Is jou geloof eg?

Authentic faith

Enige jong kind is beïndruk as sy maatjie vir hom ‘n blink steentjie gee. Hy bêre dit in sy laai en dink dat dit iets werd is.  Dit lyk miskien vir hom soos ‘n diamant, maar dit is nie een nie.  Dit is so min werd soos die glas waarvan dit gemaak is.  Net so kan onegte geloof indrukwekkend lyk, maar voor die Here beteken dit niks.  Dit is net egte geloof wat vir Hom aanneemlik is, omdat net hierdie tipe geloof op sy geliefde Seun vertrou en Hom in die arms van geloof na die Vader toe bring.  Sonder egte geloof is dit onmoontlik om die Here te behaag (Hb.11:6).  In Jh.4:43-54 het ons ‘n voorbeeld van beide soorte geloof, en leer ons om die egte van die onegte te onderskei.

 

Onegte geloof (v.43-49)

‘n Bejaarde predikant het vir ons vertel hoe ‘n vrou jare tevore vir sy seun ‘n kaartjie gegee het vir sy verjaarsdag. Sy seun het die kaartjie oopgeskeur en binne-in gekyk.  Hy het vir die tannie gesê:  ‘Hier’s dan niks geld in nie,’ en die kaartjie op die vloer neergegooi.  Partykeer is mense so met die Here:  hulle soek die voorregte wat Hy vir hulle kan bied, maar het nie ‘n belang in Hom nie.  Sulke mense se geloof is nie eg nie.

 

Jesus het vir twee dae by die Samaritane in Sigar gebly en vir hulle die Woord geleer (v.40-41, 5). Na twee dae het Hy teruggegaan Galilea toe (v.43, 3).  Galilea was sy tuis provinsie in die noorde van Israel.  In Sigar het die Samaritane Hom as die Verlosser van die wêreld ontvang (v.42, 29-30).  Maar in Galilea – meer spesifiek in Nasaret – het hulle in sy wonderwerke geglo en nie in Hom nie (v.44-45, 48, Mt.13:57).  Hy was die groot Profeet van wie Moses gepraat het (6:14, 7:40, Dt.18:15, 18), maar die Galileërs het Hom nie erken nie (v.44, Lk.4:24).  En dit is juis hoekom Hy Judea in die suide verlaat het om in Galilea te preek.  In Judea wou die Fariseërs Hom vastrek (v.1-3), terwyl die Jode in Galilea nie in Hom geglo het nie en Hom uitgelos het.

 

Toe Jesus daar aangekom het, het die mense Hom verwelkom (v.45). Hulle het sy wonderwerke by die Paasfees in Jerusalem gesien (v.45).  In hulle oë was Hy ‘n beroemde en nasionale held.  Soos alreeds gesê het hulle in sy wonderwerke belanggestel, en nie in die Een van wie hierdie tekens getuig het nie (v.45, 2:23-25, 3:2, 6:26).  In ‘n sekere sin was hulle verwelkoming eintlik ‘n verwerping, omdat hulle nie ‘n Messias wou hê om hulle te verlos nie, maar ‘n towenaar om hulle te verbaas (v.45).

 

Jesus het weer in Kana aangekom waar Hy die water in wyn verander het (v.46, 2:1-11). Hy het moontlik by een van sy dissipels (Nataniël) tuisgegaan (21:2).  Kana was ‘n klein dorpie tussen die Middellandse See en die See van Galilea, omtrent 8 km noord van Nasaret.  Alhoewel Hy in die verlede ‘n wonderwerk daar gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie en wou hulle nog wonderwerke sien (v.46, 48).

 

Terwyl Hy hier was het ‘n koninklike beampte (Gk.) van Hom gehoor (v.45) en van Kapernaüm af na Hom toe gekom (v.47). Kapernaüm was ‘n groter dorp aan die See van Galilea se noord-kus; dit was omtrent 25 km van Kana af.  Koning Herodes Antipas se kwartiere was daar.  Die beampte het vir die koning gewerk en was dus nie ‘n Romein nie, maar ‘n Jood.  ‘My seun lê op sterwe,’ het hy gesê.  ‘Sal U asseblief kom om hom te genees?’ (v.47).  Jesus het vir hom gesê:  ‘Die mense van Galilea sal nie glo tensy hulle tekens en wonders sien nie.’ (v.48, 2:18, 6:30, 1 Kor.1:22, Mt.12:38-39).  Die beampte was desperaat en het gevra dat Jesus dadelik moet kom:  ‘Voordat my seun sterf,’ het hy gesê (v.49).  Sy geloof was onvolledig.  Hy het gedink dat Jesus nie die wonderwerk kon doen tensy Hy teenwoordig was nie (v.49).  Hy het ook gedink dat Jesus siekes kan genees, maar nie dooies kan opwek nie (v.49, 11:21, 32, Lk.8:49).

 

Toets jouself om te sien of jou geloof eg is of nie. Iemand wat homself nie toets nie, mag dalk net ‘n vals geloof hê wat hom in die hel laat beland.  Onthou ook dat dit ‘n sonde is om nie in Jesus en sy woorde te glo nie (Jh.16:9).

 

Moet asseblief nie dink iemand se geloof is eg, net omdat hy van Jesus en die Bybel praat nie. Jou geloof is nie noodwendig eg omdat jy lekker voel of omdat jy vrede het nie.  Ek byt nie daaraan as mense vir my sê:  ‘Ek weet nie hoe ek dit weet nie, maar ek weet net my geloof is eg’ nie.  Hóé weet jy dit?  Die Bybel is die maatstaf waaraan jy jouself moet meet om te sien of jou geloof eg is of nie.

 

Wat is Jesus vir jou? Is Hy die Here voor wie jy die knie buig in bekering en gehoorsaamheid?  Is Hy die Verlosser sonder wie jy nie gered en vergewe kan word nie?  Of bid en dank jy Hom hoofsaaklik omdat Hy jou gesond kan maak, vir jou geld kan gee, en jou kan help as jy in die moeilikheid is?  Is Jesus die Verlosser wie jy aanbid, liefhet en verheerlik, of is Hy ‘n genie wat bestaan om jou lewe beter te maak?  Bid jy net wanneer jy nood het, of bid jy ook in tye van voorspoed?  Wandel jy daagliks, konstant en stabiel saam met die Here?  Of soek jy alewig geestelike vuurwerke?  Jaag jy wonderwerke na?  Spring jy van een seminaar na die volgende, en een ervaring na die volgende, omdat jy opsoek is na daardie die emosionele ‘high’?

 

Indien jy só is, soek jy nie regtig vir Jesus nie; jy soek wat Hy vir jou kan gee. Jou geloof is nie veel beter as die duiwel s’n nie.  “Jy glo dat God één is.  Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jk.2:19).  Om seker te maak dat jou geloof eg is, moet jy heel eerste in die regte Jesus glo.  Glo in Jesus wat die Seun van God is, en nie maar net ‘n super mens is wat wonderwerke doen nie.  Glo in Jesus wie se woorde magtig is om lewe te gee; Jesus wat sondeloos volmaak is; Jesus wat gesterf het om ons te red en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het; Jesus wat ons sondes kan vergewe; Jesus wat as Koning heers oor alles en almal.

 

Maar egte geloof gaan een stap verder. Dit glo nie net die feite oor Jesus nie, maar vertrou op Hom.  Die persoon wat in Hom glo sê nie:  ‘Ek weet nie of die Here my wíl red nie,’ maar eerder:  ‘Die Here het gesê dat Hy dié wat na Hom toe kom sal vergewe.  Ek vertrou dat Hy my volgens sy belofte in Rm.10:13 sal red as ek Hom aanroep.’  Hierdie tipe geloof sal altyd uitloop op ‘n lewe van gehoorsaamheid (Jk.2:14-26).  Anders is dit nie ware geloof nie.

 

Egte geloof (v.50-54)

Arno en Riana is al vir 21 jaar getroud. Met hulle 20ste huweliksherdenking het Arno vir Riana van die werk af gebel en gesê:  ‘Gaan asseblief na die Mercedes garage toe – daar wag ‘n groot geskenk vir jou.’  Riana het nie vir een oomblik gedink dat hy vir haar jok nie.  Sy het nie gedink:  ‘As ek by die Mercedes garage kom en sê dat my man my gestuur het om ‘n geskenk te kom oplaai, gaan hulle nie ‘n idee hê waarvan ek praat nie, en gaan ek verleë voel’ nie.  Alhoewel sy nie die geskenk gesien het nie, het sy, omdat sy haar man geken het, geweet dat hy die waarheid praat.  In ons verhouding met die Here werk dit dieselfde.  Al sien ons nie die dinge waarvan Hy in sy Woord praat nie, glo ons dit omdat ons Hóm ken.

 

Jesus hoef nie by iemand teenwoordig te wees om hom te genees nie. Omdat Hy die Seun van God is, het Hy met ‘n woord die beampte se seun op ‘n afstand gesond gemaak (v.50).  Hy het vir die beampte gesê:  ‘Jy kan maar huis toe gaan – jou seun sal lewe’ (v.50).  Hy was nie soos die res wat tekens wou sien voordat hy sou glo nie (v.48).  Hy het eenvoudig Jesus se woorde geglo en huistoe gegaan met die volle oortuiging dat sy seun gesond was (v.50).

 

Alhoewel sy huis net 25 km weg was, het hy eers 24 uur later by die huis aangekom (v.52-53). Was dit omdat hy rustig was en geglo het sy seun sou lewe?  Nietemin, toe hy nog oppad was het sy slawe uitgekom om hom te ontmoet (v.51).  Hulle het seker by die huis gebly om die siek seun te versorg.  Die feit dat hulle die seun in die huis gelos het om die beampte op die pad te ontmoet, wys iets van hulle opgewondenheid en verbasing.  Hulle kon nie in die huis gewag het nie, maar moes uitgekom het om die goeie nuus te vertel.  ‘Jou kind lewe!’ het hulle gesê (v.52).  Dit het presies gebeur soos wat Jesus gesê het (v.50).

 

Sommige vertalings laat dit klink of die seun besig was om gesond te word (ESV).  Was die seun se geleidelike genesing ‘n gelykenis van die pa se groeiende geloof?  ‘Hoe laat het hy gesond geword?’ het die beampte vir sy slawe gevra (v.51).  Hulle het in v.52 gesê:  ‘Gister teen omtrent die sewende uur (13:00 volgens die Jode se berekening, of 19:00 volgens die Romeine s’n) het sy koors gebreek.’  As Jesus nie die koors gebreek het nie, sou hy stuipe gekry het en gesterf het.  Hoekom het die pa gevra hoe laat sy seun gesond geword het?  Was hy kleingelowig?  Wou hy miskien seker gemaak het dat Jesus hom gesond gemaak het, en dat dit nie toevallig was nie?

 

Die pa het dadelik onthou dat Jesus presies 24 uur gelede gesê het: ‘Jou seun lewe!’ (v.50, 52-53).  Hy het vir sy vrou, seun, slawe, en die res van sy gesin hiervan vertel, sodat hulle almal in Jesus geglo het (v.53).  Hulle het geglo dat Hy die Messias is (Jes.35:5-6).  Hulle het geglo dat Hy die almagtige Seun van God en die Gewer van lewe is (v.49, 53).  Hulle het geglo dat Hy soewerein is oor tyd en afstand (v.49-50, 52-53).  Hulle het geglo dat Hy liefdevol is (v.49).  Hulle het nie soos die res net in sy wonderwerke geglo nie (v.48).  Hulle het geglo dat die wonderwerk ‘n teken was, wat van sy Goddelike lewe en almag getuig het (v.54).  Deur so in Hom te glo het hulle die lewe in sy Naam ontvang (20:30-31).  Hierdie was die tweede teken wat Jesus gedoen het nadat Hy van Judea af na Galilea toe teruggekeer het (v.54, vgl. 2:11).

 

Om egte geloof te beoefen moet jy dit verstaan. Egte geloof is nie ‘n blinde sprong in die donker nie, maar is ‘n reaksie op dit wat jy weet so is, al het jy dit nog nie gesien nie (soos Riana se beloofde geskenk by die Mercedes garage).  In Hb.11:1 lees ons:  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”  Egte geloof is ‘n reaksie op God se Woord, ‘n vaste vertroue dat dinge sal wees soos wat Hy vir ons gesê het (Hd.27:25).  Egte geloof is op God se Woord en beloftes gebasseer (v.50), en nie op ‘wishful thinking’ nie.  Volgens Rm.10:17 is “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”  Om oortuig te wees dat jy die LOTTO gaan wen omdat jy daarvoor gebid het, of omdat jy dit ‘uitgespreek’ het is nie geloof nie, maar ‘wishful thinking’.  Hoekom sê ek so?  Want God het nie gesê jy gaan dit wen nie.  Om egter nie kos te hê nie, maar te weet dat die Here dit vir jou gaan gee, is egte geloof wat op die beloftes van sy Woord gebou is.

 

Om dan jou geloof te versterk moet jy God se beloftes ken. ‘n Gelowige wat net drie beloftes ken, kan net drie belofte glo.  Maar as jy 250 beloftes ken, kan jy 250 beloftes glo.  Hoe sterker jy op die Woord staan, hoe sterker word jou geloof.  Dit help egter nie jy ken ‘n honderd of meer beloftes, maar twyfel of die Here dit sal nakom nie.  Sorg dan dat jy die Here self ken, sodat jy kan weet dat Hy betroubaar is en dat Hy sy beloftes sal vervul.  Iemand wat so in die Here glo, sal Hom aan sy beloftes herinner.  Dié persoon sal ‘n man of vrou van gebed wees.  En hoe meer hulle bid, hoe sterker word hulle geloof.  En hoe sterker hulle geloof word, hoe meer bid hulle.  En hoe meer die Here hulle gebede beantwoord, hoe sterker word hulle geloof dat Hy dit weer in die toekoms sal doen.

 

‘n Gelowige wat nie baie bid nie, sal nie gereelde antwoorde op sy gebede sien nie (Jk.4:2). En omdat hy nie antwoorde op sy gebede sien nie, word hy nie bemoedig en aangevuur om meer te bid nie.  Sulke gelowiges trap makliker in die strik om wonderwerke en ander sigbare tekens te wil sien voordat hulle glo.  Maar geloof is juis om aan die Here vas te hou as jy nie sien wat Hy doen nie.  Om soos die charismate oor tekens en wonderwerke te roem, is nie ‘n teken van sterk geloof nie.  “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Kor.5:7).  “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Jh.20:29)

 

Is jou geloof eg? Moet dit nie vir jouself hou nie.  Vertel vir jou familie en vir ander wat die Here vir jou gedoen het, sodat hulle ook ‘n egte geloof in Hom kan hê (Gn.18:19, Dt.6:7, Ps.78:3-8).  Het jy al opgemerk hoe dikwels die Here een lid van ‘n huisgesin red, en hoe die hele gesin binne ‘n kort tyd daarna tot bekering kom (v.53, Hd.11:14, 16:15, 31-34, 18:8)?  Egte geloof is veronderstel om te groei, sodat dit ander mense kan bereik en beïnvloed.  Let op hoe die beampte se geloof gegroei het:  hy het eers geglo dat Jesus wonderwerke kan doen (v.47-48).  Toe het hy geglo dat Jesus se woorde gesag het (v.50).  Toe het hy in die Persoon van Christus geglo, hy en sy hele gesin (v.53).

 

Omtrent vyf jaar gelede het ek ‘n man beraad wat aanhoudend oor sy redding getwyfel het. Hy het gedurig sy hart ondersoek om te sien of sy geloof eg is.  Vir hom was die oplossing om nie na sy geloof te kyk nie, maar na Jesus.  C.S. Lewis het gesê dat dit lekker is om na ‘n waterval te kyk.  Maar sodra jy die waterval ignoreer en begin om te kyk of jy dit nog geniet, sal die plesier verdwyn.  Jy is nie veronderstel om op die plesier te fokus nie, maar op die waterval wat vir jou die plesier bring.  Net so is jy nie eintlik eers veronderstel om te kyk hoe diep jou geloof is nie.  Moenie op jou geloof fokus nie, maar op die Een in wie jy glo.  As jy dit doen sal jy sien dat jou geloof outomaties sterker word, en dat dit eg is.

