Die heel belangrikste ding in die kerk

Love God and others

Wyle Martin Holdt het vertel van ‘n predikant in Klerksdorp wat nie baie goed kon preek nie. Ten spyte van sy oppervlakkig inhoud was die kerk elke Sondag stampvol. Hoekom? Hy was lief vir mense. Hy het in die middel van die nag in sy Kombi deur die strate gery. As hy ‘n huis gesien het waar daar ligte brand, het hy gestop en gevra of alles reg is. Die mense was mal oor hom en wou deel wees van só ‘n gemeente.

Natuurlik is die waarheid baie belangrik, maar wat help Bybelse prediking sonder liefde? Sê die Skrif nie ons moet die waarheid in liefde praat nie (Efesiërs 4:15)? Jy kan baie begaafd wees sonder dat jy God en mense liefhet. Maar as jy ware liefde het, sal dit uitloop op baie ander goeie dinge. En dis juis om dié rede wat Paulus in 1 Korintiërs 13 sê dat die liefde belangriker is as enigiets anders.

Die afwesigheid van liefde (v.1-3)

Jerry Bridges illustreer die afwesigheid van liefde soos volg. Hy sê dit is soos ‘n papier vol van nulle – dit beteken niks. Maar sit nou ‘n nr.1 voor die eerste nul en skielik is jy oneindig ryk. Paulus gooi nie die gawes weg nie, maar wys hoe min dit werd is sonder liefde. Hy wil hê dat “alles by julle in liefde geskied.” (16:14).

Die gawes van die Gees sonder die vrug van die Gees help niks. Dit geld ook vir die Korintiërs se gunsteling gawe: tale (v.1).[1] ‘n Taal wat nie uitgelê word nie, raas soos ‘n ghong en is soos iemand wat op ‘n simbaal slaan en almal irriteer (v.1). Om dit te doen is liefdeloos en bou niemand op nie (v.1).

Die gawes van profesie, insig in alle geheimenisse (15:51, 14:2) kennis, en geloof sodat jy deur jou gebede groot struikelblokke kan versit (Markus 11:23-24), help niks as jy nie liefhet nie (v.2). Ongelowiges kan ook sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” (Matteus 7:22). Sonder liefde is dit nie net jou gawes nie, maar jy self wat niks is (v.2). Dis nie jou groot gawes wat jou kenmerk nie, maar jou liefde.

Jy sal geen voordeel of beloning kry as jy al jou besittings vir die armes gee, of jouself aan ‘n martelaardood op ‘n brandstapel oorgee, maar nie liefhet nie (v.3, Matteus 19:21, 6:2, Daniël 3:28). Ja, dit is so dat liefde opoffer (1 Johannes 3:16-18, Efesiërs 5:25, Galasiërs 2:20, Romeine 5:6-8). Maar nie alle opoffering is liefde nie: kamikaze vlieëniers gee nie hulle lewens prys omdat hulle God of ander liefhet nie (v.3).

 

Die eienskappe van liefde (v.4-7)

Ek was eenkeer in ‘n vergadering met ‘n predikant wat sy vrou gelos het. ‘Wat is die finale rede waarom jy skei?’ het die vergadering gevra. Sy antwoord was: ‘Ek is nie meer lief vir my vrou nie.’ ‘n Ou predikant het kwaad geword en vir hom gesê: ‘Jy maak die huwelik goedkoop! Jy verstaan nie wat liefde is nie!’

Die wêreld sê: ‘Jy kan nie liefde soos ‘n lig aan- of af sit nie.’ Maar God beveel dat jy Hom en jou naaste moet liefhê (Lukas 10:27). Kan jy kies om God en jou naaste lief te hê of nie? Kan jy kies om geduldig, vriendelik, en goed gemanierd te wees of nie (v.4-7)? Liefde is nie ‘n warm gevoel nie, maar word sigbaar in praktiese dade (v.4-7).

Die vyftien kwaliteite in v.4-7 IS nie liefde nie, maar dit vloei wel daaruit. Die liefde bind baie ander kwaliteite saam (Kolossense 3:14). Paulus het hierdie lys mooi gekies om die Korintiërs te bestraf. Hulle het die teenoorgestelde gedoen van wat hierdie lys sê:

Hulle was ongeduldig, onvriendelik, jaloers, het in hulleself geroem, was arrogant, ongemanierd, het hulle eie voordeel gesoek, was bitter, het boek van die kwaad gehou, was bly oor sonde en nie oor die waarheid nie, het nie ander se sonde teen hulle verdra nie, het slegte dinge oor ander geglo, en het mekaar afgeskryf.

Ware liefde:

[1] Is geduldig soos wat God met sondaars is (Romeine 2:4, 1 Timoteus 1:16).

[2] Is vriendelik en gaaf soos wat God met ons is (Lukas 6:35, Efesiërs 4:32).

[3] Is nie jaloers soos wat die Korintiërs op mekaar was nie (3:3). Robert Murray M’Cheyene was ‘n predikant in Dundee in Skotland. Toe ‘n herlewing in sy afwesigheid onder William Burns uitbreek, was hy nie jaloers nie, maar het hy gejuig asof dit onder sy eie bediening gekom het.

[4] Roem nie in homself nie. Nick Needham skryf oor ‘n sekere Michael Psellus wat in die 11de eeu geleef het: ‘He was a true marvel of learning. Philosophy, theology, music, rhetoric, mathematics, astronomy, medicine, military strategy: nothing seemed to escape Psellus’s masterful mind – with the possible exception of humility, as he never lost any opportunity of telling everyone how great his knowledge and achievements were.’[2]

Mohammed Ali het gereeld oor sy boks vernuf geroem. Deesdae wys atlete met beide wysvingers na hulself as hulle wen. Kontrasteer dit met ‘n predikant in Europa wat altyd eers vir 10 of 20 minute oor jóú praat, voordat hy enigiets oor homself sê.

[5] Is nie – soos die Korintiërs – arrogant of opgeblase nie (4:6, 18, 19, 5:2, 8:1).

[6] Is nie ongemanierd nie. In 7:36 het hierdie selfde Griekse woord seksuele konnotasies. Iemand wat liefhet sal nie vuil dinge doen wat nie by ‘n Christen pas nie.

[7] Soek nie sy eie belang nie. In 10:24, 33 het Paulus gesê: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander… net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.”

Só het Paulus Timoteus met die vals leraars gekontrasteer: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie.” (Filippense 2:20-21). Jesus is die grootste voorbeeld van Iemand wat ander se belange bo sy eie gesoek het.

[8] Is nie bitter, kort van draad, of geïrriteerd nie, maar vergewe ander. Iemand wat liefhet is bereid om skade te ly (6:7).

[9] Hou nie boek van die kwaad nie. Iemand wat liefhet is soos God wat ander se sondes afskryf en dit nie teen hulle hou nie (Hebreërs 10:18, 2 Korintiërs 5:19).

[10] Is nie bly oor sonde nie. Paulus praat van ongelowiges wat “behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:12). Ongelowiges hou daarvan as ander mense sonde doen (Romeine 1:32). Ongelowiges omsingel ‘n vyand en sê vir hulle vriende: ‘Slaan hom! Slaan hom!’ Christene treur oor ander se sonde (Matteus 5:4, Psalm 119:136, Jeremia 9:1, Lukas 19:41, Romeine 9:2).

[11] Is bly oor die waarheid soos Jesus wat Hom in Lukas 10:21 verheug het in die Gees.

[12, 15] Bedek en verdra alles. Paulus sou armoede verdra om nie die Korintiërs en ander gelowiges te belas nie (9:12). Jesus het die skande van die kruis verdra (Hebreërs 12:2). Paulus sou enige lyding deurmaak, sodat die uitverkorenes die evangelie kon hoor en gered word (2 Timoteus 2:10). God het ons sonde bedek en dit nie teen ons gehou nie (Romeine 3:25). Iemand wat liefhet volg hierdie voorbeeld en sien ander se sondes oor (Spreuke 10:12).

[13] Glo alles. Dit beteken nie liefde is naïef nie, maar dit glo die beste van ander en verwelkom nie skindernuus nie.

[14] Hoop alles. Iemand wat liefhet skryf nie maklik mense af nie, en sien hulle nie sommer as ‘n ‘hopeless case’ nie.

Die ewigheid van liefde (v.8-13)

Het jy al ooit vir jou kinders gevra: ‘As jy enigiets kon wens, wat sou jy wens?’ Wat antwoord hulle? Hulle sê so iets: ‘Ek wens vir ‘n beursie waarvan die geld nooit op raak nie … Ek wens vir ‘n boom met sjokolade aan, en as jy dit pluk groei daar net nuwe sjokolade – dit raak nooit op nie… Ek wens al my wense word waar… ens.’ Liefde duur vir ewig en is daarom beter as bonatuurlike gawes wat tydelik is (v.8-13).

Die liefde val, faal, en eindig nooit nie. Gawes soos tale, profesie, en kennis deur nuwe openbarings eindig wel (v.8). Paulus sê dat hierdie gawes sal eindig as die volmaakte gekom het (v.8, 10). Wat is die volmaakte? Party dink dit verwys na die hemel, terwyl ander sê dit verwys na die voltooiing van die Skrif. Die Nuwe Testament was nog nie klaar geskryf toe Paulus 1 Korintiërs 13 geskryf het nie. Ek glo ‘die volmaakte’ verwys na die voltooiing van die Nuwe Testament. Kom ek verduidelik hoekom ek so sê.

Die Griekse woord vir volmaakte in v.10 [teleion] beteken ook ‘volwasse’ soos in Efesiërs 4:13, Kolossense 1:28, Hebreërs 5:14. In v.11 bevestig Paulus dat dit die betekenis is, en dat hy self reeds volwasse is: “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.” (v.11). In dié vers sê hy vir die Korintiërs om nie soos kinders te praat, te dink, te redeneer nie [Gk. logizomai is dieselfde woord as in v.5 waar hulle soos onvolwasse Christene boekgehou het van die kwaad]. Hulle moet volwasse word (v.11). In 14:20 sê Paulus: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes [teleion] in die verstand.”

Hulle moet, soos Paulus, die dinge van ‘n kind aflê (v.11). Die Grieks vir ‘aflê’ (v.11) is katargeo. Dit is dieselfde woord wat in v.10, 8 gebruik word van kennis en profesie wat ‘tot niet sal gaan’ wanneer die volmaakte of volwasse staat gekom het.

Die ‘ten dele’ gawes soos kennis en profesie gee nie vir ons ‘n helder openbaring nie, maar ‘n vae openbaring soos iemand wat sy gesig in ‘n antieke brons spieël sien (v.12, 9, vgl. Eksodus 38:8). Profesieë wat deur drome en visioene kom is vaag. Maar noudat God direk deur sy Seun in die Skrif gepraat het, sien ons van aangesig tot aangesig soos toe Hy direk met Moses of met die volk van die berg af gepraat het (v.12):

  • “Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE.” (Numeri 12:6-8).
  • “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.” (Eksodus 33:11).
  • “En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie” (Deuteronomium 34:10).
  • “Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek” (Deuteronomium 5:4).
  • “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).

Kennis wat deur drome en visioene kom is vaag en onvolledig. Kennis wat deur ‘n volmaakte Skrif kom is volledig (v.12b). Party dink v.12b beteken dat ons op aarde ten dele ken, maar in die hemel die Here ten volle sal ken net soos Hy ons ten volle ken. Maar die teks sê nie dat ons God ten volle sal ken nie. Buitendien kán ons Hom nooit ten volle ken nie, omdat Hy oneindig is.  Verse 12a en 12b korrespondeer met mekaar, sodat ken en sien in die twee dele van die vers dieselfde is.

A Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel,

B maar eendag van aangesig tot aangesig.

A Nou ken ek ten dele,

B maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Terwyl ons gawes soos kennis en profesie het, sien en ken ons nie volkome nie. Die gawe van nuwe openbaringskennis is ‘ten dele’. As die volmaakte of volwasse staat gekom het, sal ons van aangesig tot aangesig sien en ten volle ken soos ons ten volle geken is.

Volledige kennis kom as ons God se volle openbaring in die Skrif het. Volwasse kennis kom as ons dié Woord gehoorsaam, omdat ons God en ons naaste liefhet (soos wat die konteks van hfst.13 ook aandui): “As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (8:2-3). Deuteronomium 34:10 praat van “Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het”. Noudat ons die volle openbaring van die Skrif het, het ons kennis volwasse geword, en sien ons van aangesig tot aangesig.

Geloof, hoop, en liefde vergaan nie soos die gawes nie (v.13, 8). By Jesus se wederkoms verander geloof in aanskoue en word ons hoop vervul. Die liefde bly egter vir ewig, want God IS liefde (v.13, 1 Johannes 4:8). Geen wonder dat Paulus kan sê: “die grootste hiervan is die liefde” (v.13) nie.

1 Korintiërs 13 se toepassing vir ons is duidelik: jaag die liefde na (14:1). Hoe doen jy dit? God moet eers sy liefde deur die Gees in jou hart uitstort (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22). Jy moet liefde verstaan voordat jy dit vir ander kan gee (1 Johannes 3:16, 4:10-11, 19). As jy dít verstaan en ervaar het, moet jy hard bid en stry vir die vyftien kwaliteite wat Paulus in v.4-7 noem.

Wees geduldig as jy ly (Romeine 12:12) of met mense werk wat depressief is, stadig groei, en gedurig dieselfde sondes doen (1 Tessalonisense 5:14). Wees geduldig met jou huweliksmaat en kinders. Wees vriendelik. Moenie bekend staan as ‘n nors persoon nie. Moenie jaloers wees op ander nie, maar bid dat dit goed sal gaan met hulle huwelike, gesinne, omstandighede en finansies.

Moenie grootpraat nie (Spreuke 27:2), maar wees nederig soos Jesus (Filippense 2:3-8). Praat eerder groot van ander en van Jesus. Moenie opgeblase wees nie. Mense wys soms hoogmoed deur hulle duur klere, die manier wat hulle loop, en hulle neuse wat in die lug is (Jesaja 3:16-23). Moenie dink die wêreld moet voor jou buig nie. Moenie dink almal moet vir jou padgee as jy op die snelweg is, of kits diens gee as jy by die winkel of restaurant instap nie.

Moenie ongeskik wees nie, maar bewys goeie maniere teenoor vroue, ou mense, jou huweliksmaat, ander gelowiges, mense op die pad, kliënte, op die telefoon, en in e-posse. Moenie jou eie belang soek nie, maar doen wat ánder mense wil; soek ánder se voordeel (Filippense 2:4).

Moenie boekhou van die kwaad nie. Moenie mense se lelike smse en e-posse hou nie. Moenie die slegte dinge wat hulle teen jou gedoen het neerskryf nie. Moenie hierdie dinge in jou geheue bêre, sodat jy later weer die ou koeie kan opgrawe nie. Vergewe eerder, praat dinge uit, skryf dit af, moet dit nie ophaal nie. ‘As jy ‘n hond begrawe moet sy stert nie uitsteek nie.’ (Charles Spurgeon).

Moenie bly wees oor die kwaad nie. Moenie soos die media wees wat graag beroemdes se sondes uitblaker nie. Moenie ander se sonde geniet wat hulle in films, programme, en pornografie voor jou oë wil vertoon nie. Wees bly oor die waarheid. Wees bly as die evangelie die heidene bereik of as Christene geestelik groei en reg doen (2 Johannes 4, 3 Johannes 3-4).

