’n Militêre basis vir God se soldate

Soldier reading Bible

Het jy al plaasboere ontmoet wat so ver van die dorp af bly, dat hulle net een keer per maand kan inry? Hulle kan nie gou dorp toe skiet vir brood of melk nie, en daarom is hulle yskaste so groot soos ‘n inloop kluis.  Hulle koop ‘n maand of twee se voorraad van alles.  In God se Koninkryk werk dit soms so.  Soos soldate is die sendelinge besig om in die veld te baklei, maar dikwels het hulle geen basis wat vir hulle vars voorraad stuur nie.  Ek praat hier van kerke wat hulle plig versuim en nie sendelinge ondersteun nie.  3 Jh.1-15 spreek hierdie probleem aan.

 

Gaius (v.1-8)

Die leierskap van ‘n klein gemeente in Engeland het vir Charles Spurgeon gevra om vir hulle ‘n predikant te stuur. Maar die salaris wat hulle aangebied het was so klein dat Spurgeon vir hulle geskryf het:  ‘The only individual I know, who could exist on such a stipend [salary], is the angel Gabriel.  He would need neither cash nor clothes; and he could come down from heaven every Sunday morning, and go back at night, so I advise you to invite him.’[1]

 

Ek weet van ‘n gemeente wat ‘n paar jaar gelede vir hulle assosiasie gevra het om vir hulle ‘n predikant te stuur. Hulle was bereid om hom R2000 per maand te betaal, maar hy moes vir sy eie vervoer, brandstof, en verblyf sorg.  Die Bybel is nie tevrede hiermee nie, “want die arbeider is sy loon werd.” (Lk.10:7).  Gaius was ‘n voorbeeld van hoe ‘n mens sendelinge en ander Christelike werkers behoort te ondersteun.

 

As geestelike leier en ou man, het Johannes van homself gepraat as ‘die ouderling’ (v.1, 2 Jh.1, 1 Pt.5:1). Hy het sy brief aan Gaius gerig (v.1).  Soos wat John ‘n algemene naam is in die Engelssprekende wêreld, was Gaius algemeen in Johannes se leefwêreld.  Die Gaius van ons teks het onder Johannes se bediening tot bekering gekom (v.3-4, vgl. 1 Kor.4:14-15) en moenie verwar word met die Gaius wat onder Paulus tot bekering gekom het, en deur hom gedoop is nie (1 Kor.1:14).  Daar is meer as een Gaius in die Nuwe Testament.

 

Johannes en Gaius het dieselfde waarheid liefgehad, en daarom het Johannes ook vir Gaius self liefgehad (v.1-2, 5, 11, 2 Jh.1-2, 1 Jh.3:18). Johannes het by die broers gehoor dat Gaius sy lewe volgens die waarheid ingerig het, en dat dit geestelik met hom goed gegaan het (v.2-3).  Sy bede was dat Gaius se liggaam so gesond sou wees soos sy siel, en dat hy in elke opsig voorspoedig sou wees (v.2, 1 Ts.5:23-24).  Niks kon vir Johannes groter vreugde gebring het as om te hoor dat sy geestelike kinders volgens die waarheid lewe nie (v.4).  Hy het vir Gaius geprys omdat sy geloof prakties was en hy vreemde sendelinge in sy huis verwelkom het (v.5, Hb.13:2, Rm.12:13, 1 Pt.4:9).

 

Die sendelinge het na hulle tuisgemeente toe teruggekeer en vir die gelowiges van Gaius se liefde vertel (v.6). Hulle het intussen na Gaius toe teruggekeer om Johannes se brief vir hom te vat.  Johannes het gevra dat hy die goeie werk moes volhou en die sendelinge op hulle reis moes voorthelp (v.6).  Hy moes meer as net ‘n halwe bruinbrood en ‘n homp kaas vir hulle gegee het; hy moes hulle gehelp het asof dit Jesus was wat by sy huis oornag het (v.6, Mt.10:40, 25:35, 40).  Hy moes hulle reiskoste betaal het, en genoeg geld in hulle sakke gesit het vir padkos.