Advertisements

’n Pleidooi om te vergewe

Unforgiveness

Toe ek Nelspruit gebly het was ek hiper-krities, negatief, en bitter. In die begin van 2004 het ek ‘n predikante konferensie bygewoon.  Een van die sessies het gehandel oor kritiek in die bediening.  In die begin van die sessie het ek gedink:  ‘Mense het dit al teen my gesê.’  Teen die middel van die sessie het ek gedink:  ‘Ek het dit al teen mense gesê.’  Aan die einde van die sessie was ek onder ‘n diep oortuiging van sonde.  Ek het gevlug en op die berg gaan bid.  Ná die konferensie het ek teruggegaan Nelspruit toe en dinge met die predikant en sy vrou uitgepraat.  Ek hoop van harte dat Paulus se brief aan Filemon jou sal help om jou eie hart te ondersoek, en nie die splinter in jou broer se oog raak te sien nie.

 

Paulus se seënwense (v.1-3)

Een van my vriende moes ‘n dissipline saak in hulle gemeente hanteer. In die weke en maande daarna het die man vir hom lelike boodskappe gestuur en gemaak of my vriend die skuldige een is wat hom moet bekeer.  My vriend het sy koel gehou en die saak in gebed aan die Here opgedra.  Omtrent 18 maande later het die man tot sy sinne gekom en gevra dat my vriend en die res van die gemeente hom sal vergewe.  Hoe vergewe jy mense wanneer hulle jou te na kom?  Paulus se brief aan Filemon leer vir ons hoe.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy vir twee jaar onder huisarres in Rome (v.1, Hd.28:16, 30-31). Gedurende hierdie tyd het hy nie net Filemon geskryf nie, maar ook Efesiërs, Filippense en Kolossense (Ef.6:20, Fil.1:13, Kol.4:18).  Hy was nie in die tronk omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat hy die evangelie verkondig het (v.1).  Deur na sy gevangeneskap te verwys het Paulus indirek vir Filemon gesê:  ‘As ek hierdie verdrukking kan deurmaak, kan jy sekerlik die man wat jou te na gekom het vergewe.’

 

Alhoewel Paulus sy eie briewe onderteken het (v.19, 2 Ts.3:17), het ‘n sekretaris dit onder sy diktee geskryf (Rm.16:22). Jong Timoteus was waarskynlik sy sekretaris toe hy Filemon geskryf het (v.1, Hd.16:3).  Die brief was bedoel vir Paulus se geliefde medewerker, Filemon (v.1).  Hy het dit egter ook gerig aan sy suster in die geloof, Appia, en aan Archippus, sy dapper medestryder (v.2).  Dit is nie onmoontlik dat hierdie twee mense Filemon se vrou en seun was nie.  Die brief moes ook voorgehou word aan die Kolossense wat in sy huis ontmoet het (v.2, vgl. v.2, 10, 23-24 met Kol.4:9-10, 12-14, 17).  Alhoewel dit ‘n persoonlike brief was, moes almal daaruit geleer het.  Die Vader en die Seun sou aan hulle die genade gegee het om in vrede met mekaar te lewe (v.3).

 

Paulus se gebed (v.4-7)

Facing the Giants is ‘n film wat gaan oor ‘n middelmatige voetbalspan wat uiteindelik heel bo uitkom en die kampioenskappe wen. Die span het aanvanklik geglo dat hulle nooit die finaal sal maak nie.  Om vir hulle volharding te leer, het die afrigter vir die sterkste speler ‘n baie moeilike taak gegee om te doen.  Toe die speler wou uitsak, het die afrigter vir hom geskreeu om aan te hou.  ‘As jý uitsak sal die res van die span jou voorbeeld volg,’ het hy gesê.  ‘Maar as jy volhard sal die ander spelers moed hê.  Jy het die mag om hierdie span te maak of te breek.’

 

Net soos wat sy aksies die span beïnvloed het, sou Filemon se geloof en liefdevolle karakter gemeente beïnvloed het. As Filemon vir Onesimus vergewe het, sou dit ‘n sterk boodskap aan die res van die gemeente deurgestuur het.  Maar as hy dit nié gedoen het nie, sou die suurdeeg van sy bitterheid die hele gemeente deurtrek het.

 

Paulus het die Here gereeld vir Filemon gedank (v.4). Filemon se rotsvaste geloof in die Here en sy praktiese liefde vir die heiliges was so noemenswaardig, dat mense vir Paulus daarvan vertel het (v.5, vgl. Ef.1:15, Kol.1:4).  Sy liefde vir ander het voortgevloei uit ‘n opregte geloof in Jesus (Gal.5:6).  Paulus het gebid dat Filemon se geloof ‘n effek op die gemeente sou hê, sodat hulle kon besef watse heerlike voorregte hulle in Christus het (v.6, Ef.1:3).  Filemon se oop huis en liefde was vir die gemeente so verfrissend soos koue water in jou gesig as jy klaar gedraf het (v.7, 2).  Die nuus hiervan het vir Paulus bly gemaak en hom bemoedig (v.7).

 

Paulus se versoek (v.8-22)

‘n Man het my eenkeer gebel en gesê dat sy vrou weg is, en dat hy nie weet wat van haar geword het nie. Ek het die vrou gebel en gevra of ek haar kan sien.  Sy het vir my verduidelik waar sy is, en ek het soontoe gery om met haar te praat.  Ek het mooi gevra dat sy na haar man toe moet terugkeer.

 

Die volgende dag het ek met hulle ontmoet en voorgestel dat ons met berading moet begin. Beide van hulle het daartoe ingestem.  Ons het vir omtrent tien of twaalf weke bymekaar gekom.  Deur die Here se genade het dinge drasties verbeter.  Daar was maar nog stampe en stote, maar vandag is hulle huwelik so vrolik en gelukkig soos voëltjies in die lente.  Ek klop myself nie op die skouer nie, maar wil illustreer hoe jy soms by mense moet pleit om te vergewe.  Dit is wat Paulus met Filemon gedoen het.

 

As ‘n apostel en ambassadeur van Christus, het Paulus die reg gehad om vir Filemon te beveel (v.8-9, 1 Ts.2:6). Maar omdat hy hom liefgehad het, het hy langs hom kom staan en hom gesmeek (v.9).  Wat was Paulus se versoek?  Filemon se weghol-slaaf Onesimus, het op een of ander manier vir Paulus ontmoet.  Paulus het die evangelie met hom gedeel en sy geestelike pa geword (v.10, 1 Kor.4:14-15).  Voor sy bekering was Onesimus nutteloos, onbruikbaar en lui (v.11).  Maar nou sou hy, volgens sy naam se betekenis, nuttig en bruikbaar gewees het vir Filemon en vir Paulus (v.11).

 

Paulus wou gehad het dat Onesimus dinge met sy meester moes regmaak, en daarom het hy hom na Filemon toe teruggestuur (v.12). Om te verhoed dat slawehandelaars hom langs die pad sou vang, het Paulus vir Tichikus met die Kolossense-brief in sy hand saamgestuur (Kol.4:7-9).  Paulus het vir Onesimus uit sy hart uit liefgehad (v.12).  Hy wou bitter graag gehad het dat Filemon hierdie nuwe gelowige moes liefhê soos wat hy die res van die gemeente liefgehad het (v.5, 7).

 

Paulus was lief vir Onesimus en sou daarvan gehou het as hy by hom gebly het (v.13). Hy kon vir Paulus tot diens gewees het deur bv. briewe aan die gemeentes af te lewer (v.13).  Dit sou vir Paulus gewees het asof Filemon self daar was om hom te dien (v.13, 1 Kor.16:17).  Hy wou egter nie sy perke oorskry het nie, maar wou gehad het dat Filemon self ‘n besluit moet neem (v.14).  Dit sou nie gehelp het as Filemon verplig gevoel het om dit te doen nie (v.14).  Alhoewel Onesimus verkeerd was om van sy meester af weg te hardloop, was dit binne God se soewereine plan, sodat hy tot bekering kon kom en Filemon hom vir ewig as ‘n broer in die Here kon terughê (v.15-16, Rm.8:28, Gn.50:20).

 

As ‘n medewerker in die Here het Paulus vir Filemon gesmeek om vir Onesimus terug te neem, asof dit Paulus self was wat na hom toe gekom het (v.17). Dit is so dat Onesimus hom skade aangedoen het en geld by hom gesteel het (v.18).  Dit is ook so dat sy daad onder die Romeinse wet strafbaar was met die dood.[1]  Paulus het geskryf om te vra dat Filemon vir Onesimus moes vergewe.  Soos wat Jesus Paulus se sondeskuld betaal het, was Paulus bereid om Onesimus se finansiële skuld te betaal (v.18-19).  Om dit te bevestig het hy hierdie woorde met sy eie hand geskryf (v.19).  Onesimus het vir Filemon geld geskuld, maar Filemon het onder Paulus tot bekering gekom en hom sy lewe geskuld (v.19).  In sy oorweging om vir Onesimus te vergewe moes Filemon dit asseblief onthou het.

 

Filemon het alreeds Paulus se hart bly gemaak (v.7), maar as hy vir Onesimus vergewe het sou hy die apostel se hart bevoordeel en verkwik het (v.20). Paulus het Filemon se karakter geken (v.5, 7) en geweet dat hy nie net vir Onesimus sou vergewe nie, maar dat hy hom met vreugde sou ontvang (v.21).  Wie weet of hy nie miskien vir Onesimus sy vryheid gegee het nie?  Buiten vir sy pleidooi om vir Onesimus te vergewe, het Paulus ook ‘n praktiese versoek gehad:  ná sy vrylating sou hy graag vir ‘n tydjie in Filemon se gastekamer wou bly (v.22).  Hy was oortuig dat ‘n genadige God die gelowiges se gebede vir sy vrylating gaan beantwoord (v.22, Fil.1:19, 2:24).

 

Paulus se groete (v.23-25)

Weet jy van skole wat ‘n tekort het aan mans onderwysers? Omdat daar min of geen mans op die personeel is nie, moet ‘n onderwyseres die seuns se eerste krieketspan afrig.  Sy het ‘n boek in die biblioteek uitgeneem, en het ‘n goeie idee van hoe die sport werk.  Haar teorie en praktyk is egter soos die teenpole van ‘n magneet.  Sy weet glad nie hoe om ‘n bal te vang, hoe om ‘n veeghou te speel, of hoe om die bal te laat wegbreek nie.  As hulle dit kon gehelp het, sou die seuns nie wou gehad het dat sy hulle moet afrig nie.

 

Op dieselfde manier wil ons nie na die lang uitgerekte stories luister van iemand wat nie weet wat dit beteken om die slagoffer van ander se sonde te wees nie, iemand wat nie weet wat dit beteken om te vergewe nie. Saam met Paulus kan ek eerlik vir jou sê dat ek nie maar net die teorie van vergifnis ken nie.

 

Vyf van Paulus se medewerkers het vir Filemon groete laat weet (v.23-24). Epafras was ‘n mede-gevangene vir die evangelie (v.23, Kol.4:12).  Hy het die kerk in Kolosse begin en was goed bekend aan die gemeente (Kol.1:7).  Aristarchus van Tessalonika was saam met Paulus in die tronk (Kol.4:10, Hd.19:29, 20:4, 27:2).  Demas was sy medewerker, maar het hom verlaat omdat hy die wêreld liefgekry het (2 Tm.4:10).  Lukas was ‘n mediese dokter wat tot die einde toe by Paulus gebly het (Kol.4:10, 2 Tm.4:11).

 

Markus het onder Petrus tot bekering gekom (1 Pt.5:13) en was Barnabas se neef (Kol.4:10). Hy het Markus geskryf.  Jare tevore het Paulus en Barnabas paaie geskei oor hom (Hd.15:36-41).  Paulus het intussen weer vir Markus vertrou, en hom as ‘n medewerker beskou (v.23).  Sy versoening met Markus sou vir Filemon en die gemeente ‘n groot les gewees het:  Paulus ken nie maar net die teorie van vergifnis nie, maar die praktyk ook.  Met die Here saam kon elke gelowige dit reggekry het om hulle vyande te vergewe (v.25).

 

Ons moet mekaar vergewe, want ons dit nié doen nie, sal die Here ons ook nie vergewe nie (Mt.6:12, 14-15). Iemand wat nie van die bitterheid in sy of haar ontslae raak nie, sal die Koninkryk van God nie sien nie, maar vir ewig in die hel wees (Mt.5:22, 1 Jh.3:15).

 

Volgens die Ef.4:32 moet ons mekaar vergewe soos wat die Here ons vergewe het. Hy vergeld ons nie volgens wat ons verdien nie, maar verwyder ons sonde van ons af weg so ver soos wat die ooste van die weste af is (Ps.103:10, 12).  Hy vertrap ons sondes onder sy voete en werp dit in die diepste see (Mg.7:19).  Hy laat dit soos mis voor die son verdwyn (Jes.44:22).  Hy het ons skoongewas, sodat ons harte spierwit geword het soos sneeu en wit wol (Jes.1:18).  Alhoewel die Here nie aan geheue verlies ly nie, het Hy besluit om nie meer aan ons sonde te dink nie:  Hy haal dit nie op soos wat ons dikwels doen nie (Hb.10:17).

 

Hier is nog ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou:

 

[1] God keur nie sonde goed nie, maar kon verhoed het dat mense jou te na kom. Hy het dit egter nie gedoen nie, omdat Hy iets goed in gedagte het, en omdat Hy jou meer soos Jesus wil maak (v.15, Rm.8:28-29, Gn.45:5, 8, 50:20).

 

[2] My en jou sonde was so groot dat dit Jesus sy lewe gekos het om ons te vergewe. Hoe kan ons dan weier om ander se kleiner oortredings teen ons te vergewe (Mt.18:21-35)?

 

[3] Soos enige ander sonde, bedroef bitterheid die Heilige Gees en steek dit soos ‘n dolk sy hart. Die duiwel kry lekker as ons nie wil vergewe nie.

 

[4] Die Here sal wraak neem – los dit in sy bekwame hande (Rm.12:19, 1 Pt.2:23, Ps.37:5-6). Ons wil iemand se keel afsny as hy lieg, en hom op die hand slaan as ‘n moord pleeg.  Die Here weet hoe swaar Hy die persoon moet straf.  John Piper sê:  ‘If you hold a grudge, you doubt the Judge.’[2]  Dink asseblief daaraan dat jy nie al die feite het nie (al dink jy ook so).  God ken mense se geheime en motiewe, en kan daarom akkuraat oordeel.

 

Is die persoon wat teen jou gesondig het ‘n Christen? Jesus het die straf vir sy sonde op Homself geneem aan die kruis.  Is die persoon ongered?  Treur vir die persoon – moenie bly wees nie, maar treur – omdat God hom vir ewig in die hel gaan straf.

 

[5] Die Bybel verbied ons om ander Christene voor die hof te daag (1 Kor.6:1-8). Maar wat as die persoon die landswet oortree het deur bv. jou gesin te vermoor?  Volgens Mt.18:17 neem jy aan dat die persoon ‘n ongelowige is, en vat jy die saak verder.  Om te vergewe beteken nie jy mag nie vir die polisie sê nie.  God het die regering daargestel om sy wraak uit te oefen (Rm.13:4).

 

[6] Onthou dat jy ook al teen ander mense gesondig het (Pd.7:21-22). Ek is seker jy wil hê dat mense jóú moet vergewe.  Doen dan aan ander wat jy aan jou gedoen wil hê (Mt.7:12).

 

[7] Die persoon wat die swaarste ly onder bitterheid is jy. Iemand het gesê:  ‘Om bitter te wees is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood.’  Iemand wat bitter is raak uiteindelik so agterdogtig soos Saul, sodat hy heeltemal irrasioneel optree.  “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rm.12:21).

 

[8] Wees versigtig vir wie jy luister; pasop vir die raad van ongelowiges (Ps.1:1). Moenie na die sielkundige, berader, vriend, familielid, kollega of vals leraar luister wat vir jou sê:  ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat’ nie (Mt.5:43).  Iemand wat sê:  ‘Ruïneer hom,’ is die duiwel se agent en gee vir jou slegte raad.  Jesus het gesê:  “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mt.5:44).  Jesus het vir sy vyande gebid toe Hy aan die kruis was (Lk.23:34).  Volg sy voorbeeld.

