’n Voorbeeld van goeie rentmeesterskap

Stacking coins

Tiaan se baas gaan vir ses maande oorsee. Hy gee vir Tiaan R1 miljoen om die plaas se water en ligte te betaal, chloor en suur te koop vir die swembad, perdekos te koop, die plaaswerkers te betaal, gif te koop vir die mielies, en diesel vir die trekkers.  Tiaan voel ryk met R1 miljoen in sy kluis.  Die waarheid is dat hy net ‘n rentmeester is wat iemand anders se geld moet bestuur.

 

So ook is jy net ‘n rentmeester van die tyd, geld, huis, en verhoudings wat God aan jou toevertrou het.  In 1 Korintiërs 16:1-12 het ons ‘n voorbeeld van hoe om hierdie dinge goed en tot eer van God te bestuur.

 

Geld (v.1-4)

Toe ek in Nelspruit gebly het, moes ek eenkeer tandarts toe gaan. Hy het in ‘n kwaai stem vir my gesê:  ‘Julle jong mense is penny wise, pound foolish.’  Sy bedoeling was:  julle spaar baie sente deur nie gereeld die tandarts te besoek nie, en as jy dan móét gaan, kos dit hope meer sente as wat jy gespaar het.

 

Ook in die geestelike realm kan ons so wees: ons het baie skatte op die aarde, maar niks in die hemel nie.  As jy regtig ‘n goeie rentmeester van God se geld wil wees, moet jy nie net hier-en-nou slim werk nie.  Gebruik ook jou geld om vir jou skatte weg te lê in die hemel.  Hoe doen jy dit?  Dra by op die regte plek en op die regte manier.  Paulus wys vir ons hoe in v.1-4.

 

Die Korintiërs het vir Paulus ‘n brief geskryf (7:1, 25, 8:1, 12:1). Hulle het onder andere gevra oor die finansiële bydae vir die arm gelowiges in Jerusalem (v.1).  In 2 Korintiërs 8-9 het Paulus weer hieroor geskryf.  Die Christene in Jerusalem was arm omdat hulle hul huise verkoop het, verstrooi is deur die vervolging, en ‘n kwaai hongersnood moes deurmaak (Handelinge 4:34, 8:1, 11:28).  Paulus het ‘n bydae gevra van die kerke in die Galasië, Macedonië en Achaje provinsies.  Indien nodig, sou hy self saam met die afgevaardigdes gereis het om die geld af te lewer (v.4).

 

Wees ‘n goeie rentmeester van God se geld. Sorg vir jou gesin, en moenie geld mors, jaag, daaroor stres, of lui wees nie.  Ek wil egter op een area fokus:  jou bydrae vir die Here se werk.  In v.2-3 gee Paulus vyf tydlose lesse hieroor.

 

[1] Gee elke Sondag as die gelowiges byeenkom (v.2). As jy op dié manier gee, is dit nie onder die emosionele druk van die situasie nie.  Ook bly jy in ‘n goeie gewoonte om te gee.  Om weekliks by te dra is slim, omdat jy nie op een slag baie hoef uit te gee nie (volgens 2 Kor.8:10 het die Korintiërs vir ‘n hele jaar lank gespaar).  As jy weekliks bydra, leer jy om gereeld te gee, en nie net as jy ‘gelei’ of lus voel nie (2 Korintiërs 9:7).

 

[2] Almal moet iets gee (v.2).  Ja, ons verwag nie dat arm mense moet gee nie.  Tog sal selfs die arm persoon wat vir God en sy naaste lief is, wil gee (1 Johannes 3:16-18, 2 Korintiërs 8:1-5).

 

[3] Gee vrywillig volgens jou salaris en nie volgens ‘n tiende wet nie (v.2). God dwing of boelie jou nie om te gee nie.  Ons kerk se leiers kollekteer nie by mense se huise nie.  Ons kyk nie wie gee wat nie.  Party mense gee R20; ander gee R10 000.  Die vrywillige bydrae impliseer ons gee nie net as ons iets kan terugkry nie (bv. ‘n jaffel, vetkoek, koeksister, kerrie en rys, of pannekoek by ‘n basaar).  Nêrens in die Nuwe Testament het kerke basaars gehou om geld in te samel nie.  Die kerk het nie op ongelowiges gesteun om kos te koop by ‘n basaar, net omdat die gelowiges traag was om by te dra nie.

