Geskenke vir Jesus

Christmas gift

Kerstyd is op ons. Vir die wêreld gaan dit oor geld, geskenke, en lekker kos.  Vir Christene gaan dit oor Jesus wat Homself vir ons gegee het.  Eksodus 30 gee vir ons ‘n paar idees van Kersgeskenke wat ons vir Hom kan gee om dankie te sê.

 

Die wierook altaar en salfolie (v.1-10, 22-38)

Ek is mal oor die reuke en geure van die lente: nat grond as dit reën, bloeisels aan die bome, yesterday-today-and-tomorrow, gesnyde gras, rose in die tuin, vars lug vroeg in die môre, braaivleis in die buurt.  Alles in die skepping leef.  Daar is nuwe lewe in die natuur, en die mense kom uit hulle huise en geniet weer die buitelug.  Net so is die soet geur van wierook (simbolies van gebed) lieflik in God se neus.

 

Altar of insenceMoses moes ‘n wierook altaar van akasiahout maak: 45 x 45 x 90 cm hoog (v.1-2).  Die horings op die vier hoeke moes een wees met die altaar (v.2).  Die altaar moes oorgetrek word met suiwer goud (v.3).  Daar moes ‘n goue rand om die kante wees (v.3).  Die kunstige werk het gewys dat God pragtig is, terwyl die goud sy koningskap, rykdom, en majesteit gewys het.  Altar of insence 2

 

Daar moes twee goue ringe onder die rand wees, op die twee hoeke oorkant mekaar, of dalk twee ringe per kant (v.4, sien twee sketse hierbo). Die ringe was vir die akasiahout pale wat met goud oordek is.  Die Leviete moes die altaar dra, sodat hulle dit nie sou aanraak en sterf nie (v.4, Numeri 4:11, 15).

 

Die ark met die versoendeksel het agter die gordyn gestaan, en die wierook altaar voor die gordyn (v.6). Aäron moes Altar of incense 3eers by die altaar tot God bid, voordat God hom by die ark sou antwoord.  Die wierook altaar moes ook ‘n wolk oor die versoendeksel vorm, sodat die hoëpriester nie sterf nie (Levitikus 16:13).  Aäron het die geurige wierook op die altaar gebrand (v.7).  Hy moes so doen in die oggend as hy die lampies uitgedoof het (v.7), en in die aand as hy die lampies aangesteek het (v.8).  Die gereelde wierook offer moes deur al hulle geslagte gebring word (v.8).

Tabernacle layout

Hulle kon nie wierook sonder ‘n bevel offer, of kole van ‘n ander bron as die koper altaar gebring het nie (v.9, Levitikus 16:12). Toe Nadab en Abihu dit probeer het, het God hulle doodgemaak (Levitikus 10:1-2).  Hulle kon ook geen graan- of drank offer op die wierook altaar offer nie (v.9).  Aäron kon wel een keer per jaar versoening maak deur die bloed van die sonde offer op altaar se horings te smeer (v.10, Levitikus 16:18).  So het hy die altaar vir God geheilig (v.10).

 

By KFC en die Coke fabriek is daar geheime resepte wat nie mag uitlek nie. Baie het al probeer om soortgelyke Cola te maak, maar dit proe nooit regtig soos Coke nie.  Het jy al probeer om KFC met meel, olie, speserye, en broodkrummels by die huis na te maak?  Dit proe nie heeltemal dieselfde nie.  Net so het God ‘n spesiale resep vir die salfolie gehad.  Die volk was verbied om dit na te maak.  Dit was spesiaal, heilig, en een van ‘n soort.

 

Die salfmenger moes die salfolie maak van die duur en skaars speserye wat die volk bygedra het (25:6). Hy moes dit maak van 5.5 kg mirre, 2.5 kg soet kaneel, 2.5 kg kalmoes (‘n geurige riet), 5.5. kg kassie (van Cinnamomum cassia se bas), en 3.5 liter olyf olie (v.23-25). Die olie was heilig en bedoel vir spesiale gebruik.  Dit was simbolies van die Heilige Gees wat hulle vir die taak sou toerus en afsonder (v.25, 30). Moses moes ook die tabernakel, ark, tafel met toonbrode, kandelaar, wierook altaar, koper altaar, koper waskom met sy staander, alle instrumente salf vir spesiale gebruik aan God (v.26-28).  Enigiemand wat hieraan geraak het, sou heilig wees (v.29).  Die punt was dat net die priesters hiermee kon werk.

 

Omdat die olie vir spesiale gebruik was, heilig en een van ‘n soort, moes die volk dit nie as ‘n alledaagse parfuum probeer namaak nie (v.31-32). Iemand wat dit gedoen het, sou van die volk afgesny word (v.33).

 

Die salfmenger moes volgende bestandele vir die wierook gebruik (v.34-35, ‘n gelyke deel van alles):

 

  • Soet speserye.
  • Storaksgom: ‘n rooi-geel boomgom wat uit die bas drup.
  • Naeltjies of onycha: die flap van ‘n sekere slak wat die dop onder toemaak en lekker ruik as jy dit brand.
  • Galbanum: ‘n geel-bruin boomgom.
  • Pure wierook van Boswellia bome. As jy die bas sny, kom daar eers ‘n deursigtige wit gom uit. Daarna kom daar ‘n geelkleurige gom uit.

 

Die salfmenger het ook die wierook met pure sout gemeng, sodat dit gouer kon brand. Die sout sou ook die ander bestandele perseveer, en was ook simbolies van God se verbond (v.35, Levitikus 2:13, Numeri 18:19, 2 Kronieke 13:5).  Die salfmenger moes dan die bestandele tot ‘n fyn poeier maal (v.36).  Aäron moes ‘n deel daarvan voor die ark sit (v.36). Die wierook was heilig (v.36).  Soos met die salfolie, sou mense wat die wierook wou namaak van die volk afgesny word (v.37-38).

 

Wat is die lesse vir ons? Aäron moes die wierook altaar met bloed smeer (v.10).  Die les is dit:  God hoor nie ons gebede omdat ons ernstig, lank, of opreg bid nie.  Hy antwoord nie omdat jy gevas het nie.  Hy hoor jou nie omdat jy ‘n sekere rympie bid, jou woorde reg kies, kniel, huil, of sê ‘in Jesus Naam, Amen’ nie.  Hy hoor jou net omdat jou sonde vergewe is deur Jesus bloed; omdat jy bid op grond van Jesus se kruisdood (v.10).  As jy op enige ander gronde bid, sal God nie jou gebed beantwoord nie (1 Petrus 3:12, Jesaja 59:2, Spreuke 15:8, 29).  Deur Jesus is jou gebede vir God soos wierook – ‘n lieflike en geurige offer (Psalm 141:2, Openbaring 5:8, 8:3-4, Lukas 1:10, Maleagi 1:11, Spreuke 15:8).

 

Ons gebede is heel eerste geurig deur Jesus se bloed. Maar dit is ook geurig deur Jesus, ons Hoëpriester, wat vir ons bid (Romeine 8:34).  Jesus bid nie net in die oggend en aand vir ons nie, maar tree altyd vir ons in (Hebreërs 7:25).  As God ons gebede so geniet, moet ons dit nie versaak nie.  God is gretiger om ons gebede te hoor as wat ons is om dit te bid.  Hy wil hê ons moet bid en gemeenskap met Hom geniet.  Dit is byna soos verliefdes, familie, goeie vriende wat nie kan wag om by mekaar te kuier nie.

 

Omdat God ons gebede geniet, moet ons nie gou wil klaarmaak of net deur ons lysie bid nie. Ons moet rustig wees en tyd in sy teenwoordigheid deurbring.  Bid soveel as wat jy kan.  Begin en eindig jou dag met gebed – bid gedurig (v.7-8, 1 Tessalonisense 5:17).

 

His Name, like sweet perfume shall rise

with every morning sacrifice

 

-Isaac Watts-

 

Moenie sê: ‘Dis net bekende predikers en sendelinge in die geskiedenis wat so kan bid – ‘n gewone Christen soos ek kan nie.’  Ek ken gewone lidmate wat manne en vroue van gebed is.

 

Vir ‘n lieflike geur moet jy ook volgens God se voorskrifte of resep bid (v.9, 34). Bid soos wat daarvan hou.  Bid die Woord.  Bid die Onse Vader.  Moenie bid soos wat dit verkies nie (deur wierook en kerse te brand, in tale te bid, of soos ‘n Buddhis jou verstand leeg te maak).  Jou gebede is ook geurig as jy nie in ongeloof twyfel nie, maar glo God wil en kan jou gebed antwoord.  Glo sy beloftes en verwag ‘n antwoord (v.36).

 

Die altaar se horings was simbolies van God se krag (v.2, 1 Konings 22:11) om gebede te beantwoord. Spurgeon het gesê:  ‘Prayer is touching omnipotence.’ (Om te bid is om aan God se almag te raak).  God is so magtig, dat Hy miljoene se gebede gelyk kan hoor, dat Hy enige gebed kan beantwoord (Jeremia 32:17, 27, Efesiërs 3:20, Lukas 1:37, Matteus 19:26, Numeri 11:23).

 

Ons moet altyd geurige gebede aan God offer. Ons moet ook ons kinders so leer (v.8).  Ons gebede sal en moet vir ewig aanhou, omdat Jesus dit werd is (v.8, Psalm 72:15).

 

To Him shall endless prayer be made,

and endless praises crown his head.

 

-Isaac Watts-

 

Vir God is dit nie net ‘n geurige offer dat jy bid nie, maar ook wat jy bid.  Moenie net bid vir tydelike of aardse dinge nie, maar vir die Gees en vir geestelike dinge soos Paulus (v.23-25, Lukas 11:13, Efesiërs 1:17, 3:16).  Jy sal verbaas wees hoe jy geestelik groei, heilig word, God beter ken, en die vrug van die Gees dra as jy só begin bid.

 

Bid ook dat Jesus sy Gees in ware herlewing op die kerk en ons land sal uitstort. Vir God is dit ‘n lieflike gebed wat Hy in sý goeie tyd sal beantwoord.  Jeremiah Lanphier was besorg oor die toestand van die Amerikaanse kerk in die 1800’s.  Op 23 September 1857 het hy ‘n weeklikse middag gebed begin by ‘n kerk in Manhattan.  Die eerste week het daar net 6 mense gekom.  Die tweede week was daar 20, en die derde week 40.  In Oktober het mense daagliks saamgebid.  Teen die nuwe jaar het hulle ‘n ekstra kamer gekort, en in Februarie drie kamers.  In Maart 1858 was daar 3000 wat saamgebid het, en teen April was daar oral mense wat saamgebid het.  Mense het begin bid vir herlewing.  God het hulle gebede verhoor en ‘n magtige herlewing gestuur wat oor die land gestrek het.[1]  ‘n Jaar later het die herlewing ‘n effek gehad in Brittanje.

 

Laat ons aanhou om die geurige offer van gebed vir God te bring, want ‘God is most glorified in us when we are most satisfied in Him.’ (John Piper).

 

Die sensus belasting en koper waskom (v.11-21)

Christo is ‘n brandarm burger wat hoog-verraad teen die koning gepleeg het. By sy verhoor sê die koning dat Christo die doodstraf moet kry.  Christo smeek vir sy lewe en belowe om R35 vir die koning te gee.  Sal die koning dit aanvaar?  Natuurlik nie.  Hoekom vra God 5.5. gram silwer (R35) as ‘n losprys, as Hy al die rykdom in die wêreld besit (Haggai 2:8)?  Die silwer in v.11-16 is ‘n prentjie van iets veel groter.

 

By die sensus moes elkeen ‘n losprys vir sy lewe gee, sodat God die volk nie met ‘n plaag sou uitwis nie (v.11-12, 2 Samuel 24). Die losprys was ‘n silwer muntstuk wat 5.5 gram geweeg het (v.13, vgl. Matteus 17:24-27).  Almal wat 20 jaar en ouer was moes die losprys gee (v.14, Numeri 1:3).  Kinders kon nie tot die land se ekonomie en veiligheid bydra nie.  Die offer is dalk gegee sodat God hulle teen hulle vyande sou beskerm.  Die geld is ook aangewend om die tabernakel te bou en instand te hou (v.16).  Die sig van silwer in die tabernakel sou die volk heriner dat hulle sondaars is wat versoening verkry het (v.16).  Die ryk en die arm persoon moes ewe veel gee, sodat hulle kon besef God trek niemand voor nie (v.15).

 

Dink reg oor die geld en gawes wat jy vir God gee. Moenie dink jy kan daardeur iets tot jou redding bydra, of God se guns wen sodat Hy jou finansieel sal seën, jou probleme oplos, jou gebede verhoor, of jou iets skuld nie (Romeine 11:35).  Maak eerder jou hand oop en ontvang die gratis gawe van die lewe deur Jesus wat jou met sy kosbare bloed gekoop het, en nie met goud of silwer nie (Psalm 49:8, 1 Petrus 1:18-19).  Jesus het betaal vir ‘n menigte wat nie getel kan word in ‘n sensus nie (Openbaring 7:9).  Gee dan jou geld en gawes uit liefde en dank, want God het die blymoedige gewer lief (2 Korintiërs 9:7).

 

By hospitale moet jy jou hande was voor en na jy die pasiënt sien, sodat jy nie kieme oordra of kry nie. In v.17-21 moes die priesters hulle hande en voete was, sodat hulle geestelik (nie net hiegiënies nie) rein kon wees.

Bronze basin

Moses moes die koper waskom met sy staander maak, sodat die priesters daarin kon was (v.17-18). Die staander of voetstuk het dalk ook water in gehad, sodat hulle makliker hulle voete kon was (sien sketse hierbo).  Die waskom sou tussen die koper altaar en tabernakel staan (skets onder).  Dit was daar sodat die priesters hulle bebloede hande en voete kon was, nadat hulle die offers gebring het (v.18-19).  Hulle moes ook was, sodat hulle rein kon wees voordat hulle in die tabernakel gedien, of ‘n voedsel offer op die altaar gebring het (v.20).  Hulle en hulle nageslag moes was, sodat hulle nie sou sterf nie (v.21).

Bronze basin in tabernacle

Gee jouself as ‘n rein offer aan God (Romeine 12:1). Word eers deur geloof gered by die altaar van die kruis (v.18).  Was dan gereeld in die koper waskom van die Woord en gebed (v.18-19, 1 Johannes 1:9, Efesiërs 5:26, Johannes 13:8-10, 15:3).  Was jouself veral voor die erediens en voor jy nagmaal gebruik (v.20), want net die rein persoon mag voor God staan (Psalm 15).

 

My suster-hulle het hierdie week by ons gekuier. Ons het oor verjaarsdae gepraat, en sy het gevra:  ‘Wat is die beste geskenk wat jy nog ooit gekry het?’  Wat sou Jesus op hierdie vraag geantwoord het?  Ek glo Eksodus 30 help dat jy ten minste weet wat party van sy gunsteling geskenke is.  Mag ons nie net weet wat hierdie geskenke is nie, maar Hom so liefhê dat ons dit vir Hom gee ook.

