Die gawe van tale in Korinte en vandag

Speaking in tongues

Iemand wat die gawe van tale gebruik om af te wys, is soos iemand wat ‘n Rolls Royce kry om sy baas rond te ry, maar dit misbruik om meisies te beïndruk. In 1 Korintiërs 14:1-25 sê Paulus dat tale wat nie uitgelê word nie, niemand help nie.

 

Tale, profesie en stigting (v.1-5)

Ek ken ‘n vrou wat in haar stiltetyd in tale praat en sê sy bou haarself op. In die gemiddelde charismatiese kerk praat mense in tale sonder dat daar ‘n uitleg is. In ‘n YouTube video maak Kenneth Copeland en ‘n ander prediker grappe in tale, en is daar geen uitleg nie.[1] Paulus het gesê dat tale sonder ‘n uitleg nie die kerk opbou nie, maar liefdeloos en selfsugtig is (v.1-5).

 

Paulus wou hê die Korintiërs moes die liefde najaag, sodat hulle ander kon opbou (v.1-5, hfst.13). Juis daarom moes hulle eerder profesie soek as tale wat nie uitgelê word nie (v.1, 5). In 12:28 noem hy profesie die tweede belangrikste gawe. Iemand wat in ‘n taal spreek praat met God en nie met mense nie (v.2, vgl. Handelinge 2:11, 10:46). As iemand nie die taal uitlê nie, verstaan die res dit nie (v.2, 5). Deur die Heilige Gees se krag praat die persoon ‘n geheimenis (v.2). In die Skrif is ‘n geheimenis iets wat bedek was, maar nou deur die Heilige Gees geopenbaar is (sien 4:1, 15:51, Romeine 16:25, Kolossense 1:26, Efesiërs 3:9, Openbaring 1:20). Paulus wil dus nie hê dat die geheimenis in ‘n vreemde taal weggesteek moet word nie: dit moet uitgelê word (v.2).

 

Iemand wat profeteer bou die kerk op, bemoedig mense, en vertroos hulle (v.3). Iemand wat sonder ‘n uitleg in tale praat wys nie liefde nie, maar soek sy eie belang (v.4, vgl. 13:5, 10:33). So iemand wil sy eie ego streel of dink dat spreek in tale ‘n status-simbool is. Dié persoon bou nie ander op soos die persoon wat profeteer nie (v.4, 1). Paulus is nie teen die gawe van tale nie. As dit kon (12:30 sê dit kan nie), wens hy almal kon in tale praat (v.5, vgl. Numeri 11:29). Profesie is dan beter as tale, tensy iemand die tale uitlê, sodat die kerk gestig word (v.5). Die beste gawe is dan die een wat ander opbou (v.5).

 

Tale, uitleg en begrip (v.6-19)

In 2007 het ek Taiwan besoek. Baie min mense in Taiwan kan Engels praat. Selfs die tye op winkel vensters en pryse op spyskaarte is in Chinese karakters. Ek het die frustrasie gevoel toe ek vir ‘n publieke badkamer gevra het. Ek het gesê: ‘Where is the bathroom?… Where is the toilet?’ Ek het selfs ‘n mannetjie en vroutjie geteken. Niemand het verstaan wat ek bedoel nie. Eers na ‘n minuut of so kon iemand my help. As begrip belangrik is vir ‘n alledaagse gesprek, hoeveel te meer nie in die kerk van die lewende God nie (v.6-19)?

 

Paulus raas met die Korintiërs. Om sy stemtoon te versag en liefde te wys, noem hy hulle ‘broers’ (v.6, 20). Hoe sou dit wees as hý Korinte toe kom en in tale praat sonder ‘n openbaring, profesie, kennis, of lering in hulle eie taal (v.6)? Selfs ‘n lewelose fluit of harp moet duidelike note gee as jy die wysie wil ken (v.7). Indien nie, is dit soos ‘n vals sanger wat vir jou sê: ‘Ken jy daardie liedjie?’ en dan op een noot ‘Da-da-da-da-da-da’ sing. Jy kan net die wysie geniet as die note duidelik is. En as die basuin nie spesifieke note blaas nie, sal die soldate nie weet of hulle kamp moet breek, en of hulle moet gereed maak vir oorlog nie (v.8).

