Die juweel van die Ou Testament

Rare diamond

Wie is ek? As die Ou Testament ‘n bergreeks is, is ek die hoogste piek.  Ek is die helderste ster in hemel van die Ou Testament, die kosbaarste juweel in haar skatkis.  Geen hoofstuk word meer in die Nuwe Testament aangehaal as ek nie.  Ek is meer as 700 v.C. geskryf, en is baie noukeurig vervul.  Partykeer praat mense van my as ‘die Evangelie in die Ou Testament’.  Maak asseblief jou Bybel oop by Jes.52:13-53:12.

 

Voorskou (52:13-15)

Die Here sou nie net sy volk uit Babilon gered het nie (52:1-12), maar ook uit die slawerny van sonde (52:13-53:12, Mt.1:21). Die Kneg van die Here sou in sy opstanding, hemelvaart, en verheerliking verhef word (52:13, Fil.2:9, Ef.1:20-22).  Maar voordat dit kon gebeur moes Hy sterf (Fil.2:8).  Sy lyding en dood was so erg, dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie (52:14).  Mense het Hom deur die gesig geklap (Jh.18:22), met die vuis geslaan en op Hom gespoeg (Mt.26:67, Mk.14:65, Jh.19:3), Hom gegesel (Mt.27:26), ‘n doringkroon op sy kop gesit en dit in sy skedel ingeslaan met ‘n riet (Mt.27:27-31), stukke van sy baard uitgepluk (Jes.50:6), spykers deur sy hande en voete gedryf (Ps.22:17), sy bene uit lid uit geskud (Ps.22:15, dalk toe hulle die kruis in die gat laat val het?), en ‘n spies in sy sy gesteek (Jh.19:34).

 

Hoe moes Hy nie gelyk het nie? Toe ek op hoërskool was het ek een pouse in die bakamer ingestap en gesien hoe twee seuns mekaar met die vuis bydam.  Die geveg het vir 30 of 40 sekondes aangehou.  Die seun wat verloor het se oog was toegeswel en sy neus het gebloei.  Jes.52:13-15 gee vir ons ‘n idee van hoe Jesus na ‘n halwe dag van marteling gelyk het.  Sy oë was toegeswel, sy lippe gebars, sy neus en tande vol van bloed, sy oogbanke oopgesny, en sy rug soos ‘n geploegde land oopgekloof (Ps.129:3) sodat ‘n mens sy ribbes kon sien (Ps.22:18).  Hy was een bloedmassa.  Is dit enige wonder dat dié wat Hom só gesien het verstom was (52:14, Lk.23:48)?  Maar om die nasies van hulle sonde te reinig móés Hy hulle met sy bloed sprinkel (52:15, Lv.4:6, Hb.10:22, 12:24).  Konings se monde sou oophang oor die wonderlike dinge wat hulle gesien en gehoor het (52:15, 49:7, Rm.15:21).

 

Sien jouself in die Man van smarte. Dink daaraan dat dit jý is wat so vermink moes word.  As jy jouself daar sien hang, sal jy die Here baie meer dank dat Hy jou gered het.  Dink ook daaraan dat almal wat hulle nie bekeer nie, so ‘n verbryselde liggaam sal hê in die hel (66:24, Dn.12:2).  Die liggaamlike pyn en lyding, die naarheid, die kort asem, die kloppende mond-, rug-, en hoofpyn, die pyn in sy gewrigte, die sensitiwiteit van rou wonde, bene wat brand soos vuur, die angs en vernedering wat Jesus aan die kruis deurgemaak het, sal vir ewig hierdie mense se deel wees in die hel.  En dan het ons nog nie eers gepraat van die geestelike lyding nie:  die ewige spyt, die skuldige gewete, en ‘n ewige bestaan sonder een druppel van God se goedheid, blydskap, genade, vrede en liefde.

 

Toe ek ‘n paar weke gelede in Bronkhorstspruit gepreek het, het ‘n oom enigiemand uitgedaag om vir R100 sy vinger ‘n sentimeter bo ‘n kers se vlam te hou vir vyf sekondes. Niemand kon dit regkry nie.  Die oom het gesê:  ‘Nie een van julle kon eers vir vyf sekondes sy vinger bo hierdie vlam hou nie.  Dink daaraan dat daar mense is wat vir ewig in die hel se vuur gaan brand.  Ons moenie nalaat om vir mense van die Here te vertel nie.’

