Ontmoet die historiese Jesus

Real Jesus

Het jy al ooit National Geographic programme oor die historiese Jesus gekyk, of artikels daaroor gelees (bv. The Search for the Historical Jesus)?  In die programme en artikels probeer die argeoloë, joernaliste, en teoloë die Bybelse Jesus weg redeneer.  Die ‘historiese Jesus’ van hulle navorsing is niks meer as ‘n vergete geraamte in ‘n graf nie; ‘n Jesus wat jou depressief laat.

 

Volgens die Bybel is die historiese Jesus nie ‘n bleek en droewige figuur nie, maar die opgestane Here wat vir ewig lewe; die liefdevolle God-mens en Vriend van sondaars. Dít is die historiese Jesus van wie Johannes skryf in 1 Johannes 1:1-4.

 

Geniet gemeenskap met sy Persoon

In die middel van die tweede eeu was daar ‘n gevaarlike vals lering wat sy kop uitgesteek het: Gnostisisme.[1]  Hierdie mense het geglo dat hulle ‘n spesiale lig en kennis [Gk. gnosis] van die waarheid het wat ander nie het nie.  Hulle het geglo dat dié wat hierdie vlak van kennis bereik het, gered sal word.  Hulle het geglo dat Jesus geheime met die apostels gedeel het, wat net aan húlle oorgedra is.  Volgens hulle is hierdie geheime nie in die Ou Testament of eers die hele Nuwe Testament opgeteken nie, maar net in húlle geskrifte (bv. die Evangelie van Tomas wat in die jaar 140 n.C. geskryf is – The Da Vinci Code het hierdie geskrifte aan die man op straat bekend gestel).

 

Die Gnostici het geglo dat alle materie, die aarde, die mens se liggaam, en dinge soos seks boos is (vgl. 1 Timoteus 4:3). Hulle het gesê dat die ware God alles gemaak het.  Daar het egter ‘n ander god op die toneel verskyn:  die Demiurge.  Volgens hulle was hierdie die slegte en bose god van die Ou Testament, wat nie dieselfde god is as die God van die Nuwe Testament nie.  In die vroeë kerk het Marcion hierdie lering bekend gemaak, en in ons tyd glo die liberale teoloë dit.

 

Volgens hulle sou die ware God nie met die onreine materiële heelal meng nie. Hulle het geglo dat die materiële wêreld ons gevange hou.  Die ware God het toe vir Jesus gestuur om ons van die Demiurge se onderdrukking te red, sodat ons uit ons bose liggame en die heelal kan ontsnap.  Hierdie is dieselfde idees wat Griekse filosowe geglo het, en wat Buddhiste en Hindoes vandag glo.

 

Vir die Gnostici was Jesus nie God in die vlees nie, maar die eerste en sterkste van die geestelike wesens of aeons. Vandag glo die Jehova’s Getuies iets soortgelyk.  Die Gnostici het gesê dat Jesus net soos ‘n mens gelyk het.  Party het geglo dat ‘n geestelike wese (Christus) op die menslike Jesus neergedaal het by sy doop, en Hom weer verlaat het by sy kruisiging.

 

Gnostisisme was reeds in haar doeke-stadium toe Johannes sy eerste brief geskryf het. In v.1-3 wys Johannes vir ons wie die historiese en ware Jesus is.

 

Die historiese Jesus was van die begin af by die Vader (v.1-2). In 2:13-14 praat Johannes van God wat van die begin af daar was.  Johannes 1:1 sê van Jesus:  “In die begin was die Woord”.  Hy is die God wat in die begin die hemel en die aarde gemaak het (Genesis 1:1).  Hy is voor tyd en ewig.  Hy het ‘n mens geword en die Vader aan ons geopenbaar (v.2).  Hy is die Een vir wie die apostels gesien, gehoor, en aangeraak het (v.1-3, Johannes 1:14, 20:27, Lukas 24:36-43).  Johannes wys duidelik dat materie en die mens se liggaam nie boos is nie!  Omdat die Gnostici Jesus se vleeswording ontken het, moes hulle nie lieg en sê hulle kry hulle kennis by die apostels nie (4:2-3, 6).

 

Ons gebruik woorde om ons gedagtes bekend te maak. Die historiese Jesus is die Woord wat God en sy gedagtes openbaar of bekend maak (v.1, Johannes 1:1, 18).  Hy is die Woord wat lewe gee (v.1).  Die Johannes-Evangelie sê:

 

  • “In die begin was die Woord… Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” (1:1, 3-4).
  • “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.” (5:21).
  • “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (6:63).
  • “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (11:25).
  • “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (14:6).

 

Jesus is die Ewige Lewe wat in die Drie-Eenheid bestaan (v.2, 5:20).  “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.” (Johannes 5:26).  Jesus gee hierdie lewe aan elkeen wat die Vader en die Seun ken (Johannes 17:3).  Dít is die ware kennis:  nie ‘n mistiese kennis nie (1 Timoteus 6:20), maar ‘n kennis wat jou lewe verander (2:3-6, 13); ‘n intieme kennis of gemeenskap met die Vader en sy Seun (v.3).  Johannes praat van die Seun as ‘Jesus Christus’ om te wys dat Jesus en Christus nie twee aparte persone is wat by Jesus se doop een geword het, en weer by sy kruisdood geskei is nie.

