’n Vriend op wie jy kan staatmaak

Friend of God

William Tyndale is bekend as die man wat die eerste Engelse Bybel vertaal het uit die oorpronklike tale. Weens die Katolieke se teenstand kon hy nie in Engeland bly nie.  Hy het Duitsland toe getrek om verder aan sy vertaling te werk.  Uiteindelik het hy verhuis na Antwerp in Nederland.

 

Die Britse regering het vir Henry Phillips as spioen gehuur om vir Tyndale te vang. Phillips het ‘n tong van silwer gehad, en voor lank het hy Tyndale se guns gewen.  Hoewel Phillips in sy hart die hervorming gehaat het, het hy Tyndale vir sy werk geprys, en gesê hoe Engeland geestelike hervorming nodig het.

 

Nadat Phillips genoegsame inligting verkry het, het hy op sy perd geklim en 40 km na Brussels toe gery om vir Tyndale te verraai. Hy het die soldate gaan haal en teruggereis Antwerp toe.  Hy het vir Tyndale by sy huis ontmoet en gevra dat hulle saam in die dorp moet gaan eet.  Net toe hulle wou loop, het Phillips daarop aangedring dat Tyndale eerste uit die huis moet uitloop.  Toe Tyndale by die deur uit is het daar twee wagte gestaan.  Phillips het sy lang wysvinger bo Tyndale se kop gehou, sodat die wagte kon sien dít was die man wat hulle moes arresteer.  Phillips het vir Tyndale vorentoe gestamp.  Die wagte het hom met toue vasgebind.  Na ‘n paar weke het hulle hom na Vilvorde tronk naby Brussels gelei.  Meer as ‘n jaar later, in Oktober 1536, het hulle Tyndale verwurg en verbrand.[1]

 

Selfs mense wat jy dink is jou vriende, kan jou soos ‘n Judas in die rug steek.  Moenie jou vertroue in mense stel nie – hulle sál jou teleurstel.  God alleen is ‘n Vriend op wie jy geheel en al kan staatmaak.  Eksodus 34 illustreer dit.

 

God se onveranderlike karakter (v.1-9)

As ek in my studeerkamer sit, kan ek deur my venster sien hoe my nege maande oue rifrug op die gras lê. Oor die afgelope week het ek besef hy is so onvoorspelbaar soos ‘n ysbeer of ‘n mak luiperd.  Een dag lê hy 20 meter van die heining af, en storm as mense verbyloop.  Op ‘n ander dag staan hy reg by die heining, en blaf nie eers as iemand langs hom verbyloop nie.  Sy karakter en temperament is wispelturig.

 

Dalk is hy soos sy baas. Ek voel ten minste een keer in twee weke mismoedig.  My vrou is byna in elke opsig so stabiel soos ‘n super fiks persoon se hartklop.  Tog kan selfs sý een keer in 6 maande vir 2 ure af voel.  Net God is onveranderlik in sy karakter en sy wese.  Hy is die Rots op wie jy kan steun, ‘n Vriend op wie jy met jou hele hart kan staatmaak.

 

Toe die volk in hfst.32 die goue kalf aanbid het, het Moses die kliptafels gebreek om te wys dat hulle die verbond gebreek het. In hfst.33 het Moses gebid dat God nie sy volk alleen moet los nie.  God het sy gebed verhoor en die verbond hernu (hfst.34).

 

God het gesê dat Moses weer twee kliptafels moes kap soos die eerstes. God sou die verbond herskryf (v.1).  Soos die eerste keer, moes Moses vroeg teen die berg opklim en homself voor God stel (v.2).  Aäron en die leiers moes nie teen die berg opklim soos hulle in hfst.24 gedoen het nie (v.3).  Na die episode met die goue kalf sou God hulle doodmaak.  Geen vee kon naby die berg kom nie (v.3).  As enige skape, beeste, bokke, donkies teen die berg gewy het, sou hulle geskiet of gestenig word (19:12-13).

 

Moses het gedoen soos God hom beveel het (v.4). God het sy heerlikheid in die wolk bedek (v.5, 24:16-17, 33:20, 23).  Hy het sy Naam geopenbaar en so sy heerlikheid vir Moses gewys (v.6-7, 33:18-19).  God se Naam word openbaar sy karakter (3:14).  Die openbaring in v.6-7 word dikwels aangehaal in die res van die Ou Testament (Numeri 14:18, Nehemia 9:17, Psalm 86:15, 103:8, 145:8, Joël 2:13, Jona 4:2).  Wie is hierdie God?  Volgens v.6-7 is Hy:

 

