Verwarring oor die gawes

Man and question marks

Elke jong pianis wil die teorie oorslaan om gouer by die praktyk uit te kom. Net so wou die Korintiërs die gawes toepas sonder dat hulle die teorie reg verstaan het (1 Korintiërs 12:1-11). Dit verheerlik nie die Here as ons hierdie onderwerp ignoreer omdat dit te moeilik is, of omdat Christene hieroor verskil nie. Ons moet probeer om dit te verstaan, sodat ons dit reg kan toepas.

 

Die Gees en die geeste (v.1-3)

Party roem dat tale, ekstase, en val in die gees ‘n bewys is dat die Heilige Gees werksaam is. Die Kundalini kultus in Hinduïsme ervaar dieselfde as baie in die charismatiese beweging.[1] Oosterse misterie kultusse in die eerste eeu het ook hierdie ervarings gehad.[2] Hoe kan jy die Heilige Gees se werk uitken? Dit is die les in v.1-3.

 

Paulus het die Korintiërs se vrae oor die gawes beantwoord (v.1, 7:1). Die Grieks vir gawes [pneumatikos] beteken eenvoudig ‘die geestelikes’ en kan na geestelike gawes óf persone verwys. Soos baie charismate het die tale-sprekers in Korinte geglo dat hulle meer geestelik is [pneumatikos]. Paulus wou hulle teorie regstel, sodat die praktyk ook kon regkom: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.” (v.1).

 

Toe die Korintiërs nog heidene was het demone hulle verblind, sodat hulle agter stom gode aangehardloop het (v.2, 10:20, 2 Korintiërs 4:4, Habakkuk 2:18-19, Psalm 115:5). Dié wat Judaïste was kon onthou hoe demone hulle beïnvloed het sodat hulle in die sinagoge vir Jesus vervloek het (v.3).[3] Hulle het nie verstaan dat Hy vir óns sonde vervloek is nie (Galasiërs 3:13).

 

Demone kan ekstatiese ervarings na-aap. ‘n Egte ervaring van die Gees word nie aan ekstase gemeet nie, maar aan wat die persoon van Jesus sê (v.3). Die Heilige Gees sal nie vir Jesus vloek nie; Hy verheerlik Hom en getuig van Hom (Johannes 16:14, 15:26). Iemand wat in die Gees praat bely dat Jesus, nie die keiser nie, Jahwe of Here is. Dié belydenis beteken nie dat jy die woorde soos ‘n pappegaai kan opsê nie (Matteus 7:21-22, Lukas 6:46). Dit beteken eerder dat jy ‘n hartlike, persoonlike, en opregte belydenis maak dat Jesus die Here is (Romeine 10:9). Dit is dan nie die tale-sprekers wat geestelik is nie, maar almal wat Jesus as Here bely (v.2-3).

 

Dit is belangrik dat jy die Heilige Gees se werk kan uitken. Hoe doen jy dit? Die Gees is soos iemand wat agter jou staan en die kollig op Jesus skyn. Pasop as ‘n prediker baie van die Gees praat, en niks van Jesus nie. Dit is ‘n vals gees. Die Heilige Gees verhef Jesus in die liede, die preke, die nagmaal, gesprekke, getuienisse. Só onthou Spurgeon se vrou een van sy preke toe hy 20 was:

 

‘I remember, with strange vividness at this long distance of time, the Sunday evening when he preached from the text, ‘His Name shall endure forever.’ It was a subject in which he revelled, it was his chief delight to exalt his glorious Saviour and he seemed in that discourse to be pouring out his very soul and life in homage and adoration before his gracious King. But I really thought he would have died there, in face of all those people!

 

At the end of the sermon, he made a mighty effort to recover his voice; but utterance well-nigh failed, and only in broken accents could the pathetic peroration be heard, – ‘Let my name perish, but let Christ’s Name last for ever! Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all! you will not hear me say anything else. These are my last words in Exeter Hall for this time. Jesus! Jesus! Jesus! Crown Him Lord of all!’ and then he fell back almost fainting in the chair behind him.’[4]

 

Moenie val net omdat ‘n kerk Jesus se Naam noem nie: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matteus 7:21). Vra eerder: eer hulle Jesus as die heerlike Seun van God, gelyk met die Vader, die opgestane Here, die gekruisigde Verlosser, die God-mens?

