Verlore elemente in moderne aanbidding

Hillsong

C.S. Lewis het gesê dat ons blindekolle het wat ons net kan raaksien as ons boeke lees wat buite ons eie eeu geskryf is.  Een so ‘n blindekol raak aanbidding.  Die charismatiese invloed oor die afgelope honderd jaar het gemaak dat ons te familiêr geraak het met God.  Ons vrees Hom nie meer nie.  Ons weet nie meer wat dit beteken om voor te berei om Hom te ontmoet nie.  In die 1800’s nog het Christene ‘n verstaan van hierdie dinge gehad.

Hudson Taylor het soms in die nag opgestaan om te bid.  Hy sou nie gebid het, tensy hy nie eers sy hare gekam het nie.  Dit is hoe bewus hy van God se teenwoordigheid was.  Laasmaand het ‘n ou man my vertel van sy pa wat ‘n das en baadjie aangetrek het voor hy stiltetyd hou.  Dié dinge is miskien ‘n bietjie eksentriek, maar die ou Christene het iets gehad wat vandag ontbreek.  Hulle het die elemente van ware aanbidding in Eksodus 19 verstaan.

Voorbereiding (v.1-15)

Twee jaar gelede het ek by ‘n ou oom in Pretoria gekuier.  Hy het voorgestel dat ek elke lidmaat moet uitdaag om op ‘n Saterdagaand vir die preek te bid en hulle harte reg te kry vir die erediens.  ‘Kan jy jou indink watse verskil dit sal maak?’ het hy gevra.  In die ou dae het die susterskerke ‘n Saterdagaand voorbereidingsdiens gehad vir die nagmaal.  Voor dié diens het die ouderlinge elke lidmaat besoek, ondervra, en verslag gedoen aan die kerkraad.  So het hulle gesorg dat persone gereed is vir die nagmaal.  Gelowiges moet hulleself voor enige erediens voorberei en ondersoek.  Eksodus 19:1-15 illustreer dié belangrike beginsel.

Op die derde nuwemaan (die Jode werk volgens ‘n maankalender) nadat God hulle uit Egipte gered het, het die volk by Sinaï gekamp (v.1-2).  In 3:12 die Here vir Moses belowe:  “As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.”  Israel het vir 11 maande daar gekamp (Numeri 10:11-12).

Moses het op die berg geklim, en daar het God tot hom geroep (v.3, vgl. 3:4).  God het vir hom voorgeskryf wat hy vir die volk moes sê.  Hulle moes onthou hoe God die Egiptenare met die tien plae getref het, hoe Hy hulle in die Rooisee verdrink het.  As ‘n arend haar kleintjies leer om te vlieg, kom sy onder hulle in as hulle val.  So het God sy volk op arendsvlerke na Homself toe gebring (v.4).  “Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.” (Deuteronomium 32:11-12).

God se verloste volk moes Hom gehoorsaam en sy verbond hou (v.5).  Die verbond waarvan Hy praat is die Tien Gebooie (Deuteronomium 4:13).  Die Sabbat en die besnydenis is die tekens van die verbond (31:16, Genesis 17).  As Israel dié verbond gehou het, sou hulle God se spesiale en uitverkore eiendom gewees het uit al die volke; ‘n koninklike priesterdom en ‘n heilige volk (v.5-6).  Deur Jesus is gelowiges uit alle nasies God se spesiale eiendom, uitverkore en heilige volk, ‘n koninklike priesterdom (Efesiërs 1:18, Titus 2:14, 1 Petrus 2:9, Openbaring 5:9-10).

Toe Moses dié woorde met die volk gedeel het, het hulle belowe om die wet te hou (v.5-8, 24:3, 7).  God wou hê die volk moes glo dat Moses sý woorde praat.  Daarom sou God voor die uit ‘n dik wolk met Moses praat (v.9, vgl. Matteus 17:5).  God het gesê dat die volk hulle twee dae voor die tyd moes heilig en hulle klere moes was (v.10, 14, Genesis 35:2).  In die Nuwe Testament moet Jesus ons met sy bloed skoonwas, en moet ons heilige dade soos skoon klere wees (Openbaring 3:4-5, 7:14, 22:14).

