’n Trooswoord vir twyfelaars

Doubt

Verlede jaar het ek ‘n paar keer saam met drie mans in die strate gepreek. Die een man het ‘n baie sterk wettiese agtergrond.  Dit het hom uiteindelik ingehaal, sodat hy begin dink het hy het die onvergeeflike sonde gepleeg.  Hy het in ‘n inrigting beland.  Dit is vir Christene soos hý wat 1 Jh.5:13-21 in die Bybel is.  Almal van ons twyfel van tyd tot tyd.  Volgens Johannes kan Christene ‘n sterk sekerheid hê, en is dit heeltemal onnodig dat hulle twyfel.

 

Sekerheid van redding (v.13)

Spurgeon vertel van ‘n Christen wat oor sy redding getwyfel het. ‘Ek is ‘n groot sondaar en kan nie gered word nie,’ het hy gesê.  Spurgeon het 1 Jh.1:7 aangehaal en gesê dat die bloed van Jesus ons van alle sonde reinig.  Die man het gesê:  ‘Jy moet die konteks onthou.  Die teks sê dat sy bloed ons reinig as ons in die lig wandel.  Ek wandel nie in die lig nie, en daarom geld die teks nie vir my nie.’  Spurgeon het gesê:  ‘Christus sal volkome red dié wat deur Hom na God toe kom.’  Die man het nogsteeds nie hoop gehad nie.

 

‘God vra net dat jy in Hom glo – al is dit ook ‘n flou geloof. As jy net met jou hand ontvang is dit genoeg.’  ‘Ek het nie die hand van geloof om te ontvang nie,’ het die man gesê.  ‘Maar as jy die mond van begeerte het, kan jy darem met jou lippe vra,’ het Spurgeon gesê.  ‘Nee, ek kan nie bid nie – ek het nie die lippe van begeerte nie.’

 

Spurgeon het by hom gepleit: ‘Al wat ek soek is ‘n leemte, sodat God sy genade daar kan insit.’  ‘Ah, jy het my!’ het die man gesê.  ‘Ek het ‘n leemte; ‘n hunkerende holheid.  As daar ooit ‘n leë sondaar in die wêreld was is dit ek.’  ‘Wel, daar is ‘n vol Christus vir leë sondaars,’ het Spurgeon gesê.[1]  Christene hoef nie soos hierdie man oor hulle redding te twyfel nie.

 

Johannes het sy Evangelie vir ongelowiges geskryf, sodat hulle in Jesus kan glo en gered kan word (Jh.20:30-31). 1 Johannes is vir gelowiges geskryf, sodat hulle verseker kan weet dat hulle die ewige lewe het (v.13).

 

Glo dan v.13. As jy dit ontken, maak jy die lewe vir jouself moeilik.  Sommige mense dink dis arrogant om te sê jy is heeltemal seker van jou redding.  Hulle dink dit is ‘n teken van respek vir God om te twyfel.  ‘Hy sal besluit of ek hemel toe gaan of nie,’ sê hulle.  Hulle lewe in vrees vir die dag van hulle dood.  Hulle hoop maar hulle het goed genoeg gelewe.  Maar as hulle op Jesus vertrou het en nie op hulle werke nie, sou hulle sekerheid hê.  Natuurlik kan jy nie sommer so by die Koning se troonkamer ingedrentel kom nie.  Maar as die Koning se geliefde en volmaakte Seun die Advokaat is wat in jou plek staan, sal Hy jou in der ewigheid nie wegwys nie.  Om oor jou redding te twyfel is om te wonder of God sy Seun se kruisdood in jou plek sal aanvaar.  Om in God se Seun en sy beloftes te glo is nie arrogant nie; om dit te betwyfel is.  God se belofte is so seker soos Hy self:  ‘Hy wat die Seun het, het die lewe’ (v.12).

 

Sekerheid in gebed (v.14-17)

Barend is ‘n skatryk sakeman. Hy verdien in ‘n jaar wat baie mense nie in ‘n leeftyd kry nie.  Hy is baie vrygewig en sê vir sy vier aangenome kinders:  ‘As julle ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’  Na ‘n paar jaar neem hy en sy vrou ‘n tienerdogter aan.  Haar naam is Karen.  Wat Barend vir die ander vier gesê het, sê hy vir haar:  ‘As jy ooit iets nodig het, vra net – ek help graag.’

