Die voorbeeldige Christen

Following Jesus

Ken jy Christene van wie jy dink: ‘Ek wil soos hulle wees’?  Ek het dié week met ‘n vriend gepraat wat my van so iemand vertel het.  Die man is 83 jaar oud.  My vriend sê:  ‘Ons verskil oor baie dinge, maar ek sit hom agterna en wil graag ‘n vriendkap met hom hê.  Hy is só ‘n Godvresende man.  Ek wil by hom leer.’  Wat my vriend gesê het is presies wat 1 Korintiërs 16:15-24 sê ons moet doen.

 

Sy diensbaarheid (v.15-18)

In 1641 het Richard Baxter die leraar geword van ‘n kerk in Kidderminster, Engeland. Die dorp was goddeloos toe hy daar aankom.  Oor ‘n tydperk van 17 jaar het hy twee dae per week van huis tot huis gegaan, en elke gesin vir ‘n uur lank Bybel-vrae en antwoorde geleer (die kategisme).

 

Die kerk het so gegroei dat hulle vyf gallerye moes aanbou. Toe Baxter uit Kidderminster weg is, was daar uit 800 gesinne skaars een wat nié huisgodsdiens gehou het nie.  Uit die 600 mense wat in sy tyd lidmate geword het, het hy gesê daar was maar ‘n dosyn oor wie se opregtheid hy getwyfel het.[1]  Net soos die mense in v.15-18, was Baxter se lewe ‘n voorbeeld van Christelike diensbaarheid.

 

Paulus het gesê die Korintiërs moet onderdanig wees en respek hê vir sy diensbare medewerkers (v.15-16). Die kerk het geweet dat Stefanas en sy huisgesin die eerste bekeerlinge in die Achaje-provinsie was (v.15, 1:16).  Die Korintiërs moes hom en sy gesin respekteer en nie verag nie.  Hierdie gesin het hulleself hart en siel daaraan gewy om die heiliges in Jerusalem en Korinte te dien (v.15, 1-2).  Hulle het nie hulle eie eer of ‘n leiersposisie gesoek nie, maar wou eenvoudig diensbaar wees.  Hulle het waarlik in liefde gedien (v.14).  Die gemeente moes mense eer wat só gedien het en hard gewerk het tot op die punt van uitputting (v.16, Gk. kopiaō).  Paulus wou nie hê die Korintiërs moes ‘n ophef maak van predikers soos hy of Apollos nie (hfst.1), maar hulle moes almal eer wat getrou gedien het (v.16).

 

Paulus was baie bly oor die koms van Stefanas, Fortunatus, en Achaicus (v.17). Hierdie broers het seker gekom om gemeentenuus met hom te deel, en het heel moontlik die brief van 7:1 aan hom afgelewer.  Dit blyk dat hulle ook uit liefde gekom het om hom te bemoedig.  Hierdie broers se besoek het opgemaak vir die Korintiërs se afwesigheid – hulle het die hele kerk verteenwoordig (v.17, Filippense 2:30, Filemon 13).  Hulle besoek, geestelike gemeenskap, gemeente nuus het vir Paulus verfris soos koue water op ‘n bloedige dag (v.18, Romeine 15:32, Filemon 7, 20, Spreuke 25:25, 2 Korintiërs 7:13).  Hierdie broers se getroue diens het ook die Korintiër-Christene verfris (v.15, 18).

 

Hierdie is die tipe mense vir wie ons erkenning moet gee (v.18, Filippense 2:29). Gee erkenning deur hulle finansieel te vergoed, geskenke vir hulle te gee, briewe van bemoediging te skryf, of deur net dankie te sê.

 

Wees diensbaar. Voordat jy ander reg kan dien moet jy jouself verloën en Jesus volg (v.15).  Jesus het gesê:  “elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.  En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees” (Matteus 20:26-27).  Die ongelowige wil gedien word:  “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen” (Matteus 20:25).  Die ongelowige wat wel dien, doen dit nie vir God nie, maar uit vrees vir straf of uit ‘n begeerte om gesien te word.  Hoe kan ‘n mens reg dien?

 

[1] Dien met ‘n gewillige hart, en nie om erken te word nie (natuurlik moet ons dié wat reg dien erken, maar om erken te word moenie jou motief wees nie).

 

[2] Wees bereid om hard te werk, want om met mense te werk is uitputtend (v.15).

 

[3] Dien met blydskap. Dink aan God se vreugde en ander se voordeel eerder as aan jou eie (v.15-18).  As jy so dien sal jy outomaties self bevoordeel word en bly wees.  Jou vreugde lê in God se vreugde en ander s’n.

 

[4] Moenie dink dit is net die ouderlinge se werk om te dien nie. Hoe sal jý dien in 2016?  Wat doen jy goed en geniet jy om te doen?  Waarvan sê ander:  ‘Jy doen dit goed?’  Gebed vir ander?  Finansiële bydraes?  Sang en musiek?  Rekenaars?  Klank?  Behulpsaamheid?  Skryf?  Versorging van siekes?  Organisering?  Kuns?  Kinders of babas oppas?  Mense vriendelik groet?  Administrasie?  Leierskap?  Kook?  D.I.Y.?  Armsorg?  Sendelinge ondersteun en bemoedig?  Evangelisasie?  Berading?  Enigiets anders?

 

Gebruik jou gawe om te dien. Moet ook nie vergeet om dankie te sê vir die mense wat so dien nie.  Hoekom moet jy diensbaar wees?  Want Jesus is so:  “die Seun van die mens [het] nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Matteus 20:28).  Wees soos Hy:  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Johannes 2:6).

 

Sy vriendelikheid (v.19-21)

In 2016 groet ons mekaar so in die straat: ‘Goeie dag.  Hoe gaan dit?  Goed dankie.  Dis goed om jou weer te sien.  Sê groete by die huis.’  In die eerste eeu het Christene mekaar so gegroet:  ‘Hoe gaan dit?  Hoe gaan dit met die situasie by die werk?  Is jou oom gesond?  En sy vrou?  Wat het toe met jou seun se siekte gebeur – ek bid nog gereeld daarvoor.  Wanneer laas het jy gehoor van jou pa in Spanje?  Vir hoe lank is julle in die stad?  Kom bly sommer vir die week by ons.’  Die lys van groete in Paulus se briewe is dus meer as net ‘n formaliteit.  Dit is ‘n egte belangstelling in ander mense se lewens.

 

Paulus het die Korintiërs bemoedig deur te sê die kerke in Asië sê groete (v.19). Dit moes ‘n groot troos gewees het in ‘n wêreld met min gelowiges.  Die Korintiërs het waarskynlik die Christene in hierdie kerke geken (net soos wat ons Baptiste uit ander gemeentes ken).

 

Aquila en Prisca (Priscilla) uit die kerk in Efese, asook die kerk wat in hulle huis byeengekom het, het hartlike groete gesê in die Here (v.19). Die Korintiërs het hierdie twee mense geken as gawe Christene wat vir Paulus in Korinte gehuisves het.  Hulle het intussen Efese toe getrek en hulle huis vir gemeentelike samekomste oopgestel (v.19, Handelinge 18:1-3, 18-19, Romeine 16:5).  Paulus nie net:  ‘Erken goeie dienaars nie,’ (v.18), maar hy doen dit self (v.19).

 

Al die broers wat saam met Paulus was het ook groete laat weet (v.20). Hy het gevra hulle moet dieselfde doen en mekaar met ‘n heilige soen groet (v.20).  Ons weet natuurlik dat hierdie die Midde-Oosterse soen op beide wange was:  mans het mans gesoen, en vroue het vroue gesoen.  Paulus praat van ‘n heilige soen om te wys dit is nie immoreel nie.  Hierdie vriendelike manier van groet sou die eenheid in die gemeente versterk (1:10-12).  Paulus het die voorbeeld gestel en self die gemeente gegroet (v.21).  ‘n Sekretaris het die brief namens hom geskryf (Romeine 16:22).  Hy het die slot met sy eie hand geskryf (v.21, 2 Tessalonisense 3:17).  Dit sou wys dat die brief regtig van hom af kom, maar dit sou ook wys dat die brief persoonlik is.

 

Wees vriendelik met mekaar en stel belang in mekaar se lewens. Pasop dat die wêreld se individualisme jou nie intrek, sodat jy van ander vergeet nie.  Pasop ook dat jy nie so besig is, dat jy nie tyd het vir ander nie.

 

Moet mekaar nie net oppervlakkig groet nie, maar stel belang in ander se lewens. Vra oor hulle welvaart en geestelike welstand.  Vra of jy vir iets kan bid en wees sensitief vir ander se pyn en lyding.  Bel die persoon as jy sien hy of sy lyk af.  Gaan kuier by die persoon.  Wees egter versigtig dat jy nie skinder nie.  Pasop ook dat jy nie op hierdie manier ‘n emosionele band vorm met iemand van die teenoorgestelde geslag nie.  Moet ook nie ander se geheime uitlap nie (behalwe as dit ‘n Matteus 18:16-17 geval is).  As jy mense se geheime uitlap sal hulle nie weer met jou praat nie, en verbrou jy ook die kans om vriende te wees.

 

Groet ander hartlik by die kerk. Wees bly om mekaar te sien.  Moenie net strak groet en gou gaan sit nie.  Gebruik die kans om mekaar te leer ken as ons na die diens tee drink, of as daar gemeente etes is.  Leer mekaar ken by Bybelstudies, die beradingklas, ens.  Stel belang in mekaar, sodat jy meer effektief kan bid en bedien.

 

Sy liefde (v.22-24)

‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het ek ‘n oom ontmoet wat boemelaars in sy huis inneem en vir hulle sorg. As ek hom bel en vra hoe dit gaan, praat hy altyd met opregte erns oor hoe goed die Here is.  ‘n Tyd terug het ek hom gebel vir raad oor iemand wat my skade aangedoen het.  Hy het sê:  ‘Gee hom nog ‘n kans.’  Hy het toe met trane vir die persoon se redding gebid.

 

Hy het my vertel hoe hy goed was vir ‘n boemelaar en vir hom gesorg het. Daarna het die ou leuens oor hom versprei en sy reputasie beskadig.  Hierdie man is soos Jesus, en het besluit hy gaan die persoon vergewe en weer in sy huis inneem en vir hom sorg.  Sy lewe is vir my ‘n voorbeeld van iemand wat Jesus en ander diep liefhet soos Paulus.  Hy is ‘n voorbeeld van iemand wat erns maak met Lukas 10:27:  “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”

 

Paulus wou hê die Korintiërs moet die Here Jesus liefhê (v.22). Iemand wat Hom nie liefhet nie, sal vervloek wees in die hel as Jesus weer kom (v.22).  Hoe kan jy Hom nie liefhê as Hy sy lewe en alles vir jou gegee het?  Paulus was lief vir Jesus en kon nie wag om Hom te sien nie (v.22).  Hy het dus gevra dat Jesus gou moes kom (v.22).  Tot dan het hy gebid dat Jesus se genade by die Korintiërs sou wees, sodat hulle die brief kon gehoorsaam en reg lewe (v.23).  Paulus het hulle van sy liefde verseker, al moes hy hard met hulle praat in die brief (v.24).

 

Let op dat hy vir almal lief was – ook dié wat vir hom probleme gegee het, asook hulle wat vir Apollos en Petrus bo hom verkies het (v.24, 1:12).  Paulus se liefde vir hulle was in Christus:  dit het gevloei uit Jesus se liefde vir hom en sy liefde vir Jesus (v.24, 22, 1 Johannes 4:19).  Vir Paulus was Jesus alles.  Leon Morris sê:  ‘Paul’s last word to the Corinthians is Jesus.’[2]  Paulus sluit dan die brief af met ‘Amen’ (v.24).  Laat dit so wees.

 

Soos Paulus moet ons lief wees vir God en ons naaste. Hoe doen jy dit?  Begin by God.  Hy is liefde (1 Johannes 4:8).  Alle liefde begin by Hom.  Dink diep na oor sy Persoon en karakter (bv. Psalm 139, Jesaja 40).  Dink diep na oor hoe Hy sy liefde vir jou gewys het in die kruis (Johannes 3:16).  Dink na oor die hemel as ‘n wêreld van liefde (Openbaring 21-22).