Die volk moes nie met hulle vroue slaap nie (v.15, vgl. 1 Samuel 21:4-5).  Dis nie dat seks in die huwelik verkeerd is nie, maar dat seks deel was van die heidene se aanbidding.  God se volk moes anders wees.  Net so moet ons nie met die wêreld egbreuk pleeg nie, maar rein wees vir ons hemelse Bruidegom (Jakobus 4:4, Openbaring 14:4).  Daar is selfs tye wat ons onsself van seks in die huwelik moet onthou, sodat ons dié tyd kan wy aan gebed (1 Korintiërs 7:5).

In die ou dae het diensknegte die koning se koms met ‘n trompetgeskal aangekondig.  In Eksodus 19 sou Jahwe, die groot Koning, se koms met ‘n trompet aangekondig word.  Op die derde dag sou Hy met tien duisende engele op Sinaï neerdaal (v.11, 13, Deuteronomium 33:2).  Die volk kon nie sonder toestemming naby die berg gekom het nie.  God is heilig en daarom moes hulle die berg afbaken (3:5).  Indien ‘n mens of dier aan die berg geraak het, moes hulle so een stenig of met ‘n pyl doodskiet (vgl. 2 Samuel 6:6-7, Numeri 4:15).  Die volk moes nie aan dié mens of dier geraak het nie (v.12-13).

Ons moet onsself voorberei om God te aanbid.  Hoe moet ons dit doen?  Besef waarheen jy oppad is.  Jy kom nie bloot na ‘n gebou toe nie; jy kom om die lewende God te ontmoet (v.3).  Moet dan nie sê:  ‘Ek gaan nie vandag kerk toe nie,’ maar eerder, ‘Ek gaan nie vandag vir God aanbid nie.’

Moet ook nie jou aanbidding beperk tot Sondae nie, maar aanbid die Here met ‘n gehoorsame en heilige lewe (v.5, 14, Romeine 12:1).  As jy dít nie doen nie is jou aanbidding op ‘n Sondag nie vir God aanneemlik nie.  Die profeet sê:  “I cannot endure iniquity and solemn assembly.” (Jesaja 1:13, ESV).

Hier is nog ‘n paar riglyne:

  • Wees op die uitkyk vir Satan se versoekings op Saterdae en Sondae.  Hy sal al te bly wees om jou voor ‘n erediens te laat struikel.
  • Pasop dat jy nie voor kerk TV kyk en lelike dinge sien nie.
  • Moet ook nie voor kerk of oppad kerk toe in die kar baklei nie.
  • Moenie dat die koerantopskrifte jou negatief stem voor die erediens nie.
  • Bid op ‘n Saterdagaand vir jouself, ander gelowiges, en die preek.
  • Skakel in by ‘n biduurgroep voor die oggend- en aanddiens (09:00 en 17:30).
  • Omdat ek reekse deur Bybelboeke preek, kan jy raai watse teks ek volgende gaan preek.  Probeer om dié teks te lees voor jy Sondag kerk toe kom.
  • Bely alle sonde en bekeer jou daarvan.
  • Sorg dat jy op Saterdae goed rus, sodat jy nie op Sondae in die kerk slaap nie.  Probeer om nie te laat uit te bly op ‘n Saterdagaand nie.
  • Moenie gejaagd by die kerk aankom nie.  Probeer om op ‘n Saterdag jou kinders se klere reg te sit, om jou hoender en groente in ‘n oondbak te sit.
  • Moenie met onbeskeie kleredrag ander gelowiges se aandag aftrek nie.  Ons aandag moet op Jesus wees – nie op jou nie.
  • Maak jou huis skoon en doen jou inkopies op ‘n Saterdag.  Hoekom moet jy dit op ‘n Sondag doen en die erediens mis?
  • Probeer om nie op Sondae sportbyeenkomste of partytjies by te woon, sodat jy die erediens mis nie.
  • As jy vies is vir die predikant, probeer asseblief om dit in die week vir hom te sê en nie op ‘n Sondag net voor hy preek nie.