 

[4] Gee vir ‘n spesifieke doel (Romeine 15:26). Ons finansiële state wys hoe en waarvoor die geld gebruik word:  salarisse, ondersteuning van sendelinge, armsorg, admininistrasie, die instandhouding van geboue.  As ons nie ‘n spesifieke doel het waarvoor ons gee nie, moet ons nie ‘n offergawe opneem nie.  Paulus self het gesê daar moenie ‘n insameling wees as hy kom nie (v.2).

 

[5] Wees betroubaar as jy met geld werk (v.3, 1 Timoteus 3:8). Paulus het gesê dat die Korintiërs mense moet afvaardig om die geld Jerusalem toe te vat.  Dit het hy gedoen om hulle te verseker dat hy nie die geld vir homself vat nie – hulle kan hom vertrou.  Hy wou hulle aanbeveling op skrif hê, sodat niemand later kon sê Paulus het sy vriende gekies, sodat hy van die geld kon kry nie (v.3).

 

Mense wat die offergawe opneem, die geld tel en bank, die boeke of internet betalings doen, moenie geldgierig wees nie. Die gemeente moet ‘n geruste hart hê oor dié wat die geld werk.  Paulus self wou “voorkom dat iemand ons sou belaster in verband met hierdie groot bydrae wat deur ons berei word.  Want ons bedink wat goed is nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense.” (2 Korintiërs 8:20-21).

 

Tyd (v.5-9)

‘n Paar maande gelede het iemand ‘n Whatsapp gestuur met ‘n aanhaling van John Piper: ‘Een van die grootste voordele van Facebook en Twitter, is om op laaste Dag te bewys dat mense nie biddeloos was weens ‘n gebrek aan tyd nie.’[1]  Tyd is soos ‘n kosbare diamant wat ons moet oppas.  Paulus se lewe in v.5-9 is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat die tyd uitgekoop het.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy in Efese (v.8). Hy kon direk oor die see gevaar het Korinte toe.  Hy wou egter in ‘n hoefystervorm oor die land reis.  Hy wou deur Macedonië (Griekeland se noord-provinsie) reis om ‘n bydrae te kry in Tessalonika, Berea, en Filippi (v.5).  Daarna sou hy na Griekeland se suid-provinsie reis (Achaje) om die Korintiërs te sien (v.5).

 

Net soos met die geld (v.1-4), wou hy sy tyd goed spandeer. As dit God se wil was, sou hy die winter by hulle deurbring (v.6-7, Jakobus 4:15).  Hy wou die geld by hulle kry, hulle opbou, geestelike gemeenskap hou, beskikbaar wees ná die harde brief wat hulle van hom ontvang het, wag totdat die winter reënseisoen en storms op see verby was (v.6-7, Handelinge 20:1-3).  Dit lyk ook of hy sy Romeine-brief gedurende hierdie tyd geskryf het (Romeine 16:1, 23).

 

Paulus het gevra dat hulle hom op sy reis moes aanhelp – moontlik om ‘n skip te reël of reisgenote uit die gemeente met hom saam te stuur (v.6). Waarheen was hy oppad? Dalk Jerusalem toe (v.3-4).  Hy was onseker hoe die Here hom sou lei (v.6-7, vgl. Handelinge 20:3).  Paulus kon nie dadelik kom nie, maar sou tot en met Pinkster (einde Mei) in Efese bly (v.8).  Wou hy nog Jode bereik voordat hulle Jerusalem toe sou reis vir Pinkster?  Paulus het ‘n oop deur vir die evangelie gehad (v.9):  mense het luister en tot bekering gekom (Handelinge 14:27, 19:11, 20, Openbaring 3:8).  Paulus wou die kans gebruik voordat die deur toeklap (v.9, Handelinge 19:23).

 

Koop die tyd uit.[2]  Gebruik heel eerste jou tyd om gereed te kry vir die ewigheid:  “So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” (Johannes 12:36).  Tyd is ‘n klein skanier waaraan die groot swaar deur van die ewigheid hang.  Ons gee 13 jaar aan skool, 4 jaar aan universiteit, 35 om voor te berei vir aftrede.  Hoeveel tyd gee jy om jouself voor te berei vir die ewigheid?

 

Moenie jou kanse mors nie – veral nie as God naby jou is nie. “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” (Jesaja 55:6).  “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.” (2 Korintiërs 6:2).  “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Hebreërs 4:7).

 

Dink daaraan hoe mense op hulle sterfbeddens wens vir nóg tyd; hoe mense in die hel wens hulle het die tyd beter gebruik. Het jy jare van jou lewe gemors?  Stel dit dadelik reg:  “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.” (Psalm 119:60).  Moenie dink jy kan dit later regstel nie.  Hoe weet jy daar sal ‘n later wees?  “Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie.” (Spreuke 27:1).

