Die heel belangrikste ding in die kerk

Love God and others

Wyle Martin Holdt het vertel van ‘n predikant in Klerksdorp wat nie baie goed kon preek nie. Ten spyte van sy oppervlakkig inhoud was die kerk elke Sondag stampvol. Hoekom? Hy was lief vir mense. Hy het in die middel van die nag in sy Kombi deur die strate gery. As hy ‘n huis gesien het waar daar ligte brand, het hy gestop en gevra of alles reg is. Die mense was mal oor hom en wou deel wees van só ‘n gemeente.

Natuurlik is die waarheid baie belangrik, maar wat help Bybelse prediking sonder liefde? Sê die Skrif nie ons moet die waarheid in liefde praat nie (Efesiërs 4:15)? Jy kan baie begaafd wees sonder dat jy God en mense liefhet. Maar as jy ware liefde het, sal dit uitloop op baie ander goeie dinge. En dis juis om dié rede wat Paulus in 1 Korintiërs 13 sê dat die liefde belangriker is as enigiets anders.

Die afwesigheid van liefde (v.1-3)

Jerry Bridges illustreer die afwesigheid van liefde soos volg. Hy sê dit is soos ‘n papier vol van nulle – dit beteken niks. Maar sit nou ‘n nr.1 voor die eerste nul en skielik is jy oneindig ryk. Paulus gooi nie die gawes weg nie, maar wys hoe min dit werd is sonder liefde. Hy wil hê dat “alles by julle in liefde geskied.” (16:14).

Die gawes van die Gees sonder die vrug van die Gees help niks. Dit geld ook vir die Korintiërs se gunsteling gawe: tale (v.1).[1] ‘n Taal wat nie uitgelê word nie, raas soos ‘n ghong en is soos iemand wat op ‘n simbaal slaan en almal irriteer (v.1). Om dit te doen is liefdeloos en bou niemand op nie (v.1).

Die gawes van profesie, insig in alle geheimenisse (15:51, 14:2) kennis, en geloof sodat jy deur jou gebede groot struikelblokke kan versit (Markus 11:23-24), help niks as jy nie liefhet nie (v.2). Ongelowiges kan ook sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?” (Matteus 7:22). Sonder liefde is dit nie net jou gawes nie, maar jy self wat niks is (v.2). Dis nie jou groot gawes wat jou kenmerk nie, maar jou liefde.

Jy sal geen voordeel of beloning kry as jy al jou besittings vir die armes gee, of jouself aan ‘n martelaardood op ‘n brandstapel oorgee, maar nie liefhet nie (v.3, Matteus 19:21, 6:2, Daniël 3:28). Ja, dit is so dat liefde opoffer (1 Johannes 3:16-18, Efesiërs 5:25, Galasiërs 2:20, Romeine 5:6-8). Maar nie alle opoffering is liefde nie: kamikaze vlieëniers gee nie hulle lewens prys omdat hulle God of ander liefhet nie (v.3).

 

Die eienskappe van liefde (v.4-7)

Ek was eenkeer in ‘n vergadering met ‘n predikant wat sy vrou gelos het. ‘Wat is die finale rede waarom jy skei?’ het die vergadering gevra. Sy antwoord was: ‘Ek is nie meer lief vir my vrou nie.’ ‘n Ou predikant het kwaad geword en vir hom gesê: ‘Jy maak die huwelik goedkoop! Jy verstaan nie wat liefde is nie!’

Die wêreld sê: ‘Jy kan nie liefde soos ‘n lig aan- of af sit nie.’ Maar God beveel dat jy Hom en jou naaste moet liefhê (Lukas 10:27). Kan jy kies om God en jou naaste lief te hê of nie? Kan jy kies om geduldig, vriendelik, en goed gemanierd te wees of nie (v.4-7)? Liefde is nie ‘n warm gevoel nie, maar word sigbaar in praktiese dade (v.4-7).