[1] Iain Murray, Revival and Revivalism, pp.342-345

Advertisements

Wat jy moet weet oor jou opstandingsliggaam

Graveyard

Wanneer die jaar tot ‘n einde kom, is almal moeg. Maar die jaar-einde speel nie saam nie, want hoe nader jy daaraan kom, hoe besiger raak dit.  Kerke hou Kersetes en Kerssangdienste, jou kinders skryf eksamens, besighede hou hulle jaarafsluiting funksies, jy moet werk klaarmaak, onderwysers merk hope vraestelle, almal wil goed regkry voor vakansie, jy moet reëlings tref vir mense om jou honde te voer, ander mense moet vir jou instaan, ens.

 

Hoekom byt ons vas? Want in jou kop is daar ook ‘n prentjie van die strand, die see, ‘n vakansiehuis of karavaanpark, familie, lekker eet, kuier met vriende, en kersgeskenke.  Die hoop op wat kom hou jou staande.

 

En so is dit die hoop op die nuwe liggaam wat Christene help om te volhard deur siekte, lyding, pyn, versoeking, hartseer en dood. Dit is Paulus se les in 1 Korintiërs 15:35-49.

 

Twee illustrasies (v.35-42a)

In Louis Trichardt het ons ten minste tien groot bome in ons erf gehad. Elke boom se saad het anders gelyk.  Die koraalbome se saad was ‘n klein rooi saadjie met ‘n swart kol op.  Die flambojant se sade was bruin met ‘n dik grys streep.  Die jakarandaboom se saadjies was plat met ryspapier-tipe vlerkies.  Die kapokboom se sade was swart, en die Australiese flamboom s’n het gelyk of dit fyn hare op het.  Dit is verbasend om te dink hoe hierdie reuse koeltebome ontstaan het uit sulke klein saadjies wat in die grond ‘sterf’.  Paulus gebruik hierdie illustrasie om die waarheid van die opstandingsliggaam te verdedig.

 

In v.1-34 het Paulus die opstanding van die dooies op grond van Jesus se opstanding verdedig. Hy het geweet iemand sal die beswaar aanteken:  ‘Hoe word die dooies opgewek?  Watter soort liggaam het hulle as mense dan tot stof vergaan?  As die liggaam vergaan, kan jy mos nie weer dieselfde liggaam hê nie?  Jesus se opstanding kan ons nog verstaan, want sy liggaam was slegs vir drie dae in die graf en kon nie vergaan nie.  Maar iemand wat vir dekades, eeue, of millenia in die graf lê, se liggaam gaan heeltemal tot niet.  Hoe kan hierdie liggaam weer opgewek word?’ (sien v.35).

 

Volgens Paulus is dit ‘n dom vraag of beskuldiging (v.36). Die Korintiërs weet dat ‘n saadjie eers ‘begrawe’ moet word en ‘sterf’, voordat dit weer kan opkom (v.36, Johannes 12:24).  Die saadjie wat begrawe word (koring of ander soorte graan) en die plant wat opkom is aan mekaar verwant, maar die plant lyk ook baie anders as die saadjie (v.37).  God gee vir elke soort saadjie ‘n ‘liggaam’ soos Hy gekies het (v.38).  So is dit ook met die opstandingsliggaam.

 

God het verskillende skepsels gemaak. Mense, visse, voëls, en diere lyk nie dieselfde nie – God het elkeen na sy soort gemaak (v.39, Genesis 1).  Ook lyk hemelse en aardse liggame nie dieselfde nie (v.40).  Gerubs, serafs, en ander hemelwesens het ‘n heerlikheid wat pas by die hemel, terwyl mense ‘n tipe liggaam het wat by die aarde pas (v.40).  Net so sal God ‘n opstandingsliggaam gee wat by die nuwe aarde pas.

 

Die son het sy eie soort heerlikheid (v.41). Dink maar aan die helder Suid-Afrikaanse middagson, of ‘n pragtige sonsopkoms of -ondergang.  Die maan het ook sy eie heerlikheid:  ‘n groot volmaan wat ligte geel, vuil pienk, rooi, of roomkleurig is.  Die sterre in ons melkweg het hulle eie heerlikheid (v.41). Elke ster het ook sy unieke heerlikheid (v.41).

 

So is dit met die opstandingsliggaam: elke liggaam is uniek en pragtig (v.41).  As God soveel verskillende ‘liggame’ kan maak vir beeste, visse, sterre, bome, en mense, kan Hy sekerlik ook ons sterflike liggame opwek en verheerlik (v.42a).

 

Vier vergelykings (v.42b-44)

Maryke lê op haar sterfbed. Sy is bleek, eet nie, is op suurstof, voel naar a.g.v. die medikasie, weeg net 45 kg, en praat nie.  Haar familie is hartseer en bid dat God haar sal genees as dit sy wil is.  God antwoord hulle gebede en genees haar.  Na agt maande skyn haar gesig, haal sy self asem, eet sy normaal, weeg sy 20 kg swaarder, voel sy goed, en gebruik sy niks meer medisyne nie.  Daar is ‘n groot verskil tussen wat sy was en wat sy nou is.  Hoeveel groter is die verskil nie as jy in die graf vergaan het, en onsterflik, sterk, heerlik, en sondeloos opstaan nie?

 

[1] Ons liggame word as verganklik en sterflik in die graf ‘geplant’ (v.42). Ons liggame word stof, as of viskos.  Weens die sondeval word ons liggame oud en sterf ons (Genesis 2:16-17, 3:19).  Maar God sal ons opwek, sodat ons liggame onverganklik en onsterflik is (v.42).  Die opstandingsliggaam kan nie verouder, vergaan, grys word, rimpel, of sterf nie.

 

[2] Ons liggame word in oneer in die graf ‘geplant’ (v.43a). Lyke is oneerbaar.  Ons maak dit toe onder ‘n sak, sit dit in ‘n kis, en bêre dit diep in die grond.  Ons probeer om dit ‘n bietjie eerbaar te maak deur dit te balsem, mooi klere aan te trek, en blomme op die kis te sit.  Ons liggame is ook oneerbaar, omdat ons weens die sondeval sterf.  Ons sit mense in die grond soos diere (Prediker 3:19-20).  Maar God sal ons liggame opwek in heerlikheid (v.43a, Kolossense 3:4).  Die opstandingsliggaam sal nie bleek en oneerbaar wees soos ‘n lyk nie.  Ons nuwe liggame het lewenskrag, glans, vitaliteit, skoonheid, prag, en heerlikheid.  Ons sal letterlik skyn soos die son (Daniël 12:2-3, Matteus 13:43, 17:2, Eksodus 34:29-30).

 

[3] Ons liggame word in swakheid in die graf ‘geplant’ (v.43b). Ons liggame word oud, ly pyn, raak siek, huil, val en kry seer, breek bene, raak moeg en uitgeput, moet gereeld rus en slaap, vergeet, verswak en gee in, is gebreklik, gestremd, en verlam.  Deur die sondeval verswak ons liggame.  Maar God sal ons opwek in krag (v.43b).  Ons opstandingsliggame sal nooit siek word, seerkry, pyn ly, huil, moeg raak, breek of vergeetagtig wees nie.  “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” (Openbaring 21:4).

 

[4] Ons liggame word as ‘n natuurlike liggaam in die graf ‘geplant’ (v.44). Die Grieks vir ‘natuurlike liggaam’ [psigikos] praat van ‘n liggaam wat deur die sondige natuur beheer word (2:14).  Totdat jy sterf sal die sondige vlees jou liggaam pla.  Maar God sal ‘n geestelike liggaam opwek (v.44).  Dit beteken nie dat jou nuwe liggaam ‘n deursigtige spook is nie.  Die Grieks vir ‘geestelike liggaam’ [pneumatikos] praat van ‘n liggaam wat deur die Heilige Gees beheer word (2:15, Galasiërs 6:1).  Jy sal dus nooit weer deur die sondige vlees gepla word nie, maar sal altyd deur die Gees gelei word (v.44, Galasiërs 5:16-26,vgl. Matteus 6:10b).

 

Twee prototipes (v.45-49)

In die wêreld van karre verwys ‘n prototipe na ‘n model wat die nuwe style en tegnologie by ‘n motorskou wys, om te kyk of die publiek gunstig reageer. Indien wel, word hierdie model ‘n produksiekar.  Die produksiekar word gebou op die bloudruk van die prototipe.  Dit is wat ek bedoel as ek sê dat Adam en Jesus prototipes is.  Adam staan in die plek van die mensdom; in hom sterf almal (v.22).  Jesus staan in die plek van almal wat in Hom glo; in Hom kry ons nuwe lewe vir die siel en liggaam (v.22).  Dit is ook die les in v.45-49.

 

God het sy lewensasem in Adam se neus ingeblaas (v.45, Genesis 2:7). Die laaste Adam (Jesus) is die God wat hierdie lewensasem in Adam ingeblaas het (v.45).  Hy sal ook by sy wederkoms lewe vir ons dooie liggame gee (Johannes 5:21, 6:39-40).  Adam het gesondig voordat Jesus ons kom red het (v.46).  Dieselfde geld vir die opstanding:  die natuurlike liggaam het bestaan voor die geestelike liggaam (v.46).

 

Adam was uit die stof van die aarde, en het weens sy sonde daarheen teruggekeer (v.47, Genesis 2:7, 3:19). Die tweede mens (Jesus) het uit die hemel na Maria se moederskoot toe gekom (v.47).  Hy het uit die dood uit opgestaan en ‘n nuwe liggaam gekry.  In Adam is almal stoflik en sterflik (v.48, 22, Prediker 12:7).  Deur geloof in Jesus kry ons ‘n nuwe liggaam soos syne (v.48, 22, Filippense 3:20-21).  In Adam dra ons sy gevalle beeld (v.49, Genesis 5:3).  In Jesus word sy beeld in ons herstel (v.49, 2 Korintiërs 3:18, Romeine 8:29, 1 Johannes 3:2).  Ons word nie God soos Hy nie, maar sal wel ‘n volmaakte mens word soos Hy.

 

Die toepassing uit hierdie hoofstuk is eenvoudig: verstaan wat die Bybel sê oor die opstanding van die liggaam.  Wat leer die Skrif hieroor?

 

[1] Die persoon wat opstaan is dieselfde persoon wat begrawe is (v.37, Johannes 5:28-29, die voorbeeld van Jesus self). Jy het wel ‘n sterker en beter liggaam, maar mense sal jou herken as JY.  Jy en jou geliefdes sal mekaar herken (1 Tessalonisense 2:19, 4:13-18, 2 Korintiërs 1:14, vgl. Markus 9:5, Lukas 16:23-24).  Jy word nie ‘n engel, gees of spook nie, maar sal vir ewig ‘n mens bly met ‘n siel en ‘n liggaam (vgl. Lukas 24:39).

 

[2] Elke mens se opstandingsliggaam sal uniek wees (v.38). Soos op aarde, gaan geen twee mense dieselfde lyk nie.  Ons gaan nie almal identies lyk met wit rokke en goue harpe nie.

 

[3] Hoe oud sal ons lyk? Hoe oud het Adam en Eva gelyk toe God hulle gemaak het?  Dalk 25 of 30?  My kinders kon nie glo toe ek vir hulle sê dat my 90-jarige ouma weer jonk sal lyk nie.  Jonathan Edwards sê:  ‘In heaven it is the direct reverse of what it is on earth, for there by length of time things become more and more youthful, that is, more vigorous, active, tender, and beautiful.’[1]

 

Is dit Bybels? Ja. 1 Petrus 1:4 sê ons het ‘n onverwelklike erfenis in die hemel.  Sonde het alles laat vergaan.  Jesus sal alles herstel en verbeter.  As Jesus kom sal alles wees soos ‘n roos wat nooit verlep nie.  Die hemel en alles daarin se skoonheid sal nooit vergaan nie.  Ons nuwe liggame sal  ‘n honderd keer mooier wees as wat enige persoon op aarde ooit was – selfs Adam en Eva.  Adam en Eva se liggame was aards en stoflik.  Ons sal ‘n verheerlikte liggaam hê.

 

Jou gehoor, sig, reuk, breinkrag, fisiese krag, en alles sal beter wees. Dalk sal jy sterk wees soos ‘n beer, skerp sig hê soos ‘n arend, hoor soos ‘n wolf, ruik soos ‘n bloedhond, vinnig wees soos ‘n jagluiperd.  Jonathan Edwards sê:  ‘It is probable that… [we] may distinctly see the beauty of one another’s countenances and smiles, and hold a delightful and most intimate conversation at a thousand miles distance.’[2]

 

Jou opstandingsliggaam sal geen letsels van ou ongelukke oorhou nie. Slegs Jesus se opstandingsliggaam sal die merke van sy kruisdood oorhou om ons vir ewig te herinner aan sy groot verlossing vir ons (Johannes 20:27, Openbaring 1:7, 5:6).  Maar wat van Openbaring 22:2 wat sê dat die Boom van die Lewe se blare genesing is vir die nasies?  Impliseer dit nie ons sal siek word, seerkry, en wonde moet genees nie?  Nee.  Dit sê eenvoudig ons sal al die nodige medisyne, vitamines, minerale, en kruie hê om vir ewig gesond te bly, om vir ewig vitaliteit en krag te hê.

 

Maar vir my is krag en gesondheid nie die beste nuus van ons nuwe liggame nie. Vir my is die beste nuus dat ons nooit weer versoek sal word of eers instaat sal wees om te sondig nie.  Nooit weer sal ons sondige dinge begeer, dink, voel, sê of doen nie, want die Heilige Gees sal ons vir altyd lei (v.44).  Jy hoef dus nie bang te wees dat God jou uit die hemel sal skop, soos Hy met Satan gedoen het nie.

 

As jy twyfel of geraamtes en mummies regtig so getransformeer kan word, moet jy nie God se krag vergeet nie (Handelinge 26:8). God kan elke stofdeeltjie van jou liggaam weer bymekaar bring, selfs al het die wind dit weggewaai (Esegiël 37:7, Genesis 2:7).

 

As jy ongered is sal jy ‘n afgryslike liggaam kry wat by die hel pas (Daniël 12:2, Jesaja 66:24). Ongelowiges se opstandingsliggaam sal vir ewig al die effekte van die sondeval beleef in die ergste graad:  gout, athritis, kanker, tandpyn, migraine, trane, naarheid, beroertes, hartaanvalle, honger, dors, haat, ‘n skuldige gewete, eensaamheid, hopeloosheid, depressie, angs, vrees, bitterheid, verlorenheid, dood, ens.

