’n Prentjie van Jesus

Stencil of Jesus

Ek het gesien hoe man ’n onder vyf minute met dowwe oranje op ‘n groot swart bord verf. Die prent wat hy geverf het was onderstebo. Toe hy die bord omdraai, was dit Jesus se gesig met ‘n doringkroon op sy kop. Hy het nie die detail ingevul nie, maar met breë stroke geverf. Tog kon ‘n mens duidelik sien dit is Jesus. So is dit met die tabernakel in Eksodus 25. Jy kan nie die detail van Jesus se Persoon, lewe, en karakter sien nie, maar jy kan duidelik sien dis Hy.

 

Die tabernakel (v.1-9)

Ons hou jaarliks ‘n dankoffer Sondag waarin ons ‘n spesiale kollekte opneem. Ek onthou hoe opgewonde my kinders laasjaar was. In ons huisgodsdiens het hulle God daarvoor geprys. Hulle kon nie wag om te gee nie. So was die volk in v.1-9: hulle wou baie graag vir die Here se werk gee.

 

Moses was op die berg (24:18) en het daar die instruksies vir die tabernakel gekry (v.1-2, 20:19). Die volk moes vrywillig vir die bou van die tabernakel bydra (v.2, vgl. 1 Kronieke 29). Watse materiale het hulle nodig gehad?

 

[1] Edelmetale vir die kandelaar, tentpenne, basisse, oordekking van meubels, afwerkings op die hoëpriester se kleed: goud, silwer, en brons (v.3).

 

[2] Materiaal vir die priesters se klere, asook die binnekant van die tabernakel: blou, pers, rooi geweefde materiaal, en fyn linne. Die materiaal se kleur is verkry uit skulpvis, ‘n murex slak, en die coccus ilicis wurm se eiers en dop (v.4). Rooi, blou, en pers is koninklike kleure. Fyn linne is ‘n hoë kwaliteit materiaal wat deur Egiptiese adelikes gedra is.

 

[3] Dierevelle vir die tabernakel se buitekant (v.4-5): swart bokhare wat geweef is (dit is water bestand), gebreide ramsvelle wat rooibruin gekleur is, robbe of doegong[1] velle. Die Hebreeuse woord kan moontlik die velle van boerbokke, dolfyne, of ratels impliseer.

 

[4] Hout vir die meubels: akasia (v.5). ‘n Akasia is ‘n platkruin doringboom met digte hout wat nie graag deur insekte geëet word nie. Die hout is rooibruin met ‘n ligtebruin grein.

 

[5] Olies en speserye vir die lamp, wierook altaar, salwing van die priesters en parfuum (v.6). Arabië was bekend vir hul speserye.

 

[6] Edelstene vir die hoëpriester se borsplaat en skouers (v.7): oniksstene vir die skouers (hierdie stene kom in ‘n wye verskeidenheid kleure), twaalf soorte edelstene vir die borsplaat (28:17-20). Die volk het seker die materiale uit Egipte gekry (12:35-36).

 

Gee met gewillige hart. Onthou dat God sy Seun vir jóú gegee het (Johannes 3:16). Reageer dan in liefde en met ‘n dankbare hart (1 Johannes 4:19). Gee eers jouself voordat jy jou geld gee (2 Korintiërs 8:5). Moenie uit dwang gee, of dink jy staan onder die Ou Testament tiende-wet nie (sien my preke onder ‘Tiendes en Offergawes’). Gee volgens die voorspoed wat jy ontvang het (1 Korintiërs 16:2, 2 Korintiërs 9:7). Moenie gee omdat jy skuldig voel nie. Moenie met ‘n toe vuis gee nie, maar met ‘n oop en vrygewige hand (2 Korintiërs 9:6, Romeine 12:8). Hoekom moet jy só gee? Want die Skrif sê God het ‘n blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

Een van my vriende het vir my gesê: ‘Ek haat dit om van my vrou af weg te wees. Ek sou veel eerder saam met my vrou wees as met enige van my vriende. Ek geniet dit vreeslik om in haar teenwoordigheid te wees.’ Net so kan God nie naby genoeg aan sy volk wees nie. Hy kom nader en nader en nader tot in die Nuwe Testament en uiteindelik in die hemel.

