Wie sê dat Jesus die Seun van God is?

Witness in court

In Meksiko is daar ‘n prediker wat sê dat hy die Messias is. Ek het van ‘n beradingsgeval gelees waar ‘n man in ‘n inrigting gesê het dat hy die Seun van God is.  ‘n Dwelmverslaafde man het vir my gesê dat hy Jesus is.  In Mt.24:5 lees ons van mense wat sal sê dat hulle die Messias is.  Volgens moderne ortodokse Jode het Jesus gelieg om te sê dat Hy die Messias en die Seun van God is.

 

Hoe weet ons of Jesus die waarheid gepraat het? Was Hy mal om te sê dat Hy die Seun van God is?  Hoekom glo ons Hóm, maar is ons skepties as ander mense sê dat húlle die Seun van God is?  Die vyf getuies in Jh.5:30-47 wys duidelik vir ons dat Jesus die Seun van God is.

 

Jesus (v.30-32)

Het jy al ooit ‘n indrukwekkende storie gehoor wat klink of dit nie regtig kon gebeur het nie, maar omdat die persoon wat dit vir jou vertel het betroubaar is, glo jy dit? As jy dan met die persoon se familie en vriende praat bevestig hulle dat dit so is.

 

Omdat Jesus betroubaar is kan ons Hom glo as Hy sê dat Hy die Seun van God is. Daar is geen goeie rede om te dink dat Hy hieroor gelieg het nie.  Iemand wat oor so iets lieg sou onder die rykes beweeg het en homself nie met die vullis van die samelewing opgehou het nie.  Uit Jesus se lewe is dit ook duidelik dat Hy nie mal of emosioneel onstabiel was om te sê dat Hy die Seun van God is nie.  Hy het die waarheid gepraat.

 

As mens kon Jesus niks uit sy eie gedoen het nie, maar het Hy in alles sy Vader se wil gesoek (v.30, 19, 8:28, 7:17-18, 4:34, 6:38, Mt.26:39). Ook as Hy geoordeel het, het Hy dit volgens die Vader se wil gedoen (v.30, 8:16).  Dit insigself het bewys dat sy Vader Hom gestuur het (v.30).  Die getuienis wat Hy in v.19-29 oor Homself gegee het was waar (8:14).  En tog het die Jode dit nie aangeneem nie (v.31, 8:13).  Volgens die Ou Testament in Dt.17:6, 19:15 het Jesus nie net drie getuies na vore gebring nie, maar vier om sodoende te bewys dat Hy die Seun van God is.  Jesus was dan nie die enigste een wat getuig het dat Hy die Seun van God is nie.  Die Vader het ook daarvan getuig (v.32).

 

Glo Jesus se getuienis aangaande Homself (v.19-32). Volgens Jesus sal dié wat sy getuienis verwerp in hulle sonde sterf (8:24).  Ek het al meer as eenkeer met mense te doen gekry wat die Bybel afskiet, sonder dat hulle dit vir hulleself ondersoek het.  Miskien het hulle ‘n vers of twee gelees om te ‘bewys’ dat dit verkeerd is.  Maar hulle het nog nooit met ‘n oop verstand gesit en die Bybel gelees nie.  As hulle dus teen die Bybel stry, redeneer hulle teen dit wat hulle by ‘n professor, die media, of ander godsdienste gehoor het.  Hulle skiet vir Jesus af op uitlatings wat Hy nooit gemaak het nie, en op dinge wat Hy nie gesê het nie.

 

Is jy skepties oor die Bybel? Ondersoek dit vir jouself.  Ken jy iemand wat skepties is?  Moenie toelaat dat hulle beskuldigings onuitgedaag bly nie, maar vra vir hulle waar hulle hulle inligting vandaan kry.

 

Johannes (v.33-35)

David Hume was ‘n Skotse geskiedkundige en filosoof wat die bestaan van God betwyfel het. En tog het hy daarvan gehou om na George Whitefield se prediking te luister.[1]  Die beroemde Benjamin Franklin het Whitefield se prediking geniet, maar nooit sy boodskap geglo nie.[2]

 

Koning Herodes Antipas het graag na Johannes die Doper se prediking geluister, maar was ongered (Mk.6:20). Net so het Felix ook graag na Paulus geluister, maar nooit tot bekering gekom nie (Hd.24:23-26).  God het ook vir Johannes na die Jode toe gestuur, sodat hulle gered kon word (v.34).  Die mense het van sy prediking gehou, maar nie geglo in die Een van wie hy getuig het nie.

 

Johannes die Doper het helder en duidelik vir die Jode gesê dat Jesus die Messias en die Seun van God is (v.33, 1:19-34). Dit is nie dat Jesus sy getuienis nodig gehad het nie, maar Hy het dit vir die Jode gegee sodat hulle van hulle sonde en God se toorn gered kon word (v.34).  Vir die tyd van sy bediening was Johannes ‘n lamp wat gekom het om die waarheid van die Messias uit te lig (v.35).  Hy het die vlam van sy helder lamp by die Messias se Lig aangesteek (1:6-8, 8:12).  Die volk het sy lig geniet soos wat motte die lig van ‘n bedlampie geniet (v.35, Mt.21:26, 13:20).  En tog het hulle die Lig verwerp toe Hy in die wêreld ingekom het (1:9-11, 3:19-20).

 

Moenie soos baie wees wat daarvan hou om na Bybelse prediking te luister, maar nie in geloof daarop reageer nie. Jou straf sal groter wees omdat jy geweet het wat reg is, maar dit nie gedoen het nie (Lk.12:47-48).  Moenie die evangelie en die verkondiging daarvan akademies of linguisties benader nie.  Moenie toelaat dat die vloeiende woorde of die lekker gevoel in jou bors jou betower en jou aandag van die evangelie se inhoud af wegtrek nie.  Wees eerder gehoorsaam aan wat jy hoor; glo dat Jesus die Seun van God en die enigste Verlosser van sondaars is.

 

Die wonderwerke (v.36)

Rudolph Bultmann was ‘n Duitse teoloog wat gesê het dat enigiets bonatuurlik in die Bybel verwerp moet word. Ná hom het elke liberale teoloog in sy voetspore gevolg.  Maar volgens die Nuwe Testament het Jesus se vyande sy wonderwerke gesien.  Hulle kon nie ontken dat Hy dit gedoen het nie, en tog het hulle geweier om te glo dat Hy die Messias en die Seun van God is (vgl. Hd.4:16).

 

Jesus het ‘n groter getuienis as Johannes gehad: die wonderwerke wat Hy gedoen het bewys dat God Hom gestuur het (v.36, 3:2, 10:25).  Die Vader het Hom deur die Heilige Gees bekragtig om hierdie werke te doen, en tog het die Jode Hom verwerp (v.36, v.1-9, 17-18).  ‘Before the very eyes of the Jews there was evidence of divine power.  And they rejected it!’[3]

 

Jesus se wonderwerke bewys dat Hy die Seun van God is. Glo dit.  Sy dade wys mos dat Hy nie net praatjies maak nie.  Die rede hoekom mense dit nie glo nie, is omdat hulle vooraf besluit het om nie te glo nie.  Hulle glo dat ‘n eensellige dier oor biljoene jare in ‘n mens verander het (‘n wonderwerk), maar nie dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie.  Daarom bly hulle blind, selfs as God rondom hulle werk en Christen-vriende se gebede voor hulle oë beantwoord.

 

Die Vader (v.37-38)

Peet is dolverlief op Sharon. Sy het egter vir hom gesê dat sy nie in hom belangstel nie.  Toe hy huistoe ry, toe dink hy:  ‘Miskien het sy nie lekker gevoel nie – ek dink tóg dat sy van my hou.  Dalk het sy net nie geweet hoe om haarself uit te druk nie.  Sy het my dan ‘n drukkie gegee toe sy totsiens gesê het.  As dít nie ‘n teken is dat sy van my hou nie, dan weet ek nie wat ís nie?’  Op dieselfde manier kan God in ‘n hoorbare stem sê dat Jesus sy Seun is, maar as iemand dit nie wil glo nie sal hy sê dat dit die duiwel of donderweer was.

 

Toe Jesus gedoop is het die Vader getuig dat Hy die Seun van God is (v.37, 8:18, 1:34, Mt.3:17). Hulle het egter nie die Vader se stem of vorm in Jesus se woorde en vleeswording erken nie (v.37, 1:18, 14:9).  Hulle ongeloof het veroorsaak dat sy Woord in hulle koppe was, maar nie in hulle harte nie (v.38, Ps.119:11).  Meer as enige ander volk op aarde het hulle sy Woord gehoor, maar dit nie verstaan nie (Jes.6:9, 2 Kor.3:14-15).

 

Die Vader het in meer as 450 profesieë die Messias se koms, karakter en missie voorspel. As dit noukeurig in Jesus vervul is, moet ons mos glo dat Hy die Messias en Seun van God is.  Iemand wat dit ontken sê dat God ‘n leuenaar is (1 Jh.5:10).  Miskien moet jy eers die Vader se karakter bestudeer om te sien dat Hy nie kan lieg nie (Nm.23:19).  As jy daarvan oortuig is kan jy mos sy getuienis aangaande die Messias glo.

 

Die Skrif (v.39-47)

Saartjie het ‘n boekrak vol resepteboeke. Sy geniet dit om die resepte te lees en uit haar kop uit te leer.  Op ‘n dag toe hoor haar vriende die skokkende nuus dat sy van die honger gesterf het.  Sy het gedink dat haar kennis van kos haar sou versadig.  Sy het die resepte geken, maar nooit die kos gemaak en geëet nie.

 

Natuurlik is dit ‘n lawwe illustrasie, maar daar is baie mense wat dit met die Bybel doen. Hulle ken, lees en bestudeer die Bybel, sonder dat hulle geloof het in die Een van wie die Bybel getuig.  En volgens Jesus is dit wat die Jode gedoen het.

 

God het die Woord gegee sodat ons daardeur gered kan word (Hd.17:11, 2 Tm.3:15, 1 Pt.1:23-25). Die Jode het dit as ‘n reëlboek bestudeer, en daarom het dit nie hulle harte bereik nie (v.38-39).  Hulle het geglo dat God hulle poging om goeie Bybelstudente te wees, met die ewige lewe sal beloon.  Alhoewel die Ou Testament duidelik van Christus getuig het (Lk.24:25-27, 44), wou hulle Hom nie raaksien nie en het hulle in die proses die ewige lewe soos ‘n vliegtuig verpas (v.39).  Toe Jesus ‘n hand van verlossing na hulle toe uitgesteek het, het hulle geweier om dit te vat (v.40, Mt.23:37).

 

As Jesus hulle goedkeuring gesoek het (v.41), sou Hy die tipe Messias gewees het waarvoor hulle gewag het: ‘n Messias wat hulle teen die Romeine bemagtig het, en een wat die volk op ekonomiese gebied bevoordeel het.  Jesus se reguit woorde het gewys dat Hy nie mense se guns soek nie:  ‘Ek weet alles en kan sien dat julle nie die grootste gebod nakom nie, dat julle God nie met alles in julle liefhet nie’ (v.42, 2:24-25, Lk.11:42, Dt.6:5).  As hulle die Vader liefgehad het, sou hulle die Seun ook liefgehad het.

 

Maar ten spyte daarvan dat Hy gekom het om die Vader te openbaar, het hulle Hom nie ontvang nie (v.43, 1:11). As ‘n vals messias in sy eie naam gekom het, sou hulle hom ontvang het (v.43, Mt.24:5).  Die Jode was banger vir mense se opinies as vir God s’n (v.44, Rm.2:29, Mt.6:1-2).  Omdat dit nie ‘populêr’ was om in Jesus te glo nie, het hulle Hom tot hulle ewige spyt verwerp (v.44, 7:48, 9:22, 12:42-43).

 

Tog was dit nie Hý wat hulle sou aankla nie, maar Moses en sy wet op wie hulle gehoop het (v.45, 9:28-29, Rm.2:17). Moses het nie die wet gegee dat hulle daardeur gered moes word nie, maar om hulle sonde uit te wys sodat hulle kon sien hulle het ‘n Verlosser nodig.  Moses het hulle dus nie beloon nie, maar hulle aangekla, hulle monde toegestop en gewys dat hulle elke een van die tien gebooie geminag het (v.45, Rm.3:19).[4]

 

As hulle regtig in Moses geglo het sou hulle ook in Jesus geglo het, omdat Moses van Hom geskryf het (v.46, vgl. Gn.3:15, Eks.12, Dt.18:15-18, die tabernakel, manna, water uit die Rots, die Sabbat, ens. as skadubeelde van Christus). En as hulle nie Moses se profesieë oor die Messias geglo het nie, kon hulle onmoontlik geglo het noudat die profesieë vervul was (v.47, Lk.16:31).

 

Lees en bestudeer die Bybel met die regte ingesteldheid. Daar is niks erger as om met ‘n oop Bybel op jou skoot hel toe te gaan nie.  Moenie bloot die Bybel lees om te sê dat jy dit in ‘n jaar deurgelees het nie.  Moenie soos die Jode dink dat iemand wat die Bybel gereeld lees of uit sy kop uit ken ‘n beter kans het om in die hemel te kom nie (v.39).  Die bekende Rabbi Hillel het gesê:  ‘The more study of the Law the more life… if he has gained for himself words of the Law he has gained for himself life in the world to come.’[5]

 

Natuurlik moet jy op die woorde, struktuur, konteks, sinsbou en kruisverwysings let. Maar moenie só daarin vaskyk dat jy die Een mis oor wie dit alles gaan nie.  Net soos met die Jode gebeur dit vandag dat mense dit geniet om die Bybel te bestudeer, en tog nie gered is nie (v.39).  As jy die Bybel lees moet jy gereed wees om in Jesus te glo en om te doen wat Hy sê.

 

Moet dan nie streef om net meer van die Bybel te weet nie, maar om die Een van wie jy daar lees lief te hê en te gehoorsaam. Vind tasbare maniere hoe jy dít wat jy geleer het kan uitvoer.  Moenie net sê jy sal ander mense meer liefhê nie.  Sê eerder dat jy vir hulle sal bid en ‘n R250 koopbewys vir hulle sal gee.  Moenie net sê jy sal die Here meer eer nie, maar sing lofliede in jou stiltetyd, sê nee vir jou sonde, wees opreg en ernstig as jy die nagmaal gebruik, en getuig openlik van Jesus by die werk.

 

Weet asseblief dat Jesus nie die intense studie van die Bybel afskiet nie. As jy die Bybel nie reg verstaan nie, sal jy dit verkeerd toepas.  Maak daarom seker dat jy dit noukeurig bestudeer.  Maar sorg ook dat jy dit biddend lees en gereed is om te doen wat jy daarin leer.  As jy die Bybel só lees kan jy nie anders as om te sien dat Jesus die Seun van God is nie.

 

Ek hou daarvan om boeke te lees. As ek die outeur nie ken nie is daar ‘n paar dinge waarna ek kyk.  Wie is die uitgewers?  Wie is dit wat die boek aanbeveel?  Watse tipe dinge sê die mense wat die boek aanbeveel:  is dit ‘n goeie boek, of is dit die beste boek oor die onderwerp?