 

[9] As jy nie vergewe nie sal jou verhouding met die Here skade ly (1 Pt.3:7). Dit mag selfs wees dat Hy besluit om jou siek te maak of dood te maak as jy met ‘n onvergewensgesinde hart aan die nagmaal deelneem (1 Kor.11:30).

 

[10] Soos wat wellus omsit in egbreuk, sit bitterheid om in moord (Mt.5:21-22). Moord gebeur nie op die ingewing van die oomblik nie.  Dit het al lankal in die hart gebroei.  Volgens Jk.3:16 is bitterheid die oorsaak van baie ander sondes.

 

[11] Bitterheid affekteer nie net jou verhouding met die persoon wat jou te na kom nie. Baie ander mense is betrokke.  As Koos en Piet vir mekaar kwaad is, raak dit ook hulle vroue en kinders.  Maak daarom seker “dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” (Hb.12:15).

 

Wat moet jy dan doen? By die wederkoms gaan dit nie saakmaak of jy reg was, en of jy die argument gewen het nie.  Verneder jouself en neem die eerste stap om die saak uit te praat (Lv.19:17, Mt.5:23-24).  As jy alles in jou vermoeë gedoen het om vrede te maak, en die ander persoon nie vrede wil hê nie, kan jy met ‘n skoon gewete jou kop op jou kussing neerlê (Rm.12:18).

 

George Whitefield en John Wesley was goeie vriende, totdat hulle oor die uitverkiesing verskil het. Wesley het ‘n preek teen Whitefield se Calvinisme gepreek.  Ten spyte daarvan dat Whitefield hom gesmeek het om dit nie te publiseer nie, het Wesley nie geluister nie.  Daar het ‘n kloof tussen die twee vriende ontstaan.  Whitefield het menigmale probeer om dit reg te stel, maar Wesley was so hard soos ‘n klip.  Uiteindelik het die Here sy hart sag gemaak, en het hulle met mekaar versoen geraak.  Toe Whitefield dood is, het Wesley op sy begrafnis gepreek.[3]  Hoe sou Wesley gevoel het as Whitefield gesterf het, en hulle mekaar nie vergewe het nie?

 

[1] NIV Study Bible, p.1855

[2] John Piper, Future Grace, p.266

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield (2 volumes)

’n Afspraak met die Messias

Woman at the well

Toe ek op hoërskool was het my ma vir my geleer om God save the Queen op die klavier te speel.  Toe ons eenkeer by my ouma-hulle gaan kuier het, het ek voor die klavier gaan sit om die Britse volkslied te speel.  My oupa was onsteld en het vir my gesê:  ‘Daardie mense het ons voorvaders doodgemaak – hoe kan jy hulle volkslied speel?’  Ek het nie verstaan hoekom dit hom so ontstel het nie… totdat ek in Desember ‘n boek oor die Anglo-Boere oorlog gelees het, en vroeër vanjaar ‘n dokumentêr daaroor gekyk het.  Op dieselfde manier moet jy in die annale van die geskiedenis gaan delf om die haat tussen die Jode en die Samaritane te verstaan.

 

Kort nadat Salomo dood is, het Israel in twee geskeur (1 Kon.11-12). Jerusalem was die hoofstad van die suidelike ryk, terwyl Samaria die hoofstad van die noordelike ryk geword het.  In 722 v.C. is Samaria verwoes, en het die Assiriërs die mense van die noordelike ryk gevange geneem en in hulle stede laat woon (2 Kon.17:6, Es.4:9-10).  Die armste mense het in die land agtergebly (2 Kron.30:5, 10-11, 18, 34:6).

 

Die koning van Assirië het toe mense uit verskillende wêreldstede gebring om in die stede van Samaria te woon (2 Kon.17:24). Omdat hulle afgode aanbid het, het die Here leeus gestuur om hulle dood te maak.  Die koning van Assirië het toe ‘n Israelitiese priester na Samaria toe teruggestuur om vir die mense te leer hoe hulle die Here moet vrees.  Hulle het hulle afgodery met Jahwe-aanbidding vermeng, en dit so vir die volgende geslagte geleer (2 Kon.17:25-41).  Uiteindelik het hulle van hulle afgode ontslae geraak, maar hulle aanbidding was nie suiwer nie.

 

In 586 v.C. het koning Nebukadnessar van Babilon Jerusalem en die tempel verwoes. Hy het die Jode na sy land toe weggevoer.  In 538 v.C. het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toestemming gegee dat hulle die tempel in Jerusalem kon herbou (2 Kron.36).  Toe hulle besig was met die werk, het die Samaritane gekom en aangebied om te help, maar die Jode wou nie hulle hulp aanvaar het nie (Es.4:1-3).  Die Samaritane het toe probeer om te keer dat hulle die tempel herbou (Es.4:1-6, Neh.4:1-2).

 

In 409 v.C. is ‘n sekere Manasse (die hoëpriester se broer) deur Nehemia weggejaag omdat hy met Sanballat – die goewerneur van Samaria – se dogter getrou het (Neh.13:28). Manasse het na die Samaritane toe gegaan en met Darius Nothus se toestemming op berg Gerisim ‘n tempel vir hulle gebou.[1]  Manasse het toe die hoëpriester van hierdie tempel geword.  In 128 v.C. het Johannes Hirkanus – ‘n Jood – die Samaritane se tempel verwoes.  Êrens tussen 6-9 n.C. het die Samaritane die Jerusalemse tempel ontheilig deur menslike beendere daarin te strooi.[2]

 

Toe Jesus dus sy bediening begin het, was daar ‘n diep-gesetelde haat tussen hierdie twee groepe (Jh.8:48, Lk.9:52-53). En as ons dít verstaan, kry Jh.4:1-42 vir ons nuwe betekenis.  Vir ‘n Joodse Messias om die Samaritane te verlos, was waarlik ‘n groot ding.

 

Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n sekere man in Wallis wat uit ‘n lewe van sonde gered is, en ‘n toegewyde Christen geword het. As gevolg van verskeie redes het hy ná sy bekering van sy gesin af weggeloop en egbreuk gepleeg.  Buiten vir sy seksuele sonde, het hy ook die huis onder sy vrou uit verkoop en die geld gemors.  Toe sy geld klaar was het die ander vrou hom gelos.  Hy was so misrabel dat hy besluit het om selfmoord te pleeg.  Toe hy oppad was om in die river te spring, het hy gehoor hoe Big Ben 18:30 slaan.  Skielik het daar ‘n gedagte deur sy kop gegaan:  ‘Lloyd-Jones gaan seker nou in die kansel instap.’

 

Hy het besluit om nog een keer na Lloyd-Jones te gaan luister. ‘Daarna sal ek myself doodmaak,’ het hy gedink.  Toe hy by Westminster Chapel inloop, was Lloyd-Jones besig om te bid.  Die eerste woorde wat hy gehoor het was:  ‘God have mercy upon the backslider.’  Sy verhouding met die Here is daar en dan herstel.  In die jare wat gevolg het, het hy ‘n ouderling geword.  Tot en met sy dood het hy die Here getrou gedien.[3]  Soos wat die Here daardie dag ‘n afspraak met hom gehad het, het hy in Jh.4:1-42 ‘n afspraak gehad met ‘n sekere Samaritaanse vrou en met die inwoners van Sigar.  En miskien het Hy vandag ‘n afspraak met jou.

 

Die Samaritaanse vrou (v.1-26)

 

[1] Die Lewende Water

Ek ken ‘n man wat hom voor sy bekering na allerhande godsdienste toe gewend het. Maar dit was eers toe hy die Here Jesus ontmoet het, wat sy hart rus gevind het.  ‘n Ander man het gehoop dat geld die leemte in sy hart sou vul.  Hy het op ‘n tyd sewe ingevoerde karre besit.  Onder hulle het hy ‘n Rolls Royce, ‘n Ford Mustang, en ‘n Cadillac gehad.  ‘Ek weet hoe dit voel om my voet op ‘n Ferrari en ‘n Lamborghini se pedaal neer te sit,’ het hy gesê.  Maar ten spyte van al sy rykdom was hy leeg.

 

Noudat hy tot bekering gekom het, het die Here sy siel versadig. Hy ry ‘n ou Toyota bakkie met 900 000 km op die klok.  Iemand het vir hom gesê dat Toyata vir hom ‘n nuwe bakkie sal gee as hy 1 miljoen km slaan, maar hy stel nie belang nie.  ‘As ek ‘n nuwe bakkie kry sal dit my aandag van die Here aftrek,’ het hy gesê.

 

Augustinus het in die vierde eeu geleef. Voor sy bekering was hy seksueel losbandig.  Hy het vir jare gesukkel om sy verslawing te oorkom, maar toe die Here sy sielsdors geles het, het hy vrygeraak.  Verlede Vrydag het ons by die beradingklas na ‘n CD oor dwelms geluister.  ‘n Jong man het vertel hoe hy verskillende soorte dwelms gebruik het om geluk te probeer vind.  ‘Ek het leeg gebly,’ het hy gesê.  Iemand wat een keer die lewende water gesmaak het, wil nie meer uit die wêreld se vuil toiletbak drink nie.  En dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het.

 

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels gedoop het as Johannes (v.1). Maar hulle het nie heeltemal reg gehoor nie, omdat Jesus nie self die mense gedoop het nie – sy dissipels het (v.2).  Hy wou nie gehad het mense moes sê:  ‘Ek is deur Jesus gedoop, terwyl jy maar net deur Andreas gedoop is’ nie.  Jesus het dadelik uit Judea vertrek om terug te gaan Galilea toe (v.3, 2:12-13, 3:22).  Dit was die Vader se wil dat Hy op ‘n sekere tyd, plek, en manier moes sterf, en as Hy langer in Judea gebly het sou die Jode Hom gestenig het (8:59).

 

Oppad Galilea toe moes Hy deur Samaria gaan, soos wat ‘n mens oppad Zimbabwe toe deur Limpopo moet reis (v.4). Jesus moes egter ook deur Samaria gereis het, omdat Hy ‘n Goddelike afspraak gehad het met ‘n sekere Samaritaanse vrou.  Sigar was die naam van die dorpie waar Hy stilgehou het (v.5).  Dit was naby die stuk grond wat Jakob vir sy geliefde en gunsteling seun Josef gegee het (v.5, Gn.33:19, 48:22, Jos.24:32).  In die Ou Testament was die plek se naam Sigem (Rgt.9:7).

 

Buite die dorp was daar ‘n put waaruit Jakob, sy gesin en sy vee gedrink het (v.6). Twee duisend jaar ná hom, het die Samaritane nogsteeds die put se vars vloeiende water gedrink.  Die put bestaan vandag nog.  Jesus het die 40+ km afgelê en was moeg, honger, en dors toe Hy teen 18:00 in Sigar aangeland het (v.6-8, Gn.24:11).  Dit dui vir ons aan dat Hy volkome mens was (19:28, Mt.8:24, 4:2, 21:18, Hb.4:15).

 

‘n Sekere Samaritaanse vrou het na die put toe gekom om water te skep (v.7). Die dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop (v.8), en kon daarom nie volgens die gebruik vir hulle Rabbi water geskep het nie.  Gevolglik het Jesus die vrou vir ‘n bietjie water gevra (v.7).  Sy was verbaas, omdat geen Rabbi in die openbaar met ‘n vrou sou praat nie, en omdat Jode en Samaritane mekaar gehaat het (v.9).  Soos wat blankes in die verlede vir hulle bediendes blik borde gegee het om uit te eet, sou die Jode en Samaritane nie hulle breekware met mekaar gedeel het nie (v.9, vgl. Mk.7:3-4).

 

Jesus het in effek vir die vrou gesê: ‘As jy geweet het watse groot geskenk God vir jou wil gee, en dat dit die Messias is wat vir jou water vra, sou jy vir Hóm gevra het om die lewende water vir jou te gee.’ (v.10, 7:37-39, Jes.12:3).  Die vrou het glad nie geestelike dinge verstaan nie.  ‘Jy het nie eers ‘n emmer of ‘n tou nie, en die put is meer as 40 meter diep – waar sal jy hierdie lewende water kry?’ het sy gevra (v.11).  ‘Jy is tog nie belangriker as Jakob wat die put vir ons gegee het en self ook daaruit gedrink het nie, is jy?’ (v.12, 1:52, 8:53).

 

Jesus het in geen onduidelike terme vir haar gesê dat Hy wél groter is as Jakob nie. Dié wat uit Jakob se put gedrink het, sou weer dors geword het (v.13).  Dié wat egter van Jesus se lewende water gedrink het, sou nooit weer dors gekry het nie (v.14, 6:35).  Christus se lewende water sou soos ‘n fontein in sy siel opborrel (v.14, 10:10).

 

Die vrou wou graag van hierdie water gehad het, maar het nogsteeds nie Jesus se aanbod verstaan nie (v.15). Sy het nie aan haar siel gedink nie, maar aan die ongerief daarvan om elke dag 800 meter te loop om water te skep.  As Jesus haar die moeite kon spaar sou dit gaaf gewees het (v.15).  Vir haar was Jesus en sy lewende water nie ‘n noodsaaklikheid nie, maar ‘n kruk om die lewe geriefliker te maak – soos die Engelse sê, ‘a nice to have’.

 

Jesus wou ‘n lewende voorbeeld gegee het van wat Hy bedoel, en het vir haar gesê sy moet haar man gaan roep (v.16). Hy wou die dors in haar aanwakker, en het vir haar gewys dat sy tot nou toe sonder sukses die leemte in haar hart met mans probeer vul het.  Sy moes besef het dat sy verlore was, en dat sy ‘n Verlosser nodig het.  Maar sy het nie saamgespeel nie en het probeer om die onderwerp dood te praat.  ‘Ek het nie ‘n man nie,’ het sy gesê (v.17).  Jesus het geweet dat sy ‘n halwe waarheid praat, en het vir haar gesê:  ‘Ja, ek weet jy het nie ‘n man nie.  Jy het al vyf gehad, en bly nou saam met ‘n sesde een.  En om saam te bly is nie dieselfde as om getroud te wees nie.’ (v.17-18).

 

Die les vir ons is duidelik: drink uit die fontein van lewende water.  As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig dors wees in die hel (Lk.16:24).  Elke mens (selfs die ateïs) probeer om die leemte in sy siel met iets te vul.  In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets wat hy kan aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, YouTube, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (v.18).’  Die afgod fop jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (v.14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

[2] Ware aanbidding

Omtrent twee weke gelede het ‘n onbekende man by my vriende gehoor dat ek deel was van ‘n veldtog teen aborsie. Hy het my nommer gekry en vir my ‘n Whatsapp gestuur.  ‘Aborsie is gebou op die fondasie van evolusie,’ het hy gesê.  Na my mening is dit presies reg.  Iemand wat glo dat mense en lemoene uit dieselfde poel ontstaan het, behoort ook te glo dat aborsie heeltemal aanvaarbaar is.  Die manier waarop ‘n mens lewe is ‘n direkte uitvloeisel van wat hy glo.

 

Die Samaritaanse vrou se verkeerde idees oor God daartoe gelei dat sy ‘n afgod gemaak het van seks (v.22). Tog het sy probeer om haar sonde te verskoon.  Toe Jesus sy vinger op die rou senuwee van haar sonde gelê het, het sy die onderwerp verander en oor godsdiens gepraat.  Sy wou vir die ‘profeet’ gewys het dat sy nie só sleg was nie, en dat sy darem godsdienstig was (v.19-20).

 

‘Ons en ons voorvaders het die Here op hierdie berg aanbid,’ het sy gesê (v.20). ‘Berg Gerisim is die plek waar Abraham, Jakob, en die Israeliete vir God aanbid het (Gn.12:6-7, 33:18, 20, Dt.11:29, 27:12, Jos.8:33).  Maar volgens julle Jode is Jerusalem die plek wat God vir Homself uitgekies het (v.20, Dt.12:5, 11, 14, 18, 21, 26, 2 Kron.6:6, 7:12, Ps.132:13).  Wie is reg?’ het sy gevra.

