Die goue kalf en die God van die Bybel

Golden Calf

‘n Paar jaar gelede het William P. Young se boek, The Shack opspraak gemaak onder Christene.  Talle kerke het Eugene Petersen se aanbeveling onderskryf, dat die boek vir ons geslag is wat John Bunyan se Pilgrim’s Progress vir syne was.  Soos jy onthou het die skrywer God die Vader uitgebeeld as ‘n oorgewig Neger vrou, die Heilige Gees as ‘n klein Asiese vrou, en Jesus as ‘n onaantreklike Joodse man met ‘n krom neus en in denims.  Ons land se bekendste teoloë het die boek geprys.  Maar Young se beskrywing van die Drie-Enige God was ‘n direkte oortreding van die tweede gebod.  Dit was, soos Eksodus 32 dit beskryf, ‘n goue kalf.

 

God is Gees (v.1-6)

In 2010 het ek vir teologiese studente beradingklasse gegee.  Tydens een klas het ek gesê God is ‘n Gees en het nie ‘n liggaam nie (Johannes 4:24).  Een van my studente het gestry en gesê die Skrif praat van God se oë, ore, neus, hande, voete, ens.  Hoe sou jy sy beswaar antwoord?

 

Toe ons kinders was het ons nie mooi verstaan wat plaak is nie.  Die tandarts se plakaat het dit verduidelik as klein mannetjies wat tussen jou tande woon om dit aan te val.  So ook verduidelik die Skrif God op ‘n vlak wat ons kan verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos is die Griekse woord vir mens, en morphe beteken vorm).

 

Sodra ons sê God het ‘n liggaam, beperk ons Hom en sê ons dat Hy ‘n begin en ‘n einde het.  Maar die Skrif sê Hy is ‘n oneindige Gees, en is oral teenwoordig in sy volheid (Psalm 139:7, Jeremia 23:24).  ‘God’s centre is everywhere, and his circumference is nowhere.’[1]

 

Moet dus nie dink God lyk soos enigiets in die skepping nie:  die son, ‘n ster, ‘n berg, ‘n boom, ‘n ou man met ‘n lang wit baard, ‘n goue kalf, ens. (v.1-6, 20:2).  Deuteronomium 4:15-19 sê:

 

“Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie—sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie:  ‘n afbeelding van man of vrou, ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie—dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.”

 

Iemand wat God probeer uitbeeld bring Hom af tot op die vlak van ‘n skepsel, en sê daardeur Hy is nie uniek nie.

 

Na hfst.25-31 se instruksies oor aanbidding, lees ons hoe die volk ‘n goue kalf aanbid het (hfst.32).  Moses was vir 40 dae op die berg (24:18).  Die volk wou nie langer wag nie, en het vir Aäron gevra om sigbare gode te maak wat hulle kon lei (v.1).  Die volk het gepraat asof Moses hulle uit Egipte gelei het (v.1), en het vergeet dat God hulle deur die wolk- en vuurkolom gelei het (13:21).

 

Aäron het vir die volk geluister en gevra dat hulle hul vroue, seuns, en dogters se goue oorbelle vir hom moes bring (v.2).  Hulle het die goud gekry voordat hulle uit Egipte weg is (12:35-36).  Die goud was vir die tabernakel bedoel (25:3).  Die goue oorbelle was waarskynlik reeds een of ander vorm van afgodery (vgl. Genesis 35:4).

 

Die volk het hulle oorbelle afgehaal en vir Aäron gebring (v.3).  Hy het die goud gesmelt en ‘n goue kalf daarvan gemaak (v.4).  Hy het seker die idee in Egipte gekry, want Aspis en Mnevis was Egiptiese bul-gode.  Aäron het vir die volk gesê dat die kalf hulle God is wat hulle uit Egipte verlos het (v.4).  Hy het toe ‘n altaar voor die kalf gebou, en gesê dat hulle die volgende dag ‘n fees vir die Here sou hou (v.5).  So het hy en die volk die eerste drie gebooie gebreek (20:3-7).  Hy het God afgebring tot op die vlak van ‘n bees wat gras eet (Psalm 106:20).  Hy het die heerlikheid van God verruil vir ‘n skepsel (Romeine 1:23).

