’n Spieëlbeeld van Jesus

Priest garments

‘n Tydjie terug het ek ‘n video gesien van mense wat ‘n spieël gemonteer het in ‘n reënwoud in Afrika. Luiperds het gegrom, mannetjie gorillas het gestorm, chimpanzees was nuuskierig, ape het geskrik. Die spieël was ‘n presiese beeld van die dier wat homself daarin gesien het, en tog was dit nie die regte dier nie. So was die priesters in Eksodus 28 maar net ‘n spieëlbeeld van Jesus. , en nie hulle nie, is waaroor dit regtig gaan.

 

Die priesters en hulle klere (v.1-5)

Het jy klere in jou kas wat jy bêre vir spesiale geleenthede? Dalk vir ‘n troue, ‘n formele dinee, kerk, of ‘n grade plegtigheid? Hierdie klere is ‘heilig’ en word vir spesiale gebruik afgesonder. So was dit met die priesters se klere.

 

Moses moes vir Aäron en sy vier seuns nader bring om priesters te wees (v.1). Nadab en Abihu is dood in Levitikus 10. Eliasar het hoëpriester geword in sy pa se plek (Deuteronomium 10:6). Net Aäron se seuns kon priesters wees. Enige ander persoon wat dié amp wou vul is doodgemaak (Numeri 18:7).

 

Daar moes spesiale en heilige klere gemaak word vir Aäron (v.2). Net hý kon hierdie klere dra. Sy klere moes God se heerlikheid en prag weerspieël (v.2). Die kunstigste en vaardigste mense moes dit maak, sodat dit sou uitstaan bo alle ander klere onder die volk (v.3). Gód het hierdie mense vaardig gemaak (v.3). Hulle moes die klere maak om Aäron as hoëpriester af te sonder (v.3).

 

Daar was ses stukke klere: ‘n borstas, skouerkleed, mantel, geweefde kleed, tulband, en gordel (v.4). Die klere was heilig en net bedoel vir priesterlike take (v.4). Hulle het nie skoene aangehad nie, omdat hulle op heilige grond gestaan het (3:5). Vir sy klere moes die volk blou, pers, en rooistof, goud, en fyn linne bydra (v.5). Hierdie edelmetaal en kleure het God se Koningskap en Majesteit weerspieël.

 

Die skouerkleed (v.6-14)

Priest ephodToe ek op laerskool was, was ek in die padpatrollie. Ons het ‘n helder oranje beffie gedra. Dit was soos ‘n frokkie of moulose hemp wat jy los oor jou kop trek. ‘n Mens het dit met toutjies aan die kante vasgemaak. Die hoëpriester se skouerkleed was byna dieselfde patroon.

 

Die skouerkleed is gemaak van blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne. Daar is goud ingeborduur (v.6, 39:3). Die skouerbande is bo-op die skouers aanmekaar vasgeheg (v.7). Om die middel was daar ‘n gordel wat aan die skouerkleed vas was (v.8). Die gordel van was van goud, blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne (v.8).

 

Daar was twee oniksstene op die skouerkleed (v.9, 12). Die name van Israel se twaalf Priest onyx stones on shoulderseuns is in orde van geboorte daarop gegraveer, ses name op elke steen (v.9-10). Die graveerwerk moes kunstig gedoen word soos op ‘n seëlring (v.11). Die stene is in goud gemonteer (v.11, soos wat ons ‘n diamant in ‘n ring monteer, sodat dit nie uitval nie). Die stene het gedien as ‘n herinnering van die volk. Dit was simbolies dat Aäron deur gebed die volk se laste op sy skouers dra (v.12, 1 Samuel 12:23). Daar was twee goue kettings (soos ‘n tou gedraai) vas aan die monterings (v.13-14). Ek sal later wys hoekom.

