’n Pleidooi om te vergewe

Unforgiveness

Toe ek Nelspruit gebly het was ek hiper-krities, negatief, en bitter. In die begin van 2004 het ek ‘n predikante konferensie bygewoon.  Een van die sessies het gehandel oor kritiek in die bediening.  In die begin van die sessie het ek gedink:  ‘Mense het dit al teen my gesê.’  Teen die middel van die sessie het ek gedink:  ‘Ek het dit al teen mense gesê.’  Aan die einde van die sessie was ek onder ‘n diep oortuiging van sonde.  Ek het gevlug en op die berg gaan bid.  Ná die konferensie het ek teruggegaan Nelspruit toe en dinge met die predikant en sy vrou uitgepraat.  Ek hoop van harte dat Paulus se brief aan Filemon jou sal help om jou eie hart te ondersoek, en nie die splinter in jou broer se oog raak te sien nie.

 

Paulus se seënwense (v.1-3)

Een van my vriende moes ‘n dissipline saak in hulle gemeente hanteer. In die weke en maande daarna het die man vir hom lelike boodskappe gestuur en gemaak of my vriend die skuldige een is wat hom moet bekeer.  My vriend het sy koel gehou en die saak in gebed aan die Here opgedra.  Omtrent 18 maande later het die man tot sy sinne gekom en gevra dat my vriend en die res van die gemeente hom sal vergewe.  Hoe vergewe jy mense wanneer hulle jou te na kom?  Paulus se brief aan Filemon leer vir ons hoe.

 

Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was hy vir twee jaar onder huisarres in Rome (v.1, Hd.28:16, 30-31). Gedurende hierdie tyd het hy nie net Filemon geskryf nie, maar ook Efesiërs, Filippense en Kolossense (Ef.6:20, Fil.1:13, Kol.4:18).  Hy was nie in die tronk omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat hy die evangelie verkondig het (v.1).  Deur na sy gevangeneskap te verwys het Paulus indirek vir Filemon gesê:  ‘As ek hierdie verdrukking kan deurmaak, kan jy sekerlik die man wat jou te na gekom het vergewe.’

 

Alhoewel Paulus sy eie briewe onderteken het (v.19, 2 Ts.3:17), het ‘n sekretaris dit onder sy diktee geskryf (Rm.16:22). Jong Timoteus was waarskynlik sy sekretaris toe hy Filemon geskryf het (v.1, Hd.16:3).  Die brief was bedoel vir Paulus se geliefde medewerker, Filemon (v.1).  Hy het dit egter ook gerig aan sy suster in die geloof, Appia, en aan Archippus, sy dapper medestryder (v.2).  Dit is nie onmoontlik dat hierdie twee mense Filemon se vrou en seun was nie.  Die brief moes ook voorgehou word aan die Kolossense wat in sy huis ontmoet het (v.2, vgl. v.2, 10, 23-24 met Kol.4:9-10, 12-14, 17).  Alhoewel dit ‘n persoonlike brief was, moes almal daaruit geleer het.  Die Vader en die Seun sou aan hulle die genade gegee het om in vrede met mekaar te lewe (v.3).

 

Paulus se gebed (v.4-7)

Facing the Giants is ‘n film wat gaan oor ‘n middelmatige voetbalspan wat uiteindelik heel bo uitkom en die kampioenskappe wen. Die span het aanvanklik geglo dat hulle nooit die finaal sal maak nie.  Om vir hulle volharding te leer, het die afrigter vir die sterkste speler ‘n baie moeilike taak gegee om te doen.  Toe die speler wou uitsak, het die afrigter vir hom geskreeu om aan te hou.  ‘As jý uitsak sal die res van die span jou voorbeeld volg,’ het hy gesê.  ‘Maar as jy volhard sal die ander spelers moed hê.  Jy het die mag om hierdie span te maak of te breek.’

 

Net soos wat sy aksies die span beïnvloed het, sou Filemon se geloof en liefdevolle karakter gemeente beïnvloed het. As Filemon vir Onesimus vergewe het, sou dit ‘n sterk boodskap aan die res van die gemeente deurgestuur het.  Maar as hy dit nié gedoen het nie, sou die suurdeeg van sy bitterheid die hele gemeente deurtrek het.

 

Paulus het die Here gereeld vir Filemon gedank (v.4). Filemon se rotsvaste geloof in die Here en sy praktiese liefde vir die heiliges was so noemenswaardig, dat mense vir Paulus daarvan vertel het (v.5, vgl. Ef.1:15, Kol.1:4).  Sy liefde vir ander het voortgevloei uit ‘n opregte geloof in Jesus (Gal.5:6).  Paulus het gebid dat Filemon se geloof ‘n effek op die gemeente sou hê, sodat hulle kon besef watse heerlike voorregte hulle in Christus het (v.6, Ef.1:3).  Filemon se oop huis en liefde was vir die gemeente so verfrissend soos koue water in jou gesig as jy klaar gedraf het (v.7, 2).  Die nuus hiervan het vir Paulus bly gemaak en hom bemoedig (v.7).