 

Die volk moes ‘n heiligdom vir die Here bou, sodat Hy by hulle kon wees: God wou in hulle midde wees en nie in ‘n wolk op berg Horeb nie (v.8, 24:16): “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees… Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel… dan sal Ek onder die kinders van Israel woon en my volk Israel nie verlaat nie.” (29:45, Levitikus 16:2, 1 Konings 6:13).

 

Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy onder sy mense kom woon. Die Grieks van Johannes 1:14 sê letterlik dat Hy onder ons kom ‘tabernakel’ het. 2 Korintiërs 6:16 gaan selfs verder: “Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Uiteindelik sal God vir ewig in ons midde wees in die hemel: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3).

 

Vra vir die Here om naby jou te wees. Hoe doen ‘n mens dit?

 

  • Jy bely jou sonde en bekeer jou daarvan: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8).
  • Bid gereeld, want die Here is naby aan almal wat Hom aanroep in waarheid (Psalm 145:18, Deuteronomium 4:7).
  • Bid Efesiërs 3:16-17 dat God jou deur sy Gees versterk, sodat Christus in jou hart kan woon.
  • God gebruik beproewing om jou nader aan Hom te bring (Psalm 34:19). Moet dan nie teen Hom veg en so gou moontlik die beproewing agter die rug wil kry nie: “Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Psalm 32:9).
  • Wees nederig, want God woon naby sulkes (Jesaja 57:15).

 

Hoekom moet jy vir die Here vra om naby jou te wees? Want dit is naby Hóm wat jy die grootste vrede en vreugde vind.

 

Vandag is daar ‘n beweging waarin Christene vir ongelowiges vra wat hulle in ‘n kerk soek, en die kerk daarvolgens inrig, sodat mense gemaklik kan voel. God wil hê ons moet Hom aanbid soos wat Hy sê, en nie soos wat mense wil hê nie. Die volk moes die tabernakel en sy meubels presies maak volgens die model wat God vir Moses gewys het (26:30, 27:8, 36:1, 39:1, 5, 7, 21, 26, 29, 31, 42, 40:16, 19, 21, 23, 25, 27, 29, 32). Hierdie model was maar ‘n skadubeeld van die ware tabernakel in die hemel (Hebreërs 9:23-24, 5, 8:2, 5).

 

Moses moes die Argitek se tekenplan volg, en nie sê: ‘Laat ons die tabernakel bou volgens die plan, maar ons kan ook enige ekstras aanlas wat God nie eksplisiet verbied het nie.’ Net so moet ons die Here aanbid volgens sý presiese voorskrifte in die Bybel, en nie volgens alles wat Hy nie eksplisiet in die Skrif verbied het nie (v.9). In teologie sê ons: ‘Ons aanbid die Here volgens die regulatiewe beginsel en nie volgens die normatiewe beginsel nie.’

 

Prakties beteken dit ons lees, preek, sing, bid, en sien die Bybel in elke erediens (1 Timoteus 4:13, 2 Timoteus 4:2, Kolossense 3:16, Matteus 6:9-13, Handelinge 4:24-26, Romeine 6:3-4, 1 Korintiërs 11:23-26). Hoekom moet ons die regulatiewe beginsel volg? Want as ons dit nié doen nie, oortree ons die tweede gebod (20:4-6), en aanbid ons die ware God op ‘n valse manier.

 

Die ark (v.10-22)

‘n Man het eendag gehoor dat my vrou koeke bak en in ‘n grap gesê dat sy ‘n koek moet bak, en ‘n klein ark met gerubs op bo-op die koek moet sit. Sy gewete het hom onmiddellik getref, sodat hy gesê het: ‘My hart is so pervers dat ek lag oor iets wat heilig was in die Ou Testament.’ Hy was reg.

 

Van al die meubels in die tabernakel word die ark eerste genoem, omdat dit die troon van God was (2 Samuel 6:2). Dit was ‘n boks wat van akasia hout gemaak is: 112,5 x 67,5 x 67,5 cm hoog (‘n el was 45 cm). Dit was binne en buite met suiwer goud oordek. Daar was ‘n goue rand om die kant. Dit wys vir ons dat God nie net funksioneel is nie: Hy hou van kunstige en pragtige werk – soos in die skepping – wat sy skoonheid en heerlikheid weerspieël (vgl. 28:2).

