’n Afspraak met die Messias

Woman at the well

Toe ek op hoërskool was het my ma vir my geleer om God save the Queen op die klavier te speel.  Toe ons eenkeer by my ouma-hulle gaan kuier het, het ek voor die klavier gaan sit om die Britse volkslied te speel.  My oupa was onsteld en het vir my gesê:  ‘Daardie mense het ons voorvaders doodgemaak – hoe kan jy hulle volkslied speel?’  Ek het nie verstaan hoekom dit hom so ontstel het nie… totdat ek in Desember ‘n boek oor die Anglo-Boere oorlog gelees het, en vroeër vanjaar ‘n dokumentêr daaroor gekyk het.  Op dieselfde manier moet jy in die annale van die geskiedenis gaan delf om die haat tussen die Jode en die Samaritane te verstaan.

 

Kort nadat Salomo dood is, het Israel in twee geskeur (1 Kon.11-12). Jerusalem was die hoofstad van die suidelike ryk, terwyl Samaria die hoofstad van die noordelike ryk geword het.  In 722 v.C. is Samaria verwoes, en het die Assiriërs die mense van die noordelike ryk gevange geneem en in hulle stede laat woon (2 Kon.17:6, Es.4:9-10).  Die armste mense het in die land agtergebly (2 Kron.30:5, 10-11, 18, 34:6).

 

Die koning van Assirië het toe mense uit verskillende wêreldstede gebring om in die stede van Samaria te woon (2 Kon.17:24). Omdat hulle afgode aanbid het, het die Here leeus gestuur om hulle dood te maak.  Die koning van Assirië het toe ‘n Israelitiese priester na Samaria toe teruggestuur om vir die mense te leer hoe hulle die Here moet vrees.  Hulle het hulle afgodery met Jahwe-aanbidding vermeng, en dit so vir die volgende geslagte geleer (2 Kon.17:25-41).  Uiteindelik het hulle van hulle afgode ontslae geraak, maar hulle aanbidding was nie suiwer nie.

 

In 586 v.C. het koning Nebukadnessar van Babilon Jerusalem en die tempel verwoes. Hy het die Jode na sy land toe weggevoer.  In 538 v.C. het koning Kores van Persië hulle vrygelaat en toestemming gegee dat hulle die tempel in Jerusalem kon herbou (2 Kron.36).  Toe hulle besig was met die werk, het die Samaritane gekom en aangebied om te help, maar die Jode wou nie hulle hulp aanvaar het nie (Es.4:1-3).  Die Samaritane het toe probeer om te keer dat hulle die tempel herbou (Es.4:1-6, Neh.4:1-2).

 

In 409 v.C. is ‘n sekere Manasse (die hoëpriester se broer) deur Nehemia weggejaag omdat hy met Sanballat – die goewerneur van Samaria – se dogter getrou het (Neh.13:28). Manasse het na die Samaritane toe gegaan en met Darius Nothus se toestemming op berg Gerisim ‘n tempel vir hulle gebou.[1]  Manasse het toe die hoëpriester van hierdie tempel geword.  In 128 v.C. het Johannes Hirkanus – ‘n Jood – die Samaritane se tempel verwoes.  Êrens tussen 6-9 n.C. het die Samaritane die Jerusalemse tempel ontheilig deur menslike beendere daarin te strooi.[2]

 

Toe Jesus dus sy bediening begin het, was daar ‘n diep-gesetelde haat tussen hierdie twee groepe (Jh.8:48, Lk.9:52-53). En as ons dít verstaan, kry Jh.4:1-42 vir ons nuwe betekenis.  Vir ‘n Joodse Messias om die Samaritane te verlos, was waarlik ‘n groot ding.

 

Martyn Lloyd-Jones vertel die storie van ‘n sekere man in Wallis wat uit ‘n lewe van sonde gered is, en ‘n toegewyde Christen geword het. As gevolg van verskeie redes het hy ná sy bekering van sy gesin af weggeloop en egbreuk gepleeg.  Buiten vir sy seksuele sonde, het hy ook die huis onder sy vrou uit verkoop en die geld gemors.  Toe sy geld klaar was het die ander vrou hom gelos.  Hy was so misrabel dat hy besluit het om selfmoord te pleeg.  Toe hy oppad was om in die river te spring, het hy gehoor hoe Big Ben 18:30 slaan.  Skielik het daar ‘n gedagte deur sy kop gegaan:  ‘Lloyd-Jones gaan seker nou in die kansel instap.’