Bedek ander se foute en verdra alles. Sien ander se sonde oor en los dit aan die Here om te vergeld. Verdra ook moeilike mense en situasies (2 Timoteus 2:24). Glo mooi dinge van ander mense, totdat die teendeel bewys word. Moenie te maklik mense se motiewe bevraagteken, of agterdogtig en skepties wees as iemand aan jou goed doen nie. Hoop alles. Het jy iemand afgeskryf omdat jy dink hulle sal nooit verander nie? ‘n Predikant het vertel van iemand wie se naam hy van sy gebedslys verwyder het. Die tippex was nog nie droog nie, toe oortuig die Heilige Gees hom om die naam terug te sit. Wat sou gebeur het as God jou afgeskryf het?

Hoe lyk jou liefde? Ek bely dat ek ver kort skiet.

[1] As hierdie preek jou pla is dit goed. Moet egter nie dat die preek jou nóú pla, maar later weer daarvan vergeet nie. Sorg dat jy haastig is om dinge reg te stel (Jakobus 1:22, Psalm 119:60).

[2] As jy trots is op jou eie liefde, is jy opgeblase en gaan dit slegter as wat jy dink (v.4). Bekeer jou en vra dat die Here jou sal help.

[3] Sê jy dat jy regtig lief is vir A of B, maar jy oortree v.4-7 in jou verhouding met hulle? Jy verstaan nie wat liefde is nie. Glo die evangelie, bid en lees oor die kruis, word gevul met die Heilige Gees, en oordink v.4-7.

[4] Weet jy dat jy kortkom in liefde, maar dit pla jou nie? Jou hart is so hard soos klip. Jy oortree die grootste gebod (Lukas 10:27). Bid dat God jou genadig sal wees en jou hart van klip sal smelt (Esegiël 36:26). Sê dankie dat Hy jou nie liefhet soos jy ander liefhet nie (Romeine 5:8). As jy jou nie bekeer nie sal jy hel toe gaan waar daar geen liefde is nie.

Hoekom moet jy liefde najaag? Sonder liefde beteken jou geestelike gawes, jou finansiële bydraes, en jy self niks. Alles op die aarde is tydelik; liefde is ewig.

Die Van Dyk gesin bly in ‘n huis met een kamer. Die ouers werk hard, maar is brandarm. Die kinders het nie speelgoed nie, maar speel met stokke en modder. Elkeen het ‘n stukkende paar skoene en twee stelle ou klere. Hulle eet gereeld droë brood, gekookte patats, en een keer in ses weke sopbene met min vleis aan. Hulle besit nie ‘n kar of ‘n fiets nie, en was nog nooit in hulle lewe met vakansie nie. Maar hulle is baie lief vir mekaar, groet mekaar vriendelik, en deel alles wat hulle kry. Die ouers speel met hulle kinders, bid saam met hulle, leer vir hulle die Bybel, vertel vir hulle stories, lag en huil saam met hulle.

Die Owen gesin is skatryk. Hulle bly in ‘n ryk buurt in ‘n 1300 m² huis. Hulle kinders kry alles wat hulle harte begeer: van vierwiel motorfietse tot hulle eie perde tot ‘n groot skerm TV in elkeen se kamer. Hul eet soos konings en het butlers en bediendes wat vir hulle werk. Die ouers besit ‘n Rolls Royce, super karre, en 4×4’s. Hulle dra die duurste klere en geniet oorsese vakansies.

Maar die ouers is so besig by die werk dat hulle nie hulle kinders sien nie. Selfs as hulle met ‘n oorsese vakansie is, is dit vir besigheid, en gee hulle vir die kinders honderde duisende rande om hulleself besig te hou. Die pa en ma woon in dieselfde huis, maar leef verby mekaar. Die atmosfeer is koud; liefde ontbreek.

Watter een van die twee gesinne sal jy wil wees? Hoekom? Want diep in jou hart weet jy: nie geld of enigiets anders is belangriker as liefde nie.

[1] Die tale van engele in v.1 verwys nie na ‘n charismatiese gebrabble nie. Paulus praat van die tale van mense en engele, asof dit dieselfde taal is. Handelinge 2:5-11 bevestig dat die gawe van tale ander lande se tale is.

[2] 2000 Years of Christ’s Power, vol.2, p.340

Advertisements

’n Prentjie van Jesus

Stencil of Jesus

Ek het gesien hoe man ’n onder vyf minute met dowwe oranje op ‘n groot swart bord verf. Die prent wat hy geverf het was onderstebo. Toe hy die bord omdraai, was dit Jesus se gesig met ‘n doringkroon op sy kop. Hy het nie die detail ingevul nie, maar met breë stroke geverf. Tog kon ‘n mens duidelik sien dit is Jesus. So is dit met die tabernakel in Eksodus 25. Jy kan nie die detail van Jesus se Persoon, lewe, en karakter sien nie, maar jy kan duidelik sien dis Hy.

 

Die tabernakel (v.1-9)

Ons hou jaarliks ‘n dankoffer Sondag waarin ons ‘n spesiale kollekte opneem. Ek onthou hoe opgewonde my kinders laasjaar was. In ons huisgodsdiens het hulle God daarvoor geprys. Hulle kon nie wag om te gee nie. So was die volk in v.1-9: hulle wou baie graag vir die Here se werk gee.

 

Moses was op die berg (24:18) en het daar die instruksies vir die tabernakel gekry (v.1-2, 20:19). Die volk moes vrywillig vir die bou van die tabernakel bydra (v.2, vgl. 1 Kronieke 29). Watse materiale het hulle nodig gehad?

 

[1] Edelmetale vir die kandelaar, tentpenne, basisse, oordekking van meubels, afwerkings op die hoëpriester se kleed: goud, silwer, en brons (v.3).

 

[2] Materiaal vir die priesters se klere, asook die binnekant van die tabernakel: blou, pers, rooi geweefde materiaal, en fyn linne. Die materiaal se kleur is verkry uit skulpvis, ‘n murex slak, en die coccus ilicis wurm se eiers en dop (v.4). Rooi, blou, en pers is koninklike kleure. Fyn linne is ‘n hoë kwaliteit materiaal wat deur Egiptiese adelikes gedra is.

 

[3] Dierevelle vir die tabernakel se buitekant (v.4-5): swart bokhare wat geweef is (dit is water bestand), gebreide ramsvelle wat rooibruin gekleur is, robbe of doegong[1] velle. Die Hebreeuse woord kan moontlik die velle van boerbokke, dolfyne, of ratels impliseer.

 

[4] Hout vir die meubels: akasia (v.5). ‘n Akasia is ‘n platkruin doringboom met digte hout wat nie graag deur insekte geëet word nie. Die hout is rooibruin met ‘n ligtebruin grein.

 

[5] Olies en speserye vir die lamp, wierook altaar, salwing van die priesters en parfuum (v.6). Arabië was bekend vir hul speserye.

 

[6] Edelstene vir die hoëpriester se borsplaat en skouers (v.7): oniksstene vir die skouers (hierdie stene kom in ‘n wye verskeidenheid kleure), twaalf soorte edelstene vir die borsplaat (28:17-20). Die volk het seker die materiale uit Egipte gekry (12:35-36).

 

Gee met gewillige hart. Onthou dat God sy Seun vir jóú gegee het (Johannes 3:16). Reageer dan in liefde en met ‘n dankbare hart (1 Johannes 4:19). Gee eers jouself voordat jy jou geld gee (2 Korintiërs 8:5). Moenie uit dwang gee, of dink jy staan onder die Ou Testament tiende-wet nie (sien my preke onder ‘Tiendes en Offergawes’). Gee volgens die voorspoed wat jy ontvang het (1 Korintiërs 16:2, 2 Korintiërs 9:7). Moenie gee omdat jy skuldig voel nie. Moenie met ‘n toe vuis gee nie, maar met ‘n oop en vrygewige hand (2 Korintiërs 9:6, Romeine 12:8). Hoekom moet jy só gee? Want die Skrif sê God het ‘n blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

Een van my vriende het vir my gesê: ‘Ek haat dit om van my vrou af weg te wees. Ek sou veel eerder saam met my vrou wees as met enige van my vriende. Ek geniet dit vreeslik om in haar teenwoordigheid te wees.’ Net so kan God nie naby genoeg aan sy volk wees nie. Hy kom nader en nader en nader tot in die Nuwe Testament en uiteindelik in die hemel.

 

Die volk moes ‘n heiligdom vir die Here bou, sodat Hy by hulle kon wees: God wou in hulle midde wees en nie in ‘n wolk op berg Horeb nie (v.8, 24:16): “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees… Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel… dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie.” (29:45, Levitikus 16:2, 1 Konings 6:13).

 

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy onder sy mense kom woon. Die Grieks van Johannes 1:14 sê letterlik dat Hy onder ons kom ‘tabernakel’ het. 2 Korintiërs 6:16 gaan selfs verder: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Uiteindelik sal God vir ewig in ons midde wees in die hemel: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3).

 

Vra vir die Here om naby jou te wees. Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Jy bely jou sonde en bekeer jou daarvan: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8).
  • Bid gereeld, want die Here is naby aan almal wat Hom aanroep in waarheid (Psalm 145:18, Deuteronomium 4:7).
  • Bid Efesiërs 3:16-17 dat God jou deur sy Gees versterk, sodat Christus in jou hart kan woon.
  • God gebruik beproewing om jou nader aan Hom te bring (Psalm 34:19). Moet dan nie teen Hom veg en so gou moontlik die beproewing agter die rug wil kry nie: “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Psalm 32:9).
  • Wees nederig, want God woon naby sulkes (Jesaja 57:15).

 

Hoekom moet jy vir die Here vra om naby jou te wees? Want dit is naby Hóm wat jy die grootste vrede en vreugde vind.

 

Vandag is daar ‘n beweging waarin Christene vir ongelowiges vra wat hulle in ‘n kerk soek, en die kerk daarvolgens inrig, sodat mense gemaklik kan voel. God wil hê ons moet Hom aanbid soos wat Hy sê, en nie soos wat mense wil hê nie. Die volk moes die tabernakel en sy meubels presies maak volgens die model wat God vir Moses gewys het (26:30, 27:8, 36:1, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 42, 40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32). Hierdie model was maar ‘n skadubeeld van die ware tabernakel in die hemel (Hebreërs 9:23-24, 5, 8:2, 5).

 

Moses moes die Argitek se tekenplan volg, en nie sê: ‘Laat ons die tabernakel bou volgens die plan, maar ons kan ook enige ekstras aanlas wat God nie eksplisiet verbied het nie.’ Net so moet ons die Here aanbid volgens sý presiese voorskrifte in die Bybel, en nie volgens alles wat Hy nie eksplisiet in die Skrif verbied het nie (v.9). In teologie sê ons: ‘Ons aanbid die Here volgens die regulatiewe beginsel en nie volgens die normatiewe beginsel nie.’

 

Prakties beteken dit ons lees, preek, sing, bid, en sien die Bybel in elke erediens (1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2, Kolossense 3:16, Matteus 6:9-13, Handelinge 4:24-26, Romeine 6:3-4, 1 Korintiërs 11:23-26). Hoekom moet ons die regulatiewe beginsel volg? Want as ons dit nié doen nie, oortree ons die tweede gebod (20:4-6), en aanbid ons die ware God op ‘n valse manier.

 

Die ark (v.10-22)

‘n Man het eendag gehoor dat my vrou koeke bak en in ‘n grap gesê dat sy ‘n koek moet bak, en ‘n klein ark met gerubs op bo-op die koek moet sit. Sy gewete het hom onmiddellik getref, sodat hy gesê het: ‘My hart is so pervers dat ek lag oor iets wat heilig was in die Ou Testament.’ Hy was reg.

 

Van al die meubels in die tabernakel word die ark eerste genoem, omdat dit die troon van God was (2 Samuel 6:2). Dit was ‘n boks wat van akasia hout gemaak is: 112,5 x 67,5 x 67,5 cm hoog (‘n el was 45 cm). Dit was binne en buite met suiwer goud oordek. Daar was ‘n goue rand om die kant. Dit wys vir ons dat God nie net funksioneel is nie: Hy hou van kunstige en pragtige werk – soos in die skepping – wat sy skoonheid en heerlikheid weerspieël (vgl. 28:2).

 

Daar moes vier goue ringe aan die vier voete wees (hier is die skets verkeerd). Die akasia pale moes met goud oordek word en deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete die ark op hulle skouers kon dra – hulle mag nie aan die ark geraak het nie (1 Konings 8:8, 1 Kronieke 13:7-10, 15:13-15). Moses het die klip tafels met die Tien Gebooie van die Getuienis binne-in die ark gesit (Hebreërs 9:4).

 

Bo-op die ark moes ‘n versoendeksel van soliede goud gemaak word (112,5 x 67,5 cm). Op die Dag van Versoening het die hoëpriester dié deksel sewe keer met bloed gesprinkel (Levitikus 16:16). Die versoendeksel staan dus tussen die volk en God se gebreekte wet. In die Nuwe Testament sprinkel Jesus sy bloed as versoening tussen ons en God se gebreekte wet (1 Johannes 2:1-2).

 

Aan die kant van die deksel was daar twee gerubs wat met hulle vlerke aan mekaar geraak het (Hebreërs 9:5). Hierdie is in Jesus vervul, toe daar twee engele aan beide kante van sy graf gestaan het (Johannes 20:12). ‘n Gerub is ‘n hemelwese wat lyk soos ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bees, en ‘n arend (Esegiël 1, 10, Openbaring 4). Die gerubs het God aanbid en ook sy troon teen die mens se besmette hande bewaak (Genesis 3:24, Openbaring 4:6b). Hulle vlerke was gesprei, sodat God dit as sy troon kon gebruik (1 Samuel 4:4). Hulle gesigte was na onder gedraai, omdat hulle God in sy heerlikheid nie kon aanskou nie (Jesaja 6:2). God het Moses hiér ontmoet en met hom gepraat (v.22, Numeri 7:89, Psalm 99).

Ark of Covenant

Kom in God se troonkamer in. Kom in deur die bloed van Jesus, ons versoendeksel, en deur die geskeurde voorhangsel (Hebreërs 10:19-22). Kom in gebed (Hebreërs 4:16). Kom met ‘n rein hart (Hebreërs 10:22). Kom met vrees en eerbied (Hebreërs 12:28-29). Kom met vrymoedigheid en geloof dat God jou nie sal doodmaak nie, maar sal aanvaar deur Jesus (Hebreërs 4:16, 10:22). Kom in en sien die heerlikheid van Iemand wat groter is as Salomo. As jy Hom, sy troon, sy troonkamer, sy diensknegte, sy rykdom sien, sal jou asem weggeslaan wees (1 Konings 10:4-7).

 

Die tafel (v.23-30)

As boemelaars aan my deur klop vra hulle dikwels só vir kos: ‘Ek vra net ‘n stukkie brood.’ As iemand baie arm is, sê hy: ‘Ek kan nie eers brood op my tafel sit nie.’ Brood is ‘n metafoor vir jou basiese lewensbehoeftes. Dis die punt van die tafel met toonbrode: God voorsien vir sy volk.

 

Die tafel was van akasia hout gemaak: 90 x 45 x 67,5 cm hoog. Dit is oordek met suiwer goud, het ‘n goue rand gehad, en kante soos ‘n snoekertafel wat 7.5 cm bo die blad moes uitsteek. Daar was ‘n rand van fyngoud om hierdie lys. Daar was ook goue ringe net onder die blad op die tafel se vier bene. Pale van akasia hout wat met goud oordek is moes deur die ringe gaan, sodat die Leviete dit op hulle skouers kon dra.

 

Daar moes ook goue borde, rookpanne vir die wierook, kanne en bekers vir die drankoffers wees. Daar was ‘n blou tafeldoek oor die tafel (Numeri 4:7). Die instrumente en brode moes op die tafel wees. Elke Sabbat moes daar 12 vars brode (in twee hope van ses) met wierook bo-op op die tafel wees. Die priesters kon hiervan eet (Levitikus 24:5-9, Hebreërs 9:2). Die heidene het brood in hulle tempels gesit om die gode te voer. Dit is nie die geval hier nie. Die brode wys eerder dat God sy volk versorg. Jesus self is die Brood uit die hemel, die Brood van die Lewe wat ons voed (Johannes 6:32-35).

