Die Tien Gebooie: Hoe om God lief te hê

Moses receiving Ten Commandments

Ek het op ‘n DVD gesien hoe ‘n evangelis mense in die straat vra hoeveel van die Tien Gebooie hulle ken.  Die meeste kon skaars drie noem en het selfs ander bygevoeg wat nie deel is van die Tien Gebooie nie (hoeveel kan jy opnoem?).  Toe die evangelis vra hoeveel biere die mense kon opnoem, het hulle glad nie gehuiwer nie.

 

Jy weet natuurlik dat die Tien Gebooie net ‘n opsomming van die 613 wette van die Ou Testament is.  Die Tien Gebooie self kan in twee sinne opsom word (Matteus 22:36-40):  die eerste vier gebooie leer vir ons hoe om God lief te hê, terwyl die laaste ses vir ons wys hoe om ons naaste lief te hê.  Vandaar my tema vir die eerste vier gebooie:  Hoe om God lief te hê.

 

Inleiding (v.1-2)

By 2005 se School of Preaching het Dale Ralph Davis die volgende storie vertel.  Die kommuniste in die ou Soviet Unie het talle mense in die tronk gestop, omdat hulle die wet ‘oortree’ het.  ‘n Tipiese gesprek tussen Russiese soldate en die gevangenes sou so iets geklink het:

 

Soldaat:                   Teken hier!

Gevangene:            Maar hoe het ek die wet oortree?

Soldaat:                   Jy het oortree – teken!

Gevangene:            Kan ek die wet sien?

Soldaat:                   Jy hoef nie die wet te sien nie!

Gevangene:            Ek wil graag die wet sien.

Soldaat:                   Ons het nie die wet nie!

Gevangene:            Vra asseblief vir jou kommandant ek wil die wet sien.

Soldaat:                   Hy het ook nie die wet nie!

 

Die wet was in die tsar of president se kop.  Dit is erg as jy nie weet wat die wet vereis nie.  So het heidene in die antieke wêreld nie geweet wat die gode wil hê nie.  Hulle het in vrees gelewe en nooit geweet of die gode tevrede is of nie.  Die Tien Gebooie is dus nie ‘n straf nie maar ‘n genade, want daarin maak God sy wil bekend:  ons weet wat Hy van ons verwag.

 

Die Tien Gebooie verskil van enige ander deel in die Bybel.  Elke teks in die Bybel is onder inspirasie van die Heilige Gees deur mense geskryf.  Net die Tien Gebooie is direk van die berg af gespreek (v.1, 19, vgl. Johannes 1:1).  God het dit met sy eie vinger op kliptafels geskryf (31:18).

 

Die Hebreeus praat van die Tien Gebooie as ‘Tien woorde’ (Deuteronomium 4:13).  God het dit in tien wette opgesom sodat die volk dit maklik kon onthou.  Voor God die gebooie gee sê Hy vir ons wie Hy is (v.2).  Elke gebod wys vir ons iets van wie God is.

 

Gebod 1:                 God is die enigste God.

Gebod 2:                 God is jaloers oor sy eer.

Gebod 3:                 God is heilig en sal nie dat mense sy Naam laster nie.

Gebod 4:                 God is die Skepper wat sy skeppingswerk voltooi het.

Gebod 5:                 God is die Oppergesag wat gesagsfigure oor ons stel.

Gebod 6:                 God is die bron van lewe; moet daarom nie moord pleeg nie.

Gebod 7:                 God is rein; moet daarom nie egbreuk pleeg nie.

Gebod 8:                 God is die gewer van alles; moet daarom nie steel nie.

Gebod 9:                 God is Waarheid; moet daarom nie lieg nie.

Gebod 10:               God is goed; wees daarom tevrede met wat jy het.

