Is jou geloof eg?

Authentic faith

Enige jong kind is beïndruk as sy maatjie vir hom ‘n blink steentjie gee. Hy bêre dit in sy laai en dink dat dit iets werd is.  Dit lyk miskien vir hom soos ‘n diamant, maar dit is nie een nie.  Dit is so min werd soos die glas waarvan dit gemaak is.  Net so kan onegte geloof indrukwekkend lyk, maar voor die Here beteken dit niks.  Dit is net egte geloof wat vir Hom aanneemlik is, omdat net hierdie tipe geloof op sy geliefde Seun vertrou en Hom in die arms van geloof na die Vader toe bring.  Sonder egte geloof is dit onmoontlik om die Here te behaag (Hb.11:6).  In Jh.4:43-54 het ons ‘n voorbeeld van beide soorte geloof, en leer ons om die egte van die onegte te onderskei.

 

Onegte geloof (v.43-49)

‘n Bejaarde predikant het vir ons vertel hoe ‘n vrou jare tevore vir sy seun ‘n kaartjie gegee het vir sy verjaarsdag. Sy seun het die kaartjie oopgeskeur en binne-in gekyk.  Hy het vir die tannie gesê:  ‘Hier’s dan niks geld in nie,’ en die kaartjie op die vloer neergegooi.  Partykeer is mense so met die Here:  hulle soek die voorregte wat Hy vir hulle kan bied, maar het nie ‘n belang in Hom nie.  Sulke mense se geloof is nie eg nie.

 

Jesus het vir twee dae by die Samaritane in Sigar gebly en vir hulle die Woord geleer (v.40-41, 5). Na twee dae het Hy teruggegaan Galilea toe (v.43, 3).  Galilea was sy tuis provinsie in die noorde van Israel.  In Sigar het die Samaritane Hom as die Verlosser van die wêreld ontvang (v.42, 29-30).  Maar in Galilea – meer spesifiek in Nasaret – het hulle in sy wonderwerke geglo en nie in Hom nie (v.44-45, 48, Mt.13:57).  Hy was die groot Profeet van wie Moses gepraat het (6:14, 7:40, Dt.18:15, 18), maar die Galileërs het Hom nie erken nie (v.44, Lk.4:24).  En dit is juis hoekom Hy Judea in die suide verlaat het om in Galilea te preek.  In Judea wou die Fariseërs Hom vastrek (v.1-3), terwyl die Jode in Galilea nie in Hom geglo het nie en Hom uitgelos het.

 

Toe Jesus daar aangekom het, het die mense Hom verwelkom (v.45). Hulle het sy wonderwerke by die Paasfees in Jerusalem gesien (v.45).  In hulle oë was Hy ‘n beroemde en nasionale held.  Soos alreeds gesê het hulle in sy wonderwerke belanggestel, en nie in die Een van wie hierdie tekens getuig het nie (v.45, 2:23-25, 3:2, 6:26).  In ‘n sekere sin was hulle verwelkoming eintlik ‘n verwerping, omdat hulle nie ‘n Messias wou hê om hulle te verlos nie, maar ‘n towenaar om hulle te verbaas (v.45).

 

Jesus het weer in Kana aangekom waar Hy die water in wyn verander het (v.46, 2:1-11). Hy het moontlik by een van sy dissipels (Nataniël) tuisgegaan (21:2).  Kana was ‘n klein dorpie tussen die Middellandse See en die See van Galilea, omtrent 8 km noord van Nasaret.  Alhoewel Hy in die verlede ‘n wonderwerk daar gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie en wou hulle nog wonderwerke sien (v.46, 48).