 

Die Gewer en die gawes (v.4-11)

Elke sleutel van ‘n klavier verskil, en tog maak dit een melodie. So is dit met die liggaam. Daar is een Gees, een Here Jesus, en een God die Vader (die Drie-Eenheid) wat die krag is agter die geestelike gawes, dienste, en werkinge (v.4-6). ‘Drie Persone maar een God’ is ons bloudruk vir baie lede maar een liggaam (Efesiërs 4:4-7).

 

Elkeen het ‘n gawe gekry om die liggaam op te bou en die onsigbare Gees te openbaar (v.7). In ons teks lê die klem op die Gewer en nie op die gawes nie. Die Gees word nege keer genoem, en die Vader en die Seun vyf keer.

 

Wat is die geestelike gawes? Verskillende gawes word in v.8-10, 28, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:11 gelys. Die Gees gee gawes volgens elke kerk se behoefte. Die lys is basies en nie noodwendig volledig nie.

 

Gebruik jou gawe. Moet jouself nie bejammer en sê jy het nie ‘n gawe nie (v.7, Romeine 12:3). Ontdek jou gawe so:

 

  • Wat geniet jy om te doen?
  • Watter van jou dade bou die kerk op?
  • Waarvan sê ander: ‘Jy doen dit goed – dit help ons’?

 

Gebruik jou gawe om die kerk op te bou. Moenie selfsugtig wees soos mense wat hulle gawe vir hulleself hou en in hulle kamer in tale bid nie. Gebruik jy regtig jou gawe of is jy maar net ‘n toeskouer? As jy nie jou gawe gebruik nie, sal dit roes. God sal van jou rekenskap eis en vra of jy jou gawe gebruik het.

 

Charles Spurgeon het by verskeie geleenthede na iemand in die gehoor gewys so iets gesê:[5] ‘Daar sit ‘n man wat ‘n skoenmaker is. Hy hou sy winkel oop op Sondae. Hy het laas Sondag sy winkel oop gehad en nege pennies gemaak, waarvan 4 pennies wins was. Hy is verbaas dat ek hom so akkuraat beskryf het. Hy sal sy winkel sluit en op Sondae kerk toe kom.’ Dit was presies soos wat Spurgeon gesê het. Die persoon het begin kerk toe kom en is gered. Oor sulke ondervindings skryf Spurgeon:

 

‘I could tell as many as a dozen similar cases in which I pointed at somebody in the hall without having the slightest knowledge of the person, or any idea that what I said was right, except that I believed I was moved by the Spirit to say it; and so striking has been my description, that the persons have gone away, and said to their friends, “Come, see a man who told me all things that ever I did, beyond a doubt, he must have been sent of God to my soul, or else he could not have described me so exactly.”’

 

Is dit profesie? Ek glo nie so. Ek dink eerder dat dit die gawe van kennis is.

 

[1] ‘n Woord van wysheid (v.8, 2:13). Hier gaan wysheid oor meer as net grys hare of lewenservaring, maar dit is ‘n bonatuurlike kennis (Jakobus 1:5, 3:13-17, Psalm 119:98-100). So iemand se wyse woorde help ‘n rigtinglose vergadering. Die persoon voorsien hindernisse en gevolge. Hy of sy gee wyse raad wat die res gemis het.

 

[2] ‘n Woord van kennis (v.8). Hierdie persoon kan gou ‘n register van die Skrif se lering gee oor enige onderwerp: gebed, ouerskap, verslawing, die skepping, vergifnis, ens. Dit is die tipe persoon wat goeie boeke skryf om die kerk te help (Romeine 15:14).

