God se silhoeët in die siviele wet

Christ the Redeemer

Tydens my studiejare het ‘n mede-student en sy vrou in die mall gaan stap. ‘n Fransman het op ‘n stoeltjie tussen die winkels gesit. Hy was ‘n kunstenaar. Hy het ‘n swart karton gevat en binne ‘n paar minute die buitelyne (silhoeët) van die vrou se gesig uitgeknip. Hy het dit so goed gedoen, dat ‘n mens duidelik kon sien dis sy.

 

Op ‘n soortgelyke manier sien ons in die siviele wet die buitelyne van God se karakter. Die siviele wet wys vir ons Hy is rein, heilig, regverdig, ontpartydig, toornig, goed, genadig, barmhartig, liefde, getrou, vol ontferming, en meer. Ons sien dit onder andere in Eksodus 22:16-23:9.

 

Hoerery en heksery (22:16-20)

In 2007 het ek Taiwan toe gevlieg. ‘n Plakker in die toilet het gewaarsku dat jy met $50 000 (R10 000) beboet sal word as jy in die vliegtuig rook. Dis onnodig om te sê dat niemand dit gewaag het om op die vliegtuig te rook nie.

 

Hoeveel jong mense sal twee keer dink as hulle R30 000 of R50 000 moet betaal vir seks voor die huwelik? In ou Israel moes jy 50 egte silwer munte betaal vir seks voor die huwelik.

 

As ‘n wellustige man ‘n ongetroude vrou verlei het en met haar geslaap het (Deuteronomium 22:28), moes hy 50 shekels betaal, met haar trou, en nooit van haar skei nie (v.16, Deuteronomium 22:29). In dié kultuur kon sy nie vir haarself sorg nie. Die man het haar verneder en waarskynlik sou niemand nóú met haar wou trou nie. Deur hierdie wet het God verseker dat sy versorg is.

 

Maar wat as die vrou verloof was? In antieke tye was verlowing baie strenger as nou, en moes dit met ‘n skeibrief beeïndig word (Matteus 1:19). Iemand wat dus met ‘n verloofde geslaap het, was skuldig aan egbreuk en moes daarom die doodstraf kry (Deuteronomium 22:23-24). As die vrou verkrag is, moes die verkragter met die dood gestraf word (Deuteronomium 22:25-27).

 

Die meisie se pa kon kies of hy sy dogter wou weggee of nie (v.17, om ouers te vra is nie bloot ‘n formaliteit nie; vgl. 1 Korintiërs 7:36-38). As die pa nie sy dogter wou weggee nie, moes die man nogsteeds die buidsprys vir maagde betaal. Was die prys vir maagde 50 shekels soos in Deuteronomium 22:29, of 100 shekels soos in Deuteronomium 22:19? Wat dit ookal was, hy het die pa se bruidsprys gesteel en moes dit terugbetaal.

 

Pasop vir seksuele sonde. Moenie daaraan gewoond raak deur films, TV, die samelewing, tydskrifte, die media, of selfs sommige kerke wat maak asof dit nie sonde is om saam te bly nie. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:2).

 

Moenie vir mense se verskonings val vir hoekom hulle saam bly nie: ‘Dis goedkoper… Ons wil toets of ons bymekaar pas… Ek kan nie op my eie ‘n huis koop nie… Ons is getroud in God se oë… Ons bly net saam, maar slaap nie saam nie… Tye het verander; die kerk en die Bybel moet aanpas…’

 

Die Skrif sê dis sonde om saam te bly; om seks voor die huwelik te hê (22:16). Hebreërs 13:4 sê ons moet die huwelik heilig ag en die huweliksbed onbesmet hou, want God sal egbrekers (seks buite die huwelik) en hoereerders (seks voor die huwelik) oordeel. Paulus sê ongetroudes wat met seksuele begeerte brand moet trou, nie in die bed spring nie (1 Korintiërs 7:9). In Johannes 4:18 het Jesus vir die Samaritaanse vrou gesê: “jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.” Jesus sê dat jy nié getroud is net omdat jy met iemand geslaap het nie.

 

As jy saambly goedkeur, sal ander seksuele sondes spoedig volg. In Romeine 1:24 verval die samelewing in seksuele immoraliteit, en baie kort daarna in homoseksualiteit (Romeine 1:26-27). Die VSA het onlangs gay huwelike goedgekeur. Nou vra pedofiele hoekom hulle dade en begeertes nie óók wettig kan wees nie. Wat is volgende? Voor jy weet sal mense vir die regering vra om bestialiteit (gemeenskap met diere) wettig te maak.

 

Jare gelede het ‘n vrou in Louis Trichardt te hore gekom van ‘n Sataniste leier van Amerika wat Suid-Afrika toe kom. Sy het die polisie laat weet. Toe die man op die lughawe land het die polisie hom gearresteer.

 

Selfs vandag word Satanisme nie erken nie. In Amerika wil Sataniste erken word, en druk hulle daarvoor dat Satanisme as ‘n erkende godsdiens in skole geleer word.

 

God haat okkultisme. Dit verwoes die samelewing, en daarom het hekse in Israel (soos in ou Engeland) die doodstraf gekry (v.18). God het vir Saul doodgemaak omdat hy met ‘n heks deurmekaar was: “En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ‘n afgestorwene om inligting gevra het” (1 Kronieke 10:13).

 

Die towery in ons teks sluit verskeie vorme van okkultiese boosheid in. In Deuteronomium 18:10-11 sê die Here: “Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.”

 

Moenie met die okkulte speel nie. Pasop vir okkultiese films, kontak met die dooies, okkultiese speletjies, okkultiese tekens op jou kinders se klere, kamer muur en Sony Play Station, toordokters, die New Age, Vrymesselaars, spiritisme, sterretekens in tydskrifte, toekomsvoorspelling, Satanisme, hekse, Halloween, Wicca, ens. Bly ver weg van hierdie dinge af, en moenie demone uitsoek of ‘n obsessie daarmee hê soos wat baie in die charismatiese beweging doen nie.

 

Moenie na hekse toe gaan om God se wil te ken nie; gaan na die Skrif toe: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.” (Jesaja 8:19-20).

 

As jy behep is met die toekoms, vertrou jy nie die Here nie. God sê ons moenie oor die toekoms bekommer nie (Matteus 6:34). Hy ken die toekoms en het al ons dae beplan en bepaal – vertrou Hom (Jesaja 46:9-10, Psalm 139:16). Eintlik is dit beter dat jy nié weet wat in die toekoms gaan gebeur nie. Saul wou graag weet, en toe vind hy uit dat die hy die volgende dag sou sterf (1 Samuel 28:19).

 

‘n Predikant het my gebel oor ‘n man in sy kerk wat ‘n sterk seksuele drang het vir perde. Dié man moes eintlik summier van die kerk afgesny word (vgl. die beginsel in 1 Korintiërs 5:1-2, 13). In die Ou Testament sou hy die doodstraf gekry het.

 

Om met ‘n dier gemeenskap te hê bring die mens af tot op die vlak van ‘n dier. Dit ontheilig die mens en die huwelik, en daarom moet beide die mens en die dier gestenig word (v.19, vgl. Levitikus 18:23, 20:15-16, Deuteronomium 27:21, Hebreërs 13:4).

 

God is nie soos die mens nie, maar is rein en getrou aan sy bruid (Efesiërs 5:25-32). Moenie geestelik hoerereer met afgode of die wêreld, en so ontrou wees aan Hom nie (Jeremia 3:9, Jakobus 4:4). Iemand wat afgode aanbid het, is met die banvloek getref (v.20, vgl. Deuteronomium 17:2-5). Pinehas het ‘n spies deur ‘n Israelitiese man en Midianitiese vrou gesteek oor hulle afgodery en immorele dade (Numeri 25:2, 7-8). Elia het die Baälprofete in Israel geslag (1 Konings 18:40). Jehu het die Baälprofete in hulle eie tempel verbrand (2 Konings 10:25). Ons moet soos Jesus wees wat vir Satan gesê het: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Matteus 4:10). God is jaloers en deel sy eer met niemand nie.

 

Aanbid God met totale toewyding. Moenie ‘n halwe hart hê wat verdeeld is tussen Hom, geld, besittings, seks, familie, mense se applous (hoeveel ‘likes’ jy het op Facebook) plesier, werk, sport, tegnologie nie (v.20, vgl. Jakobus 1:8, 4:4, 8, Lukas 14:26, 33, Matteus 6:24). As jy God alleen moet dien, moet jy ook nie saam met Moslems, Hindus, Jode, en Katolieke bid nie. Ons dien nie dieselfde God nie (Johannes 14:6).

 

Hoekom moet jy so optree met betrekking tot seksuele sonde, okkulte, en afgode? Mense wat hierdie dinge doen gaan hel toe. Die Skrif sê: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” (Openbaring 21:8).

 

Verdrukking en vergelding (22:21-27)

Moenie vreemdelinge, weduwees, weeskinders, en armes verdruk nie (v.21-27, Deuteronomium 27:19). Het die vreemdelinge dalk Israel toe gekom omdat daar ‘n hongersnood in hulle land was, of omdat hulle die God van Israel wou dien? Daarom moes die volk hulle nie verdruk nie. Die Israeliete moes onthou dat hulle self slawe was in Egipte (v.21). Hulle moes onthou hoe hulle aanvanklik Egipte toe getrek het, omdat daar ‘n hongersnood was in Kanaän.

 

Die Israeliete moes nie die weduwees en weeskinders (kinders wat nie ‘n pa het nie, en nie noodwendig kinders wat beide ouers verloor het nie) verdruk nie. Die volk moes hulle nie mishandel, uitbuit, ignoreer, hulle erfdeel steel, of hulle indoen in die mark nie (v.22, Spreuke 23:10-11). Weduwees en weeskinders in Moses se tyd was baie meer ‘down en out’ as in ons dag. Hulle het nie ‘n pensioen gehad nie, en kon dus nie vir hulleself en hulle kinders sorg nie.

 

God gee om vir hulle en sou hoor as hulle onder verdrukking uitroep. Hy verskaf reg aan weduwees en wese (Deuteronomium 10:18). “‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.” (Psalm 68:6). God rig weduwees en weeskinders weer op (Psalm 146:9). As jy hulle onderdruk, sal sy toorn brand. Deur jou dood te maak sal die Here sorg dat geregtigheid geskied, dat jóú vrou ‘n weduwee word en jou kinders vaderloos (v.23-24).

 

Wees lief vir vreemdelinge; moenie xenofobies wees nie. Onthou dat jy self ‘n vreemdeling is op die aarde (1 Petrus 2:11, Hebreërs 11:13). Dis nie dat ons onwettige immigrasie goedkeur nie. Tog moet jy vra hoekom hulle uit hulle tuisland weg is? Is hulle vervolg of verdruk? Is daar nie kos in hulle land nie? Is hulle werkloos of arm? Wees gaaf met Chinese, mense uit Sentraal- en Wes Afrika, Zimbabweërs, Bangladeshi’s en ander uitlanders in Suid-Afrika. Moet hulle nie dreig sodat jy omkoopgeld kan kry nie. Praat stadige Engels, wees vriendelik, mededeelsaam, en hulpvaardig. Onthou dat Suid-Afrika aan God behoort en nie aan ons nie. Wees daarom barmhartig.

 

George Müller het in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders gesorg. Charles Spurgeon en George Whitefield het ook weeshuise gestig. Twee van my kollegas is betrokke by ‘n kinderhuis in Pretoria. ‘n Ander een lei Bybelstudies by ‘n kinderhuis in Kempton Park. Volgens v.22 is dit wat God wil hê.

 

Doen goed aan weduwees, weeskinders, en armes. Sorg eers vir mense in jou gesin en familie wat so is (1 Timoteus 5:8). Daarna help jy mede-gelowiges wat in dié posisie is, en dán eers ongelowiges (Galasiërs 6:10). Ken jy ‘n enkel ma wat klein kinders het en finansieel sukkel? Dalk ‘n weduwee? Kan jy met kos of geld help?

 

Moenie die lui persoon wat by die robot bedel aanmoedig in sy luiheid deur vir hom geld te gee nie. Help dalk met klein werkies as jy kan. As daar jong kinders is wat bedel sal dit gaaf wees om vir hulle kos te koop. Moet verkieslik nie vir hulle geld gee nie. Hulle sal dalk gom koop en is buitendien onervare met geld. Koop eerder self iets. God sal jou straf as jy die weduwees, wese, en armes ignoreer, wegjaag, of in jou hart verag (v.24, Spreuke 21:13, 17:5, 28:8).

 

Pasop egter dat jy nie in ‘n sosiale evangelie verval, deurdat jy kos en komberse gee sonder om die evangelie te deel nie. Die kerk se taak is nie primêr om kos en klere te gee nie. Tog kan ons as individue hierdie mense help.

 

Hoekom moet ons gaaf wees met weduwees, weeskinders, en armes? Dít is wat dit beteken om soos Jesus te wees, ware godsdiens te beoefen, en die Here te dien. Jesus self was immers goed vir weduwees (Lukas 7:13, Johannes 19:26-27). Hy het sy lewe vir ons afgelê, en ons behoort ook op te offer vir ons broers (1 Johannes 3:16-18). Hy het arm geword, sodat ons deur sy armoede hemelse rykdom kan ontvang (2 Korintiërs 9:8). Godsdiens sonder hulp aan dié mense is leeg en nutteloos (Jakobus 1:27). Hulp aan die arm gelowiges was ‘n opdrag aan die vroeë kerk (Galasiërs 2:10). As jy hierdie dinge aan mede-gelowiges doen, doen jy dit aan Jesus (Matteus 25:35-40).

 

Toe ek my kar gekoop het, het die bank 12.5% rente gevra. ‘n Vrou in ons kerk het my gehelp om dit af te bring na 10% toe. Vir mede-gelowiges moet ons nie 10% of 5% rente vra nie, maar niks. Ek ken ‘n goeie kerk wat vir arm lidmate geld leen sonder om ‘n sent rente te vra. Dis die beginsel in v.25-27.

 

Moenie ‘n arm Israeliet wat geld leen verdruk of vir hom rente vra nie (v.25, vgl. Deuteronomium 23:19-20). Hy leen juis geld omdat hy niks het nie. As jy nog rente oplaai sal jy hom finansieel sink. Wees eerder barmhartig soos God.

 

Die arm man besit niks nie. Hy het geen waarborg om te wys dat hy jou sal terugbetaal nie. Al wat hy besit is die klere op sy rug. Sy kleed kleed hou hom warm in die koue woestyn nagte. As jy dan sy kleed as waarborg neem, moet jy dit nie oornag hou nie (v.26-27, vgl. Deuteronomium 24:10-13, Amos 2:8). As jy sy kleed ná sononder hou is jy genadeloos, ongenaakbaar, en wreed. Jy gee meer om oor geld as oor mense. God sal Hom oor die arme ontferm as hy in die koue nag uitroep, en Hy sal jou straf (v.27). Dalk wonder jy: ‘Maar wat as hy met my geld verdwyn?’ Moenie laat dit jou kwel nie. Leen sonder om terug te verwag (Lukas 6:34-35). God sal met hom afreken. Sy gewete sal hom pla. God sal hom straf en jou vergoed.