 

Hy het besluit om nog een keer na Lloyd-Jones te gaan luister. ‘Daarna sal ek myself doodmaak,’ het hy gedink.  Toe hy by Westminster Chapel inloop, was Lloyd-Jones besig om te bid.  Die eerste woorde wat hy gehoor het was:  ‘God have mercy upon the backslider.’  Sy verhouding met die Here is daar en dan herstel.  In die jare wat gevolg het, het hy ‘n ouderling geword.  Tot en met sy dood het hy die Here getrou gedien.[3]  Soos wat die Here daardie dag ‘n afspraak met hom gehad het, het hy in Jh.4:1-42 ‘n afspraak gehad met ‘n sekere Samaritaanse vrou en met die inwoners van Sigar.  En miskien het Hy vandag ‘n afspraak met jou.

 

Die Samaritaanse vrou (v.1-26)

 

[1] Die Lewende Water

Ek ken ‘n man wat hom voor sy bekering na allerhande godsdienste toe gewend het. Maar dit was eers toe hy die Here Jesus ontmoet het, wat sy hart rus gevind het.  ‘n Ander man het gehoop dat geld die leemte in sy hart sou vul.  Hy het op ‘n tyd sewe ingevoerde karre besit.  Onder hulle het hy ‘n Rolls Royce, ‘n Ford Mustang, en ‘n Cadillac gehad.  ‘Ek weet hoe dit voel om my voet op ‘n Ferrari en ‘n Lamborghini se pedaal neer te sit,’ het hy gesê.  Maar ten spyte van al sy rykdom was hy leeg.

 

Noudat hy tot bekering gekom het, het die Here sy siel versadig. Hy ry ‘n ou Toyota bakkie met 900 000 km op die klok.  Iemand het vir hom gesê dat Toyata vir hom ‘n nuwe bakkie sal gee as hy 1 miljoen km slaan, maar hy stel nie belang nie.  ‘As ek ‘n nuwe bakkie kry sal dit my aandag van die Here aftrek,’ het hy gesê.

 

Augustinus het in die vierde eeu geleef. Voor sy bekering was hy seksueel losbandig.  Hy het vir jare gesukkel om sy verslawing te oorkom, maar toe die Here sy sielsdors geles het, het hy vrygeraak.  Verlede Vrydag het ons by die beradingklas na ‘n CD oor dwelms geluister.  ‘n Jong man het vertel hoe hy verskillende soorte dwelms gebruik het om geluk te probeer vind.  ‘Ek het leeg gebly,’ het hy gesê.  Iemand wat een keer die lewende water gesmaak het, wil nie meer uit die wêreld se vuil toiletbak drink nie.  En dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het.

 

Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels gedoop het as Johannes (v.1). Maar hulle het nie heeltemal reg gehoor nie, omdat Jesus nie self die mense gedoop het nie – sy dissipels het (v.2).  Hy wou nie gehad het mense moes sê:  ‘Ek is deur Jesus gedoop, terwyl jy maar net deur Andreas gedoop is’ nie.  Jesus het dadelik uit Judea vertrek om terug te gaan Galilea toe (v.3, 2:12-13, 3:22).  Dit was die Vader se wil dat Hy op ‘n sekere tyd, plek, en manier moes sterf, en as Hy langer in Judea gebly het sou die Jode Hom gestenig het (8:59).

 

Oppad Galilea toe moes Hy deur Samaria gaan, soos wat ‘n mens oppad Zimbabwe toe deur Limpopo moet reis (v.4). Jesus moes egter ook deur Samaria gereis het, omdat Hy ‘n Goddelike afspraak gehad het met ‘n sekere Samaritaanse vrou.  Sigar was die naam van die dorpie waar Hy stilgehou het (v.5).  Dit was naby die stuk grond wat Jakob vir sy geliefde en gunsteling seun Josef gegee het (v.5, Gn.33:19, 48:22, Jos.24:32).  In die Ou Testament was die plek se naam Sigem (Rgt.9:7).

