Vyf redes om bly te wees

Jumping for joy

‘n Paar weke gelede het ons boekies in die kerk uitgedeel. Ons het ons mense uitgedaag om voor Augustus ‘n duisend dinge neer te skryf waarvoor hulle dankbaar is.  Ek trek nou by 103 dinge.  In Ps.16 gee Dawid vir ons nog ‘n paar dinge waarvoor ons die Here kan dank; vyf redes om bly te wees.

 

Die Here beskerm jou (v.1)

Op 12 Junie 1944 het die Nazis hulle V1 vliegtuie Engeland toe gestuur. Elke vliegtuig het ‘n ton plofstof bevat.  Voordat die bomme geval het, het elke vliegtuig ‘n sirene laat afgegaan.  Op Sondag 18 Junie 1944 om 11:20, het Martyn Lloyd-Jones sy kanselgebed begin.  Skielik het die gemeente ‘n V1 se sirene gehoor.  Almal het op hulle voete gestaan.  Die bom het ‘n paar honderd meter weg ontplof.  Die skokgolwe het die voorportaal se venster uitgeblaas, die gebou se struktuur laat kraak, en stukkies van die plafon laat uitval.  Lloyd-Jones het eenvoudig aangehou bid asof niks gebeur het nie.  Na sy gebed het ‘n sekere mnr. Marsh die kansel afgestof, sodat Lloyd-Jones kon preek.  Duidelik het hy geglo dat sy lewe in die Here se hande is.[1]

 

Hierdie Psalm is ‘n gedig of lied van Dawid (v.1). Dawid het gebid dat die Here hom sal beskerm, en dat hy in Hom mag skuil soos in ‘n klip toring (v.1, Sp.18:10).  Hy wou beskut wees teen dié wat afgode gedien het (v.4), asook teen die slagtande van die dood (v.9-10).  Die Seun van Dawid het in hierdie selfde toring geskuil en veilig anderkant uitgekom (Lk.23:46, Hb.5:7).

 

Skuil by die Here. Enige ander skuiling is so onveilig soos ‘n kleuterskool kasteel wat lyk of dit van klip gemaak is, maar eintlik net ‘n sponsmuur is.  Ja, die feit dat jy ‘n Christen is waarborg nie dat jou selfoon nie gesteel sal word, jou kind nie sal kanker kry, of jy nie in ‘n ongeluk sal beland nie – al is daar ook ‘n plakker op jou kar se ruit wat sê:  ‘This car is protected by Psalm 91’.  Daar is egter ‘n waarborg dat geen ramp jou van God se liefde kan skei nie, en dat Hy alles vir jou voordeel sal uitwerk (Rm.8:38-39, 28).  Jou grootste vreugde lê nie daarin dat God jou teen diewe en droogte kan beskerm nie, maar dat jy deur geloof in Jesus beskut is teen sy verskriklike oordeel in die hel (Rm.8:1).

 

Die Here is jou God (v.2-4)

Op Facebook is daar ‘n prentjie wat wys hoe mense voor en na verslawing lyk. Aantreklike gesigte word lelik.  Die mense se tande is geel en swart, hulle gesigte is vol van sere, hulle het sakke onder hulle oë, en hulle lyk hartseer.  Op die laaste prentjie is daar ‘n jong seun met ‘n strak gesig.  In die volgende prentjie glimlag hy.  Onderaan staan daar:  ‘The Gospel – Before and After.’

 

Afgode kan nie jou siel se dors les nie; as jy húlle dien sal jy leeg en hartseer bly (v.4). Maar as die Here jou God is sal jy geseën word, en het jy rede om bly te wees (v.2-3).  “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (33:12).

 

Dawid het bely dat die Here, en nie die afgode nie, sy God is (v.2, 4). Dié wat afgode gedien het, het menigvuldige hartseer gehad (v.4); in die Here was  daar net goedheid (v.2, 73:25, 84:12, 119:68, Jk.1:17).  Dawid kon hierdie goedheid in God se heilige volk sien en tasbaar beleef, en dit het hom bly gemaak (v.3, Eks.19:6).  Maar met die afgodsdienaars en hulle beelde wou hy niks te doen hê nie (v.4).  Hy sou nie aan hulle offerfeeste deelneem of by hulle gode sweer nie (v.4, Eks.23:13, Jos.23:7, Hos.2:17).

 

Soos Dawid het sy groter Seun afgode soos die pes vermy, en die Here gedien (v.4, Mt.4:9-10). En soos Dawid sien Hy sy Vader se heilige beeld en goedheid in die kerk, en verbly Hy Hom daarin soos ‘n bruidegom wat sy bruid geniet (v.2-3, 149:4, Sp.8:31, Sef.3:17, Jes.62:5).

 

Wees bly dat die Here jou God is, want sonder Hom is jou lewe rigtingloos en sinneloos. Hoe kan jy weet dat Hy jóú God is?  Jy sal jou in sy kinders verbly en Hom saam met hulle wil prys (v.2-3).  Jy sal nie van die eredienste af wil wegbly nie, en as jy weens siekte of vir ‘n ander goeie rede nie daar kan wees nie, sal jy hartseer wees.  As jy op ‘n Sondag eerder met ‘n bier in jou hand by die ongelowige se braai wil wees, wys dit dat jy meer in die afgode belangstel as in die Here (v.4).

 

As jy wil hê dat die Here jóú God moet wees, moet jy jou sonde los en in sy Seun glo. As jy dít doen sal sy goedheid jou siel verbly soos Deense roomys wat in jou mond smelt (v.2-3).  Soos wat ‘n Yesteday-Today-and-Tomorrow se aroma die lentelug vul, sal God se goedheid jou hele lewe deurtrek (v.2).

 

Die Here is jou erfdeel (v.5-6)

Ek ken ‘n predikant wat meer as 30 jaar gelede ‘n seun aangeneem het. ‘n Paar maande gelede het die seun besluit om sy biologiese pa op te soek.  Hy het hom in Januarie vir die eerste keer ontmoet, en uitgevind dat sy pa ‘n multi-miljoenêr is.  Sy pa het vir hom gesê:  ‘Wat wil jy vir jou verjaarsdag hê?’  Hy het gesien dat sy seun skaam is om te vra.  ‘Ek het vir jou twee sussies elkeen ‘n BMW gekoop.  Ek wil graag vir jou ‘n motorfiets koop.  Maar jy wil seker nie alleen ry nie, en daarom sal ek vir jou vrou ook een koop.  En hoe gaan jy die motorfietse vervoer?  Ek sal vir jou ‘n sleepwa koop.  En dan sal jy ook ‘n voertuig nodig hê om die sleepwa mee te sleep.  Kom ek koop dan sommer ook vir jou ‘n Ford Ranger.’  Net so is dit met God:  as Hy jou erfdeel is, het jy meer as net geld en duur speelgoed.

 

In 1 Sm.26:19 het Dawid gesê hy wil die Here hê (v.5), en nie afgode nie (v.4). Om die Beloofde Land as erfdeel te hê was wonderlik, maar Hy wou die Here self hê (v.5-6, Nm.18:20).  Hy wou nie die bloed van offers vir die gode in sy beker hê nie (v.4), maar het gevra dat die Here sy beker met goeie wyn moet volmaak; die wyn van sy liefde en verlossing (v.5, 23:5, 116:13).  Vir Dawid was God die spys en drank om sy siel te versadig (v.5, Mt.5:6, Jh.6:55).  In God se hande was sy lewe veilig (v.5).  Die grense wat God vir sy lewe afgemeet het, was goed en lieflik (v.6).  Dawid se groter Seun het die nasies, ‘n ewige Koninkryk, en alle dinge as sy erfdeel verkry (2:8, 2:8, 22:29, Dn.7:14, Hb.1:2, Op.11:15).

 

Dank die Here vir jou erfdeel. As jy kerm en kla wys dit jy is ondankbaar.  John Newton het gesê:  ‘Gestel ‘n man is oppad New York toe om ‘n groot landgoed in besit te neem, en sy perdekar breek ‘n myl buite die stad.  Hy word gedwing om die res van die pad te loop.  Hoe dwaas sou dit nie wees as hy vir die res van die myl sy hande saamgevryf het, terwyl hy uitroep:  “My perdekar het gebreek!  My perdekar het gebreek!”’[2]

 

‘n Arm man wat die Here het, is ryker as die multi-miljoenêr wat die Here nie ken nie. As jy die Here het, het jy alles, “want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Kor.3:21-23).  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rm.8:32).  ‘n Christen se erfdeel is beter as gesondheid of aardse rykdom.  As die Here jou erfdeel is, kry jy sy vergifnis, versoening, ‘n rein gewete, kindskap, die Heilige Gees, sy Woord, gebed, der duisende broers en susters, beproewing, die ewige lewe, die hemel met al sy skatte, en God self (Mk.10:30, Ef.1:3-14).

 

Die Here lei jou (v.7-8)

My vriend het eenkeer ‘n arm man in sy huis ingeneem. Na ‘n paar weke het die man spoorloos verdwyn.  Een van die gemeente se ouderlinge het in sy kar geklim en gebid dat die Here hom na die man toe sal lei.  Hy het van Durbanville af Somerset-wes toe gery.  Toe hy in Somerset-wes stop, het hy weer gebid.  Hy het skaars ‘amen’ gesê, toe die man agter die bosse uitgeloop kom.  Soos wat die Here ons soms deur voorsienigheid lei, lei Hy ons deur die Woord.  Om te keer dat die duiwel jou mislei, moet altyd sy subjektiewe leiding in voorsienigheid objektief aan die Bybel meet.

 

Die Here was Dawid se Raadgewer en het deur die Woord vir hom die regte pad aangewys (v.7, 119:105, 1 Sm.23:9-12, 2 Sm.5:18-19). As hy in die aand wakker gelê het, het hy die Woord oordink en gesing (v.7, 1:2, 119:54-55).  So was die Here altyd vooroë, en het Hy soos ‘n beste Vriend langs Dawid gestap (v.8, 119:30, 110:5, 121:5).  Daarom kon sy vyande en slegte omstandighede hom nie laat wankel nie (v.8).  Vir dieselfde rede was die Seun van Dawid kalm toe die stormwind op die see gewaai het, en toe sy vyande Hom wou doodmaak.

 

Wees bly dat die Here jou lei, want as jy op jou insigte moes staatmaak, sou jy op die pad van die dood beland het (Sp.16:25). As jy wil hê die Here moet jou lei, moet jy jou hart en gedagtes met God se Woord vul.  Oordink dit gedurig en praat met Hom in gebed.  As jy naby Hom lewe sal Hy jou lei.  Jy sal nie vir ‘n week hoef te vas om sy wil te ken nie, maar die Heilige Gees sal jou aan die verse herinner sodat jy kan weet wat om te doen (Rm.12:2).  Moet tog nie vergeet dat daar ander Christene is wat die Bybel en die Here ken nie; vra vir hulp (Sp.11:14, 15:22).

 

Die Here sal jou opwek (v.9-11)

Toe ek 10 was het my pa een aand 8 uur besluit ons ry na my ouma toe in Johannesburg. Omtrent 60 km buite Louis Trichardt het ek aan die slaap geraak.  Toe ek 5 ure later wakker word, was ons in Johannesburg.  En so is dit met die dood.  Dit is asof jy aan die slaap raak, en as jy weer jou oë oopmaak is jy by die Here (2 Kor.5:8).  So is dit ook met die opstanding van die liggaam:  jou liggaam slaap in die graf, en as Jesus weer kom sal Hy dit wakker maak.  Dit is waarna Dawid uitgesien het.

 

Met die Here in sy hart en lewe (v.8), kon Dawid nie anders as om bly te wees tot in die diepte van sy wese nie (v.9). Sy blymoedige hart het gemaak dat ook sy liggaam perdfris en gesond was (v.9, Sp.14:30, 3:7-8, 4:20-22, 16:24, 17:22).  Hy was nie bang dat die dood soos ‘n gewapende rower sy lewe sou wegsteel nie (v.10, 73:24).  Dawid se liggaam het wel in die graf vergaan, maar soos Job het hy geglo dat die Here hom eendag sou opwek (v.10-11, Job 19:26).

 

Dit is egter duidelik dat v.10 in die opstanding van Dawid se groter Seun vervul is (Hd.2:24-32, 13:35-37). Omdat Hy sy Vader bo alles gestel het en sonder sonde was, het die dood geen mag oor Hom gehad nie en is sy liggaam uit die graf uit opgewek (v.9-11).  Deur Christus se opstanding kon ook Dawid vir ewig in volkome blydskap lewe (v.11, 21:7).  In Christus wat aan die Vader se regterhand sit is daar strome van ewige plesier (v.11, 36:9).  Hy wat die Vader aan sy regterhand gehou het (v.8), sit nou verhewe aan die Vader se regterhand (v.11, Ps.110:1).

 

Wees bly oor die opstanding van jou liggaam (watse hoop het mense wat glo die dood is die einde, of mense wat in reïnkarnasie glo?). Natuurlik sal jy nie bly wees as jy nie weet wat die opstanding alles behels nie.  Wanneer Jesus kom sal jou liggaam met jou siel verenig word, en teen die spoed van wit lig nuutgemaak of verheerlik word.  Jou nuwe liggaam sal uniek wees, vir ewig jonk bly, beeldskoon wees, nooit siek of moeg word nie maar vol van lewenskrag en vitaliteit wees, nie pyn kan ervaar of hartseer wees nie, nie vergeetagtig of deurmekaar raak nie, altyd deur die Heilige Gees gelei word, en nooit kan doodgaan nie (1 Kor.15:38-44, Op.21:4).

