Hoe eet en drink jy tot eer van God?

Bacon and eggs

Dinsdag was ek van 07:00 tot 18:00 by die ABK se Uitvoerende Komitee vergadering.  Tydens die vergadering het een van die manne ‘n beesstert-, groente-, en Coke potjie op die gasbottel langs hom gaar gemaak.  Ons het eers 14:00 geëet.  Ek kon eerlik sê:  ‘Ek dank die Here dat beeste sterte het.’

 

Dis egter nie die enigste manier hoe ons tot eer van God kan eet nie.  1 Korintiërs 8:1-13 wys nóg ‘n manier.

 

Kennis (v.1-6)

Moslems eet nie enige vleis nie.  Dit moet Halaal (Arabies vir ‘toelaatbaar’) wees.  Hulle mag nie die agterkwart eet nie.  Hulle mag ook nie onrein diere soos vark eet nie.  Oor die algemeen moet ‘n Moslem die dier slag.  Hy moet Allah se naam aanroep.  Die dier moenie bewusteloos wees nie.  Hy moet dit met ‘n vlymskerp mes slag, sodat hy net eenkeer die dier se keel hoef af te sny.  Hy moet die dier onderstebo hang, sodat dit kan droog bloei.  Die dier mag nie siek wees nie, en moet natuurlike produkte geëet het.

 

Kan Christene Halaal vleis eet?  Die Korintiërs het ‘n soortgelyke vraag gevra.  Die Romeine en Grieke het geglo dat bose geeste deur die vleis in jou liggaam kan inkom.  Hulle het dus die vleis vir die gode geoffer, en geglo dat dít die geeste wegjaag.  Enige vleis wat oorgebly het en nie geëet is nie, is teen ‘n redelike afslag in die vleismark verkoop.

 

Mag Christene hierdie vleis koop en eet?  Baie van die Korintiërs het gesê:  ‘Natuurlik kan ons dit eet.  Daar is net een God.  Afgode is niks.’  Was hulle reg?  Amper.

 

Soos Paulus hulle vrae oor egskeiding beantwoord het, het hy hulle vrae oor afgodsoffervleis beantwoord (v.1, 7:1).  Baie van die Korintiërs het in hulle kennis geroem:  ‘Ons weet dat ‘n afgod niks is nie.  Vleis wat aan die gode geoffer is, is onbesmet!’ (v.1).  As jy só redeneer en nie swakker gelowiges in ag neem nie, is jy selfgerig.  Hulle moes eerder gevra het hoe hulle ander gelowiges kan opbou (v.1, 7-13).  “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” (Romeine 14:19).  Dit help nie jy het kennis, maar nie liefde nie (13:2).

 

Mense wat in dié konteks sê hulle weet baie, weet eintlik niks (v.2, 3:18).  Dit maak nie saak hoe baie jy weet nie.  Die vraag is:  ken God jóú as sy eie (v.3, Galasiërs 4:9, Romeine 8:29, 2 Timoteus 2:19)?  As jy daarin roem dat God jou ken, moet jy dit wys deur gehoorsame dade van liefde vir Hom, en deur liefde vir jou naaste (v.3).  Die Skrif sê mos:

 

“Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.  Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet:  wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.  Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” (1 Johannes 5:1-3).

 

Wat is die kennis waarvan v.1-3 praat?  Dis die kennis dat afgode dood is, dat hulle niks is nie (v.4).  Dis die kennis van Psalm 115:4-7:

 

“Hulle afgode is silwer en goud, ‘n werk van mensehande.  Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ‘n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie.”

 

Dis die kennis van Jeremia 10:3-6, 11:

 

“Want die insettinge [gode] van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl.  Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.  Soos ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie.  Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.  Geeneen is soos U nie, o HERE!  U is groot, en u Naam is groot in krag… Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit”.

 

Daar is wel demone wat agter hierdie afgode sit (10:19-20).  Tog is daar net een God en nie baie gode soos wat die Grieke en Romeine geglo het nie (Deuteronomium 4:35, 39, 6:4, Jesaja 45:5-6, 14, 18, 21-22).  Daar is baie gode en here wat met ‘n kleinletter gespel word (v.5).  Volgens die Romeine was die keiser god.  Satan is die god van hierdie wêreld (2 Korintiërs 4:4).  Die Antichris maak of hy ‘n god is (2 Tessalonisense 2:4).  Aardse regters het die Here verteenwoordig, en word dus gode genoem (Psalm 82).

 

Ons weet egter dat daar net een God en Here (v.6).  Daar is drie Persone, maar net een God (Efesiërs 4:4-6, Matteus 28:19).  Jesus is die Koning van die konings en die Here van die here (Openbaring 19:16).  Alles is uit Hom, deur Hom, en tot Hom (v.6, Romeine 11:36).  Alles begin en eindig in Hom (Openbaring 22:13).  Alles het ontstaan uit die Vader en deur die Seun (v.6, Johannes 1:1-3, Kolossense 1:16-17).

 

Kos (v.7-13)

Almal ken die storie van die seuntjie wat op die heuwel buitkant die dorp ‘wolf!’ geskreeu het.  Die eerste paar keer het mense dringend tot sy hulp gekom.  Later het hulle hom geïgnoreer.  Toe daar eendag regtig ‘n wolf gekom het, het niemand hom kom help nie.  Die wolf het hom opgeëet.

 

Jou gewete is so.  Jy kan leer om dit uit te blok.  As sonde jou eendag regtig aanval, het jy niemand om jou te help nie.  Kom ek verduidelik dit uit v.7-13.

 

‘n Ou Christen sê vir ‘n nuwe een:  ‘Eet hierdie vleis wat aan die gode geoffer is.  Daar bestaan buitendien nie iets soos ander gode nie.’  Die nuwe gelowige eet die vleis, maar twyfel of dit reg is.  Hy glo hy doen sonde.  Hy dink dat iemand wat die vleis eet, aan die heidense rituele deel het.  Op dié manier besoedel hy sy gewete (v.7).  Wat sal die gevolg wees as hy twyfel, maar aanhou eet?  Hy sal nie hoor as sy gewete hom eendag teen regte sonde waarsku nie, want hy het geleer om sy gewete uit te blok.

 

Moenie die vleis eet om jou groot kennis te wys nie.  Kos tel nie punte voor God nie:  dit maak jou nie meer of minder geestelik nie (v.8).  “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” (Romeine 14:17).  Die Adventiste glo vas dat dit meer geestelik is om net groente te eet.  God aanvaar jou slegs deur Jesus se Persoon en verlossingswerk.

 

Mede-gelowiges is belangriker as jou Christelike regte.  Moenie ‘n ander Christen deur jou ‘regte’ laat struikel nie (v.9).  “Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.” (10:23).  “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.” (Romeine 14:21).

 

As jy wat kennis’ het saam met ‘n ongeredde vriend in die afgodstempel eet, sal ‘n swakker gelowige dit sien en jou voorbeeld volg.  Hy is nie so sterk soos jy nie.  Hy weet nie dat dit nie verkeerd is nie.  Hy sal dus sy gewete besoedel en geestelik skade lei (v.10-11).  Jesus het gesterf om jou broer te red, maar jy breek hom af, wond sy gewete, en sondig so teen jou broer en teen Jesus (v.11-12, Sagaria 2:8, Handelinge 9:4-5, Matteus 25:45).

 

Vers 11 sê nié ‘n Christen kan sy redding verloor nie.  Volgens Johannes 10:28 kan ons nooit verlore gaan nie.  Die Griekse vir ‘verlore gaan’ staan in die teenwoordige tyd.  Dit praat dus nie van iemand wat in die toekoms sy redding verloor nie, maar van iemand wat nóú skade ly.  Die konteks wys vir ons wat Paulus bedoel:  die persoon se gewete word erg beskadig (v.12).

 

Paulus sou eerder vleis opgee as om sy broer te laat struikel (v.13).  “Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie” (10:32).  “Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder ‘n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.” (Romeine 14:13).  Gemeentelike eenheid is belangriker as persoonlike regte.

