God in die krip

Angels and shepherds

Deïste glo God is soos ‘n groot Horlosiemaker wat die wêreld geskep het, en Homself onttrek het sodat die ‘horlosie’ self pap loop. Volgens hulle is Hy nie aktief in die skepping nie, maar het Hy alles oorgegee aan toeval, evolusie, en die natuurwette.  God is verhewe (transendent), maar nie betrokke nie.

 

Panteïste (bv. Hindoes) glo God is in alles. Daarom is dit nie verkeerd om ‘n boom, ‘n koei, of die maan te aanbid nie.  God is betrokke (immanent), maar nie verhewe nie.

 

Volgens Lukas 2:8-20 is God verhewe en betrokke.  Hy is God in die krip.

 

Die engele (v.8-14)

Voor die era van telefone en rekenaars, moes jy vir weke of maande wag om van jou geliefdes te hoor. Vandag kan ons bel, sms, Whatsapp, Facebook, of hulle gesigte op Skype sien.  Tegnologie het geliefdes wat ver weg is naby gebring.  Tog is hulle nie regtig by jou nie.  Hulle is nogsteeds ver weg.

 

Met God is dit anders. Hy stuur nie maar net ‘n brief, of praat op ‘n afstand nie.  Hy kom aarde toe, word mens, en woon onder ons.  Dit is die punt van v.8-14.

 

Die onbelangrike herders het skape opgepas in ‘n veld buite Betlehem (v.8). Hulle het gewaak oor die skape wat bedoel was vir die tempel offers.  Die verhewe God het deur ‘n engel tot die nederige herders neergedaal (1:52, Jesaja 57:15, Psalm 138:6).  Die Goeie Nuus van die lig vir die wêreld het gekom in ‘n donker nag (v.8, Johannes 1:5).  Die engel het uit die hemel gekom.  God se shekinah heerlikheid (soos dit genoem is) het geskyn soos wat dit tevore in die wolkkolom en tabernakel geskyn het (v.9).  By Jesus geboorte het ‘n lig in die nag geskyn.  By sy dood was dit donker in die middag.

 

Toe die herders God se heerlikheid sien, het hulle gebewe net soos Moses, die volk, Esegiël, Daniël, die drie dissipels, en Johannes (v.9, Numeri 16:19-22, 42-45, 20:6, Levitikus 9:23-24, Esegiël 1:28, Daniël 10:5-11, 16-17, Matteus 17:2, 6, Openbaring 1:16-17). Die engel het vir hulle gesê hulle moenie vrees nie:  hy het goeie nuus (Gk. euaggelizo) gebring wat groot blydskap vir God se volk sou gee (v.10).  God se volk verwys na die Jode, maar ook na die heidene:  almal wat in Jesus glo (v.32, Johannes 11:50, 52, 1 Petrus 2:9, Titus 2:14).

 

Die goeie nuus is dit: ons verdien die hel maar God vergewe ons, word ons Vriend, neem ons aan as sy kinders, en gee vir ons die hemel (v.10).  Dit is juis hoekom Jesus gekom het.  Hy is gebore vir ons voordeel, nie sy eie nie (v.11, Jesaja 9:5, Handelinge 17:25).  Wie is Hy?

 

  • Hy is gebore; Hy is mens (v.11, Galasiërs 4:4).
  • Hy is die Koning uit die geslag en stad van Dawid (v.11, 4, Miga 5:1).
  • Hy is Jesus, die Verlosser wat ons van sonde en God se oordeel red (Matteus 1:21). Hy het nie gekom – soos wat baie verwag het – om die Jode van Romeinse onderdrukking te red nie (v.11). Die Romeine het geglo dat keiser Augustus (v.1) die verlosser van die wêreld is. Dit was tydens sý heerkskappy wat die ware Verlosser van die wêreld gebore is (v.11).
  • Hy is die Messias of Christus: die Gesalfde Priester, Profeet, Koning (v.11).
  • Hy is die Here: die soewereine Adonai en Jahwe van die Ou Testament. Die Romeine het vereis dat mense die keiser ‘here’ [Gk. kurios] noem. Jesus is egter die ware Here bo enige keiser (v.11).