Die vyftien kwaliteite in v.4-7 IS nie liefde nie, maar dit vloei wel daaruit. Die liefde bind baie ander kwaliteite saam (Kolossense 3:14). Paulus het hierdie lys mooi gekies om die Korintiërs te bestraf. Hulle het die teenoorgestelde gedoen van wat hierdie lys sê:

Hulle was ongeduldig, onvriendelik, jaloers, het in hulleself geroem, was arrogant, ongemanierd, het hulle eie voordeel gesoek, was bitter, het boek van die kwaad gehou, was bly oor sonde en nie oor die waarheid nie, het nie ander se sonde teen hulle verdra nie, het slegte dinge oor ander geglo, en het mekaar afgeskryf.

Ware liefde:

[1] Is geduldig soos wat God met sondaars is (Romeine 2:4, 1 Timoteus 1:16).

[2] Is vriendelik en gaaf soos wat God met ons is (Lukas 6:35, Efesiërs 4:32).

[3] Is nie jaloers soos wat die Korintiërs op mekaar was nie (3:3). Robert Murray M’Cheyene was ‘n predikant in Dundee in Skotland. Toe ‘n herlewing in sy afwesigheid onder William Burns uitbreek, was hy nie jaloers nie, maar het hy gejuig asof dit onder sy eie bediening gekom het.

[4] Roem nie in homself nie. Nick Needham skryf oor ‘n sekere Michael Psellus wat in die 11de eeu geleef het: ‘He was a true marvel of learning. Philosophy, theology, music, rhetoric, mathematics, astronomy, medicine, military strategy: nothing seemed to escape Psellus’s masterful mind – with the possible exception of humility, as he never lost any opportunity of telling everyone how great his knowledge and achievements were.’[2]

Mohammed Ali het gereeld oor sy boks vernuf geroem. Deesdae wys atlete met beide wysvingers na hulself as hulle wen. Kontrasteer dit met ‘n predikant in Europa wat altyd eers vir 10 of 20 minute oor jóú praat, voordat hy enigiets oor homself sê.

[5] Is nie – soos die Korintiërs – arrogant of opgeblase nie (4:6, 18, 19, 5:2, 8:1).

[6] Is nie ongemanierd nie. In 7:36 het hierdie selfde Griekse woord seksuele konnotasies. Iemand wat liefhet sal nie vuil dinge doen wat nie by ‘n Christen pas nie.

[7] Soek nie sy eie belang nie. In 10:24, 33 het Paulus gesê: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander… net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.”

Só het Paulus Timoteus met die vals leraars gekontrasteer: “Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; want hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie.” (Filippense 2:20-21). Jesus is die grootste voorbeeld van Iemand wat ander se belange bo sy eie gesoek het.

[8] Is nie bitter, kort van draad, of geïrriteerd nie, maar vergewe ander. Iemand wat liefhet is bereid om skade te ly (6:7).

[9] Hou nie boek van die kwaad nie. Iemand wat liefhet is soos God wat ander se sondes afskryf en dit nie teen hulle hou nie (Hebreërs 10:18, 2 Korintiërs 5:19).

[10] Is nie bly oor sonde nie. Paulus praat van ongelowiges wat “behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Tessalonisense 2:12). Ongelowiges hou daarvan as ander mense sonde doen (Romeine 1:32). Ongelowiges omsingel ‘n vyand en sê vir hulle vriende: ‘Slaan hom! Slaan hom!’ Christene treur oor ander se sonde (Matteus 5:4, Psalm 119:136, Jeremia 9:1, Lukas 19:41, Romeine 9:2).

[11] Is bly oor die waarheid soos Jesus wat Hom in Lukas 10:21 verheug het in die Gees.

[12, 15] Bedek en verdra alles. Paulus sou armoede verdra om nie die Korintiërs en ander gelowiges te belas nie (9:12). Jesus het die skande van die kruis verdra (Hebreërs 12:2). Paulus sou enige lyding deurmaak, sodat die uitverkorenes die evangelie kon hoor en gered word (2 Timoteus 2:10). God het ons sonde bedek en dit nie teen ons gehou nie (Romeine 3:25). Iemand wat liefhet volg hierdie voorbeeld en sien ander se sondes oor (Spreuke 10:12).