 

Verwerping (53:1-3)

Ruth is in graad 4. Sy is ‘n oulike Christen meisie met ‘n mooi karakter.  Maar in die aande huil sy haarself aan die slaap.  Sy wil nie skool toe gaan nie, want die ander kinders spot haar omdat sy arm is en ou klere dra.  Al wat hulle kan sien is ‘n lelike eendjie.  Hulle beoordeel die boek van haar lewe volgens die buiteblad.  Een aand toe Ruth in die bed gelê het, toe herinner haar ma haar daaraan dat sy soos Jesus is.  ‘Hoe so?’ het sy gevra.  Hier is wat haar ma vir haar gesê het.

 

Die heidene het in die Messias geglo (52:15), maar sy eie volk het Hom verwerp (53:1, Jh.1:9-11, 12:38). Hulle kon nie in ‘n onaantreklike en gekruisigde Messias glo nie.  Hoe op aarde kon só ‘n Messias God se sterk arm gewees het wat die volk moes verlos (53:1, 52:10)?  Totdat God nie hulle oë oopgemaak het nie, kon hulle eenvoudig nie insien dat die Kneg tergelykertyd die Here was én voor Hom opgegroei het nie (53:1-2, Lk.10:21-22, vgl. Mt.22:45).

 

Dawid was baie aantreklik (1 Sm.16:12). Hoe kon sy groter Seun dan so onaantreklik gewees het soos ‘n wortel wat uit die droë grond uit groei (53:2)?  Hy was nie mooi of goed gebou nie; sy voorkoms was lelik en onbegeerlik (53:2).  Soos ‘n wurm het die mense Hom gehaat en verwerp (53:3, Ps.22:7).  As hulle Hom sien aankom het, het hulle met ‘n bak hand die kant van hulle gesigte toegemaak en weggekruip (53:3).  Hulle het Hom verag en wou nie saam met Hom gesien word nie (53:3).  Hy het die pyn daarvan gevoel, sodat Jesaja Hom beskryf het as ‘n Man van smarte (53:3).

 

Moenie skaam wees vir Jes.53:1-3 nie, want “Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” (Mt.10:32-33).  Films, Kinderbybels, en Christelike boeke beeld Hom uit as ‘n aantreklike persoon met ‘n jolige persoonlikheid.  ‘Jesus, man of joy’ is die titel van ‘n boek wat ek gelees het.  Ek vind egter baie meer troos in ‘n Jesus wat my pyn ken en met my swakheid identifiseer (Hb.4:15).

 

Ons moet ook leer om verby die uiterlike te kyk. Vir die wêreld is Jesus maar net ‘n mens soos Moses of Mohammed, maar toe die Here ons oë oopgemaak het, het ons gesien dat Hy die geliefde Seun van God is:  “en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.” (2 Kor.5:16).  Bid dat God jou geliefdes se oë sal oopmaak, sodat hulle ook kan sien wat jý sien.

 

Versoening (53:4-6)

Kom ek vertel jou die storie (en dit is regtig net ‘n storie) van Jamie Clarke wat 700 jaar gelede in Skotland gelewe het. Daar was nie ‘n man in die hele Britse Eilande wat groter of sterker was as hy nie.  Toe hy 14 was het hy ‘n bul se nek gebreek.  Sy skouers was so breed soos twee wynvate wat teen mekaar staan.  Een nag het die weerlig sy huis se dak getref, sodat dit aan die brand geslaan het.  Toe hy sy kind in sy arms opgetel het, het hy gehoor hoe die dak se balke bo hom kraak.  Hy het homself soos ‘n sambreel oor die kind gehou.  Die swaar brandende balke het op sy rug geval en sy agterlyf beskadig.  Hy het sy kragte ingespan en met die kind in sy arms by die huis uitgekruip.  Die kind het niks makeer nie, maar etlike ure later het Jamie sy laaste asem uitgeblaas.  Soos wat Jamie sy kind teen die brandende balke beskerm het, het Jesus se liefde Hom gedring om tussen ons en sy Vader se toorn te kom staan.  Hy was bereid om te sterf sodat ons kan lewe.  Dit is die punt van 53:4-6.

 

Jesus is verwerp (53:3), omdat Hy ons smart en pyn op Homself geneem het (53:4).  Mense het gedink dat Hy vir sý sonde gestraf en geslaan is (53:4, Dt.21:22-23).  Maar eintlik was dit die gewig van óns sonde wat Hom verbrysel het (53:5).  Dit het Hy gedoen om ons met God te versoen.  Waar daar oorlog was, het Hy vrede gebring (53:5).  Deur sy kruiswonde het Hy ons genees van die sonde wat soos ‘n terminale kanker aan ons siele gevreet het (53:5, 6:10, 19:22, 30:26, Jer.30:17, 1 Pt.2:24).  Sy dood het ook verseker dat ons liggame eendag finaal en volkome genees gaan word (53:5, Mt.8:16-17).  Die kruis waarborg egter nie dat ons altyd gesond sal wees, of dat die nagmaal ‘n hemelse antibiotika is wat jou van siekte genees nie.

