Jou deel en God se deel in verlossing

Grace

In die vyfde eeu het Augustinus teen die lering van Pelagius geskryf.[1] Pelagius het geglo dat almal by geboorte sondeloos is soos Adam. Hy het geglo God se genade is die vrye wil wat Hy aan almal gee, asook die morele wet en voorbeeld van Jesus wat wys hoe ons moet lewe. Hy het geglo dat enige goedheid in die mens geheel en al uit sy eie poging en vrye wil is; dat die hemel as beloning gegee word vir ‘n goeie lewe op aarde. In 431 n.C. het die Konsillie van Efese sy lering as dwaling verdoem.

 

Kort ná Pelagius het sommige teoloë gesê dat die Skrif ‘n middeweg leer: ons is in sonde gebore, maar is nie so sleg dat ons nie deur ons vrye wil redding kan kies nie. Die mens is soos ‘n sieke wat homself nie kan genees nie, maar kan uitroep om genees te word. God en die sondaar werk dus saam in verlossing. In teologie word dit sinergisme genoem.

 

Augustinus het gesê dat die sondaar geestelik dood is (Efesiërs 2:1). Eers as God hom tot nuwe lewe roep, kan hy in geloof reageer. Die sondaar is vry om te doen wat hy wil, maar sy wil is in sonde verstrik, sodat hy God en die goeie nie wil kies nie (Romeine 3:10-12). God moet die sondaar kies voor die sondaar Hom kies (Johannes 15:16). Die Afrikaanse gesang lui:

 

Voordat ek kon kies, kon vra,

het U Seun my vloek gedra.

Ek kon vind U’t my gekry,

voor ek nog my skuld bely.

 

Met ander woorde, God werk alleen om die sondaar tot redding te bring. Teoloë noem dit monergisme en dit is Bybels.

 

Sodra die sondaar egter vry en instaat is om reg te doen, glo ons die Skrif leer sinergisme. God help, lei, en bekragtig jou, maar jý moet in gehoorsaamheid reageer. Paulus sê: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:12-13). Eksodus 23:20-33 illustreer hierdie waarheid.

 

Jou deel

James is in graad 1. Sy ouers betaal sy skoolgeld, potlode, penne, kleurkryte, en boeke. Die juffrou leer vir hom die alfabet, somme, en hoe om mooi in te kleur. Sy kom selfs na sy bank toe, en verduidelik vir hom totdat hy verstaan. Hy kry alles wat nodig is om sy werk goed en reg te doen. Maar sy ouers en juffrou gaan nie vir hom dink of sy hand vat en vir hom skryf en inkleur nie.

 

So is dit met God. Deur sy Gees gee Hy vir jou alles wat jy nodig het om te volhard: krag, die gewilligheid, sy beloftes, die Woord en gebed. Tog gaan Hy nie vir jou volhard, jou van jou sonde bekeer, sy beloftes glo, die Bybel lees, bid, en gehoorsaam wees nie. Verskeie verse in hfst.23 illustreer dit.

 

Die volk moes God se stem deur die Engel gehoorsaam het, en nie rebels wees nie (v.21-22a). God se Engel sou nie hulle rebellie vergewe nie, maar hulle straf. God se heilige Naam, karakter, wese, Persoon, en openbaring was immers in Hom (v.21). Uit 3:2, 4, 14 kom ons agter dat hierdie Engel God self is: God se Naam is in Hom. In die Nuwe Testament leer ons dat die Engel Jesus is, want Hy openbaar die Vader aan ons (Johannes 1:18). Omdat die Engel sonde kan vergewe of vergifnis kan weerhou, wys dit weereens dat Hy God is (Josua 24:19, Markus 2:5, 7).

 

Omdat God Israel se vyande uitgewis het, het dit gewys dat Hy sterker as hulle gode is. Daarom was dit onlogies vir die Israeliete om voor hierdie gode te buig (v.24, 20:5). God se volk moes Hom nie dien soos wat die heidene hulle afgode aanbid het nie (v.24, Dt.12:30-31). Hulle moes eerder die heidene se afgodsbeelde en pilare tot stof vernietig het, sodat dit nie herstel kon word nie (v.24). Die volk moes nie eers die goud en silwer hou waarvan die gode gemaak was nie, want dit sou hulle versoek het om nóg gode te maak (Deuteronomium 7:25). Hulle moes God alleen dien (v.25).