 

As jy nóg wil weet kan jy gerus ‘n studie van Jesus se opstandingsliggaam maak, want volgens Fil.3:21 sal ons verheerlikte liggamr soos syne wees. Jesus se opstanding en joune moet vir jou hoop gee as jy siek is, oud word, pyn ervaar, verswak in jou gehoor of sig, nie meer goed kan onthou nie, ‘n liggaamlike gebrek het, moeg is en nie meer kans sien vir die lewe nie, versoek word, teen sonde stry, of op jou sterfbed lê.

 

Depressie het verskillende oorsake. Sommige Christene raak depressief, omdat hulle verkeerd dink.  Vir hulle is die glas half leeg en nie half vol nie.  Vir sulke Christene is Ps.16 ‘n Red Bull vir die siel.  Saam met die ou Halleluja lied moet hulle sê:

 

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

[1] Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: vol.2, pp.113-115

[2] Vry vertaal uit John Piper, The Roots of Endurance, p.68

Advertisements

Wat sal jy met Jesus doen?

Thumbs up and thumbs down

My rifrug is 11 maande oud en staan 75 cm hoog by sy skouer. Hy ken net twee reaksies.  As jy gereeld by ons huis kom, sal hy jou in vrede los.  As hy jou nie ken nie, staan die hare op sy rif regop, blaf hy verwoedelik, en is hy gereed om jou te gryp.  Op dieselfde manier is daar net twee reaksies op Jesus:  jy is lief vir Hom of jy haat Hom, jy glo in Hom of jy verwerp Hom.  Dit is opsies wat Jesus self in Jh.3:11-21 gee.

 

Sy getuienis (v.11-13)

Die Jode in Jesus se dag was soos die dwergies in die laaste van C.S. Lewis se Narnia boeke: hulle was blind en kon nie die waarheid sien.  Selfs toe die waarheid sy asem in hulle nekke geblaas het, wóú hulle dit nie glo nie.

 

Die dwergies het in ‘n klein sirkel op die gras gesit. Alhoewel dit ‘n sonskyn dag was, was hulle oortuig dat hulle in ‘n pikdonker en vuil gat was.  Die groot goue leeu Aslan het tot by hulle geloop en hard gebrul.  ‘Hoor julle dit?’ het die dwergies vir mekaar gesê.  ‘Dis seker ‘n ander groep wat saam met ons in hierdie donker gat is.  Hulle doen dit met een of ander masjien om ons bang te maak – moet julle nie aan hulle steur nie.’  Aslan het nog ‘n ding of twee gedoen om vir hulle te bewys dat hy bestaan.  Maar soos ateïste het hulle hul ore vir die waarheid toegedruk.  ‘Die dwergies wil nie gehelp word nie – hulle is in die tronk van hulle eie verstand,’ het Aslan gesê.[1]

 

Soos die dwergies was Nikodemus en die volk so blind soos ‘n mol. Goed-uitgewerkte argumente, wonderwerke, ‘n hoorbare stem uit die hemel, God in ‘n menslike liggaam – niks kon hulle oortuig nie (1:10-11, 8:43, 12:28-29, hfst.9, 11).  Wel, byna niks.  Die Gees se werk in hulle harte sou hulle oë oopmaak om die evangelie te glo (v.3, 5, 7, 12, 15, Esg.36:26-27).  Maar sonder Hom was hulle hopeloos (v.10-12).

 

Rakende wedergeboorte (v.1-10), was Jesus en die Vader nie onkundig soos Nikodemus nie (v.11). Jesus het die Vader gesien en het nie op hoorsê gepraat nie (v.11, 1:18, 6:46).  Hy het net gesê wat Hy by sy Vader gehoor het (7:16, 8:28, 38, 12:49, 14:24).  Nietemin het Nikodemus en die res van die volk nie sy getuienis erken of aangeneem nie (v.11).  Alhoewel hulle uiterlik besny was, was hulle harte nie besny nie en was hulle nie weergebore nie (v.11).

 

Nikodemus en die volk het nie eers aardse dinge soos wedergeboorte geglo nie (v.12). Hoe sou hulle dan geglo het as Jesus hulle van die hemelse heerlikheid vertel het (v.12)?  Hoe weet Jesus van hierdie dinge?  Anders as ons, kom Hy nie van die aarde af nie, maar het Hy uit die hemel neergedaal (v.13, 2, 6:38, 42, 62, 1 Kor.15:47, Fil.2:6-7).  Mense soos Elia en Henog het wel na die hemel toe opgevaar, maar Jesus alleen het uit die hemel neergedaal en weer daarheen teruggekeer (v.13, 6:62, Sp.30:4).

 

Glo die hemel se getuienis aangaande Jesus en die evangelie. Dink ‘n bietjie daaraan dat geen mens die evangelie kon uitdink nie.  Iemand wat dom is sou nie die vermoeë gehad het om dit te doen nie, en iemand wat slim is se storie sou nie só geklink het nie.  Wie kon ‘n evangelie uitdink waarin God nie net heilig en regverdig is om sondaars uit te wis nie, maar ook liefdevol en genadig om hulle te vergewe?  ‘n Evangelie waarin God nie die hemele skeur en neerdaal om mense te red nie, maar as ‘n pap baba in ‘n afgeleë dorpie gebore word?  ‘n Evangelie waarin Hy nie as ‘n magtige koning verskyn nie, maar as ‘n arm mens wat deur sy eie skepsels verwerp word?

 

‘n Evangelie waarin Hy nie sy geregtigheid prysgee en ons sonde oor die hoof sien nie, maar die straf daarvoor op Homself neem aan die kruis? ‘n Evangelie waarin Hy nie soos ‘n vergete held met ‘n rooi roos op sy bors in ‘n graf lê en vergaan nie, maar een waarin Hy op die derde dag opstaan en die dood oorwin?  ‘n Evangelie waarin die sondaar nie deur ‘n wilsbesluit sy eie hart kan verander nie, maar waarin God bonatuurlik moet ingryp om hom te laat lewe (1:13, 3:5, 8, Ef.2:1, 5)?  ‘n Evangelie waarin die sondaar nie op homself of sy godsdienstige pogings kan staatmaak nie, maar eenvoudig moet vertrou op die Een wat namens hom alles moes doen?

 

Die geskiedenis bewys dat hierdie dinge so is. God het dit juis so gedoen, sodat niemand in homself kan roem nie.  Hoekom sal jy nog een minuut dit langer verwerp en betwyfel?  As jy dit doen, sal dit jou ondergang beteken.

 

Sy kruisdood (v.14-18)

Ek en my vrou het eenkeer ‘n film gekyk wat in die Middeleeue afspeel. Twee families het teen mekaar baklei.  Op ‘n stadium het hulle in die woud baklei.  Die slegte karakter het in die dryfsand geval.  Sy vyand (een van die goeie karakters) het dit gesien en sy hand uitgestrek om hom te help.  Die slegte man het geweier om die hulp te aanvaar, en het die goeie man se hand weggeklap.  Die goeie man het weer en weer sy hand uitgestrek, maar die slegte man het aangehou om dit weg te klap, totdat sy kop onder die dryfsand verdwyn het.

 

Moet dit nie met Jesus doen nie, want wie is daar om jou uit die dryfsand van jou sonde te red as jy die enigste Verlosser se uitgestrekte hand wegklap? Iemand wat in die gekruisigde Verlosser glo, sal gered word.  Iemand wat Hom verwerp, sal veroordeel word.  Die oordeel en verlossing draai dan rondom een ding:  glo jy in die Seun van God of nie?  Dit is die boodskap wat Johannes by ons wil tuisbring.

 

Hoekom het die Seun van die Mens uit die hemel neergedaal en aarde toe gekom (v.13)? Om aan die kruis verhef te word soos wat Moses in Nm.21:4-9 die koperslang op ‘n paal gesit het (v.14).  Hoekom het Moses dít gedoen?  Die volk het oor kos en water gekla.  God het giftige slange gestuur om hulle te pik, sodat baie van hulle gesterf het.  Die volk het hulle sondes bely en gevra dat Moses by die Here vir hulle moet intree.  God het vir Moses gesê om ‘n koper slang te maak en dit op ‘n paal te sit.  Almal wat na die slang gekyk het sou lewe.  Net so moes die Seun van die Mens aan die kruis verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan hê (v.15).

 

Nou kom ons by die bekendste vers in die Bybel: Jh.3:16.  Kom ons ontleed dit frase vir frase.

 

  • God: In die konteks verwys dit na die God die Vader. Jesus het nie gemaak dat die Vader ons liefhet nie, maar het gekom omdat Hy ons liefhet.
  • Die wêreld: Johannes verwys nie hier na die planeet nie, maar na die verlore mensdom.
  • So liefgehad: Dit vat ‘n besondere liefde om jou lewe vir jou vyande te gee (Rm.5:8). God se liefde is nie ‘n warm gevoel nie. In sy diepste wese is Hy liefde. Hy het dit deur Jesus se kruisdood vir ons gewys (1 Jh.4:8-10).
  • Dat Hy: God se liefde het nie in sy gedagtes gebly nie; dit het oorgegaan tot dade.
  • Sy eniggebore Seun: Die Griekse woord [monogenes] beteken letterlik ‘uniek of een van ‘n soort’ (Gn.22:2). Alle gelowiges is kinders van God, maar niemand is die Seun van God in dieselfde sin as Jesus nie (20:17).
  • Gegee het: Die Vader het die Seun gegee as die offer vir ons sondes. As dít nie ware liefde is nie, dan weet ek nie wat is nie.
  • Sodat elkeen: God sal nooit iemand wat in sy Seun glo wegwys nie (6:37, Rm.9:33).
  • Wat in Hom glo: Ons word gered deur geloof alleen, sonder enige bydrae van ons kant af (Rm.3:28). Ons glo nie net sekere feite oor Hom nie, maar glo in Hom.
  • Nie verlore mag gaan nie: Om ongered te wees is om verlore te wees soos ‘n ma en ‘n kind wat in ‘n groot winkelsentrum van mekaar geskei word – vir ewig. Jy verloor jou lewe, jou siel, die hemel, God se goedheid, liefde, genade, ontferming, blydskap, vrede, en baie meer. As jy in Jesus glo sal jy met jou Vader herenig word. Niemand kan jou ooit van Hom en sy liefde skei nie (10:28, Rm.8:38-39).
  • Maar die ewige lewe mag hê: Sodra jy in Jesus glo sal jy God se eie lewe, die ewige lewe, in jou siel ontvang. Eendag sal jy vir ewig in die hemel by Hom wees. Daar sal meer lewe in jou wees as in ‘n groen vallei ná die lente reëns.

 

Duidelik het God nie sy Seun aarde toe gestuur om ons te veroordeel nie, maar juis sodat ons deur Hom gered kan word (v.17, 12:47). Eendag sal Jesus in vuur en vlam kom om die wêreld te oordeel.  Maar daardie tyd is nie nou nie (v.17).  Nóú is die tyd om gered te word (v.17, 2 Kor.6:2).  Soos wat ‘n man sy vrou eerste by die deur laat inloop, het God se oordeel vir sy genade plek gegee.  God wil hê dat mense gered moet word en vind nie plesier in ‘n sondaar se dood nie (2 Pt.3:9, Esg.18:32).  Gebruik dan die genadetyd wat jy het om jou te bekeer en in Jesus te glo.

 

Alhoewel Jesus nie gekom het om ons te verdoem nie (v.17), verdoem mense hulleself as hulle nie in Hom glo nie (v.18). Dit is soos ‘n troep wat weier om ‘n valskerm te dra as die vliegtuig val.  Om Jesus se lieflike Naam en kruisoffer te verwerp, is om die hel te kies (v.18, Hb.2:3).

 

Glo in die gekruisigde Seun van God. Iemand wat dink ‘n molslang het hom gebyt, sal nie dokter toe gaan nie.  Iemand wat God se oordeel in die hel ontken, sal nie vir Jesus vra om hom te red nie.  Soos wat die slanggif in Nm.21:4-9 dodelik was vir die liggaam, is die sonde in Jh.3:14-18 dodelik vir die siel.  Word wakker en besef dat die huis van jou lewe besig is om af te brand.

 

Om te lewe kon die volk nie na Moses, die sand, die wolke of die berge kyk nie. Hulle moes na die koperslang op die paal kyk.  Om vir ewig te lewe kan jy nie na die ds., die kerk, jou goeie werke of ander godsdienste kyk nie.  Net Jesus kan jou red – kyk na Hóm en glo dat sy kruisdood voldoende is (v.14-15, 14:6, Hd.4:12).

 

Dalk sê jy: ‘Maar my geloof is nie sterk nie.’  Dit maak nie saak nie.  As die slanggif jou bedwelm het, sodat jy deur wasige oë na die koperslang gekyk het, sou jy nogsteeds gesond geword het.  Net so is dit nie die sterkte van jou geloof wat die verskil maak nie, maar die sterkte van die Een in wie jy glo.

 

Êrens hoor ek iemand mor: ‘As wedergeboorte ‘n soewereine werk van die Heilige Gees is (v.8), dan help dit nie ek glo nie (v.15).  As God my wil red gaan Hy dit in elk geval doen, of ek nou glo of nie.’  Dit klink vir my soos iemand wat sê:  ‘As God bepaal het dat ek op 93 gaan sterf sal ek so oud word, of ek nou water drink en asemhaal of nie.’  God se werk is om die sondaar te laat lewe (v.1-8).  Jou werk is om in geloof te reageer (v.14-18).  Hou dan op om jou neus in God se sake te steek.  Doen eenvoudig wat Hy vir jou gesê het:  bekeer jou en glo in sy Seun wat namens jou aan die kruis gesterf het.  Moenie met gevoude arms sit en wag nie.