 

Natuurlik het sy verwag dat Jesus ‘Jerusalem’ gaan sê. Maar Hy het nie.  ‘Dit is nie soseer die plek van aanbidding wat belangrik is nie.  Die vraag is eerder of jy die Here reg aanbid.  Die Samaritane aanbid verkeerd.  Julle glo nie die hele Ou Testament nie (hulle ‘Bybel’ het net uit die eerste vyf boeke bestaan), en daarom weet julle nie mooi wie of wat julle aanbid nie (v.22, 2 Kon.17:28-34).  Die Messias is ‘n Jood en daarom is verlossing uit die Jode (v.22, Mt.1:21, 2:4-5, Rm.9:5, 11:26, Jes.2:3).  Hy het egter gekom om mense uit alle nasies te verlos (v.42), sodat hulle die Vader in gees en in waarheid kan aanbid (v.23-24, Fil.3:3).  M.a.w. God wil nie hê dat mense Hom moet aanbid soos wat húlle wil nie, maar soos wat Hy in sy Woord voorskryf – in waarheid.  Hulle moet dit egter nie met ‘n koue hart doen wat net uiterlik by die reëls hou nie.  Hulle moet Hom met ‘n opregte hart aanbid – in gees.  God self is ‘n onsigbare en alomteenwoordige Gees, en daarom kan sy kinders op enige plek vergader om Hom te aanbid (v.24, 22, 1 Kor.3:16, Sef.2:11, Mal.1:11, 1 Tm.2:8).’  Die Jerusalemse tempel sou buitendien in 70 n.C. verwoes word.

 

Die vrou het nogsteeds nie toegegee nie en het gesê: ‘Ek weet dat die Messias kom.  Wanneer hy kom sal hy vir ons alles sê; hy sal besluit wie reg is tussen die Jode en die Samaritane’ (v.25).  Die Samaritane se onvolledige Ou Testament het gemaak dat hulle ‘n Messias verwag het wat niks meer was as ‘n leermeester nie, die Taheb, soos wat hulle hom genoem het (Dt.18:18).  Op grond van Nm.24:7 het hulle ook geglo dat daar water uit die Messias se emmers sou vloei.[4]  Êrens moes die vrou twee en twee bymekaar gesit het toe Jesus van Homself gepraat het as die lewende water (v.14).  In v.26 het Jesus dit reguit gesê:  ‘Die Messias van wie jy praat staan voor jou.’ (vgl. 9:35-37).  Hy was meer as net ‘n gewone leermeester; Hy was EK IS – die God van Eks.3:14 (v.26).

 

Aanbid die Here in gees en in waarheid. As jy dit nie doen nie, sal die afgode wat in die hoeke van jou hart wegkruip baie gou in jou lewe sigbaar word.  Om die Here reg te aanbid moet jy die hele Skrif in oënskou neem, en nie soos die Samaritane net aan jou gunsteling gedeeltes vashou nie.  Maak dan seker dat jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke lees nie.  Hoe kan jy die Here reg aanbid as jy nie weet wat die hele Bybel oor Hom sê nie?

 

Sien daarom sy heiligheid in Levitikus en sy liefde in Hosea; sy voortreflikheid in Hebreërs en sy geregtigheid in Romeine. Wat leer Esegiël, Jona en Openbaring oor God?  Iemand wat die hele Skrif se lering oor God in ag neem, sal saam met die Westminster Kategisme moet bely:  ‘God is ‘n Gees – oneindig, ewig, en onveranderlik in sy wese, wysheid, almag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.’

 

Om die Here reg te aanbid moet jy Hom nie net in waarheid aanbid nie, maar ook in gees.  Voordat jy lees moet jy bid dat die Here jou oë sal oopmaak (Ps.119:18).  Bely jou sonde, sodat dit nie in jou pad staan om Hom te ken nie (1 Pt.2:1-2).  Die Samaritaanse vrou kon nie die Here in gees en waarheid aanbid het, totdat sy nie eers haar sonde laat staan het nie.  Is daar ‘n sonde wat jy moet laat staan, sodat jy die Here opreg en in waarheid kan aanbid?

 

Die dissipels (v.27-38)

Van alle sendelinge wat in Suider-Afrika gewerk het, is David Livingstone seker die bekendste. In sy leeftyd en vir ‘n paar dekades daarna het geen sendeling vir soveel swart mense gepreek soos hy nie.[5]  En tog het hy nie regtig vrug op sy arbeid gesien nie.  Hy was egter oortuig dat die Here sy beloftes sou vervul, en dat Christenskap sal triomfeer.  “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  “En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps.72:19).  Vir my lyk Jesus in v.35-38 juis dít vir sy dissipels gesê het.

 

Die dissipels het van die dorp af teruggekom net toe Jesus vir die vrou gesê het Hy is die Messias (v.26-27). Hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou gepraat het, en tog het nie een van hulle gevra:  ‘Wat soek jy?’ of ‘Hoekom praat U met haar?’ nie (v.27).  Die vrou het omgedraai en haar waterkruik daar gelos sodat Jesus kon drink (v.28, 7).  Haar aksie het uitgebeeld dat Jesus haar dors geles het.

 

Toe sy in die dorp aangekom het, het sy vir die mense van Jesus vertel (v.29). Sy wat voorheen ‘n uitgeworpene was het nie omgegee wat die mense dink nie – sy kon dit nie meer inhou nie, en moes eenvoudig vir hulle vertel het van die man wat haar hart en lewe geken het (v.29).  ‘Kan hy dalk die Christus wees?’ het sy gevra (v.29).  ‘Iemand wat vir ons alles kan vertel móét mos die Messias wees, nie waar nie?’ (v.25, 1:48-51).  Die mense het na die put toe geloop (v.30).  As hierdie vrou nie bang was om openlik oor skandelike lewe te praat nie, moes daar iets in Jesus gewees het, en die Samaritane wou geweet het wat dit was.

 

Terwyl die dorpsmense die 800 meter afgelê het, het die dissipels daarop aangedring dat Jesus iets moet eet (v.31). Hy wou egter nie, en het gesê dat Hy kos het waarvan hulle nie weet nie (v.32, 14).  Net soos wat die vrou nie sy les oor geestelike water verstaan het nie (v.15), het die dissipels nie geweet dat Hy van geestelike kos praat nie – hulle het gedink dat iemand anders vir Hom kos gebring het (v.33).  Jesus het dit toe duidelik gemaak:  ‘Om my Vader se wil te doen is die kos wat My versadig’ (v.34, 6:38, 17:4, 19:30, Job 23:12).

 

En wat was die Vader se wil? Dat Hy mense van hulle sonde moes red en in die hemel moes inbring, net soos wat ‘n boer die oes in sy skure inbring (v.35).  Die boer weet dat daar ná die saaityd min of meer vier maande moet verloop voordat hy die oes kan inbring (v.35).  Maar die geestelike oes wat deur Johannes die Doper en die Ou Testament profete gesaai is, was alreeds ryp; die dissipels kon dit net afpluk en inbring (v.35, 37-38).

 

Die Samaritane die Messias se koms verwag (v.25) en was gereed om Hom te ontvang (v.30). Dit is nie net dat mense in die toekoms tot bekering sou kom nie, maar Jesus was alreeds besig om mense te red en vrug vir die ewige lewe in te samel (v.36).  Dié wat saai sowel as hulle wat oes, sou saam bly gewees het oor die mense tot bekering kom (v.36-37, 1 Kor.3:7).  In Am.9:3 staan daar:  “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

 

Wanneer gelowiges siek is, beproef word, of oud raak, wonder hulle soms hoekom hulle nog op die aarde is. Volgens die Bybel het die Here ons hier gelos om dissipels te maak (Mt.28:19-20).  ‘n Gelowige wat nie hiermee besig is nie, is ongehoorsaam.  Dit beteken nie dat elke gelowige sy werk moet bedank om ‘n sendeling, predikant of straatevangelis te word nie.  Dit beteken wel dat jy die evangelie moet leef en verkondig aan die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Vertel dit vir jou kinders en kleinkinders; deel dit met jou gesin en familie; moenie skaam wees om vir jou vriende, kollegas en bure te vertel nie. Nooi hulle saam met jou kerk toe.  Moenie moed opgee as hulle ‘nee’ sê, of as hulle die evangelie verwerp nie.  Hou aan, “want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal.6:9).  Moenie dink dat die Here jou arbeid misgekyk het, of dat Hy van jou gebede vergeet het nie.  Die Here sal iemand stuur om te oes waar jy gesaai het, sodat julle saam bly kan wees (v.36-38).

 

Op die oomblik sien ons nie baie bekerings nie, maar ek glo dat die Here een van die dae iets gaan doen. Dalk is ons in die hemel wanneer dit gebeur, maar ek kan nie glo dat die Here ons sal stuur om te saai as daar nie ook ‘n oes sal wees nie.  Op grond van Jesus se eie woorde glo ek dat dit ‘n groot oes gaan wees.  Die Bybel sê vir my dat die Here se Koninkryk sal wees soos ‘n berg wat die hele aarde vul, en soos ‘n mosterd saadjie wat groei om die grootste plant in die tuin te wees (Dn.2:35, 44, Mt.13:31-32).  Christus se Koninkryk sal strek van see tot see (Ps.72:8, Sg.9:10).  Hy sal oor die hele aarde regeer.  Die Vader sal nasies as sy erfdeel gee, en hulle sal Hom aanbid (Ps.2:8, 72:11).

 

Die bekerings waarna ons nou smag sal in daardie dag soveel wees soos die sand van die see. Petrus het van hierdie tye geprofeteer (Hd.3:19).  Jode en heidene sal by die miljoene tot bekering kom (Rm.11:15, 25-27), sodat die grootste herlewings in die kerk se geskiedenis nie naastenby daarmee vergelyk kan word nie; dit sal wees soos ‘n skare op Loftus teen Indië se bevolking.  “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!  Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie!  Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes.54:1).

 

Die Samaritane (v.39-42)

Het jy al ooit ‘n gewone persoon ontmoet, om na ‘n paar maande agter te kom dat hy of sy welbekend is? Ek het eenkeer so iets ervaar.  Die persoon het vir my dood normaal gelyk.  Met die verloop van tyd het ek in internasionale Christelike tydskrifte van hom gelees.  Outeurs wie se boeke ek op my rak het, het van hom gepraat.  By ‘n predikante byeenkoms waar hy teenwoordig was, het sy selfoon gelui.  ‘Verskoon my broers,’ het hy gesê, ‘Dit is mnr. Mbeki.’  Ek weet tot vandag toe nie of hy ‘n grap gemaak het nie, maar vir my het hy ernstig gelyk.  Alhoewel Jesus volkome mens was, het die Samaritane agtergekom dat Hy nie maar net enigiemand is nie, maar die Verlosser van die wêreld (v.42).

 

In ooreenstemming met Jesus se opmerking oor die groot oes (v.35), het baie van die Samaritane in Hom geglo (v.39).  Dit het hulle verstom dat hierdie vreemdeling die losbandige vrou se geheime lewe geken het (v.39).  Hulle was nie soos die Jode wat maar net agter sy wonderwerke aangekom het nie, maar hulle het na Hom toe gekom en daarop aangedring [Gk., v.31] dat Hy by hulle moes bly (v.40, 30).  Hulle wou meer van Hom geweet het en by Hom geleer het.  Die feit dat hulle vir ‘n Jood gevra het om daar te bly wys dat hulle regtig geglo het Hy is die Een.  Jesus het vir twee dae daar gebly (v.40).  Gedurende hierdie tyd het baie van hulle geglo toe hulle sy Woord gehoor het (v.41, kontr. 3:11, 32, 1:11).  Hulle het geweet dat Hy inderdaad die Messias is van wie Moses gepraat het (v.25, Dt.18:15, 18).

 

Die vrou was reg om te sê dat Jesus alles weet. Nou het die Samaritane dit self uit sy mond uit gehoor (v.42).  Skielik het hulle besef dat Hy nie maar net ‘n gewone profeet of leermeester is nie (v.19, 25), maar dat Hy die Verlosser van die wêreld is (v.42).  Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy nie net vir die Jode gekom nie (v.22).  Hy het ook gekom om die Samaritane te red (v.42, 3:16, 1 Jh.4:14).  Jesus het gekom om vername en godsdienstige Joodse mans te red (hfst.3), maar ook om lae klas en losbandige Samaritaanse vroue te red (hfst.4).

 

Maak seker dat jy persoonlik ervaar dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Dit sal tragies wees as jy dit uit die Bybel uit geweet het, maar verlore gaan omdat jy nie self daardie verlossing gesmaak het nie.  Die transformasie in ander mense harte en lewens behoort vir jou te wys dat Jesus regtig die Verlosser van die wêreld is (v.39, 42).  Vra dat Hy ook na jou hart toe sal kom (v.40).  Wees soos die Samaritane wat vir twee dae na sy Woord geluister het (v.40-41).  Sonder tyd af om die Bybel te lees (begin by Johannes); bid dat die Here jou oë sal oopmaak om te sien dat Jesus nie maar net die Verlosser van die wêreld is nie, maar dat Hy ook jóú Verlosser is.  Wanneer jy hierdie verlossing in jou siel ervaar het, sal jy besef dat Jesus in ‘n klas van sy eie is.  Hy alleen is die Verlosser van die wêreld en deel nie hierdie titel met Mohammed, Buddha of enigiemand anders nie.

 

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense afsprake maak en kanseleer. Partykeer verhoed omstandige dat hulle die afspraak kan nakom.  As dit ‘n moeilike afspraak is, ignoreer of vermy mense jou oproepe.  Met Jesus is dit anders.  As Hy ‘n Goddelike afspraak met iemand gemaak het, kan hulle nie weghardloop of die afspraak kanseleer nie.  Hy sal sy raadsplan uitvoer en persoonlik met hulle ontmoet.

[1] Andrew Robert Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, ‘Samaria’ en James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, ‘Samaritans’

[2] A.B. du Toit, Handleiding by die Nuwe Testament II, p.511

[3] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.302-303

[4] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.439

[5] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.181-183

’n Militêre basis vir God se soldate

Soldier reading Bible

Het jy al plaasboere ontmoet wat so ver van die dorp af bly, dat hulle net een keer per maand kan inry? Hulle kan nie gou dorp toe skiet vir brood of melk nie, en daarom is hulle yskaste so groot soos ‘n inloop kluis.  Hulle koop ‘n maand of twee se voorraad van alles.  In God se Koninkryk werk dit soms so.  Soos soldate is die sendelinge besig om in die veld te baklei, maar dikwels het hulle geen basis wat vir hulle vars voorraad stuur nie.  Ek praat hier van kerke wat hulle plig versuim en nie sendelinge ondersteun nie.  3 Jh.1-15 spreek hierdie probleem aan.

 

Gaius (v.1-8)

Die leierskap van ‘n klein gemeente in Engeland het vir Charles Spurgeon gevra om vir hulle ‘n predikant te stuur. Maar die salaris wat hulle aangebied het was so klein dat Spurgeon vir hulle geskryf het:  ‘The only individual I know, who could exist on such a stipend [salary], is the angel Gabriel.  He would need neither cash nor clothes; and he could come down from heaven every Sunday morning, and go back at night, so I advise you to invite him.’[1]

 

Ek weet van ‘n gemeente wat ‘n paar jaar gelede vir hulle assosiasie gevra het om vir hulle ‘n predikant te stuur. Hulle was bereid om hom R2000 per maand te betaal, maar hy moes vir sy eie vervoer, brandstof, en verblyf sorg.  Die Bybel is nie tevrede hiermee nie, “want die arbeider is sy loon werd.” (Lk.10:7).  Gaius was ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens sendelinge en ander Christelike werkers behoort te ondersteun.

 

As geestelike leier en ou man, het Johannes van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 2 Jh.1, 1 Pt.5:1). Hy het sy brief aan Gaius gerig (v.1).  Soos wat John ‘n algemene naam is in die Engelssprekende wêreld, was Gaius algemeen in Johannes se leefwêreld.  Die Gaius van ons teks het onder Johannes se bediening tot bekering gekom (v.3-4, vgl. 1 Kor.4:14-15) en moenie verwar word met die Gaius wat onder Paulus tot bekering gekom het, en deur hom gedoop is nie (1 Kor.1:14).  Daar is meer as een Gaius in die Nuwe Testament.

