Oor naasteliefde en vergoeding

Repaying

Christelle steel R10 000 by Riana en spandeer die geld.  Na ‘n paar maande het sy diep berou.  Sy bely haar sonde en belowe om dit nooit weer te doen nie.

 

Is dit genoeg?  Wat kort?  Sy moet R10 000 met rente of ‘n boete terugbetaal.  ‘Vergoeding’ of ‘restitusie’ is wat die Bybel dit noem, en dit is waaroor Eksodus 21:33-22:15 gaan.

 

Voorsorg (21:33-36)

‘n Paar jaar gelede het ons iemand se Golden Retriever teef opgepas.  Toe sy een keer op hitte was het die buurman se pug haar kom besoek.  Ons Labrador reun het hom doodgebyt.

 

My skoonsuster se Bull Terrier het oor die muur gespring en die bure se hond ernstig gebyt.  Hoe moet ‘n mens sulke situasies hanteer?  Wat sê Eksodus 21:33-36 hieroor?

 

‘n Man wat ‘n put grawe moet dit met groot klip bedek.  Hy doen dit sodat daar nie sand inwaai nie, dat die water nie so gou verdamp nie, en dat skelms dit nie so maklik kan steel nie (vgl. Genesis 26, 29:2-3).  Maar hy doen dit ook sodat iemand se bees of donkie nie daarin val nie.  As sy naaste se dier daarin val, moet hy vir hom geld gee vir ‘n nuwe een.  Hy kan die dooie dier vat; dalk wil hy die vleis of vel gebruik (v.33-34).

 

As jou bees iemand anders s’n doodmaak, moet julle die dooie bees deel, die lewende een verkoop en die geld verdeel (v.35).  Duidelik is diere nie so waardevol soos mense nie, want as dieselfde met ‘n mens gebeur het, moet die bees gestenig word (v.28-32).

 

Maar wat as ‘n bees daarvoor bekend is dat hy stoot, en die baas hom nie wegsluit nie?  In dié geval is dit die eienaar se verlies:  hy moet vir sy naaste ‘n nuwe bees koop, en hy kan die dooie een hou (v.36).

 

Tref voorsorg of betaal.  Is jou hond ‘n vegter wat ander honde byt?  Vang jou hond of kat die bure se hoenders, duiwe, of khois?  Hou jou hek toe.  Herstel die gat in jou heining.  Bou ‘n hoër muur.  Doen wat nodig is om te sorg dat jou hond of kat nie kan uitkom nie.  Koop vir jou buurman ‘n nuwe hond of kat as joune syne doodgebyt het.  As sy hond of kat in jóú erf was en gebyt is, hoef jy hom nie te vergoed nie.

 

As jy só voorsorg tref vir diere, moet jy dit nie soveel meer doen vir mense nie?  Jesus het.  “Maar Hy sê vir hulle:  Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?  Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie!” (Matteus 12:11-12).

 

Sit dan ‘n net oor jou swembad en moenie jou badwater inlos as jy klein kinders het nie.  Moenie jou baba alleen in die bad los nie.  Juis om dié rede het ons onlangs ‘n deksel oor ons doopbad gesit.

 

‘n Paar jaar gelede het ek takke met lang dorings in my tuin gesit om die honde uit te hou.  Iemand het vir my gesê dat dit dalk beter sal wees om die takke weg te vat, sodat die kinders nie daarin trap of val nie.

 

Het jy klein kinders?  Kyk mooi voor jy ry.  Jy weet self hoe baie ouers en grootouers al oor hulle kinders gery het.  Maak die hek wat na die straat toe lei toe.  Maak die muurproppe toe, sodat jou kinders nie hulle vingers daarin steek nie.  Moenie klein voorwerpe op die mat los nie.  Ons oudste dogter het so aan ‘n vyf sent verstik.  Maak jou kind se sitplekgordel vas.  Moet tog nie dat jou kind op die voorste bank staan of op jou skoot sit, terwyl jy bestuur nie.

 

Die les is duidelik:  dink vooruit.  Salomo sê:  “Sensible people will see trouble coming and avoid it, but an unthinking person will walk right into it and regret it later.” (Spreuke 22:3, Good News Bible).  Ja, tref voorsorg.  Maar moenie in vrees lewe nie.  As jy gedoen het wat jy moet, moet jy die Here vertrou.