 

As jy in Hom glo sal jy die oordeel vryspring, omdat Hy dit reeds in jou plek aan die kruis gedra het (5:24, Rm.3:25, 8:1). Maar as jy nié glo nie, hang God se oordeel soos ‘n swaard oor jou kop (v.36).  Daar is ‘n hartklop tussen jou en die hel.  En as jy eers daar is, sal jy móét erken dat dit jou eie skuld is.

 

Sy lig (v.19-21)

Wanneer ons in die aande gaan slaap, los ons die badkamer lig aan vir die kinders. Jy kan raai dat daar gedurig motte in die badkamer is.  In die winter pak ons stompe teen die sitkamer se buitemuur.  As ons teen Augustus die laaste stompe optel, is daar allerhande goggas en spinnekoppe wat onder ‘n klip of in ‘n donker hoek in skarrel.  Mense is soos insekte.  Sommige haat die lig en vlug as dit op hulle skyn.  Ander soek die lig en wil hê dit moet op hulle skyn; hulle wíl in die lig lewe.

 

Jesus is die lig wat na die wêreld toe gekom het (1:9, 8:12). Deur sy kruisdood, lewe en leer, het Hy mense se bose harte en donker lewens ontbloot (v.19-20).  Hy het gewys dat mense nie per ongeluk sonde doen nie, maar dat hulle die duisternis liefgehad het; hulle het hulle sonde geniet en wou nie die waarheid hoor nie (v.19, Jes.30:10, Jer.5:31).  Soos skelms wat in die skadus wegkruip en nie gesien wil word nie, het hulle so ver as moontlik van God se lig af weggebly (v.20, Job 24:13).  Hulle kon dit nie verdra toe Jesus hulle donker lewens blootlê nie (v.20).  Uiteindelik het hulle die kers van sy lewe doodgeblaas en Hom gekruisig.

 

Iemand wat die waarheid gehoorsaam en daarvolgens wil lewe, kom na die lig toe (v.21). So word dit duidelik dat hy op Jesus vertrou, aan Hom behoort, en dat sy dade deur geloof in Hom gedoen word (v.21).  Selfs sy vyande moet erken dat hy ‘n ware Christen is.  Sy geloof is nie soos die duiwel s’n nie (Jk.2:19), maar is eg en loop uit op goeie dade (v.21, 15, Jk.2:14-26).

 

Lewe in die lig, want as jy in die donker lewe sal jy val en seerkry (Sp.4:19). Hoe kan jy weet of jy in die lig lewe, en of jy nog in die duisternis van jou sonde is?  Geniet jy dit om by toegewyde Christene te wees, of vermy jy hulle omdat die lig van hulle heilige lewens jou laat skuldig voel (Ef.5:11, 13)?  Maak jy tyd om die Bybel te lees, of stoot jy dit eenkant omdat dit jou sonde uitwys (Hb.4:12)?  Geniet jy dit om by die kerk te wees, of bly jy weg omdat die nagmaal en preke jou gewete pla?  Is jy dankbaar as iemand jou sonde uitwys, of word jy kwaad omdat jou hoogmoed gekrenk is?

 

Partykeer sal ‘n ongelowige vir jou sê: ‘Ek kom nie kerk toe nie, want Christene is skynheilig.’  Maar eintlik is hulle dié wat skynheilig is.  Hulle wil nie hê dat hulle geheime sonde aan die lig moet kom nie; dat ander mense moet uitvind wat regtig in hulle harte en gedagtes aangaan nie (v.20).  Is jy so?  Totdat jy nie sien hoe donker jou hart en lewe is nie, sal v.16 nie vir jou sin maak nie.  Jy sal nie verstaan hoekom jy gered moet word nie.  Maar as Jesus se lig in jou hart skyn en jy jou sonde raaksien, sal jy met ‘n hart vol van berou voor Jesus se kruis kom kniel, vergifnis vra, en gered word (1 Jh.1:5-10).

 

Om in die lig te lewe is so lekker soos om na 24 jaar in die tronk vry te wees. Maar daar is gevolge.  Mense wat in die duisternis lewe sal jou haat, vermy, vloek, slegsê, belieg, uitskuif, teëstaan, beskinder, afdank, benadeel, slaan, aanval, seermaak, onderdruk, vervolg, martel en doodmaak om Jesus se lig in jou uit te doof.  Maar moenie bang wees nie:  die aand se donker kan nie die oggendson se lig weerstaan nie.

 

Toe ek in die laerskool was het ‘n sekere oom Joppie Lesch van sy huis af my oupa se kar gediens. As sy vrou vir hom ‘n bier gebring het, het hy dit in die son laat staan totdat dit warm is.  As sy vir hom koffie gebring het, het hy dit laat koud word.  So het hy daarvan gehou.  Jesus wil nie hê jy moet soos dié oom se bier of koffie wees nie.  Wees vuurwarm of verfrissend koud; moenie lou wees nie (Op.3:15-16).  Hy gaan nie toelaat dat jy Hom soos ‘n stopstraat ignoreer nie.  Volg Hom of verwerp Hom, maar doen iets met Jesus van Nasaret.

[1] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Last Battle, pp.746-748

Jy móét weergebore word

Reborn

Van die heel begin af was die waarheid van wedergeboorte die fondasie van George Whitefield se prediking. Tydens sy bediening was geen preek meer populêr as hierdie een nie: The Nature and Necessity of our new birth in Christ Jesus.  As jy in 1739 vir iemand in Engeland gevra het:  ‘Wat glo George Whitefield en die Metodiste?’, sou hy gesê het:  ‘Almal moet weergebore word.’[1]  Dít was Jesus se sentrale boodskap aan Nikodemus in Jh.3:1-10.

 

Wie moet weergebore word? (v.1-2, 7, 9-10)

‘n Bejaarde predikant het ons vertel van ‘n man en vrou wat vir huweliksberading in sy studeerkamer gesit het. Na ‘n deeglike gesprek met hulle, het hy vir die man gesê:  ‘Weet jy wat is jou probleem?  Jy het nie ‘n idee van wat dit beteken om weergebore te wees nie.’  Die man was woedend en het vir hom gesê:  ‘Hoe durf jy so met my praat?  Ek is al vir 35 jaar lank ‘n Baptis!’

 

My vriend is ‘n predikant, en het saam met twee ander predikante gaan koffie drink. Hulle het geglo dat gedoopte babas deel van God se uitverkore volk is.  Toe hulle moes besluit wát om op die Katkesasie kamp te preek, het my vriend voorgestel dat hulle oor wedergeboorte preek.  Hulle het hom aangekyk asof hy van ‘n ander planeet af kom.  Hulle gesigsuitdrukking het dit alles gesê:  ‘Dit is mos nie nodig dat verbondskinders weergebore word nie.’

 

Ek het eenkeer met ‘n man die evangelie gedeel. Toe ek hom oor sy redding vra was hy baie kwaad.  ‘Ek was vir baie jare ‘n ouderling in die NG-Kerk,’ het hy gesê.  Hy het homself oortuig dat ouderlinge nie ongered kan wees nie.

 

By ‘n ander geleentheid het ek die evangelie met iemand in die straat gedeel. Ek het vir die vrou gevra of sy hemel toe gaan.  ‘Ja,’ het sy gesê.  ‘Hoekom sê jy so?’ het ek gevra.  ‘Want ek is weergebore,’ was haar antwoord.  ‘Hoe weet jy jy is weergebore?’ het ek gevra.  Haar antwoord was tipies van baie mense s’n:  ‘Want ek is gedoop.’

 

Nikodemus het soos hierdie mense gedink. Maar tot sy ontnugtering het Jesus vir hom gewys dat selfs hý weergebore moet word.

 

Tydens die Paasfees in Jersualem (2:13, 23), het ‘n Fariseër na Jesus toe gekom (v.1). Soos die meeste Fariseërs was Nikodemus godsdienstig en teologies konserwatief (Hd.23:8), maar ongered (v.3, 7, Mt.23).  Hy het gehoop om deur sy dade in die hemel te kom.  Hy was op die Joodse Raad of Sanhedrin; ‘n gerespekteerde en gesiene man; ‘n leier van leiers (v.1).

 

Nikodemus het in die nag na Jesus toe gekom (v.2). Was hy bang die ander Fariseërs sien hom (12:42-43, 19:38-39, Rgt.6:27)?  Is hier dalk simboliek van iemand wat uit die donker van sonde na die Lig van die wêreld toe gekom het (v.19-21, 8:12, vgl. 7:50-51, 19:39)?

 

Nikodemus het uit Jesus se lering geweet dat Hy ‘n Rabbi is (v.2, 1:39). Uit sy tekens het hy en ander geweet dat Jesus van God af kom (v.2, 2:23, 5:36, 20:30-31, Hd.2:22, 10:38).  Maar ten spyte van sy godsdienstige CV, was hy so ongered soos ‘n klip en moes hy weergebore word (v.3, 7).  Dit het nie net vir hóm gegeld nie (v.7).  Om die Koninkryk van God in te gaan moes die Joodse volk en haar leiers weergebore word (v.7).  Dit is nie ‘n opsie nie:  jy móét weergebore word (v.7).

 

Nikodemus kon nie verstaan hoekom God se uitverkore volk weergebore moes word nie (v.9). In sy brein was daar nie ‘n kategorie vir hierdie waarheid nie.  Hy kon dit nie verstaan nie, en het aanhoudend gevra:  ‘Hoe kan ‘n mens… Hoe kan dit wees?’ (v.4, 9).  Dit was skandelik dat dié leermeester in Israel nie die eerste dinge van redding verstaan het nie (v.10).  Hoe kon hy ander leer as hy self nie wedergeboorte verstaan of ervaar het nie (v.10, 9:30)?

 

Jy moet weergebore word, want niks anders sal jou in die hemel bring nie (v.3). Wat vir Nikodemus geld, geld vir ons.  Nikodemus was ‘n Jood.  Hy was besny.  Hy was ‘n godsdienstige leier.  Maar hy was nie weergebore nie.  Iemand is nie outomaties oppad hemel toe omdat hy ‘n ds., ouderling, diaken, of Sondagskool onderwyser is nie.  Jesus gee nie om of jy in ‘n Afrikaanse of Christelike huis gebore is, ‘n meestersgraad in teologie het, ‘n Bybelkursus geloop het, gedoop is, voorgestel en aangeneem is, vas, bid, jou Bybel lees, kerk bywoon, of gereeld jou tiende gee nie.  JY MOET WEERGEBORE WORD!

 

Moenie gerus voel omdat jy of jou geliefdes ‘n dag en datum het, of omdat julle op ‘n uitnodiging gereageer het, ‘n gebed opgesê het, of ‘n kaartjie ingevul het nie. Natuurlik kan mense so tot bekering kom.  Wedergeboorte is egter nie dieselfde as om jou hand op te steek, of ‘n gebed agter iemand aan te sê nie.  Iemand kan weergebore wees sonder dat hy ‘n dag en ‘n datum het.  Jy hoef nie eers die regte woorde te ken nie.  Wat saakmaak is dat die Heilige Gees in jou hart werk.

 

Stuart Olyott vertel van ‘n Indiaan wat in die 1600’s onder John Eliot se bediening tot bekering gekom het. Die Indiaan het gedink God is Engels.  Hy kon net ‘n paar woorde in Engels sê.  Die Gees het deur een van Eliot se preke in sy hart gewerk.  Hy was oortuig van sy sonde en het uitgeroep:  God!  One, two, three, four, five, six, seven, eight, nine, ten!’  Sy woorde was hopeloos verkeerd, maar dit was duidelik dat die Heilige Gees in sy hart gewerk het.

 

As jou hart en lewe nie verander het nie, is jy nie weergebore nie – al het jy ook tien keer ‘jou hart vir die Here gegee’. Soos Nikodemus en die res van Israel, móét jy weergebore word.

 

Wat is wedergeboorte? (v.3-8)

Vrydag het my seun 8 geword. Hoe het hy in die wêreld ingekom?  Watse aandeel het hy in sy konsepsie, ontwikkeling, en geboorte gehad?  Watse aandeel het ‘n Christen in sy geestelike geboorte?  Hoe kan iemand wat morsdood in die graf van sy sonde lê (Ef.2:1), op ‘n dag besluit om homself te laat lewe?

 

Wat het gebeur toe Elisma en haar tweeling sussie die evangelie gehoor het? Hulle sit al vir 20 jaar lank elke Sondag in die kerk, en het dit seker al ‘n duisend keer gehoor.  Hoekom het Elisma ‘n diep oortuiging en berou oor haar sonde gehad, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma die evangelie geglo, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma haar sonde gelos, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma skielik ‘n belangstelling in Bybelstudie en gebed begin ontwikkel, en haar sussie nie?  Hoekom het Elisma begin om goeie werke te doen, en haar sussie nie?  Hoekom was Jesus skielik vir Elisma, die wonderlikste en lieflikste Persoon in die wêreld, maar nie vir haar sussie nie?  Hoekom het Elisma soveel blydskap gekry sodat sy lofliede wou sing, maar haar sussie het nie?

 

Volgens Charles Finney is dit omdat Elisma ‘n besluit geneem het, en haar sussie nie. Vir Finney was wedergeboorte nie ‘n soewereine werk van God nie.  Die Heilige Gees het eenvoudig die prediker bygestaan om die sondaar te oortuig, sodat hy sy eie hart kon verander.  Volgens Finney was die Heilige Gees se werk ‘n reaksie op die sondaar s’n.  As die sondaar nie ‘n besluit geneem het nie, was die Heilige Gees magteloos.[2]

 

Maar volgens v.3-8 het die Heilige Gees nuwe lewe in Elisma se hart ingeblaas. Soos Lidia in Hd.16:14, kon Elisma die evangelie glo, omdat God haar hart geopen het om dit te verstaan.  Jesus het gesê:  “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Jh.6:44).  Jh.1:13 sê dat Elisma “nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.”