 

Johannes en Gaius het dieselfde waarheid liefgehad, en daarom het Johannes ook vir Gaius self liefgehad (v.1-2, 5, 11, 2 Jh.1-2, 1 Jh.3:18). Johannes het by die broers gehoor dat Gaius sy lewe volgens die waarheid ingerig het, en dat dit geestelik met hom goed gegaan het (v.2-3).  Sy bede was dat Gaius se liggaam so gesond sou wees soos sy siel, en dat hy in elke opsig voorspoedig sou wees (v.2, 1 Ts.5:23-24).  Niks kon vir Johannes groter vreugde gebring het as om te hoor dat sy geestelike kinders volgens die waarheid lewe nie (v.4).  Hy het vir Gaius geprys omdat sy geloof prakties was en hy vreemde sendelinge in sy huis verwelkom het (v.5, Hb.13:2, Rm.12:13, 1 Pt.4:9).

 

Die sendelinge het na hulle tuisgemeente toe teruggekeer en vir die gelowiges van Gaius se liefde vertel (v.6). Hulle het intussen na Gaius toe teruggekeer om Johannes se brief vir hom te vat.  Johannes het gevra dat hy die goeie werk moes volhou en die sendelinge op hulle reis moes voorthelp (v.6).  Hy moes meer as net ‘n halwe bruinbrood en ‘n homp kaas vir hulle gegee het; hy moes hulle gehelp het asof dit Jesus was wat by sy huis oornag het (v.6, Mt.10:40, 25:35, 40).  Hy moes hulle reiskoste betaal het, en genoeg geld in hulle sakke gesit het vir padkos.

 

Die sendelinge het nie vir hulleself rondgereis nie, maar om die Here se Naam in die wêreld te verkondig (v.7). Hulle het nie soos Katolieke monnike uit die dertiende eeu, aan ongelowiges se deure geklop en gevra vir geld nie (v.7).[2]  Omdat hulle dan geen ander bron van inkomste gehad het nie, was dit die kerk se plig en nie die wêreld s’n nie, om hulle te ondersteun (v.7-8).  Dié wat dít gedoen het sou mede-werkers en vennote van die waarheid gewees het; deur hulle geldelike bydrae het hulle gehelp om die evangelie te versprei (v.8, kontr. 2 Jh.11).

 

Sendelinge en ander Christelike werkers moenie geldgierig wees nie (v.7, 1 Tm.3:3, 6:9-10), maar moet ook nie op die veld wonder of die basis vir hulle geld en kos gaan stuur nie. Volgens v.8 het ons ‘n verantwoordelikheid om vir hulle te sorg.

 

In 2007 het SASOL my broer en sy vrou vir twee maande Amerika toe gestuur vir opleiding en alles betaal: vliegtuig kaartjies, verblyf, etes, lesings, boeke, internet en meer.  Maar as die kerk haar beste soldate (sendelinge) op die veld uitstuur, verwag ons hulle moet vir geld bedel, self hulle reiskoste dek, en tevrede wees met tweedehandse klere en uitgedrukte teesakkies.  Om hulle só te ondersteun is nie waardig van die Here nie, en dra nie sy goedkeuring weg nie (v.6).

 

Dit is hartseer as die wêreld beter vir haar mense sorg as wat die kerk dit doen. Ons sê te maklik:  ‘Daar is nie geld nie.’  Waar is ons geloof?  Behoort Amerika se dollars en Engeland se ponde nie aan die Here nie?  “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag.2:8).  Die wêreld en alles daarin behoort mos aan die Here (Ps.24:1, 50:10-12).  Dit is nie reg om van die basis af vir die soldate te radio:  ‘Vertrou die Here – Hy sal vir julle voorsien!’ nie.  Hoekom vertrou die basis nie die Here om vars voorraad te voorsien, sodat ons dit vir die sendelinge op die veld kan stuur nie (Fil.4:14-19)?

 

Onthou asseblief dat sendelinge nie toeriste is wat met ‘n lang oorsese vakansie is nie. Hulle is soldate wat die Here se Naam en Koninkryk onder die heidene moet bevorder (v.7).  Hulle is Christene wat die luuksheid van hulle eie land prysgegee het om die evangelie in Suid-Soedan of Peru te verkondig.  Dit is die kerk se plig om ‘n militêre basis te wees wat vir die soldate kos, water, ammunisie, wapens, en troepe sal stuur.  Op hierdie manier is ons mede-werkers van die waarheid (v.8).

 

As die sendelinge gewond is en na die basis toe terugkeer, moet ons dit vir hulle so gerieflik as moontlik maak. Ons moet hulle in ons huise verwelkom, sorg dat hulle vervoer het, hulle vir ete nooi, saam met hulle die Bybel lees en bid, en meer (v.5-6).  As ons nié die Here se soldate ondersteun nie, is ons botweg ongehoorsaam.  Iemand het gesê:  ‘Jy kan ‘n sendeling wees, jy kan ‘n sendeling uitstuur en ondersteun, of jy kan ongehoorsaam wees.’

 

Diotrefes (v.9-10)

Ek weet van ‘n kerk waar een man die kitaar slaan. Almal in die kerk is bang vir hom.  Hy het sy aanhangers en draai die gemeente om sy pinkie.  Hy is veglustig en emosioneel so onstabiel soos die See van Galilea.  Niemand in die gemeente weet wat in die kerk se bankrekening aangaan nie, want in sy gedagtes behoort die geld en geboue aan hom.  Hy is die moderne eweknie van Diotrefes.  Die Here wou gehad het dat die kerk ‘n militêre basis vir sy soldate moes wees (v.5-8), maar Diotrefes het ingesluip en die basis gekaap (v.9-10).

 

Johannes het gesê dat hy iets vir die kerk geskryf het, maar dat Diotrefes dit nie aanvaar het nie (v.9). Hy het waarskynlik die brief van die gemeente af weerhou en dit opgeskeur (v.9).  Hy was hoogmoedig, arrogant en vir homself die belangrikste (v.9, kontr. 1 Kor.13:5, Mt.20:25-28).  Hy het geweier om Johannes se apostoliese gesag te aanvaar (v.9).  Daardeur het hy gewys dat hy nie ‘n ware gelowige is nie (1 Jh.4:6).

 

Johannes het gesê dat hy by sy volgende besoek Diotrefes se sonde aan die lig sou bring (v.10). Diotrefes het bose leuens oor hom en sy spanmaats versprei (v.10).  Hy wou nie gehad het dat die gemeente Johannes se leierskap bo sy eie moes erken nie, en daarom het hy geweier om enigiemand wat van Johannes af gekom het in die gemeente te verwelkom (v.10).  Sy obsessie met homself het gemaak dat hy mense manupileer.  As iemand vir Johannes wou luister om die sendelinge te verwelkom (v.5-8), het hy hulle uit die gemeente verwyder (v.10, Jh.9:34).

 

Ek het eenkeer van ‘n man gehoor wat glo sendelinge gaan nie hemel toe nie. Moet jou nie te veel steur aan wat mense, soos Diotrefes, oor sendelinge te sê het nie (v.9-10). God sê ons moet hulle ondersteun en verwelkom (v.5-8).  Vir my is dit rede genoeg om gehoorsaam te wees.

 

Ek glo nie iemand in ons gemeente is soos Diotrefes wat teen die sendelinge was nie. Dit is egter moontlik dat ons ons skouers kan optrek en apaties staan.  Ons stel nie belang in wat op die veld gebeur nie.  Ons jaag hulle nie weg nie, maar nooi hulle ook nie uit om ons te besoek nie.  Ons gee nie om of hulle genoeg geld het nie, en bid nie getrou vir hulle nie.  As hulle vir ons ‘n nuusbrief stuur, lees ons dit nie.  Ek moet bely dat my eie hart in baie opsigte koud is, en dat ek self skuldig staan.  Ons moenie wag dat die Here vir ons ‘n hart gee vir sending nie.  Begin eenvoudig om te gee en jou hart sal volg, “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mt.6:21).

 

Demetrius (v.11-12)

Mense is soos skape: as een iets doen is daar ander wat volg.  Jy het seker al gesien hoe skoolkinders deur fases gaan:  eers koop almal gekleurde rekkies, dan versamel hulle sticky’s, en daarna koop hulle albasters.  En so gaan dit.  Omdat dit so is, moet ons seker maak dat ons nie deur slegte mense beïnvloed word nie, maar dat ons die voorbeeld van goeie mense navolg (v.11).  Hierdie reël geld veral wanneer dit by die ondersteuning van sendelinge kom.

 

Ek het gehoor van ‘n Britste teoloog wat nie matte in sy huis gesit het nie, omdat hy die geld wou gebruik om sendelinge te ondersteun. Spurgeon het sy studente aangespoor om siele vir die Here te wen, en het geld uit die verkope van sy preke in Amerika gebruik om die werk te befonds.[3]  Sulke stories behoort ons aan te spoor om vir sending te gee.  Alhoewel ons teks nie sê wat Demetrius se goeie voorbeeld was nie, lyk dit uit die konteks of hy (anders as Diotrefes) ‘n regte ingesteldheid gehad het teenoor sendelinge.

 

Gaius moes nie toelaat dat Diotrefes se slegte voorbeeld hom beïnvloed nie, en moes eerder Demetrius se goeie voorbeeld nagevolg het (v.11, Ps.37:27, 1 Kor.4:16, 11:1, Fil.3:17). Mense wat soos Demetrius goed gedoen het, was van God af (v.11, 1 Jh.2:29).  Hierdie goedheid het nie uit hulle eie harte gekom nie (Rm.3:12, 7:18, Mt.19:17), maar was van God af (Ps.119:68).  Dié wat soos Diotrefes kwaad gedoen het, het nie die oë van geloof gehad om God te sien nie, en was ongered (v.11, 1 Jh.3:6).

 

Demetrius het waarskynlik hierdie brief vir Gaius afgelewer. Hy was betroubaar, en daarom kon Gaius gerus sy goeie voorbeeld nagevolg het (v.11).  Almal wat hom geken het, het van sy goeie karakter getuig (v.12, 1 Tm.3:7, Hd.16:2).  Omdat sy lewe met die Bybel ooreengestem het, het die waarheid sy betroubare karakter onderstreep (v.12).  Gaius kon met ‘n geruste hart Johannes se getuienis aangaande Demetrius geglo het (v.12, Jh.21:24).  Soos wat die Ou Testament vereis het, was daar drie getuies om Demetrius se goeie karakter te bevestig (v.12).

 

Volg die goeie voorbeeld van mense wat sendelinge ondersteun. Dink daaraan dat hierdie mense ‘n skat in die hemel het, terwyl dié wat alles in hulle sakke steek niks met hulle sal saamneem wanneer hulle doodgaan nie (Lk.12:33, Ps.49:17-18).  John D. Rockefeller was een van die rykste mense op aarde.  Toe hy dood is het iemand vir sy boekhouer gevra:  ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’  Die klassieke antwoord was:  ‘Alles!’[4]  Toe wyle dr. Martin Holdt hemel toe is, was daar R50 in sy bankrekening.

 

Hoe bly sal jy nie op die oordeelsdag wees as daar honderde mense voor die Here staan, en Hy vir jou sê: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!  Deur jou gereelde bydrae het hierdie mense die evangelie gehoor en tot bekering gekom’?  Mense wat in oorvloed vir die Here se werk gee, is buitendien gelukkiger as iemand wat ‘n graansilo vol geld het:  “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Hd.20:35).  God is die vrygewigste Persoon in die heelal (Jh.3:16, Ps.145:16).  Ons moet sy voorbeeld volg.

 

Die vriende (v.13-15)

Gedurende my eerste jaar van studies het die studente een aand vir ‘n predikant gaan kuier. Hy was moedeloos en wou die handdoek ingooi.  Ons besoek het hom bemoedig, sodat hy nie opgegee het nie.  Die Here weet wat ons nodig het.  Soms gebruik hy ‘n sms of ‘n woord van waardering, sodat jy moed skep en aanhou.  Om iemand soos Diotrefes in die gemeente te hê moes moeilik gewees het.  Ek is seker dat Johannes se brief vir Gaius gehelp het om moed te skep, en dat dit vir hom perspektief gegee het.

 

Johannes wou nóg geskryf het, maar sou eerder vir Gaius wou sien as om met pen en ink te skryf (v.13-14).  Om van aangesig tot aangesig te praat is baie lekkerder as om iemand se woorde in ‘n brief te lees (2 Jh.12).  Alhoewel ‘n brief nie die beste is nie, was dit vir Gaius so goed soos vars lug in sy longe.  Johannes het vir sy vriend vrede toegebid (v.15, Jh.14:27, 20:19).  Met Diotrefes in die gemeente het hy dit nodig gehad.  Omdat hy ‘n vyand gehad het, sou die nuus van sy vriende se groete vir hom gewees het soos yskoue water op ‘n bloedige dag in die Kalahari (v.15).  ‘Die vriende’ verwys natuurlik na mede-gelowiges (Jh.15:13-15).  Gaius moes ook die vriende in sý gemeente by die naam groet (v.15).  Johannes het nie net in die groep belanggestel nie, maar in elkeen persoonlik.

 

Natuurlik moet ons nie van die sendelinge vergeet nie, maar ons moenie so op die buiteland fokus dat ons die mense wat by die basis werk, afskeep nie. As jy die basis afskeep sal die soldate wat in die veld is ook daaronder gebuk gaan.

 

Dit moenie een persoon se taak wees om met die sendelinge kontak te hou nie. Verklaar jouself bereidwillig om te help, sodat ander kan rus en hulle batterye kan herlaai.  Ons moet vir mekaar bid dat ons nie verslap nie (v.15, 2).  Ons moet saamkom, sodat ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade (v.14, Hb.10:24-25).  Ons moet mekaar aan 1 Kor.15:58 herinner:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Party koshuis kinders se huislike omstandighede is so sleg, dat hulle nie huistoe wil gaan nie.  Die koshuis lewe is moeilik, maar om by die huis te wees is erger.  Dit moenie so wees vir sendelinge nie.  Die sendingveld is moeilik genoeg.  As hulle na die basis toe terugkeer, moet dit vir hulle lekker wees.  As hulle ‘n paar maande later na die sendingveld toe terugkeer, moet hulle weggaan met die volle wete dat ons hulle finansieel en in gebed sal ondersteun.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.108

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: part 2, pp.317-325

[3] Ibid, p.99

[4] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.17-18

Hoe wyd moet die kerk haar deure oopmaak?

Open church doors

Toe liberalisme in Amerika begin versprei het, het die fundamentaliste gereageer en gesê dat slegs dié wat aan die basiese waarhede van die Christelike geloof vashou, gered is. Die basiese waarhede het dinge ingesluit soos Jesus se soendood, sy liggaamlike opstanding en die inspirasie van die Bybel.  Mettertyd het die lys langer geword.  Skielik was ‘n sekere siening oor die eindtyd ook ‘n fundamentele waarheid.  ‘As jy nie presies soos ons glo nie, is jy nie gered nie,’ het hulle gesê.

 

Dit laat my dink aan ‘n kerk wat ‘n paar jaar gelede hulle dienste in Kempton Park se plaaslike koerant geadverteer het. Bo-aan die advertensie het daar gestaan:  ‘Sabbatarians and Calvinists welcome!’  Maar volgens 2 Johannes moet die kerk se deure wyd genoeg oop wees om alle gelowiges in te laat, terwyl die kosyne smal genoeg moet wees om die vals leraars uit te hou.

 

Die fondasie van gemeenskap (v.1-3)

Met die opening van hulle nuwe kerkgebou het Charles Spurgeon die volgende woorde gesê: ‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’[1]

 

Ek glo ek kan met eerlikheid saam met Spurgeon sê dat ek meer lojaal is aan Jesus en die evangelie as aan die Baptiste. Ek het in Desember by ‘n EG-Kerk predikant gaan kuier en gevoel dat hy soveel my broer is soos enige Baptiste leraar.  In 2012 het ek die Church of England in Ballito besoek en geweet dat ek tussen ware gelowiges is.  Ek ken ‘n lieflike AGS broer, en het in 2014 by hulle gemeente gepreek.

 

As die Baptiste ooit van die waarheid af wegdwaal, sal ek nie twee keer dink om by ‘n ander groep aan te sluit nie. Maar solank as wat die Here my help, sal ek nooit my rug draai op die evangelie nie.  Ons eenheid met ander Christene lê nie in ons siening van die doop of die eindtyd nie, maar in Jesus en die evangelie.  Volgens Johannes is dít die fondasie van ons gemeenskap (v.1-3).