 

Hoekom moet jy voorsorg tref?  Want spyt kom altyd te laat.

 

Veediefstal (22:1-4)

‘n Oom het my vertel hoe hy as jong seun ‘n knipmes begeer en gesteel het.  Jare daarna het sy gewete hom vreeslik gepla.  Hy het ‘n brief geskryf, vergifnis gevra, en ‘n tjek ter waarde van twee nuwe knipmesse gestuur.  Die oom se optrede was reg volgens die Bybel.

 

As ‘n man sy naaste se os of skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy hom met vyf osse of vier skape vergoed (v.1).  Hierdie boete sal vir hom leer dat diefstal nie winsgewend is nie; dit ly altyd tot ‘n verlies.

 

As ‘n dief inbreek, geslaan word, en sterf, moet die een wat hom geslaan het nie gestraf word nie (v.2, ANC!).  Die man het homself en sy gesin verdedig.  Hy kon nie mooi sien in die donker nie.  Dit is manslag.  Maar as die skelm in die dag ingebreek het en doodgemaak is, is dit moord (v.3).  ‘n Mens maak nie iemand dood omdat hy steel nie (AWB!).

 

Wat as die dief bly lewe?  Hy sal nie wegkom nie, maar moet volgens v.1, 4 terugbetaal (v.3).  As hy nie kan betaal nie, moet hy as ‘n slaaf verkoop word:  armoede verskoon nie diefstal nie (v.3, 21:2, 32).  As die gesteelde dier in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoed (v.4).  Weer sien ons dat ‘n mens meer waardigheid het as ‘n dier, want as jy ‘n mens steel kry jy die doodstraf (21:16).

 

Het jy iets gesteel en nog nie daarvoor vergoed nie?  Maak reg.  Moenie probeer om die gesteelde goed terug te sit, sonder dat iemand jou sien nie.  Bely jou sonde; erken wat jy gedoen het.  Dalk verloor jy jou werk of maak jy kwaai vriende.  Dan moet dit so wees:  maak reg en dra die gevolge.

 

Dink aan die gevolge voordat jy steel:

 

  • Jou gewete sal jou pla. My oom se kollega het gesteel. Haar gewete het haar gepla. Toe die polisie die saak ondersoek, het sy gesê: ‘Ek het die geld gevat.’ ‘Ons weet,’ het hulle gesê, ‘Jy werk dan met die geld.’ Sy het gesê: ‘Julle verstaan nie, ek het die geld gesteel.’ Die polisie was verbaas. Hulle het nie vermoed dat dit sy is nie. Sy kon dit nie meer vat nie en moes haar gewete skoon kry.
  • Jy sal uitgevang word. Die Skrif sê: “weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.” (Numeri 32:23).
  • Jy sal met die gereg te doen kry. Dalk beland jy in die tronk.
  • Die verlies is groter as die wins. Jy dínk jy sal ryk word, maar jy sal moet betaal.
  • Jou reputasie sal skade ly.

 

Aanvaar dit as iemand by jou gesteel het en moet terugbetaal.  Moenie sê:  ‘Nee, toemaar; dis okay’ nie.  Eksodus 22 sê die persoon moet vergoed.  Eers as hy dít gedoen het sal sy gewete rus.

 

Hoekom moet jy vergoed as jy gesteel?  Jy sal twee keer dink voor jy weer steel.

 

Weiding (22:5)

Ek het eenkeer by ‘n man in Kaapse Hoop gekuier.  Sy hond het brood, bier, en koeldrank uit die winkel naby sy huis gesteel.  Hoe gemaak in só ‘n geval?

 

As jy jou vee los dat dit jou buurman se weiding of wingerd kaalvreet, moet jy hom met die beste uit jou eie wingerd of weiding vergoed (v.5).  Moenie die swakste druiwe uitsoek om hom terug te betaal nie, maar vergoed hom presies volgens wat hy verloor het.

 

Moenie sonde met die bure optel as gevolg van ‘n troeteldier nie.  As jou hond die buurman se swartsakke skeur of op sy gras mis, moet jý dit optel.  As jou hond die bure se tuin ‘omspit’, moet jy vir hom nuwe blomme koop.  As jou kat deur die bure se venster geklim het en sy gordyne gesproei het, moet jy dit laat was of nuwe gordyne koop.

