Die ontheiliging van die nagmaal

Lord's Supper

In my jong dae het ons gemeente ná elke eerste Sondag se nagmaaldiens ‘n liefdesmaal gehad. Almal het hulle eie kos gebring en dit met mekaar gedeel: pampoenkoekies, Blue Bonnet rys, gebraaide hoenderboudjies en aartappels, frikkadelle, koolslaai, groenslaai, wortel slaai, vla, malva poeding, koeldrank, en meer.

 

In die eerste paar eeue n.C. het elke gelowige sy eie brood en wyn bygedra vir die nagmaal. Mense het hulle brode op ‘n tafel uitgepak, en die wyn is in een groot silwer beker uitgegooi. Almal het met mekaar gedeel.[1]

 

In Paulus se tyd het die kerk – soos met die Joodse Pasga – ‘n liefdesmaal gehad tussen die brood en die beker (vgl. die beker die ete in v.25, Judas 12).[2]

 

Hou dié dinge in gedagte as jy 1 Korintiërs 11:17-34 lees. Paulus spring heen en weer tussen ooreet, dronkenskap, en honger wees by die liefdesmaal, en die ontheiliging van die nagmaal as gevolg daarvan.

 

Partyskap (v.17-22)

‘n Paar jaar gelede het ons probeer om 14:00 op ‘n Sondagmiddag ‘n Engelse diens te hou. ‘n Afrikaanse vrou het gekom. Later het sy soms die oggend- en aanddienste bygewoon. By een aanddiens het sy die preek onderbreek: ‘Ja, is pastoor!… Amen!… Ja, is so!…’

 

Na die diens het ons gesien sy is dronk. My vriend het vir haar gesê: ‘Jy is altyd welkom by die kerk, maar jy moenie dronk wees en die res steur nie.’ Deur haar sterk drank asem het sy gesê: ‘Ek is nie dronk nie.’ My vriend se reaksie was: ‘Dan lieg jy ook nog!’

 

Om ‘n dronk persoon by ‘n braai, rugbywedstryd, dansklub, of partytjie te sien is normaal. Om ‘n dronk persoon by die kerk te sien is nie. Dis byna gelyk aan lastering as ‘n gelowige die nagmaal so ontheilig (v.17-22).

 

Rakende die liefdesmaal en die nagmaal kon Paulus die Korintiërs nie prys nie: hulle samekoms hiervoor was nie ten goede vir die opbou van die liggaam nie, maar ten kwade (v.17, 30, kontr. v.2). Die nagmaal moes die eenheid van die liggaam uitgebeeld het (10:17, vgl. Johannes 11:52, 13:34-35, 17:21, 23). Paulus het egter by Chloë se gesin gehoor dat die kerk verdeeld was (v.18, 1:10-13).

 

Paulus het die nuus geglo, want partyskap – selfs in die kerk – is deel van ons lot terwyl ons op die aarde is (v.18-19, vgl. Matteus 18:7). God het partyskap toegelaat as ‘n toets om te wys wie eg was, en wie soos ongelowiges optree (v.19, 1 Johannes 2:19).

 

Die teenwoordigheid van brood, wyn, en die samekoms van gelowiges was nie die enigste vereiste, voordat dit die nagmaal van die Here kon wees nie. As die kerk partydig was, hulle kos nie met die armes gedeel het nie, vir hulleself geëet het, en dronk was (v.21), was dit húlle tafel en nie Hére s’n nie (v.20).

 

Paulus was geskok en kon hulle nie prys nie. Die doel van die nagmaal en die liefdesmaal was nie dat hulle hulself moes ooreet nie (v.22). Deur só te eet het die armes niks gekry nie en is hulle verneder (v.22, vgl. Spreuke 17:5, Jakobus 2:6). Die rykes het die kerk verag wat God met sy bloed gekoop het (v.22, Handelinge 20:28).

 

Instelling (v.23-26)

R.C. Sproul vertel hoe hy eenkeer die onvergeeflike sonde van ‘n Seminarium professor gepleeg het, en sy humeur verloor het met ‘n student. In die klas het die student met ‘n arrogante houding gesê: ‘Hoekom moet ons brood en wyn gebruik by die nagmaal? Wat as ek lus is vir Coke en ‘n grondbonebotter en konfyt toebroodjie?’ Sproul het sy stem verhef: ‘Want Jesus het nie Coke en konfyt toebroodjies vir die gebruik van die nagmaal afgesonder nie – Hy het brood en wyn afgesonder!’ Ons ontheilig die nagmaal as ons dit vier soos wat ons wil, en nie soos wat Jesus dit ingestel het nie.

