Hoe om reg te aanbid

Whitefield preaching

Wanneer dit by moraliteit kom is die wêreld se leuse: ‘As dit lekker voel, jou gelukkig maak, en niemand seermaak nie, kan jy dit maar doen.’  Ongelukkig het hierdie mentaliteit Christelike aanbidding beïnvloed.  Baie kerke voel ‘n veer vir wat God oor aanbidding sê.  Vir hulle is dit net belangrik dat mense lekker moet voel.

 

Vir ‘n ware Christen egter, maak dit saak om God reg te aanbid, om te aanbid soos wat Hy sê.  Ons bestaan om God te aanbid.  As jy dus die Bybel se lering oor aanbidding mis, mis jy nie net ‘n déél van die Christelike geloof nie – jy mis Christenskap.  Daarom is Eksodus 31 baie belangriker as wat ons dink.

 

Die Gees van aanbidding (v.1-6)

Vroeër vanjaar het my Volkswagen TDI skielik op ‘n dag niks krag gehad nie. Na ‘n lang gesukkel het die werktuigkundige die fout gekry.  Rotte het ‘n klein gaatjie in een van die pype geknaag, sodat dit lug gesuig het, en nie krag deurgegee het na die turbo nie.  Die kar kon ry, maar het niks krag gehad nie.  Op dieselfde manier kan ons God meganies aanbid en alles reg doen, maar geen krag hê nie.  Ons benodig die Heilige Gees as ons God reg wil aanbid.  Dit is die boodskap van v.1-6.

 

Toe God klaar instruksies vir die tabernakel gegee het, het Hy nie gewag vir ‘n vrywilliger om te help nie.  Hy het vir Besaleël, die seun van Uri, die seun van Hur, uit die stam van Juda gekies (v.1-2, 17:10, 12, 24:14).  In ‘n sekere sin was Besaleël ‘n tipologie van Jesus wat ook uit die stam van Juda was, en die tempel van die Here gebou het (Hebreërs 7:14, Matteus 16:18, Sagaria 6:12-13, Efesiërs 2:20).

 

Besaleël se naam beteken ‘in die skadu of beskerming van God’ (Psalm 91:1). Hy was die leier van die vakmanne wat die tabernakel moes bou.  God het hom geroep (v.2), afgesonder, toegerus om kunstig te werk (v.3, 1 Konings 7:14), met die Heilige Gees gevul (v.3, Rigters 6:34), gevul met kennis (v.3), vaardigheid, vakmanskap, en intelligensie om alles akkuraat te meet en te pas (v.3).  Hy het nie maar net ‘n natuurlike talent gehad nie, maar ‘n gawe vir ‘n geestelike en heilige taak.  Die Gees het aan hom die vermoeë gegee vir kunstige ontwerp, om te werk met goud, silwer, en koper (v.4), om stene te sny en te pas (v.5), en om fyn houtsneewerk te doen (v.5).  Hy was nie sommer maar net ‘n ‘Jack-of-all-trades-and-master-of-none’ nie, maar kon alles goed doen (v.5).  Hy was ‘n skrynwerker, juwelier, goudsmid, silwersmid, en kopersmid alles in een.

 

God het vir Oholiab, die seun van Ahisamag uit die stam van Dan gekies om vir Besaleël te help (v.6). ‘Toevallig’ beteken sy naam ‘my tent is die vader’ of ‘tent van die vader’.  Elke vaardige man het sy vaardigheid by God gekry (v.6).

 

Hierdie verse is ‘n illustrasie van wat dit beteken om God te aanbid in gees (Johannes 4:24). Om God in gees te aanbid beteken nie jy moet in tale bid of sing, emosioneel opgesweep raak deur ‘n koortjie wat jy oor en oor sing, of in vervoering raak sodat jy jou brein afskakel en nie jouself beheer nie.

 

Ons moet egter nie bang wees vir emosie nie. Om God in gees te aanbid moet jy die Woord baie lees en diep oordink (Kolossense 3:16, Efesiërs 5:18), jou sonde wat die Heilige Gees bedroef bely (Efesiërs 4:30), en bid dat God jou met sy Gees sal vul (Lukas 11:13).  Aanbid Hom dan met groot blydskap, volle vrede, oorvloedige hoop, diep liefde, sugtende verlange, ryk lofprysing, en brandende ywer.