 

God het sy volk verbied om ‘n verbond met hulle vyande of dié se gode te maak. Hulle mag nie met hulle getrou het, en ‘n verbond gemaak het om hulle gode te dien nie (soos wat ‘n Christen-vrou ‘n belofte moet maak om ‘n Moslem te word as sy met een trou). Die Israeliete moes sulke verbonde vermy (v.32). Elders sê die Here:

 

“As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy; en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie. Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg. Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.” (Deuteronomium 7:1-5).

 

Die volk mag nie ‘n eed gesweer het om nie hulle vyande dood te maak nie (sien Josua 9). Hulle moes die vyand heeltemal uitwis, want anders sou dié hulle van die Here af weglei agter ander gode aan. Saam met die afgodery sou hulle die volk versoek het om dronk te word, te ooreet, en losbandige seks te hê (v.33, 32:6). As hulle toegegee het, sou God húlle uitwis (v.33). Die afgode sou vir hulle ‘n strik gewees het wat tot baie smarte lei (v.33, Psalm 16:4).

 

Soos die volk hulle deel moes doen om in die Beloofde Land te kom, moet jy jou deel doen om in die hemel te kom: volhard. Hoe doen jy dit? Maak gebruik van die middele wat God gee:

 

  • Geloof (1 Petrus 1:5).
  • Die Woord en die evangelie (1 Korintiërs 15:1-2, 2 Petrus 1:19).
  • Gehoorsaamheid aan God se wil en ‘n heilige lewe (Hebreërs 12:14, Matteus 7:21, 2 Petrus 1:5-7, 10-11).
  • Gebed (Judas 20-21).
  • Die kerk (Matteus 18:17-18, 1 Johannes 2:19, Efesiërs 4:11-13).

 

In jou stryd met sonde moet jy nie krygsgevangenes neem nie; wees genadeloos en ongenaakbaar, en maak alles dood (Kolossense 3:5). Anders sal dit ‘n doring in jou vlees word. Daarby sal die Here jou nog tugtig ook (v.33). Wat is daardie een sonde wat soos ‘n rankplant aan jou vasklou; daardie een sonde wat jy net nie kan afskud nie? Dalk is dít die een sonde wat jou in die hel laat beland. Veg daarom met alles wat jy het in die krag van die Gees daarteen (Romeine 8:13).

 

Pasop vir die strik van vriende, vals leraars, ‘n kêrel of meisie wat jou van die ware God af wil weglei, sodat jy nie volhard nie (v.33, 1 Korintiërs 15:33, 2 Korintiërs 6:14-15, Matteus 7:14-15).

 

As jy nie jou deel gedoen het nie, moet jy nie kwaad wees vir God omdat Hy dit nie vir jou gedoen het nie. Moenie sê: ‘Hoekom het die Here nie gekeer dat ek sonde doen nie?’ God versoek niemand nie (Jakobus 1:13).

 

Hoekom moet jy volhard? Die Skrif sê dat net die mense wat volhard gered sal word en waarlik deel het aan Jesus (Matteus 10:22, Hebreërs 3:14).

 

God se deel

Jou deel en God se deel in verlossing werk so (onthou ek praat met mense wat reeds gered is): Hy gee vir jou ‘n gratis kar, petrol, olie, dienste, bande, herstel, padkos, en ‘n navigator wat met ‘n handleiding en kaart langs jou sit.

 

Die navigator sê uit die handleiding en kaart vir jou hoe die kar werk, wanneer jy dit moet diens, waar jy moet ry, watse hindernisse op die pad is, waarsku jou teen afdraai paaie en skelms op die pad, sê vir jou wanneer jy moet stop om te rus, verfris jou as jy moeg is, en bestraf jou as jy sleg bestuur.