 

As sy diere jou pla, moet jy dit met hom opneem.  Moet hulle asseblief nie doodmaak nie.  Iemand het my hond vergiftig omdat hy in die aand geblaf het.  Iemand wat ek ken het glas met maalvleis fyngemaal, omdat ‘n hond sy swartsakke geskeur het.

 

Die rede hoekom jy v.5 moet volg, is omdat die Skrif sê:  “as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:18).

 

Veldbrande (22:6)

Toe ek op skool was het ‘n seun in die buurt die veld langs hulle huis afgebrand.  Iemand het hom gevang.  Hy moes vir ‘n paar maande elke Saterdag die brandweer se trokke was.

 

Toe ek in Nelspruit gebly het, het die jongmense een Saterdag ‘n potjie in die veld gemaak.  Toe ons klaar was, het ons die kole net so gelos en huis toe gegaan.  ‘n Deel van die veld het afgebrand.

 

Of jy nou voorbrande maak, moedwillig is, of braai en nie die vuur blus nie – dit maak nie ‘n verskil nie:  jy moet vergoed.

 

Boere het doringtakke om hulle koringlande gesit om te keer dat die bure se beeste dit eet (v.6, 5).  Gestel iemand maak ‘n vuur.  Sy buurman se droë doringhout vat vlam, sodat sy goudgeel koringlande of die koring in skuur afbrand.  In so ‘n geval moet die een wat die vuur gestig het, sy naaste volgens sy verlies vergoed (v.6).

 

Jesus het gesê:  “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.” (Matteus 7:12).  Dit geld ook vir brande.  Moenie elektriese werk doen as jy niks daarvan weet nie:  jy kan maklik ‘n vuur begin.  Moenie rook by ‘n petrolstasie nie.

 

Is jy kwaad vir jou naaste?  Moet hom nie aspris straf en sy besittings beskadig nie (1 Samuel 14:30).  As hy jóú besittings beskadig het, moet jy hom nie terugkry nie, maar vergoeding vra (Rigters 15:4-8).

 

Versuim (22:7-15)

In 22:7-15 gee Moses riglyne vir die onderstaande en soortgelyke situasies:

 

[1] Mnr. X se vriend het vir hom gevra om sy belasting te doen.  Hy het ingestem, maar nooit die belasting inbetaal nie.  Hy het oor ‘n paar jaar ‘n miljoen Rand gesteel.  Sy werk het hom uitgevang, afgedank, en gesê hy moet die geld afbetaal.

 

[2] Twee vroue het oor ‘n stofsuier baklei.  Mev. A het die stofsuier by Mev. B geleen.  Sy wou dit nie teruggee nie, maar het gesê dis hare.  Mev. B was vasberade dat die stofsuier háre is, en dat Mev. A dit by haar gesteel het.

 

[3] Iemand het Mnr. Y se kar geleen met die doel om dit te koop.  Hulle het dit al vir byna twee jaar, en antwoord nie hulle fone as Mnr. Y bel nie.

 

[4] Iemand het sy kar in my garage gelos.  My hond het ‘n stuk rubber van sy kar afgekou.

 

[5] My skoonsuster het haar kar onder ons boom gelos.  Die boom het op haar kar geval en groot skade gemaak.

 

As iemand vra jy moet hulle geld of besittings oppas en dit word gesteel, moet die dief dubbel terugbetaal (v.7, vgl. Levitikus 6:1-7).  As die dief nie gevind word nie, moet jy voor die hof belowe dat jý dit nie gesteel het nie (v.8).  As jy met die gesteelde goed gevang word, het jy vertroue gebreek en moet jy betaal (v.9).

 

Wat gebeur as jy iemand se dier oppas en dit vrek, kry seer, of dwaal weg (v.10)?  Jy moet vir jou naaste belowe dat jy dit nie wegsteek of verkoop het nie.  Jou naaste moet jou belofte glo en jy hoef hom nie te vergoed nie (v.11).  As die dier gesteel is, moet jy dit vervang.  Jy moes dit immers opgepas het (v.12).  As wilde diere dit verskeur, is jy onskuldig.  Jy moet ten minste die verskeurde dier as bewys bring dat jy die roofdiere verjaag het, sodat hulle dit nie heeltemal kon opeet nie (v.13).

