Vyf redes om bly te wees

Jumping for joy

‘n Paar weke gelede het ons boekies in die kerk uitgedeel. Ons het ons mense uitgedaag om voor Augustus ‘n duisend dinge neer te skryf waarvoor hulle dankbaar is.  Ek trek nou by 103 dinge.  In Ps.16 gee Dawid vir ons nog ‘n paar dinge waarvoor ons die Here kan dank; vyf redes om bly te wees.

 

Die Here beskerm jou (v.1)

Op 12 Junie 1944 het die Nazis hulle V1 vliegtuie Engeland toe gestuur. Elke vliegtuig het ‘n ton plofstof bevat.  Voordat die bomme geval het, het elke vliegtuig ‘n sirene laat afgegaan.  Op Sondag 18 Junie 1944 om 11:20, het Martyn Lloyd-Jones sy kanselgebed begin.  Skielik het die gemeente ‘n V1 se sirene gehoor.  Almal het op hulle voete gestaan.  Die bom het ‘n paar honderd meter weg ontplof.  Die skokgolwe het die voorportaal se venster uitgeblaas, die gebou se struktuur laat kraak, en stukkies van die plafon laat uitval.  Lloyd-Jones het eenvoudig aangehou bid asof niks gebeur het nie.  Na sy gebed het ‘n sekere mnr. Marsh die kansel afgestof, sodat Lloyd-Jones kon preek.  Duidelik het hy geglo dat sy lewe in die Here se hande is.[1]

 

Hierdie Psalm is ‘n gedig of lied van Dawid (v.1). Dawid het gebid dat die Here hom sal beskerm, en dat hy in Hom mag skuil soos in ‘n klip toring (v.1, Sp.18:10).  Hy wou beskut wees teen dié wat afgode gedien het (v.4), asook teen die slagtande van die dood (v.9-10).  Die Seun van Dawid het in hierdie selfde toring geskuil en veilig anderkant uitgekom (Lk.23:46, Hb.5:7).

 

Skuil by die Here. Enige ander skuiling is so onveilig soos ‘n kleuterskool kasteel wat lyk of dit van klip gemaak is, maar eintlik net ‘n sponsmuur is.  Ja, die feit dat jy ‘n Christen is waarborg nie dat jou selfoon nie gesteel sal word, jou kind nie sal kanker kry, of jy nie in ‘n ongeluk sal beland nie – al is daar ook ‘n plakker op jou kar se ruit wat sê:  ‘This car is protected by Psalm 91’.  Daar is egter ‘n waarborg dat geen ramp jou van God se liefde kan skei nie, en dat Hy alles vir jou voordeel sal uitwerk (Rm.8:38-39, 28).  Jou grootste vreugde lê nie daarin dat God jou teen diewe en droogte kan beskerm nie, maar dat jy deur geloof in Jesus beskut is teen sy verskriklike oordeel in die hel (Rm.8:1).

 

Die Here is jou God (v.2-4)

Op Facebook is daar ‘n prentjie wat wys hoe mense voor en na verslawing lyk. Aantreklike gesigte word lelik.  Die mense se tande is geel en swart, hulle gesigte is vol van sere, hulle het sakke onder hulle oë, en hulle lyk hartseer.  Op die laaste prentjie is daar ‘n jong seun met ‘n strak gesig.  In die volgende prentjie glimlag hy.  Onderaan staan daar:  ‘The Gospel – Before and After.’

 

Afgode kan nie jou siel se dors les nie; as jy húlle dien sal jy leeg en hartseer bly (v.4). Maar as die Here jou God is sal jy geseën word, en het jy rede om bly te wees (v.2-3).  “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.” (33:12).

 

Dawid het bely dat die Here, en nie die afgode nie, sy God is (v.2, 4). Dié wat afgode gedien het, het menigvuldige hartseer gehad (v.4); in die Here was  daar net goedheid (v.2, 73:25, 84:12, 119:68, Jk.1:17).  Dawid kon hierdie goedheid in God se heilige volk sien en tasbaar beleef, en dit het hom bly gemaak (v.3, Eks.19:6).  Maar met die afgodsdienaars en hulle beelde wou hy niks te doen hê nie (v.4).  Hy sou nie aan hulle offerfeeste deelneem of by hulle gode sweer nie (v.4, Eks.23:13, Jos.23:7, Hos.2:17).

 

Soos Dawid het sy groter Seun afgode soos die pes vermy, en die Here gedien (v.4, Mt.4:9-10). En soos Dawid sien Hy sy Vader se heilige beeld en goedheid in die kerk, en verbly Hy Hom daarin soos ‘n bruidegom wat sy bruid geniet (v.2-3, 149:4, Sp.8:31, Sef.3:17, Jes.62:5).