 

So is dit met tale as niemand dit uitlê nie: jy praat in die lug en tref nie die teiken nie. Dit help niemand nie, bou hulle nie op nie, troos hulle nie, leer hulle nie, bemoedig hulle nie, vermaan hulle nie (v.9). Daar is baie soorte tale in die wêreld. Elkeen se spesifieke klank het ‘n betekenis (v.10). As jy dit nie verstaan nie, klink dit vir jou so: bar-bar-bar-bar-bar. Dit is letterlik wat ‘vreemdeling’ in v.11 beteken. Die Griekse woord is barbaros. Vir die Korintiërs was dit baie erg om dít te hoor. Paulus sê in effek vir hulle: tale sonder ‘n uitleg maak julle niks beter as barbare nie.

 

Dit laat my dink aan 1989. My sussie was vyf en haar maatjie vier. Haar maatjie het gehoor hoe ons met my pa Engels praat. Eendag sit sy en my sussie agter in ons Passat. Skielik begin sy babbel: ‘Hlal-lal-lalo-lale…’ My sussie kyk verbaas na haar en vra: ‘Wat doen jy?’ ‘Ek praat Engels,’ kom die antwoord.

 

Om nie ‘n taal te verstaan nie is frustrerend (v.11, Genesis 11). Dis asof jy in ‘n Shangaan kerk sit terwyl iemand preek (ek het al), of luister hoe ‘n Katolieke priester die Bybel in Latyn lees. ‘Nee!’ sê Paulus. ‘Lê die taal uit en bou die kerk op’ (v.12). Beywer jouself om die kerk op te bou meer as om sekere gawes te hê (v.12, 1).

 

‘n Vrou het vir my gesê dat tale ‘n hoër vorm van gebed is. ‘Dis gees tot Gees soos 1 Korintiërs 14:14 sê,’ was haar redenasie. Sy glo ook dat Efesiërs 6:18, Judas 20 se ‘bid in die Gees’ na tale verwys. In Romeine 8:26-27 sê Paulus dat die Gees vir ons intree met onuitspreeklike sugtinge. Sy glo dit verwys na tale.

 

Maar hierdie tekste sê dat alle gelowiges in die Gees moet bid, en dat die Gees vir alle gelowiges in hulle swakheid bid. In 12:30 egter sê Paulus dat nie almal in tale praat nie. Ek het haar toe gevra oor Johannes 4:23-24 wat sê dat God mense soek wat Hom in Gees en waarheid moet aanbid. Sy het gesê dit verwys na mense wat in hulle stiltetyd in tale bid. Maar v.13-19 sê dat gebed in die gees sonder die verstand (tale sonder uitleg) nie goed is nie.

 

Om die kerk op te bou (v.12) moes die Korintiërs bid vir ‘n uitleg (v.13, 27). Die apostels sê dat iemand wat in ‘n taal bid of sing dit doen deur die Heilige Gees wat sy of haar gees bekragtig (v.14, 2, vgl. Efesiërs 5:18-19). Sonder ‘n uitleg en begrip, is jou verstand soos grond wat onvrugbaar is en nie goeie vrug lewer vir die res om te geniet nie (v.13-14). Weereens: om in jou gees te bid en te sing, terwyl jou verstand onaktief is, is nie goed nie. Tale sonder ‘n uitleg is nie goed nie (v.15).