 

Die Korintiërs moes die nagmaal vier soos wat Paulus dit by Jesus ontvang het en oorgelewer het (v.23, 15:3, Galasiërs 1:12).[3] Jesus het die brood gebreek in die nag waarin Judas Hom verraai het (v.23). In die Evangelies het ‘nag’ ook ‘n simboliese betekenis: die magte van duisternis wou die Lig van die wêreld uitdoof (Johannes 3:19-21, 8:12, 13:30, Lukas 23:53).

 

Jesus het brood geneem, omdat Hy self die Brood van die lewe en die Manna uit die hemel is (v.23, Johannes 6:31-35). Let ook op dat Jesus self die brood vir sy dissipels gegee het – hulle het dit nie self geneem nie (v.23). So het Hy gewys dat Hy uit eie keuse sy lewe afgelê het (Johannes 10:18). Daarna het Jesus vir die brood gedank (v.24). Dit was wel ‘n dankgebed vir die kos (1 Timoteus 4:5), maar dit was meer as dit. Dit was ‘n dankgebed vir die verlossing wat Hy vir ons sou bewerk.

 

Hoekom het Jesus die brood gebreek (v.24) as die Skrif duidelik sê dat sy bene nie gebreek is nie (Johannes 19:33, 36)? Dit mag dalk daarna verwys dat Hy gegesel is. Of dit mag na Genesis 15 en Jeremia 34 verwys, waar God ‘n verbond gemaak het deur die diere in twee te sny. Jesus se liggaam is ‘gebreek’ om die verbond te verseël.

 

‘Dit is my liggaam’ beteken nie, soos die Katolieke sê, dat die brood regtig Jesus se liggaam word nie. Jesus het gesê Hy is die ware wingerd (Johannes 15:1), en tog glo ons nie Hy het takke en blare nie. Die brood kán nie regtig Jesus se liggaam wees nie, want Hy was immers in sy liggaam voor die dissipels toe Hy die brood vir hulle uitgedeel het. Jesus se liggaam is nou in die hemel, en by sy koms sal ons Hom sien. Die feit dat Jesus gesê het ons moet dit tot sy gedagtenis eet, wys mos dat Hy nie in sy liggaam teenwoordig is nie (v.24). In die negende eeu het John Scotus Erigena gesê: ‘In communion the believer eats Christ’s flesh mentally, not dentally.’[4] Dit is tog so dat Jesus op ‘n besondere wyse geestelik teenwoordig is in die nagmaal.

 

Jesus het die brood vir sy dissipels gegee (v.24). So het Hy gewys dat sy dood nie maar net ‘n goeie voorbeeld van opoffering is nie, maar dat Hy die straf vir ons sonde op Homself sou neem (Jesaja 53:4-6). Daar is tog ‘n sekere sin waarin Jesus se dood ‘n voorbeeld van opoffering is. Die selfsugtige Korintiërs moes opoffer soos Jesus, en nie aan hulleself gedink het by die liefdesmaal en nagmaal nie (v.24-25, 21-22).

 

Jesus het ook die beker vir sy dissipels gegee (v.25). Hulle moes beide die brood en die beker neem. Die Katolieke is dus verkeerd om net die brood te neem, terwyl die priester alleen die beker drink. Wat word in die beker uitgebeeld? Jesus het die beker van toorn gedrink wat ons verdien (Johannes 18:11, Lukas 22:42, Jesaja 51:17, Jeremia 25:15-29), en vir ons die beker van verlossing gegee (Psalm 23:5, 116:13).

 

Die rooi kleur van die wyn is ‘n prentjie van sy bloed wat die nuwe verbond verseël (v.25, Hebreërs 9:16-22). Die vrug van die wingerd herinner ons daaraan dat Jesus die ware wingerd is (Johannes 15:1).

 

Weereens is dit nie so dat die wyn letterlik Jesus se bloed word nie (‘transsubstansiasie’ is die groot woord). Toe Dawid se manne hulle lewens waag en vir hom water in Betlehem gaan skep, het hy dit op die grond uitgegooi en gesê: “Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?” (2 Samuel 23:17). Sekerlik het Dawid nie gedink dat die water letterlik in sy soldate se bloed verander het nie. Hy het eenvoudig bedoel dat hulle hulle lewens gewaag het. Net so wys die nagmaalbeker dat Jesus sy lewe vir ons gegee het.

 

Deur die nagmaal te gebruik verkondig ons dat Jesus sy lewe vir ons opgeoffer het aan die kruis (v.26). En sal die Korintiërs nie eers hulle kos opoffer vir die arm gelowiges in die gemeente nie (v.21)?

 

Ons moet die nagmaal gebruik totdat Jesus weer kom (v.26). Dit wys duidelik dat Jesus nie meer dood is nie, maar lewe.