 

Op ‘n dag het Karen ‘n rok nodig vir haar matriekafskeid. Sy is te bang om te vra en wonder of hy vir haar die geld sal gee.  Haar suster sien dat sy bang is, en vra namens haar.  Barend dink nie twee keer nie, en gee dadelik vir Karen geld om die rok te koop.  Karen kan dit nie glo nie.  Die ander kinders is glad nie verbaas nie.  ‘Hy het mos gesê ons kan enige tyd vir hulp vra – hy help graag.’  Die ander kinders het geglo hy wil en kan help, en daarom was hulle nie bang om te vra nie.  Karen het getwyfel, en het daarom ook nie gevra nie.  Na dié episode het sy egter meer vrymoedigheid gehad.

 

Die Here is so. Hy belowe om te gee as ons vra.  Ons moet Hom glo, sodat ons vrymoedigheid kan hê in gebed.  Iemand wat seker is van sy redding (v.13), kan ook seker wees dat God sy gebede verhoor (v.14, 3:21-22).  Sal God vir jou die groter ding gee, en nie ook die kleiner een nie (Rm.8:32)?  Wat ons ookal volgens sy wil vra, ontvang ons (v.14, Mt.6:10, 26:39).  En wat is sy wil?  Dat ons nie in sonde sal lewe nie, maar sy Woord gehoorsaam (2:17, 3:22, Mt.7:21, 24).  Dán kan jy van jou knieë af opstaan en met oortuiging weet dat God jou sal antwoord (v.15, Jk.1:5-8, Mk.11:24, Mt.21:22).

 

In v.16 gee Johannes ‘n voorbeeld van wat hy bedoel. As jy sien dat jou broer ‘n sonde doen wat nie tot die dood lei nie en vir hom bid, sal God jou gebed verhoor en hom laat lewe.  Wat beteken dit?  Praat Johannes hier van ‘n gelowige wat siek geword het as gevolg van sy sonde?  Volgens v.16a is sy siekte nie terminaal nie (dit lei nie tot die dood nie), en daarom sal hy gesond word as jy vir hom bid (Jk.5:14-20).  Soms gebeur dit egter dat God se geduld opraak, en Hy iemand met die dood tref (v.16b, 1 Kor.11:30, Hd.5:1-11).  In so ‘n geval help dit nie jy bid vir sy genesing nie (v.16).  ‘n Persoon wat gesond word se sonde was nie tot die dood nie.  Maar as hy sieker word en sterf, is dit mos voor die hand liggend dat sy sonde tot die dood is.

 

Ander dink dat Johannes eerder van ‘n geestelike dood praat. In daardie geval verwys ‘broer’ nie na ‘n ander Christen nie, maar na jou medemens.  As hy nie die onvergeeflike sonde gepleeg het nie en jy vir hom bid, sal God hom uit die graf van sy sonde laat opstaan (v.16, Ef.2:1, 5).  M.a.w. God sal hom red.  Ander ongelowiges weer, is soos die vals leraars:  hulle ken die waarheid, maar is soos ‘n skoon vark wat weer in die modder van hulle sonde gaan rol (2 Pt.2:20-22).  Hulle het hulleself teen die lig van die evangelie verset en na hulle sonde toe teruggedraai (2:19).  Hulle het die onvergeeflike sonde gepleeg (Mt.12:31-32).  Dit help nie jy bid vir hulle nie, want hulle sal hulleself nie bekeer nie (v.16, Hb.6:4-6, Jer.7:16).  As ‘n vals leraar van die waarheid af weggedraai het, mors jy jou tyd om vir sy bekering te bid.

 

Ek is nie seker watter een van die twee interpretasies reg is nie, maar beide is erg. Alle ongeregtigheid is sonde, en daarom kan ons dit nie ligtelik opneem nie (v.17).  Tog is dit so dat daar sonde is wat nie tot die dood lei nie (v.17).

