Die waarheid oor Jesus

Names of Jesus

Een van die beste preke wat ek nog ooit geluister het, is ‘n preek van John Piper oor die oppermag en algehele gesag van Jesus Christus (sien https://www.youtube.com/watch?v=VeKgfUGtcI0 vir ‘n aptytwekker). Ek kan nie die preek luister sonder om emosioneel te word nie.  As ek daarna luister wil ek op my gesig val en vir Jesus prys.  Die Bybel en die Gees wat in my woon getuig dat dit wat Piper in die preek sê, die waarheid is oor Jesus.  In Johannes 1:35-52 besing Johannes Jesus se lof.  As jy ‘n gelowige is, wil die Gees hê jy moet die waarheid oor Jesus hoor, sodat jy Hom saam met die dissipels en die engele kan prys.

 

Johannes se getuienis (v.35-37)

Volgens Martyn Lloyd-Jones was George Whitefield die grootste prediker in die geskiedenis van Brittanje. Onder Whitefield se bediening was daar herlewings in Engeland, Skotland, en Amerika.  Dit was nie vreemd dat 20 tot 50 duisend mense na sy opelug prediking geluister het nie.  Tog was hy nederig.  Oral waar hy gepreek het, het hy vir John Wesley by die skare aanbeveel.  Whitefield het in sy dagboek geskryf:  ‘Lord, grant he may be preferred before me wherever he goes.’[1]  ‘n Bekende storie vertel dat een van sy aanhangers hom gevra het of hy vir John Wesley in die hemel sal sien.  Whitefield se antwoord het hom geskok:  ‘Nee.  Wesley sal so naby die troon wees dat ek hom nie kan sien nie.’  Ten spyte van Whitefield en Wesley se skerp teologiese verskille, het hy gevra dat Wesley op sy begrafnis moet preek.[2]  Volgens v.35-37 het Johannes dieselfde gesindheid gehad teenoor Jesus.  Anders as in Whitefield en Wesley se geval, was Johannes nie groter as Jesus of naastenby sy gelyke nie (vgl. v.27).

 

Die dag nadat Johannes vir Jesus as die Messias en Lam van God uitgewys het (v.29-34), het hy dit weer aan twee van sy dissipels uitgewys (v.35-36). Johannes het gekom om die Messias se pad voor te berei (v.23), en het dus nie omgegee dat hy twee dissipels ‘verloor’ het nie.  Hy wou nie hê dat sy dissipels op hóm moes fokus nie, maar op Jesus (3:30). is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (v.36, 29).  Johannes se dissipels het hom geglo en vir Jesus gevolg (v.37).  Hulle was Jesus se eerste dissipels.  Eers later sou Jesus hulle amptelik roep en vissers van mense maak (Matteus 4:18-22, Lukas 5:1-11).

 

Wys mense na Jesus toe en nie na jouself toe nie, want net Hý kan mense se leë harte vul, behoeftes vervul, en sonde vergewe. Jy sal dit net doen as jy deur die Woord besef hoe groot en wonderlik Hý is, en hoe klein jý is.  Soos Johannes sal dit vir jou die belangrikste wees dat mense die ware Jesus moet ken, en dat hulle Hóm sal liefhê.  Of hulle Calviniste of Arminiane, Doppers of Baptiste is, is sekondêr.

 

Toe my vriend hoor dat ‘n bekende prediker ‘n kerk in die area sou plant, was hy ontsteld. Hy het egter later besef dat almal wat nie teen Jesus is nie, vir Hom is (Lukas 9:40).  ‘Ons werk vir dieselfde Koninkryk,’ het hy gesê.  Dit is ‘n mooi voorbeeld van iemand wat wil hê mense moet by Jesus uitkom, en nie by homself of sy kerk nie.  Sorg dat die kruis sentraal is in jou boodskap (v.36).  Die kruis sal vir mense wys dat hulle niks is nie, en Jesus alles.

 

Andreas se getuienis (v.38-43)

Laas Maandag het ons in Greenstone Mall gaan rondloop.  Toe ons by ‘n speelgoed winkel instap, was ons kinders in ekstase.  Hulle het na mekaar toe gehardloop en gesê:  ‘Kom kyk, kom kyk!’  Iemand wat soos Andreas ontdek hoe wonderlik Jesus is, sal dieselfde doen en vir almal vertel.

