God se wette tot jou voordeel

Feast

Matilda is ‘n tipiese tiener. Sy haat die reëls in haar huis en skool. Sy is soos ‘n seun wat op die skooltoer vir die onderwyser gesê het: ‘Rules are there to be broken!’ Ouers en onderwysers is wyser as dit, en weet dat reëls vir almal se beswil en voordeel bestaan.

 

Natuurlik kan daar menslike reëls wees wat onnodig en nadelig is. Maar dit is nooit so met Gód se reëls nie: dit is altyd tot óns voordeel en sý eer. As jy dít verstaan en navolg, sal jy die grootste vryheid, vreugde, en sekuriteit ervaar.

 

In Deuteronomium 5:33 sê die Here: “In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.” Psalm 119:45 sê: “I will live in perfect freedom, because I try to obey your teachings.” (TEV).

 

En dis ook die punt wat God in Eksodus 23:10-19 maak.

 

Rus (v.10-12)

Arrie is ‘n beesboer. Hy deel sy plaas op in kampe. As die beeste een kamp kaal gevreet het, skuif hy hulle na ‘n ander kamp, sodat die eerste kamp se gras weer kan groei. Dis die beginsel in v.10-11.

 

Die volk moes vir ses jaar ploeg, saai, en oes, en in die sewende jaar die grond laat rus (v.10-11, Levitikus 25:3-5). Só kon die grond wat uitgeput is, weer die minerale en voedingstowwe daarin herwin (onthou dat hulle nie kunsmis en ander chemikalieë gehad het nie). Op dié manier kon jou ploeg-os en pakdonkie ook rus (v.11).

 

Die armes kon van die lande, boorde, en wingerde af eet, en wat húlle gelos het kon die wilde diere eet (v.11, Levitikus 25:5-6). So het God vir die diere van die veld gesorg (Psalm 104:27-28, Matteus 6:26). Ons weet nie of die Sabbatsjaar op dieselfde tyd oor die hele land geval het nie. Indien nie, sou die armes en wilde diere jaar na jaar kon eet. Jare later het God die volk gestraf omdat hulle die Sabbatsjaar geminag het (2 Kronieke 36:21).

 

‘n Vrou wat in ons kerk was het twee jaar gelede langverlof gekry. Buiten vir haar gewone verlof, het sy 54 dae af gekry. Miskien wens jy vir so baie verlof. Besef jy dat God vir jou 52 dae per jaar af gee?

 

Die Sabbatswet vir weke werk byna soos die Sabbatswet vir jare: werk ses dae en rus een. God het die wêreld met hierdie siklus geskep (v.12, 20:8-11, Genesis 1-2). Ons moet die Sabbat nie as ‘n straf sien nie, maar as ‘n geskenk van rus en verfrissing, sodat ons ons kragte kan herwin om effektief te werk in die res van die week. Nie net ons liggame nie, maar ook ons gees word verkwik.

 

God sorg selfs vir die diere. Weereens kan jou ploeg-os en pakdonkie rus. Hulle kan vrylik wei en hulle kragte herwin (v.12). God sorg ook vir vreemdelinge en slawe: hulle hoef nie hout te kap, water te dra, in die lande of die huis te werk nie.

 

Selfs in die Nuwe Testament moet ons die Sabbat-beginsel volg. God is nie ‘n harde Meester nie, maar gee vir ons rus. Ons moet soos Hy wees (v.12). Laat die mense wat in jou winkel, fabriek, garage, tuin, en huis werk op Sondae rus. Gee vir jou kinders rus van huiswerk en voorbereiding vir eksamens. Laat hulle ‘n breek neem, sodat hulle breins kan rus. Ek wil nie wette maak van wat jy mag doen en wat nie. Net-nou raak ek belaglik soos die moderne Jode wat nie ‘n lig mag aansit, of ‘n hysbak se knoppie mag druk op die Sabbat nie. Ek glo tog ons moet rus en ook die mense wat vir ons werk in ag neem.

 

As ons die Sabbatsrus eer sal daar baie minder stresverwante siektes wees. Ons moet onsself egter nie daarteen blindstaar dat die Sabbat net ‘n skadubeeld is nie. Daarom moet ons rus vir ons siele soek en vind in Jesus (Kolossense 2:16-17, Matteus 11:28-29, Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13).

 

Afgode (v.13)

Het jy al opgelet hoe lyk lande waar Islam heers (Irak, Afghanistan, ens.)? Hoe lyk lande waar ateïsme en kommunisme oorneem (die ou VSSR)? En wat van lande waar humanisme heers (kyk maar na die morele verval in die weste)? En lande waar Afrika-godsdienste en Hinduïsme heers? Of lande waar die Rooms-Katolieke heers (kyk na die armoede in Meksiko)? Hoe lyk ‘n land waar Bybelse Christenskap ‘n baie sterk invloed gehad het? Dié land het ‘n sterk ekonomie, rykdom, en hoë morele waardes. Om afgode te aanbid is sleg vir die samelewing. Om die ware God te aanbid is goed vir enige samelewing. Dink maar aan Suid-Afrika en Amerika in vroeër jare.