God het ‘n baba geword wat in ‘n krip gelê het (Johannes 1:14). Tog het Hy, terwyl Hy in die krip was, die wêreld, sy ma, die sterre, die heelal onderhou  (Kolossense 1:17, Hebreërs 1:3).

 

Hoe het die herders geweet die engel is nie ‘n hallusinasie nie? Hy het vir hulle ‘n teken gegee:  hulle sal ‘n baba vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê (v.12).  Daar was geen plek vir Josef en Maria in die herberg nie (v.7).  Jesus is in armoede gebore; Hy was nie welkom in die wêreld nie (v.24, Levitikus 12:8, Filippense 2:6-7, 2 Korintiërs 8:9, Johannes 1:11).

 

Soos daar by sy tweede koms ‘n menigte van engele sal wees, was dit ook by sy eerste koms: miljoene der miljoene, tienduisende maal tienduisende (v.13, Matteus 25:31, 2 Tessalonisense 1:7, Hebreërs 12:22, Openbaring 5:11, Daniël 7:10).  Dit is ironies dat die hemelse weermag die boodskap van vrede bring!  Die engele het die baba aanbid (Hebreërs 1:6).  Hulle het ‘n belang gehad in sy lewe op aarde:  sy geboorte in die krip, sy versoeking in die woestyn, Getsemane, die leë graf, sy hemelvaart (1 Timoteus 3:16).  Die engele het Hom geprys vir sy transendensie en immanensie, sy verhewenheid en betrokkenheid.

 

Eer aan God in die hoogste hemel (v.14, Psalm 29:1-2). Hosanna in die hoogste (Matteus 21:9).  Deur Jesus in wie die Vader ‘n welbehae het, is daar vir ons vrede met God, ander, en vrede in ons siele (v.14, 3:22, Kolossense 1:20, Romeine 5:1, Efesiërs 2:14, 17, Johannes 14:27).  Hierdie vrede is nie vir dié wat in hulle sonde volhard nie (Jesaja 48:22, Jeremia 6:14), maar vir God se uitverkore volk in wie Hy ‘n behae het (Efesiërs 1:5).

 

Die herders (v.15-20)

By ‘n predikante konferensie het een van die sprekers saam met ons onder die koeltebome gesit en vriendelik gesels. ‘n Bekende prediker het ‘n ander ds. voorgestel as ‘my goeie vriend.’  Die ander man het baie geëerd gevoel toe die ds. hom sy vriend noem.  ‘n Teologie professor van Potchefstroom het onlangs Parys Baptistekerk begin bywoon.  My vriend het van die professor gesê:  ‘Hy is so plat op die aarde.’

 

Ons hou daarvan as skatryk of bekende mense nederig en plat op die aarde is. Tog is dit ‘n klein tree om van ‘n mens se vlak neer te daal tot op die vlak van ‘n ander mens.  Om van ‘n engel se vlak neer te daal tot op ‘n mens se vlak sou ‘n indruk maak.  Maar hoe verbysterend is dit dat die ewige en almagtige God uit ‘n oneindige hoogte neerdaal om mens te word?  Dit is ‘n groter sprong as vir ‘n ryk en magtige koning om ‘n wurm of modder te word.  Dit is onbegryplik.  Die herders en Josef was in verwondering, en Maria het aanhoudend daaroor gedink.  So leer v.15-20.

 

Toe die engele terug is hemel toe, het die herders na Betlehem toe gegaan om te sien wat God geopenbaar het (v.15). Die herders het gegaan om die Lam van God en die groot Herder van die kudde te besoek (Matteus 2:6, Miga 5:3, Psalm 23, Johannes 10, 1:29).

 

In hulle vreugde, het hulle hul skape in die gevaarlike nag gelos en haastig na Betlehem toe gehardloop (v.16). Soos die engel gesê het, het hulle vir Maria en Josef gesien, en ook die baba wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip gelê is (v.16, 12).  Die wyse manne en die ster was nie daar soos wat kerskaartjies wys nie.  Hulle het Hom eers later besoek toe Hy in die huis was (Matteus 2:9-11).