Table for Bread

Sien ‘n prentjie van Jesus in die tafel. Eet hierdie geestelike Brood deur geloof (Johannes 6:32-35). Eet Brood deur gemeenskap met Jesus te hê (Openbaring 3:20). Eet Brood deur die nagmaal te herdenk (1 Korintiërs 11:23-26). Eet Brood in die Koninkryk van God (Psalm 23:5, Lukas 14:15). Eet Brood in die Woord van God (Job 23:12, ESV). Moet ook nie vergeet om vir jou daaglikse brood te bid en die Here daarvoor te dank nie (Matteus 6:11, 1 Timoteus 4:4-5). Sonder brood in jou maag sal jy sterf, en sonder Jesus, die Brood van die Lewe, sal jy geestelike sterf.

 

Die kandelaar (v.31-40)

Na ‘n paar weke van reën in Johannesburg het ‘n radio omroeper gesê: ‘Sjoe, dis lekker om weer die son te sien.’ Kan jy dink hoe voel mense in Skandinawië, Siberië, en Alaska waar daar by tye in die jaar net 4 ure sonskyn per dag is? Hoe verlig voel hulle nie as die son na ‘n donker winter weer vir lang ure in die somer skyn? Almal geniet lig. Dink maar aan hoe lekker dit is om in Kaapstad die son na 20:00 te sien. Die lig in die tabernakel moes hierdie idee skep.

 

Die kandelaar is van een stuk suiwer goud gemaak (Hebreërs 9:2). Dit het bestaan uit ‘n voetstuk, ‘n stam, takke, kelke, knoppe, en blomme. Die takke het uit die middelste stam geloop: drie takke aan elke kant. Daar was ‘n kelk, ‘n knop, en ‘n blom (soos amandel bloeisels) op elke tak. Op die middelste stam was daar vier kelke, knoppe, en blomme wat mooi tussen die voetstuk en die bo-punt versprei was. Daar was ook nóg kelke, knoppe en blomme op die ander takke waar hulle by die stam uitloop.

 

Daar was sewe klein lampies op die sewe koppe. Die lampe was na vore gedraai, sodat die lig op die tafel kon skyn (onthou, daar was nie vensters nie). Daar was ook goue snuiters om die lamppit te ‘trim’, en sewe goue bakke (was dit dalk om die olie in te meng?). Alles saam is uit 34 kg (1 talent) suiwer goud gemaak. Die kandelaar het gewys dat Israel die lig vir die nasies is (Jesaja 60:3), en is vervul in Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Johannes 1:6-9, 8:12).

 

Moses moes alles maak soos God vir hom gewys het (v.40).

Golden lampstand

Leef in en as die lig van die Nuwe Testament. Hoe doen jy dit? Los die donker van jou sonde en kom na die lig toe (Johannes 3:19-21). Hou op om dinge in die geheim te doen. Bely jou sonde, want God hou nie gemeenskap met die donker van sonde nie (1 Johannes 1:5-7). Deel die evangelie met ander en vat só die lig na hulle toe (Handelinge 13:47). As gemeente moet ons die lig van die evangelie in die wêreld skyn (Openbaring 1:20). Anders beteken ons niks en sal Jesus ons lig uitdoof (Openbaring 2:4-5). Leef heilig en skyn Jesus se lig voor die wêreld (Matteus 5:16). Streef na die ewige Lig van die hemel: God self (Openbaring 21:22-25). Wat is die alternatief? Die ewige duisternis van die hel (Matteus 25:30).

 

As ‘n sekere spreker by ‘n nuwe plek praat, wys hy ‘n foto van ‘n vrou op die skerm en sê: ‘Dit is nie my vrou nie; dis net ‘n prentjie van haar.’ So is dit met die tabernakel: dis nie Jesus nie, maar net ‘n prentjie van Hom. In die Nuwe Testament skyn daar ‘n voller lig, en sien ons Jesus self. As Hy weer kom sal ons Hom met ons oë sien en vir ewig by Hom wees. Dan sal ons nie net van die tabernakel vergeet nie, maar selfs van ‘n lewe van geloof op aarde, want in die hemel sal geloof aanskoue word.

[1] ‘n Doegong is middelmatige grootte seedier met ‘n stert soos ‘n dolfyn, twee syfinne soos ‘n rob, geen vin op sy rug nie, ‘n lyf en kop soos ‘n walrus (dit het nie lang tande soos ‘n walrus nie), ‘n snoet soos ‘n Bullmastiff of ‘n Shar Pei (die hond met die baie los velle). Hierdie diere kom onder andere voor in die Rooisee.

Hoe gesond is Jesus se liggaam?

Da Vinci human body

Ons samelewing is behelp met die mens se liggaam. Mense sal enigiets doen om mooi te lyk: ‘n sekere dieët volg, draf, gym, duur klere koop, hulle naels laat doen, R800 betaal vir ‘n haarsny, sonbed.

 

Hoeveel te meer moet ons nie aandag gee aan Jesus se liggaam nie? Laat ons alles in ons vermoeë doen, sodat die wêreld sy skone beeld kan sien. Ons wil tog nie ‘n siek liggaam wees dat Hy Hom vir ons moet skaam nie? Paulus wys in 1 Korintiërs 12:12-31 hoe ons ‘n gesonde liggaam kan wees.

 

Eenheid en inlywing (v.12-13)

Die menslike liggaam het baie lede: arms, hande, voete, bene, tone, vingers, ‘n skelet, ingewande, ‘n vel, ‘n hart, longe, senuwees, bloed, oë, ‘n neus, ore, ‘n mond, ‘n tong, ‘n nek en baie meer. Tog werk al die lede saam as een liggaam (v.12).

 

So is dit met Christus en sy liggaam (v.12): ons is almal verskillend, maar tog is ons een. Jesus het ons almal in dieselfde Gees en liggaam in gedoop; Hy het vir ons almal dieselfde Gees gegee om ons geestelike dors te les (v.13, Matteus 3:11, Handelinge 1:5, Johannes 7:37-39). Al verskil ons op ‘n sosiale of etniese vlak – innerlik is ons een: “of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne” (v.13). “waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.” (Kolossense 3:11).

 

Bewaar die eenheid wat die Gees daarstel (Efesiërs 4:3). Deur die evangelie deel ons in een Vader, Here, Gees, geloof, doop, liggaam, en hoop (Efesiërs 4:4-6). Bekeer jou, glo die evangelie van Jesus se kruisdood vir sondaars en opstanding uit die dood, beeld die innerlike doping met die Gees uit in die uiterlike doop met water, word lidmaat van ‘n goeie Bybelse kerk (Handelinge 10:47, 11:16, 2:41).

 

Moenie soos die charismate en tweede genadewerk predikers sê dat net party gelowiges met die Gees gedoop is nie. As dit waar is dan het net party gelowiges deel aan die liggaam, het net party gelowiges ‘n geestelike gawe, mag net party gelowiges met water gedoop word (v.13).

 

Hoekom moet ons die eenheid bewaar? Het jy opgelet dat Christus sinoniem is vir die kerk (v.12)? Paulus se punt is dat die kerk Jesus se liggaam (hande, oë, hart, ens.) is op aarde. Die wêreld kyk na ons om vir Jesus te sien. Daarom moet ons seker maak dat ons Hom akkuraat weerspieël. ‘n Kerk wat verdeeld is sê indirek dat Jesus siek en gebreklik is (Johannes 17:21, 23, 13:34-35).

 

Betrokkenheid en samewerking (v.14-26)

Het jy al jou duim verstuit of middeloor ontsteking gehad? Jy besef nie hoe nodig jy jou binne-oor of duim het, totdat jy die gebruik daarvan verloor nie. Net so is elkeen se bydrae en gawe nodig as ons effektief en gesond wil wees.

 

Die liggaam bestaan uit baie lede (v.14). Dus moes die Korintiërs nie een gawe (tale) bo die res verhef het nie. Elkeen se gawe en betrokkenheid is nodig. Die voet kan nie sê: ‘Ek is nie die bruikbare hand nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.15). Die oor kan nie sê: ‘Ek is nie so belangrik soos die mooi en ingewikkelde oog nie, en daarom is ek nie deel van die liggaam nie.’ (v.16).

 

Dit is eenvoudig onwaar. Die voet en oor het hulle eie belangrike funksies. Hoe sal jy loop as jou voet ‘n hand was? Jy sal jou naels skeur, jou duime breek, en jou kneukels sal bloei. Wat as jou oor ‘n oog was? Jy kan tog nie mooi musiek, die wind, ‘n voëltjie se gesing, of jou geliefdes se woorde sien nie (v.17)? As die hele liggaam ‘n oor was, het jy nie ‘n neus gehad nie. Kan jy braaivleis, gebraaide uie, malva poeding, rose, lentebloeisels, ‘n nat aarde ná die reën, gesnyde gras, nuwe leer sitplekke, die see en parfuum met jou ore ruik (v.17)?

 

God is wyser as dit. Hy het die liggaam noukeurig saamgestel. Hy besluit die hoe, waar, en wat met betrekking tot elkeen se funksie (v.18). Niemand is onnodig of uit plek uit nie. As almal dieselfde was sou daar nie ‘n liggaam gewees het nie (v.19). Wat beteken ‘n groot nr.24 voet buitendien op sy eie (v.19)? Die liggaam het baie verskillende lede, maar is een (v.20). ‘n Hand wat eenkant op ‘n operasietafel lê is nie jy nie; tog is elke lid saam die liggaam (v.20).

 

Die oog en die kop kan nie van bo af op die hande en voete neerkyk en sê: ‘Ek het jou nie nodig nie.’ (v.21). Dit is nie net arrogant nie; dis ‘n leuen. Die oog kan ‘n mooi blom sien, maar kan dit nie pluk nie. Die kop kan dink aan ‘n beursie vol geld wat in die kamer lê, maar kan nie loop om dit te kry nie.

 

Ons benodig die pankreas, gewrigte, lippe, en ander lede wat swak en onnodig lyk (v.22). ‘n Professionele sanger is niks sonder die klank operateur, beligting span, organiseerder, administratiewe persoon nie. Die prominente gawes beteken niks sonder die gawes van dié wat agter die skerms werk nie (die man wat preek beteken niks sonder die getroue ou tannies wat bid nie).

 

Die ledemate wat oneerbaar lyk pas ons mooier op (v.23). Die liggaam vou dubbel en keer met die hande as iemand die onaantreklike hart, longe, of maag met ‘n mes wil steek (v.23). Ons doen moeite met ons ledemate wat nie so mooi vertoon nie (v.23): jy hou jou toonhare kort, skuur jou hakke, knip jou toonnaels en verf dit rooi, was jou ore, sit silwer oorbelle in dat mense vir jou oorbelle kyk en nie jou ore bestudeer nie.

 

Ons mooier ledemate kort nie soveel aandag nie. Jy gee vir jou voete ‘n pedicure, maar mors nie ure om die iris van jou oog (die gekleurde deel) mooi te maak nie (v.24). God het die liggaam so saamgestel dat ons nie vergeet van die mense wat agter die skerms werk nie. Ons hou baie van helder rooi, geel, blou, groen, en pienk. Maar as jy skilder gebruik jy bruin, grys, swart, en wit meer as die helder kleure (v.24). Ons het die mense wat agter die skerms werk nodig. Laat ons dan ons tyd aan hulle wy, net soos wat jy meer tyd aan die kar se lelike enjin wy as aan die aantreklike bakwerk (v.25).

 

As jou tand pyn lê die hele liggaam wakker; as ‘n lidmaat skei of ‘n kind aan die dood afstaan, voel almal die pyn (v.26a). As kanker suksesvol uit die liggaam gesny word, voel die hele liggaam beter; as ‘n lidmaat na tien maande werk kry of as iemand swanger is, is almal bly (v.26b).

 

Wees betrokke en werk saam. Moet jouself nie aan ander meet, jouself bejammer, en dink jy is onnodig omdat jy nie iemand anders se gawe het nie (v.14-20). Moet ook nie hoogmoedig wees en dink jy benodig nie ander se hulp en gawes nie. Moenie dink jy kan alleen die werk doen nie (v.21-26).

 

Mense bedank te maklik uit kerke uit. Hulle skuif te maklik na ‘n ander kerk toe. God het jou baie spesifiek en met ‘n doel geplaas waar jy is (v.18). As jy skuif verloor ons ‘n oog en kry ‘n ander kerk ‘n derde oog. Die liggaam het nie drie oë nodig nie. Moet ook nie te maklik van die kerk af wegbly en by die huis sit nie. As jy alleen is, is jy nutteloos (v.19).

 

Ons het almal nodig – ook die mense wat agter die skerms die rekenaar se knoppies druk, die liede in Power Point tik, ou mense oplaai vir kerk, die geld tel, die nagmaaltafel dek (v.22). ‘n Kerk is oneffektief en nutteloos as mense verwag dat die dominee of leiers alleen vir die skape moet sorg en omgee, alleen die siekes moet besoek en mense moet beraad (v.19). Almal moet mekaar dien en vir mekaar sorg (v.25). Onbetrokke ledemate word baie gou ‘n siek liggaam.

 

Gawes en liefde (v.27-31)

In die afgelope maand het ek drie keer gehoor dat mense wat van die kerk afvallig word, so iets sê: ‘Ek is sonder die kerk, maar ek hou nog my stiltetyd en is nie sonder die Here nie.’ Die liggaam en die Hoof is een. Hoe kan jy sonder die liggaam wees en nie ook sonder die Hoof nie? Aanbid jy ‘n Jesus wat nie ‘n liggaam het nie? Iemand wat van die kerk afvallig is, is afvallig van Jesus (v.27, Kolossense 1:18). Jy het nie ‘n private verhouding met Jesus nie, maar ‘n korporatiewe verhouding (v.27, 13).

 

Om die eenheid te bou het God gawes vir die liggaam gegee (v.28):

 

[1] Bo aan die lys is apostels. ‘n Apostel is ‘n ambassadeur en gestuurde van Jesus. ‘n Apostel is deur Jesus gekies, vir drie jaar deur Hom geleer, en is ‘n ooggetuie van sy liggaamlike opstanding (Handelinge 1:21-22, 24, Romeine 1:1, 1 Korintiërs 9:1, Galasiërs 1:11-12, 18).

 

[2] Tweede belangrikste is profete (v.10).[1] Saam met die apostels is hulle die fondasie van die kerk (Efesiërs 2:20).

 

[3] Derde belangrikste is leraars. Dit verwys na mense wat die Skrifte kan uitlê en toepas. Ouderlinge moet lering kan gee (1 Timoteus 3:2, 5;17, Titus 1:9), maar ander mense kan ook die gawe hê om te preek, of ‘n Sondagskool- of Bybelklas aan te bied. ‘n Vrou wat die gawe het mag individue, vroue of kinders leer, maar mag nie in die gemeente preek nie (1 Timoteus 2:11-12).

 

[4] Kragtige werke en gawes van genesings (v.9-10).

 

[5] Helpers. ‘n Helper is wat die appy vir die ambagsman is, die ontvangsdame of sekretaresse vir die dokter is, die diaken vir die ouderling is (Handelinge 6).

 

[6] Regeringe. Die Griekse woord verwys na iemand wat ‘n skip stuur (sien Handelinge 27:11, Openbaring 18:17). Ouderlinge moet die skip van die kerk stuur; hulle moet reg oor die kerk regeer (1 Timoteus 3:5, 5:17, Hebreërs 13:17).

 

[7] Tale (v.10).