 

Hierdie gawe kan dalk verwys na iemand wat feite ken wat niemand vir hom of haar gesê het nie (Handelinge 5:3). Dit gebeur, sodat mense kan glo dat God waar is. Dit gebeur soms in preke, sodat jy dink die ds. ken jou omstandighede of gedagtes (14:24-25, Hebreërs 4:12-13).

 

Het jy die gawe van wysheid of kennis? Bou die kerk op daarmee. Maak jou mond oop in vergaderings. Gee raad, waarsku, skryf goeie materiaal. Moenie dink jy het hierdie gawe om mense seer te maak nie. Party mense dink hulle het ‘n sesde sintuig, of maak staat op hulle intuïsie. Hulle verdink ander mense en maak hulle seer. Ek ken ‘n vrou wat so is. Sy het voor ander mense vir my kollega gesê: ‘Jy lieg! Jy lieg!’ Sy was verkeerd. Die gawe van kennis beteken nie ons glo in nuwe openbaring nie. Ons mag nie by die Skrif byvoeg of wegvat nie (Deuteronomium 12:32).

 

Ons moenie van hierdie twee gawes vergeet nie. Ons het dikwels ‘n begeerte om die Gees se krag te sien, maar vergeet van sy kennis en wysheid.

 

George Müller het nie ‘n salaris ontvang nie, en het vertrou dat die Here vir Hom sal sorg. Ek ken ‘n Afrikaanse predikant wat so is. Ek dink dat hierdie mense die gawe van geloof het. Ek onthou twee kere wat God vir my hierdie gawe gegee het. Iemand het gevra ek moet ernstig saam bid vir reën in ‘n droë en baie warm Limpopo. Na my gebed het ek bo alle vertwyfeling geweet dat God my gebed gaan antwoord. Na ‘n lang droogte het dit dieselfde aand nog gereën.

 

‘n Ander keer was daar ‘n tyd van geestelike droogte in ons kerk. Ek het Matteus 7:7 gebid: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.” Na omtrent 20 minute van intense gebed het God se versekering skielik soos ‘n lig in my hart geskyn. Ek het met vaste sekerheid geweet dat God iets in die kerk gaan doen, en Hy het. Vir 3 maande het ons ‘n tyd van wonderlike voorspoed en seën geniet.

 

[3] Geloof (v.9). Geloof praat nie van die reddende geloof wat elke Christen het nie. Die gawe van geloof is ‘n absolute oortuiging dat God sy Woord in onmoontlike omstandighede sal vervul. Jakobus 5:15 praat van die gebed van geloof. Jesus het gesê: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matteus 21:21-22). God gebruik mense met hierdie gawe om twyfelaars te help.

 

Het jy die gawe van geloof? Gebruik dit om ander op te bou. Die gawe van geloof is nie om te glo jy gaan ‘n nuwe BMW kry nie; dis nie die vals geloof van Word of Faith predikers nie. Nee. Bid met geloof en vertroue oor die beloftes in God se Woord. Spoor twyfelaars aan. God se antwoorde op jou gebede sal almal se geloof versterk. Hoekom moet jy geloof hê? Want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Hebreërs 11:6).

 

Sam Storms vertel hoe hulle ouderlinge eenkeer vir ‘n siek baba met ernstige lewer probleme gebid het. Hy het sonder twyfel geweet het dat God die kind gaan genees. Die volgende dag het hy gehoor dat die seuntjie volkome genees is.[6] Storms glo dat dit die gawe van genesing was. Ek verskil en dink dit neig meer na die gawe van geloof.

 

[4] Gawes van genesinge (v.9). Die Grieks gebruik twee meervoude. Ek dink dit wys dalk dat God ‘n unieke gawe vir verskeie siektes gee. In die Skrif het God mense op verskillende maniere genees: ‘n woord, ‘n gebed, handoplegging, modder op die persoon se oë, ‘n skaduwee wat op mense val, sakdoeke wat mense aanraak, ‘n liggaam wat in water gewas word, en soms geen genesing nie (1 Timoteus 5:23, Filippense 2:27, 2 Timoteus 4:20).