 

Die volk het vroeg opgestaan vir die fees (dis hartseer dat ons ook vroeg kan opstaan vir ons ‘afgode’, maar nie dieselfde kan doen om die ware God in ons stiltetyd te aanbid nie).  Hulle het brandoffers en vredeoffers gebring (v.6).  Soos elke vorm van afgodery, het die volk se vals aanbidding gou gelei tot immoraliteit[2] (v.6, 2 Petrus 2:10, 13-14, 19).  In sy boek Strange Fire, noem John MacArthur ten minste 35 name van vals leraars wat seksueel losbandig is.[3]

 

Uit v.1-6 moet ons leer om reg te dink oor wie God is.  Ons moet dit ook vir ons kinders leer, want as jy God verkeerd voorstel is dit nie lank voordat jy ‘n ander god aanbid nie.  Hoe moet ons oor God dink?

 

[1] Moenie vir Kinderbybels koop met ‘n prentjie van ‘n ou man of ‘n groot hand wat die wêreld skep nie (soos Michaelangelo se prente in St. Peter’s katedraal).

 

[2] Moenie kersvader ophef dat jou kinders hom met God verwar nie (die ou man met die lang wit baard).

 

[3] Moenie praat van die ou man daarbo nie.

 

[4] Moenie dat jou kinders liedjies luister wat vir hulle ‘n vals idee van God gee nie.  D.A. Carson gee ‘n voorbeeld van wat ek bedoel:  ‘If you enter certain American churches you will hear the enthusiastic singing of some such ditty…as “He’s a great big wonderful God.”  Regrettably, I never fail to think of a great big wonderful teddy bear.’[4]

 

[5] Wees versigtig vir boeke wat ‘n vals beeld van God gee (soos The Shack).

 

[6] Pasop vir predikers wat God anders voorstel as wat die Skrif Hom voorstel.  Soms hoor jy predikers sê:  ‘Die God wat ek aanbid is liefde, en sal nie gays hel toe stuur nie… Ek hou daarvan om aan God te dink as ‘n Vader, nie as ‘n Regter nie.’

 

[7] Pasop vir mense wat God se Wese, Persoon, karakter in twyfel trek.  Hulle praat asof die Heilige Gees net ‘n krag is, en nie God self nie.  Hulle praat asof God net liefde is en niks anders nie.  Hulle praat asof God nie soewerein is nie, asof die duiwel Hom soms in skaak sit.  Hulle praat asof ons die Here deur ons gebede kan beheer en manupileer.  Hulle praat asof Hy ons nie kan red tensy ons Hom toelaat nie.  Hulle praat asof Hy nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toestemming gee nie.  Hulle praat asof Hy nie weet wat in die toekoms gaan gebeur nie.  Hulle praat asof Hy nie omgee oor sonde nie, maar dit goedkeur.  Hulle praat asof Hy nie onveranderlik is nie, maar aanpas by die tye.

 

[8] Natuurlik mag ons Bybelse voorbeelde gebruik en sê:  ‘God is my Rots, Skild, en sterk Toring wat my beskerm.  God is ‘n Vader en Herder wat vir sy kinders sorg.  God is ‘n Bruidegom wat lief is vir sy bruid.’

 

[9] Wat van prente van Jesus?  ‘n Vriend het my onlangs gevra wat ek daarvan dink.  Party Christene glo dis verkeerd.  Ek het nie per se ‘n probleem daarmee nie.  Ek voel egter ongemaklik as mense cartoons van Jesus vir kinders voorhou.  Ek glo ook dis verkeerd om beelde van Jesus in die kerk, jou huis, of om jou nek te hê, omdat dit jou help om Hom beter te aanbid.

 

God is jaloers (v.7-10)

In sy boek, The God Delusion het Richard Dawkins ‘n probleem met die Ou Testament wat sê God is jaloers (34:14).  Ek wonder wat hy sal sê as ‘n ander man by sy vrou kuier terwyl hy by die werk is; as hierdie man sy vrou uitvat om te fliek en koffie te drink, vir haar blomme en geskenke koop, sy kinders by die skool oplaai en hulle sport byeenkomste bywoon?  As hy nie jaloers voel nie is daar fout.