  • Die soewereine Here.
  • Die ware God wat alles geskep het en dit onderhou.
  • ‘n Barmhartige God vol ontferming wat Homself tot sondaars neerbuig in hulle ellende. Hy straf ons nie volgens wat ons verdien nie, maar gee vir sondaars ‘n tweede kans (vgl. Jona 3:1).
  • Genadig. Hy stort onverdiende guns oor ons uit. Dink maar aan hoe Hy vir die Israeliete manna gegee het, water uit die rots, die Beloofde Land, sy kosbare Woord.
  • Lankmoedig en geduldig met sondaars. Die volk het aanhoudend gekla, en God het hulle nie uitgewis nie! Soos ‘n beker wat oorloop met wyn is God se troue liefde vir sondaars. Hy is liefde (1 Johannes 4:8). Hy bewys sy liefde vir ons deurdat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:6, 8, 10). Hy is getrou aan sy verbond en sy volk. Hy kan nie ontrou wees nie.
  • ‘n God wat sy liefde bewys aan duisende. Sy straf is net tot in die derde en vierde geslag. Sy liefde is dus baie groter as sy straf, net soos wat ‘n by van nature heuning gee, en net steek as jy hom terg.[2] Die Skrif sê: “For his anger is but for a moment, and his favor is for a lifetime.” (Psalm 30:6, ESV). “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.” (Psalm 103:8-12).
  • ‘n God wat vergewe, maar nie sonde duld nie. Hy straf pa’s, asook hulle kinders en kleinkinders wat hulle slegte voorbeeld navolg (v.7, 20:5, vgl. Deuteronomium 24:16).

 

Toe God homself só geopenbaar het, het Moses klein gevoel en homself na die aarde toe neergebuig (v.8). Weer het hy God se guns gevra.  Hy wou hê die Here moes saam trek, die volk vergewe, en hulle weer as sy erfdeel aanneem (v.9, 6-7, 33:15-17, 19:5).

 

Thomas Watson sê van mense: ‘They change as the chameleon, into several colours, but God’s immutable [unchangeable].’[3]  Dank God dat sy wese en karakter stabiel is en nie verander soos mense s’n nie.  “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8).  “Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.” (Psalm 102:28).  God gee nie vandag vir jou geskenke, en môre steek Hy jou in die rug nie.  Hy bly dieselfde.  “Elke goeie [geskenk] en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.“ (Jakobus 1:17).  God is nie partykeer soos v.6-7 beskryf nie.  Hy is altyd so.

 

Hoe sou dit gewees het as God kon verander in sy wese en karakter? Sal jy bid en jouself toevertrou aan ‘n God wat nie die beste is nie, maar beter kan word?  As God kan verander, bestaan die moontlikheid dat Hy swakker of boos kan word.  En wat sal dán van ons word?

 

God is ook onveranderlik in sy raadsplan. “Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.” (Psalm 33:11).  God werk alles volgens die raad van sy wil (Efesiërs 1:11).  Twyfel jy soms oor jou redding?  God het jou gekies en liefgehad voordat Hy die wêreld gemaak het, en sal nie van plan verander nie (Romeine 8:29-30, 9:11, 13, Efesiërs 1:4, 2 Timoteus 2:19, Jeremia 31:3).

 

Dalk sê jy: ‘Maar God se plan het verander in Jona 3:10.  Hy het Nineve vergewe nadat Hy gesê het Hy sal dit binne 40 dae verwoes.’  In Jeremia 18:7-8 sê God dat Hy ‘n volk sal straf wat in haar sonde volhard.  As die volk haar egter bekeer, sal Hy haar vergewe.  In Jona 3:10 is dit dus nie God wat verander het nie, maar die inwoners van Nineve.  Moenie vrees dat Hy van plan sal verander, en die ewige lewe by jou wegvat nie.  Sy raadsplan is onveranderlik en seker soos Hy.

 

As jy dink God verander net soos mense, sal jy sinies en agterdogtig wees, en Hom nie vertrou nie. Of dit sal vir jou nie saakmaak of jy God vertrou of mense nie.  En as jy op mense vertrou met alles in jou, sal jy teleurgestel word.

 

God se onveranderlike verbond (v.10-35)

In die week wat verby is moes ons ‘n drom vervang op die kerk se drukker. Die masjien het strepe gedruk.  Ons wou dit vroeg in die week reg hê, omdat ons oor die naweek nuwe gemeenteboekies wou uitgee.  Toe ek die plek bel, het hulle belowe om Woensdag te kom.  Toe niemand opdaag nie, het ek hulle wéér Donderdag gebel.  Die persoon met wie ek gepraat het, het belowe iemand is oppad.  Maar nogsteeds het niemand gekom nie.  Ek het hulle Vrydag 09:00 gebel en gesê ek wil ‘n klag lê.  Die man het my sy woord gegee dat hy dadelik iemand sou stuur.  Die persoon het eers later in die middag gekom.  Die man wat my gehelp het se beloftes het verander soos die seisoene.  God is nie so nie, maar hou sy verbond en belofte.  Hy is ‘n Vriend op wie jy kan staatmaak.