[13] Glo alles. Dit beteken nie liefde is naïef nie, maar dit glo die beste van ander en verwelkom nie skindernuus nie.

[14] Hoop alles. Iemand wat liefhet skryf nie maklik mense af nie, en sien hulle nie sommer as ‘n ‘hopeless case’ nie.

Die ewigheid van liefde (v.8-13)

Het jy al ooit vir jou kinders gevra: ‘As jy enigiets kon wens, wat sou jy wens?’ Wat antwoord hulle? Hulle sê so iets: ‘Ek wens vir ‘n beursie waarvan die geld nooit op raak nie … Ek wens vir ‘n boom met sjokolade aan, en as jy dit pluk groei daar net nuwe sjokolade – dit raak nooit op nie… Ek wens al my wense word waar… ens.’ Liefde duur vir ewig en is daarom beter as bonatuurlike gawes wat tydelik is (v.8-13).

Die liefde val, faal, en eindig nooit nie. Gawes soos tale, profesie, en kennis deur nuwe openbarings eindig wel (v.8). Paulus sê dat hierdie gawes sal eindig as die volmaakte gekom het (v.8, 10). Wat is die volmaakte? Party dink dit verwys na die hemel, terwyl ander sê dit verwys na die voltooiing van die Skrif. Die Nuwe Testament was nog nie klaar geskryf toe Paulus 1 Korintiërs 13 geskryf het nie. Ek glo ‘die volmaakte’ verwys na die voltooiing van die Nuwe Testament. Kom ek verduidelik hoekom ek so sê.

Die Griekse woord vir volmaakte in v.10 [teleion] beteken ook ‘volwasse’ soos in Efesiërs 4:13, Kolossense 1:28, Hebreërs 5:14. In v.11 bevestig Paulus dat dit die betekenis is, en dat hy self reeds volwasse is: “Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.” (v.11). In dié vers sê hy vir die Korintiërs om nie soos kinders te praat, te dink, te redeneer nie [Gk. logizomai is dieselfde woord as in v.5 waar hulle soos onvolwasse Christene boekgehou het van die kwaad]. Hulle moet volwasse word (v.11). In 14:20 sê Paulus: “Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes [teleion] in die verstand.”

Hulle moet, soos Paulus, die dinge van ‘n kind aflê (v.11). Die Grieks vir ‘aflê’ (v.11) is katargeo. Dit is dieselfde woord wat in v.10, 8 gebruik word van kennis en profesie wat ‘tot niet sal gaan’ wanneer die volmaakte of volwasse staat gekom het.

Die ‘ten dele’ gawes soos kennis en profesie gee nie vir ons ‘n helder openbaring nie, maar ‘n vae openbaring soos iemand wat sy gesig in ‘n antieke brons spieël sien (v.12, 9, vgl. Eksodus 38:8). Profesieë wat deur drome en visioene kom is vaag. Maar noudat God direk deur sy Seun in die Skrif gepraat het, sien ons van aangesig tot aangesig soos toe Hy direk met Moses of met die volk van die berg af gepraat het (v.12):

  • “Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE.” (Numeri 12:6-8).
  • “Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek.” (Eksodus 33:11).
  • “En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie” (Deuteronomium 34:10).
  • “Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek” (Deuteronomium 5:4).
  • “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1).

Kennis wat deur drome en visioene kom is vaag en onvolledig. Kennis wat deur ‘n volmaakte Skrif kom is volledig (v.12b). Party dink v.12b beteken dat ons op aarde ten dele ken, maar in die hemel die Here ten volle sal ken net soos Hy ons ten volle ken. Maar die teks sê nie dat ons God ten volle sal ken nie. Buitendien kán ons Hom nooit ten volle ken nie, omdat Hy oneindig is.  Verse 12a en 12b korrespondeer met mekaar, sodat ken en sien in die twee dele van die vers dieselfde is.

A Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel,

B maar eendag van aangesig tot aangesig.