 

Eet, drink, en doen alles tot eer van God (10:31).  Hoe doen ‘n mens dit?  Jy kan God net hierin eer as jy ‘n skoon gewete het terwyl jy dit doen.  Hoe kan jy ‘n skoon gewete hê?  Sielkundiges sal vir jou sê dat dit sleg is om ‘n skuldige gewete te hê.  Hulle sal jou aanraai om pille te drink, jou gewete te ignoreer, of te sê dat ander (gewoonlik jou ouers) die skuld hiervoor dra.

 

Maar skuldgevoelens kan net weggaan as die skuld weg is.  Jesus alleen kan die skuld wegvat en so jou gewete reinig (Hebreërs 9:14, 10:22).  Om ‘n rein gewete te hê moet jy in Hom glo, en jou sonde aan God en die betrokke persone bely (Handelinge 24:16).  Roep ook tot God vir ‘n skoon gewete en beeld dit uit in die doop (1 Peturs 3:21).  Hou jou gewete skoon deur dadelik jou sonde te bely as jy daarvan bewus word (Handelinge 23:1).

 

As jou gewete jou pla, en jy ignoreer jou sonde en bely dit nie, sal jou gewete hard raak (Hebreërs 3:13).  Jy verhard dit ook as jy oor ‘n ‘grys area’ twyfel, maar dit in elk geval doen.  Uiteindelik sal jy nie meer sensitief wees wanneer jou gewete jou prik nie.  Pla jou gewete jou oor so iets?

 

Jy kan ook ‘n oorsensitiewe gewete hê.  Een man het gedink dis ‘n bewys van geestelikheid.  Die teendeel is waar.  Iemand met só ‘n gewete voel maklik skuldig oor iets wat nie sonde is nie, oor iets waaroor ‘n sterker Christen hom nie bekommer nie.  Sulke gelowiges is gewoonlik wetties, krities, struikel maklik, en neem gou aanstoot as ander Christene ‘sondes’ doen soos om op Facebook te wees of bier te drink.

 

Hoe oorkom jy ‘n swak gewete?  Jy moenie iets doen net omdat die ds. gesê het dis nie verkeerd nie, omdat sterker Christene dit doen, of omdat jou vriende jou druk om dit te doen deur te sê dis ‘okay’ nie.  Jy sal jou gewete besoedel.  “Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.” (Romeine 14:23).  Moenie voor so iemand iets doen waaroor hy of sy twyfel nie (v.10, 13).

 

‘n Swak gewete kan jy net regkry deur baie tyd in die Skrif te spandeer en dit goed te leer ken.  Lig jou gewete reg in met die Skrif.  Jy moet weet watter dinge in die Bybel swart en wit is (dinge soos dronkenskap en seksuele sonde).  Jy moet ook weet watter dinge in die Skrif grys is.  Moenie soos baie mense sê:  ‘Die Bybel sê ___ is sonde’ nie.  As ek vir hulle vra waar die Bybel dit sê, dan weet hulle nie.

 

Doen intense Bybelstudie oor dít waaroor jy twyfel:  Is dit sonde om alkohol te gebruik, te dans, te rook, nie ‘n das te dra as dit nagmaal is nie, nie normaal geboorte te gee nie maar ‘n keiser te hê, om glasfeetjies in jou dogter se kamer te hang, om batman klere vir jou seun te koop, om karate te doen, om op Facebook te wees?

 

Hoekom moet ons tot God se eer eet, drink, en alles doen?  God het jou geskep en gered om Hom te verheerlik (Jesaja 43:7, 21, Efesiërs 1:6, 12, 14).  Moet daarom nie vir jouself eet, drink, en lewe nie.

 

Ons musiek leier het vertel van ‘n Moslem kollega wat elke dag ‘n sparerib pasty gekoop het vir middagete.  Later het iemand vir hom gevra of hy geweet het dat sparerib vark is.  Hy het dit sterk ontken en met die persoon gestry.  Uiteindelik het hy die mense by die pasty winkel gevra.  Hulle het bevestig dat sparerib vark is.  Hy wou egter nie ophou om sy geliefde sparerib pasty te koop nie.

 

Paulus sê Christene moet dit nie doen nie:  moenie iets doen waaroor jou gewete jou pla nie.  Moet ook nie aspris iets doen wat ‘n ander Christen se gewete pla nie.  As jy dít doen, dan eet en drink jy nie tot eer van God nie.

Advertisements

Reageer reg op God se Woord

Open Bible

Ek was onlangs by ‘n middagdiens van Birchleigh Baptist.  Verskeie mans het voorlesings gedoen.  Aan die einde van elke Skriflesing het hulle gesê:  ‘This is the Word of Lord.’  Die gemeente het dan gereageer:  ‘Thanks be to God.’  In ‘n diens by Brackenhurst Baptist het die gemeente gestaan toe die Skrifte gelees is.

 

So was dit in die vroeë kerk:  mense het op dié manier respek gewys vir die Woord van God.  So moet ons ook op die Woord reageer:  met vrees en aanbidding (Eksodus 20:18-26).

 

Vrees God (v.18-21)

Die bekendse preek in Amerika se geskiedenis is ongetwyfeld Jonathan Edwards se ‘Sinners in the hands of an angry God’.  Die mense in Enfield was onaangeraak deur die herlewing.  ‘n Groepie gelowiges het deur die vorige nag gebid en by die Here gepleit dat Hy nie vir Enfield moes oorslaan nie.  Mense wat traak-my-nie-agtig by die kerk ingestap het, was voor die einde van Edwards se preek ‘bowed down with an awful conviction of their sin and danger’.[1]

 

Tydens die preek het mense gehuil en uitgeroep:  ‘What shall I do to be saved? … Oh I am going to hell! … Oh what shall I do for Christ?’  Edwards moes by tye stilbly soos wat mense gehuil en uitroep het.[2]  Dieselfde het gebeur toe Eleazer Wheelock in Wethersfield gepreek het.  Wheelock het vir ‘n vriend geskryf:

 

‘The whole town seems to be shaken… Last Monday night the Lord bowed the heavens and came down upon a large assembly in one of the parishes of the town, the whole assembly seemed alive with distress, the groans and outcries of the wounded were such that my voice could not be heard.’[3]

 

In Eksodus 20 het die volk ‘n soortgelyke reaksie gehad.  Hulle het gevrees, gebewe, en op ‘n afstand gaan staan toe hulle die donderslae, blitse, trompet-geklank, rokende berg, en se God dreunende stem hoor en sien (v.18, 19:16-19).  Die Nuwe Testament beskryf dit só:

 

“Want julle het nie gekom by ‘n tasbare berg nie en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie—want hulle kon die gebod nie verdra nie:  selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word.  En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê:  Ek is verskrik en ek sidder.” (Hebreërs 12:18-21).

 

Die volk het geweet dat hulle nie die Tien Gebooie gehou het nie.  Hulle was bang dat God hulle met die dood sou straf.  Hulle het gesmeek om nie meer God se dreunende stem te hoor nie (Deuteronomium 5:25-28), en het gevra dat Moses vir hulle ‘n middellaar moes wees (v.19).

 

Moses het die wet deur engele ontvang (Galasiërs 3:19, Handelinge 7:53).  Hy het vir die volk gesê om nie ‘n slaafse vrees te hê nie (v.20).  God wou hulle toets om te sien of hulle ‘n gesonde vrees vir Hom sou hê (v.20).  Sou hulle die belofte wat hulle in 19:8 gemaak het nakom:  “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen.”?  Iemand wat die Here vrees doen wat Hy sê (v.20):  “vrees die HERE, en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:7).

 

Die volk het hulle afstand gehou.  Moses het nader getree na die dik donkerte waar God sy heerlikheid verberg het, sodat die volk nie sou sterf nie (v.21). Hy het begeer wat die volk gevrees het:  “Laat my tog u heerlikheid sien.” (33:18).  In die Nuwe Testament het ons ‘n Middellaar, Jesus Christus (1 Timoteus 2:5).  Deur Hom kan ons met vrymoedigheid tot God nader (Efesiërs 2:12-13, Hebreërs 10:22).

 

Wat moet jou reaksie op God se Woord wees?  Vrees Hom.  Jy moet weet wat die Skrif met vrees bedoel.  Jy moet eerbied en ontsag vir God hê.  Respekteer Hom.  Bewe voor hierdie heilige God.  Weet dat Hy jou swaar kan straf en in die hel kan gooi (Matteus 10:28).  Hierdie vrees moet daartoe lei dat jy Hom gehoorsaam en met alles in jou liefhet en dien (v.20).  So sê die Here:

 

“En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel” (Deuteronomium 10:12).  “My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.” (Psalm 119:120).