Hoekom moet ons die Here met ons hele wese aanbid?  Dit is die minste wat jy kan doen om Hom vir jou redding te dank (v.4).

Vrees (v.16-25)

In Calvyn se dae het die Libertyne in hulle Christelike vryheid geroem.  Hulle het gesê dat hulle vry is om rond te slaap.  Hulle het minnaresse gehad in elke stad.  Hulle definisie van Christelike gemeenskap was dat hulle alles moes deel – ook hulle liggame en vroue.  In 1553 het Calvyn geweier dat Berthelier (‘n Libertyn) die nagmaal gebruik.  Berthelier het vir Geneve se stadsraad gevra om die kerk se besluit te oorheers.

Calvyn het vir Viret geskryf:  ‘I…took an oath that I had resolved rather to meet death than profane so shamefully the Holy Supper of the Lord…I should rather die a hundred times than subject Christ to such foul mockery.’

D-dag het aangebreek.  Berthelier en die Libertyne was by die kerk.  Na die preek het Calvyn by die nagmaaltafel gaan staan.  Toe die molesmakers na die tafel toe storm, het hy sy arms om die tafel gegooi en uitgeroep:  ‘These hands you may crush, these arms you may lop off, my life you may take, my blood is yours, you may shed it; but you shall never force me to give holy things to the profaned, and dishonor the table of my God.’

Die kerk was doodstil.  Die ware gelowiges het toe die heilige nagmaal met vrees gevier, asof God self in hulle midde was.[1]  Soos die vorige element, het ook dié een tot ‘n groot mate verlore geraak in moderne aanbidding:  vrees vir God (v.16-25).

Op die derde dag was daar swaar donderweer, blitse, donker stormwolke, ‘n harde trompetgeskal, vuur en swart rook soos uit ‘n oond, en ‘n aardbewing (v.16-18).  Dit was so erg dat Moses en die volk gebewe het (v.16, Hebreërs 12:21).  Hierdie manifestasies kom ook in die Nuwe Testament voor.  ‘n Harde trompet sal gehoor word net voordat Jesus kom (1 Tessalonisense 4:16).  Jesus se stem sal nie net die aarde nie, maar die hemel laat dreun (Hebreërs 12:26).  God is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:29).  Oor sy teenwoordigheid in die hemel sê Openbaring 8:5:  “En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.”

Die trompetgeskal het harder en harder geword, totdat God vir Moses uit die dik wolk geantwoord het (v.19, 9).  God het nie deur drome en visioene met Moses gepraat nie, maar in ‘n hoorbare stem (Numeri 12:6-8).  In Johannes 12:28-30 het die Vader so met sy Seun gepraat:  “Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom:  Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.  En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag gewees het.  Ander het gesê:  ‘n Engel het met Hom gespreek.  Jesus antwoord en sê:  Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.”

God het op die berg neergedaal en Moses het opgeklim.  Moses was klein voor God (v.20).  God het gesê dat die volk en priesters nie na die berg toe moes deurbreek nie, want anders sou Hy teen hulle uitbreek en hulle doodmaak (v.21-25, vgl. 1 Samuel 6:19).  Moses moes vir Aäron heilig en hom teen die berg op bring (v.24, 22).  So wou God dit hê, want “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik.” (Levitikus 10:3).

Ons moet die Here aanbid met vrees en bewing.  Jy sal dit nooit doen tot jy nie weet met Wié jy te doen het nie.  God is getrou en waaragtig (v.2, 5, 3:12), die Regter wat oor sy vyande oordeel (v.4), die Verlosser van sondaars (v.4), vol genade en ontferming (v.4), Here oor die nasies (v.5), ‘n soewereine God wat kies wie Hy wil (v.5), die Koning (v.6), heilig (v.10-15), skrikwekkend (v.16), almagtig en verhewe (v.16-20), toornig oor sondaars (v.12, 18).  Poog om Hom beter te ken deur die Skrif, gebed, en goeie Christelike boeke soos Om God te Ken (Knowing God) van J.I. Packer.  Om die Here met vrees en eerbied te aanbid, moet jy ook besef dat jy ‘n hulpelose sondaar is wat van stof en as gemaak is (Lukas 18:13, Genesis 18:27).