 

Jesus het Nikodemus se hart geken (2:24-25) en geweet hy is nie weergebore nie (v.3). Om in wondertekens te glo help net mooi niks, as jy nie ook glo in die Een van die wie die tekens getuig nie (v.2, 2:23, 20:30-31).  Om God se Koninkryk te sien, moes Nikodemus (asook die res van die Joodse volk) weergebore word (v.3).  Iemand wat nie weergebore is nie, bly geestelik dood en blind (v.3, Ef.2:1, 1 Kor.2:14).

 

Nikodemus kon nie kop of stert uitmaak van Jesus se stelling nie. “Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word?  Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?” het hy gevra (v.4).  In sý gedagtes, was die transformasie van ‘n mens se hart en persoonlikheid so onmoontlik soos om weer ‘n keer gebore te word.

 

Om Nikodemus te antwoord, het Jesus sy stelling anders verwoord. Jesus het verduidelik wat Hy bedoel.  Om weergebore te wees, is om gebore te wees uit water en die Gees (v.5).  Wat beteken dit?  Sommige dink dat Jesus sê:  ‘As jy nie fisies uit die vrugwater gebore word, en geestelik deur die Heilige Gees nie, kan jy nie die Koninkryk van God ingaan nie.’  Duidelik is dit nie wat Jesus bedoel nie.  Dis mos voor die hand liggend dat jy gebore moet wees, voordat jy weergebore kan wees.

 

Ander sê: ‘As jy nie met die Heilige Gees en met water gedoop word nie, kan jy nie God se Koninkryk ingaan nie.’  Alhoewel die waterdoop hierdie geestelike geboorte uitbeeld  (Hd.2:38), is dit nie wat Jesus hier sê nie.  Dit is eenvoudig nie waar dat net dié wat onderdompel is, hemel toe gaan nie.  Die waterdoop is nie ‘n vereiste vir redding nie (Ef.2:8-9), maar ‘n illustrasie daarvan.

 

Die geboorte uit water en die Gees is nie twee aksies nie, maar een. Die water is simbolies van die Heilige Gees se reinigingswerk in ons harte.  Om in God se teenwoordigheid in te kom moet die Heilige Gees jou eers in die ‘bad van wedergeboorte’ was.  Die Skrif sê immers dat God “ons gered [het] deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit.3:5).

 

In die Ou Testament staan daar: “Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.  En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Esg.36:25-27).

 

Alle mense is met ‘n sondige natuur gebore (Ps.51:7, 58:4, Rm.5:12). Niemand is van geboorte af gered nie:  “Wat uit die vlees gebore is, is vlees” (v.6, vgl. 6:63).  Om gered te word moet jy ‘n geestelike geboorte ondergaan:  “wat uit die Gees gebore is, is gees.” (v.6, vgl. 1:13).  Daar is nie ‘n ander manier om gered te word nie.  Anders gestel:  ‘There is no evolution from flesh to Spirit.’[3]

 

Hoe vind wedergeboorte plaas? En wat is die mens se aandeel daarin?  Die mens moet in geloof reageer, maar het nie ‘n vinger in hierdie pasty nie.  Wedergeboorte is ‘n soewereine werk van God se Gees (v.8).  So min soos wat ‘n baba besluit om gebore te word, so min besluit ‘n sondaar om weergebore te word.  Die Gees se werk in wedergeboorte is soos die gewaai van die wind (v.8).  Jy kan nie die wind beheer of manupileer nie – dit waai waar dit wil en sal nie vir jou luister nie (v.8).  Jy kan dit hoor en die effek daarvan sien, maar die wind self is onsigbaar (v.8).  Jy weet nie waar dit ‘n uur gelede was, en waarheen dit oppad is nie (v.8).

 

En so is dit met wedergeboorte: jy kan die effek van die Gees se werk in mense se veranderde lewens sien, maar Hy self is so onsigbaar soos die wind (v.8).  Hy is soewerein en sal nie toelaat dat iemand Hom manupileer nie.  Hy red wie Hy wil, wanneer Hy wil, waar Hy wil, en soos Hy wil (v.8).

 

Glo in wedergeboorte soos wat God dit in v.3-8 verduidelik. Iemand wat verkeerd glo sal verkeerd doen.  Om weergebore te word móét jy die evangelie hoor (v.15-16, 1 Pt.1:23, 25).  En tog is dit nie jou goeie argumente of gunsteling Bybelvers wat die sondaar oortuig nie.  As jy elke dag die evangelie met hom deel en God vernuwe nie sy hart nie, sal dit vir hom klink of jy Hongaars praat (v.3, 5, 1 Pt.1:3).  Geen sondaar kan sy eie hart verander nie.  Net God kan maak dat iemand ‘n nuwe skepping is (2 Kor.5:17).

 

As jy dít onthou, sal dit jou help om nie moedeloos te word wanneer jy die evangelie met iemand deel, en hulle dit nie insien nie. Jou beste argumente is so oneffektief soos ‘n ‘pea shooter’ teen ‘n tank.  Dit gaan iets bonatuurlik neem om die persoon se hart te bereik.  Daarom maak jy nie staat op jou slim redenasies nie, maar jy bid en vra dat Gód die persoon se oë moet oopmaak (2 Kor.4:4, 6).  Selfs terwyl jy dink daar is geen hoop nie, is God dalk onsigbaar besig om in die persoon se hart te werk (v.8).

 

Ek het al mense gehoor sê: ‘Die Heilige Gees is ‘n gentleman, en sal Homself nooit op iemand afdwing nie.  Hy sal nooit teen die sondaar se wil ingaan nie.’  Dit is ‘n mooi cliche, maar dis nie in die Bybel nie.  Ek wonder wat Paulus daarvan sou sê?  God het nie net teen Paulus se wil ingegaan nie – Hy het sy wil verander en gemaak dat hy gewillig is.  As die Heilige Gees besluit om iemand te wederbaar, kan mense en duiwels hulle bes probeer; niemand sal Hom keer nie.

 

As wedergeboorte dan ‘n soewereine werk van die Heilige Gees is, kan ons Hom nie manupileer nie. Jy kan nie van iemand ‘n Christen maak, omdat jy hom met sagte agtergrond musiek gelei het om die sondaarsgebed te bid nie.  Niemand kan met 24/7 gebed, ‘n groot wit tent, en ‘altar calls’ ‘n herlewing skep nie.  As die Heilige Gees vandag 800 mense wil red, dan doen hy dit.  As Hy volgende Sondag afwesig is, sal almal aan die slaap raak – selfs al preek Paulus of Charles Spurgeon.  By ‘n konferensie in 2004 het die spreker gevra:  ‘Het jy al George Whitefield se preke gelees?  Daar is niks spesiaal daaraan nie.  Hoekom het so baie mense dan onder sy preke tot bekering gekom?  Wat het die verskil gemaak?  Die Heilige Gees.’

 

‘n Bekende storie vertel van ‘n prediker wat byna in elke preek gesê het: ‘You must be born again.’  Toe iemand vir hom vra hoekom hy dit so gereeld sê, was sy antwoord:  ‘Because, you must be born again.’

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, p.345

[2] Iain Murray, Revival and Revivalism, pp.245-246, 250

[3] Hoskyns aangehaal in Leon Morris, The New International Commentary on the New Testament: The Gospel according to John, p.219

’n Trooswoord vir twyfelaars

Doubt

Verlede jaar het ek ‘n paar keer saam met drie mans in die strate gepreek. Die een man het ‘n baie sterk wettiese agtergrond.  Dit het hom uiteindelik ingehaal, sodat hy begin dink het hy het die onvergeeflike sonde gepleeg.  Hy het in ‘n inrigting beland.  Dit is vir Christene soos hý wat 1 Jh.5:13-21 in die Bybel is.  Almal van ons twyfel van tyd tot tyd.  Volgens Johannes kan Christene ‘n sterk sekerheid hê, en is dit heeltemal onnodig dat hulle twyfel.

 

Sekerheid van redding (v.13)

Spurgeon vertel van ‘n Christen wat oor sy redding getwyfel het. ‘Ek is ‘n groot sondaar en kan nie gered word nie,’ het hy gesê.  Spurgeon het 1 Jh.1:7 aangehaal en gesê dat die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig.  Die man het gesê:  ‘Jy moet die konteks onthou.  Die teks sê dat sy bloed ons reinig as ons in die lig wandel.  Ek wandel nie in die lig nie, en daarom geld die teks nie vir my nie.’  Spurgeon het gesê:  ‘Christus sal volkome red dié wat deur Hom na God toe kom.’  Die man het nogsteeds nie hoop gehad nie.

 

‘God vra net dat jy in Hom glo – al is dit ook ‘n flou geloof. As jy net met jou hand ontvang is dit genoeg.’  ‘Ek het nie die hand van geloof om te ontvang nie,’ het die man gesê.  ‘Maar as jy die mond van begeerte het, kan jy darem met jou lippe vra,’ het Spurgeon gesê.  ‘Nee, ek kan nie bid nie – ek het nie die lippe van begeerte nie.’

 

Spurgeon het by hom gepleit: ‘Al wat ek soek is ‘n leemte, sodat God sy genade daar kan insit.’  ‘Ah, jy het my!’ het die man gesê.  ‘Ek het ‘n leemte; ‘n hunkerende holheid.  As daar ooit ‘n leë sondaar in die wêreld was is dit ek.’  ‘Wel, daar is ‘n vol Christus vir leë sondaars,’ het Spurgeon gesê.[1]  Christene hoef nie soos hierdie man oor hulle redding te twyfel nie.

 

Johannes het sy Evangelie vir ongelowiges geskryf, sodat hulle in Jesus kan glo en gered kan word (Jh.20:30-31). 1 Johannes is vir gelowiges geskryf, sodat hulle verseker kan weet dat hulle die ewige lewe het (v.13).

 

Glo dan v.13. As jy dit ontken, maak jy die lewe vir jouself moeilik.  Sommige mense dink dis arrogant om te sê jy is heeltemal seker van jou redding.  Hulle dink dit is ‘n teken van respek vir God om te twyfel.  ‘Hy sal besluit of ek hemel toe gaan of nie,’ sê hulle.  Hulle lewe in vrees vir die dag van hulle dood.  Hulle hoop maar hulle het goed genoeg gelewe.  Maar as hulle op Jesus vertrou het en nie op hulle werke nie, sou hulle sekerheid hê.  Natuurlik kan jy nie sommer so by die Koning se troonkamer ingedrentel kom nie.  Maar as die Koning se geliefde en volmaakte Seun die Advokaat is wat in jou plek staan, sal Hy jou in der ewigheid nie wegwys nie.  Om oor jou redding te twyfel is om te wonder of God sy Seun se kruisdood in jou plek sal aanvaar.  Om in God se Seun en sy beloftes te glo is nie arrogant nie; om dit te betwyfel is.  God se belofte is so seker soos Hy self:  ‘Hy wat die Seun het, het die lewe’ (v.12).

 

Sekerheid in gebed (v.14-17)

Barend is ‘n skatryk sakeman. Hy verdien in ‘n jaar wat baie mense nie in ‘n leeftyd kry nie.  Hy is baie vrygewig en sê vir sy vier aangenome kinders:  ‘As julle ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’  Na ‘n paar jaar neem hy en sy vrou ‘n tienerdogter aan.  Haar naam is Karen.  Wat Barend vir die ander vier gesê het, sê hy vir haar:  ‘As jy ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’

 

Op ‘n dag het Karen ‘n rok nodig vir haar matriekafskeid. Sy is te bang om te vra en wonder of hy vir haar die geld sal gee.  Haar suster sien dat sy bang is, en vra namens haar.  Barend dink nie twee keer nie, en gee dadelik vir Karen geld om die rok te koop.  Karen kan dit nie glo nie.  Die ander kinders is glad nie verbaas nie.  ‘Hy het mos gesê ons kan enige tyd vir hulp vra – hy help graag.’  Die ander kinders het geglo hy wil en kan help, en daarom was hulle nie bang om te vra nie.  Karen het getwyfel, en het daarom ook nie gevra nie.  Na dié episode het sy egter meer vrymoedigheid gehad.

 

Die Here is so. Hy belowe om te gee as ons vra.  Ons moet Hom glo, sodat ons vrymoedigheid kan hê in gebed.  Iemand wat seker is van sy redding (v.13), kan ook seker wees dat God sy gebede verhoor (v.14, 3:21-22).  Sal God vir jou die groter ding gee, en nie ook die kleiner een nie (Rm.8:32)?  Wat ons ookal volgens sy wil vra, ontvang ons (v.14, Mt.6:10, 26:39).  En wat is sy wil?  Dat ons nie in sonde sal lewe nie, maar sy Woord gehoorsaam (2:17, 3:22, Mt.7:21, 24).  Dán kan jy van jou knieë af opstaan en met oortuiging weet dat God jou sal antwoord (v.15, Jk.1:5-8, Mk.11:24, Mt.21:22).

 

In v.16 gee Johannes ‘n voorbeeld van wat hy bedoel. As jy sien dat jou broer ‘n sonde doen wat nie tot die dood lei nie en vir hom bid, sal God jou gebed verhoor en hom laat lewe.  Wat beteken dit?  Praat Johannes hier van ‘n gelowige wat siek geword het as gevolg van sy sonde?  Volgens v.16a is sy siekte nie terminaal nie (dit lei nie tot die dood nie), en daarom sal hy gesond word as jy vir hom bid (Jk.5:14-20).  Soms gebeur dit egter dat God se geduld opraak, en Hy iemand met die dood tref (v.16b, 1 Kor.11:30, Hd.5:1-11).  In so ‘n geval help dit nie jy bid vir sy genesing nie (v.16).  ‘n Persoon wat gesond word se sonde was nie tot die dood nie.  Maar as hy sieker word en sterf, is dit mos voor die hand liggend dat sy sonde tot die dood is.