 

Paulus noem nóg gawes in Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11:

 

[8] Diensbaarheid. Die Griekse woord is diakonia. Matteus 25:44 praat onder andere van diakoneo (die werkwoord vorm van diakonia) as besoeke aan siekes, gasvryheid, en die versorging van armes.

 

[9] Vermaning. Die Griekse woord is parakaleo. Johannes 14:16 praat van die Heilige Gees as die parakletos. Dit beteken letterlik om langs iemand te staan om hom reg te help, te bemoedig, aan te spoor, te vertroos.

 

[10] Uitdeel. Hierdie persoon is iemand wat graag en met groot vrygewigheid sy geld en besittings uitdeel (Efesiërs 4:28).

 

[11] Leierskap. Dit verwys onder andere na ouderlinge, maar nie nét na hulle nie. Hierdie mense is dié wat goed kan organiseer en delegeer.

 

[12] Barmhartigheid. Saam met die diensbare mens gee die barmhartige mens om vir siekes, weeskinders, weduwees, armes, ou mense, en ander wat swaar trek.

 

[13] Evangelis. Almal moet die evangelie deel (Matteus 28:19), maar hierdie persoon vind die hoogste plesier en sukses in hierdie taak.

 

[14] Herder-leraar. Vandag ken ons dit as dominees. Hulle taak is nie om die kerk te verf en die geld te bank nie, maar om God se skape met die Woord te voed en te versorg (1 Petrus 5:2-3, Handelinge 20:28, Jeremia 3:15, Johannes 21:15-17).

 

Almal het nie dieselfde of elke gawe nie (v.29-30), en daarom het ons mekaar nodig. Die Korintiërs het die ‘beter’ gawes begeer (v.31).[2] In die konteks van die hoofstuk sê Paulus hulle moenie die ‘beter’ gawes soek nie, maar eerder die liefde najaag (v.31, hfst.13).

 

Gebruik jou gawe om die liggaam op te bou. Heel eerste moet jy weet wat jou gawe of vaardigheid is. Wat doen jy goed? Wat doen jy wat ander help? Wat geniet jy?

 

  • Lering? Ken jy die Skrif goed en glo jy die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis? Ons het iemand nodig om Sondagskool te gee vir kleintjies. Dalk kan jy iemand dissipeleer?
  • Helper? Wil jy dalk die bulletin doen, die nagmaaltafel dek, kelkies ná ‘n nagmaal diens opneem, die offergawe opneem, tafels uitpak en wegpak ná tee, aanbied om die liede in Power Point te tik, ‘n webtuiste vir die kerk ontwerp, ‘n instrument speel, in die koor sing, die saal mooi maak of kook vir gemeente etes, eetgoed maak vir begrafnisse, die kerk se tuin mooi maak, kyk dat daar toiletpapier in die badkamers is, herstelwerk doen as ons ‘n werksdag het, aanbied om mense se kinders te baby sit, blomme in die kerk sit, tee skink na die diens?
  • Regeerder? Kan jy goed organiseer?
  • Leier? Wil jy graag ‘n ouderling wees (1 Timoteus 3:1)? Kwalifiseer jy moreel (1 Timoteus 3:2-7)?
  • Diensbaarheid, barmhartigheid? Sal jy die siekes besoek, jou huis oopstel vir ‘n Bybelstudie, ou mense vervoer, en help met armsorg?
  • Vermaning, bemoediging? 1 Tessalonisense 5:14 som jou taak op: “En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.” Werk met mense wat depressief is, in sonde val, nie meer kerk toe kom nie.
  • Uitdeel? Wil jy geld gee vir die armes of sendelinge?
  • Evangelis? Hou kontak met sendelinge. Kom evangeliseer saam op Vrydae om 14:00. Nooi mense kerk toe. Berei voor uit Operation World dat ons op Sondae vir verskillende wêreldlande kan bid.
  • Herder-leraar? Is jy dalk geroep vir die evangelie-bediening?
  • Geloof? Skakel in by ‘n gebedsgroep (Sondae en Woensdae). Begin ‘n sms-gebedsketting.
  • Kennis? Skryf goeie Christelike literatuur, deel goeie Christelike boeke uit, begin ‘n boektafel.
  • Wysheid? Praat met wysheid in gemeentevergaderings.
  • Onderskeiding van geeste? Waarsku mense teen vals lering.

 

Hoekom moet jy jou gawe gebruik? As jy dit doen sal jy beloon word (3:14). As jy dit nié doen nie, sal jy jou beloning verloor (3:15).

 

‘n Tannie in my ouma se Tehuis het 100 geword. Haar brein het niks makeer nie, maar haar liggaam het ingegee. God wil nie hê die kerk moet so wees nie: die Hoof (Jesus) makeer niks nie, maar die liggaam is siek en verdeeld; die ledemate werk nie meer nie en moet geamputeer word.

 

My vriend Jannie Vosloo het een jaar by ‘n Paaskamp gepreek oor die liggaam wat die Hoof akkuraat moet weerspieël en by Hom moet pas. Ons sal dit net regkry as elke lid dien en betrokke is.

[1] Sien my preek oor 1 Korintiërs 12:1-11 (Verwarring oor die gawes) vir ‘n verduideliking van die gawes van profesie, tale, uitleg van tale, genesing, kragtige werke, geloof, onderskeiding van geeste, ‘n woord van kennis, en ‘n woord van wysheid.

[2] In die Grieks kan hierdie vers as ‘n opdrag of ‘n stelling gelees word.

Jesus, Moses en die heerlikheid van God

Fire in clouds

God se heerlikheid in die Ou Testament was soos die winterson na 16:00: dit het stadig maar seker verflou totdat dit verdwyn het. God se heerlikheid in die Nuwe Testament is soos die somerson na 08:00: dit word al hoe helderder totdat dit vol skyn. Dink daaraan as jy God se heerlikheid in Eksodus 24 sien.

 

God se uitnodiging (v.1-2)

Suid-Afrika is ‘n demokrasie waar die meerderheid se stem tel. Vir millenia het mense onder ‘n outokrasie geleef: die koning se stem is al wat getel het – die volk het nie ‘n sê gehad nie. Uit hulle konteks het die ou mense God se soewereiniteit beter as ons verstaan.

 

Ons skop daarteen en sê: ‘God kan nie kies sonder dat ek besluit nie.’ Húlle het gesê: ‘As God wil kan Hy kies dat Moses mag naderkom. As Hy wil kan Hy naas Moses kies om vir Aäron, sy seuns, en die ouderlinge nader te bring. As Hy wil kan Hy besluit dat die res van die volk nie nader mag kom nie. As Hy wil kan Hy twaalf dissipels uitsoek. As Hy wil kan Hy uit die twaalf drie kies om naby Hom te wees.’ (v.1-2, Markus 3:13, 5:37, 9:2, 14:33).

 

In 20:21-24:2 was Moses op die berg (v.3). God het gesê dat Aäron, Nadab, Abihu (hulle sou priesters wees), en die 70 ouderlinge halfpad teen die berg op moes kom om Hom te aanbid (v.1, 18:21-22, Numeri 11:16-17). Moses was die volk se leier en middellaar en moes tot bo kom (v.2, 33:11, Numeri 12:6-8). Die volk mag glad nie naby die berg gekom het nie (v.2, 19:12).

 

In hfst.24 het Moses sewe keer op en nader na God toe gekom. Die leiers het God op die berg aanbid, voordat die volk Hom in die tabernakel aanbid het. Hulle moes die voorbeeld stel.

 

Maak jou ore oop vir God se uitnodiging. Die uitnodiging is nie net vir die geestelike leiers soos in die Ou Testament nie. Moenie soos die Katolieke dink dat die dominee ‘n beter kans het om verhoor te word nie. Deur Jesus se dood aan die kruis is die uitnodiging oop vir almal. In die Ou Testament het die Here gesê: “Ek sal hom laat aankom, en hy sal nader kom na My toe. Want wie is hy tog wat sy lewe daaraan waag om nader te kom na My toe? spreek die HERE.” (Jeremia 30:21).

 

In die Nuwe Testament is dinge anders:

 

“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.” (Efesiërs 2:13).

 

“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hebreërs 4:16).

 

“Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.”(Hebreërs 10:19-22).

 

Bekeer jou en kom nader. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8). “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.” (Psalm 24:3-4).

 

In Christus het God na ons toe neergedaal, sodat ons kan opklim na Hom toe. Ons is baie geseënd. “Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe.” (Psalm 65:5). “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” (Matteus 22:14). Jy kan net naderkom as God jou na Hom toe trek (Johannes 6:44).

 

God se verbond (v.3-8)

In my laerskool dae het ons ‘n belofte bevestig deur te sê: ‘Ek sit my hand op die Bybel… Op my erewoord… Cross my heart and hope to die.’ Ander mense het hande geskud en iemand moes deurkap. By die Sandrivier Konfensie het hulle hulle name op papier geteken. In die antieke tyd het konings en hulle onderdane ‘n soesereiniteitsverbond gesluit. Dit is wat ons in Eksodus 20-24 sien:

 

[1] Die Koning sê eerste sy Naam en sy titel (20:2).

 

[2] Die Koning sê dan wat Hy vir sy onderdane gedoen het, sodat sy onderdane weet dat hulle lojaliteit aan Hom verskuldig is (20:2-3).

 

[3] Die Koning lees en spel in detail sekere vereistes aan sy onderdane uit (20:3-17, 22-23:19).

 

[4] Die onderdane kry ‘n kopie van die vereistes, sodat hulle dit gereeld kan lees en hulle verantwoordelikheid kan hersien (v.4, 7).

 

[5] Seën word uitgespreek as die onderdane Hom sal gehoorsaam; vloeke word uitgespreek vir dié wat rebels wil wees (20:5b-6, 7b, 12b).

 

[6] Die Koning en onderdane kry elkeen ‘n kopie van die verbond (v.12, 32:15-16). John Currid sê oor die twee kliptafels: ‘It is now clear that the two tablets did not have different laws written upon each of them, as was previously thought. As Kline comments, “The two tables were duplicate copies of the covenant. And the correctness of this interpretation is decisevly confirmed by the fact that it was normal procedure in establishing suzerainty covenants to prepare duplicate copies of the treaty text.’”[1]

 

[7] Die twee partye het diere in twee gesny. Hulle het dan saam deur die helftes gestap en gesê: ‘Mag ek so in twee gesny word as ek die verbond verbreek (sien Genesis 15, Jeremia 34).[2]

 

Moses het na die volk toe gegaan en God se wet soos in 20:1-23:33 voorgehou (v.3, 20:19). Die volk het met een stem en vasberade op God se Woord gereageer (v.3, 19:8, vgl. Jakobus 1:22). Moses het dit in ‘n boek geskryf sodat hulle dit makliker kon hersien en onthou (v.4).

 

Hy het vroeg opgestaan (soos wat ons doen om stiltetyd te hou) om ‘n altaar en twaalf pilare te bou (v.4). In die verbond het die altaar God verteenwoordig. Die pilare was ‘n gedenkteken wat die volk verteenwoordig het (kontr. 23:24, vgl. Genesis 28:18, 31:45).

 

Daar was nog nie amptelik priesters nie. Die jong manne was sterk en fiks, en moes beeste as brandoffers en vredeoffers vir die Here slag (v.5). Hulle moes offers bring voordat die leiers voor God kon kom (die leiers het die hele volk verteenwoordig). Die helfte van die bloed moes hulle teen die altaar gooi om dit te heilig. Die diere het namens die leiers gesterf (v.6, vgl. Hebreërs 10:1-4).

 

Moses het die boek wat hy in v.4 geskryf het, voor die hele volk gelees (v.7). Sy stem sou teen die berg eggo, sodat almal hom kon hoor. Die volk het belowe dat hulle God se wet sou nakom (v.7). Moses het die ander helfte van die bloed op die volk gesprinkel en so die verbond verseël (v.8). Die bloed was simbolies om te sê dat húlle bloed sou vloei indien hulle nie die verbond gehou het nie. Die volk moes deur die verbond God s’n wees (hfst.24), voordat hulle Hom in die tabernakel kon aanbid (hfst.25 e.v.).

 

Lewe in die lig van die Nuwe Verbond. Voordat jy dit kan doen moet jy eers die verskil tussen die Ou- en Nuwe Verbond verstaan.

 

[1] Die Ou Verbond

God het belowe om Israel se God te wees en hulle sy volk. Hy het belowe om aan hulle die Land te gee. Hulle moes sy wet hou (v.3, 7, 12, 20:1-23:19). Die verbond is met bloed geseël (v.5-7). Indien die volk die wet en verbond gebreek het, sou hulle sterf.

 

[2] Die Nuwe Verbond

God belowe om ons (die kerk) God te wees en ons sy volk (Hebreërs 8:10). Hy belowe aan ons die ewige lewe (Titus 1:2). Jesus het namens ons die wet perfek onderhou (2 Korintiërs 5:21). Die Gees het God se wet op ons harte geskryf en lei ons om dit te gehoorsaam (Hebreërs 8:10, Romeine 8:4). Hy het die verbond met sy eie bloed verseël; Hy het gesterf omdat ons die wet en verbond gebreek het; deur sy bloed vat Hy ons sonde weg (Hebreërs 9:15-26, 13:20, 1 Petrus 1:2).

 

  • Godsdienstige persoon: God het nie die wet gegee dat jy daardeur gered kan word nie (Galasiërs 3:10, Romeine 3:28). Jesus red ons deur sy perfekte lewe, kruisdood en opstanding.
  • Misleide persoon: moenie dink dat God en die hemel joune is as jy geen begeerte het en nie in staat is om die wet te onderhou nie. Die wet red ons wel nie, maar as jy die wet wil en kan onderhou, is dit ‘n bewys van ware redding.
  • Twyfelaar: Jesus het die verbond met sy bloed verseël. Net as God sy belofte kan breek en sy Seun se kruisdood verwerp, kan jy jou erfenis in die hemel verloor. Jou hoop op die oordeelsdag lê nie in hoe goed jy was nie, maar op God se vaste verbond:

His oath, his covenant, his blood

supports me in the whelming flood.

When all around my soul gives way,

He then is all my hope and stay.

On Christ the Solid Rock I stand,

All other ground is sinking sand.

 

  • Gelowige: prys Hom in die nagmaal vir sy vaste verbond (Matteus 26:28). Moenie maklik die nagmaal mis soos wat baie mense doen nie.

 

God se heerlikheid (v.9-18)

In 2007 het ek Taiwan toe gevlieg. Toe ons oor Thailand vlieg, het die son bo die wolke opgekom. Dit was asemrowend. Oppad na ‘n konferensie toe het ons by Harrismith gestop. Die wolke het soos reuse wit branders stadig oor die berg gesak. Ek het drie of vier keer in my lewe gesien hoe die punte van ‘n wolk verskillende kleure van die reënboog was. Op Kersdag 2005 het die wolke soos rye en rye katoenballe gelyk. By Olifantsfontein het die son soos ‘n groot rooi bal agter die bloekombome gesak. Daar was swart wolke en blitse wat voor die son geslaan het. In 2011 het ek ‘n glasblou hemel in die Karoo buite Graaff-Reinet gesien.

 

Ek is opgewonde oor ‘n flou beeld van God se heerlikheid in die skepping. Wat moes die leiers van Israel gedink het toe hulle ‘n glans van die heerlikheid self gesien het? Wat van Moses wat God se heerlikheid in die wolk gesien het?

 

Nadat die verbond gesluit is (Amos 3:3) het Moses en die leiers op die berg geklim (v.9, 1). Daar het hulle vir God gesien (v.10, Genesis 32:30, Jesaja 6:1, 5, Esegiël 1:26, Johannes 1:18). Hulle het nie sy gesig gesien nie (33:20, 23, 1 Timoteus 6:16), maar sy voete op vloerwerk van blou saffiersteen of lapis lazuli; dit was so helder soos ‘n diep blou hemel (v.10, Esegiël 1:26, 10:1). Die helder blou is ‘n prentjie van God se Koninklike Majesteit. As dít sy voete is, hoe lyk sy gesig?!