 

Die sendelinge het nie vir hulleself rondgereis nie, maar om die Here se Naam in die wêreld te verkondig (v.7). Hulle het nie soos Katolieke monnike uit die dertiende eeu, aan ongelowiges se deure geklop en gevra vir geld nie (v.7).[2]  Omdat hulle dan geen ander bron van inkomste gehad het nie, was dit die kerk se plig en nie die wêreld s’n nie, om hulle te ondersteun (v.7-8).  Dié wat dít gedoen het sou mede-werkers en vennote van die waarheid gewees het; deur hulle geldelike bydrae het hulle gehelp om die evangelie te versprei (v.8, kontr. 2 Jh.11).

 

Sendelinge en ander Christelike werkers moenie geldgierig wees nie (v.7, 1 Tm.3:3, 6:9-10), maar moet ook nie op die veld wonder of die basis vir hulle geld en kos gaan stuur nie. Volgens v.8 het ons ‘n verantwoordelikheid om vir hulle te sorg.

 

In 2007 het SASOL my broer en sy vrou vir twee maande Amerika toe gestuur vir opleiding en alles betaal: vliegtuig kaartjies, verblyf, etes, lesings, boeke, internet en meer.  Maar as die kerk haar beste soldate (sendelinge) op die veld uitstuur, verwag ons hulle moet vir geld bedel, self hulle reiskoste dek, en tevrede wees met tweedehandse klere en uitgedrukte teesakkies.  Om hulle só te ondersteun is nie waardig van die Here nie, en dra nie sy goedkeuring weg nie (v.6).

 

Dit is hartseer as die wêreld beter vir haar mense sorg as wat die kerk dit doen. Ons sê te maklik:  ‘Daar is nie geld nie.’  Waar is ons geloof?  Behoort Amerika se dollars en Engeland se ponde nie aan die Here nie?  “Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die leërskare.” (Hag.2:8).  Die wêreld en alles daarin behoort mos aan die Here (Ps.24:1, 50:10-12).  Dit is nie reg om van die basis af vir die soldate te radio:  ‘Vertrou die Here – Hy sal vir julle voorsien!’ nie.  Hoekom vertrou die basis nie die Here om vars voorraad te voorsien, sodat ons dit vir die sendelinge op die veld kan stuur nie (Fil.4:14-19)?

 

Onthou asseblief dat sendelinge nie toeriste is wat met ‘n lang oorsese vakansie is nie. Hulle is soldate wat die Here se Naam en Koninkryk onder die heidene moet bevorder (v.7).  Hulle is Christene wat die luuksheid van hulle eie land prysgegee het om die evangelie in Suid-Soedan of Peru te verkondig.  Dit is die kerk se plig om ‘n militêre basis te wees wat vir die soldate kos, water, ammunisie, wapens, en troepe sal stuur.  Op hierdie manier is ons mede-werkers van die waarheid (v.8).

 

As die sendelinge gewond is en na die basis toe terugkeer, moet ons dit vir hulle so gerieflik as moontlik maak. Ons moet hulle in ons huise verwelkom, sorg dat hulle vervoer het, hulle vir ete nooi, saam met hulle die Bybel lees en bid, en meer (v.5-6).  As ons nié die Here se soldate ondersteun nie, is ons botweg ongehoorsaam.  Iemand het gesê:  ‘Jy kan ‘n sendeling wees, jy kan ‘n sendeling uitstuur en ondersteun, of jy kan ongehoorsaam wees.’

 

Diotrefes (v.9-10)

Ek weet van ‘n kerk waar een man die kitaar slaan. Almal in die kerk is bang vir hom.  Hy het sy aanhangers en draai die gemeente om sy pinkie.  Hy is veglustig en emosioneel so onstabiel soos die See van Galilea.  Niemand in die gemeente weet wat in die kerk se bankrekening aangaan nie, want in sy gedagtes behoort die geld en geboue aan hom.  Hy is die moderne eweknie van Diotrefes.  Die Here wou gehad het dat die kerk ‘n militêre basis vir sy soldate moes wees (v.5-8), maar Diotrefes het ingesluip en die basis gekaap (v.9-10).

 

Johannes het gesê dat hy iets vir die kerk geskryf het, maar dat Diotrefes dit nie aanvaar het nie (v.9). Hy het waarskynlik die brief van die gemeente af weerhou en dit opgeskeur (v.9).  Hy was hoogmoedig, arrogant en vir homself die belangrikste (v.9, kontr. 1 Kor.13:5, Mt.20:25-28).  Hy het geweier om Johannes se apostoliese gesag te aanvaar (v.9).  Daardeur het hy gewys dat hy nie ‘n ware gelowige is nie (1 Jh.4:6).