 

Wees veral versigtig vir die dinge wat jou tyd mors.

 

  • Sonde en Satan. Ons moet die tyd uitkoop, juis omdat die dae boos is (Efesiërs 5:16). As jy jou tyd mors en leeglê, sal die vyand vir jou iets vind om te doen.
  • Die dryf en begeerte na wêreldse dinge. Onthou dat die wêreld en alles daarin verbygaan (1 Johannes 2:16-17).
  • Luiheid. Moenie ledig rondsit nie.
  • Mense wat wil nonsens praat. Mense wat nie vorentoe beweeg nie, al spandeer jy ure aan hulle.
  • Dinge wat dringend is, maar nie noodwendig belangrik nie.
  • Verslawing aan tegnologie. Mense mors ure op die internet; op YouTube. Jy spring van een ‘link’ na die volgende. Ons mors ure op Facebook en Whatsapp. Voordat jy sien is 2 of 3 ure weg. TV steel ook tyd. Soms is daar niks op nie, maar ons spring deur die kanale. Playstation en X-Box kan ook ‘n hele of ‘n halwe dag steel – pasop.

 

Onthou: jy kan nie verlore tyd herwin soos wat jy verlore geld herwin nie.

 

Gasvryheid (v.10-11)

Ek het onlangs met ‘n vriend gepraat wat skuldig voel oor hulle nuwe huis met ‘n mooi tuin, baie kamers met dakwaaiers, ens. Dit is onnodig dat hy skuldig voel.  Volgens Filippense 4:11-13 kon Paulus teëspoed en voorspoed verduur deur Christus wat vir hom krag gee.  Hy kon teëspoed verduur sonder om te kla of angstig te wees.  Hy kon voorspoed geniet sonder om hoogmoedig te wees of af te dwaal.

 

Ek ken ‘n Christen man wat opsetlik ‘n groot huis gesoek het, omdat hy gasvry wou wees: ‘n groot sitkamer vir Bybelstudies, ‘n studeer kamer vir berading, kamers om weeskinders in te neem, ‘n groot onthaal area om vir 70 tot 80 gaste kos te gee, genoeg kamers omdat daar gedurig mense by hom oorgebly het.  Paulus self het ‘n huis gehuur en vriende gehuisves (vgl. Handelinge 28:30).  Nou het hy gevra dat die Korintiërs dieselfde moes doen vir Timoteus (v.10-11).

 

Paulus het solank vir Erastus en Timoteus vooruit gestuur om die kollekte af te haal (v.10, Handelinge 19:21-22). Timoteus het moontlik ook 1 Korintiërs vir die gemeente afgelewer.  Paulus wou hê die Korintiërs moes vir senuweeagtige Timoteus gerusstel (v.10, 2 Timoteus 1:7).  Hulle moes nie op hom neersien omdat hy jonk is nie (v.11, 1 Timoteus 4:12).  Hulle moes hom nie moedeloos maak met hulle sonde nie.  Hulle moes hom nie aanvat oor die harde woorde in Paulus se brief nie.  Hulle moes respek vir hom hê:  nie vir sy ouderdom nie, maar vir sy posisie (v.10, 1 Tessalonisense 5:11-12, 3:2, Hebreërs 13:7, 17, Filippense 2:20-22).  Hulle moes nie só optree dat hy wou vlug nie, maar moes hom in vrede aanhelp op sy reis (v.11, 6).  Paulus het hom terug verwag saam met die broers (v.11).  Die ‘broers’ van wie Paulus hier praat, verwys moontlik na broers uit Korinte wat die kerk se antwoord op sý brief (1 Korintiërs) moes bring.

 

Gebruik jou huis en bronne om gasvry wees. Hoe doen jy dit?

 

[1] Gee jouself voordat jy jou huis of kos gee. Laat jou gaste gemaklik en tuis voel (v.10).  Hulle moenie voel hulle is in die pad van jou besige skedule nie.  Jy moet gasvry wees sonder om daaroor te kla (1 Petrus 4:9).  Moet daarom nie gedurig onder jou gaste se voete skoonmaak, skottelgoed gaan was, e-posse antwoord, in die garage werk, dorp toe ry om goed te koop, op jou selfoon wees, stry en baklei, in jou kantoor sit, alleen staan en kook terwyl jou gaste sit en wag nie.