 

Die volk moes let op elke woord wat God gegee het (v.13). God het deur Josua gesê: “Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die HERE, julle beveel het, om die HERE julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.” (Josua 22:5).

 

Die heel eerste van hierdie wette sê dat Jahwe die enigste God is (v.13, 20:3). Daarom moet jy nie ander gode se name op jou lippe neem, praat asof hul ware gode is of gelyk is met Jahwe nie, by hulle sweer, voor hulle buig en hulle aanbid, navraag doen om soveel as moontlik oor hulle te leer, vir jou kinders hiervan leer, of met ‘n heiden trou en tydens die seremonie die afgod se naam bely nie (v.13).

 

“Dan verwyder Ek die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.” (Hosea 2:16). “dat julle met hierdie nasies wat met julle saam oorgebly het, nie meng nie; julle mag ook die naam van hulle gode nie vermeld en daarby nie laat sweer nie, en julle mag hulle nie dien en julle voor hulle nie neerbuig nie” (Josua 23:7).

 

Moenie God en afgode op dieselfde vlak plaas nie. In die Ou Testament het ouers hulle kinders vir Moleg geoffer. Vandag nog doen Christen-ouers dit ‘spreekwoordelik’. Hulle gee nie om dat hulle kinders in die skool leer dat Christenskap en ander godsdienste gelyk is nie. Hulle gee nie om dat evolusie vir ‘n feit geleer word en die skepping as ‘n storie nie. God sal van jou rekenskap eis. Dis ‘n ander saak as die skool Christen-gebasseer is en hierdie dinge as foute uitwys, maar die Bybelse waarheid vir jou kinders leer.

 

Moenie die leuen glo wat sê alle paaie lei na God toe nie: ‘Ons kan almal maar saam bid.’ Nee. Jesus is die enigste Weg (Handelinge 4:12, Johannes 14:6). Rooi, swart, en blou kan nie almal rooi wees nie. Bybelse Christenskap verskil uiteenlopend van Islam, Hinduïsme, Katolisisme, ateïsme, ander godsdienste. R.C. Sproul sê: ‘I’m sure it rankles God Almighty to hear any human being even mention Buddha in same breath with Jesus Christ.’ Mense wat ander gode dien en by hulle sweer sal baie smarte hê (Psalm 16:4).

 

Feeste (v.14-19)

Die Engelse spreekwoord sê: ‘All work and no play makes Jack a dull boy.’ Om hierdie rede het die Here beveel dat die volk gereeld feeste moes hou, sodat hulle ‘n wegbreek kon geniet, vakansie kon hou, vrolik kon wees, en hulle siele kon verfris. Ek weet hoe verrykend dit is om ‘n predikantekonferensie of goeie kerkkamp by te woon. Maar let tog op dat dit net ‘n paar feeste per jaar was. Dit leer vir ons die teenkant: ‘All play and no work makes Jack a fat, lazy, and unhealthy boy.’

 

Die volk moes drie keer per jaar fees hou. Daar is nóg feeste wat in Levitikus 23 genoem word, maar hierdie was die drie grotes. As hoofde van hulle huishoudings, moes al die mans daar wees (v.14, 17). Dié feeste was byna soos ‘n lanknaweek of verlof. Die feeste moes aan die Here gehou word (v.14). Die fees het dan nie net hulle liggame nie, maar ook hulle siele verkwik en verfris (Deuteronomium 16:6, 8, Levitikus 23). Volgens Deuteronomium 16:5-6, 16 sou die feeste in Jerusalem gehou word.

 

Ons moet ‘n balans vind tussen werk en rus. Waar is jy op die skaal? Werk jy angstig? Aanbid jy werk? Die werk sal nie weghardloop nie. God is nie kwaad vir jou omdat jy nie 24/7 werk nie. Jy sal nie op jou sterfbed spyt wees dat jy tyd met jou familie en Jesus gehad het nie. “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!” (Psalm 127:2).

 

Is jy dalk iemand wat daarvan hou om elke dag laat te slaap? Is jy lui? Mors jy ure op Facebook? Vir jóú sê die Bybel:

 

“Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd. Hoe lank, luiaard, sal jy bly lê, wanneer sal jy opstaan uit jou slaap? Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus! So kom dan jou armoede soos ‘n rondloper en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 6:6-11).