 

Ondersoek (v.27-34)

In die eerste paar eeue het gelowiges elke Sondag die nagmaal gevier.[5] Na die vyfde eeu het ‘gewone’ Christene dit al hoe minder gebruik. Teen die sesde eeu het hulle dit slegs op Kersdag, Paas-Sondag, en Pinksterdag gebruik. Later van tyd het hulle dit glad nie gebruik nie, maar toegekyk hoe die priester die brood eet en die wyn drink.

 

Mense het geglo dat die nagmaal regtig in Jesus se liggaam en bloed verander. Hulle was bang en het onwaardig gevoel om dit te gebruik. Die priesters het gesê dat slegs toegewyde Christene kan deelneem. Hulle het die standaard so hoog gestel dat die beste Christene bang was om die nagmaal te gebruik.[6]

 

Toe Martin Luther in 1507 vir die eerste keer as priester by die tafel gestaan het, was hy doodbang vir die Regter van die hele aarde. Hy wou weghardloop maar het homself gedwing om die mis (die Katolieke naam vir die nagmaal) deur te sien. Dit is glad nie wat Paulus met die onwaardige gebruik van die nagmaal bedoel nie (v.27-34).

 

Paulus wou die ontheiliging van die nagmaal regstel, en daarom het hy die kerk in Korinte gewaarsku (v.27-34, 17-22). Jesus se kruisdood is ‘n ernstige saak, en daarom moes hulle die uitbeelding daarvan nie op ‘n onwaardige wyse gebruik nie (v.27, 21-22). Om so te doen is om teen Jesus se liggaam en bloed te sondig. Dit is asof jy Hom weer kruisig (v.27, Hebreërs 6:6, 10:26, 29).

 

Die Korintiërs moes hulleself ondersoek voordat hulle geëet het: was hulle verdeeld, bitter, skuldig aan ander sondes, of ongered (v.28)? ‘n Gelowige wat sy sonde liefhet, of nie die betekenis van die kruis en die nagmaal onderskei nie, nooi God uit om Hom te oordeel (v.29).

 

Dis juis omdat die Korintiërs hierdie dinge gedoen het dat God baie van hulle met siekte, swakheid, en die dood geoordeel het (v.30, vgl. 1 Johannes 5:16, Handelinge 5:1-11, 2 Samuel 12:14-15, 18). Sommige kommentators dink dat hulle siekte en dood die gevolg was van ooreet, dronkenskap, of geen kos nie. Maar dit blyk eerder dat God bonatuurlik ingegryp het om hulle te dissiplineer.

 

As die Korintiërs hulleself geoordeel en ondersoek het, sou God hulle nie getug en geoordeel het nie (v.31). God het hulle getug sodat hulle van hulle sonde sou wegdraai, en hulle nie uiteindelik saam met die wêreld geoordeel sou word en hel toe gaan nie (v.32).

 

Om God se oordeel vry te spring moes hulle met die armes deel en nie self alles opeet nie (v.33). As hulle honger was moes hulle by die huis geëet het, en dan genoeg kerk toe gebring het om met die armes te deel (v.34). As hulle dít gedoen het, sou God hulle nie geoordeel het nie (v.34).

 

Nou ja, dis al wat Paulus vir nou wou sê. Daar was nog reëlings wat hy sou tref as hy na hulle toe gekom het, maar dit raak die Korintiërs alleen en nie vir ons nie (v.34).

 

Die les uit hierdie hoofstuk is duidelik: moenie die nagmaal ontheilig nie.

 

[1] Jy ontheilig die nagmaal as jy vergeet wat dit Jesus gekos het, as jy dit ligtelik opneem, en as jy daarmee speel eerder as om dit te ontvang met vrees, eerbied, erns, danksegging, lofprysing, en liefde (v.24, 27).

 

[2] Jy ontheilig die nagmaal as jy familiêr raak daarmee, dit beskou as alledaags soos enige ander ete, dit maklik misloop, dit – soos Arthur Pink – vir lang tye nie gebruik nie. Onthou dat dit Jesus se sterwenswens was: eet hierdie brood en drink die beker tot my gedagtenis. Die nagmaal is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag totdat Jesus weer kom (v.24-26). Ons mag dus nie, soos die Heilsleer, besluit om dit glad nie te vier nie.

 

Gedenk dit gereeld (elke week, maand, kwartaal?) sodat jy daardeur Jesus se kruisdood vir jou sondes kan onthou (v.26, Handelinge 2:42, 46). Dit sal jou help om nie met sonde te speel nie, maar ook dat jy nie moedeloos word en daarin wegsink nie.

 

[3] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie omgee vir die eenheid van die liggaam nie, as jy dit op jou eie, saam met jou vriende, of saam met jou gesin vier (let op hoe Paulus in v.17-18, 20, 33-34 die woord ‘saamkom’ gebruik). Toewyding aan die nagmaal en gesamentlike gemeenskap gaan hand aan hand (Handelinge 2:42).