 

Ek dring by jou aan om jou te bekeer. Hou op om te vertrou op jouself en jou eie pogings.  Glo in Jesus se kruisdood en opstanding vir sondaars.  Vertrou dat Hy jou enigste hoop is vir redding en vergifnis.  Weet dat Hy sondaars met ope arms verwelkom en liefhet, al is jy die ergste sondaar en het jy Hom gehaat en gelaster (Johannes 6:37, 1 Timoteus 1:13-16).  Hy sal vir jou ‘n nuwe hart en begeertes gee, jou sondige rekord voor God vergewe, en jou nuut maak (2 Korintiërs 5:17, 21).  Eendag sal Hy ook vir jou ‘n nuwe liggaam gee.  Hoekom wil jy nóg uitstel; hoekom wil jy wag?  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).

 

As jy Skrif se lering oor die opstandingsliggaam verstaan, sal jy hoop hê…

 

  • In siekte
  • As gelowiges sterf
  • As jy pyn het
  • As jou gehoor of sig verswak
  • As jou liggaam verouder
  • As jou brein begin vergeet
  • As jy op jou sterfbed lê
  • As jy met sonde stry en wens dit is vir altyd weg
  • As versoeking intens raak
  • As jy ‘n gebrek het in jou liggaam
  • As jy moeg is en nie meer kans sien vir die lewe nie

 

Joni Eareckson Tada het ‘n duikongeluk gehad toe sy 14 was. Sy het haar nek gebreek en is al vir 48 van die nek af ondertoe verlam.  In 2013 het sy by John MacArthur se Strange Fire konferensie haar getuienis gedeel.  Op ‘n stadium het sy gesê dat haar grootste begeerte nie is om haar opstandingsliggaam te kry nie, maar om ‘n sondelose hart te hê wat vir God sal verheerlik.

 

Ek hou van wat sy gesê het, maar is dit nie uiteindelik ook die rede hoekom God vir ons nuwe liggame gaan gee nie: sodat ons Hom met alles in ons kan verheerlik en liefhê?  Ja, jy sal Hom liefhê met jou hele hart en jou hele siel.  Maar jy sal Hom ook liefhê met al jou krag en met jou hele verstand; met ander woorde met jou opstandingsliggaam.

[1] Works, vol.2, p.619

[2] Ibid

’n Oproep tot heiligheid

Anointing Aaron

Om heilig te wees beteken primêr om afgesonder te wees. Oor die afgelope paar jaar egter, het die Kerk in Suid-Afrika alles in haar vermoë gedoen om nié anders te wees as die wêreld nie, maar om die wêreld te akkomodeer.  In Eksodus 29 doen God ‘n ernstige beroep op gelowiges om heilig te wees.  “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1 Petrus 1:16).

 

Heilige klere (v.4-9, 29-30)

Toe ek op hoërskool was, het ek in die kadetorkes gespeel. Op SA’s het ons lugmag uniform gedra.  Voor inspeksie moes ons ons klere stryk, nie ons arms buig nie (sodat die gestrykte klere nie voue kry nie), ons skoensole poleer, rekke om ons kouse sit sodat dit nie afsak nie, opskeer, almal dieselfde spuitgoed gebruik, ons tande borsel, ons instrumente poleer, en almal ons hare dieselfde sny.  As ons só moes reg kry vir die inspekteur, hoeveel te meer moes Aäron en sy seuns nie voorberei vir diens aan ‘n heilige God nie?

 

Moses moes vir Aäron en sy seuns na die tent se ingang toe bring (v.4, die tabernakel was nog nie gebou nie). Daar moes hy hulle met rein water was.  Hulle moes skoon wees vir diens in God se tent (v.4).  Later kon hulle net hulle hande en voete was (30:19).  Nadat hulle gewas is, moes Moses hulle klere aantrek.  Hy moes vir Aäron die wit onderkleed, blou bo-kleed, skouerkleed met die borstas, gordel vir die skouerkleed, tulband, en goue kroon aantrek (v.5-6).  Daarna moes hy hom met olie op sy kop salf om hoëpriester te wees (v.7).  Die olie was gemaak van 5.5 kg mirre, 2.5 kg soetkaneel, 2.5 kg kalmoes (‘n geurige riet), 5.5. kg kassie (van Cinnamomum cassia se bas), en 3.5 liter olyfolie (30:23-24). Die olie het teen Aäron se baard afgeloop tot op die kraag van sy skouerkleed (Psalm 133:2).  So is sy priesterlike klere geheilig of afgesonder.  Alles sou lekker geruik het.  Die salwing het gewys dat God hom afsonder en met die Gees vul vir spesiale diens.

 

Moses het wit klere aangetrek vir Aäron se seuns (v.8). Hy het hulle gordels en hoofbedekings vasgebind (v.9).  Hoekom het hulle nie self aangetrek nie?  God wou wys dat hulle nie self die amp gekies het nie, maar dat Hý hulle afgesonder het as priesters (Hebreërs 5:4-5).  Hulle sou vir ewig priesters wees (v.9).  Moses het alles gedoen soos wat God gesê het (v.9).  Ná Aäron se dood sou sy nageslag sý klere kry en vir sewe dae gesalf en ingewy word (v.29, 35).  Hierdie klere was net vir sý nageslag wat in die Allerheiligste moes inkom (v.29).

 

Wat is die lesse uit hierdie verse? Wees rein en heilig vir Jesus.  Hoe doen ‘n mens dit?

 

[1] Word gewas in die bad van weergeboorte (Titus 3:5), die Woord (Efesiërs 5:26), en die doop (Hebreërs 10:22). As jy gered is, hoef jy nie weer te bad nie want jy is reeds skoon.  Tog maak sonde nog jou voete vuil.  Was jouself deur gereeld jou sonde te bely (Johannes 13:8-10, 1 Johannes 1:9).

 

[2] Soos Aäron, is Jesus met die olie van die Gees gesalf en ruik Hy soet (Psalm 45:8-9, Matteus 3:16). Hy is die Messias of Christus – die Gesalfde.  Wees naby Hom, sodat die geurige olie van die Gees op jou drup (1 Johannes 2:20).  So kan ook jý ‘n heilige priester wees vir Jesus.  In die Ou Testament was net party mense priesters.  In die Nuwe Testament is elke gelowige ‘n priester (1 Petrus 2:9).

 

In die Middeleeue kon net priesters die nagmaalwyn drink, vir ander bid, en die Skrif uitlê. Ons glo nie dat die dominee of enige ander geestelike leier hoër is as die res nie.  In Christus kan almal die nagmaal gebruik, die Skrif lees, hulle sonde bely, geestelike offers bring (1 Petrus 2:5, Hebreërs 13:15-16, Romeine 12:1), en bid.

 

[3] Ons moet die evangelie aan die volgende geslag oordra (v.28-29, Genesis 18:19, Deuteronomium 6:7, 1 Korintiërs 7:14, 1 Timoteus 2:15, Psalm 78:4-7, Efesiërs 6:4). Die skuld van Suid-Afrika se onheilige jongmense lê aan die voete van onbetrokke pa’s wat nie vir hulle kinders die evangelie leer nie; aan die voete van ouers wat self onheilig is en ‘n slegte voorbeeld stel.  Ons moet verseker ‘n beter taak hierin doen.  As ons en ons kinders onheilig is, sal ons nie die Here sien nie (Hebreërs 12:14).

 

Heilige offers (v.1-3, 10-28, 31-34, 38-42)

‘n Rabbi se seun het vir hom gevra hoe versoening gemaak word vir sondaars. Die Rabbi het gesê:  ‘Deur bloed’ (Levitikus 17:11).  Die seun het gesê:  ‘Hoekom is daar geen bloed-offers in ons sinagoges nie?’  Die Rabbi het geantwoord:  ‘Want geen offer kan buite Jerusalem se tempel gebring word nie, en daardie tempel is verwoes.’  Die seun het sê:  ‘Dan het ons nie versoening nie.’[1]  Sonder bloed kan daar nie versoening en vergifnis wees nie (Hebreërs 9:22).  Daarom was daar offers nodig.  Uiteindelik is die offers in Jesus se kruisdood vervul.

 

Om die priesters af te sonder (28:41) moes Moses ‘n bul en twee ramme sonder gebrek vat (v.1). Moses het spesifieke instruksies van ‘n spesifieke God af ontvang.  Hy moes ongesuurde brode, koeke, en platbrode maak van fyn meel, en dit as ‘n graanoffer bring (v.2).  Hy moes die koeke met olyfolie meng, en die platbrode met olie smeer (v.2).  Die brode het seker soos ongesuurde vetkoek of braaibroodjies geproe.  Hy moes die brode en koeke in ‘n mandjie sit, en dit nader bring saam met die lewende bul en twee ramme (v.3).

 

Nadat Moses die priesters gesalf en geklee het, moes hy die bul na die tent se ingang toe bring (v.10). Aäron en sy seuns het hulle hande op die bul se kop gesit (v.10).  Daardeur het hulle gesimboliseer dat hulle sonde op die dier oorgedra word (Levitikus 16:21-22).  Die dier het gesterf, sodat hulle nie sou nie.  Moses het dan die bul voor die Here geslag by die tent se ingang (v.11).  Die bul se bloed is op die horings van die altaar gesmeer, en die res is aan die voet van die altaar gegooi (v.12).  Die horings het gewys dat God sterk is om te red en sonde te vergewe (vgl. 1 Konings 1:50).

 

Die vet wat oor die ingewande was, die lap aan die lewer, die niere en sy vet, is as ‘n geurige offer op die altaar gebrand (v.13). Die ingewande moes verbrand word, omdat die heidene dit soms gebruik het om die toekoms te voorspel (Esegiël 21:21).  God wou nie hê sy volk moes soos die heidene wees nie.  Die bul se vleis, vel, en pensmis moes as sonde offer buite die kamp verbrand word (v.14).

 

Volgende moes hulle hul hande op die eerste ram se kop lê (v.15, 10). Daarna het Moses die ram geslag, en sy bloed teen die kante van die altaar gegooi (v.16).  Hy moes die ram in verskillende snitte slag (v.17).  Hy het die bene en binnegoed gewas (v.17, seker soos wat ‘n mens afval skoon skrop).  Saam met die kop het hy dit op die rooster as ‘n brandoffer verbrand (v.17-18).  Hierdie was ‘n geurige voedseloffer vir die Here (v.18, Genesis 8:20-22).

 

Die priesters het ook hulle hande op die tweede ram se kop gesit (v.19). Die ram is geslag, en sy bloed is op die priesters se regter oorlobbe, duime, en groottone gesmeer (v.20).  Die res is aan die kant van die altaar uitgegooi (v.20).  Hoekom die regterkant?  Regs is simbolies van sterkte (15:6).  Hoekom die oor, duim, en groottoon?  Die oor het gewys dat hulle gereed was om vir God te luister (21:6).  Die duim het gewys hulle sou God se wil doen, en die groottoon het gewys hulle sou in God se weg wandel.  Iemand sonder duime en groottone was magteloos (Rigters 1:6).  Die priesters het dus gewys dat hulle God met hulle hele krag sou dien.

 

Moses het bloed en salfolie op die priester en sy klere gesprinkel. So het hy gewys dat die priester vergewe en afsonder is (v.21).  Moses moes die tweede ram se vet, vet stert, vet oor die ingewande, lap oor die lewer, niere en die vet daarvan, regterboud, en brode vat (v.22-23).  Hy het dit op die priesters se handpalms gesit (v.24).  Hulle handpalms was seker oop om te wys hulle is arm en behoeftig (v.24).  Hulle moes dit as ‘n beweegoffer voor die Here waai (v.24).  Moses het dit dan bo-op die vorige offer gebrand.  Weereens was daar die aangename geur van braaivleis en vars roosterkoeke (v.25).

 

Moses het die tweede ram se bors voor die Here gewaai, dit geheilig, en dit geëet (v.26-27). Die dy van enige vrede offer was vir die priesters (v.28).  Hulle het die res van die tweede ram se vleis in ‘n heilige plek gekook en geëet (v.31).  Hulle het die skaapvleis en brood voor die tent se ingang as ‘n verbondsete geëet (v.32).  Geen buitestaander kon dit eet nie, en die oorskiet moes verbrand word (v.33-34).

 

Daar moes elke dag twee jaar-oue lammers op die altaar geoffer word: een in die môre en een in die aand (v.38-39).  Saam met die lamsvleis moes hulle 730 ml fynmeel, 875 ml geparste olie, en 875 ml wyn offer (v.40-41).  Lamsvleis met olyfolie en rooiwyn klink darem maar lekker, né?  ‘n Bietjie meel sou dit soos ‘n schnitzel laat smaak het.  Hierdie reël het vir al hulle geslagte gegeld.

 

Wat is die les uit hierdie verse? Kom na die kruis toe vir regverdigmaking en heiligmaking.  Hoe doen ‘n mens dit?  Party mense sê as jy net misties oor die kruis nadink sal jy heilig word.  Dit is onbybels, want jy moet ‘n aktiewe rol speel in jou heiligmaking (Efesiërs 4:22-24).  Dis nie wat ek bedoel met ‘kom na die kruis toe vir heiligmaking’ nie.

 

Ander leef asof God onbetrokke is in ons heiligmaking; asof jy deur jou eie pogings (soos Bybellees en bid) heilig word. Dit is ook verkeerd, want deur sy kruisdood het Jesus selfs die goeie werke wat jy doen, betaal (Efesiërs 2:10).  Vir God om jou goeie werke te aanvaar, moet Jesus dit in sy bloed was (v.20).  Voor God is selfs jou goeie werke walglik (Jesaja 64:4).  Net Jesus se kruisoffer is vir God ‘n lieflike geur (v.18, Efesiërs 5:2, Filippense 3:7-9).

 

Moenie jou lewe bring as ‘n sondeoffer om God se guns te wen nie.  Bring dit as ‘n dankoffer deur die lieflike offer van Jesus se kruisdood (Romeine 12:1). Dit is wat ek bedoel met ‘kom na die kruis toe vir heiligmaking’.  Besef dat Jesus se een goeie werk (die kruis) al jou goeie werke – al is dit ook hoe onvolmaak en swak – aanneemlik maak by God.

 

Jy kan egter nie jou goeie werke in sy bloed was as jy nie eers deur sy kruis-offer geregverdig is nie. Anders is jy soos ‘n Katoliek wat dink genade beteken God stel jou instaat om goed te doen, sodat jy jouself kan red.

 

Om die sondaar te regverdig, plaas God sy sonde op Jesus, die Lam van God (v.10, 1 Petrus 2:24, 2 Korintiërs 5:21). Die sondaar moet buite God se teenwoordigheid in die kamp gestraf word (v.14, Openbaring 22:15).  Jesus sterf egter namens ons buite die kamp (v.14, Hebreërs 13:12, Markus 15:20).  Jesus het die môre en aand offer vervul (v.39), toe Hy om 09:00 gekruisig is, en om 15:00 sy laaste asem uitgeblaas het (Markus 15:25, 34, 37).