 

“Ek het by die land van ‘n lui man verbygeloop en langs die wingerd van ‘n verstandelose mens, en kyk, dit was heeltemal toegegroei van die dorings, sy oppervlakte was oordek met brandnekels en sy klipmuur omgegooi. En ek het dit aanskou, ja, daarop gelet, gekyk, en lering aangeneem: Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie hande-vou om uit te rus; dan kom jou armoede aangeloop en jou gebrek soos ‘n gewapende man.” (Spreuke 24:30-34).

 

Hoe lyk jou gebeslewe, jou Bybelstudie, jou huwelik, jou gesin, jou voorkoms, jou huis, jou tuin, jou wasgoed, jou skottelgoed, jou kar, jou pligte by die werk? Is dit met onkruid oortrek omdat jy lui is?

 

Toe ek 11 was het Louis Trichardt ‘n Rooivleisfees gehad. Ek onthou stalletjies, koeldranke, jaffels, pannekoeke, worsbroodjies, groot beeste, Mej. Suid-Afrika (Suzette van der Merwe), spookasem, tombola, skoolmaats, mense soos miere, sakgeld, ‘n springkasteel, skoene en klere te koop, en nóg meer.

 

Dit gee vir jou ‘n idee van die feestelike atmosfeer in Jerusalem. Drie keer per jaar was daar duisende mense, die aroma van varsgebakte brood, die reuk van bees-, skaap-, en bokvleis, gebraaide koring, lofsange, blydskap, en danksegging vir God se verlossing, rus, mededeelsaamheid, trosse druiwe, olywe, granate, tente wat van groen takke gemaak is, Skriflesings, gebede.

 

[1] Die Paasfees of Fees van Ongesuurde Brode is gehou op 14 Abib; die volk mag vir sewe dae geen suurdeeg by hulle gehad het nie (v.15, hfst.12-13, Deuteronomium 16:1-8). Die eerste en sewende dae van die Fees is as ‘n Sabbat gehou (v.12, Deuteronomium 16:8, Levitikus 23:7-8).

 

Die ongesuurde brood moes hulle daaraan herinner dat hulle haastig uit Egipte weg is: daar was nie tyd vir die deeg om te gis of te ruis nie (12:34, 39, Deuteronomium 16:3). By die Fees moes hulle ‘n offer bring om die Here te dank vir hulle redding, en daarom moes niemand met nie leë hande kom nie (v.15, Deuteronomium 16:6-8, Levitikus 23:8).

 

[2] Die Fees van die Oes is sewe weke of 50 dae na die Paasfees gehou (Levitikus 23:15-16). Daarom is dit ook die Fees van Weke of Pinksterfees genoem (34:22, Handelinge 2:1). Die volk moes die eerstelinge van die koringoes aan die Here offer (v.16, Deuteronomium 16:9-10). God sou die res van hulle oes seën, sodat hulle skure vol was (Spreuke 3:9-10). Hulle moes dié dag as ‘n Sabbat hou en vrywillig vir die Here offer volgens die seën wat hulle ontvang het. Hulle moes Hom prys, vrolik eet, en met mekaar deel (Levitikus 23:17-21, Deuteronomium 16:10-11).

 

[3] Die Fees van Insameling is teen die jaar-einde voor die winter gehou op die vyftiende dag van die sewende maand. God het hulle geseën, sodat hulle die oes van hulle wingerde en dorsvloer kon bring om met die armes, weduwees, weeskinders, vreemdelinge, Leviete, slawe, seuns, en dogters te deel (v.16, Deuteronomium 16:13-15, Levitikus 23:39). Die Fees het sewe dae geduur. Die eerste en die agtste dag is as ‘n Sabbat gehou (Levitikus 23:35-36, 39).

 

Hierdie Fees is ook die Huttefees genoem. Hulle het tente gebou van palm-, wilger-, olyf-, wilde olyf-, en mirtebome se takke. So sou hulle onthou dat hulle in tente gebly het toe God hulle deur die woestyn gelei het (Levitikus 23:34, 40-43, Deuteronomium 16:16, Nehemia 9:15). Hulle sou ook onthou dat die woestyn nie hulle permanente huis was nie; God het hulle na die Beloofde Land toe gelei.

 

Die volk mag nie suurdeeg met hulle offers gemeng het nie (v.18, 15, Deuteronomium 16:2-4). Hulle moes ook die vet aan die Here geoffer het (v.18, Eksodus 12:10). Hulle moes die beste – nie die slegste nie – van hulle eerstevrug na die tent van die Here toe gebring het (v.19, 16, Levitikus 23:16, 10-11). Dié offers sou kos wees vir die Priesters en Leviete (Numeri 18:12-13).

