Lesse oor God uit die tabernakel

Tabernacle curtains

 

Die kerkvader Origenes (185-254 n.C.) het die allegoriese metode van Skrif interpretasie populêr gemaak.[1] Hy het geglo dat elke teks ‘n letterlike betekenis het, maar dat daar ook ‘n dieper geestelike betekenis is (allegorie). Allegorie is bv. om te sê die gekoer van die tortelduif in Hooglied 2:12 dui op die apostels se prediking. Hierdie metode van Bybel interpretasie is nie net verkeerd nie, maar gevaarlik.

 

Dit is egter nie allegorie as die Nuwe Testament sê dat ‘n sekere Ou Testament teks ‘n skadubeeld van Jesus is nie. Hebreërs 8:5, 9:23-24 sê dat die tabernakel vervul is in Jesus. Elke detail in die tabernakel beteken iets (Hebreërs 9:5). Die Nuwe Testament verf egter nie altyd met ‘n fyn kwas nie. Dus is dit wilde spekulasie om presies te sê hoe elke tentpent, afmeting, of edelmetaal in Jesus vervul is. Maar selfs met ‘n breë kwas verf die Heilige Gees in Eksodus 26 ‘n asemrowende prentjie van Jesus.

 

Die bedekking (v.1-14)

Die tabernakel was soos ‘n huis wat van buite af lelik lyk, maar van binne gepas is vir ‘n koning. Ek sal net-nou verduidelik hoekom.

 

Moses moes die tabernakel maak van tien stroke materiaal (v.1). Die stroke was gemaak van fyn linne, van blou, pers, en rooistof (v.1). Daar moes gerubs op die stroke geborduur word (v.1, sien Esegiël 1 vir gerubs). Elke strook moes 12.6 x 1.8 m wees (v.2). Die stroke moes in twee stelle van vyf aanmekaar vasgewerk word (v.3). Elke strook sou 12.6 x 9 m wees (v.3).

 

Daar is vyftig bloupers lissies aan die rand van elke stel vasgewerk. Die twee stelle sou dan by die lissies met goue hakkies aan mekaar vasheg word (v.4-6). Die hele bedekking sou soos ‘n groot tafeldoek oor die tabernakel gegooi word. Die hakkies het dan oor die middel van die dak se breedte gelê soos ‘n ry krammetjie-steke ná ‘n hartomleiding. Die tent moes ‘n geheel wees (v.6).

 

Bo-oor die blou, pers, rooistof, en linne was daar nóg ‘n bedekking van bokhare (v.7). Dit sou keer dat die son die gekleurde materiaal verbleik. Hierdie keer moes Moses nie tien stroke materiaal maak nie (v.1), maar elf (v.7). Elke strook was 13.5 x 1.8 m (v.8). Dit was dus 90 cm langer as die gekleurde stroke. Die ekstra lengte was nodig, omdat dit soos ‘n tent se seil met penne vasgetrek moes word (v.13, 27:19, 35:18, 38:31).

 

Die stroke van bokhare moes vasgewerk word in twee stelle. Die een stel het bestaan uit vyf stroke materiaal, en die ander een uit ses (v.9). Daar was weer vyftig lissies aan die rand van elke stel. Die twee stelle moes deur die lissies vasgeheg word met brons hakkies (v.10-11, nie goud soos in v.6 nie). ‘n Gedeelte van die bokhaar stroke het oor die agterkant gehang, en ‘n gedeelte oor die voorkant. Hulle moes dan die voorkant wat by die ingang was, dubbel vou (v.9, 12). Dit sou gelyk het soos ‘n kombers oor jou bed: onder hang dit af, maar bo vou jy dit dubbel. Bo-oor die bokhaar bedekking was daar rooigekleurde ramsvelle, en bo-oor dít was daar robbevelle op die dak (v.14). Het die dierevelle as bedekking dalk gewys dat God bloed stort om ons sondes te bedek (vgl. Genesis 3:21)?

 

Ek het reeds in hfst.25 gesê dat rooi, pers, en blou koninklike kleure is vir die Koning se tent. Die kleure en geborduurde gerubs wys:

 

[1] God is pragtig om te aanskou. Dawid wou in die tempel wees “om die lieflikheid van die HERE te aanskou” (Psalm 27:4). Paulus sê in 2 Tessalonisense 1:10 dat Jesus weer kom om “bewonder te word in almal wat glo”. Openbaring 4:3 beskryf die Here só: “…[Hy] het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.”

 

[2] God is heerlik. Jesaja het sy heerlikheid gesien (Johannes 12:41), en sê dat die vlammende serafs hulle gesigte in sy teenwoordigheid bedek (Jesaja 6:1-2).

 

[3] God is aanbiddingswaardig. Johannes sê: “En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.” (Openbaring 4:9-11).

 

En weer: “Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.” (Openbaring 5:11-14).

 

Dit sou ‘n anti-klimaks wees as die priester ‘n spieël in die tabernakel moes invat, en die heerlikheid van God miskyk. Dis byna soos iemand wat ‘selfies’ neem by die Grand Canyon. Moenie so behep wees met jouself en hierdie lewe, dat jy die pragtige God in sy heerlikheid miskyk nie (Johannes 17:24).