 

Die borstas (v.15-30)

Die Verenigde Koninkryk se koninklike kroon is gemaak van goud. In die kroon is 2868 diamante, 273 pêrels, 17 saffiere, 11 smaragstene, 5 robyne. Die goud en baie edelstene dra ‘n boodskap van die rykdom van die Briste troon.

 

Paulus praat gereeld van God se heerlike en oneindige rykdom. Aäron se borstas illustreer hierdie rykdom; ‘n rykdom wat veel meer werd is as Eksodus 28 se goud en edelstene.

 

Die borstas was onder andere sodat die volk God se wil kon ken (v.15, ek sal later verduidelik). Dit moes kunstig gemaak word van blou, pers, en rooistof, en fyn dubbeldraad linne (v.15). Die materiaal moes dubbel gevou word, sodat dit 22 x 22 cm was (v.16). Op die borstas moes daar vier rye edelstene wees: drie stene in elke ry (v.17). Die presiese vertaling van die stene is nie duidelik nie. Ek volg die OAV se beskrywing.

 

In die eerste ry (v.17) was daar ‘n karneool, topaas, en smarag. ‘n Karneool is die kleur van ‘n rooi son. Topaas kom voor in ‘n wye verskeidenheid van kleure. ‘n Smarag is groen.

Gemstones agateIn die tweede ry (v.18) was daar ‘n karbonkel, saffier, en jaspis (ESV: diamond). ‘n Karbonkel is diep rooi. ‘n Saffier is donker blou. ‘n Jaspis is ‘n rooi-oranje steen. In die derde ry (v.19) was daar ‘n hiasint, agaat, en ametis. ‘n Hiasint kom voor in verskeie kleure; van vaal groen tot pers-rooi. ‘n Agaat kom ook voor in verskeie kleure en het strepe of lae (sien foto). ‘n Ametis is pers. In die vierde ry (v.20) was daar ‘n chrisoliet, oniks, en sardoniks. ‘n Chrisoliet is lig, vaal, of lemmetjie groen. Oniksstene kom voor in baie kleure (v.9). Dit het strepe op soos die halfmaan op jou nael. ‘n Sardoniks kom ook voor in baie kleure en het wit strepe op.Priest breastplate

 

Die stene moes in goud gemonteer word (v.20). Een van die stamme se name moes op elke steen gegraveer word (v.21). Aäron moes die volk in gebed op sy hart dra (v.29). Daar moes vier goue ringe op die borstas se vier hoeke kom. Deur die boonste ringe moes daar goue kettings kom wat aan die skouerstene vas was (v.22-25). Deur die onderste ringe moes daar blou linte kom om die borstas aan die gordel vas te bind (v.26-28, 39:20).

Priest breastplate 2

Priest Urim and ThummimDie borstas is dubbel gevou, sodat die Urim en Tummim (‘n wit en swart klippie?) daarin kon lê (v.30). God het die Urim en Tummim gegee, sodat die volk sy wil kon ken (1 Samuel 14:41, 28:6, Esra 2:63, Nehemia 7:65, Numeri 27:21, Spreuke 16:33). As die priester ‘n wit klippie uitgehaal het, het dit een ding beteken. As hy ‘n swart klippie uitgehaal het, het dit iets anders beteken (dalk ja of nee?).

 

Die kleed (v.31-35)

Het jy al in films gesien hoe die koning se dienaar in die voorhof staan, en die koms van rykes aankondig? Die persoon kan nie net in die koning se troonkamer inkom nie. Die dienaar moet eers sê: ‘Sy edelagbare, die Hertog van Cologne… Sy Hoogheid, die Prins van Oostenryk… ens.’

 

So was dit ook in die Midde-Ooste. Jy kon nie net in die koning se troonkamer instap nie. Jou koms moes aangekondig word. Dit was die punt van die goue klokkies onderaan Aäron se blou kleed.