 

Jou plig is om te bestuur, op die pad te kyk, vir hulp te vra as jy onseker is, en uit te kyk vir gevaar. Hy sal vir jou die krag gee, jou help om alles te doen, en jou veilig by jou bestemming uitbring. Dít is die balans wat Moses in hfst.23 leer.

 

God het sy Engel vooruit gestuur om die volk te lei, te versorg, te beskerm teen vyande, wilde diere, hitte, koue, honger, dors, en ander gevare (v.20). Weer leer ons dat Gód die Engel is wat hulle so gelei en bewaar het (14:19, 33:2, 19, Josua 5:13-15, Jesaja 63:9). Hý het hulle na die Beloofde Land toe gelei wat Hy vir hulle voorberei het (v.20).

 

As die volk God se Woord deur die Engel gehoorsaam het (Johannes 1:1), sou Hy hulle beskerm het; Hy sou nie hulle Vyand wees nie, maar hulle vyande se Vyand (v.22). God het mos vir Abraham gesê: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Genesis 12:3). Die Engel sou die inwoners van die land uitwis (v.23).

 

As Israel aan die Here getrou was sou Hy hulle seën met reën en goeie oeste (v.25, Deuteronomium 28:4-5, Maleagi 3:10, Matteus 6:33). Hy sou nie siekte, hongersnode, miskrame stuur nie, maar hulle sou baie kinders hê en hulle vee sou vrugbaar wees (v.25-26, Genesis 1:28, 30:1, Deuteronomium 7:14). Hulle sou ‘n lang en gelukkige lewe hê (v.26, Deuteronomium 5:33, Job 5:26, 42:17, kontr. Ps.55:24). Vir Christene is miskrame, armoede, onvrugbaarheid, droogte, en siekte nie ‘n straf nie. God belowe dat Hy dit vir ons voordeel sal uitwerk (Romeine 8:28).

 

God sou sy Engel, sy skrik, en perdebye vooruit stuur om die vyand uit te dryf (v.27-28, 23, Deuteronomium 2:25, Josua 2:9). Perdebye is dalk ‘n metafoor vir Farao se plunder-aanvalle wat die Kanaäniete uitgedun en verswak het, sodat hulle ‘n maklike prooi was vir Israel (vgl. Jesaja 7:18).

 

Ek dink egter dit is beter om perdebye letterlik te interpreteer. Jy kan nog teen ‘n leeu veg, maar nie eers ‘n swaard, spies, skild, boog, harnas, helm, of toring kan ‘n swart wolk van perdebye keer nie. ‘n Swerm perdebye kan jou maklik doodsteek. Dié vers leer vir ons dat God ook soewerein is oor klein dinge soos insekte.

 

Die vyand sou verward wees, vrees en vlug (v.27, Deuteronomium 7:23). God sou hulle egter nie in een jaar verdryf nie. Die volk sou nie gou genoeg die leë land kon vul nie. Wilde diere sou die leë huise, plase, lande, en wingerde oorneem. Hulle sou vroue, kinders, en slawe wat in die lande werk verskeur het (v.29, vgl. 2 Konings 17:25). God sou dus die vyand stukkie vir stukkie uitdryf, totdat die volk groot genoeg was om die land oor te neem (v.30).

 

Die land se grense was soos volg: die Rooisee in die Suid-Ooste, die Middellandse See in die Weste, die Eufraat rivier in die Noorde, en die Negeb woestyn in die Suide (v.31). Hierdie was die grense toe Salomo koning was. Hierdie vers leer vir ons dat God soewerein oor is landsgrense (Handelinge 17:26).

 

Gód het sy volk in die land ingelei, die vyand uitgedryf, en vir hulle krag gegee om te veg. Net so is dit Gód wat ons voorberei vir die hemel. My swaer het vir my gesê: ‘No man has the power to go to heaven.’ Soli Deo Gloria was die refrein van die Reformasie: Aan God alleen die eer. God bewerk alles wat nodig is vir verlossing, en gee ook vir ons die krag om ons deel te doen. Omdat dit so is, deel ons nie sy eer wanneer ons in die hemel kom nie (Jesaja 48:11). Ons sal nie 99 liedjies vir Jesus sing, en 1 vir onsself nie.