 

Paulus se versoek (v.8-22)

‘n Man het my eenkeer gebel en gesê dat sy vrou weg is, en dat hy nie weet wat van haar geword het nie. Ek het die vrou gebel en gevra of ek haar kan sien.  Sy het vir my verduidelik waar sy is, en ek het soontoe gery om met haar te praat.  Ek het mooi gevra dat sy na haar man toe moet terugkeer.

 

Die volgende dag het ek met hulle ontmoet en voorgestel dat ons met berading moet begin. Beide van hulle het daartoe ingestem.  Ons het vir omtrent tien of twaalf weke bymekaar gekom.  Deur die Here se genade het dinge drasties verbeter.  Daar was maar nog stampe en stote, maar vandag is hulle huwelik so vrolik en gelukkig soos voëltjies in die lente.  Ek klop myself nie op die skouer nie, maar wil illustreer hoe jy soms by mense moet pleit om te vergewe.  Dit is wat Paulus met Filemon gedoen het.

 

As ‘n apostel en ambassadeur van Christus, het Paulus die reg gehad om vir Filemon te beveel (v.8-9, 1 Ts.2:6). Maar omdat hy hom liefgehad het, het hy langs hom kom staan en hom gesmeek (v.9).  Wat was Paulus se versoek?  Filemon se weghol-slaaf Onesimus, het op een of ander manier vir Paulus ontmoet.  Paulus het die evangelie met hom gedeel en sy geestelike pa geword (v.10, 1 Kor.4:14-15).  Voor sy bekering was Onesimus nutteloos, onbruikbaar en lui (v.11).  Maar nou sou hy, volgens sy naam se betekenis, nuttig en bruikbaar gewees het vir Filemon en vir Paulus (v.11).

 

Paulus wou gehad het dat Onesimus dinge met sy meester moes regmaak, en daarom het hy hom na Filemon toe teruggestuur (v.12). Om te verhoed dat slawehandelaars hom langs die pad sou vang, het Paulus vir Tichikus met die Kolossense-brief in sy hand saamgestuur (Kol.4:7-9).  Paulus het vir Onesimus uit sy hart uit liefgehad (v.12).  Hy wou bitter graag gehad het dat Filemon hierdie nuwe gelowige moes liefhê soos wat hy die res van die gemeente liefgehad het (v.5, 7).

 

Paulus was lief vir Onesimus en sou daarvan gehou het as hy by hom gebly het (v.13). Hy kon vir Paulus tot diens gewees het deur bv. briewe aan die gemeentes af te lewer (v.13).  Dit sou vir Paulus gewees het asof Filemon self daar was om hom te dien (v.13, 1 Kor.16:17).  Hy wou egter nie sy perke oorskry het nie, maar wou gehad het dat Filemon self ‘n besluit moet neem (v.14).  Dit sou nie gehelp het as Filemon verplig gevoel het om dit te doen nie (v.14).  Alhoewel Onesimus verkeerd was om van sy meester af weg te hardloop, was dit binne God se soewereine plan, sodat hy tot bekering kon kom en Filemon hom vir ewig as ‘n broer in die Here kon terughê (v.15-16, Rm.8:28, Gn.50:20).

 

As ‘n medewerker in die Here het Paulus vir Filemon gesmeek om vir Onesimus terug te neem, asof dit Paulus self was wat na hom toe gekom het (v.17). Dit is so dat Onesimus hom skade aangedoen het en geld by hom gesteel het (v.18).  Dit is ook so dat sy daad onder die Romeinse wet strafbaar was met die dood.[1]  Paulus het geskryf om te vra dat Filemon vir Onesimus moes vergewe.  Soos wat Jesus Paulus se sondeskuld betaal het, was Paulus bereid om Onesimus se finansiële skuld te betaal (v.18-19).  Om dit te bevestig het hy hierdie woorde met sy eie hand geskryf (v.19).  Onesimus het vir Filemon geld geskuld, maar Filemon het onder Paulus tot bekering gekom en hom sy lewe geskuld (v.19).  In sy oorweging om vir Onesimus te vergewe moes Filemon dit asseblief onthou het.