 

Omdat God ‘n verbond gemaak het, het die leiers nie gesterf nie (v.11). Hulle het voor God geëet en gedrink; dit was ‘n verbondsete soos die Nuwe Verbond se nagmaal (v.12, Genesis 31:54). God het vir Moses nader geroep om die twee kliptafels te kry wat die wet opsom (v.12). God dit het met sy eie vinger geskryf (31:18). Hy moes ook die planne vir die tabernakel by God kry.

 

Moses het vir Josua – sy handlanger en opvolger – saamgevat (v.13, 33:11). Moses het gesê dat die 70 ouderlinge moes wag totdat hy terugkeer (v.14, vgl. Genesis 22:5); Aäron en Hur kon die moeilike sake hanteer (v.14, 17:10, 12, 18:26).

 

Moses het toe verder geklim. ‘n Wolk het God se volle heerlikheid vir die volk bedek (v.15). God se heerlikheid het in die wolk op die berg gewoon [Heb. shâkan] voordat sy shekinah heerlikheid in die tabernakel gewoon het (v.16, 16:10). Die wolk het vir ses dae oor die berg gehang. Op die sewende dag (die Sabbat?) het God het vir Moses in die wolk in geroep (v.16). Josua moes vir hom wag.

 

God se heerlikheid op die berg se piek was ‘n verterende vuur wat in die wolk gebrand het (v.17, Deuteronomium 9:3, 4:11-12, Hebreërs 12:29, Esegiël 1:27). Die vuur is dalk simbolies van sy heiligheid en brandende jaloesie. Moses was vir 40 dae en 40 nagte in die vuurwolk (Matteus 4:2); God het Hom nie verteer nie (v.18, 3:2, 34:28, Deuteronomium 9:9, 18).

 

Soek God se heerlikheid. Ja, geniet dit in die bosveld, by die see, en op die berg. Onthou egter dat die skepping net ‘n skadubeeld van sy heerlikheid is (Psalm 19:2). Sien sy heerlikheid meer in Jesus se lewe op aarde: op die berg toe die wolk Hom oorskadu het (Matteus 17:2, 5); in sy wonderwerke (Johannes 2:11); in sy kruisdood (Johannes 17:1); by die leë graf (Jh.20:28). Sien sy heerlikheid deur geloof in die evangelie, die Skrif, en die kerk (2 Korintiërs 3:18, 4:6, Efesiërs 5:27). Sien sy heerlikheid in die hemel (Openbaring 1:12-16), by sy koms op die wolke en in die verheerlikte liggaam wat jy gaan kry (Handelinge 1:9-11, 2 Tessalonisense 1:7-8, 10, Matteus 25:31), in sy Persoon (Hebreërs 1:3).

 

God se heerlikheid was eers op die berg, toe in die tabernakel, toe in Jesus op die aarde (Johannes 1:14). In die evangelie en Jesus sien ons meer as dit wat die leiers in v.10, 17-18 gesien het (2 Korintiërs 3:7-11). In die Nuwe Testament bly God se heerlikheid nie in ‘n tent nie, maar in jou hart deur die Gees. In die Ou Testament het hulle die heerlikheid net by tye gesien, maar vandag is dit permanent by ons.

 

Dalk sê jy: ‘Ek sien God se heerlikheid meer in die skepping as in die evangelie, die Skrif, en die kerk – wat nog te praat van v.10, 17-18?’

 

  • Dalk sien jy dit nie, omdat jy nog ongered is. Paulus praat van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” (2 Korintiërs 4:4).
  • Dalk sien jy dit nie, omdat jy nie jou Bybel lees nie.
  • Dalk sien jy dit nie, omdat jy jou Bybel akademies lees en nie saam met die Psalmis bid: “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.” (Psalm 119:18) nie.
  • Dalk sien jy dit nie, omdat jy te haastig is. Jy wag nie op die Here nie (v.16).
  • Dalk sien jy dit nie, omdat sonde jou verblind: “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23).
  • Dalk sien jy dit nie, omdat jou gebede te veel op materiële dinge gefokus is. Jy bid nie vir geestelike dinge nie: “Laat my tog u heerlikheid sien.” (33:18).

 

As jy God se heerlikheid in gebed, die Skrif, ‘n preek ervaar, sal sonde vir jou onaantreklik wees. Jy sal God in alles wil verheerlik (1 Korintiërs 10:31).

 

Hoekom moet jy God se heerlikheid soek? Niks anders sal jou versadig nie. Jy is gemaak om Hom te verheerlik (Jesaja 43:7). Wanneer jy Hom verheerlik sal jy volle vreugde en vervulling vind.

 

Jonathan Edwards skryf oor sy vrou Sarah (hy verwys na haar as ‘the person’):

 

‘The person has more than once continued for five or six hours together, without interruption, in a clear and lively view or sense of the infinite beauty and amiableness of Christ’s person, and the heavenly sweetness of his transcendent love. So that (to use the person’s own expressions) the soul remained in a kind of heavenly elysium [Afr. paradys], and did as it were swim in the rays of Christ’s love, like a little mote swimming in the beams of sun that come in at a window.’

 

Sy was by tye so oorweldig dat sy nie kon staan of praat nie. Een minuut hiervan was meer werd as al die gerief en plesier van ‘n mens se hele lewe. Sy het dikwels – soos Dawid in Psalm 63:2 – flou geword omdat sy so oorweldig was met die liefde van Christus.[3]

 

Onder die Nuwe Verbond word hierdie heerlikheid helderder en helderder (2 Korintiërs 3:18), totdat ons vir Jesus in sy volle heerlikheid sien.

[1] Evangelical Press Study Commentary: Exodus, vol.2, p.141

[2] Meredith Kline, Westminster Theological Seminary klasnotas, http://www.fivesolas.com/suzerain.htm

[3] The Works of Jonathan Edwards, vol.1, pp.376-378

Jou deel en God se deel in verlossing

Grace

In die vyfde eeu het Augustinus teen die lering van Pelagius geskryf.[1] Pelagius het geglo dat almal by geboorte sondeloos is soos Adam. Hy het geglo God se genade is die vrye wil wat Hy aan almal gee, asook die morele wet en voorbeeld van Jesus wat wys hoe ons moet lewe. Hy het geglo dat enige goedheid in die mens geheel en al uit sy eie poging en vrye wil is; dat die hemel as beloning gegee word vir ‘n goeie lewe op aarde. In 431 n.C. het die Konsillie van Efese sy lering as dwaling verdoem.

 

Kort ná Pelagius het sommige teoloë gesê dat die Skrif ‘n middeweg leer: ons is in sonde gebore, maar is nie so sleg dat ons nie deur ons vrye wil redding kan kies nie. Die mens is soos ‘n sieke wat homself nie kan genees nie, maar kan uitroep om genees te word. God en die sondaar werk dus saam in verlossing. In teologie word dit sinergisme genoem.

 

Augustinus het gesê dat die sondaar geestelik dood is (Efesiërs 2:1). Eers as God hom tot nuwe lewe roep, kan hy in geloof reageer. Die sondaar is vry om te doen wat hy wil, maar sy wil is in sonde verstrik, sodat hy God en die goeie nie wil kies nie (Romeine 3:10-12). God moet die sondaar kies voor die sondaar Hom kies (Johannes 15:16). Die Afrikaanse gesang lui:

 

Voordat ek kon kies, kon vra,

het U Seun my vloek gedra.

Ek kon vind U’t my gekry,

voor ek nog my skuld bely.

 

Met ander woorde, God werk alleen om die sondaar tot redding te bring. Teoloë noem dit monergisme en dit is Bybels.

 

Sodra die sondaar egter vry en instaat is om reg te doen, glo ons die Skrif leer sinergisme. God help, lei, en bekragtig jou, maar jý moet in gehoorsaamheid reageer. Paulus sê: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:12-13). Eksodus 23:20-33 illustreer hierdie waarheid.

 

Jou deel

James is in graad 1. Sy ouers betaal sy skoolgeld, potlode, penne, kleurkryte, en boeke. Die juffrou leer vir hom die alfabet, somme, en hoe om mooi in te kleur. Sy kom selfs na sy bank toe, en verduidelik vir hom totdat hy verstaan. Hy kry alles wat nodig is om sy werk goed en reg te doen. Maar sy ouers en juffrou gaan nie vir hom dink of sy hand vat en vir hom skryf en inkleur nie.

 

So is dit met God. Deur sy Gees gee Hy vir jou alles wat jy nodig het om te volhard: krag, die gewilligheid, sy beloftes, die Woord en gebed. Tog gaan Hy nie vir jou volhard, jou van jou sonde bekeer, sy beloftes glo, die Bybel lees, bid, en gehoorsaam wees nie. Verskeie verse in hfst.23 illustreer dit.

 

Die volk moes God se stem deur die Engel gehoorsaam het, en nie rebels wees nie (v.21-22a). God se Engel sou nie hulle rebellie vergewe nie, maar hulle straf. God se heilige Naam, karakter, wese, Persoon, en openbaring was immers in Hom (v.21). Uit 3:2, 4, 14 kom ons agter dat hierdie Engel God self is: God se Naam is in Hom. In die Nuwe Testament leer ons dat die Engel Jesus is, want Hy openbaar die Vader aan ons (Johannes 1:18). Omdat die Engel sonde kan vergewe of vergifnis kan weerhou, wys dit weereens dat Hy God is (Josua 24:19, Markus 2:5, 7).

 

Omdat God Israel se vyande uitgewis het, het dit gewys dat Hy sterker as hulle gode is. Daarom was dit onlogies vir die Israeliete om voor hierdie gode te buig (v.24, 20:5). God se volk moes Hom nie dien soos wat die heidene hulle afgode aanbid het nie (v.24, Dt.12:30-31). Hulle moes eerder die heidene se afgodsbeelde en pilare tot stof vernietig het, sodat dit nie herstel kon word nie (v.24). Die volk moes nie eers die goud en silwer hou waarvan die gode gemaak was nie, want dit sou hulle versoek het om nóg gode te maak (Deuteronomium 7:25). Hulle moes God alleen dien (v.25).

 

God het sy volk verbied om ‘n verbond met hulle vyande of dié se gode te maak. Hulle mag nie met hulle getrou het, en ‘n verbond gemaak het om hulle gode te dien nie (soos wat ‘n Christen-vrou ‘n belofte moet maak om ‘n Moslem te word as sy met een trou). Die Israeliete moes sulke verbonde vermy (v.32). Elders sê die Here:

 

“As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg. Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.” (Deuteronomium 7:1-5).

 

Die volk mag nie ‘n eed gesweer het om nie hulle vyande dood te maak nie (sien Josua 9). Hulle moes die vyand heeltemal uitwis, want anders sou dié hulle van die Here af weglei agter ander gode aan. Saam met die afgodery sou hulle die volk versoek het om dronk te word, te ooreet, en losbandige seks te hê (v.33, 32:6). As hulle toegegee het, sou God húlle uitwis (v.33). Die afgode sou vir hulle ‘n strik gewees het wat tot baie smarte lei (v.33, Psalm 16:4).

 

Soos die volk hulle deel moes doen om in die Beloofde Land te kom, moet jy jou deel doen om in die hemel te kom: volhard. Hoe doen jy dit? Maak gebruik van die middele wat God gee:

 

  • Geloof (1 Petrus 1:5).
  • Die Woord en die evangelie (1 Korintiërs 15:1-2, 2 Petrus 1:19).
  • Gehoorsaamheid aan God se wil en ‘n heilige lewe (Hebreërs 12:14, Matteus 7:21, 2 Petrus 1:5-7, 10-11).
  • Gebed (Judas 20-21).
  • Die kerk (Matteus 18:17-18, 1 Johannes 2:19, Efesiërs 4:11-13).

 

In jou stryd met sonde moet jy nie krygsgevangenes neem nie; wees genadeloos en ongenaakbaar, en maak alles dood (Kolossense 3:5). Anders sal dit ‘n doring in jou vlees word. Daarby sal die Here jou nog tugtig ook (v.33). Wat is daardie een sonde wat soos ‘n rankplant aan jou vasklou; daardie een sonde wat jy net nie kan afskud nie? Dalk is dít die een sonde wat jou in die hel laat beland. Veg daarom met alles wat jy het in die krag van die Gees daarteen (Romeine 8:13).

 

Pasop vir die strik van vriende, vals leraars, ‘n kêrel of meisie wat jou van die ware God af wil weglei, sodat jy nie volhard nie (v.33, 1 Korintiërs 15:33, 2 Korintiërs 6:14-15, Matteus 7:14-15).

 

As jy nie jou deel gedoen het nie, moet jy nie kwaad wees vir God omdat Hy dit nie vir jou gedoen het nie. Moenie sê: ‘Hoekom het die Here nie gekeer dat ek sonde doen nie?’ God versoek niemand nie (Jakobus 1:13).

 

Hoekom moet jy volhard? Die Skrif sê dat net die mense wat volhard gered sal word en waarlik deel het aan Jesus (Matteus 10:22, Hebreërs 3:14).

 

God se deel

Jou deel en God se deel in verlossing werk so (onthou ek praat met mense wat reeds gered is): Hy gee vir jou ‘n gratis kar, petrol, olie, dienste, bande, herstel, padkos, en ‘n navigator wat met ‘n handleiding en kaart langs jou sit.

 

Die navigator sê uit die handleiding en kaart vir jou hoe die kar werk, wanneer jy dit moet diens, waar jy moet ry, watse hindernisse op die pad is, waarsku jou teen afdraai paaie en skelms op die pad, sê vir jou wanneer jy moet stop om te rus, verfris jou as jy moeg is, en bestraf jou as jy sleg bestuur.

 

Jou plig is om te bestuur, op die pad te kyk, vir hulp te vra as jy onseker is, en uit te kyk vir gevaar. Hy sal vir jou die krag gee, jou help om alles te doen, en jou veilig by jou bestemming uitbring. Dít is die balans wat Moses in hfst.23 leer.

 

God het sy Engel vooruit gestuur om die volk te lei, te versorg, te beskerm teen vyande, wilde diere, hitte, koue, honger, dors, en ander gevare (v.20). Weer leer ons dat Gód die Engel is wat hulle so gelei en bewaar het (14:19, 33:2, 19, Josua 5:13-15, Jesaja 63:9). Hý het hulle na die Beloofde Land toe gelei wat Hy vir hulle voorberei het (v.20).

 

As die volk God se Woord deur die Engel gehoorsaam het (Johannes 1:1), sou Hy hulle beskerm het; Hy sou nie hulle Vyand wees nie, maar hulle vyande se Vyand (v.22). God het mos vir Abraham gesê: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Genesis 12:3). Die Engel sou die inwoners van die land uitwis (v.23).

 

As Israel aan die Here getrou was sou Hy hulle seën met reën en goeie oeste (v.25, Deuteronomium 28:4-5, Maleagi 3:10, Matteus 6:33). Hy sou nie siekte, hongersnode, miskrame stuur nie, maar hulle sou baie kinders hê en hulle vee sou vrugbaar wees (v.25-26, Genesis 1:28, 30:1, Deuteronomium 7:14). Hulle sou ‘n lang en gelukkige lewe hê (v.26, Deuteronomium 5:33, Job 5:26, 42:17, kontr. Ps.55:24). Vir Christene is miskrame, armoede, onvrugbaarheid, droogte, en siekte nie ‘n straf nie. God belowe dat Hy dit vir ons voordeel sal uitwerk (Romeine 8:28).