 

Ander dink dat Johannes eerder van ‘n geestelike dood praat. In daardie geval verwys ‘broer’ nie na ‘n ander Christen nie, maar na jou medemens.  As hy nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie en jy vir hom bid, sal God hom uit die graf van sy sonde laat opstaan (v.16, Ef.2:1, 5).  M.a.w. God sal hom red.  Ander ongelowiges weer, is soos die vals leraars:  hulle ken die waarheid, maar is soos ‘n skoon vark wat weer in die modder van hulle sonde gaan rol (2 Pt.2:20-22).  Hulle het hulleself teen die lig van die evangelie verset en na hulle sonde toe teruggedraai (2:19).  Hulle het die onvergeeflike sonde gepleeg (Mt.12:31-32).  Dit help nie jy bid vir hulle nie, want hulle sal hulleself nie bekeer nie (v.16, Hb.6:4-6, Jer.7:16).  As ‘n vals leraar van die waarheid af weggedraai het, mors jy jou tyd om vir sy bekering te bid.

 

Ek is nie seker watter een van die twee interpretasies reg is nie, maar beide is erg. Alle ongeregtigheid is sonde, en daarom kan ons dit nie ligtelik opneem nie (v.17).  Tog is dit so dat daar sonde is wat nie tot die dood lei nie (v.17).

 

Bid met vrymoedigheid (v.14). Om dít te doen moet jy eers seker maak jy is gered.  Hoe kan jy met vrymoedigheid bid as jy twyfel dat God jou Vader is?  Om vrymoedig te bid moet jy ook weet wat God se wil is.  As jy oor sy wil wonder, kan jy nie met sekerheid bid nie.  Bid jy volgens God se wil as jy vra om die LOTTO te wen?  “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jk.4:3).  Bid jy volgens God se wil as jy vra dat Hy vir jou geld voorsien om jou kind se handboeke te koop?  “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil.4:19).  As God ‘n belofte in die Skrif gegee het, kan jy dit bid en verseker weet dit is sy wil.  Daar is nie ‘n belofte dat jou ma gesond gaan word as jy vir haar bid nie.  Tog is daar ‘n belofte dat God almagtig, goed en wys is, en daarom is dit nie verkeerd om te bid dat sy gesond word nie.  Maar in so ‘n geval moet jy soos Jesus in Getsemane bid:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’

 

Ek was onlangs by ‘n predikante byeenkoms waar ‘n charismatiese pastoor in sy gebed gesê het: ‘Lord, we know that we will have this, because we have spoken it into the air.’  Om te dink gebed is ‘n tower formule waarmee jy die Here kan manupileer is arrogant.  Maar om vrymoedig te bid en Hom aan sy beloftes te herinner is Bybels (v.14, Jes.62:6-7).  Hou dan op met twyfel.  “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hb.4:16).  Wat het jy nodig?  Die Here weet dit, maar wil hê jy moet dit vir Hom sê (Mt.6:8).  Om te twyfel of angstig te wees help jou nie, en maak net die situasie erger.  Moenie self jou probleme wil oplos nie.  Bring dit vir die Here.

 

‘n Christen wat twyfel sê in effek dat God onbetroubaar is. Dalk sê hy dit nie met sy lippe nie, maar sy biddeloosheid skreeu kliphard:  ‘God kán ons nie help nie, en wíl ook nie!’

 

Sekerheid van beskerming (v.18-19)

In Suid-Afrika het ons honde, alarms, elektriese heinings, diefwering, sekuriteitshekke, palisades, en gewere om ons te beskerm. Tog weet ons dat misdadigers verby al hierdie dinge kan kom.  Selfs mét al hierdie dinge kan jy nie seker wees jy is veilig nie.  Met God is dit anders.  Sy belofte om jou teen sonde en die duiwel te beskerm is nie leeg nie (v.18-19).

 

Iemand wat uit God gebore is, hou nie aan met sondig nie (v.18, 3:9, Gk.). ‘n Ware Christen kán sondig (v.18), maar nie tot die dood nie (v.17).  Die ewige Seun wat uit God gebore is beskerm ons, sodat die duiwel onsuksesvol is in sy poging om ons te versoek om op hiérdie manier te sondig (v.18, Jh.17:12, Jud.1, 24, Ps.105:15).  Satan kan ons nie só van God af wegrokkel, dat ons ons rug op Hom draai en finaal wegval nie (v.18, Job 1:11, 21-22, 2:3, 5, 9-10, Jh.10:28, 17:12-15, Rm.8:38-39).

 

Ons lê nie saam met die wêreld soos ‘n baba in die duiwel se arms en slaap nie; ons loop nie bedwelmd agter hom aan nie; ons is nie, soos ‘n haas, vas in die duiwel se strik nie (v.19, Ef.2:2). Ons kom van God af (v.19).  Die wêreld kom in verskillende groottes, kleure en geure (Islam, ateïsme, Hindoeïsme, ens.), maar is almal in die duiwel se fabriek gemaak.  As jy nie aan Jesus behoort nie, behoort jy aan die duiwel (v.19).  Hier is daar geen grys area nie.

 

Glo dat die Here jou teen sonde en die duiwel sal beskerm. As jy God se beskerming betwyfel, sal Hy jou nogsteeds beskerm, maar jy sal onnodig bang wees.  Glo eerder dat Hy soewerein is oor die duiwel, en vir hom kan sê wat hy mág en nié mag doen nie.  Die duiwel kan nie doen wat hy wil nie, maar is soos ‘n marionet in God se hand.  Dit is wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het:  ‘The devil is God’s devil.’  Toe Jesus op aarde was het Hy vir Satan gesê:  ‘Gaan weg!’ (Mt.4:10).  Hy het die duiwels verbied om te praat (Mk.1:34).  Die duiwels moes toestemming vra om in die varke in te gaan (Lk.8:32).  Hy het die duiwel en al sy magte oorwin toe Hy aan die kruis gesterf het (3:8, Kol.2:15).

 

Moet dan nie bang wees nie, maar glo dat God selfs jou vyande sal gebruik om jou te bevoordeel (Gn.50:20, Hd.4:27-28). Spurgeon was uiteindelik dankbaar dat die duiwel mense aangehits het om hom te kritiseer, want daardeur het honderde mense uit nuuskierigheid na hom kom luister en tot bekering gekom.[2]  Wees verseker dat God jou teen jou vyande kán en sál beskerm (v.18-19).

 

Sekerheid van kennis (v.20-21)

My vriend het eenkeer saam met ‘n bekende ds. gaan koffie drink. Dié man het altyd die waarheid geglo, maar het skielik begin om dit te betwyfel.  Vir hom was die Bybel nie meer ‘n vaste rots om op te bou nie, maar olie wat tussen jou vingers deur glip.  Postmodernisme is die groot woord.  Volgens hulle bestaan daar nie iets soos absolute waarheid nie.  Wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir my waar nie.

 

Vandag is daar heelwat kerke wat dit glo. Vir hulle is Jesus en die Bybel se woorde so goed soos Ghandi en Mandela s’n:  elkeen het ‘n stukkie van die waarheid beet.  Ek sukkel egter om te verstaan hoe evolusie en die Bybel waar kan wees; Jesus en die Qur’an; die evangelie en redding deur goeie werke.  Volgens Johannes is daar iets soos absolute waarheid, en kan ons dit net in Jesus vind.

 

Die Seun van God het aarde toe gekom om ons oë en verstand oop te maak, en vir ons die kennis van die ware God te gee (v.20, Lk.24:45, Jh.1:18, 14:6-9, 2 Kor.4:4). Hierdie kennis is nie die mistiese kennis van die vals leraars nie, maar ‘n ware en reddende kennis.  Ons ken Hom nie net nie, maar deur geloof is ons in die ware God en in sy Seun Jesus Christus (v.20).

 

Die vals leraars het Jesus se Godheid ontken, maar volgens Johannes het hulle nie ‘n voet om op te staan nie, omdat Hy die ware God en Ewige Lewe is (v.20, 1:1-2). Die ewige lewe kom dus nie deur die vals leraars se sogenaamde verhewe kennis nie.  Dit kom deur ‘n Persoon:  Jesus Christus (v.20).  Johannes se lesers moenie in enige ander Jesus glo nie (2 Kor.11:4).  ‘n Jesus wat nie die Seun van God, die Christus, en die ware God is nie, is ‘n vals Jesus.  En om ‘n vals Jesus te aanbid is afgodery (v.21).  Johannes wil hê ons moet die ware God aanbid (v.20).

 

Hou op twyfel, en glo dat die Jesus van die Bybel die ware God is, en dat Hy die standaard is waaraan alle waarheid gemeet moet word (v.20, Jh.14:6). As jy nie seker is hiérvan nie, sal jy oor níks seker wees nie.  Watter god is daar wat jou lewe en gedagtes so akkuraat kan beskryf soos Jesus?  As Hy nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat meer as 400 profesieë noukeurig in Hom vervul is?  Hoekom word duisende Christene se gebede so presies beantwoord as Hy nie die ware God is nie?  En as Jesus nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat ‘n misdadiger wat die evangelie hoor en glo, binne 24 uur ‘n ander mens is en vir die res van sy lewe so bly?  Waar is die filosofie, sisteem, of godsdiens wat vir jou ‘n skoon gewete kan gee?  Deur sy kruisdood het Jesus ons skuld weggevat, en daarom kan Hy ook van die skuldgevoelens ontslae raak.  Hy is die ware God.  Moet jou nie steur aan liberale teoloë, ateïste, Moslems, en ander mense wat alewig die waarheid van die Bybel betwyfel nie.  Druk ook jou ore toe vir mense wat ‘n Jesus van hulle eie verbeelding verkondig; ‘n Jesus wat nie in die Bybel voorkom nie.

 

‘n Christen wat twyfel, is soos ‘n Rottweiler wat as baba-hondjie mishandel is. As ‘n skelm inbreek kruip hy onder die tafel in.  Hy weet nie hy kan die skelm byt nie.  In Christus is alles joune.  Hy het jou gered, beantwoord jou gebede, en beskerm jou.  Hy is die ware God – jóú God.  Moenie met sakke vol van diamante en goue muntstukke by die robot staan en bedel nie.

[1] Autobiography: vol.1, pp.380-381

[2] Ibid, pp.329, 342, 394-395

’n Waarskuwing aan die kerk

Jesus cleansing temple

Gestel President Jacob Zuma kom vanaand tot bekering. Binne die volgende week kondig hy in die parlement aan dat ons ‘n drastiese reformasie en verandering in ons land nodig het.  Wat sou jý sê:  hoe en waar moet dit begin?  Sou jy saamstem dat hy eers sy eie huis moet skoonmaak, voordat hy die land wil verander?  Hy moet die geld wat hy misbruik het terugbetaal.  Hy moet van die korrupte leiers en polisie-beamptes ontslae raak.  Eers dan kan hy begin om op grondvlak die gemors op te ruim.  Dit is hoe God in die wêreld werk.  Voordat Hy in Openbaring 6-20 die wêreld oordeel, sê Hy in Openbaring 2-3 dat Hy die kerk gaan oordeel (vgl. Jeremia 25:29, Esegiël 9:6).  In 1 Petrus 4:17 lees ons:  “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God.”  In Johannes 2:13-25 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Geldgierigheid (v.13-17)

In 1515 het Pous Leo X aflaatbriewe verkoop. In Katolieke-teologie is die heiliges (‘saints’) in die hemel se meriete oorgedra aan die sondaar wat so ‘n brief koop.  Vir iemand wat ‘n brief koop sou die Pous sorg dat God tydelike strawwe soos kertug en die vagevuur verminder.  Die Pous kon ook meriete aan die persoon se geliefdes in die vagevuur oordra, sodat hulle gouer in die hemel kon kom.  Die geld is gebruik om St. Peter’s Katedraal in Rome te bou.  Uit die hele wêreld sou mense kom om die Katedraal te besoek.  En saam met ‘toeriste’ kom geld, sodat die Pous nóg ryker kon word.

 

Tetzel was die Pous se agent. In Duitsland het hy belowe dat kopers se geliefdes dadelik uit die vagevuur na die hemel sou oorgaan.  Sy rympie was:  ‘As soon as the coin in the money-box rings, the soul from purgatory springs!’  Hy het ook belowe dat die mense wat so ‘n brief koop se sonde onmiddellik vergewe sou word.  Die Kerk self het nie sover soos Tetzel gegaan nie.  Nietemin was die sisteem korrup en was dit nodig vir ‘n radikale hervorming.[1]

 

Vandag is prosperity predikers die geldwolwe.  Hulle is die godsdienstige eweknie van Suid-Afrika se geldgierige ministers.  Hulle belowe vir die arm weduwee dat sy binne die volgende twee dae honderdvoudig sal ontvang, as sy haar laaste pensioengeld vir húlle gee (Lukas 20:47-21:4).  Net soos Simon die Towenaar weet hulle hoe om die Skrif en godsdiens te misbruik om ryk te word (Handelinge 8:18-19).  As die massas vir hulle byeenkomste opdaag, vryf hulle hul hande saam en is daar $-tekens in hulle oë (2 Petrus 2:14-15, 1 Timoteus 6:5, 9-10, Lukas 16:14).  Juis om hierdie rede het Jesus aan die begin en einde van sy bediening mense met ‘n sweep uit die tempel weggejaag.