 

God sê:  “Ek is die HERE” (v.2).  In 3:14 het God gesê:  EK IS wat EK IS.  Hy is soewerein, selfstandig, ewig, en onveranderlik.  Hy sê:  “Ek is die HERE jou God”(v.2).  Hy het vir Israel geskep en hulle uit Egipte gered, en daarom is Hy hulle God (v.2).  Israel sou nie deur wetsonderhouding gered of geheilig word nie.  God het die Tien Gebooie aan ‘n verloste volk gegee (v.2).  Israel moes vir die wêreld wys hoe ‘n verloste volk lewe (v.2).  Glo dit of nie, maar die genade van verlossing kom voor die wet (v.2)!  Natuurlik kon Israel en ons nie die wet perfek nakom nie, en daarom moes Jesus kom om die wet perfek te onderhou, asook om die straf te kry vir ons wetsoortreding.

 

Sorg dat jy die orde van wet en genade reg het.  Moenie die wet voor genade sit, asof jy deur wetsonderhouding genade kan verdien nie.  Ons voel maklik goed of dink dat God aan ons guns sal bewys (vir ons ‘n kind, huweliksmaat, werk, geld, ‘n groeiende kerk, of hulp met ons probleme sal gee) as ons vir ‘n paar weke nie gevloek het, kwaad was, gesteel het, leuens vertel het, slegte gedagtes gehad het, pornografie gekyk het nie; as ons reg gedoen het, die Bybel gelees en gebid het, of getrou kerk toe gekom het.

 

Dalk wil jy God se genade en vergifnis wen deur vir ure jou sondes te bely, te vas, baie hoofstukke in die Bybel te lees, of eers vir ‘n ruk reg te leef en die wet uit te voer.  ‘n Tyd gelede het ek teen die Here gesondig.  Ek was moedeloos.  Ek wou baie graag die Here se guns terugwen.  Ek het besef dat ek dit nie kan doen nie.  Ek moes eenvoudig my sonde bely en my daarvan bekeer.  Slegs Jesus se offer is aanneemlik voor God.  Dáárin moes ek skuil.  Sodra jy genade verdien is dit nie meer genade nie, maar werke.

 

Vir die ongelowige kom die wet voor genade.  In sý geval is die wet gegee om vir hom te wys hoe sondig hy is (1 Timoteus 1:8-10).  Hopelik sal hy dan vra om gered te word.  Vir die gelowige kom genade voor die wet.  Verlossing is ‘n gratis geskenk.  Noudat ons gered is skryf God sy wet op ons harte (Hebreërs 8:10).  Deur die krag van die Gees kán ons die wet onderhou; Hy máák dat ons daarvolgens lewe (Esegiël 36:27).  Kan enige mens wat volgens die wet begin lewe daardeur heilig word?  Tog werk die Gees in gelowiges en lei Hý hulle om daarvolgens te lewe (Romeine 8:4, Galasiërs 5:23).

 

Moenie die wet vóór genade sit nie.  Maar moet ook nie vergeet om die wet ná genade te sit nie.  Moenie wetteloos wees nie (Romeine 6:1-2).  Wie waarlik gered is sal die wet liefhê en daarvolgens wíl lewe.

 

Wat sal gebeur as jy die orde van die wet en genade omruil?  Jy sal in vrees lewe en nooit seker wees of jy genoeg gedoen het om God se guns te wen nie.  Jy sal trots raak as jy dink dat jy genoeg gedoen het.  Jy sal ‘n vals hoop hê wat op sand gebou is.  Jy sal in jou eie krag probeer om die sonde te oorwin, en uiteindelik moedeloos wees:

 

“As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos:  raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?—almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” (Kolossense 2:20-23).

 

Die eerste gebod (v.3)

Ek onthou hoe ek in 2008 gebid het dat God my sal help om die eerste gebod te verstaan.  Ek was oortuig dat ek dié gebod nie oortree het nie.  Kort na ek gebid het, het ek ingeskryf vir ‘n beradingskursus.  Daar was een hele klas wat oor dié onderwerp gehandel het.  Ek het besef dat elke sonde voortvloei uit ‘n oortreding van die eerste gebod.

 

Die eerste gebod sê dat ons naas Jahwe geen ander gode mag hê nie.  Ons kan dus nie soos die Assiriërs vir Jahwe en die afgode dien nie (2 Konings 17:33), of soos die Hindus vir Jesus en die afgode dien nie.  Ons mag geen gode voor die Here hê nie.  Jahwe moes vir Israel nr. 1 wees bo hulleself, die gode van Egipte (12:12), of enigiets en –iemand anders.  Vers 3 sê nie daar is ander gode nie (Jesaja 44:6).  Die verbod word gegee omdat die mens alewig in sy hart besig is om nuwe gode uit te dink.