 

Priest garmentsOnder die skouerkleed moes hy ‘n kleed of rok van blou materiaal dra (v.31). Blou is weereens ‘n koninklike kleur. Daar was ‘n opening vir sy kop, en soom om die opening sodat dit nie maklik sou skeur nie (v.32). Daar was klein granate van blou, pers, en rooistof onderaan die rok (v.33). Die granate het hulle seker daaraan herinner dat die Beloofde Land vrugbaar is (Numeri 13:23). Daar was ‘n goue klokkie tussen elke granaat. Dus was daar ‘n klokkie, granaat, klokkie, granaat reg rondom die onderste soom (v.33-34). Die klokkies was nodig, sodat die volk kon hoor as Aäron in die Heiligdom ingaan; sodat hulle kon hoor of God hom en die offer aanvaar het, en of Hy hom doodgemaak het. Dit was ook nodig om sy koms na die Koning troonkamer toe aan te kondig (v.35).

Priest pomegranates and bells

Die tulband (v.36-38)

Op hoërskool was ek in die kadetorkes. Die tamboermajoor het nie dieselfde beret as die res gehad nie. Sy hoed het anders gelyk. So was dit met die hoëpriester in die Ou Testament.

Priest Golden plate and turban

Daar moes ‘n plaatjie wees van suiwer goud met graveerwerk op: ‘Heilig aan die Here’ (v.36). Die plaatjie moes met ‘n blou lint voor aan die tulband vasgebind word (v.37). Die graveerwerk op die hoëpriester se kop het gewys dat hy namens die volk as hulle heilige verteenwoordiger staan. Deur hom het God die volk se gawes as heilig aanvaar (v.38).

 

Verskeie kledingstukke (v.39-43)

Priest garmentsDeesdae is daar ‘n tendens om trourokke te dra wat nie wit is nie. Ek was by ‘n troue waar diePriest white clothes bruid se rok wynrooi was. Dit is asof mense nie weet hoekom die bruid ‘n wit rok dra nie: dis om te wys sy is rein. So was dit met die priesters se wit klere.

 

Onder die blou kleed moes daar ‘n geweefde wit kleed van fyn linne wees (v.39, skets links). Daar was ook ‘n wit tulband van fyn linne (v.39). Daar was ‘n gordel om die blou kleed, en ‘n gordel onder die blou kleed om die wit een (v.39, 8, Levitikus 8:7). Aäron se seuns het wit rokke en hoedjies van fyn linne gehad (v.40, 39:27-29, skets regs). Hulle gordels was van blou, pers, en rooistof met borduurwerk op (39:29).

 

Die wit klere het gewys dat hulle rein is. Moses moes hulle aantrek, salf, aanstel, en as priesters afsonder (v.41). Hulle het linne onderklere gedra (soos ‘n ‘boxer short’). Die linne sou gekeer het dat hulle sweet (v.42, Esegiël 44:17-18). Die onderklere het verseker dat hulle nie naak aanbid soos party heidene nie (v.42, 20:26). As hulle nié die onderklere gedra het nie, sou hulle sterf. Dit wys vir ons dat God baie ernstig is oor sy heiligheid (v.43). Hierdie reël het nie net vir hulle gegeld nie, maar ook vir hulle nageslag (v.43).

 

Wat is die les uit Eksodus 28? Ons moet Jesus raaksien in die Ou Testament. Voordat ek vir jou verduidelik hoe, gaan ek vir jou sê hoekom. Party mense (soos party van die vertalers van die nuwe Afrikaanse Bybel, my Ou Testament dosent op kollege, en liberale teoloë) sal sê dat Jesus nie in die Ou Testament is nie. Ander dink Hy is daar, maar nie oral nie.

 

As jy Hom gedurig in die Skrif sien, sal jy meer soos Hy word (2 Korintiërs 3:18). Jy sal gelukkig wees en jou depressie oorkom as jy Hom meer sien (Lukas 24:27, 32). Die Heilige Gees en die Vader sal jou seën as jy Hom soek (Johannes 16:14, 14:21, 23). As jy Hom meer sien sal jy groei en nie val vir vals lering nie (2 Petrus 3:18, 17). As jy Hom sien sal jy sonde meer haat. Hoe meer jy Hom sien, hoe liewer sal jy Hom kry, sodat jy Hom nóg meer wil sien.