 

[5] Kragtige werke (v.10). God gee dié gawe sodat ongelowiges hulle ore spits vir die evangelie, en sodat gelowiges God prys vir sy hulp in onmoontlike situasies. Kragtige werke verwys na demone wat uitgedryf word, mense wat met blindheid geslaan word, dooie wat opgewek word, water wat in wyn verander, brode en visse wat vermeerder word, ens.

 

‘n Wonderwerk is wanneer God bo en buite die wette van die natuur werk. Dit is nie so dat elke werk van God ‘n wonderwerk is nie, want dan is geen werk spesiaal of uniek nie. Wonderwerke word dikwels ook tekens genoem. Wonderwerke is ‘n teken wat Jesus se krag, heerlikheid, en Messiaskap wys (Johannes 2:11, 3:2, Matteus 11:3-5). Die apostels se wonderwerke het dieselfde gewys.

 

Verstaan die gawe van genesing en kragtige werke reg. Die gawe van genesing is nie as iemand met medisyne gesond word, oor ‘n tydperk van ‘n paar weke verbeter, minder pyn ervaar as voorheen, gesond word maar weer na ‘n tyd verswak nie. Die gawe van genesing is ook nie God se antwoord op die gebed van die ouderlinge in Jakobus 5 nie.

 

Baie mense dink hulle het die gawe van genesing. Hulle slaan tente op, vat mense se geld, genees mense se hoofpyne en rugpyne, genees nie organiese en sigbare kwale soos blindheid en kreupelheid nie. As hierdie mense regtig die siekes kan genees, hoekom gaan doen hulle dit nie in hospitale nie?

 

Party siektes word veroorsaak deur stres, angs, depressie, sonde, en demone (Lukas 13:16, 9:39, Matteus 15:22, Job 2:7, Spreuke 17:22, Psalm 38:4). Daarom gebeur dit soms dat mense genees word wanneer hulle die evangelie glo en gered word. Martyn Lloyd-Jones vertel só ‘n storie.

 

Drie dogters se ouers is op een slag dood. Die tragedie het hulle gebreek. Twee van die susters het Lloyd-Jones se kerk begin bywoon. Die derde sussie het tuis gebly. Vir baie jare was sy bedlêend en het sy nie beter geword nie. Die ander twee susters het vir Lloyd-Jones gevra om haar te besoek. Toe hy haar sien het dit gelyk of die duiwel deur haar oë kyk. Hy het haar ondersoek (hy was voorheen ‘n mediese dokter) en het gesê dat daar niks fout was nie. Hy het haar aangeraai om geleidelik te begin opstaan. Sy het sy raad gevolg. Sy het later kerk toe gekom. Voor lank het sy tot bekering gekom en is sy heeltemal genees.[7]

 

God genees nogsteeds bonatuurlik in antwoord op gebed (ek kan talle voorbeelde gee). Hy doen ook nogsteeds wonderwerke. Ek ken ‘n sendeling wat vir meer as ‘n jaar elke dag op dieselfde gasbottel gekook het. Die gas het eenvoudig nie opgeraak nie.

 

Maar doen God nog genesings en wonders deur mense wat die gawe het? Ek glo nie so nie. Hierdie gawes was spesifiek gee om te bevestig dat die apostels eg was, en dat hulle die ware evangelie verkondig het (sien 2 Korintiërs 12:12, Hebreërs 2:3-4). Baie mense sê dat so-en-so hierdie gawes het, en dat hulle dit op die sendingveld gebruik. Ek sal graag die bewyse wil hê.

 

Hoekom moet ons die gawe van genesing en kragtige werke reg verstaan? As jy dit nie reg verstaan nie, sal die duiwel jou uitvang. Demone kan hierdie dinge na-aap. Hulle kan ook wonders doen om mense te mislei (Matteus 7:22, 24:24, 2 Tessalonisense 2:9, Openbaring 13:13-14). Dink maar aan Simon die Towenaar wat baie mense mislei het (sien Handelinge 8). Dink ook aan towernaars wat nie maar net met oë verblindery besig is nie, maar wat met die hulp van bose geeste toertjies doen.