 

God se liefde vir jou is soos die son wat in ‘n spieël skyn, sodat jou liefde vir Hom helder terug skyn. Sy liefde vir jou sal maak dat jy begeer om naby Hom te wees, net soos verliefdes mekaar se teenwoordigheid geniet.  Deur sy Gees sal Hy by en in jou wees (Johannes 14:23).  As jy vol is van die Gees, sal Hy maak dat jy God meer en meer liefhet (Galasiërs 5:22).

 

Jy sal sonde wíl los en niks wil doen wat Hom bedroef nie.  Jy sal Hom in alles wil gehoorsaam (Johannes 14:15).  Jou liefde vir Hom sal soos ‘n fontein in jou hart oorloop in strome van liefde vir jou naaste.  Jy sal jou naaste net wil goed doen (13:4-7, Romeine 13:8-10).

 

Hoekom moet jy so liefhê? God het jou hiervoor geskep.  Soos wat ‘n vis in die see lewe en voëls in die lug, moet God se liefde die atmosfeer wees waarin jy lewe.  Jou grootste vreugde lê hierin.  ‘What should delight the smell, but odours? or the appetite, but its delicious food? or the eye, but light, and what it showeth? and the ear, but harmony? And what should delight the soul, but God?’ (Richard Baxter).[3]

 

Jesus het nie sy lewe gegee vir die duiwel nie, maar vir sondaars. As jy Hom nie liefhet nie, is jy erger as die duiwel.

 

Alta is ‘n enkel ma met twee dogters in die laerskool. Sy het alewig mans wat by haar huis oorslaap.  Sy drink, gebruik dwelms, vloek, skinder, jok, en steel.  Na ‘n paar jaar begin beide dogters hulle ma se voorbeeld volg.  Toe sy met hulle baklei, het hulle gesê:  ‘Maar ma doen dit.’

 

Sal jy wil hê jou kinders en ander gelowiges moet die voorbeeld van jou lewe volg? Is jou lewe ‘n illustrasie van wat dit beteken om ‘n voorbeeldige Christen te wees?  Indien nie, kan God dit verander net soos wat Hy Paulus se lewe verander het:  2016 hoef mos nie dieselfde te wees as 2015 nie.

[1] Joel Beeke, Randall Pederson, Meet the Puritans, pp.62-64

[2] Tyndale New Testament Commentaries: 1 Corinthians, p.244

[3] The Practical Works of Richard Baxter, vol.1: A Christian Directory, p.124

Advertisements

Christen-wees in 2016

Man up

As ons kinders se lewens soos ‘n wipplank is, het ons in die 21ste eeu die wipplank aan die eenkant te swaar gelaai. Aan die ander kant het ons ‘n emmer vol droë blare gesit, en gehoop dit sal die wipplank uitbalanseer.  Ons sit baie tyd en geld in, sodat ons kinders eendag die mooiste, slimste, beste, en rykste kan wees.  Ons het tieners wat hoofleiers word, beurse kry, rye balkies het wat aan die vloer raak, populêr is, en ingeneurs word.  Maar wanneer dit by karakter kom is ons kinders soos iemand wat ly aan bloedarmoede.  Dit is van ‘n myl af sigbaar dat karakter nie die sterkpunt is van tieners in die 21ste eeu nie.

 

Dieselfde is waar van moderne Christene. Waar is die Christene wat geestelik volwasse, dapper, en volhardend is?  Die Christene wat ‘n goeie fondasie van Bybelse teologie onder hulle voete het, wat nie mense vrees nie maar hulle diep liefhet en vir hulle omgee?  Die Christene wat manne en vroue van gebed is, nederig en geduldig is?  Sal jy in 2016 so ‘n Christen word en dit aan die volgende geslag oordra?

 

Wees waaksaam

Charles Simeon was ‘n Britse prediker in 18de en 19de eeu. Hy het eenkeer in ‘n preek vertel van ‘n man wat ‘n lighuis moes beman, en aan die slaap geraak het.  Hy het beskryf hoe die skip gesink het, die verminkte lyke op die strand gelê het, en hoe huilende weduwees op die strand gestaan het.  Toe die mense navraag doen, het hulle uitgevind dat die man in die lighuis aan die slaap geraak het.  Dertig jaar na die preek het ‘n man beskryf hoe Simeon se stem deur die saal ge-eggo het:  ‘Asleep!’  Die man het vertel hoe Simeon se woorde ingesink het by almal wat daar was.[1]  Moenie geestelik aan die slaap raak nie.  Wees waaksaam.

 

In 1 Korintiërs 16:13-14 gee Paulus vyf opdragte wat die hele brief opsom. Elke opdrag staan in ‘n voortdurende bevelsvorm:  ons moet aanhoudend hierdie opdragte uitvoer.  Heel eerste beveel hy geestelike waaksaamheid (v.13).  Waak en bid teen versoeking (Kolossense 4:2, Matteus 26:41).  Waak teen Satan (1 Petrus 5:8).  Waak teen vals lering (Handelinge 20:31, 2 Korintiërs 11:14).  Waak en wees gereed vir die wederkoms (15:52, Openbaring 16:15).

 

Wees waaksaam. Moenie geestelik slaap, laks, of lui wees nie.  Die Skrif sê:

 

  • “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.” (15:34).
  • “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.” (1 Tessalonisense 5:6-7).
  • “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.” (Romeine 13:11).
  • “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” (Efesiërs 5:14).
  • “Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie.” (Openbaring 3:2).

 

Hoe lyk iemand wat geestelik aan die slaap is?

 

[1] So iemand speel met sonde, regverdig en verskoon dit, beskuldig ander, rasionaliseer asof dit nie so erg is nie, probeer sy of haar sonde wegsteek. So ‘n persoon is bang dat mense sleg van hulle dink.  Gevolglik verdedig hulle hulself sonder dat enigiemand hulle aangekla het.

 

[2] So iemand vind nie meer vreugde in Bybelstudie en gebed nie. Hierdie dinge word vir hulle ‘n plig.  Hulle eer God met hulle lippe, maar hulle hart is ver van Hom af.  Hulle skeep hulle stiltetyd af, en los dit later heeltemal.

 

[3] Hulle bly al hoe meer van eredienste af weg, want die Woord en die nagmaal laat hulle skuldig voel.

 

[4] Hulle raak meer en meer materialisties. Hulle leef vir hierdie wêreld, want hulle het vergeet van die volgende.

 

[5] Hulle geniet die wêreld en sy dinge. Hulle kyk films wat hulle nooit sou kyk nie.  Hulle luister na en vertel grappe wat hulle voorheen gewalg het.  Hulle doen dinge wat hulle nooit gedoen het nie:  rook, te veel drink, vloek.

 

[6] Hulle harte is koud as hulle sing. Hulle sing die woorde soos ‘n pappegaai, en dagdroom terwyl hulle sing.

 

Is jy so? Die Vader wag met verlange dat jy terugkeer.  Bely en erken jy het van die Here af weggedwaal (1 Johannes 1:9, Jakobus 4:8-10, Spreuke 28:13).  Begin om weer reg te doen (Openbaring 2:4-5, 3:3).  Vra dat ‘n volwasse Christen jou aanspreeklik hou.  Breek met die vriende wat jou weggerokkel het.  Moenie net ‘n toeskouer in die kerk wees nie, maar dien en raak betrokke.  Hou aan om reg te doen, al voel jy nie die vuur in jou hart nie.  Bid vir die vuur en wag op die Here.

 

Dalk is jy nie op ‘n dwaalweg nie.  Moenie dink jy sal nooit afdwaal nie (10:12).  Onthou vir Petrus en Dawid!  Onthou:  die duiwel vat nie vakansie nie en hy slaap nie.  Wees waaksaam.

 

Wees standvastig

Was jy al ooit by ‘n kinderpartytjie waar die ouers vir hulle kind ‘n springkasteel gehuur het? Het jou kind al seergekry, sodat jy op die springkasteel moes klim.  Hoe het dit gevoel om daarop te loop?  Het jou bene gebewe soos jellie?  So is party mense in die Skrif.  God wil hê ons moet rotsvas staan, en nie wankel nie (v.13).

 

Die Korintiërs moes vasstaan in die geloof en nie wankel nie (v.13, 15:1-4).  Paulus praat nie hier van persoonlike geloof nie, maar van die geloof – die Christelike geloof soos vervat in die Skrif (vgl. Judas 3).  Sy bedoeling is letterlik:  ‘staan vas in die Woord’.  Hoe doen jy dit?

 

[1] Vermeerder die kwaliteit en kwantiteit van jou Skrif-inname in 2016.

 

[2] Word ‘n leser van goeie en gesonde Christelike boeke. Tot aan die einde van sy lewe nog wou Paulus lees (2 Timoteus 4:13).  Natuurlik kan jy nie enige ‘Christelike’ boeke lees nie.  Bestel vir jou boeke by Good Neighbours in Randburg, Christian Book Discounters landwyd, of Augustine Bookroom in Pretoria.  Lees John Bunyan, Thomas Brooks, Thomas Watson, John Flavel, Richard Sibbes en ander Puriteine!

 

[3] Lees Charles Spurgeon se preke. Laai goeie preke af by www.gty.org

 

[4] Kry vir jou ‘n opsomming van die groot Bybel-leerstellings: die 1689 Baptiste Geloofsbelydenis of die Westminster Kategisme.  As jy dieper wil delf kan jy vir jou Wayne Grudem se Systematic Theology kry.  Dis eenvoudig geskryf en het praktiese toepassings aan die einde van elke hoofstuk.

 

[5] Lees die kerkgeskiedenis om te sien hoe Christene deur die eeue die Skrif verstaan het. N.R. Needham se 3 volumes, 2000 Years of Christ’s Power is baie maklik en lekker om te lees.

 

[6] Toets jou gedagtes teen ander Christene, en deel wat jy in die Skrif leer. Leer by ander.  Moet egter nie soos ‘n parasiet op hulle studie en kennis teer nie, maar lees en ondersoek die Skrif vir jouself.

 

Neem jou voor om alles in die Skrif te glo, al verstaan jy dit nie. Moenie sê:  ‘Hierdie verse maak nie sin nie; daar is seker ‘n fout in die Bybel’ nie.  Sê eerder:  ‘Die Skrif is perfek.  Ek verstaan dit nie want ek is swak en blind.’

 

As jy nie groei in die Skrif en onder die gereelde prediking van die Woord nie, sal jy soos ‘n golf deur die wind gedryf word: jy sal twyfel en wankel (2 Petrus 3:17-18, Efesiërs 4:11-14).  As jy staan vir niks sal jy val vir alles.  Iemand wat so is val maklik vir vals lering, skuif gereeld kerke, en spring alewig rond tussen leerstellings (dán glo hulle jy kan jou redding verloor, dán glo hulle jy kan nie, dán glo hulle jy kan, dán glo hulle weer jy kan nie).  Hierdie mense se teologie verander soos Kaapstad se weer.

 

Wees manlik

Ek het vanjaar vir my kinders geskiedenis geleer. Daar is ‘n groot verskil tussen manlikheid in die 1800’s en manlikheid vandag.  Vandag is ‘n man iemand wat op 15 rook, vieslik vloek en drink, model hare en klere dra, goed gebou is.  In die 1800’s was ‘n man iemand wat op 14 ‘n mensvreter leeu doodgeskiet het, diep Christelik was en sy gesin in die Woord gelei het, bereid was om te sterf eerder as wat hy vir die vyand gesê het waar sy pa is, vroue met respek hanteer het.  Die Bybel vra ons moet so wees – ook op ‘n geestelike vlak (v.13).

 

Die Korintiërs moes manlik wees (v.13). Dit beteken nie vroue moes nie vroulik wees nie.  Dit beteken eerder dat Christene nie lafharte moet wees nie, maar dapper (vgl. 1 Konings 2:2-3, 1 Samuel 4:9, 2 Samuel 10:12).  Ons moenie kinders wees in ons denke nie (3:1, 14:20).  Word groot (13:10), of ‘man up’ soos hulle in Amerika sê.  Hoe doen jy dit?

 

[1] Moenie ‘n bangbroek wees wat weghardloop vir jou vyand, of in jou dop kruip as jy teenstand en kritiek kry nie.