 

God sou sy Engel, sy skrik, en perdebye vooruit stuur om die vyand uit te dryf (v.27-28, 23, Deuteronomium 2:25, Josua 2:9). Perdebye is dalk ‘n metafoor vir Farao se plunder-aanvalle wat die Kanaäniete uitgedun en verswak het, sodat hulle ‘n maklike prooi was vir Israel (vgl. Jesaja 7:18).

 

Ek dink egter dit is beter om perdebye letterlik te interpreteer. Jy kan nog teen ‘n leeu veg, maar nie eers ‘n swaard, spies, skild, boog, harnas, helm, of toring kan ‘n swart wolk van perdebye keer nie. ‘n Swerm perdebye kan jou maklik doodsteek. Dié vers leer vir ons dat God ook soewerein is oor klein dinge soos insekte.

 

Die vyand sou verward wees, vrees en vlug (v.27, Deuteronomium 7:23). God sou hulle egter nie in een jaar verdryf nie. Die volk sou nie gou genoeg die leë land kon vul nie. Wilde diere sou die leë huise, plase, lande, en wingerde oorneem. Hulle sou vroue, kinders, en slawe wat in die lande werk verskeur het (v.29, vgl. 2 Konings 17:25). God sou dus die vyand stukkie vir stukkie uitdryf, totdat die volk groot genoeg was om die land oor te neem (v.30).

 

Die land se grense was soos volg: die Rooisee in die Suid-Ooste, die Middellandse See in die Weste, die Eufraat rivier in die Noorde, en die Negeb woestyn in die Suide (v.31). Hierdie was die grense toe Salomo koning was. Hierdie vers leer vir ons dat God soewerein oor is landsgrense (Handelinge 17:26).

 

Gód het sy volk in die land ingelei, die vyand uitgedryf, en vir hulle krag gegee om te veg. Net so is dit Gód wat ons voorberei vir die hemel. My swaer het vir my gesê: ‘No man has the power to go to heaven.’ Soli Deo Gloria was die refrein van die Reformasie: Aan God alleen die eer. God bewerk alles wat nodig is vir verlossing, en gee ook vir ons die krag om ons deel te doen. Omdat dit so is, deel ons nie sy eer wanneer ons in die hemel kom nie (Jesaja 48:11). Ons sal nie 99 liedjies vir Jesus sing, en 1 vir onsself nie.

 

[1] Hý sal ons veilig in die hemel inbring (v.27, 2 Timoteus 4:18, Judas 24, 1 Tessalonisense 5:23).

 

[2] Hý het ons sonde weggevat deur sy kruisdood (1 Johannes 1:7).

 

[3] Hý skenk weergeboorte, geloof, en bekering (1 Petrus 1:3, Efesiërs 2:8-9, Filippense 1:29, Handelinge 5:31, 11:18).

 

[4] Hý maak ons heilig (Johannes 17:17, Efesiërs 5:26-27).

 

[5] Hý gee die Woord as ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet (Psalm 119:105).

 

[6] Hý het die Gees gegee om ons te troos, te lei en te help (Johannes 14:16).

 

[7] Hý het sy beloftes vir ons gegee (2 Petrus 1:4).

 

[8] Hý lei, leer en help ons om reg te bid (Romeine 8:26-27, Sagaria 12:10).

 

[9] Hý maak ons deel van sy kerk, sodat ons kan groei en geestelik volwasse kan word (1 Korintiërs 12:13, Efesiërs 4:13).

 

[10] Hý gee vir ons die krag en gewilligheid om gehoorsaam te wees en te volhard (Filippense 2:12-13).

 

Dit is reg dat jy jou deel moet doen. Moet egter nie op jouself vertrou nie, want sonder God is al jou pogings tevergeefs: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1).

 

Hoekom vat God nie dadelik al jou sonde weg nie? As Hy dit doen sal jy laks word, lui wees, sluimer, en nie waaksaam wees vir Satan se aanvalle nie (v.29). God los ‘n bietjie sonde binne jou, sodat jy kan leer om te veg en gereed kan wees vir Satan as hy jou van buite af aanval (vgl. Rigters 3:1-2).

 

Net soos wat God jou voorberei vir die hemel, berei Hy die hemel voor vir jou (v.20, 25-26, 30, Johannes 14:2-3). Jy het geen aandeel hierin nie. Toe die volk die land ingeneem het, was daar reeds huise, boorde, landerye, wingerde, ens. (Deuteronomium 6:10-11). Gód het die land vir hulle voorberei.

 

So is dit met ons. Gód ontwerp en bou die hemelse stad wat sý heerlikheid weerkaats: die mure van jaspis, poorte van soliede pêrels, fondasie wat met groot blokke van verskillende edelstene gebou is, strate van suiwer goud, ‘n rivier so helder soos kristal, bome, vrugte, berge, mere, wyn, brood, ryk kosse, serafs, gerubs, engele, nuwe liggame, mak leeus, wolwe, bere, en luiperds, niks siekte, trane, sonde, goddelose mense, pyn, of dood nie (Hebreërs 11:10, Openbaring 21-22, Jesaja 11, 65).

 

Jou deel is om seker te maak jy kry die hemel as erfdeel en gaan nie hel toe nie: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (2 Petrus 1:10-11).

 

Hoe kan jy seker wees jy gaan hemel toe? Kom deur Jesus. Glo die evangelie van sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, en bekeer jou van jou sonde (Johannes 14:5-6, 3:16, 1 Korintiërs 6:9).

 

As jy nie God se deel in redding verstaan nie, sal jy dink jy is beter as mense wat nie gered is nie. Jy sal dink jy was beter en slimmer, omdat jý jou vrye wil gebruik het en hulle nie. Jy sal gedeeltelik in jouself wil roem, en nie in God alleen nie.

 

Augustinus het gesê: ‘Give me the grace [O Lord] to do as you command, and command me to do what you will!… O holy God…when your commands are obeyed, it is from you that we receive the power to obey them.’[2]

 

Net as jy glo dat selfs ons deel deur Gód se krag en genade kom, sal jy saam met Paulus sê: ‘Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.’ (Romeine 11:36).

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.247-252

[2] Geneem uit John Piper se audio-biografie oor die lewe van Augustinus. Dit is gratis beskikbaar by www.desiringGod.org

God se wette tot jou voordeel

Feast

Matilda is ‘n tipiese tiener. Sy haat die reëls in haar huis en skool. Sy is soos ‘n seun wat op die skooltoer vir die onderwyser gesê het: ‘Rules are there to be broken!’ Ouers en onderwysers is wyser as dit, en weet dat reëls vir almal se beswil en voordeel bestaan.

 

Natuurlik kan daar menslike reëls wees wat onnodig en nadelig is. Maar dit is nooit so met Gód se reëls nie: dit is altyd tot óns voordeel en sý eer. As jy dít verstaan en navolg, sal jy die grootste vryheid, vreugde, en sekuriteit ervaar.

 

In Deuteronomium 5:33 sê die Here: “In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.” Psalm 119:45 sê: “I will live in perfect freedom, because I try to obey your teachings.” (TEV).

 

En dis ook die punt wat God in Eksodus 23:10-19 maak.

 

Rus (v.10-12)

Arrie is ‘n beesboer. Hy deel sy plaas op in kampe. As die beeste een kamp kaal gevreet het, skuif hy hulle na ‘n ander kamp, sodat die eerste kamp se gras weer kan groei. Dis die beginsel in v.10-11.

 

Die volk moes vir ses jaar ploeg, saai, en oes, en in die sewende jaar die grond laat rus (v.10-11, Levitikus 25:3-5). Só kon die grond wat uitgeput is, weer die minerale en voedingstowwe daarin herwin (onthou dat hulle nie kunsmis en ander chemikalieë gehad het nie). Op dié manier kon jou ploeg-os en pakdonkie ook rus (v.11).

 

Die armes kon van die lande, boorde, en wingerde af eet, en wat húlle gelos het kon die wilde diere eet (v.11, Levitikus 25:5-6). So het God vir die diere van die veld gesorg (Psalm 104:27-28, Matteus 6:26). Ons weet nie of die Sabbatsjaar op dieselfde tyd oor die hele land geval het nie. Indien nie, sou die armes en wilde diere jaar na jaar kon eet. Jare later het God die volk gestraf omdat hulle die Sabbatsjaar geminag het (2 Kronieke 36:21).

 

‘n Vrou wat in ons kerk was het twee jaar gelede langverlof gekry. Buiten vir haar gewone verlof, het sy 54 dae af gekry. Miskien wens jy vir so baie verlof. Besef jy dat God vir jou 52 dae per jaar af gee?

 

Die Sabbatswet vir weke werk byna soos die Sabbatswet vir jare: werk ses dae en rus een. God het die wêreld met hierdie siklus geskep (v.12, 20:8-11, Genesis 1-2). Ons moet die Sabbat nie as ‘n straf sien nie, maar as ‘n geskenk van rus en verfrissing, sodat ons ons kragte kan herwin om effektief te werk in die res van die week. Nie net ons liggame nie, maar ook ons gees word verkwik.

 

God sorg selfs vir die diere. Weereens kan jou ploeg-os en pakdonkie rus. Hulle kan vrylik wei en hulle kragte herwin (v.12). God sorg ook vir vreemdelinge en slawe: hulle hoef nie hout te kap, water te dra, in die lande of die huis te werk nie.

 

Selfs in die Nuwe Testament moet ons die Sabbat-beginsel volg. God is nie ‘n harde Meester nie, maar gee vir ons rus. Ons moet soos Hy wees (v.12). Laat die mense wat in jou winkel, fabriek, garage, tuin, en huis werk op Sondae rus. Gee vir jou kinders rus van huiswerk en voorbereiding vir eksamens. Laat hulle ‘n breek neem, sodat hulle breins kan rus. Ek wil nie wette maak van wat jy mag doen en wat nie. Net-nou raak ek belaglik soos die moderne Jode wat nie ‘n lig mag aansit, of ‘n hysbak se knoppie mag druk op die Sabbat nie. Ek glo tog ons moet rus en ook die mense wat vir ons werk in ag neem.

 

As ons die Sabbatsrus eer sal daar baie minder stresverwante siektes wees. Ons moet onsself egter nie daarteen blindstaar dat die Sabbat net ‘n skadubeeld is nie. Daarom moet ons rus vir ons siele soek en vind in Jesus (Kolossense 2:16-17, Matteus 11:28-29, Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13).

 

Afgode (v.13)

Het jy al opgelet hoe lyk lande waar Islam heers (Irak, Afghanistan, ens.)? Hoe lyk lande waar ateïsme en kommunisme oorneem (die ou VSSR)? En wat van lande waar humanisme heers (kyk maar na die morele verval in die weste)? En lande waar Afrika-godsdienste en Hinduïsme heers? Of lande waar die Rooms-Katolieke heers (kyk na die armoede in Meksiko)? Hoe lyk ‘n land waar Bybelse Christenskap ‘n baie sterk invloed gehad het? Dié land het ‘n sterk ekonomie, rykdom, en hoë morele waardes. Om afgode te aanbid is sleg vir die samelewing. Om die ware God te aanbid is goed vir enige samelewing. Dink maar aan Suid-Afrika en Amerika in vroeër jare.

 

Die volk moes let op elke woord wat God gegee het (v.13). God het deur Josua gesê: “Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, om die HERE julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.” (Josua 22:5).

 

Die heel eerste van hierdie wette sê dat Jahwe die enigste God is (v.13, 20:3). Daarom moet jy nie ander gode se name op jou lippe neem, praat asof hul ware gode is of gelyk is met Jahwe nie, by hulle sweer, voor hulle buig en hulle aanbid, navraag doen om soveel as moontlik oor hulle te leer, vir jou kinders hiervan leer, of met ‘n heiden trou en tydens die seremonie die afgod se naam bely nie (v.13).

 

“Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.” (Hosea 2:16). “dat julle met hierdie nasies wat met julle saam oorgebly het, nie meng nie; julle mag ook die naam van hulle gode nie vermeld en daarby nie laat sweer nie, en julle mag hulle nie dien en julle voor hulle nie neerbuig nie” (Josua 23:7).

 

Moenie God en afgode op dieselfde vlak plaas nie. In die Ou Testament het ouers hulle kinders vir Moleg geoffer. Vandag nog doen Christen-ouers dit ‘spreekwoordelik’. Hulle gee nie om dat hulle kinders in die skool leer dat Christenskap en ander godsdienste gelyk is nie. Hulle gee nie om dat evolusie vir ‘n feit geleer word en die skepping as ‘n storie nie. God sal van jou rekenskap eis. Dis ‘n ander saak as die skool Christen-gebasseer is en hierdie dinge as foute uitwys, maar die Bybelse waarheid vir jou kinders leer.

 

Moenie die leuen glo wat sê alle paaie lei na God toe nie: ‘Ons kan almal maar saam bid.’ Nee. Jesus is die enigste Weg (Handelinge 4:12, Johannes 14:6). Rooi, swart, en blou kan nie almal rooi wees nie. Bybelse Christenskap verskil uiteenlopend van Islam, Hinduïsme, Katolisisme, ateïsme, ander godsdienste. R.C. Sproul sê: ‘I’m sure it rankles God Almighty to hear any human being even mention Buddha in same breath with Jesus Christ.’ Mense wat ander gode dien en by hulle sweer sal baie smarte hê (Psalm 16:4).

 

Feeste (v.14-19)

Die Engelse spreekwoord sê: ‘All work and no play makes Jack a dull boy.’ Om hierdie rede het die Here beveel dat die volk gereeld feeste moes hou, sodat hulle ‘n wegbreek kon geniet, vakansie kon hou, vrolik kon wees, en hulle siele kon verfris. Ek weet hoe verrykend dit is om ‘n predikantekonferensie of goeie kerkkamp by te woon. Maar let tog op dat dit net ‘n paar feeste per jaar was. Dit leer vir ons die teenkant: ‘All play and no work makes Jack a fat, lazy, and unhealthy boy.’

 

Die volk moes drie keer per jaar fees hou. Daar is nóg feeste wat in Levitikus 23 genoem word, maar hierdie was die drie grotes. As hoofde van hulle huishoudings, moes al die mans daar wees (v.14, 17). Dié feeste was byna soos ‘n lanknaweek of verlof. Die feeste moes aan die Here gehou word (v.14). Die fees het dan nie net hulle liggame nie, maar ook hulle siele verkwik en verfris (Deuteronomium 16:6, 8, Levitikus 23). Volgens Deuteronomium 16:5-6, 16 sou die feeste in Jerusalem gehou word.

 

Ons moet ‘n balans vind tussen werk en rus. Waar is jy op die skaal? Werk jy angstig? Aanbid jy werk? Die werk sal nie weghardloop nie. God is nie kwaad vir jou omdat jy nie 24/7 werk nie. Jy sal nie op jou sterfbed spyt wees dat jy tyd met jou familie en Jesus gehad het nie. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (Psalm 127:2).

 

Is jy dalk iemand wat daarvan hou om elke dag laat te slaap? Is jy lui? Mors jy ure op Facebook? Vir jóú sê die Bybel:

 

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ‘n rondloper en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 6:6-11).

 

“Ek het by die land van ‘n lui man verbygeloop en langs die wingerd van ‘n verstandelose mens, en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi. En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem: Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 24:30-34).

 

Hoe lyk jou gebeslewe, jou Bybelstudie, jou huwelik, jou gesin, jou voorkoms, jou huis, jou tuin, jou wasgoed, jou skottelgoed, jou kar, jou pligte by die werk? Is dit met onkruid oortrek omdat jy lui is?