 

Buite die dorp was daar ‘n put waaruit Jakob, sy gesin en sy vee gedrink het (v.6). Twee duisend jaar ná hom, het die Samaritane nogsteeds die put se vars vloeiende water gedrink.  Die put bestaan vandag nog.  Jesus het die 40+ km afgelê en was moeg, honger, en dors toe Hy teen 18:00 in Sigar aangeland het (v.6-8, Gn.24:11).  Dit dui vir ons aan dat Hy volkome mens was (19:28, Mt.8:24, 4:2, 21:18, Hb.4:15).

 

‘n Sekere Samaritaanse vrou het na die put toe gekom om water te skep (v.7). Die dissipels het dorp toe gegaan om kos te koop (v.8), en kon daarom nie volgens die gebruik vir hulle Rabbi water geskep het nie.  Gevolglik het Jesus die vrou vir ‘n bietjie water gevra (v.7).  Sy was verbaas, omdat geen Rabbi in die openbaar met ‘n vrou sou praat nie, en omdat Jode en Samaritane mekaar gehaat het (v.9).  Soos wat blankes in die verlede vir hulle bediendes blik borde gegee het om uit te eet, sou die Jode en Samaritane nie hulle breekware met mekaar gedeel het nie (v.9, vgl. Mk.7:3-4).

 

Jesus het in effek vir die vrou gesê: ‘As jy geweet het watse groot geskenk God vir jou wil gee, en dat dit die Messias is wat vir jou water vra, sou jy vir Hóm gevra het om die lewende water vir jou te gee.’ (v.10, 7:37-39, Jes.12:3).  Die vrou het glad nie geestelike dinge verstaan nie.  ‘Jy het nie eers ‘n emmer of ‘n tou nie, en die put is meer as 40 meter diep – waar sal jy hierdie lewende water kry?’ het sy gevra (v.11).  ‘Jy is tog nie belangriker as Jakob wat die put vir ons gegee het en self ook daaruit gedrink het nie, is jy?’ (v.12, 1:52, 8:53).

 

Jesus het in geen onduidelike terme vir haar gesê dat Hy wél groter is as Jakob nie. Dié wat uit Jakob se put gedrink het, sou weer dors geword het (v.13).  Dié wat egter van Jesus se lewende water gedrink het, sou nooit weer dors gekry het nie (v.14, 6:35).  Christus se lewende water sou soos ‘n fontein in sy siel opborrel (v.14, 10:10).

 

Die vrou wou graag van hierdie water gehad het, maar het nogsteeds nie Jesus se aanbod verstaan nie (v.15). Sy het nie aan haar siel gedink nie, maar aan die ongerief daarvan om elke dag 800 meter te loop om water te skep.  As Jesus haar die moeite kon spaar sou dit gaaf gewees het (v.15).  Vir haar was Jesus en sy lewende water nie ‘n noodsaaklikheid nie, maar ‘n kruk om die lewe geriefliker te maak – soos die Engelse sê, ‘a nice to have’.

 

Jesus wou ‘n lewende voorbeeld gegee het van wat Hy bedoel, en het vir haar gesê sy moet haar man gaan roep (v.16). Hy wou die dors in haar aanwakker, en het vir haar gewys dat sy tot nou toe sonder sukses die leemte in haar hart met mans probeer vul het.  Sy moes besef het dat sy verlore was, en dat sy ‘n Verlosser nodig het.  Maar sy het nie saamgespeel nie en het probeer om die onderwerp dood te praat.  ‘Ek het nie ‘n man nie,’ het sy gesê (v.17).  Jesus het geweet dat sy ‘n halwe waarheid praat, en het vir haar gesê:  ‘Ja, ek weet jy het nie ‘n man nie.  Jy het al vyf gehad, en bly nou saam met ‘n sesde een.  En om saam te bly is nie dieselfde as om getroud te wees nie.’ (v.17-18).