 

Hoe kan jy die Here meer vrees?  Dit help nie net dat jy jou Bybel lees of Bybelse prediking hoor nie.  Die Gees moet God aan jou hart openbaar.  Bid en pleit by die Here om jou hart oop te maak; bid vir kragtige preke (Psalm 119:18).  Bid en oordink die verse totdat God jou oë oop maak.  Vra oor elke teks:  wat leer ek oor God?

 

Raak gespeen van mensgesentreerde preke en boeke (boeke wat alewig praat oor jy wat jou volle potensiaal moet bereik).  Lees en luister eerder boeke en preke soos R.C. Sproul se Holiness of God, die werke van Jonathan Edwards en ander Puriteine.  Spurgeon het gesê dat een bladsy van die Puriteine meer van die Bybel in het as hele boeke van moderne skrywers.

 

Hoekom moet jy op die Woord reageer met vrees?  Iemand wat God nie vrees nie, sal Hom ook nie gehoorsaam nie:  “Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” (Romeine 3:18).  “Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is” (Spreuke 8:13).  “deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad.” (Spreuke 16:6).  “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” (2 Korintiërs 7:1).

 

Aanbid God (v.22-26)

In 1998 het ek Christelike hard rock, punk, en ander populêre musiek ontdek.  Ek het baie CD’s gekoop, dit alfabeties in my rak gepak, wou dit nie uitleen nie, het die liedjies op my kitaar uitgewerk, en het ‘n afgod van gemaak van groepe soos Petra en Audio Adrenalin.

 

Ek het in dieselfde tyd my Bybel en goeie Christelike boeke meer begin lees.  Die waarhede het ingesink, en ek wou daaraan uitdrukking gee in aanbidding.  Ek het gou besef dat die rock musiek se woorde nie gesê het wat ek in my hart gevoel het nie.  Ek het so gefrustreerd gevoel soos ‘n taalstudent wat graad 1 boeke in ‘n biblioteek moet lees.  Ek my CD’s weggegee en ou ‘hymns’ begin luister.  Ek het ook CD’s van Steve Green begin luister.  Skielik kon ek in sang uitdruk wat ek in my hart gevoel het.

 

Hoe dieper jy in die Woord delf, hoe hoër styg jou hart op in aanbidding.  Dit is waarop v.22-26 stuur.  As die Woord ryklik in jou woon, sal jy sing met psalms, lofgesange, en geestelike liedere (Kolossense 3:16).  Die psalm-skrywer sê:  “Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.” (Psalm 119:7).

 

Volgens die volk se versoek het God deur Moses gepraat (v.22, 19).  Wat het Hy gesê?  Die volk moes onthou dat God uit die hemel met hulle gepraat het (v.22, Deuteronomium 4:36).  So het God gewys dat Hy die enigste God is.  Hulle moes daarom nie vals gode van goud en silwer maak en aanbid nie (v.22-23, 3-5, 32:31).

 

Hoe moes hulle God aanbid?  Hulle moes ‘n altaar van grond en rou klip bou, sodat hulle en ander ná hulle nie versoek sou word om die altaar as ‘n god te aanbid of vereer nie (v.24-25).  Hulle moes offers bring vir hulle sonde (v.24).  Hulle moes ook leer dat God nie tot een plek beperk is nie.  Daar waar God hulle geseën het moes hulle ‘n altaar bou en offers bring (v.24).  Sodoende sou God sorg dat hulle sy Naam onthou (v.24).

 

Daar mag nie trappe op die altaar gewees het nie.  Onthou:  hulle het rokke gedra, en dus kon hulle naakte liggame maklik gesien word as die wind waai (v.26, 28:42).  So sou hulle dalk versoek word om, soos die heidene, seksuele rituele deel te maak van hulle aanbidding.  Selfs in die Nuwe Testament moet ons versigtig wees hiervoor.  Die Skrif waarsku:

 

“Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis.  So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.” (1 Timoteus 2:8-10).

 

Aanbid die Here.  Só moet jy reg reageer op sy Woord.  Hoe doen jy dit?  Aanbid Hom na waarde (Psalm 150:2).  Jou aanbidding moet ooreenstem met sy grootheid.  Jy kan nie vlak aanbidding aan die ewige, heilige, almagtige God offer nie.  Ek is seker jy kan die verskil hoor tussen oppervlakkige liede (I) en liede met diepte (II):

I

In my heart there rings a melody,

There rings a melody of heavenly harmony.

In my heart there rings a melody,

There rings a melody of love.

Jesus, Jesus, Jesus;

sweetest Name I know!

Fills my every longing,

keeps me singing as I go.

II

O worship the King, all glorious above!

O gratefully sing his pow’r and his love!

Our Shield and Defender, the Ancient of Days,

Pavillioned in splendour and girded with praise!

O tell of his might, O sing of his grace,

Whose robe is the light, whose canopy space!

His chariots of wrath the deep thunder clouds form,

And dark is his path on the wings of the storm!

I

How sweet to hold, our new born baby,

And feel the pride and joy he gives.

But greater still, the calm assurance:

This child can face uncertain days, because He lives!

II

In die hemel is die Heer en sy glans is soos kristal,

Hy’s die heilige van God en Hy heers oor die heelal,

Daar is mag in sy Woord, soos die waters druis sy stem,

Soos die son op die see se blou, so die rykdom van sy trou.

En aan U is die mag en die heerlikheid en krag,

En aan U is die eer, en die lof want U regeer.

Miljoene in gereedheid, span die eng’le om sy troon,

Verbysterend sy sieraad en die weelde van sy kroon

I

Staan op en sê nou:  ‘Ek is lief vir Jesus!’

Staan op en sê nou:  ‘Ek is lief vir Hom!’

Almal wil weet, ja, almal wil hoor:

Is jy regtig lief vir Hom?

II

Tell out, my soul, the greatness of the Lord! Unnumbered blessings give my spirit voice; Tender to me the promise of his Word; In God my Saviour shall my heart rejoice.

Tell out, my soul, the glories of his Word! Firm is his promise, and his mercy sure. Tell out, my soul, the greatness of the Lord to children’s children and for evermore!

Moenie aanbidding beperk tot sang nie.  Reageer ook met gebed, belydenis van sonde (v.24), dank vir die nagmaal en die doop, vertel vir ander van God se grootheid, wees gehoorsaam (Romeine 12:1).

 

Jy moet wel aanbidding tot die Skrif beperk.  Moenie dinge doen wat nie in die Bybel staan nie.  Jy hoef nie ‘n vlag te waai, ‘praise dance’ te doen, kerse aan te steek, of ‘in die Gees’ te skilder nie.  Soos wat grond en ongekapte klip eenvoudig is, moet jou aanbidding eenvoudig en Bybels wees (v.23-25).

 

Hoekom moet jy God aanbid in reaksie op die Woord?  “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek.” (Hebreërs 12:25).

 

In 2005 het ek en my vrou ‘n Baptistekerk in Natal besoek.  Die kerk het hulle gebou opgeknap en dit op dié spesifieke Sondag ingewy.  Ons het gehoop om ‘n preek te hoor, maar daar was nie een nie.  Ons was terug vir die aanddiens in die hoop om ‘n preek te hoor.  Die predikant het egter ‘n Power Point vertoning oor die sterre gewys, en dit vergeestelik om iets oor Jesus te sê.

 

Verlede jaar was ons by ‘n Baptistekerk in Mpumalanga.  Sonder ons en die predikant, was daar twee mense by aanddiens.  Die predikant het ‘n 45 minute video oor ‘n sendeling gewys, ‘n paar vrae geneem, iets gesê, en gebid.

 

Jy kan nie reg reageer op die Woord as dit ‘n sekondêre plek inneem en nie verkondig word nie.  Ons moet sorg dat die Woord sentraal is in alles, en dat ons reg daarop reageer.