 

God het belowe om die verbond met sy volk te vernuwe (v.10). Soos in Egipte en die woestyn sou Hy wonders doen (v.10).  Die wonders sou nuut wees soos nog nooit tevore nie (v.10).  Watse wonders kan groter wees as die tien plae en die Rooisee?  Hy verwys seker hier na die wonder van verlossing (v.10).

 

God sou die Beloofde Land vir sy volk gee en hulle vyande verdryf. Dit was sý kant van die ooreenkoms.  In v.11-26 stel Hy sekere verbondsterme, en spel Hy húlle kant van die ooreenkoms uit.

 

[1] Die volk moes versigtig wees om nie in ‘n strik te trap, en ‘n verbond te maak met die volke en hulle gode nie (v.12). Hulle moes die Kanaäniete se altare afbreek en hulle ‘heilige’ boomstamme afkap, sodat dit hulle nie versoek het nie (v.13).  God is jaloers oor sy volk soos ‘n Bruidegom oor sy bruid.  Hy wou nie hê sy volk moes geestelike egbreuk pleeg, met die volke ondertrou, vir hulle afgode offers bring, of vir hulleself gode van goud maak nie (v.14-17, 32:4, vgl. Jakobus 4:4-5).

 

[2] Die volk moes God aanbid deur Feeste te hou. Die Fees van Ongesuurde Brode in die maand Abib sou hulle daaraan herinner dat God (nie die gode nie!) sy volk uit Egipte gered het (v.18).  Hulle moes hul eersgebore diere offer en hul eersgebore seuns loskoop, om só te onthou dat God (nie die gode nie!) Egipte se eersgeborenes getref het, en Israel s’n gespaar het (v.19-20).  Die Sabbat sou hulle daaraan herinner dat God (nie die gode nie!) hulle uit die land van slawerny gered het, sodat hulle in die nuwe land kon rus (v.21).

 

Die Feeste van die Oes en Insameling sou hulle daaraan herinner dat God (nie die gode nie!) vir hulle ploegtyd en oestyd gegee het (v.22).  Ja, hulle moes hard werk, maar kon ook rus in die vertroue dat God (nie die gode nie!) vir hulle sou sorg (v.21-22). God (nie die gode nie!) sou hulle land, plase, en gesinne bewaar het terwyl hulle by die Feeste was (v.23-24).

 

By die Feeste moes hulle alle suurdeeg verwyder en die paaslam se vleis opeet, om te onthou dat God (nie die gode nie!) hulle haastig uit Egipte en uit die hand van die doodsengel gered het (v.25, 12:34, 39).  Die eerstevrug het gewaarborg dat God (nie die gode nie!) goeie reën en ‘n goeie oes vir hulle sou gee (v.26, Spreuke 3:9-10).  Hulle moes nie soos die heidene wees nie.  Sommige van die heiden nasies sou ‘n bokkie in sy ma se melk kook en die melk op die lande sprinkel.  Hulle het geglo dat die gode hulle offer sou aanneem en goeie oeste en reën gee.  God se volk moes nie soos hulle wees nie (v.26).

 

Moses moes al hierdie reëls in ‘n boek opskryf (v.27). God het die Tien Gebooie op kliptafels geskryf (v.1).

 

‘n Paar jaar gelede het die weerprofete gesê dit sal die koudste winter in 50 jaar wees. Daardie jaar se winter was lieflik en matig, met vier tot ses dae wat regtig koud was.  Die einde van laasjaar het hulle gesê die reën kom eers in Maart.  In Gauteng het ons al goeie reën gehad.  In die afgelope week het die Vrystaat goeie reën gehad.  Ons bid vir nóg reën, maar die punt is dat mense wat die weer voorspel soms hulle woorde moet sluk.  God is nie so nie, maar is  onveranderlik in sy Woord.

 

Moses het die reëls en die Tien Gebooie op die berg gekry. Gedurende hierdie tyd het hy vir 40 dae en nagte niks geëet en gedrink nie (v.28, 24:18).  Toe hy met die kliptafels van die berg afgekom het, het sy gesig geblink nadat hy God se heerlikheid gesien het (v.29, hfst.33-34).  Omdat hy so nederig was, was hy onbewus daarvan (v.29, Numeri 12:3).  Aäron en die volk het dit egter gesien.  Hulle het gevrees en gevlug (v.30).  Moses het hulle nader geroep en vir die leiers gesê dat God die volk vergewe het, en die verbond met hulle vernuwe het (v.31).  Hy het die volk nader geroep en die reëls van hfst.34 vir hulle voorgehou (v.32).