 

Die brief stem op baie plekke ooreen met 1 en 3 Johannes, asook met die Johannes-Evangelie. Dit is dan duidelik dat die apostel Johannes die outeur is.  Weens sy ouderdom en leiersposisie, het hy van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 3 Jh.1, 1 Pt.5:1).  Hy het sy brief aan die uitverkore vrou en haar kinders geskryf (v.1).  Dit mag wees dat Johannes ‘n spesifieke vrou en haar kinders in gedagte gehad het.  Maar dit is ook moontlik dat ‘die vrou en haar kinders’ ‘n gemeente en haar lidmate is (v.1, 13, 3 Jh.4, Ef.5:31-32, 2 Kor.11:2).

 

Johannes het van haar gepraat as ‘die uitverkore vrou’ (v.1). In v.13 het hy van haar ‘uitverkore suster’ gepraat.  Die Nuwe Testament praat van Christene as God se uitverkorenes (Mt.24:31, Rm.8:33, 2 Tm.2:10, Tit.1:1, 1 Pt.1:2).  Nog voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons uitverkies om gered te word (Jh.15:16, Rm.8:29, 9:11, Ef.1:4, 2 Ts.2:13).  Johannes het nie net gesê dat die uitverkorenes mekaar moes liefhê nie (v.5-6), maar hy self het hulle opreg liefgehad in die waarheid (v.1).  Almal wat God se waarheid geken het, het ook die uitverkorenes liefgehad (v.1).

 

God se waarheid dan is die fondasie van ons gemeenskap, eenheid en liefde (v.1-2). Die waarheid wat in ons is, trek ons na mekaar toe soos wat ‘n magneet yster aantrek (v.2).  Ons is een met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.  Almal wat in sy waarheid en liefde bly, ontvang ook sy genade, barmhartigheid en vrede (v.3).

 

Assosieer met dié wat aan die waarheid vashou. As jy dit nié doen nie, sal jy jouself in die probleme vasloop waarvan Johannes in v.7-11 praat.  Moet egter nie jou definisie van die waarheid te nou maak nie.  Mense kan oor die doop verskil en nogsteeds Christene wees.  Die Engelse gesegde sê:  ‘In essentials unity, in non-essentials liberty, in all things charity.’  Ek sê nie jy moet ruggraatloos wees, sodat jy jou Gereformeerde identiteit of oortuiging oor die geestelike gawes prysgee nie.  ‘Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.’ (Rm.14:5).  Maar ons kan een van hart en sin wees, sonder dat ons aan dieselfde denominasie behoort.  ‘Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!’ (Ps.133:1).

 

John Newton het gesê: ‘Provided that a man loves God and hates sin, I will have fellowship with him any day.’  George Whitefield het gesê:  ‘I love all that love the Lord Jesus Christ.’[2]  Om so te wees en ander lief te hê, moet jy eers in ‘n nouer gemeenskap met die Here wandel.  Die gemeenskap wat ons met ander gelowiges het, vloei immers uit ons gemeenskap met die Vader en die Seun (1 Jh.1:3).  Dit is wat dit beteken om mekaar in die waarheid liefhê, die fondasie van gemeenskap (v.1).

 

Die karakter van gemeenskap (v.4-6)

Mense wat Bybellering by die deur wil uitgooi en bang is om op ander se tone te trap, roep uit: ‘Doctrine divides!’  Die Emerging Church wil hê dat ons almal moet insluit.  In hulle gedagtes moet Christene en Moslems saam Ramadan vier en die nagmaal gebruik.  ‘n Kollega van my was lidmaat by ‘n kerk wat die woord ‘grace’ in hulle naam gehad het.  Hulle het hom sleg behandel, sodat hy gesê het:  ‘Grace Church isn’t very gracious.’  Liefde sonder die waarheid is sentimenteel, en die waarheid sonder liefde is koud en hard (Op.2:2, 4).  Volgens Johannes moet die waarheid en liefde mekaar uitbalanseer (v.4-6, Ef.4:15).

 

Sommige van die lidmate het die waarheid van die evangelie verloën en die gemeente verlaat (v.7, 1 Jh.2:19). Ander het daaraan vasgehou en hulle lewens daarvolgens ingerig (v.4).  Dit is oor húlle wat Johannes hom verbly het, omdat hulle die Vader se gebod gehoorsaam het (v.4).  “En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het.” (1 Jh.3:23).

 

Omdat mense soms met ‘n kritiese gesindheid aan die waarheid vashou, het Johannes hulle aan die liefdesgebod herinner (v.5, Jh.13:34-35, Lv.19:18). Wat is hierdie liefde?  Dit is nie ‘n warm gevoel in jou bors nie.  Ware liefde gehoorsaam God se gebooie en verbly hom in die waarheid (v.6, Jh.14:15, 1 Kor.13:6).  Ware liefde het respek vir gesag en vir ander mense se lewens, reinheid, eiendom, reputasie, en voorspoed (v.6, Rm.13:9).

 

Vind die balans tussen die waarheid en liefde. Watter een van die twee skeep jy af?  As dit die waarheid is, moet jy meer tyd aan die Bybel bestee.  Lees dit, bestudeer dit, luister daarna, en doen dit alles biddend.  Werk deur Wayne Grudem se Systematic Theology of Thomas Watson se Body of Divinity.  Stoor God se waarheid in die skure van jou hart, sodat dit vir jou die belangrikste word.  ‘Peace if possible.  Truth at any cost.’

 

As jy kortkom in liefde, moet jy diep nadink oor Jesus se liefde aan die kruis. Bestudeer sy lewe, volg in sy voetspore, doen praktiese dade van liefde (1 Jh.2:6, 3:16-18).  Bou jou liefde op die waarheid, en laat die waarheid jou dring om ander lief te hê.  As jy so lewe dan sal Jesus aantreklik wees vir die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Die perke van gemeenskap (v.7-11)

‘n Paar jaar gelede het twee mans my kom sien met die idee om op Sondae middae ons kerkgebou te huur. Ons wil nie graag met vals leraars geassosieer word nie, en daarom het ek gevra wat hulle glo.  Hulle het die Drie-Eenheid verwerp, en geglo in redding deur goeie werke.  Ek het hulle afgewys.

 

Verlede jaar het dit weer gebeur. ‘n Groep van drie mense het my kom sien en gevra dat hulle ons gebou wil huur.  Ek het hulle geloofsbelydenis ondersoek en gesien dat Jesus vir hulle niks meer is nie as ‘n genie om hulle ryk te maak.  Weereens het ek hulle afgewys.

 

Volgens Johannes moet gelowiges nie met hierdie mense assosieer nie. Dit is jammer dat daar goeie Christene is wat Johannes se woorde ignoreer.  Wanneer Christene soos Billy Graham, John Stott, David Jeremiah en J.I. Packer met die Katolieke, liberales, en prosperity predikers saamwerk, dan wonder jong gelowiges of v.7-11 regtig so belangrik is.

 

Om te verhoed dat die antichristelike verleiers die gelowiges sou uitvang (v.7), moes hulle in God se waarheid en liefde gewandel het (v.4-6). Hulle kon die verleiers van ‘n myl af aan hulle defektiewe Christologie uitken:  hulle het nie geglo dat Jesus die Messias is, of dat Hy die vleesgeworde Woord van God is nie (v.7, 1 Jh.2:22, 4:2-3, Jh.1:1, 14).  In hulle gedagtes het hulle verby Jesus en die apostels se ‘oppervlakkige’ evangelie gevorder na ‘n dieper kennis van God toe (v.9).  Johannes het tong-in-die-kies gesê dat hulle ook verby God gevorder het, want wie die Seun verloën het ook nie die Vader nie, terwyl iemand wat aan hierdie lering vashou, beide die Vader en die Seun het (v.9, 1 Jh.2:23, Gal.1:8-9).

 

Die gelowiges moes op hulle hoede wees (v.8). Johannes het sy beste gedoen om hulle reg te leer.  Hulle kon nie toelaat dat die waarheid soos ‘n vis uit hulle hande ontsnap nie, maar moes styf daaraan vashou sodat hulle ‘n volle beloning kon kry (v.8).  Hulle kon nie hulle redding verloor het nie, maar as hulle die rondreisende vals leraars in hulle huiskerke verwelkom het (v.10, Filem.2), sou hulle God se volle beloning soos ‘n kontaklens verloor het (v.8, 1 Kor.3:12-15, Hb.10:35, Op.3:11, Mt.10:41-42, 25:40).

 

Daarom het Johannes gesê dat hulle nie hierdie mense moes groet, asof hulle medegelowiges was wat maar net ‘n bietjie anders geglo het nie (v.9-10, 1 Kor.16:19-21). Om hierdie Judasse in die gemeente te verwelkom, was om vir hulle ‘n platvorm te gee om die gif van hulle valsheid te versprei (v.11).  En as die gemeente dít gedoen het, het hulle indirek in die bedrieërs se boosheid gedeel – die deler is so goed soos die steler (v.11).

 

Pasop vir dié wat bely dat hulle die Here ken, maar wat die waarheid van Jesus en die evangelie verdraai (v.7-11). As hulle by die Bybel byvoeg of daaruit wegneem, moet jy hulle nie in jou huis of in die gemeente verwelkom nie (v.9-10).  As hulle ontken dat Jesus volkome God en volkome mens is, of sê dat Hy nie die straf vir ons sondes aan die kruis gedra het nie, of sê dat Hy nie liggaamlik uit die dood uit opgestaan het nie, of sê dat ons nie deur geloof alleen gered word nie, is hulle ongered.  Maak gerus saam met hulle ‘n geblokte pyp reg, maar moenie saam met hulle bid, evangelisasie doen, of ‘n erediens hou nie.  Moet hulle nie finansieel ondersteun nie, want anders help jy om hulle valsheid te versprei (v.11).

 

Johannes wil nie hê ons moet hom verkeerd verstaan nie. Hy praat nie van ongelowiges in die algemeen nie, maar verwys spesifiek na vals leraars.  Ons huise en kerke moet vir hulle gesluit wees.  Ons moenie die Jehova’s Getuies innooi, en maak asof hulle broers is wat op een of twee punte van ons verskil nie.  Ons moet ook nie die vals leraars in ons huise verwelkom deur die boeke, tydskrifte, en blog inskrywings wat ons lees, die preke wat ons op die radio en internet luister, of die Christelike DVD’s en TV programme waarna ons kyk nie.

 

As jy nie weet hoe om vir mense ‘nee’ te sê nie, of as jy altyd ‘nice’ wil wees sodat mense van jou kan hou, is jy in die moeilikheid. Jy gaan móét leer om die vals leraar aan sy kraag te vat en vir hom te sê:  ‘Jy is nie welkom nie – vat jou goed en maak dat jy hier wegkom!’

 

Die vreugde van gemeenskap (v.12-13)

Enige verliefde paartjie weet dat dit baie lekkerder is om mekaar te sien, as om e-posse te tik of te bel. Om iemand se gesig op jou rekenaar se skerm te sien is beter, maar nie eers Skype is dieselfde as om by iemand te wees nie.  Johannes het dit geweet, en daarom het hy in v.12 gesê dat hy die gelowiges wil sien.

 

Johannes kon nog baie gesê het, maar dit sou beter gewees het om ‘n gawe stem te hoor en ‘n vriendelike gesig te sien, as om met ‘n houtkool-, water-, en boomgom mengsel op papirus te skryf (v.12). Om vir hulle te skryf het hom bly gemaak.  Maar om hulle te sien en te hoor sou sy blydskap volkome gemaak het (v.12).  Johannes het die brief afgesluit deur ‘n sustergemeente en haar lidmate se groete oor te dra (v.13).  Ons hou nie net gemeenskap met dié wat in ons eie gemeente is nie, maar ook met gelowiges wat in ander dorpe bly (v.13).

 

Party mense het die slegte gewoonte om van die gemeentelike samekomste af weg te bly (Hb.10:25).  Moenie so wees nie.  Ons kerk se blog bestaan om ongelowiges met die evangelie te bereik, lidmate se geheue te verfris as hulle die preek vergeet het, ou mense en siek mense wat nie by die kerk kan uitkom nie te verkwik, en Christene wat in ‘n heidense land werk te bemoedig.  Moet asseblief nie die blog, aanlyn preke, e-kerk, of radio preke as ‘n verskoning gebruik om van die kerk af weg te bly nie.  Die kerk is nie maar net ‘n preeksentrum nie – dit is die liggaam van Christus.

 

Buiten vir die feit dat gemeenskap belangrik is (Hd.2:42), bring dit ook blydskap (v.12). As jy nie ‘n begeerte het vir geestelike gemeenskap nie, maar eerder in die mall of by die see wil wees, moet jy wonder of jy gered is.  ‘Wees asseblief net konsekwent.  As iemand in jou familie sterf moet jy nie vir die kerk vra om hom te begrawe nie.  Gaan na die mall of na die see toe vir jou vertroosting.’[3]

 

Daar is ‘n Engelse idoom wat sê: ‘Birds of ‘n feather flock together.’  Dit beteken dat mense wat dieselfde belangstelling het, mekaar se geselskap geniet.  Alhoewel dit in die wêreld so werk, moet ons dit nie in die kerk toelaat nie.  Ons moet die katte – die vals – leraars vermy.  Maar ons kan nie soos Indiese spreeus wees wat die ander voëls weggejaag nie.  Ons moet die ander voëls wat nie soos ons lyk nie liefhê, en by die drinkbak van die evangelie verwelkom.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.34

[2] Aangehaal in Iain Murray, Heroes, p.48

[3] Vry vertaal en aangepas uit Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years, p.138

Die juweel van die Ou Testament

Rare diamond

Wie is ek? As die Ou Testament ‘n bergreeks is, is ek die hoogste piek.  Ek is die helderste ster in hemel van die Ou Testament, die kosbaarste juweel in haar skatkis.  Geen hoofstuk word meer in die Nuwe Testament aangehaal as ek nie.  Ek is meer as 700 v.C. geskryf, en is baie noukeurig vervul.  Partykeer praat mense van my as ‘die Evangelie in die Ou Testament’.  Maak asseblief jou Bybel oop by Jes.52:13-53:12.

 

Voorskou (52:13-15)

Die Here sou nie net sy volk uit Babilon gered het nie (52:1-12), maar ook uit die slawerny van sonde (52:13-53:12, Mt.1:21). Die Kneg van die Here sou in sy opstanding, hemelvaart, en verheerliking verhef word (52:13, Fil.2:9, Ef.1:20-22).  Maar voordat dit kon gebeur moes Hy sterf (Fil.2:8).  Sy lyding en dood was so erg, dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie (52:14).  Mense het Hom deur die gesig geklap (Jh.18:22), met die vuis geslaan en op Hom gespoeg (Mt.26:67, Mk.14:65, Jh.19:3), Hom gegesel (Mt.27:26), ‘n doringkroon op sy kop gesit en dit in sy skedel ingeslaan met ‘n riet (Mt.27:27-31), stukke van sy baard uitgepluk (Jes.50:6), spykers deur sy hande en voete gedryf (Ps.22:17), sy bene uit lid uit geskud (Ps.22:15, dalk toe hulle die kruis in die gat laat val het?), en ‘n spies in sy sy gesteek (Jh.19:34).

 

Hoe moes Hy nie gelyk het nie? Toe ek op hoërskool was het ek een pouse in die bakamer ingestap en gesien hoe twee seuns mekaar met die vuis bydam.  Die geveg het vir 30 of 40 sekondes aangehou.  Die seun wat verloor het se oog was toegeswel en sy neus het gebloei.  Jes.52:13-15 gee vir ons ‘n idee van hoe Jesus na ‘n halwe dag van marteling gelyk het.  Sy oë was toegeswel, sy lippe gebars, sy neus en tande vol van bloed, sy oogbanke oopgesny, en sy rug soos ‘n geploegde land oopgekloof (Ps.129:3) sodat ‘n mens sy ribbes kon sien (Ps.22:18).  Hy was een bloedmassa.  Is dit enige wonder dat dié wat Hom só gesien het verstom was (52:14, Lk.23:48)?  Maar om die nasies van hulle sonde te reinig móés Hy hulle met sy bloed sprinkel (52:15, Lv.4:6, Hb.10:22, 12:24).  Konings se monde sou oophang oor die wonderlike dinge wat hulle gesien en gehoor het (52:15, 49:7, Rm.15:21).