[1] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, p.168

[2] Ibid, p.169

[3] Ibid

’n Tyd om enkel te wees

Bored woman

George Whitefield is my gunsteling prediker (Charles Spurgeon kom bitter naby).  Soos enige van ons helde het hy kleivoete gehad.  Sy vriend, Howell Harris, het baie van ‘n sekere weduwee, Elizabeth James gehou.  Die gevoel was wedersyds.  Harris wou egter uitsluitlik op sy verhouding met God fokus, en het besluit om nie te trou nie.  Hy wou haar aan Whitefield voorstel.  Na sy hom ontmoet het, het mev. James ‘n stryd in haar hart gehad.

 

Na ‘n worstelstryd het sy besluit om met Whitefield te trou (sy het eers 10 jaar later haar gevoelens vir Harris oorkom!).  Harris het haar by die kansel aan Whitefield afgegee.  Direk ná die sermonie het die groepie verder gereis, en het Whitefield gepreek.  Whitefield en sy nuwe vrou het geen wittebrood gehad nie.  Hy het vir ‘n volle week twee keer per dag gepreek. Daarna het hy alleen vir ‘n maand lank op ‘n preektoer na Birstol, Gloucester, en London vertrek.  Op Kersdag het hy teruggekeer huistoe, en toe weer op 26 Desember ‘n preektoer na Bristol en London onderneem.  Whitefield het hom voorgeneem dat sy huwelik geensins sy bediening sou verhinder nie.[1]

 

Whitefield het reg gedink oor die bediening, maar verkeerd oor die huwelik.  Hy het nie sy bruid in ag geneem nie.  Na my mening het Harris ‘n beter besluit as Whitefield geneem.  In omstandighede soos Whitefield s’n, sou dit beter gewees het om enkel te bly (1 Korintiërs 7:25-40).

 

Vervolging (v.25-27)

‘When the high seas are raging it is no time for changing ships.’[2] (Leon Morris).  ‘A man who is a hero in himself becomes a coward when he thinks of his widowed wife and his orphaned children.’[3] (Lightfoot).

 

Jy wil nie jou gesin deur vervolging of honger sit as jy dit kan help nie.  In sulke tye het ouers hulle kinders geëet (Deuteronomium 28:53-57).  Jesus het gesê:  “Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.” (Matteus 24:19).  In sulke tye is enkelskap beter.

 

In v.1-16 het Paulus hoofsaaklik met die getroudes gepraat.  In v.25-40 praat hy hoofsaaklik met mense wat enkel is.  Paulus haal nou wel nie vir Jesus aan nie (vgl. v.10), maar in dié saak praat hy as iemand wat deur die Gees betroubaar is (v.25, 40), as een wat barmhartigheid ontvang het (v.25).

 

Paulus se raad is dít:  bly soos jy is, veral omdat moeilike tye oppad kom (v.26).  Die moeilike tye verwys dalk na die hongersnood wat in keiser Claudius se tyd gekom het (Handelinge 11:28), of na die vervolging onder keiser Nero.

 

So, is jy deur verlowing of in die huwelik gebind?  Moenie skei nie (v.27, Matteus 1:19, 19:6).  Is jy reeds geskei of nie verloof nie, en daarom los van ‘n maat?  Moenie ‘n maat soek nie (v.27).  Hoekom nie?  Want daar is swaar tye wat kom (v.26).

 

Hoe moet ons vandag v.26 toepas?

 

[1] Bly enkel as jy vir ses maande op ‘n keer in die buiteland is vir werk.  Hoekom wil jy trou as jy nooit by die huis gaan wees nie?

 

[2] Bly enkel as jy ‘n sendeling wil word na ‘n land waar die vervolging van Christene erg is (Matteus 19:12).

 

[3] Bly enkel as Suid-Afrika soos Zimbabwe word, as daar nie kos is nie.

 

[4] Bly enkel as vervolging in ons land uitbreek.

 

As jy wél in sulke omstandighede trou is dit nie sonde nie (v.28, 9).  As jy in dié omstandighede beter sal vaar met ‘n maat, trou.  Oor die algemeen sal die las ligter wees as jy in sulke tye enkel bly.

 

Vlees (v.28)

Toe ek studeer het, het ‘n getroude vriend eendag vir hom ‘n Caramello beer gekoop.  Hy het dit alleen geëet en die papier in kar gelos.  Toe sy vrou die papier sien was sy kwaad.  Hoe kon haar man sjokolade eet sonder haar?  As my vriend enkel was kon hy tien Caramello’s geëet het sonder om probleme op te tel (hy sou wel gewig opgetel het J).  ‘n Getroude persoon moet altyd sy of haar maat in ag neem.

 

‘n Enkel- of geskeide persoon wat in die v.26-bootjie is, sondig nie as hy of sy trou nie (v.28, vgl. 9, 15, Matteus 19:9).  As jy egter enkel bly en nie met ‘n ander sondaar saamgedruk word in ‘n lewe waar jy skielik alles moet deel nie, spaar dit jou van die sorge wat die vlees bring (v.28).

 

As jy dan enkel is moet jy nie dink om te trou sal al jou sorge oplos nie:  jou seksdrang, eensaamheid, jou eie kinders hê, ens.  Die huwelik bring nuwe uitdagings:  skoonfamilie, konflik, verdeling van jou tyd, huis, kos, bed, geld, lewe, en meer.  Onthou dit, want as jy eers getroud is kan jy nie sommer weer skei nie (Matteus 19:6).

 

Verganklikheid (v.29-31)

Dave maak gereed om Mt. Everest te klim.  In sy rugsak pak hy twee van alles, asook sy gunsteling boeke, lekkernye, sy eie kussing, sy laptop sodat hy op Facebook kan gaan, sy grootlens kamera vir fotos, en sy verkyker.  Toe hy begin klim, het hy gou besef dat sy rugsak te swaar is.  Hy het baie van sy bagasie by die basis gelos, en die res in die sneeu op die berg gelos.  Die les is duidelik:  pelgrims pak lig.  So is dit in hierdie wêreld.  Te veel bagasie sal jou terughou.

 

Ons tyd op aarde is min, veral in vervolging (v.29, 26).  Fokus op die Here asof jy ongetroud is (v.29, 32-34).  Kyk verby die tydelike trane, vreugde, en besittings van hierdie wêreld, en fokus op Jesus en die ewigheid (v.30-31).  Die Skrif sê immers:

 

  • “Salig is julle, armes, want aan julle behoort die koninkryk van God. Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag… Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg. Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en ween.” (Lukas 6:20-21, 24-25).
  • “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matteus 6:19-20).
  • “Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand… Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:10, 13).
  • “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Johannes 2:17).

 

Pak lig.  Dit geld ook vir enkel mense.  Die lewe is kort.  Twee weke gelede het ek gelees van ‘n man wat in April getrou het, en twee maande later dood is aan kanker.  Moenie vir die hier-en-nou of vir jou huweliksmaat lewe nie.  Ignoreer Afrikaanse liefdesliede wat sê:  ‘Ek lewe net vir jou, jy lewe net vir my, oooh…’

 

Indien jy wel besluit om te trou moet jy ‘n Efesiërs 5-fokus hê.  Wees lief vir jou vrou soos wat Christus die kerk liefhet.  Respekteer jou man soos wat die kerk aan Jesus onderdanig is.  Fokus op jou siel, jou maat se siel en die ewigheid.  Moenie op ‘n tydelike en aardse huwelik fokus nie.

 

Enkel en getroude persoon:  is jy gereed vir die ewigheid?  Is jy gereed om geoordeel te word?  Is jy gereed om vir ewig in die hemel te lewe of in die hel te sterf?  Is jou sondes vergewe of sal jy daarin sterf?  Het jy jou van jou sonde bekeer of leef jy soos jý wil en nie soos Gód sê nie?  Maak jy staat op jou godsdiens, jou gebede, jou kerkbywoning, jou tiendes, jou goeie werke, jou ouers, jou doop om hemel toe te gaan?  Hoop jy maar vir die beste?  Of maak jy deur geloof staat op Jesus se lewe, kruisdood, opstanding, en op niks anders nie?  Pak lig en maak gereed om jou God te ontmoet.  Voor jy weet is hierdie wêreld en alles daarin tot niet.

 

Fokus (v.32-35)

‘n Man wat ek ken het onlangs uit die sendingveld bedank, omdat hy baie min by sy vrou en kinders is.  ‘n Man in William Tyndale se tyd het Jesus verloën toe die soldate gedreig het om sy vrou dood te maak.  Hy het later sy sonde bely en homself oorgegee om verbrand te word.