 

Vir alle praktiese doeleindes is iemand wat tale sonder ‘n uitleg hoor niks beter as ‘n vreemdeling nie. Hy of sy kan nie ‘Amen’ of ‘Laat dit so wees’ op die persoon se dankgebed sê nie (v.16, Nehemia 8:7). Die dankgebed is mooi, maar dit help niemand nie en is liefdeloos (v.17, 1).

 

Paulus is nie teen die gawe van tale nie – hy praat dit meer as hulle almal (v.18). Hy is teen tale sonder ‘n uitleg (v.19). Om ander op te bou sal hy eerder vyf woorde in ‘n verstaanbare taal praat, as tienduisend woorde in ‘n taal wat ander nie verstaan nie (v.19). Om dít te doen sal niemand help nie.

 

 

Tale, profesie en ongelowiges (v.20-25)

Verbeel jou jy stap by ‘n kerk in, en almal praat gelyk verskillende dinge in Afrikaans, Engels, Zulu, Chinees, Spaans, Swahili, Arabies, Frans, Grieks, Deens, Thai, en daar is geen tolk nie. Sal jy nie dink die mense is mal nie? Wat as jy by ‘n kerk instap en almal sê gelyk: ‘Shal-ba-ba-bah-shlabalika… ilia skiridan tola do skantama… patara rama na savarah dahara dafarasala fasa carara’? Dis tragies dat die kerk dit verdra, en dat ongelowiges moet wys dat dit vals en chaoties is. Die Skeptic’s Dictionary sê:

 

‘When spoken by schizophrenics, glossolalia [Afr. tale] is recognized as gibberish. In charismatic Christian communties glossolalia is sacred and referred to as “speaking in tongues” or having “the gift of tongues”.’[2] Tale sonder ‘n uitleg is sleg genoeg. Wat nog van vandag se nagemaakte tale sonder ‘n uitleg?

 

Paulus wou nie hê die Korintiërs moes onvolwasse wees in hulle denke nie (v.20, 14, 13:11, vgl. Efesiërs 4:14, Hebreërs 5:12-13). Daarom moes hulle die tale uitlê sodat die res dit kon verstaan, opgebou word, en groei (v.20). Hulle moes onkundige kinders wees wanneer dit by sonde kom (v.20, Romeine 16:20), maar volwasse in geestelike denke (v.20, 13:10-11, 2:6, Gk. teleios).

 

Die Ou Testament het gesê as Israel rebels was, sou God vyande stuur wat ‘n ander taal praat. Israel wou nie die profete hoor wat in hulle eie taal gepraat het nie. Nou sou ander nasies God se oordeel in ‘n vreemde taal aankondig, maar Israel sou hulle nie bekeer nie, omdat hulle die taal nie verstaan het nie (v.21, Jesaja 28:11-12, Deuteronomium 28:49, Jeremia 5:15). Vir ongelowige Israel was vreemde tale ‘n teken van oordeel (v.21-22). Net so is tale sonder ‘n uitleg nie ‘n bewys van geestelikheid of seën nie, maar van God se oordeel oor ‘n ongelowige kerk (v.22)!

 

As die Korintiërs die tale uitgelê het, sou dit, soos profesie, die kerk opgebou het (v.22). As die Korintiërs sonder ‘n uitleg in tale gepraat het, sou besoekers instap en sê: ‘Christene is mal; hulle is nie regdenkend nie’ (v.23, 27). As hulle egter in ‘n verstaanbare taal geprofeteer het, sou God die ongelowige se hart ontbloot het en sy sonde uitgewys het (Johannes 16:8, Hebreërs 4:12-13, Jeremia 17:10). Hy sou gevrees het, Jesus as die ware God bely, voor Hom gebuig en Hom aanbid het (v.24-25, vgl. Sagaria 8:23).

 

Hoe help hierdie hoofstuk ons vandag? Ons moet die lering daarvan verstaan en die moderne gawe van tale aan die Skrif meet.