 

[2] Moenie tou opgooi of gou opgee as die taak vir jou te moeilik lyk nie.

 

[3] Werk hard. Moenie denkbeeldige gevare vrees nie.  “Die luiaard sê:  Daar is ‘n leeu op die pad, ‘n leeu op die pleine.” (Spreuke 26:13).

 

[4] Wees ‘n ‘man’ wat besluite kan neem en nie rondval nie; wat jou gesin geestelik kan lei; wat jou rebelse kind kan tug en nie jouself bejammer nie; wat nie jou stukkende huwelik op die rotse los en skei nie, maar die wa deur die drif trek; wat nie soos ‘n papbroek passief rondsit nie, maar aksie neem; wat nie ander beskuldig nie, maar jou pak vat soos ‘n ‘man’ en dan jou probleme oplos; wat nie die waarheid kompromeer omdat jy nie wil aanstoot gee nie; wat nie bang is om die evangelie te deel nie.

 

Om dit reg te kry, sal dit help as jy lees van die Bybel-helde en dapper Christene in die geskiedenis. Lees van Abraham wat ‘n hele weermag aangevat het met 318 man, van Nehemia wat die stadsmuur binne 52 dae herbou het terwyl sy vyande hom gedreig het, van Rut wat nie toegelaat het dat min geld of haar weduweeskap haar onderkry nie, van jong Dawid wat ‘n reus aangevat het, van Dawid se dapper soldate wat leeus en reuse doodgemaak het, van Paulus wat aangehou het om te preek ten spyte van opposisie en vervolging, van Jesus wat die aaklige kruis verduur het om ons te red.

 

Maak vriende met mense wat so is. Leer uit hulle voorbeeld.  Onthou dat God in al hierdie dinge met jou is.  Jy kan dus dapper en manlik wees sonder om bang te wees.  “Het Ek jou nie beveel nie:  Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” (Josua 1:9).

 

Wees sterk

Kom saam met my na die museum van geestelike groei toe. Voor jou is ‘n prent van Christene in 17de eeu Engeland.  Party sit op kerkbanke.  ‘n Horlosie teen die muur wys hulle sit reeds vir twee ure en luister aandagtig na ‘n diep preek.  Ander leer die kategisme.  Ander sit as gesin om ‘n groot tafel met ‘n swaar Bybel waar hulle huisgodsdiens hou.  ‘n Man stap in die veld waar hy bid en die Skrif oordink.  ‘n Paar vroue staan in die mark waar hulle die evangelie met ongelowiges deel.

 

‘n Paar gange verder is daar ‘n prent van westerse Christene in die 21ste eeu. Party lees ‘n oulike Whatsapp met ‘n morele les.  ‘n Man sit voor sy rekenaar en lees gou ‘n kort dagstukkie met ‘n gebed onderaan voordat hy sy besige dag begin.  ‘n Naskool tannie sit met ‘n kind om die tafel en leer vir hom ‘n rympie gebed:  sy ouers is te besig om vir hom die Bybel te leer.  Party mense sit in ‘n kerkgebou en glimlag aan die einde van ‘n 10-minute motiverende prekie.  Ander mense staan in ‘n donker saal en sing vir ‘n uur totdat hulle lekker voel.  Ander gee R5 vir ‘n bedelaar, maar deel nie die evangelie met hom nie.

 

God wil nie hê ons moet swak wees nie. Hy wil hê ons moet geestelik sterk word (v.13, 8:7-12).  Die Grieks vir ‘wees sterk’ staan in ‘n passief en beteken letterlik:  word sterk gemaak (deur God).  Paulus bid elders “dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efesiërs 3:16).  Hy sê ook:  “word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.” (Efesiërs 6:10).  Vir Timoteus sê hy:  “Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is” (2 Timoteus 2:1).  Manlikheid en krag is soos Dawid en Jonatan wat nie geskei kan word nie.

 

Wees geestelik sterk. Maak gebruik van die genademiddele om geestelik sterk te word:  die Skrif, gebed, die nagmaal, die doop, geestelike gemeenskap, die geestelike gawes, evangelisasie, kerktug, bydraes vir die Here se werk, ander mense se diensbaarheid en gebede.

 

Geestelik kan jy nie altyd in gr.1 bly nie; jy moet probeer om jou matriek te kry. Moet egter nie daarmee tevrede wees nie.  Werk vir ‘n geestelike BA, MA, en PhD.  Hou aan groei totdat Jesus kom (Hebreërs 5:12-6:2).  Leer soveel as wat jy kan deur die Bybel, asook goeie preke, boeke, en konferensies.  Gehoorsaam wat jy in die Woord leer.  Maak vriende met mense wat geestelik sterk is en leer by hulle.  As jy geestelik swak is sal jy makliker val vir versoeking, en sal jy sukkel om kop bo water te hou in beproewing.  Jy sal ook makliker val vir vals lering.

 

Wees liefdevol

‘n Teelepel suiker in jou tee deurtrek dit sodat alles soet proe. Net so moet liefde jou hele lewe soet maak en alles wat jy doen en sê beïnvloed.  Dit is die les in v.14.

 

Om sterk en manlik te wees beteken nie jy moet hard wees nie. Ons moet v.13 en alles in liefde doen (v.14, hfst.13, 14:1).  As ons mekaar liefhet sal ons die eenheid bevorder (1:10-12), ons gawes gebruik om mekaar op te bou (hfst.12-14), mekaar in ag neem wanneer dit by grys areas kom (hfst.8-10), nie skei nie maar die huwelik respekteer (hfst.7), nie immoreel wees nie (hfst.6), nie ander gelowiges hof toe sleep nie (hfst.6), gelowiges dissiplineer (hfst.5), mekaar in ag neem by die nagmaaltafel (hfst.11).

 

Doen alles uit liefde vir God en jou naaste, en nie uit ‘n begeerte om gesien of geprys te word nie. Hoe doen ‘n mens dit?

 

[1] Moenie wag vir ‘n gevoel van liefde nie. Doen wat 13:4-7 sê; doen praktiese dade van liefde (1 Johannes 3:16-17).

 

[2] Dink oor hoe groot jou sonde is, en oor hoe groot God se liefde is wat Hy aan die kruis bewys het. Reageer dan in liefde.  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Johannes 4:19).

 

[3] Wees naby mense wat liefdevol is, sodat dit aan jou kan afsmeer soos sterk parfuum aan jou klere afsmeer as iemand vir jou ‘n drukkie gee.

 

[4] Bid hiervoor en word gevul met die Heilige Gees, want die vrug van die Gees is liefde (Efesiërs 3:18, Filippense 1:9, Galasiërs 5:22).

 

[5] Sorg dat jy liefde reg verstaan. Liefde bestaan nie in woorde nie, maar in dade (1 Johannes 3:18).  Moet dan nie oor jou liefde vir ander roem as jy hulle skade aandoen en teen hulle sondig nie.  Dit beteken egter nie dat liefde nooit iets negatief sê nie.  Liefde sal juis sonde uitwys om die verlore skaap van sy dwaalweg af terug te bring.

 

Iemand wat alles in liefde doen is die meeste soos Jesus.

 

Geskiedkundiges sê soms: ‘As daar een ding is wat ons uit die geskiedenis leer, is dit dat ons nie uit die geskiedenis leer nie.’  Laat dit nie waar wees van jou lewe in 2015 nie.  Leer uit jou en ander se foute.  Leer uit die dinge wat jy en ander reg gedoen het.  Laat dit jou aanspoor om beter te doen in 2016, om ‘n 1 Korintiërs 16:13-14 tipe Christen te wees in die nuwe jaar en totdat Jesus kom.

[1] John Piper, Audio-biografie oor die lewe van Charles Simeon – beskikbaar by www.desiringGod.org

’n Voorbeeld van goeie rentmeesterskap

Stacking coins

Tiaan se baas gaan vir ses maande oorsee. Hy gee vir Tiaan R1 miljoen om die plaas se water en ligte te betaal, chloor en suur te koop vir die swembad, perdekos te koop, die plaaswerkers te betaal, gif te koop vir die mielies, en diesel vir die trekkers.  Tiaan voel ryk met R1 miljoen in sy kluis.  Die waarheid is dat hy net ‘n rentmeester is wat iemand anders se geld moet bestuur.

 

So ook is jy net ‘n rentmeester van die tyd, geld, huis, en verhoudings wat God aan jou toevertrou het.  In 1 Korintiërs 16:1-12 het ons ‘n voorbeeld van hoe om hierdie dinge goed en tot eer van God te bestuur.

 

Geld (v.1-4)

Toe ek in Nelspruit gebly het, moes ek eenkeer tandarts toe gaan. Hy het in ‘n kwaai stem vir my gesê:  ‘Julle jong mense is penny wise, pound foolish.’  Sy bedoeling was:  julle spaar baie sente deur nie gereeld die tandarts te besoek nie, en as jy dan móét gaan, kos dit hope meer sente as wat jy gespaar het.

 

Ook in die geestelike realm kan ons so wees: ons het baie skatte op die aarde, maar niks in die hemel nie.  As jy regtig ‘n goeie rentmeester van God se geld wil wees, moet jy nie net hier-en-nou slim werk nie.  Gebruik ook jou geld om vir jou skatte weg te lê in die hemel.  Hoe doen jy dit?  Dra by op die regte plek en op die regte manier.  Paulus wys vir ons hoe in v.1-4.

 

Die Korintiërs het vir Paulus ‘n brief geskryf (7:1, 25, 8:1, 12:1). Hulle het onder andere gevra oor die finansiële bydae vir die arm gelowiges in Jerusalem (v.1).  In 2 Korintiërs 8-9 het Paulus weer hieroor geskryf.  Die Christene in Jerusalem was arm omdat hulle hul huise verkoop het, verstrooi is deur die vervolging, en ‘n kwaai hongersnood moes deurmaak (Handelinge 4:34, 8:1, 11:28).  Paulus het ‘n bydae gevra van die kerke in die Galasië, Macedonië en Achaje provinsies.  Indien nodig, sou hy self saam met die afgevaardigdes gereis het om die geld af te lewer (v.4).

 

Wees ‘n goeie rentmeester van God se geld. Sorg vir jou gesin, en moenie geld mors, jaag, daaroor stres, of lui wees nie.  Ek wil egter op een area fokus:  jou bydrae vir die Here se werk.  In v.2-3 gee Paulus vyf tydlose lesse hieroor.

 

[1] Gee elke Sondag as die gelowiges byeenkom (v.2). As jy op dié manier gee, is dit nie onder die emosionele druk van die situasie nie.  Ook bly jy in ‘n goeie gewoonte om te gee.  Om weekliks by te dra is slim, omdat jy nie op een slag baie hoef uit te gee nie (volgens 2 Kor.8:10 het die Korintiërs vir ‘n hele jaar lank gespaar).  As jy weekliks bydra, leer jy om gereeld te gee, en nie net as jy ‘gelei’ of lus voel nie (2 Korintiërs 9:7).

 

[2] Almal moet iets gee (v.2).  Ja, ons verwag nie dat arm mense moet gee nie.  Tog sal selfs die arm persoon wat vir God en sy naaste lief is, wil gee (1 Johannes 3:16-18, 2 Korintiërs 8:1-5).

 

[3] Gee vrywillig volgens jou salaris en nie volgens ‘n tiende wet nie (v.2). God dwing of boelie jou nie om te gee nie.  Ons kerk se leiers kollekteer nie by mense se huise nie.  Ons kyk nie wie gee wat nie.  Party mense gee R20; ander gee R10 000.  Die vrywillige bydrae impliseer ons gee nie net as ons iets kan terugkry nie (bv. ‘n jaffel, vetkoek, koeksister, kerrie en rys, of pannekoek by ‘n basaar).  Nêrens in die Nuwe Testament het kerke basaars gehou om geld in te samel nie.  Die kerk het nie op ongelowiges gesteun om kos te koop by ‘n basaar, net omdat die gelowiges traag was om by te dra nie.

 

[4] Gee vir ‘n spesifieke doel (Romeine 15:26). Ons finansiële state wys hoe en waarvoor die geld gebruik word:  salarisse, ondersteuning van sendelinge, armsorg, admininistrasie, die instandhouding van geboue.  As ons nie ‘n spesifieke doel het waarvoor ons gee nie, moet ons nie ‘n offergawe opneem nie.  Paulus self het gesê daar moenie ‘n insameling wees as hy kom nie (v.2).