 

Vertrou op Jesus en sy kruisdood. Net Hy en sy offer kan God tevrede stel.  Die hoëpriester kon nie sonder ‘n lam in die Allerheiligste inkom nie.  En dink jy jy sal voor God kom sonder die Lam van God in die arms van geloof?  Eet van Hom deur die geloof (v.28, Johannes 6:52-56, 35).  Geniet ook gemeenskap met Hom deur die nagmaalbrood en wyn (v.28, 32, Openbaring 3:20); deur ‘n daaglikse toewyding in die Woord en gebed (v.39).

 

Heilige altaar (v.35-37)

Ek hou nie van bloed nie. Ek word nie flou nie, maar voel ‘n bietjie duislig as ek dit sien.  Ek sal nooit ‘n dokter of paramedic kan wees nie.  Hoe walglik moes dit wees om emmers vol bloed langs, teen, en op die altaar te sien?  Dit moes erger gewees het om dit aan die kruis te sien:  oral oor Jesus se rug, gesig, hande, voete, sy, kop, en liggaam.  Dit is presies die idee wat God wil oordra, want dit is hoe walglik sonde is.  En omdat sonde so erg is, moes selfs die altaar geheilig word.

 

Moses het v.1-34 volgens God se bevel gedoen (v.35). Die hele proses van inwyding en afsondering het oor sewe dae gestrek (v.35).  Moses het elke dag ‘n bul vir versoening geoffer, en daardeur ook die altaar gereinig (v.36).  Om dit te heilig het hy dit ook gesalf (v.36).  Die altaar moes rein en heilig wees vir God om die offers te aanvaar (v.36).  Enigiemand wat aan die altaar geraak het, het heilig geword (v.37, Matteus 23:19).

 

Leer hierdie les uit die altaar: Hoewel die offer op die altaar gebring is, was dit nie die altaar wat die sonde vergewe het nie.  Net so is dit nie die kruis wat sonde vergewe nie, maar Jesus aan die kruis.  Soek ‘n heilige lewe en vergifnis in Jesus – nie in ‘n prent van die kruis in ‘n kerk, of in ‘n goue kruis om jou nek nie.  ‘We preach the cross – we don’t stick it up in our churches.’ (Stuart Olyott).  Die krag vir ‘n heilige lewe lê in Jesus self, en nie in die simbool van ‘n kruis nie.

 

Heilige God (v.43-46)

Ons heiligheid is die sonstrale en stormwolke wat sy onstaan het in God – die Son en Oseaan van heiligheid. Die laaste verse van Eksodus 29 leer vir ons hierdie belangrike deel van heiligheid.

 

God sou sy volk by die tent se ingang ontmoet (v.43). God sou die tent deur sy heerlikheid heilig of afsonder (v.43, 40:34).  Hy het ook die priesters, hulle klere, en die altaar geheilig (v.44).  Eers nadat God alles geheilig het, kon Hy onder sy volk woon (v.45).  Deur sy teenwoordigheid sou die volk geweet het Hý is die Here wat hulle uit Egipte gered het, juis vir hiérdie doel (v.46).  Hy het sy volk liefgehad en wou by hulle wees (v.46).

 

Kom in God se heilige teenwoordigheid in. God het na óns toe gekom, sodat ons na Hóm toe kan kom.  Hy reinig ons harte en woon in ons (v.45, 2 Korintiërs 6:16).  Hy maak die gemeente sy tempel (1 Korintiërs 3:16) en wil hê jy moet deel wees van sy kerk.  Hy red jou juis, omdat Hy bý jou wil wees, en nie omdat Hy mense nodig het om Hom te dien nie (v.45-46, Openbaring 21:3, Handelinge 17:25).  Leef naby Hom deur die Wood en gebed.

 

Christene wat die meeste vir God bereik het in die geskiedenis was heilig. Om bruikbaar te wees moet jy Jesus vurig liefhê en ‘n diep haat hê vir sonde.  Wyle Martin Holdt het eenkeer in ‘n onderdele winkel gestaan toe ‘n kliënt vir die kassier ‘n vuil grap vertel.  Martin het na die man toe gedraai en hard uitgeroep:  ‘Bly stil!  Dis vieslik!’  Daardie Sondag was beide mans se vroue in die kerk.  ‘n Ruk later het die mans saamgekom.  Deur Martin se heilige voorbeeld het twee gesinne na die Here toe gekom.  Mag die Here weer vir ons sulke tye gee.

[1] John Currid, Evangelical Press Study Commentary: Exodus, vol.2, p.239

Hoe belangrik is Jesus se opstanding?

Empty tomb

Ek het op ‘n video gesien hoe ‘n predikant (Dr. Willem Nicol) gesê het dis tyd dat die Kerk almal aanvaar – of hulle nou Jesus se liggaamlike opstanding aanvaar of nie. Ek het op ‘n ander video gesien hoe Desmond Tutu Jesus se liggaamlike opstanding ontken.  Paulus sou op sy rug geval het as hy dit moes hoor – veral omdat diegene wat dit sê bely dat hulle Christene is.  Volgens 1 Korintiërs 15:12-34 is die liggaamlike opstanding ononderhandelbaar, en lê dit aan die hart van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.

 

As Jesus nie opgestaan het nie (v.12-19, 29-34)

Die Korintiërs is gered deur Paulus se evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding. Hoe kon party dan sê die dooies sal nie opstaan nie (v.12)?  Die Grieke het so geglo en gesê die liggaam is boos, en die siel moet daaruit ontsnap.  Vals leraars, soos moderne hiper-preteriste, het gesê dat die opstanding reeds plaasgevind het (2 Timoteus 2:18).  Die Sadduseërs het die opstanding van die liggaam verwerp (Handelinge 23:8).  As dooie mense nie opstaan nie, het Jesus ook nie opgestaan nie (v.13, 16).  En as dít so is, dan…

 

[1] Is die evangelie nutteloos en kragteloos (v.14).

 

[2] Lieg al die apostels (v.15).

 

[3] Beteken ons geloof niks (v.17). Wat help vertroue in ‘n dooie Jesus?

 

[4] Is ons nog in ons sonde, want Jesus het nie die sonde en dood oorwin nie (v.17, vgl. Efesiërs 2:1, 5, Romeine 4:25).

 

[5] Is ontslape (afgestorwe) gelowiges vir ewig en altyd verlore, omdat die dood alles beïndig (v.18).

 

[6] Hoop ons verniet, hou ons vas aan ‘n illusie van ‘n hemel wat nie bestaan nie, glo ons ‘n leuen, flous ons onsself dat ons eendag weer ons geliefdes sal sien, en gee ons geld vir sendingwerk wat niemand help nie. Dit is dit hartseer as ons so gevang word (v.19).

 

Christene gebruik soms dié argument teen ateïste: ‘Hoekom vat jy nie ‘n kans en glo in Jesus nie?  As ék reg is oor lewe na die dood, verloor jy alles.  As jý reg is en daar is niks na die dood nie, verloor ek niks.’  Dit is ‘n slegte argument, want geloof in Jesus is nie ‘n risiko of ‘n blinde sprong in die donker nie, maar is gebasseer op die geskiedkundige feite van sy kruisdood vir sondaars, sy begrafnis, en sy liggaamlike opstanding.[1]  Verder:  as Christene verkeerd is dan verloor ons nie niks nie, maar alles (v.19).  Ons verloor alles waarvoor ons geleef het en lief was; alles waarvoor ons bereid was om op te offer; alles waarop ons gehoop het en waarvoor ons gely het.  Ons verloor Jesus self.

 

[7] Is die doop wat ons opstanding saam met Jesus uitbeeld, leeg (v.29, Romeine 6:3-4).[2]

 

[8] Was Paulus mal om homself te verloën, sy kruis op te neem, en met wilde diere te veg sodat die uitverkorenes gered kon word (v.30-32, 2 Timoteus 2:10, Lukas 9:23, 2 Korintiërs 11:23-29).[3]

 

[9] Help dit nie jy ontsê jouself sekere plesiere nie. Geniet eerder jouself en maak die meeste van die hier en die nou (v.32, Jesaja 22:13).  Hou partytjie asof daar geen môre, hemel, of hel is nie.  ‘Die opstanding bring oneindige hoop, maar as daar geen opstanding is nie bring dit ‘n hopelose einde – en hopeloosheid lei tot ‘n lewe waar mense hulleself te buite gaan.’[4]

 

Paulus waarsku die Korintiërs om nie toe te laat dat mense wat verkeerd glo hulle uitvang en aftrek nie (v.33). Hulle moet reg en nugter dink oor die opstanding, en ophou om te sondig deur dit te verwerp (v.34).  Dit is skandelik as gelowiges God se krag om die dooies op te wek betwyfel (v.34, Matteus 22:29).

 

Druk jou ore toe vir mense wat sê dat geloof in die opstanding opsioneel is. Jy kan oor die doop of geestelike gawes verskil en nogsteeds ‘n Christen wees.  Maar iemand wat die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding ontken, het die hart van die Christelike geloof ontken, en en is nie ‘n Christen nie (v.14, 17).

 

Kry ‘n hoë siening van God en die Skrif as jy aan hierdie waarheid wil vashou (Matteus 22:29). Pasop vir predikante, preke, boeke, teologiese kolleges, kerke, en mense wat die Skrif op enige punt verdraai of bevraagteken.  As hulle dit op ‘n klein punt doen, kan hulle dit op ‘n groot punt ook doen.  As hulle eers begin om te sê Adam het nie bestaan nie, of Jona is nie regtig deur ‘n vis ingesluk nie, is dit nie lank voor hulle die opstanding verwerp nie.

 

Moenie val vir die argument wat sê die opstanding kan nie wetenskaplik of logies gebeur nie. Hierdie argument ontken God se krag (Matteus 22:29).  Moenie studente na sulke kolleges aanbeveel, of self sulke Bybelskole bywoon en dink dis skadeloos nie (v.33).  Raai Christene aan om uit sulke kerke te bedank.  Moenie hande vat met sulke mense, asof hulle Christene is nie (v.33).

 

Jy mislei jouself om te dink jy kan met sulke mense hande vat, en sal nie val nie (v.33). Dosente by teologiese kolleges dink omdat húlle onderskeid kan tref, 20-jarige studente ook onderskeid tref.  Vermy eerder valsheid en beskerm ander (v.33).

 

As jy die opstanding verwerp affekteer dit jou hele lewe:

 

  • Jou gewete sal jou pla (v.17).
  • Jy sal jouself oorgee aan sonde (v.32, 34). Ek het eerste- en tweedehands gehoor dat liberale teologie studente so immoreel is soos ongelowiges.
  • Jy sal jou eie en ander se dood vrees (v.18).
  • Jy sal nie met oortuiging en krag kan preek nie (v.14).
  • Jy sal hopeloos wees (v.19).
  • Jy sal ophou om te glo (v.14, 17).
  • Jy sal nie bereid wees om op te offer, sodat ander Jesus kan ken nie (v.30-32).

 

Omdat Jesus opgestaan het (v.20-28)

As ‘n swanger ma doodgaan, sterf haar jong baba ook. Net so het Adam se dood ons dood beteken (v.22).  Jesus het gekom om dit om te keer:  deur sy opstanding leef ons geestelik en sal ons liggame opstaan.  Dit is wat die Bybel bedoel met hoop.  Bybelse hoop is nie ‘n onsekere term soos in modere spreektaal nie:  ‘Ek hoop dit reën oor die naweek.’  In die Bybel is hoop ‘n sterk en vaste anker vir jou siel (Hebreërs 6:18-19).  Dit is soos die woorde wat op ons kerk se bord gestaan het:  ‘Hoop op Christus.’  ‘n Man het verby gery en is daardeur gehelp en bemoedig.

 

John Piper sê: ‘When the Word says, “Hope in God!” it does not mean, “Cross your fingers.”  It means, to use the words of William Carey, “Expect great things from God.”’[5]  Dít is die hoop wat Paulus in v.20-28 beskryf.

 

Jesus se opstanding is ‘n feit (v.20, vgl. voetnota 1). Jesus is die eerstevrug van die ontslapenes (v.20, 23).  Hy vervul die Fees van die Eerstevrug in Levitikus 23:9-11. Ander – soos Lasarus – is wel voor Hom uit die dood opgewek, maar Jesus is die eerste mens wat opgestaan het om nie weer te sterf nie.  In die Ou Testament het die eerstevrug die res van die oes gewaarborg (Spreuke 3:9-10).  Net so waarborg Jesus se opstanding ons s’n.  Soos wat jy gewasse plant en dit weer opkom, sal ons begrawe word en weer opstaan.  Soos wat die dood deur ‘n mens gekom het (Romeine 5:12), kom die opstanding deur ‘n mens (v.21, Johannes 11:25).  Almal wat een is met Adam, sterf (v.22).  Almal wat een is met Jesus, sal geestelik en liggaamlik lewe (v,22, Johannes 10:10, 5:25-29).

 

Die goddelose sal ook opstaan, maar tot die ewige verderf en nie tot die ewige lewe nie (Johannes 5:29, Daniël 12:2). By sy eerste koms het Jesus opgestaan as die eerstevrug (v.23).  By sy tweede koms sal ons opstaan tot die ewige lewe, en die goddelose tot die ewige verderf (v.23).  Volgens die Bybel is daar een algemene opstanding, en nie twee afsonderlike opstandings vir Christene en ongelowiges nie (Johannes 5:29, Daniël 12:2, Handelinge 24:15, Openbaring 20:12-13, Matteus 25:31-32).

 

Die wederkoms is die einde, wanneer Jesus die bose magte sal vernietig en die Koninkryk aan sy Vader sal oorhanding (v.24). Jesus sal heers totdat elke vyand aan sy voete onderwerp is (v.25, Psalm 110:1, vgl. Josua 10:24).  Hier sal Hy ook die laaste vyand – die dood – onderwerp wanneer Hy ons uit die dood opwek (v.26, Openbaring 20:14).  By sy opstanding het Jesus die dood gevonnis (2 Timoteus 1:10).  By ons opstanding sal Hy die dood teregstel (v.26).  ‘In v.12 het sommige gesê daar sal geen opstanding wees nie.  In v.26 sê Paulus daar sal geen dood wees nie.’[6]

 

Die Vader het alles aan die Seun onderwerp (v.27, Psalm 8:6, Efesiërs 1:22, Matteus 28:18, 11:27). Met ‘alles’ bedoel Paulus natuurlik nie dat die Vader aan die Seun onderwerp is nie, want die Vader en die Seun is in elke opsig gelyk (v.27):

 

  • Die Seun is die presiese afdruksel van die Vader se wese en die afskynel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3).
  • Die Vader en die Seun is een (Johannes 10:30).
  • Die Seun kan alles doen wat die Vader kan (Johannes 5:19).
  • Die Seun kan lewe gee en dooies opwek net soos die Vader (Johannes 5:21).
  • Die Seun sal ons oordeel (Johannes 5:22, 27).
  • Die Seun sal geëer word met dieselfde lof en aanbidding waarmee die Vader geëer word (Johannes 5:23).
  • Die Seun, soos die Vader, is die Bron van lewe (Johannes 5:26).

