‘n Midianiet was, het die volk hom vriendelik ontvang, en het die Here hom gered.  Jetro was ‘n heidense priester (v.1).  Hy het gehoor wat God vir sy volk gedoen het (v.1).  Hy het Moses se vrou en seuns vir hom teruggebring (v.1-4).  Moses het hulle waarskynlik ná die episode in 4:24-26 vir Jetro gestuur om veilig te wees.

Hfst.18 se gebeure vind plaas ná hfst.19-20.  Ons weet dit omdat Moses en die volk volgens 18:5 reeds by Sinaï kamp opgeslaan het, en omdat hulle reeds die wet ontvang het (v.16, 20).  Die rede hoekom hfst.18 na hfst.17 geplaas word, is omdat Jetro in kontras gestel word met Amalek en Israel.  In hfst.17 kla die volk, en in hfst.18 prys ‘n heiden die God van Israel (vgl. Matteus 8:10).  In hfst.17 val slegte heidene vir Israel aan, en in hfst.18 help ‘n goeie heiden vir Israel.  In hfst.7-17 red God gedurig sy volk.  In hfst.18 eindig God se redding op ‘n hoogtepunt as Hy ‘n heiden red.

Moses het respek gehad vir sy skoonpa.  Hy het hom op die tipiese Midde-Oosterse manier gegroet:  hy het gebuig, hom gesoen, gevra hoe dit gaan, en hom in sy tent ingenooi (v.6-8).  Hy het vir Jetro vertel hoe die Here die plae gestuur het, die Rooisee oopgekloof het, vir sy volk manna, kwartels, en water gegee het, en die Amalekiete verslaan het.  Jetro het God geprys as die grootste God onder al die gode (Psalm 95:3).  Hy het dié belydenis met ‘n offer verseël en ‘n verbondsete saam met Moses, Aäron, en die ouderlinge van Israel gehad (v.8-12, vgl. 24:11, Genesis 31:54).

Die volgende oggend het Jetro gesien hoe Moses die hele dag moes sit om die volk se probleme aan te hoor en uit te sorteer.  Hy het vir Moses gesê dat hy homself én die volk op dié manier sou uitput.  Hy kon nie alleen ‘n hele volk se probleme aanhoor nie, en die volk kon nie die hele dag in die son staan met net een ‘toonbank wat oop is nie’ (v.13-18).  Hy moes leiers oor ‘n 1000, 100, 50, en 10 aanstel om hom te help.  Die leiers moes manne wees wat nie mense gevrees het of omkoopgeld sou vat om so die gereg te verdraai nie.  Hulle moes God vrees en betroubaar wees.  Moses kon dan die groot sake hanteer (v.19-26, 12, vgl. Handelinge 6:3).  Toe Moses dit klaar gedoen het, het Jetro teruggegaan Midian toe (v.27).

Soos God en Moses moet ons vreemdelinge liefhê (xenofilie).  Ek wil by jou aandring om moeite te doen met mense wat die kerk besoek – veral met predikers, sendelinge, en gelowiges van ander kerke of lande.  Groet hulle vriendelik en gesels met hulle.  Dink hoe jy sou voel as jy by ‘n vreemde kerk was, en niemand jou kom groet het nie.  Wees ook bereid om arm predikers en Christene van vreemde kerke finansieel te ondersteun.

Stel jou huis oop vir tee en etes.  Wees bereid dat gelowige vriende, familie, en vreemdelinge by jou huis oorbly:  “streef na gasvryheid” (Romeine 12:13).  Moenie net met jou gaste kuier, saam TV kyk en braai nie, maar bid en lees ook saam met hulle, vertel van God se groot werke in jou gesin, en nooi hulle saam kerk toe (v.8, 12).  Mense sê dikwels vir my:  ‘Ons sal nie Sondag in die kerk wees nie – ons kry familie.’

Daar is ‘n sekere sin waarin skoonfamilie ‘vreemdelinge’ is wat jou familie van buite af binnedring.  In dié hoosfstuk leer ons lesse oor hoe om liefde aan dié ‘vreemdelinge’ te betoon.

  • Jetro het erken dat sy dogter en kleinkinders eerste Móses s’n is, voordat hulle sýne is:  die huwelik is ‘n hegter verhouding as ‘n pa-dogter of oupa-kleinseun verhouding (v.2-6).  Moenie jou skoonkind se plek wil inneem nie.  Jou kinders staan nie meer onder jou gesag nie, maar het een geword met jou skoonkind (Genesis 2:24).
  • Respekteer mekaar (v.7).
  • Stel belang in mekaar se lewens (v.7).
  • Stel julle huise oop vir mekaar (v.7).  Moenie kla omdat jy hulle nie eintlik by jou huis wil hê nie:  “Wees gasvry [teenoor] mekaar sonder om te murmureer.” (1 Petrus 4:9).
  • Hou saam huisgodsdiens (v.8-12).
  • Wees besorg as jy sien dat jou skoonfamilie ‘n verkeerde rigting inslaan (v.18).  Wys hulle foute op ‘n sagmoedige wyse uit (v.17).  Wees nederig genoeg om die raad te aanvaar (v.24).

Hoekom moet ons vreemdelinge liefhê?  Twee redes staan uit:

[1] Jy was ‘n vreemdeling toe God in liefde na jou toe uitgereik het.  “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.” (23:9).  “Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.” (Deuteronomium 10:19).

“[onthou] dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.  Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus… So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efesiërs 2:12-13, 19).

[2] As ons vreemde gelowiges ontvang en liefhet, het ons Jesus lief:  “Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee… wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee…?  En die Koning sal antwoord en vir hulle sê:  Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Matteus 25:35, 40).

Hoe voel jy oor ons land:  oor die misdaad, korrupsie, Nkandla, standbeelde wat geskend word, die xenofobiese aanvalle?  Mag al hierdie dinge – veral die laasgenoemde – ons herinner dat ons vreemdelinge op die aarde is (Filippense 3:20, Hebreërs 11:10, 13-16).  Hierdie wildernis is nie ons tuiste nie; ons is oppad na die Beloofde Land toe.