 

In 1315 het Jan Hus op die brandstapel gesê: ‘You may roast this goose [Hus is Tsjeggies vir ‘gans’], but a hundred years from now a swan will arise whose singing you will not be able to silence.’ ‘n Honderd jaar later het Martin Luther regverdigmaking deur die geloof alleen herontdek. Hy het geglo dat hy die swan was van wie Hus gepraat het.[8]

 

In die 1500’s het John Welch ‘n ryk man gewaarsku om op te hou om God se dag te ontheilig. Welch het gesê dat God hom sou uitwerp en sy rykdom wegneem indien hy nie wou ophou nie. Dit het presies so gebeur.[9]

 

Hierdie tipe dinge gebeur. Ek glo egter nie dat dit geïnspireerde profesie is nie. Dit is byna soos iemand wat vir ‘n dronkaard sê: ‘Jy gaan nog ‘n ongeluk maak en verlam word.’ As dit so gebeur sou ons nie sê dat dit geïnspireerde profesie is nie, maar die natuurlike gevolge van sy sondige optrede.

 

[6] Profesie (v.10). Profesie is om geïnspireerde woorde van te spreek, en nie net toekomsvoorspelling soos in Handelinge 11 nie. Omdat die Skrif voltooi is, is hierdie gawe nie meer nodig nie (Efesiërs 2:20, Hebreërs 1:1). Indien daar wel nog geïnspireerde profesieë is, is ons besig om by die Woord van God by te voeg (Openbaring 22:18-19).

 

Vandag is daar mense wat glo dat Nuwe Testament profesie anders is Ou Testament profesie, en dat dit detail foute bevat. Die Skrif onderskei egter nie tussen Ou- en Nuwe Testament profete nie.

 

Om teleurstelling te voorkoms, moet jy versigtig wees vir moderne profete. Die Skrif is God se finale profesie. Profesie met detail foute is gevaarlik. Op die manier het mense al hulle eiendom verkoop, werke gelos, getrek, en alles verloor. Kan Christene nie self met gebed, die Skrif, en die raad van volwasse gelowiges besluite neem nie? Is dit sonde as jy nie jou werk los, oppak en trek nie? Op wie se gesag moet jy hierdie dinge doen? Hoe weet jy of die profesie waar of vals is as jy dit nie aan die Skrif kan meet nie? Hoe weet jy dit is regtig Gód wat hierdie dinge sê?

 

Ek sê nie dat die Heilige Gees ons nie lei nie. Maar wees versigtig om te sê: ‘Die Here het vir my gesê,’ asof jy ‘n nuwe woord buite die Skrif gekry het. Mense wat verkeerde voorspellings maak is mislei of hulle is vals profete (ek sal meer oor profesie sê as ek hfst.14 preek).

 

In CUM kan jy ‘n boek van Benny Hinn koop langs ‘n boek van Spurgeon of John MacArthur. Dit is ‘n illustrasie van die moderne kerk: mense het nie die vermoë om te onderskei nie. Daarom is dit nodig vir die onderskeiding van geeste.

 

[7] Onderskeiding van geeste (v.10). Dit is die gawe om te onderskei tussen die ware en valse Jesus, die ware en valse evangelie, die ware Gees en vals geeste (Galasiërs 1:6, 2 Korintiërs 11:4). Iemand met hierdie gawe weeg wat die profete sê (14:29, 1 Tessalonisense 5:20-22). Hierdie gawe was nodig voordat die Nuwe Testament voltooi is, en daar is nogsteeds ‘n groot mate waarin ons dit vandag nodig het.

 

As jy hierdie gawe het moet jy die kerk daarmee help. Meet aan die Skrif of mense die ware Jesus verkondig (1 Johannes 4:1-3), en of hulle die leer van die apostels volg (1 Johannes 4:5-6). Ek is nie beïndruk met mense wat alewig nuwe interpretasies vind nie; mense wat die eeue-oue interpretasie weggooi nie. Die profeet sê: “So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.” (Jeremia 6:16).