 

Jesus het gesien hoe die twee dissipels Hom volg en het gevra: ‘Wat soek julle?’  Hulle het geweet Hy is ‘n Rabbi.  Daarom wou hulle by Hom leer en het hulle Hom gevra waar Hy bly (v.38-39).  Hy het hulle genooi om by sy gasheer se huis te kom kuier (v.40).  Dit was die tiende uur.  Hulle het die dag saam met Hom deurgebring en na sy lering geluister (v.40).  Dit was lewensveranderend, sodat die twee dissipels jare later die presiese tyd onthou het (v.40).

 

Wie was hierdie dissipels? Die een was Andreas, Simon Petrus se broer (v.41).  Die tweede was dalk Johannes, Jakobus se broer.  Hy was nederig en het homself nie geïdentifiseer nie (soos wat hy in die res van die boek ook gedoen het).  Andreas se hart het in hom gebrand toe hy vir Jesus ontmoet.  Hy kon nie stilbly nie en moes net vir iemand vertel.  Hy het sy broer gesoek en eerste vir hom gesê dat hulle die Messias gevind het (v.42).  Jesus het heel waarskynlik vir hulle gesê dat Hy die Messias is (vgl. 4:25-26).

 

Andreas het sy broer na Jesus toe gebring (v.43). Hy wou hê dat Simon ook bly moes wees in Jesus en sy wonderlike lering hoor.  Jesus het nie net geweet wie Simon is nie, maar het ook geweet wat hy sou word.  Hy sou nie meer ‘n onstabiele en impulsiewe man wees nie, maar ‘n stabiele rots en die leier van die apostels wat gehelp het om die Nuwe Testament te skryf (v.43, Matteus 16:18, Efesiërs 2:20).  Sy naam sou dus nie meer Simon wees nie, maar Petrus of Cefas wat ‘rots’ beteken.

 

Vertel vir ander hoe wonderlik Jesus is. Bid, lees, luister, en peins totdat dit in jou hart brand en jy nie anders kan as om vir iemand te vertel nie.  Deel dit met jou gesin en familie voordat jy op ‘n sending uitreik na die buiteland toe gaan (v.42).  In Handelinge 2 het Petrus op een dag 3000 bekerings gesien.  Dalk is jy nie so nie.  Dalk is jy soos Andreas wat individue na Jesus toe bring (v.42, 6:8-9, 12:20-22).  Dalk sê jy:  ‘Ek weet nie genoeg nie.’  Wees soos Andreas en deel wat jy weet (v.42).  Of wees soos Andreas en bring mense na Jesus toe, sodat Hy vir hulle kan vertel.  Gee ‘n boek of ‘n traktaatjie, sê vir hulle om Johannes te lees, nooi hulle kerk toe, vat hulle na iemand toe wat weet (12:20-22), stuur vir hulle ‘n link, nooi mense na die kruisie-veldtog toe.  Net soos wat ‘n visserman enigiets sal doen om die vis te lok (Markus 1:17), moet jy alles in jou vermoë doen om mense by Jesus uit te bring (1 Korintiërs 9:22).

 

Hoekom moet jy vir ander van Jesus vertel? Hoekom sal jy nie vir hulle wil sê nie?  Is dit reg dat jy die lewende brood en water vir jouself hou?

 

Filippus se getuienis (v.44-46)

Toe ek in 2008-2010 ‘n beradingkursus gedoen het, het ons die getuienis gekyk van ‘n Joodse sielkundige wat tot bekering gekom het toe iemand Jesaja 53 vir hom gelees het. Toe die persoon die hoofstuk gelees het was hy woedend.  ‘Hoe durf hulle die Nuwe Testamentiese Jesus op my afdwing?’ het hy gedink.  Toe die vrou vir hom sê sy het uit die Ou Testament gelees, kon hy sy ore nie glo nie.  Hy het besef dat die Ou Testament duidelik wys Jesus van Nasaret is die Messias.  Soos vir Filippus, was dit vir hom duidelik dat die Skrif se sentrale boodskap in een woord opgesom kan word:  Jesus.