 

God is ons Bruidegom en ons is sy bruid (Jesaja 54:5, 2 Korintiërs 11:2).  Dit is reg dat Hy jaloers voel as ons met ander gode en met die wêreld flirt (Hosea 1:2, Jakobus 4:4-5).  Net soos wat geen jaloesie ‘n teken is van koue liefde, is brandende jaloesie ‘n teken van vurige liefde.  Dawkins verwar God se heilige jaloesie vir sy bruid en sy eie eer, met die mens se sondige jaloesie op ander.  In v.7-10 het ons ‘n beskrywing van God se heilige jaloesie vir die eer van sy Naam; ‘n jaloesie dat sy volk Hom alleen moet liefhê.

 

God het vir Moses gesê om na die volk toe af te gaan (v.7).  Die volk het hulle verbond met God gebreek.  God wou nie met die goue kalf geassosieer word nie, en daarom het Hy met Moses gepraat van ‘jou volk wat jy uit Egipte gelei het’ (v.7).  God het gesê dat die volk gou korrup geraak het met sonde en afgedwaal het van die wet wat Hy in hfst.20 gegee het (v.7-8).  God weet dat die volk ‘n goue kalf gemaak en aanbid het, en dat hulle vir die kalf geoffer het (v.8).  Hy het gehoor dat die volk Hom verwerp het, dat hulle gesê het die kalf het hulle uit Egipte gered (v.8).  God het hulle harte geken, en het geweet dat hulle hardnekkig is soos ‘n wederstrewige os onder ‘n juk (v.9, Handelinge 7:51, Jesaja 48:4).  God het vir Moses gesê om Hom te los, sodat Hy die volk kon uitwis (v.10).  Sy toorn het gebrand vir die eer van sy heilige Naam wat hulle belaster het (v.10, Deuteronomium 4:24).  Hy sou Moses tot ‘n groot volk maak (v.10, soos met Noag na die vloed).

 

Ons moet jaloers wees vir God, net soos Hy jaloers is vir ons en vir die eer van sy Naam.  Sal jy traak-my-nie-agtig sit en luister hoe ‘n groep mense jou man of vrou se naam by ander vloek of slegmaak?  Net so moet ons dit nie met God doen as hulle sy Naam in films vloek en laster nie.  Dit herinner my aan ‘n film waar die hoofkarakter uit die 1800’s met ‘n tydmasjien na die 21ste eeu toe reis.  Hy gaan saam met ‘n kerkgroep teater toe om ‘n film te kyk.  Na ‘n paar minute hardloop hy uit en skreeu:  ‘Stop the movie!  Stop the movie!  The man on the screen just blasphemed the Name of the Lord!’  Hoe dikwels is ons nie eers gepla nie?  Ons kyk maar net die ‘movie’ verder asof niks gebeur het nie.  As jy aankyk en niks doen of sê nie, leer jy indirek vir jou kinders dat God se Naam nie heilig is nie.

 

Laat jou ywer en liefde vir God se Naam die hartklop en passie wees wat jou verteer.  “Die ywer vir u huis het my verteer.” (Johannes 2:17).  Moenie verdeeld wees in jou liefde vir God nie (Jakobus 1:8, 1 Konings 18:21).  Moenie toelaat dat jou liefde vir God is soos die môre dou wat gou wegsmelt nie (v.7, Hosea 6:4).  Jesus moet ons eersteliefde wees (Openbaring 2:4).  Dit beteken nie jy mag nie ander dinge of mense liefhê nie.  Maar sorg dat jou liefde vir hierdie dinge ‘n uitdrukking is van jou liefde vir Hom.  As jy nie ywerig is vir die eer van sy Naam nie, sal Hy jou soos lou water uit sy mond uitspoeg (Openbaring 3:16-17).

 

God is onveranderlik (v.11-14)

Tydens my matriekvakansie het ek vir rukkie by WIMPY til geslaan.  Die baas was ‘n slegte man wat een dag vriendelik en opgeruimd was, en die volgende dag sy werkers gevloek het.