 

En so is dit ook met Jesus. Wie sê dat Hy die Seun van God is?  Is dit betroubare getuies?  En wat sê hulle oor Hom?  Op grond van die vyf getuies in Jh.5:30-47, glo ek met my hele hart dat Hy die Seun van God is.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.2, p.274

[2] Ibid, vol.1, pp.116, 438

[3] Leon Morris, The Gospel According to John, p.328

[4] Sien Jh.8:44, Mt.5:27-29, 15:6-9, 23:16-22, 25, 26:59-60, Lk.16:14, 20:47, Jh.5:18, 18, 19:6 vir hulle oortreding van al tien gebooie.

[5] Ab.2:7 aangehaal in Leon Morris, Ibid, p.330 n.115

Advertisements

’n Visioen van vertroosting

John writing Revelation

Toe ek op Seminarium was het ons in een klas deur die boek Openbaring gewerk. Die dosent het die visioene aan ons verduidelik.  My vriend was opgewonde en het dit met sy meisie gedeel.  Sy was skepties en het gewonder hoekom hy so seker was dat die visioene dít beteken het.  Vir haar was Openbaring ‘n boek van vreesagtige visioene.  Min mense besef egter dat die boek eintlik ‘n visioen van vertroosting is.  Op.1:9-20 is die eerste een van hierdie visioene.

 

Die verdrukking (v.9)

Charles Spurgeon het vir meer as 20 jaar met gout en arthritis gesukkel. En tog het hy geglo dat dit God se geskenk aan hom was, omdat hy daardeur geleer het om medelye te hê met ander.  As gevolg van sy siekte het hy ook met depressie gesukkel.  Een aand het hy gepreek oor die woorde:  ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’  Hy het die waarheid daarvan tot in die diepte van sy siel gevoel.  Ná die diens het ‘n depressiewe man na hom toe gekom.  Die man was vertroos omdat iemand geweet het wat hy deurmaak.  Die man het uit sy depressie uit gekom.[1]

 

Spurgeon skryf: ‘I would go into the deeps a hundred times to cheer a downcast spirit:  it is good for me to have been afflicted that I might know how to speak a word in season to one that is weary.’[2]  Paulus praat in 2 Kor.1:4 van God “wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”  Dit is presies wat in Op.1:9 met Johannes gebeur het.

 

Hy was die gelowiges se broer in die Here en ‘n deelgenoot in hulle verdrukking (v.9). Soos Jesus moes ook hulle verdruk word voordat hulle in die Koninkryk kon deel (v.9, Mt.5:10, Hd.14:22).  Daar is ‘n sekere sin waarin hulle reeds in die Koninkryk gedeel het, en nie eers moes wag vir die wederkoms nie (v.9, Mk.1:15, Lk.11:20, 17:21, Kol.1:13, Heb.12:28).  Johannes het ook geduldig saam met hulle in die swaarkry volhard (v.9).  Die verdrukking het juis volharding gekweek (v.9, Jk.1:2-3, Rm.5:3).  Net dié wat volhard sal die Koninkryk ingaan en saam met Christus regeer (v.9, 3:10, Mt.10:22, 2 Tm.2:12).  Hierdie verdrukking, Koninkryk en volharding is in Jesus (v.9), sodat dié wat deur geloof met Hom verenig is dieselfde as Hy ontvang en ervaar (Jh.15:20, Rm.8:17, 1 Pt.2:21).

 

Johannes is na die eiland Patmos toe verban (v.9). Die eiland is 16 km x 9.6 km en is 38.4 km van die weskus van Turkye af.  Patmos was die Romeine se Robben-eiland.  Hulle het dié wat vir hulle probleme veroorsaak het na hierdie rotsagtige eiland toe verban.  Johannes se ‘misdaad’ was dat Hy die Woord van God verkondig het, en dat hy getuig het dat Jesus die Koning, Here, Verlosser, Messias, en Seun van God is (v.2).  Dit was tydens dié verbanning wat hy Christus se heerlikheid gesien het.

 

Moenie moed verloor as jy alleen moet staan vir die Here nie. Wanneer almal jou verlaat het sal die Here by jou staan (2 Tm.4:10, 16-17).  Word jy uitgeskuif omdat jy in Jesus glo (v.9)?  Voel jy alleen omdat jy die enigste Christen in jou gesin, familie, skool, werkplek, of woonbuurt is?  Dalk is daar van my lesers wat in ‘n heidense land werk, of in ‘n dorp bly waar daar nie ‘n kerk is wat die evangelie preek nie.  Miskien verhoed siekte jou om by die gelowiges te wees.  Of dalk is jy oud en het jy nie vervoer nie.  Dalk is jy te jonk om te bestuur, en wil jou ongelowige ouers jou nie kerk toe vat nie.  Of dalk het jy ‘n ongelowige man wat jou verbied om kerk toe te gaan.  In hierdie gevalle sal die Here ‘n spesiale poging maak om met jou te ontmoet (v.10-20).

 

Die visioen (v.10-16)

Een van die beste preke wat ek in my lewe gehoor het gaan oor Jesus in Getsemane. Die prediker (C.J. Mahaney) sê dat hy vir ure probeer dink het hoe hy Jesus se belewenis sou illustreer.  Op die einde het hy besef dat ‘n mens dit nie kán illustreer nie, ‘because only He has been there and done that.’  En so is dit ook met Op.1:10-16:  buiten vir die vergelykings in die visioen, kan ons nie regtig die verheerlikte Seun van God illustreer nie.

 

Johannes het sy visioen van Jesus en die res van Openbaring gesien toe Hy op die Dag van die Here in die Gees was (v.10).  Die Dag van die Here is die dag van sy opstanding, die eerste dag van die week waarop Christene bymekaar gekom het (Ps.118:22-24, Hd.4:10-11, Mt.28:1, Hd.20:7, 1 Kor.16:2).  As hy in die Gees was het hy nie geslaap nie, maar al hierdie dinge met sy eie oë gesien (v.10, 4:2, 17:3, 21:10, Esg.37:1).

 

Johannes het ‘n stem soos harde trompet agter hom gehoor (v.10, Eks.19:16, 19). Dit het gewys dat Christus die koning is (1 Kon.1:39) en dat Hy sy vyande gaan oordeel (Jes.58:1, Esg.33:3-6).  Hy moes Christus se woorde van oordeel in ‘n boek neerskryf (v.11, Jes.30:8, Hab.2:2), en dit vir die sewe kerke in Asië stuur:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, Laodisea (v.11, 22:16).

 

Johannes het omgedraai om te sien wie dit is wat met hom praat (v.12). Hy het die Goddelike Seun van die Mens tussen die sewe goue kandelare of sewe kerke gesien staan (v.12-13, 20, 2:1, Dn.7:13-14, Mt.18:20).  Hy was teenwoordig om te tug en te troos (hfst.2-3).  Johannes het sy heerlike voorkoms in koninklike en Goddelike terme beskryf.

 

[1] Sy lang kleed en die goue band om sy bors was soos die hoëpriester en soos ‘n koning s’n (v.13, Dn.10:5, Lv.8:7).

 

[2] Sy gloeiende wit hare was soos die Oue van Dae s’n (v.14, Dn.7:9). Die feit dat dit soos wit wol en sneeu was wys vir ons dat Hy heilig, rein en wys is (Jes.1:18).

 

[3] Sy vlammende oë wys dat Hy alles sien en die boosheid uitsif (v.14, 19:12, 2:18, Dn.10:6, Sp.20:8, Jh.2:24-25, Rm.2:16, Heb.4:13).

 

[4] Sy voete was soos gepoleerde koper wat in ‘n vuuroond gesuiwer is (v.15, Dn.10:6). Hy sal sy vyande onder sy voete vertrap (2:18, 14:19, Ps.110:1).

 

[5] Soos God in Esg.43:2, was sy stem soos die gedreun van massas water, soos die golwe wat teen Patmos se rotse slaan, soos die Victoria valle in volle vloed, soos die gedreun van donderweer (v.15, 14:2, Dn.10:6).

 

[6] In sy regterhand was daar sewe sterre (v.16, 2:1, 3:1). Ons sal meer hiervan verstaan as ons by v.20 kom.

 

[7] In sy mond was sy woorde van oordeel soos ‘n skerp tweesnydende swaard (v.16, 2:12, 16, 19:15, Jes.49:2, Ef.6:17, Heb.4:12).

 

[8] Die glans van sy gesig was soos die son wat op sy helderste skyn (v.16, Mt.17:2, Jh.1:14, Hd.26:13-15).

 

Bid om op die Here se Dag (Sondae) Jesus se heerlikheid in die Woord te sien (v.10, 2 Kor.3:18). Niks kan jou vertroos soos dít nie.  Om hierdie heerlikheid te sien moet jy ‘n heilige ontevredenheid hê.  In Christus is daar ‘n heerlikheid en vreugde wat geen aardse plesier vir jou kan bied nie.  Paulus praat hiervan as hy bid dat God die Efesiërs se oë sal oopmaak om dit te sien (Ef.1:17-19).  Hy bid dat hulle krag sal hê om saam met al die gelowiges te begryp hoe breed, lank, hoog en diep Christus se liefde is, en dat hulle met die volheid van God vervul sal word (Ef.3:16-19).

 

Daar is sommige Christene wat nog nooit hierdie oorweldigende vreugde in die Woord ervaar het, of Christus se heerlikheid so helder gesien het nie.  Ek is daarvan oortuig dat dít die rede is hoekom mense ‘dieper’ ervarings buite die Bybel soek, en hoekom hulle in kerke sit waar hulle emosioneel opgesweep kan word.  Ek glo ook dat dít die rede is hoekom mense na sonde toe draai om ‘n emosionele ‘high’ te kry.  Ander mense verkies die buitelug bo die kerk, omdat hulle voel dat Jesus se heerlikheid duideliker sigbaar is in die berge as in die Bybel.  Ons sing dit selfs:  ‘As die branders op die rotse breek, of ‘n blom verkwik ons met sy reuk, is U ‘n baie meer as net ‘n preek – U’s wonderlik, voorwaar!’

 

Ons is soos kinders wat suigstokkies eet, omdat ons nog nooit roomerige Swiss sjokolade geproe het nie. ‘n Begeerte na Christus se diep liefde en glansryke heerlikheid in die Woord is ‘n kategorie wat in ons harte nie bestaan nie, omdat ons dit nog nooit ervaar het nie.  Moenie langer tevrede wees met preke en Bybelstudies wat jou hart nie beweeg nie.  Soos wat ‘n bok in die woestyn na water smag, moet jy met alles in jou na die Here smag (Ps.42:2).  As jy dit eers geproe het sal jy niks anders wil hê nie.

 

Hoe kan jy dit kry? Bekeer jou en glo die evangelie, omdat net ware gelowiges Jesus se heerlikheid kan sien (2 Kor.4:4, 6).  Bid daarvoor (Ps.119:18, Eks.33:18).  Bely en laat staan jou sonde, omdat dit sonde is wat keer dat jy God se heerlikheid sien (Rm.3:23).  Moenie haastig wees om uit die kerk uit te kom, klaar te bid, of jou Bybel toe te maak nie, maar wag geduldig op die Here (Eks.24:16, Ps.130:5-6).  Onthou dat jy nie die Here se arm kan draai om Homself aan jou te openbaar nie.  Tog moet jy met verwagting daarna uitsien dat Hy jou smeekgebed sal beantwoord en Homself aan jou sal openbaar.

 

Die verstroosting (v.17-18)

Spurgeon het vertel van ‘n gelowige vrou wat bang was om dood te gaan. ‘Sal jy eerder soos Elia met ‘n strydwa van vuur wil opgaan?’ het Spurgeon gevra.  ‘Ja,’ het die vrou gesê.  ‘Sou jy nóú opgeklim het as daar een om die hoek gestaan het?’ het hy gevra.  ‘Nee, ek sou te bang gewees het,’ het sy gesê.

 

Hy het toe vir die vrou gesê: ‘Jy sal waarskynlik een aand aan die slaap raak en in die hemel wakker word.’  En dit het presies so gebeur.  Volgens haar man was sy ná haar gesprek met Spurgeon nie meer bang vir die dood nie.  Sy het vas geglo dat die Here haar veilig deur die dal van die dood sou neem, en Hy het.[3]  Volgens v.17-18 is Jesus self begrawe om ons van die onsekerheid en vrees van die dood te red.

 

Toe Johannes soos ‘n dooie voor Jesus se voete neergeval het, het Hy sy regterhand op hom gelê en vir hom gesê om nie bang te wees nie (v.17, Mt.17:6-7, Dn.10:9-12, 16-17, 8:17-18). Jesus is die Eerste en die Laaste; voor en na Hom sal daar geen ander god wees nie (v.17, 2:8, 22:13, 1:8, Jes.44:6, 41:4, 48:12).  Hy was dood, maar het uit die graf uit opgestaan en lewe vir ewig (v.18, Rm.6:9, Dn.12:7).  Die sleutels van die dood en die doderyk is in sy sak.  Volgens die Joodse rabbi’s het God die sleutels van die dood en doderyk gehad.[4]  Weereens wys dit vir ons dat Jesus God is.

 

Die Romeine se doodstraf en vervoling kon nie die kerk beskadig het nie, maar was soos ‘n ou leeu wat niks tande in sy bek het nie (v.18, 2:8, 10, 1 Kor.15:55, Heb.2:14-15). Jesus het die volmag om mense en engele in die tronk van die dood en die graf toe te sluit, en om hulle weer uit te laat (v.18, 9:1, 20:1, Jud.6-7, Jh.5:28-29).  By die laaste oordeel sal Jesus die dood en graf finaal vernietig, sodat dit ons nie kan beskadig nie (20:14, 21:4, 1 Kor.15:26).

 

Moenie bang wees vir wat in Suid-Afrika gaan gebeur nie; vir wat in die toekoms van jou kinders, kleinkinders en die kerk gaan word nie. As God aan jou kant is sal Hy ook dié wat teen jou is tot jou voordeel gebruik (Rm.8:31, Gn.50:20).

 

Die ergste ding wat mense aan jou kan doen is om jou dood te maak. Hulle kan nie jou siel beskadig, jou uit God se hand uit ruk, of jou van sy liefde skei nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  As hulle jou doodgemaak het is jy veilig by die Here en kan hulle niks verder aan jou doen nie.  Deur jou dood te maak sorg hulle dat jy gouer by die Here is.  Jy  hoef nie bang te wees om dood te gaan nie.  Jesus is soewerein oor die dood (v.18) en sal sorg dat dit vir jou so skadeloos is soos slaap.

 

Moenie aan die dood dink as ‘n man met ‘n lang swart mantel en ‘n maaier in sy hand nie; ‘n man sonder ‘n gesig wat jou kom haal nie. Die dood is nie soewerein nie.  Eers as Jesus die opdrag gee sal jy jou oë toemaak en onmiddellik in sy lieflike teenwoordigheid wees.

 

Die verduideliking (v.19-20)

Meer as 300 jaar gelede het John Bunyan Die Pelgrim se Reis geskryf.  Die boek is ‘n allegorie waarin elke karakter, plek en gebeurtenis ‘n dieper betekenis het.  Die hoofkarakter se naam is Christen.  Die las op sy rug is ‘n voorstelling van sy sonde oortuiging.  Die klein hekkie wys dat iemand wat na die Here toe kom homself moet verneder.  Karakters en plekke soos Getrou, Hoopvol, die Reus Wanhoop, Hulp, die Herders, die Kasteel van Vertwyfeling, die Betowerende Grond en Moedverloormoeras is kleurvolle beskrywings van hoe dit in die Christelike lewe gaan.  Op dieselfde manier is Openbaring vol van simbole wat spesifieke betekenisse het.  In v.20 gee Jesus vir ons twee voorbeelde hiervan.