 

Pasop tog om nie aanbidding tot sang te beperk nie. Onthou: Skriflesing, prediking, gelowige gemeenskap, gebed, offergawes, die nagmaal, geestelike gawes soos hulpverlening, administrasie, bemoediging, leiding, lering is alles deel van aanbidding.  Ons moet God ook op hierdie maniere aanbid in gees.  Dit is die Heilige Gees wat jóú gees bekragtig om tot eer van God en stigting van ander geld op te neem en te tel, die nagmaaltafel te dek, ‘n bulletin maak, preke op te neem, musiek te lei, mense te groet, ens. (1 Korintiërs 12:11).  Moet dan nie dink gebed en prediking is geestelik, maar om by die werksdag te help of ou mense vir kerk op te laai is nie (v.2-3, 6, Handelinge 6:3, 5).

 

Hoekom is belangrik dat ons God in gees moet aanbid?  As ons dit nié doen nie, is ons soos die Fariseërs wat volgens die Skrifte aanbid het, maar hulle harte was ver van God af (Matteus 15:8).  God haat meganiese en koue aanbidding.

 

Die gebod van aanbidding (v.6-11, 18)

André bou vir hom ‘n huis op ‘n gholf landgoed. Die tekenaar en argitek is baie gaaf en vriendelik met André, en gaan uit hulle pad om kwaliteit werk te lewer teen ‘n redelike prys. Maar daar is ‘n probleem:  hulle ontwerp, teken, en bou soos wat húlle goeddink, en nie soos wat hý vra nie.  Sal André hulle voorbarigheid verskoon, omdat hulle gaaf en vriendelik was, of omdat hulle netjies teken?  So ook is God nie tevrede as ons opreg en ywerig aanbid, maar doen soos wat óns wil, en nie soos wat Hý sê nie.  God het in v.6-11, 18 gesê dat die volk moes werk, aanbid, en doen volgens sý gebod en opdrag.

 

In v.1-6 het God mense vir hierdie taak toegerus, en in v.7-11 het Hy gesê wat die taak is. God het die vakmanne vaardig gemaak, sodat hulle alles kon maak volgens die plan wat Hy vir Moses gegee het (v.6). Wat moes hulle maak?  Die tent (v.7), die Ark van Getuienis met die goue versoendeksel en gerubs bo-op (v.7), die tent se meubels (v.7):  die wierook altaar (v.8), die kandelaar (v.8), die tafel met toonbrode (v.8), die koper altaar (v.9), al die bypassende instrumente, die koper waskom met sy staander (v.9), die kunstig-geweefde en heilige klere vir Aäron en sy seuns in hulle diens as priesters (v.10), die salfolie, die geurige wierook vir die heilige plek (v.11).  Hulle moes alles presies maak volgens God se instruksies aan Moses (v.11).

 

In v.18 het Moses die Tien Gebooie op twee kliptafels gekry. God het dit in klip gegraveer om te wys dat dit vir alle geslagte geld.  In die Nuwe Testament het Hy hierdie wet op ons harte geskryf ( 2 Korintiërs 3:3, Hebreërs 8:10).  God het dit ook met sy vinger geskryf, om te wys dat dit Goddelik en hemels is (vgl. 8:19, Lukas 11:20, Psalm 8:4).

 

Wat is die lesse wat ons uit hierdie verse moet leer? Ons moet God in waarheid aanbid (Johannes 4:24).  Wat beteken dit?  Tydens die hervorming het Martin Luther gevoel dat die kerk die Katolieke aanbidding wat nie met die Skrif bots nie, so moes los.  Ulrich Zwingli het egter gesê dat die kerk net moes aanbid volgens die direkte opdragte van die Nuwe Testament.[1]  My swaer moes onlangs badkamerkaste vir iemand bou.  Sou dit saakgemaak het as hy dit volgens die planne gebou het, maar ook enigiets bygevoeg het wat nie in die planne verbied was nie?  Ja dit sou, want dan sou die kaste nie in die spasie of by die res van die badkamer se styl gepas het nie.