 

Johannes het gesê dat hy by sy volgende besoek Diotrefes se sonde aan die lig sou bring (v.10). Diotrefes het bose leuens oor hom en sy spanmaats versprei (v.10).  Hy wou nie gehad het dat die gemeente Johannes se leierskap bo sy eie moes erken nie, en daarom het hy geweier om enigiemand wat van Johannes af gekom het in die gemeente te verwelkom (v.10).  Sy obsessie met homself het gemaak dat hy mense manupileer.  As iemand vir Johannes wou luister om die sendelinge te verwelkom (v.5-8), het hy hulle uit die gemeente verwyder (v.10, Jh.9:34).

 

Ek het eenkeer van ‘n man gehoor wat glo sendelinge gaan nie hemel toe nie. Moet jou nie te veel steur aan wat mense, soos Diotrefes, oor sendelinge te sê het nie (v.9-10). God sê ons moet hulle ondersteun en verwelkom (v.5-8).  Vir my is dit rede genoeg om gehoorsaam te wees.

 

Ek glo nie iemand in ons gemeente is soos Diotrefes wat teen die sendelinge was nie. Dit is egter moontlik dat ons ons skouers kan optrek en apaties staan.  Ons stel nie belang in wat op die veld gebeur nie.  Ons jaag hulle nie weg nie, maar nooi hulle ook nie uit om ons te besoek nie.  Ons gee nie om of hulle genoeg geld het nie, en bid nie getrou vir hulle nie.  As hulle vir ons ‘n nuusbrief stuur, lees ons dit nie.  Ek moet bely dat my eie hart in baie opsigte koud is, en dat ek self skuldig staan.  Ons moenie wag dat die Here vir ons ‘n hart gee vir sending nie.  Begin eenvoudig om te gee en jou hart sal volg, “want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” (Mt.6:21).

 

Demetrius (v.11-12)

Mense is soos skape: as een iets doen is daar ander wat volg.  Jy het seker al gesien hoe skoolkinders deur fases gaan:  eers koop almal gekleurde rekkies, dan versamel hulle sticky’s, en daarna koop hulle albasters.  En so gaan dit.  Omdat dit so is, moet ons seker maak dat ons nie deur slegte mense beïnvloed word nie, maar dat ons die voorbeeld van goeie mense navolg (v.11).  Hierdie reël geld veral wanneer dit by die ondersteuning van sendelinge kom.

 

Ek het gehoor van ‘n Britste teoloog wat nie matte in sy huis gesit het nie, omdat hy die geld wou gebruik om sendelinge te ondersteun. Spurgeon het sy studente aangespoor om siele vir die Here te wen, en het geld uit die verkope van sy preke in Amerika gebruik om die werk te befonds.[3]  Sulke stories behoort ons aan te spoor om vir sending te gee.  Alhoewel ons teks nie sê wat Demetrius se goeie voorbeeld was nie, lyk dit uit die konteks of hy (anders as Diotrefes) ‘n regte ingesteldheid gehad het teenoor sendelinge.

 

Gaius moes nie toelaat dat Diotrefes se slegte voorbeeld hom beïnvloed nie, en moes eerder Demetrius se goeie voorbeeld nagevolg het (v.11, Ps.37:27, 1 Kor.4:16, 11:1, Fil.3:17). Mense wat soos Demetrius goed gedoen het, was van God af (v.11, 1 Jh.2:29).  Hierdie goedheid het nie uit hulle eie harte gekom nie (Rm.3:12, 7:18, Mt.19:17), maar was van God af (Ps.119:68).  Dié wat soos Diotrefes kwaad gedoen het, het nie die oë van geloof gehad om God te sien nie, en was ongered (v.11, 1 Jh.3:6).

 

Demetrius het waarskynlik hierdie brief vir Gaius afgelewer. Hy was betroubaar, en daarom kon Gaius gerus sy goeie voorbeeld nagevolg het (v.11).  Almal wat hom geken het, het van sy goeie karakter getuig (v.12, 1 Tm.3:7, Hd.16:2).  Omdat sy lewe met die Bybel ooreengestem het, het die waarheid sy betroubare karakter onderstreep (v.12).  Gaius kon met ‘n geruste hart Johannes se getuienis aangaande Demetrius geglo het (v.12, Jh.21:24).  Soos wat die Ou Testament vereis het, was daar drie getuies om Demetrius se goeie karakter te bevestig (v.12).