 

Jesus het vir Johannes gesê om die visioen van v.12-16 neer te skryf, om te skryf oor wat tans aan die gebeur was (hfst.2-3), asook oor die dinge wat in die nabye en verre toekoms sou plaasvind (v.1, 3, hfst.4-22). Jesus het die geheimenis van die sewe sterre en die sewe kandelare aan Johannes bekend gemaak.  Die sewe sterre is die sewe engele of boodskappers wat die boek aan die gemeentes moes voorhou (2:1, 8, 12, 18, 3:1, 7, 14).  Hulle moes soos sterre in die wêreld geskyn het (v.20, Fil.2:15, Dn.12:3).  Terwyl hulle hierdie taak uitgevoer het, was hulle veilig in die Christus se hande (v.20, Jh.10:28).  Net so moes die sewe gemeentes in Asië ook die lig van die evangelie in ‘n donker wêreld geskyn het (v.20, Mt.5:16, Hd.13:47).

 

Lees Openbaring met die vertroue dat dit moontlik is om die boek te verstaan. As jy dit vermy sal jy uitmis op die belofte van seën wat Jesus in v.3 gee.  Onthou asb. dat die boek ‘n openbaring is, en nie ‘n verborgenheid nie; dat dit gegee is om dinge bekend te maak en nie om dinge weg te steek nie (v.1).  Die feit dat dit ‘n geheimenis is (v.20), beteken nie dat dit geheimsinnig is nie, maar eerder dat dit wat onbekend was nou aan ons geopenbaar is (vgl. Rm.16:25-26, 1 Kor.15:51, Ef.3:3-6).  Ander verse in die boek, asook in die res van die Bybel verduidelik die simbole vir ons.  Ek het bv. probeer om die simbole in v.9-20 aan die hand van die Ou Testament te verduidelik.  As jy dit met hfst.3-22 doen sal jy die visioene en simbole vir jou sin maak.

 

Tim LaHaye is bekend vir sy topverkoper Left Behind reeks.  Die boeke is verfilm en is propvol van aksie.  Die boodskap wat baie duidelik oorgedra word is dat dinge in die laaste dae baie erg gaan wees.  Kontrasteer dit met die titel van William Hendriksen se kommentaar op Openbaring (alhoewel ek nie met sy siening oor die eindtyd saamstem nie): More than Conquerors.  Hendriksen se titel impliseer dat die kerk haar vyande gaan oorwin.  Hy sê basies dat Openbaring nie maar net bestaan uit visioene van vrees en verskrikking nie, maar dat dit een groot visioen van vertroosting is.

 

[1] C.H. Spurgeon, Autobiography: vol.2, pp.414-416

[2] Ibid, p.416

[3] Ibid, pp.379-380

[4] Alan M. Stibbs, Search the Scriptures, 2003, p.498 n.2

Het Jesus gesê dat Hy God is?

Did Jesus say He was God

Verlede jaar het ‘n man in Louis Trichardt ‘n georganiseerde debat gehou teen ‘n Moslem. Die debat het op ‘n enkele vraag gefokus:  ‘Het Jesus gesê dat Hy God is?’  Die Moslem het die vier Evangelies gebruik om te bewys dat Jesus nooit daarop aanspraak gemaak het dat Hy God is nie.  Die Christen het Jesus se woorde gebruik om te wys dat Hy wel gesê het Hy is God.  Jh.5:19-29 is een van vele tekste waarin ons kan sien watter een van die twee reg was.

 

Jesus se werke (v.19-20)

In die derde eeu n.C. was daar ‘n invloedryke Kerkvader met die naam van Origenes. Hy het geglo dat Jesus nie in dieselfde sin as die Vader God is nie.  Volgens Hom was die Goddelike natuur volmaak in die Vader, maar toe Hy dit aan die Seun oorgedra het, het iets daarvan verlore gegaan (net soos wat ‘n lig flouer skyn hoe verder dit van die bron af verwyder is).  In Origenes se gedagtes was daar grade van die Goddelike natuur.  As die Vader graad A+ was, was die Seun graad A, en die Heilige Gees graad B.[1]  In v.19-20 wys Jesus vir ons dat dit verkeerd is om so te dink.

 

Die Jode wou vir Jesus doodmaak, omdat Hy God sy eie Vader genoem het en Hom daardeur aan Hom gelyk gestel het (v.17-18). Jesus het dit nie ontken nie, maar het in v.19-29 drie keer ‘voorwaar, voorwaar’ gesê (v.19, 24, 25) om te wys dat die aansprake wat Hy op sy Godheid gemaak het waar was, en dat dit nie betwyfel moes word nie.

 

Die Seun kan niks uit Homself doen nie, maar kan net doen wat Hy die Vader sien doen (v.19). Die genesing van die lam man op die Sabbat was die Vader se werk net soveel soos wat dit die Seun s’n was (v.19, 17).  Sy afhanklikheid van die Vader impliseer nie dat Hy minder is as die Vader nie.  Die feit dat Hy alles doen wat die Vader doen, wys dat Hy almagtig is, asook dat Hy die Skepper en Verlosser is (Gn.1:1, Jh.1:3, Tit.1:3-4, Mk.4:39).

 

Omdat die Vader ‘n diep liefde vir die Seun het, wys Hy vir Hom alles wat Hy doen; Hy steek niks vir Hom weg nie (v.20, 3:35). Volgens Jesus sou die Vader nog groter werke deur Hom gedoen het, sodat mense verstom sou staan (v.20).  In v.21-29 verduidelik Hy wat hierdie groter werke is.

 

Jesus se lewe (v.21, 24-26, 28-29)

Toe een van my vriende op skool was, het sy biologie onderwyser ‘n indruk op hom gemaak. Hulle moes laboratorium rotte oopsny en die ingewande bestudeer.  Toe hulle klaar was het die onderwyser vir hulle gesê:  ‘Jy kan die rot se ingewande netjies terugsit en sy maag toewerk.  Tog is dit nie vir jou moontlik om hom te laat lewe nie.  Net God kan lewe gee.’

 

Jy kan ‘n battery aan ‘n dooie man se liggaam koppel. Jy kan met masjiene maak dat hy loop.  Jy kan doen wat jy wil – jy kan hom nie laat lewe nie.  Dit is hoekom evolusie so ‘n dom teorie is.  Hoe kan dooie materie lewe?  Waar het die lewe vandaan gekom?  Net lewe kan lewe gee.  En dit is die punt wat Jesus hier maak.

 

Jesus beskryf nou die ‘groter werke’ waarvan hy in v.20 gepraat het (groter as die genesing in v.1-9). Die Vader kan mense wat geestelik en liggaamlik dood is laat lewe (v.21, Rm.1:4, 6:4, 4:17, Hd.2:24, Dt.32:39, 2 Kor.1:9, 1 Sm.2:6, 2 Kon.5:7, Kol.2:13).  Die Seun kan dit ook doen en gee hierdie lewe aan wie Hy wil (v.21, 24-25, 28-29, 6:33, 20:31, 10:18, 11:43-44, 17:2, Lk.7:14-15, 8:54-56, 10:22, 1 Kor.15:45, Kol.3:3-4, 1 Jh.5:20).

 

Wie Jesus se woorde hoor, hoor die Vader wat Hom gestuur het (v.24, 16:15, 8:38, 15:15, 12:49-50, 14:24, 17:8). Wie hierdie woorde aangaande God, die mens, sonde, Christus, bekering, geloof, vergifnis, verlossing ontvang en in God glo, het die ewige lewe (v.24, 17:3, 12:44).  Die een wat hierdie lewe in hom het, kom nie in die oordeel nie (3:18).  Iemand wat die ewige lewe het, kan mos nie met die ewige dood gestraf word nie?  Jesus is nie meer sy Regter nie (v.22), maar sy Verlosser.  Hy het alreeds die oordeel vir hierdie persoon se sonde aan die kruis gedra, en daarom kom hy nie in die oordeel nie (v.24, Rm.8:1).  Omdat Jesus opgestaan het en nie weer kan sterf nie (Rm.6:9), kan almal wat deur geloof met Hom verenig is ook nie sterf nie (v.24).

 

Met Jesus se eerste koms was die tyd daar om die ewige lewe vir mense te gee (v.25). Dié wat geestelik dood was sou uit die graf van hulle sonde opstaan as hulle sy stem gehoor het (v.25, Ef.2:1, 5).  Hulle moes hierdie lewe in hulle harte ontvang het, voordat hulle in geloof en bekering kon reageer.  Omdat Christus hierdie lewe in Homself het, is Hy die enigste Een wat dit vir mense kan gee (v.26, 1:4, 14:6, 11:25, 1 Jh.5:20).  Die Vader is die bron van hierdie lewe, en het aan die Seun gegee om dit in Homself te hê (v.26, 6:57).  As die Seun dan ook die bron van alle lewe is, wys dit Hy is God net soos die Vader (Gn.2:7, Ps.36:10).

 

As Jesus God is moet die mense nie verbaas wees wanneer Hy die dooies opwek nie (v.28). Die tyd vir geestelike lewe het alreeds gekom (v.25), maar eendag sal lyke sy stem hoor en uit hulle grafte uit opstaan (v.28-29).  Dié wie se goeie lewens gewys het dat hulle gered is, sal ‘n opstanding tot die lewe ondergaan (v.29).  Soos wat hulle siele vir ewig lewe (v.24), sal hulle liggame vir ewig lewe (v.29).  Hulle nuwe liggame sal jonk bly (1 Kor.15:42-44) en kan vir ewig nie sterf nie (Op.21:4).

 

Die mense wie se sondige leefstyl gewys het dat hulle ongered is, sal ‘n opstanding tot die oordeel ondergaan (v.29). Hulle sal ‘n aaklige en afgryslike liggaam vol van sonde, siekte, pyn, hartseer en dood ontvang (Dn.12:2, Jes.66:24).  Met hierdie liggame sal hulle vir ewig in die hel gegooi word.  Let op dat daar een algemene opstanding is en nie twee nie (v.28-29, Dn.12:2, Hd.24:15, Op.20:12-13).

 

Jesus se oordeel (v.22-23, 27)

Ek het ‘n Amerikaanse vriend wat vir my gesê het dat hulle hooggeregshof se nege regters meer gesag het as die president, en dat dit eintlik húlle is wat die land beheer. Dit is maar ‘n klein illustrasie van die mag wat ‘n regter het.  As die Bybel dan sê dat Jesus die Regter van die hele wêreld is, wys dit dat daar geen gesag bo Hom is nie.  Jesus sê direk en duidelik dat Hy God is oor alles.

 

Die Vader het die Seun as Regter aangestel om die wêreld te oordeel (v.22, Hd.17:31, 10:42). Dit wys weereens vir ons dat die Seun God is, want volgens Gn.18:25 is God die Regter van die hele aarde.  Volgens Jk.4:12 is daar een Regter wat die mag het om mense te vernietig (ESV).  Ons dink soms aan die Vader as ‘n kwaai Regter, en aan die Seun as ‘n liefdevolle Verlosser.  Die waarheid is dat die Seun die Verlosser én die Regter is.  By sy eerste koms het Hy gekom om die wêreld te verlos (3:17).  As Hy weer kom sal Hy die wêreld oordeel (Op.20:11-15).

 

Die Vader het hierdie gesag aan sy Seun gegee, sodat almal Hom kan eer net soos wat hulle die Vader eer (v.23, 8:49). As die Vader sy eer met die Seun deel, wys dit dat die Seun volkome God is (v.23, Jes.48:11).  Hy wat die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie (v.23, 10:30, 14:9).  Jesus was dus nie skuldig aan Godslastering nie (v.18), maar die Jode wat Hom nie geëer het nie was (v.23, 8:49).

 

Die Seun kan lewe gee (v.26), maar het ook die mag om sondaars te oordeel (v.27). Hy is nie ‘n Regter wat uitsprake maak, maar nie die mag het dit uit te voer nie.  Hy beskik oor die mag om sondaars vir ewig in die hel te werp (v.27, Mt.7:23, 13:41-42, 25:31-33, 41).  Die Vader het hierdie mag aan Hom oorgegee, omdat Hy die Seun van die Mens is (v.27).  Met hierdie titel wys Johannes dat Jesus die Messias van Dn.7:13-14 is.  Hy heers oor die nasies en het die reg om hulle te oordeel.  Hy ken mense se geheime gedagtes en dade, en daarom kan Hy regverdig oordeel (Rm.2:16).  Dit wys weereens vir ons dat Hy God is.  Omdat Hy ‘n sondelose mens is kan niemand Hom oordeel nie, maar kan Hy die wêreld oordeel (v.27).

 

Gee vir Jesus die eer wat Hom toekom. Dit is hoekom God jou gered het.  Die Vader het die Seun lief en wil hê dat jy Hom moet eer (v.22-23).  As jy sy Godheid ontken sal jy in jou sonde sterf en hel toe gaan (8:24).  Om Hom reg te eer moet jy weet dat Hy, net soos die Vader en die Gees, volkome God is.  Jy moet verstaan wat dit beteken, en sien hoe dit jou Christelike lewe raak.

 

Jh.5:19-29 wys duidelik vir ons dat Hy God is. Jh.1:1 praat van Jesus as die Woord en sê dat Hy God is.  In Jh.20:28 aanbid Tomas Hom as sy Here en God.  Jes.9:5 sê dat Hy die magtige God is.  In Heb.1:8-9 noem sy Vader Hom God.  Tit.2:13 en 2 Pt.1:1 praat van Hom as die groot God en Verlosser.  1 Jh.5:20 sê dat Hy die ware God is.  Heb.1:3 sê basies dat Hy ‘n fotostaat van die Vader is, die afskynsel van sy heerlikheid.  Fil.2:6 sê dat Hy op Godgelyke wyse bestaan het.  In Kol.1:19 en 2:9 sê Paulus dat God se volheid in Hom woon.  M.a.w. alles wat die Vader is, is Hy ook.  Hy en die Vader is een (10:30).  As jy Hóm gesien het, het jy die Vader gesien (14:9).

 

Volgens Mt.3:3 is Hy die Here van Jes.40:3. In 8:58 praat Jesus van Homself as ‘EK IS’.  Dit is die Naam wat God in Eks.3:14 vir Homself gegee het.  Die Jode het dit so verstaan en wou vir Jesus doodmaak (8:59).  Op.22:13 sê dat Hy die Eerste en die Laaste is.  Volgens Op.1:8 en Jes.44:6 is God die Eerste en die Laaste.  Jesus het gesê dat Hy die Seun van die Mens is (Mt.16:13).  In Dn.7:13-14 is dit ‘n Goddelike titel, en om hierdie rede het die Joodse leiers besluit om Hom dood te maak (Mt.26:64-66).  Volgens Lk.2:11 is Hy die Verlosser, terwyl Jes.43:11 sê dat God die enigste Verlosser is.

 

Die volgende name en titels word in die Bybel van God en van Jesus gebruik:  Koning (Ps.47:8, Op.19:16), Rots (Dt.32:4, 1 Kor.10:4), Herder (Ps.23, Jh.10), en Skepper (Gn.1:1, Kol.1:16).  Ook in sy attribute is dit duidelik dat Jesus God is:  [a] Jesus is almagtig. Soos God in die Ou Testament kan Jesus die see beheer (Mt.8:26-27, Ps.107:29).  [b] Hy is alwetend. Soos God in Ps.139:2 het Jesus mense se harte en gedagtes geken (2:25, Mt.9:4).  [c] Hy is waardig om aanbid te word. Volgens Mt.4:10 moet ons God alleen dien, en tog sien ons in Fil.2:10, Heb.1:6, Op.5:9-14 hoe die skepping die knie voor Jesus buig en Hom aanbid. [d] Hy is onveranderlik. Volgens Nm.23:19, Jk.1:17 en Mal.3:6 is die mens en die res van die skepping veranderlik, maar God nie.  In Heb.13:8 leer ons dat Jesus nie verander nie.  Weereens moet ons erken dat Hy God is.