 

Terwyl Hy hier was het ‘n koninklike beampte (Gk.) van Hom gehoor (v.45) en van Kapernaüm af na Hom toe gekom (v.47). Kapernaüm was ‘n groter dorp aan die See van Galilea se noord-kus; dit was omtrent 25 km van Kana af.  Koning Herodes Antipas se kwartiere was daar.  Die beampte het vir die koning gewerk en was dus nie ‘n Romein nie, maar ‘n Jood.  ‘My seun lê op sterwe,’ het hy gesê.  ‘Sal U asseblief kom om hom te genees?’ (v.47).  Jesus het vir hom gesê:  ‘Die mense van Galilea sal nie glo tensy hulle tekens en wonders sien nie.’ (v.48, 2:18, 6:30, 1 Kor.1:22, Mt.12:38-39).  Die beampte was desperaat en het gevra dat Jesus dadelik moet kom:  ‘Voordat my seun sterf,’ het hy gesê (v.49).  Sy geloof was onvolledig.  Hy het gedink dat Jesus nie die wonderwerk kon doen tensy Hy teenwoordig was nie (v.49).  Hy het ook gedink dat Jesus siekes kan genees, maar nie dooies kan opwek nie (v.49, 11:21, 32, Lk.8:49).

 

Toets jouself om te sien of jou geloof eg is of nie. Iemand wat homself nie toets nie, mag dalk net ‘n vals geloof hê wat hom in die hel laat beland.  Onthou ook dat dit ‘n sonde is om nie in Jesus en sy woorde te glo nie (Jh.16:9).

 

Moet asseblief nie dink iemand se geloof is eg, net omdat hy van Jesus en die Bybel praat nie. Jou geloof is nie noodwendig eg omdat jy lekker voel of omdat jy vrede het nie.  Ek byt nie daaraan as mense vir my sê:  ‘Ek weet nie hoe ek dit weet nie, maar ek weet net my geloof is eg’ nie.  Hóé weet jy dit?  Die Bybel is die maatstaf waaraan jy jouself moet meet om te sien of jou geloof eg is of nie.

 

Wat is Jesus vir jou? Is Hy die Here voor wie jy die knie buig in bekering en gehoorsaamheid?  Is Hy die Verlosser sonder wie jy nie gered en vergewe kan word nie?  Of bid en dank jy Hom hoofsaaklik omdat Hy jou gesond kan maak, vir jou geld kan gee, en jou kan help as jy in die moeilikheid is?  Is Jesus die Verlosser wie jy aanbid, liefhet en verheerlik, of is Hy ‘n genie wat bestaan om jou lewe beter te maak?  Bid jy net wanneer jy nood het, of bid jy ook in tye van voorspoed?  Wandel jy daagliks, konstant en stabiel saam met die Here?  Of soek jy alewig geestelike vuurwerke?  Jaag jy wonderwerke na?  Spring jy van een seminaar na die volgende, en een ervaring na die volgende, omdat jy opsoek is na daardie die emosionele ‘high’?

 

Indien jy só is, soek jy nie regtig vir Jesus nie; jy soek wat Hy vir jou kan gee. Jou geloof is nie veel beter as die duiwel s’n nie.  “Jy glo dat God één is.  Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.” (Jk.2:19).  Om seker te maak dat jou geloof eg is, moet jy heel eerste in die regte Jesus glo.  Glo in Jesus wat die Seun van God is, en nie maar net ‘n super mens is wat wonderwerke doen nie.  Glo in Jesus wie se woorde magtig is om lewe te gee; Jesus wat sondeloos volmaak is; Jesus wat gesterf het om ons te red en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het; Jesus wat ons sondes kan vergewe; Jesus wat as Koning heers oor alles en almal.

 

Maar egte geloof gaan een stap verder. Dit glo nie net die feite oor Jesus nie, maar vertrou op Hom.  Die persoon wat in Hom glo sê nie:  ‘Ek weet nie of die Here my wíl red nie,’ maar eerder:  ‘Die Here het gesê dat Hy dié wat na Hom toe kom sal vergewe.  Ek vertrou dat Hy my volgens sy belofte in Rm.10:13 sal red as ek Hom aanroep.’  Hierdie tipe geloof sal altyd uitloop op ‘n lewe van gehoorsaamheid (Jk.2:14-26).  Anders is dit nie ware geloof nie.