 

Die volgende dag het Jesus na Betsaida aan die See van Galilea se noordkus toe gegaan (v.44-45). Dit was ‘n bose stad (Matteus 11:20-21).  Tog het Jesus ‘n paar van die stad se inwoners gekies om Hom te volg:  Filippus, Petrus, en Andreas (v.44-45).  Net soos Andreas het Filippus die Messias gevind nadat die Messias hom eerste gevind het (v.44, 46, Lukas 19:1-10).  Die ou lied sê:  ‘As Hy ons roep tot sy diens hoe sal ons dit mag weier?’  Filippus was opgewonde en het vir Nataniël gesê dat hulle die Een gevind het van wie Moses en die Ou Testament profete geskryf het (v.46, 5:39, Lukas 24:27, 44).  ‘Vind’ impliseer dat hulle gesoek het.  Hulle het die Skrif deursoek en seker die datums in Daniël 9:24-27 bereken.  Op hierdie manier het hulle geweet dat die Messias se koms naby was.  Wie was hierdie Messias?  Jesus van Nasaret, Josef se stiefseun (v.46).

 

Filippus het die Skrif bestudeer en verlang dat God se profesieë oor die Messias se eerste koms vervul sou word. Net so moet ons die Skrif bestudeer, sodat ons met verlange kan uitsien dat God die profesieë oor Jesus se tweede koms sal vervul.  Moenie hierdie studie afskeep, omdat jy verskille met ander Christene vrees nie.  Lees en oordink die Skrif wanneer dit by hierdie onderwerp kom.  God belowe seën as jy dit doen (Openbaring 1:3).  Lees ander se sienings, weeg dit op, en besluit wat jy glo.  Sien saam met ander uit dat Jesus weer sal kom en alles herstel.

 

Jy moet egter nie net hierdie onderwerp bestudeer nie.  Moet ook nie dink jy het alles onder die knie, en kan niks leer by dié wat van jou verskil nie.  Onthou ook dat jy nie die presiese datum van sy tweede koms kan bereken soos wat hulle dit met sy eerste koms kon doen nie (Matteus 24:36).  Wanneer Jesus weer kom sal dit nie onopgemerk, sag, en stil wees soos sy eerste koms nie.  Wees gereed.

 

Nataniël se getuienis (v.47-52)

Nadat ek een keer die evangelie met ‘n man en vrou gedeel het, het ek hulle huistoe gestuur om Johannes-Evangelie te lees. Na ‘n week het hulle terug gekom en vir my vertel hoe wonderlik Jesus is.  Hulle het geborrel, sodat ek moes stilbly en luister.  Hulle het van sy wonderwerke vertel, en gesê hoe lelik mense met Hom was.  Hulle het vertel hoe die Jode nie kon insien dat Hy die Messias is nie.  Hulle het gesê:  ‘Hy is Seun van God!’  Hulle het van sy kragtige lering vertel.  Hulle het van sy kruisdood en opstanding vertel.  Hulle was opgewonde en wou hê almal moes weet.  Hulle kon nie wag om huis toe te gaan en die ander drie Evangelies te lees nie.  Oor die volgende drie weke het hulle Matteus, Markus, en Lukas gelees.  Hulle kon nie uitgepraat raak oor Jesus nie.  So was Nataniël, en so moet ons ook wees.

 

Nataniël (Bartholomeus, vgl. Matteus 10:3) was oorspronklik van Kana af (21:2). Hy was bevooroordeeld toe hy hoor dat Jesus van Nasaret af kom (v.47).  Soos Brakpan was Nasaret ‘n dorp met ‘n reputasie (7:41, 52, Matteus 2:23).  ‘Kan enigiets goed uit Nasaret kom?’ het hy gevra (v.47).  Filippus het geantwoord:  ‘Kom sien vir jouself!’ (v.47). Toe Nataniël aankom, het Jesus gesê:  ‘Hier is ‘n ware Israeliet in wie daar geen bedrog is nie’ (v.48, ek wonder wat Jesus van jou en my sou sê?).  Jesus het sy hart geken (2:25) en geweet hy is een uit ‘n miljoen.  Hy was nie ‘n bedrieër soos Jakob en sy nageslag nie.  Hy was eerlik en opreg, en nie skynheilig nie (Psalm 32:2, Openbaring 14:5).  In sy hart was hy ‘n opregte Jood.  Hy was nie maar net uiterlik godsdienstig nie (Romeine 2:28-29, 9:6).

 

Nataniël was verstom. ‘Hoe ken U my?’ het hy gevra (v.49).  Jesus het gesê:  ‘Voor Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was het Ek jou gesien.’ (v.49, vgl. Maleagi 4:3-4, Sagaria 3:9-10).  Nataniël het seker die soet vye, koelte, en stilte gesoek om die Skrif te oordink en te bid.  Jesus weet alles (v.49).  Nataniël se vooroordeel het soos mis voor die son verdwyn (v.50).  Daar het hy besef dat Jesus nie maar net die seun van Josef en ‘n gewone Rabbi is nie, maar die Seun van God en die Koning van Israel (v.50, 34, 5:18, 10:33, 36, 12:13, Psalm 2:6-7, Sagaria 9:9).