 

Al hoor, sien, en raak ons nie soos die apostels aan Jesus nie (v.1-3), kan ons gemeenskap met Hom hê deur die Woord en die Gees. Ons gemeenskap met Hom bestaan nie in ‘n mistiese kennis of ‘n stem in jou kop nie (v.3).  Om gemeenskap met God te hê hoef jy nie uit jou ‘bose’ liggaam te ontsnap nie.  Jy kan sy teenwoordigheid en liefde geniet terwyl jy nog in jou aardse liggaam is (v.3).  Jou hoogste doel is nie om uit jou liggaam te ontsnap of jou identiteit te ontdek nie, maar om gemeenskap met God te geniet (v.3).  God het ons geroep “tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.” (1 Korintiërs 1:9).  Soos Maria, moet ons by sy voete sit en sy teenwoordigheid geniet (Lukas 10:38-42).

 

In die hemel sal ons deel in die perfekte gemeenskap wat die Vader en die Seun geniet het voor Genesis 1 (v.3, Genesis 1:26, Johannes 17:5, 21, 24). Die Heilige Gees was ook deel van hierdie gemeenskap.  Hy is die blydskap tussen die Vader en die Seun.  Die Heilige Gees bring ook die Vader en die Seun na ons harte toe, sodat ons gemeenskap met God kan geniet (Johannes 14:16-17, 23).  As ons in die Gees bly, sal ons ook in die Vader en die Seun bly (2:24).  Die gemeenskap van die Heilige Gees is met ons (2 Korintiërs 13:13). Deur Jesus bid ons in die Gees tot die Vader (Efesiërs 2:18).  As die Gees in ons werk, dan woon Christus in ons harte deur die geloof, en word ons vervul met al die volheid van God (Efesiërs 3:16-17, 19).

 

Geniet gemeenskap met sy Persoon. Voordat jy dit sal soek en begeer, moet jy eers verstaan hoe wonderlik dit is.  Die mens se siel is soos ‘n dor land wat nie versadig word met wind, donderweer, die son, of sandstorms nie, maar net met water.  Net so is God alleen die lewegewende water wat jou dor siel kan versadig (Psalm 36:10, Johannes 4:14, 7:37, Openbaring 22:1).  Niks in die skepping kan hierdie leemte vul nie.  As jy dit met enigiets buiten God probeer vul, los dit jou leeg.  Geld, mense, kos, nuwe goed, dwelms, drank, seks, kinders hê, trou, die natuur, dagdromery, goeie gesondheid, wen, roem, niks anders kan jou versadig nie (Jeremia 2:13, Prediker 2:1-11).

 

Die geur van ‘n Yesterday-today-and-tomorrow, ‘n troupant se kleurvolle vlerke, Swiss sjokolade wat in jou mond smelt, ‘n man en vrou se liefde vir mekaar is maar die bladmusiek en die flou sonpaneel-liggie in jou tuin.  God is die briljante musiek-uitvoering en die helder son.  As jy eers die musiek gehoor het en die son gesien het, wil jy nie meer vir die bladmusiek staar of die sonpaneel-liggie hê nie.  Saam met Augustinus weet jy jou siel rus nie, totdat dit in Hom rus.[2]  God is vir jou siel soos daardie enkele sleutel wat die slot kan oopsluit.

 

Jou verhouding met God is nou nie meer soos die verhouding tussen ‘n slaaf en ‘n harde Meester, of ‘n Regter en ‘n misdadiger nie. Julle verhouding is nou dié van goeie vriende, ‘n Vader en sy seun, ‘n Bruidegom en sy bruid wat mekaar uitsoek.  Skielik is Bybelstudie, gebed, en die bywoning van kerk byeenkomste nie meer ‘n plig of ‘n boksie om af te merk nie, maar ‘n vreugdevolle gemeenskap met God en sy kinders (v.3, Handelinge 2:42).  Die ware gelowige soek God nie soos ‘n verhewe Kersvader vir wat Hy kan gee nie.  Ons soek Hom vir Homself.  Howell Harris was ‘n tydgenoot van die bekende 18de-eeu evangelis, George Whitefield.  Arnold Dallimore beskryf die maande kort na sy bekering soos volg:

 

‘Harris’s knowledge of Divine things during these days was small. He simply knew he loved the Lord and wanted to love Him more, and in this pursuit he sought out quiet places where he could be secluded with Him in prayer.  One of his favourite retreats was the church at Llangasty – the village in which he then taught school – and on one occasion shortly after his conversion he climbed into its tower to be the more alone with the Lord.  There, as he remained in intercession for some hours, he experienced an overwhelming sense of the presence and power of God.  That lonely church tower became to him a holy of holies, and he afterwards wrote,

 

I felt suddenly my heart melting within me, like wax before the fire, with love to God my Saviour; and also felt, not only love and peace, but a longing to be dissolved [to die] and be with Christ. There was a cry in my inmost soul which I was totally unacquainted with before, “Abba Father!”… I knew that I was His child, and that He loved and heard me.  My soul being filled and satiated, cried, “It is enough!  I am satisfied!  Give me strength and I will follow Thee through fire and water!”’[3]

 

Iemand wat hierdie gemeenskap soek, sal ontslae raak van die sonde wat dit verhinder (v.6-7). God en alles wat Hy is (heilig, soewerein, liefde, alwys, ewig, alomteenwoordig, regverdig, alwetend, almagtigtig, onveranderlik, getrou, barmhartig, roemryk, ens.) word nou die oseaan waarin jy swem en die lug wat jy inasem.