Tog onderwerp die Seun Hom in nederigheid aan die Vader (v.28, 11:3). So sal die Drie-Enige God Homself vir ewig in almal en alles verheerlik (v.28). Dít was immers die groot en finale doel van die opstanding.

 

Leef in die hoop van die wederkoms en die opstanding. Wees eers seker dat jy gered is, want anders het jy ‘n vals hoop.  Jy sien uit na die wederkoms, maar sal ‘n verrassing kry, want vir jou sal die Dag donker wees (Amos 5:18).  Hoe kan jy seker wees dat jy deel sal hê in die hoop van Sy opstanding (v.23), en dat Hy jou nie sal vernietig nie (v.24)?  Hier is hoe:

 

Glo in sy kruisdood vir sondaars, in sy opstanding uit die graf (Efesiërs 2:1, 5, 8-9, Romeine 10:9). Moenie net die feite van sy kruisdood en opstanding glo nie, maar vertrou, glo, en hoop op Hom en sy Persoon (Johannes 11:25, Galasiërs 2:20, 1 Timoteus 1:1, Kolossense 1:27, Hebreërs 11:1).  Sterf vir sonde en self, sodat jy saam met Hom kan lewe (Romeine 6:5, 8).  Beeld hierdie opstanding uit deur in geloof gedoop te word (Kolossense 2:12).

 

Dit help egter nie jy is gered, maar dink skaars aan die hoop van die wederkoms en opstanding nie. Jy is gered in hoop, en moet hierdie hoop vooroë hou (Romeine 8:23-25).  As jy nie aan hierdie hoop vashou nie, wys dit dalk dat jy gemaklik is in die wêreld.  Voorspoed het haar arms om jou skouer gesit, en sê dat jy vir die hier-en-nou moet lewe.  Juis daarom skud God soms jou wankelrige hoop van gesondheid, voorspoed en geld (1 Timoteus 6:17).  Siekte, min finansies, en lyding lyk vir jou soos ‘n vyand, maar is eintlik ‘n vriend wat in jou oor fluister:  ‘Verlang dat Jesus weer sal kom.’  Jy kan inderdaad bly wees in jou lyding, want uiteindelik kweek dit hoop (Romeine 5:3-5).

 

Op hierdie manier antwoord God gebede soos Efesiërs 1:18 en Romeine 15:13. Paulus bid hier dat ons “kan weet wat die hoop van sy roeping” is, en dat “die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”

 

God gee hierdie hoop dikwels as jy in moeilike tye sy Woord lees, ‘n vers kry, ‘n preek hoor. Dit is mos deur die Bybel wat ons hoop kry (Romeine 15:4).  Moet dan nie op ander plekke hulp soek, en die Bybel afskeep wanneer jy hopeloos is nie.

 

As jy hoop op die wederkoms en die opstanding – as jy daarna uitsien – sal jy:

 

  • Sonde meer haat en heiligheid najaag (Kolossense 3:1-5, 1 Johannes 3:2-3, 2 Petrus 3:11).
  • Te midde van trane vrede hê as gelowiges sterf (1 Tessalonisense 4:13).
  • Kanse kry om die evangelie te deel, omdat mense jou sal vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).
  • Blydskap hê (Romeine 12:12).
  • Siekte en lyding makliker dra, omdat jy weet wat kom (2 Korintiërs 4:16-17).
  • Getrouer dien (3:13).
  • Nie so maklik van ons samekomste af wegbly nie (Hebreërs 10:25).
  • Vrede maak met ander en nie in onmin lewe nie (2 Petrus 3:14).
  • Nie afdwaal nie, maar naby die Here bly (1 Johannes 2:28).

 

My dosent in prediking (Joel James) het vertel hoe hulle saam met John MacArthur om ‘n tafel gesit het. Toe iemand iets oor prediking sê, het MacArthur opgestaan, beide sy vuiste op die tafel geslaan, en gesê:  ‘Preaching is everything!’  Dit is presies hoe ek sou antwoord as iemand moes vra:  ‘Hoe belangrik is Jesus se opstanding?’  Die opstanding van Jesus is alles!

[1] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/09/26/ek-glo-in-die-opstanding/

[2] Paulus keur nie hier die doop vir die dooies goed nie. Hy sê ook nie dat die doop mense red nie (vgl. Efesiërs 2:8-9).  Die meeste goeie kommentare sal die verskillende interpretasies van hierdie noukeurig uitlê (bv. Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, pp.716-719, 723-724).

[3] Een van die vroeë kerkvaders, Ignatius, het gepraat van Romeinse soldate as ‘wilde diere’ (Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.216).  Paulus self praat van sy vyande as leeus (2 Timoteus 4:16-17).  As Paulus letterlike diere in gedagte gehad het, is dit vreemd dat hy dit nie by sy lys voeg in 2 Korintiërs 11 nie, en dat Lukas dit glad nie in Handelinge noem nie.  ‘n Romeinse burger wat in die arena geveg het, het sy burgerskap verloor.  Tog sien ons in Handelinge 23 dat Paulus nog ‘n Romeinse burger was.

[4] Garland, p.721

[5] http://www.desiringgod.org/messages/how-can-i-hope-new-birth

[6] Findlay in Leon Morris, p.212.

Sout en lig vir Suid-Afrika

Salt and light

In Suid-Afrika is gay huwelike wettig. Amerika het dit onlangs aanvaar.  Ateïste sê Christenskap het ‘n negatiewe effek op die wêreld.  ‘Ons sal beter wees daarsonder,’ sê hulle.  In die afgelope 20 jaar – vandat ons ‘vryheid’ verkry het – het die moraliteit in Suid-Afrika drasties verval.  Ons is nie net meer immoreel nie, maar sterk oppad om a-moreel (geen moraliteit nie) te word.  Vandat aborsie wettig is, het die westerse samelewing meer mense vermoor as Hitler en Stalin.

 

Die Suid-Afrikaanse regering het vir hulself ‘n tiener grootgemaak wat nou groter en sterker is as hulle; ‘n tiener wat hulle nie kan beheer nie. Die tragedie is dat hulle aanhou om vir die rebelse tiener wapens in die hand te stop, deurdat hulle sonde wettig maak.  Erger as dit is dat een van ons land se grootste kerke ingekoop het deur gay huwelike te aanvaar.

 

Matteus 5:13-16 is Jesus se beroep op ware gelowiges om nie deur die wêreld beïnvloed te word nie, maar om die wêreld te beïnvloed. Ons kan nie ons boodskap en waardes versag, omdat ons die wêreld wil wen nie.  Die manier om die wêreld te wen is nie om soos hulle te word nie, maar om sout en lig te wees.

 

Sout (v.13)

Ons het onlangs Trompie op YouTube ontdek. Dit verskil opmerklik van moderne TV-programme.  In moderne stories praat kinders terug met hulle ouers, is die pa ‘n slap idioot, is die pa en ma geskei, is die ma ‘n professionele vrou vir wie geld belangriker is as haar kinders, spring tieners saam in die bed.

 

In Trompie is dit anders. Trompie het respek vir sy pa en praat nie terug nie.  Sy pa is die leier in hulle huis, sy ma sorg vir haar gesin, en Trompie en sy maats doen onskuldige kattekwaad.  Hierdie vergelyking weerspieël die verskil tussen ‘n sameweling met Christelike waardes en een daarsonder.

 

Die wêreld sal ‘n effek hê op Christene (v.10-12), maar ‘n Christen wat v.3-9 doen sal ook ‘n effek hê op die wêreld (v.13). Sout gee smaak (Job 6:6), is ‘n anti-septiese middel (Esegiël 16:4, vandag nog gorrel mense met lou soutwater), en het gedien as ‘n perseveermiddel in ‘n leefwêreld sonder vrieskaste.  Die wêreld is sleg, maar sou slegter gewees het sonder die kerk se invloed.  Let op die verskil tussen kulture waar die kerk ‘n sterk invloed het en kulture daarsonder.[1]

 

  • In die eerste soort werk mense hard; hulle is nie lui nie.
  • Mense is eerlik en nie skelm nie.
  • Die samelewing is basies moreel en nie a-moreel nie.
  • Mense is hiegiënies, nie sieklik nie.
  • Woonbuurte en strate is skoon en nie vol rommel nie.
  • Mense het maniere en is nie barbaars nie.
  • Mense is geletterd en het ‘n algemene kennis.
  • Die land is ekonomies sterk en het ‘n lae werkloosheidsyfer.
  • Die owerhede en landsburgers hou goed in stand en breek dit nie af nie.
  • Mense neem inisiatief en dink verder sonder dat hulle in detail instruksies moet kry.
  • Mense is stiptelik en lewer goeie diens.
  • Mense neem ander in ag en daar is wet en orde op die pad.
  • Die land bevorder navorsing.
  • Die regering beskerm babas en die huwelik. Die samelewing is teen gay huwelike, aborsies, en egskeiding.
  • Die misdaadsyfer is laag. Die doodstraf word toegepas. Misdadigers is bang vir die gereg.
  • Daar is goeie sorg vir siekes in hospitale.
  • Daar is dissipline in huise en skole.
  • Jong mense is ordentlik en goed-gemanierd.

 

In die 1980’s het Peter Hammond ‘n brief geskryf oor die gevare wat hy in Suid-Afrika sien. Die brief se titel was ‘Wake up, South Africans’.  Daarin het hy verwys na die res van die wêreld wat van Suid-Afrika praat as Puriteins, outyds, en Victoriaans, omdat homoseksualiteit ‘n misdaad is, ons nie pornografiese films en sekere musiek toelaat nie, ons teen aborsie is, en drankwinkels en flieks toe is op Sondae.

 

Hammond het gewaarsku dat gebed uit die parlement sal wegval, eksplisiete Christen-wette geskrap sal word, die Bybel en gebed uit weermag-parades en skole sal wegval, jóú belastinggeld vir aborsies sal betaal, pornografie in winkels verkoop sal word, evolusie en ateïsme die opvoedingsisteem sal domineer, tegniese punte in die wet die misdadiger sal beskerm, terwyl wetsgehoorsame burgers wat hulleself verdedig gestraf sal word, en die geskiedenis herskryf sal word uit ‘n Marxistiese oogpunt.[2]

 

Hierdie dinge het presies so gebeur. Hoekom?  Want die kerk het haar invloed in die samelewing verloor.  Die sout het laf geword (v.13).  Pure sout kan nie laf word nie, maar die sout by die Dooie See raak besmet met gips [Eng. gypsum] en ander minerale.  Dit smaak laf en is oneffektief om verrotting te keer.  Die Dooie See se sout help nie eers vir die mishoop of jou tuin nie (Lukas 14:34-35), want dit maak die plante dood (Deuteronomium 29:23, Jeremia 17:6).  Dit help net vir die voetpaadjie waar mense loop, sodat die gras en bossies nie daar kan groei nie (v.13).

 

‘n Samelewing waar die kerk só is, sal Bybelse waardes versaak en binne ‘n paar geslagte soos ongesoute biltong verrot. Kyk maar hoe vervalle is lande waar Moslems, ateïste (kommuniste), en Hindus regeer.

 

Lig (v.14-16)

Toe ek in graad 7 was het ons ‘n veldskool gehad in Amsterdam. Op die eerste aand was ek laat vir die opening.  Ek het na die groep toe gehardloop en nie die pale met kabels tussen-in gesien nie – dit was te donker.  Ek het oor die kabels geval en my skene stukkend geskaaf.  As daar genoeg lig was sou ek die kabels gesien het, en nie so seergekry het nie.  Christene is lig vir die wêreld om hoop, rigting, en verligting te bring (v.14-16).

 

Iemand wat v.3-9 doen, sal ‘n lig skyn in die donker wêreld (v.14, Efesiërs 5:8). Net soos jy nie ‘n stad op ‘n berg kan wegsteek nie, kan ‘n ware Christen nie sy getuienis wegsteek nie – almal kan sien hy is anders (v.14).  Lig is gegee om op ‘n staander te wees, sodat die hele huis lig het (onthou dat huise in die eerste eeu maar klein was, sodat ‘n enkele lamp die hele huis kon verlig).  ‘n Mens is nie veronderstel om ‘n lig onder ‘n mandjie weg te steek nie (v.15).

 

Moet dan nie skaam wees dat jy ‘n Christen is, sodat jy stilbly nie. Laat die lig van jou goeie werke skyn, sodat mense daardeur getrek word en vrae vra (v.16, 1 Petrus 3:15).  Moenie net heilig lewe, sonder om met jou mond van die Here te getuig nie.  Moet ook nie met jou mond getuig, maar dit met jou dade weerspreek nie.  Doen beide.

 

Moenie die lig van jou goeie werke skyn in ‘n klooster of in jou huis agter tralies nie. Skyn jou goeie werke voor mense (v.16).  So sal hulle sien dat jy ‘n goeie Vader het, en hulle sal Hom verheerlik (v.16, 1 Petrus 2:12).  Selfs as hulle nie Christene is nie, sal hulle deur ons lewens móét erken dat Jesus en sy volgelinge die ware Jakob is.

 

Hoe kan ons prakties hierdie bose samelewing beïnvloed? Jy hoef nie uit jou pad uit te gaan om dit te doen nie.  Jy hoef nie betrokke te raak in georganiseerde projekte om kos en komberse vir armes te gee voordat jy sout en lig kan wees nie.  Wees net heilig en gehoorsaam die Skrif, en jy sal ‘n invloed hê.  Dit kan nie anders nie.  Martyn Lloyd-Jones het gesê:  ‘Christians, by being Christian, influence society almost automatically.’[3]

 

Jy sal ‘n effek hê as jy:

 

  • Die Skrif volg en hard werk.
  • Uitstekende en flink diens lewer.
  • Billik is met jou pryse en nie mense uitbuit nie.
  • Jou baas of onderwyser respekteer.
  • Gaaf is met jou werkers.
  • Nie saam met die res lag vir vuil grappe nie.
  • Jou tong in toom hou en mooi praat (Kolossense 4:6).
  • Nie dronk word by die werksbraai nie.
  • Nie flirt op kantoor nie.
  • Geduldig en vriendelik is by binnelandse sake.
  • Hulpvaardig is met kliënte op ‘n Vrydag.
  • Ander bo jouself stel op die pad.
  • Nie oor die regering kla nie, maar praat oor die voorregte wat God vir ons gee (Filippense 2:14-15).
  • Goed doen aan jou vyande (Romeine 12:20).
  • Nie geïrriteerd is met jou kinders nie, maar met hulle speel.
  • Onderdanig is aan jou man (1 Petrus 3:1-2, Titus 2:5).
  • Mooi praat van jou vrou en haar liefhet.
  • Dadelik luister vir jou ouers.
  • Heilig is.
  • Die evangelie deel.