 

[4] Jy ontheilig die nagmaal as jy verdeeld, vyandig, of bitter is (v.18-19). In dié geval is dit nie die nagmaal wat jy gebruik nie (v.20). As jy onenig is met ander gelowiges, moet jy dit vandág regstel. Bely jou sonde, vergewe jou broer, raak versoen. Jesus het gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24). “vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efesiërs 4:32).

 

Moenie wag totdat die persoon sterf, sodat jy by sy graf moet sê: ‘Was dit regtig nodig dat ek ‘n wrok moes dra? Hoekom het ek dit nie maar net uitgesorteer nie?’

 

[5] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie jou hart ondersoek vir sonde nie; as jy nie berou het, jou sonde bely, dit haat, en daarmee ophou nie (v.28, 5:11). ‘Trek jouself aan in die spieël van die Skrif, voordat jy na die nagmaaltafel toe kom.’[7] Voordat jy kerk toe kom moet jy jou hart voorberei. Pa’s moet hulle gesinne hierin lei. Waak tog op Saterdae en Sondae vir die versoekings van die duiwel, die vlees, en die wêreld.

 

[6] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie die betekenis van die kruis, die brood, en die wyn verstaan nie (v.29). Juis om dié rede moet klein kinders nie die nagmaal gebruik nie.

 

[7] Jy ontheilig die nagmaal as jy nie gered is nie (v.28). “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef.” (2 Korintiërs 13:5). Jy bely dat Jesus vir jou sonde geoffer is, maar geniet die eindste sonde waarvoor Hy gesterf het. So maak jy ‘n bespotting van die nagmaal. Moenie dink jy kan lewe soos jy wil, omdat Jesus vir jou gesterf het nie. As jy met jou sonde aanhou sal jy self die beker van God se toorn moet drink (Openbaring 14:10). Bely dan jou sonde, bekeer jou, en rus in volle vertroue op Jesus se kruisdood en opstanding.

 

[8] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit aanbid asof dit towerkrag het, en dit nie sien as iets wat na Jesus toe wys nie. Die Katolieke beskou die nagmaal as ‘n offer wat ons sondes vergewe. Sekere Protestante maak asof die bloed van Jesus towermag het om hulle huise, karre, en kinders te beskerm. Party charismatiese Christene glo dat die nagmaal krag het om siektes te genees. Hulle fokus dus op die teken, en nie op dít waarvan die teken getuig nie.

 

[9] Jy ontheilig die nagmaal as jy dit gebruik of daarvan af wegbly op grond van hoe waardig jy voel, eerder as om ten volle op Jesus se perfekte kruisoffer te vertrou. Jy is soos iemand wat sê: ‘Ek voel nie goed nie, en daarom sal ek nie dokter toe gaan nie.’

 

Ontheilig jy die nagmaal? Die oplossing is nie om weg te bly, totdat jy reg voel nie. Jy moet juis nié wegbly nie, maar na die tafel toe kom om dinge reg te stel. As jy van die tafel af wegbly sê jy indirek dat jy dit nie wíl regstel nie, maar aanhou met jou sonde.

 

Die oplossing is om jou voor te berei soos hierbo verduidelik. Selfs as jy jou vir die nagmaal voorberei het, moet jy nie op jou voorbereiding vertrou nie, maar op Jesus alleen. Ook jou gebede en jou belydenis moet gewas wees in die bloed van Jesus. Ja, wanneer jy by die tafel aansit moet jy besef dat jy ‘n ellendige sondaar is. Maar fokus op Jesus se kruisdood en nie op jou sonde nie. ‘For every one look at sin, take ten looks at Christ.’ (Edward Welch).

 

Hoekom moet jy nie die nagmaal ontheilig nie? Jy sal siek word, sterf, of saam met die wêreld geoordeel word as jy jou nie bekeer nie (v.30, 32).

 

Toe ek op Seminarium was het een van my dosente ons vertel van ‘n jong student wat op Cornelia moes preek. By die nagmaaltafel het hy ‘n stoel nader getrek. Hy het sy voete oor die stoel laat rus en vir die mense gesê: ‘Ek gaan nie vandag vir julle preek nie. Ek wil net ‘n bietjie met julle gesels.’ Die mense was baie ontsteld.

 

Dalk dink jy dat uiterlike aksies nie saakmaak nie. ‘God kyk na die hart,’ sê jy. Jy’s reg. Tog sal iemand wat in sy hart eerbied en liefde het vir Jesus en die evangelie, dit uiterlik wys deur hoe hy met die nagmaal omgaan.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.71

[2] Hofius in David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.546

[3] Paulus het nie sy lering oor die nagmaal by die ander apostels gekry nie. 1 Korintiërs is waarskynlik voor enige van die Evangelies geskryf.

[4] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.69

[5] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.68

[6] Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, pp.62-63

[7] Thomas Watson, The Lord’s Supper, p.40