 

Filemon het alreeds Paulus se hart bly gemaak (v.7), maar as hy vir Onesimus vergewe het sou hy die apostel se hart bevoordeel en verkwik het (v.20). Paulus het Filemon se karakter geken (v.5, 7) en geweet dat hy nie net vir Onesimus sou vergewe nie, maar dat hy hom met vreugde sou ontvang (v.21).  Wie weet of hy nie miskien vir Onesimus sy vryheid gegee het nie?  Buiten vir sy pleidooi om vir Onesimus te vergewe, het Paulus ook ‘n praktiese versoek gehad:  ná sy vrylating sou hy graag vir ‘n tydjie in Filemon se gastekamer wou bly (v.22).  Hy was oortuig dat ‘n genadige God die gelowiges se gebede vir sy vrylating gaan beantwoord (v.22, Fil.1:19, 2:24).

 

Paulus se groete (v.23-25)

Weet jy van skole wat ‘n tekort het aan mans onderwysers? Omdat daar min of geen mans op die personeel is nie, moet ‘n onderwyseres die seuns se eerste krieketspan afrig.  Sy het ‘n boek in die biblioteek uitgeneem, en het ‘n goeie idee van hoe die sport werk.  Haar teorie en praktyk is egter soos die teenpole van ‘n magneet.  Sy weet glad nie hoe om ‘n bal te vang, hoe om ‘n veeghou te speel, of hoe om die bal te laat wegbreek nie.  As hulle dit kon gehelp het, sou die seuns nie wou gehad het dat sy hulle moet afrig nie.

 

Op dieselfde manier wil ons nie na die lang uitgerekte stories luister van iemand wat nie weet wat dit beteken om die slagoffer van ander se sonde te wees nie, iemand wat nie weet wat dit beteken om te vergewe nie. Saam met Paulus kan ek eerlik vir jou sê dat ek nie maar net die teorie van vergifnis ken nie.

 

Vyf van Paulus se medewerkers het vir Filemon groete laat weet (v.23-24). Epafras was ‘n mede-gevangene vir die evangelie (v.23, Kol.4:12).  Hy het die kerk in Kolosse begin en was goed bekend aan die gemeente (Kol.1:7).  Aristarchus van Tessalonika was saam met Paulus in die tronk (Kol.4:10, Hd.19:29, 20:4, 27:2).  Demas was sy medewerker, maar het hom verlaat omdat hy die wêreld liefgekry het (2 Tm.4:10).  Lukas was ‘n mediese dokter wat tot die einde toe by Paulus gebly het (Kol.4:10, 2 Tm.4:11).

 

Markus het onder Petrus tot bekering gekom (1 Pt.5:13) en was Barnabas se neef (Kol.4:10). Hy het Markus geskryf.  Jare tevore het Paulus en Barnabas paaie geskei oor hom (Hd.15:36-41).  Paulus het intussen weer vir Markus vertrou, en hom as ‘n medewerker beskou (v.23).  Sy versoening met Markus sou vir Filemon en die gemeente ‘n groot les gewees het:  Paulus ken nie maar net die teorie van vergifnis nie, maar die praktyk ook.  Met die Here saam kon elke gelowige dit reggekry het om hulle vyande te vergewe (v.25).

 

Ons moet mekaar vergewe, want ons dit nié doen nie, sal die Here ons ook nie vergewe nie (Mt.6:12, 14-15). Iemand wat nie van die bitterheid in sy of haar ontslae raak nie, sal die Koninkryk van God nie sien nie, maar vir ewig in die hel wees (Mt.5:22, 1 Jh.3:15).

 

Volgens die Ef.4:32 moet ons mekaar vergewe soos wat die Here ons vergewe het. Hy vergeld ons nie volgens wat ons verdien nie, maar verwyder ons sonde van ons af weg so ver soos wat die ooste van die weste af is (Ps.103:10, 12).  Hy vertrap ons sondes onder sy voete en werp dit in die diepste see (Mg.7:19).  Hy laat dit soos mis voor die son verdwyn (Jes.44:22).  Hy het ons skoongewas, sodat ons harte spierwit geword het soos sneeu en wit wol (Jes.1:18).  Alhoewel die Here nie aan geheue verlies ly nie, het Hy besluit om nie meer aan ons sonde te dink nie:  Hy haal dit nie op soos wat ons dikwels doen nie (Hb.10:17).

 

Hier is nog ‘n paar dinge wat jy in gedagte moet hou:

 

[1] God keur nie sonde goed nie, maar kon verhoed het dat mense jou te na kom. Hy het dit egter nie gedoen nie, omdat Hy iets goed in gedagte het, en omdat Hy jou meer soos Jesus wil maak (v.15, Rm.8:28-29, Gn.45:5, 8, 50:20).

 

[2] My en jou sonde was so groot dat dit Jesus sy lewe gekos het om ons te vergewe. Hoe kan ons dan weier om ander se kleiner oortredings teen ons te vergewe (Mt.18:21-35)?

 

[3] Soos enige ander sonde, bedroef bitterheid die Heilige Gees en steek dit soos ‘n dolk sy hart. Die duiwel kry lekker as ons nie wil vergewe nie.