 

Die les vir ons is duidelik: drink uit die fontein van lewende water.  As jy dit nie doen nie, sal jy vir ewig dors wees in die hel (Lk.16:24).  Elke mens (selfs die ateïs) probeer om die leemte in sy siel met iets te vul.  In ‘n poging om sy dors te les, gryp hy na iets wat hy kan aanbid.  Paulus sê dat alle vorme van gierigheid afgodery is (Kol.3:5).  Sommige mense aanbid geld (Mt.6:24), terwyl ander kos aanbid (Fil.3:20).  Ander aanbid hulleself, hulle liggame, plesier, nuwe goed, helde, slaap, ontspanning, sport, TV, Facebook, YouTube, tegnologie, kennis, die natuur, stokperdjies, mense se goedkeuring, pille, drank, sjokolade, werk, musiek, enigiets – die lys is oneindig.  Ons probeer ons dors met hierdie dinge te les, en hoop dat die afgode ons begeerte sal vervul.

 

Maar dan gebeur die teenoorgestelde: jy word ‘n slaaf van die dinge wat jy aanbid, sodat jy uiteindelik nie meer ‘nee’ kan sê nie.  Jy kom agter dat die afgod ‘n harde meester is wat baie vereis en nooit iets teruggee nie.  Die dwelms wat jy gebruik, die nuwe goed wat jy koop, en die plesiertjies wat jy geniet versadig jou nie finaal nie.  Dit wat vir jou lekker gelyk het trek jou kaal uit en los jou met niks.  Dit vernietig jou gesondheid, jou verhoudings, jou finansies, en uiteindelik ook jou ewige siel.  Maar jy besef dit nie, totdat dit te laat is.

 

En wanneer jy met jou hande in jou hare sit, dan fluister die afgod met sy stink asem in jou oor: ‘Ek weet jy het tot nou toe nie sukses gehad nie, maar dalk moet jy nog net één keer probeer.  Ek is seker jy sal hiérdie keer gelukkig wees.  Een man is nie genoeg nie; vyf mans behoort die ding te doen (v.18).’  Die afgod fop jou, sodat jy weer in die strik trap.  Jy kom nie agter dat Pd.1:8 waar is nie:  “die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.”

 

Net Jesus kan die leemte in jou siel vul en jou dors les (v.14). Wanneer sal jy agterkom dat jou gunsteling sonde jou nie gelukkig kan maak nie?  Los die gekraakte drinkbakke van die wêreld – dit kan nie water hou nie (Jer.2:13).  Kom deur geloof en gebed na Jesus toe, en drink gratis uit Golgota se ewige fontein.  Moenie net jou lippe natmaak nie, maar hou aan drink totdat jou siel versadig is met Christus wat jou na die hemel se waterfonteine toe sal lei (Op.7:17).

 

Dalk hét jy al van hierdie water geproe. Jy het dit so geniet dat jy gedurig met die emmer van gebed kom skep het.  Maar intussen het jy van die Herder af weggedwaal om weer uit die stilstaande waterpoele van jou sonde te drink.  Dit het jou siek gemaak.  Dit is glad nie ‘n oordrywing om te sê dat jy maande of jare laas die soetheid van ‘n verhouding met die Here geniet het nie.  Jou dae van vrede en blydskap in Jesus is ‘n vae herinnering, sodat jy saam met Dawid bid om dit weer te ervaar (Ps.51:14).

 

Hoekom kom jy nie vandag terug na die Here toe nie? Hy sal jou met sy hele hart terug ontvang, en is meer as bereid om jou te vergewe.  “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (Jk.4:8, 10).  Kom was jou vermoeide siel in die fontein van sy bloed, en drink uit die koel vars strome van sy plesier; die helder waterstrome van Jesus en sy Woord (Ps.36:9).

 

There is a fountain filled with blood

 drawn from Emmanuel’s veins;

 and sinners plunged beneath that flood

 lose all their guilty stains.

The dying thief rejoiced to see

 that fountain in his day;

 and there may I, though vile as he,

 wash all my sins away.

E’er since, by faith, I saw the stream

 thy flowing wounds supply,

 redeeming love has been my theme,

 and shall be till I die.