 

Op dieselfde wyse moet ons God slegs aanbid volgens wat Hy in die Nuwe Testament voorgeskryf het, en nie volgens die Nuwe Testament plus alles wat nie daarin verbied word nie.  Hoe lyk Nuwe Testamentiese aanbidding?  Ons moet die Skrif lees, preek, bid, sing, en dit in die sakramente sien.  Die detail daarvan sal verskil van een kerk na die volgende.  Gemeentes moet self besluit of hulle een of meer Skriflesing moet hê, ‘n reeks uit ‘n Ou- of Nuwe Testament boek wil preek, watse musiek instrumente hulle gaan gebruik, hoeveel liede hulle wil sing, hoe gereeld hulle die nagmaal gaan vier, of daar ‘n getuienis voor die doop gaan wees of nie, of gebede spontaan of neergeskryf moet wees, ens.

 

Die Nuwe Testament is die vervulling van die wet. Daarom moet ons die Nuwe Testament in ons aanbidding volg, en nie vashou aan die skadus en tipes van die wet nie.  As jy dit nié so doen nie, sal jy weer priesters en die Ou Testament feeste hê, olie op mense se voete smeer, wierook en kerse brand, ramshorings blaas, met vlae dans, beelde in die kerk oprig (soos die gerubs bo-op die ark), die doop in die plek van die besnydenis inbring en babas doop, ens.

 

As ons God nie volgens sý voorskrifte aanbid nie, loop ons die gevaar om ‘n god van ons eie verbeelding te skep, en uiteindelik ‘n vals god te aanbid (20:4-5, 32:4-5).

 

Die dag van aanbidding (v.12-17)

Ek onthou as kind hoe middagslapies vir ons ‘n straf was. Ons het dit gehaat.  Noudat ek ouer is, wens ek middagslapies was verpligtend.  Die Israeliete moes nie die Sabbat as ‘n straf sien nie, maar as ‘n seën om hulleself te verfris en te verkwik (Markus 2:27).  As God dit nie ingestel het nie, sou mense makliker ‘n afgod maak van werk, ons huwelike en gesinne afskeep, nie tyd neem om saam met ander te aanbid nie, gouer siek word a.g.v. ‘n liggaam wat moeg, gestres, en uitgeput is.  Daarom het God hierdie streng wet gegee in v.12-17.

 

Na God se opdrag oor die plek van aanbidding, het Hy ook ‘n opdrag gegee oor die dag van aanbidding.  In die konteks het Hy in effek gesê:  ‘Rus selfs van heilige werk.  Werk vir ses dae aan die tabernakel, maar rus op die sewende dag.’  In die teks praat die Here van my Sabbatte.  Daardeur het God gewys dat Hy die dag ingestel het, en dat dit ‘n spesiale dag was vir diens aan Hom (v.13).  Die heilige dag was ‘n teken dat Israel ‘n heilige volk was vir die Here (v.13, 16).  Die dag was spesiaal, sodat God op hierdie dag sy volk deur die genademiddele (die Woord, offers, gebed, lofsange, ens.) kon heilig maak (v.13).

 

Die volk moes die dag heilig hou en dit nie beskou het soos enige ander dag, sodat hulle daarop gewerk het nie (v.14). Enigiemand wat ongehoorsaam was moes doodgemaak word (v.14-15, Numeri 15:32-36).  Die straf was erg, sodat die volk kon sien God is ernstig en heilig.

 

Die volk kon vir ses dae werk en maklik hulle week se werk klaarkry (v.15). Die rus op die sewende dag moes heilig en volkome wees.  God wou hê hulle moes hulle liggame rus, en hulle siele deur aanbidding verkwik (v.15).  Die Sabbat was ‘n ewige teken dat God die hemel en die aarde in ses dae geskep het, en op die sewende dag gerus het (v.17, Genesis 2:2-3).  So sou die volk onthou dat Hy, en nie ander gode nie, die Skepper is (v.17).  Net soos God, moes hulle vir ses dae werk en op die sewende dag rus en verfris raak (v.17).