 

Soos hardkoppige skape het ons almal van die Herder af weggedwaal (53:6, Rm.3:12, 23). Omdat ons nie bye of swaeltjies is nie maar skape, het ons nie geweet hoe om weer by die kraal uit te kom nie.  Soos wat Aäron die volk se sonde simbolies op die bok se kop gelê het, het die Vader ons sonde op die Messias gelê, sodat Hy ons na die Herder toe kon terugbring (53:6, Lv.16:21-22, 1 Pt.2:25).

 

Maak seker jy staan met albei voete op die rots van Jesus se plaasvervangende soendood. Vandag is daar mense wat dit ontken en bevraagteken.  Hulle ontken die hel en dink dat hulle nie God se toorn verdien nie.  Daarom haat hulle die idee van ‘n Jesus wat namens ons God se toorn op Homself geneem het.  Hulle verag die kruis en is vyande daarvan (Fil.3:18).  Ek het op ‘n DVD gehoor hoe een van hulle sê:  ‘If the Father punished Jesus for our sins, that is cosmic child abuse… We should hate a Father like that.’ (John Dominic Crossan).

 

C.H. Dodd was ‘n teoloog in die vorige eeu. Hy het hierdie idee soveel gehaat, dat hy met opset Rm.3:25 anders vertaal het.  Volgens hom het Jesus nie ‘n plaasvervangende soendood gesterf nie (Eng. propitiation), maar eenvoudig ons sonde verwyder (Eng. expiation).  Volgens liberale teoloë het Jesus eenvoudig aan die kruis gesterf as ‘n voorbeeld van wat dit beteken om op te offer.  Die meeste mense glo dat Jesus ook Judas en Kain se straf op Homself geneem het.  Maar hulle kan nie verduidelik hoekom Judas en Kain vir hulle eie sonde in die hel moet boet nie.

 

Jesus se plaasvervangende soendood beteken dat Hy die Lam van God is wat sy skape se straf op Homself geneem het aan die kruis (v.6-7, Jh.1:29, 10:11). Omdat Hy sy Vader se toorn bedaar het, is daar geen veroordeling meer vir dié wat in Hom skuil nie (Rm.8:1).

 

Verdrukking (53:7-9)

Jare gelede het ek in Creation gelees van ‘n onskuldige vrou wat in die tronk beland het.  Sy en haar man het êrens in Australië gaan kamp, toe ‘n dingo (‘n Australiese wildehond) in hulle tent ingekom het en hulle baba weggedra het.  Die dingo het die baba doodgebyt.  Toe die dokters op die toneel verskyn het, het hulle die kind se wonde oopgesny.  Met die nadoodse ondersoek het hulle die snywonde gesien, en gesê dat die ma haar kind doodgesteek het.  Nadat die vrou vir ‘n redelike tyd in die tronk was, het hulle hulle fout agtergekom en haar vrygelaat.  So was dit met Jesus:  Hy het niks verkeerd gedoen nie, en tog het hulle Hom gekruisig.

 

Toe die Jode Hom valslik beskuldig het, was Hy so stil soos ‘n lam wat na die slagpale toe gelei word, en soos ‘n skaap wat geskeer word (53:7-8, 1 Pt.2:23, Mt.26:63, 27:12-14, Lk.23:9). Sy tydgenote het nie daaraan gedink dat Hy vir húlle sonde gestraf word nie (53:8).  Hy het soos ‘n misdadiger gesterf, en daarom wou hulle Hom saam met die moordenaars begrawe het (53:9, Jh.19:31).  Maar omdat Hy sondeloos en onskuldig was (53:9, 1 Pt.2:22), het Hy die eerbare begrafnis van ‘n ryk man gehad (53:9, Mt.27:57-60).

