Hoe belangrik is Jesus se opstanding?

Empty tomb

Ek het op ‘n video gesien hoe ‘n predikant (Dr. Willem Nicol) gesê het dis tyd dat die Kerk almal aanvaar – of hulle nou Jesus se liggaamlike opstanding aanvaar of nie. Ek het op ‘n ander video gesien hoe Desmond Tutu Jesus se liggaamlike opstanding ontken.  Paulus sou op sy rug geval het as hy dit moes hoor – veral omdat diegene wat dit sê bely dat hulle Christene is.  Volgens 1 Korintiërs 15:12-34 is die liggaamlike opstanding ononderhandelbaar, en lê dit aan die hart van wat dit beteken om ‘n Christen te wees.

 

As Jesus nie opgestaan het nie (v.12-19, 29-34)

Die Korintiërs is gered deur Paulus se evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding. Hoe kon party dan sê die dooies sal nie opstaan nie (v.12)?  Die Grieke het so geglo en gesê die liggaam is boos, en die siel moet daaruit ontsnap.  Vals leraars, soos moderne hiper-preteriste, het gesê dat die opstanding reeds plaasgevind het (2 Timoteus 2:18).  Die Sadduseërs het die opstanding van die liggaam verwerp (Handelinge 23:8).  As dooie mense nie opstaan nie, het Jesus ook nie opgestaan nie (v.13, 16).  En as dít so is, dan…

 

[1] Is die evangelie nutteloos en kragteloos (v.14).

 

[2] Lieg al die apostels (v.15).

 

[3] Beteken ons geloof niks (v.17). Wat help vertroue in ‘n dooie Jesus?

 

[4] Is ons nog in ons sonde, want Jesus het nie die sonde en dood oorwin nie (v.17, vgl. Efesiërs 2:1, 5, Romeine 4:25).

 

[5] Is ontslape (afgestorwe) gelowiges vir ewig en altyd verlore, omdat die dood alles beïndig (v.18).

 

[6] Hoop ons verniet, hou ons vas aan ‘n illusie van ‘n hemel wat nie bestaan nie, glo ons ‘n leuen, flous ons onsself dat ons eendag weer ons geliefdes sal sien, en gee ons geld vir sendingwerk wat niemand help nie. Dit is dit hartseer as ons so gevang word (v.19).

 

Christene gebruik soms dié argument teen ateïste: ‘Hoekom vat jy nie ‘n kans en glo in Jesus nie?  As ék reg is oor lewe na die dood, verloor jy alles.  As jý reg is en daar is niks na die dood nie, verloor ek niks.’  Dit is ‘n slegte argument, want geloof in Jesus is nie ‘n risiko of ‘n blinde sprong in die donker nie, maar is gebasseer op die geskiedkundige feite van sy kruisdood vir sondaars, sy begrafnis, en sy liggaamlike opstanding.[1]  Verder:  as Christene verkeerd is dan verloor ons nie niks nie, maar alles (v.19).  Ons verloor alles waarvoor ons geleef het en lief was; alles waarvoor ons bereid was om op te offer; alles waarop ons gehoop het en waarvoor ons gely het.  Ons verloor Jesus self.

 

[7] Is die doop wat ons opstanding saam met Jesus uitbeeld, leeg (v.29, Romeine 6:3-4).[2]

 

[8] Was Paulus mal om homself te verloën, sy kruis op te neem, en met wilde diere te veg sodat die uitverkorenes gered kon word (v.30-32, 2 Timoteus 2:10, Lukas 9:23, 2 Korintiërs 11:23-29).[3]

 

[9] Help dit nie jy ontsê jouself sekere plesiere nie. Geniet eerder jouself en maak die meeste van die hier en die nou (v.32, Jesaja 22:13).  Hou partytjie asof daar geen môre, hemel, of hel is nie.  ‘Die opstanding bring oneindige hoop, maar as daar geen opstanding is nie bring dit ‘n hopelose einde – en hopeloosheid lei tot ‘n lewe waar mense hulleself te buite gaan.’[4]

 

Paulus waarsku die Korintiërs om nie toe te laat dat mense wat verkeerd glo hulle uitvang en aftrek nie (v.33). Hulle moet reg en nugter dink oor die opstanding, en ophou om te sondig deur dit te verwerp (v.34).  Dit is skandelik as gelowiges God se krag om die dooies op te wek betwyfel (v.34, Matteus 22:29).