 

Opstandigheid en offers (22:28-31)

‘n Predikant wat nou in die hemel is, is afgedank toe hy in ‘n erediens vir die regering gebid het. Afrikaners is lief daarvoor om die regering sleg te sê. God sê egter ons moenie (v.28).

 

God is heilig, en daarom moet ons nie sy Naam of die leiers wat Hy aangestel het (goed of sleg) vloek nie (v.28). Die Bybel sê: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie” (Titus 3:1-2). Paulus het die (slegte en onregverdige) hoëpriester belaster. Toe hy dit besef het, het hy bely: “Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.” (Handelinge 23:5).

 

Dalk verdien die leiers onder wie jy staan nie respek nie. Die God wat hulle aangestel het verdien egter jou respek, en daarom moet jy hulle eerbiedig. Jy eer God deurdat jy hulle eer. Vrees God en eer die keiser (1 Petrus 2:17). As jy die leiers weerstaan, weerstaan jy dit wat God aangestel het (Romeine 13:2). Jy moet daarom respek hê vir die president, ministers, stadsraad, polisie, en ook jou geestelike leiers. Ons moet eerder vir ons leiers bid as om oor hulle te kla (1 Timoteus 2:1-2). Gehoorsaam die owerhede en betaal belasting: dit is wat God van jou vra (Romeine 13:1-7). Jy hoef egter nie te sondig as hulle dit van jou vereis nie. In dié geval moet jy soos die apostels sê: ‘Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense.’ (sien Handelinge 4:19, 5:29).

 

Ken jy die storie van die sendeling wat in die erediens vir gemeente dankie gesê het vir die ou teesakkies, geskeurde t-hemde, en stukkende speelgoed? God wil nie hê jy moet jou oudste goed vir sy werk gee nie. Erken en dank God deur vir Hom die beste te gee (v.29-30).

 

God se volk moes uit die volheid van hulle oes en die uitvloei van hulle wynpars vir Hom offer (v.29). Hulle moes dit veral by die jaarlikse feeste doen (23:16, 19). God het vir hulle voorspoed gegee. Hulle moes soos Hy wees en uit ‘n vrywillige hart hulle beste vir Hom teruggee (Spreuke 3:9-10). Hulle bydraes, tiendes, en offers sou gaan vir die Leviete, armes, weduwees, weeskinders, en vreemdelinge (Deuteronomium 14:22-29).

 

Die Israeliete moes ook die eersgebore seun vir die Here gee (v.29). So sou hulle onthou hoe God die eersgeborenes van Egipte getref het, maar hulle oudstes gespaar het (hfst.12). Die eersgeborenes het die hele volk verteenwoordig. Dit het gewys dat God die hele volk as sy eie neem. Hierdie eersgeborenes moes hulle met ‘n lam loskoop (hfst.13). God self het Sý eersgeborene, Sý Lam geoffer om óns los te koop (Johannes 3:16, Hebreërs 1:6). Later het God die Leviete in plek van die eersgeborenes geneem (Levitikus 3:45).

 

‘n Israeliet se eersgebore skaap of bees moes hy op die agtste dag aan die Here offer (v.30, vgl. Genesis 17:12). Die volk self was ‘n heilige offer wat aan die Here afgesonder is (v.31, vgl. 19:6, Levitikus 19:44-45). Daarom mag hulle nie onrein vleis geëet het nie: vleis wat deur wilde diere verskeur en vol kieme is, waarvan die bloed nie gedreineer is nie. Dié vleis moes hulle vir die honde gooi (v.31).

 

Gee jou beste vir die Here. Jy moet egter nie die kos uit jou gesin se mond neem, onder die voorwendsel dat jy vir die Here gee nie (Matteus 15:5-6). Jy moet ook nie jou bydrae beperk tot geld en sê jy kan nie gee nie. Gee eers jouself (Romeine 12:1, 2 Korintiërs 8:5). Daarná kan jy jou tyd, geld, diens, geestelike gawes, vaardighede, kennis, kar, petrol, huis, bed, kos, tee, koffie en meer gebruik in sy diens.

 

Jy moenie jou slegste vir die Here gee, terwyl jy vir jouself die beste hou sodat jy lekker kan lewe nie. Herwerk jou begroting sodat jy vir die Here kan gee. Pasop dat jy nie jou begroting uitwerk, en vir die Here gee as jy iets oor het nie. Gee eerste vir die Here en betaal dán die res.

 

Hoekom moet jy op dié manier gee? Die Here verdien die beste. “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (Haggai 1:4). As jy volop en met blydskap vir die Here gee, sal Hy jou seën. So sê 2 Korintiërs 9:6-7, en dít is die beginsel in Maleagi 3:10.

 

 

Hofsake en haat (23:1-9)

Almal ken die kinderspeletjie, telefoontjie. Die eerste persoon fluister iets vir iemand anders. So fluister elkeen dit vir die volgende persoon. Op die einde lag almal, omdat die boodskap skeef uitgekom het. En so is dit met skinder: ‘Het jy gehoor?’ (v.1). Uiteindelik word daar stertjies aangelas, en kom die boodskap skeef uit.

Moenie vals gerugte versprei, op hoorsê praat asof jy die persoon se motiewe ken, of dink jy het al die feite nie (v.1). “Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE.” (Levitikus 19:16). Moenie bitter wees, sodat jy iemand anders se naam swartsmeer nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jy jouself liefhet, en die saak uitpraat. “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” (Levitikus 19:17-18). Moenie bose planne maak om valslik teen jou naaste te getuig nie (v.1, 20:16). Jou woorde mag slegte gevolge vir jou naaste inhou (soos vir Nabot, Stefanus, Paulus, en Jesus). Maar God sal ook sorg dat daar slegte gevolge is vir jou (Deuteronomium 19:16-21).

 

Moet dan nie vals stories versprei om die braaivleis vuur, op Facebook, in die koerant, by die Bybelstudie, in jou gebede by die biduur nie. Selfs as dit waar is, moet jy nie ander mense afbreek nie. Sit eerder en praat dit uit. Sal dit wat jy wil oorvertel opbouend wees vir ander? Sal dit God verheerlik? Hou dan jou tong in toom. Maak reg waar jy van ander geskinder het.

 

Die beste is dat jy glad nie skinder nie. Jou tong kan groot skade aanrig (Jakobus 3:6). As jy eers ‘n ander se reputasie beskadig het, is dit moeilik om dit reg te stel en die persoon se vrienskap terug te wen (Spreuke 18:19). Dis asof jy langs ‘n pad in die winderige Kaap loop en ‘n papier in klein stukkies skeur. Hoe sal jy ooit elke stukkie terugkry en dit weer aanmekaar vasplak? Dis asof jy spykers in ‘n paal kap. Jy kan die spykers uittrek, maar die merke bly.

 

By ‘n konferensie het Melvin Tinker vertel van die ASCH toets. Drie mense het op ‘n paneel gesit. Een van hulle was ‘n proefkonyn; die ander twee het geweet wat aangaan. Drie lyne is op ‘n skerm gewys. Hulle moes die langste een kies. In die begin het almal die regte antwoord gekies. Later het die twee ‘ingeligtes’ aspris die verkeerde antwoord gekies. Aanvanklik het die proefkonyn gestry, maar later was hy bang om dom te lyk, en het hy saam met hulle die verkeerde antwoord gekies.

 

By ‘n Baptiste vergadering het iemand aansoek gedoen vir leraarskap. Na my mening moes die persoon nie ‘n leraar gewees het nie. Toe almal egter hulle hande opsteek om hom in te stem, het ek ook. ‘n Kollega het dit gesien en vir my gesê: ‘People pleaser!’ Ek moes my vrees vir mense bely.

 

Moenie so wees nie (v.2). Wees eerder soos Athanasius. Hy het vir die Godheid van Christus geveg. Toe sy vriende vir hom sê: ‘Athanasius, the whole world is against you!’ het hy gesê, ‘Then is Athanasius against the whole world!’

 

Moenie ‘n marionet wees van ander se wense, mense se opinies vrees, ‘n ‘people pleaser’ wees wat die stroom volg, of die meerderheid volg in die hof omdat jy bang is mense kyk jou snaaks aan nie (v.2). Wees soos Jesus. Selfs sy vyande moes erken: “Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie” (Matteus 22:16).

 

Stuart Olyott is reg: ‘Go with the crowd and you go to hell.’ Daar is baie mense op die breë weg (Matteus 7:13). Moenie partydig wees teen ‘n arm man in die hof nie. Moet hom nie afskryf omdat hy nie kan betaal nie, maar moet hom ook nie bejammer net omdat hy arm is nie. Dié reël geld ook vir die kwota stelsel in ons land. God wil hê ons moet regverdig wees (v.3, Deuteronomium 1:17).

 

Die Skrif waarsku: “Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.” (Spreuke 29:25). Moenie glo die meerderheid se opinie is altyd reg nie. Wees besorgd vir die waarheid en geregtigheid; nie vir populariteit, mense se guns, of groepsdruk nie. Moenie bang wees om ‘nee’ te sê, omdat jy mense se fronse vrees nie.

 

Dalk stem jy nie saam met die verkeerde nie, maar jy bly stil omdat jy bang is om dom te lyk. Of jy vrees die meerderheid en deel nie die evangelie nie. As jy mense vrees sal jy Jesus verloën soos wat Petrus gedoen het.

 

‘n Winkel eienaar in Barnstaple, Engeland het op R.C. Chapman gespoeg terwyl hy besig was om te preek. ‘n Tyd later het ‘n ryk familielid vir Chapman kom kuier. Hy wou graag vir hom kruideniers koop. Chapman was dankbaar en het vir die familielid gevra om sy ‘vyand’ (die man wat op hom gespoeg het) se winkel te ondersteun. Die man het so gedoen. Hy was egter haastig en het die kruidenier gevra om die pakkies by Chapman se huis af te laai. Die kruidenier was geskok en gedink daar moet ‘n fout wees. Chapman se familielid het gesê: ‘Chapman het spesifiek gevra ek moet jóú winkel ondersteun.’ Die man het met trane na Chapman toe gekom, sy sonde bely, en in Jesus geglo.[1] Dís die les in v.4-5.

 

Soos God sý vyande liefhet, moet jy jóú vyande liefhê (v.4-5, Matteus 5:43-48, Romeine 5:8, 10). Liefde is nie maar net ‘n emosie nie, maar loop uit in praktiese dade. Dis so prakties soos om jou vyand se verdwaalde vee terug te bring, of sy oorlaaide pakdier op te help as dit onder ‘n swaar vrag lê en nie kan opstaan nie (v.4-5). Die beste manier om jou vyand te wen is om hom in ‘n vriend te verander.

 

Hoe kan jý jou vyand liefhê? Doen goed aan hom, seën hom, bid vir hom, gee vir hom kos, groet hom, gee vir hom geskenke, help hom in sy nood (Lukas 6:27-36, Matteus 5:43-48, Romeine 12:20-21). Hoekom moet jy so doen? As jy dít doen sal God jou beloon en sal jy ‘n seun van die Allerhoogste wees (Lukas 6:35). Ongelowiges kan ander liefhê. Maar net ‘n Christen kan opreg sy vyande liefhê. Dis ‘n baie sterk getuienis as jy jou vyande liefhet.

 

Die bekendste voorbeeld van omkopery in die afgelope jare is seker die Hansie Cronjé skandaal. Die Indiërs het hom betaal om aspris die wedstryd te verloor. Hy is uitgevind en lewenslank uit krieket geskors. God waarsku hierteen (v.8).

 

Moenie die reg wat die arme toekom verdraai nie. Die hof moenie aspris sy saak uitrek of uitstel om ekstra geld te kry nie (v.6, 3). Die regter moet regverdig en onpartydig wees soos God (vgl. Lukas 18:1-8, Romeine 2:11). Ons mag nie vals klagtes maak, iemand onnodig dagvaar, of ‘n onskuldige en regverdige persoon teregstel nie (soos wat sondaars die onskuldige Jesus gekruisig het). As ons dít doen sal God nié onregverdig wees soos ons nie; Hy sal ons straf (v.7).

 

Moenie omkoopgeld of omkoopgeskenke aanvaar om die gereg te verdraai nie (v.8). Omkopery laat die beste prokureurs skeef dink, sodat hulle die skuldige vrylaat en die onskuldige veroordeel (v.8). God sien dit en sal hulle straf.

 

Pasop dan vir omkopery. Moenie vir die verkeersman, prokureur, of polisie geld gee, sodat jy kan vrykom nie. Moenie vir die afrigter of skool geld gee, sodat jou kind in die span kan kom nie. Moenie vir kliënte geskenke gee, sodat jy hulle by ander maatskappye kan wegrokkel nie. Moenie ekstra geld gee sodat jou paspoort gouer kan reg wees nie. Moenie geld gee om inligting oor die vraestel te kry nie. Moenie lui wees en iemand betaal om jou skooltaak te doen nie. Moenie geld betaal om makliker jou lisensie te kry nie. Moenie geld gee, sodat jy makliker verby doeane kan kom nie.

 

God sien dit alles. Jou sonde sal jou inhaal (Numeri 32:23). As jy met omkopery besig is sal jy probleme in jou huis hê (Spreuke 15:27).

 

Moenie vreemdelinge onderdruk nie (v.9). God het reeds in die vorige hoofstuk dié opdrag gegee (22:21). Die feit dat hy dit herhaal wys dat God besorg is oor vreemdelinge. Die volk moes onthou hoe húlle in Egipte onderdruk is (v.9).

 

Michelle werk as ‘n chef in ‘n Chinese restaurant. Chris eet gedurig daar oor etensuur. Hy sien altyd haar silhoeët agter die Chinese blinders. Hy geniet die sig en dink sy is aantreklik. Eendag kom sy uit om vir die bestuurder iets te vra. Chris val amper van sy stoel af. Haar lewende voorkoms is tien keer mooier as haar pragtige silhoeët. Na ‘n jaar ontmoet hy haar. Sy is nog ouliker as wat sy mooi is. Hulle raak vriende en trou uiteindelik.

 

Moenie vashak by God se silhoeët in die siviele wet nie. Beweeg aan na Jesus in die Nuwe Testament, want in Hóm sien ons meer as net ‘n silhoeët: ons sien God in die beeldskone heerlikheid van sy karakter (Johannes 14:9, 1:18).

Ek het Maandag ‘n debat gekyk tussen twee ateïste en twee Baptiste Christene. Met verwysing na die siviele wet het die ateïste gesê God is immoreel: Hy vereis die doodstraf vir klein misdade, is jaloers, onregverdig, en keur slawerny goed. Ek hoop Eksodus 22:16-23:9 het jou anders oortuig.