 

Sien jouself in die Man van smarte. Dink daaraan dat dit jý is wat so vermink moes word.  As jy jouself daar sien hang, sal jy die Here baie meer dank dat Hy jou gered het.  Dink ook daaraan dat almal wat hulle nie bekeer nie, so ‘n verbryselde liggaam sal hê in die hel (66:24, Dn.12:2).  Die liggaamlike pyn en lyding, die naarheid, die kort asem, die kloppende mond-, rug-, en hoofpyn, die pyn in sy gewrigte, die sensitiwiteit van rou wonde, bene wat brand soos vuur, die angs en vernedering wat Jesus aan die kruis deurgemaak het, sal vir ewig hierdie mense se deel wees in die hel.  En dan het ons nog nie eers gepraat van die geestelike lyding nie:  die ewige spyt, die skuldige gewete, en ‘n ewige bestaan sonder een druppel van God se goedheid, blydskap, genade, vrede en liefde.

 

Toe ek ‘n paar weke gelede in Bronkhorstspruit gepreek het, het ‘n oom enigiemand uitgedaag om vir R100 sy vinger ‘n sentimeter bo ‘n kers se vlam te hou vir vyf sekondes. Niemand kon dit regkry nie.  Die oom het gesê:  ‘Nie een van julle kon eers vir vyf sekondes sy vinger bo hierdie vlam hou nie.  Dink daaraan dat daar mense is wat vir ewig in die hel se vuur gaan brand.  Ons moenie nalaat om vir mense van die Here te vertel nie.’

 

Verwerping (53:1-3)

Ruth is in graad 4. Sy is ‘n oulike Christen meisie met ‘n mooi karakter.  Maar in die aande huil sy haarself aan die slaap.  Sy wil nie skool toe gaan nie, want die ander kinders spot haar omdat sy arm is en ou klere dra.  Al wat hulle kan sien is ‘n lelike eendjie.  Hulle beoordeel die boek van haar lewe volgens die buiteblad.  Een aand toe Ruth in die bed gelê het, toe herinner haar ma haar daaraan dat sy soos Jesus is.  ‘Hoe so?’ het sy gevra.  Hier is wat haar ma vir haar gesê het.

 

Die heidene het in die Messias geglo (52:15), maar sy eie volk het Hom verwerp (53:1, Jh.1:9-11, 12:38). Hulle kon nie in ‘n onaantreklike en gekruisigde Messias glo nie.  Hoe op aarde kon só ‘n Messias God se sterk arm gewees het wat die volk moes verlos (53:1, 52:10)?  Totdat God nie hulle oë oopgemaak het nie, kon hulle eenvoudig nie insien dat die Kneg tergelykertyd die Here was én voor Hom opgegroei het nie (53:1-2, Lk.10:21-22, vgl. Mt.22:45).

 

Dawid was baie aantreklik (1 Sm.16:12). Hoe kon sy groter Seun dan so onaantreklik gewees het soos ‘n wortel wat uit die droë grond uit groei (53:2)?  Hy was nie mooi of goed gebou nie; sy voorkoms was lelik en onbegeerlik (53:2).  Soos ‘n wurm het die mense Hom gehaat en verwerp (53:3, Ps.22:7).  As hulle Hom sien aankom het, het hulle met ‘n bak hand die kant van hulle gesigte toegemaak en weggekruip (53:3).  Hulle het Hom verag en wou nie saam met Hom gesien word nie (53:3).  Hy het die pyn daarvan gevoel, sodat Jesaja Hom beskryf het as ‘n Man van smarte (53:3).

 

Moenie skaam wees vir Jes.53:1-3 nie, want “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Mt.10:32-33).  Films, Kinderbybels, en Christelike boeke beeld Hom uit as ‘n aantreklike persoon met ‘n jolige persoonlikheid.  ‘Jesus, man of joy’ is die titel van ‘n boek wat ek gelees het.  Ek vind egter baie meer troos in ‘n Jesus wat my pyn ken en met my swakheid identifiseer (Hb.4:15).

 

Ons moet ook leer om verby die uiterlike te kyk. Vir die wêreld is Jesus maar net ‘n mens soos Moses of Mohammed, maar toe die Here ons oë oopgemaak het, het ons gesien dat Hy die geliefde Seun van God is:  “en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Kor.5:16).  Bid dat God jou geliefdes se oë sal oopmaak, sodat hulle ook kan sien wat jý sien.

 

Versoening (53:4-6)

Kom ek vertel jou die storie (en dit is regtig net ‘n storie) van Jamie Clarke wat 700 jaar gelede in Skotland gelewe het. Daar was nie ‘n man in die hele Britse Eilande wat groter of sterker was as hy nie.  Toe hy 14 was het hy ‘n bul se nek gebreek.  Sy skouers was so breed soos twee wynvate wat teen mekaar staan.  Een nag het die weerlig sy huis se dak getref, sodat dit aan die brand geslaan het.  Toe hy sy kind in sy arms opgetel het, het hy gehoor hoe die dak se balke bo hom kraak.  Hy het homself soos ‘n sambreel oor die kind gehou.  Die swaar brandende balke het op sy rug geval en sy agterlyf beskadig.  Hy het sy kragte ingespan en met die kind in sy arms by die huis uitgekruip.  Die kind het niks makeer nie, maar etlike ure later het Jamie sy laaste asem uitgeblaas.  Soos wat Jamie sy kind teen die brandende balke beskerm het, het Jesus se liefde Hom gedring om tussen ons en sy Vader se toorn te kom staan.  Hy was bereid om te sterf sodat ons kan lewe.  Dit is die punt van 53:4-6.

 

Jesus is verwerp (53:3), omdat Hy ons smart en pyn op Homself geneem het (53:4).  Mense het gedink dat Hy vir sý sonde gestraf en geslaan is (53:4, Dt.21:22-23).  Maar eintlik was dit die gewig van óns sonde wat Hom verbrysel het (53:5).  Dit het Hy gedoen om ons met God te versoen.  Waar daar oorlog was, het Hy vrede gebring (53:5).  Deur sy kruiswonde het Hy ons genees van die sonde wat soos ‘n terminale kanker aan ons siele gevreet het (53:5, 6:10, 19:22, 30:26, Jer.30:17, 1 Pt.2:24).  Sy dood het ook verseker dat ons liggame eendag finaal en volkome genees gaan word (53:5, Mt.8:16-17).  Die kruis waarborg egter nie dat ons altyd gesond sal wees, of dat die nagmaal ‘n hemelse antibiotika is wat jou van siekte genees nie.

 

Soos hardkoppige skape het ons almal van die Herder af weggedwaal (53:6, Rm.3:12, 23). Omdat ons nie bye of swaeltjies is nie maar skape, het ons nie geweet hoe om weer by die kraal uit te kom nie.  Soos wat Aäron die volk se sonde simbolies op die bok se kop gelê het, het die Vader ons sonde op die Messias gelê, sodat Hy ons na die Herder toe kon terugbring (53:6, Lv.16:21-22, 1 Pt.2:25).

 

Maak seker jy staan met albei voete op die rots van Jesus se plaasvervangende soendood. Vandag is daar mense wat dit ontken en bevraagteken.  Hulle ontken die hel en dink dat hulle nie God se toorn verdien nie.  Daarom haat hulle die idee van ‘n Jesus wat namens ons God se toorn op Homself geneem het.  Hulle verag die kruis en is vyande daarvan (Fil.3:18).  Ek het op ‘n DVD gehoor hoe een van hulle sê:  ‘If the Father punished Jesus for our sins, that is cosmic child abuse… We should hate a Father like that.’ (John Dominic Crossan).

 

C.H. Dodd was ‘n teoloog in die vorige eeu. Hy het hierdie idee soveel gehaat, dat hy met opset Rm.3:25 anders vertaal het.  Volgens hom het Jesus nie ‘n plaasvervangende soendood gesterf nie (Eng. propitiation), maar eenvoudig ons sonde verwyder (Eng. expiation).  Volgens liberale teoloë het Jesus eenvoudig aan die kruis gesterf as ‘n voorbeeld van wat dit beteken om op te offer.  Die meeste mense glo dat Jesus ook Judas en Kain se straf op Homself geneem het.  Maar hulle kan nie verduidelik hoekom Judas en Kain vir hulle eie sonde in die hel moet boet nie.

 

Jesus se plaasvervangende soendood beteken dat Hy die Lam van God is wat sy skape se straf op Homself geneem het aan die kruis (v.6-7, Jh.1:29, 10:11). Omdat Hy sy Vader se toorn bedaar het, is daar geen veroordeling meer vir dié wat in Hom skuil nie (Rm.8:1).

 

Verdrukking (53:7-9)

Jare gelede het ek in Creation gelees van ‘n onskuldige vrou wat in die tronk beland het.  Sy en haar man het êrens in Australië gaan kamp, toe ‘n dingo (‘n Australiese wildehond) in hulle tent ingekom het en hulle baba weggedra het.  Die dingo het die baba doodgebyt.  Toe die dokters op die toneel verskyn het, het hulle die kind se wonde oopgesny.  Met die nadoodse ondersoek het hulle die snywonde gesien, en gesê dat die ma haar kind doodgesteek het.  Nadat die vrou vir ‘n redelike tyd in die tronk was, het hulle hulle fout agtergekom en haar vrygelaat.  So was dit met Jesus:  Hy het niks verkeerd gedoen nie, en tog het hulle Hom gekruisig.

 

Toe die Jode Hom valslik beskuldig het, was Hy so stil soos ‘n lam wat na die slagpale toe gelei word, en soos ‘n skaap wat geskeer word (53:7-8, 1 Pt.2:23, Mt.26:63, 27:12-14, Lk.23:9). Sy tydgenote het nie daaraan gedink dat Hy vir húlle sonde gestraf word nie (53:8).  Hy het soos ‘n misdadiger gesterf, en daarom wou hulle Hom saam met die moordenaars begrawe het (53:9, Jh.19:31).  Maar omdat Hy sondeloos en onskuldig was (53:9, 1 Pt.2:22), het Hy die eerbare begrafnis van ‘n ryk man gehad (53:9, Mt.27:57-60).

 

Sien God se liefde in Jesus se stilte. As Jesus sy mond oopgemaak het om Homself te verdedig, dan was ons almal nou in die hel.  Hy het stilgebly omdat Hy ons sonde en skuld op Homself geneem het.  Alhoewel C.J. Mahaney dit in ‘n ander konteks gesê het, is sy stelling ook hier van toepassing:  ‘For God so loved the world that He was silent.’  Weet egter dat Hy op die oordeelsdag nie sal stil wees nie.  As jy in Hom glo het Hy reeds jou verdiende straf op Homself geneem.  Jy hoef nie die oordeelsdag te vrees nie – Hy sal jou verdedig.  Maar as jy Hom verwerp, sal op die oordeelsdag stil wees.  Jy het geweet wat reg is – hoekom het jy dit nie gedoen nie?  Jy sal niks hê om vir jouself te sê nie; jy sal nie ‘n voet hê om op te staan nie (Rm.1:19-21, 2:14-15, 3:19).

 

Voorspoed (53:10-12)

Wie was primêr verantwoordelik vir Jesus se dood? Was dit Judas, Pilatus, die duiwel, die soldate, die Jode, of ons?  Almal van ons het ‘n vinger in die pasty, maar uiteindelik was dit die Vader wat Hom vir ons sonde verbrysel het (v.10).

 

Verlede jaar het ‘n vriend en kollega vir my gevra of ek sou saamstem dat die Vader sy Seun vermoor het. Maar om dood te maak en te vermoor is nie noodwendig dieselfde ding nie.  Saddam Hussein het mense vermoor.  Die regering wat hom tereggestel het, het hom doodgemaak sonder dat hulle hom vermoor het.  Net so het die Vader om ons ontwil sy Seun tereggestel sonder dat Hy Hom vermoor het.  Jes.53:10-12 verduidelik vir ons wat gebeur het.

 

Dit was die Vader se soewereine wil om sy Seun aan die kruis te verbrysel (53:10, Hd.2:23, 4:27-28, Mt.26:39). Dit was ook die Seun se wil om Homself só te gee (Jh.10:18).  Hiervoor het die Vader Hom uit die dood uit opgewek, vir Hom ‘n groot nageslag gegee, en Hom vir ewig laat lewe (53:10, Jh.6:37, Hb.2:13, Op.7:9, Hb.1:12, Rm.6:9).  Dié wat as skape afgedwaal het (53:6), het nou as kinders teruggekeer (53:10).

 

Die Messias het sy Vader se wil voorspoedig uitgevoer (53:10). Die storm van sy Vader se toorn het uitgewoed (53:11).  Getsemane en Golgota se angstige winter het in lente verander (53:11, Mt.26:38, 27:46).  Die Regverdige Kneg het sy Vader se wil geken:  Hy het ons sonde op Homself geneem en sy geregtigheid aan ons toegereken (53:11, 2 Kor.5:21, Rm.5:18-19).  Die Regverdige Kneg (53:11) het soos ‘n misdadiger gesterf (53:12, Lk.22:37, 23:33).  Hy het vir die ootreders gebid, en sal vir ewig aanhou om dit te doen (53:12, Lk.23:34, Hb.7:25).  As beloning kon Hy sy vyande se sakke leegmaak en die uitverkorenes as buit neem (53:12, Kol.2:15, Mt.12:29, Jh.6:39).

 

Wees soos Jesus wat die skande van die kruis verduur het, omdat Hy geweet het wat kom (Hb.12:2). As jy dit nie doen nie sal jy nogsteeds hemel toe gaan, maar die lyding wat jy op die aarde moet deurmaak sal onnodiglik swaar wees.  In jou oë sal die donker wolk nooit ‘n silwer randjie hê nie.

 

‘n Atleet wat die goue medalje in sy kop sien, druk deur as sy longe brand en sy spiere seer raak. Op dieselfde manier moet jy dink aan die beloning wat kom (Fil.3:14).  Jesus en sy bruid is binne gemeenskap van goedere getroud, sodat alles wat syne is joune word.  Volgens Rm.8:17 is ons erfgename van God en mede erfgename van Christus.  “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Gal.3:29).  Omdat Jesus dan die erfgenaam van alle dinge is (Hb.1:2), kan jy met sekerheid weet dat die heelal en alles daarin joune is, net soveel as wat die geld in jou sak aan jou behoort (1 Kor.3:21-23).  Jy is soos ‘n kind wat ‘n koninkryk geërf het, maar te jonk is om dit te bestuur.  Jesus bestuur dit namens jou.  As jy in die hemel is sal jy saam met Hom regeer (Op.5:10).

 

Toe ek studeer het was daar ten minste twee van my dosente wat ontken het dat die Ou Testament van Jesus praat. Ek is seker jy het gesien dat Jesus soos ‘n kosbare juweel in Jes.53 skyn.

Die voortreflikheid van Christus

Supremacy of Christ

Daar is nie ‘n boom op aarde soos die Sequoia Nasionale Park se General Sherman nie. Die ou generaal is ‘n Giant Sequoia boom waarvan die stam se deursnee 11 meter, en die omtrek 31 meter is.  Dit boom staan byna 84 meter hoog en weeg ‘n beraamde 1.5 miljoen kilogram.  Dit is die voortreflikste van alle bome op aarde.  En tog is dit ‘n dwergie as jy dit met die grootte van die omliggende landskap vergelyk, wat nog te praat van die planeet, ons sonnestelsel, of die heelal.  Jesus daarenteen is voortreflik op elke manier.  Niemand kan eers naastenby met Hom vergelyk word nie.  So leer Jh.3:22-36 vir ons.

 

Jesus is groter as Johannes (v.22-30)

Soos die meeste ander paartjies het ek en my vrou ‘n foto album van ons troue. Op een foto staan ek saam met ‘n vriend.  Aan die regterkant sal jy sien hoe my nefie sy nek rek om ook in die foto te wees.  Ek het onlangs gehoor dat mens dit ‘n fotobom noem:  iemand wat nie in die foto hoort nie, wurm homself op ‘n manier daarin.  Johannes die Doper wou dit nie met Jesus doen nie.  Hy het geweet dat Jesus groter is as hy, en daarom wou hy nie die aandag op homself vestig nie, maar op Jesus.  Dit is wat in v.22-30 aan die gang is.