 

[5] Wees betroubaar as jy met geld werk (v.3, 1 Timoteus 3:8). Paulus het gesê dat die Korintiërs mense moet afvaardig om die geld Jerusalem toe te vat.  Dit het hy gedoen om hulle te verseker dat hy nie die geld vir homself vat nie – hulle kan hom vertrou.  Hy wou hulle aanbeveling op skrif hê, sodat niemand later kon sê Paulus het sy vriende gekies, sodat hy van die geld kon kry nie (v.3).

 

Mense wat die offergawe opneem, die geld tel en bank, die boeke of internet betalings doen, moenie geldgierig wees nie. Die gemeente moet ‘n geruste hart hê oor dié wat die geld werk.  Paulus self wou “voorkom dat iemand ons sou belaster in verband met hierdie groot bydrae wat deur ons berei word.  Want ons bedink wat goed is nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.” (2 Korintiërs 8:20-21).

 

Tyd (v.5-9)

‘n Paar maande gelede het iemand ‘n Whatsapp gestuur met ‘n aanhaling van John Piper: ‘Een van die grootste voordele van Facebook en Twitter, is om op laaste Dag te bewys dat mense nie biddeloos was weens ‘n gebrek aan tyd nie.’[1]  Tyd is soos ‘n kosbare diamant wat ons moet oppas.  Paulus se lewe in v.5-9 is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat die tyd uitgekoop het.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy in Efese (v.8). Hy kon direk oor die see gevaar het Korinte toe.  Hy wou egter in ‘n hoefystervorm oor die land reis.  Hy wou deur Macedonië (Griekeland se noord-provinsie) reis om ‘n bydrae te kry in Tessalonika, Berea, en Filippi (v.5).  Daarna sou hy na Griekeland se suid-provinsie reis (Achaje) om die Korintiërs te sien (v.5).

 

Net soos met die geld (v.1-4), wou hy sy tyd goed spandeer. As dit God se wil was, sou hy die winter by hulle deurbring (v.6-7, Jakobus 4:15).  Hy wou die geld by hulle kry, hulle opbou, geestelike gemeenskap hou, beskikbaar wees ná die harde brief wat hulle van hom ontvang het, wag totdat die winter reënseisoen en storms op see verby was (v.6-7, Handelinge 20:1-3).  Dit lyk ook of hy sy Romeine-brief gedurende hierdie tyd geskryf het (Romeine 16:1, 23).

 

Paulus het gevra dat hulle hom op sy reis moes aanhelp – moontlik om ‘n skip te reël of reisgenote uit die gemeente met hom saam te stuur (v.6). Waarheen was hy oppad? Dalk Jerusalem toe (v.3-4).  Hy was onseker hoe die Here hom sou lei (v.6-7, vgl. Handelinge 20:3).  Paulus kon nie dadelik kom nie, maar sou tot en met Pinkster (einde Mei) in Efese bly (v.8).  Wou hy nog Jode bereik voordat hulle Jerusalem toe sou reis vir Pinkster?  Paulus het ‘n oop deur vir die evangelie gehad (v.9):  mense het luister en tot bekering gekom (Handelinge 14:27, 19:11, 20, Openbaring 3:8).  Paulus wou die kans gebruik voordat die deur toeklap (v.9, Handelinge 19:23).

 

Koop die tyd uit.[2]  Gebruik heel eerste jou tyd om gereed te kry vir die ewigheid:  “So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” (Johannes 12:36).  Tyd is ‘n klein skanier waaraan die groot swaar deur van die ewigheid hang.  Ons gee 13 jaar aan skool, 4 jaar aan universiteit, 35 om voor te berei vir aftrede.  Hoeveel tyd gee jy om jouself voor te berei vir die ewigheid?

 

Moenie jou kanse mors nie – veral nie as God naby jou is nie. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jesaja 55:6).  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Hebreërs 4:7).

 

Dink daaraan hoe mense op hulle sterfbeddens wens vir nóg tyd; hoe mense in die hel wens hulle het die tyd beter gebruik. Het jy jare van jou lewe gemors?  Stel dit dadelik reg:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.” (Psalm 119:60).  Moenie dink jy kan dit later regstel nie.  Hoe weet jy daar sal ‘n later wees?  “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” (Spreuke 27:1).

 

Wees veral versigtig vir die dinge wat jou tyd mors.

 

  • Sonde en Satan. Ons moet die tyd uitkoop, juis omdat die dae boos is (Efesiërs 5:16). As jy jou tyd mors en leeglê, sal die vyand vir jou iets vind om te doen.
  • Die dryf en begeerte na wêreldse dinge. Onthou dat die wêreld en alles daarin verbygaan (1 Johannes 2:16-17).
  • Luiheid. Moenie ledig rondsit nie.
  • Mense wat wil nonsens praat. Mense wat nie vorentoe beweeg nie, al spandeer jy ure aan hulle.
  • Dinge wat dringend is, maar nie noodwendig belangrik nie.
  • Verslawing aan tegnologie. Mense mors ure op die internet; op YouTube. Jy spring van een ‘link’ na die volgende. Ons mors ure op Facebook en Whatsapp. Voordat jy sien is 2 of 3 ure weg. TV steel ook tyd. Soms is daar niks op nie, maar ons spring deur die kanale. Playstation en X-Box kan ook ‘n hele of ‘n halwe dag steel – pasop.

 

Onthou: jy kan nie verlore tyd herwin soos wat jy verlore geld herwin nie.

 

Gasvryheid (v.10-11)

Ek het onlangs met ‘n vriend gepraat wat skuldig voel oor hulle nuwe huis met ‘n mooi tuin, baie kamers met dakwaaiers, ens. Dit is onnodig dat hy skuldig voel.  Volgens Filippense 4:11-13 kon Paulus teëspoed en voorspoed verduur deur Christus wat vir hom krag gee.  Hy kon teëspoed verduur sonder om te kla of angstig te wees.  Hy kon voorspoed geniet sonder om hoogmoedig te wees of af te dwaal.

 

Ek ken ‘n Christen man wat opsetlik ‘n groot huis gesoek het, omdat hy gasvry wou wees: ‘n groot sitkamer vir Bybelstudies, ‘n studeer kamer vir berading, kamers om weeskinders in te neem, ‘n groot onthaal area om vir 70 tot 80 gaste kos te gee, genoeg kamers omdat daar gedurig mense by hom oorgebly het.  Paulus self het ‘n huis gehuur en vriende gehuisves (vgl. Handelinge 28:30).  Nou het hy gevra dat die Korintiërs dieselfde moes doen vir Timoteus (v.10-11).

 

Paulus het solank vir Erastus en Timoteus vooruit gestuur om die kollekte af te haal (v.10, Handelinge 19:21-22). Timoteus het moontlik ook 1 Korintiërs vir die gemeente afgelewer.  Paulus wou hê die Korintiërs moes vir senuweeagtige Timoteus gerusstel (v.10, 2 Timoteus 1:7).  Hulle moes nie op hom neersien omdat hy jonk is nie (v.11, 1 Timoteus 4:12).  Hulle moes hom nie moedeloos maak met hulle sonde nie.  Hulle moes hom nie aanvat oor die harde woorde in Paulus se brief nie.  Hulle moes respek vir hom hê:  nie vir sy ouderdom nie, maar vir sy posisie (v.10, 1 Tessalonisense 5:11-12, 3:2, Hebreërs 13:7, 17, Filippense 2:20-22).  Hulle moes nie só optree dat hy wou vlug nie, maar moes hom in vrede aanhelp op sy reis (v.11, 6).  Paulus het hom terug verwag saam met die broers (v.11).  Die ‘broers’ van wie Paulus hier praat, verwys moontlik na broers uit Korinte wat die kerk se antwoord op sý brief (1 Korintiërs) moes bring.

 

Gebruik jou huis en bronne om gasvry wees. Hoe doen jy dit?

 

[1] Gee jouself voordat jy jou huis of kos gee. Laat jou gaste gemaklik en tuis voel (v.10).  Hulle moenie voel hulle is in die pad van jou besige skedule nie.  Jy moet gasvry wees sonder om daaroor te kla (1 Petrus 4:9).  Moet daarom nie gedurig onder jou gaste se voete skoonmaak, skottelgoed gaan was, e-posse antwoord, in die garage werk, dorp toe ry om goed te koop, op jou selfoon wees, stry en baklei, in jou kantoor sit, alleen staan en kook terwyl jou gaste sit en wag nie.

 

[2] Maak jou huis kinder-vriendelik voordat jou gaste opdaag. Kry vir die kinders iets om te doen; wees gaaf met hulle.  Mense voel maklik onwelkom as dit lyk asof hulle kinders vir jou ‘n las is.

 

[3] Wees gereed vir gaste op kort kennisgewing.

 

[4] Vra vir jou gaste of hulle vir iets allergies is; of daar iets is wat hulle nie eet nie.

 

[5] Kom in ‘n gewoonte om saam met jou gaste te bid voordat hulle ry.

 

[6] Ken die verskil tussen gasvryheid en vermaaklikheid. Jy hoef nie ryk te wees om gasvry te wees nie.  Gee vir jou gaste tee sonder koekies, sop en brood sonder nagereg.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Gesels met hulle.  Mense gee nie om vir groente as hulle lekker gekuier het nie.  ‘n Bord sop met liefde is beter as ‘n pot beesstert waar daar ‘n dik en ongemaklike atmosfeer is.  “Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.” (Spreuke 15:17).  “Beter is ‘n stuk droë brood en rus daarby as ‘n huis vol offermaaltye met getwis.” (Spreuke 17:1).

 

Hoekom moet ons gasvry wees? As ons gasvry is teenoor ander gelowiges, is ons gasvry teenoor die Here (Matteus 25:35, 40).

 

Verhoudings (v.12)

Tydens ons onlangse vakansie het ons by vriende gebly. My vriend het elke aand 6 of 7 oproepe gemaak om te hoor hoe dit gaan met predikante, ouderlinge, lidmate, en besoekers wat ‘n belang het in die gemeente.  Ek het hom daaroor gevra.  Hy het gesê dat geld nie die verhoudings wat hy só bou, kan koop nie.  Dit is die punt van v.12.  Ek staan beskaam deur sy voorbeeld.

 

In hulle brief aan Paulus het die Korintiërs gevra na die populêre Apollos (v.12, 1:12, Handelinge 18:27-28). Paulus was nederig, en het nie ‘n probleem gehad dat hulle Apollos bo hom verkies nie.  Hy het vir Apollos aangemoedig om saam met die broers Korinte toe te gaan (v.12).  Apollos wou nie dadelik gaan nie (v.12).  Dalk was dit om sy vrienskap met Paulus te bewaar, of om te keer dat die Korintiërs hom verafgod (1:12).  Dalk het hy ander take gehad om af te handel, of dalk het hy te min reisgeld gehad.

 

Bou aan jou verhouding met jou naaste, en pas dit op.

 

[1] Moenie ten koste van jou gesin verhoudings bou met ander nie.  Spandeer tyd met jou gesin.  Sit saam om die tafel en eet; moenie voor die TV sit nie.

 

[2] Bou vriendskappe in die kerk. Probeer om nie ‘n minuut voor die diens in te kom, en dadelik weer te ry as die kerk uitkom nie.  Drink saam tee en kuier saam.  Skakel in by ‘n Bybelstudie groep.  Bel mekaar en kuier by mekaar se huise.  Moenie dat preke op TV, die radio, die internet, of e-kerk die erediens of geestelike gemeenskap vervang nie.

 

[3] Moenie te veel maak van oppervlakkige Facebook vriendskappe, waar mense like druk as jy verjaar nie.

 

[4] Pasop vir selfone! Het jy al gesien hoe mense by mekaar kuier, maar almal sit op hulle fone en kuier met ander?

 

Om vriende te wen en vriendskappe te koester moet jy ander bo jouself stel (soos Paulus in v.12). God wil hê ons moet goeie vriende hê.  Dit is immers nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18).