 

Josef en Maria het seker gewonder hoe die herders geweet het van Jesus se geboorte. Die herders het vir hulle vertel wat die engel gesê het:  Hy is die Verlosser, die Messias, die Here (v.17).  Dit het bevestig wat die engel vir Maria en Josef gesê het (1:31-35, Matteus 1:21-23).  Almal was verwonderd en verbaas (v.18).  Maria het die herders se woorde soos ‘n kosbare skat in haar hart gehou (v.19, 51, vgl. Genesis 37:11).  Sy het die woorde gedurig oordink en daaroor gepeins, sodat sy dit nie sou vergeet nie (v.19).

 

Die herders het na hulle skape toe teruggekeer (v.20). Oppad het hulle God geprys en verheerlik dat die langverwagte Messias enVerlosser gebore is (v.20).

 

Moenie vergeet dat God beide verhewe en betrokke, transendent en immanent is nie.

 

As jy sy betrokkenheid ten koste van sy verhewenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • Leef en bid asof Hy jou ‘buddy’ is; ‘n groot Kersvader in die lug. Jy sal Hom nie saam met die herders en engele aanbid nie.
  • Hom nie vrees nie. Jy sal die onsin van mense glo wat sê dat Jesus aan hulle verskyn om ‘n koppie tee te drink.
  • In jou moles dink Hy wil jou help, maar kan nie. Jy sal elders kyk vir hulp. Jy sal hulpeloos en bang wees in jou nood en beproewing.
  • Nie sonde vrees nie. Jy sal sê God verstaan as jy verkeerd doen.
  • Bybelverse oor God se liefde afspeel teen verse oor sy heiligheid en toorn, en sê die hel bestaan nie. Gevolglik sal jy nie alles in die Bybel wil lees nie, maar net die verse wat jou laat lekker voel. Jy sal ook ‘n versagte evangelie met jou kinders en met ander deel; ‘n evangelie sonder ‘n heilige God en sy wet, ‘n oordeelsdag, en radikale selfverloëning.
  • Dink dis reg om kwaad te wees vir God. Jy sal geen respek vir Hom hê nie.
  • Oppervlakkige liede sing wat God as ‘n speelmaat uitbeeld.
  • Altyd aan Jesus dink as ‘n oulike baba in die krip, en Hom nie sien as die ewige God op sy troon nie.
  • Jouself in hoogmoed verhef. Jy kan nie sien hoe klein jý is, totdat jy besef hoe hoog Hý is nie (Jesaja 40:15, 17).
  • Nie dankbaar leef vir jou redding nie, omdat jy dink die vleeswording was ‘n klein stap van God wat Hom effens tot die mens neerbuig.

 

As jy God se verhewenheid ten koste van sy betrokkenheid beklemtoon, sal jy:

 

  • ‘n Slaafse vrees vir God hê, en nie met vrymoedigheid kan bid nie. Jy sal sê: ‘Hy is te hoog of te besig om my klein gebede te hoor.’
  • Soos Moslems aan God dink as ver verwyder. Jy sal dink jy kan nooit ‘n persoonlike verhouding met Hom hê nie.
  • Onseker leef oor die hemel. Jy sal wonder: ‘Hoe kan ‘n hoë en verhewe God sondaars in sy heilige teenwoordigheid toelaat?’
  • Nie soos die herders bly wees dat die Verlosser gekom het om jóú te red nie (v.20, 11). Jy sal dink: ‘As Hy belangstel om mense te help, is my kanse skraal. Hy sal eerder goeie mense, rykes, konings help as ‘n onbelangrike mens soos ek.’
  • Sonder God lewe en selfgesentreerd wees. Jy sal dink: ‘As ek nie na myself omsien nie, sal niemand nie.’
  • Hopeloos en hulpeloos voel in jou lyding. Jy sal vergeet van verse soos Hebreërs 4:15, Jesaja 63:9 en dink God verstaan nie jou pyn nie.

 

Leef gebalanseerd met die wete dat God verhewe en betrokke is:  Immanuel, God met ons.  Aanbid Hom as God in die krip, aan die kruis, en op die troon.  Staan in verwondering oor Hom (v.18), en moenie en apaties wees nie.  Dink en juig oor Hom as die Verlosser, die Messias, die Here (v.10-11, 19-20).