 

Tot ‘n mindere of meerdere mate is alle mense so.  Ons bui verander namate ons siek voel, ‘n moeilike dag gehad het, die weer misluk is, ons min geslaap het, ons honger is, ons ouer word en vol pyne is, ons hormone verander, ons stres, ons met iemand baklei het, ens.  God is nie so nie.  Hy verander nie in sy Wese, Persoon, beloftes, karakter, kennis, krag, goedheid, ens. nie.  Die Skrif sê:

 

  • “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Numeri 23:19).
  • “En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.” (1 Samuel 15:29).
  • “Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Psalm 102:28).
  • “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.” (Maleagi 3:6).
  • “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8).
  • Jakobus 1:17 praat van God as “die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”

 

Moses het nie sy eie roem gesoek nie; hy het nie begeer dat God van hóm ‘n groot nasie sou maak nie (v.10).  Hy het gesmeek dat God nie toornig moes wees en sy volk wat Hy met plae uit Egipte gered het, uitwis nie (v.11, 7).  In sy gebed het hy twee argumente gebruik:

 

[1] Die Egiptenare sal sê God kon nie sy volk red en behou nie.  Hulle sal sê Hy het sy volk gered om hulle in die berge uit te wis (v.12).  Moses het dus gevra dat God nie sy volk moes oordeel nie (v.12).

 

[2] God het belowe om vir Abaham, Isak, en Israel (Jakob) ‘n nageslag te gee soos die sterre aan die hemel (v.13). Hy het belowe om vir hulle ‘n Land te gee (v.13).

 

Die Here het Moses se gebed beantwoord (v.14, Psalm 106:23, Numeri 14:13-23).  Kan ons dan sê dat Moses gemaak het dat God van plan verander?  Nee, want ons Vader weet wat ons nodig het voordat ons bid (Matteus 6:8).  God bepaal byvoorbeeld hoe lank jy gaan lewe, maar Hy bepaal ook dat jy moet eet, drink, slaap en asemhaal om so lank te lewe.  God het bepaal wie Hy gaan red (Efesiërs 1:4-5, Handelinge 13:48), maar het ook bepaal dat hulle die evangelie moet hoor en glo om gered te word (Romeine 10:13-15).

 

Net so het God bepaal dat sekere dinge gaan gebeur (Efesiërs 1:11, Jesaja 46:9-10).  Maar Hy het bepaal dat dit net sal gebeur in antwoord op gebed.  God het bepaal dat Israel na 70 jaar van ballingskap vrygelaat gaan word in antwoord op gebed (Jeremia 29:11-12, Daniël 9:2-3).  God het bepaal dat Israel sal groei in antwoord op gebed (Esegiël 36:37).  God het bepaal dat sy kinders nie verlore sal gaan nie, en steeds het Jesus gebid dat die Vader hulle in sy Naam sal bewaar (Johannes 10:28-29, 17:11).

 

Ons kan rustig leef met die wete dat God nie verander nie.  Moenie bang wees dat jy jou redding sal verloor nie.  God se liefde en beloftes verander nie.  Hy het belowe Hy sal jou nooit uitwerp nie (Johannes 6:37).  Hy het die ewige lewe belowe vir almal wat glo; Hy kan nie lieg nie (Titus 1:2).  Hy het jou liefgehad met ‘n ewige liefde (Jeremia 31:3), en niks kan jou van hierdie liefde skei nie (Romeine 8:38-39).  God is nie soos mense of ander gode wat jou sal teleurstel nie.  Omdat sy karakter en beloftes nie verander nie, kan jy soos Moses vrymoedig bid en God aan sy verbond en beloftes herinner.  As jy glo dat God soos ‘n tiener ‘moodswings’ kry, sal jy onseker en in vrees lewe.  Moet egter nie dink sy onveranderlike liefde beteken jy kan aspris sondig en net weer vergifnis vra nie.  Onthou dat sy haat vir sonde en sy straf daarop ook nie verander nie.

