God met ons

God with us

In Griekse mitologie het die gode soms die vorm aangeneem van reptiele, voëls, die skuim van die see, ens. Een aand was daar ‘n slang in die bed van Olympias, Filippus van Macedonië se vrou.  Kort daarna is Aleksander die Grote gebore.  Die Grieke het geglo dat die oppergod-Zeus in die vorm van ‘n slang gekom het om met Olympias te slaap.  Gevolglik het hulle gesê dat Aleksander nie Filippus se seun is nie, maar Zeus s’n.[1]

 

Op grond van sulke mites sê skeptici dat die maagdelike geboorte in die Skrif sy oorsprong kry by heidense godsdienste. Maar vir gode om egbreuk te pleeg of vroue te verkrag het niks te doen met die maagdelike geboorte nie.  Buitendien was Jesus ‘n geskiedkundige persoon en nie ‘n mitologiese figuur nie.

 

Die feit dat daar nagemaakte diamante is, beteken nie dat egte diamante nie bestaan nie. En die feit dat daar stories soos Matteus 1 is, beteken nie Matteus het die maagdelike geboorte opgemaak nie.  Sou ‘n Jood wat heidense gode soos die pes vermy het, hulle mites oorneem en ‘n slim storie opmaak?

 

Elke Christen weet in sy hart dat die Kersboodskap van Matteus 1:22-23 waar is: Jesus is Immanuel, God met ons.

 

Die vervulling van die profesie (v.22)

In my eerste jaar van studies moes ons vir Ou Testament ‘n taak doen oor Jesaja 7:14: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.’  Volgens ons dosent het die teks nie gegaan oor Jesus nie, en het hy verbied dat ons dit in die taak sê.

 

Nadat hy weg is het Danie Haasbroek eendag by ons kollege aangekom en gevra hy wil boekies uitgee wat wys dat Jesus oral in die Ou Testament is. Later het Haasbroek stand ingeneem teen die 2016 Afrikaanse vertaling wat Jesus uit Ou Testament weg vertaal.  Twee voorbeelde wys wat hy bedoel het.  In die Ou Vertaling van Psalm 45:7-8, 110:1 lees ons:

 

“U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.  U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid.  Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle… Die HERE het tot my Here gespreek:  Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

 

In die 2016 Afrikaase Vertaling staan daar:

 

“U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.  U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid.  Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf – meer as u vriende… Die uitspraak van die Here vir my heer is:  ‘Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete maak.’”

 

‘n Kollega was by een van die eerste vergaderings van die 2016 Vertaling. Hy het ons vertel hoe een van die vertaalspan se leiers erg geskop het teen Jesus in die Ou Testament.  ‘n Groep kerke het hierteen kapsie gemaak.  By een vergadering wat ek bygewoon het, het ‘n leier van die vertaalspan uitgevaar teen Jesus in die Ou Testament.

 

Maar Jesus self sê dat die Skrifte van Hom getuig, en praat van alles wat die wet, profete, en Psalms oor Hom sê (Johannes 5:39, Lukas 24:44). Matteus het dit geglo, en die maagdelike geboorte van Jesus gesien as die vervulling van Jesaja 7:14 (vgl. Matteus 1:22-23).[2]

 

Toe Maria aan Josef verloof was (voordat hulle getrou het en saam geslaap het), was sy swanger deur die werking van die Heilige Gees. Toe Josef sy voorgenome huwelik met haar wou verbreek, het ‘n engel in ‘n droom vir hom gesê:  ‘Maria is swanger deur die werking van die Heilige Gees.  Moenie bang wees om met haar te trou nie.  Noem die baba Jesus, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.’ (v.18-21).  Op hierdie wyse het God die profesie vervul wat Hy 700 jaar tevore deur Jesaja gemaak het (Jesaja 7:14, vgl. 2 Petrus 1:21).  Wat presies sê Jesaja 7 oor die Messias?