Dit lyk vir my of ons in ons liede, gebede, en preke te familiêr geraak het met God.  Dis asof Hy ons speelmaat is.  Sommige liede laat dit klink of Hy ons meisie of kêrel is.  Wanneer dit by moderne eredienste kom, heers disrespek vir God op elke vlak:

[1] Volgens Arthur Pink kan ons in eredienste die Skriflesing so aframmel, dat dit disrespekvol is.  In Nelspruit het ‘n klomp kerke besluit om binne 48 uur die Bybel deur te lees.  Elkeen moes vir 30 minute lees.  Ons het tafels in die mall opgeslaan en begin lees.  Ons het blitsvinnig gelees om die teiken te haal.  Vandag kry ek skaam dat ek deel was van so iets.  Dit was nie opbouend nie.  Dit was disrespekvol en het geen vrees vir God of sy Woord gewys nie.  “Maar op hierdie een sal Ek let:  op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”(Jesaja 66:2).

[2] Moderne ‘worship’ CD’s (soos Hillsong en Jesus Culture) en die gemiddelde charismatiese erediens skep hoegenaamd nie ‘n atmosfeer van vrees, eerbied en respek vir God nie.  Mense raak verlore in ‘n breinlose vervoering (‘trance’), spring, raas, skreeu, en dans.  Is dit wat ons in die hemel voor die heilige en heerlike God sal doen?  By jeug- en Sondagskoolbyeenkomste word daar lawwe liedjies gesing (‘Father Abraham had many sons’) waarin vrees vir God ontbreek.  Selfs as die woorde opbouend was, sing die kinders dit so vinnig dat dit beter in ‘n kroeg sal pas, as by ‘n Christelike byeenkoms.

[3] Hoe ons God in gebed aanspreek kan ook disrespekvol wees.  Ons kan uit gewoonte gesê:  ‘Dankie Here vir hierdie lekker dag…’  Of ons kan selfs buddy-buddy met God wees en sê:  ‘Yes dad!’ of ‘Jesus, U is so cool…’

Pasop ook vir die teendeel.  Moenie dink dat ‘n pyporrel en simfonie orkes, of die regte woorde in gebed outomaties beteken jy vrees God nie.  Moet ook nie dink dat instrumente soos kitare of dromme disrespek wys nie (vgl. Psalm 150).  As jy God in jou hart nie vrees nie, beteken jou aanbidding niks.

Dalk dink jy dat vrees en eerbied gegeld het vir die Ou Testament, en dat Jesus dinge kom verander het in die Nuwe Testament.  Dit ís so dat jy nie meer op ‘n afstand hoef te staan nie.  Ja, jy hoef nie bang te wees om na die ‘berg’ toe te kom nie.  Deur Jesus se kruisdood kan jy met vrymoedigheid tot God nader (Hebreërs 10:19-22).  Dit skakel egter nie vrees en eerbied vir God uit nie.  In Hebreërs 12:18-29 staan daar:

“Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie—want hulle kon die gebod nie verdra nie:  selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word.  En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê:  Ek is verskrik en ek sidder.  Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tien duisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.  Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê:  Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.  En hierdie woord:  nog. een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.  Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.  Want onse God is ‘n verterende vuur.”

Hoekom moet ons God met vrees en bewing aanbid?  Die antwoord is maklik:  God is in die hemel en jy is op die aarde.

Toe ek ‘n student was het ‘n ou tannie by die Cornelia Paaskamp met die jong mense geraas, omdat ons denims, kortbroeke, t-hemde, en tekkies aangetrek het kerk toe.  Haar redenasie was:  ‘Jy sal nie so aantrek as jy die president gaan ontmoet of in die hof moet verskyn nie.’  Ons het gedink sy is outyds.  Ek dink nogsteeds dat sy nie die detail reg gehad het nie.  Maar sy het iets verstaan wat verlore geraak het in moderne aanbidding:  ons moet God vrees en onsself voorberei om met Hom te ontmoet.

[1] John Piper se audio-biografie oor die lewe van Calvyn.  Verkrygbaar by www.desiringGod.org