 

Wat het toe met Tiaan gebeur? Na ses maande was die baas terug van sy oorsese reis.  Hy het die Maandag by die plaas aangekom, en dadelik gaan kyk na die toestand van sy plaaswerkers, perde, mielies, trekkers, en die swembad.  Hy het strokies gevra vir die water en ligte, salarisse, kos, gif, diesel, chloor en suur.  Alles was in orde.  Tiaan was betroubaar en het hom goed van sy taak gekwyt.  Die baas het die plaas en alles daarop aan Tiaan bemaak.  Ja, hy het dit vir hom gegee!

 

Wat sal jou Meester doen en sê oor hoe jy die tyd, geld, huise, besittings, en mense gebruik het wat Hy aan jou toevertrou het?

[1] Vry vertaal. Bron onbekend.

[2] Van die idees in my toepassing het ek gekry uit Jonathan Edwards, Works: vol.2, pp.233-236

God met ons

God with us

In Griekse mitologie het die gode soms die vorm aangeneem van reptiele, voëls, die skuim van die see, ens. Een aand was daar ‘n slang in die bed van Olympias, Filippus van Macedonië se vrou.  Kort daarna is Aleksander die Grote gebore.  Die Grieke het geglo dat die oppergod-Zeus in die vorm van ‘n slang gekom het om met Olympias te slaap.  Gevolglik het hulle gesê dat Aleksander nie Filippus se seun is nie, maar Zeus s’n.[1]

 

Op grond van sulke mites sê skeptici dat die maagdelike geboorte in die Skrif sy oorsprong kry by heidense godsdienste. Maar vir gode om egbreuk te pleeg of vroue te verkrag het niks te doen met die maagdelike geboorte nie.  Buitendien was Jesus ‘n geskiedkundige persoon en nie ‘n mitologiese figuur nie.

 

Die feit dat daar nagemaakte diamante is, beteken nie dat egte diamante nie bestaan nie. En die feit dat daar stories soos Matteus 1 is, beteken nie Matteus het die maagdelike geboorte opgemaak nie.  Sou ‘n Jood wat heidense gode soos die pes vermy het, hulle mites oorneem en ‘n slim storie opmaak?

 

Elke Christen weet in sy hart dat die Kersboodskap van Matteus 1:22-23 waar is: Jesus is Immanuel, God met ons.

 

Die vervulling van die profesie (v.22)

In my eerste jaar van studies moes ons vir Ou Testament ‘n taak doen oor Jesaja 7:14: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.’  Volgens ons dosent het die teks nie gegaan oor Jesus nie, en het hy verbied dat ons dit in die taak sê.

 

Nadat hy weg is het Danie Haasbroek eendag by ons kollege aangekom en gevra hy wil boekies uitgee wat wys dat Jesus oral in die Ou Testament is. Later het Haasbroek stand ingeneem teen die 2016 Afrikaanse vertaling wat Jesus uit Ou Testament weg vertaal.  Twee voorbeelde wys wat hy bedoel het.  In die Ou Vertaling van Psalm 45:7-8, 110:1 lees ons:

 

“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.  U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid.  Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle… Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

 

In die 2016 Afrikaase Vertaling staan daar:

 

“U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.  U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid.  Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u vriende… Die uitspraak van die Here vir my heer is:  ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak.’”

 

‘n Kollega was by een van die eerste vergaderings van die 2016 Vertaling. Hy het ons vertel hoe een van die vertaalspan se leiers erg geskop het teen Jesus in die Ou Testament.  ‘n Groep kerke het hierteen kapsie gemaak.  By een vergadering wat ek bygewoon het, het ‘n leier van die vertaalspan uitgevaar teen Jesus in die Ou Testament.

 

Maar Jesus self sê dat die Skrifte van Hom getuig, en praat van alles wat die wet, profete, en Psalms oor Hom sê (Johannes 5:39, Lukas 24:44). Matteus het dit geglo, en die maagdelike geboorte van Jesus gesien as die vervulling van Jesaja 7:14 (vgl. Matteus 1:22-23).[2]

 

Toe Maria aan Josef verloof was (voordat hulle getrou het en saam geslaap het), was sy swanger deur die werking van die Heilige Gees. Toe Josef sy voorgenome huwelik met haar wou verbreek, het ‘n engel in ‘n droom vir hom gesê:  ‘Maria is swanger deur die werking van die Heilige Gees.  Moenie bang wees om met haar te trou nie.  Noem die baba Jesus, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.’ (v.18-21).  Op hierdie wyse het God die profesie vervul wat Hy 700 jaar tevore deur Jesaja gemaak het (Jesaja 7:14, vgl. 2 Petrus 1:21).  Wat presies sê Jesaja 7 oor die Messias?

 

Die hoofstuk vertel van die bose koning Agas in Jerusalem. Om hom te straf het God vir koning Resin van Sirië en Peka van Samaria teen Jerusalem gestuur.  Hulle wou egter verder gaan as wat God beveel het.  Hulle wou Dawid se nageslag uit Jerusalem wegvat en hulle eie koning aanstel (Psalm 132:11-12).  Jesaja het met ‘n boodskap van God gekom vir Agas en die volk:  ‘Moenie hierdie twee konings vrees nie.  Hulle woede is soos stompe wat nie meer brand nie, maar net rook.  God sal julle vyande binne 65 jaar vernietig, sodat hulle nie meer soos ‘n seer tand pla nie.’

 

God wou hê Agas moes sy trooswoord deur Jesaja glo. Hy kon vir enige teken vra om die profesie te bevestig.  Agas wou egter die koning van Assirië se hulp hê, en nie God s’n nie.  Hy het geweier om ‘n teken te vra.  Jesaja het gesê:  ‘As jy nie vir ‘n teken wil vra nie, sal God self ‘n teken gee:  ‘n ongetroude jong vrou (‘n maagd) sal swanger word en ‘n baba seun baar.  Sy naam sal Immanuel wees:  God met ons.  Ja, God is inderdaad met sy volk, en daarom hoef Israel nie haar vyande te vrees nie.’

 

Die inhoud van die profesie (v.23)

Deur die eeue het mense baie eienaardige sienings oor Maria gehad:

 

  • Sy het nie erfsonde nie en is sondeloos gebore (‘immaculate conception’).
  • Sy het ‘n maagd gebly nadat sy getrou het. Selfs Protestante soos Calvyn, Zwingli, en Luther het dit geglo.[3]
  • Sy het uit die dood uit opgestaan en opgevaar hemel toe.
  • Sy het ‘n aandeel in ons redding (‘co-redemptrix’).
  • Sy tree vir ons in (‘mediatrix’). Bernard van Clairvaux het in die 12de eeu gesê: ‘If you are terrified by the thunders of the Father, go to Jesus. If you are afraid to go to Jesus, then run to Mary.’[4]
  • Party vereer haar in liede en met beelde. In die 14de eeu het die Russiese Ortodokse Kerk gesê dat ‘n sekere prent van Maria en Jesus wonderwerke gedoen het; dat dit Moskou drie keer teen buitelandse magte beskerm het.[5]
  • Baie kerke en kloosters sê dat hulle relics van Maria het. Calvyn het gespot oor die honderde kerke en kloosters wat sê hulle het van Maria se melk in ‘n bottel. ‘Daar is genoeg melk vir ‘n melkplaas, of om babas vir jou hele lewe lank te voed,’ het hy gesê. Mense in Aix-la-Chapelle [Aachen] het gesê dat hulle een van Maria se hemde het. Calvyn het gesê die hemp is so groot dat sy ‘n reus sou moes wees om dit te dra.[6]

 

‘n Mens kan verstaan dat Moslems dink die Drie-Eenheid bestaan uit die Vader, die Moeder, en die Seun.[7]  ‘n Mens kan ook verstaan hoekom party mense so vurig teen die Maria-kultus gereageer het.  Toe John Knox ‘n slaaf was op ‘n Franse skip, het die Katolieke bemanning ‘n Maria-beeld voor sy gesig gehou en gesê hy moet dit soen.  Hy het dit by hulle gevat en dit oorboord gegooi.[8]

 

Ons moet tog pasop dat ons nie maak of Maria sleg was nie. Sy is die mees bevoorregte vrou in die geskiedenis (Lukas 1:42, 48).  In haar baarmoeder het sy die ewige en almagtige God gedra!  Hoe het dit gebeur?

 

‘n Kind kan nie gebore word sonder dat konsepsie eers plaasvind nie: die manlike spermsel moet die vroulike eiersel bevrug.  Die kind kry 23 chromosome by sy pa, en 23 by sy ma.  Die chromosome bevat die inligting vir die kind se geslag, blou oë, bak ore, skerp neus, skewe pinkie, kort tone, lang bene, ens.

 

In die geskiedenis is Maria se eersgebore Seun die uitsondering op die reël (v.18, 20, Lukas 1:34-35). Sy het nie met ‘n man geslaap nie:  die Gees het in haar baarmoeder gewerk, sodat Jesus nie half-God en half-mens was nie, maar volkome God en volkome mens (met 46 chromosome!) – twee nature in een Persoon.

 

Kon God gemaak het dat Jesus direk uit die hemel as mens neergedaal het? Of dat Hy gebore is uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou, en nogsteeds volkome God kon wees?  Ja, want geen ding sal vir God onmoontlik wees nie (Lukas 1:37).  Maar as Jesus direk uit die hemel neergedaal het as mens, sou ons sy volkome menslikheid betwyfel het.  En as Hy uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou gebore is, sou ons sy volkome Godheid betwyfel het.  Daarom is Hy uit ‘n maagd gebore.

 

Jesus se geboorte uit ‘n maagd wys ook dat Hy sondeloos is (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26). Dit wys ook dat Hy beide God en mens is.  Is dit belangrik dat Hy ‘n seun was, en nie ‘n dogter nie?  Ja, want in die eerste eeu was seuns die erfgename.  Verder moes ‘n seun die wettige opvolger tot die troon van Dawid wees (Lukas 1:32).  Daarom is Jesus ook die Seun van die Mens (Daniël 7:13-14), en die Seun van God (Lukas 1:35).  Hy is Immanuel, God met ons.  Verse soos Jesaja 9:5, Kolossense 2:9, Hebreërs 1:3 wys duidelik dat Hy God is.

 

Laat die Kersboodskap van ‘God met ons’ nie net vir jou ‘n mooi storie wees nie, maar ‘n realiteit wat jou lewe verander. Dit sal die manier waarop jy na die lewe kyk verander.

 

  • Stry jy teen die vyand: Satan, vlees, en die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle teen die Kanaäniete moes veg (Deuteronomium 31:6, 8).
  • Vrees jy as gevolg van ‘n taak wat vir jou te groot lyk? God is met jou soos wat Hy met Josua was toe hy die volk in die Beloofde Land moes inlei (Josua 1:5, 9); soos Hy met Salomo was toe hy die tempel moes bou (1 Kronieke 28:20).
  • Is jy werkloos of angstig oor geld? God is met jou soos Hy in Hebreërs 13:5 belowe het: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
  • Moet jy reis of is jy weg van jou familie af? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy deur die woestyn na sy oom toe gevlug het (Genesis 28:15).
  • Is jy ‘n onwelkom vreemdeling in die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle in ‘n vreemde land moes woon (Jesaja 43:5).
  • Moet jy moeilike woorde vir iemand sê? Veg mense met jou want jy deel die evangelie met hulle? God is met jou soos wat Hy met Jeremia was (Jeremia 1:8, 19).
  • Moet jy ‘n mede-gelowige aanspreek oor sonde? God is met jou soos Jesus in Matteus 18:20 belowe het: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (die konteks van hierdie vers gaan oor kerkdissipline).
  • Tug God jou vir sonde? God is met jou soos Hy met Israel was toe Hy húlle moes tugtig (Jeremia 30:11, vgl. Hebreërs 12:11).
  • Vrees jy ‘n belangrike persoon of ‘n boelie? God is met jou soos Hy met Israel was teen die koning van Babel (Jeremia 42:11).
  • Moet jy ‘n groot werk vir Jesus doen? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle die tempel moes herbou (Haggai 1:13, 2:4).
  • Vrees jy om die evangelie te deel by die skool, die werk, of met familie? God is met jou soos Jesus vir die dissipels en Paulus belowe het: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld… Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou” (Matteus 28:20, Handelinge 18:10).
  • Moet jy na ‘n moeilike familie-situasie toe terugkeer? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy na 20 jaar vir Esau in die gesig moes kyk (Genesis 31:3, 32:11).
  • Moet jy as leier optree of by iemand anders oorneem? God is met jou soos Hy met Josua was toe hy by Moses moes oorneem (Deuteronomium 31:23).
  • Gaan jy deur diep waters? God is met jou soos Hy in Jesaja 43:2 belowe het: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
  • Voel dit of Here jou gelos het? God is altyd met jou soos Hy in Jesaja 41:10 belowe het: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Terwyl jy op die aarde is, sal Hy altyd deur sy Gees in en by jou wees (Johannes 14:16-17). Hy sal ook vir ewig in die hemel met jou wees (Openbaring 21:3).
  • Voel dit of die duiwel jou nie wil uitlos nie? God is met jou en sal Satan gou onder jou voete verbrysel (Romeine 16:20).
  • Moet jy vrede maak met iemand? God is met jou wanneer jy dit doen (2 Korintiërs 13:11).
  • Is jy bang om dood te gaan? God is met jou as jy deur die vallei van die dood moet stap. Dawid sê: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

Vir Christene lê die grootste troos nie daarin dat God ons probleme kan wegvat nie, maar dat Hy met ons is. Ja, Hy kon keer dat Daniël in die leeukuil gegooi word of sy vriende in die vuuroond.  Maar Hy het nie.  Toe hulle egter in die leeukuil en vuuroond was, was Hy met hulle.  Ons gebed in lyding is dus nie heel eerste:  ‘Vat die pyn weg’ nie, maar ‘Help dat ek nie vergeet U is met my nie.’  Aan die kruis het Jesus gesê:  ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ sodat jy dit nooit hoef te sê nie.