 

Die hoofstuk vertel van die bose koning Agas in Jerusalem. Om hom te straf het God vir koning Resin van Sirië en Peka van Samaria teen Jerusalem gestuur.  Hulle wou egter verder gaan as wat God beveel het.  Hulle wou Dawid se nageslag uit Jerusalem wegvat en hulle eie koning aanstel (Psalm 132:11-12).  Jesaja het met ‘n boodskap van God gekom vir Agas en die volk:  ‘Moenie hierdie twee konings vrees nie.  Hulle woede is soos stompe wat nie meer brand nie, maar net rook.  God sal julle vyande binne 65 jaar vernietig, sodat hulle nie meer soos ‘n seer tand pla nie.’

 

God wou hê Agas moes sy trooswoord deur Jesaja glo. Hy kon vir enige teken vra om die profesie te bevestig.  Agas wou egter die koning van Assirië se hulp hê, en nie God s’n nie.  Hy het geweier om ‘n teken te vra.  Jesaja het gesê:  ‘As jy nie vir ‘n teken wil vra nie, sal God self ‘n teken gee:  ‘n ongetroude jong vrou (‘n maagd) sal swanger word en ‘n baba seun baar.  Sy naam sal Immanuel wees:  God met ons.  Ja, God is inderdaad met sy volk, en daarom hoef Israel nie haar vyande te vrees nie.’

 

Die inhoud van die profesie (v.23)

Deur die eeue het mense baie eienaardige sienings oor Maria gehad:

 

  • Sy het nie erfsonde nie en is sondeloos gebore (‘immaculate conception’).
  • Sy het ‘n maagd gebly nadat sy getrou het. Selfs Protestante soos Calvyn, Zwingli, en Luther het dit geglo.[3]
  • Sy het uit die dood uit opgestaan en opgevaar hemel toe.
  • Sy het ‘n aandeel in ons redding (‘co-redemptrix’).
  • Sy tree vir ons in (‘mediatrix’). Bernard van Clairvaux het in die 12de eeu gesê: ‘If you are terrified by the thunders of the Father, go to Jesus. If you are afraid to go to Jesus, then run to Mary.’[4]
  • Party vereer haar in liede en met beelde. In die 14de eeu het die Russiese Ortodokse Kerk gesê dat ‘n sekere prent van Maria en Jesus wonderwerke gedoen het; dat dit Moskou drie keer teen buitelandse magte beskerm het.[5]
  • Baie kerke en kloosters sê dat hulle relics van Maria het. Calvyn het gespot oor die honderde kerke en kloosters wat sê hulle het van Maria se melk in ‘n bottel. ‘Daar is genoeg melk vir ‘n melkplaas, of om babas vir jou hele lewe lank te voed,’ het hy gesê. Mense in Aix-la-Chapelle [Aachen] het gesê dat hulle een van Maria se hemde het. Calvyn het gesê die hemp is so groot dat sy ‘n reus sou moes wees om dit te dra.[6]

 

‘n Mens kan verstaan dat Moslems dink die Drie-Eenheid bestaan uit die Vader, die Moeder, en die Seun.[7]  ‘n Mens kan ook verstaan hoekom party mense so vurig teen die Maria-kultus gereageer het.  Toe John Knox ‘n slaaf was op ‘n Franse skip, het die Katolieke bemanning ‘n Maria-beeld voor sy gesig gehou en gesê hy moet dit soen.  Hy het dit by hulle gevat en dit oorboord gegooi.[8]

 

Ons moet tog pasop dat ons nie maak of Maria sleg was nie. Sy is die mees bevoorregte vrou in die geskiedenis (Lukas 1:42, 48).  In haar baarmoeder het sy die ewige en almagtige God gedra!  Hoe het dit gebeur?

 

‘n Kind kan nie gebore word sonder dat konsepsie eers plaasvind nie: die manlike spermsel moet die vroulike eiersel bevrug.  Die kind kry 23 chromosome by sy pa, en 23 by sy ma.  Die chromosome bevat die inligting vir die kind se geslag, blou oë, bak ore, skerp neus, skewe pinkie, kort tone, lang bene, ens.