 

Dalk wou iemand sagte vleis hê by die Fees en ‘n jong bokkie in melk kook. Indien wel, mag hy dit nie in sy ma se melk gekook het nie (v.19). Volgens opgrawings by Ras Shamra (antieke Ugarit) het bygelowige heidene dit gedoen om ‘n vrugbare oes te verseker.[1] God wou nie hê dat sy volk soos die heidene moes wees nie.

 

Ons moet ons voor God verbly saam met ander Christene. Jy doen dit nie deur terug te keer na die skadubeeld en weer die Ou Testament Feeste te hou nie. Die Hebrew Roots Movement doen dit, en baie charismate is lief daarvoor. Dank God eerder vir die volheid wat ons in Christus het. “Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” (Galasiërs 4:10). “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kolossense 2:16-17). As ons die volheid het, hou ons nie vas aan die skadubeeld nie.

 

Die Paasfees en Fees van Ongesuurde Brode is vervul in die kruis. Ons Paaslam is geslag en het deur sy kruisdood die suurdeeg van sonde weggevat (1 Korintiërs 5:7). Ons vier sy kruisdood in die nagmaal en nie in die Ou Testament feeste nie. Om dit reg te vier moet jy jou eie sonde bely, en deur kerktug die sonde verwyder wat soos suurdeeg versprei (1 Korintiërs 5:6, 8). Ons moet ook ontslae raak van die suurdeeg van skynheiligheid en vals lering (Matteus 16:11-12, Lukas 12:1, Galasiërs 5:9).

 

Die Fees van die Oes is vervul op Pinksterdag, sewe weke nadat Jesus opgestaan het. Jesus het sy Gees soos reën uitgestort, en op één dag ‘n oes van 3000 siele ingebring (Handellinge 2). Hy is steeds besig om ‘n groot oes uit die hele wêreld vir Hom in te samel.

 

Ons kan ploeg en saai, maar kan nie reën of groei gee nie. Net so kan ons werk en preek, maar ons kan nie een sondaar red nie. Bid dat Jesus weer sy Gees sal gee soos reën, dat daar sendingwerk, herlewing, bekerings, en ‘n groot oes sal wees. In 1630 het John Livingstone in Kirk O’ Shotts gepreek. Hy was benoud en het deur die nag gebid. Omtrent 500 mense is deur daardie preek verander en by die gemeentes gevoeg.[2]

 

Die Huttefees sal in die hemel en by Jesus se wederkoms vervul word (Sagaria 14:4-5, 9, 16). Toe Jesus op die berg verheerlik is, het Petrus gedink die Fees is vervul, en wou hy daar bly. “Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía.” (Matteus 17:4). Openbaring 7:9, 15 sê dat die Fees in die hemel vervul sal word. Ons sal palmtakke in ons hande hê as ons die Here prys; God se teenwoordigheid sal ons soos ‘n tent oorskadu.

 

In hemel sal Jesus die massas insamel soos ‘n oes. Dáár is die tyd van ‘n tydelike tentwoning verby, en sal ons in ‘n ewige paleis bly wat die rykste Hollywood sterre se huise soos pophuise laat lyk (Johannes 14:2, Hebreërs 11:9-10). Dáár sal ons ‘n vreugde hê wat die pyn en lyding van hierdie lewe oorskadu.

 

“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” (Jesaja 65:17).   “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4).

 

Dáár lewe ons nie in ‘n tent wat kan skeur nie, ‘n liggaam wat kan sterf nie. Dáár het ons ‘n ewige huis, ‘n nuwe liggaam wat nie kan siek word, moeg word, swak raak, oud word, hartseer wees, pyn beleef, en sterf nie. “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.” (2 Korintiërs 5:1). Jesus is die eerstevrug uit die graf en waarborg dat die res van die ‘oes’ ook sal inkom (v.19, 1 Korintiërs 15:20, 23). Soos Hý, sal ons ook uit die dood uit opstaan.

 

Hoekom moet ons die Here só saam met ander prys? Robert Murray M’Cheyne gee die antwoord: ‘Heaven will be all praise. If you cannot praise God you will never be there.’[3]

 

Nick is 5 jaar oud. Hy kuier vir ‘n maand op sy oom se privaat reservaat. Hy is vies: hy dink dat sy oom ‘n skadunet oor druiwe gesit het om hom uit te hou, ‘n elektriese heining om die kamp gesit het om hom in te perk. Hy verstaan nie dat die skadunet die voëls uithou, sodat hy lekker druiwe kan kry nie; dat die heining die leeus uithou sodat hy veilig sal wees nie. Net so kyk ‘n mens anders na God se wet as jy weet dit is eintlik nie tot jou nadeel nie, maar tot jou voordeel.

[1] The MacArthur Study Bible, p.128

[2] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.316-317

[3] Sermons of M’Cheyne, p.21

Advertisements