 

Selfs net ‘n bietjie sout kan ‘n groot verskil maak, hetsy vir smaak, ‘n anti-septiese middel, of persevering. Net so kan ‘n individu of ‘n klein groep Christene ‘n groot invloed hê (Handelinge 17:6).  Moet daarom nie moed verloor omdat ons ‘n klein kerk is, of omdat jy die enigste Christen is in jou gesin, familie, woonbuurt, klas, of werkplek nie.

 

Wil jy jou lig skyn en die samelewing beïnvloed? Jy is soos die maan wat die son se lig weerkaats.  Jesus is soos die son, die bron van alle lig (Johannes 8:12).  Leef naby Hom, sodat jy sý lig weerkaats.  As jy soos die wêreld in sonde leef, sal jou getuienis geen effek hê nie.  Ons kan dan nie saam met die NG-Kerk gay huwelike goedkeur nie.  Anders sal jy wees soos sout wat nie ‘n invloed het nie, maar deur gips en ander minerale beïnvloed en besmet word (v.13).  Jy probeer die onmoontlike regkry:  jy wil donker uitdryf met donker.  Die Skrif sê:  “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed.” (Romeine 12:2).

 

Skyn die lig van Jesus op ‘n donker wêreld. Verwag dat mense gered sal word, maar verwag ook dat hulle die lig sal haat en dit wil uitdoof (v.10-12, Johannes 3:19-21).  Duisternis kan egter nie die lig uitdoof nie.  In 1555 het Bloody Mary vir Hugh Latimer en Nicholas Ridley rug aan rug vasgebind om hulle te verbrand.  Die 80-jarige Latimer het deur die vlamme na Ridley geroep:  ‘Be of good comfort, Master Ridley, and play the man; we shall this day light such a candle, by God’s grace, in England, as I trust shall never be put out.’[4]

 

Hoekom moet jy die samelewing met sout en lig beïnvloed? As jy nie anders lyk as die wêreld nie, is jy deel van hulle.  ‘n Kerk wat soos die wêreld lyk beteken niks vir God, sy Koninkryk, en verlore sondaars nie.  Jy kan net sowel deel wees van ‘n kerk wat in die geheim vergader in ‘n grot.  En wat is dit anders as om jou lig weg te steek onder ‘n maatemmer (v.15)?

 

In die mid-1500’s het Johannes Calvyn in Geneve, Switserland gepreek. Hy het geen politieke posisie beklee nie, maar het bloot die evangelie gepreek.  Sy prediking het Geneve op sy kop gekeer.  Mettertyd het die stadsraad wette ingebring teen egbreuk, dans, prostitusie, pornografie, dronkenskap, dobbel, lastertaal, ongehoorsaamheid aan jou ouers, ens.

 

Na drie jaar in Geneve het die Skotse hervormer, John Knox gesê hy het nog nooit so iets in sy lewe gesien nie. In 1610 (46 jaar na Calvyn se dood) het ‘n Duitse Lutheraanse pastor genaamd Valentine Andreae, die stad besoek.  Volgens Andreae se getuienis het Geneve die pefekte regering en ‘n pragtige moraliteit gehad.  Die stad het kleiner oortredings soos twis en leuens gestraf.  Groter oortredings het skaars voorgekom.  Die huis waar Andreae gebly het, is gekenmerk deur daaglikse huisgodsdiens, ‘n vrees vir God in woord en daad, en matigheid in kos, drank, en kleredrag.[5]

 

Calvyn se invloed het nie net sy eie stad, land, en era beïnvloed nie. Amerika, Engeland, Suid-Afrika, en baie ander lande is deur hom beïnvloed.  Soveel so, dat TIME Magazine in 2009 gesê het Calvinisme is onder die top 10 mees invloedryke ‘idees’ in Amerika.[6]  Sal ons nie dieselfde beteken vir Suid-Afrika, die wêreld, en die geslagte wat kom, as ons Matteus 5:13-16 ernstig opneem nie?

[1] Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World

[2] The Battle for South Africa, Reformation Society, pp.4-5

[3] The Sermon on the Mount: vol.1, p.156

[4] Michael Reeves, The Unquenchable Flame, p.138

[5] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, pp.221-224

[6] content.time.com/time/specials/pacages/article/0,28804,1884779_1884782_1884760,00.html

’n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk

Gay wedding

Soos jy in laasweek se koerant gesien het, het die onlangse NG-Sinode besluit om gay huwelike te aanvaar. Dr. André Bartlett het die saak voorgestel.  Die Vergadering het dit met 102 teen 88 stemme deurgestem.  ‘n Dag later is die herbewoorde mosie met 114 teen 63 stemme aanvaar.  Hierdie stem het nie net opskudding in die NG-Kerk veroorsaak nie, maar in verskillende Christelike kerke in Suid-Afrika.  Hoe moet ons daarop reageer?  ‘n Deeglikse studie van Romeine 1:26-27 sal vir ons wys hoe.

 

Vroue (v.26)

Verlede Vrydag was ek by ‘n debat tussen James White en Graeme Codrington. In die debat het Codrington gesê Romeine 1:26 verwys nie na lesbianisme nie, omdat dit nie algemeen was in die eerste eeu nie.  Volgens hom het Paulus gepraat van Jode wat dit as ‘n skande beskou het dat vroue nie swanger word nie.  Maar volgens die Romeinse digter Juvenal was lesbian aktiwiteit algemeen in die eerste eeu.[1]  Buitendien sal God nie ‘n samelewing straf, omdat vroue swanger wil word, maar nie kan nie.  In v.26 praat Paulus ongetwyfeld van lesbianisme wat in God se oë ‘n skandelike sonde is.

 

Mense is goddeloos en onderdruk God se waarheid (v.18-19). Hulle sien sy heerlikheid in die skepping, maar wil Hom nie eer of dank nie (v.20-21).  Hulle aanbid die skepping eerder as die Skepper (v.22-23).  Dáárom gee God hulle oor aan seksuele sonde (v.24), homoseksuele sonde (v.26-27), en onderstebo denke, sodat hulle allerhande sondes doen en goedkeur (v.28-32).  Mense wat die ware God vir vals gode verruil (v.23) en die waarheid vir die leuen (v.25), sal die natuurlike omgang met die teenoorgestelde geslag verruil vir dit wat teen-natuurlik is (v.26-27).  As jy dus die Skepper-skepping orde omruil (v.23, 25), sal jy die man-vrou orde van Genesis 1-2 omruil (v.26-27).  Enige samelewing wat dít doen wys daardeur dat hulle onder God se oordeel is (v.26, vgl. Genesis 19).  God gee hulle oor aan skandelike drange, sodat hulle hul luste bevredig en hulleself vernietig (v.26-27).  Hulle is soos ‘n trok wat afdraende ry sonder remme.

 

Codrington het by die debat gesê ‘skandelike drange’ verwys na dit wat skandelik was vir die Joodse kultuur. Maar hoekom gee God mense oor en straf Hy hulle vir iets wat teen die kultuur is, maar nie teen die Skrif nie (v.18, 26)?  Codrington het ook gesê dat die dade van v.26 skandelik is, maar nie sondig nie.  Hy is verkeerd, want Paulus koppel ‘skandelik’ aan ‘drange of hartstogte’.  Die Grieks vir drange (pathos) word altyd in die Nuwe Testament gebruik in die konteks van seksuele sonde (v.26, Kolossense 3:5, 1 Tessalonisense 4:5).

 

Volgens Paulus is homoseksuele drange en dade teen die natuur (v.26-27, vgl. Genesis 1:26-27, 2:18-25, Matteus 19:4-6). Volgens party sê Paulus eintlik dat mense wat gay gebore is, nie heteroseksueel moet wees, of andersom nie.  Met ander woorde, jy moenie anders wil wees as wat God jou gemaak het nie.  Maar Paulus sê nie dat gays teen húlle natuur optree nie, maar eenvoudig teen die natuur.  Homoseksualiteit is onnatuurlik.  Twee mense van dieselfde geslag se liggame pas nie biologies bymekaar nie, en hulle kan ook nie kinders kry nie (Genesis 1:28).  Daar is ook geen wetenskaplike bewys dat gays so gebore is nie.[2]  As mense so gebore is, kan hulle nie verander nie.  Tog wys die Skrif en ervaring dat hulle kan (1 Korintiërs 6:11).

 

Daar is mense wat Matteus 19:12 aanhaal om te wys gays is so gebore: “Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele.  Wie dit kan vat, laat hom dit vat.”

 

Jesus praat nie hier van gays nie. Hy praat oor die huwelik, egskeiding, hertrou, en enkelskap.  Hy sê dat enkelskap, nie homoseksualiteit nie, die enigste alternatief is vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou.  Party mense is enkel omdat hulle so gebore is:  misvormd, gestremd, of geen begeerte om te trou nie.  Ander is enkel omdat hulle ontman is (Jesaja 56).  Ander kies om enkel te bly vir die Koninkryk (1 Korintiërs 7:32).  Die vers het niks te doen met gays, asof party so gebore is, ander so gemaak is, en ander dit kies vir die Koninkryk nie.

 

Mans (v.27)

Kobus en Alan is deel van ‘n Bybelskool. Albei sit ure in om voor te berei vir hulle klasse, maar hulle interpretasies van sekere verse verskil lynreg.  Hoekom verskil hulle?

 

Kobus is ‘n gelowige. Hy glo die Bybel is God se woorde, weerspreek homself nie, is onfeilbaar, foutloos, geïnspireer, die finale gesag vir geloof en lewe, verander nie saam met die tyd of kultuur nie, is die standaard vir alle waarheid, akkuraat in alles wat dit leer (profesie, wetenskap, geskiedenis), algenoegsaam vir lewe en godsaligheid.

 

Voor hy die Skrif bestudeer ondersoek hy sy hart, bely hy die sonde wat die Heilige Gees bedroef, en bid hy volgens Psalm 119:18 vir insig. Hy kyk na die letterlike betekenis van woorde en sinne, bestudeer die agtergrond, kyk na die onmiddellike en breë konteks, vergelyk dit met die res van die Skrif, kyk hoe heilige manne deur die kerk se geskiedenis dit verstaan het, en soek hoe hy dit kan gehoorsaam.  Vir hom moet die betekenis uit die teks self kom (eksegese).

 

Alan glo die Bybel is nie altyd akkuraat nie, weerspreek homself, is nie algenoegsaam nie, is soms outyds en moet aanpas by die tye, is vol van mense se opinies, en is nie die enigste gesag vir geloof en lewe nie. Hy benader die Skrif akademies, buig hom nie neer voor God se Woord nie, maar sit soms in oordeel daaroor, en sê dit is verkeerd op plekke.  Hy is nie ernstig oor ‘n heilige lewe nie, en probeer selfs om sonde uit die Bybel te regverdig.  Hy glo wat die kultuur sê, en wil die Skrif daarby aanpas.

 

Hy verwerp die interpretasie van die kerk deur die geskiedenis, en heg meer waarde aan die interpretasie van mense wat krities is oor die Bybel. Hy bestudeer die Skrif om slim te word, en nie om dit te gehoorsaam nie.  Hy is nie gepla oor eksegese soos Kobus nie.  Hy het klaar besluit wat hy glo, en probeer om die Skrif daarby aan te pas.  Hy lees sy vooropgestelde idees in die teks in (eisegese).  Alan se metode van Skrif-interpretasie is die metode van mense wat pro-gay is.

 

Hoe móét ons dan v.27 interpreteer?

 

Soos die vroue, het die mans die natuurlike omgang verruil vir dit wat teen-natuurlik is, en met begeerte gebrand vir mekaar (v.27). Hierdie vers wys dat God nie net gay dade verdoem nie, maar ook gay aangetrokkenheid of drange (v.26-27).  Gay oriëntasie of neigings is ‘n mite.  Mense sê:  ‘Ek kan nie onthou dat ek ooit gekies het om gay te wees nie.’  Sonde werk op ‘n baie dieper vlak as die mens se wil.  Dit werk in ons wese en harte.  Ek kan nie onthou dat ek ooit gekies het om hoogmoedig te wees of mense te vrees nie, en tog sê die Skrif dis sonde.  Geen gay persoon is per ongeluk wellustig, kyk per ongeluk na gay porn, of klim per ongeluk saam met iemand in die bed nie.  Hulle kies om God se skeppingsorde te verruil (v.26-27).

 

By die debat het Codrington gesê v.27 praat van gay dade met seuns, van gay prostitusie in afgodstempels. Dit is ‘n skoot in die donker, want die teks sê niks van ‘n afgodstempel, prostitute, of jong seuns nie.  Mense wat pro-gay is sê:  ‘Paulus basseer v.27 op Levitikus 18:20 wat gay dade in die konteks van afgodery verbied.  Liefdevolle gay verhoudings is nie verkeerd nie.’  Maar wat van die ander sondes in Levitikus 18?  Is egbreuk, bestialiteit, en bloedskande net verkeerd in die konteks van afgodery, maar aanvaarbaar as jy dit by jou huis doen?  Paulus is nie net teen gay prostitusie, verkragting, en molestering nie.  Hy sê dat die mans brandende luste vir mekaar het (v.27).  Duidelik is alle gay drange en dade skandelik (v.26-27).

 

As ‘n natuurlike gevolg van hulle skandelike dade, ontvang hulle in hul liggame die gepaste straf vir hulle dade (v.27). Paulus verwys moontlik na siektes soos VIGS of ander seksueel-oordraagbare siektes.  Die straf pas by die oortreding.  Die oortreding was seksueel, en daarom is die straf ook seksueel.  Hulle maai wat hulle gesaai het (Galasiërs 6:7-8).

 

Codrington het gewys dat hulle gestraf word vir hulle dwaling, nie vir hulle sonde nie.  Sy punt was om te wys dat die dade van v.27 nie sondig is nie.  Maar die Skrif gebruik die Griekse woord vir ‘dwaling’ (planēs) met verwysing na die ‘dwaalweg van sonde’ (Jakobus 5:20, 2 Petrus 2:18, Judas 11).

 

Hoe moet ons dan reg reageer op die kwessie van gay huwelike in die NG-Kerk? Moenie ‘n blinde oog gooi en maak of dit niks met jou te doen het nie.  Dit het alles met jou te doen.  Hier is vyf redes hoekom ek so sê:

 

[1] Baie van ons het familie, vriende, en kollegas in die NG-Kerk. Help hulle om nie saam met die stroom te gaan nie (Eksodus 23:2).  Wys vir hulle dat die Kerk se interpretasie van die Skrif nie stand hou onder die normale lees van die teks, deeglike eksegese, die interpretasie wat deur die geskiedenis gehandhaaf is nie.