 

Jy kon net die koninklike kleure sien as jy binne die tabernakel gestaan het. Van buite af het dit so vaal soos die woestyn gelyk. So is dit met Jesus. Vir die ongelowige lyk Hy soos enige ander mens. Judas moes Hom met ‘n soen uitwys (Matteus 26:48). Jesus het nie ‘n stralekrans (‘halo’) op sy kop gehad nie. Jy sou Hom nie tussen sy dissipels kon uitken nie. Dalk sou jy Hom kon uitken omdat Hy die lelikste was. Jesaja 53:2 sê: “Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.”

 

Die Heilige Gees het ons oë geopen om verby die vaal ‘tent’ van sy liggaam sien, sodat ons besef het Hy is die heerlike God. “En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.” (Matteus 17:2). “Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Korintiërs 5:16).

 

Dalk het jy al baie keer die evangelie gehoor, en sit jy al vir baie jare in die kerk, maar jy sien nie sy heerlikheid nie. Net God kan jou oë oopmaak (Matteus 16:16-17, 2 Korintiërs 4:6). Selfs party Christene was lanklaas binne die ‘tent’, en sien net die buitekant van ‘n Jesus in sandale. Bid saam met Paulus Efesiërs 1:17-19, 3:16-19:

 

“dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee, verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte…

 

…dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”

 

God is ook prakties. Twee kleiner stelle van 12.6 x 9 m sou gouer opslaan en makliker vervoer as een stel van 12.6 x 18 m. Die bedekkings van bokhare en diervelle was ook waterdig. God het ook nie oortollige materiaal as Hy werk nie (v.9, 13). Omdat hierdie dinge so is, moet jy nie in jou beproewing wonder of God dalk ‘n fout gemaak het, of Hy weet wat Hy doen, en of Hy iets onnodig doen nie.

 

Die raam (v.15-30)

‘n Man in ons kerk het my vertel van gorilla welding: dit is vrek lelik maar deksels sterk. Soldeer werk aan anderkant is mooi, maar nie so sterk nie. Die tabernakel was beide: mooi met goud en verskillende kleure materiaal, en sterk met stewige balke.

Tenons 2

Hoe het die struktuur gelyk waaroor die bedekking gehang het? Moses moes akasiahout balke met goud oordek. Die balke was 4.5 m x 67.5 cm (v.15-16, 29, 36:34). Onderaan elke balk was daar twee tappe [lett. hande] wat in die silwer voetstuk se twee tapgate moes inpas, sodat die balk kon vasstaan (v.17, 19).

 

Tenons 4Daar was twintig balke vir elke sykant (noord en suid), en veertig tapgate – twee per voetstuk (v.18-21). Die balke het nie teen mekaar gestaan soos wat party sketse wys nie, maar was eweredig versprei (vgl. die afmetings in v.16, 1-2). Ses balke het in twaalf tapgate aan die agterkant (wes) van die tabernakel gestaan (v.22). Daar was twee ekstra balke en voetstukke op die agterhoeke. Op elke hoek was daar dus twee balke wat teen mekaar gestaan het (v.23-25, sien skets hieronder). Dit was aan die bokant vas met ‘n ring.

Double frames on corners

Daar was vyftien pale van akasiahout wat met goud oordek is (v.29). Daar was goue ringe aan die balke, sodat die pale kon deursteek en die balke aan mekaar vashou (v.29). Daar was vyf pale vir elke sykant, en vyf pale vir die agterkant (v.26-27). Die middelste paal aan elke kant het dwarsdeur die hele lengte geloop (v.28). Aan elke kant was daar twee pale links (een bo en een onder) en twee regs (een bo en een onder). Moses moes alles presies bou soos wat God op die berg vir hom gewys het (v.30).

Tabernacle crossbars

Een kommentator bevraagteken die ram- en robvel bedekkings, en sê dit sou te swaar wees vir die tabernakel se swak struktuur.[2] Maar daar was 28 balke van 4.5 m x 67.5 cm, dubbel balke op die hoeke, voetstukke van soliede silwer, 15 pale wat die balke vashou, en nege stewige pilare (v.32, 37).

 

Wat is die les? In beproewing is God nie die wankelrige vuurhoutjie brug van ‘n kind se skoolprojek nie. Hy is ‘n stewige pilaar, reuse rots, en magtige berg: “God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” (Psalm 46:2). “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.” (Psalm 18:3).

 

Deur Hom kan jy self soos ‘n pilaar vasstaan en nie kantel nie. Die Skrif sê dat die kerk ‘n pilaar van die waarheid is (1 Timoteus 3:15). “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie” (Openbaring 3:12).

 

Die tabernakel se afmetings, simmetrie, en plan (v.30) wys vir ons dat God presies en ordelik is (1 Korintiërs 14:33). Iemand het vir ‘n Puritein gevra hoekom hy so spesifiek is in sy aanbidding. Sy antwoord was: ‘Because I serve a precise God’ (soos wat die skepping ook wys).