 

God is toornig (v.15-29)

Die bekendste preek in Amerika se geskiedenis is Jonathan Edwards se ‘Sinners in the Hands of an Angry God’.  Dit is basies ‘n preek oor God se toorn in die hel.  God het dit as ‘n vonk gebruik om die 18de eeu herlewing in New England aan die gang te sit.  Deesdae haat mense Edwards se preek; hulle haat die leerstelling van God se toorn.  Phyllis McGinley skryf in 1961:

 

And if they had been taught aright,

Small children carried bedwards

Would shudder lest they meet that night

The God of Mr. Edwards,

Abrham’s God, the Wrathful One,

Intolerant of error –

Not God the Father or the Son

But God the Holy Terror.[5]

 

Ek was by ‘n vergadering oor die Direkte Vertaling van die Afrikaanse Bybel.  Verskeie kerke was ontevrede daarmee dat verwysings na Jesus in die Ou Testament in kleinletters staan.  Ons het gevra vir hoofletters.  Langs my het ‘n liberale professor opgestaan en kwaai gesê:  ‘Dit is onmoontlik dat die Engel van die Here in die Ou Testament na Jesus verwys.  In 2 Samuel 24 het Hy 70 000 mense doodgemaak.  Jesus is nie so nie!’

 

Maar 1 Korintiërs 10:4-5, 9-10 en Judas 5 wys dat Jesus die volk gestraf het in die woestyn.  Mense kry nie ‘n weersin in God se toorn omdat hulle hoë denke het van sy liefde en genade nie.  Die waarheid is eerder dat hulle lae denke het van sy geregtigheid en heiligheid.  In v.15-29 sien ons iets van God se heiligheid en geregtigheid.  Moses se toorn en die straf in hierdie verse is ‘n refleksie van God s’n (v.10-11).

 

Moses het teen die berg afgeklim met die twee kliptafels van die Getuienis in sy hand.  God het dit aan beide kante vol geskryf (v.15-16).  Josua het teen die berg se helling vir Moses gewag (24:13).  Hy het die geraas in die kamp gehoor en gedink dis oorlog (v.17).  Moses het nie vir hom vertel wat God in v.7-10 gesê het nie, maar het hom verseker dat dit nie mense se gehuil of gejuig ná ‘n oorlog is nie (v.18).  Moses kon duidelik hoor dis mense wat by ‘n fees sing (v.18).  In hfst.15 het die volk vir Jahwe gesing, maar nou het hulle gesing vir die goue kalf!

 

Toe hy naderkom het Moses gesien hoe die volk om die kalf dans (v.19).  Hy was woedend en het God se toorn in hom gevoel brand (v.19, 10).  Hy het die kliptafels teen die voet van die berg gebreek, om so te wys dat die volk God se wet en verbond gebreek het (v.19, 19:8, 24:3, 7).  Moses het die kalf in die vuur gesmelt, dit tot ‘n fyn poeier gemaal, dit in die bergwater gegooi, en die volk gedwing om dit te drink (v.20).  Hy wou die kalf totaal vernietig.  Die volk moes dit uitskei en besoedel.  Die feit dat hulle dit moes drink dui ook aan dat hulle geestelike egbreuk gepleeg het (Numeri 5).

 

Aäron was die leier toe Moses weg was (24:14); dus het Moses hóm aangespreek (v.21).  Hoe kon hy toelaat dat die volk hom so aan neus rondgelei het (v.21)?  Hoekom het hy hulle nie gekeer nie?  Hy het die volk in groot sonde in gelei (v.21).  Die effek van sy sonde was verreikend.  Dit het vir Jerobeam beïnvloed om dieselfde te doen, en het uiteindelik gemaak dat God vir Israel verwerp het (1 Konings 12:28, 2 Konings 17:21-23).