 

As jy getroud is kan jou aandag maklik verdeeld raak tussen Jesus en jou huweliksmaat.  Dis die punt van v.32-35.

 

Die vervolgde persoon wat geskei of enkel is, het nie die ekstra angs om sy of haar maat te behaag nie, maar kan geheel en al op die Here en ‘n heilige lewe fokus (v.32, 34a, 26).  ‘n Vervolgde persoon wat getroud is, kan op die Here fokus, maar sal ook angstig wees oor sy of haar maat se veiligheid (v.33-34).

 

Paulus beveel nie enkelskap aan om gelowiges te benadeel nie.  Hy soek eerder mense se voordeel, sodat hulle geheel en al op die Here sal fokus (v.35).  Hy wil nie hê dat ons ooit vir Jesus moet sê:  “Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.” (Lukas 14:20).

 

As jy enkel bly hoef jy nie twee keer te dink oor:

 

  • ‘n Gevaarlike sendingveld. My sendeling-vriend en sy gesin bly in ‘n Shangaan village. Hulle is onlangs in hulle huis aangeval. Vir beter evangelisasie doeleindes wou hy in die village aanbly, maar moes hy sy vrou en kinders se veiligheid en vrese in ag neem, en dorp toe trek.
  • Lang ure in gebed (1 Timoteus 5:5).
  • ‘n Halwe dag van straat evangelisasie.
  • ‘n Uur of twee by ‘n Woensdagaand Bybelstudie (jy het nie kinders wat vroeg in die bed moet wees, omdat hulle die volgende dag skool het nie).
  • ‘n Groot deel van jou salaris gee vir sending.

 

Kan jy die Here beter dien deur enkel te bly of deur te trou?  Doen dít.  Oor die algemeen kan ‘n enkel gelowige makliker op die Here fokus.

 

Vaders (v.36-38)

‘n Paar jaar gelede was my jongste suster verloof.  ‘Hy is nie die regte man nie,’ het my ouers gesê.  Sy het die verlowing verbreek, lang trane gehuil, en gedink dis die einde van die wêreld.  Vir my huidige swaer was dit die begin van die wêreld.  My punt is eenvoudig dit:  party mense is enkel as gevolg van hulle ouers se besluit.  Dis wat Paulus in v.36-38 leer.

 

Na my mening verwys ‘sy maagd’ in v.36-37 na die pa se dogter, en nie na die jong man se verloofde nie (in Paulus se tyd het die pa sy dogter se troue gereël, vgl. Genesis 34:6).  Gestel die pa wil hê sy dogter moet enkel bly om meer toegewyd aan God te lewe (v.36, 35), maar sy is in die blomtyd van haar lewe en wil graag trou (v.35-36, 9)?  As die pa sy voorneme verbreek en haar weggee om te trou, is dit nie sonde nie (v.36).  Indien sy dogter se begeerte vir ‘n maat nie so sterk is nie en hy by sy besluit bly, is dit beter (v.37-38) – veral in die lig van probleme wat op die horison is (v.26).

 

Om ouers te vra is nie bloot ‘n formaliteit nie.  Totdat sy trou (nie tot sy 21 is nie!) is die pa die hoof van sy dogter (v.36-37).  Soos God Eva vir Adam gegee het (Genesis 2:22, 24), moet pa’s hulle dogters in die huwelik weg gee (Eksodus 22:16-17).  Volgens Jesus is dít hoe dit sal wees totdat Hy weer kom (Matteus 22:30, 24:38-39).

 

Moenie jou pa inlig dat jy trou nie:  die man moet toestemming vra.  Ouers moet hulle kinders help om goeie maats te kies.  ‘n Pa moenie te hard wees of moeilik raak as sy dogter die regte man ontmoet het nie:  laat sy trou (v.36).

 

Verlies (v.39-40)

Op 5 November 1858 het sendeling John Paton op Tanna-eiland aangeland.  Op 12 Februarie 1859 het hy en sy vrou Mary ‘n baba seun gehad.  Op 3 Maart 1859 het Mary gesterf, en op 20 Maart sy baba seun.  Paton het hulle met sy eie hande begrawe.  Hy het in sy dagboek geskryf:  ‘But for Jesus… I must have gone mad and died beside that lonely grave!’[4]  Ook vir dié rede is die enkel persoon beter af.

 

As jy trou is dit lewenslank (v.39).  Behalwe vir die uitsonderings in v.15 en Matteus 19:9, kan jy net hertrou as jou maat dood is (v.39).  In dié geval kan jy volgens jou voorkeur hertrou.  Jy hoef nie vir ‘n stem te wag om te sê met wie jy moet trou nie.  Trou met wie jy wil, maar net in die Here:  met ander woorde, net met ‘n ander Christen (v.39, 2 Korintiërs 6:14).  Onthou tog dat die maat met wie jy hertrou óók kan sterf (v.39).  Op grond van die redes in v.26, 32-35 sal jy ook gelukkiger wees as jy enkel bly.  Paulus se lering oor enkelskap is nou wel sy opinie, maar dis ‘n geïnspireerde opinie (v.40).

 

Is jy enkel?  Dink aan v.39 voor jy trou.  ‘n Mens se huweliksmaat is nader aan jou as enigiemand anders (Genesis 2:24).  Die dood is erg, veral as jy vir baie jare getroud was en ‘n diep liefde vir mekaar gehad het.  Skielik is jy eensaam.  Mense mis veral hulle maats oor kerstyd, met verjaarsdae, as hulle kinders trou, as hulle agter-kleinkinders gebore word.  As gevolg hiervan is dit goed om enkel te wees.  As jy weier om oor die dood te dink is jy onrealisties.

 

As jy iets beklemtoon staan jy gevaar om misverstaan te word.  Mense oorbeklemtoon maklik wat jy gesê het, en dink jy is dwars of teen iets.  ‘n Predikant in Alberton het gesê dat sekere verse oor die ‘wederkoms’ eintlik nie na wederkoms verwys nie, maar na verwoesting van Jerusalem in 70 n.C.  Mense het sy beklemtoning verdraai en gesê hy glo nie in die wederkoms nie.

 

Dieselfde is waar van dié preek.  Mense kan maklik dink ek sê om te trou is sleg.  Enkel mense kan dink ek is ongelukkig getroud, en wil hulle afsit om dieselfde fout te maak.  Mense wat só dink mis die punt.  Ek hoop jy sien dat Paulus se punt ook mý punt is:  daar is ‘n tyd om enkelskap te oorweeg (v.25-40).  Besluit self wat jou gawe is (v.7) en doen dan wat jy wil.  As jy binne God se wil is, is die huwelik en enkelskap ewe goed.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield vol.2, pp.101-113

[2] Leon Morris, 1 Corinthians: Tydnale New Testament Commentaries, p.113

[3] Ibid, p.115

[4] John G. Paton:  Missionary to the New Hebrides, pp.79-80

Bly soos jy is

Happy old couple

Ek ken ‘n man wat besig was om te skei toe hy in ‘n verhouding betrokke geraak het.  Hy en die vrou het toe getrou.  Kort daarna het die vrou tot bekering gekom.  Hulle is nou al vir ‘n paar jaar getroud en die man is nog ongered.  Wat verwag God van ‘n vrou in só ‘n huwelik?  Die beginsel wat vir haar en baie ander situasies geld, word opgesom in 1 Korintiërs 7:17-24.

 

Godsdiens (v.17-19)

Twee jaar gelede het mnr. X tot bekering gekom en my kom sien.  Hy wou met mag en mening sy werk los om teologie te studeer.  Omtrent 8 jaar gelede het ‘n man ons kerk besoek.  My vriend het gepreek.  Die man was baie diep geraak en het die volgende dag al sy goed weggegee.  Hy wou met ‘n groot aliminium kruis deur Suid-Afrika loop en Bybels uitdeel.

 

Volgens Paulus is dié optrede te radikaal.  Ons moenie so wees nie.

 

Die algemene reël vir getroudes, enkel mense, geskeides, slawe, besnedes, onbesnedes is dít:  bly soos wat jy was toe God jou tot bekering geroep het (v.17, 20, 24).  Hierdie reël geld altyd en op alle plekke, nie net vir Christene in Korinte nie (v.17, vgl. 4:17, 11:16, 14:33).