 

Maar as jy sy liefde verwerp, sal Hy jou vir altyd verlaat in die hel (2 Tessalonisense 1:9). Dit hoef nie so te wees as jy deur geloof na Hom toe kom, en vra dat Hy jou red van die sonde in jou hart en op jou rekord nie.  As jy deel is van die volk wie se sonde vergewe is (v.21), is jy ook deel van die ‘ons’ in ‘Immanuel, God met ons’ (v.23).  Dan is God met jou van die begin tot die einde (v.23, 28:20), en vir ewig daarna (Openbaring 21:3).

 

Net as jy ‘Immanuel’ onthou kan jy Kersfees reg vier: nie net een keer per jaar nie, maar 24/7 totdat Jesus kom, en dan vir altyd.  Jesus se vleeswording is nie veronderstel om een dag in ‘n jaar lekker te maak nie, maar om jou hele lewe te verander.

 

In die tipiese liefdesverhaal omhels die dapper prins sy beeldskone prinses, en sê: ‘Ek sal jou nooit alleen los of verlaat nie; ek sal altyd daar wees.’  Tog weet ons dis net woorde.  Dit gebeur net in stories.  In die werklikheid los akteurs en ander mense mekaar links en regs sodra daar ‘n mooier prins of prinses verby kom.  Selfs dié wat mekaar tot die einde toe liefhet, moet totsiens sê as een van hulle sterf.

 

Met God is dit anders: Hy is altyd met ons en los ons nooit nie – nie eers in die dood of daarna nie.  Dit is die boodskap van Kersfees.  Is daar beter nuus as dit?

[1] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, p.142

[2] Vir oortuigende argumente kan jy die volgende bronne naslaan: E.J. Young, The New International Commentary on the Old Testament: Isaiah, vol.1; Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah; J. Gresham Machen, The Virgin Birth of Christ; William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew

[3] N.R. Neeham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.117 n.2

[4] Needham, vol.2, p.195

[5] Ibid, p.230

[6] Needham, vol.3, pp.251-252

[7] Needham, vol.2, p.34

[8] Needham, vol.3, p.409

’n Begeerte na God

Hunger for God

In 1986 het John Piper sy baanbreker boek, Desiring God geskryf.  Persoonlik het die boek baie vir my beteken.  Een Amerikaanse teoloog, outeur, en prediker sê:  ‘I’ve often said to people, “If I were on a desert island and could have only three books, in addition to the Bible, I’d choose Desiring God and The Pleasures of God by John Piper.”’[1]  Piper se tema – ‘n begeerte na God – is iets wat duidelik in Eksodus 33 geïllustreer word.

 

Sy teenwoordigheid (v.1-6)

David Brainerd was ‘n jong vriend van Jonathan Edwards. Hy is dood toe hy 29 is.  Brainerd het God se teenwoordigheid begeer soos min.  Edwards skryf oor hom:  ‘He complains of enjoying but little of God; yet he says, that little was better to him than all the world besides.’[2]  Nog ‘n paar sinne uit sy joernaal wys Brainerd se begeerte vir God se teenwoordigheid:

 

  • ‘One hour of sweet retirement where God is, is better than the whole world.’[3]
  • ‘Spent about two hours this morning in reading and prayer by turns; and was in a watchful, tender frame, afraid of every thing that might cool my affections, and draw away my heart from God.’[4]
  • ‘Was somewhat melancholy [depressed]; had not much freedom and comfort in prayer: my soul is disconsolate when God is withdrawn.’[5]
  • ‘My desires were drawn out after God in prayer; and my soul was watchful, afraid of losing so sweet a guest as I then entertained.’[6]

 

Die volk het hierdie soete teenwoordigheid verloor toe hulle in hfst.32 die goue kalf aanbid het. God was bedroef dat die volk Hom verwerp het en sy verbond gebreek het.  God het dus gepraat van Moses se volk wat hy na Kanaän toe moes lei (v.1).  Ten spyte van die volk se ontrouheid, het God sy verbond gehou met Abraham, Isak, Jakob, en hulle nageslag (v.1).

 

God sou sy engel in die wolkkolom vooruit stuur om Israel se vyande te verdryf (v.2, 14:19). Die volk moes optrek na die land van melk en heuning (v.3).  God het vir hulle oorvloed en voorspoed gegee.  Maar omdat hulle gevra het dat ander gode hulle moes lei (32:1), sou God nie deur middel van die tabernakel met hulle wees nie (v.3, 25:8).  Dit was tot hulle voordeel, want as God in hulle midde moes wees, sou Hy hierdie hardnekkige rebelle uitwis (v.3, 32:9, Handelinge 7:51).  Toe Moses hierdie nuus aan die volk oordra, het hulle getreur en die juwele verwyder wat hulle vroeër tot afgodery versoek het (v.4-6, 32:2-4, vgl. Genesis 35:2, 4).

 

Wat leer ons uit hierdie eerste ses verse? Soek God se teenwoordigheid.  Hoe?

 

[1] Word gered, want anders is God se teenwoordigheid ‘n nagmêrrie (Amos 9:2-3, Openbaring 6:15-17).

 

[2] Bekeer jou van jou sonde, want God se soete teenwoordigheid is nie op jou dwaalweg nie (v.3). Ons sonde bedroef die Heilige Gees (Efesiërs 4:32).  Toe Simson gesondig het, het die Here hom verlaat (Rigters 16:20).  Dawid het gevra dat God hom nie moet verlaat nie, maar weer die vreugde van verlossing aan hom moes gee (Psalm 51:13-14).

 

[3] Word gevul met die Heilige Gees; Hy bemiddel Christus se teenwoordigheid aan ons (Johannes 14:16, 23, 2 Korintiërs 13:13, Efesiërs 3:16-17).

 

[4] Bid. Die Here is naby almal wat Hom aanroep in waarheid (Deuteronomium 4:7, Psalm 145:18).

 

Verstaan jy nie waarvan ek praat nie? Bid aanhoudend totdat jy dit smaak (Psalm 105:4).  Het jy eens God se teenwoordigheid ervaar, maar dit intussen verloor?  Probeer agterkom hoekom jy dit verloor het, sodat jy dit dáár kan regstel.  Treur daarvoor.  Moenie ontmoedig rondsit nie, maar doen wat reg is en wag geduldig dat die Here na jou toe sal kom (Openbaring 2:4-5, Jesaja 8:17).  Glo God se beloftes, al voel jy nie altyd sy teenwoordigheid nie.  Hy is Immanuel, God met ons (Matteus 1:23).  Waar gelowiges in sy Naam vergader, is Hy met hulle (Matteus 18:20).  Hy is elke dag met ons totdat die wêreld eindig (Matteus 28:20).  Hy sal ons nooit alleen los of verlaat nie (Hebreërs 13:5).

 

Hoekom moet jy Hom en sy teenwoordigheid soek? Soos verliefdes mekaar se geselskap soek (Hooglied 7:10), begeer God om by sy kinders te wees.  God sê oor sy volk:  “my heart yearns for him; I will surely have mercy on him, declares the LORD.” (Jeremia 31:20, ESV).  “my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.” (Hosea 11:8).

 

Sy Woord (v.7-11)

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê: ‘As ons verhouding met God net in die Bybel bestaan, stel ek nie belang om ‘n Christen te wees nie.’  Sy wou iets ‘meer’ hê:  in tale praat, hoor hoe God met ‘n sagte stem praat, Jesus wat aan mense moet verskyn, ens.

 

Die probleem is nie dat sy ‘n diep ervaring wou hê nie, maar dat sy nie geglo het ‘n mens kan dit in die Skrif kry nie. Nog voordat die Emmaus-gangers besef het dis Jesus, het hulle harte gebrand toe Hy die Skrif vir hulle oopgemaak het (Lukas 24:32).  Iemand wat wonderlike gemeenskap gehad het in die Skrif, kan nie vir lank van die Woord af wegbly nie.  Dit is die boodskap van v.7-11.

 

Nadat die volk by Horeb weg is, het Moses die tent van samekoms buite die kamp opgeslaan (v.7). Dit het gewys dat die volk vir God verwerp het (Hebreërs 13:12), en dat Hy nie meer in hulle midde was nie (v.3).  Elkeen wat regtig ‘n begeerte na God gehad het, het homself bemoei om na die tent toe uit te gaan (v.7).

 

Wanneer Moses na die tent toe uitgegaan het, het die volk by hulle tentdeure opgestaan (v.8). As Moses ingegaan het, het die wolk tot by die tent se deur gesak, en het God met hom gepraat (v.9).  Die volk het die Here van ‘n afstand af by hulle tente se deure aanbid (v.10).

 

God het van aangesig tot aangesig met Moses gepraat (v.11, Deuteronomium 34:10, 1 Korintiërs 13:12). Dit beteken nie dat Moses vir God gesien het nie (v.20, 23).  Dit beteken eerder dat God direk en met ‘n hoorbare stem gepraat het, en nie deur ‘n droom, ‘n visioen, of ‘n engel nie (Numeri 12:6-8).  Soos wat ‘n mens met jou vriend praat, het God sy hart met Moses gedeel (v.11, vgl. Johannes 15:15).  Wanneer Moses na die kamp toe teruggekeer het, het Josua die tent bewaak sodat die volk nie naby kon kom nie (v.11).

 

Smag na God in sy Woord. Begeer dit soos soet heuning, kosbare goud, en vars lug (Psalm 19:11, 119:20, 131).  Smag daarna soos ‘n pasgebore baba na melk smag (1 Petrus 2:2).  Hoe doen jy dit?

 

[1] Dissiplineer jouself om die Skrif lees, want anders smag jy tevergeefs en sal jy altyd middelmatig bly.

 

[2] Lees en hou elke dag gemeenskap met God. Begin om happie-grootte tekste te lees en te oordink.  Lees dan meer en meer.  Namate jy dit doen, sal jy ‘n aptyt daarvoor ontwikkel, en na nog smag.

 

[3] Bid voor, terwyl, en nadat jy lees (Psalm 119:18). Bid deur die verse.

 

[4] Moenie net lees om klaar te kry nie, maar lees om ware gemeenskap met God te hê.

 

[5] Lees minder, sodat jy meer kan oordink (Psalm 119:97). Kies vir jou ‘n vers wat jy deur die dag kan oordink (Psalm 1:2).  Wees versigtig vir die moderne lering wat maak of die Skrif ‘n trampolien is, sodat jy bo die teks kan uitstyg na ‘n meer direkte kommunikasie met God.  Die waarheid is dat God self in die Skrif met ons praat.  Ons reageer in gebed en geniet so gemeenskap met Hom.