 

Bid met vrymoedigheid (v.14). Om dít te doen moet jy eers seker maak jy is gered.  Hoe kan jy met vrymoedigheid bid as jy twyfel dat God jou Vader is?  Om vrymoedig te bid moet jy ook weet wat God se wil is.  As jy oor sy wil wonder, kan jy nie met sekerheid bid nie.  Bid jy volgens God se wil as jy vra om die LOTTO te wen?  “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.” (Jk.4:3).  Bid jy volgens God se wil as jy vra dat Hy vir jou geld voorsien om jou kind se handboeke te koop?  “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.” (Fil.4:19).  As God ‘n belofte in die Skrif gegee het, kan jy dit bid en verseker weet dit is sy wil.  Daar is nie ‘n belofte dat jou ma gesond gaan word as jy vir haar bid nie.  Tog is daar ‘n belofte dat God almagtig, goed en wys is, en daarom is dit nie verkeerd om te bid dat sy gesond word nie.  Maar in so ‘n geval moet jy soos Jesus in Getsemane bid:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’

 

Ek was onlangs by ‘n predikante byeenkoms waar ‘n charismatiese pastoor in sy gebed gesê het: ‘Lord, we know that we will have this, because we have spoken it into the air.’  Om te dink gebed is ‘n tower formule waarmee jy die Here kan manupileer is arrogant.  Maar om vrymoedig te bid en Hom aan sy beloftes te herinner is Bybels (v.14, Jes.62:6-7).  Hou dan op met twyfel.  “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (Hb.4:16).  Wat het jy nodig?  Die Here weet dit, maar wil hê jy moet dit vir Hom sê (Mt.6:8).  Om te twyfel of angstig te wees help jou nie, en maak net die situasie erger.  Moenie self jou probleme wil oplos nie.  Bring dit vir die Here.

 

‘n Christen wat twyfel sê in effek dat God onbetroubaar is. Dalk sê hy dit nie met sy lippe nie, maar sy biddeloosheid skreeu kliphard:  ‘God kán ons nie help nie, en wíl ook nie!’

 

Sekerheid van beskerming (v.18-19)

In Suid-Afrika het ons honde, alarms, elektriese heinings, diefwering, sekuriteitshekke, palisades, en gewere om ons te beskerm. Tog weet ons dat misdadigers verby al hierdie dinge kan kom.  Selfs mét al hierdie dinge kan jy nie seker wees jy is veilig nie.  Met God is dit anders.  Sy belofte om jou teen sonde en die duiwel te beskerm is nie leeg nie (v.18-19).

 

Iemand wat uit God gebore is, hou nie aan met sondig nie (v.18, 3:9, Gk.). ‘n Ware Christen kán sondig (v.18), maar nie tot die dood nie (v.17).  Die ewige Seun wat uit God gebore is beskerm ons, sodat die duiwel onsuksesvol is in sy poging om ons te versoek om op hiérdie manier te sondig (v.18, Jh.17:12, Jud.1, 24, Ps.105:15).  Satan kan ons nie só van God af wegrokkel, dat ons ons rug op Hom draai en finaal wegval nie (v.18, Job 1:11, 21-22, 2:3, 5, 9-10, Jh.10:28, 17:12-15, Rm.8:38-39).

 

Ons lê nie saam met die wêreld soos ‘n baba in die duiwel se arms en slaap nie; ons loop nie bedwelmd agter hom aan nie; ons is nie, soos ‘n haas, vas in die duiwel se strik nie (v.19, Ef.2:2). Ons kom van God af (v.19).  Die wêreld kom in verskillende groottes, kleure en geure (Islam, ateïsme, Hindoeïsme, ens.), maar is almal in die duiwel se fabriek gemaak.  As jy nie aan Jesus behoort nie, behoort jy aan die duiwel (v.19).  Hier is daar geen grys area nie.

 

Glo dat die Here jou teen sonde en die duiwel sal beskerm. As jy God se beskerming betwyfel, sal Hy jou nogsteeds beskerm, maar jy sal onnodig bang wees.  Glo eerder dat Hy soewerein is oor die duiwel, en vir hom kan sê wat hy mág en nié mag doen nie.  Die duiwel kan nie doen wat hy wil nie, maar is soos ‘n marionet in God se hand.  Dit is wat Martin Luther bedoel het toe hy gesê het:  ‘The devil is God’s devil.’  Toe Jesus op aarde was het Hy vir Satan gesê:  ‘Gaan weg!’ (Mt.4:10).  Hy het die duiwels verbied om te praat (Mk.1:34).  Die duiwels moes toestemming vra om in die varke in te gaan (Lk.8:32).  Hy het die duiwel en al sy magte oorwin toe Hy aan die kruis gesterf het (3:8, Kol.2:15).