 

Besef ook dat nie almal in die NG-Kerk ‘ja’ gestem het nie. Raai hulle aan om nie in ‘n gemeente te bly wat teen die besluit is, maar nogsteeds hande vat met pro-gay leraars en kerke nie.  As die NG-Kerk gered kan word, moet hulle saam met ander toegewyde Christene ‘n poging aanwend om dit te doen.  Hulle moet by die fakulteit begin en van die nie-behoudende en liberale dosente ontslae raak.

 

As dit ‘n verlore situasie is, moet hulle die Kerk verlaat (2 Korintiërs 6:17) en ‘n gemeente soek wat die Skrif verantwoordelik preek, heilig is, nie mense vrees nie, en gays liefhet en die evangelie van verlossing met hulle sal deel. God ken sy skape en sal hulle uit die vyand se hande red (Johannes 10:27-29, Esegiël 34:10, 22, 13:22-23).

 

[2] Dalk het jy ‘n gay kind, familielid, kollega, of vriend. Wat sal jy sê as hulle jou oor die NG-Kerk se besluit vra?  As jy Jesus liefhet kan jy nie huiwerig ‘ja’ sê, omdat jy nie jou kind wil verloor nie.  Jesus wil hê jy moet Hom meer liefhê as jou familie (Matteus 10:37, Lukas 14:26).  Wees gaaf met jou gay geliefdes, maar moenie hulle sonde goedkeur met jou woorde, dade, of stilte nie.  Moenie vir jou lesbian dogter en haar meisie ‘n kamer in jou huis gereed maak nie.  As jy hulle sonde goedkeur, sal God hulle bloed van jóú hande eis (Esegiël 3:18).

 

Dalk is jy bang jy verloor jou kind as jy vir hom of haar die waarheid vertel. Maar as jy niks sê nie, sal jy vir ewig jou kind verloor in die hel (1 Korintiërs 6:9-10).  As jy die evangelie deel kan jy jou kind se lewe red (v.16, 1 Korintiërs 6:11).  Vir verdere hulp in die saak kan jy my preek op die blog hieroor lees by https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/16/n-oplossing-vir-homoseksualeit/

 

[3] Die NG-Kerk was vir baie jare die gesig van konserwatiewe Christenskap in Suid-Afrika. Ongelowiges in ons land beskou die NG-Kerk se opinie as die Christen-kerk s’n.  As hulle gesê het:  ‘Ons glo nie wat die Bybel oor gays sê nie,’ kon jy dalk nog stilgebly het.  Maar as hulle die Skrif verdraai, móét ons reageer en opstaan vir die waarheid.  Mense moet weet jy kan nie homoseksualiteit uit die Skrif regverdig nie.  Vir nóg argumente kan jy my preek soek met dié titel:  Sê Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde? (sien die link onder voetnota 2).

 

[4] Gays sal lidmate van ons kerk wil word, by ons Teologiese Seminarium wil studeer, en vra of jou ds. hulle sal trou. Jy en buitestaanders moet weet wat ons glo.  Ons glo dat Christene nie in sonde volhard nie.  Ons glo homoseksualiteit is sonde.  Ons glo net Christene kan lidmate van die kerk wees.  Daarom glo ons dat gays nie lidmate kan wees nie.  Ons glo predikante moet gered wees, heilig leef, en seksueel rein wees (1 Timoteus 3:2).  Ons glo dat mense wat in homoseksualiteit of enige ander sonde volhard nie gered is nie (1 Korintiërs 6:9).  Daarom glo ons gays kan nie predikante wees nie.

 

[5] Pro-gay kerke sal ons valslik beskuldig en sê ons haat gays. Soos alle sondaars is gays baie welkom om ons eredienste by te woon, sodat hulle die Woord kan hoor.  Soos alle sondaars sal ons gays vriendelik en met liefde behandel.  Ons sal vir hulle sê:

 

  • Ons was ook hopelose sondaars net soos julle, en het God se straf verdien.
  • Jesus het die straf vir homoseksualiteit en ander sondes op Homself geneem aan die kruis.
  • Jesus skenk graag bekering en vergifnis vir gays en sondaars van elke soort (1 Korintiërs 6:11).
  • Die evangelie is die krag van God om ook sondes soos homoseksualiteit te oorkom (v.16, Titus 2:11-12).
  • God se genade is groter as ons sonde – daar is hoop in Jesus (Romeine 5:20).

 

Hoekom moet ons reg reageer op die saak van gay huwelike in die NG-Kerk? Want as ons die Skrif verdraai, het dit ewige gevolge.  Ons doen dit tot ons eie ondergang (2 Petrus 3:16).

 

Wanneer mense gesond is, dink hulle nie ernstig oor die lewe nie. Maar as hulle ernstig siek word, dink hulle diep na oor die lewe, hulle sonde, God, die hemel, die hel.  Die gay kwessie in die NG-Kerk is so ‘n tyd.  Mense wat voorheen nie ernstig gedink het oor God, die Bybel, sonde, die hemel, en die hel nie, sal nou daaroor dink.

 

Twee jaar gelede het ek oor homoseksualiteit gepreek. Tussen 15 en 30 mense het elke maand my preek op die blog opgesoek.  Nadat die NG-Kerk laasweek oor die saak besluit het, het meer as 250 mense oor ‘n tydperk van sewe dae die preek opgesoek.  Mense is verward en het vrae oor die kwessie.  Ons moet gereed wees om vir hulle ‘n antwoord te gee oor die hoop wat in ons is (1 Petrus 3:15).

[1] Satire 6. Aangehaal in Alvin Schmidt, How Christianity Changed the World, p.89

[2] Sien Edward T. Welch, Blame it on the Brain?, pp.165-171; James Kennedy & Jerry Newcombe, What’s wrong with same-sex marriage, pp.97-110.  Ek gebruik van Welch en Kennedy se argumente in my preek by https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2013/11/01/se-die-bybel-regtig-homoseksualiteit-is-sonde/

Hoe om gelukkig te wees

Beatitudes

‘n Paar weke gelede het ek ‘n DVD van Christelike komediante gesien. Die titel was: ‘Thou shalt laugh.’ Dit het gelyk of dit ‘n poging was om vir die wêreld te wys dat Christene ook kan lag. Ek het die idee gekry hulle dink daar is nie genoeg vreugde in die Christelike lewe nie, en dat ons komedie nodig het om te lag. Ek dink ook hulle verwar lag met die dieper vreugde van Christenskap.

 

C.S. Lewis het gesê: ‘there is a kind of happiness and wonder that makes you serious. It is too good to waste on jokes.’[1] Ek probeer nie sê Christene kan nie lag nie. Ek sê eerder dat daar in Jesus ‘n dieper vreugde is as die oppervlakkige gelag van die wêreld.

 

Blaise Pascal het gesê dat elke mens gelukkig wil wees; selfs die mense wat selfmoord pleeg. So iemand doen dit omdat hy nie langer ongelukkig wil wees nie, en neem dan sy eie lewe in die hoop om van sy hartseer te ontsnap.

 

Mense soek geluk op baie plekke. En hul kry dit daar… vir ‘n rukkie. As die ding wat hulle gelukkig maak sonde is, dan weeg ‘n skuldige gewete swaarder, en bring dit uiteindelik hartseer. As dit nié sonde is nie, hou die vreugde op sodra die ervaring verby is. Hulle spring dan van een ding na die volgende, opsoek na vreugde, maar kry dit nie. Hulle mis die waarheid van C.S. Lewis se woorde: ‘If you find in yourself a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that you were made for another world.’ En dit is presies Jesus se punt in Matteus 5:1-12.

 

Kom na Jesus toe (v.1-2)

Prosperity predikers sê as jy na Jesus toe kom, sal jy altyd ryk, gesond, voorspoedig, en gelukkig wees. Dis nie waar nie, en dis glad nie wat ek met ‘n gelukkige lewe bedoel nie. Ek bedoel eerder wat John Paton ervaar het. Toe die kannibale hom wou doodmaak moes hy in ‘n boom skuil. Só onthou hy sy ervaring:

 

‘I heard the frequent discharging of muskets, and the yells of the Savages. Yet I sat there among the branches, as safe in the arms of Jesus. Never, in all my sorrows, did my Lord draw nearer to me, and speak more soothingly in my soul, than when the moonlight flickered among these chestnut leaves, and the night air played on my throbbing brow, as I told all my heart to Jesus. Alone, yet not alone!’[2]

 

Ware dissipels is soos Paton: ten spyte van ons trane (v.4) en vervolging (v.10-12), gee Jesus vreugde en vrede vir almal wat na Hom toe kom.

 

‘n Groot skare uit die hele Israel het vir Jesus gevolg (v.1, 4:24-25). Hy het, soos Moses, op ‘n berg geklim om ‘n nuwe wet te gee (v.1, 4:23, Eksodus 19:20). Volgens die gebruik van Joodse Rabbi’s het Jesus gaan sit (v.1, vgl. Lukas 4:20). Sy dissipels het na Hom toe gekom; na Hóm toe (v.1). Hy het vir hulle die Woord geleer (v.2). Dit is immers hoekom hy gekom het (Markus 1:38). Jesus wou nie net hê hulle moes sy woorde hoor nie, maar dit doen ook (7:21, 24-27, Jakobus 1:22).

 

Kom deur die evangelie, geloof, bekering, gebed, en die Woord na Jesus toe (v.1-2, Jakobus 4:8, Hebreërs 4:16, 10:22). Sonder Jesus sal die hele wêreld jou nie gelukkig maak nie: “Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?” (Matteus 16:26). Verskeie van die wêreld se rykstes getuig hiervan:[3]

 

  • ‘The care of $200 million is enough to kill anyone. There is no pleasure in it.’ (W.H. Vanderbilt).
  • ‘I am the most miserable man on earth.’ (John Jacob Astor).
  • ‘I have made many millions, but they have brought me no happiness.’ (John D. Rockefeller).
  • ‘Millionaires seldom smile.’ (Andrew Carnegie).
  • ‘I was happier when doing a mechanic’s job.’ (Henry Ford).

 

Ware en ewige blydskap kan jy net in Jesus vind.

 

Besef jy is verlore (v.3)

William Carey het gevra dat hierdie woorde op sy grafsteen moet wees:

 

A wretched, poor and helpless worm,

On Thy kind arms I fall.[4]

 

Dit som die lewe op van iemand wat arm van gees was (v.3).

 

Die Ou Testament het met ‘n vloek geeïndig (Maleagi 4:6). Die Nuwe Testament begin met ‘n seën (v.3-12). Toe God die wet deur Moses gegee het was daar ‘n seën en ‘n vloek uitgespreek (Deuteronomium 28). Toe Jesus die nuwe wet in Matteus 5 gegee het, het Hy net ‘n seën uitgespreek (v.3-12). Jesus self het ons vloek op Hom geneem, sodat daar vir ons net seën oorbly (Galasiërs 3:13-14).

 

Die woord seën [Gk. makarios] beteken meer as om net gelukkig te voel. Dit het te doen met voorspoed, geluk, en seën[5] wat van God af kom. Hy is die bron en fontein van alle seën (Efesiërs 1:3). So iemand kan dus tergelyketyd treur en geluk hê (v.3-4). Martyn Lloyd-Jones het gesê: ‘The happiness of the Christian is a serious happiness.’[6]

 

Om arm van gees te wees (v.3) beteken nie jy is geestelik arm of het ‘n vlak verhouding met God nie. Dit verwys eerder na iemand wat besef hy is innerlik bankrot, en niks het om vir God te bied nie (Jesaja 57:15). Dit verwys na iemand wat nie dink nie hy is ryk of kan sy weg hemel toe verdien of koop nie (Lukas 18:9-14, Filippense 3:4-9).

 

So iemand is geseënd, want die Koninkryk van die hemel is syne deur Jesus (v.3, Hebreërs 1:2, 1 Korintiërs 3:21-23, Galasiërs 3:29). As die bruid van Jesus is ons ‘binne gemeenskap van goedere getroud’. As sy kinders is ons erfgename van die Koninkryk. Is dit nie ironies nie: die armes van gees besit die koninkryk? Hulle is arm maar ryk (Openbaring 2:9).

 

Wees arm van gees. Moenie net jou sonde los nie – los ook jou goeie selfbeeld, self-regverdigheid, en die kreed wat sê: ‘Glo in jouself’. Hou op om jouself te meet aan ander, sodat jy goed voel oor jouself. Meet jouself aan God en aan Jesus se lering in hfst.5. Besef dat jy niks is of het nie. Besef jy is verlore (Jesaja 6:5). Smeek God om genade en sien Jesus as jou enigste hoop.

 

Pasop dat jy nie dink jy is arm van gees, omdat jy jouself bejammer en vir almal sê jy is niks nie. Party mense doen dit, omdat hulle hoop ander sal sê hulle is nederig.

 

Hoekom moet jy arm van gees wees? Want dan is die Koninkryk joune. Dit is nie joune deur verdienste nie, maar word gegee as ‘n beloning en geskenk deur God se genade. Die persoon wat hooghartig van gees is, sal nie die hemel kry nie, maar sal vir ewig arm wees in die hel.

 

Treur oor jou sonde (v.4)

Fanie se Sondagskool juffrou sê hy moet sy hart vir Jesus gee. Ná die les sê sy hy moet agter haar aan bid. Hy nooi vir Jesus in sy hart in, en glo hy is nou ‘n Christen.

 

Dit is tipies van moderne bekerings. Vandag is daar min bekerings waar mense ‘n sondestryd het soos wat Charles Spurgeon en John Bunyan gehad het. Daar is min mense wat oor hulle sonde treur (v.4).

 

Iemand wat besef hy is arm en verlore in sy sonde (v.3), sal daaroor treur (v.4, Jakobus 4:9, Romeine 7:24). Hy sal treur oor sy eie sonde, oor sy geliefdes wat verlore is, en oor die samelewing se sonde (Jeremia 9:1, Psalm 119:136, Lukas 19:41, Romeine 9:2). Dit beteken nie hy lag nooit nie, maar hy lag nie oor sonde nie (1 Korintiërs 13:6). Hy lag nie oor dit waarvoor Jesus gesterf het nie.

 

God vertroos [Gk. parakaleo] en vergewe hom (v.4). Volgens Jesaja 61:2-3 het die Messias gekom “om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.”

 

In Jesaja 40:1-2 sê die Here: “Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.” In die hemel sal ons vertroos word en sal die Here al ons trane afdroog (Lukas 16:25, Openbaring 21:4). ‘Thus tears, like raindrops, fall to the ground and come up in flowers.’[7]

 

Toets of jou trane eg is. Voel jy tuis in die wêreld? Wens jy dat Jesus nié sal kom nie, omdat jy langer hier wil bly? Begeer jy ‘n plek waar daar niks sonde is nie? Haat jy jou sonde? Wens jy vir ‘n nuwe hart? Is jy jammer dat jou sonde die Here bedroef (2 Korintiërs 7:10-11)?