 

[1] Die tale in 1 Korintiërs 14 is nie brabbeltale soos wat charismate praat nie, maar is die bonatuurlike vermoë om sonder taalklasse ‘n ander land se taal te praat. In v.10-11 praat Paulus van verskillende lande se tale. Die Griekse woord genos is dieselfde woord as in 12:10: “allerhande [genos] tale”. In v.21 haal die apostel Jesaja 28:11-12 aan wat duidelik van ander lande se tale praat. Ook in Handelinge 2:5-11 is dit duidelik dat dié gawe nie ‘n brabbeltaal is nie, maar ander lande se tale. Die gawe van uitleg is die bonatuurlike vermoë om sonder taallesse hierdie tale uit te lê of te vertaal (v.13, vgl. Daniël 5).

 

Hoekom praat mense in brabbeltale as dit nie eg is nie? Party mense maak dit op (soos ‘n AGS Pastoor wat vir ons vertel het dat hy dit vir 15 jaar ‘gefake’ het). Party mense smag na ‘n emosionele ervaring en mislei hulleself. By ander is dit demone wat die tale na-aap. Die duiwel kan homself voordoen as ‘n engel van die lig, en vals wonders en tekens doen (2 Korintiërs 11:14, Matteus 24:24). Mense in dieKundalini kultus (Hindoeïsme) en Oosterse Misterie Kultusse praat in brabbeltale. ‘n Man uit die Pinkster beweging vra: ‘If the possessed voodoo priest says: “shiri-bo-bo-bo-boh” in a staccato stammer over his black whisk he holds, and the possessed born-again Christian rattles: “shla-ba-ba-bah-shlabalika” over his Bible, then what can be the difference?”’[3]

 

[2] Iemand wat in tale praat, praat met God en nie met mense nie (v.2). Hy wat dan die taal uitlê en sê: ‘So sê die Here…’ jok.

 

[3] Tale is nie vir jou stiltetyd gegee nie. Die feit dat iemand wat in tale spreek met God praat en nie met mense nie, beteken nie dis vir die binnekamer nie. Die woord ‘binnekamer’ kom nie eers in hfst.14 voor nie. Handelinge 2:11, 10:46 wys hoe mense in die openbaar met God praat in ander tale. Party mense dink v.4a is positief: “Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself”. Hulle lei hieruit af dat jy tale moet gebruik om jouself in jou binnekamer op te bou. Maar die konteks wys anders. Die Heilige Gees het die gawes gegee, sodat jy ander kan opbou (v.5, 6, 12, 17, 13-19, 26, 12:7, 25, Romeine 12:6-8, Efesiërs 4:7, 11-13, 16, 1 Petrus 4:10).

 

Party mense dink dis geestelik om in die gees te bid, terwyl jy jou verstand afskakel en jou brein in neutraal sit (v.14). Paulus sê dis nie goed nie (v.15, Romeine 12:2, Efesiërs 4:23). Om in tale te praat sonder dat daar ‘n uitleg is (in jou kamer of in die erediens), is nie goed nie maar sleg (v.13-19).

 

Beswaar: ‘Maar Paulus self sê hy praat in tale, en sal in die kerk liewer vyf woorde in ‘n verstaanbare taal praat, as tienduisend woorde in ‘n taal. Impliseer dit nie dat hy in sy binnekamer in tale gepraat het nie?’

 

Antwoord: Paulus sal nie teen sy eie raad gaan nie. Die konteks van v.13-19 en die hele hfst.14 sê dat tale gegee is om die gemeente op te bou. Die feit dat iemand ‘Amen’ kan sê op die gebed in ‘n ander taal, wys vir jou dit geskied in die kerk en nie in die binnekamer nie (v.16). Dalk het Paulus tale op die sendingveld gebruik, sodat die evangelie makliker kon versprei (Handelinge 2:5-11). Dit is immers ‘n teken vir ongelowiges (v.22). Op die sendingveld sou ‘n uitleg nie nodig gewees het nie, omdat almal dit kon verstaan.