 

Toe ek 11 was het Louis Trichardt ‘n Rooivleisfees gehad. Ek onthou stalletjies, koeldranke, jaffels, pannekoeke, worsbroodjies, groot beeste, Mej. Suid-Afrika (Suzette van der Merwe), spookasem, tombola, skoolmaats, mense soos miere, sakgeld, ‘n springkasteel, skoene en klere te koop, en nóg meer.

 

Dit gee vir jou ‘n idee van die feestelike atmosfeer in Jerusalem. Drie keer per jaar was daar duisende mense, die aroma van varsgebakte brood, die reuk van bees-, skaap-, en bokvleis, gebraaide koring, lofsange, blydskap, en danksegging vir God se verlossing, rus, mededeelsaamheid, trosse druiwe, olywe, granate, tente wat van groen takke gemaak is, Skriflesings, gebede.

 

[1] Die Paasfees of Fees van Ongesuurde Brode is gehou op 14 Abib; die volk mag vir sewe dae geen suurdeeg by hulle gehad het nie (v.15, hfst.12-13, Deuteronomium 16:1-8). Die eerste en sewende dae van die Fees is as ‘n Sabbat gehou (v.12, Deuteronomium 16:8, Levitikus 23:7-8).

 

Die ongesuurde brood moes hulle daaraan herinner dat hulle haastig uit Egipte weg is: daar was nie tyd vir die deeg om te gis of te ruis nie (12:34, 39, Deuteronomium 16:3). By die Fees moes hulle ‘n offer bring om die Here te dank vir hulle redding, en daarom moes niemand met nie leë hande kom nie (v.15, Deuteronomium 16:6-8, Levitikus 23:8).

 

[2] Die Fees van die Oes is sewe weke of 50 dae na die Paasfees gehou (Levitikus 23:15-16). Daarom is dit ook die Fees van Weke of Pinksterfees genoem (34:22, Handelinge 2:1). Die volk moes die eerstelinge van die koringoes aan die Here offer (v.16, Deuteronomium 16:9-10). God sou die res van hulle oes seën, sodat hulle skure vol was (Spreuke 3:9-10). Hulle moes dié dag as ‘n Sabbat hou en vrywillig vir die Here offer volgens die seën wat hulle ontvang het. Hulle moes Hom prys, vrolik eet, en met mekaar deel (Levitikus 23:17-21, Deuteronomium 16:10-11).

 

[3] Die Fees van Insameling is teen die jaar-einde voor die winter gehou op die vyftiende dag van die sewende maand. God het hulle geseën, sodat hulle die oes van hulle wingerde en dorsvloer kon bring om met die armes, weduwees, weeskinders, vreemdelinge, Leviete, slawe, seuns, en dogters te deel (v.16, Deuteronomium 16:13-15, Levitikus 23:39). Die Fees het sewe dae geduur. Die eerste en die agtste dag is as ‘n Sabbat gehou (Levitikus 23:35-36, 39).

 

Hierdie Fees is ook die Huttefees genoem. Hulle het tente gebou van palm-, wilger-, olyf-, wilde olyf-, en mirtebome se takke. So sou hulle onthou dat hulle in tente gebly het toe God hulle deur die woestyn gelei het (Levitikus 23:34, 40-43, Deuteronomium 16:16, Nehemia 9:15). Hulle sou ook onthou dat die woestyn nie hulle permanente huis was nie; God het hulle na die Beloofde Land toe gelei.

 

Die volk mag nie suurdeeg met hulle offers gemeng het nie (v.18, 15, Deuteronomium 16:2-4). Hulle moes ook die vet aan die Here geoffer het (v.18, Eksodus 12:10). Hulle moes die beste – nie die slegste nie – van hulle eerstevrug na die tent van die Here toe gebring het (v.19, 16, Levitikus 23:16, 10-11). Dié offers sou kos wees vir die Priesters en Leviete (Numeri 18:12-13).

 

Dalk wou iemand sagte vleis hê by die Fees en ‘n jong bokkie in melk kook. Indien wel, mag hy dit nie in sy ma se melk gekook het nie (v.19). Volgens opgrawings by Ras Shamra (antieke Ugarit) het bygelowige heidene dit gedoen om ‘n vrugbare oes te verseker.[1] God wou nie hê dat sy volk soos die heidene moes wees nie.

 

Ons moet ons voor God verbly saam met ander Christene. Jy doen dit nie deur terug te keer na die skadubeeld en weer die Ou Testament Feeste te hou nie. Die Hebrew Roots Movement doen dit, en baie charismate is lief daarvoor. Dank God eerder vir die volheid wat ons in Christus het. “Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” (Galasiërs 4:10). “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17). As ons die volheid het, hou ons nie vas aan die skadubeeld nie.

 

Die Paasfees en Fees van Ongesuurde Brode is vervul in die kruis. Ons Paaslam is geslag en het deur sy kruisdood die suurdeeg van sonde weggevat (1 Korintiërs 5:7). Ons vier sy kruisdood in die nagmaal en nie in die Ou Testament feeste nie. Om dit reg te vier moet jy jou eie sonde bely, en deur kerktug die sonde verwyder wat soos suurdeeg versprei (1 Korintiërs 5:6, 8). Ons moet ook ontslae raak van die suurdeeg van skynheiligheid en vals lering (Matteus 16:11-12, Lukas 12:1, Galasiërs 5:9).

 

Die Fees van die Oes is vervul op Pinksterdag, sewe weke nadat Jesus opgestaan het. Jesus het sy Gees soos reën uitgestort, en op één dag ‘n oes van 3000 siele ingebring (Handellinge 2). Hy is steeds besig om ‘n groot oes uit die hele wêreld vir Hom in te samel.

 

Ons kan ploeg en saai, maar kan nie reën of groei gee nie. Net so kan ons werk en preek, maar ons kan nie een sondaar red nie. Bid dat Jesus weer sy Gees sal gee soos reën, dat daar sendingwerk, herlewing, bekerings, en ‘n groot oes sal wees. In 1630 het John Livingstone in Kirk O’ Shotts gepreek. Hy was benoud en het deur die nag gebid. Omtrent 500 mense is deur daardie preek verander en by die gemeentes gevoeg.[2]

 

Die Huttefees sal in die hemel en by Jesus se wederkoms vervul word (Sagaria 14:4-5, 9, 16). Toe Jesus op die berg verheerlik is, het Petrus gedink die Fees is vervul, en wou hy daar bly. “Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.” (Matteus 17:4). Openbaring 7:9, 15 sê dat die Fees in die hemel vervul sal word. Ons sal palmtakke in ons hande hê as ons die Here prys; God se teenwoordigheid sal ons soos ‘n tent oorskadu.

 

In hemel sal Jesus die massas insamel soos ‘n oes. Dáár is die tyd van ‘n tydelike tentwoning verby, en sal ons in ‘n ewige paleis bly wat die rykste Hollywood sterre se huise soos pophuise laat lyk (Johannes 14:2, Hebreërs 11:9-10). Dáár sal ons ‘n vreugde hê wat die pyn en lyding van hierdie lewe oorskadu.

 

“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” (Jesaja 65:17).   “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4).

 

Dáár lewe ons nie in ‘n tent wat kan skeur nie, ‘n liggaam wat kan sterf nie. Dáár het ons ‘n ewige huis, ‘n nuwe liggaam wat nie kan siek word, moeg word, swak raak, oud word, hartseer wees, pyn beleef, en sterf nie. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” (2 Korintiërs 5:1). Jesus is die eerstevrug uit die graf en waarborg dat die res van die ‘oes’ ook sal inkom (v.19, 1 Korintiërs 15:20, 23). Soos Hý, sal ons ook uit die dood uit opstaan.

 

Hoekom moet ons die Here só saam met ander prys? Robert Murray M’Cheyne gee die antwoord: ‘Heaven will be all praise. If you cannot praise God you will never be there.’[3]

 

Nick is 5 jaar oud. Hy kuier vir ‘n maand op sy oom se privaat reservaat. Hy is vies: hy dink dat sy oom ‘n skadunet oor druiwe gesit het om hom uit te hou, ‘n elektriese heining om die kamp gesit het om hom in te perk. Hy verstaan nie dat die skadunet die voëls uithou, sodat hy lekker druiwe kan kry nie; dat die heining die leeus uithou sodat hy veilig sal wees nie. Net so kyk ‘n mens anders na God se wet as jy weet dit is eintlik nie tot jou nadeel nie, maar tot jou voordeel.

[1] The MacArthur Study Bible, p.128

[2] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.316-317

[3] Sermons of M’Cheyne, p.21

Verwarring oor die gawes

Man and question marks

Elke jong pianis wil die teorie oorslaan om gouer by die praktyk uit te kom. Net so wou die Korintiërs die gawes toepas sonder dat hulle die teorie reg verstaan het (1 Korintiërs 12:1-11). Dit verheerlik nie die Here as ons hierdie onderwerp ignoreer omdat dit te moeilik is, of omdat Christene hieroor verskil nie. Ons moet probeer om dit te verstaan, sodat ons dit reg kan toepas.

 

Die Gees en die geeste (v.1-3)

Party roem dat tale, ekstase, en val in die gees ‘n bewys is dat die Heilige Gees werksaam is. Die Kundalini kultus in Hinduïsme ervaar dieselfde as baie in die charismatiese beweging.[1] Oosterse misterie kultusse in die eerste eeu het ook hierdie ervarings gehad.[2] Hoe kan jy die Heilige Gees se werk uitken? Dit is die les in v.1-3.

 

Paulus het die Korintiërs se vrae oor die gawes beantwoord (v.1, 7:1). Die Grieks vir gawes [pneumatikos] beteken eenvoudig ‘die geestelikes’ en kan na geestelike gawes óf persone verwys. Soos baie charismate het die tale-sprekers in Korinte geglo dat hulle meer geestelik is [pneumatikos]. Paulus wou hulle teorie regstel, sodat die praktyk ook kon regkom: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.” (v.1).

 

Toe die Korintiërs nog heidene was het demone hulle verblind, sodat hulle agter stom gode aangehardloop het (v.2, 10:20, 2 Korintiërs 4:4, Habakkuk 2:18-19, Psalm 115:5). Dié wat Judaïste was kon onthou hoe demone hulle beïnvloed het sodat hulle in die sinagoge vir Jesus vervloek het (v.3).[3] Hulle het nie verstaan dat Hy vir óns sonde vervloek is nie (Galasiërs 3:13).

 

Demone kan ekstatiese ervarings na-aap. ‘n Egte ervaring van die Gees word nie aan ekstase gemeet nie, maar aan wat die persoon van Jesus sê (v.3). Die Heilige Gees sal nie vir Jesus vloek nie; Hy verheerlik Hom en getuig van Hom (Johannes 16:14, 15:26). Iemand wat in die Gees praat bely dat Jesus, nie die keiser nie, Jahwe of Here is. Dié belydenis beteken nie dat jy die woorde soos ‘n pappegaai kan opsê nie (Matteus 7:21-22, Lukas 6:46). Dit beteken eerder dat jy ‘n hartlike, persoonlike, en opregte belydenis maak dat Jesus die Here is (Romeine 10:9). Dit is dan nie die tale-sprekers wat geestelik is nie, maar almal wat Jesus as Here bely (v.2-3).

 

Dit is belangrik dat jy die Heilige Gees se werk kan uitken. Hoe doen jy dit? Die Gees is soos iemand wat agter jou staan en die kollig op Jesus skyn. Pasop as ‘n prediker baie van die Gees praat, en niks van Jesus nie. Dit is ‘n vals gees. Die Heilige Gees verhef Jesus in die liede, die preke, die nagmaal, gesprekke, getuienisse. Só onthou Spurgeon se vrou een van sy preke toe hy 20 was:

 

‘I remember, with strange vividness at this long distance of time, the Sunday evening when he preached from the text, ‘His Name shall endure forever.’ It was a subject in which he revelled, it was his chief delight to exalt his glorious Saviour and he seemed in that discourse to be pouring out his very soul and life in homage and adoration before his gracious King. But I really thought he would have died there, in face of all those people!

 

At the end of the sermon, he made a mighty effort to recover his voice; but utterance well-nigh failed, and only in broken accents could the pathetic peroration be heard, – ‘Let my name perish, but let Christ’s Name last for ever! Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all! you will not hear me say anything else. These are my last words in Exeter Hall for this time. Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all!’ and then he fell back almost fainting in the chair behind him.’[4]

 

Moenie val net omdat ‘n kerk Jesus se Naam noem nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 7:21). Vra eerder: eer hulle Jesus as die heerlike Seun van God, gelyk met die Vader, die opgestane Here, die gekruisigde Verlosser, die God-mens?

 

Die Gewer en die gawes (v.4-11)

Elke sleutel van ‘n klavier verskil, en tog maak dit een melodie. So is dit met die liggaam. Daar is een Gees, een Here Jesus, en een God die Vader (die Drie-Eenheid) wat die krag is agter die geestelike gawes, dienste, en werkinge (v.4-6). ‘Drie Persone maar een God’ is ons bloudruk vir baie lede maar een liggaam (Efesiërs 4:4-7).

 

Elkeen het ‘n gawe gekry om die liggaam op te bou en die onsigbare Gees te openbaar (v.7). In ons teks lê die klem op die Gewer en nie op die gawes nie. Die Gees word nege keer genoem, en die Vader en die Seun vyf keer.

 

Wat is die geestelike gawes? Verskillende gawes word in v.8-10, 28, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11 gelys. Die Gees gee gawes volgens elke kerk se behoefte. Die lys is basies en nie noodwendig volledig nie.

 

Gebruik jou gawe. Moet jouself nie bejammer en sê jy het nie ‘n gawe nie (v.7, Romeine 12:3). Ontdek jou gawe so:

 

  • Wat geniet jy om te doen?
  • Watter van jou dade bou die kerk op?
  • Waarvan sê ander: ‘Jy doen dit goed – dit help ons’?

 

Gebruik jou gawe om die kerk op te bou. Moenie selfsugtig wees soos mense wat hulle gawe vir hulleself hou en in hulle kamer in tale bid nie. Gebruik jy regtig jou gawe of is jy maar net ‘n toeskouer? As jy nie jou gawe gebruik nie, sal dit roes. God sal van jou rekenskap eis en vra of jy jou gawe gebruik het.

 

Charles Spurgeon het by verskeie geleenthede na iemand in die gehoor gewys so iets gesê:[5] ‘Daar sit ‘n man wat ‘n skoenmaker is. Hy hou sy winkel oop op Sondae. Hy het laas Sondag sy winkel oop gehad en nege pennies gemaak, waarvan 4 pennies wins was. Hy is verbaas dat ek hom so akkuraat beskryf het. Hy sal sy winkel sluit en op Sondae kerk toe kom.’ Dit was presies soos wat Spurgeon gesê het. Die persoon het begin kerk toe kom en is gered. Oor sulke ondervindings skryf Spurgeon:

 

‘I could tell as many as a dozen similar cases in which I pointed at somebody in the hall without having the slightest knowledge of the person, or any idea that what I said was right, except that I believed I was moved by the Spirit to say it; and so striking has been my description, that the persons have gone away, and said to their friends, “Come, see a man who told me all things that ever I did, beyond a doubt, he must have been sent of God to my soul, or else he could not have described me so exactly.”’

 

Is dit profesie? Ek glo nie so. Ek dink eerder dat dit die gawe van kennis is.

 

[1] ‘n Woord van wysheid (v.8, 2:13). Hier gaan wysheid oor meer as net grys hare of lewenservaring, maar dit is ‘n bonatuurlike kennis (Jakobus 1:5, 3:13-17, Psalm 119:98-100). So iemand se wyse woorde help ‘n rigtinglose vergadering. Die persoon voorsien hindernisse en gevolge. Hy of sy gee wyse raad wat die res gemis het.