 

Soos wat die wet vereis het, het Jesus Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees (v.13, Deuteronomium 16:16, Lukas 2:41). In die tempel het Hy die geldwisselaars en veehandelaars gesien (v.14).  Jode het van oral af vir die Paasfees gekom, en kon nie met buitelandse geld vee koop of tempelbelasting betaal nie (Eksodus 30:13-14, Matteus 17:24-27).  Hulle moes van hulle eie beeste, skape, bokke, ens. offer en ook met die Leviete, weeskinders, armes, en weduwees deel (Numeri 28:16-25, Deuteronomium 14:22-29).  As die vee te veel was om met jou saam te dra, kon jy die geldwaarde daarvan tempel toe bring, en by die tempel se veehandelaars nuwes koop (Deuteronomium 14:22-26).

 

Hoekom het Jesus hulle dan uitgedryf (v.15)? Hulle het die wisselkoers en veepryse so opgejaag, dat jy na ‘n ruiling te min gehad het vir die belasting en offers.  Sodoende het die Leviete nie die volle tiende gekry nie.  ‘n Direkte gevolg was ook dat die armes, weeskinders, en weduwees honger gely het (Deuteronomium 14:27-29).  Vir die halfblinde weduwee het hulle gelieg en gesê dat haar twee silwer muntstukke te min is vir ‘n lam.  Hulle het vir haar ‘n duif met ‘n pêrel-oog en ‘n gebreklike voet gegee (Maleagi 1:8).  Die veehandelaars en geldwisselaars het die swakkes onderdruk en soos TBN-predikers godsdiens misbruik om ryk te word.

 

Jesus het nie sy humeur verloor nie, maar het tyd geneem om ‘n riempiesweep te vleg (v.15). Hy het ‘n heilige toorn gehad, omdat hulle sy Vader se eer aangetas het.  Hy het die hele korrupte spul en hulle offers uit die tempel uit gedryf.  Hy het die tafels vol van gesteelde geld omgegooi, sodat dit op die tempel se klipvloer geklingel het (v.15).  Jesus wou veral ‘n verrotte appel met die duiwehandelaars skil, omdat hulle die armes uitgebuit het (v.16, Levitikus 12:8).  Hulle het sy Vader se huis van gebed in ‘n rowersnes verander (v.16, Matteus 21:13).  Die dissipels het Jesus se blitsende oë gesien en dadelik Psalm 69:10 onthou:  “Die ywer vir u huis het my verteer” (v.17).  As gevolg van sy ywer vir die tempel, het Dawid se vyande hom gespot en vervolg.  So sou hulle met Jesus doen (v.17).  Jesus het hulle vormgodsdiens gehaat en gebrand met ywer vir sy Vader se huis en eer (v.17).

 

Pasop vir geldgierigheid in die kerk, “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Timoteus 6:10). Volg die prediker wat bekend is vir sy heilige karakter en ’n liefde vir die waarheid; een wat gasvry is en graag met ander deel (1 Timoteus 3:1-7).  Pasop vir die prediker wat geld jaag en luuks lewe (1 Timoteus 3:3, Titus 1:7, 1 Petrus 5:2), wat gedurig oor geld preek, wat altyd meer en beter soek, wat ver bo die skape se geldelike vermoëns leef, wat net ryk vriende het en saam met hulle uithang, wat arm mense vermy, wat mense skuldig laat voel of boelie om te gee, wat ryk individue met beloftes van seën manupileer om te gee (‘God sal hierdie week vir jou ‘n wonderwerk doen as jy gee’), wat baie praat en beplan oor hoe om meer geld te maak of gou ryk te word, wat meer geld spandeer op nuwe ‘gadgets’ as op hulpmiddels om mense vir Here te wen, wat die kerk se geldsake van die gemeente af weerhou, wat geld laat ‘wegraak’ en skielik ryk word, maar wat soos ons land se ministers en munsipaliteite nie rekenskap daarvoor kan gee nie.

 

Pasop om nie hierdie dinge net in predikante te veroordeel nie, maar kyk met die flits van die Woord in die donker hoeke van jou eie hart. Moenie vir ‘n oomblik dink dat mense wat nuwe BMW’s ry versoek word tot materialisme, terwyl mense wat gewone karre ry nie in dieselfde strik kan trap nie.  Is dit dalk nodig dat Jesus geldgierigheid uit die tempel van jóú hart moet reinig?  Bely dit, bid vir hulp, dank die Here opreg vir wat jy het, wees mededeelsaam, laat Jesus jou versadig en sê vir jouself dat die hol geklingel van geld en besittings nooit die leemte in jou hart kan vul nie.  Soos wat koning Josia en Jesus die tempel gereinig het, moet jy vir God vra om die tempel van jou hart te reinig (1 Johannes 1:9, Jakobus 4:8, 2 Korintiërs 7:1).

 

Ongeloof (v.18-22)

In sy boek, Evangelicalism in England, vertel E.J. Poole-Connor van ‘n gesprek tussen ‘n liberale ds. en die redakteur van ‘n ateïstiese tydskrif.  Die redakteur het vir die ds. gesê dat hulle, ten spyte van hulle verskillende beroepe, baie in gemeen het.  ‘Ek glo nie in die Bybel nie, en jy ook nie,’ het die ateïs gesê.  ‘Ek glo nie in die skeppingsverhaal nie, en jy ook nie.  Ek glo nie in die Godheid van Christus, sy opstanding of sy hemelvaart nie.  Ek glo nie in enige van hierdie dinge nie, en jy ook nie.  Ek is soveel van ‘n Christen soos wat jy is, en jy is so ongelowig soos ek!’[2]

 

Dit is erg genoeg as ateïste die Bybel ontken. Maar dit is baie erg as mense wat dit behoort te verkondig, dit ontken.  In v.18 e.v. sien ons hoe God se volk die skuld van hulleself afskuif en vir tekens vra.  Maar toe Jesus ‘n teken gee – die teken van sy opstanding – het hulle ‘n blinde oog gegooi.  Hulle het geweier om die teken te glo.  Nadat Jesus die handelaars uitgedryf het, het hulle (soos reeds gesê) nie hulle skuld erken nie, maar Hom bevraagteken:  ‘Doen ‘n teken om te bewys dat U die reg het om die tempel te reinig (v.18, 4:48, 6:30, Matteus 12:38-39, 1 Korintiërs 1:22).  Maar was Jesus se reiniging van die tempel nie juis die bewys dat Hy die Messias is nie (Maleagi 3:1-3, Sagaria 14:21)!?

 

Die opstanding is die teken wat Hy sou gee (v.19, Matteus 12:39-40). Die Jode sou die tempel afbreek, en Hy sou dit binne drie dae weer oprig (v.19, 10:18).  Hulle het nie verstaan dat Hy van geestelike dinge praat nie, en het gedink Hy is mal (v.20, hfst.3-4, 1 Korintiërs 2:14).  Dit het hulle 46 jaar gevat om die tempel te bou, en hulle sou dit eers in 64 n.C. klaar bou.  Hoe kon Jesus dit dan binne drie dae bou (v.20)?  Hulle het sy woorde verdraai en gesê dat Hy die tempel wat hulle met hande gebou het, afbreek, en dat Hy binne drie dae een sou bou wat nie met hande gemaak is nie (Markus 14:58).  Toe Jesus aan die kruis was het hulle gesê:  “Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou” (Markus 15:29).  As hulle maar net geweet het:  die tempel was besig om afgebreek te word, en Hy sou dit op die derde dag uit die graf oprig.  Jesus het nie na die kliptempel verwys nie, maar het gepraat van die tempel van sy liggaam; die ware tempel waar God woon (v.21, Kolossense 1:19, 2:9, vgl. 1 Korintiërs 6:19).  Die dissipels het sy woorde onthou toe God Hom uit die dood uit opgewek het (v.22).  Hulle het besef dat sy woorde ooreenstem met die Ou Testament profete s’n toe hulle oor die herboude tempel gepraat het (v.22).

 

Saam met hoogmoed, is ongeloof die moeder van alle sondes (Johannes 16:9). Waak daarvoor.  Mense herinterpreteer terme.  Jy kan hulle dus nie outomaties as broers aanvaar, net omdat hulle praat van God, Jesus, die evangelie, Jesus se kruisdood en opstanding, verlossing en die Bybel nie.  Wát verstaan hulle onder hierdie terme?  Is die opstanding vir hulle ‘n warm gevoel in jou hart, of beskou hulle dit as ’n geskiedkundige opwekking van Jesus uit die graf?  Is die Bybel vir hulle die foutlose en onfeilbare Woord van God, of is dit ‘n versameling van mense se opinies?  Bevraagteken hulle die Bybel (v.20)?

 

Dit bekommer my dat Suid-Afrikaanse Baptiste kolleges oor die afgelope 20+ jaar toegelaat het dat dosente aan die betroubaarheid van die Skrif karring. Dit is nie dat al die dosente dit openlik ontken nie, maar in my tyd reeds het hulle gemaak of Genesis 1-2 poësie is en dat die evolusie-teorie ‘n kredietwaardige alternatief is.  In die klas het ons geleer dat Moses miskien nie die eerste vyf boeke geskryf het nie, en dat die Ou Testament nie eintlik van Jesus praat nie.  En in 2016 is dít die onkruid wat in toekomstige predikers se koppe geplant word.  Hoekom is die meeste lidmate en kerkleiers nie hiervan bewus nie?  Dalk dink jy dit is ‘n klein afwyking, maar is dít nie waar liberale fakulteite soos UNISA en Tukkies 40 jaar gelede was nie?  ‘n Vliegtuig wat London toe vlieg en net 2° van koers af is, sal in Reykjavik eindig.

 

Skynheiligheid (v.23-25)

Het jy al ooit by ‘n begrafnis ‘n tertjie met sjokolade in gehap, net om agter te kom dat dit Marmite is? Of ‘n pers druiwe korrel gevat, en skielik besef dis ‘n bitter olyf?  Net so kan jy ‘n vals gelowige vir die ware Jakob misgis.  Die Bybel noem dit skynheiligheid:  dit lyk soos ‘n Christen, maar is nie een nie.  Omdat Jesus almal se harte ken, word Hy nie daardeur geflous nie.  Dit is wat v.23-25 vir ons leer.

 

Tydens die Paasfees (v.23, 13) het Jesus baie tekens gedoen, sodat die mense kon glo Hy is die Een (20:30-31, 21:25). Baie van die Jode het sy tekens geglo (v.23).  Maar Jesus is God en ken die mens se hart (v.24-25, 1:43, 48-50, 5:42, 6:61, 64, 70-71, 16:30, 21:17, Matteus 9:4, Handelinge 1:24, 15:8, Psalm 139:1-6).  Hy het geweet dat die Jode nie opreg was en die Messias soek nie, maar dat hulle tekens gesoek het (v.24-25, 18, Psalm 78:34-37).  Hy het geweet dat dieselfde skare wat nou in Hom glo, Hom oor twee Paasfese sou kruisig.  Hy het geweet dat ware geloof nie is om sekere feite oor Hom te glo nie, maar om in ‘n verhouding met Hom te leef.  Hy het geweet dat die Jode se geloof soos die duiwel s’n is (Jakobus 2:19).

 

Pasop vir skynheiligheid in die kerk. Moet dit nie heel eerste by ander soek nie, maar waak daarteen in jou eie hart.  Moenie sonde in jou hart koester, terwyl jy voor ander mense godsdienstig is nie.  Bely jou skynheiligheid, wees voor ander mense wat jy by die huis is voor jou gesin, en by die werk is voor jou kollegas.  Wees voor ander wat jy op jou knieë is voor God.  Voel ‘n veer vir wat mense van jou dink, en lewe om God te behaag.  Bid gedurig tot God en stort jou hart voor Hom uit.  Dit beteken nie jy moet alles met almal deel nie, maar dit beteken dat jy oop en eerlik moet lewe, en dat jy nie twee lewens kan leef wat mekaar weerspreek nie.  Wie en wat jy regtig is, sal uiteindelik uitkom (Lukas 12:1-3).

 

Voordat ‘n groot aardbewing ‘n stad verwoes, is daar voorskokke. Voordat ‘n tornado ‘n dorp verpletter, is daar voorwinde.  Voordat ‘n tsunami ‘n eiland platvee, trek die water terug en lyk die see kalm.  Voordat God in 70 n.C. die tempel verwoes het, het Jesus dit in Johannes 2, asook aan die einde van sy bediening gereinig.  Is daar miskien ‘n waarskuwing van God se oordeel in die kerk?  “Deur ongeloof is [Israel] afgebreek, maar jy staan deur die geloof.  Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie… [jy sal] ook afgekap word.” (Romeine 11:20-22).  Laat ons onsself voor die Here verneder, ons sonde laat staan, en doen wat reg is in sy oë, sodat Hy nie “kom en die land heeltemal vernietig nie.” (Maleagi 4:6, NAV).

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.3, pp,74-75, 568-569

[2] Arnold Dallimore, Spurgeon: A New Biography, p.214

’n Lewe van oorwinning

Stretching for finish line 2

Toe ek 11 jaar oud was het ek die 70 meter hekkies op interlaer gewen. Toe ek op die provinsiale kompetisie in Pietersburg moes deelneem, het ek vyfde gekom.  Ek moet seker eerlik wees en sê dat daar net vyf atlete was.  Ek het verneder en skaam gevoel.  Soos elke kind het ek gedagdroom oor hoe ek eerste kom.  Maar wat help dit jy is die beste op elke terrein, as jy nie wen in die een item wat regtig saakmaak nie:  die wedloop van die lewe?  In 1 Johannes 5:1-12 wys God vir ons hoe om hierdie wedloop te wen.