 

Druk jou ore toe vir mense wat sê dat geloof in die opstanding opsioneel is. Jy kan oor die doop of geestelike gawes verskil en nogsteeds ‘n Christen wees.  Maar iemand wat die evangelie van Jesus se kruisdood en opstanding ontken, het die hart van die Christelike geloof ontken, en en is nie ‘n Christen nie (v.14, 17).

 

Kry ‘n hoë siening van God en die Skrif as jy aan hierdie waarheid wil vashou (Matteus 22:29). Pasop vir predikante, preke, boeke, teologiese kolleges, kerke, en mense wat die Skrif op enige punt verdraai of bevraagteken.  As hulle dit op ‘n klein punt doen, kan hulle dit op ‘n groot punt ook doen.  As hulle eers begin om te sê Adam het nie bestaan nie, of Jona is nie regtig deur ‘n vis ingesluk nie, is dit nie lank voor hulle die opstanding verwerp nie.

 

Moenie val vir die argument wat sê die opstanding kan nie wetenskaplik of logies gebeur nie. Hierdie argument ontken God se krag (Matteus 22:29).  Moenie studente na sulke kolleges aanbeveel, of self sulke Bybelskole bywoon en dink dis skadeloos nie (v.33).  Raai Christene aan om uit sulke kerke te bedank.  Moenie hande vat met sulke mense, asof hulle Christene is nie (v.33).

 

Jy mislei jouself om te dink jy kan met sulke mense hande vat, en sal nie val nie (v.33). Dosente by teologiese kolleges dink omdat húlle onderskeid kan tref, 20-jarige studente ook onderskeid tref.  Vermy eerder valsheid en beskerm ander (v.33).

 

As jy die opstanding verwerp affekteer dit jou hele lewe:

 

  • Jou gewete sal jou pla (v.17).
  • Jy sal jouself oorgee aan sonde (v.32, 34). Ek het eerste- en tweedehands gehoor dat liberale teologie studente so immoreel is soos ongelowiges.
  • Jy sal jou eie en ander se dood vrees (v.18).
  • Jy sal nie met oortuiging en krag kan preek nie (v.14).
  • Jy sal hopeloos wees (v.19).
  • Jy sal ophou om te glo (v.14, 17).
  • Jy sal nie bereid wees om op te offer, sodat ander Jesus kan ken nie (v.30-32).

 

Omdat Jesus opgestaan het (v.20-28)

As ‘n swanger ma doodgaan, sterf haar jong baba ook. Net so het Adam se dood ons dood beteken (v.22).  Jesus het gekom om dit om te keer:  deur sy opstanding leef ons geestelik en sal ons liggame opstaan.  Dit is wat die Bybel bedoel met hoop.  Bybelse hoop is nie ‘n onsekere term soos in modere spreektaal nie:  ‘Ek hoop dit reën oor die naweek.’  In die Bybel is hoop ‘n sterk en vaste anker vir jou siel (Hebreërs 6:18-19).  Dit is soos die woorde wat op ons kerk se bord gestaan het:  ‘Hoop op Christus.’  ‘n Man het verby gery en is daardeur gehelp en bemoedig.

 

John Piper sê: ‘When the Word says, “Hope in God!” it does not mean, “Cross your fingers.”  It means, to use the words of William Carey, “Expect great things from God.”’[5]  Dít is die hoop wat Paulus in v.20-28 beskryf.