 

Sy guns (v.12-16)

John MacArthur vertel hoe hy tydens sy studies 2 Samuel 7 voor sy mede-studente moes preek. Hy het nie omgegee wat die ander studente dink nie.  Hy wou net hê dat die dekaan, Dr. Charles Feinberg, tevrede moes wees.  Dit was vir hom baie erg toe Dr. Feinberg gesê het hy moes hom in sy kantoor kom sien.  Feinberg het gesê:  ‘Jy het die hele punt van die teks gemis.’

 

Net so moet ons nie omgee oor wat mense dink nie. God se guns moet al wees wat vir ons saakmaak.  Dit is wat Moses gesoek het.

 

Moses het geweet hy moet die volk na die Beloofde Land toe lei; hy het geweet dat God sy engel voor die volk sou uitstuur (v.2). Hy het egter nie geweet wie die Here saam met hom sou stuur nie (v.12).  Sou God sê:  ‘Ek ken jou by die naam as myne; jy het guns in my oë gevind,’ as Hy nie self by Moses sou wees om hom te lei nie (v.12)?

 

As Moses dan guns in God se oë gevind het, wou hy Hom en sy weë ken, sy werke verstaan, en meer guns in sy oë vind om Hom nog beter te ken en guns te vind (v.13). Soos Paulus wou hy bo alles God ken en Hom behaag (Filippense 3:8, 2 Korintiërs 5:9, 15).  Hy het ook gevra dat God die volk as sy eie, en nie as Moses s’n nie, moes onthou (v.13, Deuteronomium 9:29).  God sou met Moses gaan sodat hy vir die volk rus kon gee van hulle vyande (v.14, Josua 21:44).

 

Moses wou nie trek as God nie met hom was nie (v.15). Hy sou liewer in die woestyn bly met God, as in die Beloofde Land sonder Hom.  God se teenwoordigheid was vir hom beter as ‘n rustige en ryk land.  Sy guns was vir hom beter as die lewe (Psalm 63:4).  Sonder God was Israel nie uniek en heilig nie, maar dieselfde as die ander volke (v.16, Numeri 14:14).

 

Soek God se guns soos wat jy ‘n vriend s’n soek, en nie daarvan hou as hy kwaad is vir jou nie. Jy kan nie sy guns hê as jy in sonde lewe nie (Romeine 8:8).  Om sy guns te hê moet jy in sy Seun glo in wie Hy ‘n welbehae het (Matteus 3:17, Hebreërs 11:6).  As jy sy guns wil hê moet jy opreg leef (Genesis 6:8-9), nederig wees (Spreuke 3:34), en God se wil doen soos die Skrif dit weergee (Spreuke 3:4, Kolossense 1:9-10, 1 Tessalonisense 4:1).  As jy sy guns wil hê moet jy Hom daarvoor smeek soos Jakob (Hosea 12:4, Psalm 119:58).

 

Pasop egter dat jy nie so sy guns soek, dat jy van die Gewer vergeet nie (Jakobus 4:3). Sê saam met David Brainerd:  ‘Blessed be God, that He enables me to love Him for Himself.’[7]  Laat God se guns jou aanspoor om Hom, en nie sy gawes nie, meer lief te hê.

 

Sy heerlikheid (v.17-23)

Tydens ons vakansie het ons deur Du Toit’s Kloof en Meiringspoort gery. Die gesig is asemrowend.  Ons het foto’s geneem, maar dit is nie dieselfde as om daar te wees nie.

 

Die wonderlikste dinge wat jy met jou sintuie in die skepping kan ervaar is maar “foto’s” van God se heerlikheid. Hoe moet dit wees om sy heerlikheid self te sien?  Moses self het maar ‘n fraksie, ‘n afskynsel daarvan gesien.

 

God het bevestig dat Moses syne is en guns in sy oë gevind het; dat Hy by hom sou wees (v.17, vgl. 2 Timoteus 2:19). Moses het God se wonders gesien in Egipte, by die Rooisee, in die voorsiening van die manna, die kwartels, en water uit die rots, in die wolk- en vuurkolom, in die dreuning van Berg Sinaï, in die direkte stem wat hy gehoor het.  Nou het Moses egter vir die grote gevra:  hy wou God se heerlikheid sien (v.18).

 

God het sy heerlikheid geopenbaar deur sy goedheid aan hom bekend te maak, en deur sy Naam aan hom te verkondig (v.19, 34:5-8). God kies soewerein vir wie Hy dit wil wys (v.19).  As God besluit het om die volk vir hulle rebellie uit te wis, en nie sy heerlikheid vir hulle te wys nie, sou Hy nie verkeerd gedoen het nie (v.19).  Hoewel Moses God se heerlikheid gesien het, kon hy nie alles sien nie – hy sou sterf (v.20, vgl. Johannes 1:18, 1 Timoteus 6:16, 1 Johannes 4:12).

 

God het vir Moses in die skeur van die rots gesit en Hom met sy hand bedek, terwyl sy heerlikheid verbygegaan het (v.21-22, Psalm 91:1, 4). Moses het nie God se volle heerlikheid (sy gesig) gesien nie, maar net sy rugkant of afskynsel (v.23).  Moses het later sy gesig gesien toe hy in Matteus 17:2-3 op die berg van verheerliking was.

 

Begeer soos Moses om die ‘ultimate’ te sien. Jesus is die lig van God se heerlikheid (Hebreërs 1:3).  In die hemel sal jy sy gesig sien (1 Johannes 3:2, Openbaring 22:4).  Hoewel jy Hom nie in hierdie lewe met jou oë sien nie, wys God steeds sy heerlikheid vir ons.  John Owen sê:  ‘…when Christ left the earth, He sent his Spirit (John 16:7), by whom the disciples had a clearer view of the glory of Christ than they could have had by beholding Him in the flesh.’[8]  Hoe kan jy sy heerlikheid op aarde sien?

 

  • Bid dat Hy jou oë sal oop maak om dit te sien (v.18, Psalm 119:18).
  • Bely jou sonde, want dit is sonde wat keer dat ons sy heerlikheid sien (Romeine 3:23).
  • Glo die evangelie, want daarin sien ons die heerlikheid van God in die aangesig van Christus (2 Korintiërs 4:6).
  • Sien sy heerlikheid in die openbaring van Homself in die Woord (v.19, 2 Korintiërs 3:18).

 

Moet egter nie dink Hy is verplig om sy heerlikheid vir jou te wys omdat jy die Bybel lees, bid, en jou sonde bely nie. God is vry om te kies vir wie Hy dit wil wys, en of Hy dit wil wys (v.19, Johannes 3:8, Romeine 9:15, 23).

 

Dalk het jy geen begeerte om dit te sien nie. Jy sal eerder Tafelberg wil sien of trou.  As jy só dink, is jy soos ‘n kind wat ‘n hand vol sente kies, want dit lyk meer as ‘n R200-noot.  Jy is soos ‘n man wat daarvan hou om ‘n liefdesgedig te lees, sonder om te weet wat liefde is.  So beskryf C.S. Lewis dit:

 

‘We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea.’[9]

 

God het jou nie uiteindelik vir klein plesiere soos geld, kleinkinders, lekker kos, of kuier geskep nie. Hy het jou geskep vir die hoogste plesier:  om sy heerlikheid te sien (Jesaja 43:7, Johannes 17:24).

 

Eddie is op ‘n toer in Botswana. Tydens die toer breek sy Land Rover 350 km van die naaste dorp af.  Hy wag vir vier dae.  Teen die einde van die vierde dag is sy water op.  Eers op die sesde dag kom daar ‘n ander kar verby.  Eddie se mond is kurkdroog, sy lippe het begin bars, en sy keel brand soos vuur.  Sal dit help as hy lip-ice opsit, ‘n hamburger eet, ‘n boek lees, of iets anders doen?  Nee.  Net water kan sy dors les.  So kan net God jou sielsdors les (Johannes 4:14).  Soek Hom soos wat ‘n bok in die woestyn na koel water soek (Psalm 42:2).

[1] Sam Storms in sy aanbeveling van The Pleasures of God.

[2] Jonathan Edwards, Works: vol.2, p.336

[3] Ibid, p.345, 5 Apr.

[4] Ibid, p.348, 6 Jul.

[5] Ibid, p.350, 27 Sept.

[6] Ibid, p.356, 15 Feb.

[7] Ibid, p.343, 7 Feb.

[8] John Owen, The Glory of Christ, p.103

[9] John Piper, Desiring God, p.20

God in die krip

Angels and shepherds

Deïste glo God is soos ‘n groot Horlosiemaker wat die wêreld geskep het, en Homself onttrek het sodat die ‘horlosie’ self pap loop. Volgens hulle is Hy nie aktief in die skepping nie, maar het Hy alles oorgegee aan toeval, evolusie, en die natuurwette.  God is verhewe (transendent), maar nie betrokke nie.

 

Panteïste (bv. Hindoes) glo God is in alles. Daarom is dit nie verkeerd om ‘n boom, ‘n koei, of die maan te aanbid nie.  God is betrokke (immanent), maar nie verhewe nie.

 

Volgens Lukas 2:8-20 is God verhewe en betrokke.  Hy is God in die krip.

 

Die engele (v.8-14)

Voor die era van telefone en rekenaars, moes jy vir weke of maande wag om van jou geliefdes te hoor. Vandag kan ons bel, sms, Whatsapp, Facebook, of hulle gesigte op Skype sien.  Tegnologie het geliefdes wat ver weg is naby gebring.  Tog is hulle nie regtig by jou nie.  Hulle is nogsteeds ver weg.

 

Met God is dit anders. Hy stuur nie maar net ‘n brief, of praat op ‘n afstand nie.  Hy kom aarde toe, word mens, en woon onder ons.  Dit is die punt van v.8-14.

 

Die onbelangrike herders het skape opgepas in ‘n veld buite Betlehem (v.8). Hulle het gewaak oor die skape wat bedoel was vir die tempel offers.  Die verhewe God het deur ‘n engel tot die nederige herders neergedaal (1:52, Jesaja 57:15, Psalm 138:6).  Die Goeie Nuus van die lig vir die wêreld het gekom in ‘n donker nag (v.8, Johannes 1:5).  Die engel het uit die hemel gekom.  God se shekinah heerlikheid (soos dit genoem is) het geskyn soos wat dit tevore in die wolkkolom en tabernakel geskyn het (v.9).  By Jesus geboorte het ‘n lig in die nag geskyn.  By sy dood was dit donker in die middag.

 

Toe die herders God se heerlikheid sien, het hulle gebewe net soos Moses, die volk, Esegiël, Daniël, die drie dissipels, en Johannes (v.9, Numeri 16:19-22, 42-45, 20:6, Levitikus 9:23-24, Esegiël 1:28, Daniël 10:5-11, 16-17, Matteus 17:2, 6, Openbaring 1:16-17). Die engel het vir hulle gesê hulle moenie vrees nie:  hy het goeie nuus (Gk. euaggelizo) gebring wat groot blydskap vir God se volk sou gee (v.10).  God se volk verwys na die Jode, maar ook na die heidene:  almal wat in Jesus glo (v.32, Johannes 11:50, 52, 1 Petrus 2:9, Titus 2:14).

 

Die goeie nuus is dit: ons verdien die hel maar God vergewe ons, word ons Vriend, neem ons aan as sy kinders, en gee vir ons die hemel (v.10).  Dit is juis hoekom Jesus gekom het.  Hy is gebore vir ons voordeel, nie sy eie nie (v.11, Jesaja 9:5, Handelinge 17:25).  Wie is Hy?

 

  • Hy is gebore; Hy is mens (v.11, Galasiërs 4:4).
  • Hy is die Koning uit die geslag en stad van Dawid (v.11, 4, Miga 5:1).
  • Hy is Jesus, die Verlosser wat ons van sonde en God se oordeel red (Matteus 1:21). Hy het nie gekom – soos wat baie verwag het – om die Jode van Romeinse onderdrukking te red nie (v.11). Die Romeine het geglo dat keiser Augustus (v.1) die verlosser van die wêreld is. Dit was tydens sý heerkskappy wat die ware Verlosser van die wêreld gebore is (v.11).
  • Hy is die Messias of Christus: die Gesalfde Priester, Profeet, Koning (v.11).
  • Hy is die Here: die soewereine Adonai en Jahwe van die Ou Testament. Die Romeine het vereis dat mense die keiser ‘here’ [Gk. kurios] noem. Jesus is egter die ware Here bo enige keiser (v.11).