–William Cowper–

 

[2] Ware aanbidding

Omtrent twee weke gelede het ‘n onbekende man by my vriende gehoor dat ek deel was van ‘n veldtog teen aborsie. Hy het my nommer gekry en vir my ‘n Whatsapp gestuur.  ‘Aborsie is gebou op die fondasie van evolusie,’ het hy gesê.  Na my mening is dit presies reg.  Iemand wat glo dat mense en lemoene uit dieselfde poel ontstaan het, behoort ook te glo dat aborsie heeltemal aanvaarbaar is.  Die manier waarop ‘n mens lewe is ‘n direkte uitvloeisel van wat hy glo.

 

Die Samaritaanse vrou se verkeerde idees oor God daartoe gelei dat sy ‘n afgod gemaak het van seks (v.22). Tog het sy probeer om haar sonde te verskoon.  Toe Jesus sy vinger op die rou senuwee van haar sonde gelê het, het sy die onderwerp verander en oor godsdiens gepraat.  Sy wou vir die ‘profeet’ gewys het dat sy nie só sleg was nie, en dat sy darem godsdienstig was (v.19-20).

 

‘Ons en ons voorvaders het die Here op hierdie berg aanbid,’ het sy gesê (v.20). ‘Berg Gerisim is die plek waar Abraham, Jakob, en die Israeliete vir God aanbid het (Gn.12:6-7, 33:18, 20, Dt.11:29, 27:12, Jos.8:33).  Maar volgens julle Jode is Jerusalem die plek wat God vir Homself uitgekies het (v.20, Dt.12:5, 11, 14, 18, 21, 26, 2 Kron.6:6, 7:12, Ps.132:13).  Wie is reg?’ het sy gevra.

 

Natuurlik het sy verwag dat Jesus ‘Jerusalem’ gaan sê. Maar Hy het nie.  ‘Dit is nie soseer die plek van aanbidding wat belangrik is nie.  Die vraag is eerder of jy die Here reg aanbid.  Die Samaritane aanbid verkeerd.  Julle glo nie die hele Ou Testament nie (hulle ‘Bybel’ het net uit die eerste vyf boeke bestaan), en daarom weet julle nie mooi wie of wat julle aanbid nie (v.22, 2 Kon.17:28-34).  Die Messias is ‘n Jood en daarom is verlossing uit die Jode (v.22, Mt.1:21, 2:4-5, Rm.9:5, 11:26, Jes.2:3).  Hy het egter gekom om mense uit alle nasies te verlos (v.42), sodat hulle die Vader in gees en in waarheid kan aanbid (v.23-24, Fil.3:3).  M.a.w. God wil nie hê dat mense Hom moet aanbid soos wat húlle wil nie, maar soos wat Hy in sy Woord voorskryf – in waarheid.  Hulle moet dit egter nie met ‘n koue hart doen wat net uiterlik by die reëls hou nie.  Hulle moet Hom met ‘n opregte hart aanbid – in gees.  God self is ‘n onsigbare en alomteenwoordige Gees, en daarom kan sy kinders op enige plek vergader om Hom te aanbid (v.24, 22, 1 Kor.3:16, Sef.2:11, Mal.1:11, 1 Tm.2:8).’  Die Jerusalemse tempel sou buitendien in 70 n.C. verwoes word.

 

Die vrou het nogsteeds nie toegegee nie en het gesê: ‘Ek weet dat die Messias kom.  Wanneer hy kom sal hy vir ons alles sê; hy sal besluit wie reg is tussen die Jode en die Samaritane’ (v.25).  Die Samaritane se onvolledige Ou Testament het gemaak dat hulle ‘n Messias verwag het wat niks meer was as ‘n leermeester nie, die Taheb, soos wat hulle hom genoem het (Dt.18:18).  Op grond van Nm.24:7 het hulle ook geglo dat daar water uit die Messias se emmers sou vloei.[4]  Êrens moes die vrou twee en twee bymekaar gesit het toe Jesus van Homself gepraat het as die lewende water (v.14).  In v.26 het Jesus dit reguit gesê:  ‘Die Messias van wie jy praat staan voor jou.’ (vgl. 9:35-37).  Hy was meer as net ‘n gewone leermeester; Hy was EK IS – die God van Eks.3:14 (v.26).