 

Party mense onderskei beter as ander en moet die res help. Ek dink MacArthur is iemand wat die ‘issues’ duideliker raaksien as ander. Dit is baie nodig dat ons moet onderskei. Die duiwel doen homself immers voor as ‘n engel van die lig (2 Korintiërs 11:14).

 

In die tweede eeu het Montanus, Priscilla, Maximilla, en hulle volgelinge (die Montaniste) op ‘n wanordelike manier in wilde ekstase brabbel-tale gepraat. Die kerk het gesê hulle het ‘n vals gees en het hulle ge-ekskommunikeer.[10]

 

[8, 9] Allerhande tale, Uitleg van tale (v.10). Paulus lys hierdie gawes laaste omdat dit die minste belangrik was, en omdat die Korintiërs dit verhef het (v.28, 30). Die Grieks vir ‘allerhande’ is genos en praat van verskillende lande se tale (14:10-11, 21, Handelinge 2:5-11). Dit verwys nie na ‘n gebrabbel nie. Die NAV se ‘tale of klanke’ is misleidend en staan nie in die Grieks nie. Die gawe van tale bou net die kerk op as iemand dit vertaal en almal dit verstaan (hfst.14). Die vertaler self ken nie die taal nie, maar kry ‘n bonatuurlike gawe en vermoë om dit te vertaal.

 

Meet moderne tale-sprekers aan die Skrif:

 

  • Het party of almal in dié kerk hierdie gawe (v.10)?
  • Is daar ‘n uitleg (v.10, 14:27-28)?
  • Geskied dit ordelik (14:27, 40)?
  • Word die kerk opgebou, of gebruik hulle dit as ‘n private gebedstaal (v.7)?
  • Is dit ‘n gebrabbel of ander lande se tale (Handelinge 2:5-11)?

 

Ek glo dat die moderne gawe van tale onsin is. Ek sal meer hieroor sê as ek hfst.13 en 14 preek. As jy nie tale aan die Skrif meet nie, sal jy (soos hulle) emosie najaag eerder as om ander op te bou.

 

‘n Eks-charismatiese pastoor het vroeër vanjaar vir ons vertel dat hy vir 15 jaar die gawe van tale vir ander geleer het, en dit self ‘gefake’ het. Gawes is nie natuurlike talente nie, maar ‘n bonatuurlike bekragtiging van die Heilige Gees (v.11). Hy gee die gawes soos wat wil (v.11). Jy mag dit begeer en daarvoor vra (14:1), maar jy kan dit nie kunsmatig aanleer nie.

 

Erken dat die Gees soewerein is oor die gawes. Dank Hom vir jou en ander se gawes. Gebruik dit om die gemeente op te bou. As jy dink die gawe is uit jouself en jy die Gees nie erken nie, sal jy jaloers wees op ander se ‘beter’ gawes, of jy sal jouself verhef omdat jy ‘n ‘beter’ gawe het (soos wat die Korintiërs met die gawe van tale gedoen het).

 

Vroeër vanjaar het ek ‘n boek gelees oor die geestelike gawes. Verskillende outeurs het vier sienings oor die gawes bespreek. Elke skrywer het sterk punte gehad. Ek glo nie dat my siening (soos hierbo genoem, asook in die preke wat kom) al die antwoorde het nie. Daar is steeds dinge waaroor ek wonder. Maar sover ek dit verstaan, is hierdie siening die getrouste aan die Skrif.

[1] Sien Andrew Strorm se dokumentêr op YouTube.

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power, Part 1, p.29

[3] David Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, p.571

[4] Iain Murray, The Forgotten Spurgeon, p.41

[5] Sam Storms in Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.83, 201-203, 83. Ek ondersteun nie Storms se siening oor die gawes nie.

[6] In Wayne Grudem, ed., Are Miraculous Gifts for Today (Four Views)?, pp.213-214.

[7] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years (vol.1), p.263

[8] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, pp.31-32

[9] John Howie, The Scots Worthies, p.123 (sien pp.130-131 vir ‘n soortgelyke storie).

[10] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.105, 115