A Nou ken ek ten dele,

B maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Terwyl ons gawes soos kennis en profesie het, sien en ken ons nie volkome nie. Die gawe van nuwe openbaringskennis is ‘ten dele’. As die volmaakte of volwasse staat gekom het, sal ons van aangesig tot aangesig sien en ten volle ken soos ons ten volle geken is.

Volledige kennis kom as ons God se volle openbaring in die Skrif het. Volwasse kennis kom as ons dié Woord gehoorsaam, omdat ons God en ons naaste liefhet (soos wat die konteks van hfst.13 ook aandui): “As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (8:2-3). Deuteronomium 34:10 praat van “Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het”. Noudat ons die volle openbaring van die Skrif het, het ons kennis volwasse geword, en sien ons van aangesig tot aangesig.

Geloof, hoop, en liefde vergaan nie soos die gawes nie (v.13, 8). By Jesus se wederkoms verander geloof in aanskoue en word ons hoop vervul. Die liefde bly egter vir ewig, want God IS liefde (v.13, 1 Johannes 4:8). Geen wonder dat Paulus kan sê: “die grootste hiervan is die liefde” (v.13) nie.

1 Korintiërs 13 se toepassing vir ons is duidelik: jaag die liefde na (14:1). Hoe doen jy dit? God moet eers sy liefde deur die Gees in jou hart uitstort (Romeine 5:5, Galasiërs 5:22). Jy moet liefde verstaan voordat jy dit vir ander kan gee (1 Johannes 3:16, 4:10-11, 19). As jy dít verstaan en ervaar het, moet jy hard bid en stry vir die vyftien kwaliteite wat Paulus in v.4-7 noem.

Wees geduldig as jy ly (Romeine 12:12) of met mense werk wat depressief is, stadig groei, en gedurig dieselfde sondes doen (1 Tessalonisense 5:14). Wees geduldig met jou huweliksmaat en kinders. Wees vriendelik. Moenie bekend staan as ‘n nors persoon nie. Moenie jaloers wees op ander nie, maar bid dat dit goed sal gaan met hulle huwelike, gesinne, omstandighede en finansies.

Moenie grootpraat nie (Spreuke 27:2), maar wees nederig soos Jesus (Filippense 2:3-8). Praat eerder groot van ander en van Jesus. Moenie opgeblase wees nie. Mense wys soms hoogmoed deur hulle duur klere, die manier wat hulle loop, en hulle neuse wat in die lug is (Jesaja 3:16-23). Moenie dink die wêreld moet voor jou buig nie. Moenie dink almal moet vir jou padgee as jy op die snelweg is, of kits diens gee as jy by die winkel of restaurant instap nie.

Moenie ongeskik wees nie, maar bewys goeie maniere teenoor vroue, ou mense, jou huweliksmaat, ander gelowiges, mense op die pad, kliënte, op die telefoon, en in e-posse. Moenie jou eie belang soek nie, maar doen wat ánder mense wil; soek ánder se voordeel (Filippense 2:4).

Moenie boekhou van die kwaad nie. Moenie mense se lelike smse en e-posse hou nie. Moenie die slegte dinge wat hulle teen jou gedoen het neerskryf nie. Moenie hierdie dinge in jou geheue bêre, sodat jy later weer die ou koeie kan opgrawe nie. Vergewe eerder, praat dinge uit, skryf dit af, moet dit nie ophaal nie. ‘As jy ‘n hond begrawe moet sy stert nie uitsteek nie.’ (Charles Spurgeon).

Moenie bly wees oor die kwaad nie. Moenie soos die media wees wat graag beroemdes se sondes uitblaker nie. Moenie ander se sonde geniet wat hulle in films, programme, en pornografie voor jou oë wil vertoon nie. Wees bly oor die waarheid. Wees bly as die evangelie die heidene bereik of as Christene geestelik groei en reg doen (2 Johannes 4, 3 Johannes 3-4).