 

Aäron het probeer om Moses se toorn te bedaar, en het die skuld op die volk gepak (v.22, 11-12, vgl. Genesis 3:12-13).  ‘Die volk is boos, het gevra vir gode om hulle te lei, en het gesê dat Moses weg is en nie terugkom nie,’ het hy gesê (v.22-23).  Hy het gesê dat hy nie skuldig is nie:  ‘Ek het net hulle oorbelle gevra, en toe kom die goue kalf self uit die vuur uit’ (v.24, 4).  Hy het dit in Egipte geleer, want daar het hulle ook gesê dat sommige gode hulleself gemaak het.[6]

 

Moses het nie vir Aäron se flou verskoning geval nie; hý was aanspreeklik dat die volk soos ‘n stout hond logesbreek het en amok gemaak het (v.25).  Aäron was daarvoor verantwoordelik dat die vyand met Israel en haar God gespot het (v.25, 12).  Moses het by die kamp se ingang gaan staan en gevra:  ‘Wie staan by die Here; wie is aan sy kant?’ (v.26).  Die Leviete het nader gekom.  God het deur Moses gesê:  ‘Trek julle swaarde en maak julle mede-Israeliete daarmee dood’ (v.27).  Die Leviete het dit gedoen, en sodoende gewys dat hulle God kies bo hulle volksgenote en familie (v.28, Matteus 10:34-37).  Hulle het 3000 mense doodgemaak, heel moontlik mense wat aangehou het met hulle afgodery en losbandigheid (v.28, Numeri 25:6-9).  As beloning vir hulle liefde en ywer vir God, hulle haat vir sonde, het God hulle geseën en afgesonder om Leviete te wees (v.29, Deuteronomium 33:8-9).

 

Dink reg oor God se toorn.  Moenie sy toorn haat en dink dis onregverdig nie.  Hy verloor nie sy humeur soos ons nie, maar is stadig om kwaad te word (Psalm 103:8-9).  Op die oordeelsdag sal sy heilige wet elke mond toestop, sodat mense sê:  ‘Ek is skuldig en kry die straf wat ek verdien.’ (Romeine 3:19, Openbaring 16:5-6).  Op daardie dag sal niemand sy sonde verskoon of wegpraat nie (v.22).  God het alles op rekord.  Jy sal nie kan sê die hond het jou huiswerk uit jou skoolboek geskeur, jou boetie het in jou vuis vasgehardloop, dis jou vriend se leë drank bottel wat hy in jou kar vergeet het nie.

 

Die Bybel sê mense sal vir ewig gestraf word (Openbaring 14:10-11).  Maar is dit nodig om ‘n paar jaar se sonde vir ewig te straf?  Is dit nie onregverdig nie?  Iemand wat dít vra neem aan dat mense net vir ‘n paar jaar sondig.  Volgens die Bybel hou mense in die hel aan met sondig; hulle wil hulle nie bekeer nie (Openbaring 16:8-11, Markus 3:29).  Hulle sonde is ook teen ‘n ewige God, en daarom is die straf ewig (net soos wat die straf groter is as jy ‘n koning klap, as wanneer jy ‘n landsburger klap).

 

As jy nogsteeds dink die straf is te erg, verstaan jy nie God se heiligheid en die mens se sonde nie.  Sonde is ‘n direkte rebellie teen God se heilige wet.  Sonde vloek en haat God; dit sê:  ‘Ek weier dat U oor my regeer.  Ek sal nie die knie buig nie.  Ek sal oor my eie lewe regeer en doen soos ek besluit.’  As sonde kon, sou dit God van sy troon afskuif.  Maar God is ‘n Gees, en daarom kan sonde nie by Hom uitkom nie.  Sonde teen mense wat na sy beeld gemaak is, is indirek rebellie teen Hom.  Iemand wat ander vermoor, verkrag, vloek, baklei, van hulle skinder, hulle belieg en beroof, met hulle egbreuk pleeg, hulle haat, wellustig is teen hulle, ongehoorsaam is aan hulle ouers, jaloers is, kwaad is vir hulle, doen dit omdat hulle God se beeld haat.  Dit geld ook vir sonde teen jouself, want jy is na God se beeld gemaak:  selfmoord, homoseksuele dade, dronkenskap, dwelm misbruik, ooreet, ens.

 

Moenie God se toorn haat nie, maar besef jy verdien dit.  Vlug na die kruis toe, want dáár het Jesus God se toorn op Homself geneem, sodat jy daarvan kan ontsnap (Galasiërs 3:13, 1 Tessalonisense 1:10).  ‘Die kruis staan tussen ons en die donderwolke van God se toorn.’[7]  Buig nederig voor Hom, bely jou sonde, bekeer jou daarvan, en vertrou op Hom as jou enigste hoop.  As jy God se toorn ontken, gaan jy ‘n aaklige verrassing kry.