 

Hoe moet ons op sy Godheid regeer?

 

[1] Daar is ‘n sekere sin waarin Hy ‘liewe’ Jesus is (Mt.19:14), maar daardeur moet ons nie by ons kinders en kleinkinders die idee skep dat Hy nie volkome God is nie.

 

[2] Aanbid Hom, besing sy grootheid, en prys sy Naam. Probeer om nie te dagdroom wanneer jy dit doen nie.  Onthou asseblief om nie jou aanbidding te beperk tot sang nie, maar buig ook die knie in onderdanige gehoorsaamheid.  Op hierdie manier erken jy dat Hy jou Here en jou God is.

 

[3] Vertrou Hom met jou probleme. As jy self probeer om jou probleme op te los en dit nie in sy bekwame hande los nie, sê jy indirek dat Hy nie die wysheid en mag het om jou te help nie.  Met jou lippe sê jy dat Hy God is, maar deur jou biddeloosheid ontken jy dit.

 

[4] Moet Hom nie met ander vergelyk nie, want niemand is soos Hy nie. Moenie ingetrek word deur die wêreld se praatjies wat maak asof Hy net ‘n profeet is soos Moses of Mohammed nie (nie dat Mohammed ‘n profeet was nie).  Pasop vir mense wat sê dat Hy maar net ‘n wysgeer is soos Plato of Buddha.

 

Deesdae is dit populêr om te maak asof Ghandi, Mandela, Jesus en moeder Theresa op ‘n gelyke vlak is. ‘Hulle is almal goeie mense wat radikale stappe geneem het om die wêreld ‘n beter plek te maak,’ is wat mense sê.  In hulle oë is Jesus nie God wie aanbid moet word nie, maar ‘n revolusionis wat die Nobel Vredesprys verdien.

 

Vir ons ‘kinders se onthalwe’ vergelyk ons vir Jesus met Kersvader, asof Kersfees oor beide gaan (en eintlik meer oor Kersvader). Net soos Jesus, weet Kersvader alles.  En natuurlik het ons kinders nie die vermoeë om te verstaan dat een van hulle nie regtig bestaan nie.  En as één nie bestaan nie, hoekom neem ons hulle kwalik as hulle op 16 wonder of die ander Een bestaan?

 

‘n Kollega het ‘n paar weke gelede vir my gevra of dit verkeerd sal wees as hy by ‘n intergeloof byeenkoms inskakel. Die probleem met sulke byeenkomste is dat dit Jesus afbring tot op die vlak van hulle gode.  Ons sê in effek dat Jesus nie die lewende God is nie, en dat dit reg is as elkeen sy eie god aanbid.  Deur ons aksies sê ons dat dit nie verkeerd is as mense ontken dat Jesus die enigste God is nie, en dat mense die reg het om Hom te verwerp.  Gebedsdae saam met Moslems, Katolieke en Hindoes gee vir hulle die idee dat Jesus nie uniek is nie, en dat hulle gode op dieselfde vlak is as Hy.

 

Volgens die Qur’an in Sura 5:116 het Jesus nooit gesê dat Hy God is nie. Volgens Sura 43:59 was Hy niks meer as ‘n dienskneg nie.  In Sura 9:30 staan daar:  ‘…the Christians call Christ the son of Allah.  That is a saying from their mouth; (in this) they but imitate what the unbelievers of old used to say.  Allah’s curse be on them:  how they are deluded away from the Truth!’  Ek vertrou dat Jh.5:19-29 en die ander tekste wat ek hier aangehaal het vir jou wys dat Mohammed nie die Bybel geraadpleeg het toe hy die Qur’an geskryf het nie, want volgens die Bybel is dit duidelik dat Jesus God is.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.125

Hoe moet ons Openbaring verstaan?

Four horsemen

Na my mening is Openbaring die moeilikste boek in die Bybel. Godvresende manne verskil oor hoe die boek geïnterpreteer moet word.  John MacArthur glo dat dit oor die kort tydperk voor Jesus se wederkoms handel.  William Hendriksen glo dat die dinge waarvan ons in die boek lees, aanhoudend in die geskiedenis vervul word.  R.C. Sproul glo dat die oorgrote meerderheid van die boek in Johannes se tyd vervul is.  As groot manne op hierdie punt van mekaar verskil, dan moet ons Openbaring met ‘n nederige gesindheid aanpak.  Ek glo dat die eerste agt verse vir ons ‘n goeie idee sal gee van hoe ons die res van die boek moet interpreteer.

 

Die Here se openbaring (v.1-2)

In die begin van die jaar het ek met ‘n vriend oor die eindtyd gepraat. ‘Ek verstaan dit nie regtig nie, en dit pla my ook nie baie nie,’ het ek gesê.  My vriend het my oor die vingers getik:  ‘God het dit in die Bybel gesit, sodat ons dit kan verstaan en gehoorsaam.’  In die praktyk het baie van ons net 65 boeke in ons Bybels.  Ons lees nie graag Openbaring nie, maar vermy dit as ons kan.  En tog het God dit in die Bybel gesit, sodat ons daaruit kan leer en dit kan doen (v.3).

 

Openbaring is in simbole geskryf om die kerk se vervolgers te verwar (bv. 13:18, 17:9, Mt.13:13). Vir óns hoef dit egter nie verwarrend te wees nie, omdat dit ‘n openbaring of bekendmaking van God se oordeel oor sy vyande is (v.1, Gk. apokalupsis).  Die boek is soos volg gegee:  God die Vader ” Jesus Christus ” die engel ” Johannes ” die sewe gemeentes in die Wes-Turkse provinsie van Asië (v.1, 4, 11).

 

Jesus het die boek gegee om vir sy diensknegte (v.1, 7:3, 1:18, 19:5) te wys wat binnekort sou plaasvind. Die Griekse woord vir ‘binnekort’ of ‘gou’ (Gk. tachos) beteken presies dít, en word ook in die res van die Nuwe Testament so gebruik (vgl. Hd.25:4, 12:7, 22:18).  Toe Daniël sý visioene gesien het, moes hy dit vir die verre toekoms verseël het (Dn.12:4, 9).  Johannes se visioene daarenteen moes geopenbaar word, omdat die tyd naby was (v.1, 3, 22:10).

 

Omdat dit só is kan ek nie saam met dié gaan wat sê dat Op.4-19 net vir die toekoms bedoel is nie (‘n futuristiese benadering).  Die grootste deel van die boek handel oor die dinge wat binnekort moes plaasvind (v.1), en nie oor helikopters en drake in die eindtyd nie.

 

As die boek o.a. die val van Jerusalem in 70 n.C. voorspel, moet ons kan bewys dat dit voor daardie datum geskryf is. Ek glo dat daar genoegsame bewyse is hiervoor.

 

[1] Volgens 11:1-2 staan die Jersualemse tempel nog. Johannes sê dat Jerusalem vir 42 maande deur die heidene vertrap sou word (vgl. Lk.21:20, 24).  Volgens die geskiedenis het dit inderdaad so gebeur.

 

[2] In 17:9 praat Johannes van ‘n stad wat op sewe berge gebou is. Die eerste lesers sou verstaan het dat hy van Rome praat.  In 17:10 sê hy dat vyf van die stad se konings geval het, dat een huidiglik regeer, en dat een nog kom.  Wanneer hierdie sewende een kom, sal hy net vir ‘n kort tydjie regeer.  Julius, Augustus, Tiberius, Caligula, en Cladius is die vyf keisers wat geval het.  Nero was aan bewind toe Johannes Openbaring geskryf het.  Ná Nero het Galba vir ‘n kort tydjie van ses maande regeer.[1]

 

[3] In 13:18 praat Johannes van die 666 of die merk van die dier. In Johannes se tyd het hulle nie getalle gehad soos ons nie, maar het hulle die letters van die alfabet gebruik om mee te tel.  In die Romeinse alfabet is I = 1, V = 5, X = tien, L = 50, C = 100, ens.  In Hebreeus werk dit ook so.  As ‘n mens die getal-waarde van die letters in ‘keiser Nero’ se naam bymekaar tel (in Heb. is dit Nrwn Qsr) kom dit uit op 666.[2]  As ‘n mens dit in Latyn skryf is die waarde van die letters in sy naam 616.  In die English Standard Version het 13:18 ‘n voetnota wat sê:  ‘Some manuscripts 616.’  Volgens 13:18 kon die eerste lesers uitgewerk het wie die dier met die 666 is.  Dit moes dan iemand in hulle eie tyd gewees het.

 

[4] Die sterkste argument vir dié wat sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is (tydens die heerskappy van keiser Domitianus), is ‘n stelling van die kerkvader Ireneus wat in die tweede eeu geleef het. Ireneus het by Polikarpus geleer, wat op sy beurt vir Johannes geken het.[3]  Ireneus het gesê dat ‘[hy of dit] nie lank gelede gesien is nie, maar byna in ons eie dag, teen die einde van Domitianus se heerskappy.’[4]

 

M.a.w. volgens hierdie mense het Johannes die visioene van Openbaring aan die einde van Domitianus se heerskappy gesien. Maar dit is nie duidelik of Ireneus sê dat ‘dit’ (die visioene van Openbaring) of ‘hy’ (Johannes) aan die einde van Domitianus se tyd gesien is nie.  As hy bedoel het dat Johannes in Domitianus se tyd gesien is, dan kan ons nie met sekerheid sê dat Openbaring tussen 90 en 95 n.C. geskryf is nie.

 

Daar is nog argumente vir beide kante van die saak. As jy meer wil weet kan jy vir ‘n latere datering, More than Conquerors van William Hendriksen lees.  Vir ‘n vroeë datering (voor 70 n.C.) kan jy Kenneth Gentry se boek, Before Jerusalem Fell lees.  Daar is ook ‘n boek beskikbaar met die titel, Four Views on the Book of Revelation (saamgestel deur C. Marvin Pate).

 

Jesus het ‘n engel gestuur om die inhoud van die boek aan Johannes bekend te maak (v.1, vgl. 17:1, 21:9, 22:1). Wie is die Johannes van wie ons hier lees?  Kerkvaders soos Justin Martyr, Melito van Sardis, Papias, Ireneus, Clement van Aleksandrië, Tertullianus, Origenes van Aleksandrië, en Hippolitus (almal uit die tweede en derde eeu n.C.) het gesê dat dit Johannes die apostel is.[5]

 

Sekerlik is daar nie ‘n ander Johannes wat net sy naam kon skryf, sodat almal geweet het wie hy is nie?[6]  Verder is daar ooreenkomste tussen Openbaring en die Johannes-Evangelie (bv. Jesus as die Lam van God en die Woord van God.).  Die Grieks in die Johannes-Evangelie is soos ‘n nuut-geteerde pad, terwyl die Grieks in Openbaring soos ‘n grondpad is.  Die rede is waarskynlik omdat Johannes ‘n sekretaris gehad het toe hy sy Evangelie geskryf het (soos Paulus in Rm.16:22).  Toe hy Openbaring geskryf het, was hy alleen op die eiland Patmos (v.9), en het hy nie ‘n sekretaris gehad nie.

 

Johannes het hierdie visioene met sy eie oë gesien (v.2). En dit was as gevolg van hierdie getuienis van Jesus en die Woord van God, wat hy na die eiland Patmos toe verban is (v.2, 9).  Die gelowiges vir wie hy geskryf het, is op grond van dieselfde getuienis vervolg (6:9, 12:17, 19:10).

 

Moenie bang wees om Openbaring te lees nie. Moenie dink dat gewone mense dit nie kan verstaan nie.  Ek sê nie jy moet sommer net inklim nie.  Selfs Petrus het gesê dat sommige verse oor die wederkoms moeilik is om te verstaan (2 Pt.3:15-16).  Maar die feit dat dit moeilik is, beteken nie dit is onmoontlik nie.  Om Openbaring te verstaan moet jy dit reg interpreteer.  En hoe is dit?

 

Die algemene reël wanneer dit by Bybel-interpretasie kom, is dat jy dit letterlik moet interpreteer, dat jy woorde en sinne moet bestudeer, dat jy die konteks in ag moet neem, en dat jy die historiese agtergrond moet onthou. Om iets letterlik te interpreteer beteken nie jy ignoreer die literatuursoort nie.  Om Ps.23 reg uit te lê, moet jy onthou dat dit poësie is.  Ons kan nie die Psalm lees en tot die slotsom kom dat Jesus ‘n skaapwagter van beroep is, of dat Christene wol, kort sterte en hoewe het nie.  Jesus is soos ‘n skaapwagter wat vir ons omgee, en ons is soos skape wat rigtingloos is sonder Hom.

 

Wanneer jy Openbaring interpreteer, moet jy onthou dat dit ‘n profetiese boek vol van beelde en simbole is (v.3). Jy kan nie self besluit wat die simbole beteken nie, maar moet die oorspronklike simbole in die Ou Testament opsoek.  As jy bv. in Op.13:1 van ‘n dier met tien horings en sewe koppe lees, moet jy Dn.7:17 naslaan.  Daar sal jy sien dat hierdie diere simbolies is van magtige konings.

 

As jy na deeglike studie nogsteeds oortuig is dat Openbaring meestal van die toekoms (of die hede) praat, goed so. Onthou asseblief dat jy iets kan leer by dié wat anders dink as jy.  Kry gerus Steve Gregg se kommentaar waarin hy die vier sienings verduidelik.[7]  Moenie met ander gelowiges hieroor stry en baklei nie.  Stem eerder saam oor die basiese waarheid van Jesus se wederkoms en die finale oordeel.

 

Die Here se seënwense (v.3-5a)

‘n Paar weke gelede het ek vir ‘n kollega gesê dat ek ‘n reeks in Openbaring wil begin. Ek het vir hom gesê dat ek na ‘n sekere interpretasie toe neig, en dat groot dele van die boek reeds in Johannes se tyd vervul is (natuurlik nie die dele oor die wederkoms en die finale oordeel nie).  Hy het vir my gevra:  ‘As groot dele van die boek vervul is, wat beteken dit vir ons?’  My reaksie was:  ‘As Jes.53 en tekste oor Israel se ballingskap vervul is, wat beteken dit vir ons?’  Die feit dat gedeeltes in Openbaring en die res van die Bybel vervul is, beteken nie dat daar geen toepassing is vir ons nie.  Alles in Openbaring is ook op ons van toepassing (2 Tm.3:16-17).

 

Daar is ‘n belofte van seën vir die leraar wat die profesie van hierdie boek hardop lees, maar ook vir die gemeente wat dit hoor en doen wat daarin geskryf staan (v.3, 2:1, 12, 18, 3:1, 7, 14, vgl. 22:7, Lk.11:28). Omdat die boek ‘n profesie genoem word, gaan dit oor spesifieke gebeure.  Ek kan daarom nie saam met die idealiste (soos William Hendriksen) stem wat sê dat die boek oor en oor in die geskiedenis vervul word, en dat dit nie met spesifieke gebeure te doen het nie.[8]

 

Johannes het sy brief aan die sewe gemeentes in Asië gerig (v.4). Die gemeentes is nie voorstellings van verskillende tydperke in die kerk se geskiedenis nie, maar is sewe historiese gemeentes in die eerste eeu:  Efese, Smirna, Pergamus, Tiatire, Sardis, Filadelfia, en Laodisea (v.11).  Die dorpe waarin die kerke geleë was, het in ‘n hoefyster vorm aan die weste kant van moderne Turkye gelê.  Dit is nie net hfst.1-3 wat vir hierdie kerke bedoel was nie.  Volgens 22:16 is die hele boek is vir hulle geskryf.