 

Volg die goeie voorbeeld van mense wat sendelinge ondersteun. Dink daaraan dat hierdie mense ‘n skat in die hemel het, terwyl dié wat alles in hulle sakke steek niks met hulle sal saamneem wanneer hulle doodgaan nie (Lk.12:33, Ps.49:17-18).  John D. Rockefeller was een van die rykste mense op aarde.  Toe hy dood is het iemand vir sy boekhouer gevra:  ‘Hoeveel het hy agtergelaat?’  Die klassieke antwoord was:  ‘Alles!’[4]  Toe wyle dr. Martin Holdt hemel toe is, was daar R50 in sy bankrekening.

 

Hoe bly sal jy nie op die oordeelsdag wees as daar honderde mense voor die Here staan, en Hy vir jou sê: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg!  Deur jou gereelde bydrae het hierdie mense die evangelie gehoor en tot bekering gekom’?  Mense wat in oorvloed vir die Here se werk gee, is buitendien gelukkiger as iemand wat ‘n graansilo vol geld het:  “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” (Hd.20:35).  God is die vrygewigste Persoon in die heelal (Jh.3:16, Ps.145:16).  Ons moet sy voorbeeld volg.

 

Die vriende (v.13-15)

Gedurende my eerste jaar van studies het die studente een aand vir ‘n predikant gaan kuier. Hy was moedeloos en wou die handdoek ingooi.  Ons besoek het hom bemoedig, sodat hy nie opgegee het nie.  Die Here weet wat ons nodig het.  Soms gebruik hy ‘n sms of ‘n woord van waardering, sodat jy moed skep en aanhou.  Om iemand soos Diotrefes in die gemeente te hê moes moeilik gewees het.  Ek is seker dat Johannes se brief vir Gaius gehelp het om moed te skep, en dat dit vir hom perspektief gegee het.

 

Johannes wou nóg geskryf het, maar sou eerder vir Gaius wou sien as om met pen en ink te skryf (v.13-14).  Om van aangesig tot aangesig te praat is baie lekkerder as om iemand se woorde in ‘n brief te lees (2 Jh.12).  Alhoewel ‘n brief nie die beste is nie, was dit vir Gaius so goed soos vars lug in sy longe.  Johannes het vir sy vriend vrede toegebid (v.15, Jh.14:27, 20:19).  Met Diotrefes in die gemeente het hy dit nodig gehad.  Omdat hy ‘n vyand gehad het, sou die nuus van sy vriende se groete vir hom gewees het soos yskoue water op ‘n bloedige dag in die Kalahari (v.15).  ‘Die vriende’ verwys natuurlik na mede-gelowiges (Jh.15:13-15).  Gaius moes ook die vriende in sý gemeente by die naam groet (v.15).  Johannes het nie net in die groep belanggestel nie, maar in elkeen persoonlik.

 

Natuurlik moet ons nie van die sendelinge vergeet nie, maar ons moenie so op die buiteland fokus dat ons die mense wat by die basis werk, afskeep nie. As jy die basis afskeep sal die soldate wat in die veld is ook daaronder gebuk gaan.

 

Dit moenie een persoon se taak wees om met die sendelinge kontak te hou nie. Verklaar jouself bereidwillig om te help, sodat ander kan rus en hulle batterye kan herlaai.  Ons moet vir mekaar bid dat ons nie verslap nie (v.15, 2).  Ons moet saamkom, sodat ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade (v.14, Hb.10:24-25).  Ons moet mekaar aan 1 Kor.15:58 herinner:  “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”

 

Party koshuis kinders se huislike omstandighede is so sleg, dat hulle nie huistoe wil gaan nie.  Die koshuis lewe is moeilik, maar om by die huis te wees is erger.  Dit moenie so wees vir sendelinge nie.  Die sendingveld is moeilik genoeg.  As hulle na die basis toe terugkeer, moet dit vir hulle lekker wees.  As hulle ‘n paar maande later na die sendingveld toe terugkeer, moet hulle weggaan met die volle wete dat ons hulle finansieel en in gebed sal ondersteun.

 

[1] Autobiography: vol.2, p.108

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: part 2, pp.317-325

[3] Ibid, p.99

[4] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.17-18