 

Jesus het vir Nataniël gesê dat hy groter dinge sou sien (v.51). Hy sou weet dat Jesus nie net die Koning van Israel is nie, maar die Koning van die nasies (Psalm 2:8, 22:29).  Hy sou wonderwerke sonder einde sien (21:25).  Hy sou Christus se heerlikheid in sy kruisdood en opstanding sien.

 

Jesus het met sekerheid gesê (‘voorwaar, voorwaar’) dat die dissipels die hemel sou sien oopgaan (v.52). God het Homself openbaar en die hemel se deure oopgeswaai, sodat sondaars deur Jesus kan inkom (v.52).  Jesus is die leer wat Jakob in sy droom gesien het (v.52, Genesis 28:12-13).  Hy is die Seun van die Mens en die Seun van God wat hemel en aarde met mekaar verbind (v.52, 50, 1 Timoteus 2:5, Efesiërs 1:10, Kolossense 1:20).  Miljoene engele prys Hom hiervoor (v.52, Openbaring 5:9-14).

 

Verstaan wie Jesus is en prys Hom hiervoor. Volgens Johannes 1 is Jesus die Woord van God (v.1), God self (v.1), die Skepper (v.3), die Lig (v.9), die Seun van die Mens (v.14, 52), die Seun van God (v.14, 34, 50), die Een wat die Vader aan ons openbaar (v.18), die Lam van God (v.29), die Een wat ons met die Gees doop (v.33), Rabbi (v.39), die Messias (v.42), die Een oor wie die hele Skrif gaan (v.46), die Een wat mense se harte ken en alles weet (v.48-49), die Koning van Israel (v.50), die Een wat groot wonders doen (v.51), die Een voor wie engele buig (v.52), en die Middelaar tussen hemel en aarde (v.52).

 

Die res van die Johannes-Evangelie getuig van Hom as die Nuwe Tempel (2:19, 21), die Bruidegom (3:29), die Lewende Water (4:14), die Profeet (7:40), die Verlosser van die wêreld (4:42), die Regter wat sal oordeel (5:22), EK IS (8:58), die Brood van die Lewe (6:35), die Deur vir die skape (10:7, 9), die Goeie Herder (10:11), die Opstanding en die Lewe (11:25, 14:6), die Weg (14:6), die Waarheid (14:6), die Trooster (14:16), die Ware Wingerd (15:1), die Een wat die Gees stuur (16:7), die Hoëpriester wat vir ons intree (17:9), die Een wat sonder sonde is (8:46), die Here (20:28).

 

As die engele wat nie verlossing gesmaak het nie Hom prys, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie (v.50-52)? As jy Hom nie prys nie ken jy dalk die bogenoemde waarhede, maar jy verstaan duidelik nie wat dit beteken nie.  Ek wil voorstel dat jy elke dag een van hierdie waarhede oor Hom in jou stiltetyd oordink en Hom daarvoor prys.  Hoekom moet jy Hom ken en prys?  Die Vader en die Heilige Gees is bly as jy vir Jesus verheerlik (16:14, 17:1, 5).  Jy sal ook self die hoogste vreugde smaak as jy Hom opreg en met jou hele hart prys.

 

Hier is my flou poging om Johannes se waarheid oor Jesus in ‘n gedig op te som:

 

Jesus is die Woord van God,

die Lewe, Waarheid, Weg.

Die Seun van God en Mens is Hy,

Messias, God se Kneg.

Die Lig wat in die wêreld skyn,

die Skepper-God, EK IS,

die Herder wat sy skape in

die groenigheid laat rus.

Die Een van wie die Skrif getuig,

die Doper met die Gees,

ons Rabbi en ons Leermeester,

ons Koning en Profeet.

Ons Hoëpriester, Middelaar,

die Wingerd, Water, Brood,

die Here wat ons harte ken,

Opstanding uit die dood.

Die Nuwe Tempel, Bruidegom,

die vlekkelose Lam,

Verlosser van die wêreld,

die Leeu uit Juda-stam.

Die Trooster van ons harte,

wat ons na God toe bring.

Die Here-God wat wonders doen,

oor wie die eng’le sing.

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, p.389

[2] Ibid, vol.2, p.510