 

Moenie dink veranderde omstandighede is meer geestelik, of om dieselfde te bly is minder geestelik nie.  As God vir jou die geleentheid gee om jou omstandighede te verander, kan jy dit doen (v.21, 9, 15, 27-28, 39).  Maar as jou omstandighede nie verander nie moet jy daarmee tevrede wees (v.7, 12-14, 27-28, 39).

 

Paulus gee ‘n voorbeeld van wat hy bedoel.  Jode wat met hulle bekering besny was moenie dink dit maak hulle ongeestelik nie.  Hulle moenie hulle besnydenis ongedaan wil maak deur ‘n operasie nie.  Heidene wat tot bekering kom moenie dink die besnydenis red, sodat hulle besny word nie (v.18, vgl. Handelinge 15:1, 5).  Vir God maak dit nie saak of jy besny is of nie.  Nie een van die twee maak jou meer of minder aanneemlik voor Hom nie.  Wat vir God saakmaak is dat jy ‘n nuwe hart het en dit wys deur jou gehoorsame dade (v.19, Galasiërs 5:6, 6:15, Romeine 2:25-29, Kolossense 3:11, Johannes 14:15, 1 Johannes 2:3).

 

Status (v.20-24)

Ek het vroeër vanjaar die lewensverhaal van Ernest C. Reisinger gelees.  Ek het al voorheen van hom gehoor, maar niks oor hom geweet nie.  Van wat ek gehoor het, was ek onder die indruk dat hy ‘n predikant was.  Soos wat ek gelees het, het ek die hele tyd gewag dat hy ‘n predikant moet word, maar dit het nie gebeur nie.

 

Reisinger het eers sy eie konstruksie maatskappy besit en op die kantlyn met beeste geskou.  Hy het ‘n multi-miljoenêr geword.  Terwyl hy in dié sektor gewerk het, het hy kerke geplant, gepreek, as spreker by die Banner of Truth predikantekonferensie opgetree, teologiese boeke versprei, saam met broers gebid, kerke, predikante, en individue beïnvloed.  Eers toe hy 47 was het hy ‘n predikant geword.  Reisinger se invloed as ‘n gewone man in die bank het my diep beïndruk.

 

Ons buurman in Louis Trichardt was ‘n eenvoudige man.  Het het net ‘n standerd 6 (graad 8) gehad en in ‘n ‘brick yard’ gewerk.  Hy het nie ‘n kar gehad nie.  Hy was lief vir God en sy Woord.  Hy het sy Bybel goed geken en Sondagskool gegee.  Deur te bly soos hy was het hy ander beïnvloed.

 

Dié twee stories illustreer Paulus se punt.  Die Bybel sê nie dat jy nooit jou omstandighede of beroep mag verander nie.  Die punt is eerder dít:  bly soos jy is; met God se hulp kan jy dáár ‘n invloed hê.

 

In v.20 herhaal Paulus hierdie beginsel.  Sy volgende voorbeeld kom uit die slawe wêreld.  ‘n Slaaf wat tot bekering kom moet hom nie oor sy sosiale status bekommer of dink dis ongeestelik nie (v.21).  Wat tel is jou verhouding met God, nie jou sosiale status nie (1:26-31).  ‘n Christen-slaaf is vryer as die vryste heiden; ‘n vry Christen is meer gebonde as enige slaaf in die wêreld (v.22, vgl. 1 Petrus 2:16).  Die Skrif sê mos:

 

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak… As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Johannes 8:32, 36).  En:  “julle dien die Here Christus.” (Kolossense 3:24).  Charles Spurgeon het gesê:  ‘If Christ has called you to be his slave, why would you stoop to be a king?’

 

As jy die geleentheid het om vry te raak, vat dit (v.21).  As jy egter nié die kans het nie, wees daarme tevrede en verheerlik die Here waar jy is (v.21, vgl. Kolossense 3:22-24).  God sal vir jou krag gee om jou omstandighede te dra (v.24).

 

Jesus het ons met ‘n prys gekoop – met sy bloed – en daarom is jy sý slaaf (v.23, 6:20, 1 Petrus 1:18-19, vgl. Levitikus 25:42, 55).  Moet dan nie ‘n slaaf van mense wees nie.  Moenie bang wees vir mense vrees en hulle opinies nie (v.23, Spreuke 29:25).  Om ‘n slaaf te wees op aarde is aanvaarbaar (v.21).  Om ‘n slaaf te wees van mense se opinies is nie (v.23).

 

Om die beginsel te beklemtoon sê Paulus vir ‘n derde keer:  bly soos wat jy was toe God jou geroep het (v.24).  ‘Bly daar met God,’ sê Paulus in v.24.  Wat beteken dit?  Jy moet in jou omstandighede bly om God te verheerlik, en daarin volhard met die krag wat Hy gee.  Jy kan in alle omstandighede gemeenskap met die Here hê (v.24).

 

Daar is wel uitsonderings waarin jy jou omstandighede kan verander (v.21, 15).  Die algemene reël bly egter staan:  ‘Bly soos jy is.  Moenie vlug nie, maar skyn jou lig.  Die feit dat jy in die wêreld is beteken nie jy hoef van die wêreld te wees nie.’ (5:10, Matteus 5:16, Johannes 17:15).

 

Hoe kan ons dié beginsel in ons dag toepas?

 

[1] Getroudes

Dalk het jy vir verkeerde redes geskei en hertrou.  Moenie van jou nuwe maat skei en na jou eerste maat toe teruggaan nie.  Is jou maat ongered?  Moenie wil skei en sê:  ‘Ek het ‘n fout gemaak en met die verkeerde een getrou’ nie.  Paulus het reeds in v.12-14 hieroor gepraat.  Daar is wel die uitsondering dat jy kan skei as die ongelowige party wil (v.15).  ‘Hoe weet jy of jy met die regte persoon getroud is?  Kyk na die naam op jou huweliksertifikaat.’ (John Piper).  Dalk dink jy om te skei sal vir jou vryheid gee, of dat jy gelukkiger sal wees as jy skei.  Dis nie waar nie.  Jy sal nooit gelukkig wees as jy buite God se wil is nie.

 

[2] Geskeides en enkel persone 

Moenie haastig wees om te trou, omdat jy tot bekering gekom het en gehoor het dis sonde om saam te bly nie.  Is jy of die ander persoon om verkeerde redes geskei?  As jy sommer net trou pleeg jy dalk egbreuk.  In Lukas 16:18 staan daar:  “Elkeen wat van sy vrou skei en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.”  As jou eks-maat nog ongetroud is, moet jy met moet hom of haar versoen raak (v.11).  Is die persoon met wie jy wil trou gered?  Indien nie, mag jy nie met hom of haar trou nie (v.39).

 

Om getroud te raak moenie jou hoogste prioriteit wees nie; om God te verheerlik moet.  Bly soos jy is.  As jou ongelowige maat jou gelos het kan jy weer trou (v.15).  As jy enkel is en met begeerte brand kan jy trou (v.9).  As jy geskei is omdat jou maat egbreuk gepleeg het kan jy weer trou (Matteus 19:9).  As jy ongered was toe jy geskei het kan jy vir jou ‘n Christen maat soek (v.39, 2 Korintiërs 5:17).

 

Wat het gelei tot jou egskeiding?  Dra jy skuld?  Werk eers aan dié tekorte voordat jy weer trou.  As jy dit nié doen nie, sal jy baie maklik dieselfde foute in jou tweede huwelik maak.

 

[3] Mense wat kollegas het met meer as een vrou

Sam werk saam met jou.  Hy het drie vroue.  Hy het onlangs tot bekering gekom.  Hy vra vir jou:  ‘Wat nou?’  Hoe help jy hom?  Moet hy sy eerste vrou hou en van die ander twee skei?  Moet hy met die Christen vrou getroud bly en van die ander skei?  Moet hy al sy vroue hou?

 

In die lig van v.17, 20, 24, dink ek die laaste opsie is die regte een:  hy moet bly soos hy is.  Sy geval is dieselfde as ‘n man wat egbreuk pleeg en dan met die vrou trou:  hy moet sy sonde bely, maar hy moenie van haar skei nie.  Hy moet egter net met sy eerste vrou slaap.  Hy moet steeds vir die ander vroue en kinders sorg (1 Timoteus 5:8).  As hy tog van sy tweede en derde vrou skei (of hulle van hom), is dit toelaatbaar:  “Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” (Matteus 19:9).