 

Egte geloof (v.50-54)

Arno en Riana is al vir 21 jaar getroud. Met hulle 20ste huweliksherdenking het Arno vir Riana van die werk af gebel en gesê:  ‘Gaan asseblief na die Mercedes garage toe – daar wag ‘n groot geskenk vir jou.’  Riana het nie vir een oomblik gedink dat hy vir haar jok nie.  Sy het nie gedink:  ‘As ek by die Mercedes garage kom en sê dat my man my gestuur het om ‘n geskenk te kom oplaai, gaan hulle nie ‘n idee hê waarvan ek praat nie, en gaan ek verleë voel’ nie.  Alhoewel sy nie die geskenk gesien het nie, het sy, omdat sy haar man geken het, geweet dat hy die waarheid praat.  In ons verhouding met die Here werk dit dieselfde.  Al sien ons nie die dinge waarvan Hy in sy Woord praat nie, glo ons dit omdat ons Hóm ken.

 

Jesus hoef nie by iemand teenwoordig te wees om hom te genees nie. Omdat Hy die Seun van God is, het Hy met ‘n woord die beampte se seun op ‘n afstand gesond gemaak (v.50).  Hy het vir die beampte gesê:  ‘Jy kan maar huis toe gaan – jou seun sal lewe’ (v.50).  Hy was nie soos die res wat tekens wou sien voordat hy sou glo nie (v.48).  Hy het eenvoudig Jesus se woorde geglo en huistoe gegaan met die volle oortuiging dat sy seun gesond was (v.50).

 

Alhoewel sy huis net 25 km weg was, het hy eers 24 uur later by die huis aangekom (v.52-53). Was dit omdat hy rustig was en geglo het sy seun sou lewe?  Nietemin, toe hy nog oppad was het sy slawe uitgekom om hom te ontmoet (v.51).  Hulle het seker by die huis gebly om die siek seun te versorg.  Die feit dat hulle die seun in die huis gelos het om die beampte op die pad te ontmoet, wys iets van hulle opgewondenheid en verbasing.  Hulle kon nie in die huis gewag het nie, maar moes uitgekom het om die goeie nuus te vertel.  ‘Jou kind lewe!’ het hulle gesê (v.52).  Dit het presies gebeur soos wat Jesus gesê het (v.50).

 

Sommige vertalings laat dit klink of die seun besig was om gesond te word (ESV).  Was die seun se geleidelike genesing ‘n gelykenis van die pa se groeiende geloof?  ‘Hoe laat het hy gesond geword?’ het die beampte vir sy slawe gevra (v.51).  Hulle het in v.52 gesê:  ‘Gister teen omtrent die sewende uur (13:00 volgens die Jode se berekening, of 19:00 volgens die Romeine s’n) het sy koors gebreek.’  As Jesus nie die koors gebreek het nie, sou hy stuipe gekry het en gesterf het.  Hoekom het die pa gevra hoe laat sy seun gesond geword het?  Was hy kleingelowig?  Wou hy miskien seker gemaak het dat Jesus hom gesond gemaak het, en dat dit nie toevallig was nie?

 

Die pa het dadelik onthou dat Jesus presies 24 uur gelede gesê het: ‘Jou seun lewe!’ (v.50, 52-53).  Hy het vir sy vrou, seun, slawe, en die res van sy gesin hiervan vertel, sodat hulle almal in Jesus geglo het (v.53).  Hulle het geglo dat Hy die Messias is (Jes.35:5-6).  Hulle het geglo dat Hy die almagtige Seun van God en die Gewer van lewe is (v.49, 53).  Hulle het geglo dat Hy soewerein is oor tyd en afstand (v.49-50, 52-53).  Hulle het geglo dat Hy liefdevol is (v.49).  Hulle het nie soos die res net in sy wonderwerke geglo nie (v.48).  Hulle het geglo dat die wonderwerk ‘n teken was, wat van sy Goddelike lewe en almag getuig het (v.54).  Deur so in Hom te glo het hulle die lewe in sy Naam ontvang (20:30-31).  Hierdie was die tweede teken wat Jesus gedoen het nadat Hy van Judea af na Galilea toe teruggekeer het (v.54, vgl. 2:11).