 

Die Paasfees was op ‘n einde (2:13, 23). Toe Jesus klaar met Nikodemus gepraat het (v.1-21), het Hy saam met sy dissipels na die platteland van Judea toe gegaan (v.22).  Hulle het mense gedoop (v.22, 4:2), en was waarskynlik naby die Jordaan rivier.  Johannes self het nog vir ‘n tydjie aangehou om mense te doop (v.23).  Hy was by Enon naby Salim, omdat daar meer as genoeg water was om die mense te doop (v.23, Enon beteken ‘plek van fonteine’).  Jh.2-3 het plaasgevind nadat Jesus in Mt.4:1-11 deur die duiwel in die woestyn versoek is.  ‘n Ruk daarna het Johannes vir Herodes oor sy bloedskande aangespreek.  Hy is gearresteer en onthoof (v.24, Lv.18:16, Mt.4:12, 14:3-12).  Johannes het tot op die heel laaste probeer om mense van hulle sonde af weg te draai na die Messias toe (v.23, Mt.3:6, 11).

 

Op ‘n dag het ‘n paar van Johannes se dissipels met ‘n godsdienstige Jood gestry oor hulle reinigingsrites (v.25, 2:6). Hulle het seker vir hom gesê dat Johannes se doop op ‘n innerlike reiniging van die hart gedui het (Mt.3:6, 8), en dat dit baie beter was as ‘n klomp reëls oor hoe om jou skottelgoed en hande te was (Mk.7:3-4).  Maar hulle self het nie mooi verstaan dat die doop van Johannes ‘n prentjie was van die Messias wat mense met die Heilige Gees kom doop het nie (Mt.3:11).  Daarom het hulle vir Johannes gesê:  ‘Rabbi, toe jy oorkant die Jordaan was, het jy van Iemand anders getuig (1:7).  Jy het jouself in die voet geskiet, want nou doop Hy ook mense en loop almal agter Hóm aan (v.26).  Pla dit jou nie dat jy besig is om mense te verloor nie (1:35-37)?’

 

Johannes het sy dissipels reggehelp: ‘Die sukses wat ek tot nou toe gehad het kom van God af (Mt.21:25).  Jesus se Messiaskap kom van God af (v.35, Hb.5:4-5).  Julle bekering kom van God af (6:65).  Alles kom van God af (v.27, 19:11, 1 Kor.4:7).  Moet dan nie jaloers of ontsteld wees omdat mense Hom bo my kies nie.  Julle onthou self dat ek gesê het ek is nie die Messias nie (v.28, 1:20).  Ek was maar net sy voorloper; die slaaf wat vooruit gestuur is om die Koning se pad gelyk te maak; die stem wat uitgeroep het dat die Koning oppad is (Mk.1:2-3).  Dis mos nie die strooi jonker wat die belangrikste is nie, maar die Bruidegom.  Die strooi jonker moet net die troue reël en die bruid aan haar Bruidegom afgee.  Al wat vir die strooi jonker saakmaak, is dat die Bruidegom sy groot dag moet geniet.  En dit is hoe dit is met my en Jesus:  ek is die strooi jonker en Hy is die Bruidegom (v.29, Jes.62:4-5, Ef.5:32).  Die bruid moet na Hóm toe kom en nie na mý toe nie (v.29).  As Hy net geëer kan word is ek bly.  Die beker van my blydskap loop oor as Hý bly is, en as mense Hóm kan ken (v.29).  Die nuus wat julle vandag vir my gebring het maak my nie jaloers nie – alles behalwe (v.29).  Ek is nie eers waardig om sy sandale los te maak nie (1:26-27).  Al wat ek wil hê is dat Hy meer moet word en ek minder (v.30).  Hoekom moet die massas nog agter die boodskapper aanloop as die Koning opgedaag het?  Die tyd het gekom dat ek suutjies van die verhoog af moet verdwyn, sodat Hý gesien kan word (v.30).’

 

Besef dat Jesus groter is as jy. Iemand wat dink dat die wêreld om hom draai, sal nie sy nood vir die evangelie sien nie, maar hy sal dink dat die Here hóm benodig.  In ons dag en era het mense ‘n obsessie met hulleself.  Volgens sommige beraders is daar niks belangriker as om ‘n goeie selfbeeld te hê nie.  In sy boek, Self-Esteem: The New Reformation, sê Robert Schuller:  ‘The most serious sin is the one that causes me to say “I am unworthy”.’[1]  Op p.19 van dieselfde boek sê hy:  ‘Self-esteem or pride in being a human being is the single greatest need facing the human race today.’  Een vroue joernaal sê:  ‘Feeling good about ourselves may in fact be the cornerstone of our total well-being.’[2]

 

Volgens die Bybel dink mense nie te min van hulleself nie, maar te veel. 2 Tm.3:1-2 sê dat mense in die laaste dae liefhebbers van hulleself sal wees.  Die meeste mense vind dit nie moeilik om hulleself in die spieël te bewonder, of om selfies op Facebook te pos nie.  Ons hou so baie van onsself dat ons nie skaam is om ons half-naakte liggame in die mall of op die strand te wys nie.  Ons moedig ons seuns en dogters aan om as modelle op die verhoog te loop, sodat ander mense hulle skoonheid kan aanbid.  Ons sê vir hulle om goed van hulleself te praat en te dink, en dat niemand belangriker is as hulle nie.  Sodra hulle die grootmens-wêreld betree, kan hulle nie ‘n werk hou of vir langer as sewe jaar in ‘n huwelik bly nie.  Ons is verbaas en verstaan nie hoekom nie.  Maar wat verwag ons as agt uit elke tien mense so geleer is? Twee mense kan tog nie die belangrikste wees nie?  As jy vir jouself die belangrikste is, is dit voor die hand liggend dat daar ‘n oorlog gaan uitbreek as iemand durf om jou (‘soewereine en heilige’) wil te kruis.

 

Dit is ‘n tragedie dat die kerk ook ingekoop het. Tot in die middel van die vorige eeu het die kerk geglo dat Jesus vir sondaars gesterf het (Rm.5:8).  Ons was oortuig van die waarheid dat die selfregverdige Fariseër nie gered sou word nie, en dat die tollenaar wat homself as ‘n verlore sondaar beskou het, genade ontvang het (Lk.18:9-14).  Maar vandat sielkunde op die toneel verskyn het, het die kerk haar kreed verander.  Christelike preke, boeke, tydskrifte, seminare, liede en radioprogramme glo nou dat Jesus gesterf het omdat jy ‘n rare juweel is, en dat Hy nie kon bekostig om jou te verloor nie.  ‘n Populêre lied oor die kruis sê:  ‘He thought of me, above all.’  Sigmund Freud het die evangelie op sy kop gekeer.

 

Miskien glo jy regtig dat jy onbekwaam en lelik is, en daarom oortuig jy jouself dat jy nie te veel van jouself dink nie. Maar bejammer jy jouself en voel jy seergemaak as jy opoffer en niemand jou moeite raaksien of dankie sê nie?  Om jouself te bejammer is ‘n subtiele vorm van hoogmoed.  John Piper sê:  ‘Roem is hoogmoed se reaksie op sukses.  Selfbejammering is hoogmoed se reaksie op lyding.  Roem sê, “Ek verdien om bewonder te word, omdat ek so baie bereik het.”  Selfbejammering sê:  “Ek verdien om bewonder te word, omdat ek soveel opgeoffer het.”… die begeerte van dié wat hulleself bejammer is nie regtig dat ander hulle as hulpeloos moet sien nie, maar as helde.’[3]

 

Wat is dan die oplossing? Moenie jouself aan ander meet nie, want anders sal jy dié wat beter as jy is haat, en neersien op dié wat swakker as jy is.  Meet jouself aan Jesus, sodat jy kan besef Hý is alles en jý is niks (1 Tm.1:15, 17).  Om gered en vergewe te word moet jy erken dat jy ‘n hulpelose sondaar is (Ps.51:7, Ef.2:1, Rm.7:24, 3:10-18, 23).  Jy moet besef dat die goeie wat jy het nie uit jouself uit kom nie, maar van Hóm af (Ps.16:2, Jk.1:17).  Jy is na sy beeld gemaak, en deur geloof in Hom is jy geregverdig.  Johannes die Doper was reg:  ‘Hy moet meer word, maar ek minder.’ (v.30).  Al is ek soos Spurgeon wat duisende mense vir Hom wen, is dit Hy wat my suksesvol gemaak het (v.27).  Hy skuld my nie ‘n dankie nie.  Al wat ek moet sê is:  ‘Ek is ‘n onwaardige dienskneg – ek het net my plig gedoen.’ (sien Lk.17:9-10).

 

Jesus is groter as almal (v.31-36)

In The Lion, the Witch and the Wardrobe vertel C.S. Lewis hoe Peter, Edmund en hulle twee sussies wonderlike avonture in Narnia gehad het.  Die groot goue leeu Aslan is ‘n voorstelling van Christus.  Op ‘n stadium het Aslan vir Peter ‘n kasteel gewys wat soos ‘n ster op die horison skyn.  Hy het gesê:  ‘That, O Man, is Cair Paravel of the four thrones, in one of which you must sit as King.  I show it to you because you are the first-born and you will be High King over all the rest.’[4]  Net soos wat Peter ‘n vername koning oor sy broer en susters was, is Jesus ver bo die konings van die aarde verhewe.  Hy is groter as hulle almal:  Hy is die Koning van die konings en die Here van al die heersers wat in die hemel en op die aarde regeer (Op.19:16).  Iemand wat v.31-36 met oop oë lees kan hierdie waarheid nie ontken nie.

 

Soos alle mense was Johannes die Doper en sy woorde van die aarde af (v.31). Jesus was van die hemel af en bo almal (v.31, 13, 1:30, 8:23, Rm.9:5).  Sy woorde was nie aards nie (v.31), maar Hy het van dinge getuig van wat Hy in die hemel gesien en gehoor het (v.32, 1:12).  En tog het die meeste mense sy getuienis verwerp (v.32, 11, 1:11).  Die mense wat wel sy getuienis in hulle harte ontvang het, het saam met Hom getuig dat God waar is (v.33, kontr. 1 Jh.5:10b).  Op grond van die Gees se getuienis in hulle, het hulle geweet dat Jesus van die hemel af neergedaal het, en dat Hy nie mense se woorde gepraat het nie, maar God s’n (v.34, 31, Jh.5:10a).  Die Gees wat sonder mate op Hom uitgestort is, het duidelik bevestig dat Hý die Gesalfde van God is (v.34, 1:32-33).

 

Omdat die Vader vir Jesus liefhet, het Hy nie net die Gees nie, maar alle dinge aan Hom oorgegee (v.35, Mt.3:16-17). Alle dinge sluit onder meer in:  die uitverkorenes (6:37, 17:6, Hb.2:13), lewe in Homself (5:26), die Vader se eie Naam wat bo elke naam is (17:11-12, Fil.2:9-11), heerlikheid en eer (17:1, 5, 22, 24), die woorde van die waarheid (16:15, 17:8, Op.1:1), die beker van God se oordeel wat Hy moes leegdrink om ons te verlos (18:11, 17:4), die kerk en die hele skepping onder sy voete (Ef.1:22), alle mag in die hemel en op aarde (Mt.28:18), ‘n ewige Priesterskap (Hb.5:5-6).

 

Jesus het ook die mag ontvang om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom glo (v.35-36, 17:2, 1 Jh.5:12). Dié wat ongehoorsaam is aan die opdrag om hulle te bekeer en in Hom te glo, sal nie die ewige lewe smaak nie (v.36).  Die Vader het aan sy Seun die mag gegee om hulle te oordeel (v.35-36, 5:22, 26), en daarom sal Hy by sy wederkoms “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” (2 Ts.1:8).  Die toorn van God rus alreeds op hulle (v.36).  Dit is asof hulle oor hangbrug loop waarvan die planke verrot is.  Dit is net God se genade wat maak dat hulle nog nie deur die planke getrap het, en in die dieptes van die hel verdwyn het nie.

 

Buig die knie voor die opperheerskappy van Jesus Christus. As jy dit nie nou wil erken nie, sal Jesus by sy wederkoms die mat onder jou uitruk, sodat jy móét buig en erken dat Hy die Here is (Fil.2:10-11).  Om die knie te buig moet jy met jou hande in die lug agter die skuilplek van jou sonde uitkom.  Waai die wit vlag van bekering.  Teken die vredesverdrag van geloof en vertroue, en erken dat Jesus die ware Koning is.  Bely dat sy kruisdood in jou plek voldoende was, en dat net Hy jou sonde kan wegvat.  Leer dan die reëls van sy Koninkryk soos wat dit in die Bybel staan en gehoorsaam dit.  Ken Hom beter as wat jy jouself ken, want “dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (17:3).  Groei in jou kennis van Jesus (2 Pt.3:18).  Wees soos ‘n man wat dit geniet om by sy bruid te wees, sodat hy haar beter kan ken, of soos ‘n ywerige student wat nie tevrede is om net sy honeurs te kry nie, maar wil werk vir ‘n dokters graad.

 

[1] Ken Hom in sy Goddelikheid: Hy is die spieëlbeeld van God die Vader en is in elke opsig sy gelyke (Hb.1:3).

 

[2] Ken Hom in sy heiligheid: niks in die heelal kan met Hom vergelyk word nie.  Hy is nie soos ‘n Rolls Royce wat bo ander karre is, maar nogsteeds ‘n kar is nie.  Hy is uniek en in ‘n klas van sy eie.

 

[3] Ken Hom in sy onveranderlikheid: Hy het nog nooit ‘n belofte gebreek nie en sal ook nie.  Hy bly gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde (Hb.13:8).  Hy is nie buierig nie, maar sy karakter bly konstant.

 

[4] Ken Hom in sy almag: Hy kan ‘n aardse weermag van twintig miljoen troepe oorwin met die asem van sy mond, en ‘n nes van 500 triljoen demone doodkyk.  Hy kan sterrestelsels wat miljoene ligjare breed is met die asem van sy mond skep (Ps.33:6).

 

[5] Ken Hom in sy alwetendheid: volgens geleerdes is daar meer sterre in die hemel as sand op die aarde.  Jesus ken die getal van die sterre en gee aan elke ster sy naam (Ps.147:4).

 

[6] Ken Hom in sy soewereiniteit: as ‘n swerfkoeël iemand tref of as ‘n honger leeu rustig langs Daniël lê, het Hý dit bepaal (1 Kn.22:34, Sp.16:33, Dn.6:22, Ef.1:11).

 

[7] Ken Hom in sy geduld: Hy kon al lankal van Robert Mugabe ontslae geraak het, maar is geduldig.  Hoeveel kere moes jy nie al vir dieselfde sonde vergifnis vra nie?  Is jy nie bly Hy is geduldig nie?

 

[8] Ken Hom in sy liefde: waar is daar ‘n mens of engel wat sy lewe vir sy vyande sal gee?

 

[9] Ken Hom in sy geregtigheid: Hy het ‘n rekord van elke mens se begeertes, gedagtes, karakter, woorde en dade.  Hy sal nie toelaat dat ‘n enkele sonde ongestraf bly nie, maar sal aan die kruis of in die hel daarmee afreken.

 

[10] Ken Hom in sy wysheid: niemand weet beter as Hy hoe om probleme op te los nie, en nog nooit was dit nodig dat iemand vir Hom moes raad gee nie.

 

[11] Ken Hom in sy toorn: Hy het alles gedoen om sondaars te red (v.16).  Dié wat sy Seun verwerp sal die onverdunde wyn van sy toorn moet drink in die hel (v.36, 16).  Sy toorn is ‘n verwoedelike krag sonder perke, ‘n vuur wat nie geblus kan word nie, en ‘n see sonder ‘n bodem.

 

Ken Hom ook in sy ewigheid, gesag, reinheid, getrouheid, sagmoedigheid, genade, blydskap, alomteenwoordigheid, goedheid, eenheid, en besef dan dat dit maar die buitewyke van sy grootheid is. Sit jou hand oor jou mond en sê saam met Jes.40:25:  “By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.”

 

[1] Aangehaal in Michael Horton, Power Religion, p.253

[2] Barnett, Baruch and Rivers, ‘The Secret of Self-Esteem’, The Ladies Home Journal, Feb. 1984, p.54

[3] Vry vertaal uit Future Grace, pp.94-95

[4] The Chronicles of Narnia, p.170