 

Moenie afgode aanbid nie.  Jy kan passievol wees oor iets, sonder dat dit vir jou ‘n afgod is.  Hoe weet wanneer iets vir jou ‘n afgod is?  As jy iets so erg wil hê dat jy die wet sal breek om dit te kry of die wet breek as jy dit nie kan kry nie, is dit vir jou ‘n afgod.  Kolossense 3:5 sê gierigheid is afgodery.  ‘n Paar voorbeelde sal jou help om beter te verstaan:

 

  • Geld is vir jou ‘n afgod as jy steel, kliënte belieg, vir SARS kroek om dit te kry.
  • Gemak en jou reputasie is vir jou ‘n afgod as jy moord pleeg, bitter is, ander slegsê, mense uitskuif as hulle dit bedreig.
  • Seks en plesier is vir jou ‘n afgod as jy egbreuk pleeg en wellustig is om dit te kry.
  • ‘n Mooi liggaam, geld en besittings is vir jou ‘n afgod as jy jaloers is op ander wat dit het.
  • Voorspoed, geld, en geluk is vir jou ‘n afgod as jy ‘n ander god aanbid of ‘n vals een skep om dit te kry. Prosperity predikers doen dit deur ‘n vals Jesus te skep wat bestaan om jou ryk te maak.
  • Geld, gemak, gesondheid, besittings, en ___ is vir jou ‘n afgod as jy God se Naam laster, weier om kerk toe te gaan om Hom te aanbid, kwaad is vir Hom as Hy dit nie vir jou gee nie.
  • Plesier, vriende, meisies en kêrels is vir jou ‘n afgod as jy disrespek toon aan jou ouers as hulle ‘nee’ sê vir hierdie dinge.

 

Hoekom moet jy nie ander gode aanbid nie?  As jy dít doen sal jy baie sorge en probleme hê, en uiteindelik in die hel beland (Psalm 16:4, Openbaring 21:8).

 

Die tweede gebod (v.4-6)

Mark Dever vertel hoe hy by ‘n doktorale seminaar ‘n lesing oor ‘the Doctrine of God’ moes aanbied.  Ná sy praatjie het ‘n man gesê:  ‘I like to think about God as…’  Toe die man 10 minute later klaar is, het Dever gesê:  ‘Bill, thanks for telling us so much about yourself… but this is a seminar about the doctrine of God.  What you’ve just did, is tell us about yourself:  you like to think about God like this or that.  We want to know in fact what God is like; not what your preference is of what God is like.’  Dit is presies waarteen die tweede gebod waarsku.

 

Die eerste gebod sê dat ons nie vals gode mag aanbid nie.  Die tweede gebod sê dat ons die ware God nie op ‘n vals wyse mag voorstel nie.  Die Amish is verkeerd om te dink dat die tweede gebod enige kunswerk verbied.  Jy mag ‘n olifant uit seepsteen kerf en die Alpe skilder.  Jy mag egter nie sulke beelde maak en sê dat die onsienlike God so lyk nie (v.4-5).  Aäron het ‘n goue kalf gemaak en gesê dat dit die Here voorstel (32:4-5).  God is heilig en uniek; Hy is ‘n ewige Gees.  Daarom moet ons Hom nie afbring tot op die vlak van ‘n skepsel nie:

 

“En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie—net ‘n stem was daar… Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie—sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou, ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is” (Deuteronomium 4:12, 15-18).

 

Ons is na sý beeld gemaak, en daarom moet ons Hom nie na óns beeld wil maak nie:  “As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.” (Handelinge 17:29).