[1] Petersen, Robert Chapman, p.147

Advertisements

Sê die Bybel vroue moet hoede dra?

hat

Ek hou daarvan om vers vir vers deur boeke van die Bybel te preek. Dit dwing my om tekste en temas te preek wat ek andersins nie sou kies nie, bv. Paulus se lering oor hoofbedekkings in 1 Korintiërs 11:2-16.

 

Ek het eenkeer in my ‘n lewe vraag hieroor gehad by ‘n Bybelstudie. Ek het by ‘n kerk gesien hoe ‘n vrou ‘n dun serpie dra en oor haar kop gooi as die gemeente bid. Die ouer mense sal onthou hoe Baptiste vroue in die verlede hoede gedra het kerk toe. ‘n Vrou in Nelspruit vertel hoe haar ma ‘n hoed gedra het, en hoe die seuns ágter haar albasters in die hoed se rand gesit het.

 

Wat sê die Skrif regtig oor die saak? Hoekom dra vroue nie meer iets op hulle koppe nie? Is ons dalk ongehoorsaam aan die Skrif?

 

Hoofskap (v.2-3)

Jy ken seker die storie van die vrou wat die punt van die skaapboud afgesny het, voordat sy dit in die pot gesit het? Haar dogter het vir haar gevra hoekom sy dit doen. Sy het nie geweet nie, maar gesê: ‘Ouma het dit so gedoen; vra vir haar.’ Die dogter het toe vir haar ouma gaan vra. Haar ouma het ook nie geweet nie, en het gesê: ‘My ma het dit so gedoen; vra vir haar.’ Sy het vir haar oumagrootjie gaan vra. Dié het vir haar gesê: ‘My pot was nie groot genoeg vir die skaapboud nie, en daarom moes ek altyd die punt afsny sodat dit kon inpas.’

 

Soms doen ons dinge sonder dat ons weet hoekom. Wanneer Paulus dan oor hoofbedekkings praat, wil hy hê die Korintiërs moet die rede verstaan (v.2-3): hoofbedekkings simboliseer ‘n vrou se onderdanigheid aan haar man as hoof en leier van die huis. In ons kultuur dra ons hoede vir mode of vir die son. Vandag het dit niks te doen met hoofskap nie. ‘n Vrou hoef dus nie haar hoof te bedek om te wys sy is getroud of staan onder haar man se hoofskap nie (Genesis 24:65).

 

Paulus prys die Korintiërs omdat hulle sy voorbeeld en tradisie gevolg het, soos wat hy dit by Jesus ontvang het (v.2, 1, 15:3). Dié tradisie in hierdie vers staan vir die leer van die apostels (2 Tessalonisense 2:15). Hy wou veral gehad het hulle moes die Bybelse lering oor man-wees en vrou-wees verstaan (v.3).

 

Jesus is die Hoof van die man (v.3, Efesiërs 1:22), en dus ook die voorbeeld van hoe die man die hoof van sy vrou moet wees (Efesiërs 5:23, 25). Die man is die hoof van sy vrou om haar te lei, lief te hê, en te beskerm (v.3).

 

God is die Hoof van Christus (v.3). Die Vader en die Seun is in elke opsig gelyk (Filippense 2:6, Hebreërs 1:3). Die Seun is egter van ewig af uit die Vader en nie andersom nie (Johannes 3:16). Toe Jesus as mens op aarde was het Hy Hom aan sy Vader se wil onderwerp (Johannes 4:34, 5:30, 6:38).

 

Op dieselfde wyse is die man en vrou gelyk (Genesis 1:26-27, 1 Petrus 3:7, Galasiërs 3:28). En tog is die getroude man die hoof van sy vrou (Efesiërs 5:23). Die Grieks vir ‘hoof’ [kephale] het te doen met gesag en beteken nie oorsprong soos wat feministe sê nie.[1]

 

Moenie Bybelse hoofskap in ‘n lelike ding verander nie. Moenie dink hoofskap gaan oor die vrou wat ‘n kinderbaarmasjien of vloerlap is nie; oor die vrou wat nie besluite mag neem nie, maar ja-en-amen moet sê vir haar man se bevele. Hoofskap is ‘n skeppingsinstelling van God (v.3, 8-9). Hoofskap gaan oor die man wat, soos Jesus, sy bruid lei, beskerm, versorg, liefhet, en koester. Buiten vir hulle eie vroue, moet mans alle vroue met respek behandel en hulle beskerm. Leer ook jou seuns om so te doen.

 

Moenie jou ore uitleen vir teoloë, predikante, kerke, feministe, politici, en sielkundiges wat Bybelse hoofskap slegpraat, wat sê die Bybel is outyds, wat die skeppingsorde ontken, wat sê 1 Korintiërs 11:2-16, Efesiërs 5:22-24 is ‘n kulturele onderdrukking van die vrou, wat sê dat mans en vroue in elke opsig dieselfde is en net liggaamlik verskil.

 

Hoekom moet ons hoofskap reg verstaan en toepas? As ons dit nié doen nie, sal ons ‘n gebroke refleksie van Jesus se hoofskap uitstraal (v.3, Efesiërs 5:22-33).

 

Hoofbedekkings (v.4-13)

Ek het ‘n spotprent gesien van ‘n Arabier wat by ‘n publieke badkamer staan. Toe hy die prentjie van die stokman met die rok sien, het hy nie geweet watse badkamer om te gebruik nie.

 

In elke kultuur kan jy mans en vroue van mekaar onderskei. Tog verskil een kultuur van die volgende. In ou Babilon het mans en vroue oorbelle gedra. In 1800’s Suid-Afrika het net vroue oorbelle gedra. In ons kultuur dra mans en vroue broeke. In die vorige eeu het net mans broeke gedra. In Saudi-Arabië dra mans en vroue rokke. In ons land dra net vroue rokke. In Paulus se tyd het vroue lang hare gehad. In ons land het vroue kort- of lang hare. In ons tyd is kort hare vir mans bo die ore. In ou Engeland het mans se kort hare oor hulle ore gehang. Vroue in die Korintiër-kerk het sluiers gedra.

 

Selfs mét kort haarstyle en broeke, kan ons ‘n duidelike onderskeid tussen mans en vroue tref. Hierdie onderskeid moet ook in die kerk gesien word. Dít is die punt van v.4-13. Die punt is nie dat vroue hoede moet dra nie.

 

In die Ou Testament het die hoëpriester en ander priesters hoofbedekkings gedra in die tabernakel (Eksodus 39:28). Selfs in Paulus se tyd het Joodse mans in die sinagoge hulle hoofde bedek. Maar Paulus sê nou dat ‘n Christen man wat met ‘n bedekte hoof bid of profeteer, sy Hoof (v.3, Christus) onteer. ‘n Bedekte hoof simboliseer die omkeer van die man en vrou se rol. Dit wys ook dat die man ‘n menslike hoof het buite Christus (v.4).

 

Vroue kon binne die perke van 14:34-35, 1 Timoteus 2:11-12 profeteer. Sy kon dus nie vir ander mans profeteer nie, maar net vir vroue, kinders, individue, en ongelowiges (v.5, Eksodus 15:20, 2 Kronieke 34:22, vgl. Handelinge 18:26). As sy sonder ‘n sluier geprofeteer of gebid het, het sy haar hoof onteer (v.5, 3, haar man). ‘n Vrou wat dít gedoen het, het daardeur gesê dat sy ongetroud is, nie onder enige man se gesag staan nie, en beskikbaar is. Sy kon net sowel, soos ‘n prostituut, haar hare afskeer (v.5-6).

 

In die straat kon jy ‘n vrou deur haar sluier of lang hare uitken. Dit is ‘n skande as kleredrag en haarstyle in die kerk ‘unisex’ is, sodat jy nie mans en vroue van mekaar kan onderskei nie. Juis om dié rede moes vroue ‘n sluier en lang hare gedra het (v.6).

 

Die man is die beeld en heerlikheid van God. Net soos wat Jesus en die Vader die Hoof is, is hy die hoof van sy vrou (v.7, 3). Die vrou is uit die man geneem (v.8, Genesis 2:21, 23), en is gemaak as sy helper (v.9, Genesis 2:18). Sy voltooi hom en die skepping. Sy is die heerlikheid van die man (v.7). Sý is die een wat hom suksesvol laat lyk (Spreuke 12:4, 31:10-31).

 

Die vrou se heerlikheid is net ‘n refleksie van God se heerlikheid. Die mens se heerlikheid is onvolmaak en verdraai deur die sonde. Die vrou moet haarself met ‘n sluier bedek, sodat die fokus in die erediens nie op háár skoonheid en die mens se heerlikheid val nie, maar op Gód s’n.

 

God het die man eerste geskep en die vrou uit sy sy. Dit wys dat die man die hoof is (v.10). Die sluier oor haar hoof beeld dit uit (v.10). Sy moet ook ‘n sluier dra ter wille van die engele. Sommige dink dit beteken dat die engele deur die vrou se skoonheid versoek sal word (Genesis 6:1-4). Ander dink Paulus verwys hier na menslike boodskappers [Gk. aggelos] wat aan hom moet rapporteer of die Korintiërs gehoorsaam is of nie. Dis egter meer waarskynlik dat die teks verwys na engele wat toekyk hoe ons die Here aanbid (1 Timoteus 5:21, Efesiërs 3:9-10).

 

Die feit dat die man die hoof is van sy vrou, beteken nie hy is onafhanklik van haar nie. Man en vrou het mekaar nodig (v.11). ‘n Helper impliseer immers dat hy hulp nodig het. Ja, die vrou is deur skepping uit die man, maar die man is ook deur geboorte uit die vrou (v.12). Alles is uit God (v.12, Romeine 11:36). Hopelik kan die Korintiërs uit v.2-12 sien hoekom die vrou ‘n sluier moet dra (v.13).

 

Kry ‘n Bybelse verstaan van man-wees en vrou-wees, en laat jou voorkoms dit weerspieël. Hoe doen ‘n mens dit? Moenie afgestomp raak deur die kultuur wat maak asof die verskille tussen die geslagte onbelangrik is nie. Leer jou kinders reg. Voorskoolse seuns dra al pienk klere. Dit sal seker nie lank wees voordat baba seuns pienk dra nie. Sommige ouers sê dat hulle kinders self moet kies wat hy of sy wil wees! Sê vir jou kinders dat dit nie normaal is as mans, soos Nataniël, Evita, of Glamour Guru, vroue-klere en grimmering dra nie. Dis nie normaal dat mans hulle hare soos vroue s’n sny of dra nie (soos ‘n prokureur wat ek by Boksburg-hof gesien het). Dis nie normaal dat vroue hulle hare soos mans s’n sny, of mansklere dra nie (Deuteronomium 22:5). Moenie toelaat dat jou kinders deelneem aan die ‘sex-change’ wat populêr is in skole nie. Daar is ouers wat hulle seuns soos meisies aantrek, hulle hare laat groei, en vir hulle oorbelletjies inskiet, sodat mense vra: ‘Is dit ‘n seun of ‘n dogter?’

 

Óns moet die voorbeeld stel en nie só aantrek dat ons vir die teenoorgestelde geslag misken word nie. Niemand moet oor ‘n Christen se klere of haarstyl wonder, sodat hulle vir mekaar fluister: ‘Is dit ‘n man of ‘n vrou?’ nie.

 

Hoekom moet man-wees of vrou-wees in jou voorkoms weerspieël word? As ons dit nié doen nie, sal mense dink dat Genesis 1:26-27 nie belangrik is nie.

 

Hare (v.14-16)

Jare gelede was daar ‘n King Pie advertensie van ‘n man met ‘n dik bril wat ‘n vuurwarm pastei gekoop het. Deur sy gewasemde bril het hy ‘n vrou met lang blonde hare gesien wat op ‘n park bankie sit. Hy wou met haar praat en langs haar gaan sit. Toe die wasem verdwyn het hy gesien dis ‘n groot kwaai man.

 

Paulus sê dit moenie in die kerk gebeur nie: mans en vroue moenie vir mekaar misken word nie. In ‘n kultuur waar ‘n sluier of hoed ‘n verskil tussen die geslagte aandui, moet vroue dit dra. Anders hoef hulle nie. Dra klere wat die verskil duidelik maak, en vermy dinge wat die verskille verbloem.

 

Selfs ‘n klein verskil soos mans en vroue se hare, wys dat hulle nie gemaak is om dieselfde te lyk nie. Mans se hare groei stadiger en val makliker uit as vroue s’n (v.14-15). Die dinge wat ‘n vrou mooi maak, maak nie noodwendig ‘n man mooi nie (en andersom). ‘n Man met lang hare beskou ons as slordig of rebels of ondissiplineerd (v.14). ‘n Vrou met lang hare beskou ons as mooi, skoon, en goed versorg (v.14-15). Dit is skandelik as ‘n man soos ‘n vrou lyk of andersom.

 

Paulus wil nie hê dat enigiemand hieroor moet stry nie. Hy wil veral nie hê dat vroue moet stry en teen hulle mans se gesag rebelleer nie (v.16). Hierdie reël geld vir alle kerke deur alle eeue (v.16): mans moet soos mans lyk, en vroue soos vroue; vroue moet hulself aan hulle mans se hoofskap onderwerp.

 

Dalk is jy nie teen die skeppingsorde, sodat jy baklei teen manlike hoofskap in die huis en kerk, of ‘ja’ sê vir gay predikante nie. Tog dink baie Christene 1 Korintiërs 11:2-16 is onbelangrik. Hulle misbruik dit om sonde te regverdig. Hulle sê: ‘As jy sê homoseksualiteit is sonde, vroue mag nie preek nie, kerke moet tug toepas, ongetroudes mag nie saambly nie, dan moet vroue ook hoede dra. Omdat 1 Korintiërs 11:2-16 wegval, tel hierdie ander verse ook nie meer nie.’

 

Ander stry met kerke wat nié hoede wil dra nie. Dis nie sonde as jy ‘n hoed kerk toe wil dra nie, maar wees ten minste konsekwent. Dra ‘n sluier, nie ‘n hoed nie. Dra net ‘n sluier as jy getroud is en jou man se hoofskap wil erken. Dra ‘n sluier as jy mall toe gaan en nie net as jy kerk toe gaan nie. Moenie net ‘n sluier dra in die erediens nie, maar ook by die Bybelstudie en biduur.

 

‘n Kinderrympie sê:

 

What are little boys made of?

Frogs and snails and puppy-dog tails –

that’s what little boys are made of.

What are little girls made of?

Sugar and spice and all that’s nice –

that’s what little girls are made of.

 

Waaraan dink jy as jy aan man-wees dink? Spiere, sweet, en ‘n moderne haarstyl? Of aan iemand wat heilig is, geestelike leiding gee, ‘n sterk karakter het, en vroue respekteer? Wat is in jou kop as jy aan vrou-wees dink? ‘n Bruin vel, uitlokkende klere, en mans wat voor haar val? Of iemand met ‘n sagte persoonlikheid en sterk karakter wat ander dien? En moet hierdie Bybelse beeld nie in ‘n man en vrou se voorkoms en kleredrag sigbaar wees nie? Dis waaroor 1 Korintiërs 11:2-16 gaan – nie oor hoede nie.