 

Om egte geloof te beoefen moet jy dit verstaan. Egte geloof is nie ‘n blinde sprong in die donker nie, maar is ‘n reaksie op dit wat jy weet so is, al het jy dit nog nie gesien nie (soos Riana se beloofde geskenk by die Mercedes garage).  In Hb.11:1 lees ons:  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”  Egte geloof is ‘n reaksie op God se Woord, ‘n vaste vertroue dat dinge sal wees soos wat Hy vir ons gesê het (Hd.27:25).  Egte geloof is op God se Woord en beloftes gebasseer (v.50), en nie op ‘wishful thinking’ nie.  Volgens Rm.10:17 is “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”  Om oortuig te wees dat jy die LOTTO gaan wen omdat jy daarvoor gebid het, of omdat jy dit ‘uitgespreek’ het is nie geloof nie, maar ‘wishful thinking’.  Hoekom sê ek so?  Want God het nie gesê jy gaan dit wen nie.  Om egter nie kos te hê nie, maar te weet dat die Here dit vir jou gaan gee, is egte geloof wat op die beloftes van sy Woord gebou is.

 

Om dan jou geloof te versterk moet jy God se beloftes ken. ‘n Gelowige wat net drie beloftes ken, kan net drie belofte glo.  Maar as jy 250 beloftes ken, kan jy 250 beloftes glo.  Hoe sterker jy op die Woord staan, hoe sterker word jou geloof.  Dit help egter nie jy ken ‘n honderd of meer beloftes, maar twyfel of die Here dit sal nakom nie.  Sorg dan dat jy die Here self ken, sodat jy kan weet dat Hy betroubaar is en dat Hy sy beloftes sal vervul.  Iemand wat so in die Here glo, sal Hom aan sy beloftes herinner.  Dié persoon sal ‘n man of vrou van gebed wees.  En hoe meer hulle bid, hoe sterker word hulle geloof.  En hoe sterker hulle geloof word, hoe meer bid hulle.  En hoe meer die Here hulle gebede beantwoord, hoe sterker word hulle geloof dat Hy dit weer in die toekoms sal doen.

 

‘n Gelowige wat nie baie bid nie, sal nie gereelde antwoorde op sy gebede sien nie (Jk.4:2). En omdat hy nie antwoorde op sy gebede sien nie, word hy nie bemoedig en aangevuur om meer te bid nie.  Sulke gelowiges trap makliker in die strik om wonderwerke en ander sigbare tekens te wil sien voordat hulle glo.  Maar geloof is juis om aan die Here vas te hou as jy nie sien wat Hy doen nie.  Om soos die charismate oor tekens en wonderwerke te roem, is nie ‘n teken van sterk geloof nie.  “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.” (2 Kor.5:7).  “salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Jh.20:29)

 

Is jou geloof eg? Moet dit nie vir jouself hou nie.  Vertel vir jou familie en vir ander wat die Here vir jou gedoen het, sodat hulle ook ‘n egte geloof in Hom kan hê (Gn.18:19, Dt.6:7, Ps.78:3-8).  Het jy al opgemerk hoe dikwels die Here een lid van ‘n huisgesin red, en hoe die hele gesin binne ‘n kort tyd daarna tot bekering kom (v.53, Hd.11:14, 16:15, 31-34, 18:8)?  Egte geloof is veronderstel om te groei, sodat dit ander mense kan bereik en beïnvloed.  Let op hoe die beampte se geloof gegroei het:  hy het eers geglo dat Jesus wonderwerke kan doen (v.47-48).  Toe het hy geglo dat Jesus se woorde gesag het (v.50).  Toe het hy in die Persoon van Christus geglo, hy en sy hele gesin (v.53).

 

Omtrent vyf jaar gelede het ek ‘n man beraad wat aanhoudend oor sy redding getwyfel het. Hy het gedurig sy hart ondersoek om te sien of sy geloof eg is.  Vir hom was die oplossing om nie na sy geloof te kyk nie, maar na Jesus.  C.S. Lewis het gesê dat dit lekker is om na ‘n waterval te kyk.  Maar sodra jy die waterval ignoreer en begin om te kyk of jy dit nog geniet, sal die plesier verdwyn.  Jy is nie veronderstel om op die plesier te fokus nie, maar op die waterval wat vir jou die plesier bring.  Net so is jy nie eintlik eers veronderstel om te kyk hoe diep jou geloof is nie.  Moenie op jou geloof fokus nie, maar op die Een in wie jy glo.  As jy dit doen sal jy sien dat jou geloof outomaties sterker word, en dat dit eg is.