 

Aanbid die Here in gees en in waarheid. As jy dit nie doen nie, sal die afgode wat in die hoeke van jou hart wegkruip baie gou in jou lewe sigbaar word.  Om die Here reg te aanbid moet jy die hele Skrif in oënskou neem, en nie soos die Samaritane net aan jou gunsteling gedeeltes vashou nie.  Maak dan seker dat jy nie net die Nuwe Testament, Psalms en Spreuke lees nie.  Hoe kan jy die Here reg aanbid as jy nie weet wat die hele Bybel oor Hom sê nie?

 

Sien daarom sy heiligheid in Levitikus en sy liefde in Hosea; sy voortreflikheid in Hebreërs en sy geregtigheid in Romeine. Wat leer Esegiël, Jona en Openbaring oor God?  Iemand wat die hele Skrif se lering oor God in ag neem, sal saam met die Westminster Kategisme moet bely:  ‘God is ‘n Gees – oneindig, ewig, en onveranderlik in sy wese, wysheid, almag, heiligheid, geregtigheid, goedheid en waarheid.’

 

Om die Here reg te aanbid moet jy Hom nie net in waarheid aanbid nie, maar ook in gees.  Voordat jy lees moet jy bid dat die Here jou oë sal oopmaak (Ps.119:18).  Bely jou sonde, sodat dit nie in jou pad staan om Hom te ken nie (1 Pt.2:1-2).  Die Samaritaanse vrou kon nie die Here in gees en waarheid aanbid het, totdat sy nie eers haar sonde laat staan het nie.  Is daar ‘n sonde wat jy moet laat staan, sodat jy die Here opreg en in waarheid kan aanbid?

 

Die dissipels (v.27-38)

Van alle sendelinge wat in Suider-Afrika gewerk het, is David Livingstone seker die bekendste. In sy leeftyd en vir ‘n paar dekades daarna het geen sendeling vir soveel swart mense gepreek soos hy nie.[5]  En tog het hy nie regtig vrug op sy arbeid gesien nie.  Hy was egter oortuig dat die Here sy beloftes sou vervul, en dat Christenskap sal triomfeer.  “want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes.11:9).  “En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps.72:19).  Vir my lyk Jesus in v.35-38 juis dít vir sy dissipels gesê het.

 

Die dissipels het van die dorp af teruggekom net toe Jesus vir die vrou gesê het Hy is die Messias (v.26-27). Hulle was verbaas dat Hy met ‘n vrou gepraat het, en tog het nie een van hulle gevra:  ‘Wat soek jy?’ of ‘Hoekom praat U met haar?’ nie (v.27).  Die vrou het omgedraai en haar waterkruik daar gelos sodat Jesus kon drink (v.28, 7).  Haar aksie het uitgebeeld dat Jesus haar dors geles het.

 

Toe sy in die dorp aangekom het, het sy vir die mense van Jesus vertel (v.29). Sy wat voorheen ‘n uitgeworpene was het nie omgegee wat die mense dink nie – sy kon dit nie meer inhou nie, en moes eenvoudig vir hulle vertel het van die man wat haar hart en lewe geken het (v.29).  ‘Kan hy dalk die Christus wees?’ het sy gevra (v.29).  ‘Iemand wat vir ons alles kan vertel móét mos die Messias wees, nie waar nie?’ (v.25, 1:48-51).  Die mense het na die put toe geloop (v.30).  As hierdie vrou nie bang was om openlik oor skandelike lewe te praat nie, moes daar iets in Jesus gewees het, en die Samaritane wou geweet het wat dit was.

 

Terwyl die dorpsmense die 800 meter afgelê het, het die dissipels daarop aangedring dat Jesus iets moet eet (v.31). Hy wou egter nie, en het gesê dat Hy kos het waarvan hulle nie weet nie (v.32, 14).  Net soos wat die vrou nie sy les oor geestelike water verstaan het nie (v.15), het die dissipels nie geweet dat Hy van geestelike kos praat nie – hulle het gedink dat iemand anders vir Hom kos gebring het (v.33).  Jesus het dit toe duidelik gemaak:  ‘Om my Vader se wil te doen is die kos wat My versadig’ (v.34, 6:38, 17:4, 19:30, Job 23:12).