 

Is jy ordelik en presies soos God? Moenie ‘n afgod maak van netheid, sodat jy ‘n perfeksionis is wat almal irriteer nie. Maar wees netjies in jou werk. Moenie slordig wees en jou werk aframmel nie (Kolossense 3:23, 1 Timoteus 6:2). Hoe lyk jou huis, kinders, huwelik, verhoudings, stiptelikheid, geld, liggaam, siel, lewe: chaoties of ordelik? Selfs in ons aanbidding moet daar orde wees. Ons moenie wanordelik wees soos die charismate nie. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.” (1 Korintiërs 14:40).

 

Die gordyne (v.31-37)

‘n Maand gelede het ek die evangelie met ‘n ongelowige man en sy gesin gedeel. Ek het gevra: ‘Weet jy wie is jou grootste vyand?’ Hulle het geraai: ‘Die duiwel… slegte mense… jyself?’ Wat is die antwoord? God. Die gordyne in die tabernakel wys vir ons iets wat ons vergeet: God is gevaarlik (Hebreërs 10:31, 12:29).

 

Veil with pillars and claspsDie voorhangsel was van fyn linne, van blou, pers, en rooistof (v.31). Met fyn naaldwerk moes daar gerubs op geborduur word (v.31). Die voorhangsel het teen vier pilare gehang . Die pilare is van akasiahout gemaak wat met goud oordek is, en op silwer voetstukke gestaan het (v.32). Dit het goue gordynhakke gehad wat op die goue en koper hakkies in die dak gehang is (v.32-33, 6, 11).

 

Die ark met die versoendeksel op het agter die voorhangsel gestaan. Die Heilige is deur hierdie voorhangsel van die Allerheiligste geskei (v.33-34). Die tafel met toonbrode, die goue kandelaar, en die wierook altaar het in die Heilige gestaan (v.35, 30:1-6, as ‘n mens instap was die kandelaar links, die tafel regs, en die wierook altaar voor die voorhangsel).

 

Screen with five pillarsDaar was nóg ‘n gordyn by die ingang van die tent. Dit is gemaak van fyn linne, blou, pers, en rooistof met borduurwerk daarop (v.36). Teen die gordyn was vyf pilare gemaak van akasiahout, en oordek met goud (v.37, skets hieronder). Dit het koper, en nie silwer voetstukke gehad nie (v.37). Daar was goue gordynhakke om die gordyn mee op te hang (v.37).

 

Wat leer ons hieruit? God is heilig. Gerubs het sy troon teen vuil mensehande beskerm (v.31, 25:18-20, Genesis 3:24). Net priesters kon in die Heilige ingaan, en net die hoëpriester kon een keer per jaar in die Allerheiligste agter die voorhangsel ingaan (Hebreërs 9:6-7). Moet dan nie nonchalant en met ‘n slenterhouding voor God kom nie. Vrees Hom as die Heilige Een.

 

Maar vrees is net een kant van die muntstuk. Toe Jesus sy asem uitgeblaas het, het God die voorhangsel geskeur (Matteus 27:51). Nou kan jy enige tyd en met vrymoedigheid nader kom (Hebreërs 4:16, 10:19-20). Hoe voel jy as jou kind bang is om sy hart met jou te deel; as jou kind nie met jou wil praat nie? Voel God nie so as jy huiwer om na Hom toe te kom, as jy bang is Hy sal nie jou gebede verhoor, of as jy baie min bid nie? Sal God die gordyn terughang? Sal Hy terugdraai op die belofte dat Hy sy Seun se offer as Hoëpriester aanvaar het? Geniet God dit nie as jy tot Hom bid nie: “die gebed van die opregtes is Hom welgevallig.” (Spreuke 15:8)?

 

Daar was een ingang vir die tent, en een ingang vir die Allerheiligste. Dit wys vir ons dat daar een weg na die Vader toe is: Jesus Christus (Johannes 14:6, Handelinge 4:12). Alle paaie lei nie na die hemel toe nie. Om soos Joel Osteen te sê dat opregte Hindus hemel toe gaan, is om te sê die kruis was ‘n mors van tyd: “Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.” (Galasiërs 2:21).

 

Voor in een van sy boeke skryf C.J. Mahaney vir sy vrou: ‘To Carolyn, with all my love. When I see you in a crowd, you’re the only one who appears in color – the rest of the world is black-and-white to me.’[3] Klink dit nie veel beter as: ‘To Carolyn. I love you. You are more beautiful than any other woman’ nie?

 

So is dit met die tabernakel. Dit is ‘n prentjie wat God in baie kleure beskryf. Dit is jammer dat ons in ons stiltetyd Eksodus tot by hfst.24 lees, en dan die res van die hoofstukke (oor die tabernakel) oorslaan om aan te beweeg na meer ‘interessante’ tekste toe.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol. 1, p.122

[2] Alan Cole, Tyndale Old Testament Commentaries: Exodus, p.194

[3] Sex, Romance, and the Glory of God