[1] Wayne Grudem, Systematic Theology, pp.459-460 en D.A. Carson, Exegetical Fallacies, pp.37-38

Hoe besluit ’n mens oor grys areas?

Black and white and grey

‘n Man het eenkeer vir my gesê dis sonde om ‘n TV te hê (ek stem saam dat daar baie sondige programme op TV is). Hoe het hy sy standpunt Bybels regverdig? Hy het gesê dat Israel ‘n goue kalf gemaak het. Openbaring 13 praat van ‘n dier wat sterf, weer lewe, en asem haal. Volgens hom is dít die goue kalf wat weer in die toekoms sal lewe. En hiérdie kalf is die TV in jou huis.

 

In 1 Korintiërs 10:23-11:1 gee Paulus vir ons ‘n beter manier hoe om te besluit oor grys areas soos TV.

 

Sal dit ander opbou en bevoordeel (v.23-24)?

Charles Spurgeon het sigare gerook. Hy het opreg geglo dat hy dit tot eer van God kon doen.[1] Op ‘n tyd het sy dokter vir hom gesê dat dit sy gesondheid sal help. Ander mense het gesê dis sonde. Toe D.L. Moody dit vir hom sê, het hy sy vinger in Moody se groot maag gesteek en gesê: ‘Ja, en almal kan sien wat jóú sonde is.’ Iemand het vir Spurgeon gevra: ‘Hoe weet jy jy rook nie te veel nie?’ Sy antwoord was: ‘As ek twee sigare gelyk rook dan rook ek te veel.’

 

Spurgeon het opgehou rook nadat hy dié advertensie in ‘n winkelvenster gesien het: ‘Smoke what Spurgeon smokes.’ Dáár het hy besef dat hy ‘n struikelblok is vir ander. Hy het opgehou rook. Dít is die beginsel in v.23-24.

 

In v.23 het die Korintiërs die stelling van 6:12 herhaal: ‘Alles is my geoorloof…’ Hierdie keer het dit te doen gehad met vleis wat aan afgode geoffer is (vgl. hfst.8). Dis waar dat jy vry is, maar sal dit wat jy doen jou broer geestelik help en opbou (v.23, 8:1)? Hóékom doen jy dit? Is dit omdat jy ander wil bevoordeel, of omdat jy jou begeertes wil bevredig (v.24)? Onthou dat die liefde nie sy eie belang soek nie (13:5). Die Skrif sê jy moet ander bo jouself stel en hulle opbou; jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Romeine 15:1-2, Filippense 2:3-4, Levitikus 19:18).

 

Sal dit jou of ander se gewete pla (v.25-30)?

Twee maande gelede het ‘n meisie vir my gevra: ‘Mag ek nog by klubs dans as ek ‘n Christen is?’ Wat sou jy sê? ‘n Ou predikant het vertel hoe hy as jong man gaan dans het. Toe hy homself in die dansbaan se spieël sien het sy gewete hom aangekla: ‘Jy hoort nie hier nie.’

 

Is dans sonde? Moet ons soos party mense sê: ‘Jy mag dans; jy mag dit net nie geniet nie’? Die Bybel gee nie ‘n opdrag hieroor nie. Wanneer dit by dans en ander grys areas kom, moet jy volgens die beginsels in v.25-30 ‘n besluit neem.

 

Koop enige vleis in die mark. Jy hoef nie te vra of dit aan afgode geoffer is nie (v.25). ‘n Afgod is buitendien niks nie, en daarom is die vleis onbesmet (hfst.8). God het alles gemaak; geniet wat jy eet (v.26, Psalm 24:1, Hebreërs 1:2, 1 Timoteus 6:17). As jou ongelowige kollega jou nooi, kan jy met ‘n skoon gewete by sy huis gaan eet om hom vir die Here te wen (v.27, 5:9-10, Matteus 9:10-13). Om by sy huis te eet is nie dieselfde as om in ‘n afgodstempel te eet nie (v.19-20). Eet maar wat in jou bord geskep word (Lukas 10:8). Net as jou gewete jou pla moet jy die uitnodiging van die hand wys (Romeine 14:23).

 

Gestel ‘n swakker gelowige is saam met jou. Terwyl jou gasheer in die kombuis is, fluister hy: ‘Hierdie vleis is aan afgode geoffer.’ Wat moet jy doen? Moenie die vleis eet nie (v.28-29). Jý weet die vleis is nie deur die afgod besoedel nie, maar hy twyfel. Hy sal jou voorbeeld volg en sy gewete beskadig. Hy sal leer om sy gewete uit te blok, sodat hy dit nie hoor as dit hom eendag teen regte sonde waarsku nie. Sê dus ‘nee dankie’ vir jou gasheer. Dit is beter om hom te affronteer, as wat jy jou swakker broer se gewete skroei (v.28). Moet ook nie die vleis eet as jou ongelowige gasheer vir jou sê dis aan afgode geoffer nie. As jy dit eet sal hy dink dat jy afgodery goedkeur.

 

Paulus probeer nie sê dat jy volgens iemand anders se gewete moet lewe nie (v.29). As jy vir God dankie sê, kan jy met ‘n geruste hart eet (v.30, Romeine 14:6, 1 Timoteus 4:3-5). Jy kan egter nie die Here vir die kos dank as dit jou broer se gewete sal beskadig nie.

 

Sal dit God verheerlik en ander vir Jesus wen (v.31-11:1)?

Flip is ‘n ongelowige by ‘n kerkbasaar. Die predikant en ouderlinge het ‘n kas vol bier. Hulle word nie dronk of ‘mellow’ nie. Tog sien Flip hoe hulle bier drink en lekker lag. Die prentjie herinner hom aan sy pa wat so gedrink het. Hy het dit gehaat as sy pa dronk word, vuil grappe vertel, by vroue aanlê, baklei en sy ma slaan. Hierdie terugflits het vir Flip afgesit. Hy besluit dat Christene skynheilig is; dat hulle net soos sy pa is. ‘Ek sal nooit na dié kerk toe gaan nie,’ sê hy. Dit sal moeilik wees om hom anders te oortuig. Moenie aspris aanstoot gee, en só jou kans verbeur om mense vir Jesus te wen nie (v.31-11:1).

 

Sal dit wat jy eet, drink, of doen God verheerlik (v.31, Johannes 17:4)? Kan jy die Here hiervoor dank (Kolossense 3:17)? As jy ‘n ongelowige Jood of Griek, of selfs ‘n mede-gelowige laat struikel, verheerlik jy nie die Here nie (v.31-32, Romeine 14:13).

 

Wanneer dit by grys areas kom, probeer Paulus om almal te behaag, sodat hy baie mense vir die Here kan wen (v.33, 9:19-23, Romeine 11:14). Paulus probeer nie sê dat hy polities korrek wil wees nie. Hy probeer nie sê dat hy nooit sal sê Jesus is die enigste Weg, of homoseksualiteit is sonde nie (Galasiërs 1:10). Dit gaan hier oor grys areas, en nie oor dit wat swart en wit is in die Bybel nie.

 

In hierdie opsig wil Paulus soos Jesus wees en sy regte prysgee om ander te red (11:1, Filippense 2:6-8). Wees soos Paulus; wees soos Jesus (11:1, 4:16, Filippense 3:17).

 

Neem die regte besluite wanneer dit by grys areas kom. Hoe doen jy dit? Sorg dat jy weet wat ‘n grys area is. ‘n Grys area is enigiets wat nie eksplisiet in die Skrif verbied of beveel word nie; iets waaroor die Bybel net riglyne gee: drank, rook, dans, kos, TV, Facebook, voorbehoedmiddels, Kersfees, lotery, karate, tatoeëermerke, ens.

 

Moenie jou siening as ‘n wet op ander afdwing nie. Moenie ‘dissipels maak’ van jou siening nie. Moenie vir ander sê: ‘Dis verkeerd as jy dit-of-dat eet’ nie. Moenie jou dieët die elfde gebod maak nie: “raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?” (Kolossense 2:21). Moenie sê dat enigiemand wat nie soos jy glo nie, sonde doen: ‘As jy wyn drink sondig jy… As jy voorbehoedmiddels gebruik sondig jy.’

 

Moenie op die swakker gelowige neersien en sê hy is wetties omdat hy nie wyn drink of dans nie. Dis wel wetties as jy op grond van ‘n grys area dink jy is meer geestelik en God kyk met guns na jou: ‘Ek is meer geestelik as jy, want ek kyk nie TV nie… God is ontevrede met jou omdat jy Kersfees vier.’ Die Bybel sê dat onreinheid nie van buite kom nie, maar van binne; uit die hart (Markus 7:14-23).

 

Wees dan oortuig van wat jy glo, maar verdra mense wat nie soos jy glo nie (Romeine 14:1-5). ‘In essentials unity; in non-essentials liberty; in all things charity.’

 

Hoe lyk die beginsels van hfst.10 in die praktyk?

 

[1] Is jou eie genot vir jou die belangrikste as jy rook, dans, wyn drink, of op Facebook is? Sal dit ander bevoordeel of benadeel as jy rook?

 

[2] Sal dit jou of jou broer se gewete pla as jy lotto speel, ‘n tatoeëermerk kry, of as jou kind karate doen?

 

[3] Sal jy ‘n kans mis om vir Jesus te getuig omdat jy rook of bier drink? Sal die ongelowige dink jy keur dronkenskap goed as hy jou met ‘n bier sien?

 

[4] Wat is jou doel as jy die lotto speel, rook, of dans? Wil jy God verheerlik? Of is jy ‘n hedonis wat vir jouself en plesier lewe?

 

[5] Sou Jesus dit gedoen het (11:1)?

 

Hier is nog ‘n paar vrae uit ander Skrif-beginsels:

 

[6] Sal dit jou liggaam beskadig as jy rook (6:19-20, Deuteronomium 5:17)? Kan die voorbehoedmiddel moontlik die bevrugte eiersel aborteer?

 

[7] Sal jy ‘n slaaf word van Facebook, TV, of die lotto? Sal dit jou lewe en gedagtes oorneem? Mors dit baie van jou tyd en geld? Het dit vir jou ‘n afgod geword? As jy dit nie maklik kan opgee of daarvoor ‘nee’ sê nie, dan is dit vir jou ‘n afgod (6:12, Matteus 6:24, Efesiërs 5:18).

 

[8] Is jy minderjarig, sodat jy deur te rook, te drink, of lotto te speel die landswet oortree?

 

[9] Word jy versoek om wêrelds te wees as jy by ‘n klub dans, op sekere liedjies dans, of die liede se woorde hoor (Romeine 12:2)? Voel dit anders as jy by ‘n troue dans, met die ligte aan dans, of in die dag dans?

 

Moenie jou vryheid misbruik om vleeslik te wees nie. Moenie vir die swakker gelowige sê: ‘As jy nie daarvan hou dat ek bier drink nie, moet jy maar by die Mormone aansluit’ nie. Dit is hoe die wêreld dink. Vir hulle is die volgorde van belangrikheid: ek, ander, God. As jy die Here wil verheerlik en sy Woord wil gehoorsaam, is die volgorde: God, ander, ek.

 

Hoekom moet jy reg besluit wanneer dit by grys areas kom? God het jou geskep en gered om Hom in alles te verheerlik (v.31) – ook in grys areas.

 

In die verlede het baie mense gedink die Baptiste is ‘n kultus of sekte. Toe ek studeer het, het ons rektor vir ons ‘n boek gewys wat deur ‘n Hervormde teoloog geskryf is. Die titel was: Die Baptiste Beweging.

 

Een kenmerk van kultusse raak die kwessie van grys areas. In kultusse dwing die kerk, die leier, of ‘n ‘heilige boek’ sekere reëls af op die volgelinge. Alhoewel die Skrif dit nie vereis nie, sal hulle sê jy móét ‘n sekere dieet volg (die Adventiste). Hulle sal sê dis sonde as jy Kersfees vier, of as jy nie die Ou Testament feeste vier nie (party in die Hebrew Roots Movement). Hulle sal sê dis sonde as jy kaffiëne of alkohol gebruik (die Mormone).

 

Baptiste is nie wetties nie. Baptiste is nie ‘n kultus nie. Ons gewetens is gebind tot die Skrif alleen. Ons het nie ekstra reëls buite die Bybel nie. Maar die feit dat ons vry is beteken nie ons mag ons vryheid misbruik nie. Laat ons mekaar eerder liefhê, in ag neem, en opbou, “Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as ‘n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.” (Galasiërs 5:13).

[1] Ek het lank terug twee biografieë oor Spurgeon se lewe gelees. Ek onthou hierdie stories, maar kon nie die presiese verwysings kry nie. Ek het ook van hierdie stories by ander gehoor.

Oor naasteliefde en vergoeding

Repaying

Christelle steel R10 000 by Riana en spandeer die geld.  Na ‘n paar maande het sy diep berou.  Sy bely haar sonde en belowe om dit nooit weer te doen nie.

 

Is dit genoeg?  Wat kort?  Sy moet R10 000 met rente of ‘n boete terugbetaal.  ‘Vergoeding’ of ‘restitusie’ is wat die Bybel dit noem, en dit is waaroor Eksodus 21:33-22:15 gaan.

 

Voorsorg (21:33-36)

‘n Paar jaar gelede het ons iemand se Golden Retriever teef opgepas.  Toe sy een keer op hitte was het die buurman se pug haar kom besoek.  Ons Labrador reun het hom doodgebyt.

 

My skoonsuster se Bull Terrier het oor die muur gespring en die bure se hond ernstig gebyt.  Hoe moet ‘n mens sulke situasies hanteer?  Wat sê Eksodus 21:33-36 hieroor?

 

‘n Man wat ‘n put grawe moet dit met groot klip bedek.  Hy doen dit sodat daar nie sand inwaai nie, dat die water nie so gou verdamp nie, en dat skelms dit nie so maklik kan steel nie (vgl. Genesis 26, 29:2-3).  Maar hy doen dit ook sodat iemand se bees of donkie nie daarin val nie.  As sy naaste se dier daarin val, moet hy vir hom geld gee vir ‘n nuwe een.  Hy kan die dooie dier vat; dalk wil hy die vleis of vel gebruik (v.33-34).

 

As jou bees iemand anders s’n doodmaak, moet julle die dooie bees deel, die lewende een verkoop en die geld verdeel (v.35).  Duidelik is diere nie so waardevol soos mense nie, want as dieselfde met ‘n mens gebeur het, moet die bees gestenig word (v.28-32).

 

Maar wat as ‘n bees daarvoor bekend is dat hy stoot, en die baas hom nie wegsluit nie?  In dié geval is dit die eienaar se verlies:  hy moet vir sy naaste ‘n nuwe bees koop, en hy kan die dooie een hou (v.36).