God het ‘n baba geword wat in ‘n krip gelê het (Johannes 1:14). Tog het Hy, terwyl Hy in die krip was, die wêreld, sy ma, die sterre, die heelal onderhou  (Kolossense 1:17, Hebreërs 1:3).

 

Hoe het die herders geweet die engel is nie ‘n hallusinasie nie? Hy het vir hulle ‘n teken gegee:  hulle sal ‘n baba vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê (v.12).  Daar was geen plek vir Josef en Maria in die herberg nie (v.7).  Jesus is in armoede gebore; Hy was nie welkom in die wêreld nie (v.24, Levitikus 12:8, Filippense 2:6-7, 2 Korintiërs 8:9, Johannes 1:11).

 

Soos daar by sy tweede koms ‘n menigte van engele sal wees, was dit ook by sy eerste koms: miljoene der miljoene, tienduisende maal tienduisende (v.13, Matteus 25:31, 2 Tessalonisense 1:7, Hebreërs 12:22, Openbaring 5:11, Daniël 7:10).  Dit is ironies dat die hemelse weermag die boodskap van vrede bring!  Die engele het die baba aanbid (Hebreërs 1:6).  Hulle het ‘n belang gehad in sy lewe op aarde:  sy geboorte in die krip, sy versoeking in die woestyn, Getsemane, die leë graf, sy hemelvaart (1 Timoteus 3:16).  Die engele het Hom geprys vir sy transendensie en immanensie, sy verhewenheid en betrokkenheid.

 

Eer aan God in die hoogste hemel (v.14, Psalm 29:1-2). Hosanna in die hoogste (Matteus 21:9).  Deur Jesus in wie die Vader ‘n welbehae het, is daar vir ons vrede met God, ander, en vrede in ons siele (v.14, 3:22, Kolossense 1:20, Romeine 5:1, Efesiërs 2:14, 17, Johannes 14:27).  Hierdie vrede is nie vir dié wat in hulle sonde volhard nie (Jesaja 48:22, Jeremia 6:14), maar vir God se uitverkore volk in wie Hy ‘n behae het (Efesiërs 1:5).

 

Die herders (v.15-20)

By ‘n predikante konferensie het een van die sprekers saam met ons onder die koeltebome gesit en vriendelik gesels. ‘n Bekende prediker het ‘n ander ds. voorgestel as ‘my goeie vriend.’  Die ander man het baie geëerd gevoel toe die ds. hom sy vriend noem.  ‘n Teologie professor van Potchefstroom het onlangs Parys Baptistekerk begin bywoon.  My vriend het van die professor gesê:  ‘Hy is so plat op die aarde.’

 

Ons hou daarvan as skatryk of bekende mense nederig en plat op die aarde is. Tog is dit ‘n klein tree om van ‘n mens se vlak neer te daal tot op die vlak van ‘n ander mens.  Om van ‘n engel se vlak neer te daal tot op ‘n mens se vlak sou ‘n indruk maak.  Maar hoe verbysterend is dit dat die ewige en almagtige God uit ‘n oneindige hoogte neerdaal om mens te word?  Dit is ‘n groter sprong as vir ‘n ryk en magtige koning om ‘n wurm of modder te word.  Dit is onbegryplik.  Die herders en Josef was in verwondering, en Maria het aanhoudend daaroor gedink.  So leer v.15-20.

 

Toe die engele terug is hemel toe, het die herders na Betlehem toe gegaan om te sien wat God geopenbaar het (v.15). Die herders het gegaan om die Lam van God en die groot Herder van die kudde te besoek (Matteus 2:6, Miga 5:3, Psalm 23, Johannes 10, 1:29).

 

In hulle vreugde, het hulle hul skape in die gevaarlike nag gelos en haastig na Betlehem toe gehardloop (v.16). Soos die engel gesê het, het hulle vir Maria en Josef gesien, en ook die baba wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip gelê is (v.16, 12).  Die wyse manne en die ster was nie daar soos wat kerskaartjies wys nie.  Hulle het Hom eers later besoek toe Hy in die huis was (Matteus 2:9-11).

 

Josef en Maria het seker gewonder hoe die herders geweet het van Jesus se geboorte. Die herders het vir hulle vertel wat die engel gesê het:  Hy is die Verlosser, die Messias, die Here (v.17).  Dit het bevestig wat die engel vir Maria en Josef gesê het (1:31-35, Matteus 1:21-23).  Almal was verwonderd en verbaas (v.18).  Maria het die herders se woorde soos ‘n kosbare skat in haar hart gehou (v.19, 51, vgl. Genesis 37:11).  Sy het die woorde gedurig oordink en daaroor gepeins, sodat sy dit nie sou vergeet nie (v.19).

 

Die herders het na hulle skape toe teruggekeer (v.20). Oppad het hulle God geprys en verheerlik dat die langverwagte Messias enVerlosser gebore is (v.20).

 

Moenie vergeet dat God beide verhewe en betrokke, transendent en immanent is nie.

 

As jy sy betrokkenheid ten koste van sy verhewenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • Leef en bid asof Hy jou ‘buddy’ is; ‘n groot Kersvader in die lug. Jy sal Hom nie saam met die herders en engele aanbid nie.
  • Hom nie vrees nie. Jy sal die onsin van mense glo wat sê dat Jesus aan hulle verskyn om ‘n koppie tee te drink.
  • In jou moles dink Hy wil jou help, maar kan nie. Jy sal elders kyk vir hulp. Jy sal hulpeloos en bang wees in jou nood en beproewing.
  • Nie sonde vrees nie. Jy sal sê God verstaan as jy verkeerd doen.
  • Bybelverse oor God se liefde afspeel teen verse oor sy heiligheid en toorn, en sê die hel bestaan nie. Gevolglik sal jy nie alles in die Bybel wil lees nie, maar net die verse wat jou laat lekker voel. Jy sal ook ‘n versagte evangelie met jou kinders en met ander deel; ‘n evangelie sonder ‘n heilige God en sy wet, ‘n oordeelsdag, en radikale selfverloëning.
  • Dink dis reg om kwaad te wees vir God. Jy sal geen respek vir Hom hê nie.
  • Oppervlakkige liede sing wat God as ‘n speelmaat uitbeeld.
  • Altyd aan Jesus dink as ‘n oulike baba in die krip, en Hom nie sien as die ewige God op sy troon nie.
  • Jouself in hoogmoed verhef. Jy kan nie sien hoe klein jý is, totdat jy besef hoe hoog Hý is nie (Jesaja 40:15, 17).
  • Nie dankbaar leef vir jou redding nie, omdat jy dink die vleeswording was ‘n klein stap van God wat Hom effens tot die mens neerbuig.

 

As jy God se verhewenheid ten koste van sy betrokkenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • ‘n Slaafse vrees vir God hê, en nie met vrymoedigheid kan bid nie. Jy sal sê: ‘Hy is te hoog of te besig om my klein gebede te hoor.’
  • Soos Moslems aan God dink as ver verwyder. Jy sal dink jy kan nooit ‘n persoonlike verhouding met Hom hê nie.
  • Onseker leef oor die hemel. Jy sal wonder: ‘Hoe kan ‘n hoë en verhewe God sondaars in sy heilige teenwoordigheid toelaat?’
  • Nie soos die herders bly wees dat die Verlosser gekom het om jóú te red nie (v.20, 11). Jy sal dink: ‘As Hy belangstel om mense te help, is my kanse skraal. Hy sal eerder goeie mense, rykes, konings help as ‘n onbelangrike mens soos ek.’
  • Sonder God lewe en selfgesentreerd wees. Jy sal dink: ‘As ek nie na myself omsien nie, sal niemand nie.’
  • Hopeloos en hulpeloos voel in jou lyding. Jy sal vergeet van verse soos Hebreërs 4:15, Jesaja 63:9 en dink God verstaan nie jou pyn nie.

 

Leef gebalanseerd met die wete dat God verhewe en betrokke is:  Immanuel, God met ons.  Aanbid Hom as God in die krip, aan die kruis, en op die troon.  Staan in verwondering oor Hom (v.18), en moenie en apaties wees nie.  Dink en juig oor Hom as die Verlosser, die Messias, die Here (v.10-11, 19-20).

 

Jy hoef nie te voel Hy is ver weg nie. In Jesus het God naby gekom om sondaars te red en na Homself toe te bring.  Vir gelowiges is Hy deur die Gees nader as toe Hy in die krip en op aarde was:  Hy woon in ons.  Christene hoef nie depressief te wees nie.  Jesus is jou Verlosser, jou sondes is vergewe, God is jou Vader, jy is sy kind, jy het ‘n erfdeel in die hemel.  Jy sal Hom vir ewig daar geniet en aanbid as die verhewe en betrokke God.

 

Eenkeer toe ek ‘n prent vir die blog soek, het ek ‘n spotprent gesien van God wat met ‘pop corn’ op ‘n ‘lazy boy’ in die hemel sit, en op sy TV skerm kyk hoe mense op die aarde ly. Baie mense dink dit is ‘n akkurate uitbeelding van hoe dinge is.  Maar dit is glad nie so nie.  In sy boek, The Cross of Christ, haal John Stott ‘n toneelstukkie aan.[1]  Dit klink so.

 

Aan die einde van die tyd het daar biljoene mense verspreid gestaan op ‘n groot plein voor God se troon. Die meeste mense het teruggedeins voor sy helder lig.  Sommige mense naby die troon was arrogant en het hulle vuiste gebal.

 

‘Hoe kan God oordeel? Wat weet Hy van ons lyding?’ het ‘n jong brunette gesê.  Sy het haar mou afgeskeur en ‘n nommer gewys wat in ‘n Nazi konsentrasie kamp op haar arm getatoeëer is.  ‘Ons moes verskrikking, slae, marteling, en dood deurmaak!’

 

‘n Neger het gewys waar ‘n tou hom op sy nek gebrand het: ‘Ek is gelynch net omdat ek swart is!’ het hy gesê.

 

‘n Swanger skoolmeisie het nors gekyk en gesê: ‘Hoekom moet ek ly; dit was nie my skuld nie.’

 

Oral was daar groepe wat teen God gekla het oor die boosheid en lyding wat Hy in die wêreld toegelaat het. ‘God is gelukkig om in die hemel te bly waar alles soetheid en lig is; waar daar geen trane, vrees, honger, en haat is nie.  Wat weet God van wat mense op die aarde moes ly en deurmaak?  Hy is beskut in die hemel.’

 

Elke groep het hulle leier wat die meeste gely het, vorentoe gestuur: ‘n Jood, ‘n Neger, ‘n Japanees van Hiroshima, ‘n misvormde persoon met erge arthritis, ‘n kind wat sonder ledemate gebore is.  Hulle het beraadslaag in die middel van die plein.  Uiteindelik was hulle gereed om hulle saak voor God te stel.

 

Hulle het vereis dat God gevonnis moes word om as mens op die aarde te leef. Hulle het gesê:

 

‘Laat Hom as Jood gebore word. Laat mense hulle wenkbroue lig oor sy ma se “skandelike” swangerskap.  Laat sy werk so moeilik wees dat selfs sy naaste familie dink Hy is mal.  Laat die vriende wat die naaste aan Hom is Hom verraai.  Laat mense Hom valslik beskuldig en Hom met vooroordeel vonnis.  Laat Hom gemartel word.  Laat Hom op die einde ervaar wat dit beteken om alleen te wees.  Laat Hom dan sterf.  Laat Hom so sterf dat daar geen twyfel is Hy is dood nie.  Laat daar baie getuies wees om dit te bevestig.’

 

Toe die skare dit hoor, het mense saam gemor en gestem dat dit so moet gebeur. Toe elke leier klaar sy sê gesê het, was daar ‘n lang stilte.  Niemand het ‘n woord gesê nie.  Niemand het beweeg nie.  Skielik het almal besef dat God reeds die vonnis op Homself geneem het.

 

God is immanent. Hy het mens geword.  Hy is betrokke in jou menswees, in jou lyding.  Hy is ook transendent en waardig om aanbid te word.

[1] pp.387-388, vry vertaal