 

Wees bly dat die Here jou God is, want sonder Hom is jou lewe rigtingloos en sinneloos. Hoe kan jy weet dat Hy jóú God is?  Jy sal jou in sy kinders verbly en Hom saam met hulle wil prys (v.2-3).  Jy sal nie van die eredienste af wil wegbly nie, en as jy weens siekte of vir ‘n ander goeie rede nie daar kan wees nie, sal jy hartseer wees.  As jy op ‘n Sondag eerder met ‘n bier in jou hand by die ongelowige se braai wil wees, wys dit dat jy meer in die afgode belangstel as in die Here (v.4).

 

As jy wil hê dat die Here jóú God moet wees, moet jy jou sonde los en in sy Seun glo. As jy dít doen sal sy goedheid jou siel verbly soos Deense roomys wat in jou mond smelt (v.2-3).  Soos wat ‘n Yesteday-Today-and-Tomorrow se aroma die lentelug vul, sal God se goedheid jou hele lewe deurtrek (v.2).

 

Die Here is jou erfdeel (v.5-6)

Ek ken ‘n predikant wat meer as 30 jaar gelede ‘n seun aangeneem het. ‘n Paar maande gelede het die seun besluit om sy biologiese pa op te soek.  Hy het hom in Januarie vir die eerste keer ontmoet, en uitgevind dat sy pa ‘n multi-miljoenêr is.  Sy pa het vir hom gesê:  ‘Wat wil jy vir jou verjaarsdag hê?’  Hy het gesien dat sy seun skaam is om te vra.  ‘Ek het vir jou twee sussies elkeen ‘n BMW gekoop.  Ek wil graag vir jou ‘n motorfiets koop.  Maar jy wil seker nie alleen ry nie, en daarom sal ek vir jou vrou ook een koop.  En hoe gaan jy die motorfietse vervoer?  Ek sal vir jou ‘n sleepwa koop.  En dan sal jy ook ‘n voertuig nodig hê om die sleepwa mee te sleep.  Kom ek koop dan sommer ook vir jou ‘n Ford Ranger.’  Net so is dit met God:  as Hy jou erfdeel is, het jy meer as net geld en duur speelgoed.

 

In 1 Sm.26:19 het Dawid gesê hy wil die Here hê (v.5), en nie afgode nie (v.4). Om die Beloofde Land as erfdeel te hê was wonderlik, maar Hy wou die Here self hê (v.5-6, Nm.18:20).  Hy wou nie die bloed van offers vir die gode in sy beker hê nie (v.4), maar het gevra dat die Here sy beker met goeie wyn moet volmaak; die wyn van sy liefde en verlossing (v.5, 23:5, 116:13).  Vir Dawid was God die spys en drank om sy siel te versadig (v.5, Mt.5:6, Jh.6:55).  In God se hande was sy lewe veilig (v.5).  Die grense wat God vir sy lewe afgemeet het, was goed en lieflik (v.6).  Dawid se groter Seun het die nasies, ‘n ewige Koninkryk, en alle dinge as sy erfdeel verkry (2:8, 2:8, 22:29, Dn.7:14, Hb.1:2, Op.11:15).

 

Dank die Here vir jou erfdeel. As jy kerm en kla wys dit jy is ondankbaar.  John Newton het gesê:  ‘Gestel ‘n man is oppad New York toe om ‘n groot landgoed in besit te neem, en sy perdekar breek ‘n myl buite die stad.  Hy word gedwing om die res van die pad te loop.  Hoe dwaas sou dit nie wees as hy vir die res van die myl sy hande saamgevryf het, terwyl hy uitroep:  “My perdekar het gebreek!  My perdekar het gebreek!”’[2]

 

‘n Arm man wat die Here het, is ryker as die multi-miljoenêr wat die Here nie ken nie. As jy die Here het, het jy alles, “want alles behoort aan julle; of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge – alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” (1 Kor.3:21-23).  “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rm.8:32).  ‘n Christen se erfdeel is beter as gesondheid of aardse rykdom.  As die Here jou erfdeel is, kry jy sy vergifnis, versoening, ‘n rein gewete, kindskap, die Heilige Gees, sy Woord, gebed, der duisende broers en susters, beproewing, die ewige lewe, die hemel met al sy skatte, en God self (Mk.10:30, Ef.1:3-14).

 

Die Here lei jou (v.7-8)

My vriend het eenkeer ‘n arm man in sy huis ingeneem. Na ‘n paar weke het die man spoorloos verdwyn.  Een van die gemeente se ouderlinge het in sy kar geklim en gebid dat die Here hom na die man toe sal lei.  Hy het van Durbanville af Somerset-wes toe gery.  Toe hy in Somerset-wes stop, het hy weer gebid.  Hy het skaars ‘amen’ gesê, toe die man agter die bosse uitgeloop kom.  Soos wat die Here ons soms deur voorsienigheid lei, lei Hy ons deur die Woord.  Om te keer dat die duiwel jou mislei, moet altyd sy subjektiewe leiding in voorsienigheid objektief aan die Bybel meet.