 

[1] Hý sal ons veilig in die hemel inbring (v.27, 2 Timoteus 4:18, Judas 24, 1 Tessalonisense 5:23).

 

[2] Hý het ons sonde weggevat deur sy kruisdood (1 Johannes 1:7).

 

[3] Hý skenk weergeboorte, geloof, en bekering (1 Petrus 1:3, Efesiërs 2:8-9, Filippense 1:29, Handelinge 5:31, 11:18).

 

[4] Hý maak ons heilig (Johannes 17:17, Efesiërs 5:26-27).

 

[5] Hý gee die Woord as ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet (Psalm 119:105).

 

[6] Hý het die Gees gegee om ons te troos, te lei en te help (Johannes 14:16).

 

[7] Hý het sy beloftes vir ons gegee (2 Petrus 1:4).

 

[8] Hý lei, leer en help ons om reg te bid (Romeine 8:26-27, Sagaria 12:10).

 

[9] Hý maak ons deel van sy kerk, sodat ons kan groei en geestelik volwasse kan word (1 Korintiërs 12:13, Efesiërs 4:13).

 

[10] Hý gee vir ons die krag en gewilligheid om gehoorsaam te wees en te volhard (Filippense 2:12-13).

 

Dit is reg dat jy jou deel moet doen. Moet egter nie op jouself vertrou nie, want sonder God is al jou pogings tevergeefs: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” (Psalm 127:1).

 

Hoekom vat God nie dadelik al jou sonde weg nie? As Hy dit doen sal jy laks word, lui wees, sluimer, en nie waaksaam wees vir Satan se aanvalle nie (v.29). God los ‘n bietjie sonde binne jou, sodat jy kan leer om te veg en gereed kan wees vir Satan as hy jou van buite af aanval (vgl. Rigters 3:1-2).

 

Net soos wat God jou voorberei vir die hemel, berei Hy die hemel voor vir jou (v.20, 25-26, 30, Johannes 14:2-3). Jy het geen aandeel hierin nie. Toe die volk die land ingeneem het, was daar reeds huise, boorde, landerye, wingerde, ens. (Deuteronomium 6:10-11). Gód het die land vir hulle voorberei.

 

So is dit met ons. Gód ontwerp en bou die hemelse stad wat sý heerlikheid weerkaats: die mure van jaspis, poorte van soliede pêrels, fondasie wat met groot blokke van verskillende edelstene gebou is, strate van suiwer goud, ‘n rivier so helder soos kristal, bome, vrugte, berge, mere, wyn, brood, ryk kosse, serafs, gerubs, engele, nuwe liggame, mak leeus, wolwe, bere, en luiperds, niks siekte, trane, sonde, goddelose mense, pyn, of dood nie (Hebreërs 11:10, Openbaring 21-22, Jesaja 11, 65).

 

Jou deel is om seker te maak jy kry die hemel as erfdeel en gaan nie hel toe nie: “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.” (2 Petrus 1:10-11).

 

Hoe kan jy seker wees jy gaan hemel toe? Kom deur Jesus. Glo die evangelie van sy kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood, en bekeer jou van jou sonde (Johannes 14:5-6, 3:16, 1 Korintiërs 6:9).

 

As jy nie God se deel in redding verstaan nie, sal jy dink jy is beter as mense wat nie gered is nie. Jy sal dink jy was beter en slimmer, omdat jý jou vrye wil gebruik het en hulle nie. Jy sal gedeeltelik in jouself wil roem, en nie in God alleen nie.

 

Augustinus het gesê: ‘Give me the grace [O Lord] to do as you command, and command me to do what you will!… O holy God…when your commands are obeyed, it is from you that we receive the power to obey them.’[2]

 

Net as jy glo dat selfs ons deel deur Gód se krag en genade kom, sal jy saam met Paulus sê: ‘Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.’ (Romeine 11:36).

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.247-252

[2] Geneem uit John Piper se audio-biografie oor die lewe van Augustinus. Dit is gratis beskikbaar by www.desiringGod.org