 

En wat was die Vader se wil? Dat Hy mense van hulle sonde moes red en in die hemel moes inbring, net soos wat ‘n boer die oes in sy skure inbring (v.35).  Die boer weet dat daar ná die saaityd min of meer vier maande moet verloop voordat hy die oes kan inbring (v.35).  Maar die geestelike oes wat deur Johannes die Doper en die Ou Testament profete gesaai is, was alreeds ryp; die dissipels kon dit net afpluk en inbring (v.35, 37-38).

 

Die Samaritane die Messias se koms verwag (v.25) en was gereed om Hom te ontvang (v.30). Dit is nie net dat mense in die toekoms tot bekering sou kom nie, maar Jesus was alreeds besig om mense te red en vrug vir die ewige lewe in te samel (v.36).  Dié wat saai sowel as hulle wat oes, sou saam bly gewees het oor die mense tot bekering kom (v.36-37, 1 Kor.3:7).  In Am.9:3 staan daar:  “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees.”

 

Wanneer gelowiges siek is, beproef word, of oud raak, wonder hulle soms hoekom hulle nog op die aarde is. Volgens die Bybel het die Here ons hier gelos om dissipels te maak (Mt.28:19-20).  ‘n Gelowige wat nie hiermee besig is nie, is ongehoorsaam.  Dit beteken nie dat elke gelowige sy werk moet bedank om ‘n sendeling, predikant of straatevangelis te word nie.  Dit beteken wel dat jy die evangelie moet leef en verkondig aan die mense met wie jy in aanraking kom.

 

Vertel dit vir jou kinders en kleinkinders; deel dit met jou gesin en familie; moenie skaam wees om vir jou vriende, kollegas en bure te vertel nie. Nooi hulle saam met jou kerk toe.  Moenie moed opgee as hulle ‘nee’ sê, of as hulle die evangelie verwerp nie.  Hou aan, “want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal.6:9).  Moenie dink dat die Here jou arbeid misgekyk het, of dat Hy van jou gebede vergeet het nie.  Die Here sal iemand stuur om te oes waar jy gesaai het, sodat julle saam bly kan wees (v.36-38).

 

Op die oomblik sien ons nie baie bekerings nie, maar ek glo dat die Here een van die dae iets gaan doen. Dalk is ons in die hemel wanneer dit gebeur, maar ek kan nie glo dat die Here ons sal stuur om te saai as daar nie ook ‘n oes sal wees nie.  Op grond van Jesus se eie woorde glo ek dat dit ‘n groot oes gaan wees.  Die Bybel sê vir my dat die Here se Koninkryk sal wees soos ‘n berg wat die hele aarde vul, en soos ‘n mosterd saadjie wat groei om die grootste plant in die tuin te wees (Dn.2:35, 44, Mt.13:31-32).  Christus se Koninkryk sal strek van see tot see (Ps.72:8, Sg.9:10).  Hy sal oor die hele aarde regeer.  Die Vader sal nasies as sy erfdeel gee, en hulle sal Hom aanbid (Ps.2:8, 72:11).

 

Die bekerings waarna ons nou smag sal in daardie dag soveel wees soos die sand van die see. Petrus het van hierdie tye geprofeteer (Hd.3:19).  Jode en heidene sal by die miljoene tot bekering kom (Rm.11:15, 25-27), sodat die grootste herlewings in die kerk se geskiedenis nie naastenby daarmee vergelyk kan word nie; dit sal wees soos ‘n skare op Loftus teen Indië se bevolking.  “Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie!  Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie!  Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.” (Jes.54:1).