 

Deur hierdie brief het die Here genade en vrede vir sy vervolgde kinders belowe (v.4). Hierdie genade en vrede het van die Drie-Enige God af gekom (v.4-5a):

 

[1] Die Vader wat was, wat is, en wat kom (v.4, Ps.90:2, Eks.3:14).

 

[2] Die sewe Geeste wat voor die troon van God is (v.4). Die getal sewe kom 54 keer in Openbaring voor en spreek van volmaaktheid.  In 1:4 praat hy dan van die sewevoudige of volmaakte Gees van God (3:1, 4:5, 5:6, Sg.4:2, 6, Jes.11:2).

 

[3] Jesus Christus. Hy is die getroue getuie van God wat nie kan lieg nie (v.5a, 3:14, 19:11, Jh.18:37, 1 Tm.6:13).  Hy is die eerste Een wat opgestaan het om nooit weer te sterf nie (v.5a, Kol.1:18, Hd.26:23).  Hy is die Koning van die konings (v.5a, 19:15-16, 17:14, Ps.2).

 

Hou die belofte van seën in gedagte as jy hierdie reeks in Openbaring bywoon, op die blog volg, en probeer om dit toe te pas (v.3). Dalk stem jy nie saam met my benadering nie.  Ek wil jou vra om in elk geval saam met my deur die boek te werk.  Dalk sal my uitleg sin maak soos wat ons aanbeweeg.  Maar al stem jy nie daarmee saam nie, wil ek vra dat jy die vis sal eet en die grate uitspoeg.  Moenie so in die detail vasgevang raak dat jy die sentrale rol wat Christus daarin speel mis nie.  Kyk uit vir sy heerlikheid, Koningskap, oorwinning en die evangelie wanneer jy die boek lees en na die prediking daarvan luister.  Vra hoe jy Hóm beter kan ken wanneer jy die boek oopmaak.

 

Dalk verstaan jy nie alles oor die 666 of die vier perde nie, maar jy verstaan wel dat die Here jou eerste liefde moet wees (2:4-5), en dat jy nie geestelik lou moet wees nie (3:15-16). Ons moenie verwag dat die Here nuwe waarhede vir ons gaan leer, as ons ongehoorsaam is aan dié dinge wat vir ons duidelik is nie.

 

Vir baie gelowiges is Openbaring ‘n boek van ‘doom and gloom’, maar volgens v.3 is dit ‘n boek wat seën belowe.  Kyk dan verby die sprinkane en die bloed, en sien die seën wat God belowe vir dié wat deur moeilike tye aan Hom getrou bly (2:7, 11, 17, 26, 3:5, 12, 21).

 

Die Here se heerlikheid (v.5b-6)

Ek was eenkeer bang vir ‘n humeurige persoon wat op my geskreeu het. Die Here het my die volgende dag uit Jes.41:10-14 bemoedig.  Soos wat die Here mý bemoedig het, het Hy die gemeentes in v.3-5a bemoedig, omdat hulle binnekort vir die evangelie vervolg sou word.

 

Alle heerskappy en eer behoort aan Jesus (v.6). Die keisers van Rome se einde was voor die deur, maar aan Christus se heerskappy is daar geen einde nie (v.6, Dn.2:44).  Amen:  laat dit so wees (v.6)!

 

  • Hy het ons liefgehad en van ons sondes bevry deur sy bloed (v.5b, 1 Pt.1:19).
  • Hy het ons bevry van die straf wat oor ongelowige Israel en oor die res van die wêreld gaan kom (hfst.6-20).
  • Hy laat die wêreld se koninkryke val om van ons konings en priesters te maak (v.6, 11:15, Dn.7:14, 22, 27, 1 Pt.2:9, kontr. Eks.19:6). As konings sal ons saam met Hom op die aarde regeer (5:10). As priesters het ons direkte toegang tot die troonkamer van God (1 Tm.2:5, Hb.4:16, 10:19-22), en kan ons geestelike offers bring (1 Pt.2:5).

 

Hou Jesus se heerlikheid vooroë in die chaos wat ons land en die wêreld tans beleef. Ons hoef nie angstig te raak as studente kampusse afbrand, die president korrup is, die V.S.A. op die afdraende pad is, en ISIS Christene doodmaak nie.  Jesus Christus sal sy vyande se neuse in die grond vryf – Koninkryk sal seëvier (v.5-6).

 

Of ons nou sê dat groot dele van die boek alreeds vervul is of nie, maak nie ‘n verskil nie. Die punt is dat Openbaring dinge oor die nasies van die aarde en hulle konings voorspel.  Die feit dat God dinge oor hulle voorspel het, impliseer dat die leiers van die aarde nie kan doen wat hulle wil nie.  Hulle kan net doen wat die Here bepaal het (Ef.1:11, Dn.2:21, 4:35).

 

Die Here se koms (v.7-8)

Ek ken ‘n paar mense wat dieselfde siening oor Openbaring handhaaf as ek. Toe een van hulle ‘n reeks oor Openbaring in sy kerk begin het, het daar stories rondgeloop dat hy nie in die wederkoms glo nie.  As gevolg daarvan het mense die kerk verlaat.  Maar die waarheid is dat hierdie predikant in die wederkoms glo.

 

‘n Ander man het sy siening oor Openbaring bekend gemaak. Sy kollega was nogsteeds lief vir hom, maar was onder die indruk dat hy nie in die wederkoms glo nie.  Ek het die man gebel en gevra of hy in die wederkoms glo.  Ek het gou agterkom dat ek en hy dieselfde oor Openbaring glo en dat hy met sy hele hart in die wederkoms glo.  Moet my asseblief dan nie misverstaan nie:  ek glo in die wederkoms!

 

Wanneer Johannes sê dat Jesus op die wolke kom, praat hy nie net van die wederkoms nie (v.7). Hoe weet ons dit?  Hd.1:9 praat van Jesus wat met die wolke na die hemel toe opvaar.  Hy het in hierdie wolke voor sy Vader gekom om ‘n Koninkryk te ontvang (Dn.7:13-14).  Die lg. verse gaan nie oor die Seun van die Mens wat op die wolke na die aarde toe kom nie – dit beskryf hoe Hy na die hemel toe opgevaar het.

 

Ons weet dat Hy weer op die wolke na die aarde toe sal terugkeer (Hd.1:11). Maar volgens die Skrif sal Hy ook vóór sy finale koms op die wolke ry om sy vyande te oordeel.  Let gerus op die volgende verse:

 

  • “En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie… En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.” (Eks.14:19-20, 24).
  • “Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.” (Dt.33:26).
  • “En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind. Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke. Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.” (Ps.18:11-13).
  • “Godspraak oor Egipte. Kyk, die HERE ry op ‘n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.” (Jes.19:1).
  • “Kyk, soos wolke kom hy op, en soos ‘n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes! Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?” (Jer.4:13-14).
  • “Want naby is ‘n dag, ja, naby is ‘n dag van die HERE, ‘n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees. Dan sal ‘n swaard in Egipte kom, en daar sal angs in Kus wees as die wat verslaan is, val in Egipte, en as hulle sy rykdom wegneem en sy fondamente afgebreek word.” (Esg.30:3-4).
  • “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby—‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag; soos die môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom ‘n talryke en magtige volk, wat van oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare van die verste geslagte nie.” (Joël 2:1-2).
  • “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid, ‘n dag van wolke en wolkenag”(Sef.1:14-15).

 

Natuurlik geld die koms in v.7 ook vir die wederkoms, maar hiér hou dit direk verband met God se oordeel oor Israel, omdat hulle die Messias gekruisig het. Jesus het mos gesê dat sommige van sy dissipels (o.a. Johannes) nog by hierdie koms sou gelewe het:

 

  • “En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.” (Mt.10:23).
  • “Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” (Mt.16:27).
  • “En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid… Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” (Lk.21:27, 32).
  • Jesus antwoord hom [Petrus]: As Ek wil hê dat hy [Johannes] bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?” (Jh.21:22-23).

 

Die eindste mense wat Hom gekruisig het, sou oor Hom getreur het (v.7). Die Romeinse soldate het Hom met ‘n spies deurboor en Hom met spykers aan die kruis vasgeslaan (Jh.19:34, 37, Ps.22:17).  Tog is dit die Jode wat direk vir sy dood verantwoordelik was (Hd.2:22-23, 36, 3:14-15).  Toe Jesus gekruisig is het hulle uitgeroep:  “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Mt.27:25).  God het die Jode op hulle woord geneem en in 70 n.C. sy oordeel soos ‘n stortreën op hulle laat neerkom, sodat al die stamme van die land (v.7, Gk. ), asook die Jode wat oor die aarde versprei was, met vrees en bewing oor die Messias se oordeel getreur het (v.7, 6:16-17, Lk.23:27-31, Sg.12:10).  Die woorde ‘ja, amen’ wys dat dit sou gewees het soos wat Sagaria en Johannes geprofeteer het (v.7).

 

Alfa en Omega is die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet.  God is die Begin en die Einde van alles, die Een wat was en wat is en wat kom (v.8, vgl. 21:6, 22:13).  As Hy met sy vyande afgereken het, sou Hy vir ewig regeer het en nie ‘n opvolger tot sy troon gehad het nie (v.8, Jes.43:10).  Hy is die Almagtige wat nie net dreig nie, maar uitvoer wat Hy belowe het (v.8).

 

Die vroeë Christene het verwag dat die Here in húlle tyd sou kom om hulle vervolgers, die ongelowige Jode, te oordeel (1 Ts.2:14-16). Net so moet ons sy finale koms op die wolke verwag (2 Ts.1:7-8).  Maak seker dat jy aan die Here se kant is wanneer Hy weer kom.  As jy die Here ken sal dit ‘n dag van blydskap en verlossing wees (Hb.9:28, Jud.24).  Maar as jy Hom nie ken nie en in jou sonde volhard, sal dit ‘n verskriklike dag wees.  Jy sal wens dat jy nooit gebore is nie.  Sorg dan dat jy gereed is om voor die Here te staan.

 

Hoe kan jy jouself voorberei? Moenie een tree verder op die pad van jou sonde gee nie, maar bekeer jou na die Here toe.  Besef dat jy niks kan doen om God se vurige toorn af te weer nie.  Kry berou oor jou sonde en nie maar net oor die straf nie.  Dank en prys die Here, omdat Hý die verdiende straf van sondaars op Homself geneem het aan die kruis.  Vertrou dat Hy jou sal red as jy in Hom glo, en erken dat sy verlossingswerk jou enigste hoop is om gered te word.  God sal jou nie in sy heilige hemel duld nie, maar as jy deur geloof agter Jesus se perfekte lewe en kruisdood skuil, sal Hy jou met ope arms verwelkom.  Vir jóú sal Christus se wederkoms nie ‘n dag van verskrikking wees nie, maar ‘n dag van vrede en hoop.

 

Toe ek studeer het, het een van my dosente gesê dat hy in Amerika gepreek het. Toe sy gasheer en gasvrou gehoor het dat hy anders oor Openbaring geglo het as hulle, het hulle hom sku behandel.  Dit hoort nie so nie.  Die laaste twee sinne in ons kerk se geloofsbelydenis sê:  ‘Daar is verskeie goeddeurdagte sienings oor die eindtyd.  Dit is onnodig om skeuring hieroor in die kerk te veroorsaak.’  Dit geld ook wanneer dit by ons interpretasie van die boek Openbaring kom.

 

[1] David S. Clarke, The Message of Patmos, p.19 en Kenneth Gentry, Perilous Times, pp.121-122

[2] Gentry, Ibid, pp.127-128

[3] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, p.98

[4] Against Heresies V.xxx.iii aangehaal in William Hendriksen, More Than Conquerors, p.20

[5] Hendriksen, Ibid, p.19 en Carson & Moo, An Introduction to the New Testament, pp.700-701

[6] Hendriksen, Ibid, p.17

[7] Revelation: Four Views – A Parallel Commentary

[8] Alhoewel ek nie op hierdie punt met Hendriksen saamstem nie, is hy oor die algemeen ‘n uitstekende kommentator.

Wanneer God se volk Hom verwerp

Talk to the hand

As die Here wil begin ek volgende week ‘n reeks in Openbaring. ‘n Algemene fout wat mense maak wanneer hulle die boek interpreteer, is om te maak asof dit niks te doen het met die Christene wat in Johannes se tyd geleef het nie.  Hulle dink dit het te doen met Rusland, masjien gewere en die Verenigde Nasies.  Maar eintlik is daar baie verse in die boek wat te doen het met God se oordeel oor Israel, omdat hulle hulle Messias verwerp het en Hom gekruisig het.

 

Jh.5:1-18 is maar net die buitelyne van ‘n prentjie wat later met hulle bebloede hande ingekleur sou word. Laat ons dan hierdie waarskuwing ter harte neem en nie dink dat ons staan nie, want anders sal ons net soos hulle val.

 

Die man se genesing (v.1-9a)

In 2007 het ek ‘n sendeling in Taiwan besoek. Op ‘n dag het een van die sendelinge my na ‘n natuurlike warmwater bron toe gevat.  Die baddens ontspring uit ‘n vulkaniese berg.  By die fonteine is die water 100°C.  Dit vloei dan vir ‘n kilometer of twee, totdat dit groot baddens vorm waarin ‘n mens kan sit.  Volgens die land se mense is die water goed vir arthritis en baie ander kwale.  Volgens argeoloë is dit moontlik dat die bad van Bethesda in Jerusalem só ‘n waterbron met genesende eienskappe was.  En dit is hiér wat die genesing van die lam man afspeel.

 

Nadat Jesus die amptenaar se seun in Galilea genees het, het Hy teruggegaan Jerusalem toe. Hy was daar vir een van die Joodse Feeste (v.1, Dt.16:16).  Hy was by die Skaapspoort waarvan ons in Neh.3:1, 32 lees (v.2).  Geleerdes meen dat hierdie poort direk met die tempel verbind was, en dat die skape wat vir die offers bedoel was deur hierdie poort gekom het.

 

Die bad van Betesda of ‘huis van genade’ was hier en het gestaan onder ‘n dak wat deur vyf pilaargange ondersteun is (v.2). Tussen die rye pilare was daar talle verlamdes, gebreklikes en blindes (v.3).  Sommige manuskripte sê dat die mense “op die roering van die water gewag het.  Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer.  Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.” (v.4, OAV).  Hierdie vers kom egter nie in die beste manuskripte voor nie.

 

Maar dit mag wees dat die minerale in hierdie bad genesende eienskappe gehad het, en dat die roering in v.7 deur die opborreling van ‘n fontein veroorsaak is.[1]  Dit mag wees dat die Jode in hierdie verse regtig geglo het dat ‘n engel die water roer, sodat die persoon wat eerste in die bad geklim het genees is (vgl. 2 Kon.5:10, 14).