 

Soos ‘n bruidegom jaloers is oor sy bruid en haar nie met ander deel nie, sal God ons nie met ander gode deel nie (v.5, vgl. 34:14, Nahum 1:2).  As ‘n pa afgode aanbid, sal hy sy nageslag leer om dieselfde te doen.  Indien hulle sy voorbeeld volg en die Here haat, sál Hy hulle straf (v.5, 34:7).  Die teks sê nie dat kinders vir hulle ouers se sondes gestraf word nie (v.6, Deuteronomium 24:16, Esegiël 18:20), maar eerder dat die pa se voorbeeld sy kinders beïnvloed, en dat sy sonde nadelige gevolge vir hulle mag inhou.  Lees gerus 1 Konings 12 en verder.  Jy sal verbaas wees hoe baie konings Jerobeam die seun van Nebat se oortreding van die tweede gebod nagevolg het.

 

God se liefde is groter as sy toorn.  Sy troue liefde duur tot in die duisendste geslag vir dié wat hulle liefde vir God bewys deur sy gebooie te gehoorsaam (v.6, vgl. Johannes 14:15).

 

Hoe moet ons die tweede gebod toepas?

 

[1] Moenie ‘n god van jou eie verbeelding skep nie.  Die ware God is die Een wat Homself geopenbaar het in die skepping, die Skrif, en in Jesus.  Moenie hierdie openbaring verwerp en sê:  ‘Ek weet die Bybel sê ___, maar die God wat ek aanbid sal nie…’  Jy het sopas ‘n god van jou eie verbeelding geskep.

 

[2] Moenie dink dat die Vader anders is as Jesus, sodat jy die God van die Ou- en Nuwe Testament teen mekaar afspeel nie.  Wie Jesus gesien het, het die Vader gesien (Johannes 14:9).

 

[3] Moet ook nie aan God dink as iemand wat jóú toestemming nodig het voor Hy jou kan red, wat jou nie kan help totdat jý die woord uitgespreek het, wat jou met ‘n vloek straf vir jou voorvaders se sonde, wat jou ryk sal maak as jy Hom volg nie.  Die afgod van TBN is nie die God van die Bybel nie.

 

[4] Moenie aan God dink as ‘n ou man met ‘n lang wit baard nie.  God is ‘n Gees en nie die figuur van die Kinderbybel nie.

 

[5] Moenie ‘geluk’ en geestelike versterking vind in beelde, prente, of juwele van Jesus en die kruis nie.

 

As jy die tweede gebod breek is dit nie lank voor jy die eerste een sal oortree nie.

 

Die derde gebod (v.7)

‘n Seuntjie in Australië het vir sy ouers vertel van ‘n man wat by hulle skool kom praat het.  ‘Wat het hy gesê?’ het sy ouers gevra.  ‘Hy het gevloek; hy het Jesus Christus gesê,’ het hy geantwoord.  Hierdie jong seun het nie geweet dat Jesus ‘n Persoon is nie.

 

My Amerikaanse vriend het my vertel hoe die Tsonga seuns in sy jeug Jesus se Naam in Afrikaans laster as hulle sokker speel.  Hy wou weet of hy hulle hieroor moes aanspreek.  Wat sou jy sê?  Ek is seker jy sou wou hê ‘n Tsonga moes vir jou sê as jy Jesus se Naam in sý taal laster.  Is dit nie ons plig om vir mense te sê hulle moenie die Here se Naam laster nie?  As jy God liefhet sal jy nie onaangeraak luister hoe iemand jou Here se Naam vloek nie.

 

God se Naam openbaar sy karakter (3:14-15).  Hy maak sy Naam en karakter bekend in die Skrif en in Jesus.  Ons moet sy Naam nie goedkoop maak, vloek, of as ‘n alledaagse woord of kombuistaal gebruik nie.  Mense gebruik soms die Here se Naam ydelik en sê dan:  ‘Ek het niks daarmee bedoel nie.’  Presies!

 

Hoe oortree mense vandag die derde gebod?

 

[1] Mense gebruik sy Naam as ‘n vloekwoord en kyk hoe ander dit doen op TV.  In Levitikus 24:10-16 het ‘n man met ‘n ander een baklei en die Here se Naam gevloek.  Hy het die doodstraf gekry.