 

Jesus se opstanding is ‘n feit (v.20, vgl. voetnota 1). Jesus is die eerstevrug van die ontslapenes (v.20, 23).  Hy vervul die Fees van die Eerstevrug in Levitikus 23:9-11. Ander – soos Lasarus – is wel voor Hom uit die dood opgewek, maar Jesus is die eerste mens wat opgestaan het om nie weer te sterf nie.  In die Ou Testament het die eerstevrug die res van die oes gewaarborg (Spreuke 3:9-10).  Net so waarborg Jesus se opstanding ons s’n.  Soos wat jy gewasse plant en dit weer opkom, sal ons begrawe word en weer opstaan.  Soos wat die dood deur ‘n mens gekom het (Romeine 5:12), kom die opstanding deur ‘n mens (v.21, Johannes 11:25).  Almal wat een is met Adam, sterf (v.22).  Almal wat een is met Jesus, sal geestelik en liggaamlik lewe (v,22, Johannes 10:10, 5:25-29).

 

Die goddelose sal ook opstaan, maar tot die ewige verderf en nie tot die ewige lewe nie (Johannes 5:29, Daniël 12:2). By sy eerste koms het Jesus opgestaan as die eerstevrug (v.23).  By sy tweede koms sal ons opstaan tot die ewige lewe, en die goddelose tot die ewige verderf (v.23).  Volgens die Bybel is daar een algemene opstanding, en nie twee afsonderlike opstandings vir Christene en ongelowiges nie (Johannes 5:29, Daniël 12:2, Handelinge 24:15, Openbaring 20:12-13, Matteus 25:31-32).

 

Die wederkoms is die einde, wanneer Jesus die bose magte sal vernietig en die Koninkryk aan sy Vader sal oorhanding (v.24). Jesus sal heers totdat elke vyand aan sy voete onderwerp is (v.25, Psalm 110:1, vgl. Josua 10:24).  Hier sal Hy ook die laaste vyand – die dood – onderwerp wanneer Hy ons uit die dood opwek (v.26, Openbaring 20:14).  By sy opstanding het Jesus die dood gevonnis (2 Timoteus 1:10).  By ons opstanding sal Hy die dood teregstel (v.26).  ‘In v.12 het sommige gesê daar sal geen opstanding wees nie.  In v.26 sê Paulus daar sal geen dood wees nie.’[6]

 

Die Vader het alles aan die Seun onderwerp (v.27, Psalm 8:6, Efesiërs 1:22, Matteus 28:18, 11:27). Met ‘alles’ bedoel Paulus natuurlik nie dat die Vader aan die Seun onderwerp is nie, want die Vader en die Seun is in elke opsig gelyk (v.27):

 

  • Die Seun is die presiese afdruksel van die Vader se wese en die afskynel van sy heerlikheid (Hebreërs 1:3).
  • Die Vader en die Seun is een (Johannes 10:30).
  • Die Seun kan alles doen wat die Vader kan (Johannes 5:19).
  • Die Seun kan lewe gee en dooies opwek net soos die Vader (Johannes 5:21).
  • Die Seun sal ons oordeel (Johannes 5:22, 27).
  • Die Seun sal geëer word met dieselfde lof en aanbidding waarmee die Vader geëer word (Johannes 5:23).
  • Die Seun, soos die Vader, is die Bron van lewe (Johannes 5:26).

Tog onderwerp die Seun Hom in nederigheid aan die Vader (v.28, 11:3). So sal die Drie-Enige God Homself vir ewig in almal en alles verheerlik (v.28). Dít was immers die groot en finale doel van die opstanding.

 

Leef in die hoop van die wederkoms en die opstanding. Wees eers seker dat jy gered is, want anders het jy ‘n vals hoop.  Jy sien uit na die wederkoms, maar sal ‘n verrassing kry, want vir jou sal die Dag donker wees (Amos 5:18).  Hoe kan jy seker wees dat jy deel sal hê in die hoop van Sy opstanding (v.23), en dat Hy jou nie sal vernietig nie (v.24)?  Hier is hoe:

 

Glo in sy kruisdood vir sondaars, in sy opstanding uit die graf (Efesiërs 2:1, 5, 8-9, Romeine 10:9). Moenie net die feite van sy kruisdood en opstanding glo nie, maar vertrou, glo, en hoop op Hom en sy Persoon (Johannes 11:25, Galasiërs 2:20, 1 Timoteus 1:1, Kolossense 1:27, Hebreërs 11:1).  Sterf vir sonde en self, sodat jy saam met Hom kan lewe (Romeine 6:5, 8).  Beeld hierdie opstanding uit deur in geloof gedoop te word (Kolossense 2:12).