 

Moet dan nie bang wees nie, maar glo dat God selfs jou vyande sal gebruik om jou te bevoordeel (Gn.50:20, Hd.4:27-28). Spurgeon was uiteindelik dankbaar dat die duiwel mense aangehits het om hom te kritiseer, want daardeur het honderde mense uit nuuskierigheid na hom kom luister en tot bekering gekom.[2]  Wees verseker dat God jou teen jou vyande kán en sál beskerm (v.18-19).

 

Sekerheid van kennis (v.20-21)

My vriend het eenkeer saam met ‘n bekende ds. gaan koffie drink. Dié man het altyd die waarheid geglo, maar het skielik begin om dit te betwyfel.  Vir hom was die Bybel nie meer ‘n vaste rots om op te bou nie, maar olie wat tussen jou vingers deur glip.  Postmodernisme is die groot woord.  Volgens hulle bestaan daar nie iets soos absolute waarheid nie.  Wat vir jou waar is, is nie noodwendig vir my waar nie.

 

Vandag is daar heelwat kerke wat dit glo. Vir hulle is Jesus en die Bybel se woorde so goed soos Ghandi en Mandela s’n:  elkeen het ‘n stukkie van die waarheid beet.  Ek sukkel egter om te verstaan hoe evolusie en die Bybel waar kan wees; Jesus en die Qur’an; die evangelie en redding deur goeie werke.  Volgens Johannes is daar iets soos absolute waarheid, en kan ons dit net in Jesus vind.

 

Die Seun van God het aarde toe gekom om ons oë en verstand oop te maak, en vir ons die kennis van die ware God te gee (v.20, Lk.24:45, Jh.1:18, 14:6-9, 2 Kor.4:4). Hierdie kennis is nie die mistiese kennis van die vals leraars nie, maar ‘n ware en reddende kennis.  Ons ken Hom nie net nie, maar deur geloof is ons in die ware God en in sy Seun Jesus Christus (v.20).

 

Die vals leraars het Jesus se Godheid ontken, maar volgens Johannes het hulle nie ‘n voet om op te staan nie, omdat Hy die ware God en Ewige Lewe is (v.20, 1:1-2). Die ewige lewe kom dus nie deur die vals leraars se sogenaamde verhewe kennis nie.  Dit kom deur ‘n Persoon:  Jesus Christus (v.20).  Johannes se lesers moenie in enige ander Jesus glo nie (2 Kor.11:4).  ‘n Jesus wat nie die Seun van God, die Christus, en die ware God is nie, is ‘n vals Jesus.  En om ‘n vals Jesus te aanbid is afgodery (v.21).  Johannes wil hê ons moet die ware God aanbid (v.20).

 

Hou op twyfel, en glo dat die Jesus van die Bybel die ware God is, en dat Hy die standaard is waaraan alle waarheid gemeet moet word (v.20, Jh.14:6). As jy nie seker is hiérvan nie, sal jy oor níks seker wees nie.  Watter god is daar wat jou lewe en gedagtes so akkuraat kan beskryf soos Jesus?  As Hy nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat meer as 400 profesieë noukeurig in Hom vervul is?  Hoekom word duisende Christene se gebede so presies beantwoord as Hy nie die ware God is nie?  En as Jesus nie die ware God is nie, hoe is dit moontlik dat ‘n misdadiger wat die evangelie hoor en glo, binne 24 uur ‘n ander mens is en vir die res van sy lewe so bly?  Waar is die filosofie, sisteem, of godsdiens wat vir jou ‘n skoon gewete kan gee?  Deur sy kruisdood het Jesus ons skuld weggevat, en daarom kan Hy ook van die skuldgevoelens ontslae raak.  Hy is die ware God.  Moet jou nie steur aan liberale teoloë, ateïste, Moslems, en ander mense wat alewig die waarheid van die Bybel betwyfel nie.  Druk ook jou ore toe vir mense wat ‘n Jesus van hulle eie verbeelding verkondig; ‘n Jesus wat nie in die Bybel voorkom nie.

 

‘n Christen wat twyfel, is soos ‘n Rottweiler wat as baba-hondjie mishandel is. As ‘n skelm inbreek kruip hy onder die tafel in.  Hy weet nie hy kan die skelm byt nie.  In Christus is alles joune.  Hy het jou gered, beantwoord jou gebede, en beskerm jou.  Hy is die ware God – jóú God.  Moenie met sakke vol van diamante en goue muntstukke by die robot staan en bedel nie.

[1] Autobiography: vol.1, pp.380-381

[2] Ibid, pp.329, 342, 394-395