 

[2] Mense breek die beloftes wat hulle in die Here se Naam gesweer het (sien Levitikus 19:12).  Hulle belowe om lewenslank getroud te wees, maar skei.  Hulle belowe trou as hulle hul kinders toewy of lidmate word, maar breek dan hulle beloftes (Jeremia 34:15-16).  Baie mense – selfs kinders – sê:  ‘Ek sweer; ek sit my hand op die Bybel,’ maar weet dat hulle ‘n leuen vertel.  Mense maak ‘n eed in die Here se Naam, maar kom dit nie na nie (‘Here, ek belowe om vir U te werk as U my kind gesond maak’).  Die Skrif sê:

 

“As jy ‘n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want daar is geen welgevalle in dwase nie.  Betaal wat jy belowe.  Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.” (Prediker 5:3-4).

 

Dalk maak iemand beswaar en sê:  ‘Ek weet ek het belowe, maar my belofte was nie in die Here se Naam nie.’  Jy redeneer soos die Fariseërs.  God is orals, en daarom is elke belofte ‘n belofte in sy Naam (Matteus 5:33-37).

 

[3] Mense wat sê hulle is Christene maar goddeloos leef, gee vir ongelowiges kans om die Here se Naam te laster.

 

  • “Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster.” (Romeine 2:24).
  • “Almal wat diensknegte is onder ‘n juk, moet hulle eie here alle eer waardig ag, sodat die Naam van God en die leer nie belaster mag word nie.” (1 Timoteus 6:1). As jy disrespekvol is met jou baas sal mense God se Naam laster.
  • Ouer vroue moet die jonges leer “om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.” (Titus 2:4-5).
  • Salomo sê dat ‘n gelowige wat steel die wêreld uitnooi om God se Naam te laster (Spreuke 30:9).
  • “die man en sy vader gaan na [slaap met] dieselfde jongedogter om my heilige Naam te ontheilig.”(Amos 2:7).
  • Ná Dawid se moord en egbreuk het Natan vir hom gesê: “Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster” (2 Samuel 12:14).

 

[4] Mense gebruik God se Naam om vals lering te preek.  Die vals profetesse in Esegiël 13:19 en vals leraars in 1 Timoteus 1:20 het die Here se Naam op dié manier ydelik gebruik.  As jy na hulle lering luister deel jy in hulle sonde.

 

[5] Mense sê hulle is Christene, maar lewe nie volgens die Christen-naam nie.  So misbruik hulle die Christus se Naam.  “Hou dan my gebooie en doen dit.  Ek is die HERE.  En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel.  Ek is die HERE wat julle heilig” (Levitikus 22:31-32).  “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” (Titus 1:16).

 

[6] ‘n Christen wat die Here se Naam verloën en onder druk sê dat hy nie vir Jesus ken nie, gebruik dit ook ydelik (Handelinge 26:11).

 

[7] Wanneer die Here iemand straf, lig hy sy vuis teen die hemel en laster hy God se Naam (Openbaring 16:9).

 

[8] Die Fariseërs het gesê dat Jesus teen God laster, omdat hy gesê het dat Hy self God is (Johannes 10:33).  Ons weet dat Jesus waarlik God is.  Maar as TBN se predikers sê dat hulle en hul hoorders gode is (‘the little gods doctrine’), is hulle besig om die Here se Naam te laster.

 

Ons moet bid dat God se Naam geheilig word (Matteus 6:9).  Ons moet bid vir ‘n nuwe hart en heilig lewe, sodat God se Naam in ons geheilig mag word (Esegiël 36:20-27).

 

Hoekom moet ons nie die Here se Naam laster nie?  Die Here sal jou verseker straf (v.7).  Jou optrede verdien die dood:  “En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig.  Die vreemdeling net soos die kind van die land as hy die NAAM laster, moet hy gedood word.” (Levitikus 24:16).