 

Die les vir ons is duidelik: neem ‘n rusdag om God te aanbid.  Om dit reg te hou, moet jy hierdie dag in die lig van die Nuwe Testament beskou.  In die Ou Testament het God die sewende dag geheilig en daarop gerus, nadat Hy die skepping voltooi het.  In die Nuwe Testament het Hy die eerste dag geheilig en van sy verlossingswerk gerus, nadat Jesus die nuwe skepping in sy opstanding begin het.  ‘n Rusdag op die eerste dag is ‘n prentjie van ons rus in Jesus (Hebreërs 4:3, 8-10, Openbaring 14:13, Matteus 11:28-29).  Die Ou Testament Sabbat was ‘n skadubeeld van hierdie rus (Kolossense 2:16-17).

 

Die Sewendedag Adventistekerk sê Konstantyn was ‘n sonsaanbidder, en het daarom in 321 n.C. die Sabbat na die Sondag toe verander.[2]  Maar Konstantyn het reeds in 312 n.C. sonaanbidding gelos om Jesus te aanbid.[3]  Nadat hy vir Maxentius by die Mulviese Brug oorwin het, het hy nie volgens tradisie die Romeinse gode vereer nie, maar vir Jesus alleen.[4]  Konstantyn het die Sondag vereer omdat hy Jesus se opstanding wou erken, en nie omdat hy een of ander songod wou aanbid nie.[5]

 

In die middel van die 2de eeu het Justin Martyr gesê dat Christene op Sondae aanbid. Hy het geskryf:  ‘Ons hou ons gewone saamkomste op Sondae, want dit is die eerste dag toe God duisternis en choas verdryf het om die wêreld te maak.  Ons doen dit ook so, omdat ons Verlosser, Jesus Christus op hierdie dag opgestaan het uit die dood.’[6] (vry vertaal).

 

Baie gou na Jesus se opstanding het Christene begin om op Sondae te aanbid. Handelinge 2:1 wys dat die kerk op ‘n Sondag gebore is (vgl. Johannes 20:1, Levitikus 23:16).  Daarna het die gelowiges op Sondae ontmoet (Handelinge 20:7, 1 Korintiërs 16:1-2, Openbaring 1:10).  Dit het gebeur soos wat dit in die Ou Testament voorspel is:  die dag wat die Here gemaak het en waarin ons bly is, is die dag van Jesus se opstanding waarop Hy die hoeksteen geword het (Psalm 118:24, 22-23, Handelinge 4:10-11).

 

Dit is jammer dat party kerke op Saterdae aande dienste hou, sodat mense op die Here se Dag hulle eie ding kan doen. Kom op Sondae saam om die opgestane Jesus te aanbid en geestelik verkwik te raak.

 

Baie mense glo dat die koms van die charismatiese beweging Christelike aanbidding verryk het. Ek verskil.  Na my mening het hulle ‘n Babelse verwarring veroorsaak, en ‘n goue kalf in die kerk ingebring.  Hulle het gemaak dat mense aanbidding verwar met ‘n emosionele gevoel, en dat hulle dit beperk tot ‘n vreemde gebrabbel en koortjies wat oor en oor gesing word.  ‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was en ek vir ‘n halfuur of 40 minute lekker kon worship, gee ek nie om of die preek goed is of nie.’

 

Dit sal goed wees as ons kan leer by ‘n prediker wat eenkeer by ‘n vreemde kerk gepreek het. Toe die sang verby is, het die musiekspan in die agterste banke gaan sit om te slaap.  Die prediker het hulle wakker gemaak en gesê hulle moet respek hê vir God se Woord.  ‘Die musiek is nie die enigste deel van aanbidding nie; die preek is ook aanbidding,’ het hy gesê.  Ek hoop dat jy uit Eksodus 31 ten minste iets van ware Bybelse aanbidding geleer het.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.149

[2] Sewendedag Advenstiste Glo…, p.276

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.1, p.152

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church (4th Edition), p.125

[5] Needham, vol.1, pp.164-165

[6] Ibid, pp.66-67