 

Daar moes vier goue ringe aan die vier voete wees (hier is die skets verkeerd). Die akasia pale moes met goud oordek word en deur die ringe gesteek word, sodat die Leviete die ark op hulle skouers kon dra – hulle mag nie aan die ark geraak het nie (1 Konings 8:8, 1 Kronieke 13:7-10, 15:13-15). Moses het die klip tafels met die Tien Gebooie van die Getuienis binne-in die ark gesit (Hebreërs 9:4).

 

Bo-op die ark moes ‘n versoendeksel van soliede goud gemaak word (112,5 x 67,5 cm). Op die Dag van Versoening het die hoëpriester dié deksel sewe keer met bloed gesprinkel (Levitikus 16:16). Die versoendeksel staan dus tussen die volk en God se gebreekte wet. In die Nuwe Testament sprinkel Jesus sy bloed as versoening tussen ons en God se gebreekte wet (1 Johannes 2:1-2).

 

Aan die kant van die deksel was daar twee gerubs wat met hulle vlerke aan mekaar geraak het (Hebreërs 9:5). Hierdie is in Jesus vervul, toe daar twee engele aan beide kante van sy graf gestaan het (Johannes 20:12). ‘n Gerub is ‘n hemelwese wat lyk soos ‘n mens, ‘n leeu, ‘n bees, en ‘n arend (Esegiël 1, 10, Openbaring 4). Die gerubs het God aanbid en ook sy troon teen die mens se besmette hande bewaak (Genesis 3:24, Openbaring 4:6b). Hulle vlerke was gesprei, sodat God dit as sy troon kon gebruik (1 Samuel 4:4). Hulle gesigte was na onder gedraai, omdat hulle God in sy heerlikheid nie kon aanskou nie (Jesaja 6:2). God het Moses hiér ontmoet en met hom gepraat (v.22, Numeri 7:89, Psalm 99).

Ark of Covenant

Kom in God se troonkamer in. Kom in deur die bloed van Jesus, ons versoendeksel, en deur die geskeurde voorhangsel (Hebreërs 10:19-22). Kom in gebed (Hebreërs 4:16). Kom met ‘n rein hart (Hebreërs 10:22). Kom met vrees en eerbied (Hebreërs 12:28-29). Kom met vrymoedigheid en geloof dat God jou nie sal doodmaak nie, maar sal aanvaar deur Jesus (Hebreërs 4:16, 10:22). Kom in en sien die heerlikheid van Iemand wat groter is as Salomo. As jy Hom, sy troon, sy troonkamer, sy diensknegte, sy rykdom sien, sal jou asem weggeslaan wees (1 Konings 10:4-7).

 

Die tafel (v.23-30)

As boemelaars aan my deur klop vra hulle dikwels só vir kos: ‘Ek vra net ‘n stukkie brood.’ As iemand baie arm is, sê hy: ‘Ek kan nie eers brood op my tafel sit nie.’ Brood is ‘n metafoor vir jou basiese lewensbehoeftes. Dis die punt van die tafel met toonbrode: God voorsien vir sy volk.

 

Die tafel was van akasia hout gemaak: 90 x 45 x 67,5 cm hoog. Dit is oordek met suiwer goud, het ‘n goue rand gehad, en kante soos ‘n snoekertafel wat 7.5 cm bo die blad moes uitsteek. Daar was ‘n rand van fyngoud om hierdie lys. Daar was ook goue ringe net onder die blad op die tafel se vier bene. Pale van akasia hout wat met goud oordek is moes deur die ringe gaan, sodat die Leviete dit op hulle skouers kon dra.

 

Daar moes ook goue borde, rookpanne vir die wierook, kanne en bekers vir die drankoffers wees. Daar was ‘n blou tafeldoek oor die tafel (Numeri 4:7). Die instrumente en brode moes op die tafel wees. Elke Sabbat moes daar 12 vars brode (in twee hope van ses) met wierook bo-op op die tafel wees. Die priesters kon hiervan eet (Levitikus 24:5-9, Hebreërs 9:2). Die heidene het brood in hulle tempels gesit om die gode te voer. Dit is nie die geval hier nie. Die brode wys eerder dat God sy volk versorg. Jesus self is die Brood uit die hemel, die Brood van die Lewe wat ons voed (Johannes 6:32-35).