 

God is regverdig (v.30-35)

In 1990 het Randy Alcorn by aborsie klinieke in die V.S.A. gestaan en vroue vredevol probeer oortuig om nie hulle kinders te vermoor nie.  Die polisie het hom gearresteer en in die tronk gesit.  ‘n Ander kliniek het hom vir $8.2 miljoen gedagvaar.  Hy was bereid om die geld te betaal, maar wou dit nie betaal aan die aborsiekliniek betaal nie.  Hy het geweet hulle sal sy geld gebruik om nóg babas te vermoor.  Die hof het toe gesê sy kerk moet elke maand 25% van sy salaris aan die aborsie kliniek betaal.  Om dit te verhoed het hy by uit die kerk bedank.[8]

 

Ons kyk na so iets en sê:  ‘Ongeregtigheid!’  Oor die afgelope paar jaar het ons dikwels dieselfde gevoel oor dit wat in ons eie land gebeur.  Ek is dankbaar dat God regverdig is, en sien uit na ‘n nuwe hemel en aarde waarin geregtigheid woon (2 Petrus 3:13).  Ek wonder soms hoekom Christene kla oor God wat sondaars in die Skrif summier doodgemaak het?  Wil ons hê God moet soos ons korrupte wêreldse howe wees, en nie geregtigheid bring oor diewe en rowers, moordenaars en verkragters nie?

 

Toe Israel die volgende dag nugter was, het Moses gesê hulle sonde is baie ernstig (v.30).  Hy het gesê hy sou weer op die berg met God gaan praat, om te kyk of Hy die volk se sonde sou versoen (v.30).  Moses het geweet dat gebed nie genoeg was nie, en dat daar versoening nodig was (v.11-13, 30).  Moses het teen die berg opgeklim en bely dat die volk se sonde van afgodery groot was (v.31).  Hy het God vir versoening en vergifnis gesmeek (v.32, Deuteronomium 9:20).  Hy het geweet dat ‘n lam nie genoeg was nie, en het daarom gevra dat God sy naam uit die boek sou wegvat (v.32, Romeine 9:3).  Die boek waarvan hierdie vers praat is nie die Boek van die Lewe nie, want niemand se naam kan daaruit weggevat word nie (Openbaring 3:5, 17:8, Johannes 10:28-29).  Die boek verwys eerder na ‘n rekordboek van die name van almal wat nog op aarde lewe (Psalm 69:29).  Moses het dus gevra dat God hóm eerder as vir húlle moes doodmaak (v.32).  Soos Jesus wou hy in hulle plek sterf.

 

God het nie sy versoek aanvaar nie, want die siel wat sondig moet sterf (v.33, Esegiël 18:4, 20).  Buitendien kan geen mens ‘n ander een se siel loskoop nie; net God kan dit doen (Psalm 49:8, 16).  Moses moes die volk na die Beloofde Land toe lei; God se Engel sou saam met Hom gaan (v.34, 13, 23:20-22, 14:19, 24, 3:2, 4, 6, 14-15).  God sou nie dadelik die hele volk doodmaak nie, maar sou hulle op grond van Jesus se toekomstige kruisdood vergewe (Romeine 3:25).  God het wel dié gestraf wat hulle nie bekeer het nie (v.34).  God het baie met die plaag getref, maar Hy het ook die meeste van hulle gespaar (v.35).

 

Moenie vergeet dat God ‘n regverdige Regter is nie.  Alhoewel Hy die Verlosser is, sal Hy op die oordeelsdag sit as Regter van die heelal (Johannes 5:22, 27, Handelinge 17:31).  God weet alles en het ‘n volledige rekord van elke mens se woorde, gedagtes, begeertes, dade (Openbaring 20:12-13, Romeine 2:16).  Jesus sal regverdig oordeel (Genesis 18:25, Deuteronomium 32:4).