 

Enige goeie pa geniet dit as sy kind opgewonde is om die naweek saam met hom in die Drankensberge te wees. Net so geniet God dit as ons Hom geniet, en soek Hy gemeenskap met ons.

 

Verbly jou in sy evangelie

Die sig van ‘n mooi sonsondergang, die smaak van ‘n sagte beesfillet met sampioensous, die melodie van mooi musiek bring vreugde.  Tog vind jy eers volkome vreugde as jy vir iemand daarvan vertel, en hulle ook daarin deel.  So ook is ons vreugde nie volkome as ons net sien hoe wonderlik die Seun van God is nie (v.1-2).  Om volkome bly te wees moet ons vir ander daarvan vertel, sodat hulle saam met ons gemeenskap kan geniet en in ons vreugde kan deel (v.3-4, 1 Tessalonisense 3:8-9).

 

Johannes is soos ‘n vulkaan wat nie meer kán binne bly nie: hy móét eenvoudig uitroep hoe wonderlik Jesus is.  Hy moet soveel as moontlik mense kry om God saam met hom te prys en te geniet (v.3-4).

 

Johannes het van hierdie historiese Jesus gepreek en geskryf (v.2-4). Net soos wat hy Jesus se woorde gehoor het, kan ander dit deur hom hoor (v.3).  Dit is nie dat Johannes dit eerstehands gehoor het, en ander dit tweede- of tiendehands kry nie.  As God ‘n sondaar se oë en ore vir die evangelie oopmaak, hoor hy nie net die prediker se stem nie, maar die Lewende Woord, Jesus self (v.1).  Hierdie evangelie-waarhede in die Skrif wek ‘n volle blydskap in die een wat dit hoor, sowel as in die een wat dit preek (v.4).  Hulle deel in mekaar se blydskap (vgl. Johannes 4:36).

 

Verbly jou in sy evangelie. Hoe doen jy dit?  Erken en bely dat jy jouself liefhet met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag, en jou hele verstand.  Jy leef vir jouself.  Jy gebruik ander en trap op hulle om bo uit te kom.  Jy gee nie om vir God wat vir jou asem gee nie, en jy voel ‘n veer vir ander.  Al wie vir jou saak maak is jy self, asook dié wat jou nie teëstaan in jou doel om jouself te bevorder nie.

 

Voel skaam voor God wat jou bose hart ken en jou nie uitgewis het nie, maar wat jou liefhet en die straf wat jy verdien op Homself geneem het aan die kruis. Laat sy bloed jou skuldige gewete, jou swart hart, en jou sondige rekord skoon was.  Geniet sy goedheid en liefde, nou en vir ewig in die hemel (v.3-4).  Sê saam met Dawid:  “in your presence there is fullness of joy; at your right hand are pleasures forevermore.” (Psalm 16:11, ESV).  Moenie dink die evangelie is net vir ongelowiges nie, maar verbly jou in sy evangelie al is jy vir 20 jaar reeds ‘n Christen (v.4).

 

Hoekom moet jy jou in die evangelie verbly? Die Bybel beveel dit:  “verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Psalm 37:4).  “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal:  Verbly julle!” (Filippense 4:4).  Petrus praat van Jesus “in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus 1:8).  Só som C.S. Lewis dit op:  ‘It is a Christian duty, as you know, for everyone to be as happy as he can.’[4]

 

Omtrent twee jaar gelede het ek in ‘n tydskrif gelees van ‘n afgetrede ds. wat gesê het hy was vir jare mislei oor Jesus. ‘Ek besef nou dat daar nooit eers ‘n historiese Jesus bestaan het nie,’ het hy gesê.  Is dit nie vreemd dat mense die liberale teoloë en ateïste glo wat 2000 jaar ná Jesus leef, maar die getuienis verwerp van mense wat Hom gesien, gehoor, en aangeraak het?  Mense glo nie wat die Bybel sê oor wat 2000 jaar terug gebeur het nie, maar hulle glo wat wetenskaplikes sê oor wat 4.6 biljoen jaar gelede gebeur het.  Ek verkies om my by die Bybel te skaar.  Ek het die historiese Jesus ontmoet, en weet ek sal Hom eendag met my eie oë sien.

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.65-66, 94-103

[2] The Confessions of Saint Augustine, Whitaker House, NEW KENSINGTON, 1996, p.11

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield, p.239

[4] John Piper, Desiring God, p.94