 

Tref voorsorg of betaal.  Is jou hond ‘n vegter wat ander honde byt?  Vang jou hond of kat die bure se hoenders, duiwe, of khois?  Hou jou hek toe.  Herstel die gat in jou heining.  Bou ‘n hoër muur.  Doen wat nodig is om te sorg dat jou hond of kat nie kan uitkom nie.  Koop vir jou buurman ‘n nuwe hond of kat as joune syne doodgebyt het.  As sy hond of kat in jóú erf was en gebyt is, hoef jy hom nie te vergoed nie.

 

As jy só voorsorg tref vir diere, moet jy dit nie soveel meer doen vir mense nie?  Jesus het.  “Maar Hy sê vir hulle:  Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?  Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie!” (Matteus 12:11-12).

 

Sit dan ‘n net oor jou swembad en moenie jou badwater inlos as jy klein kinders het nie.  Moenie jou baba alleen in die bad los nie.  Juis om dié rede het ons onlangs ‘n deksel oor ons doopbad gesit.

 

‘n Paar jaar gelede het ek takke met lang dorings in my tuin gesit om die honde uit te hou.  Iemand het vir my gesê dat dit dalk beter sal wees om die takke weg te vat, sodat die kinders nie daarin trap of val nie.

 

Het jy klein kinders?  Kyk mooi voor jy ry.  Jy weet self hoe baie ouers en grootouers al oor hulle kinders gery het.  Maak die hek wat na die straat toe lei toe.  Maak die muurproppe toe, sodat jou kinders nie hulle vingers daarin steek nie.  Moenie klein voorwerpe op die mat los nie.  Ons oudste dogter het so aan ‘n vyf sent verstik.  Maak jou kind se sitplekgordel vas.  Moet tog nie dat jou kind op die voorste bank staan of op jou skoot sit, terwyl jy bestuur nie.

 

Die les is duidelik:  dink vooruit.  Salomo sê:  “Sensible people will see trouble coming and avoid it, but an unthinking person will walk right into it and regret it later.” (Spreuke 22:3, Good News Bible).  Ja, tref voorsorg.  Maar moenie in vrees lewe nie.  As jy gedoen het wat jy moet, moet jy die Here vertrou.

 

Hoekom moet jy voorsorg tref?  Want spyt kom altyd te laat.

 

Veediefstal (22:1-4)

‘n Oom het my vertel hoe hy as jong seun ‘n knipmes begeer en gesteel het.  Jare daarna het sy gewete hom vreeslik gepla.  Hy het ‘n brief geskryf, vergifnis gevra, en ‘n tjek ter waarde van twee nuwe knipmesse gestuur.  Die oom se optrede was reg volgens die Bybel.

 

As ‘n man sy naaste se os of skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy hom met vyf osse of vier skape vergoed (v.1).  Hierdie boete sal vir hom leer dat diefstal nie winsgewend is nie; dit ly altyd tot ‘n verlies.

 

As ‘n dief inbreek, geslaan word, en sterf, moet die een wat hom geslaan het nie gestraf word nie (v.2, ANC!).  Die man het homself en sy gesin verdedig.  Hy kon nie mooi sien in die donker nie.  Dit is manslag.  Maar as die skelm in die dag ingebreek het en doodgemaak is, is dit moord (v.3).  ‘n Mens maak nie iemand dood omdat hy steel nie (AWB!).

 

Wat as die dief bly lewe?  Hy sal nie wegkom nie, maar moet volgens v.1, 4 terugbetaal (v.3).  As hy nie kan betaal nie, moet hy as ‘n slaaf verkoop word:  armoede verskoon nie diefstal nie (v.3, 21:2, 32).  As die gesteelde dier in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoed (v.4).  Weer sien ons dat ‘n mens meer waardigheid het as ‘n dier, want as jy ‘n mens steel kry jy die doodstraf (21:16).

 

Het jy iets gesteel en nog nie daarvoor vergoed nie?  Maak reg.  Moenie probeer om die gesteelde goed terug te sit, sonder dat iemand jou sien nie.  Bely jou sonde; erken wat jy gedoen het.  Dalk verloor jy jou werk of maak jy kwaai vriende.  Dan moet dit so wees:  maak reg en dra die gevolge.

 

Dink aan die gevolge voordat jy steel:

 

  • Jou gewete sal jou pla. My oom se kollega het gesteel. Haar gewete het haar gepla. Toe die polisie die saak ondersoek, het sy gesê: ‘Ek het die geld gevat.’ ‘Ons weet,’ het hulle gesê, ‘Jy werk dan met die geld.’ Sy het gesê: ‘Julle verstaan nie, ek het die geld gesteel.’ Die polisie was verbaas. Hulle het nie vermoed dat dit sy is nie. Sy kon dit nie meer vat nie en moes haar gewete skoon kry.
  • Jy sal uitgevang word. Die Skrif sê: “weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.” (Numeri 32:23).
  • Jy sal met die gereg te doen kry. Dalk beland jy in die tronk.
  • Die verlies is groter as die wins. Jy dínk jy sal ryk word, maar jy sal moet betaal.
  • Jou reputasie sal skade ly.

 

Aanvaar dit as iemand by jou gesteel het en moet terugbetaal.  Moenie sê:  ‘Nee, toemaar; dis okay’ nie.  Eksodus 22 sê die persoon moet vergoed.  Eers as hy dít gedoen het sal sy gewete rus.

 

Hoekom moet jy vergoed as jy gesteel?  Jy sal twee keer dink voor jy weer steel.

 

Weiding (22:5)

Ek het eenkeer by ‘n man in Kaapse Hoop gekuier.  Sy hond het brood, bier, en koeldrank uit die winkel naby sy huis gesteel.  Hoe gemaak in só ‘n geval?

 

As jy jou vee los dat dit jou buurman se weiding of wingerd kaalvreet, moet jy hom met die beste uit jou eie wingerd of weiding vergoed (v.5).  Moenie die swakste druiwe uitsoek om hom terug te betaal nie, maar vergoed hom presies volgens wat hy verloor het.

 

Moenie sonde met die bure optel as gevolg van ‘n troeteldier nie.  As jou hond die buurman se swartsakke skeur of op sy gras mis, moet jý dit optel.  As jou hond die bure se tuin ‘omspit’, moet jy vir hom nuwe blomme koop.  As jou kat deur die bure se venster geklim het en sy gordyne gesproei het, moet jy dit laat was of nuwe gordyne koop.

 

As sy diere jou pla, moet jy dit met hom opneem.  Moet hulle asseblief nie doodmaak nie.  Iemand het my hond vergiftig omdat hy in die aand geblaf het.  Iemand wat ek ken het glas met maalvleis fyngemaal, omdat ‘n hond sy swartsakke geskeur het.

 

Die rede hoekom jy v.5 moet volg, is omdat die Skrif sê:  “as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:18).

 

Veldbrande (22:6)

Toe ek op skool was het ‘n seun in die buurt die veld langs hulle huis afgebrand.  Iemand het hom gevang.  Hy moes vir ‘n paar maande elke Saterdag die brandweer se trokke was.

 

Toe ek in Nelspruit gebly het, het die jongmense een Saterdag ‘n potjie in die veld gemaak.  Toe ons klaar was, het ons die kole net so gelos en huis toe gegaan.  ‘n Deel van die veld het afgebrand.

 

Of jy nou voorbrande maak, moedwillig is, of braai en nie die vuur blus nie – dit maak nie ‘n verskil nie:  jy moet vergoed.

 

Boere het doringtakke om hulle koringlande gesit om te keer dat die bure se beeste dit eet (v.6, 5).  Gestel iemand maak ‘n vuur.  Sy buurman se droë doringhout vat vlam, sodat sy goudgeel koringlande of die koring in skuur afbrand.  In so ‘n geval moet die een wat die vuur gestig het, sy naaste volgens sy verlies vergoed (v.6).

 

Jesus het gesê:  “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Matteus 7:12).  Dit geld ook vir brande.  Moenie elektriese werk doen as jy niks daarvan weet nie:  jy kan maklik ‘n vuur begin.  Moenie rook by ‘n petrolstasie nie.

 

Is jy kwaad vir jou naaste?  Moet hom nie aspris straf en sy besittings beskadig nie (1 Samuel 14:30).  As hy jóú besittings beskadig het, moet jy hom nie terugkry nie, maar vergoeding vra (Rigters 15:4-8).

 

Versuim (22:7-15)

In 22:7-15 gee Moses riglyne vir die onderstaande en soortgelyke situasies:

 

[1] Mnr. X se vriend het vir hom gevra om sy belasting te doen.  Hy het ingestem, maar nooit die belasting inbetaal nie.  Hy het oor ‘n paar jaar ‘n miljoen Rand gesteel.  Sy werk het hom uitgevang, afgedank, en gesê hy moet die geld afbetaal.

 

[2] Twee vroue het oor ‘n stofsuier baklei.  Mev. A het die stofsuier by Mev. B geleen.  Sy wou dit nie teruggee nie, maar het gesê dis hare.  Mev. B was vasberade dat die stofsuier háre is, en dat Mev. A dit by haar gesteel het.

 

[3] Iemand het Mnr. Y se kar geleen met die doel om dit te koop.  Hulle het dit al vir byna twee jaar, en antwoord nie hulle fone as Mnr. Y bel nie.

 

[4] Iemand het sy kar in my garage gelos.  My hond het ‘n stuk rubber van sy kar afgekou.

 

[5] My skoonsuster het haar kar onder ons boom gelos.  Die boom het op haar kar geval en groot skade gemaak.

 

As iemand vra jy moet hulle geld of besittings oppas en dit word gesteel, moet die dief dubbel terugbetaal (v.7, vgl. Levitikus 6:1-7).  As die dief nie gevind word nie, moet jy voor die hof belowe dat jý dit nie gesteel het nie (v.8).  As jy met die gesteelde goed gevang word, het jy vertroue gebreek en moet jy betaal (v.9).

 

Wat gebeur as jy iemand se dier oppas en dit vrek, kry seer, of dwaal weg (v.10)?  Jy moet vir jou naaste belowe dat jy dit nie wegsteek of verkoop het nie.  Jou naaste moet jou belofte glo en jy hoef hom nie te vergoed nie (v.11).  As die dier gesteel is, moet jy dit vervang.  Jy moes dit immers opgepas het (v.12).  As wilde diere dit verskeur, is jy onskuldig.  Jy moet ten minste die verskeurde dier as bewys bring dat jy die roofdiere verjaag het, sodat hulle dit nie heeltemal kon opeet nie (v.13).

 

Dalk wil jy ploeg en leen jy jou buurman se bees.  Of jy wil trek en jy leen sy donkie.  As sy dier vrek of seerkry terwyl jou buurman nie sien nie, moet jy dit vervang.  Jy moes dit opgepas het, maar jy het nie (v.14).  As die man by wie jy dit geleen het daar was, hoef jy nie die betaal nie.  Die geld sal van die huurfooi afgetrek word (v.15).

 

Pas geleende goed op asof dit jou eie is (2 Konings 6:5).  Moenie ander se eiendom verniel nie.  Moenie agter raak met jou huurgeld, klereskuld, kar se paaiement of ander skuld nie.  Die Skrif sê:  “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is:  belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê”(Romeine 13:7-8).  Die beste is dat jy geen skuld het nie, want “hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.” (Spreuke 22:7).  Moet veral nie skuld maak as jy weet jy kan dit nie betaal nie.

 

Moenie net groot goed in jou besit oppas nie, maar ook klein goed.  Moenie die geleende CD krap, toelaat dat jou kinders die geleende boek skeur of daarin teken, of jou hond op die geleende trui laat slaap nie.  Moenie jok as jy nalatig was en iemand se goed beskadig het nie – praat die waarheid en vervang dit.  Moenie die geleende goed sonder toestemming aanstuur en vir iemand anders leen nie.  Iemand het dit lank terug met my kasette gedoen en dit verloor.  Moenie iets leen en dit vir jare nie teruggee nie.  Hoe is dit anders as steel?

 

Het jy iets vir iemand opgepas of iets geleen en dit beskadig?  Vervang dit.  As iemand oorsee is en vra jy moet sy kar oppas, moet jy nie die petrol uitry en die tenk leeg teruggee nie.  Maak dit vol.  As jy die persoon se kar stamp moet jy dit herstel.  As jy die bande op ‘n grondpad verniel moet jy dit vervang.

 

As jy ‘n Christen is moet jy nie net jou goed uitleen as jy dit terugverwag nie.  Jesus het gesê:  “Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.” (Matteus 5:42).  “En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle?  Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.” (Lukas 6:34).

 

Hoekom moet jy geleende goed oppas?  Die Skrif sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Levitikus 19:18).  Sou jy nie bly wees as iemand jóú goed mooi oppas nie?  Jesus het die geleende donkie opgepas en dit terug besorg (Markus 11:2-3).  Die Vader het vir Jesus gevra om jou op te pas.  Hy doen dit (Johannes 17:12).  Hy sal jou nie laat verlore gaan nie, maar bewaar tot die einde toe (Johannes 6:39).

 

Alles wat jy besit (eiendom, geld, huweliksmaat, kinders, geestelike gawes, talente) het God aan jou toevertrou.  Jy is sy rentmeester of bestuurder.  Pas dit mooi op.  Op die oordeelsdag gaan Hy dit terugvra.  Jy sal moet rekenskap gee.

 

Voor sy bekering het Adoniram Judson in herberge gebly.  In die vroeë oggendure sou hy uitglip, sodat hy nie hoef te betaal nie.  Na sy bekering het hy een vir een die herberge terugbetaal.

 

Iemand wat waarlik tot bekering gekom het wil nie net sy sonde los nie, maar die mense teen wie hy gesondig het vergoed.  Na sy bekering het Saggeus vir Jesus gesê:  “Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (Lukas 19:8).

 

Die ware gelowige sal selfs die ekstra myl stap (Matteus 5:41), en doen wat nié van hom verwag word nie.  Toe ek ‘n ouer gelowige oor Eksodus 21:33-22:15 uitvra, het hy gesê:  ‘Op grond van die beginsels in hierdie verse, koop ek altyd vier nuwe bande vir iemand wat sy kar by my los.’

 

Die ware gelowige verstaan iets van Jesus se liefde, dat Hy ons skuld betaal het.  Daarom wil ons sy voorbeeld volg en ons naaste uit ‘n nuwe hart liefhê – ook wanneer dit by vergoeding kom.

’n Bloedernstige beroep op Christene

Pointing finger

Paul Tripp vertel hoe hy ‘n yslike afgod by ‘n tempel in Indië gesien het.  Hy het na sy kar toe gehardloop en deur trane vir God dankie gesê dat hy nie so is nie; dat God hom gered het.  Die oomblik toe hy dit sê het hy besef dat hy presiés net so is.  Hy aanbid nou wel nie ‘n reuse beeld nie, maar sy hart is vol van afgode.  Moenie in 1 Korintiërs 10:1-22 na die Israeliete en Korintiërs kyk, en dink jy dien nie afgode soos hulle nie.