 

Die Here was Dawid se Raadgewer en het deur die Woord vir hom die regte pad aangewys (v.7, 119:105, 1 Sm.23:9-12, 2 Sm.5:18-19). As hy in die aand wakker gelê het, het hy die Woord oordink en gesing (v.7, 1:2, 119:54-55).  So was die Here altyd vooroë, en het Hy soos ‘n beste Vriend langs Dawid gestap (v.8, 119:30, 110:5, 121:5).  Daarom kon sy vyande en slegte omstandighede hom nie laat wankel nie (v.8).  Vir dieselfde rede was die Seun van Dawid kalm toe die stormwind op die see gewaai het, en toe sy vyande Hom wou doodmaak.

 

Wees bly dat die Here jou lei, want as jy op jou insigte moes staatmaak, sou jy op die pad van die dood beland het (Sp.16:25). As jy wil hê die Here moet jou lei, moet jy jou hart en gedagtes met God se Woord vul.  Oordink dit gedurig en praat met Hom in gebed.  As jy naby Hom lewe sal Hy jou lei.  Jy sal nie vir ‘n week hoef te vas om sy wil te ken nie, maar die Heilige Gees sal jou aan die verse herinner sodat jy kan weet wat om te doen (Rm.12:2).  Moet tog nie vergeet dat daar ander Christene is wat die Bybel en die Here ken nie; vra vir hulp (Sp.11:14, 15:22).

 

Die Here sal jou opwek (v.9-11)

Toe ek 10 was het my pa een aand 8 uur besluit ons ry na my ouma toe in Johannesburg. Omtrent 60 km buite Louis Trichardt het ek aan die slaap geraak.  Toe ek 5 ure later wakker word, was ons in Johannesburg.  En so is dit met die dood.  Dit is asof jy aan die slaap raak, en as jy weer jou oë oopmaak is jy by die Here (2 Kor.5:8).  So is dit ook met die opstanding van die liggaam:  jou liggaam slaap in die graf, en as Jesus weer kom sal Hy dit wakker maak.  Dit is waarna Dawid uitgesien het.

 

Met die Here in sy hart en lewe (v.8), kon Dawid nie anders as om bly te wees tot in die diepte van sy wese nie (v.9). Sy blymoedige hart het gemaak dat ook sy liggaam perdfris en gesond was (v.9, Sp.14:30, 3:7-8, 4:20-22, 16:24, 17:22).  Hy was nie bang dat die dood soos ‘n gewapende rower sy lewe sou wegsteel nie (v.10, 73:24).  Dawid se liggaam het wel in die graf vergaan, maar soos Job het hy geglo dat die Here hom eendag sou opwek (v.10-11, Job 19:26).

 

Dit is egter duidelik dat v.10 in die opstanding van Dawid se groter Seun vervul is (Hd.2:24-32, 13:35-37). Omdat Hy sy Vader bo alles gestel het en sonder sonde was, het die dood geen mag oor Hom gehad nie en is sy liggaam uit die graf uit opgewek (v.9-11).  Deur Christus se opstanding kon ook Dawid vir ewig in volkome blydskap lewe (v.11, 21:7).  In Christus wat aan die Vader se regterhand sit is daar strome van ewige plesier (v.11, 36:9).  Hy wat die Vader aan sy regterhand gehou het (v.8), sit nou verhewe aan die Vader se regterhand (v.11, Ps.110:1).

 

Wees bly oor die opstanding van jou liggaam (watse hoop het mense wat glo die dood is die einde, of mense wat in reïnkarnasie glo?). Natuurlik sal jy nie bly wees as jy nie weet wat die opstanding alles behels nie.  Wanneer Jesus kom sal jou liggaam met jou siel verenig word, en teen die spoed van wit lig nuutgemaak of verheerlik word.  Jou nuwe liggaam sal uniek wees, vir ewig jonk bly, beeldskoon wees, nooit siek of moeg word nie maar vol van lewenskrag en vitaliteit wees, nie pyn kan ervaar of hartseer wees nie, nie vergeetagtig of deurmekaar raak nie, altyd deur die Heilige Gees gelei word, en nooit kan doodgaan nie (1 Kor.15:38-44, Op.21:4).

 

As jy nóg wil weet kan jy gerus ‘n studie van Jesus se opstandingsliggaam maak, want volgens Fil.3:21 sal ons verheerlikte liggamr soos syne wees. Jesus se opstanding en joune moet vir jou hoop gee as jy siek is, oud word, pyn ervaar, verswak in jou gehoor of sig, nie meer goed kan onthou nie, ‘n liggaamlike gebrek het, moeg is en nie meer kans sien vir die lewe nie, versoek word, teen sonde stry, of op jou sterfbed lê.

 

Depressie het verskillende oorsake. Sommige Christene raak depressief, omdat hulle verkeerd dink.  Vir hulle is die glas half leeg en nie half vol nie.  Vir sulke Christene is Ps.16 ‘n Red Bull vir die siel.  Saam met die ou Halleluja lied moet hulle sê:

 

Tel jou seëninge, tel hul een vir een,

seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

[1] Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: vol.2, pp.113-115

[2] Vry vertaal uit John Piper, The Roots of Endurance, p.68