 

Sien God se liefde in Jesus se stilte. As Jesus sy mond oopgemaak het om Homself te verdedig, dan was ons almal nou in die hel.  Hy het stilgebly omdat Hy ons sonde en skuld op Homself geneem het.  Alhoewel C.J. Mahaney dit in ‘n ander konteks gesê het, is sy stelling ook hier van toepassing:  ‘For God so loved the world that He was silent.’  Weet egter dat Hy op die oordeelsdag nie sal stil wees nie.  As jy in Hom glo het Hy reeds jou verdiende straf op Homself geneem.  Jy hoef nie die oordeelsdag te vrees nie – Hy sal jou verdedig.  Maar as jy Hom verwerp, sal op die oordeelsdag stil wees.  Jy het geweet wat reg is – hoekom het jy dit nie gedoen nie?  Jy sal niks hê om vir jouself te sê nie; jy sal nie ‘n voet hê om op te staan nie (Rm.1:19-21, 2:14-15, 3:19).

 

Voorspoed (53:10-12)

Wie was primêr verantwoordelik vir Jesus se dood? Was dit Judas, Pilatus, die duiwel, die soldate, die Jode, of ons?  Almal van ons het ‘n vinger in die pasty, maar uiteindelik was dit die Vader wat Hom vir ons sonde verbrysel het (v.10).

 

Verlede jaar het ‘n vriend en kollega vir my gevra of ek sou saamstem dat die Vader sy Seun vermoor het. Maar om dood te maak en te vermoor is nie noodwendig dieselfde ding nie.  Saddam Hussein het mense vermoor.  Die regering wat hom tereggestel het, het hom doodgemaak sonder dat hulle hom vermoor het.  Net so het die Vader om ons ontwil sy Seun tereggestel sonder dat Hy Hom vermoor het.  Jes.53:10-12 verduidelik vir ons wat gebeur het.

 

Dit was die Vader se soewereine wil om sy Seun aan die kruis te verbrysel (53:10, Hd.2:23, 4:27-28, Mt.26:39). Dit was ook die Seun se wil om Homself só te gee (Jh.10:18).  Hiervoor het die Vader Hom uit die dood uit opgewek, vir Hom ‘n groot nageslag gegee, en Hom vir ewig laat lewe (53:10, Jh.6:37, Hb.2:13, Op.7:9, Hb.1:12, Rm.6:9).  Dié wat as skape afgedwaal het (53:6), het nou as kinders teruggekeer (53:10).

 

Die Messias het sy Vader se wil voorspoedig uitgevoer (53:10). Die storm van sy Vader se toorn het uitgewoed (53:11).  Getsemane en Golgota se angstige winter het in lente verander (53:11, Mt.26:38, 27:46).  Die Regverdige Kneg het sy Vader se wil geken:  Hy het ons sonde op Homself geneem en sy geregtigheid aan ons toegereken (53:11, 2 Kor.5:21, Rm.5:18-19).  Die Regverdige Kneg (53:11) het soos ‘n misdadiger gesterf (53:12, Lk.22:37, 23:33).  Hy het vir die ootreders gebid, en sal vir ewig aanhou om dit te doen (53:12, Lk.23:34, Hb.7:25).  As beloning kon Hy sy vyande se sakke leegmaak en die uitverkorenes as buit neem (53:12, Kol.2:15, Mt.12:29, Jh.6:39).

 

Wees soos Jesus wat die skande van die kruis verduur het, omdat Hy geweet het wat kom (Hb.12:2). As jy dit nie doen nie sal jy nogsteeds hemel toe gaan, maar die lyding wat jy op die aarde moet deurmaak sal onnodiglik swaar wees.  In jou oë sal die donker wolk nooit ‘n silwer randjie hê nie.

 

‘n Atleet wat die goue medalje in sy kop sien, druk deur as sy longe brand en sy spiere seer raak. Op dieselfde manier moet jy dink aan die beloning wat kom (Fil.3:14).  Jesus en sy bruid is binne gemeenskap van goedere getroud, sodat alles wat syne is joune word.  Volgens Rm.8:17 is ons erfgename van God en mede erfgename van Christus.  “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.” (Gal.3:29).  Omdat Jesus dan die erfgenaam van alle dinge is (Hb.1:2), kan jy met sekerheid weet dat die heelal en alles daarin joune is, net soveel as wat die geld in jou sak aan jou behoort (1 Kor.3:21-23).  Jy is soos ‘n kind wat ‘n koninkryk geërf het, maar te jonk is om dit te bestuur.  Jesus bestuur dit namens jou.  As jy in die hemel is sal jy saam met Hom regeer (Op.5:10).

 

Toe ek studeer het was daar ten minste twee van my dosente wat ontken het dat die Ou Testament van Jesus praat. Ek is seker jy het gesien dat Jesus soos ‘n kosbare juweel in Jes.53 skyn.