 

Israel as voorbeeld (v.1-13)

Wat sal jy dink as ek vir jou sê ek ken ‘n man wat baie lief is vir sy vrou:  hy gesels gereeld met haar, vat haar uit vir etes en neem haar weg oor naweke, voorsien goed vir haar, beskerm haar, lei haar geestelik, help haar met die kinders, wys respek vir haar, het mooi maniere met haar, gee vir haar drukkies, hou haar hand vas, komplementeer haar, koop vir haar geskenke, hou homself netjies vir haar, troos haar as sy hartseer voel, gee vir haar sakgeld?

 

Wat sal jy dink as ek vir jou sê hy is dood na ‘n operasie waarin hy sy linker long vir haar geskenk het?  Klink dit na groot liefde?  Wat as ek vir jou sê dat sy hom met ‘n ander man verneuk het, terwyl hy in die hospitaal was?  En wat as ek vir jou sê Jesus is só ‘n Bruidegom (Efesiërs 5:25), en Israel, jy, en ek is só ‘n bruid (v.1-13, vgl. Hosea)?

 

Die kerk is een met Israel (Romeine 11).  Daarom praat Paulus van die Israeliete as ‘ons vaders’ (v.1).  Die hele volk het God se voorregte geniet.

 

[1] Hulle het ‘n wolk gehad wat hulle oorskadu het en Kanaän toe gelei het (v.1).

 

[2] God het hulle verlos deur die eindste see waarin hulle vyande verdrink het (v.1).  Hulle is in Moses in gedoop in die wolk en die see (v.2).  Dit beteken eenvoudig dat hulle met Moses vereenselwig is; dat hulle God se leiding deur hom gevolg het.

 

[3] God het vir hulle geestelike kos gegee; kwartels en die brood van engele uit die hemel (v.3, Psalm 78:25-28).  Hulle was afhanklik van God se bevel sodat hulle kon eet (Deuteronomium 8:3).  Hierdie kos het gedui op Christus wat die Brood van die Lewe is (Johannes 6:30-35).

 

[4] Christus was ook die Rots wat hulle deur die woestyn gevolg het en vir hulle voorsien het (v.4).  Aan die begin en einde van hulle reis het Hy vir hulle water uit ‘n rots gegee (Eksodus 17, Numeri 20).  Hy is die lewende water wat ook hulle sieledors les (Johannes 4:14).  Hy is ook die Rots wat hulle ondersteun (Deuteronomium 32:15).

 

Tog het die volk na al hierdie voorregte teen God gesondig.  Hy het hulle gestraf en almal bo 20 in die woestyn laat sterf (v.5, Numeri 26:65, Hebreërs 3:17).

 

Moenie soos hulle wees en toelaat dat jou luste jou van Jesus af wegdraai na afgode toe nie (v.6-7, Numeri 11:4).  Die Korintiërs moes die afgodsfeeste in die Venus-tempel vermy.  Sulke feeste lei tot ooretery, dronkenskap, en seksuele losbandigheid (v.7, Eksodus 32:6).

 

Onthou hoe God op een dag 23 000 Israeliete doodgemaak het (v.8).  Hy verwys moontlik na Numeri 25, toe die Israeliete vir Baäl geoffer het en met die vroue van Midian geslaap het.  Dáár is altesaam 24 000 dood:  dalk 23 000 op een dag (v.8), en nog ‘n duisend op ‘n ander dag (Numeri 25:5, 9).  Of dit mag wees dat Paulus na die aanbidding van die goue kalf verwys.  Daar is op een dag 3000 dood, en dalk nog 20 000 in die plaag (Eksodus 32:28, 35).  God haat sonde en het ook sommige van die Korintiërs doodgemaak (11:30).

 

Die volk het vir Christus getoets en gekyk hoe ver hulle Hom kon druk (v.9, Numeri 21:5).  Hy het giftige slange gestuur om hulle dood te maak (v.9, Numeri 21:6).  Hulle het ook in Numeri 16 teen God en Moses gekla, en is deur die Verwoester doodgemaak (v.10, vgl. Eksodus 12:23, Hebreërs 11:28, 2 Samuel 24:16).

 

Die volk se sonde en straf is opgeteken om ons te waarsku (Romeine 15:4); ons wat in die einde van die tyd lewe (Hebreërs 9:26); ons wat bevoorreg is om Jesus te ken (v.11).  Moenie dink jy is beter as Israel nie.  Moenie dink jy is nie soos hulle nie.  Moenie dink Jesus sal jou nie straf nie (v.12, Romeine 11:20-21).

 

Moet egter nie in moedeloosheid sink, omdat daar versoekings sal wees nie (v.13).  Baie ander gelowiges het al dieselfde deurgemaak (1 Petrus 5:9).  God is getrou (v.13).  Hy sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie (v.13, Filippense 4:13, 2 Korintiërs 1:8-9, 2 Petrus 2:9).  Hy sal vir jou die uitkoms gee soos vir ‘n weermag wat naelskraap deur ‘n skeur in die berg ontsnap (v.13).

 

Leer uit Israel se voorbeeld (v.11).  Lees gerus weer Eksodus 13-17 en Numeri 11-25.  Moenie van Jesus af wegdraai nadat jy baie voorregte geniet het nie:  verlossing, die nagmaal, die doop, die Heilige Gees, die liggaam van Christus en haar gawes, Bybelse prediking, die Woord, gebed, vreugde, vrede, Jesus se soet teenwoordigheid, God se krag, sorg, en goedheid, geestelike groei, kennis van God, wysheid (v.1-4).  Moenie dink God is noodwendig tevrede met jou omdat jy in hierdie voorregte deel nie:  omdat jy gedoop is, ‘n lidmaat is, kennis van die Woord het nie (v.5).  Moenie dink dit is die God van die Ou Testament wat straf, en dat die God van die Nuwe Testament net genadig is nie.

 

Om teen die lig te sondig is erger as goddelose mense se perverse lewens, en sal ‘n groter straf ontvang (v.5-11).  Die Bybel waarsku:

 

  • “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Lukas 12:47-48).
  • “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie… hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam” (Hebreërs 2:1, 3).
  • “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” (Hebreërs 3:12-13).
  • “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” (Hebreërs 6:4-6).
  • “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? Want ons ken Hom wat gesê het: My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here; en weer: Die Here sal sy volk oordeel. Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.” (Hebreërs 10:26-31).
  • “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ‘n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek… Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur.” (Hebreërs 12:25, 28-29).

 

Moenie dink jou sonde is nie so erg soos die Israeliete s’n nie.  Moenie sê:  ‘Ek aanbid darem nie afgode nie en is nie betrokke in seksuele orgies nie.’

 

Jesus het gesê dat wellus egbreuk in die hart is en die hel verdien (Matteus 5:27-30).  Calvyn het gesê:  ‘Die mens se hart is ‘n afgodsfabriek.’  Wanneer laas was jy kwaad, bitter, depressief, angstig, geïrriteerd, of het baklei toe jy iets nie kon kry nie?  Waaroor was dit?  Gerief, plesier, stadige diens, familie, kos, geld, seks, respek, besittings, ‘n speelding, iemand wat jou skedule kom omkrap het?

 

Dit wys vir jou wat jou afgod is.  Enige iets wat prioriteit geniet bo Jesus, sy Woord, en gebed is vir jou ‘n afgod.  Die dinge wat jou gedagtes en dagdrome oorneem is vir jou ‘n afgod.  Dit waaraan jy die meeste tyd en geld bestee wys vir jou waar jou hart regtig is (Matteus 6:21).  En wat van ondankbaarheid:  murmureer jy soos die Israeliete oor jou omstandighede (v.10)?  Die kruis, Handelinge 5, die oordeelsdag, en die hel wys vir ons dat God in die Nuwe Testament nog dieselfde voel oor sonde as in die Ou Testament.

 

Leer uit Israel se sonde.  Moenie sê jy sal nie soos hulle val nie (v.12).  Onthou jy wat met Petrus gebeur het?  Hy het gesê hy sal nie soos die ander val nie, en het tot ‘n groot val gekom (Markus 14:29-31).  Hoogmoed kom voor ‘n val (Spreuke 16:18).  As jy dink jy kan nie val nie, is jy vinnig oppad na die afgrond toe.  Besef dat versoekings sal kom; vra dat die getroue God jou sal help (v.13).

 

Is jy nog ongered?  Ignoreer jy God se eise op jou lewe?  As God sy eie volk gestraf het en sy kerk ernstig waarsku, wat sal Hy met jóú doen?  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.  En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?  En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Petrus 4:17-18).

 

Hoekom moet jy uit Israel se voorbeeld leer?  Dit is onnodig dat jy hulle foute herhaal.  Leer eerder daaruit.

 

Die nagmaal as voorbeeld (v.14-22)

Gedurende my laaste maande in Nelspruit het ek ‘n Buddhis ontmoet.  In sy huis het ek ‘n afgod gesien met ‘n olifant se gesig, ‘n vrou se bo-lyf, en ses arms.  Ek het geweet dit is ‘n dom beeld wat niks kan doen nie.  Ek het gewonder hoekom hy dit nie kan raaksien nie.  Hoekom het hy gedink dat dié porselein beeld hom kan help?  Ek verstaan nou hoekom:  daar is demone agter hierdie gode wat mense versoek en verblind (v.20, 2 Korintiërs 4:4).  Dit is hoekom dit so gevaarlik is om met vals lering en afgode te speel.

 

Omdat God uitkoms gee as ons versoek word (v.13), moet ons die oop deur neem en aanhou om te vlug (die Grieks gebruik ‘n voortdurende tydsvorm) vir afgodery (v.14).  Die Korintiërs moenie in die Venus-tempel met vuur speel nie.  Hulle het insig oor wat reg en verkeerd is (v.15, vgl. 2:14, Handelinge 17:11).

 

Die Israeliete het geestelike kos en drank gehad (v.3-4).  In die nagmaal het ons dit ook (v.16).  Die derde beker van die pasga word die beker van danksegging genoem.  Volgens Lukas 22 het Jesus met hierdie beker die nagmaal ingestel.  Wanneer ons die nagmaal beker drink, dank ons die Here vir ons redding.  Deur geloof deel ons in Jesus se bloed wat ons sonde vergewe (v.16).  As ons die brood eet, deel ons deur geloof in sy gebreekte liggaam (v.16, Johannes 6:35).  Wanneer ons een brood deel wys ons daardeur dat ons een liggaam is (v.17).

 

Toe die Israeliete die offervleis geëet het, het hulle in die altaar gedeel, en deur geloof ook in God se vergifnis (v.18, Levitikus 7:15).  Dit wat vir die nagmaal en die Ou Testamentiese offers geld, geld ook vir die vleis wat jy in ‘n afgodstempel eet.  Dit is nie dat die vleis of die afgod iets is nie (v.19, 8:4).  Dit is eerder dat die demone agter hierdie gode jou van die ware God af wil weglei (v.20).  Jy kan God nie deur afgodsbeelde aanbid nie.  As jy dít doen aanbid jy demone (v.20, Deuteronomium 32:17-18, Psalm 106:37-38).  So nee, alle paaie lei nie na dieselfde God toe nie.

 

Wat is dan ons gevolgtrekking?  Jy mag vleis eet wat aan afgode geoffer is en in die mark verkoop word (hfst.8).  Moet egter nie die nagmaal gebruik en ook by die afgodsfees vleis eet nie (v.21, vgl. 2 Korintiërs 6:15).  God is jaloers oor sy bruid.  Moet Hom nie tart en ander gode dien nie (v.22, Deuteronomium 32:21, Eksodus 34:14).  Dink hieraan voor jy die Here toets:  Hy is sterker as jy en kan jou verpletter (v.22):  “Wee hom wat met sy Formeerder twis—’n potskerf by erdepotskerwe!  Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm:  Wat maak jy?  Of jou werk sê:  Hy het geen hande nie!” (Jesaja 45:9).

 

Moenie nuuskierig wees en sê jy wil net naby sonde of die afgod kom, en sal nie toegee nie.  Onthou vir Eva.  Vlug eerder (v.14).  Moenie speletjies speel met Jesus nie.  Hy soek nie ‘n hart wat tussen Hom, geld, die wêreld, jou kinders, jou huweliksmaat, jou werk, plesier, jou drome, jou ideale, jou sonde, of ander gode verdeel is nie (v.21-22, vgl. Jakobus 4:4-5).  As jy Jesus wil volg is dit alles of niks (Lukas 14:26, 33, 9:23, 57-62).

 

Is Jesus nog vir jou alles?  Is Hy nog eerste in jou lewe?  Of het jy jou eerste liefde verlaat (Openbaring 2:4-5)?  Het jy – soos sommige – verskonings vir hoekom jy nie meer so getrou is soos voorheen nie?  Diep in jou hart weet jy dat nie een van jou verskonings geldig sal wees op die oordeelsdag nie.  Is jou verskonings eintlik maar ‘n rookskerm, omdat jy op jou eie terme wil leef?

 

Bid dat God jou koue en harde kliphart sal uithaal, en dat Hy jou hart sal fokus en verenig om Hóm te vrees (Esegiël 36:37, Psalm 86:11, Jakobus 4:8).  Vandag as jy sy stem hoor moet jy jou hart nie verhard nie (Hebreërs 3:15).  Ek treur vir jou as jy traak-my-nie-agtig is, of as jy vrees maar jou nie bekeer nie.

 

Toe ek op skool was het ‘n toegewyde sendeling ‘n berig in die plaaslike koerant geplaas.  Hy het gesê dat hy ‘n belangrike boodskap vir die dorp het.  Hy sou dit op ‘n Vrydagaand in die NG-Moedergemeente preek.  Min mense het opgedaag.  Die kerkbanke was leeg.  Die dorp het nie belang gestel nie.  Ek hoop dat jy nie só sal reageer op hierdie bloedernstige beroep nie.

Menswaardigheid in die Bybel en vandag

Slave

‘n Groep soldate in Sierra Leone het ‘n swanger vrou op ‘n afstand sien aankom.  Hulle het ‘n wettenskap geneem of die baba ‘n seun of ‘n dogter was.  Toe die vrou nader kom het hulle haar oopgesny om te sien wie reg was, en haar gelos om dood te bloei.

 

Dit is walglik… as jy glo dat die mens na God se beeld gemaak is.  Maar as evolusie waar is, dan is daar geen verskil tussen dié gruwelike daad, en ‘n man wat ‘n lemoen oopsny en die pitte tel nie.  Beide die swanger vrou en die lemoen is die produk van toeval en evolusie.  Net as die mens na God se beeld gemaak is, beteken menswaardigheid iets.

 

Slawe en slavinne (v.1-11)

In 1787 het William Wilberforce ‘n mosie ingedien teen slawehandel.  Die Britse Parlement het teen dié mosie geveg.  Die slawe arbeid in Wes-Indië was voordelig vir Brittanje se ekonomie.  Die parlement was ontevrede met Wilberforce se mosie.  Party het hom selfs met die dood gedreig.  Baie van sy vriende het hom verlaat.