 

Hoe soek jy Hom in die Ou Testament? Jy moet gered wees – anders sal jy Hom nie sien nie (Johannes 5:39, 1 Korintiërs 2:14, 2 Korintiërs 3:14-18, 4:4, 6). Bid vir oop oë (Psalm 119:18). Oordink die verse en lees eerder stadig en noukeurig as wat jy te vinnig lees. Vra hoe ‘n spesifieke teks van Jesus se lieflike Persoon en sy verlossingswerk praat. Moenie vir Jesus in elke slingervel en spioen sien nie. Moenie die teks vergeestelik en sê Ragab se rooi tou is die kruis nie. Sien vir Jesus waar die Nuwe Testament ‘n duidelike verband wys met ‘n spesifieke Ou Testament teks. Kry vir jou ‘n Bybel met kruisverwysings in. Lees Charles Spurgeon se preke (ongelukkig is dit so dat Spurgeon soms die Ou Testament vergeestelik).

 

Kom ek wys vir jou hoe ons Hom in Eksodus 28 raaksien.

 

  • Volgens Hebreërs is Jesus ons Hoëpriester.
  • Om te wys dat Hy rein is (Hebreërs 7:26), dra Jesus heilige, rein, wit klere (v.2, 39, Openbaring 1:13).
  • Hy dra ons laste op sy skouers in gebed; Hy hou ons in sy hart (Johannes 17, Romeine 8:34, Hebreërs 7:25, vgl. Hooglied 8:6).
  • Hy graveer nie net ons name op ‘n steen nie, maar in sy handpalms (v.11, 21, Jesaja 49:16).
  • Hy bou vir ons ‘n stad met twaalf edelstene in die fondasie (Openbaring 21:14, 19-20).
  • Soos met die Urim en Tummim, leer Jesus deur die Skrifte vir ons God se wil (Hebreërs 1:1, Psalm 119:105, Romeine 12:2).
  • Soos die hoëpriester se blou kleed, is Jesus se klere nie geskeur nie (v.32, Johannes 19:23).
  • Hy dra ‘n goue kroon (v.36, 39:30, Openbaring 14:14).
  • Hy is heilig aan die Here (v.36, Johannes 6:69, ESV).
  • Hy dra ons skuld sodat God ons offers van geld, gebede, en lofprysing aanneem (v.38).
  • Die Vader het Hom ‘n Priester gemaak (v.41, Hebreërs 5:4-5).
  • Hy maak ons priesters wat geestelike offers bring (1 Petrus 2:9, 5, Openbaring 1:6, 5:10).
  • Hy gee vir ons heilige, rein, en wit klere (Openbaring 7:9, 19:8, 3:4-5).
  • In Hom kan ons deur gebed mekaar se laste op ons skouers dra, en mekaar in ons harte hou.
  • Hy maak ons heilig aan die Here (v.36, Openbaring 22:4).

 

Die man wat my kar regmaak het ‘n klein ronde spieëltjie op ‘n lang stuk metaal. Daarmee kan hy soos ‘n tandarts op plekke sien waar jy nie kan nie. Net so kan jy Jesus se spieëlbeeld oral in die Ou Testament sien: in die skepping, in die sondeval, in God se voorsienigheid in Rut, in die Ou Testament konings, in die lofprysing van die Psalms, in die hoë pieke van Jesaja se profesieë, in die wysheid van Spreuke, in die liefde van Hooglied, in die lyding van Job, in die offers van Levitikus, in die Israeliete se uittog in Eksodus, in die nuwe tempel van Esegiël, ens. Hy is orals, jy kan Hom nie miskyk nie.