 

Dalk wil jy ploeg en leen jy jou buurman se bees.  Of jy wil trek en jy leen sy donkie.  As sy dier vrek of seerkry terwyl jou buurman nie sien nie, moet jy dit vervang.  Jy moes dit opgepas het, maar jy het nie (v.14).  As die man by wie jy dit geleen het daar was, hoef jy nie die betaal nie.  Die geld sal van die huurfooi afgetrek word (v.15).

 

Pas geleende goed op asof dit jou eie is (2 Konings 6:5).  Moenie ander se eiendom verniel nie.  Moenie agter raak met jou huurgeld, klereskuld, kar se paaiement of ander skuld nie.  Die Skrif sê:  “Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is:  belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê”(Romeine 13:7-8).  Die beste is dat jy geen skuld het nie, want “hy wat leen, is ‘n slaaf van die man wat uitleen.” (Spreuke 22:7).  Moet veral nie skuld maak as jy weet jy kan dit nie betaal nie.

 

Moenie net groot goed in jou besit oppas nie, maar ook klein goed.  Moenie die geleende CD krap, toelaat dat jou kinders die geleende boek skeur of daarin teken, of jou hond op die geleende trui laat slaap nie.  Moenie jok as jy nalatig was en iemand se goed beskadig het nie – praat die waarheid en vervang dit.  Moenie die geleende goed sonder toestemming aanstuur en vir iemand anders leen nie.  Iemand het dit lank terug met my kasette gedoen en dit verloor.  Moenie iets leen en dit vir jare nie teruggee nie.  Hoe is dit anders as steel?

 

Het jy iets vir iemand opgepas of iets geleen en dit beskadig?  Vervang dit.  As iemand oorsee is en vra jy moet sy kar oppas, moet jy nie die petrol uitry en die tenk leeg teruggee nie.  Maak dit vol.  As jy die persoon se kar stamp moet jy dit herstel.  As jy die bande op ‘n grondpad verniel moet jy dit vervang.

 

As jy ‘n Christen is moet jy nie net jou goed uitleen as jy dit terugverwag nie.  Jesus het gesê:  “Gee aan hom wat jou iets vra, en wys hom nie af wat van jou wil leen nie.” (Matteus 5:42).  “En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank het julle?  Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te ontvang.” (Lukas 6:34).

 

Hoekom moet jy geleende goed oppas?  Die Skrif sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Levitikus 19:18).  Sou jy nie bly wees as iemand jóú goed mooi oppas nie?  Jesus het die geleende donkie opgepas en dit terug besorg (Markus 11:2-3).  Die Vader het vir Jesus gevra om jou op te pas.  Hy doen dit (Johannes 17:12).  Hy sal jou nie laat verlore gaan nie, maar bewaar tot die einde toe (Johannes 6:39).

 

Alles wat jy besit (eiendom, geld, huweliksmaat, kinders, geestelike gawes, talente) het God aan jou toevertrou.  Jy is sy rentmeester of bestuurder.  Pas dit mooi op.  Op die oordeelsdag gaan Hy dit terugvra.  Jy sal moet rekenskap gee.

 

Voor sy bekering het Adoniram Judson in herberge gebly.  In die vroeë oggendure sou hy uitglip, sodat hy nie hoef te betaal nie.  Na sy bekering het hy een vir een die herberge terugbetaal.

 

Iemand wat waarlik tot bekering gekom het wil nie net sy sonde los nie, maar die mense teen wie hy gesondig het vergoed.  Na sy bekering het Saggeus vir Jesus gesê:  “Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (Lukas 19:8).

 

Die ware gelowige sal selfs die ekstra myl stap (Matteus 5:41), en doen wat nié van hom verwag word nie.  Toe ek ‘n ouer gelowige oor Eksodus 21:33-22:15 uitvra, het hy gesê:  ‘Op grond van die beginsels in hierdie verse, koop ek altyd vier nuwe bande vir iemand wat sy kar by my los.’

 

Die ware gelowige verstaan iets van Jesus se liefde, dat Hy ons skuld betaal het.  Daarom wil ons sy voorbeeld volg en ons naaste uit ‘n nuwe hart liefhê – ook wanneer dit by vergoeding kom.