 

In die geskiedenis is Maria se eersgebore Seun die uitsondering op die reël (v.18, 20, Lukas 1:34-35). Sy het nie met ‘n man geslaap nie:  die Gees het in haar baarmoeder gewerk, sodat Jesus nie half-God en half-mens was nie, maar volkome God en volkome mens (met 46 chromosome!) – twee nature in een Persoon.

 

Kon God gemaak het dat Jesus direk uit die hemel as mens neergedaal het? Of dat Hy gebore is uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou, en nogsteeds volkome God kon wees?  Ja, want geen ding sal vir God onmoontlik wees nie (Lukas 1:37).  Maar as Jesus direk uit die hemel neergedaal het as mens, sou ons sy volkome menslikheid betwyfel het.  En as Hy uit die verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou gebore is, sou ons sy volkome Godheid betwyfel het.  Daarom is Hy uit ‘n maagd gebore.

 

Jesus se geboorte uit ‘n maagd wys ook dat Hy sondeloos is (Lukas 1:35, Hebreërs 7:26). Dit wys ook dat Hy beide God en mens is.  Is dit belangrik dat Hy ‘n seun was, en nie ‘n dogter nie?  Ja, want in die eerste eeu was seuns die erfgename.  Verder moes ‘n seun die wettige opvolger tot die troon van Dawid wees (Lukas 1:32).  Daarom is Jesus ook die Seun van die Mens (Daniël 7:13-14), en die Seun van God (Lukas 1:35).  Hy is Immanuel, God met ons.  Verse soos Jesaja 9:5, Kolossense 2:9, Hebreërs 1:3 wys duidelik dat Hy God is.

 

Laat die Kersboodskap van ‘God met ons’ nie net vir jou ‘n mooi storie wees nie, maar ‘n realiteit wat jou lewe verander. Dit sal die manier waarop jy na die lewe kyk verander.

 

  • Stry jy teen die vyand: Satan, vlees, en die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle teen die Kanaäniete moes veg (Deuteronomium 31:6, 8).
  • Vrees jy as gevolg van ‘n taak wat vir jou te groot lyk? God is met jou soos wat Hy met Josua was toe hy die volk in die Beloofde Land moes inlei (Josua 1:5, 9); soos Hy met Salomo was toe hy die tempel moes bou (1 Kronieke 28:20).
  • Is jy werkloos of angstig oor geld? God is met jou soos Hy in Hebreërs 13:5 belowe het: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
  • Moet jy reis of is jy weg van jou familie af? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy deur die woestyn na sy oom toe gevlug het (Genesis 28:15).
  • Is jy ‘n onwelkom vreemdeling in die wêreld? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle in ‘n vreemde land moes woon (Jesaja 43:5).
  • Moet jy moeilike woorde vir iemand sê? Veg mense met jou want jy deel die evangelie met hulle? God is met jou soos wat Hy met Jeremia was (Jeremia 1:8, 19).
  • Moet jy ‘n mede-gelowige aanspreek oor sonde? God is met jou soos Jesus in Matteus 18:20 belowe het: “Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.” (die konteks van hierdie vers gaan oor kerkdissipline).
  • Tug God jou vir sonde? God is met jou soos Hy met Israel was toe Hy húlle moes tugtig (Jeremia 30:11, vgl. Hebreërs 12:11).
  • Vrees jy ‘n belangrike persoon of ‘n boelie? God is met jou soos Hy met Israel was teen die koning van Babel (Jeremia 42:11).
  • Moet jy ‘n groot werk vir Jesus doen? God is met jou soos Hy met die volk was toe hulle die tempel moes herbou (Haggai 1:13, 2:4).
  • Vrees jy om die evangelie te deel by die skool, die werk, of met familie? God is met jou soos Jesus vir die dissipels en Paulus belowe het: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld… Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou” (Matteus 28:20, Handelinge 18:10).
  • Moet jy na ‘n moeilike familie-situasie toe terugkeer? God is met jou soos Hy met Jakob was toe hy na 20 jaar vir Esau in die gesig moes kyk (Genesis 31:3, 32:11).
  • Moet jy as leier optree of by iemand anders oorneem? God is met jou soos Hy met Josua was toe hy by Moses moes oorneem (Deuteronomium 31:23).
  • Gaan jy deur diep waters? God is met jou soos Hy in Jesaja 43:2 belowe het: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.”
  • Voel dit of Here jou gelos het? God is altyd met jou soos Hy in Jesaja 41:10 belowe het: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.” Terwyl jy op die aarde is, sal Hy altyd deur sy Gees in en by jou wees (Johannes 14:16-17). Hy sal ook vir ewig in die hemel met jou wees (Openbaring 21:3).
  • Voel dit of die duiwel jou nie wil uitlos nie? God is met jou en sal Satan gou onder jou voete verbrysel (Romeine 16:20).
  • Moet jy vrede maak met iemand? God is met jou wanneer jy dit doen (2 Korintiërs 13:11).
  • Is jy bang om dood te gaan? God is met jou as jy deur die vallei van die dood moet stap. Dawid sê: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.” (Psalm 23:4).