Bedek ander se foute en verdra alles. Sien ander se sonde oor en los dit aan die Here om te vergeld. Verdra ook moeilike mense en situasies (2 Timoteus 2:24). Glo mooi dinge van ander mense, totdat die teendeel bewys word. Moenie te maklik mense se motiewe bevraagteken, of agterdogtig en skepties wees as iemand aan jou goed doen nie. Hoop alles. Het jy iemand afgeskryf omdat jy dink hulle sal nooit verander nie? ‘n Predikant het vertel van iemand wie se naam hy van sy gebedslys verwyder het. Die tippex was nog nie droog nie, toe oortuig die Heilige Gees hom om die naam terug te sit. Wat sou gebeur het as God jou afgeskryf het?

Hoe lyk jou liefde? Ek bely dat ek ver kort skiet.

[1] As hierdie preek jou pla is dit goed. Moet egter nie dat die preek jou nóú pla, maar later weer daarvan vergeet nie. Sorg dat jy haastig is om dinge reg te stel (Jakobus 1:22, Psalm 119:60).

[2] As jy trots is op jou eie liefde, is jy opgeblase en gaan dit slegter as wat jy dink (v.4). Bekeer jou en vra dat die Here jou sal help.

[3] Sê jy dat jy regtig lief is vir A of B, maar jy oortree v.4-7 in jou verhouding met hulle? Jy verstaan nie wat liefde is nie. Glo die evangelie, bid en lees oor die kruis, word gevul met die Heilige Gees, en oordink v.4-7.

[4] Weet jy dat jy kortkom in liefde, maar dit pla jou nie? Jou hart is so hard soos klip. Jy oortree die grootste gebod (Lukas 10:27). Bid dat God jou genadig sal wees en jou hart van klip sal smelt (Esegiël 36:26). Sê dankie dat Hy jou nie liefhet soos jy ander liefhet nie (Romeine 5:8). As jy jou nie bekeer nie sal jy hel toe gaan waar daar geen liefde is nie.

Hoekom moet jy liefde najaag? Sonder liefde beteken jou geestelike gawes, jou finansiële bydraes, en jy self niks. Alles op die aarde is tydelik; liefde is ewig.

Die Van Dyk gesin bly in ‘n huis met een kamer. Die ouers werk hard, maar is brandarm. Die kinders het nie speelgoed nie, maar speel met stokke en modder. Elkeen het ‘n stukkende paar skoene en twee stelle ou klere. Hulle eet gereeld droë brood, gekookte patats, en een keer in ses weke sopbene met min vleis aan. Hulle besit nie ‘n kar of ‘n fiets nie, en was nog nooit in hulle lewe met vakansie nie. Maar hulle is baie lief vir mekaar, groet mekaar vriendelik, en deel alles wat hulle kry. Die ouers speel met hulle kinders, bid saam met hulle, leer vir hulle die Bybel, vertel vir hulle stories, lag en huil saam met hulle.

Die Owen gesin is skatryk. Hulle bly in ‘n ryk buurt in ‘n 1300 m² huis. Hulle kinders kry alles wat hulle harte begeer: van vierwiel motorfietse tot hulle eie perde tot ‘n groot skerm TV in elkeen se kamer. Hul eet soos konings en het butlers en bediendes wat vir hulle werk. Die ouers besit ‘n Rolls Royce, super karre, en 4×4’s. Hulle dra die duurste klere en geniet oorsese vakansies.

Maar die ouers is so besig by die werk dat hulle nie hulle kinders sien nie. Selfs as hulle met ‘n oorsese vakansie is, is dit vir besigheid, en gee hulle vir die kinders honderde duisende rande om hulleself besig te hou. Die pa en ma woon in dieselfde huis, maar leef verby mekaar. Die atmosfeer is koud; liefde ontbreek.

Watter een van die twee gesinne sal jy wil wees? Hoekom? Want diep in jou hart weet jy: nie geld of enigiets anders is belangriker as liefde nie.

[1] Die tale van engele in v.1 verwys nie na ‘n charismatiese gebrabble nie. Paulus praat van die tale van mense en engele, asof dit dieselfde taal is. Handelinge 2:5-11 bevestig dat die gawe van tale ander lande se tale is.

[2] 2000 Years of Christ’s Power, vol.2, p.340