 

Geloof se oorwinning (v.1-5)

Charles Spurgeon vertel van ‘n groot en lang man wat die leier van die sondaars in sy klein dorpie was. Hierdie man kon meer drink as almal, het soos ‘n matroos gevloek, het baklei, en was bang vir niemand nie.  Op ‘n dag het hy na Spurgeon se kapel toe gekom.  Hy was mal oor Spurgeon se preke.  Hy het bely dat God hom gered het.  Hy het oor sy sonde gehuil, en die drank en vuil taal gelos.  Hy het bidure toe gekom en saam met die gelowiges gebid.  Gedurende hierdie tyd het hy gedien en die moeilikste take gedoen.  As iemand teen God gepraat het, het hy die persoon koud geslaan.  So het hy vir 9 maande uitgehou.

 

Toe sy ou vriende sê hy is fanaties, het hy skaam geraak vir die kerk. Hy het opgehou om na die midweek byeenkomste toe te kom, en het uiteindelik ook nie meer op Sondae gekom nie.  Ten spyte van vele waarskuwings, het hy na sy ou weë van vloek en dronkenskap toe teruggekeer.  Hy het erger geword as wat hy was, en daarna kon niemand hom bereik nie.[1]  Johannes sê dat ware geloof die wêreld oorwin, en nie oorwin word nie (Romeine 12:2).  Dit is die les in v.1-5.

 

Geloof in Jesus Christus is die eerste teken en bewys van weergeboorte, net soos wat ‘n baba se gehuil die eerste teken van geboorte is (v.1). As God nie die eerste stap neem en die sondaar opwek nie, sal hy nie glo nie (Efesiërs 2:5, 8, Filippense 1:29, Johannes 6:44).  Geloof is die mens se reaksie op God se werk van weergeboorte, asook die bewys daarvan (v.1).  Net soos vuur en hitte, pas geloof en weergeboorte bymekaar – die een kan nie sonder die ander nie.  ‘n Vrou het eendag vir my gevra of ons ‘weergebore Christene’ is.  Volgens haar was hulle onweergebore Christene.  Maar volgens Johannes bestaan daar nie so iets nie.  Iemand wat waarlik in Jesus glo is weergebore, en een wat weergebore is sal in Hom glo.

 

Uit die weergebore hart spruit daar liefde vir die Vader en vir almal wat uit Hom gebore is (v.1, 4:20-21). Hoe wys hy dat hy sy broer liefhet?  Hy is lief vir God (v.2).  Hoe wys hy sy liefde vir God?  Hy gehoorsaam sy gebooie – veral die gebod om God en sy naaste lief te hê (v.2-3, 2 Johannes 5-6, Johannes 14:15).  Met ander woorde, liefde vir God is ‘n bewys van liefde vir jou broer, en liefde vir jou broer is ‘n bewys van jou liefde vir God.

 

As jy God liefhet is sy gebooie nie ‘n swaar las of ‘n straf nie, maar ‘n vreugde soos vir ‘n man wat sy vrou liefhet en met plesier die vullis sakke vir haar uitvat (v.3, Matteus 23:4, 11:30, Romeine 6:17). As sy gebooie vir jou ‘n las is (v.3), dan sal jy dit doen uit vrees vir die hel en nie uit liefde nie.  Die Heilige Gees stel ons instaat om God se gebooie te doen, en daarom is dit nie te swaar nie (v.3, Romeine 8:4).  Die Gees help ons ook om die wêreld te oorwin (v.4, 2:15-17), en ‘nee’ te sê vir die vals leraars se skewe idees oor Jesus (v.4-5, 1 Korintiërs 15:57).  Niks behalwe geloof in die ware Jesus nie, kan die wêreld oorwin (v.4-5).  Die vals leraars het nie in die ware Jesus geglo nie en kon dus nie die wêreld oorwin nie, maar het dit liefgehad (v.4-5).

 

Oorwin die wêreld deur jou geloof. Kry jy dit reg om ander sondes te oorwin, maar daar is een versoeking wat nie ‘nee’ vat vir ‘n antwoord nie; ‘n sonde wat jou soos ‘n rower oorval?  Is jy moedeloos, omdat jy dit doodeenvoudig nie kan onderkry nie?  Johannes sê jy kán dit deur geloof in Jesus oorwin (v.4-5).  Geloof impliseer jy kyk nie na jouself vir hulp nie, maar na ‘n Ander.  Maar om te oorwin moet jy hard veg en stry.  Moenie in jouself probeer óf wag vir die Gees om te werk nie.  Doen jou deel en veg.  Maar doen dit deur geloof in Jesus en in afhanklikheid van die Gees (Romeine 8:13).  Dit is nie maklik nie, maar deur die Heilige Gees kán jy dit oorwin en ‘nee’ sê (v.4-5, 4:4, Titus 2:11-12).

 

Let asseblief op wat oorwinning nié is nie: [2]

 

[1] Oorwinning beteken nié dat jy ‘n punt bereik waar jy in hierdie lewe nie meer met sonde stry nie.

 

[2] Oorwinning is nié dieselfde as oortuiging van sonde of trane daaroor nie. Jy kan oortuig wees en huil sonder dat jy oorwin het.

 

[3] Oorwinning is nié om een sonde met ‘n ander te vervang nie (bv. om dagga te los en met sigarette te vervang).

 

[4] Oorwinning is nié om nou en dan jou sonde te los as jy bang is vir die hel, of as jou gewete jou pla nie.

 

[5] Oorwinning is nié om jou sonde te los, in die hoop dat God jou slegte omstandighede sal verander nie. Dalk is jy soos Israel in Psalm 78:34-37 en belowe jy om nie weer ‘n spesifieke sonde te doen nie:  “Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.  En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.”  Maar voordat jy weet is jy alweer onder die sonde se hipnose, en volg jy dit soos die rotte wat agter die Rottevanger van Hamelen se towerfluit aanloop.

 

Die vals gelowige veg dalk teen ‘n spesifieke sonde, maar los nie in die algemeen sy sonde nie. Net ware geloof in Jesus kan sonde oorwin.  As jy geen sukses of oorwinning ervaar nie, is jou geloof vals en is jy ongered.  Hoekom moet jy die wêreld en haar sonde oorwin?  Want as jy dit nie oorwin nie, sal dit jou oorwin.

 

Geloof se getuies (v.6-12)

In die geskiedenis lees ons van ‘n sekere Cerinthus wat gesê het dat Jesus as ‘n gewone mens uit Josef en Maria gebore is. By sy doop het die Christus-gees soos ‘n duif op Hom neergedaal, en Hom weer verlaat voordat Hy aan die kruis gesterf het.[3]  Dit is teen hóm wat Johannes in v.6-12 skryf, sodat gelowiges verseker kan weet dat die Jesus in wie ons glo regtig die Christus en die Seun van God is.

 

Volgens Johannes getuig die Heilige Gees en die Vader deur die doopwater dat Jesus die Christus en die Seun van God is (v.6, Matteus 3:16-17).  Verder wys sy bebloede kruis Hy is die Christus en Seun van God (v.6, Jesaja 53, Matteus 27:54).  Op dié manier getuig die water en die bloed dat Hy die Christus en Seun van God is (v.6).  Van begin (sy doop) tot einde (sy dood) getuig Jesus se bediening hiervan.

 

Die Heilige Gees is die Een wat hiervan getuig (v.6, Johannes 15:26, 5:39, 1:33, Handelinge 10:38, Lukas 4:18-21). Die Gees is die waarheid en kan nie oor Jesus lieg nie (v.6, Johannes 16:13).  Die feit dat die Gees, die water, en die bloed saamstem oor Jesus, wys dat Hy die Christus en Seun van God is (v.7-8, Deuteronomium 19:15, 17:6, Matteus 18:16).  As drie mense in die hof dieselfde getuig, dan glo ons dit (v.9).  Hoeveel te meer moet ons nie die waaragtige en alwetende God se getuienis aangaande sy Seun glo nie (v.9, Johannes 8:17-18, Matteus 3:16-17)?

 

Net soos die eksterne getuienis (v.6-9), wys die Heilige Gees se interne getuienis in jou hart dat Jesus die Christus en die Seun van God is (v.10, Romeine 8:15-16, Handelinge 5:32). Wie anders is dit wat jou sondelas wegvat, jou gewete skoonwas, en jou lewe nuut maak?  Iemand wat nie God se getuienis aangaande sy Seun glo nie, sê dat God lieg (v.10, Johannes 3:33).

 

God getuig dat Hy die ewige lewe deur sy Seun kom gee het (v.11, 2:25, Johannes 3:15-16, 36, 5:24, 6:40, 47, 12:50, 17:3, Titus 1:2).  Jesus self is die Lewe (Johannes 11:25).  Soos wat ‘n walvis net in die see kan oorleef en vrek as dit op die strand uitspoel, so is dit met Jesus.  Almal wat in Hom glo het die lewe, en wie Hom verwerp het nie die lewe (v.12, Johannes 3:36).

 

Om die wêreld te oorwin moet jy seker maak jy glo in die Jesus van die Bybel, en nie in ‘n Jesus van vindingryke mense se verbeeldings nie. Nie dat ‘n vals Jesus enigsins bestaan nie.  Maar maak seker dat jy in die ware Jesus glo, want net Hy kan en het die wêreld oorwin (Johannes 16:33).  Die Jesus van die Bybel is nie maar net ‘n mens, ‘n groot leermeester, ‘n wonderwerkende profeet, ‘n radikale leier, of ‘n sosiale werker wat weduwees en arm mense beskerm nie.

 

Jesus is die Christus en die Seun van God (v.1, 5). Moet dan nie soos die duiwel net die feite oor Hom glo nie (Jakobus 2:19).  Jy het reeds die ewige lewe, maar moet aanhou glo en die wêreld oorwin (v.5, Gk.), totdat jy dit by die wederkoms in sy finale vorm het (v.11-12, 3:2).  Wat is die ewige lewe?

 

Die ewige lewe is nie ‘n onpersoonlike, vervelige, abstrakte, en sinnelose ewige bestaan nie. Dit is nie om in die Brahman terug te keer soos wat die Hindoes glo, of om Nirvana te bereik soos wat die Buddhiste glo nie.  Die ewige lewe is God se eie lewe in jou siel.  Dit is ‘n diep en intieme kennis van God en sy Seun (Johannes 17:3).  Dit is ‘n lewe van ewige liefde, danksegging, gemeenskap, blydskap, lofgesange, en genade.  Dit is ‘n lewe in God se teenwoordigheid, sonder enige hartseer, droefheid, trane, siekte, veroudering, pyn, swakheid, sonde, en dood.  Dit is ‘n lewe waar ons ten volle mens is met ‘n volmaakte liggaam en siel.  Dit is ‘n lewe van krag, gesondheid, heerlikheid, en sterkte.  Dit is lewe in die volste sin van die woord – lewe in oorvloed (Johannes 10:10).  Dit is ‘n lewe wat vir ewig duur.  Jy kan dit nie op jou sterfbed, of na 10 000 jaar in die hemel verloor nie (Romeine 8:38-39, Johannes 10:28-29).  Dit is ‘n lewe wat net in Jesus gevind kan word (Johannes 14:6).  Jy kan dit nie vind in enige ander godsdiens, filosofie, sisteem, of persoon nie.  Dit is dan ‘n lewe wat in twee woorde opgesom kan word:  Jesus Christus (5:20).

 

Die ewige lewe in die hemel, en niks minder as dit nie, is die finale oorwinning waarna elke ware gelowige streef en uitsien (2 Timoteus 4:7-8).

 

In 361 n.C. het Julian (beter bekend as Julian die Afvallige), keiser geword. Alhoewel hy in ‘n Christelike huis grootgeword het, het hy as jong man sy rug op Christenskap gedraai.  Hy het die Christelike godsdiens aggressief en aktief teëgestaan.  Hy het alles in sy vermoë gedoen om sy heidense godsdiens te versprei.  Twee jaar nadat hy keisier geword het, het hy in 363 in ‘n oorlog teen die Perse gesneuwel.  Saam met hom het sy ideale heidendom se laaste hoop gesterf.  Volgens oorlewering het Julian sy laaste woorde tot Christus gerig:  ‘O Galileër, U het oorwin.’[4]  Soos Julian, sal die wêreld en elke ander vyand uiteindelik erken dat Jesus oorwin het (Filippense 2:10-11).  En in Jesus is elke gelowige meer as ‘n oorwinnaar (Openbaring 12:11, Romeine 8:37).

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.200-201

[2] John Owen, The Mortification of Sin, pp.26-31

[3] Henry Bettenson, Documents of the Christian Church, p.37

[4] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: vol.1, pp.168-169

Nuwe wyn vir die siel

Wine

Toe ons Desember in die Kaap was het ons Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste wynplaas besoek. Alhoewel nie een van ons wyn drink nie, is daar net iets aan pragtige wingerde, wynkelders, en die luuksheid en rykdom van wêreldklas wyn.  As ek aan duur en goeie wyn dink, sien ek nie ‘n besope man wat aan ‘n lamppaal hang nie.  Ek sien ‘n skatryk man wat agter in ‘n Rolls Royce sit en voor sy ou styl villa stop.  As hy in sy huis kom is daar ‘n dik mat, ‘n kaggelvuur wat brand, ‘n swaar hout tafel, en ‘n bruin leer enkelbank waarin hy terugsak met ‘n glas wyn in sy hand, terwyl hy na klassieke musiek luister.  Vertaal dit nou in ‘n geestelike prentjie as jy in Johannes 2:1-12 lees van die nuwe wyn wat Jesus vir ons siele bring.

 

Die krisis (v.1-5)

Het iemand al ooit vir jou ‘n verrassingspartytjie gehou? Jy staan op en dink die dag is baie erg.  Selfs jou naaste familie het vergeet jy verjaar.  Almal by jou werk het vergeet.  Tot die man of vrou met wie jy ‘n bed deel het nie jou groot dag onthou nie.  Iemand wat jou goed ken vra jy moet gou saamry na ‘n vriend se huis toe.  ‘Ek moet net gou iets gaan aflaai,’ sê hy.  As jy by die vriend se huis stop is daar net karre.  Familie en vriende verwelkom jou, en is bly jy verjaar.  God is soms so en sit ons aspris in ‘n moeilike situasie, omdat Hy ‘n wonderlike verrassing vir ons het.  Dit is wat Jesus in v.1-5 gedoen het.