 

Die Samaritane (v.39-42)

Het jy al ooit ‘n gewone persoon ontmoet, om na ‘n paar maande agter te kom dat hy of sy welbekend is? Ek het eenkeer so iets ervaar.  Die persoon het vir my dood normaal gelyk.  Met die verloop van tyd het ek in internasionale Christelike tydskrifte van hom gelees.  Outeurs wie se boeke ek op my rak het, het van hom gepraat.  By ‘n predikante byeenkoms waar hy teenwoordig was, het sy selfoon gelui.  ‘Verskoon my broers,’ het hy gesê, ‘Dit is mnr. Mbeki.’  Ek weet tot vandag toe nie of hy ‘n grap gemaak het nie, maar vir my het hy ernstig gelyk.  Alhoewel Jesus volkome mens was, het die Samaritane agtergekom dat Hy nie maar net enigiemand is nie, maar die Verlosser van die wêreld (v.42).

 

In ooreenstemming met Jesus se opmerking oor die groot oes (v.35), het baie van die Samaritane in Hom geglo (v.39).  Dit het hulle verstom dat hierdie vreemdeling die losbandige vrou se geheime lewe geken het (v.39).  Hulle was nie soos die Jode wat maar net agter sy wonderwerke aangekom het nie, maar hulle het na Hom toe gekom en daarop aangedring [Gk., v.31] dat Hy by hulle moes bly (v.40, 30).  Hulle wou meer van Hom geweet het en by Hom geleer het.  Die feit dat hulle vir ‘n Jood gevra het om daar te bly wys dat hulle regtig geglo het Hy is die Een.  Jesus het vir twee dae daar gebly (v.40).  Gedurende hierdie tyd het baie van hulle geglo toe hulle sy Woord gehoor het (v.41, kontr. 3:11, 32, 1:11).  Hulle het geweet dat Hy inderdaad die Messias is van wie Moses gepraat het (v.25, Dt.18:15, 18).

 

Die vrou was reg om te sê dat Jesus alles weet. Nou het die Samaritane dit self uit sy mond uit gehoor (v.42).  Skielik het hulle besef dat Hy nie maar net ‘n gewone profeet of leermeester is nie (v.19, 25), maar dat Hy die Verlosser van die wêreld is (v.42).  Alhoewel Hy ‘n Jood was, het Hy nie net vir die Jode gekom nie (v.22).  Hy het ook gekom om die Samaritane te red (v.42, 3:16, 1 Jh.4:14).  Jesus het gekom om vername en godsdienstige Joodse mans te red (hfst.3), maar ook om lae klas en losbandige Samaritaanse vroue te red (hfst.4).

 

Maak seker dat jy persoonlik ervaar dat Jesus die Verlosser van die wêreld is. Dit sal tragies wees as jy dit uit die Bybel uit geweet het, maar verlore gaan omdat jy nie self daardie verlossing gesmaak het nie.  Die transformasie in ander mense harte en lewens behoort vir jou te wys dat Jesus regtig die Verlosser van die wêreld is (v.39, 42).  Vra dat Hy ook na jou hart toe sal kom (v.40).  Wees soos die Samaritane wat vir twee dae na sy Woord geluister het (v.40-41).  Sonder tyd af om die Bybel te lees (begin by Johannes); bid dat die Here jou oë sal oopmaak om te sien dat Jesus nie maar net die Verlosser van die wêreld is nie, maar dat Hy ook jóú Verlosser is.  Wanneer jy hierdie verlossing in jou siel ervaar het, sal jy besef dat Jesus in ‘n klas van sy eie is.  Hy alleen is die Verlosser van die wêreld en deel nie hierdie titel met Mohammed, Buddha of enigiemand anders nie.

 

Ons lewe in ‘n wêreld waar mense afsprake maak en kanseleer. Partykeer verhoed omstandige dat hulle die afspraak kan nakom.  As dit ‘n moeilike afspraak is, ignoreer of vermy mense jou oproepe.  Met Jesus is dit anders.  As Hy ‘n Goddelike afspraak met iemand gemaak het, kan hulle nie weghardloop of die afspraak kanseleer nie.  Hy sal sy raadsplan uitvoer en persoonlik met hulle ontmoet.

[1] Andrew Robert Fausset, Fausset’s Bible Dictionary, ‘Samaria’ en James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, ‘Samaritans’

[2] A.B. du Toit, Handleiding by die Nuwe Testament II, p.511

[3] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, pp.302-303

[4] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.439

[5] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.181-183