 

Dit help egter nie jy is gered, maar dink skaars aan die hoop van die wederkoms en opstanding nie. Jy is gered in hoop, en moet hierdie hoop vooroë hou (Romeine 8:23-25).  As jy nie aan hierdie hoop vashou nie, wys dit dalk dat jy gemaklik is in die wêreld.  Voorspoed het haar arms om jou skouer gesit, en sê dat jy vir die hier-en-nou moet lewe.  Juis daarom skud God soms jou wankelrige hoop van gesondheid, voorspoed en geld (1 Timoteus 6:17).  Siekte, min finansies, en lyding lyk vir jou soos ‘n vyand, maar is eintlik ‘n vriend wat in jou oor fluister:  ‘Verlang dat Jesus weer sal kom.’  Jy kan inderdaad bly wees in jou lyding, want uiteindelik kweek dit hoop (Romeine 5:3-5).

 

Op hierdie manier antwoord God gebede soos Efesiërs 1:18 en Romeine 15:13. Paulus bid hier dat ons “kan weet wat die hoop van sy roeping” is, en dat “die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”

 

God gee hierdie hoop dikwels as jy in moeilike tye sy Woord lees, ‘n vers kry, ‘n preek hoor. Dit is mos deur die Bybel wat ons hoop kry (Romeine 15:4).  Moet dan nie op ander plekke hulp soek, en die Bybel afskeep wanneer jy hopeloos is nie.

 

As jy hoop op die wederkoms en die opstanding – as jy daarna uitsien – sal jy:

 

  • Sonde meer haat en heiligheid najaag (Kolossense 3:1-5, 1 Johannes 3:2-3, 2 Petrus 3:11).
  • Te midde van trane vrede hê as gelowiges sterf (1 Tessalonisense 4:13).
  • Kanse kry om die evangelie te deel, omdat mense jou sal vra oor die hoop wat in jou is (1 Petrus 3:15).
  • Blydskap hê (Romeine 12:12).
  • Siekte en lyding makliker dra, omdat jy weet wat kom (2 Korintiërs 4:16-17).
  • Getrouer dien (3:13).
  • Nie so maklik van ons samekomste af wegbly nie (Hebreërs 10:25).
  • Vrede maak met ander en nie in onmin lewe nie (2 Petrus 3:14).
  • Nie afdwaal nie, maar naby die Here bly (1 Johannes 2:28).

 

My dosent in prediking (Joel James) het vertel hoe hulle saam met John MacArthur om ‘n tafel gesit het. Toe iemand iets oor prediking sê, het MacArthur opgestaan, beide sy vuiste op die tafel geslaan, en gesê:  ‘Preaching is everything!’  Dit is presies hoe ek sou antwoord as iemand moes vra:  ‘Hoe belangrik is Jesus se opstanding?’  Die opstanding van Jesus is alles!

[1] https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/09/26/ek-glo-in-die-opstanding/

[2] Paulus keur nie hier die doop vir die dooies goed nie. Hy sê ook nie dat die doop mense red nie (vgl. Efesiërs 2:8-9).  Die meeste goeie kommentare sal die verskillende interpretasies van hierdie noukeurig uitlê (bv. Garland, Baker Exegetical Commentary on the New Testament: 1 Corinthians, pp.716-719, 723-724).

[3] Een van die vroeë kerkvaders, Ignatius, het gepraat van Romeinse soldate as ‘wilde diere’ (Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.216).  Paulus self praat van sy vyande as leeus (2 Timoteus 4:16-17).  As Paulus letterlike diere in gedagte gehad het, is dit vreemd dat hy dit nie by sy lys voeg in 2 Korintiërs 11 nie, en dat Lukas dit glad nie in Handelinge noem nie.  ‘n Romeinse burger wat in die arena geveg het, het sy burgerskap verloor.  Tog sien ons in Handelinge 23 dat Paulus nog ‘n Romeinse burger was.

[4] Garland, p.721

[5] http://www.desiringgod.org/messages/how-can-i-hope-new-birth

[6] Findlay in Leon Morris, p.212.