 

Moses het ‘n sluier oor sy gesig gesit sodat die volk hóm nie moes eer nie. Hy het dit ook gedoen sodat hulle nie sou sien hoe die heerlikheid kwyn, en in ongeloof verval nie (v.33, 2 Korintiërs 3:13).  As Moses in die tent met God gepraat het, het hy die sluier afgehaal omdat hy God se heerlikheid wou sien (vgl. 33:18).  Sy gesig het dan weer geblink.  Hy het die sluier teruggesit as hy met die volk gepraat het (v.34-35).

 

Wees bly dat God onveranderlik is in sy verbond en beloftes. Hoekom het God nie die volk uitgewis toe hulle die goue kalf aanbid het nie?  Was dit nie as gevolg van sy verbond en belofte aan Abraham, Isak, Jakob, en hulle nageslag nie (32:13)?  Die ou Sondagskool liedjie sê:  ‘Die liefde van Jesus wonderbaar… die mens verander maar Jesus nooit, kom ons verheerlik sy Naam.’  God doen wat Hy belowe (v.1, 10, Jesaja 54:10).  Hy is nie ‘n mens wat lieg nie (Numeri 23:19, 1 Samuel 15:29, Titus 1:2).  Selfs as jý verander en ontrou is, verander Hy nie (2 Timoteus 2:13).  En dit is juis om hierdie rede dat Hy jou nie summier uitwis nie (Maleagi 3:6).  Hoe sou dit wees as Jesus soos Allah was?  Volgens die Moslems stuur Allah mense hemel of hel toe volgens die bui waarin hy daardie dag is.

 

Iemand vra: ‘Maar het God nie in Hebreërs 8 sy verbond verander, omdat die ou een onvolmaak was nie?’  Dit is nie Gód wat die verbond gebreek het nie, maar die volk.  En dis nie asof die verbond misluk het nie.  Inteendeel, God het mens geword om die Tien Gebooie perfek te onderhou, en namens sy volk die straf te kry asof Hý dit gebreek het.  In die Nuwe Testament skryf God nie die terme van die verbond op klip nie, maar op ons harte sodat ons dit wíl en kán doen (Hebreërs 8:10).  God verwyder die sluier wat ons oë verblind, sodat ons Jesus se heerlikheid kan sien (2 Korintiërs 3:14-18).  Hoewel ons gesigte nie soos Moses s’n blink nie, sien mense Jesus se heerlikheid in ons heilige lewens (2 Korintiërs 3:18).  Sy heerlikheid word nie dowwer soos in Moses se geval nie, maar helderder namate ons God se heerlikheid meer en meer sien in Jesus (2 Korintiërs 3:18, 4:6).  Soek Hom in die Skrif en gebed.  Omdat Hy nie verander nie, kan jy Hom en sy heerlikheid daar vind soos Moses.

 

Is jy ongered? God se onveranderlikheid is jou nagmêrrie.  God haat nogsteeds sonde soos in v.7.  As jy na Hom toe draai sal Hy jou vergewe (v.6-7), maar as jy jou nie bekeer nie sal Hy jou vir ewig tot in die ergste graad vernietig in die hel.  Vertrou op Jesus en sy kruisdood as die enigste hoop vir sondaars.  As God sy verbond moes verander was jy hopeloos.  Dank Hom dat jy in die storm ‘n vaste anker het waaraan jy kan vashou (Hebreërs 6:18-19).

 

Joseph Scriven is in 1819 in Ierland gebore. Toe hy 25 was, het sy verloofde verdrink die aand voordat hulle sou trou.  Sy lewe was in skerwe.  Hy het Kanada toe verhuis.  In 1855 het hy nuus ontvang dat sy ma baie siek is.  Hy het ‘n gedig geskryf om haar te troos:  ‘Pray without ceasing.’  Charles Converse het dit later getoonset en ‘n nuwe titel gegee:  ‘What a Friend we have in Jesus.’  In 1857 het hy Port Hope, Ontario toe verhuis.  Daar het hy ‘n vrou ontmoet en beplan om met haar te trou.  Maar in Augustus 1860 het sy longontsteking gekry en gesterf.  Soos Scriven benodig jy in voorspoed en teëspoed ‘n Vriend wat jou nooit sal faal nie.  In Jesus het ons so ‘n Vriend.

[1] Brian Edwards, God’s Outlaw, pp.148-170

[2] Thomas Watson, A Body of Divinity, p.93

[3] Ibid, p.67