 

Vir Christene lê die grootste troos nie daarin dat God ons probleme kan wegvat nie, maar dat Hy met ons is. Ja, Hy kon keer dat Daniël in die leeukuil gegooi word of sy vriende in die vuuroond.  Maar Hy het nie.  Toe hulle egter in die leeukuil en vuuroond was, was Hy met hulle.  Ons gebed in lyding is dus nie heel eerste:  ‘Vat die pyn weg’ nie, maar ‘Help dat ek nie vergeet U is met my nie.’  Aan die kruis het Jesus gesê:  ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ sodat jy dit nooit hoef te sê nie.

 

Maar as jy sy liefde verwerp, sal Hy jou vir altyd verlaat in die hel (2 Tessalonisense 1:9). Dit hoef nie so te wees as jy deur geloof na Hom toe kom, en vra dat Hy jou red van die sonde in jou hart en op jou rekord nie.  As jy deel is van die volk wie se sonde vergewe is (v.21), is jy ook deel van die ‘ons’ in ‘Immanuel, God met ons’ (v.23).  Dan is God met jou van die begin tot die einde (v.23, 28:20), en vir ewig daarna (Openbaring 21:3).

 

Net as jy ‘Immanuel’ onthou kan jy Kersfees reg vier: nie net een keer per jaar nie, maar 24/7 totdat Jesus kom, en dan vir altyd.  Jesus se vleeswording is nie veronderstel om een dag in ‘n jaar lekker te maak nie, maar om jou hele lewe te verander.

 

In die tipiese liefdesverhaal omhels die dapper prins sy beeldskone prinses, en sê: ‘Ek sal jou nooit alleen los of verlaat nie; ek sal altyd daar wees.’  Tog weet ons dis net woorde.  Dit gebeur net in stories.  In die werklikheid los akteurs en ander mense mekaar links en regs sodra daar ‘n mooier prins of prinses verby kom.  Selfs dié wat mekaar tot die einde toe liefhet, moet totsiens sê as een van hulle sterf.

 

Met God is dit anders: Hy is altyd met ons en los ons nooit nie – nie eers in die dood of daarna nie.  Dit is die boodskap van Kersfees.  Is daar beter nuus as dit?

[1] William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew, p.142

[2] Vir oortuigende argumente kan jy die volgende bronne naslaan: E.J. Young, The New International Commentary on the Old Testament: Isaiah, vol.1; Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah; J. Gresham Machen, The Virgin Birth of Christ; William Hendriksen, New Testament Commentary: Matthew

[3] N.R. Neeham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, p.117 n.2

[4] Needham, vol.2, p.195

[5] Ibid, p.230

[6] Needham, vol.3, pp.251-252

[7] Needham, vol.2, p.34

[8] Needham, vol.3, p.409