Table for Bread

Sien ‘n prentjie van Jesus in die tafel. Eet hierdie geestelike Brood deur geloof (Johannes 6:32-35). Eet Brood deur gemeenskap met Jesus te hê (Openbaring 3:20). Eet Brood deur die nagmaal te herdenk (1 Korintiërs 11:23-26). Eet Brood in die Koninkryk van God (Psalm 23:5, Lukas 14:15). Eet Brood in die Woord van God (Job 23:12, ESV). Moet ook nie vergeet om vir jou daaglikse brood te bid en die Here daarvoor te dank nie (Matteus 6:11, 1 Timoteus 4:4-5). Sonder brood in jou maag sal jy sterf, en sonder Jesus, die Brood van die Lewe, sal jy geestelike sterf.

 

Die kandelaar (v.31-40)

Na ‘n paar weke van reën in Johannesburg het ‘n radio omroeper gesê: ‘Sjoe, dis lekker om weer die son te sien.’ Kan jy dink hoe voel mense in Skandinawië, Siberië, en Alaska waar daar by tye in die jaar net 4 ure sonskyn per dag is? Hoe verlig voel hulle nie as die son na ‘n donker winter weer vir lang ure in die somer skyn? Almal geniet lig. Dink maar aan hoe lekker dit is om in Kaapstad die son na 20:00 te sien. Die lig in die tabernakel moes hierdie idee skep.

 

Die kandelaar is van een stuk suiwer goud gemaak (Hebreërs 9:2). Dit het bestaan uit ‘n voetstuk, ‘n stam, takke, kelke, knoppe, en blomme. Die takke het uit die middelste stam geloop: drie takke aan elke kant. Daar was ‘n kelk, ‘n knop, en ‘n blom (soos amandel bloeisels) op elke tak. Op die middelste stam was daar vier kelke, knoppe, en blomme wat mooi tussen die voetstuk en die bo-punt versprei was. Daar was ook nóg kelke, knoppe en blomme op die ander takke waar hulle by die stam uitloop.

 

Daar was sewe klein lampies op die sewe koppe. Die lampe was na vore gedraai, sodat die lig op die tafel kon skyn (onthou, daar was nie vensters nie). Daar was ook goue snuiters om die lamppit te ‘trim’, en sewe goue bakke (was dit dalk om die olie in te meng?). Alles saam is uit 34 kg (1 talent) suiwer goud gemaak. Die kandelaar het gewys dat Israel die lig vir die nasies is (Jesaja 60:3), en is vervul in Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Johannes 1:6-9, 8:12).

 

Moses moes alles maak soos God vir hom gewys het (v.40).

Golden lampstand

Leef in en as die lig van die Nuwe Testament. Hoe doen jy dit? Los die donker van jou sonde en kom na die lig toe (Johannes 3:19-21). Hou op om dinge in die geheim te doen. Bely jou sonde, want God hou nie gemeenskap met die donker van sonde nie (1 Johannes 1:5-7). Deel die evangelie met ander en vat só die lig na hulle toe (Handelinge 13:47). As gemeente moet ons die lig van die evangelie in die wêreld skyn (Openbaring 1:20). Anders beteken ons niks en sal Jesus ons lig uitdoof (Openbaring 2:4-5). Leef heilig en skyn Jesus se lig voor die wêreld (Matteus 5:16). Streef na die ewige Lig van die hemel: God self (Openbaring 21:22-25). Wat is die alternatief? Die ewige duisternis van die hel (Matteus 25:30).

 

As ‘n sekere spreker by ‘n nuwe plek praat, wys hy ‘n foto van ‘n vrou op die skerm en sê: ‘Dit is nie my vrou nie; dis net ‘n prentjie van haar.’ So is dit met die tabernakel: dis nie Jesus nie, maar net ‘n prentjie van Hom. In die Nuwe Testament skyn daar ‘n voller lig, en sien ons Jesus self. As Hy weer kom sal ons Hom met ons oë sien en vir ewig by Hom wees. Dan sal ons nie net van die tabernakel vergeet nie, maar selfs van ‘n lewe van geloof op aarde, want in die hemel sal geloof aanskoue word.

[1] ‘n Doegong is middelmatige grootte seedier met ‘n stert soos ‘n dolfyn, twee syfinne soos ‘n rob, geen vin op sy rug nie, ‘n lyf en kop soos ‘n walrus (dit het nie lang tande soos ‘n walrus nie), ‘n snoet soos ‘n Bullmastiff of ‘n Shar Pei (die hond met die baie los velle). Hierdie diere kom onder andere voor in die Rooisee.