 

Of haat jy net die gevolge van jou sonde? Jy hou nie daarvan om uitgevang te word en skuldig te voel nie (2 Korintiërs 7:10)? Is jy die tipe persoon wat lag vir vuil grappe? Hou jy van skindernuus om die braaivleisvuur en in die Huisgenoot? Geniet jy dit om na lelike films te kyk?

 

‘n Ware dissipel treur selfs ná sy redding [die Grieks vir ‘treur’ staan in die voortdurende tyd]. Hy sug gereeld oor sy sonde en vra vergifnis. Hy treur egter nie soos iemand wat morbied is nie, want God vertroos hom (v.4, 2 Tessalonisense 2:16-17).

 

Hoekom moet jy toets of jou trane eg is? Want vals trane lei na die ewige trane van die hel (2 Korintiërs 7:10, Matteus 25:30).

 

Pasop om nie te dink dat jou trane God se vergifnis wen nie. ‘Nie my trane of geween, kan my red – Heer, U alleen!’ Jou trane wys egter of die genade in jou hart eg is of nie.

 

Wees sagmoedig (v.5)

Toe ek op hoërskool was, was daar twee tipes seuns. Die een soort kon ander beheer en slaan, maar kon hulleself nie beheer nie. Van die ander soort was daar maar min. Hulle was innerlik sterk en kon hulleself beheer.

 

Eendag toe slaan ‘n nr.1-tipe seun ‘n nr.2-tipe. Die nr.2-tipe het stilgestaan en niks terug gedoen nie. Sy sagmoedigheid was nie ‘n teken van swakheid nie, maar van krag onder beheer. Hy was so rustig en sterk soos ‘n olifant, nee, soos Jesus (11:29, 21:5).

 

Iemand wat sy sonde sien en daaroor treur sal ook sagmoedig wees (v.5). Sagmoedigheid praat nie van iemand wat van nature saggeaard is nie. D.A. Carson sê: ‘Some people are just naturally nice and easy-going; but then again, so are some dogs. Meekness goes much deeper.’[8]

 

Die sagmoedige persoon sien hoe lelik sy eie hart is (v.3-4), en plaas ander bo homself (v.5). Die sagmoedige persoon is hard op homself, maar sag op ander. Die sagmoedige persoon is geseënd, want hy sal die aarde as erfdeel kry (v.5, Psalm 37:11). Die sagmoedige persoon sal oor die aarde regeer (ironies, né?).

 

Wees sagmoedig uit die regte motief. Moenie gaaf wees, omdat jy bang is vir konfrontasie, wil hê almal moet van jou hou, bekend wil staan as ‘n ‘nice’ mens, nie hard wil wees soos jou pa nie, of hoop God straf jou nie en jy kan die hemel verdien. Wees sagmoedig, omdat jy besef jy is ‘n sondaar soos ander, en omdat jy soos Jesus wil wees.

 

Begeer om heilig te wees (v.6)

Robert Murray McCheyne het gebid: ‘Make me as holy as a saved sinner can be.’ Hy het gedors na heiligheid meer as wat hy dors was vir water (v.6).

 

Iemand wat sy sonde sien en daaroor treur, soek dit nie net weg nie, maar begeer ook geregtigheid in die plek daarvan (v.6). Hy soek Jesus se geregtigheid maar ook ‘n opregte lewe (6:1, 33, Filippense 3:9). Hy honger en dors daarna, en as hy dit nie kan kry nie sal hy sterf (v.6, Psalm 42:2-3, Jesaja 55:1-2).

 

God versadig hom (v.6, Johannes 6:35, 4:14). Hy versadig hom, en gee nie maar net vir hom krummels en druppels nie. As die persoon dit eers gesmaak het, soek hy nog (hy honger en dors aanhoudend soos wat die Grieks ook aandui). Hy wil die hoogte, lengte, breedte, en diepte van Jesus se liefde ken; hy wil vervul wees met al die volheid van God (Efesiërs 3:16-19). Hy sal aanhou om honger en dors te wees, totdat hy vir Jesus self het in die hemel (Filippense 3:14).

 

Word versadig met Jesus. ‘n Vals gelowige honger en dors nie na Jesus, sy Woord, geregtigheid, of ‘n Christelike karakter nie. Hy soek net dít wat Jesus kan gee: ‘n Koninkryk, die aarde, en troos. So iemand soek versadiging in geld, drank, dwelms, seks, mense se guns, sport, ‘n mooi liggaam, films, musiek, ens. Gevolglik bly hy leeg, honger, en dors, want net Jesus kan versadig.

 

Wees barmhartig (v.7)

In my beradingklas het ons ‘n praktiese sessie gehad, waarin ons mekaar moes beraad. ‘n Man in my groep het raad gevra, omdat hy te hard was op sy vrou en kinders. Ons het agtergekom wat die probleem is. Hy was ‘n perfeksionis en ook wetties. Hy het geïrriteerd geraak met ander wat nie aan sý standaarde voldoen nie. Hy (soos ons) het te min op genade gefokus. En hoe kan jy genade bewys as jy dit nie verstaan nie?

 

Die ware gelowige ontvang barmhartigheid, en daarom kan hy dit ook bewys (v.7, vgl. 18:33, Lukas 6:36). Hy is barmhartig met die wat nie vergifnis verdien nie, asook met mense wat swaarkry (Spreuke 19:17). Hierdie is die geseënde en geredde mens wat barmhartigheid ontvang en uitdeel (v.6).

 

Verstaan en ervaar dan genade voordat jy dit kan bewys. Kom ek verduidelik barmhartigheid. Jy is diep in die skuld by God: jy is bitter, het bose planne, is wellustig, is ‘n people pleaser, kyk na lelike dinge, skinder, lieg, steel, kroek, trap op ander, is selfsugtig, vloek, slaap rond, word dronk, is rebels teen jou ouers, haat ander, is lui, het ‘n humeur, is hoogmoedig, is jaloers, maak of jy ‘nice’ is terwyl jy in die geheim sondig (jy is skynheilig). Jesus het gesterf om sulke sondes te vergewe. Hy is barmhartig. En is jy onbarmhartig? “Want die oordeel sal onbarmhartig wees oor die wat geen barmhartigheid bewys het nie” (Jakobus 2:13).

 

Wees innerlik rein (v.8)

Ek het ‘n foto van ‘n gay parade gesien waar ‘n lesbian ‘n banier vashou wat sê: ‘I’m sure hell will be awesome.’ ‘n Ander banier het gesê: ‘If Jesus returns, kill Him again.’ Mense wat nie rein in hulle harte is nie, het nie ‘n begeerte om God te sien nie. En tog is nie almal wat God wil sien, rein van hart nie. Wie is rein van hart?

 

Iemand wat rein van hart is, haat sy eie onrein hart wat vol van sonde is (15:19). Sy hart is nie gevul met skewe motiewe en vuil gedagtes nie (v.8, Filippense 4:8). Hy weet hy kan nie self sy hart reinig nie (Spreuke 20:9), en daarom vra hy dat God dit sal doen (1 Johannes 1:9, Hebreërs 9:14, Titus 2:14). Om ‘n rein hart te hê bekeer hy hom (Jakobus 1:27, 2 Timoteus 2:22), volg die Skrif (Psalm 119:9), en hou die beloning vooroë (v.8b, 1 Johannes 3:2-3). Wat sê jou dade en woorde van jou hart? Doen jy dinge om die sonde in jou hart weg te steek?

 

Iemand wat rein van hart is sal God sien; nou in die evangelie, en hierna in die hemel (v.8, Psalm 73:1, 24:3-4, 2 Korintiërs 4:6, Openbaring 22:4). ‘n Onheilige persoon kan nie voor God kom nie (Habakkuk 1:13, Hebreërs 12:14). Wat ‘n voorreg om God te sien. Dink maar aan Moses wat graag sy gesig wóú sien, maar nie kon nie (Eksodus 33:20, 23). Wie rein van hart is sal God sien.

 

Maak vrede (v.9)

Beide John Bunyan en Martin Luther het die dag voor hulle dood vrede bewerk tussen kwaai vriende. Hulle was vredemakers (v.9). ‘n Ware dissipel is nie soos die wêreld wat bloot vrede geniet en dit soek nie: hy máák vrede (v.9). Hy maak vrede waar hy teen ander gesondig het of hulle teen hom. Hy wag nie tot ander vrede maak nie, maar neem die eerste stap (Matteus 5:21-26). Hy maak vrede tussen ander wat verdeeld is (Filippense 4:2-3, Efesiërs 2:14). Hy deel die evangelie en maak so vrede tussen sondaars en God (2 Korintiërs 5:20). Hy is geseënd, want sy status is ‘kind van God’ (v.9, 1 Johannes 3:1).

 

Leef in vrede met almal. As jy nie vrede het met ander nie, maar rusie maak, twis, baklei, vuis slaan, ander haat, vloek, slegsê, en beskinder, is jy nie reg met God nie – al dink jy so (1 Johannes 4:20-21). Die oorlog rondom jou wys daar is oorlog binne jou (Jakobus 4:1-2). Maak dan vrede met God en ander (Kolossense 1:20, Jesaja 27:5, Romeine 12:18).

 

Ly vir Jesus (v.10-12)

Laas Sondag het ‘n sendeling van Frontline Fellowship vir ons ‘n foto gewys van ‘n Christen sonder voete in Sudan. Die Moslems het hom gewaarsku om op te hou preek. Toe hy nie luister nie, het hulle hom geslaan. Maar hy het aangehou om die evangelie te preek. Uiteindelik het hulle sy voete afgesny. Hy het vir hom ‘n donkie gekoop, en aangehou om die evangelie te preek. Hy het geglo dat sy beloning veel groter sal wees as sy lyding (v.10-12, 2 Korintiërs 4:17). As jy v.3-9 leef, sal jy aandag trek. Soms is dit negatiewe aandag, sodat jy vervolg word. Maar jy sal ook beloon word.

 

Die laaste saligspreking strek oor drie verse (v.10-12). Jesus wil wys dat dit baie belangrik en relevant is: sy dissipels gaan ly. Vervolging beteken nie hulle is vervloek of het ‘n klein geloof nie. Inteendeel, dit beteken hulle is geseënd (v.10-11). Vervolging wys jy is ‘n ware dissipel (v.10, 2 Timoteus 3:12). Jy moet egter vir jou heilige lewe vervolg word, en nie omdat jy sondig nie (v.10, 1 Petrus 4:15, 2:20).

 

So iemand is geseënd, omdat die Koninkryk van die hemel syne is (v.10, 3). Die wêreld verwerp jou, maar die hemel verwelkom jou. Jy het nie ‘n erfdeel op aarde nie, maar die hemel is jou erfdeel. Die Moslems glo dat hulle die hemel verdien as hulle in ‘n heilige oorlog (Jihad) sterf. ‘n Christen glo nie hy verdien die hemel omdat hy vervolg word nie. Hy glo egter dat ‘n vervolgde Christen beloon sal word (v.10-12).

 

Daarom is jy geseënd as ander jou slegsê, vervolg, en belieg omdat jy aan Jesus behoort (v.11, 1 Petrus 4:14). Wees dan, soos die apostels en die martelare deur die geskiedenis, bly as jy vir sy Naam moet ly (v.12, Handelinge 5:41, 2 Korintiërs 12:10, Kolossense 1:11, 24, Romeine 5:3, Hebreërs 10:34, Jakobus 1:2, 1 Petrus 4:13). ‘Rejoice, because of, rather than in spite of, pesecution.’[9]

 

Moenie bly wees omdat jy kan brand, of omdat jou vervolgers moord kan pleeg nie. Wees eerder bly oor die beloning wat wag (v.12, 10b, Openbaring 2:10). En moenie dink jy ly alleen nie. Onthou hoe die profete en die grootste Profeet, Jesus, vervolg is – jy is in goeie geselskap (v.12).

 

Wees bereid om vir Jesus te ly. Moenie lyding soek, sodat jy skuldig is aan selfmoord nie. Moenie wil ly, sodat jy beroemd kan wees nie (1 Korintiërs 13:3). Moenie ly omdat jy die hele dag jou Bybel lees, sodat jou werk agter raak nie. Moenie ly omdat jy ongeskik, ‘in-your-face’, en ontaktvol is nie. Moenie ly omdat jy sê: ‘I call a spade a spade’ nie.

 

Ly omdat jy opstaan vir die waarheid. Ly omdat jy opstaan teen aborsie en nie gay huwelike voorstaan nie. Ly omdat jy eerlik werk, nie saam met die res drink of rondslaap nie. Ly omdat jy nie omkoopgeld vat nie, en nie vir vuil grappe lag nie. Ly omdat jy heilig is en die evangelie preek. Jy sal tronk toe gaan, nie bevorder word nie, nie leerlingraad wees nie, jou toekenning verbeur, nie na die braai toe genooi word nie, uitgeskuif word (Lukas 6:22), vuil kyke kry, gespot word, uitgelag word.

 

As die wêreld jou nie haat, slegsê, of vervolg nie, wys dit jy is deel van hulle (Johannes 15:18-20). As jy ongered is sal jy nie vervolg word nie. Maar jy sal vir ewig ly in die hel. ‘n Vals gelowige gaan saam met die stroom en soek almal se guns (Lukas 6:26). Hy sal nie vir Jesus ly nie, maar verloën Hom.

 

Voor sy bekering het Charles Spurgeon ‘n vreeslike stryd gehad met sonde oortuiging. Hy het gewens iemand kan vir hom sê hoe sy sondes vergewe kan word. Na ‘n lang gesoek het hy die antwoord by ‘n Metodiste Kapel gekry. Die prediker het nie opgedaag nie. ‘n Leek het opgestaan en die evangelie gepreek. Hy het na Spurgeon gekyk en gesê:

 

‘Young man, you look very miserable… and you always will be miserable – miserable in life, and miserable in death – if you don’t obey text; but if you obey now, this moment, you will be saved… Young man, look to Jesus Christ. Look! Look! Look! You have nothin’ to do but to look and live.’[10]

 

Spurgeon het dadelik gesien hoe om vergewe te word. Hy het deur geloof na Jesus gekyk en is gered. Hy wou sing en dans van vreugde. Hy het verstaan hoekom John Bunyan na sý bekering vir die kraaie op land wou vertel.

 

Is jy miserabel soos wat Spurgeon was? Wil jy die vreugde hê wat hy gekry het? Vra dat die Heilige Gees jou nuut maak en Matteus 5:1-12 op jou siel stempel.

[1] The Chronicles of Narnia, p.759

[2] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.200

[3] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.52-53

[4] S. Pearce Carey, William Carey, p.387

[5] In die Grieks staan seën in ‘n meervoud om te wys hoe oorvloedig dit is.

[6] The Sermon on the Mount: vol.1, p.62

[7] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, p.271

[8] The Sermon on the Mount, pp.22-23

[9] New Bible Commentary (3rd Edition), p.822

[10] Autobiography: vol.1, pp.88-89