 

Een van die mense wat langs die bad gelê het was al vir 38 jaar bedlêend (v.5, 8). Menslik was daar nie hoop dat hy genees kon word nie.  Tog het Jesus nie soos die res verby hom geloop nie – Hy het hom daar sien lê; Hy was sensitief vir mense se lyding (v.6).  Omdat Hy God is het Hy geweet dat die man al vir ‘n lang tyd siek was, dat hy gereeld by die bad was, en dat hy graag genees wou word (v.6).  “Wil jy gesond word?” het Hy vir hom gevra.

 

Die siek man het iemand nodig gehad om hom in die bad te sit (v.7). Hy het eintlik by Jesus geskimp om hom in die bad te sit wanneer die water opborrel.  Hy het nie geweet dat Jesus hom wou of kon genees het nie (v.7, 13).  Jesus het vir hom gesê om op te staan, sy bedmatjie op te tel, en te loop (v.8, vgl. Mt.9:6-7).  Die man het nie gesê:  ‘Ek kan nie loop nie,’ maar het gedoen wat Jesus beveel het (v.9a).  Na 38 jaar is hy sonder rehabilitasie of terapie onmiddellik genees.  Hierdie wonderwerk het weereens bewys dat Jesus die Messias en die Seun van God is (20:30-31), dat Hy almagtig en soewerein is om te genees.

 

Die Jode se teenkanting (v.9b-18)

Die Mishna is Joodse oorlewerings, tradies en wette wat later by die eerste vyf boeke van die Bybel bygevoeg is. In teorie het hulle dit nie as Skrif aanvaar nie, maar in die praktyk het hulle dit tot op die vlak van die Skrif verhef.  Dit is presies wat Jesus in Mt.15:6 vir hulle gesê het:  “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”  Hulle het dit o.a. gedoen wanneer dit by die Sabbat kom.  Hulle het 39 wette gehad waarin hulle duidelik uitgespel het watse aktiwiteite ‘n mens op die Sabbat mag doen en wat nie.

 

Hulle het byvoorbeeld gesê dat ‘n mens nie op die Sabbat asyn op jou tande mag sit om ‘n tandpyn weg te vat nie. Jy mag egter die asyn op jou kos sit.  As die asyn dán jou tandpyn wegvat is dit toelaatbaar, omdat dit toevallig was (Shab.14:4).  Op die Sabbat mag jy wyn en olie vate by jou naaste leen.  Jy mag net nie vra om dit te leen nie, omdat dit ‘n transaksie is.  ‘n Transaksie vereis dat jy moet skryf, en om te skryf is werk (Shab.23:1).[2]

 

Vir die Jode was gehoorsaamheid aan hierdie wette belangriker as ander mense se voordeel. Hulle wettiesisme het hulle liefdeloos, koud en hart gemaak – nie net teenoor hulle naaste nie, maar ook teenoor hulle Messias en hulle God.

 

Die dag waarop Jesus die man gesond gemaak het was ‘n Sabbat (v.9b, vgl. 7:23, 9:14, Lk.13:14). God het nie die Sabbat gegee om mense met swaar reëls en wette te belas nie, maar sodat die mens sy batterye kon herlaai:  geestelik, fisies, sosiaal, intellektueel, en emosioneel.  “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” (Mk.2:27).  Jesus het dit nie as werk beskou om mense te help nie, maar as ‘n daad van liefde.

 

Maar volgens die Jode was dit onwettig vir die man om sy bedmatjie op die Sabbatdag rond te dra (v.10). Hulle kon nie gesê het dat hulle dit uit Jer.17:21-22 gekry het nie, omdat die man nie ‘n swaar las gedra het nie:  “So spreek die HERE:  Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.  Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.”

 

Die man het vir die Jode gesê: ‘Die man wat my gesond gemaak het, het gesê ek moet my bed optel en loop’ (v.11).  ‘Wie is die man wat vir jou gesê het om met jou bedmatjie rond te loop?’ het hulle gevra (v.12).  Die genesing het hulle glad nie beïndruk nie.  Al waarin hulle vasgekyk het was dat hy die tradisies van hulle voorvaders oortree het.  Hulle het nie daarin belanggestel om vir Jesus te aanbid nie, maar om Hom te vervolg (v.18).

 

Die man het nie geweet waar of wie Jesus was nie (v.13). ‘n Tydjie later het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê:  “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (v.14).  Was die man siek was a.g.v. van een of ander sonde wat hy gedoen het (kontr. 9:1-3)?  Of het Jesus bedoel dat die man besig was met sonde, omdat hy Hom aan die Jode wou oorlewer?  En wat is die ‘erger’ ding wat sou gebeur het as hy met sy sonde aangehou het?  Dit mag wees dat hy sieker sou geword het as voorheen.  Maar meer waarskynlik bedoel Jesus dat hy in die hel sou beland het.  Dit is hartseer dat die man wat genees is nie in Jesus geglo het nie.  Dalk was hy ‘n prentjie van Israel wat die Seun van God se wonderwerke gesien het, maar nie in Hom geglo het nie (2:23-25).

 

Die man het nie vir Jesus geluister nie, maar het dadelik vir die Jode gaan sê dat dit Jesus was wat hom genees het (v.15).  Hy het homself oortuig dat daar nie iets erger met hom sou gebeur het nie.  Toe die Jode gehoor het dat dit Jesus was wat hom genees het, het hulle Hom aanhoudend vervolg (v.16, Gk.).  Die feit dat hulle Hom vir ‘n goeie daad vervolg het, wys iets van die hardheid van hulle harte (10:32).

 

‘Ek en my Vader het ons skeppingswerk op die sewende dag voltooi, maar dit beteken nie dat Ons nie nogsteeds besig is om te werk nie. Ons onderhou elke hartklop, gee kos vir die kraaie, en sorg dat die aarde om sy eie as draai.’  Dit is basies wat Jesus met v.17 bedoel het (Heb.1:3, Kol.1:17).  Daarom was dit nie verkeerd vir Jesus – die Here van die Sabbat (Mk.2:28) – om hierdie man op die Sabbat te genees nie.  Hy was net besig om die skepping onderhou.

 

Toe die Jode dit gehoor het was hulle woedend, en wou hulle Hom doodmaak (v.18, 7:1, 10:33, 36). In hulle oë het Hy die Sabbat ‘gebreek’ en Homself op ‘n gelyke vlak met God gestel, omdat Hy Hom sy eie Vader genoem het (v.18).  Volgens 19:7 is dít hoekom hulle Hom gekruisig het:  “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”  Die ironie is dat hulle reg was:  Hy was in elke opsig met die Vader gelyk (v.19-29, 20:28, Fil.2:6, Kol.2:9, Heb.1:3).

 

Moenie die voorregte van die evangelie gering ag nie. Moenie soos Israel wees en die Here verwerp nie.  Lees jy jou Bybel?  Gebruik jy die vryheid wat die Here vir jou gegee het om met mense die evangelie te deel?  Speel die kerk ‘n sentrale rol in jou lewe, of is dit vir jou ‘n bysaak?  Vertel jy daagliks vir jou kinders van die groot dinge wat die Here gedoen het?  Is gebed en die samekoms van die gelowiges iets waarsonder jy nie kan klaarkom nie?

 

As ons nie die voorregte gebruik wat die Here vir ons gee nie, sal Hy dit van ons af wegvat sodat ons soos Israel word. Hulle lees elke Saterdag die Ou Testament, maar verstaan dit nie (2 Kor.3:14-15).  Omdat hulle hulle oë en ore vir die waarheid toegesluit het en die Messias verwerp het, het God hulle verblind en hulle ore doof gemaak sodat hulle dit nie kán glo nie (12:39-40).

 

Sal dit nie aaklig wees as die Woord en gebed in skole verbied word nie? Wat as die regering besluit om kerke toe te maak, Bybels te brand, Christelike boekwinkels te sluit, en prediking te verban; as daar ‘n hongersnood kom om die woorde van die Here te hoor (Am.8:11)?  Of wat as ons nog die kerk en die Bybel het, maar ons nie meer die Here se teenwoordigheid ervaar nie, omdat ons ons eerste liefde verlaat het, of omdat ons geestelik lou geword het (Op.2:4-5, 3:15-16)?  Hoe moet dit wees as jy vas en bid, maar die Here jou nie antwoord nie, omdat jy jou ore toegestop het toe Hy met jou gepraat het (Sg.7:13, Jes.58:3, Sp.1:28)?

 

Dalk sê jy: ‘Ons leef nie meer in die Ou Testament nie, maar is deel van die Nuwe Testamentiese kerk.  Ons kan nie die Here verwerp soos wat Israel gedoen het nie, en Hy sal ons ook nooit verwerp nie.’  Jy is reg om te sê dat die Here nooit sy uitverkorenes sal verwerp nie.  Hy sal selfs uiteindelik die Jode herstel en tot geloof in sy Seun bring (Rm.11:1-2, 23, 25-26, 28-29).  Dit beteken egter nie dat almal wat op die kerk se lederol is, gered is nie.  ‘n Tak wat nie vrugte dra nie word afgesny en in die vuur gegooi (vgl. 15:6).  Paulus waarsku in Rm.11:20-22:

 

“Deur ongeloof is hulle [Israel soos ‘n olyfboom se takke] afgebreek, maar jy [‘n heiden wat met die gemeente assosieer] staan deur die geloof. Moenie hoogmoedig wees nie, maar vrees.  Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.  Let dan op die goedertierenheid en die strengheid van God:  strengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.”

 

Jesus sal nie sy skape weggooi nie, maar dit is baie moontlik dat Hy ‘n plaaslike gemeente se deure kan sluit, omdat hulle ontrou geword het (Op.2-3). Laat ons dan nie ons voorregte vanselfsprekend neem, sodat ons begin om dit af te skeep nie, maar laat ons luister na wat die Here vir ons wil sê:  “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie… hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam…?’ (Heb.2:1, 3).

 

Dalk dink jy nogsteeds dat jy nie soos die Jode die Here sal verwerp nie, en dat hierdie preek nie regtig op jou van toepassing is nie. Onthou dat afvalligheid nie in ‘n dag gebeur nie.  Jou gewete pla jou, maar jy sê vir jouself dat dit net ‘n klein dingetjie is.  Die kompromie wat jy met sonde aangaan is nie groot nie.  En so beweeg jy treetjie vir treetjie van die Here af weg.  Voordat jy jouself kry lê jy saam met iemand anders se huweliksmaat in ‘n bed, of doen jy dinge wat niemand van jou verwag het nie.  En dan kyk jy vir jouself in die spieël en jy sê:  ‘Ek glo in elk geval nie meer in God en die Bybel nie.’

 

Ek wil jou vra om nie slap te lê of op te gee in hierdie wedloop nie. Byt vas en volhard enduit.  “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb.10:24-25).

 

[1] Leon Morris, The Gospel According to John, p.302

[2] Aangehaal in Ibid, p.305 n.25

’n Partytjie in die hemel

Balloons in sky

Wat maak partytjies lekker? Die mense vir wie jy lief is, is saam met jou.  Almal is gesellig en kuier saam.  Jy eet jou gunsteling kos en lekkernye.  Die persoon wat verjaar kry geskenke, en die ander geniet dit om te gee.

 

Volgens die Bybel is daar ‘n partytjie in die hemel wanneer iemand tot bekering kom (v.7, 10, 24). Het jy al daaraan gedink dat die partytjie nooit ophou nie, omdat daar elke dag êrens in die wêreld iemand tot bekering kom?  Lk.15:11-32 beskryf vir ons hoekom daar soveel blydskap is.

 

Die verlore seun (v.11-20a)

John Welch het in die 16de en 17de eeu in Skotland gelewe. Toe hy ‘n tiener was het hy van die huis af weggeloop en deel geword van ‘n bende.  In die aande het hulle oor die Skotse grens geglip om in Engeland te steel.  So het hy aangehou totdat sy klere vlenters was.

 

Toe hy niks meer oorgehad het nie, het hy besluit om na sy pa toe terug te gaan. Met trane in sy oë het hy voor sy pa gekniel en hom gesmeek om hom te vergewe.  Hy het belowe om ‘n nuwe blaadjie om te slaan, en het gevra of hy sy studies kan voltooi.  ‘As ek droogmaak kan pa my vir ewig onterf,’ het hy gesê.  Sy pa het hom vergewe en daartoe ingestem.  In latere jare het Welch die skoonseun van John Knox geword, en was hy een van die heiligste manne in Skotland.[1]

 

Sulke stories is nie ongewoon nie. Dit gebeur soms dat God ‘n man op die grond moet neerslaan voordat hy tot sy sinne kom (1 Kon.8:47, 2 Kron.33:10-13, Mt.5:3-6).  Dit is wat in v.11-19 met die verlore seun gebeur het.

 

Jesus het vertel van ‘n man wat twee seuns gehad het (v.11). Die jongste seun wou gou ryk geword het sonder om hard te werk.  Gevolglik het hy vir sý derde van die erfporsie gevra (v.12, Dt.21:17).  Sy versoek was disrespekvol, omdat hy daardeur vir sy pa gesê het:  ‘Ek wens pa was al dood.  As ek tussen geld en ‘n verhouding met pa moes kies, dan sou ek geld kies.’  As hy wou, kon sy pa hom onterf het.  Hy het egter vir elke seun sy erfdeel gegee (v.12).

 

‘n Kort tydjie daarna het die jongste seun al sy besittings gevat en van die huis af weggeloop – hy was nie van plan om terug te kom nie (v.13).  Hy het na ‘n ver land toe gegaan (v.13).  Terwyl hy daar was het hy sy besittings verpand en die geld gemors op ‘n lewe van seksuele losbandigheid en dronkenskap (v.13, 30, Gk., Ef.5:18, Tit.1:6, 1 Pt.4:4, 3).  Toe sy geld klaar was het daar ‘n swaar hongersnood oor die land gekom (v.14).  Volgens Jesus het hy begin om gebrek te ly (v.14).  Die implikasie is dat sy nood erger geword het.

 

In sy desperaatheid het die seun by ‘n plaashuis gaan aanklop en gevra vir werk (v.15). Die boer het hom gestuur om sy varke op te pas (v.15).  Vir ‘n Jood is ‘n vark die hoogtepunt van onreinheid (Lv.11:7-8).  Die Rabbi’s het gesê:  ‘Cursed is the man who rears swine.’[2]  Die seun sou egter enigiets gedoen het om te oorleef.  Die carobbeboom peule in die varke se voerbak was semisoet.  Mense het dit net in ekstreme omstandighede geëet, maar in hierdie geval was die seun nie eers toegelaat om dít te eet nie (v.16, vgl. 16:21).

 

Die seun het besef dat hy in ‘n gemors is, en het tot sy sinne gekom (v.17). Omdat sy geld op was kon hy homself nie uithelp nie.  Daar was egter nog een uitweg:  hy kon teruggaan na sy pa toe.  ‘By my pa se huis het selfs die huurslawe genoeg om te eet, en daarom is dit onnodig dat ek van die honger moet omkom,’ het hy gesê (v.17).  ‘As my pa so gaaf is met die huurslawe, wys dit mos dat hy ‘n goeie man is.  Sy behoefte aan ekstra werkers op die plaas wys ook dat hy voorspoedig is, en dat hy genoeg het om vir my te sorg.’

 

Die seun wou nie net kos en ‘n dak oor sy kop gehad het nie, maar het besluit om na sy pa toe terug te keer – die verhouding moes herstel word (v.18).  Hy het ware berou gehad en was gewillig om sy sonde te erken:  ‘Ek het teen die hemel (vgl. Dn.4:26) en teen pa gesondig, en is bereid om my status as ‘n seun te verloor en soos ‘n slaaf behandel te word.’ (v.18-19).  Hy het opgestaan en na sy pa toe teruggekeer (v.20a).