 

[2] ‘n Woord van kennis (v.8). Hierdie persoon kan gou ‘n register van die Skrif se lering gee oor enige onderwerp: gebed, ouerskap, verslawing, die skepping, vergifnis, ens. Dit is die tipe persoon wat goeie boeke skryf om die kerk te help (Romeine 15:14).

 

Hierdie gawe kan dalk verwys na iemand wat feite ken wat niemand vir hom of haar gesê het nie (Handelinge 5:3). Dit gebeur, sodat mense kan glo dat God waar is. Dit gebeur soms in preke, sodat jy dink die ds. ken jou omstandighede of gedagtes (14:24-25, Hebreërs 4:12-13).

 

Het jy die gawe van wysheid of kennis? Bou die kerk op daarmee. Maak jou mond oop in vergaderings. Gee raad, waarsku, skryf goeie materiaal. Moenie dink jy het hierdie gawe om mense seer te maak nie. Party mense dink hulle het ‘n sesde sintuig, of maak staat op hulle intuïsie. Hulle verdink ander mense en maak hulle seer. Ek ken ‘n vrou wat so is. Sy het voor ander mense vir my kollega gesê: ‘Jy lieg! Jy lieg!’ Sy was verkeerd. Die gawe van kennis beteken nie ons glo in nuwe openbaring nie. Ons mag nie by die Skrif byvoeg of wegvat nie (Deuteronomium 12:32).

 

Ons moenie van hierdie twee gawes vergeet nie. Ons het dikwels ‘n begeerte om die Gees se krag te sien, maar vergeet van sy kennis en wysheid.

 

George Müller het nie ‘n salaris ontvang nie, en het vertrou dat die Here vir Hom sal sorg. Ek ken ‘n Afrikaanse predikant wat so is. Ek dink dat hierdie mense die gawe van geloof het. Ek onthou twee kere wat God vir my hierdie gawe gegee het. Iemand het gevra ek moet ernstig saam bid vir reën in ‘n droë en baie warm Limpopo. Na my gebed het ek bo alle vertwyfeling geweet dat God my gebed gaan antwoord. Na ‘n lang droogte het dit dieselfde aand nog gereën.

 

‘n Ander keer was daar ‘n tyd van geestelike droogte in ons kerk. Ek het Matteus 7:7 gebid: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Na omtrent 20 minute van intense gebed het God se versekering skielik soos ‘n lig in my hart geskyn. Ek het met vaste sekerheid geweet dat God iets in die kerk gaan doen, en Hy het. Vir 3 maande het ons ‘n tyd van wonderlike voorspoed en seën geniet.

 

[3] Geloof (v.9). Geloof praat nie van die reddende geloof wat elke Christen het nie. Die gawe van geloof is ‘n absolute oortuiging dat God sy Woord in onmoontlike omstandighede sal vervul. Jakobus 5:15 praat van die gebed van geloof. Jesus het gesê: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matteus 21:21-22). God gebruik mense met hierdie gawe om twyfelaars te help.

 

Het jy die gawe van geloof? Gebruik dit om ander op te bou. Die gawe van geloof is nie om te glo jy gaan ‘n nuwe BMW kry nie; dis nie die vals geloof van Word of Faith predikers nie. Nee. Bid met geloof en vertroue oor die beloftes in God se Woord. Spoor twyfelaars aan. God se antwoorde op jou gebede sal almal se geloof versterk. Hoekom moet jy geloof hê? Want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6).

 

Sam Storms vertel hoe hulle ouderlinge eenkeer vir ‘n siek baba met ernstige lewer probleme gebid het. Hy het sonder twyfel geweet het dat God die kind gaan genees. Die volgende dag het hy gehoor dat die seuntjie volkome genees is.[6] Storms glo dat dit die gawe van genesing was. Ek verskil en dink dit neig meer na die gawe van geloof.

 

[4] Gawes van genesinge (v.9). Die Grieks gebruik twee meervoude. Ek dink dit wys dalk dat God ‘n unieke gawe vir verskeie siektes gee. In die Skrif het God mense op verskillende maniere genees: ‘n woord, ‘n gebed, handoplegging, modder op die persoon se oë, ‘n skaduwee wat op mense val, sakdoeke wat mense aanraak, ‘n liggaam wat in water gewas word, en soms geen genesing nie (1 Timoteus 5:23, Filippense 2:27, 2 Timoteus 4:20).

 

[5] Kragtige werke (v.10). God gee dié gawe sodat ongelowiges hulle ore spits vir die evangelie, en sodat gelowiges God prys vir sy hulp in onmoontlike situasies. Kragtige werke verwys na demone wat uitgedryf word, mense wat met blindheid geslaan word, dooie wat opgewek word, water wat in wyn verander, brode en visse wat vermeerder word, ens.

 

‘n Wonderwerk is wanneer God bo en buite die wette van die natuur werk. Dit is nie so dat elke werk van God ‘n wonderwerk is nie, want dan is geen werk spesiaal of uniek nie. Wonderwerke word dikwels ook tekens genoem. Wonderwerke is ‘n teken wat Jesus se krag, heerlikheid, en Messiaskap wys (Johannes 2:11, 3:2, Matteus 11:3-5). Die apostels se wonderwerke het dieselfde gewys.

 

Verstaan die gawe van genesing en kragtige werke reg. Die gawe van genesing is nie as iemand met medisyne gesond word, oor ‘n tydperk van ‘n paar weke verbeter, minder pyn ervaar as voorheen, gesond word maar weer na ‘n tyd verswak nie. Die gawe van genesing is ook nie God se antwoord op die gebed van die ouderlinge in Jakobus 5 nie.

 

Baie mense dink hulle het die gawe van genesing. Hulle slaan tente op, vat mense se geld, genees mense se hoofpyne en rugpyne, genees nie organiese en sigbare kwale soos blindheid en kreupelheid nie. As hierdie mense regtig die siekes kan genees, hoekom gaan doen hulle dit nie in hospitale nie?

 

Party siektes word veroorsaak deur stres, angs, depressie, sonde, en demone (Lukas 13:16, 9:39, Matteus 15:22, Job 2:7, Spreuke 17:22, Psalm 38:4). Daarom gebeur dit soms dat mense genees word wanneer hulle die evangelie glo en gered word. Martyn Lloyd-Jones vertel só ‘n storie.

 

Drie dogters se ouers is op een slag dood. Die tragedie het hulle gebreek. Twee van die susters het Lloyd-Jones se kerk begin bywoon. Die derde sussie het tuis gebly. Vir baie jare was sy bedlêend en het sy nie beter geword nie. Die ander twee susters het vir Lloyd-Jones gevra om haar te besoek. Toe hy haar sien het dit gelyk of die duiwel deur haar oë kyk. Hy het haar ondersoek (hy was voorheen ‘n mediese dokter) en het gesê dat daar niks fout was nie. Hy het haar aangeraai om geleidelik te begin opstaan. Sy het sy raad gevolg. Sy het later kerk toe gekom. Voor lank het sy tot bekering gekom en is sy heeltemal genees.[7]

 

God genees nogsteeds bonatuurlik in antwoord op gebed (ek kan talle voorbeelde gee). Hy doen ook nogsteeds wonderwerke. Ek ken ‘n sendeling wat vir meer as ‘n jaar elke dag op dieselfde gasbottel gekook het. Die gas het eenvoudig nie opgeraak nie.

 

Maar doen God nog genesings en wonders deur mense wat die gawe het? Ek glo nie so nie. Hierdie gawes was spesifiek gee om te bevestig dat die apostels eg was, en dat hulle die ware evangelie verkondig het (sien 2 Korintiërs 12:12, Hebreërs 2:3-4). Baie mense sê dat so-en-so hierdie gawes het, en dat hulle dit op die sendingveld gebruik. Ek sal graag die bewyse wil hê.

 

Hoekom moet ons die gawe van genesing en kragtige werke reg verstaan? As jy dit nie reg verstaan nie, sal die duiwel jou uitvang. Demone kan hierdie dinge na-aap. Hulle kan ook wonders doen om mense te mislei (Matteus 7:22, 24:24, 2 Tessalonisense 2:9, Openbaring 13:13-14). Dink maar aan Simon die Towenaar wat baie mense mislei het (sien Handelinge 8). Dink ook aan towernaars wat nie maar net met oë verblindery besig is nie, maar wat met die hulp van bose geeste toertjies doen.

 

In 1315 het Jan Hus op die brandstapel gesê: ‘You may roast this goose [Hus is Tsjeggies vir ‘gans’], but a hundred years from now a swan will arise whose singing you will not be able to silence.’ ‘n Honderd jaar later het Martin Luther regverdigmaking deur die geloof alleen herontdek. Hy het geglo dat hy die swan was van wie Hus gepraat het.[8]

 

In die 1500’s het John Welch ‘n ryk man gewaarsku om op te hou om God se dag te ontheilig. Welch het gesê dat God hom sou uitwerp en sy rykdom wegneem indien hy nie wou ophou nie. Dit het presies so gebeur.[9]

 

Hierdie tipe dinge gebeur. Ek glo egter nie dat dit geïnspireerde profesie is nie. Dit is byna soos iemand wat vir ‘n dronkaard sê: ‘Jy gaan nog ‘n ongeluk maak en verlam word.’ As dit so gebeur sou ons nie sê dat dit geïnspireerde profesie is nie, maar die natuurlike gevolge van sy sondige optrede.

 

[6] Profesie (v.10). Profesie is om geïnspireerde woorde van te spreek, en nie net toekomsvoorspelling soos in Handelinge 11 nie. Omdat die Skrif voltooi is, is hierdie gawe nie meer nodig nie (Efesiërs 2:20, Hebreërs 1:1). Indien daar wel nog geïnspireerde profesieë is, is ons besig om by die Woord van God by te voeg (Openbaring 22:18-19).

 

Vandag is daar mense wat glo dat Nuwe Testament profesie anders is Ou Testament profesie, en dat dit detail foute bevat. Die Skrif onderskei egter nie tussen Ou- en Nuwe Testament profete nie.

 

Om teleurstelling te voorkoms, moet jy versigtig wees vir moderne profete. Die Skrif is God se finale profesie. Profesie met detail foute is gevaarlik. Op die manier het mense al hulle eiendom verkoop, werke gelos, getrek, en alles verloor. Kan Christene nie self met gebed, die Skrif, en die raad van volwasse gelowiges besluite neem nie? Is dit sonde as jy nie jou werk los, oppak en trek nie? Op wie se gesag moet jy hierdie dinge doen? Hoe weet jy of die profesie waar of vals is as jy dit nie aan die Skrif kan meet nie? Hoe weet jy dit is regtig Gód wat hierdie dinge sê?

 

Ek sê nie dat die Heilige Gees ons nie lei nie. Maar wees versigtig om te sê: ‘Die Here het vir my gesê,’ asof jy ‘n nuwe woord buite die Skrif gekry het. Mense wat verkeerde voorspellings maak is mislei of hulle is vals profete (ek sal meer oor profesie sê as ek hfst.14 preek).

 

In CUM kan jy ‘n boek van Benny Hinn koop langs ‘n boek van Spurgeon of John MacArthur. Dit is ‘n illustrasie van die moderne kerk: mense het nie die vermoë om te onderskei nie. Daarom is dit nodig vir die onderskeiding van geeste.

 

[7] Onderskeiding van geeste (v.10). Dit is die gawe om te onderskei tussen die ware en valse Jesus, die ware en valse evangelie, die ware Gees en vals geeste (Galasiërs 1:6, 2 Korintiërs 11:4). Iemand met hierdie gawe weeg wat die profete sê (14:29, 1 Tessalonisense 5:20-22). Hierdie gawe was nodig voordat die Nuwe Testament voltooi is, en daar is nogsteeds ‘n groot mate waarin ons dit vandag nodig het.

 

As jy hierdie gawe het moet jy die kerk daarmee help. Meet aan die Skrif of mense die ware Jesus verkondig (1 Johannes 4:1-3), en of hulle die leer van die apostels volg (1 Johannes 4:5-6). Ek is nie beïndruk met mense wat alewig nuwe interpretasies vind nie; mense wat die eeue-oue interpretasie weggooi nie. Die profeet sê: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jeremia 6:16).

 

Party mense onderskei beter as ander en moet die res help. Ek dink MacArthur is iemand wat die ‘issues’ duideliker raaksien as ander. Dit is baie nodig dat ons moet onderskei. Die duiwel doen homself immers voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14).

 

In die tweede eeu het Montanus, Priscilla, Maximilla, en hulle volgelinge (die Montaniste) op ‘n wanordelike manier in wilde ekstase brabbel-tale gepraat. Die kerk het gesê hulle het ‘n vals gees en het hulle ge-ekskommunikeer.[10]

 

[8, 9] Allerhande tale, Uitleg van tale (v.10). Paulus lys hierdie gawes laaste omdat dit die minste belangrik was, en omdat die Korintiërs dit verhef het (v.28, 30). Die Grieks vir ‘allerhande’ is genos en praat van verskillende lande se tale (14:10-11, 21, Handelinge 2:5-11). Dit verwys nie na ‘n gebrabbel nie. Die NAV se ‘tale of klanke’ is misleidend en staan nie in die Grieks nie. Die gawe van tale bou net die kerk op as iemand dit vertaal en almal dit verstaan (hfst.14). Die vertaler self ken nie die taal nie, maar kry ‘n bonatuurlike gawe en vermoë om dit te vertaal.

 

Meet moderne tale-sprekers aan die Skrif:

 

  • Het party of almal in dié kerk hierdie gawe (v.10)?
  • Is daar ‘n uitleg (v.10, 14:27-28)?
  • Geskied dit ordelik (14:27, 40)?
  • Word die kerk opgebou, of gebruik hulle dit as ‘n private gebedstaal (v.7)?
  • Is dit ‘n gebrabbel of ander lande se tale (Handelinge 2:5-11)?

 

Ek glo dat die moderne gawe van tale onsin is. Ek sal meer hieroor sê as ek hfst.13 en 14 preek. As jy nie tale aan die Skrif meet nie, sal jy (soos hulle) emosie najaag eerder as om ander op te bou.

 

‘n Eks-charismatiese pastoor het vroeër vanjaar vir ons vertel dat hy vir 15 jaar die gawe van tale vir ander geleer het, en dit self ‘gefake’ het. Gawes is nie natuurlike talente nie, maar ‘n bonatuurlike bekragtiging van die Heilige Gees (v.11). Hy gee die gawes soos wat wil (v.11). Jy mag dit begeer en daarvoor vra (14:1), maar jy kan dit nie kunsmatig aanleer nie.

 

Erken dat die Gees soewerein is oor die gawes. Dank Hom vir jou en ander se gawes. Gebruik dit om die gemeente op te bou. As jy dink die gawe is uit jouself en jy die Gees nie erken nie, sal jy jaloers wees op ander se ‘beter’ gawes, of jy sal jouself verhef omdat jy ‘n ‘beter’ gawe het (soos wat die Korintiërs met die gawe van tale gedoen het).

 

Vroeër vanjaar het ek ‘n boek gelees oor die geestelike gawes. Verskillende outeurs het vier sienings oor die gawes bespreek. Elke skrywer het sterk punte gehad. Ek glo nie dat my siening (soos hierbo genoem, asook in die preke wat kom) al die antwoorde het nie. Daar is steeds dinge waaroor ek wonder. Maar sover ek dit verstaan, is hierdie siening die getrouste aan die Skrif.

[1] Sien Andrew Strorm se dokumentêr op YouTube.

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power, Part 1, p.29

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.571

[4] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.41

[5] Sam Storms in Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.83, 201-203, 83. Ek ondersteun nie Storms se siening oor die gawes nie.

[6] In Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.213-214.

[7] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (vol.1), p.263

[8] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.31-32

[9] John Howie, The Scots Worthies, p.123 (sien pp.130-131 vir ‘n soortgelyke storie).

[10] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.105, 115