 

[2] Maak jou huis kinder-vriendelik voordat jou gaste opdaag. Kry vir die kinders iets om te doen; wees gaaf met hulle.  Mense voel maklik onwelkom as dit lyk asof hulle kinders vir jou ‘n las is.

 

[3] Wees gereed vir gaste op kort kennisgewing.

 

[4] Vra vir jou gaste of hulle vir iets allergies is; of daar iets is wat hulle nie eet nie.

 

[5] Kom in ‘n gewoonte om saam met jou gaste te bid voordat hulle ry.

 

[6] Ken die verskil tussen gasvryheid en vermaaklikheid. Jy hoef nie ryk te wees om gasvry te wees nie.  Gee vir jou gaste tee sonder koekies, sop en brood sonder nagereg.  Gee jou tyd en aandag vir hulle.  Gesels met hulle.  Mense gee nie om vir groente as hulle lekker gekuier het nie.  ‘n Bord sop met liefde is beter as ‘n pot beesstert waar daar ‘n dik en ongemaklike atmosfeer is.  “Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.” (Spreuke 15:17).  “Beter is ‘n stuk droë brood en rus daarby as ‘n huis vol offermaaltye met getwis.” (Spreuke 17:1).

 

Hoekom moet ons gasvry wees? As ons gasvry is teenoor ander gelowiges, is ons gasvry teenoor die Here (Matteus 25:35, 40).

 

Verhoudings (v.12)

Tydens ons onlangse vakansie het ons by vriende gebly. My vriend het elke aand 6 of 7 oproepe gemaak om te hoor hoe dit gaan met predikante, ouderlinge, lidmate, en besoekers wat ‘n belang het in die gemeente.  Ek het hom daaroor gevra.  Hy het gesê dat geld nie die verhoudings wat hy só bou, kan koop nie.  Dit is die punt van v.12.  Ek staan beskaam deur sy voorbeeld.

 

In hulle brief aan Paulus het die Korintiërs gevra na die populêre Apollos (v.12, 1:12, Handelinge 18:27-28). Paulus was nederig, en het nie ‘n probleem gehad dat hulle Apollos bo hom verkies nie.  Hy het vir Apollos aangemoedig om saam met die broers Korinte toe te gaan (v.12).  Apollos wou nie dadelik gaan nie (v.12).  Dalk was dit om sy vrienskap met Paulus te bewaar, of om te keer dat die Korintiërs hom verafgod (1:12).  Dalk het hy ander take gehad om af te handel, of dalk het hy te min reisgeld gehad.

 

Bou aan jou verhouding met jou naaste, en pas dit op.

 

[1] Moenie ten koste van jou gesin verhoudings bou met ander nie.  Spandeer tyd met jou gesin.  Sit saam om die tafel en eet; moenie voor die TV sit nie.

 

[2] Bou vriendskappe in die kerk. Probeer om nie ‘n minuut voor die diens in te kom, en dadelik weer te ry as die kerk uitkom nie.  Drink saam tee en kuier saam.  Skakel in by ‘n Bybelstudie groep.  Bel mekaar en kuier by mekaar se huise.  Moenie dat preke op TV, die radio, die internet, of e-kerk die erediens of geestelike gemeenskap vervang nie.

 

[3] Moenie te veel maak van oppervlakkige Facebook vriendskappe, waar mense like druk as jy verjaar nie.

 

[4] Pasop vir selfone! Het jy al gesien hoe mense by mekaar kuier, maar almal sit op hulle fone en kuier met ander?

 

Om vriende te wen en vriendskappe te koester moet jy ander bo jouself stel (soos Paulus in v.12). God wil hê ons moet goeie vriende hê.  Dit is immers nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18).

 

Wat het toe met Tiaan gebeur? Na ses maande was die baas terug van sy oorsese reis.  Hy het die Maandag by die plaas aangekom, en dadelik gaan kyk na die toestand van sy plaaswerkers, perde, mielies, trekkers, en die swembad.  Hy het strokies gevra vir die water en ligte, salarisse, kos, gif, diesel, chloor en suur.  Alles was in orde.  Tiaan was betroubaar en het hom goed van sy taak gekwyt.  Die baas het die plaas en alles daarop aan Tiaan bemaak.  Ja, hy het dit vir hom gegee!

 

Wat sal jou Meester doen en sê oor hoe jy die tyd, geld, huise, besittings, en mense gebruik het wat Hy aan jou toevertrou het?

[1] Vry vertaal. Bron onbekend.

[2] Van die idees in my toepassing het ek gekry uit Jonathan Edwards, Works: vol.2, pp.233-236