 

Na 20 jaar het Wilberforce uiteindelik in 1807 die saak gewen.  Slawehandel was onwettig.  Om slawe te besit was egter nie onwettig nie.  Wilberforce sou nie opgee nie.  Hy het vir nog 26 jaar geveg om slawerny uit te wis.  Drie dae voor sy dood in 1833, het hy gewen.  Slawerny was eens en vir altyd verban in Britse Kolonies.[1]

 

Hoekom sê Eksodus 21 nie dieselfde nie:  slawerny is geheel en al verbode?  Verse 1-11 praat van iemand wat homself as ‘n slaaf verkoop (22:3, Deuteronomium 15:12).  Vers 16 is teen slawerny soos wat Wilberforce dit geken het.

 

Volgens Eksodus 21 moet slawe met menswaardigheid behandel word; as mense wat na die beeld van God gemaak is.  Sodra jy dít doen, sterf die sisteem ‘n natuurlike dood.

 

Die Israeliete moes onthou dat hulle slawe was in Egipte.  Derhalwe moes hulle goed en gaaf wees met hulle Hebreeuse slawe.  Na sewe jaar moes hulle hul broers kosteloos bevry, en met groot rykdom wegstuur (v.2, Levitikus 25:35-46, Deuteronomium 15:12-18).

 

Die baas moes sy slaaf vrylaat soos wat hy gekom het:  enkel of getroud (v.3).  As sy baas vir hom ‘n vrou gegee het, moes hy sy vrou en kinders agterlaat (v.4).  As ‘n slaaf sy baas, vrou, en kinders liefgehad het, kon hy besluit om te bly (v.5).  In so ‘n geval moes die slaaf saam met sy baas in die stadspoort kom voor die regters (v.6, vgl. Psalm 82).  Sy baas het ‘n els (‘n skerp ysterpen) gevat en ‘n gat deur sy oor geboor.  Die ‘oop oor’ het gesimboliseer dat hy altyd vir sy baas sou luister (Jesus se oor was oop vir sy Vader; sý oor is deurboor [Psalm 40:7, Jesaja 50:4-5].  Deur sý gehoorsaamheid het daar vir ons redding gekom [Filippense 2:8]).

 

As ‘n pa arm raak en nie meer vir sy dogter kan sorg nie, dan mag hy haar as ‘n slaaf verkoop (v.7, Nehemia 5:5).  Só kan sy onder iemand anders se sorg kom.  Omdat vroue in daardie tyd nie vir hulleself kon sorg nie, mag ‘n slavin nie soos ‘n manslaaf vry raak nie (v.7).  As haar baas met haar trou, maar sy hom later nie meer tevrede stel nie, mag hy haar nie weerloos laat of aan die buiteland verkoop nie (v.8).  Haar pa kan haar terugkoop (as hy daartoe instaat is).  Anders kan ‘n nuwe baas haar vir homself koop en haar versorg (v.8).

 

As ‘n man die slavin koop om met sy seun te trou, moet sy vir hom soos ‘n dogter wees (v.9).  As die baas met haar trou en later nog ‘n vrou vat, moet hy nogsteeds sy slavin versorg en haar huweliksregte vir haar gee (v.10, vgl. 1 Korintiërs 7:3, 5).  Indien hy dit nie doen nie, moet hy haar kosteloos vrylaat.  Haar pa of nuwe baas hoef nie ‘n losprys te betaal nie (v.11).

 

Behandel die mense wat onder jou is met menswaardigheid (MW).  Hoe lyk dit in die praktyk?  MW beteken jy sorg goed vir die mense wat vir jou werk (by die huis of by die werk).  Moenie jou werkers so min as moontlik betaal nie.  Moenie laat hulle vir 13 of 14 werk nie.  Die Skrif sê:  “Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ‘n Here in die hemele het.” (Kolossense 4:1).

 

Sommige regse Afrikaners glo dat swartes nie siele het nie, en dat hulle nie in die hemel sal wees nie.  In die 1700’s het baie slawe-eienaars geglo dat slawe nie siele het nie.  MW beteken dat slawe en swartes na God se beeld gemaak is, siele het, en in die hemel sal wees.  MW beteken jy deel die evangelie met dié wat die minste is in die samelewing (slawe).  MW beteken elke mens is na God se beeld geskep en kom nie van ape af soos wat evolusie sê nie.

 

MW beteken jy het respek vir vroue (v.7-11):

 

  • Laat haar eerste by die deur instap.
  • Beskerm haar teen gevaar.
  • Help haar as sy swaar dra.
  • Moet haar nie verbaal, emosioneel of fisies boelie nie.
  • Moenie met gevoude hande toekyk hoe sy ‘n man se werk doen nie (bv. hout kap).
  • Leer jou seuns om respek te hê vir meisies en vroue.

 

Moord en manslag (v.12-14)

‘n Misdadiger in Los Angeles het die doodstraf gekry.  Winnie Mandela het vir Arnold Schwartzenegger gevra om nie die doodstraf te gee nie.  Sy het gesê dat die doodstraf tydens apartheid baie trane en skade veroorsaak het.  Schwartzenegger het haar geïgnoreer en die man tereggestel.  So het hy gewys dat die mens se lewe waardig is.  Jy kan nie sommer net iemand soos ‘n muskiet doodmaak nie.  As jy ‘n mens doodmaak, sal jou lewe geneem word.

 

God vereis die doodstraf vir moord (v.12, 14).  Die Skrif sê:  “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.” (Genesis 9:6).  “Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy [die regering] dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” (Romeine 13:4).  “almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matteus 26:52).

 

God vereis nie die dood vir manslag nie.  As jy per ongeluk iemand doodmaak, het God dit so beskik (v.13).  In dié geval kan jy na ‘n vestingstad toe vlug (v.13, Deuteronomium 19:4-5, Numeri 35, Joshua 20).  As jy egter kwaadwillig en moedswillig was, is dit moord.  In so ‘n geval is jy nie eers veilig by die altaar nie (v.14, 1 Konings 2:28-34).

 

Jy moet respek hê vir die mens se lewe.  MW beteken dat jy die doodstraf voorstaan vir ernstige oortredings soos moord.  MW beteken jy glo nie in onregverdige doodstraf soos in Islam, waar Christene doodgemaak word as hulle kerk hou of evangelisasie doen nie.  MW beteken jy glo nie in doodstraf vir kleiner misdade soos diefstal nie.  MW beteken jy ken die verskil tussen onmenslike marteling en waardige doodstraf.

 

MW beteken jy straf nie iemand vir manslag soos vir moord nie.  Jy laat nie die moordenaar vrykom vir omkoopgeld nie, en jy straf nie die man wat die gewapende en geweldadige inbreker skiet om sy gesin te beskerm nie (v.13).  MW beteken jy neem nie self wraak nie, maar laat die straf oor aan God en die regering wat Hy daargestel het (Matteus 5:38).  MW beteken jy behandel ‘n dooie mens se liggaam met respek, en gooi dit nie in die veld nie soos ‘n rot wat gevrek het nie.

 

Ouers en ontvoering (v.15-17)

Toe ek op skool was, het ‘n vrou wat in die straat op gebly het onsteld en in trane by ons huis aangekom.  Haar 18-jarige broer het haar en haar ma geslaan.  Ek wonder hoeveel kinders doostraf sou kry as v.15, 17 in ons dag nog van krag was (v.5, 17, 20:12)?  As jy teen jou ouers rebelleer, is dit omdat jy rebels is teen God se gesag.

 

Dit is nie ‘n probleem as ‘n arm man homself as ‘n slaaf verkoop nie.  Om egter mense te steel of te koop verdien die doodstraf (v.16, Genesis 37, Deuteronomium 24:7).  In hierdie geval is die deler so goed soos die steler.

 

Wys respek vir jou ouers.  Moenie mense steel nie.  MW beteken jy verhef nie ‘n kind se regte, sodat hy onaantasbaar is nie.  Dit hoort nie so dat die kind sy ouer of onderwyser kan behandel soos wat hy wil, sonder dat daar gevolge is nie (v.15, 17).  MW beteken jy glo nie dat pakslae sleg is vir ‘n kind se MW nie.  Jy beskou pakslae as ‘n hulp:  jy slaan omdat jy nie wil hê MW moet in die toekoms ten gronde gaan nie.  Jy weet dat rebelse kinders binnekort rebelse jongmense sal wees wat soos diere optree.

 

MW beteken jy slaan nie ‘n kind soos ‘n dier nie (v.20).  Jy beskou pakslae eerder as ‘n liefdvolle maatreël om die kind reg te help.  MW beteken jy gee nie vir ‘n stoute kind Ritalin omdat hy ‘siek’ is nie; jy gee vir hom pak omdat hy sonde doen.  MW beteken jy besef dat Ritalin jou kind soos ‘n zombie laat ronddwaal, en verneder hom tot die vlak van ‘n mal mens of ‘n irrasionele dier.  John Stott en C.S. Lewis sê:

 

‘To say that somebody “is not responsible for his actions” is to demean him or her as a human being.  It is part of the glory of being human that we are held responsible for our actions.’[2]

 

‘To be “cured” against one’s will, and cured of states which we may not regard as disease, is to be put on a level with those who have not yet reached the age of reason or those who never will; to be classed with infants, imbeciles, and domestic animals.  But to be punished, however severely, because we have deserved it, because we “ought to have known better”, is to be treated as a human person made in God’s image.’[3]

 

MW beteken jy ontken nie dat daar ‘n rangorde in die samelewing is nie.  Jy sê nie ‘diskriminasie!’ vir sulke rangordes nie.  MW beteken jy erken dat kinders hulle ouers en onderwysers moet eer.

 

MW beteken jy glo ontvoering of ‘human trafficking’ onteer die mens, en moet hard gestraf word (v.16).  Jy kan nie met mense handel soos met beeste nie.

 

Beserings en betaling (v.18-27)

‘n Ou man in my skoonma se kerk het rustig op die pad gery toe ‘n dronk man sy humeur verloor het, hom van die pad afgedruk het, uit sy kar geklim het, en die ou man geslaan het.  Die ou man is dood na ‘n kort rukkie in die hospitaal.  Eksodus 21 het reëls vir dié tipe situasies.

 

Gestel twee mans stry en raak in ‘n vuisgeveg betrokke.  Die een beland op ‘n siekbed (v.18).  As die man gesond word en met sy kruk buite loop, moet die ander man die sieke se verlore salaris en mediese onkostes betaal (v.18-19).  As die sieke egter vir ‘n ruk in die bed lê en dán doodgaan, moet die skuldige die doodstraf kry.

 

Ander reëls geld vir slawe, omdat sy baas hom met ‘n rottang mág straf.  As die slaaf egter onder die houe sterf, moet sy baas die doodstraf kry (v.20, 12, 14).  As hy vir ‘n ruk oorleef, is dit duidelik dat die baas hom nie wóú doodslaan nie.  Dié baas is skuldig aan manslag en kry nie die doodstraf nie.  Die verlies van ‘n slaaf beteken hy verloor geld.  Dit is genoeg straf (v.21).  Dis soos ‘n ongehoorsame kind wat seerkry.  Die seerkry is straf genoeg; dis nie nog nodig vir ‘n pak ook nie.

 

Gestel twee mans slaan vuis en slaan per ongeluk ‘n swanger vrou, sodat die baba uitkom.  As die kind nie beseer is nie, moet die vrou se man die oortreder dagvaar.  Die regters moet hom beboet, om hom daardeur te waarsku om versigtig te wees in die toekoms (v.22).  As die baba seergekry het of sterf (dalk omdat die kind vroeg gebore is?), is dit ‘n lewe vir ‘n lewe, ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ens. (v.23-25).  God is reverdig en sal toesien dat die misdaad en die straf bymekaar pas.

 

As ‘n baas sy slaaf se oog of tand uitslaan, moet die slaaf vrygelaat word (v.26-27).  Die baas hoef nie sy oog of tand te verloor nie, want as jy ‘n slaaf straf bestaan die risiko dat hy sy oog of tand verloor.

 

Moenie jou naaste se lewe bedreig of sy liggaam beskadig nie.  MW beteken jy sê nie ‘n mens sleg soos ‘n hond nie (v.18, Jakobus 3:9).  MW beteken jy wys selfs respek vir jou vyand (v.19).  “As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring.  As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie:  jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.” (23:4-5).

 

MW beteken jy bevorder jou naaste se gesondheid (v.19).  Dit impliseer onder andere dat jy nie rondom mense rook wat nie graag jou nikotien wil inasem nie.  MW beteken jy dink aan die gevolge voor jy sommer net iemand met die vuis bydam (v.18).

 

MW beteken jy het respek vir swanger vroue (v.22).  Staan op in ‘n vol bus of trein, sodat die swanger vrou kan sit.  Laat ‘n swanger vrou voor jou in die ry staan by die bank of in die winkel.

 

MW beteken jy haat aborsie; jy vermoor nie ‘n mens net omdat hy klein is nie (v.22-25).  MW beteken jy maak nie ‘n baba dood vir jóú sonde en foute nie.  MW beteken jy vermoor nie ‘n gestremde baba nie (v.24).  MW beteken jy veg vir dié wat nie vir hulleself kan veg nie (v.22-24, Spreuke 24:11-12, 31:8).  MW beteken jy sal aandring dat die doodstraf toegepas word ook vir aborsie (v.23).  ‘n Bangladeshi man het vir my gesê dat aborsie in sy land met die dood gestraf word.

 

Diere en doodstraf (v.28-32)

‘n Paar jaar gelede het ‘n pitbull ‘n kind by ‘n veearts kliniek in Kempton Park gebyt.  Die veearts het dadelik die hond uitgesit.  Volgens die Skrif is dit hoe dit hoort, want die mens se lewe is waardig.

 

As ‘n bees ‘n man of vrou doodmaak, moet die bees gestenig word (v.28).  Die Skrif sê:  “Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis:  van al die diere sal Ek dit eis.” (Genesis 9:5).  Jy mag nie die dooie bees se vleis eet nie, en die eienaar is onskuldig (v.28).

 

Wat as die bees al voorheen mense gegaffel het, en die baas dit geweet het maar niks daaraan gedoen  het nie?  Die bees én sy eienaar moet sterf (v.29).  Omdat dit nie direk moord was nie, kan iemand die eienaar loskoop volgens die prys wat die regters bepaal (v.30, kontr. Numeri 35:31-32).

 

Die reëls van v.28-30 geld ook as ‘n bees ‘n seun of dogter doodmaak (v.31).  Die bees moet ook sterf as dit ‘n slaaf doodmaak (v.32).  Dit wys weereens dat slawe na God se beeld gemaak is.  Die bees se eienaar moet vir die slaaf se baas 30 stukke silwer gee om ‘n nuwe slaaf te koop (v.32, vgl. Matteus 26:15).  Omdat slawe soms met beeste werk, bestaan die risiko dat hulle doodgemaak kan word.