 

[4] Die Here sal wraak neem – los dit in sy bekwame hande (Rm.12:19, 1 Pt.2:23, Ps.37:5-6). Ons wil iemand se keel afsny as hy lieg, en hom op die hand slaan as ‘n moord pleeg.  Die Here weet hoe swaar Hy die persoon moet straf.  John Piper sê:  ‘If you hold a grudge, you doubt the Judge.’[2]  Dink asseblief daaraan dat jy nie al die feite het nie (al dink jy ook so).  God ken mense se geheime en motiewe, en kan daarom akkuraat oordeel.

 

Is die persoon wat teen jou gesondig het ‘n Christen? Jesus het die straf vir sy sonde op Homself geneem aan die kruis.  Is die persoon ongered?  Treur vir die persoon – moenie bly wees nie, maar treur – omdat God hom vir ewig in die hel gaan straf.

 

[5] Die Bybel verbied ons om ander Christene voor die hof te daag (1 Kor.6:1-8). Maar wat as die persoon die landswet oortree het deur bv. jou gesin te vermoor?  Volgens Mt.18:17 neem jy aan dat die persoon ‘n ongelowige is, en vat jy die saak verder.  Om te vergewe beteken nie jy mag nie vir die polisie sê nie.  God het die regering daargestel om sy wraak uit te oefen (Rm.13:4).

 

[6] Onthou dat jy ook al teen ander mense gesondig het (Pd.7:21-22). Ek is seker jy wil hê dat mense jóú moet vergewe.  Doen dan aan ander wat jy aan jou gedoen wil hê (Mt.7:12).

 

[7] Die persoon wat die swaarste ly onder bitterheid is jy. Iemand het gesê:  ‘Om bitter te wees is soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood.’  Iemand wat bitter is raak uiteindelik so agterdogtig soos Saul, sodat hy heeltemal irrasioneel optree.  “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rm.12:21).

 

[8] Wees versigtig vir wie jy luister; pasop vir die raad van ongelowiges (Ps.1:1). Moenie na die sielkundige, berader, vriend, familielid, kollega of vals leraar luister wat vir jou sê:  ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat’ nie (Mt.5:43).  Iemand wat sê:  ‘Ruïneer hom,’ is die duiwel se agent en gee vir jou slegte raad.  Jesus het gesê:  “Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (Mt.5:44).  Jesus het vir sy vyande gebid toe Hy aan die kruis was (Lk.23:34).  Volg sy voorbeeld.

 

[9] As jy nie vergewe nie sal jou verhouding met die Here skade ly (1 Pt.3:7). Dit mag selfs wees dat Hy besluit om jou siek te maak of dood te maak as jy met ‘n onvergewensgesinde hart aan die nagmaal deelneem (1 Kor.11:30).

 

[10] Soos wat wellus omsit in egbreuk, sit bitterheid om in moord (Mt.5:21-22). Moord gebeur nie op die ingewing van die oomblik nie.  Dit het al lankal in die hart gebroei.  Volgens Jk.3:16 is bitterheid die oorsaak van baie ander sondes.

 

[11] Bitterheid affekteer nie net jou verhouding met die persoon wat jou te na kom nie. Baie ander mense is betrokke.  As Koos en Piet vir mekaar kwaad is, raak dit ook hulle vroue en kinders.  Maak daarom seker “dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie.” (Hb.12:15).

 

Wat moet jy dan doen? By die wederkoms gaan dit nie saakmaak of jy reg was, en of jy die argument gewen het nie.  Verneder jouself en neem die eerste stap om die saak uit te praat (Lv.19:17, Mt.5:23-24).  As jy alles in jou vermoeë gedoen het om vrede te maak, en die ander persoon nie vrede wil hê nie, kan jy met ‘n skoon gewete jou kop op jou kussing neerlê (Rm.12:18).

 

George Whitefield en John Wesley was goeie vriende, totdat hulle oor die uitverkiesing verskil het. Wesley het ‘n preek teen Whitefield se Calvinisme gepreek.  Ten spyte daarvan dat Whitefield hom gesmeek het om dit nie te publiseer nie, het Wesley nie geluister nie.  Daar het ‘n kloof tussen die twee vriende ontstaan.  Whitefield het menigmale probeer om dit reg te stel, maar Wesley was so hard soos ‘n klip.  Uiteindelik het die Here sy hart sag gemaak, en het hulle met mekaar versoen geraak.  Toe Whitefield dood is, het Wesley op sy begrafnis gepreek.[3]  Hoe sou Wesley gevoel het as Whitefield gesterf het, en hulle mekaar nie vergewe het nie?

 

[1] NIV Study Bible, p.1855

[2] John Piper, Future Grace, p.266

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield (2 volumes)