 

Moenie soos die ouer broer dink jy is beter as slegte sondaars nie, maar sien jouself in die verlore seun. Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie gered word nie.  Soos die verlore seun was jy ver van die Vader af (v.13), “sonder hoop en sonder God in die wêreld.” (Ef.2:12).  Miskien is jy nogsteeds in die ver land.  Jy hoop dat rykdom en plesier jou gelukkig sal maak, maar as jy eerlik is moet jy erken dat dit nie die leemte in jou siel gevul het nie (v.13-14, Pd.5:9).  Inteendeel, soos die swaar hongersnood in v.16-17, trek die wêreld en haar sonde jou kaal uit en los dit jou met niks.  Die groener weivelde was toe nie so groen soos wat jy gedink nie.  As jy by die Here gebly het sou Hy jou siel versadig het (v.17).

 

Hoekom wil jy langer vir jou sonde lewe? Dit belowe plesier (v.12), maar diep in jou hart is jy sielsongelukkig (v.13-16).  Dit hoef nie so te wees nie.  In Jesus is daar meer as genoeg om jou siel te versadig (v.17, Jh.6:35).  Pasop egter dat jy nie met ‘n verkeerde motief na Jesus toe kom nie.  Moenie kom net omdat jy wil hê Hy moet jou omstandighede verander nie, maar kom omdat jy ‘n persoonlike verhouding met Hom wil hê (v.18).

 

Hoe kom ‘n mens na Hom toe?  Jy moet erken dat Hy jou niks skuld nie, en dat jy nie waardig is om sy vergifnis te ontvang nie (v.19).  Wees ook bereid om te erken dat jy nie bloot teen mense nie, maar teen Gód gesondig het (v.18).  “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë” (Ps.51:6).  Jy het die asem, tyd, geld, liggaam, en talente wat Hy vir jou gegee het teen Hom gebruik (v.12-13, Dn.5:23).  Moet jouself nie regverdig of die skuld op ander mense en jou omstandighede laai nie.  Iemand wat sy sonde verskoon kan nie gered word nie.

 

Moenie net planne in jou kop te hê nie, maar wees soos die verlore seun wat oorgegaan het tot aksie (v.20a). Baie mense weet dat Jesus die sondelose Seun van God is, dat Hy ons straf op Homself geneem het aan die kruis, dat Hy uit die dood uit opgestaan het, dat ons Hom moet liefhê en ons sonde moet los, en dat dié wat in Hom glo nie hel toe sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.  Hulle dagdroom oor Jesus en die hemel (v.17), maar omdat hulle nie in geloof en bekering reageer nie, bly hulle in die varkhok van hulle sonde (v.16).

 

Die liefdevolle pa (v.20b-24)

‘n Rebelse seun in Wallis het van sy ouerhuis af weggeloop. Sy ouers het nie geweet waar hy is nie.  Op ‘n dag toe kry sy pa ‘n brief in die pos:  ‘Pa, ek het teen pa en ma gesondig.  Ek het tot my sinne gekom en wil graag huistoe kom.  Sal pa my asseblief vergewe? As pa my vergewe, sal pa asseblief ‘n wit sakdoek aan een van die peerbome naby die stasie vasbind?’

 

Toe die trein by die stasie inkom was die seun te bang om te kyk. Hy het nie geweet of sy pa hom sou vergewe nie.  Toe hy uiteindelik opgekyk het, was daar ‘n wit sakdoek aan elke tak in die peerboord.  Sy pa het hom volkome vergewe.  Die pa in Jesus se gelykenis het die verlore seun só vergewe.

 

Uit v.20b lyk dit of die pa gedurig gaan kyk het of sy seun nie dalk huistoe kom nie: “En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.”  Onthou dat ou mans in daardie tyd en kultuur nie sommer vir enige rede hulle rokke opgetel en gehardloop het nie.  Die feit dat hy gehardloop het wys iets van sy gewilligheid om die seun te vergewe.  Sy soene het ook gewys dat hy sy seun hartlik en vrylik vergewe het, en dat hy hom weer as sy kind aangeneem het (2 Sm.14:33).

 

‘Pa, ek het teen die hemel en voor pa gesondig, en is nie werd om pa se seun genoem te word nie,’ het hy gesê (v.21). Hy wóú nog gesê het dat sy pa hom soos ‘n huurslaaf moet behandel, maar sy pa het hom dadelik vergewe en vir die slawe gesê om sy seun as hulle meester te dien (v.22).  Hulle moes dit gou doen en nie wag nie (v.22).  Hulle het vir hom ‘n edelman se kleed aangetrek [Gk. stolē], ‘n ring aan sy vinger gesit om te wys dat hy met sy pa se gesag kon optree (Gn.41:42, Est.3:10), en vir hom skoene aangetrek sodat hy nie kaalvoet in die huis sou rondloop soos ‘n slaaf nie (v.22).  Hulle het ook die vetgemaakte kalf geslag om dit vir die ‘eregas’ voor te sit (v.23).

 

Daar was meer as genoeg rede om fees te vier. Vir alle praktiese doeleindes was die seun dood, maar nou het sy pa hom lewendig teruggekry (v.24).  Sy pa het hom verloor, maar noudat hy terug was het sy pa hom gevind (v.24, 5, 9).  Sy pa het hom nie as ‘n huurslaaf beskou nie (v.19), maar as ‘n seun (v.22), en het hom in ere herstel.

 

Dink reg oor God. As jy ‘n verdraaide beeld van God het, sal jy bang wees en nie na Hom toe wil kom nie.  Hoe moet jy dan oor die Here dink?  Daar is baie mense wat dink:  ‘Ek het te erg gesondig – die Here sal my nie vergewe nie.’  As jy so dink moet jy na die pa in Jesus se gelykenis kyk om ‘n akkurate beeld van God te kry.

 

[1] As jy berou het en vergifnis vra, sal God jou nie aan jou sonde herinner nie (v.21-22). “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” (Jer.31:34).

 

[2] God is lief vir sondaars en voel jammer vir hulle (v.20, Mt.9:36, Jh.3:16).

 

[3] Daar is ‘n partytjie in die hemel as ‘n sondaar tot bekering kom (v.7, 10, 24-25).

 

[4] God omhels en soen jou nog voordat jy gebad het; terwyl jy in jou sonde is (v.20). Hy “bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rm.5:8).

 

[5] God laat ons nie vir maande in die stof kruip voordat Hy ons red nie, maar hardloop na ons toe en help gou as ons tot Hom uitroep (v.20, 22, Jk.4:8).  ‘Slow are the feet of repentance, swift are the feet of forgiveness.’ (Spurgeon).

 

[6] God se vergifnis is ryk (v.20, 22-24). Dit is groter as ons sonde:  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).  “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het” (Ef.1:7-8).

 

[7] God trek die vuil klere van ons sonde uit, en beklee ons met die skoon klere van Jesus se volmaakte geregtigheid (v.22, Sg.3:3-5).

 

[8] Ons was geestelik dood, maar God het ons lewend gemaak in Christus (v.24, Kol.2:13). Ons was verlore sondaars, maar God het ons gevind (v.24, 19:10, 1 Pt.2:25).

 

Ons hoef dan nie op ‘n afstand bly nie, maar kan in geloof na ‘n liefdevolle Vader toe kom.

 

Die selfregverdige broer (v.25-32)

In die laat 1700’s was daar ‘n groep liberale predikante in Skotland wat alles in hulle vermoeë gedoen het om sendingwerk in hulle denominasie te stuit. Alexander Carlyle van Inveresk was een van hulle.  Toe hulle by die denominasie se Algemene Vergadering hieroor moes stem, het een van Carlyle se vriende (‘n sekere dr. Jardine) inmekaar gesak.  Hulle het hom uitgedra.  As gevolg hiervan sou die stemming op ‘n latere stadium moes plaasvind.  Carlyle wou egter die saak deurgestem het.  Hy het buitentoe gehardloop, gesien dat Jardine dood is, teruggekom en vir die vergadering gelieg:  ‘Jardine sal binnekort beter wees,’ het hy gesê.  Die vergadering het voortgegaan en gestem.[3]

 

Vir selfregverdige mense is tradisie en hulle eie agendas belangriker as liefde vir God en hulle naaste. Die oudste broer in Jesus se storie is ‘n lewende voorbeeld hiervan.

 

Die oudste seun het ook sy erfdeel ontvang (v.12), en was seker in die veld besig om dit op te pas (v.25). Toe hy by die huis aankom het hy gehoor hoe mense sing en dans (v.25).  ‘Wat gaan hier aan?’ het hy vir een van die slawe gevra (v.26).  Die slaaf het gesê:  ‘Ons hou partytjie, omdat jou verlore broer veilig huistoe gekom het.  Jou pa loop oor van blydskap en het die vetgemaakte kalf geslag’ (v.27).

 

Die oudste seun was woedend en het geweier om in die huis in te gaan (v.28, 2). Sy pa het buitentoe gegaan en mooi met hom gepraat, maar hy wou nie inkom nie (v.28).  Hy het vir sy pa gesê:  ‘Ek dien pa nog al die jare.  Ek was nog nooit ongehoorsaam nie, en het al pa se bevele uitgevoer.  Tog het pa nie eers vir my ‘n jong bokkie gegee om saam met my vriende te braai nie’ (v.29).  Die seun het duidelik nie ‘n verhouding met sy pa gehad nie, maar het hom gesien as ‘n baas vir wie hy moes werk (v.29).  Verder het hy sy pa gedien vir wat hy daaruit kon kry, en nie omdat hy hom liefgehad het nie (v.29).  Hy was selfregverdig en het gedink dat hy nog nooit ongehoorsaam was nie (v.29, kontr. v.21).  Hy het ‘n wrok teen sy pa gehou (v.29).  Hy wou saam met sy vriende gewees het, en nie saam met sy pa nie (v.29).

 

Die oudste broer het nie die verlore seun as sy broer erken nie, maar het van hom gepraat as ‘hierdie seun van pa’ (v.30). ‘Hy het pa se geld op prostitute geblaas.  Pa moet hom straf; nie die vetgemaakte kalf slag nie!’ het hy in effek gesê (v.30).  In sy oë was dit nie net die verlore seun wat skuldig was nie, maar die liefdevolle pa.

 

Die pa was lief vir beide sy seuns en het vir die oudste een gesê: ‘Seun, jy is altyd by my.  Wat myne is is joune.  Moenie jaloers wees en my besittings vir jouself wil hou nie.  Is dit nie gepas om fees te vier as jou broer wat by die dood omgedraai het weer lewe nie; as jou vermiste broer gevind is nie?’ (v.31-32, 2).  Wil jy weet hoe die storie geeïndig het?  Die oudste broer het sy pa vermoor; hy het hom gekruisig.

 

Maak seker dat jy nie soos die oudste broer is nie. ‘n Vuil sondaar wat besef hy is verlore, is beter af as ‘n morele kerkmens wat dink hy het nie genade nodig nie (v.29-30, 18:9-14).  Toets jouself:

 

[1] Voel jy ongemaklik as swart mense, boemelaars, prostitute, en dwelmslawe kerk toe kom, of is jy bly omdat jy wil hulle moet tot bekering kom (v.2, 28-30)?  Het jy al gesê:  ‘As daar swartes in hemel gaan wees, wil ek nie daar wees nie’?

 

[2] Dink jy hoofsaaklik aan God as ‘n meester vir wie jy moet dien, of ‘n Vader met wie jy ‘n verhouding kan hê (v.29)? Hoe sal dié wat jou geken het jou lewe opsom wanneer jy dood is:  ‘Hy het so baie vir die kerk gedoen’ (v.29) of, ‘Sy het naby aan die Here gelewe’?

 

[3] Het jy al ooit besef dat jy ‘n verlore sondaar is wat vergewe moet word? Of dink jy die Here sal jou aanvaar omdat jy sy wet nagekom het (v.29)?  Is Christenskap vir jou iets wat jy vir die Here doen, of iets wat Hy vir jou gedoen het?

 

[4] Kom jy kerk toe omdat jy die Here beter wil ken, of omdat jy by jou vriende wil wees (v.29)? Dien jy Hom omdat jy Hom liefhet, of omdat jy die voordele wat Hy vir jou kan gee soek (v.29)?

 

[5] Dink jy jy is moreel omdat jy nie so sleg is soos ander nie? Of meet jy jouself aan God se standaard, sodat jy besef jy het sy genade en vergifnis nodig (v.29-30, 2)?

 

Ten spyte daarvan dat die oudste broer by die huis was, was hy ook ‘n verlore seun. Besef dan dat dit moontlik is om elke Sondag in die kerk te sit, en nogsteeds ongered te wees.  Jy is nie ‘n Christen omdat jy gedoop is, voorgestel en aangeneem is, in ‘n Christelike huis groot geword het, ‘n ouderling is, of teologie studeer het nie.  Ek gee nie om wie jy is nie:  “as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Jh.3:3).

 

Kom dan in geloof en gebed na die Here toe. Moenie langer op jou morele lewe staatmaak nie.  Dalk is jy uiterlik moreel, maar diep in jou hart weet jy en die Here wat in jou gedagtes aangaan.  Vra dat die Here jou sal vergewe.  Glo die Here se belofte dat net Jesus jou van jou sonde kan red.

 

My vrou en kinders was Donderdag by ‘n Zimbabweër vrou se partytjie. Sy het nog nooit in haar lewe ‘n partytjie gehad nie, en was baie emosioneel oor die vriende, geskenke, eetgoed en kaartjies.  Sommige van my hoorders en lesers het nog nooit tot bekering gekom nie, en het dus nog nooit ‘n geestelike partytjie gehad nie.  Ek hoop dat jy vandag tot bekering sal kom, sodat jóú partytjie in die hemel gevier kan word.

 

[1] John Howie, The Scots Worthies, pp.119-120)

[2] Beale & Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.343

[3] Iain Murray, The Puritan Hope, pp.160-161

Jesus is soewerein oor evangelisasie

Fishers of men

Hiper-Calviniste glo dat jy nie die evangelie met iemand moet deel, tensy hy ‘n opregte belang daarin toon nie. In sulke kerke loop sending en evangelisasie dood, en uiteindelik loop die kerk ook dood, omdat daar nie ‘n invloei van nuwe bekeerlinge is nie.

 

Arminiane glo dat die mens se vrye wil die bepalende faktor is in sy redding. Omdat God se soewereiniteit nie regtig vir hulle belangrik is nie, is hulle baie dikwels mens-gesentreerd in hulle benadering.  En tog kan ons iets by hierdie twee groepe leer.

 

Die klem op God se soewereiniteit help ons om nie na onsself te kyk wanneer dit by bekerings kom nie, maar om in gebed na die Here toe te draai. Sonder Jesus kan daar nie ‘n vangs wees nie (v.4-7).

 

Die Arminiane se klem op evangelisasie help ons om nie te wag dat die bekeerlinge in ons skote val nie. As Jesus gesê het ons moet die nette uitgooi, dan moet ons sy Woord gehoorsaam en dit doen (v.5).  Ons moet die regte aas op ons hoeke sit.  Ons moet alles in ons vermoeë doen om mense na die Here toe te bring (1 Kor.9:19-23).  Wanneer die bekerings dan kom moet ons besef dat dit Hý was en nie ons nie (v.8).  Lk.5:1-11 gee vir ons die balans tussen hierdie twee uiterstes.