 

Jy hoef nie te voel Hy is ver weg nie. In Jesus het God naby gekom om sondaars te red en na Homself toe te bring.  Vir gelowiges is Hy deur die Gees nader as toe Hy in die krip en op aarde was:  Hy woon in ons.  Christene hoef nie depressief te wees nie.  Jesus is jou Verlosser, jou sondes is vergewe, God is jou Vader, jy is sy kind, jy het ‘n erfdeel in die hemel.  Jy sal Hom vir ewig daar geniet en aanbid as die verhewe en betrokke God.

 

Eenkeer toe ek ‘n prent vir die blog soek, het ek ‘n spotprent gesien van God wat met ‘pop corn’ op ‘n ‘lazy boy’ in die hemel sit, en op sy TV skerm kyk hoe mense op die aarde ly. Baie mense dink dit is ‘n akkurate uitbeelding van hoe dinge is.  Maar dit is glad nie so nie.  In sy boek, The Cross of Christ, haal John Stott ‘n toneelstukkie aan.[1]  Dit klink so.

 

Aan die einde van die tyd het daar biljoene mense verspreid gestaan op ‘n groot plein voor God se troon. Die meeste mense het teruggedeins voor sy helder lig.  Sommige mense naby die troon was arrogant en het hulle vuiste gebal.

 

‘Hoe kan God oordeel? Wat weet Hy van ons lyding?’ het ‘n jong brunette gesê.  Sy het haar mou afgeskeur en ‘n nommer gewys wat in ‘n Nazi konsentrasie kamp op haar arm getatoeëer is.  ‘Ons moes verskrikking, slae, marteling, en dood deurmaak!’

 

‘n Neger het gewys waar ‘n tou hom op sy nek gebrand het: ‘Ek is gelynch net omdat ek swart is!’ het hy gesê.

 

‘n Swanger skoolmeisie het nors gekyk en gesê: ‘Hoekom moet ek ly; dit was nie my skuld nie.’

 

Oral was daar groepe wat teen God gekla het oor die boosheid en lyding wat Hy in die wêreld toegelaat het. ‘God is gelukkig om in die hemel te bly waar alles soetheid en lig is; waar daar geen trane, vrees, honger, en haat is nie.  Wat weet God van wat mense op die aarde moes ly en deurmaak?  Hy is beskut in die hemel.’

 

Elke groep het hulle leier wat die meeste gely het, vorentoe gestuur: ‘n Jood, ‘n Neger, ‘n Japanees van Hiroshima, ‘n misvormde persoon met erge arthritis, ‘n kind wat sonder ledemate gebore is.  Hulle het beraadslaag in die middel van die plein.  Uiteindelik was hulle gereed om hulle saak voor God te stel.

 

Hulle het vereis dat God gevonnis moes word om as mens op die aarde te leef. Hulle het gesê:

 

‘Laat Hom as Jood gebore word. Laat mense hulle wenkbroue lig oor sy ma se “skandelike” swangerskap.  Laat sy werk so moeilik wees dat selfs sy naaste familie dink Hy is mal.  Laat die vriende wat die naaste aan Hom is Hom verraai.  Laat mense Hom valslik beskuldig en Hom met vooroordeel vonnis.  Laat Hom gemartel word.  Laat Hom op die einde ervaar wat dit beteken om alleen te wees.  Laat Hom dan sterf.  Laat Hom so sterf dat daar geen twyfel is Hy is dood nie.  Laat daar baie getuies wees om dit te bevestig.’

 

Toe die skare dit hoor, het mense saam gemor en gestem dat dit so moet gebeur. Toe elke leier klaar sy sê gesê het, was daar ‘n lang stilte.  Niemand het ‘n woord gesê nie.  Niemand het beweeg nie.  Skielik het almal besef dat God reeds die vonnis op Homself geneem het.

 

God is immanent. Hy het mens geword.  Hy is betrokke in jou menswees, in jou lyding.  Hy is ook transendent en waardig om aanbid te word.

[1] pp.387-388, vry vertaal