 

Die vierde gebod (v.8-11)

J.W. Albertse was ons gemeente se eerste leraar.  Hy het die gemeente reeds in sy studentejare bedien, en in dié tyd koppe gestamp met Seminarium se eerste rektor, Dr. J.D. Odendaal.  Die Uitvoerende Komitee van die ABK, asook die Seminarium het vir Albertse aangevat oor sy onbybelse beskouing van die Sabbat.  Hy moes sy siening verloën, ‘n boek oor die Bybelse beskouing van die Sabbat lees en aanvaar, en sy dwaling voor sy mede-studente bely.[1]

 

Die Bybelse lering van die Sabbat is een waaroor baie al in die geskiedenis verskil het.  Party kerke, soos die Sewendedag Adventiste en baie in die Hebrew Roots Movement, wil jou uit die hemel uitsluit as jy die Sabbat nie streng volgens húlle reëls navolg nie.  Ander gooi weer die Sabbat weg en sê dinge soos:  ‘Ek glo al nege van die Tien Gebooie.’  Ons moet die balans vind.

 

Die volk moes die Sabbat nie dieselfde hou as die ander ses dae van die week nie.  Die dag moes spesiaal, heilig, en afgesonder wees (v.8, Jesaja 58:13).  God het eerste gesê dat hulle ses dae moes werk (v.9).  Ja, om ses dae te werk is ‘n opdrag (2 Tessalonisense 3:10).  Op een dag moes hulle rus en die dag aan God wy om Hom te aanbid (v.10).  Hulle moes ook hulle kinders, slawe, vee, en die uitlanders in hulle stede laat rus (v.10).  Nóg verse oor die Sabbat sê:

 

  • “Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.”(23:12).
  • “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond.” (31:12-16).
  • “Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.” (34:21).
  • “Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.” (35:1-2).

 

God het die doodstraf vereis vir Sabbatsoortreding (Numeri 15:32-36).  God was streng omdat Hy geweet het dat mense maklik ‘n afgod maak van geld, en dat sy volk nie sou rus nie.  Die werk-ses-dae-rus-een siklus kom van Genesis 2:2-3 af, toe God die aarde in ses dae gemaak het en gerus het op die sewende dag (v.11).

 

Ons moet die Sabbat reg verstaan en onderhou.  Hoekom hou ons nie die Sabbat op Saterdae nie?  ‘n Adventis het my siening oor die Sabbat aangevat en gesê dat dié dag nie in Eksodus 20 ingestel is nie, maar in Genesis 2:  ‘Die wet kan dalk nog verander word, maar ‘n skeppingsinstelling nie.’  Maar iets groter as die skepping het gekom:  ‘n nuwe skepping; ‘n herskepping deur Jesus wat gekruisig is en opgestaan het op die eerste dag van die week (2 Korintiërs 5:17).  Jesus is Here van die Sabbat en kan die dag verander as Hy wil (Markus 2:28).

 

Die Sabbat was buitendien net ‘n skadu van die volheid en ewige rus wat ons in Jesus vind:  “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17).

 

In die konteks van die Sabbat in Matteus 12:1, sê Jesus dat Hy rus bring vir ons siele (Matteus 11:28).  Oor die hemel sê Johannes:  “Skryf salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe.  Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” (Openbaring 14:13).

 

Deur geloof gaan ons hierdie rus in (Hebreërs 4:3-4).  Die nuwe dag is nie meer die sewende dag nie, maar die dag waarin ons verlossing voltooi is, die dag van Jesus se opstanding (Hebreërs 4:8-10, Psalm 118:22-24).  Daarom het die vroeë kerk op Sondae bymekaar gekom om te aanbid (Handelinge 20:7, 1 1 Korintiërs 16:1-2).  Openbaring 1:10 noem Sondag ‘die Here se Dag’.

 

God het ons geheilig.  Om ons daaraan te herinner het Hy ‘n dag geheilig waarin ons Hom moet aanbid:  “Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.” (31:13).  Onthou jou Skepper en prys Hom dat Hy jou verlos het (v.11, Deuteronomium 5:15).

 

Beskou die Sabbat as ‘n geskenk en nie as ‘n straf nie (Markus 2:27).  Moenie jou gewone werk doen of angstig wees dat jy nie deur die maand sal kom nie.  Glo dat die Here vir jou sewe dae se salaris sal gee vir net ses dae se werk (16:22-26).  Gebruik die dag om saam met ander gelowiges te vergader, jou siel, brein en liggaam te rus, te ontspan en te speel, tyd met jou familie deur te bring.  Laat die mense wat vir jou werk die dag af kry (v.10).