 

Die preek (v.1-3)

Toe Charles Spurgeon 22 jaar oud was, het hy een aand vir 6000 mense gepreek by die Surrey Gardens Music Hall. Tydens die diens het ‘n klomp moeilikheidmakers uitgeroep:  ‘Vuur!  Die gallerye is besig om inmekaar te sak!’  Die massas het paniekbevange geraak en het probeer om by die deur uit te kom.  In die gemaal is sewe mense doodgetrap, en ‘n klomp mense beseer.[1]

 

Om te verhoed dat so iets onder sy prediking sou gebeur, het Jesus in v.1-3 ‘n plan gemaak. Dit was egter nie net ‘n praktiese reëling nie.  In die verse wat volg sal dit duidelik word dat Hy ook iets anders in gedagte gehad het.

 

Jesus het gekom om die Goeie Nuus van die Koninkryk te verkondig (4:43). In 4:44 het Hy in die sinagoges van Judea gepreek, maar in 5:1 was Hy weer langs die See van Galilea, wat ook bekend gestaan het as die meer van Gennesaret of die See van Tibereas (Jh.6:1).  Gennesaret was ‘n kusdorpie aan die noord-weste kant van die meer.  Op ‘n dag het Jesus hier gepreek.  Daar was iets aan sy prediking, sodat die massas teen mekaar gedruk het om naby Hom te kom (v.1, Mt.7:28-29, Mk.12:37).

 

Jesus was bang dat die mense mekaar sou vertrap. Hy het twee leë vissersbootjies in die vlakwater gesien staan (v.2).  Die vissermanne was besig om hulle nette te was.  Hulle moes die stukkende plekke regmaak, sodat daar nie visse kon deurglip nie (v.2).  ‘n Vergelyking tussen óns teks en Mt.4:18-22, wys dat die bote aan Petrus en sy broer Andreas, en Johannes, Jakobus en hulle pa Sebedeus behoort het.

 

Jesus het in Petrus se bootjie geklim, en gevra dat hy ‘n kort entjie van die kant af moes weg roei (v.3). Sodoende sou sy stem beter oor die water gehoor word, en sou meer mense Hom kon sien.  Volgens die gebruik van daardie tyd het Jesus gaan sit om die mense te leer (v.3, 4:20, Mt.5:1).  Natuurlik het Hy ook gaan sit, sodat die boot nie moes kantel nie.  Jesus het vir hulle die Woord van God geleer (v.1, Jh.1:1, 14).

 

Gebruik die geleenthede wat jy het om die evangelie te deel. Moenie stilbly omdat jy bang is nie.  Wat is die belangrikste:  jou reputasie of ander mense se siele?  Hoekom het Jesus aarde toe gekom?  Om aan die kruis te sterf en om die evangelie van die Koninkryk te verkondig (4:43, 1 Tm.1:15).  Voordat Hy hemel toe is het Hy vir ons gesê om die evangelie te verkondig, en om dissipels te maak van alle nasies (Mt.28:19-20).  Deel die Goeie Nuus met jou familie en vriende, by die skool en by die werk, en in jou woonbuurt.  Bou ‘n verhouding met mense, sodat hulle jou lewe kan sien.  Die spreekwoord sê:  ‘Jy kan die perd tot by water bring, maar jy kan hom nie maak drink nie.’  Maar as jou woorde soos Jesus s’n met sout gesprinkel is, kan jy hom dors maak sodat hy vrae vra (Mt.5:13, Kol.4:5-6).  Wees gereed om ‘n sagmoedige en eerbiedige antwoord te gee (1 Pt.3:15).

 

Is jy nog onseker oor hoe jy die evangelie met mense moet deel? Gee dan ten minste vir hulle ‘n traktaatjie of ‘n goeie Christelike boek, en nooi hulle kerk toe.  Jy hoef egter nie onseker te wees nie.  Jesus het die Woord gepreek (v.1).  As jy die draad van Rm.1-3 volg is jy veilig.  Hier is dit:  God het die mens gemaak om Hom lief te hê, en om sodoende ook gelukkig te wees.  Die mens het egter sy rug op die Here gedraai.  Die Jode het God se wet oortree.  Die heidene het teen die stem van hulle eie gewete ingegaan.  Nie Jood of heiden het ‘n geldige verskoning nie, maar almal verdien om gestraf te word.  Omdat Hy ons liefhet, het Jesus ons straf op Homself geneem aan die kruis en weer uit die dood uit opgestaan.  As ons van ons sonde af na Jesus toe draai en op Hom vertrou, sal Hy ons van die oordeel red.  Dít is die evangelie wat jy met mense moet deel.

 

Die vangs (v.4-10a)

Adoniram Judson was die eerste Amerikaanse sendeling wat in die buiteland gaan preek het. Hy het in 1813 in Burma (Myanmar) aangekom.  Ses jaar later in 1819, het hy Maung Nau, sy eerste bekeerling gedoop.  Daarna het die werk stadig gevorder.  Eers in 1831 (18 jaar nadat hy daar aangekom het) was daar ‘n deurbraak.

 

Dwarsoor die land het mense oor Jesus en die evangelie begin vra. Die 10 000 traktaatjies wat Judson uitgegee het, was net vir dié wat gevra het.  Omtrent 6000 mense het na sy huis toe gekom en oor die evangelie gevra.  Sommige mense het vir twee maande van China af na sy huis toe geloop.  ‘Mnr., ons hoor daar is ‘n ewige hel en ons vrees dit.  Gee vir ons iets om te lees, sodat ons kan weet hoe om daarvan te ontsnap,’ het hulle gesê.

 

Ander het gesê: ‘Ons het ‘n traktaatjie gelees oor die ewige God.  Is jy die man wat hierdie pamflette weggee?  Gee asseblief vir ons een, want ons wil die waarheid hoor voordat ons sterf.’  Nog ander het gesê:  ‘Is jy Jesus Christus se man?  Kan jy asseblief vir ons iets gee wat vir ons van Jesus Christus sal vertel?’[2]

 

Jesus gebruik middele, maar uiteindelik is dit Hý wat besluit of daar geen visse is nie en of daar ‘n net vol van visse is, of daar een bekering is en of daar ‘n herlewing is. Jesus is soewerein oor evangelisasie.

 

Toe Jesus klaar gepreek het, het Hy vir Petrus gesê om nog verder op die meer uit te vaar (v.4). ‘Laat julle nette in die diep water sak,’ het Hy gesê (v.4).  Petrus het al in Jh.1 vir Jesus ontmoet, en het geweet dat Hy in elke opsig die Meester is (v.5, die kaptein van die boot?).  Tog was Petrus ‘n gesoute visserman en het hy geweet dat ‘n mens in die nag diep water toe gaan.  Hulle het die vorige nag op die diep water gesit, maar niks gevang nie (v.5).  Hoekom sou hulle in die hitte van die dag iets gevang het?  Jesus se woorde het nie sin gemaak nie.  En tog het Petrus vir Hom gesê:  ‘Op u woord sal ek die nette laat sak.’ (v.5).  Hulle het dit net laat sak toe al die visse in die See van Galilea in sy net in geswem het (v.6).  Daar was so baie dat die nette geskeur het (v.6).

 

Johannes en Jakobus was nog op die kant, besig om hulle nette te was (v.2). Hulle was so ver weg, dat Petrus hulle nie kon roep nie, maar vir hulle gewaai het om te kom help (v.7).  Die twee broers kon nie alleen die nette intrek nie, en het hulle kollegas se hulp nodig gehad (v.7).  Die visse het twee bote vol gelê, sodat hulle byna gesink het (v.7).  Miskien het hulle van die visse teruggegooi, sodat die bote die gewig kon dra.

 

Petrus kon sy oë nie glo nie: hulle het die hele nag gewerk en niks gevang nie, en hier gebruik Jesus ‘n paar woorde, sodat twee bote nie genoeg was om die vis in te hou nie.  Petrus kon oornag ryk geword het.  Jesus moes net een of twee keer per maand vir hom gesê het waar om die nette te gooi.  Maar instede daarvan het Petrus voor Jesus neergeval en Hom aanbid (v.8, Jh.20:28).  Hy het geweet dat hy in die teenwoordigheid van die heilige en almagtige Here is, en het daarom vir Jesus gesê:  “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” (v.8, vgl. Jes.6:5).  Hy en sy kollegas was verbaas oor die groot vangs (v.9-10a).

 

Vind die balans tussen jou plig en Jesus se soewereiniteit in evangelisasie.  Gooi die nette uit, maar onthou dat jou harde werk nie ‘n vangs kan waarborg nie.  Aan die ander kant moet jy nie ‘n vangs verwag as jy nie die nette uitgegooi het nie.  Net soos wat God soewerein was oor die visse (v.4-7, vgl. Mt.17:27, Jon.1:17, 2:10), is Hy soewerein oor sondaars wat tot bekering kom.

 

Die Vader is soewerein: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Jh.6:44).  Die Seun is soewerein:  “Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet… wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.” (Lk.10:22).  Die Heilige Gees is soewerein:  “Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie.  So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Jh.3:8).

 

Diep in sy hart weet elke Christen dat God soewerein is oor evangelisasie, en daarom bid ons dat Hý mense tot bekering sal bring. Deel dan die evangelie getrou, en wag dat die Here vir die visse sê om in die net in te spring.

 

Petrus se reaksie op die vangs moet ons reaksie wees wanneer die Here mense red. Ons prys nie onsself of ons slim evangelisasie metodes nie.  Ons deel nie die winste tussen ons en die Here nie, maar ons prys Hom alleen: Soli Deo Gloria (Jes.48:11).  “Maar wie roem, moet in die Here roem.” (2 Kor.10:17).  Jou lewe, die gawe om te preek, die evangelie, die mense wat jou pad kruis, redding deur Jesus se kruisdood, mense se bekering, die ewige lewe, alles kom van God af, en daarom het jy geen rede om in jouself te roem nie (1 Kor.4:7).  Ons moet eenvoudig saam met Petrus voor die Here neerbuig en Hom aanbid (v.8).  Die Here het ons nie nodig nie (Hd.17:25).  Die feit dat Hy ons gebruik is ‘n voorreg.

 

Die roeping (v.10b-11)

Wyle dr. Martin Holdt het vertel hoe sy seun vir hom gesê het: ‘Pa, ek dink die Here roep my vir die bediening.’  ‘Moenie vir jou laf hou nie,’ het hy vir sy seun gesê.  ‘Jy het self gesien hoe baie moeilikheid en lyding ek in die bediening gehad het.’  ‘n Paar maande later het sy seun weer gesê dat die Here hom roep om ‘n predikant te wees.  ‘Moet dit nie doen nie,’ het hy vir sy seun gesê.  ‘n Derde keer het sy seun gekom en gesê:  ‘Ek kan nie die Here se roeping weerstaan nie pa.’  Hierdie keer het hy vir sy seun gesê:  ‘Ek het jou getoets my seun, en nou weet ek jou roeping kom regtig van die Here af.’

 

Die ou lied sê: ‘As Hy ons roep tot sy diens hoe sal ons dit mag weier?’  In Am.3:8 staan daar:  “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie?  Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?”  Petrus en die ander dissipels het die waarheid van Amos se woorde besef toe Jesus hulle geroep het.  Hulle kon eenvoudig nie nee sê nie, maar wou alles los om Hom te volg.

 

Na die groot vangs verwag ons dat Petrus bly sou wees, maar Jesus het egter vir hom gesê: ‘Moenie bang wees nie.’ (v.10b).  Let op dat Jesus nie vir hom gesê het:  ‘Moenie voor My val nie… Moet My nie aanbid nie… Moenie sê dat jy ‘n verlore sondaar is nie… Moenie sê ek is die Here nie.’  Petrus was reg om Hom te vrees.  En tog het Jesus ‘n trooswoord vir hom gehad, omdat Hy juis gekom om onwaardige sondaars te red.

 

Net soos wat Jesus vir Petrus ‘gevang’ het, sou Petrus mense gevang het. Soos wat Petrus ‘n groot vangs in die See van Galilea gekry het, sou hy op Pinksterdag 3000 mense vir die Here gevang het (Hd.2:41).  Volgens die Griekse teks het Jesus letterlik gesê dat hy mense ‘lewendig moet vang’ (zōgreō).  As leier en verteenwoordiger van die twaalf, moes Petrus sondaars deur sy prediking uit die graf van hulle sonde uit opgewek het.

 

Saam met die ander dissipels sou dit vir hom groter vreugde en beloning gebring het om mense te vang as om visse te vang. Daarom het hy en sy kollegas die swaar gelaaide bote na die strand toe geroei en alles net so gelos om vir Jesus te volg (v.11, 28, Mt.4:18-22, 19:27).  Hulle wou nie net gehad het wat Hy vir hulle kon gee nie, maar wou Hom gehad het, omdat hulle in Hom alles gehad het.

 

As die Here jou wil roep om Hom te volg kan jy nie nee sê nie. Wees daarom soos Petrus en sy vriende wat alles gelos het om vir Jesus te volg.  As jy dit oorweeg om nee te sê, onthou asseblief wat met Jona gebeur het toe hý nee gesê het.  Die Jesus van moderne Christenskap is ‘n hulpelose Verlosser en Here wat nie die mag het om mense te roep, tensy hulle vir Hom die toestemming gee nie.  Die Jesus van die Bybel is die soewereine Koning wat in mense se harte werk, sodat hulle gewillig is om Hom te dien en te volg (vra maar vir Paulus).  Die Here nooi jou nie uit om jou te bekeer en in Hom te glo nie – Hy beveel jou (Hd.17:30, 1 Jh.3:23).  As jy jou nog nie bekeer het nie, moet jy asseblief nie langer jou ore toedruk nie.  Hoe lank sal jy nog teen die prikkels van die Gees in jou gewete skop?  Gee oor; jy kan nie wen nie.

 

Is jy klaar gered? Moet asseblief nie God se soewereiniteit as ‘n hindernis tot evangelisasie sien nie; sien dit as ‘n hulp.  As God iemand wil red kan niemand Hom keer nie.  As Hy besluit het om jou kleinkind of broer of vriend te red, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat hulle die knie buig voor Koning Jesus.  Moet dan nie moed verloor nie, maar hou aan om vir hulle redding te bid en om die evangelie met hulle te deel.

 

Ek het ‘n goeie Arminiaanse vriend. Meer as tien jaar gelede het hy vir my gevra:  ‘Hoekom doen jy evangelisasie as jy glo dat God soewerein is?’  In Rm.9 sê Paulus dat God mense uitverkies het.  In Rm.10 sê hy dat ons die evangelie moet preek, sodat hulle gered kan word.  In 2 Tm.2:10 sê hy dat hy enige swaarkry sal deurmaak, sodat die uitverkorenes die evangelie kan hoor en gered kan word.  In Hd.18:9-10 het God gesê dat Paulus nie moet ophou om te preek nie, omdat daar baie van sy uitverkorenes in Korinte was.  Paulus, George Whitefield, Charles Spurgeon, William Carey, en baie ander sielewenners in die geskiedenis het geglo dat Jesus soewerein is in evangelisasie.  In die Bybel is evangelisasie en Jesus se soewereiniteit vriende en nie vyande nie.

 

[1] Charles Spurgeon, Autobiography: vol.1, pp.427-451

[2] http://www.desiringgod.org/messages/how-few-there-are-who-die-so-hard