 

Op die derde dag, toe Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het, was daar ‘n troue in Kana tussen die See van Galilea en die Middellandse See (v.1, 1:29, 35, 44, 48). Johannes sê nie wie se troue dit was nie, en noem nie die bruid of bruidegom se name nie.  Hy wil op die ware Bruidegom fokus (3:29).  Jesus se heerlikheid in die wonderwerk is belangriker as die bruid se skoonheid (v.11).  Hoekom het Jesus sy eerste wonderwerk by ‘n troue gedoen?  Was dit om te fokus op die groot en finale bruilofsmaal?  Was dit om Homself te wys as die Bruidegom, en om die huwelik goed te keur as ‘n Goddelike instelling?  Die feit dat Jesus se ma by die troue was, wys dit waarskynlik familie of vriende was wat getrou het (v.1).  Josef was nie daar, en was dalk alreeds oorlede (19:26-27).  Jesus en die dissipels wat hy in hfst.1 geroep het was ook na die troue toe genooi (v.2).  Nataniël het van Kana af gekom (21:2), en het seker die mense geken.

 

Gedurende die troue het die kelners vir Maria gesê die wyn is op (v.2, 5). Sy was seker dat Jesus sou help en het vir Hom gesê die wyn is op (v.2).  Jesus se antwoord klink disrespekvol, maar eintlik was dit ‘n betoning van respek in hulle kultuur (v.4, 19:26).  As Hy in ons kultuur geleef het, sou hy sy ma as ‘mevrou’ aangespreek het.  ‘Wat het Ek met u te doen?’ (v.4) is reguit maar nie ongeskik nie.  Jesus sê in effek:  ‘Dis nie my troue nie.  Ek is ook nie meer onder ma se gesag nie, maar moet vir my Vader wag om te sê wanneer my uur gekom het (v.4, 7:30, 8:20, 12:23, 27, 13:1, 17:1).  Ek moet sý wil uitvoer (4:34).  Ek het nie gekom om wyn vir partytjies te voorsien nie, maar om nuwe wyn vir die siel te gee, sodat mense kan feesvier en God kan prys (Amos 9:13-14).’  Jesus se ma het nie sy antwoord as negatief ervaar nie, maar het geweet Hy sou iets doen (v.5).  Sy het vir die kelners gesê om presies te doen wat haar Seun sê (v.5).

 

Kry ‘n regte fokus in jou krisis. Jesus se doel is nie om dadelik jou klein krisis op te los nie, maar om sy heerlikheid te wys.  Vir Hom gaan dit nie primêr oor die R400, werk, verblyf, petrol, kind, of lewensmaat waarvoor jy bid nie, maar oor sy algenoegsaamheid om in al jou behoeftes te voorsien (Filippense 4:19).  Hy wil hê jy moet Hóm as die grootste gawe sien en geniet, en nie iets anders soek wat jou van Hom af kan weglei nie.  Moenie die afgewaterde wyn van geld of iets anders soek, as jy die nuwe wyn van Jesus kan hê nie.  Hy sal die begeertes van jou hart gee, net as dit sy heerlikheid beter in jou lewe sal wys.  Hy wil nie hê jy moet angstig wees, ophou bid, of jouself probeer uithelp nie.  As jy dít doen sê jy indirek:  ‘Hy kan my nie help nie en het nie die krag nie… Hy wil my nie help nie en is nie goed nie.’  Jesus sal nie goeie dinge van sy kinders af weghou nie (Psalm 84:11).  As Hy dit nie gee nie, is dit nie uit nyd nie.  Dit is omdat dit nie goed is vir jou nie, of dalk nie nou goed is vir jou nie.  As Hy op die verkeerde tyd ‘n goeie ding vir jou gee, is dit soos om vir ‘n baba te gou vleis te gee as hy dit nog nie kan verteer nie.

 

Jesus los jou soms in ‘n posisie waar jy fisies, finansieel, emosioneel, sosiaal, geestelik arm is, omdat Hy sy rykdom en heerlikheid wil wys (v.3, Efesiërs 3:20). Hy wil hê jy moet bid, sodat Hy jou kan help en jy sy Naam kan prys (Psalm 50:15).  Onthou ook dat ons nie vir Hom kan voorskryf nie.  Hy doen wat goed en reg is volgens sy Vader se wil, en nie volgens ons s’n nie (v.4).  In jou krisis moet jy bid, die knie buig, op die Here wag, en nederig sê:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’  Hoekom moet jy reg fokus in jou krisis?  As jy dit nié doen nie, sal jy ‘n dubbele las dra:  die krisis, asook jou vrees en angs.

 

Die oplossing (v.6-10)

Saam met John en Charles Wesley, het George Whitefield aan Oxford se Holy Club behoort. Hy het gedink redding kom deur sy eie godsdienstige pogings.  Hy het opgehou vrugte eet, slegte kos geëet, vir dae aaneen op die vloer gelê, sy geld vir die armes gegee, wol handskoene, ou klere, en vuil skoene gedra, vir ure in die koue geloop en bid totdat sy hande swart was.  As gevolg hiervan het hy siek geword en moes hy vir sewe weke in die bed lê.  Gedurende hierdie tyd het hy tot die besef gekom dat hy niks kan doen om God se guns te wen en homself te red nie.  Toe hy aan die einde van homself gekom het, het God die swaar las van hom af weggeneem, hom gehelp om deur geloof na Jesus te gryp, en hom deur die Gees aangeneem.  Die vreugde was oorweldigend.  Sy siel was vol van blydskap en die sondelas was weg.  Hy het ‘n sin van God se liefdevolle vergifnis gehad, en ook volle geloofsekerheid gekry.  Hy het gesê dit was soos ‘n lente stortreën wat maak dat ‘n rivier sy walle oorstroom.[1]  Dit is die punt wat Johannes in v.6-10 wil maak:  Jesus se nuwe wyn van die Koninkryk is oneindig keer beter as die leë kruike van godsdienstige tradisie.

 

By die troue was daar ses klip kruike vir Joodse reinigingsrites (v.6). Die Jode het hulle hande, potte, koppies, ens. hierin gewas, sodat dit sermonieel rein kon wees (Markus 7:3-5).  Elke kruik kon 70-105 liter hou.  Jesus het dus ‘n totaal van 420-630 liter wyn gemaak!  Jesus het gesê dat die kelners die kruike tot bo moes volmaak met water, sodat niemand kon sê Hy het iets met die water gemeng nie.  Niemand sou kon sê dit is nie ‘n regte wonderwerk nie (v.7).  Jesus het dit ook laat volmaak, sodat daar meer as genoeg wyn kon wees.

 

Jesus het vir die kelners gesê om die water uit die kruike te skep en dit vir die hoof kelner te vat (v.8).  Hulle het nie gevra hoekom nie, maar het gedoen wat Hy sê (v.8).  Toe die hoof kelner uit die beker drink, het dit intussen in die beste kwaliteit wyn verander (v.9).  Hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie.  Die kelners wat dit geskep het, het geweet (v.9).  Meer as een kelner het dit geweet.  Dit bewys dat niemand se sintuie hom bedrieg het nie.  Die kelners het hulself ook nie misgis omdat hulle dronk was nie.  Hulle kon buitendien nie van die wyn drink nie, maar moes die gaste bedien.  Dit is duidelik genoeg dat hierdie ‘n wonderwerk was.

 

Die hoof kelner het die bruidegom geroep, want dié moes sorg dat daar genoeg wyn is (v.10). Die feit dat hy hom geroep het wys dat die wyn besonder lekker was (v.10).  Die hoof kelner het nie verstaan hoekom die bruidegom die beste wyn vir laaste gehou het nie (v.10).  Jy wil mos juis die beste wyn eerste gee, en as die mense genoeg gehad het vir hulle die swakker kwaliteit wyn gee (v.10).

 

Los die leë kruike van mensgemaakte godsdiens en jou eie pogings. Geniet die nuwe wyn wat Jesus gee.  Net Hy kan die leë kruike volmaak.  Moenie dink jy kan dit by Hom koop, of Hom deur kerkbywoning, vas, tiendes, ens. omkoop om dit vir jou te gee nie.  Dis nie te koop nie.  Hy gee dit verniet as jy net sal erken jy is arm, en kan niks tot jou redding bydra nie (Jesaja 55:1).  Moenie net een slukkie vat as jy tot bekering kom nie, maar vier elke dag fees totdat Jesus kom en vir ewig daarna.  Les jou dors en geniet die soet wyn van sy liefde en verlossing (Matteus 5:6).  Jesus se werk van verlossing bring oorvloedige seën en gee ‘n volheid wat die leë kruike van tradisie en godsdiens nie kan bied nie (v.6-7, 10:10, Efesiërs 1:3).  Moet ook nie dink jy kan die twee meng nie.  Die nuwe wyn van Jesus se Koninkryk pas nie in die ou wynsakke van godsdienstige tradisies nie (Matteus 9:17).  Besluit wat jy wil hê.

 

Sien ook die nuwe wyn van verlossing as jy die nagmaalsap drink (Matteus 26:27-28). Laat Jesus die slegte wyn van sonde en godsdiens in die soet en smaaklike wyn van die ewige lewe verander (2 Korintiërs 5:17).  Smaak en sien dat die Here goed is (Psalm 34:9).

 

Die les (v.11-12)

Soos jy weet ontken ateïste en liberale teoloë Jesus se wonderwerke. C.S. Lewis het sê:  ‘God skep ‘n wingerd en maak dat dit water deur sy wortels opsuig.  Met behulp van die son verander die water in sap wat vergis en sekere kwaliteite aanneem.  Dus is God al van Noag se tyd af besig om elke jaar water in wyn te verander.’[2]  Toe Jesus die water in wyn verander het, het hy die proses versnel en ook nie die normale metode gevolg nie, maar bonatuurlik ingegryp.  In hierdie wonderwerk het Jesus sy heerlikheid as Skepper en Voorsiener gewys.  Die Almagtige Jesus kon binne sekondes uit reënwater wyn maak wat proe of dit uit die wêreld se beste kelders kom.  Maar om kwaliteit wyn te maak was nie sy hoofdoel nie.  ‘n Geestelike les was.

 

Jesus het sy eerste twee wonderwerke in Kana gedoen (v.11, 4:46, 54). Dus is dit onsin dat Jesus as kind klei voëltjies gemaak het en dit as lewende voëls laat wegvlieg het.[3]  Johannes noem Jesus se wonderwerke tekens (v.11).  Elkeen van Johannes se sewe tekens sê iets van Jesus.  Jesus vermeerder die brood om te wys Hy is die Brood van die Lewe (6:35).  Hy wek vir Lasarus uit die dood op om te wys Hy is die Opstanding en die Lewe (11:25-26).  By die troue verander Hy die water in wyn om te wys Hy is die ware Bruidegom[4] wat die nuwe wyn van die Koninkryk gee (v.11).  Sy heerlikheid wat voorheen bedek was, was nou sigbaar, sodat sy dissipels geglo het Hy is die Seun van God (v.11, 1:14, 20:30-31).  Jesus se broers het saam met Hom gereis, maar het eers na sy opstanding in Hom geglo (v.12, 7:5, Handelinge 1:14, vgl. Johannes 6:44, Lukas 10:21-22).

 

Sien ‘n refleksie van Jesus se heerlikheid in die klipkruike vol rooiwyn. Het jy al ooit hierdie nuwe wyn geniet in die lees van die Skrif, Bybelstudie, ‘n preek, persoonlike gebed, bepeinsing, lofsange, gehoorsaamheid, die gemeenskap van gelowiges, ‘n goeie Christelike boek, sondebelydenis en die vergifnis wat volg, vas, evangelisasie, diens aan ander, die nagmaal, die doop, bydraes tot God se werk, ‘n biduur?  As jy dink die wyn van sy heerlikheid is nou soet en goed, moet jy kans gee dat dit verouder.  Wat jy op aarde beleef het was maar net die wyn se geur wat jy geruik het – wag totdat jy dit in die hemel proe (Jesaja 25:6, Matteus 26:29, Johannes 17:24).  In die hemel sal jy daarvan drink en nie kan ophou nie.  Soos wat ‘n dronk persoon onder die wyn se invloed is, sal die nuwe wyn van Jesus en die Gees jou vir ewig beheer (Efesiërs 5:18).  Jesus hou waarlik die lekkerste vir laaste (v.10).

 

Hoekom moet jy Jesus se heerlikheid in hierdie wonderwerk sien? Want as jy dit nié doen nie, is jy soos ‘n slegte Sondagskool juffrou wat die storie vir die kinders vertel, maar die les mis.

 

In Desember het my kinders die ou TV speletjie, Mario Brothers ontdek.  Vir hulle was dit die beste speletjie ooit.  Iets wat oud is, het vir hulle nuut geword.  Net so is die nuwe wyn wat Jesus gee eintlik oud.  Jesus help ons om eeu-oue waarhede te ontdek (Jeremia 6:16), maak dit vars, en leer ook vir ons wonderlike nuwe dinge wat ons nie geweet het nie.  Is daar iets so verfrissend soos nuwe-ou wyn vir die siel?

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, pp.72-77

[2] C.S. Lewis, God in the Dock, p.16 (vry vertaal)

[3] Infancy Gospel of Thomas en die Qur’an, Sura 5:110

[4] By Joodse troues moes die bruidegom die wyn voorsien.