 

Wat ons vandag in charismatiese kerke sien meet nie op teen die Skrif nie, en is dus nie die Bybelse gawe van tale nie (v.26-40 sal die punt verder bewys). Meer as een persoon het al vir my vertel van sendelinge wat die Bybelse gawe van tale het. Maar gewoonlik is dit ‘n vriend se vriend se nefie se kind, en hulle weet nie presies waar en wanneer dit gebeur het nie.

 

As jy op dié gebied onderskeid wil toepas, sal mense sê jy blus die Heilige Gees. Die waarheid is dat mense wat nie teen Skrif die opmeet nie, die Heilige Gees blus en sy Woord minag.

 

Ons misbruik nou wel nie die gawe van tale nie, maar hfst.14 het ook ‘n paar waarskuwings vir óns.

 

  • Is jy ‘n bangbroek wat nie foute in die kerk wil uitwys nie, maar eerder sal stilbly? Leer by Paulus om reguit te praat (v.20, 23).
  • Is jy te hard in jou kritiek? Is jy alewig negatief? Wys die verkeerde uit, maar doen dit in ‘n gees van sagmoedigheid (v.6, 20, 26, 2 Timoteus 2:25). Moenie net sê wat mense nie moet doen nie, maar ook wat hulle moet doen (v.1, 12, 20).
  • As ‘n kind stout is, wys dit hy lewe. ‘n Kind wat niks doen nie is siek of dood. ‘n Kerk soos Korinte wat lewe en foute maak, is beter as ‘n kerk wat geen probleme het nie, omdat dit dood is.
  • Ja, die Korintiërs se roem in tale is lelik. Maar roem ons nie soms omdat ons ‘n suiwer leer verkondig nie? Die Korintiërs was opgeblase oor hulle tale, terwyl hulle dit eerder moes gebruik om die kerk op te bou. Maar gebruik jy enigsins jou gawe? Of het jy dit op die rak gesit, sodat dit stof vergader? Het jy dit onlangs afgestof om ander te dien? Of sal jy by die wederkoms jou gawe uit die grond moet grawe, en vir Jesus hoor sê: ‘Jou slegte en lui dienskneg!’? Moenie net ‘n nommer wees wat ‘n kerkbank warm hou nie. Gebruik jou gawe om ander op te bou (v.12). As jy dit nié doen nie, dan beteken jy niks, is jy niks, en sal jy geen beloning kry nie (13:1-3).

 

Een van my gunsteling teoloë handhaaf ‘n ander siening as ek oor tale. Hy probeer dit soos volg regverdig. Gestel jy vat ‘n vers in die Psalms en haal die vokale uit. In plaas van: ‘Praise the Lord, for his mercy endures forever,’ het jy: ‘Prs th Lrd fr hs mrc ndrs frvr.’ Daarna gebruik hy net elke derde letter, sodat die letters nou so lyk: ‘Ptrrmnsvrhdhrdfrslfscrr.’ Volgende sit hy ‘n ‘a’ tussen elke konsonant en breek dit op in kort woorde. Nou het jy: ‘Patara rama na savarah dahara dafarasala fasa carara.’ Hy sê dat jy hierdie tale kan verstaan as jy die ‘kode’ ken. Volgens hom is tale nie menslike tale, maar ‘n taal in dieselfde sin as wat ‘n rekenaar program ‘n ‘kode taal’ het – al is dit ‘n taal wat niemand praat nie.[4]

 

Ek hoop jy kan uit 1 Korintiërs 14 sien dat dít nie ‘n Bybelse verduideliking van tale is nie, en dat jy weet wat die Skrif regtig oor die kwessie sê.

[1] https://www.youtube.com/watch?v=vA92BLngNVU

[2] John MacArthur, Strange Fire, p.135

[3] Ibid, p.4

[4] Ibid, pp.235-236