 

Gebruik die dag om goed te doen aan ander en werk as die nood druk (sien Markus 2:23-24, 3:4, Lukas 13:14-16, 14:5, Johannes 5:10, 16-17, 9:16).  Dokters, verpleegsters, en polisie moet noodgedwonge werk.  Predikante moet preek en goed doen aan ander se siele.  Jy moet kos kook om vir jou gesin te sorg.

 

Hoekom moet ons die Sabbatsgebod reg verstaan en toepas?  Om goed te werk moet jy rus en jou byl se lem slyp (Prediker 10:10).  As ons weekliks rus:

 

  • Minder mense sal oorwerk wees en uitbrand.
  • Minder mense sal stres, depressief raak, en angstig wees. Gevolglik sal jy ook beter slaap.
  • Minder mense sal psigosomatiese siektes hê. Talle siektes word deur stres veroorsaak. As gevolg hiervan spandeer mense duisende rande op dokters en pille.
  • Minder huwelike sal in die skeihof eindig. As kinders hulle ouers op Sondae sien sal hulle gelukkiger wees en nie so maklik rebelleer nie. So sal mense ook minder geld op beraders hoef uit te gee.
  • Jy sal minder geïrriteerd wees; jy sal minder met ander baklei.
  • Mense sal nie so maklik vasgevang raak in die mal gejaag na geld nie.
  • Jy sal die geld spaar wat jy sou uitgee op ekstra petrol, bande, slytasie op jou kar, ‘n ‘babysitter’, en ekstra vakansie omdat jy moeg is. Het jy al daaraan gedink dat God vir jou 52 dae ‘n jaar af gee?
  • Jy sal jou werk beter doen, omdat jou liggaam en brein gerus het.
  • Minder mense sal sê: ‘Ek kan dit nie meer vat nie!’ en selfmoord probeer pleeg.

 

Baie keer sê mense dat hulle nie tyd het om die Skrif te lees, te bid, by die siekes uit te kom, of evangelisasie te doen nie.  Maar as hulle die Here se dag reg gehou het, sou hulle tyd gehad het.

 

John Paton was ‘n sendeling op die eiland Aniwa.  So beskryf hy ‘n tipiese Sondag op die eiland:

 

[1] Ontbyt as die dag breek.

[2] ‘n Een uur erediens as die son opkom.

[3] ‘n Twintig minute breek.

[4] ‘n Tweede erediens.

[5] Lidmaatskapklas deur die Westminster Shorter Catechism, terwyl die res met ‘n biduur besig is.

[6] ‘n Uur se teetyd en ete.

[7] ‘n Halfuur hersiening oor die lidmaatskapklas.  Paton se vrou leer die ander vroue.  ‘n Paar ouderlinge leer die res van die gemeente in groepe.

[8] Kerk sluit om 13:00.

[9] Die gemeente gaan in twee groepe uit om die mense van die eiland te evangeliseer.

[10] ‘n Biduur as die son sak.  Hulle sing vyf of ses gesange en gee dan kans vir vyf of ses gebede.  So hou hulle aan vir ‘n paar rondtes.

[11] Die jong mense vergader in ‘n huis om te sing en die Skrif te lees.  Vrae word gevra oor die dag se lering.

[12] Om 21:00 sluit hulle die dag af.[2]

 

Vandag is die meeste mense tevrede om die Here te aanbid vir een uur op ‘n Sondag (vir party is selfs dít te veel!).  Om die Here se Dag te vier soos Paton dit gedoen het, is iets van die verlede.  Dit sal goed wees om dit te herwin.

 

‘n Tuinskêr of graad 1 se papierskêr werk vir die doel waarvoor dit gemaak is.  Tog sal jy nie tevrede wees as die dokter sy snymes verloor, en sommer een van dié skêre gebruik om jou vrou se keisersnee mee te doen nie.  Net so is die Tien Gebooie goed as ons dit gebruik waarvoor dit bedoel is:  nie om daardeur gered te word nie, maar om sonde uit te wys in ongelowiges, en om vir gelowiges te leer hoe om God en hulle naaste lief te hê.

[1] J.D. Odendaal, So het God ons Skredes Gelei, p.254

[2] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.378-379