 

Sam kan ‘n lidmaat van die kerk word, maar hy mag nie ‘n ouderling word nie.  ‘n Ouderling moet immers die man van een vrou wees (1 Timoteus 3:2).

 

[4] Werkende mense

Moet jy jou werk los as jy ‘n Christen word?  As jou werk sondig is moet jy dit los.  Jy kan nie aanhou om met te dwelms handel, of in ‘n vuil klub of aborsie kliniek te werk nie.

 

Indien jou werk nie sondig is nie, moet jy nie bedank omdat jy ‘n Christen geword het, en bang is die ongelowiges ‘besmet’ jou nie.  Alles in die lewe is God s’n.  Verheerlik Hom deur jou getuienis en kwaliteit werk.  Werk asof jy vir die Here werk (Kolossense 3:23).  Moenie jou werk los omdat dit ongeestelik is, en jy as predikant of sendeling vir die Here wil werk nie.

 

Moenie dadelik jou werk bedank omdat dit volgens jou ongeestelik is om ‘n politikus of sielkundige te wees nie, of om vir die regering te werk nie.  Moenie dadelik uit die video winkel, bottelstoor, SAB, die gym, of die filmbedryf bedank nie.  Laat eerder jou lig skyn terwyl jy daar werk.  Dalk gee die Here later vir jou die kans om iets anders te doen (v.21).

 

[5] Mense met ongeredde vriende

Jy hoef nie dadelik jou ongeredde vriende te los, omdat jy nou ‘n Christen is nie.  Probeer om die kanaal oop te hou, sodat jy hulle vir die Here kan wen.  Moet egter nie saam met hulle sondig nie.

 

[6] Ongeredde mense

Het jy al die Here se roepstem gehoor?  Het jy jou al van jou sonde bekeer?  Hoor dan vandag sy roepstem in die evangelie.  Jy is ‘n slaaf van jou sonde.  God is kwaad vir jou.  Jy verdien sy straf.  Hy is ook lief vir jou en het aarde toe gekom om sondaars te red.  Hy het die wet perfek onderhou namens dié wat in Hom glo.  Hy het die straf vir ons sondes op Homself geneem aan die kruis.  Hy het uit die dood opgestaan en gee die ewige lewe vir almal wat hulle bekeer en op Hom vertrou.  Bekeer jou en glo in Jesus as jy dit nog nie gedoen het nie.

 

Hoekom moet jy bly soos jy is?  As jy buite God se wil probeer om jou omstandighede te verander, sal jy nie gelukkig wees nie.  God sal vir jou krag gee om getroud, enkel, of geskei te bly; om gelukkig te wees in die sekulêre sektor (v.24).

 

Ons kultuur sê:  ‘As ek net my omstandighede kan verander sal dinge beter gaan.’  Te veel mense dink:  ‘As ek net kan trou, met iemand anders getroud wees, enkel kan wees, ‘n ander werk het, aftree, sal ek gelukkiger wees.’

 

Ek ken ‘n vrou wat onlangs so ‘n skuif gemaak het, en nogsteeds ongelukkig is.  Nou wil sy weer ‘n skuif maak.  Ons moet besef dat ons geluk in die Here lê, en nie in ons omstandighede nie.  Daarom kan jy bly soos jy is en nogsteeds gelukkig wees.

Christene en egskeiding

Broken marriage

Ons het omtrent 75 lidmate, waarvan 16 (21%) al geskei was.  Dieselfde is seker waar in baie kerke.  Daarom is 1 Korintiërs 7:10-16 se lering oor Christene en egskeiding baie relevant.

 

Reëls as jy met ‘n gelowige getroud is (v.10-11)

Jy het seker al die ou illustrasie van egskeiding gehoor?  Egskeiding is soos iemand wat twee papiere aanmekaar plak en die gom laat droog word.  As jy die twee uitmekaar skeur, is daar stukke van beide papiere wat aan die ander kant vassit.

 

Jy verloor iets van jouself as jy skei.  Mense wat geskei is sal vir jou sê:  ‘Dit voel of iemand dood is.’  God se reëls vir egskeiding is nie gegee om plesier te verhoed nie, maar pyn.  Dít is onder andere die rede vir die reëls in v.10-11.

 

Paulus praat hier met getroude gelowiges (v.10-11).  In v.12-16 sal hy sy fokus verskuif na gelowiges wat aan ‘n ongelyke juk trek.  In v.10 sê hy dat die Here, en nie hy nie, die volgende opdrag gee.  Sy bedoeling is dat Jesus in Matteus 19 lering oor dié onderwerp gegee het.  In v.10-11 haal hy dus vir Jesus aan.

 

Die opdrag is dat die vrou nie van haar man moet skei nie (v.10, Maleagi 2:16, Matteus 19:3-9).  Die Griekse woord wat in v.10 met ‘skei’ vertaal word, verwys nie na mense wat ‘van-bed-en-tafel’ geskei is nie, maar na egskeiding.  Ons weet dit omdat v.11 sê die persoon is ‘ongetroud,’ en omdat dieselfde woord in Matteus 19:6 van egskeiding gebruik word.  Ek sê dit, omdat daar mense is wat moderne ‘separation’ uit dié vers probeer regverdig.

 

As die vrou reeds geskei was toe sy Paulus se brief gelees het, moes sy ongetroud bly of met haar man versoen raak:  ongetroud as hy reeds met iemand anders getrou het; versoen as hy nog ongetroud was (v.11).  Paulus sê dat die man ook nie sy vrou met ‘n skeibrief moes wegstuur nie (v.11).  Die enigste gronde vir skei en hertrou onder gelowiges vind ons in Matteus 19:9:  seksuele sonde.

 

Reëls as jy met ‘n ongelowige getroud is (v.12-16)

Baie van julle het die Christelike film, Fireproof gesien.  Die film gaan oor ‘n huwelik wat op die rotse is.  God het die man se lewe verander, sodat die vrou deur sy getuienis tot bekering gekom het.

 

Hoeveel huwelike ken jy waarin een maat tot bekering gekom het, en die ander een deur sy of haar getuienis gered is?  Een predikant het geglo dat sy vrou gered is.  Sestien jaar later het hulle besef dat sy nie gered is nie, en het sy tot bekering gekom.  Dieselfde het onlangs gebeur met ‘n man in ‘n plaaslike Baptistekerk.  Dít is Paulus se les in v.12-14.

 

Paulus praat nou met die res.  Hy verwys hier na Christene wat met ongelowiges getroud is.  Paulus keur nie gemengde huwelike goed nie (v.39).  Die Christene in dié vers was seker ongered toe hulle getroud is, en het intussen tot bekering gekom.

 

Paulus sê nou dat hy, nie die Here nie, die volgende lering gee.  Hy bedoel nie dat hy net sy opinie gee nie.  Nee, sy lering is gesaghebbend (v.40).  Wat hy bedoel is dat hy nie nou vir Jesus aanhaal soos wat hy in v.10-11 gedoen het nie.  Jesus het vir Jode gepreek en dus nooit gesê wat in ‘n geval gebeur waar ‘n gelowige met ‘n heiden getroud is nie.  Paulus is die apostel na die heidene en sal dus nou lering hieroor gee (v.12).

 

As die ongelowige party heelhartig instem (Gk.) om met die gelowige saam te leef, dan moet die gelowige nie skei nie.  Só ‘n ongelowige is die tipe wat nie sy of haar Christen-huweliksmaat sal verbied om kerk toe te gaan, Bybel te lees, of te bid nie (v.12-13).  In baie gevalle sal die ongelowige hierdie dinge saam met die gelowige doen.

 

Hoekom moet die gelowige nie van só ‘n ongelowige skei nie?  Die Christen mag dalk bang wees dat eenheid met ‘n ongelowige hom (haar) of sy (haar) kinders geestelik sal besmet.  Paulus sê egter dat die teenoorgestelde kan gebeur.  Ter wille van die gelowige sonder God die Christen se ongelowige maat en kinders af,[1] sodat hy (sy) hulle vir Jesus kan wen (v.14, 1 Petrus 3:1, Maleagi 2:15).