 

Wat wys die rekord van jóú hart?  Sal jy hemel toe of hel toe gaan?  Moenie dink Jesus is ‘n Regter wat net dreig en nie die straf kan uitvoer nie (soos Zuma, Obama, en Duitsland wat die aanvalle in Parys verdoem het, maar niks daaraan doen nie).  God is heilig en almagtig; Hy sal en kan straf (Jakobus 4:12, Matteus 13:41-42).  As jy in Jesus glo sal jy die oordeel vryspring, want Hy het namens jou die straf gedra aan die kruis (Johannes 5:24, Romeine 8:1).  As jy in Hom glo sal die Regter vir jou ‘n Redder word.  Jy sal nie in die hemelse hof verskyn nie, maar sal wel by die prysuitdeling wees om beloon te word vir jou diens (1 Korintiërs 3:12-15).

 

Party mense vra wat die punt van die oordeelsdag is, as ongelowiges reeds in hel is?  In enige goeie land hou die regering die misdadiger in die tronk, totdat hy in die hof verskyn en die regter sy straf aankondig.  Net so sluit die Here die goddelose toe in die tronk van die hel, totdat hulle op die oordeelsdag voor die hemelse Regter verskyn en Hy hulle straf aankondig (2 Petrus 2:9).  Net soos daar in aardse tronke grade van straf is, is dit in die hel.  Alhoewel mense vir ewig in die hel sal wees, sal party ongelowiges ‘n groter straf kry as ander (Matteus 11:22, 24, 26:24, Lukas 12:47-48, Johannes 19:11).

 

Iemand wat God se geregtigheid onthou sal hom of haar gedurig bekeer.  So iemand sal ook vasbyt as onregtigheid in die wêreld heers, want hy weet God sal uiteindelik toesien dat geregtigheid geskied.

 

In ‘n preek vertel Mark Dever hoe hy saam met ‘n vriend in Londen geloop het.  Twee mans met wit hemde, swart broeke, en swart dasse het van voor af aangekom.  Dever het vir sy vriend gesê:  ‘Dis Mormone.’  ‘Hoe weet jy?’ het sy vriend gevra.  Dever het gesê:  ‘Glo my, ek’s ‘n Amerikaner.’

 

Toe die mans verbystap, het Dever hardop vir sy vriend gesê:  ‘Ek het ander dag oor Joseph Smith gelees.’  Die mans het gestop en geglimlag.  Hulle het begin gesels en die evangelie met die Mormone gedeel.  Dever het vir die man gesê:  ‘Julle glo God was nie altyd so nie, maar het so geword.  God het mens geword, sodat ons gode kan word.’  Die man was beïndruk dat Dever iets van hulle godsdiens geweet het.  Dever het verder gesê:  ‘Weet jy dat die Skrif ook praat van mense wat soos God sal word?’  Nou was die man regtig beïndruk.  ‘Ja,’ het Dever gesê, ‘Satan het vir Eva gesê:  julle sal soos God word.  Julle hele teologie is gebou op Satan se leuen in Genesis 3:5.’

 

Dit is nie net Mormone wat dít glo nie.  Duisende Christene onderskei nie tussen die God van die Bybel en die goue kalf op TBN nie.  Kenneth Copeland het vir ‘n gehoor gesê:  ‘You’re all god.  You don’t have a God living in you; you are one!  You are part and parcel of God.’[9]  Copeland en sy ‘clan’ het ‘n goue kalf in mense se harte gebou.  Mag die Heilige Gees ons bewaar dat ons nie hiervoor of vir enige ander wanvoorstelling van God sal val nie, maar net die God van die Bybel sal aanbid.

[1] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.46

[2] Die Hebreeus vir ‘speel’ is ‘n versagtende woord vir seksuele aktiwiteit (Genesis 26:8, 1 Korintiërs 10:7-8).

[3] Strange Fire, pp.60-66, 264-265, n.4

[4] The Sermon on the Mount, p.70

[5] Iain Murray, Jonathan Edwards:  A New Biography, xxi

[6] John Currid, A Study Commentary on Exodus: vol.2, pp.284-285

[7] J.I. Packer, Knowing God, p.176 (vry vertaal).

[8] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.21-22

[9] John MacArthur, Strange Fire, p.11