 

Ons moet menswaardigheid se verhouding tot diere in ‘n regte lig beskou.  Hoe is dit?  MW beteken ons straf diere wat ‘n mens se lewe neem:  skiet die olifant, leeu, hond, of bees.  MW beteken jy tref voorsorg, sodat jou dier nie onnodig ‘n mens doodmaak nie (v.29):  sluit jou kwaai honde weg, sit elektriese heinings om jou plaas as daar leeus is, sit borde op wat mense teen gevaarlike diere waarsku.  MW beteken jy straf mense wat nalatig is met hulle gevaarlike diere (v.29).  MW beteken jy ag nie diere hoër as mense nie (v.28-32):  jy straf nie mense wat klappers naby honde skiet, maar maak aborsie wettig nie.

 

Peter Singer is ‘n bekende ateïs.  Volgens hom is ou mense en gestremdes ‘n las vir die samelewing.  Hy sê dat ‘n gesonde vark meer reg het om te lewe as hulle.  Hy het geen gewetensbeswaar as hulle doodgemaak word nie.  Ander mense in ons tyd maak ‘n afgod van MW.  Hulle glo dis hulle rég om gay te wees.  Hulle verskoon moord, dronkenskap, pedofilia, en rebelsheid as ‘n ‘siekte’.

 

Sonde laat mense so redeneer.  Die wêreld kan nie MW reg verstaan nie.  Eers as jy gered is en die Skrif gehoorsaam, kan jy MW in reg verstaan.

[1] John Piper, The Roots of Endurance, pp.129-132

[2] John Stott, The Cross of Christ, p.120

[3] Ibid

Hoe om jou regte te gebruik

Human rights

In die Moslem-wêreld het vroue nie regte nie.  Sura 4:24 in die Qur’an sê:  ‘…As to those women on whose part ye fear disloyalty and ill-conduct, admonish them [first], [next], refuse to share their beds, [and last] beat them [lightly]…’

 

Die teenoorgestelde gebeur in die weste:  elkeen veg vir sy regte.  Baie mense staak vir meer geld.  Party beskou dit as hulle reg om gratis behuising te hê met elektrisiteit en lopende water.  In skole leer kinders dat hulle regte het:  hulle mag nie gedissiplineer word nie.  As jy net aan hulle raak, sal hulle jou by die onderwysdepartement aangee.  Selfs misdadigers het regte wat nie oortree mag word nie.

 

Die Bybel sien nie sonde oor omdat ons regte het nie.  ‘n Getroue Christen is selfs bereid om geldige regte prys te gee vir God se eer, gelowiges se geestelike welvaart, en ongelowiges se redding.  Dis Paulus se punt in 1 Korintiërs 9.

 

Paulus verdedig sy regte (v.1-14)

Ek weet van ‘n kerk met ‘n paar ryk mense wat ‘n leraar soek.  Die leraar moet sy eie huis en kar voorsien.  Die kerk sal vir hom ‘n salaris van R2000 per maand betaal.  Die Bybel sê egter dat evangelie-werkers die reg het om ordentlik betaal te word (v.1-14).

 

Paulus was ‘n ooggetuie van die opstanding (15:8, Handelinge 9).  Sy preke het bose sondaars in Korinte in nuwe mense verander (2 Korintiërs 3:2).  Dít bewys dat hy ‘n ware apostel was wat die ware evangelie verkondig het (v.1-3).

 

As apostel het hy net soos die ander apostels, Jesus se broers, en Petrus die reg gehad op ‘n padkos-toelaag, ‘n vrou as hulp, sendingreisgeld vir sy vrou, en ‘n salaris uit die gemeentes waar hy gepreek het (v.4-6, Lukas 10:7, 2 Tessalonisense 3:8-9).  Die soldaat kry ‘n salaris, die wynboer deel in die oes, en die herder drink van die bokke se melk (v.7).  Net so moet die Here se soldaat (2 Timoteus 2:3-4), kerkplanter (3:6-8), en geestelike herder (1 Petrus 5:2) betaal word.

 

Paulus sê hierdie dinge nie op menslike gesag nie.  God sê so.  In die Ou Testament het koringboere ‘n os gebruik om die meulsteen oor die koring te rol.  Die os se bek mag nie toegebind word nie.  Hy moet van die koring kan eet terwyl hy dit fyn maal (Deuteronomium 25:4).  Dié beginsel geld ook vir evangelie-predikers (v.9-10, 10:11, 1 Timoteus 5:18, Romeine 15:4, 27).  Paulus het die kerk in Korinte geplant.  As hy geestelik gesaai het, mag hy sekerlik geldelik maai en in die vrug deel (v.11-12a, 2 Timoteus 2:6).

 

Maar Paulus sou eerder sy reg op ‘n salaris prysgee, as om ‘n geleentheid vir evangelie te laat verbygaan (v.12b).  Niemand moet kan sê:  ‘Ons het nie die evangelie gehoor nie, want ons kon jou nie bekostig nie.’  Die priesters in die Ou Testament het uit die volk se tiendes en offers geleef en geëet (v.13, Deuteronomium 18:1, Numeri 18:21).  As Paulus wou, kon hy dieselfde gedoen het (v.14, Matteus 10:10).

 

Paulus begewe sy regte (v.15-27)

Ek ken ‘n predikant wat ryk geërf het en slim is met geld.  Hy het vir hom 4×4’s, sport karre, ‘n jaccuzi, ‘n toer motorfiets, en duur ‘speelgoed’ gekoop.  ‘Is dit sonde?  Het hy nie die reg om sy geld te gebruik soos hy wil nie?’ wonder iemand.  Die mense in sy gemeente kan nie so leef nie.  Daarom sou dit beter gewees het as hy, soos Paulus, sy regte prysgegee het (v.15-27).

 

Paulus het sy regte begewe.  Hy het – ook toe hy in Korinte was – tente gemaak vir ‘n inkomste (Handelinge 18:3).  Sy doel met v.1-14 was nie om vir geld te skimp nie (v.15a).  Hy sou sterf eerder as om die evangelie te verkoop (v.15b).  “Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedónië gekom het.  En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem.  So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Acháje my nie ontneem word nie.” (2 Korintiërs 11:9-10).  Jesus het gesê:  “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.” (Matteus 10:8).

 

Moet hom nie misverstaan nie.  Paulus roem nie in sy amp of vaardigheid om te preek nie.  Om die evangelie te preek is sy plig (v.16).  Hiervoor het Jesus hom geroep (Handelinge 9:6, 15).  Soos die ander apostels en Jeremia, kon hy nie anders as om te preek nie (Handelinge 4:20, Jeremia 20:9).  As hy stilgebly het en nie gepreek het nie, sou die Here hom straf (v.16, Jakobus 3:1).  Paulus het nie self sy preekloopbaan gekies, met die doel om geldelike loon te kry nie (soos moderne Prosperity predikers).  God het vir Paulus geroep om ‘n rentmeester van die kosbare evangelie te wees.  Sy beloning was dus om die evangelie gratis en sonder betaling te preek (v.17-18).

 

Paulus het nie ‘n salaris getrek nie, en was dus vry van die houvas van enige kerk of individu (v.19, vgl. Spreuke 22:7).  Tog het hy homself ‘n dienaar van almal gemaak, sodat hy baie vir die evangelie kon wen (v.19).

 

[1] Hy was vry van die wet, maar het soos ‘n Jood geword om dié wat onder die wet is te wen (v.20).  Hy het nie geglo dat die besnydenis, offers, of die Nasireër-gelofte enigiets tot sy redding bydrae nie.  Tog sou hy dié praktyke beoefen om aanklank by die Jode te vind, sodat hulle ontvanklik sou wees vir die evangelie (Handelinge 16:3, 18:18, 21:26).

 

[2] Vir die heidene sonder die wet sou hy word soos een sonder die wet om hulle te wen (v.21, Galasiërs 2:3, 14).  Hy bedoel nie dat hy wetteloos sou word nie, want hy was immers onder die wet van Christus (Galasiërs 6:2):  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

 

[3] Vir die swakkes sou Paulus sy regte opgee, sodat hulle geestelik sterker kon word (v.22).  “Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.” (8:13).  “net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.” (10:33).

 

Paulus sou sy regte prysgee om mense vir die Here te wen.  Vir hom was die seën wat die evangelie bring (Efesiërs 1:3-14) belangriker as sy regte (v.22-23).

 

Die Korintiërs was bekend met die Isthmian spele wat elke paar jaar in hulle stad gehou is.  Paulus het dié beeld gebruik om te sê dat hulle moes hardloop om die prys te behaal:  ‘n ewige kroon en nie net ‘n blarekrans wat gou verlep nie (v.24-25, 2 Timoteus 4:8, Jakobus 1:12, 1 Petrus 5:4).  Om dit reg te kry moes hulle, soos goeie atlete, hulleself dissiplineer (v.25, 2 Timoteus 2:5).  Hulle moes nie net van sonde ontslae raak nie, maar ook van wettige plesiere wat hulle kon terughou (Hebreërs 12:1).

 

Goeie atlete het ‘n doel waarvoor hulle hardloop (v.26).  So moes die Korintiërs Jesus vooroë hou in die lewenswedloop (Hebreërs 12:2).  Hulle moes nie skadu-boksers wees nie, maar moes die teiken raak slaan (v.26).  So sou hulle enduit kon volhard soos Paulus (2 Timoteus 4:7).

 

Paulus het vir hulle ‘n voorbeeld gestel.  Hy het vir sy sondige vlees ‘n blou oog gegee, en was bereid om sy regte op te gee (v.27).  As hy dit nie gedoen het nie, sou sy vlees makliker die oorhand kon kry.  Hy sou dus makliker in sonde kon val en gediskwalifiseer word.  So sou hy sy wedloop in die evangelie-bediening moes opgee en sy hemelse beloning verloor (v.27, vgl. 3:15).

 

Begewe jou regte vir Jesus.  Wat is jou regte?  Jy het nie die reg om sonde te doen nie.  Jy is vry om die gawes te geniet wat God gee:  geld, kos, vakansies, die huwelik, wyn, sport, en baie meer (1 Timoteus 6:17).

 

Tog kan jy jou regte prysgee om ongelowiges te wen en swak gelowiges se groei te bevorder (v.19-23).  Hier is ‘n paar voorbeelde:

 

  • Ek ken verskeie sendelinge wat hulle gemaklike lewens in die weste gelos het vir ‘n ander kultuur in ‘n derde wêreld land.
  • Een vriend is bereid om Nike tekkies en teëlvloere prys te gee, omdat die mense onder wie hy werk dit nie kan bekostig nie.
  • Martyn Lloyd-Jones was die mediese-assistent vir koningin Elizabeth se geneesheer. Hy sou waarskynlik sy baas se opvolger wees. Hy het dit vir die evangelie-bediening verruil.
  • John Paton het ‘n groeiende bediening in Skotland gehad. Hy het dit agtergelaat om ‘n sendeling na die kannibale van die New Hebrides te word.
  • My vriend het sy groeiende besigheid en plaaslewe gelos om onder die plakkers te werk.
  • ‘n Bekende berader se vrou het haar familie in Amerika agtergelaat om in Suid-Afrika te kom werk. Haar buurvrou in Suid-Afrika het gevra: ‘Is jy nie lief vir jou kleinkinders nie? Hoe kan jy dit aan hulle doen?’ Haar antwoord was: ‘Ek is lief vir my kleinkinders, maar ek is liewer vir Jesus.’
  • ‘n Kollega het sy veearts kliniek gelos, sy huis en sy kar verkoop om teologie te studeer.
  • ‘n Afgetrede leraar het sy lewe lank die evangelie gratis verkondig. Hy was die predikant van verskeie kerke, maar het – uit eie keuse – nooit ‘n salaris gekry nie.
  • ‘n Vriend van my het sy werk by Edgars gelos om die evangelie met kinders te deel. Hy het nie ‘n vaste inkomste gekry nie.
  • ‘n Paar Suid-Afrikaanse predikante het geld Zambië toe gestuur om vir Conrad Mbewe ‘n kar te koop. Hy was dankbaar, maar het die geld teruggestuur. ‘Ek kan nie ‘n kar ry as die meeste van my lidmate loop of fietsry nie,’ het hy gesê.
  • Howell Harris het besluit om nie te trou nie, sodat hy vryer kon wees om op preektoere te gaan.
  • ‘n Amerikaanse paartjie in Johannesburg het gekies om in hierdie slegte land aan te bly, sodat hulle mense vir die Here kan wen.

 

Baie mense sal sê dis onverantwoordelik.  Ander sal sê om jou regte prys te gee is wetties (bv. as jy wyn opgee om ‘n swakker broer te wen).  Wees tog versigtig dat jy nie verwag dat almal dieselfde regte as jy moet prysgee nie.  Moet dit nie afdwing as ‘n reël nie.  Moenie dink dat iemand wat ‘n BMW ry, besluit om te trou, bier drink, of aanhou om in die sekulêre sektor te werk, minder geestelik is as jy nie.

 

Sal jy jou regte prysgee om ander te wen?  Sal jy vanjaar jou kersboom afslaan, ophou om alkohol te gebruik (8:13), of elke Sondag ‘n das dra as jy daareur jou broer kan wen?  Sal jy spek opgee om ‘n Moslem te wen?  Sal jy jou restaurant-ete met die direkteure prysgee om saam met die ‘tea lady’ toebroodjies te eet, sodat jy haar vir die Here kan wen?

 

Sal jy jou geselsies met mede-Afrikaners prysgee, sodat jy mense van ‘n ander taalgroep kan bevriend om hulle vir die Here te wen?  Sal jy ‘n kleiner kar koop, sodat jy die ekstra geld vir sending kan gee?  Sal jy jou vakansie opoffer om die evangelie in Mosambiek te preek?  Dalk is jy nie bereid om jou regte prys te gee nie.  Maar is dit regtig so erg as jy nie jou regte kan uitleef nie?

 

Hoekom moet jy bereid wees om jou regte prys te gee?  Selfverloëning is deel van wat dit beteken om Jesus te volg:  “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.” (Lukas 9:23).  Jesus het sy regte – sy hemelse rykdom – prysgegee om ons te red (2 Korintiërs 8:9, Filippense 2:6-8).  En sal ons nie in sy voetspore volg nie?

 

‘n Klomp jare gelede was daar ‘n populêre lied wat die wêreld se idee oor mense regte opgesom het.  Die woorde het so gegaan:  ‘You’ve got to fight… for your right… to party!’  Ongelowiges sal vir hulle regte sterf.  Vir hulle gaan die lewe oor hulleself en hulle eie gemak.  Vir Christene gaan die lewe oor Jesus en liefde vir hulle naaste.  In watter kamp is jy?  Sal jy jou regte en lewe prysgee om Jesus te verheerlik deur ander vir Hom te wen?