 

Ek was eenkeer moedeloos en depressief.  My vriend het my gebel en ek het my sorge met hom gedeel.  Hy het sê:  ‘So, jy gaan deur hiérdie pyn en my vrou het my gelos.’  Wat!?  Ek het amper op my rug geval toe hy dit vir my sê.

 

Wat gebeur het is dit:  hy het by die huis gekom, en gesien dat sy vrou die goed gepak het en getrek het.  Wat was haar rede?  Sy wou nie met ‘n predikant getroud wees nie.  Na ‘n baie moeilike tyd het my vriend ‘n goeie Christen vrou ontmoet.  Vandag is hy dol gelukkig getroud.  Dít is die toegewing waarvan Paulus praat in v.15.

 

In v.1-4 praat Paulus oor seks in die huwelik, en in v.5 gee hy ‘n uitsondering op die reël.  In v.6-8 praat hy oor enkelskap, en in v.9 gee hy ‘n uitsondering op die reël.  In v.10-14 praat hy oor egskeiding, en in v.15 gee hy ‘n uitsondering op die reël.

 

Wat is die uitsondering?  God laat egskeiding toe as die ongelowige party wil skei, omdat hy of sy vir Jesus haat.  In só ‘n geval moet die gelowige nie weier om die skeibrief te teken nie (v.15).  As jy weier sal die ongelowige altyd deel van jou lewe wees.  Daar sal dan altyd trane, vrees, en bakleiery vir jou en jou kinders wees.  Dit hoort nie so nie, want God het jou tot vrede geroep (v.15).  Daarom laat Hy toe dat jy vry is van die huweliksband en weer kan trou (v.15, vgl. Romeine 7:1-3).

 

Dalk dink jy:  ‘Ek wil nie die skeibrief teken nie, want dalk kan ek my maat vir die Here wen?’  Hoe weet jy of jy dit sal regkry (v.16)?  Gaan jy vir altyd aan die onstuimige huwelik vashou vir ingeval jou maat dalk gered word (v.16)?

 

Volg die Skrif se reëls vir egskeiding.  Elke senario is nie in die Skrif nie, maar die beginsels is duidelik.  Volg die Skrif en nie die wêreld se raad wat jy in boeke en tydskrifte lees, of by sielkundiges hoor nie.  Volgens die wêreld is egskeiding normaal.  Hoeveel kinders by die skool se ouers is nie geskei nie?  Baie wêreldberoemdes, dominees, en kerkmense is ook geskei.  Hollywood, kollegas, familie, en vriende hits jou aan om vir enige rede te skei.

 

God haat egskeiding en beskou dit as ‘n aaklige sonde.  Tog het die Here twee uitsonderings gemaak:  enige vorm van seksuele sonde (Matteus 19:9), en die ongelowige party wat wil skei (v.15).

 

Maar wat van die volgende gevalle:

 

[1] Pornografie:  Jesus sê mos dat wellus gelyk aan egbreuk is (Matteus 5:27-28)?  Antwoord:  Jesus sê dat woede gelyk aan moord is, en tog stuur ons nie iemand tronk toe omdat hy bitter is nie (Matteus 5:21-22).  Net so is wellus nie ‘n grondige rede vir egskeiding nie.

 

[2] Misdade wat die doodstraf verdien, waarvoor iemand lewenslank in die tronk sit (bv. moord)?  Antwoord:  Vir alle praktiese doeleindes het dié persoon sy of haar maat versaak, en is die gelowige vry om weer te trou (v.15).

 

[3] Drank, dwelms, dobbel, aanranding?  Antwoord:  Party keer is hierdie gevalle van praktiese versaking (v.15).  Ons moet aan die regering onderdanig wees (Matteus 10:23), maar as ons lewe in gevaar is moet ons vlug (Romeine 13:10).  Net so moet ‘n vrou aan haar man onderdanig wees, maar as lewe in gevaar is moet sy vlug.  As die Christen se lewe nie bedreig word nie, moet hy (sy) nie die huwelik opgee nie, maar die ongelowige deur sy (haar) heilige optrede wen (1 Petrus 3:1-2).

 

[4] Die ongelowige loop, maar skei nie formeel nie?  Antwoord:  Die ongelowige het die huwelik versaak (v.15).  Die gelowige kan die papierwerk afhandel.

 

[5] Die ongelowige wil getroud bly, maar kom nie tot bekering nie?  Antwoord:  Die gelowige mag nie skei nie (v.12-14).

 

[6] Die vonk in jou huwelik is weg?  Jy voel dat jy en jou maat nie meer ‘compatible’ is nie (soos wat die Afrikaanse sangeres, Nianell onlangs gesê het)?  Antwoord:  Dit is geen gronde vir egskeiding nie.  Die huwelik is nie gebou op ‘n vonk nie, maar op ‘n belofte wat jy aan God en jou maat maak.  Volgens v.39 is enige twee gelowiges ‘compatible’.

 

[7] Jy en jou maat het nie meer ‘n sekslewe nie?  Antwoord:  ‘n Skoolvriend was vir vier maande getroud.  Sy vrou het gesê dat sy net seks wil hê om kinders te kry.  Hy het haar geskei.  Was hy reg?  Nee.  Hy en sy vrou moes eerder hulp gesoek het.  Indien jou maat nie met jou wil slaap nie, maar seks op ander plekke soek, het jy gronde om te skei (v.5, Matteus 19:9).

 

[8] Jy het op onbybelse gronde geskei en weer getrou (Bybelse gronde vind ons in v.15, 39, Matteus 19:9), en volgens die Bybel is jy skuldig aan egbreuk (Lukas 16:18)?  Moet jy van jou nuwe huweliksmaat skei?  Antwoord:  Nee.  “Is jy aan ‘n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie” (v.27).  Bely jou sonde en werk hard om van jou nuwe huwelik ‘n sukses te maak.

 

[9] Jou maat is baie siek, het gestremd geraak, is erg depressief?  Antwoord:  Jou belofte voor die kansel was:  ‘In voorspoed en in teëspoed, in siekte en gesondheid, tot die dood ons skei.’

 

Doen alles in jou vermoeë om egskeiding te verhoed, om jou vriende en kinders af te raai.  Egskeiding is slegs toelaatbaar vir die toegewings in v.15 en Matteus 19:9.  Gee jou tyd en krag om te werk aan jou huwelik, om ‘n vriendskap met jou maat te bou.  Soek wat die Bybel oor die huwelik sê, lees goeie boeke hieroor, en bid ernstig hiervoor.

 

Dalk het jy op onbybelse gronde geskei.  In Jesus is daar vergifnis vir jou.  Probeer om met jou eks-maat versoen te raak (v.11).  As jou maat reeds dood is kan jy met ‘n gelowige trou (v.39).  Indien jy met jou maat versoen wou raak, maar hy of sy reeds hertrou het, lyk dit uit v.11, 8-9, 27-28 of jy met iemand anders mag trou.

 

Hoekom moet jy die Skrif se reëls oor egskeiding volg?  As jy vir jou eie redes skei, sal dit groot pyn en hartseer vir jouself en ander veroorsaak.  Daarby sal God jou nog straf ook.  Jesus se Naam en getuienis sal ook skade ly (sien Efesiërs 5:22-33).

 

Een studie het gesê dat die skeisyfer onder evangeliese Christene net so hoog, indien nie hoër is, as die skeisyfer onder ongelowiges nie.  Ek glo dit nie vir ‘n oomblik nie.

 

Baie ongelowiges trou nie meer nie.  As hulle dus opbreek, tel dit nie as egskeiding nie.  Verder is evangeliese kerke deesdae gelaai met ongelowige lidmate:  die skeisyfer onder nominale Christene tel nie vir ware Christene nie.  Die syfer mag dalk ook Christene se egskeidings voor hulle bekering insluit, en tel dus nie.

 

Christene is nuwe skepsels:  die ou dinge het verbygegaan en alles het nuut geword (2 Korintiërs 5:17).  Ook wat egskeiding betref is hulle oortuigings en optrede nuut.

[1] Hierdie vers het niks met die kinderdoop te doen nie.  As jy dít sê moet jy konsekwent wees en die ongelowige huweliksmaat ook doop.